Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.58 n.4-1 Pretoria Dec. 2018
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2018/v58n4-1a9
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS RESEARCH AND REVIEW ARTICLES (1)
Vrye Weekblad se gebruik van Boer as prys- en skeldnaam in 'n kulturele tussenruimte
Vrye Weekblad's use of the term Boer to praise and berate in a cultural borderland
Cornia Pretorius; Johannes D. Froneman
Skool vir Kommunikasiestudies, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom. E-pos: cpretor@gmail.com
OPSOMMING
Die alternatiewe, anti-establishment Vrye Weekblad (1988-1994) het deur die nuustemas wat gepubliseer is, die aanbieding daarvan en die manier waarop Afrikaans gebruik is, die Nasionale Party-regering, die apartheidsideologie en euwels wat daarmee gepaardgegaan het aan die kaak gestel. Op dié wyse het die Vrye Weekblad (VWB) 'n identiteits(her)konfigurasie van wit Afrikaanssprekendes aangemoedig. Ter ondersteuning van dié poging is die konstruk Boer gebruik as positiewe en negatiewe identiteitsmerker - prysnaam én skeldnaam. Vir die artikel is Boer/boer verder ondersoek en word dit in drie dele bespreek. In deel een word die historiese betekenisverruiming en die mitologisering van die Boer, wat in die hede ook gereeld omstredenheid ontketen, uiteengesit. In die tweede deel van die artikel word 'n ontleding gedoen van die gebruik van Boer/boer in koppe, prikkels en fotokoppe op die 226 beskikbare voorblaaie van VWB in die digitale versameling van Stellenbosch Universiteit. Die derde deel van die studie bevat die resultate van 'n doelbewuste steekproef op die binneblaaie van 90 uitgawes van VWB. Die fokus was op koppe en onderkoppe. Die ontleding van Boer word benader vanuit 'n postkoloniale oogpunt met spesifieke verwysing na hoe VWB 'n kulturele tussenruimte geskep het waarin andersdenkende Afrikaners 'n weerstandsidentiteit kon aanneem sonder om afstand te doen van alle aspekte van hul Afrikaneridentiteit. Die posisie tussen kulture, hibridisering, wat as 'n dinamiese, vloeibare proses vertolk word, het ook 'n brug gebou tussen Afrikaners en hul landgenote. VWB se gelyktydige gebruik van Boer - 'n prysnaam én 'n skeldnaam - kom ook pertinent aan die orde.
Trefwoorde: Afrikanernasionalisme, alternatiewe media, anti-apartheid, Boer, hibriditeit, identiteitskonfigurasie, kulturele tussenruimte, nonkonformerende joernalistiek, Max du Preez, mitologisering, postkolonialisme, weerstandsidentiteit, Vrye Weekblad, weerstandspers
ABSTRACT
The alternative, anti-establishment Vrye Weekblad (VWB, 1988-1994) exposed the Nationalist Party government, its apartheid ideology and concomitant evils by focusing on topics which mainstream publications shied away from. It did so by packaging its content through innovative design to support its nonconforming journalism and by using Afrikaans, the language of the oppressor, to create distance from those in power and reach out to the politically marginalised. The type of Afrikaans used by the VWB, which was deliberately less formal than the standard language used in other Afrikaans publications, freed the language from its shackles of conservatism. But it also became a mechanism in support of reconfiguring Afrikaner identity. The use of the construct Boer in VWB is one example representing this effort. In this article the findings of a study into the use of Boer/boer in VWB will be presented in three parts. Firstly, the historical evolution of the term, from merely denoting "farmers" to being employed as a term denoting nationalism, the mythologisation of the Boer in historiography of the first half of the 20th century, as well as repeated controversies in the historical present, are discussed. In the second part empirical data are used to analyse the usage of the construct Boer in headlines, subheadings, picture headlines and teasers on the front pages of all 226 editions of the VWB available in Stellenbosch University's digital collection. Thirdly, using a purposive sample, the headlines on the inner pages of 90 editions of VWB were analysed to further explore the use of the term Boer/boer.
