Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.56 n.2-1 Pretoria Jun. 2016
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2016/v56n2-1a7
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1): OOR MONNEMENTE GEPRAAT - AFRIKAANS SE EERSTE NEËNTIG JAAR
Die DBAT: 'n Onbekende digitale taalkundemuseum1
The DBAL: An unknown digital language museum
Adri BreedI; Wannie CarstensII; Jako; OlivierIII
IAfrikaans en Nederlands, Skool vir Tale Noordwes-Universiteit. E-pos: Adri.Breedt@nwu.ac.za
IIAfrikaans en Nederlands, Skool vir Tale.Noordwes-Universiteit. E-pos: Wannie.Carstens@nwu.ac.za
IIIVakgroep Afrikaans vir Onderwys. Skool vir Geesteswetenskappe vir Onderwys Fakulteit Opvoedingswetenskappe. Noordwes-Universiteit. E-pos: Jako.Olivier@nwu.ac.za
OPSOMMING
Die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) is 'n omvattende databasis van Afrikaanse taalkundebronne. Meer as 17 000 bronne is hierop gekatalogiseer, en die voltekste van ongeveer 9 500 bronne is beskikbaar. Verder word daar vir ongeveer 1 500 bronne skakels na die volteks aangebied. Uit 'n ondersoek na die gebruikerspatrone van die DBAT word ons vermoede bevestig dat hierdie databasis nie gereeld genoeg besoek word nie en dat die ryk argief wat die DBAT aanbied, nie genoegsaam deur potensiële gebruikers ontgin word nie. Uit 'n meningsopname onder bestaande en potensiële gebruikers, is dit egter duidelik dat die DBAT n handige en nuttige navorsingshulpmiddel is, en dat n groter poging aangewend behoort te word om die databasis bekend te stel en te bemark onder alle moontlike gebruikers, veral onder taalkundestudente. Daar moet ook meer moeite gedoen word om verskeie rolspelers, soos Afrikaanse taalkundiges en taalkundedosente, as medewerkers te betrek.
Trefwoorde: Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde, taalkundedatabasis, Afrikaanse taalkundebronne, taalkundige gebruikerspatrone, digitalisering van bronne
ABSTRACT
The Digital Bibliography of Afrikaans Linguistics (DBAL) is a comprehensive database of Afrikaans linguistics and language-related sources. This database includes more than 16 000 sources, of which 9 500 are available in full-text format. In addition, 1 500 links to external full-text sources are also listed. This article reports on research on the usage patterns of the DBAL. In this regard, the assumption that the extensive archive provided by the DBAL is not used sufficiently by potential users is confirmed.
The DBAL was based on the Bibliografie Nederlandse Taal- en Letterkunde (BNTL) or Bibliography of Dutch Linguistics and Literature. In terms of the establishment of the DBAL, it was important that the database not only includes lists of sources but also provides an archive of digitalised sources. From the start of the development of the database in 1993 up to its official launch in 2010, the database now includes not only articles from academic journals, books, dissertations and theses, but also reviews, newspaper articles and online material. A process of digitalisation of out-of-print books on Afrikaans linguistics was also initiated. After acquiring the necessary rights from authors, publishers or families of deceased authors, a number of key historical works on Afrikaans linguistics and related fields were scanned and added to the database.
The entries in the database cover 193 different categories. The majority of sources in the database are listed under "Diachronic linguistics and language history", followed by "Education and teaching", "Language practice and the study of language in use", "Language politics" and "Lexicography". Usage statistics indicate that from June 2010 up to December 2015 a total of 6 672 searches were conducted on the DBAL. This included searches from 1 038 individual devices. Most of the visitors are from South Africa; however, a fair number of visitors from Belgium, the Netherlands and Germany were also noted.
A survey was conducted among current and prospective users of the DBAL. Most of the respondents were university lecturers, researchers or students. However, a small number of language practitioners and journalists were also part of the research population. Most of the respondents indicated that they work in the fields of sociolinguistics, descriptive linguistics, language history or language practice. The majority of respondents are associated with universities in South Africa; however, a small number of international universities were also represented. The responses indicate the importance of word of mouth in terms of the marketing of the database. Most respondents who are already users of the database noted that they use the database at least once a month.
From the survey it is clear that the DBAL is regarded as a useful research resource. It is also clear that more should be done towards marketing the database among potential users and especially linguistics students. Furthermore, greater co-operation from role-players such as Afrikaans linguists and linguistics lecturers is needed. A future expansion to the DBAL would be multilingual interfaces, as well as the inclusion of even more international materials. In addition, the DBAL can clearly act as a prototype for similar projects in relatedfields andfor other South African languages.
As a research resource the DBAL clearly has an important role to play. The DBAL has established itself as a digital monument of the Afrikaans language. The groundwork has been laid for the development of the DBAL from an archive of digitalised material to the basis of a dynamic open-source knowledge community of Afrikaans linguists.
Keywords: Digital Bibliography of Afrikaans Linguistics, linguistics database, Afrikaans linguistics sources, linguistic usage patterns, digitalisation of sources
1. INLEIDING
Volgens die elektroniese WAT (2016) word 'n museum gedefinieer as 'n "gebou, plek of instelling waar voorwerpe van blywende geskiedkundige, natuurkundige, wetenskaplike of kunswaarde vir openbare besigtiging en navorsingsdoeleindes versamel, bewaar en uitgestal word". Indien 'n webblad as 'n kuberruimte gesien word, kan die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT), volgens hierdie definisie, as 'n virtuele taalkundemuseum geklassifiseer word. Dit is 'n ruimte waar geskiedkundige en wetenskaplike Afrikaanse taalkundebronne vir die algemene publiek beskikbaar gestel word.
