Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Social Work/Maatskaplike Werk
On-line version ISSN 2312-7198
Print version ISSN 0037-8054
Social work (Stellenbosch. Online) vol.56 n.3 Stellenbosch 2020
http://dx.doi.org/10.15270/52-2-859
ARTICLES
Die ontwikkeling van 'n bemagtigingsprogram vir kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging/ The development of an empowerment programme for child-carers in private places of temporary safe-care
Mandie DuberyI; Corinne StrydomII; Herman StrydomIII
ISA Akademie vir Wetenskap en Kuns; ORCID iD: 0000-0002-1210-3555; mandiedubery@yahoo.com
IIPsigososiale Gedragswetenskappe en COMPRES (Community Psychosocial Research Unit), Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit, Suid-Afrika. ORCID iD: 0000-0003-0751-1287; corinnestrydom123@gmail.com
IIIPsigososiale Gedragswetenskappe en COMPRES (Community Psychosocial Research Unit), Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit, Suid-Afrika. ORCID iD: 0000-0002-8970-6258; herman.strydom@nwu.ac.za
INLEIDING
In hierdie artikel word 'n bemagtigingsprogram vir kinderversorgers voorgestel. Die program is ontwikkel vanuit 'n literatuurstudie en 'n behoeftebepaling wat by kinderversorgers in privaatplekke van tydelike versorging onderneem is. Die program bestaan uit nege sessies. Elke byeenkoms word voorsien van 'n doelstelling en inhoud. Benewens die gewone standaard hulpmiddels wat vermeld word, is daar ook andeer hulpmiddels ook soms by 'n bepaalde groepsessie vermeld. Vervolgens word die probleemstelling, die navorsingsvraag en doelstelling bespreek, waarna die navorsingsmetodologie en maatskaplike groepwerk as metode onder die loep geneem word. Die klem val uiteraard op bemagtiging en spesifiek bemagtiging van kinderversorgers. Die artikel fokus op die inhoud van die bemagtigingsprogram, waarna 'n bespreking daarvan plaasvind. Daar word met aanbevelings afgesluit.
Sleutelterme: bemagtiging, bemagtigingsprogram, kinders, kinderversorgers, opleiding, privaat plekke van tydelike versorging
ABSTRACT
The article purpose of the article is to report on an empowerment programme for child-carers in private places of temporary safe-care so as to equip them with skills to act in the best interest of the children in their care. The programme was compiled on the basis of a needs assessment with child-care workers and social workers involved in private places of temporary safe-care, as well as a literature study. The programme consisted of nine sessions, including topics such as factors to be considered when dealing with these children, trauma, medical care, behavioural problems, bonding, discipline, natural parents and self-care of child-carers.
Keywords: empowerment, empowerment programme, children, child-carers, private places of temporary safe- care, training
PROBLEEMSTELLING
Duisende kinders word jaarliks in Suid-Afrika uit hul ouerlike sorg verwyder as gevolg van mishandeling en in alternatiewe sorg geplaas (Department of Social Development, 2011:47). Wanneer 'n kind in Suid-Afrika verwyder word, word die besluit geneem op grond van artikel 151 en 152, soos deur die Children's Act 38 of 2005 voorgeskryf is (Department of Social Development, 2005; Kibwe, 2018:2-6; Mahery, Jamieson & Scott, 2011:25-26). Die verwydering van 'n kind vind slegs plaas om die kind teen verdere mishandeling te beskerm (United Nations, 2009:7). Volgens Statistics South Africa (2011) het Suid-Afrika 'n bevolking van 52 miljoen, waarvan 18.6 miljoen kinders is. Meer as 100,000 van hulle is in versorgingsfasiliteite regdeur die land.
Sodra die kind in alternatiewe sorg geplaas word, word een van drie opsies oorweeg, naamlik pleegsorg, 'n kinder- en jeugsorgfasiliteit of 'n privaat plek van tydelike versorging (Jamieson, 2014:214; Kibwe, 2018:2-6; Mahery et al., 2011:25-26; Schäfer, 2011:453). Die navorsing fokus egter op privaat plekke van tydelike versorging. Die eerste outeur is betrokke by die bestuur van sekere privaat plekke van tydelike versorging in Suid-Afrika en wou vasstel hoe kinderversorgers gehelp kan word om beter na kinders wat sorg en beskerming benodig, om te sien. 'n Privaat plek van tydelike versorging kan gedefinieer word as n korttermynplasing vir die beveiliging van n kind wat sorg en beskerming benodig (Bosch 2015; Van Emmenis, 2015; Van Schalkwyk, 2015), met die aanbeveling van die hof (Department of Social Development, 2005). Tot en met ses kinders kan in die sorg van 'n privaat kinderversorger geplaas word (Van Schalkwyk, 2015) totdat 'n permanente plasing gefinaliseer is (Makhavhu, 2010:5).
Die verwydering en plasing van n kind in n privaat plek van tydelike verblyf gaan gewoonlik gepaard met trauma wat deur die kind ervaar word (Hyde & Kammerer, 2009:268). Die kind word verwyder vanwee mishandeling en misbruik (Bundy-Fazioli, Winokur & Delong-Hamilton, 2009:88; McWey, Henderson & Tice, 2006:200; Osborn, Delfabbro & Barber, 2008:847; Vig, Chinitz,S & Shulman, 2005:147; Wattenberg, Luke & Cornelius, 2004:596). Die plasing self, alhoewel in die kind se beste belang (Children's Act 38 of 2005; Margo, 2008:2-4; Munro, 2001:134), kan verdere gevoelens van hartseer, onsekerheid (Gauthier, Fortin & Jeliu, 2004:38; Mitchell & Kuczynski, 2010:441; Wattenberg et al., 2004:605), woede (Winter, 2010:191-192), angs, vrees (Mitchell & Kuczynski, 2010:440; Vig et al., 2005:151) en depressie (Schultz, 2002:41) veroorsaak. Hierdie trauma tree op verskillende wyses na vore (Mitchell & Kuczynski, 2010:440-441; Spielfogel, Leathers, Christian & Mcmeel, 2011:2366; Wattenberg et al., 2004:6051; Winter, 2010:191-192).Die kind se emosies word dikwels uitgedruk in die vorm van onbeheerbare gedrag, woede, verbale uitbarstings teenoor gesagsfigure en bekadiging van eiendom (Hyde & Krammerer, 2009:268). Dit moet ondervang word deur die kinderversorger wat na die kind omsien (Davies, Webber & Briskman, 2015:35).