The study emanated from an earlier empirical investigation by students from the North-West University into the context, agenda and framing of themes on the front page of the Vrye Weekblad, 226 editions from November 1988 tot 2 February 1994. One of this study's findings was that Boer was used often in the framing of news. How it was used, and why, is considered in greater depth in this article. The use of Boer is approached from a post-colonial perspective and it is argued that the VWB created a cultural borderland in which white Afrikaans speakers could reconfigure a resistance identity without sacrificing all aspects of their identity. This hybridization, a position between two cultures, thus provided for the creation of a dynamic or fluid Afrikaner identity, which could morph into and out of this space. In this way, Afrikaners could embrace transformation and reach out to all South Africans, hence dislodging the othering on which the government of the day relied to sustain its ideology. In the 226 editions analysed, the VWB used Boer/boer 34 times in headlines, teasers and photo headlines on its front page. In addition, Boer/boer appeared 33 times in headlines and subheadings on the much smaller sample of 90 editions' inside pages. On the inside pages, usage in blurbs and kickers were also noted. When only the capitalized word Boer is considered in terms of its intention either to honour or to berate, 29 headlines were counted. The frequency of positive and negative usage on the front page was within close range, but overall more negative than positive. However, if only the capitalized Boer on the inside pages were considered, it was used 26 times and the positive and negative usage of Boer was the same. The ambivalence of Boer, as both a positive and negative concept, which is underscored by its contradictory usage in VWB, could also be linked to an internal VWB debate about Boer. The questions raised, however, appeared to have remained unresolved during its [the magazine's] existence - and continues to underpin controversies even into the historical present in South Africa. As a badge of honour, Boer has been used to describe white freedom fighters and political leaders associated with reformist thinking. It is this usage in particular which suggests attempts to reconfigure the Afrikaner identity. Until this point those who dared to speak out against the government and its policies were branded traitors, communists and sell-outs. But by using the construct Boer to describe Afrikaans anti-apartheid activists such as writer Breyten Breytenbach and theologian Beyers Naudé, it signaled to the so-called "Afrikaanses" that they too could cross into a cultural borderland in which they could reach out to other cultures - but during this fluid process the identity reconfiguration could happen without giving up all aspects of their existing cultural identities at once.
Key words: Afrikaner nationalism, alternative media, anti-apartheid, Boer, hybridity, identiy configuration, cultural borderland, nonconformist journalism, Max du Preez, mythologism, postcolonialism, resistance identity, Vrye Weekblad, resistance press
1. INLEIDING
Vrye Weekblad (VWB) is in 1988 gestig as 'n alternatiewe Afrikaanse anti-apartheid- en anti-establishment-koerant (Du Preez 2005:7; Du Preez 2009:223-233, Du Preez 2013). Hoewel die publikasie vir net meer as vyf onstuimige jare bestaan het, is verskeie aspekte daarvan al deur navorsers ondersoek. Faure (1997), Claassen (2000), Koenig-Visagie (2011) en Nel (2012) het die rol van VWB in die laaste jare van apartheid vanuit verskillende invalshoeke beskryf. Tomaselli en Louw (1991,1992) het ook in publikasies na VWB as deel van die alternatiewe media verwys (sien 4.1). Max du Preez, die stigter en redakteur van VWB, het self 'n kleurvolle boek oor VWB (2005) geskryf en het ook in Pale Native, 'n biografiese boek (eers in Engels en later in 'n Afrikaanse weergawe) (2004, 2009) heelwat inligting oor die totstandkoming, werkswyse en agenda van VWB gedeel.