Ten spyte van sy bruikbaarheid, is ons hipotese dat hierdie databasis nie gereeld genoeg besoek word nie en dat die ryk argief wat die DBAT aanbied, nie genoegsaam deur potensiële gebruikers ontgin word nie. Dit wil op die oog af vir ons lyk asof hierdie hulpmiddel eerstens nie bekend is onder alle Afrikaanse taalkundestudente, -dosente en -navorsers nie, asook nie onder ander belanghebbendes, soos joernaliste en taalliefhebbers nie. Tweedens is dit ook moontlik dat die databasis bepaalde leemtes of onontwikkelde groei-areas het wat optimale benutting deur potensiële gebruikers belemmer.
In hierdie artikel word ons hipotese getoets. Daar word derhalwe ondersoek ingestel na die wyse waarop die DBAT tans gebruik word. Die doel is om 'n oorsig te kry oor die huidige gebruikspatrone van die webblad ten einde moontlike leemtes of groei-areas vir die databasis te identifiseer. Verder het die artikel ten doel om inligting te verskaf rakende die aard en ontwikkeling van die databasis, om sodoende verdere moontlike gebruikers attent te maak op die bestaan van hierdie nuttige navorsingshulpmiddel. Ons hoop dat hierdie artikel ook sal help om skrywers van Afrikaanse taalkundepublikasies te motiveer om die projekmedewerkers van hul werk te verwittig.
Die DBAT het sy bestaan te danke aan 'n soortgelyke Nederlandse databasis, te wete die Bibliografie Nederlandse Taal- en Letterkunde (BNTL). Hierdie Nederlandse naslaanbron bestaan al verskeie dekades. Aanvanklik is die BNTL in 1970 as 'n tekspublikasie in verskeie boekdele beskikbaar gestel, maar dit is mettertyd ontwikkel tot 'n elektroniese databasis. Die bedoeling was om die bibliografie beskikbaar te stel vir enige navorser wat internettoegang het. Verder sou geregistreerde gebruikers ook kon help om die databasis uit te brei deur self titels en tekste tot die databasis toe te voeg.
Die proses om die BNTL te digitaliseer en op die Internet2 beskikbaar te stel, is in 2008 voltooi (vgl. Carstens 2010; BNTL 2015). Daar is kritiek teen die BNTL uitgespreek dat dit net 'n katalogus van inligting is wat geen bronne elektronies beskikbaar stel nie (vgl. Devlieghere & Vanhooren 2008:6).
'n Behoefte is in 1993 deur prof. PC Paardekoper (1920-2013), vroeër verbonde aan die KU Leuven se Kortrijk-kampus, teenoor prof. Wannie Carstens van die NWU (voormalige PU vir CHO) uitgespreek dat 'n ooreenstemmende Afrikaanse databasis ontwikkel moet word. Verdere navraag deur Carstens aan ander Afrikaanse taalkundiges het laat blyk dat die behoefte ook op eie bodem bestaan.
Carstens het derhalwe eienaarskap van die projek geneem en in dieselfde jaar met onderhandelinge begin om só 'n projek van stapel te stuur. Die doel van hierdie projek was om vir enigeen wat binne én buite Suid-Afrika daarin belang sou stel, toegang te verleen tot akademiese inligting oor publikasies rakende die Afrikaanse taal- en letterkunde, maar terselfdertyd ook die kritiek wat teen die BNTL uitgespreek is te vermy, deur ook te poog om soveel as moontlik bronne elektronies op die nuwe Afrikaanse databasis beskikbaar te stel.
Die ontwikkeling van die DBAT tot die databasis soos dit vandag daar uitsien, kan in drie fases opgesom word.
Die eerste fase, 1993 tot 2003, word gekenmerk deur befondsingsaansoeke, onderhandelinge en strategiese beplanning rakende die struktuur en omvang van die projek. In hierdie tydperk is daar byvoorbeeld met medewerkers van die Koninklijke Biblioteek (KB) in Den Haag, Nederland, gekorrespondeer om die formaat van die nuwe databasis te bepaal en daarna te help verfyn. Verder is daar ook in hierdie tydperk by die Fonds Neerlandistiek aansoek gedoen om befondsing (Carstens & Van Zyl 2004). Die befondsing wat deur hierdie instansie bewillig is, het gehelp om die oprigting- en beplanningsfase van die projek 'n sukses te maak.
Hoewel die aanvanklike bedoeling was om 'n databasis vir beide taal- en letterkundebronne te skep, was dit duidelik dat die projek afgebaken moet word om die haalbaarheid daarvan te verseker. Daar is dus besluit dat Carstens uitsluitlik sal fokus op die skep van 'n taalkundedata-basis, en dat die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) op 'n latere stadium sou meewerk aan die letterkundedatabasis.