Kinderversorgers moet dus oor die nodige vaardighede beskik om in hierdie kwesbare groep kinders se behoeftes te voldoen (Buehler, Rhodes Orme & Cuddeback, 2006:550-551; Delgado & Pinto, 2011: 1037; Spielfogel et al., 2011:2369). 'n Liefdevolle, versorgende en toegewyde kinderversorger is van die uiterste belang. Goeie ouerskapvaardighede alleen is nie voldoende om in hierdie kinders se behoeftes te voorsien nie (Berrick & Skivenes, 2012:1957-1964; Murray, Tarren-Sweeney & France, 2011:157-158; Spielfogel et al., 2011:2366), aangesien kinders wat sorg en beskerming benodig gewoonlik ernstige gedragsprobleme toon (Warman, Pallett & Scott, 2006:17) en psigo-sosiale probleme ondervind (Malatji & Dube, 2017:118).
Verskeie bronne bevestig die effektiwiteit van bemagtigingsprogramme vir kinderversorgers (Brown, 2014:43; Davies et al., 2015:38; Mehta, Baker & Chong, 2013:81), omdat dit hulle selfvertroue verhoog wanneer hulle kinders met gedragsprobleme hanteer (Brown, 2014:43; Davies et al., 2015:45; Warman et al., 2006:26). Dorsey, Farmer, Barth, Greene, Reid & Landsverk, (2008:1413) bevestig op hul beurt dat bemagtiging, gedragsverandering tot gevolg kan hê en dus 'n afname in gedragsprobleme (Corey, Corey & Corey, 2014:309) by kinders meebring. Weens die voordele wat maatskaplike groepwerk vir lede inhou, is besluit om die bemagtigende groepwerkprogram vanuit hierdie perspektief aan te bied (Barker, 2014:183; Toseland & Rivas, 2014: 237). 'n Bemagtigingsprogram word beskou as 'n program waardeur psigososiale beginsels en kennis oorgedra word in die vorm van vaardighede wat die groeplede kan bemagtig om meer doeltreffend te reageer op eise wat in spesifieke situasies aan hulle gestel word (Van der Westhuizen, 2006:7).
Na aanleiding van Calitz (2013:130) bring bemagtiging verder mee dat hulpbronne en geleenthede meer toeganklik en optimaal gebruik word binne n gegewe gemeenskap. n Bemagtigingsprogram bied dus opleiding om kennis en vaardighede te ontwikkel. Dit is 'n proses van toenemende persoonlike en interpersoonlike mag sodat die individue optree om hul huidige situasie te verbeter. Die program is dus op so n wyse ontwikkel dat kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging bemagtig word om vaardighede te ontwikkel in die beste belang van die kind wat sorg en beskerming benodig.
Die doel van so 'n bemagtigende groepwerkprogram behoort veelsydig en omvattend te wees om kinderversorgers te bemagtig om vaardighede te ontwikkel wat hulle in staat stel om meer te kan vermag as om slegs na die fisiese versorging van die kind wat sorg en beskerming benodig om te sien (Buehler et al., 2006:549-550; Dorsey et al., 2008:1414). In 'n studie wat deur Cooley en Petren (2011:1973) uitgevoer is, het kinderversorgers aangedui dat hulle behoefte het aan meer intensiewe en omvattende skoling wat fokus op die hantering van gedragsprobleme van kinders wat sorg en beskerming benodig. Gespesialiseerde opleiding bring mee dat kinderversorgers se pedagogiese kennis en professionele houding verbeter (Everson-Hock, Jones, Guillaume, Clapton, Goyder, Chilcott, Payne, Duenas, Sheppard & Swann, 2011:163; Fukkink & Lont, 2007:305).
Tydens die behoeftebepaling met kinderversorgers en maatskaplike werkers, asook uit gegewens wat uit die literatuur bekom is, is die volgende temas geïdentifiseer wat in 'n bemagtigingsprogram tuis hoort: die welsynstruktuur (Department of Social Development, 2005; Cooley & Petren, 2011:1972; Heller, Smyke & Boris, 2002:56), die betrokkenheid van die versorger by die kind en sy skool (Lyons, Whyte, Stephens & Townsend, 2020:33; Pears, Fisher, Bruce, Kim & Yoerger, 2010:1561), die ontwikkelingsfases van die kind (Louw & Louw, 2014:90-406), die invloed van trauma op die kind (Heller et al., 2002:562; Lyons et al., 2020:2), die emosionele behoeftes van die kind (Louw & Louw, 2014:90-406; Lyons et al., 2020:27), mediese versorging van 'n kind (La Chance, 2005:21-22; Murray et al., 2011:154), onbeheerbare gedragsuitinge wat sodanige kinders openbaar (Daniel, 2011:914; Davies et al., 2015:39), toepaslike en ontoepaslike seksuele gedrag van die kind (Heller et al., 2002: 566-569), belangrikheid van binding tussen die kinderversorger en die kind (Buehler, Cox & Cuddeback, 2003:77; Lyons et al., 2020:30), hantering van dissipline sonder die toediening van lyfstraf (Davies et al., 2015:39), die belangrikheid van roetine in die kind se lewe (Heller et al., 2002:564), aspekte rakende die biologiese ouer(s) van die kind (Cooley & Petren, 2011:1971; Sanchirico & Jablonka, 2000:2) en die selfversorging van die kinderversorger (Brown, Anderson & Rodgers, 2014:125; Lyons et al., 2020:24; Whenan, Oxlad & Lushington, 2009:759).
Ten einde die kinderversorger se behoefte om bemagtig te word, onder die loep te neem sodat daar in die beste belang van die kind wat sorg en beskerming benodig opgetree kan word, het die volgende navorsingsvraag ontstaan:
Wat behoort die inhoud van 'n bemagtigingsprogram vir kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging te wees ten einde in die kind wat sorg en beskerming benodig se behoeftes te voldoen en in die beste belang van die kind op te tree?
DOELSTELLING
Die doelstelling van hierdie artikel is om ondersoek in te stel na die inhoud van 'n bemagtigingsprogram vir kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging ten einde die kind se behoeftes aan te spreek en in die beste belang van die kind op te tree.
NAVORSINGSMETODOLOGIE
Die navorser het van die Intervensie-navorsingsmodel (De Vos & Strydom, 2011:475) gebruik gemaak vir hierdie ondersoek. Die derde fase van die intervensie-navorsingsmodel is gebruik vir doeleindes vir hierdie artikel. Tydens die derde fase, moet daarop gefokus word om 'n waarnemingstelsel te ontwerp en om prosedurele elemente van die intervensie te spesifiseer. Die fokus moet wees op gebeure wat verband hou met die probleem asook op wat die effek van die intervensie op die probleem gaan wees (De Vos & Strydom, 2011:482-483). Om aan die riglyne vir fase 3 van die Intervensie-navorsingsmodel te voldoen, is daar vanuit die literatuurstudie en n behoeftebepaling van kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging asook uit gesprekke met maatskaplike werkers in hierdie veld, behoeftes geïdentifiseer wat by 'n bemagtigingsprogram ingesluit behoort te word. Die program is tydens fase 3 ontwikkel. Die fokus is dus vervolgens op die inhoud van die program.
