Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.63 n.2 Pretoria Jun. 2023
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2023/v63n2a10
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (2)
"Gaan loop speel!": Die inchoatiewe niehoofwerk-woorde gaan en loop
"Gaan loop speel!": The inchoative auxiliary verbs gaan and loop in Afrikaans
Roné Wierenga
Virtuele Instituut vir Afrikaans, en Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. ORCID: 0000-0002-7172-7165; E-pos: rone@viva-afrikaans.org
OPSOMMING
Aspektuele betekenis is dikwels meerduidig in Afrikaans, omdat die werkwoord nie verpligtend gemerk word vir aspek nie. Die inchoatiefaspek is 'n grammatikaalaspektuele betekenis wat die moment direk voor die aanvang, die aanvangsmoment self, of die moment direk ná die aanvang van 'n handeling of faseverandering uitlig. 'n Verskeidenheid strategies kan in Afrikaans gebruik word om die inchoatiefaspek uit te druk - een só 'n strategie is die gebruik van niehoofwerkwoordelike konstruksies. In hierdie artikel word gebruik gemaak van die Watkykjy!'-korpus, Taalkommissiekorpus en NWU-Kommentaarkorpus om die frekwensies en gebruikspatrone van gaan en loop as direkteskakelwerkwoorde in inchoatiefkonstruksies na te gaan. Die resultate van die korpusondersoek toon dat hierdie gaan- en loop-inchoatiefkonstruksies vormlik en struktureel ooreenkomstig is, maar dat daar semantiese nuanses is wat bewerkstellig word deur die keuse om gaan of loop te gebruik.
Trefwoorde: aspek, gaan, inchoatief, ingressief, inseptief, konstruksiegrammatika, korpuslinguistiek, loop, niehoofwerkwoord, niehoofwerkwoordelike inchoatiefkonstruksies
ABSTRACT
Aspectual meaning is often ambiguous in Afrikaans because the verb is not compulsorily marked for aspect. The inchoative aspect is a grammatical aspectual meaning that highlights the moment directly before the onset, the onset itself, or the moment directly after the onset of an action or change of state. A variety of strategies can be used in Afrikaans to express the inchoative aspect, one of which being auxiliary verb constructions. Ten auxiliary verbs can occur in inchoative constructions in Afrikaans, namely: begin ('begin'), gaan ('go'), kom ('come'), loop ('walk), raak ('become'), sit ('sit'), slaan ('hif), spring ('jump'), steek ('stab) and val ('fall'). These auxiliary verbs function as inchoative aspectual markers in two kinds of constructions: as direct linking verbs in inchoative constructions or as indirect linking verbs (either with or without progressive periphrastic constructions). All of the auxiliary verbs that can express inchoative meaning do not occur in all of the possible constructions. For instance, slaan ('hit') exclusively occurs as an inchoative marker in auxiliary constructions with the progressive periphrastic construction aan die ('on the') together with the main verb collocate brand ('to burn'). This article, therefore, does not investigate all ten auxiliary verbs that can occur in inchoative constructions but solely focuses on the direct linking verb constructions in which gaan and loop occur as cognate inchoative auxiliaries.
In this article, the Watkykjy! corpus, Taalkommissie corpus and NWU Commentary corpus are used to investigate the frequencies and usage patterns of gaan and loop as direct linking verbs in inchoative constructions. Construction Grammar (CxG) and Grammaticalisa-tion Theory are used as theoretical frameworks to describe the similarities and differences in use of loop and gaan as direct linking verbs in inchoative constructions. CxG provides a useful theoretical framework for the identification of the constructions and descriptions of the nuances between the two constructions, should any be present. Grammaticalisation Theory provides a framework in which the main verb collocates for gaan and loop in these inchoative constructions can be used to establish the degree to which these verbs have evolved to express additional meanings or perform additional functions.
The results of the corpus study indicate that these gaan and loop inchoative constructions are formally and structurally similar, but that there are semantic nuances expressed by using one rather than the other. Collostruction analyses indicate both gaan and loop retain some of their lexical meaning in certain contexts where they are used to express inchoative aspectual meaning. However, gaan can be used in a larger variety of linguistic contexts and with a larger variety of main verb collocates. Gaan is, therefore, more grammaticalised and less constricted in its uses than loop. This result was expected because gaan has grammaticalised to function as a future tense marker and modal marker expressing epistemic modality in Afrikaans, which correlate with the grammaticalisation route for verbs like gaan in other languages. Whilst it was expected that loop would be less grammaticalised than gaan because loop is not commonly considered to function as a future tense marker in Afrikaans, it is, however, noteworthy that loop seems to have evolved to denote some kind of modal meaning. The loop inchoative construction is more frequently used in imperatives, occurs with a smaller variety of main verb collocates and tends to be used in contexts where the speaker is expressing a dislike for or disapproval of the situation being expressed by the main verb, or aims to evoke a negative emotional response from the receiver of the utterance towards the situation expressed by the main verb. This is indicative of loop being more specialised for imperatives, pejoratives and cases where the speaker expresses their own dislike or disapproval, or hopes to evoke these feelings in the receiver of the utterance, towards the situation expressed by the main verb. It, therefore, seems that loop has evolved to function as a kind of deontic modal marker. This supports the findings of other researchers who note that loop expresses modality in progressive constructions.
Keywords: aspect, auxiliary verbs, auxiliary verb inchoative constructions, construction grammar, corpus linguistics, gaan, inchoative, ingressive, inceptive, loop
1. Inleiding
In Afrikaans is daar min deskriptiewe navorsing gedoen oor die gebruik van inchoatiewe aspektuele konstruksies. Navorsing oor inchoatiwiteit in Afrikaans is hoofsaaklik beperk tot morfologiese navorsing (verwys onder meer na Wissing, 1965; Labuschagne, 1968) of beskrywings van hoofwerkwoordelike funksies (vergelyk Scholtz, 1940; Ponelis, 1979), sonder om veel aandag te skenk aan die verklaring van terme soos inseptief, ingressief en inchoatief, of melding te maak van die niehoofwerkwoorde wat inchoatiewe aspektuele betekenisse in Afrikaans kan uitdruk.
Tot op hede is daar slegs een taalkundepublikasie wat die Afrikaanse inchoatiewe niehoof-werkwoorde identifiseer en indringend bestudeer, naamlik Wierenga (2022). Hierdie artikel het ten doel om die bevindinge van Wierenga (2022) uit te brei deur die gebruikskontekste en sintaktiese funksies van die gaan en loop inchoatiewe niehoofwerkwoorde vergelykend in 'n korpusondersoek te bestudeer.