Tydens die tweede fase, 2004 tot 2010, raak die Ferdinand Postma Biblioteek (FPB) van die Noordwes-Universiteit intensief betrokke by die projek. Die FPB bewillig fondse om 'n medewerker (me. Hester Lombard) aan te stel om saam met Carstens 'n stelsel vir die bibliografie te ontwikkel. Daar word ook deur die FPB 'n navorsingslokaal beskikbaar gestel en ingerig vir Afrikaanse navorsingsmateriaal. In hierdie fase word 'n hele aantal bronne in die ontwikkelende databasis ingewerk.
Daar is hoofsaaklik gefokus op die katalogisering van artikels in vaktydskrifte, asook boeke, verhandelinge en proefskrifte oor die Afrikaanse taalkunde. Die aanvanklike vertrekpunt was om die volledige biografiese besonderhede van elke moontlike bron oor die Afrikaanse taalkunde te verkry en op te neem in die databasis. Sedertdien is besluit om ook resensies, koerantberigte en internetartikels of -berigte in te sluit. Sedert 2006 verrig me. Carla Ubbink (as opvolger van me. H Lombard) die taak om die versamelde materiaal in kategorieë te deel en nuwe materiaal op te spoor en te katalogiseer.
Ons bevind ons tans in die derde ontwikkelingsfase. Hierdie fase het op 24 Mei 2010 'n aanvang geneem met die amptelike bekendstelling van die DBAT. Sedertdien word daar deurlopend aan die bibliografie gewerk: 'n Aansienlike hoeveelheid nuwe bronne is toegevoeg, sommige bronne word gedigitaliseer, en aandag word gegee aan die bruikbaarheid van die bibliografie. Hierdie fase behoort ook toenemend gekenmerk te word deur die verbetering van die bruikbaarheid van die DBAT, en derhalwe is dit nou 'n goeie tyd om 'n bestekopname van die toestand van die databasis, asook 'n meningsopname onder die huidige sowel as potensiële gebruikers te maak.
2. DIE DBAT: 'N BESTEKOPNAME
2.1 Inskrywings
Waar daar in 2007 slegs ongeveer 8 200 inskrywings op die DBAT gekatalogiseer is, is daar tans meer as 17 000 bronne (April 2016) op die DBAT beskikbaar wat betrekking het op die Afrikaanse taalkunde. Daar word dus deurlopend aandag gegee aan die uitbreiding, relevansie, bruikbaarheid en volledigheid van die DBAT. Ongeveer 9 500 bronne se volteks is op die DBAT beskikbaar, en vir 'n verdere ongeveer 1 500 word skakels na die volteks aangebied.
Met behulp van die DBAT is dit moontlik vir navorsers om die grootste gedeelte van alle Afrikaanse taalkundebronne onmiddellik elektronies te bekom. Die volle spektrum van die Afrikaanse taalkunde word gedek - vanaf die begin van die 20ste eeu tot in 2015. Die bibliografie word weekliks bygehou. Die bedoeling is om van die oudste tot die mees resente gepubliseerde Afrikaanse taalkundebronne op die DBAT beskikbaar te stel. Nietemin word daar nie aanspraak gemaak op volledigheid nie. Die DBAT is slegs 'n weerspieëling van die data wat deur normale en toeganklike navorsingskanale deur die projekmedewerkers bekom kan word.
Tans is daar ook 'n aktiewe proses aan die gang om ouer Afrikaanse bronne te digitaliseer deur dit te skandeer, sodat dit opnuut elektronies wêreldwyd beskikbaar gestel kan word. 'n Hele aantal belangrike en ikoniese Afrikaanse taalkundeboeke word al vir etlike jare nie meer gedruk nie, en is byvoorbeeld moeilik bekombaar vir taalkundestudente. Die DBAT probeer dus om in hierdie behoefte te voorsien deur die bronne beskikbaar te stel deur inskandering.
Probleme en kwessies met kopiereg van bronne bly egter altyd 'n uitdaging. Soos genoem, is sommige Afrikaanse taalkundeboeke nie meer algemeen beskikbaar nie, maar kopiereg verhoed dat dit geskandeer en op DBAT versprei kan word. Derhalwe moet daar deurlopend onderhandel word met outeurs, families van outeurs of uitgewers om die bronne te mag digitaliseer. Tot dusver was dit nog moontlik om binne die grense van die kopieregwette te bly. In hierdie verband volg ons die benadering van die BNTL.3
Alle rekords is ingedeel volgens kategorieë. Tans word daar 193 kategorieë onderskei, maar dit is die taak van die medewerkers om deurlopend hierdie kategorie-indelings en subverdelings te verfyn, om sodoende 'n gebruiker se soektog verder af te baken tot relevante titels.
Tabel 1 en Figuur 1 dui aan watter kategorieë tans onderskei word, asook die hoeveelheid inskrywings per kategorie wat op die DBAT gevind kan word. Hieruit kan interessante gevolgtrekkings gemaak word, byvoorbeeld dat binne die Afrikaanse taalkunde daar meestal gepubliseer word oor onderwerpe wat handel oor Diachroniese Taalkunde en Taalgeskiedenis, Taalonderrig en Taalpraktyk- en taalgebruikskunde.
´n Afleiding soos hierdie is uiteraard ook handig om die leemtes binne die ondersoekveld van Afrikaanse taalkunde te identifiseer. Die kategorieë word hier onder in terme van die aantal inskrywings per kategorie aangedui in volgorde van meeste tot minste inskrywings per kategorie. Sodoende kan maklik gesien word in watter Afrikaanse taalkundevelde baie navorsing beskikbaar is, en watter velde tans nog onderontgin is.
