Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Abstract
VAN NIEKERK, Anton A.. Die intellektueel as opvoeder. Tydskr. geesteswet. [online]. 2019, vol.59, n.3, pp.305-317. ISSN 2224-7912. http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2019/v59n3a1.
Hierdie artikel handel oor die rol van die openbare intellektueel in die opvoeding van die samelewing. Die skrywer toon aan hoe vele skrywers meen dat die idee van die openbare intellektueel sy oorsprong in Antieke Griekeland het, met Protagoras en Sokrates as vermeende voorbeelde. Dit word meer algemeen aanvaar dat openbare intellektuele ʼn moderne verskynsel is. Hulle medieer tussen die publiek en ʼn wêreld van meesal moeilik toeganklike idees. Op die kulturele vlak evalueer hulle die status van die samelewings waartoe hulle behoort, en in die politiek ontwikkel hulle idees wat lei tot politieke aksie. Die skrywer wys veral op die oorgange in intellektuele optrede vanaf moderniteit na postmoderniteit. Hulle verwerp toenemend die outoritêre deklamasie van natuurwette en kulturele vorme, hulle spreek bedenkinge uit oor die houdbaarheid van die kategorie van seker kennis, hulle artikuleer die gefragmenteerdheid van die moderne wêreldbelewing, hulle verwerp toenemend die idee van die selfevidente gegewenheid van verskynsels en vervang dit met die idee van die noodsaak van mediasie via tekens en simbole, en hulle propageer laastens ʼn wêreld waarin Filosofie as die "Vak" wat aan almal verduidelik waarmee hulle "eintlik" besig is, vervang word met die dialoog-soekende en bemiddelende idee van hermeneutiek.
Keywords : Intellektueel; moderniteit; postmoderniteit; wetenskap; subjek; kultuur; opvoeding; rasionaliteit; relativisme; dilettante.