2. Inchoatiwiteit in Afrikaans
Relatief min is tot op hede oor inchoatiwiteit in Afrikaans gepubliseer. Wierenga (2022) bied die eerste omvattende beskrywing van inchoatiwiteit in Afrikaans aan, en daarom sal daar vir die doeleindes van hierdie studie berus word by die beskrywings en bevindinge van Wierenga (2022).1 Dit is nie sinvol om die problematiek rondom die klassifikasie en teoretiese beskrywing van die inchoatief óf terminologiese onduidelikheid hiér weer te gee nie, omdat dit reeds in Wierenga (2022) uiteengesit word. Dit is egter wel relevant om te noem dat Wierenga (2022:199) inchoatiewe betekenis as 'n soort imperfektiewe, progressiewe, aspektuele betekenis klassifiseer2 wat uit drie fases bestaan: a) die moment direk voor die aanvang van 'n handeling of faseverandering (pre-inchoatief), b) die aanvangsmoment self (inchoatief), en c) die moment direk ná die aanvang van 'n handeling of faseverandering (postinchoatief).
(1) Pre-inchoatief: Die oond is op die punt om te ontplof3
(2) Inchoatief: Ons begin onmiddellik eet.
(3) Postinchoatief: Ons het pas begin bou aan die huis.
In voorbeeld (1) word die oomblik direk voor die oond ontplof, uitgelig. Die perifrastiese konstruksie op die punt om te word gebruik om uit te druk dat die fokaliseringsperspektief dié is van iemand wat die situasie beskryf waarin die oond byna gaan ontplof, maar die ontploffing nog nie begin het nie. Tog word die aanvangsfase steeds uitgelig, sonder om die ontploffings-oomblik uit te druk, of die voltooiing van die ontploffing in te sluit by die perspektief. In voorbeeld (2) word die niehoofwerkwoord begin gebruik om die aanvangsoomblik self uit te lig, sonder om te fokus op die oomblik waarin daar geëet word of waarin daar klaar geëet is. In die laaste voorbeeld (3) word die perifrase pas begin gebruik om te fokus op die oomblik direk ná die aanvangsoomblik, maar sonder om die duur van die bouproses uit te lig. Die pre-inchoatief, inchoatief en postinchoatief lig dus spesifieker stadia van die aanvangsfase uit.
Soos deur die bostaande voorbeelde gedemonstreer word, is daar verskeie maniere waarop die inchoatiewe aspek in Afrikaans uitgedruk kan word. In hierdie studie word daar egter uitsluitlik gefokus op die niehoofwerkwoordelike konstruksies en meer spesifiek die niehoofwerkwoorde gaan en loop wat gebruik kan word om inchoatiewe betekenis uit te druk.
Wierenga (2022:135) identifiseer drie konstruksies waarin niehoofwerkwoorde gebruik word om inchoatiewe betekenis uit te druk, naamlik i) direkteskakelwerkwoordkonstruksies, ii) indirekteskakelwerkwoordkonstruksies en iii) niehoofwerkwoorde in progressiewe konstruksies.
i) Direkteskakelwerkwoordkonstruksies [VAUX.INCH V]
(4) Hy [gaan slaap].
Die inchoatiewe niehoofwerkwoord gaan kom direk voor die hoofwerkwoord4 slaap voor. Geen verbindingselement, soos 'n partikel of voegwoord, kom tussen die inchoatiewe niehoofwerkwoord en die hoofwerkwoord voor nie.
ii) Indirekteskakelwerkwoordkonstruksies [VAUX.INCH CONJ V]
(5) Hy [begin om te help].
Die inchoatiewe niehoofwerkwoord begin en hoofwerkwoord help word in hierdie voorbeeld deur die komplementiseerder om en infinitiefpartikel te geskei. Ander verbindingselemente soos die voegwoord en kan ook in hierdie posisie voorkom.
iii) Niehoofwerkwoorde in progressiewe konstruksies [VAUX.INCH PROG V]
(6) Hy [kom aan die werk].
Die inchoatiewe niehoofwerkwoord kom kombineer met die progressiewe perifrase aan die om 'n inchoatiewe konstruksie te vorm. In hierdie gevalle is die inchoatiewe niehoofwerkwoord ook 'n indirekteskakelwerkwoord, maar in 'n progressiewe konstruksie. Buiten vir die preposisionele progressiewe perifrastiese konstruksies, kan die inchoatiewe niehoofwerk-woorde ook met die progressiewe perifrastiese konstruksies met besig (7) en die postulêre progressiewe perifrastiese konstruksies in (8) kombineer om inchoatiewe konstruksies te vorm. (Verwys na Breed (2012) vir 'n oorsig oor die progressiewe perifrastiese konstruksies in Afrikaans.)
(7) Die kompos was net besig om te begin stoom.
(8) Klim op die kroegtafel en begin loop en brul soos 'n leeu.
Die niehoofwerkwoorde gaan en loop kom nie in al drie van die moontlike inchoatiewe konstruksies voor nie. Gaan en loop word egter beide as direkteskakelwerkwoorde in inchoatiefkonstruksies gebruik. In hiérdie konstruksies kan gaan en loop deurgaans uitruilbaar gebruik word (vergelyk voorbeelde (9) en (10)).
(9) Hy gaan slaap.
(10) Hy loop slaap.
In hierdie artikel word daar gefokus op die direkteskakelwerkwoordkonstruksies waarin gaan en loop inchoatiewe aspektuele betekenis kan uitdruk. Konstruksiegrammatika word betrek as 'n teoretiese raamwerk waarin hierdie twee konstruksies vergelyk kan word.
3. Metodologie en teoretiese raamwerk
3.1 Konstruksiegrammatika
Konstruksiegrammatika (KxG) is 'n deelteorie binne die kognitiewe linguistiek en word hoofsaaklik in gebruiksgebaseerde taalkundenavorsing aangewend (verwys na die volgende publikasies vir die toepassing van KxG in Afrikaanse taalkundenavorsing: Van Huyssteen (2002), (2005) en (2018); Rabé (2021); Wierenga (2022)). Konstruksiegrammatika fokus op grammatikale konstruksies en stel dat veralgemenings oor taalkundige strukture geformuleer kan word aan die hand van konstruksies (Fried, 2015:974). 'n Konstruksie word beskou as 'n vorm-betekenis-passing, waar die vorm van die konstruksie die sintaktiese, morfologiese en fonologiese eienskappe daarvan uitdruk en die betekenis deur die semantiese, pragmatiese en diskoers-funksionele eienskappe bepaal word (Croft, 2001:18). Goldberg (2006) beklemtoon dat geen enkele aspek van die vorm-betekenis-passing volkome voorspel kan word vanuit die onderdele daarvan nie. Konstruksies sluit dus alle aspekte van taal in - morfeme, woorde, idiome, passiewe vorme en so meer (Goldberg, 2006:5).