Aangesien daar gepoog word om alle beskikbare Afrikaanse taalkundebronne op die DBAT in te sluit, kom die bronne op die databasis derhalwe in 'n groot verskeidendheid formate voor (vergelyk Tabel 2: Formate van bronne op die DBAT).,
2.2 Die algemene DBAT-gebruiker
2.2.1 'n Meningsopname onder gebruikers
Soos reeds hier bo aangetoon, is ons hipotese dat weinig van die moontlike gebruikers enigsins bewus is van die DBAT, maar ook dat daar moontlik bepaalde leemtes of onontwikkelde groei-areas is wat gebruikers verhinder om die databasis optimaal te benut. Om hierdie hipotese te toets, het ons 'n meningsopname in die vorm van 'n elektroniese vraelys per e-pos en op sosiale media4 onder moontlike gebruikers versprei om redes vir die onderbenutting van die DBAT te identifiseer. Die vraelys is gedeeltelik gebaseer op 'n soortgelyke vraelys wat deur Voorbij (1999) opgestel is wat ten doel gehad het om die gebruik van die BNTL te ondersoek.
Ons meningsopname is gestruktureer om te bepaal i) hoeveel moontlike gebruikers steeds nie bewus is van die DBAT nie; ii) wat die basiese demografiese inligting van die huidige DBAT-gebruikers is; iii) in watter taalkundevelde huidige gebruikers werksaam is; iv) waarvoor die huidige gebruikers die DBAT gebruik; v) hoe gereeld huidige gebruikers die DBAT gebruik; en vi) hoe nuttig en bruikbaar huidige gebruikers die DBAT vind. Aangesien ons aangeneem het dat heelparty deelnemers nie bewus van die DBAT is nie, is daar ook op die vraelys 'n elektroniese skakel na die databasis aangebied, om sodoende deelnemers 'n geleentheid te gee om wel die webblad te besoek en sy bruikbaarheid te evalueer.
Die vraelys is deur 108 deelnemers beantwoord. Slegs 42 van die persone wat die vraelys beantwoord het, was reeds bewus van die DBAT. Die ander 66 deelnemers het nog nooit vantevore van die DBAT gehoor nie. Ten spyte van die relatief klein aantal deelnemers, is ons egter van mening dat hierdie bevindings ons hipotese bevestig: Te min moontlike gebruikers is reeds bewus van die DBAT.
58 van die deelnemers wat nie vantevore van die DBAT gehoor het nie, is egter van mening dat dit wel 'n bruikbare hulpmiddel is. Slegs vyf deelnemers was van mening dat die DBAT nie vir hul nuttig sal wees nie, en drie deelnemers het nie hierdie vraag beantwoord nie.
Uit die antwoorde van die 44 deelnemers wat wel vantevore bewus was van die DBAT, kan belangrike afleidings gemaak word (vergelyk Tabel 3):
• Die meeste DBAT-gebruikers is taalkundedosente (n=18), -navorsers (n=16) en/of studente (n=12). Sommige gebruikers is ook werksaam as vertalers, taalversorgers, teksredigeerders, tolke en joernaliste. Aangesien die meeste gebruikers verbonde is aan 'n universiteit, kan ons hieruit aflei dat die DBAT inderdaad as 'n akademiese en navorsingsbron gebruik word.
• Die meeste deelnemers het aangedui dat hulle in die taalkundevelde werk van Sosiolinguistiek (n=13), Grammatika (n=12), Taalgeskiedenis (n=11) en Taalpraktyk (n=11). Soos reeds vroeër aangetoon, handel die meeste inskrywings op die DBAT ook oor temas binne Diachroniese Taalkunde en Taalgeskiedenis, Taalonderrig en Taalpraktyk en Taalgebruikskunde. Daar is dus 'n duidelike korrelasie tussen dit waarmee akademici hulself besig hou en die bronne wat beskikbaar is om in navorsing te gebruik. Dit bevestig die belang van 'n databasis soos die DBAT. Die beskikbaarstelling van navorsingsmateriaal dra wesenlik by tot die ontwikkeling van 'n spesifieke veld.
• Die meeste gebruikers het van die DBAT gehoor by hul dosente (n=11) of by 'n kollega (n=16). Dit is 'n aanduiding dat mondelinge reklame steeds die belangrikste en mees algemene manier is om die DBAT te bemark. Dit wil egter voorkom asof die meeste gebruikers maar eers onlangs van die DBAT te wete gekom het, aangesien die meeste deelnemers vir minder as twee jaar van die DBAT bewus is.
• Die meeste van die huidige gebruikers gebruik die DBAT ten minste een keer per semester (n=12) of een keer 'n maand (n=11), en heelparty gebruikers gebruik dit selfs meer gereeld.
• Die meeste van die gebruikers het aangedui dat hul reeds 'n doktorsgraad verwerf het (n=18), wat vir ons 'n sterk aanduiding is dat die DBAT hoofsaaklik deur gevestigde taalkundenavorsers gebruik word. Ook uit die lae responskoers van die meningsopname wil dit vir ons voorkom asof voorgraadse studente hoegenaamd nie bewus is van die databasis nie.