Hierdie artikel vind aansluiting by Koenig-Visagie (2011), wat vanuit 'n kritiese postkoloniale perspektief en semiotiek na die gebruik van VWB-voorblaaie gekyk het. Dit staan ook naas Claassen (2000) en Nel (2012) se bydraes wat onder meer verwys na die nonkonformerende gebruik van Afrikaans in VWB om Afrikanerbaasskap en -nasionalisme uit te daag. Hoewel daar raakpunte is met dié perspektiewe, word empiriese data oor VWB se gebruik van die konsep Boer ook hier aangebied. In dié opsig is die vertrekpunt dat VWB se gebruik van die woord Boer (met 'n hoofletter) aanleiding gegee het tot hibridisering, met ander woorde 'n kulturele tussenruimte ("borderland") is gedurende 'n belangrike tydperk in Suid-Afrika se politieke oorgang geskep waarbinne 'n identiteits(her)konfigurasie van wit Afrikaanssprekendes kon plaasvind.
Die konsep Boer is in Suid-Afrika gebruik om uitdrukking te gee aan apartheid as identiteitspolitiek, gebaseer op rasseverskille en -segregasie. Trouens, die Afrikaner-establishment het konsepte soos Boer en Afrikaner, tesame met 'n Bybelse regverdiging vir hul ideologie, ingespan om wit Afrikaanssprekendes as 'n uitverkore volk voor te stel en die idee van wit superioriteit te vestig en in stand te hou. Vir diegene wat nie ingekoop het in dié ideologie nie of wat daardeur benadeel is, was die term Boer 'n vergestalting van die onderdrukker (sien 4.2).
Wit Afrikaanses wat nie die regering se amptelike politieke narratief ondersteun het nie, is spesifiek gedemoniseer. Du Preez (2005:4; 2013) verwys by herhaling na dié fenomeen en sê die kritici van regeringsbeleid is gereeld as "kommunistiese meelopers" en selfs verraaiers beskryf. Dit was in dié konteks dat die gebruik van die woord Boer deur die onafhanklike VWB opgeval het, aanvanklik in 'n empiriese groepstudie wat die konteks, voorbladagenda en raming van hooftemas in die publikasie ondersoek het. In die studie, wat deur honneursstudente aan die Noordwes-Universiteit onderneem is, is al die beskikbare uitgawes van VWB (4 November 1988 tot 2 Februarie 1994), ontleed nadat 'n oop digitale versameling beskikbaar gestel is (Universiteit Stellenbosch 2018). In dié studie is bevind dat die nuusagenda wat op die voorblad van VWB gestel is, 'n wye verskeidenhed temas ingesluit het, soos politieke figure (bv. PW Botha, FW de Klerk en Winnie Madikizela-Mandela); politieke geweld (bv. moordbendes, Inkatha-ANC-konflikte); apartheid (politieke, kulturele en maatskaplike aspekte); kultuur (flieks, boeke, musiek); sport (vanuit 'n politieke hoek); gesondheid (MIV/vigs, depressie) en maatskaplike verskynsels (satanisme, homoseksualiteit, kerkkwessies, pedofilie) (Baard 2013:57-59; Cilliers 2013:40-42; Germishuys 2013:61-63; Honniball 2013:52-57; Norton 2013:46-49 en Vry 2013:51-55). Aan die hand van dié temas is 'n anti-apartheid-, pro-demokratiese en nie-konformerende agenda gestel wat in samehang met onder meer onkonvensionele taalgebruik as 'n poging gesien kan word om Afrikaneridentiteit as 't ware te herformateer. Vrey (2013:52) het in haar gedeelte van die groepstudie, wat VWB in die tydperk November 1990 tot Junie 1991 ondersoek het, onder meer bevind dat Boer gereeld in hoofopskrifte en prikke op voorblaaie/buiteblaaie gebruik is en dat die woord gebruik is om aan te dui dat andersdenkendes ook Boere kon wees.
In hierdie artikel word op drie wyses uitgebrei op die aanvanklike groepstudie. Ten eerste word aan die hand van 'n literatuurstudie ondersoek gedoen na die ontstaan en gebruik van die woord Boer (dus met 'n hoofletter) deur die jare. Ten tweede word die voorblaaie van alle beskikbare uitgawes van VWB verder ontleed om vas te stel hoe dikwels en op watter manier Boer gebruik is. Ten derde word 'n groot aantal van die binneblaaie ontleed om 'n nog vollediger beeld te kry van die woord se gebruik.