Een van die voordele van KxG is dat dit 'n teoretiese raamwerk daarstel wat patroonmatige taalverskynsels (konstruksies) op beide sinchroniese en diachroniese wyse kan beskryf en terselfdertyd taalkontaksituasies en taalverandering in ag neem (Höder, 2019:340). Ander teoretiese raamwerke soos grammatikaliseringsteorie kan binne die breër raamwerk van KxG toegepas word.
Grammatikalisering is die proses waardeur leksikale items evolueer om grammatikale funksies te ontwikkel (Miller & Van Gelderen, 2017). Grammatikalisering veronderstel dus dat 'n item afstand doen van leksikale betekenis (semantiese verbleking vind dus plaas) en grammatikale funksies bekom. Grammatikale items kan ook evolueer om meer grammatikale funksies te bekom met die gevolg dat die item in minder gebruikskontekste aangewend kan word en meer gebruiksbeperkinge het. Indien die gebruik van 'n grammatikale item beperk word tot spesifieke gebruikskontekste word die item as gespesialiseerd vir hierdie kontekste beskou (Lyons, 1977; Traugott, 2003; Diewald, 2009; Lehmann, 2015).
Alhoewel hierdie artikel nie pertinent fokus op die ontwikkeling of totstandkoming van die gaan- en /oop-inchoatiefkonstruksies nie en nie pertinent die taalinvloede wat moontlik 'n impak op die gebruik van hierdie konstruksies in Afrikaans het, ondersoek nie, is KxG en grammatikaliseringsteorie wel nuttige teoretiese raamwerke waarin die konstruksies waarin gaan en /oop inchoatiewe betekenisse in Afrikaans uitdruk, beskryf en vergelyk kan word.
3.2 Korpuslinguistiek
Hierdie artikel maak gebruik van 'n korpusgebaseerde benadering om die gebruikskontekste en sintaktiese funksies van gaan en /oop te ondersoek. Korpusondersoek is 'n navorsingsmetode wat vir die afgelope dekade reeds volop gebruik word in Afrikaanse beskrywende taalkundenavorsing (verwys onder meer na Breed (2012), (2016); Kirsten (2016); Conradie (2018); Nel (2018); Van Huyssteen (2018); Wierenga (2022)). Biber (2010:159) beklemtoon die nut van korpuslinguistiese navorsingsmetodes vir taalkundenavorsing deur uit te wys dat dit innoverende navorsing deur middel van kwantifiseerbare statistiese analises gebaseer op outentieke gebruiksgebaseerde taaldata moontlik maak.
Drie korpusse word in hierdie korpusondersoek betrek, naamlik die Taalkommissiekorpus, NWU-Kommentaarkorpus en die Watkykjy!-korpus, omdat hierdie drie korpusse gesamentlik 'n verskeidenheid registers, genres en kommunikasiemediums insluit. Die Taalkommissie-korpus bevat taalgebruik wat onder meer geredigeer is om aan die norme en konvensies van standaard geskrewe Afrikaans te voldoen, die Watkykjy!-korpus bevat hoofsaaklik ongeredi-geerde, informele taalgebruik wat in 'n sosiolek van Afrikaans, genaamd Zefrikaans, voorkom en die NWU-kommentaarkorpus sluit informele taalgebruik met 'n geselstrant in.5 Die aard en omvang van hierdie drie korpusse word in Tabel 1 saamgevat.
'n Kombinasie van programmatuur is gebruik om die korpusondersoeke vir gaan en loop uit te voer. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se korpusportaal is gebruik om die woordelyste vir elkeen van die korpusse, asook die konkordansies vir loop en gaan in elkeen van die korpusse te onttrek. Microsoft Excel is gebruik om die konkordansies handmatig na te gaan en enige gevalle waarin loop en gaan nie inchoatiewe aspektuele betekenis uitdruk nie, te skrap. Voorbeelde met gaan is deurgaans getoets deur gaan met sal te vervang. Indien 'n toekomendetydsbetekenis bewerkstellig kan word deur die vervanging van gaan met sal, is die voorbeeld nie as inchoatief gekategoriseer nie. Die skoongemaakte konkordansies bied 'n oorsig van hoeveel keer loop en gaan in inchoatiewe konstruksies voorkom in elkeen van die korpusse asook 'n oorsig oor die gebruikskontekste (genre en register) waarin hierdie inchoatiewe konstruksies voorkom.
Die programmeringstaal R is gebruik om Gries (2003) en Gries en Stefanowitsch (2004a; 2004b) se kollostruksieanalises uit te voer. Kollostruksieanalises word gebruik om die assosiasiesterkte tussen 'n konstruksie en die daaropvolgende of die voorafgaande item(s) te bepaal. Vir die doeleindes van hierdie artikel is die kollokasiesterkte (die assosiasiesterkte) tussen die loop- en gaan-inchoatiewekonstruksies en die hoofwerkwoorde wat saam met hierdie konstruksies gebruik word, bereken. Die resultate van hierdie kollekseemanalise bied 'n oorsig oor watter tipe hoofwerkwoorde algemeen saam met elkeen van die inchoatiewe konstruksies voorkom.
Die onderskeidende kollekseemanalise dui aan of 'n hoofwerkwoord eerder geneig sal wees om saam met een van die inchoatiewe niehoofwerkwoorde gebruik te word as saam met die ander inchoatiewe niehoofwerkwoord (vergelyk Gilquin, 2013:119). Hierdie analises bied statistiese data waarvolgens bepaalde afleidings gemaak kan word oor die ooreenkomste en verskille in die sintaktiese funksies en semantiese betekenisse van die loop en gaan inchoatiewe niehoofwerkwoordkonstruksies.
4. Resultate
4.1 Konkordansies
Tabel 2, 3 en 4 bevat die resultate van die konkordansies vir gaan en loop as direkteskakelwerk-woorde in inchoatiewe konstruksies in die drie korpusse.