• Die meeste gebruikers is geaffilieer met Suid-Afrikaanse universiteite (n=29), hoewel daar ook deelnemers was wat aan buitelandse universiteite (n=3) verbonde was, asook aan akademiese vakverenigings binne Suid-Afrika (n=5).
• Aangesien die DBAT 'n databasis van Afrikaanse taalkundebronne is, is dit te verwagte dat die meeste van die gebruikers Afrikaanssprekend (n=33) is. Tog word die databasis ook gebruik deur sprekers van ander tale soos Tswana (n=1) en veral Nederlands (n=5).
• Die meeste gebruikers het gevoel dat die DBAT nuttig is (n=15), aangesien hulle die meeste van die tyd die bronne gevind het waarna hul gesoek het.
• Hoewel gebruikers oor die algemeen voel dat die DBAT redelik gebruikersvriendelik is (n=26), voel die outeurs dat daar tog ruimte vir verbetering bestaan. Daar is nie op die vraelys enige besonderhede ingesluit omtrent wat met gebruikersvriendelikheid bedoel word nie, dus is daar op die deelnemers se algemene ervaring van die koppelvlak gesteun.
Aangesien die vraelys 'n goeie geleentheid was om op direkte wyse terugvoer van DBAT-gebruikers te kry, is daar ook op die vraelys in 'n invulvraag aan die respondent die geleentheid gegee om kommentaar te lewer op hoe die DBAT verbeter kan word.
Dit is uit die meningsopname (vergelyk die terugvoer van 'n respondent hieronder) duidelik dat gebruikers, sowel as potensiële gebruikers wat vantevore nog nie van die DBAT gehoor het nie, voel dat dit 'n nuttige navorsingshulpmiddel is. n Voorbeeld van so n terugvoer5 is:
•Dit voldoen aan my persoonlike behoeftes. Ek kry toegang via my skootrekenaar, en ervaar min probleme.
Nietemin is daar bepaalde sake waaraan aandag gegee behoort te word.
Die DBAT poog om soveel as moontlik voltekste beskikbaar te stel. Terwyl die proses van digitalisering nog aan die gang is, word wel skakels gebied na tekste wat reeds op ander plekke elektronies beskikbaar is. Soos ons uit eie ervaring al gevind het, gebeur dit dan soms dat skakels wat op die DBAT aangebied word, nie meer geldig is nie, aangesien die elektroniese dokumente op ander webwerwe dikwels verskuif of verwyder word. Hierdie sentiment kom duidelik uit die volgende respons na vore:
•Maak seker dat alle skakels werk - ek het al artikels op die DBAT gevind wat nie beskikbaar is nie.
•Soms as 'n mens op 'n "skakel na volteks"-skakel klik, en jy is nié op die NWU-netwerk nie, dan is daar nie toegang tot die volteks nie. Ek vermoed dit is omdat die universiteit op die publikasie ingeteken is, maar 'n individu nie; dit is egter soms misleidend as 'n mens verwag om toegang tot die volteks te kan verkry, en dit is nie die geval nie.
Verder het gebruikers nie altyd toegang tot die ruimtes (byvoorbeeld universiteitsbiblioteke) waar die volteks gestoor word nie, en kan hulle derhalwe nie die DBAT-skakel gebruik om by die volteks uit te kom nie.
Die volgende aanbevelings is ook deur die respondente gemaak:
•Dit gaan baie help als daar aangegee kan word by die soekopties dat jy net n pdf of ander document kan kry om te download.
•En dit gaan help as n artikel net een keer genoem word (eventueel met al die plekke waar
dit verskyn het)
•Dit lyk heel verouderd maar gewoonlik kry ek wat ek soek. Ek waardeer dit dat ek reeds op die eerste bladsy kan sien of 'n artikel volledig beskikbaar is of nie.
•Dit sal help as DBAT bronne beskikbaar maak, al is die soekwoorde nie spesifiek nie -veral as mens nog nie seker is watter bronne nuttig sal wees nie.
•Bekendmaking van aanwinste in DBAT d.m.v. verspreidingslys van geïnteresseerdes in spesifieke vakgebiede.
•nog meer oudere publicaties opnemen.
•En ook nog meer opletten of er buiten Zuid Afrika over Afrikaanse taalkunde gepubliceerd wordt.
Duidelik is daar inhoudelike en tegniese aspekte wat in die uitbreiding van die DBAT aandag moet kry.
2.2.2 Huidige gebruikerspatrone
Die meningsopname het onses insiens 'n relatiewe lae responskoers gehad, en dit is moeilik om werklik daaruit agter te kom hoe die DBAT deur gebruikers gebruik word. Ons aanvaar uiteraard dat nie alle gebruikers van die DBAT aan die meningsopname deelgeneem het nie, en om die DBAT deurlopend te kan verbeter, is dit belangrik om te weet hoe die DBAT gebruik word om te kan bepaal wat moontlike leemtes en groei-areas is.
´n Ondersoek na die gebruikerspatrone van die DBAT het getoon dat daar vanaf Junie 2010 tot Desember 2015 'n totaal van 6 672 soektogte op die DBAT uitgevoer is. Van hierdie soektogte is 2 943 (44,1%) binne die Noordwes-Universiteit en 3 729 (55,9%) van buite uitgevoer. In hierdie verband is 1 038 unieke IP-adresse, oftewel unieke toestelle, wat die DBAT besoek het, geïdentifiseer. Gegewe die feit dat daar landswyd in 2014 ten minste 5 000 ingeskrewe universiteitstudente was wat Afrikaans as 'n universiteitsmodule geneem het (vergelyk Rooi 2014), bevestig dit ons hipotese verder dat studente (wat onses insiens van die belangrikste moontlike gebruikers van die DBAT is) nie genoegsaam ingelig word oor die bestaan van die databasis nie.