DIE INHOUD VAN DIE BEMAGTIGINGSPROGRAM
Elke byeenkoms is voorsien van sy eie doelwitte, die inhoud van die byeenkoms asook die evaluasie van die spesifieke byeenkoms. 'n Totaal van nege byeenkomste is aangebied en is die volgorde van die byeenkomste gekies na aanleiding van die inhoud daarvan. Met die aanvang van die groep was daar eers gefokus op temas wat nie persoonlik of enige bedreiging vir die kinderversorgers ingehou het nie, soos byvoorbeeld die kinderwet en ander wetlike aspekte. Namate die groepdinamika ontwikkel het en daar n sterker vertrouensverhouding tussen die groeplede ontwikkel het, het meer sensitiewe temas onder die loep gekom, byvoorbeeld gedragsprobleme wat ondervind word, die bevordering van binding tussen die kind en die kinderversorger, asook dissipline.
Benewens spesifieke hulpmiddels wat vir 'n bepaalde byeenkoms aangewese was, is die volgende hulpmiddels deurgaans gebruik:
• 'n Skootrekenaar vir die aanbieding van byeenkomste;
• 'n Projektor vir die visuele aanbieding van die sessie;
• 'n Blaaibord vir die neerskryf van kernpunte;
• Skryfbehoeftes vir groeplede wat inligting wil neerskryf of gevra word om oor 'n bepaalde saak na te dink en hul gedagtes vas te pen; en
• Uitdeelstukke van betrokke byeenkoms.
• Vervolgens word die reeks byeenkomste in tabelvorm aangebied ten einde 'n oorsig van die program te voorsien, voordat elke byeenkoms in detail behandel word.
Byeenkoms 1: Ontmoeting, die skep van atmosfeer en kontraksluiting
Doelwitte
• Om deur middel van die maatskaplikegroepwerkproses:
• Die groeplede aan mekaar bekend te stel;
• n Vertrouensverhouding tussen groeplede te vestig ;
• Insig by groeplede te ontwikkel ten einde die belangrikheid van vertroulikheid te vestig;
• 'n Oorsig te gee van die inhoud van die program wat aangebied sou word;
• 'n Kontrak met die groeplede te sluit; en
• 'n Atmosfeer van warmte en aanvaarding in die groep te skep.
Inhoud
Die groepwerker het begin om al die groeplede welkom te heet en haar aan die groep bekend te stel. Daar is vervolgens n ysbreker met die groep gedoen waarin hulle op n ontspanne wyse aan mekaar voorgestel is, wat as 'n effektiewe hulpmiddel gebruik is om 'n groepbyeenkoms mee te begin (Mind Tools, 2012:1). 'n Bespreking oor die belangrikheid van 'n vertrouensverhouding en konfidensialiteit in groepsverband is verder aan die groeplede verduidelik (Strydom & Strydom, 2010:135-136; Toseland & Rivas, 2014: 200).
Die geleentheid is ook aan groeplede gebied om groepreëls te vestig. Die reëls is op 'n blaaibord neergeskryf en met elke byeenkoms weer aan lede voorgehou. Die doel en doelwitte van die program is met die groeplede bespreek aan die hand van n visuele voorstelling met behulp van die skootrekenaar en projektor. Die inhoud en struktuur van die program is ook deur middel van die projektor aangebied. Die groepwerker het met hierdie aanbieding die verantwoordelikheid gehad om n atmosfeer te skep waarin die groeplede op hulle gemak kon begin voel (Van der Westhuizen, 2006:65). 'n Uitdeelstuk is aan groeplede gegee wat die raamwerk, tyd, datum en plek van byeenkomste aangedui het (Garvin, 2010:28).
n Werksooreenkoms, in die vorm van 'n uitdeelstuk, is met die groeplede bespreek waarin hulle versoek is om dit te onderteken en hul deelname aan die nege groepbyeenkomste te beloof. Tydens die afsluiting is die groeplede bedank vir hulle bereidwilligheid om deel uit te maak van die bemagtigingsgroep.
Byeenkoms 2: Wetlike aspekte ter oorweging vir die kind wat sorg en beskerming benodig
Doelwitte
Om die groepsgesprek te benut ten einde:
• Die welsynstruktuur te verken wat die volgende insluit, naamlik die hofverrigtinge, wetlike en etiese aspekte rakende die kind;
• Die regte en verantwoordelikhede van die versorger en ander professionele persone, betrokke by die kind wat sorg en beskerming benodig, te bespreek; en
• Die betrokkenheid van die versorger by die skool en skoolaktiwiteite van die kind te verken en te bespreek.
Inhoud
Met behulp van 'n visuele aanbieding op die projektor is die welsynstruktuur, wat die verloop van die hofverrigtinge, wetlike en etiese aspekte rakende die kind wat sorg en beskerming benodig in privaat plekke van tydelike versorging (Department of Social Development, 2005; Kibwe, 2018:2-6), met die groeplede bespreek ten einde dit meer verstaanbaar te maak. Die regte en verantwoordelikhede van die versorger (Department of Social Development, 2005; Kibwe, 2018:11-14), sowel as ander professionele persone (Cooley & Petren, 2011: 1972) wat moontlik betrokke kan wees by die kind wat sorg en beskerming benodig, is kortliks in groepverband bespreek. Die groeplede het daarna in drie groepe verdeel, waarin hulle hul begrip rakende die regte en verantwoordelikhede van die versorger en ander professionele persone wat by die kind betrokke is, bespreek. Daarna het die drie klein groepe terugvoer gegee en is die besonderhede op die blaaibord aangebring. Die groep het in die geheel verder aan die bespreking deelgeneem en tot n vergelyk gekom oor wat hulle beskou as die regte en verantwoordelikhede van die kinderversorger, sowel as dié van ander professionele persone wat betrokke is by die kind wat sorg en beskerming benodig.
Laastens is die kinderversorger se betrokkenheid by die kind se skool en skoolaktiwiteite (Lyons et al., 2020:33; Pears et al., 2010: 1561) verken. Die groepwerker het kortliks die onderwerp bekendgestel en aan die groep gevra om weer in dieselfde drie groepe te verdeel, waarna hulle die onderwerp moes bespreek en aan die groter groep terugvoer moes gee. Die kernpunte van die bespreking is op die blaaibord aangebring en die groeplede is die geleentheid gegun om aantekeninge daarvan op die beskikbare papier, te maak. Die groep is aangemoedig om die versorger se rol en betrokkenheid by die skool deeglik te verken en te bespreek om sodoende die belangrikheid daarvan te beklemtoon.
Byeenkoms 3: Die invloed van die verskillende ontwikkelingsfases en trauma op die kind wat sorg en beskerming benodig
Doelwitte
Om deur middel van 'n groepsgesprek:
• Die verskillende ontwikkelingsfases van die kind te bespreek;
• Die invloed van trauma op die kind se funksionering te verken en te bespreek; en
• Die emosionele behoeftes van die kind te verken en te bespreek.