Die relatiewe frekwensies vir hierdie konstruksies is bereken deur gebruik te maak van die formule:
(Totaal van voorkoms van inchoatiewe niehoofwerkwoord / Totale woorde in korpusse) χ 1 000 000 = Relatiewe frekwensie)
In vergelyking met die TK- en Kommentaarkorpus (251.55 en 498.33 per miljoen woorde onderskeidelik) wil dit voorkom asof die inchoatiefkonstruksies met gaan en loop as direkteskakelwerkwoord meer voorkom in die Watkykjy!-korpus (1 321.22 per miljoen woorde). Wanneer die distribusies van die gaan- en loop-inchoatiefkonstruksies in elkeen van die korpusse egter bereken word (99:1; 99:1; 94:6), is dit duidelik dat daar geen statisties beduidende verskil tussen die gebruik van hierdie konstruksies in die drie korpusse is nie. Distribusies verwys na die verhouding tussen gaan en loop tot mekaar in elke korpus. Dit wil sê die totale trefslae vir gaan in die Kommentaarkorpus (7 268) gedeel deur die gesamentlike totaal vir gaan- en loop-inchoatiefkonstruksies in die korpus (7 301). Die distribusies vir die konstruksies in elkeen van die korpusse word in Tabel 5 weergegee.
Die TK-korpus en Kommentaarkorpus se distribusies is identies, terwyl die Watkykjy!-korpus se distribusies effens afwyk. 'n Moontlike verklaring vir die verskil tussen die Watkykjy!-korpus en die ander twee korpusse se distribusies is die aard van die Watkykjy!-korpus se inhoud. Hierdie korpus bevat, soos reeds genoem, die bloginskrywings wat op die Watkykjy!-webtuiste gepubliseer word. Die inhoud van hierdie blogs word hoofsaaklik deur een outeur geskep en is dus idiosinkraties van aard. Dit is moontlik dat die outeur van hierdie blogs 'n (bewustelike of onbewustelike) voorkeur het vir die gebruik van loop-inchoatiefkonstruksies in gebruiks-kontekste waar ander outeurs moontlik eerder gaan sou gebruik. Hierdie moontlike verklaring vir die verskil in distribusies word ondersteun deur die feit dat die kommunikasiemedium, naamlik bloginskrywings op 'n webblad, soortgelyk is aan die kommunikasiemedium van die Kommentaarkorpus, naamlik gebruikerskommentaar wat op 'n webblad geplaas word. So ook is die taalgebruik in beide die Kommentaarkorpus en die Watkykjy'-korpus oorheersend informele, ongeredigeerde Afrikaans. Die verskil in distribusies van die inchoatiefkonstruksies in die korpusse kan dus nie toegeskryf word aan die kommunikasiemedium, geredigeerdheid van die taalgebruik, register of genre nie.
Die verskil in die distribusies van die konstruksies in die korpusse is egter nie statisties beduidend nie en daarom kan die verskil in die gebruiksfunksies en -kontekste van die gaan-en loop-inchoatiefkonstruksies in al drie korpusse gesamentlik ondersoek word.
4.2 Kollekseemanalise
Die kollekseemanalises van gaan en loop in die drie korpusse bied beperkte resultate. Al die hoofwerkwoordkollokasies vir gaan en loop toon 'Inf'-resultate. 'Inf'-waardes (Infinitive) dui nie noodwendig op 'n statisties beduidende kollokasiesterkte nie, maar eerder op 'n gebrek aan genoegsame geskikte voorbeelde (Gilquin, 2013:8). Daar is heelwat hoofwerkwoorde wat slegs een keer in 'n korpus voorkom of slegs een keer voorkom saam met 'n inchoatiewe niehoofwerkwoordkonstruksie en daarom 'n skynbaar sterk kollokasiesterkte met die bepaalde inchoatiewe niehoofwerkwoordkonstruksie toon. Hierdie hapax legomena word gewoonlik by korpusondersoeke weggelaat by die berekening van die kollokasiesterkte. Vir die doeleindes van hierdie artikel is hapax legomena nie uitgelaat nie, omdat die data verskraal word deur die uitsluiting daarvan. Elke hoofwerkwoord se semantiese waarde is deurgaans in ag geneem om tendense te kan identifiseer.
Die volgende voorbeeld dien as illustrasie. Indien die hoofwerkwoorde eet, vreet en smul elkeen slegs een keer saam met 'n bepaalde inchoatiefkonstruksie voorkom in 'n korpus, sal hierdie gevalle as hapax legomena bestempel word en by die data uitgesluit word. Dit is egter duidelik dat al drie hoofwerkwoorde dieselfde kernbetekenis oordra, naamlik dat voedsel deur middel van die mond ingeneem word. Indien hierdie drie hoofwerkwoorde op grond van hierdie kernbetekenis saamgroepeer word, kan daar bepaal word tot watter mate hoofwerk-woorde met hierdie semantiese betekenis eerder saam met gaan of loop gebruik word in bepaalde kontekste.
Die resultate van die kollekseemanalise word in die onderstaande afdelings aangebied en bespreek.
4.2.1 Gaan
'n Totaal van 364 individuele hoofwerkwoorde kom saam met gaan-inchoatiewekonstruksies in die data voor. 'n Totaal van 49% van hierdie hoofwerkwoorde word slegs een keer saam met die gaan-inchoatief aangetref. Soos reeds genoem, dui hierdie resultaat daarop dat gaan in 'n groot verskeidenheid kontekste en saam met 'n groot verskeidenheid hoofwerkwoorde in inchoatiewe konstruksies gebruik kan word.
Aangesien die kollekseemanalise geen statisties beduidende kollokasiesterktes opgelewer het nie, word daar in hierdie artikel eerder gebruik gemaak van die gebruiksfrekwensie van die hoofwerkwoordkollokasies saam met die gaan-inchoatief om patroonmatigheid in die gebruik van die inchoatiefkonstruksie te bespreek. Dit is sinvol om steeds die hoofwerkwoord-kollokasies van inchoatiewe niehoofwerkwoordkonstruksies waarin gaan en loop voorkom by hierdie studie in te sluit, omdat die hoofwerkwoorde wat saam met 'n bepaalde konstruksie voorkom 'n aanduiding kan gee van waarom gaan of loop in 'n spesifieke konteks gebruik word eerder as die ander niehoofwerkwoord.