Kort voor die finalisering van hierdie artikel het die Grondwethof beslis dat die gebruik van die woord boer nie rassisties is nie, maar dat die gebruik daarvan in bepaalde struggle-liedere onvanpas was (Venter 2018). Daar is nie 'n onderskeid tussen boer en Boer (dus met klein- of hoofletter) getref nie, maar regter Jafta het in sy uitspraak gesê: "Depending on the context‚ this word may mean 'farmer' or 'white person'. None of these meanings is racially offensive" (Mabuza 2018). Hierdie uitspraak gee 'n nuwe dimensie aan die betekenis van die woord, maar verander nie die belang en betekenis van VWB se gebruik van die woord Boer binne die besondere politieke konteks van 1988-1994 nie.
2. TEORETIESE PERSPEKTIEWE
Postkolonialisme as 'n benadering om onder meer kultuurskepping, -reproduksie, -handhawing en -transformasie te bestudeer, word deur sommige teoretici gesien as 'n tydperk wat strek van kolonisasie tot die hede (Ashcroft 2001a:7). Dié vertrekpunt tot postkolonialisme (as 'n historiese tydperk) gooi die net wyd en is gekritisieer omdat dit veranderings of afwykings wat in dié tyd in kulturele, sosiale en politieke magsverhoudings voorkom, kan onderspeel en derhalwe die begrip van postkoloniale uitkomste kan verskraal (Childs & Williams 1997:1-10). VWB se bydrae tot die postkoloniale poging word egter weer uiteindelik deel van 'n historiese metanarratief wat tot in die hedehistoriese strek en deur oomblikke soos die "#Rhodesmustfall"-beweging van 2015 en voortgaande debatte oor dekolonisasie bevestig word.
Saïd (in Littlejohn & Foss 2008:344) se oopvlek van die postkoloniale toestand aan die hand van die ons-(insluiting)/hulle-(uitsluiting)digotomie - sogenaamde "othering" - is ook van waarde in dié ontleding, maar word aangevul deur nuwer benaderings tot identiteitsformasie waarvolgens dit as 'n vloeibare proses gesien word - asof jy 'n identiteit kan aan- en uittrek (Klopper 2017:82-87; Gomez 2018:75). In die Suid-Afrikaanse konteks is rasseverskille en taal (Afrikaans) saam met narratiewe soos die sogenaamde "Totale Aanslag" en Afrikaners as "God se uitverkore volk" van die handperde van "othering" (Fourie 2008:244-257). Dit gaan egter ook oor die omstandighede wat aanleiding gegee het tot die gebruik van hierdie narratiewe. Childs en Williams (1997:192) stel dit so:
Because "race" operates as an ideological weapon to achieve many political ends, the most extreme of which have been slavery and genocide, but also including policies of apartheid, immigration and employment, inquiry should be directed toward the discourse and social specificities that gave them power.
In die uiteensetting van hoe die konsep Boer ontstaan het en deurgaans onder die las van dubbelsinnigheid gebuk gaan - ook as 'n mitologiese konstruk - sowel as die ontleding van VWB as alternatiewe publikasie, kom die maatskaplike omstandighede en diskoerse wat aanleiding gegee het tot die koloniseerder se mag verder aan die orde.
Wat taalgebruik in postkoloniale teorie betref, bied Pêcheux (in Childs & Williams 1997:194) se proses van identifikasie 'n riglyn vir analise. Identifikasie stel dat die dominante ideologie enersyds begrip vir die "self" kan skep en andersyds weerstand kan bied teen dié ideologie. Afrikaans is só in VWB gebruik (Nel 2012:147-8). Die taal het aan sy sprekers tergelykertyd 'n instrument gegee om begrip én weerstand te bied, en dit verskaf ook moontlik 'n verklaring vir wat op die oog af lyk na die inkonsekwente of teenstrydige gebruik van Boer in VWB. Die Boer as koloniseerder (weliswaar een wat hier gebly het en dit sy of haar vaderland gemaak het), onderdrukker en selfs skelm (skeldnaam) dui op VWB se weerstand teen die dominante ideologie terwyl die Boer as rewolusionêr en politieke hervormer (prysnaam) dui op die publikasie se pogings om begrip te skep vir dié andersdenkende Boer. In aansluiting hierby wys Koenig-Visagie (2011:57) ook daarop dat VWB 'n onkonvensionele gevallestudie in die postkoloniale diskoers bied deurdat die koloniseerder vanuit eie geledere, mede-koloniseerders dus, aangevat is vir sy magsvergype en benadeling van die gekoloniseerde.