Inhoud
Vir die doeleindes van hierdie byeenkoms is die verskillende ontwikkelingsfases (Institute for Human Services, 2007: 1-9; Louw & Louw, 2014:90-406), die invloed van trauma (Van Schalkwyk, 2015:118) asook die emosionele behoeftes van die kind (Du Plooy, 2009:1-3; Lyons et al., 2020:27) bespreek. 'n Visuele aanbieding, met behulp van die skootrekenaar en projektor, is aan die groep voorgehou en uitdeelstukke is aan hulle verskaf rakende die ontwikkelingsfases van die kind, na aanleiding van Louw en Louw (2014:90-406). Die ontwikkelingsfases van die kind is volgens die verskillende fasette van ontwikkeling hanteer, naamlik fisiese, motoriese, kognitiewe, sosiale en persoonlikheidsontwikkeling.
Die visuele aanbieding is verder uitgebrei na die impak wat trauma (Heller et al., 2002:562; Louw & Louw, 2014:449-450; Van Schalkwyk, 2015:1-18) op die kind het. Hierdie onderwerp is breedvoerig bespreek na aanleiding van beskikbare literatuur en praktiese gevallestudies. Die byeenkoms is afgesluit deur die emosionele behoeftes van die kind te bespreek (Du Plooy, 2009:1-3; Lyons et al., 2020:27). Dit is belangrik dat die kinderversorger oor kennis en vaardighede moet beskik om die emosionele behoeftes van die kind in hul sorg te kan hanteer (Buehler et al., 2006:550-551; Delgado & Pinto, 2011:1037; Spielfogel et al., 2011:2369).
Byeenkoms 4: Mediese versorging van die kind
Doelwitte
Om deur middel van 'n groepsgesprek die mediese versorging van die kind op 'n praktiese wyse te verken met behulp van 'n geakkrediteerde noodhulpfasiliteerder.
Inhoud
Tydens hierdie byeenkoms het die groepwerker hoofsaaklik as waarnemer opgetree, toepaslike vrae gestel en by die gesprek betrokke geraak as 'n bepaalde onderwerp verdere toeligting benodig het. Die noodhulpfasiliteerder werk hoofsaaklik as n skuba drilinstrukteur en bied verder ook noodhulpkursusse vir die publiek aan (Vink, 2016). Daar is begin deur aan kinderversorgers te verduidelik dat hul vertroud moet wees met noodhulp ten einde basiese mediese hulp aan die kind in hul sorg te kan verleen en verder ook om te weet wanneer 'n kind die bystand van 'n mediese dokter benodig (La Chance, 2005:21-22; Murray et al., 2011:154).
Die noodhulpfasiliteerder het op 'n praktiese wyse met behulp van 'n noodhulppop en verskeie ander noodhulptoerusting aan die versorgers gedemonstreer hoedat hulle die kind te hulp kan snel indien hy/sy dit benodig. Die volgende onderwerpe is onder andere behandel, naamlik mond-tot-mondasemhaling, tegnieke om toe te pas wanneer kinders verstik, die proses om te volg as 'n kind bloei of raakgesny is, die hantering van breuke by 'n kind, swembadveiligheid, hantering van elektriese skokke, optrede tydens epileptiese aanvalle, die hantering van kinders met allergiese reaksies en kinders wat met gif in aanraking was.
Byeenkoms 5: Gedragsprobleme by hierdie kinders
Doelwitte
Om met behulp van die groepsgesprek:
• Die hantering van onbeheerbare gedragsuitinge te bespreek; en
• Die verskil en hantering van ouderdomstoepaslike seksuele gedrag en gedragsuitinge vanweë blootstelling aan seksuele misdrywe, te hanteer.
Inhoud
Vir doeleindes van hierdie byeenkoms is aandag geskenk aan 'n verskeidenheid onbeheerbare gedragsuitinge (Daniel, 2011:914; Davies et al., 2015:39) wat kinders mag openbaar. Die groeplede was aangemoedig om gedraguitinge waarmee hulle by kinders te make het, aan die groep te noem. Die verskillende gedragsprobleme is op die blaaibord aangeteken. Vervolgens is ingegaan op 'n paar spesifieke tipes gedragsuitinge en wat die versorger se rol is met betrekking tot die hantering daarvan. Sommige gedraguitinge wat normaalweg meer algemeen voorkom, is breedvoeriger bespreek, soos byvoorbeeld: aandagtekort, hiperaktiwiteitsversteuring (Louw & Louw, 2014: 264-265), enurese en enkoprese, boeliegedrag, aggressie en diefstal.
Die genoemde gedragsuitinge is een vir een bespreek aan die hand van kort animasie-insetsels, die diagnosering van hierdie toestande wat slegs deur 'n mediese dokter gemaak mag word, die kind se belewing van die toestand, die simptome en moontlike oorsake asook n moontlike behandelingsprogram vir die kind (ADHD Voices, 2012; Hudson, 2016:17; Louw & Louw, 2014:224225; Urology Care Foundation, 2016:1). Daar is gepoog om aan groeplede die verskil uit te wys tussen aanvaarbare en onaanvaarbare gedragsuitinge van kinders en wanneer seksuele gedrag die oorsaak is van blootstelling aan seksuele misdrywe. Die groeplede is aangemoedig om vorendag te kom met voorbeelde van waar hulle onseker was of die seksuele gedrag wat die kind getoon het, ouderdomstoepaslik was of eerder die gevolg van seksuele blootstelling (Heller et al., 2002:566-569).
Byeenkoms 6: Die invloed van binding op 'n kind
Doelwitte
Om deur middel van 'n groepsessie die invloed van bindingsterapie met betrekking tot die verhouding tussen die versorger en die kind wat sorg en beskerming benodig, te verken
Inhoud
Die byeenkoms is aangebied met behulp van 'n maatskaplike werker in privaat praktyk wat vir 'n aantal jare ten nouste betrokke is by die bindingsproses tussen kinders wat sorg en beskerming benodig en hulle versorgers (Van Schalkwyk, 2015). Die belangrikheid van binding tussen die versorger en die kind (Buehler et al., 2003:77; Heller et al., 2002:570) is op 'n praktiese wyse aan die groeplede oorgedra. Daarna is praktiese wenke aan die lede gebied wat hul kan toepas om binding tussen hulle en die kind te bewerkstellig (Van Schalkwyk, 2015).
Die volgende belangrike uitgangspunte het onder andere tydens die bespreking na vore gekom, naamlik die belang van binding in pleegsorghuise en privaat plekke van tydelike versorging, die ontwikkeling van binding, binding en breinontwikkeling, die effek van die moeder se bindingspatrone, breinontwikkelingsuitvalle en die gevolg daarvan en soorte bindingspatrone. Algemene gedragsprobleme by kinders met bindingsteurnisse, bindingouerskap vir kinderversorgers, aspekte wat binding beïnvloed, vaardighede van kinderversorgers en riglyne vir kinderversorgers met betrekking tot binding (Van Schalkwyk, 2016).