Die oorheersende meerderheid van die hoofwerkwoorde wat die frekwentste met gaan-inchoatiewe kollokeer, is postulêre werkwoorde soos sit (4.78%), staan (4.55%) en lê (1.01%), of veronderstel 'n spesifieke postulêre liggaamshouding wat geassosieer word met die handeling wat deur die hoofwerkwoord uitgedruk word, byvoorbeeld slaap (1.51%). Heelwat van die hoofwerkwoorde wat saam met gaan-inchoatiefkonstruksies aangetref is veronderstel 'n proses met duur.
(11) Ek gaan sit verlig op my gat maar daar is nou orals rook net waar jy kyk.
(12) En dan gaan slaap ons.
Hoofwerkwoorde wat sensoriese liggaamsfunksies uitdruk soos kyk (8.82%), check (2.80%), sien (1.47%) en luister (2.75%) kollokeer ook algemeen met gaan in inchoatiewe konstruksies.
(13) Gaan kyk ook na Karel se biografie.
(14) Maak dan 'n kraak en gaan sien hulle.
'n Aantal van die werkwoorde wat frekwent met gaan-inchoatiewe kollokeer veronderstel 'n mate van beweging wat impliseer dat gaan se leksikale betekenis steeds in ag geneem word, onder meer soek (4.00%), koop (3.12%), kry (2.62%), haal (2.25%), rondkrap (0.64%). In voorbeeld (15) is die leksikale betekenis van gaan byna totaal verbleek en is daar geen implikasie dat die aangesprokene moet beweeg vanaf een ligging na 'n ander om te kan "rondkrap" in die digitale winkel nie. In voorbeeld (16) is hierdie leksikale betekenis effens minder verbleek omdat daar nie noodwendig verwag word dat die aangesprokene van een ligging na 'n ander moet gaan om die "tapes" te soek nie, maar die konteks impliseer dat die aangesprokene waarskynlik tussen verskeie plekke moet beweeg op soek na die "tapes" wat "plek opvat en stof opgaar".
(15) Jy kan op Zefshop gaan rondkrap vir zef hempies vir toddlers of t-shirts vir groot-mense.
(16) Gaan soek solank jou ou VHS tapes wat net plek opvat en stof opgaar.
Algemene werkwoorde wat aktiwiteite impliseer soos maak (2.94%), doen (2.85%) en werk (1.56%) kom ook frekwent voor.
(17) Wat het jy nou gaan doen?
(18) Maak jou pick en gaan drink iets.
Dit kom dus voor asof gaan geredelik saam met 'n groot verskeidenheid hoofwerkwoorde gebruik word en as verstekniehoofwerkwoord in inchoatiewe direkteskakelwerkwoordkon-struksies dien.
4.2.2 Loop
'n Totaal van 56 verskillende hoofwerkwoorde is saam met die loop-inchoatiefkonstruksies in die data aangetref. 42% van hierdie hoofwerkwoorde word slegs een keer saam met die loop-inchoatiefkonstruksie in die korpus aangetref. Alhoewel loop met aansienlik minder hoofwerkwoorde kollokeer as gaan (56 hoofwerkwoorde teenoor 364 verskillende hoofwerk-woorde) is byna die helfte van die hoofwerkwoorde wat saam met /oop-inchoatiefkonstruksies in die korpus aangetref is, slegs eenmalig saam met dié konstruksie aangetref.
Zoop-inchoatiewe kollokeer met 15% van die hoofwerkwoorde waarmee gaan-incho-atiewe kollokeer. Hieruit kan afgelei word dat loop meer beperk is ten opsigte van die hoof-werkwoorde wat daarmee kan kollokeer en die kontekste waarin dit gebruik kan word. Grammatikaliseringsteorie stel dat beperkinge met betrekking tot hoofwerkwoordkollokasies 'n moontlike aanduiding van die spesialisering van 'n konstruksie is.
Slegs 14 hoofwerkwoorde is meer as een keer saam met die /oop-inchoatiefkonstruksie aangetref. Hierdie hoofwerkwoorde word in Tabel 6 gerangskik volgens die gebruiksfrewensie van die hoofwerkwoord saam met die loop-inchoatiefkonstruksie.
Heelwat van die hoofwerkwoorde wat frekwent saam met die /oop-inchoatief in die korpus aangetref word, kom ook saam met die gaan-inchoatief voor, onder meer haal, soek, slaap, sit, staan en lê. Die uitruilbaarheid van loop en gaan as direkteskakelwerkwoorde in hierdie inchoatiefkonstruksies gee aanleiding daartoe dat sommige hoofwerkwoorde saam met beide loop en gaan gebruik word.
Dit is egter opmerklik dat hoofwerkwoorde wat 'n afkeurende houding of emosie teenoor die handeling uitdruk, of poog om 'n afkeurende emosie in die ontvanger van die sin te ontlok, soos suip (7.29%), naai (7.29%), afpis (7.29%), en kakmaak (7.29%), volop voorkom in die lys hoofwerkwoorde wat saam met loop aangetref is. 26% van die hoofwerkwoorde wat saam met die /oop-inchoatiefkonstruksie voorkom druk 'n negatiewe of afkeurende houding/emosie teenoor die handeling uit of poog om 'n afkeurende/minagtende emosie by die ontvanger daarvan te ontlok.
(19) Dit is asof hulle een of ander gummy bear juice loop suip het in hul extended off season.
(20) Moenie jou doosduur trui loop brand nie, gaan cancel eerderjou DSTV subscription.
Dit is verder opmerklik dat 35.41% van die /oop-inchoatiewe in imperatiewe sinne voorkom. Dit wil dus voorkom asof die gebruik van /oop in hierdie imperatiewe poog om 'n verpligting by die aangesprokene tuis te bring of die spreker se morele oordeel teenoor die handeling wat deur die hoofwerkwoord uitgedruk word, wil weergee. In hierdie gevalle druk loop 'n soort deontiese modaliteitsbetekenis uit. Verdere ondersoek na die modale funksies van loop sal egter onderneem moet word om met sekerheid aan te dui of /oop wel as modale merker funksioneer in hierdie kontekste.
(21) Loop haal 'n koue enetjie en kom sit.
(22) Loop soek hulle net.
Soos ook in die geval van gaan impliseer heelwat van die hoofwerkwoorde wat met /oop kollokeer steeds 'n mate van die leksikale betekenis "om te beweeg vanaf punt A na punt B deur gebruik te maak van gekoördineerde been-voet-bewegings" in bepaalde kontekste, soos byvoorbeeld op 'n kampus, maar nie in ander kontekste soos dié van 'n woonbuurt in 'n stad nie.