Aangesien besoekers aan die DBAT se IP-adresse in 'n databasis gestoor word, kan besoeke aan die databasis oor tyd heen ondersoek word. In Tabel 4 word die soektogte per die gebruiker se land van oorsprong weergegee.
Daar is wel 'n interessante gebruikerspatroon te bespeur. Ten spyte van die feit dat die DBAT slegs 'n Afrikaanse koppelvlak het, word die DBAT ook in ander wêrelddele gebruik. Dit is uiteraard nie verrassend dat daar 'n hele aantal gebruikers in België en Nederland gevind word nie, maar dat gebruikers in lande soos die VSA, VK en veral ook sommige Oos-Europese lande gevind word, is wel opmerklik. Dit is duidelik dat daar buite Suid-Afrika en buite die Afrikaanse taalkundeomgewing óók 'n behoefte bestaan om toegang tot Afrikaanse taalkundebronne te bekom. Hiermee is een van die oorspronklike doelwitte van die DBAT, te wete die internasionale beskikbaarheid van bronne oor die Afrikaanse taalkunde, gedeeltelik bereik.
Hierdie tendens is as 'n duidelike groeipunt vir die DBAT geïdentifiseer. Tans is die DBAT gerig op Afrikaanse navorsers. Dit is egter duidelik dat die DBAT-koppelvlak ook in ander tale vertaal moet word (na byvoorbeeld Engels) om ook bruikbaar te wees vir nie-Afrikaanssprekendes. Internasionale navorsers wat in vergelykende taalkunde of taaltipologie werk, sou immers ook beduidend kon baat vind by die DBAT.
´n Verdere aanduiding van die wyse waarop die DBAT tans gebruik word, is die hoeveelheid soektogte wat op die DBAT geloods word.
Soos in Figuur 2 aangetoon word, was daar beslis 'n toename in die gebruik van die DBAT vanaf 2010 tot 2013. In 2014 was daar egter 'n sterk afname in die gebruik van die DBAT, maar weer in 2015 'n sterk toename. Die rede vir die 2014-afname is nie vir ons duidelik nie. In die eerste bestaansjaar van die DBAT is 1 011 soektogte uitgevoer, terwyl daar teen 2015 in totaal 6 672 soektogte uitgevoer is. Uiteraard word die DBAT met die verloop van tyd selfs meer bruikbaar, aangesien daar deurlopend inskrywings tot die DBAT gevoeg word. Die verwagting is derhalwe dat die DBAT se gebruik elke jaar ook aansienlik sal toeneem.
Die maandelikse soektoginligting is 'n aanduiding van die kontekste waarbinne die DBAT gebruik word. Soos in Figuur 3 gesien kan word, word die DBAT meer gereeld gebruik tydens die akademiese termyn, maar in maande wat as die akademiese vakansiemaande (dit is Oktober, Desember en Julie) gereken word, neem die gebruik van die DBAT af. Dit kan ter ondersteuning dien vir die feit dat die DBAT as akademiese hulpmiddel dien wat navorsing en onderrig ondersteun.
3. AFSLUITING: UITBREIDING EN VOORUITSKOUING
Uit 'n meningsopname wat op toepaslike sosiale media versprei is, sowel as 'n ondersoek na die werklike gebruikerspatroon van die databasis, word ons hipotese bevestig dat die DBAT nog nie optimaal deur potensiële gebruikers besoek en gebruik word nie. Dit is egter vir ons duidelik dat die DBAT die potensiaal het om verder ontwikkel te word om bronne oor Afrikaanse taalkunde vir 'n groter publiek beskikbaar te stel. Die volgende punte is hier van belang:
• 'n Groter poging moet aangewend word om moontlike gebruikers (veral studente) bewus te maak van die DBAT. Vanaf 2015 word die DBAT-skakel op die webblad van VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans), asook die BNTL ingesluit.
• Verder kan 'n Facebook-groep begin word om nuwe publikasies (soos voorgestel deur een van die gebruikers) aan die gebruikers bekend te stel, amper soos 'n leeslys of iets soos Linguistlist.org.
• Om die DBAT so volledig en relevant as moontlik te maak, is dit belangrik dat taalkundiges en ander rolspelers in die uitbreiding van die DBAT moet meewerk, en in wese hierdie projek hulle eie moet maak. In hierdie proses is bemarking (byvoorbeeld die voorstel van die gebruiker om lys van nuwe aanwinste te versprei) nodig.
• Twee- of meertalige aanbieding van die koppelvlak en resultate is 'n moontlike groeipunt. Dit is duidelik dat ook andertaliges die databasis besoek, en veral ook in ooreenstemming met die internasionalisering van Afrikaanse taalkunde, is dit belangrik dat hierdie bronne beskikbaar word.
• In hierdie verband sal 'n Nederlandse en Engelse koppelvlak ook van waarde vir die DBAT wees. Hierdie sake sal ook relevant wees met die inskakeling van die DBAT by VivA.