Byeenkoms 7: Dissiplinering van hierdie kinders
Doelwitte
Om deur middel van 'n groepbyeenkoms:
• Die toediening van dissipline sonder lyfstraf te behandel; en
• Die belangrikheid van roetine in die alledaagse lewe van die kind wat sorg en beskerming benodig, te bespreek.
Inhoud
Hierdie byeenkoms is visueel aangebied in samewerking met 'n gekwalifiseerde onderwyser met 'n Bprim Ed.-graad wat ook vir Immergroen Ouerskap werk (Du Preez, 2016). Groepwerker het hoofsaaklik tydens die byeeenkoms as waarnemer opgetree, die bekendstelling van die gasspreker gedoen, toepaslike vrae gevra en die evaluering behartig. Immergroen Ouerskap is deur Brittz ontwikkel en fokus daarop om ouers en onderwysers toe te rus met vaardighede en ondersteuning met behulp van kursusse en werkswinkels soos byvoorbeeld oor dissipline (Brittz, 2012).
Die hantering van dissipline (Davies et al., 2015:39) is op 'n praktiese wyse aan die groeplede oorgedra. Daar is veral gefokus op die toediening van dissiplinêre metodes sonder lyfstraf en hoe om verskillende tipes wangedrag te herken en te ondervang. Die belangrikheid van roetine in die alledaagse lewe van die kind wat sorg en beskerming benodig is daarna bespreek (Heller et al., 2002:564).
Byeenkoms 8: Die biologiese ouers van hierdie kinders
Doelwitte
Om deur middel van 'n groepsgesprek die hantering en ontwikkeling van begrip vir biologiese ouers van die kind wat sorg en beskerming benodig, te verken.
Inhoud
Tydens hierdie byeenkoms is die fokus op die hantering en ontwikkeling van begrip teenoor die biologiese ouers van die kind wat sorg en beskerming benodig (Cooley & Petren, 2011:1971; Sanchirico & Jablonka, 2000:200). Hierdie byeenkoms is met behulp van 'n visuele aanbieding gedoen. Die groeplede het deel uitgemaak van n bespreking waarin hulle gelei is om begrip te ontwikkel vir die situasie waarin die biologiese ouer hom bevind wanneer 'n kind uit sy/haar sorg verwyder is.
Klem is veral gelê op die noodsaaklikheid van kontakbesoeke tussen die kind en sy biologiese ouers. Die emosionele implikasies wat hierdie besoeke vir die kind het, sowel as die invloed daarvan op die kinderversorger, is verder bespreek (Van Schalkwyk, 2013: 1-9). Die kinderversorger se rol in die kontakbesoek tussen die kind en die biologiese ouer het ook deel uitgemaak van die aanbieding en n groepbespreking daaroor het gevolg. Ten slotte is die onderwerp oor wanneer n besoek gekanselleer word en hoedanig die kinderversorger hierdie kwessie moet hanteer, bespreek (Van Schalkwyk, 2013: 1-9).
Byeenkoms 9. Selfversorging van die kinderversorger en afsluiting van die reeks byeenkomste
Om deur middel van die maatskaplikegroepwerk-proses die volgende te hanteer:
Doelwitte
• Hantering van verlies by die kinderversorger;
• Selfversorging van die kinderversorger;
• Suksesverhale;
• Bedankings en oorhandiging van sertifikate.
Inhoud
Hierdie byeenkoms was die laaste in die reeks en die hantering van verlies by die kinderversorger is eerste bespreek aan die hand van 'n visuele aanbieding oor die Model van Elizabeth Kubler Ross (Bolden, 2007:235-236). Die onderwerp is in konteks geplaas met die emosies wat die kinderversorger moontlik mag ervaar wanneer n kind uit sy/haar sorg oorgeplaas word. Die fases van die Elizabeth Kubler Ross Model word omskryf as gevoelens van ontkenning, woede, skuldgevoelens, onderhandeling, depressie en aanvaarding (Bolden, 2007:235-236). Tydens die aanbieding van die model is deurentyd na praktiese voorbeelde verwys. Hulle is aangemoedig om idees uit te ruil oor wat hulle doen om na hulleself om te sien in sodanige situasies van verlies.
Daarna het n groepgesprek oor selfversorging van die kinderversorgers plaasgevind. Dit is belangrik dat die kinderversorgers waardevol, belangrik en diensbaar voel. Hulle behoort die vele maniere wat hulle vir hulle gesinne, vriende en die gemeenskap waarde toevoeg, te besef (Mokwele & Strydom, 2017:100). Die voordele van ontspanningsoefeninge is behandel ten einde die slytasie van die liggaam en siel na aanleiding van daaglikse uitdagings en struikelblokke te verhoed (Boshoff & Strydom, 2015:102).
Suksesverhale van kinderversorgers as versorgers van kinders wat sorg en beskerming benodig, is hierna bespreek en elke groeplid het die geleentheid gekry om voorbeelde te noem. Die groepwerker het die gesprek begin deur n eie suksesverhaal met die groep te deel, asook n video insetsel van die Helpnet Fonds Projek, is aan lede vertoon (Keyart Video Approvals, 2015). Ten slotte is skryfpapier aan elke lid uitgedeel en aan hulle die opdrag gegee om aan hulleself n brief te skryf waarin hul die redes noem waarom hulle juis as kinderversorgers vir kinders wat sorg en beskerming benodig, optree. Die groepwerker het aan die groep verduidelik dat die rede vir hierdie opdrag juis is om dat wanneer hulle as kinderversorgers moed verloor weens hul omstandighede, hulle hierdie brief moet lees en bemoedig word met die redes wat hulle aangehaal het.
Ten slotte is die groeplede bedank vir hulle geesdrif en betrokkenheid tydens die groepbesprekings. Elke deelnemer het ook 'n sertifikaat vir bywoning ontvang.
BESPREKING
Hierdie artikel het gefokus op die beplanning en ontwerp van 'n bemagtigingsprogram vir kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging. Na aanleiding van n behoeftebepaling en 'n literatuurstudie wat vooraf gedoen is, het 'n verskeidenheid temas na vore gekom wat die basis gevorm het vir die beplanning en ontwerp van hierdie program. Uit die behoeftebepaling het dit duidelik na vore gekom dat daar 'n behoefte by kinderversorgers bestaan om meer inligting te bekom oor kinders wat hulself in hierdie omstandighede bevind. Die mees toepaslike onderwerpe vanuit die literatuurstudie en die behoeftebepaling is by die ontwerp van die program in gedagte gehou.