(23) Knak 'n warm bier en loop soek kos.
(24) Dié dat ek 'n dag ná die kamtige arrival date eers loop vra vir my pakkies.
In beide hierdie voorbeelde kan die konteks toelaat dat daar ingelees word dat die spreker wel vanaf een punt na 'n ander moet loop om, onderskeidelik, kos te koop en 'n pakkie te gaan afhaal. Tog, is loop nie 'n hoofwerkwoord in hierdie sinne nie en verrig loop as niehoofwerk-woord 'n inchoatiefaspektuele funksie. Dit wil sê dat loop eerder 'n aspektuele funksie verrig en nie impliseer dat daar werklik geloop word nie. Loop het egter nie in hierdie kontekste geheel en al afstand gedoen van die oorspronklike semantiese betekenis nie.
Dit is ook opmerklik dat loop as inchoatiewe niehoofwerkwoord frekwent voorkom saam met hoofwerkwoorde wat kontrasteer met die postulêre liggaamsposisie wat loop veronderstel, soos slaap en lê. In hierdie kontekste het loop dus volkome afstand gedoen van die leksikale betekenis en is loop meer gegrammatikaliseerd.
4.3 Onderskeidende kollekseemanalise
'n Onderskeidende kollekseemanalise is 'n statistiese analise wat aantoon of 'n item 'n sterker assosiasiesterkte met een konstruksie het in vergelyking met 'n ander. 'n Onderskeidende kollekseemanalise is onderneem om te bepaal watter van die hoofwerkwoorde wat saam met beide gaan en loop inchoatiewe konstruksies aangetref is sterkter assosiasiesterktes (kollokasie-sterktes) saam met een van die inchoatiewe niehoofwerkwoorde het as met die ander. Gilquin (2013:9) stel dat 'LargDev' (largest deviation) die term is wat gebruik word om die hoogste graad van aantrekkingskrag (indien die waarde positief is) of afstotende krag (indien die waarde negatief is) aan te dui tussen die hoofwerkwoord en die konstruksie. 'n Waarde groter as 1.30103 (p<0.05) word as statisties beduidend aanvaar.
Die bevindinge van die onderskeidende kollekseemanalise vir die drie korpusse dui daarop dat 624 verskillende hoofwerkwoorde sterker aantrekkingskragte saam met gaan in inchoatiewe niehoofwerkwoordelike konstruksies het en 46 hoofwerkwoorde sterker met loop assosieer as met gaan.
Die onderstaande tabel bevat die 14 hoofwerkwoorde vir gaan en loop met die hoogste 'LargDev'-waarde vir die drie korpusse (uitsluitend enige hoofwerkwoorde wat slegs een keer voorkom in die kollekseemanalises).
Hierdie 14 hoofwerkwoorde het die hoogste 'LargDev.'-waardes vir gaan en loop onderskeidelik. Die resultate van die onderskeidende kollekseemanalise dui daarop dat 73% van die hoofwerkwoorde meer geneig sal wees om saam met gaan voor te kom as saam met loop. Hierdie hoë persentasie kan toegereken word aan die feit dat gaan hoër gebruiksfrekwen-sies getoon het as loop in die konkordansies. Gaan is dus die verstekniehoofwerkwoord in hierdie konstruksies en semanties 'n meer neutrale keuse met minder gebruiksbeperkinge.
Vanuit die resultate van die onderskeidende kollekseemanalise is dit duidelik dat beide gaan en loop algemeen voorkom saam met hoofwerkwoordkollokasies wat steeds verband hou met die leksikale betekenisse6 van gaan (onder andere soek, sluip) en loop (onder meer haal, kry en vat). So ook is daar pejoratiewe hoofwerkwoorde, dit wil sê hoofwerkwoorde wat 'n minagtende of afkeurende houding of emosie uitdruk, wat eerder saam met gaan (smous) of loop (slat, afpis en suip) kollokeer. Soveel as 42% van die hoofwerkwoorde wat sterker met loop kollokeer as met gaan is pejoratiewe hoofwerkwoorde of hoofwerkwoorde wat poog om 'n afkeurende of minagtende houding teenoor die handeling te ontlok by die ontvanger van die sin. Slegs 9.2% van die hoofwerkwoorde wat meer geneig sal wees om met gaan te kollokeer is pejoratief of poog om afkeer by die ontvanger te ontlok. Dit is verder opmerklik dat slegs 4.3% van die hoofwerkwoorde wat sterkter assosieer met gaan vloekwoorde of taboewoorde is (onder meer pis, neerdonner en kots), terwyl 23.9% van die hoofwerkwoorde wat sterker met loop assosieer vloekwoorde of taboewoorde (onder meer holswaai, kakmaak en naai) is. Uit hierdie resultate kan dus afgelei word dat alhoewel gaan saam met pejoratiewe hoofwerkwoorde en vloekwoorde kán voorkom, dit meer gebruiklik is vir hierdie hoofwerk-woorde om met loop te kollokeer. Loop verrig dus 'n addisionele modale funksie wat die spreker se afkeurende of minagtende houding uitdruk of selfs 'n afkeurende emotiewe respons vanaf die ontvanger van die uiting probeer ontlok, wat afwesig is by gaan. Dit is dus ook waar vir loop as postulêre kognaatkonstruksie van gaan in inchoatiewe skakelwerkwoordkon-struksies.
Dertig van die hoofwerkwoorde wat sterker assosiasies met loop het, se kollokasiesterktes is statisties beduidend, terwyl slegs 23 van die kollokasies wat sterker met gaan assosieer statisties beduidend is. Die groot aantal hoofwerkwoordkollokasies wat saam met gaan voorkom, maar nie statisties beduidend is nie (96%), dui daarop dat gaan waarskynlik in meer gebruikskontekste kan voorkom en daarom verder gegrammatikaliseer het as inchoatiewe niehoofwerkwoord as loop. Gaan is dus die verstekniehoofwerkwoordelike inchoatief. Soveel as 65% van die hoofwerkwoorde wat sterker met loop assosieer het statisties beduidende kollokasiesterktes in die onderskeidende kollekseemanalise. Dit beteken dat loop meer gespesialiseerd is as gaan vir spesifieke gebruikskontekste, naamlik a) in kontekste waar daar 'n afkeurende of minagtende houding of emosie teenoor die handeling uitgedruk word of bewerkstellig wil word; en b) in imperatiewe.