• Namate internasionale publikasies meer word, sal daar waarskynlik ook meer publikasies verskyn wat nie in Afrikaans geskryf is nie, en ook nie in Suid-Afrikaanse of Nederlandse tydskrifte verskyn het nie. Tans fokus die DBAT hoofsaaklik op die werk van plaaslike navorsers en publikasies in hoofsaaklik nasionale tydskrifte, en hierdie aspek behoort uitgebrei te word.
• Uit die lesse wat in die ontwikkeling van die DBAT geleer is, kan soortgelyke projekte in verbandhoudende velde en veral in ander Suid-Afrikaanse tale ook ondersteun word.
Senekal (2011:50) dui aan dat digitale bronne die geleentheid aan navorsers bied "om navorsing anders te benader". Digitalisering van bronne behoort tot gevolg te hê dat verskillende soorte bronne toeganklik is vir meer navorsers, en dat metodes ontwikkel moet word wat op geoutomatiseerde wyse die analise van groter stelle data of inhoud moontlik kan maak (Senekal 2011:51). Waar navorsing vantevore 'n tydsame en arbeidsintensiewe proses was, kan n digitale navorsingshulpmiddel soos die DBAT die navorser (ervare en beginner) help om n groter hoeveelheid bronne in n korter tydperk baie meer omvattend of dieper te ontgin.
As digitale monument is die DBAT duidelik gevestig. Die rol van die databasis is nie net om as argief van gedigitaliseerde materiaal te dien nie, maar om eerder as 'n basis vir 'n lewende oopbron-kennisgemeenskap van taalkundiges te dien.
BIBLIOGRAFIE
BNTL. 2015. Bibliografie van de Nederlandse Taal- en Literatuurwetenschap. [28 November 2015]. [ Links ]
Carstens, W.A.M. 2010. Die DBAT as bemagtigingsinstrument vir die Afrikaanse taalkunde: rol en moontlikhede. Referaat gelewer tydens die LVSA-kongres, Unisa, Pretoria, 27-29 September 2010. http://library.nwu.ac.za/dbtw-wpd/images/BATL/LVSA_2010_DBAT.pdf [20 Julie 2015]. [ Links ]
Carstens, W.A.M. & Van Zyl, D. 2004. Die ontwikkeling van 'n BATL - 'n vorderingsverslag. Referaat gelewer tydens die SAVN/ALV-kongres, Potchefstroom, 25 April 2004. [ Links ]
DBAT. 2015. Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde. http://library.nwu.ac.za/dbtw-wpd/textbases/DBAT.htm [16 November 2015]. [ Links ]
Devlieghere, J. & Vanhooren, S. 2008. 'Zoeken is zilver, vinden is goud': internet en de informatievoorzieningen voor het onderwijs Nederlands. Levende Talen Tijdschrift, 9(4):3-11. http://taalunieversum.org/onderwijs/tijdschriften/devlieghere_vanhooren _zoeken_is_zilver.pdf [21 Februarie 2015]. [ Links ]
Die Elektroniese WAT: Die Woordeboek van die Afrikaanse taal. 2015. Museum. http://viva-afrikaans.org/ [20 Julie 2015]. [ Links ]
Rooi, J. 2014. Afrikaans as vak toon plek-plek groei. Rapport. 18 Junie. http://m24arg02.naspers.com/argief/berigte/rapport/2014/06/18/8/ jrafrikans_31_0_232661015.html/ [13 Desember 2015] [ Links ]
Senekal, B.A. 2011. Die digitalisering van NALN se knipselversameling: Die bemiddeling van 21ste-eeuse navorsing in die Afrikaanse letterkunde. Litnet Akademies, 8(2):46-65. [ Links ]
Voorbij, H. 1999. Onder neerlandici: Ervaringen met de BNTL. Informatie Professional, 3(12):28-33. [ Links ]
Adri Breed is 'n dosent in Afrikaanse taalkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchef-stroomkampus. In 2007 voltooi sy haar Meesters-graad in Afrikaanse letterkunde (Skryfkuns) aan die NWU en in 2012 haar PhD in Afrikaanse taalkunde. Sy bestee tien maande van haar studietydperk in Antwerpen, België. Adri was vir etlike jare by die ATKV-Skryfskool betrokke as fasiliteerder. In haar vrye tyd hou sy haarself besig met vryskut-videoproduksies en regiewerk en sy skryf ook graag gedigte, teaterstukke en draaiboeke wanneer die geleentheid hom voordoen.
Adri Breed is a lecturer in Afrikaans linguistics at the Potchefstroom campus of the North-West University (NWU). She completed a master's degree in Afrikaans literature studies (creative writing) at the NWU in 2007 and a PhD in Afrikaans linguistics in 2012. During the completion of her PhD she spent ten months in Antwerp, Belgium. For many years Adri was involved as a facilitator at the ATKV Writing School. In her free time she does freelance video production and direction and she also likes to write poetry, plays and screenplays as the opportunity arises.
Wannie Carstens is die huidige direktem van die Skool vir Tale op die Potchefstroomkampus van die NWU. Hy dien of het gedien in verskeie liggame wat Afrikaans raak, o.a. as stigterslid en eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR; 2008-2011), voorsitter van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011-2014), asook voorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (2011-2014). Hy was ook ondervoorsitter van die Raad van PanSAT (2014-2015).