Daar is uiteindelik op nege byeenkomste besluit. Byeenkoms 1 het hoofsaaklik op die ontmoeting, die skep van atmosfeer en kontraksluiting gefokus, waarna in byeenkoms 2 die belangrikste aspekte wat oorweeg moet word vir die kind wat sorg en beskerming benodig bespreek is. Hier is moontlike hofverrigtinge en ander wetlike aspekte rakende die kind, die regte en verantwoordelikhede van die versorger en ander professionele persone en die betrokkenheid van die versorger by die skool en aktiwiteite van die kind, behandel. Die verskillende ontwikkelingsfases van die kind en die uitwerking van trauma op die kind is tydens byeenkoms 3 behandel.
In byeenkoms 4 het mediese versorging van die kind ter sprake gekom, waarna in byeenkoms 5 gedragsprobleme by hierdie kinders behandel is. Byeenkoms 6 het gefokus of die belangrikheid van binding by hierdie kinders, terwyl byeenkoms 7 oor die dissiplinering van hierdie kinders gehandel het. Kinders in hierdie omstandighede se verhouding met hul biologiese ouers is tydens sessie 8 bespreek, waarna byeenkoms 9 oor die selfversorging van die kinderversorger en die afsluiting van die reeks byeenkomste gehandel het.
Daar is besluit om die groep vanuit 'n bemagtigende groepwerkproses aan te bied, omdat groepwerk ooglopend voordele vir lede inhou, soos om bymekaar te leer, mekaar te ondersteun en sodoende groei by elke individuele groeplid te kan bewerkstellig. Die struktuur, doelstelling, inhoud van die byeenkoms, voorbereiding van die groepwerker, die behoeftes van die groep, sowel as die groepwerkproses is deeglik in ag geneem by die samestelling van elke byeenkoms van die reeks. Omdat die groepwerker nie noodwendig 'n kenner op elke terrein is nie, is daar soms van eksterne persone gebruik gemaak om hoofsaaklik 'n bepaalde byeenkoms aan te bied aangesien hulle kenners op die spesifieke terrein is. In hierdie gevalle het die groepwerker die opening van die sessie waargeneem, toepaslike vrae en opmerkings gemaak en ook die evaluering en afsluiting behartig.
Die vaardighede waarmee die kinderversorgers tydens hierdie reeks byeenkomste toegerus word, sal hulle in die toekoms behulpsaam wees met betrekking tot die rol wat hulle moet vervul, asook die verskillende rolle wat deur ander professionele persone wat met die kind wat sorg en beskerming benodig te make het, vervul word. Daar word verder ook vertrou dat hierdie program tot beter samewerking tussen die verskillende rolspelers sal lei wat uiteindelik tot beter dienslewering aan die kind wat sorg en beskerming benodig, aanleiding sal gee.
AANBEVELINGS
Die volgende aanbevelings oor die programsamestelling en uitvoering word gemaak:
• Die formaat wat die program aangeneem het, was n doeltreffende manier om kommunikasie, warmte en n gevoel van aanvaarding by die groeplede te vestig. Dus word aanbeveel dat hierdie formaat gevolg moet word om n samehorigheidsgevoel by die groeplede te ontwikkel en aan hulle behoeftes te voldoen.
• Die aantal groeplede moet verkieslik nie meer as 12 persone wees nie, aangesien meer lede die groepsdinamika mag versteur en veroorsaak dat alle lede nie noodwendig by die program baat sal vind nie.
• Die literatuurstudie en behoeftebepaling wat vooraf uitgevoer is, het die ontwikkeling van die program op 'n wetenskaplike grondslag geplaas en die nodige rigting en volgorde van onderwerpe aangedui. 'n Vooraf ondersoek word dus aanbeveel voordat daar op die ontwikkeling van sodanige program besluit word.
• Die program bestaan uit nege byeenkomste. Twee van die byeenkomste, naamlik die oor binding en die hantering van dissipline, kan nog breedvoeriger bespreek word en van 'n meer praktiese komponent voorsien word. Dit word aanbeveel dat beide hierdie onderwerpe oor 2 byeenkomste gedek behoort te word.
• Na afhandeling van die program behoort dit opgevolg te word deur maandelikse supervisie-byeenkomste met die groeplede, waartydens groeplede verder ondersteun en bemagtig kan word.
• Hierdie wetenskaplik ontwikkelde bemagtigingsprogram word aanbeveel vir aanbieding aan alle kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging.
• Daar word ook aanbeveel dat verdere navorsers hierdie program sal benut, aanbied en evalueer ten einde wysigings en uitbreidings daaraan voor te stel, ten einde die program uiteindelik 'n gestandaardiseerde program te maak.
SAMEVATTING
Hierdie artikel het gefokus op die ontwikkeling en implementering van 'n bemagtigingsprogram vir kinderversorgers in privaat plekke van tydelike versorging. Elke byeenkoms is bespreek na aanleiding van die spesifieke doelwit, inhoud van die byeenkoms en hulpmiddels wat benodig is. Die afleiding kan gemaak word dat n bemagtigingsprogram kinderversorgers kan toerus met die nodige vaardighede om in die beste belang van die kind wat in hul sorg geplaas word, op te tree.
