SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.37 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Literator (Potchefstroom. Online)

    On-line version ISSN 2219-8237Print version ISSN 0258-2279

    Literator vol.37 n.1 Mafikeng  2016

    https://doi.org/10.4102/lit.v37i1.1232 

    LITERA
    http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1232

     

    Twee gedigte

     

     

    B.J. Odendaal

    ATKV School for Creative Writing, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

    Correspondence

     

     

    Sehnsucht

    verlange nie van hier en nou eens naby nie

    beur uit die nes van jou omhelsings aartsverlater sy

       reikhals swaanmooi

    heen 'n trekvoël nie van hier nie nou of

    digby nie

    haar hunker-

    sug

    hang windstilswaar daar waar sy weggefletter het

               uit die geknakte-

                       takelwerk van

                        spookskip lengte-van-dae

    jy gaan tuisteskep dus metterwoon jou liefhê uit die gemis

    maak loopbaan al oor die spoor van die vergetelheid

    jou oog op aldag en sy wonders (dogtertjies-met-haarstrikke)

    dan kom daar poskaarte uit vanouds van gunter af

    jou kop glip naweke weg kantien toe op vergesog na

         hotel afgeleef op êrens

    weke wil jy vort jy wil hoor sy was daar ja ge-hitchhike

    glo of ysterperd gery

    dwaaldolla oor wie elke tweede jan rap sad stories

        weet te verkoop

    jy gaan sit in leë kerke waar jy vermoed sy kon gewees het

    bedeloos

    omwille luisterryke swyes

    in 'n lughawe se vertreksaal

    teen hoë digte vensters langs

    iewers aan die einde van 'n somer

    volg jou oë om en om die onbegonne trekswaelvlug

    in tale aan die kwyn haastig of langsamerhand reis jy

       verslangs

    onweerstaanbaar toe na digterby en raakgesê

          maar sy is soek in elke gedig

    verseindes skiet te kort immer sy weet dat eindes

    eintlik oop

    soos einders is waar jy 'n sin wil toeknoop by die punt

      daar glip

    verlange

      uit

    jul skandekind ontdek jy op 'n dag dool

    in jou voortuin rond kaal en maer

    huil-huil hier nou

     

    Straatmuse

        Wink-

        of wuifbe-

        wegings

    anderkant die multilaan-sakestraat

    val jou by koerantkoop in

    die oog.

    Appèl aan jou? Of iemand wat na

    jou wil kom?

    Jy sien stuk-stuk deur die drukke huistoegaanverkeer die

                   wink- of wuiwery,

                   geroep en -lonk en -mik

                   tot wanhoop toe ...

                   dat sy (dis tog 'n sy?) gaan

                    moed verloor ...

    en jy rek die nek

    en soek die deurkomkans, linksom langs, of

    regs, na oorkant waar sy was,

    jy merk iets verlangs straat-af

    soos 'n metafoor

    - die oorbrug van 'n gedig -

    en veg en vleg dié ompad oop,

         trippel trappe op

         en trappe

         af

        om oorkant aan te land.

        In die maling van gelate op

        amptenaredrag

    duik praggrimeersel op, hier, daar, met

       kokette

    wenkbrouvraag, en skuif die lok-kledy (onvermy-

    delik - ou cliché - die skynverhulde dy) oop ... Ligtekooiverleiding bloot.

    Aandskemer bly: ou filmrol wat stol,

    brandvlek. Maar gelding stu. Iets wil

    soos beursie in jou broeksak bultmaak; en

    jy kyk nog om

    oorkant toe: na hoe 'n jy daar staan,

    dagbladlesend in 'n bushalte-ry,

    aldagbenullig, kop wat huis toe staan,

    sonder waan oor waar gelonk heen lei.

     

     

    Correspondence:
    B.J. Odendaal
    bernard.odendaal@nwu.ac.za