As gegradeerde NNS-navorser is hy die alleenouteur van twee akademiese boeke (Norme vir Afrikaans 2011, 5de uitgawe; Afrikaanse-Tekslinguistiek 1997); en van twee as mede-outeur, te wete Teksredaksie (2010, 2012) saam met Kris van de Poel, asook van TextEditing (2012), saam met Kris van de Poel en John Linnegar. 'n Boek, met prof Edith Raidt as mede-outeur, met die titel Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van h taal verskyn in die loop van 2016 en 2017.
Wannie Carstens is the current director of the School of Languages at the Potchefstroom campus of the NWU. He serves and has served on different bodies relating to Afrikaans, amongst others as founding member and first chairperson of the Afrikaans Language Council (ATR; 2008-2011), chairperson of the Council of the SA Academy for Science and Arts (2011-2014), as well as chairperson of the Council of the Afrikaans Language Museum and Monument (2011-2014). He was also Deputy Chairperson of PanSALB (2014-2015).
As an NRF-rated researcher he is also sole author of two academic books (Norme vir Afrikaans 2011, 5th edition; AfrikaanseTekslinguistiek 1997); and co-author of two books: Teksredaksie (2010, 2012) with Kris van de Poel as well as TextEditing (2012), with Kris van de Poel and John Linnegar. A book, with Prof. Edith Raidt as co-author, entitled Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van h taal will be published in the course of 2016 and 2017.
Jako Olivier is 'n medeprofessor in die vakgroep Afrikaans vir Onderwys, Skool vir Geesteswetenskappe vir Onderwys, Fakulteit Opvoedingswetenskappe by die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus). Hy het sy PhD in 2011 aan die NWU verwerf, waar hy die akkommodering en bevordering van meertaligheid in skole deur middel van vervlegte en e-leer nagevors het. Hy het ook aan die voormalige PU vir CHO n BA, BA Honneurs (cum laude), Nagraadse Onderwyssertifikaat en MA (cum laude) voltooi. Voor hy in 2010 by die NWU as dosent aangesluit het, was hy betrokke by die onderrig van inligtingstegnologie en tale by skole in die Verenigde Koninkryk en in Suid-Afrika. Hy was van 2010 tot 2015 aan die Skool vir Tale, Fakulteit Lettere en Wysbegeerte van die NWU verbonde as dosent in Afrikaanse taalkunde, waarna hy na die Fakulteit Opvoedingswetenskappe geskuif het.
Sy navorsingsbelangstellings sluit e-leer in die taalklaskamer, vervlegte leer, taalbeplanning en -beleid, meertaligheid in die onderwys, Afrikaanse taalvariasie en skermvertaling in.
Jako Olivier is an associate professor in the subject group Afrikaans for Education, School of Human and Social Sciences for Education, Faculty ofEducation Sciences ofthe North-West University (Potchefstroom campus). He obtained his PhD in 2011 at the NWU in which he researched the accommodation and promotion of multilingualism in schools by means of blended and e-learning. He also completed a BA, BA Honours (cum laude), Postgraduate Certificate in Education and MA (cum laude) from the former PU for CHE. Before he joined the NWU as lecturer in 2010, he was involved in teaching information technology and languages in schools in the United Kingdom and in South Africa. From 2010 to 2015 he was a lecturer in Afrikaans linguistics in the School of Languages, Faculty of Arts of the NWU after which he moved to the Faculty of Education Sciences.
His research interests include e-learning in the language classroom, blended learning, language planning and policy, multilingualism in education, Afrikaans language variation and screen translation.
1 Die name van die outeurs word alfabeties aangedui, maar al drie outeurs het gelykmatig tot die skryf van die artikel bygedra. Die twee anonieme keurders word bedank vir hul kommentaar tot die verbetering van die artikel.
2 Die BNTL se skakel is http://www.bntl.nl/
3 Die BNTL probeer in soverre dit prakties haalbaar is, outeursregtoestemming via die normale regskanale te kry. In die gevalle waar dit nie moontlik is nie, soos as n familielid van die oorspronklike outeur nie opgespoor kan word nie, word daar by die betrokke bron in die DBNL aangedui dat die bron te goeder trou gebruik word vir opvoedkundige en wetenskaplike doelstellings. n Verdere versoek word dan gerig: "Wanneer iemand meent enig recht te kunnen doen gelden op een in de DBNL opgenomen publicatie, dan verzoeken wij dit zo spoedig mogelijk te melden via dbnl.auteursrecht@ kb.nl." (BNTL 2015)
4 Die vraelys is hoofsaaklik versprei deur twee relevante e-poslyste (naamlik aan alle Afrikaanse taalkundiges wat by 'n universiteit werksaam is, asook na alle lede van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut) en op relevante Facebook-bladsye,( naamlik NWU Skool vir Tale, Vakgroep Afrikaans en Nederlands NWU Potchefstroom, SAALA - Southern African Applied Linguistics Association, Lvsa Lssa, Taalgoggas en Balbyters, Departement Afrikaans en Nederlands - US, Afdeling Afrikaans en Nederlands - Universiteit van die Vrystaat, Beter Afrikaans en VivA Afrikaans).
5 Kommentaar van respondente is woordeliks in die artikel aangedui, en geen taal-, tik- of spelfoute is reggemaak deur die outeurs van hierdie artikel nie.