BIBLIOGRAFIE
ADHD VOICES. 2012. ADHD and me. [Online] Available: https://www.youtube.com/watch?v=yyaVKvuEBkk. Datum van gebruik: 07/03/2016). [ Links ]
BARKER, B.L. 2014. The Social Work Dictionary. 6th ed. Washington, D.C.: NASW Press. [ Links ]
BERRICK, J.D. & SKIVENES, M. 2012. Dimensions of high quality foster care: Parenting Plus. Children and Youth Services Review, 34(9):1956-1965. [ Links ]
BOLDEN, L.A. 2007. A review of on grief and grieving: finding the meaning of grief through the five stages of loss. Counselling and Values, 51:235-237. [ Links ]
BOSCH, D. 2015. Alternatiewe sorg in Suid-Afrika. [Persoonlike onderhoud.] Pretoria, 10 Julie. [ Links ]
BOSHOFF, P. & STRYDOM, H. 2015. Exploring programmes to support police officials exposed to trauma. The Social Work Practitioner-Researcher, 27(1):89-117. [ Links ]
BRITTZ, H. 2012. Kweek dissipline met deernis. Paarl: Green Hope Media. [ Links ]
BROWN, D., ANDERSON, L. & RODGERS, J. 2014. Needs of foster parent resource workers. Children and Youth Services Review, 46:120-127. [ Links ]
BROWN, S. 2014. Clinical update: A small service evaluation of a Solihull Approach Foster Carer Training Group pilot study. Practice: Social Work in Action, 26(1):37-52. [ Links ]
BUEHLER, C., COX, M. & CUDDEBACK, G. 2003. Foster parents' perceptions of factors that promote or inhibit successful fostering. Qualitative Social Work, 2(1):61-83. [ Links ]
BUEHLER, C., RHODES, K., ORME, J. & CUDDEBACK, G. 2006. The potential for successful foster family care: Conceptualizing competency domains for foster parents. Child Welfare, 85(3):523-558. [ Links ]
BUNDY-FAZIOLI, K., WINOKUR,M & DELONG-HAMILTON, T. 2009. Placement outcomes for children removed for neglect. Child Welfare League of America, 88(3):85-102. [ Links ]
CALITZ, T.M. 2013. An empowerment programme to regain positive work engagement for social work in the North West Province. Potchefstroom: North-West University. Potchefstroom Campus. (PhD (SW) Thesis) [ Links ]
COOLEY, M.E. & PETREN, R.E. 2011. Foster parent perceptions of competency: Implications for foster parent training. Children and Youth Services Review, 33(10):1968-1974. [ Links ]
COREY, M.S., COREY, G. & COREY, C. 2014. Groups: process and practice. 9th ed. Belmont, Calif.: Cengage Learning. [ Links ]
DANIEL, E. 2011. Gentle iron will: Foster parents' perspectives. Children and Youth Services Review, 33(6):910-917. [ Links ]
DAVIES, P., WEBBER, M. & BRISKMAN, J.A. 2015. Evaluation of a training programme for foster carers in an independent fostering agency. Practice: Social Work in Action, 27(1):35-49. [ Links ]
DELGADO, P. & PINTO, V.S. 2011. Criteria for the selection of foster families and monitoring of placements: comparative study of the application of the Casey Foster Application Inventory-Applicant version (CFAI-A). Children and Youth Services Review, 33(6):1031-1038. [ Links ]
DEPARTMENT OF SOCIAL DEVELOPMENT. 2005. Children's Act, 38 OF 2005. Pretoria: Government Printer. [ Links ]
DEPARTMENT OF SOCIAL DEVELOPMENT. 2011. Annual performance plan. [Online] Available: http://www.dsd.gov.za/index2.php?option=com_docman&task=doc_view&gid=178&Itemid=3. (Datum van gebruik: 17/07/2016). [ Links ]
DE VOS, A.S. & STRYDOM, H. 2011. Intervention research. In: DE VOS, A.S., STRYDOM, H., FOUCHÉ, C.B. & DELPORT, C.S.L., (eds). Research at grass roots: For the social science and human professions. Pretoria: Van Schaik, 473-490. [ Links ]
DORSEY, S., FARMER, E.M.Z., BARTH, R.P., GREENE, K.M., REID, J. & LANDSVERK, J. 2008. Current status and evidence base of training for foster and treatment foster parents. Children and Youth Services Review, 30(12):1403-1416. [ Links ]
DU PLOOY, J. 2009. Jou kind se emosionele behoeftes. [Online] Available: http://www.kleuters.co.za/spelterapie/jou%20kind%20se%20emosionele%20behoeftes.pdf. (Datum van gebruik: 23/02/2016). [ Links ]
DU PREEZ, C. 2016. Dissipline met deernis. (Werkswinkel). Pretoria, 13 April 2016. [ Links ]
EVERSON-HOCK, E.S., JONES, R., GUILLAUME, L., CLAPTON, J., GOYDER, E., CHILCOTT, J., PAYNE, N., DUENAS, A., SHEPPARD, L.M. & SWANN, C. 2011. The effectiveness of training and support for carers and other professionals on the physical and emotional health and well-being of looked-after children and young people: A systematic review. Chid: Care, Health and Development, 38(2):162-174. [ Links ]
FUKKINK, R.G. & LONT, A. 2007. Does training matter? A meta-analysis and review of caregiver training studies. Early Childhood Research Quarterly, 22(3):294-311. [ Links ]
GAUTHIER, Y., FORTIN,G. & JELIU,G. 2004. Clinical applications of attachment theory in permanency planning for children in foster care: The importance of continuity of care. Infant Mental Health Journal, 25(4):379-396. [ Links ]
GARVIN, C. 2010. Group work with seriously mentally ill people. In: GREIF, G.L. & EPHROSS, P.H. (eds). Group work with populations at risk. New York: Oxford University Press, 28-41. [ Links ]
HELLER, S.S., SMYKE, A.T. & BORIS, N.W. 2002. Very young foster children and foster families: clinical challenges and interventions. Infant Mental Health Journal, 23(5):555-575. [ Links ]
HUDSON, M. 2016. Debunking ADHD myths. Jump, the Magazine for Momentum Health Members, 1:1-37. [ Links ]
HYDE, J. & KAMMERER, N. 2009. Adolescents' perspectives on placement moves and congregate settings: Complex and cumulative instabilities in out-of-home care. Children and Youth Services Review, 31(2):265-273. [ Links ]
INSTITUTE FOR HUMAN SERVICES FOR THE OHIO CHILD WELFARE TRAINING PROGRAM. 2007. Developmental milestones chart. [Online] Available: http://www.rsd.k12.pa.us/Downloads/Development_Chart_for_Booklet.pdf. (Datum van gebruik: 23/02/2016). [ Links ]
JAMIESON, L. 2014. Children's rights to appropriate alternative care when removed from the family environment: A review of South Africa's child & youth care centres. In: PROUDLOCK, P.(ed) South Africa's progress in realising children's: a law review. Cape Town: Children's Institute, University of Cape Town & Save the Children South Africa, 213-257. [ Links ]
KEYART VIDEO APPROVALS. 2015. Helpnet final. [Online] Available: https://www.youtube.com/watch?v=DiDbkPUkGKE&feature=youtu.be. (Datum van gebruik: 18/04/2016). [ Links ]
KIBWE. 2018. Foster + Safety Care Info Pack. [Online] Available: http://www.kibwekids.org/wp-content/uploads/2018/03/Foster-Safety-care-info-pack.pdf. (Datum van gebruik: 01/05/2020). [ Links ]
LA CHANCE, C.P. 2005. Supporting the therapeutic environment: a program plan for training direct care staff within the shelter care enviroment. Chicago, Ill.: Chicago School of Professional Psychology. (PhD Thesis) [ Links ]
LOUW, D. & LOUW, A. 2014. Die ontwikkeling van die kind en die adolessent. 2de uitgawe. Goodwood: ABC Press. [ Links ]