Daar is vier voorbeelde in die korpora aangetref waar beide loop en gaan gesamentlik in 'n werkwoordkluster gebruik word om inchoatiewe betekenis uit te druk. Al vier hierdie voorbeelde is in die Kommentaarkorpus aangetref.
(25) Ai boetie, gaan loop soek daar onder daardie hoop.
(26) Pak jou sak en loop gaan soek ander werk.
(27) Toe loop gaan werk!
(28) Loop gaan soek aandag iewers anders.
Te min van hierdie voorbeelde is in die korpusdata aangetref om afleidings hieroor te maak. Dit is nietemin moontlik dat loop en gaan gesamentlik gebruik word om die inchoatiewe betekenis te beklemtoon. Breed (2017a:11) beskryf die evolusie van postulêre werkwoorde vanaf 'n hoofwerkwoord wat gebruik word om liggaamshouding weer te gee tot 'n aspektuele merker. Die finale ontwikkelingsfase wat Breed (2017a:11) identifiseer is die verkryging van 'n modale funksie (soos 'n deontiese of pejoratiewe modaliteit) wat nie uitsluitlik voorkom in kontekste waar die postulêre werkwoord loop gebruik word om progressiewe betekenis uit te druk nie, maar ook in kontekste waar nieprogressiewe aspektuele betekenisse uitgedruk word. Breed (2017b:40) stel ook dat loop se modale funksies meer gebruiklik en produktief is in die informele, niestandaardvariëteite van Afrikaans. Die bevindinge van hierdie artikel bevestig Breed se gevolgtrekking, omdat loop as inchoatiewe niehoofwerkwoord ook modale betekenis kan uitdruk in die vorm van 'n afkeurende of minagtende houding teenoor die handeling wat uitgedruk word deur die hoofwerkwoord. Die meerderheid van die gevalle waar loop-inchoatiefkonstruksies hierdie addisionele modale funksie uitdruk is in die informele niestandaardtaal van die Kommentaarkorpus, Watkykjy!-korpus en in fiksietekste in die TK-korpus aangetref.
Dit is opmerklik dat al drie voorbeelde imperatiewe is en dat die plasing van loop in die eerste posisie van die werkwoordkluster dus waarskynlik ten doel het om die imperatiewe modus te beklemtoon.
5. Slot
Die inchoatiewe niehoofwerkwoorde gaan en loop kan uitruilbaar gebruik word as direkteskakelwerkwoorde in inchoatiewe konstruksies in Afrikaans. 'n Korpusondersoek is onderneem om die gebruiksfunksies en beperkinge van hierdie twee inchoatiewe konstruksies in die TK-korpus, Kommentaarkorpus en Watkykjy!-korpus te bepaal. Die bevindinge van die korpusondersoek dui daarop dat daar bepaalde semantiese nuanses deur die keuse van een inchoatiewe niehoofwerkwoord eerder as die ander bewerkstellig word. Die loop-inchoatief-konstruksies is meer gespesialiseerd as die gaan-inchoatiefkonstruksies en kom meer geredelik voor in gebruikskontekste waar 'n afkeurende of minagtende houding teenoor die situasie uitgedruk of bewerkstellig word. So ook is loop meer algemeen in imperatiewe aangetref as gaan.
Die gebruiksbeperkinge van die loop-inchoatiefkonstruksie word daaraan toegeskryf dat loop 'n soort deontiese modale betekenis uitdruk wat nie noodwendig aan gaan gekonnoteer word nie, naamlik dat loop gebruik word om 'n afkeurende/minagtende houding of emosie teenoor die handeling uit te druk en dus meer geredelik met pejoratiewe hoofwerkwoorde kollokeer. Daarenteen word gaan meer geredelik in 'n wyer reeks gebruikskontekste aangewend om inchoatiewe betekenis uit te druk. Dit wil sê dat gaan die meer neutrale keuse is en dus die verstekniehoofwerkwoord in hierdie konstruksies.
BIBLIOGRAFIE
Biber, D. 2010. What can a corpus tell us about registers and genres? In O'Keeffe & McCarthy (eds). The Routledge Handbook of Corpus Linguistics. London: Routledge. [ Links ]
Breed, CA. 2012. Die grammatikalisering van aspek in Afrikaans: 'n Semantiese studie van perifrastiese progressiewe konstruksies. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif - PhD). [ Links ]
Breed, CA. 2016. Aspek in Afrikaans: 'n Teoretiese beskrywing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(1):62-80. [ Links ]
Breed, CA. 2017a. The subjective use of postular verb in Afrikaans (I): Evolution from progressive to modal. Spil Plus, 52:1-21. [ Links ]
Breed, CA. 2017b. The subjective use of postural verbs in Afrikaans (II): A corpus analysis of CPV en in Zefrikaans. Spil Plus, 52:23-43. [ Links ]
Conradie, CJ. 2018. Modale kettings in Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(2):258-276. [ Links ]
Croft, W. 2001. Radical construction grammar: Syntactic theory in typological perspective. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Diewald, G. 2009. Konstruktionen und Paradigmen. https://doi.org/10.1515/ZGL.2009.031 [26 April 2022]. [ Links ]
Fried, M. 2015. Construction grammar. In Alexiadou & Kiss (eds). Syntax - Theory and analysis. An international handbook. Handbook of linguistics and communication sciences. Berlin: Mouton de Gruyter, pp. 974-1003. [ Links ]
Gilquin, G. 2013. Making sense of collostructional analysis. On the interplay between verb sense and construction. Constructions and Frame, 5(2):119-142. [ Links ]
Goldberg, AE. 2006. Constructions at word: The nature of generalization in language. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Gries, ST. 2007. Coll.analysis 3.2a. A script for R to compute perform collostructional analyses. https://stgries.info/teaching/groningen/index.html [20 May 2022]. [ Links ]
Gries, ST & Stefanowitsch, A. 2004a. Extending collostructional analysis: A corpus-based perspective on 'alternations'. International Journal of Corpus Linguistics, 9(1):97-129. [ Links ]
Gries, ST & Stefanowitsch, A. 2004b. Covarying collexemes in the Into-causative. In Achard & Kemmer (eds). Language, culture, and mind. Stanford: Standford University Press. [ Links ]
Höder, S. 2019. Phonological schematicity in multilingual constructions: A diasystematic perspective on lexical form. Word Structure, 12(3):334-352. [ Links ]