LYONS, S., WHYTE, K., STEPHENS, R. & TOWNSEND, H. 2020. Developmental Truama Close Up. Beacon House Therapeutic Services and Trauma Team. 2de uitgawe. [Online] Available: https://beaconhouse.org.uk/wp-content/uploads/2020/02/Developmental-Trauma-Close-Up-Revised-Jan-2020.pdf. (Datum van gebruik: 01/05/2020). [ Links ]
MAHERY, P., JAMIESON, L. & SCOTT, K. 2011. Children's act guide for child and youth care workers. Cape Town: Children's Institute, University of Cape Town & National Association of Child and Youth Care Workers. [ Links ]
MAKHAVHU, Z.V. 2010. Admission policy for temporary safe care. (Original document from Directorate Children Services, Department of Health and Social Development, North West Provincial Government, Republic of South Africa. [ Links ])
MALATJI, H. & DUBE, N. 2017. Experiences and challenges related to residential care and the expression of cultural identity of adolescent boys at a child and youth care centre (CYCC) in Johannesburg. Social Work/Maatskaplike Werk, 53(1):109-126. [ Links ]
MARGO, M.E. 2008. The experience of the adolescent in a place of safety. Pretoria: University of Pretoria. [ Links ]
MCWEY, L.M., HENDERSON, T.L. & TICE, S.N. 2006. Mental health issues and the foster care system: An examination of the impact of the adoption and safe families act. Journal of Marital and Family Therapy, 32(2):195-214. [ Links ]
MEHTA, N., BAKER, A.J.L. & CHONG, J. 2013. Training foster parents in loyalty conflict: A training evaluation. Children and Youth Services Review, 35(1):75-81. [ Links ]
MIND TOOLS. 2012. The role of a facilitator: guiding an event through to a successful conclusion. [Online] Available: https://www.mindtools.com/pages/article/RoleofAFacilitator.htm. (Datum van gebruik: 24/07/2016). [ Links ]
MITCHELL, M.B. & KUCZYNSKI, L. 2010. Does anyone know what is going on? Examining children's lived experience of the transition into foster care. Children and Youth Services Review, 32(3):437-444. [ Links ]
MOKWELE, R & STRYDOM, H. 2017. Content of an empowerment programme for community caregivers to fasilitate HIV/VIGS patients' adherence to antiretrviral treatment. Journal of Applied Global Research, 24(10):96-114). [ Links ]
MUNRO, E. 2001. Empowering looked-after children. Child and Family Social Work, 6(2):129-137. [ Links ]
MURRAY, L., TARREN-SWEENEY, M. & FRANCE, K. 2011. Foster carer perceptions of support and training in the context of high burden of care. Child and Family Social Work, 16(2):149-158. [ Links ]
OSBORN, A.L., DELFABBRO, P. & BARBER, J.G. 2008. The psychosocial functioning and family background of children experiencing significant placement instability in Australian out-of-home care. Children and Youth Services Review, 30(8):847-860. [ Links ]
PEARS, K.C., FISHER, P.A., BRUCE, J., KIM, H.K. & YOERGER, K. 2010. Early elementary school adjustment of maltreated children in foster care: the roles of inhibitory control and caregiver involvement. Child Development, 81(5):1550-1564. [ Links ]
SANCHIRICO, A. & JABLONKA, K. 2000. Keeping foster children connected to their biological parents: the impact of foster parent training and support. Child and Adolescent Social Work Journal, 17(3):185-203. [ Links ]
SCHÄFER, L. 2011. Child law in South Africa: domestic and international perspective. Durban: LexisNexis. [ Links ]
SCHULTZ, R. 2002. In the best interest of the child: A practice model. PretoriaCMR. [ Links ]
SPIELFOGEL, J.E., LEATHERS, S.J., CHRISTIAN, E. & MCMEEL, L.S. 2011. Parent management training, relationships with agency staff and child mental health: Urban foster parents' perspective. Children and Youth Services Review, 33(11):2366-2374. [ Links ]
STATISTICS SOUTH AFRICA. 2011. Mid-year population estimates 2011. [Online] Available: http://www.statssa.gov.za/publications/P0302/P03022011.pdf. (Datum van gebruik: 01/09/2016). [ Links ]
STRYDOM, H. & STRYDOM, C. 2010. Group work. In: NICHOLAS, L., RAUTENBACH, J. & MAISTRY, M., (eds). Introduction to social work. Cape Town: Juta, 120-154. [ Links ]
TOSELAND, R.W. & RIVAS, R.F. 2014. An introduction to group work practice. London: Pearson. [ Links ]
UNITED NATIONS. 2009. Guidelines for the alternative care of children: a United Nations framework. [Online] Available: http://resourcecentre.savethechildren.se/content/library/docu=ments/guidelines-alternative-care-children-united-nations-framework. (Datum van gebruik: 16/01/2013). [ Links ]
UROLOGY CARE FOUNDATION. 2016. What is bed-wetting? Linthicum, Md.: Urology Care Foundation. [Online] Available: http://www.urologyhealth.org/urologic-conditions/bed-wetting-(enuresis). (Datum van gebruik: 05/03/2016). [ Links ]
VAN DER WESTHUIZEN, J.E. 2006. An empowering programme of HIV/AIDS and life skills for adolescents. Potchefstoom: North-West University. Potchefstroom Campus. (MA (SW) Dissertation) [ Links ]
VAN EMMENIS, H. 2015. Alternatiewe sorg in Suid-Afrika. [Persoonlike onderhoud.] Pretoria, 8 Julie. [ Links ]
VAN SCHALKWYK, M. 2013. Die hantering van besoeke met die biologiese ouers: belangrike uitgangspunte van pleegsorg. [Online] Available: https://christianfostercaresa.wordpress.com/pleegsorg-hulpbron-sentrum/die-hantering-van-besoeke-met-die-biologiese-ouers/. (Datum van gebruik: 06/04/2016). [ Links ]
VAN SCHALKWYK, M. 2015. Die effek van mishandeling en verwaarlosing op die ontwikkeling en binding van die veiligheids-pleeg kind. [Online] Available: https://christianfostercaresa.wordpress.com/pleegsorg-hulpbron-sentrum/die-effek-van-mishandeling-en-verwaarlosing-op-die-ontwikkeling-en-binding-van-die-veiligheids-pleeg-kind/. (Datum van gebruik: 23/02/2016). [ Links ]
VAN SCHALKWYK, M. 2016. Binding: riglyne vir huisouers. (Werkswinkel). Pretoria, 21 April 2016. [ Links ]
VINK, C. 2016. Mediese versorging van kinders. (Werkswinkel). Pretoria, 10 Maart 2016. [ Links ]
VIG, S., CHINITZ,S. & SHULMAN, L. 2005. Young children in foster care: Multiple vulnerabilities and complex service needs. Infants and Young Children, 18(2):147-160. [ Links ]
WARMAN, A., PALLETT, C. & SCOTT, S. 2006. Learning from each other: process and outcomes in the fostering changes training programme. Adoption and Fostering, 30(3):17-28. [ Links ]
WATTENBERG, E., LUKE, K. & CORNELIUS, M. 2004. Brief encounters: Children in shelter for 7 days or less. Children and Youth Services Review, 26(6):591-607. [ Links ]
WHENAN, R., OXLAD, M. & LUSHINGTON, K. 2009. Factors associated with foster carer well-being, satisfaction and intention to continue providing out-of-home care. Children and Youth Services Review, 31:752-760. [ Links ]
WINTER, K. 2010. The perspectives of young children in care about their circumstances and implications for social work practice. Child and Family Social Work, 15(2):186-195. [ Links ]