Kirsten. J. 2016. Grammatikale verandering in Afrikaans van 1911-2010. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif - PhD). [ Links ]
Labuschagne, FJ. 1968. Iets oor aspek: lingologies gesien. Taalfasette, 6:17-26. [ Links ]
Lehmann, C. 2015. Thoughts on grammaticalization. Berlin: Language Science Press. [ Links ]
Lyons, J. 1977. Semantics. Cambridge: Syndicate Press of the University of Cambridge. [ Links ]
Miller, DG & Van Gelderen, E. 2017. Grammaticalization. Oxford Bibliographies. https://www.oxfordbibliographies.com/view/document/obo-9780199772810/obo-9780199772810-0019.xml 8 Jun. 2020. [ Links ]
Nel, M. 2018. Outeurskapidentifikasie en mikroblogs: 'n eksploratiewe forensiese analise in 'n digitale era. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Proefskrif - PhD). [ Links ]
Rabé, M. 2021. Kodewisseling in Afrikaans-Nederlandse kinders se spraak. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Verhandeling - MA). [ Links ]
Scholtz, HvdM. 1940. Taal en taalverskynsels. Bloemfontein: Nasionale Pers. [ Links ]
Traugott, EC. 2003. From subjectification to intersubjectification. In Hickey (ed.). Motives for language change. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 124-139. [ Links ]
Van Huyssteen, GB. 2002. Teoretiese vooronderstellings van 'n kognitiewe gebruiksgebaseerde beskrywingsmodel vir die Afrikaanse grammatika. Southern African Linguistics and Applied Language Studies (SALALS), 20(4):303-323. [ Links ]
Van Huyssteen, GB. 2005. 'n Kognitiewe gebruiksgebaseerde beskrywing vir die Afrikaanse grammatika. Southern African Linguistics and Applied Language Studies (SALALS), 23(2):125-137. [ Links ]
Van Huyssteen, GB. 2018. 'n Korpusondersoek na huidiglik. Literator, 39(2):1-10. [ Links ]
Wierenga, R. 2022. Inchoatiewe niehoofwerkwoordkonstruksies in Afrikaans. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit. (Verhandeling - MA). [ Links ]
Wierenga, R & Breed, CA. 2022. Inchoativity: A theoretical description for inchoative auxiliary verb constructions in Afrikaans. [submitted for publication: Folia Linguistica]. [ Links ]
Ontvang: 2022-10-31
Goedgekeur: 2023-04-28
Gepubliseer: Junie 2023
Roné Wierenga is tans projekbestuurder en taalkundeskrywer van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), en navorsingskoördineerder by die Afrikaanse Taalraad (ATR). Naas hierdie rolle is sy ook werksaam by die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) en die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Letterkunde (DBAL). Sy verwerf in 2022 'n mees-tersgraad in Linguistiekteorie aan die Noordwes-Universiteit en onderneem verdere doktorale studie. Haar navorsing fokus op beskrywende taalkunde, korpuslinguistiek, sintaksis, taalverandering en variasietaalkunde. Haar belangstellings sluit egter fonetiek en fonologie, digitisering en diachroniese taalkunde in. In 2019 verwerf sy 'n BA Honneurs in Afrikaans en Nederl ands, met Klassieke Latyn en Engels as addisionele modules, aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.
Roné Wierenga currently works as project manager and linguistic author at the Virtual Institute for Afrikaans (VivA), and as research coordinator at the Afrikaans Language Council. She is also actively involved in the development and maintenance of the Digital Bibliographies for Afrikaans Linguistics (DBAT) and Literature (DBAL). In 2022 she obtains her Master's in Linguistic theory from the North-West University and undertakes further doctoral studies. Her research focus is descriptive linguistics, corpus linguistics, syntax, language change and language variation. Her interests also include phonetics and phonology, digitization, and diachronic linguistics. She obtained a BA Honours degree in Afrikaans and Dutch with Classical Latin and English additional modules from the North-West University in 2019.
1 Wierenga (2022) bied 'n oorsig oor die bestaande literatuur oor inchoatiwiteit in Afrikaans. Sy bied 'n werksdefinisie vir die beskrywing van inchoatiewe niehoofwerkwoorde in Afrikaans aan asook 'n bestekopname van al die moontlike niehoofwerkwoorde wat inchoatiewe betekenis in Afrikaans kan uitdruk. Hiernaas identifiseer Wierenga (2022) drie moontlike konstruksies waarin hierdie niehoofwerkwoorde inchoatiewe betekenis uitdruk in Afrikaans. Wierenga en Breed (2022) is 'n artikel wat voortspruit uit Wierenga (2022) en poog om 'n teoretiese begronding vir die klassifikasie van inchoatiwiteit in verhouding tot ander aspektuele betekenisse daar te stel. Wierenga en Breed (2022) word tans oorweeg vir publikasie.
2 Vir 'n uiteensetting van die onderskeid tussen tempus en aspek in Afrikaans verwys na Breed (2012). 'n Volledige bespreking van aspektuele betekenis in Afrikaans word ook in Breed (2016) aangebied.
3 Voorbeelde is verkry en aangepas vanuit die Virtuele Instituut vir Afrikaans se Omvattende Korpusportaal (VivA-KPO, 2022).
4 Vir die doeleindes van hierdie artikel word slaap, brand en werk as hoofwerkwoorde in hierdie kontekste bestempel. Aangesien hierdie woorde vormlik identies is aan hul naamwoordelike kognaatkonstruksies, is daar ook kontekste waarin hierdie woorde as naamwoorde geklassifiseer kan word. Vir 'n beskrywing van hierdie meerduidigheid in die klassifikasie van hierdie woorde verwys na (Breed, 2012:147).
5 Alle korpusse is gebruik en korpusvoorbeelde is verkry deur middel van VivA se Korpusportaal (VivA 2022). Die Taalkommissiekorpus vorm deel van die Omvattende afdeling van VivA se Korpusportaal (VivA-KPO). Die Watkykjy!-korpus en NWU-Kommentaarkorpus is deel van die Korpusportaal se eksklusiewe afdeling (VivA-KPE).
6 Gaan se leksikale betekenis impliseer dat daar beweging vanaf punt A na punt B plaasvind, terwyl loop se leksikale betekenisse veronderstel dat hierdie beweging vanaf punt A na punt B gekoördineerde hand-voet-bewegings veronderstel.