Die wisselwerking met sowel mede-koloniseerders as gekoloniseerdes is moontlik danksy VWB se posisionering in 'n tussenruimte ("borderland") tussen verskillende kulture (binne die wit Afrikaanse gemeenskap sowel as tussen wit en swart gemeenskappe). Dit sluit aan by Anzaldúa (Littlejohn & Foss 2008:344; Gomez, 2018:75) se uiteensetting van hibriditeit as 'n kulturele tussenruimte en die moontlikheid om tussen twee kulture te bestaan sonder om volwaardig deel te wees van enige van die twee. Dié ontheemde posisie gaan gepaard met 'n verskerpte bewussyn wat dit moontlik maak om beide kulture te verstaan. Gomez (2018:75) sê ook dat hibriditeit dit moontlik maak vir gemeenskappe om sin te maak van hul identiteit - veral as dit nie by die bestaande kategorieë inpas nie. Hibriditeit in hierdie artikel word beskou as 'n ruimte tussen kulture waarby ras en etnisiteit inbegrepe is, en die begrip kultuur word in die wydste moontlike sin vertolk. In 'n postkoloniale sin kan dit ook beteken dat dit die plek is waar die gekoloniseerde en die koloniseerder ontmoet.
VWB was in die tussenruimte waarin dit gefunksioneer het nie volledig deel van enige kultuur (of ras) nie. Dit was 'n bewussyn wat uitwaarts na ander kulture uitgereik het eerder as om inwaarts laer te trek, maar om dit te kon doen het die publikasie die taal van die onderdrukker en koloniseerder, Afrikaans, nodig gehad in sy pogings om magstrukture te ontsetel (sien 4.1). Afrikaans is nie net gebruik nie, maar volgens Du Preez (VWB 1994:64) "gedestigmatiseer" deur dit te ontkoppel van apartheid en die heersende klasse. Só stel Keppler (VWB 1994:64) in die laaste uitgawe van VWB dat sy as swart joernalis geleer het om trots te wees op Afrikaans. Sy sê ook: "En die Boere wat sê Afrikaans is hulle taal, wel ek het nuus vir hulle … Dit is my taal ook want ek is 'n egte Afrikaner."
Dit is wat Ashcroft (2001:1) beskryf as die transformerende respons van gekoloniseerde samelewings. VWB het die dominante rasgedrewe diskoers van sy "eie mense" verwerp en op sy kop gekeer om sy oorwegend wit Afrikaanse lesers te bemagtig om mee te werk aan die politieke bevryding van alle Suid-Afrikaners.
Klopper (2017:82-83) en Gomez (2018:75) wys egter daarop dat identiteitskonfigurasies in 'n konteks van hibriditeit of hibridisering as dinamies en vloeibaar beskou behoort te word. In die kulturele ruimte wat VWB geskep het, kon die identiteits(her)konfigurasie van wit Afrikaanssprekendes plaasvind. Individue kon keuses uitoefen oor wat hul identiteit behels (sien VWB se eie debat oor Boer in 5.) en hulself distansieer van konvensionele idees oor onder meer Afrikanerskap, Afrikaans- en selfs Boer-wees. Dit is in hierdie postkoloniale raamwerk van taal, transformasie en dinamiese identiteits(her)formasie waarbinne VWB die konsep Boer gebruik het. Die historiese ontwikkeling en die mitologisering van Boer bied moontlik 'n verklaring waarom VWB die term nie konsekwent gebruik het nie en waarom die konstruk steeds, byna drie dekades nadat VWB gesluit het, omstrede is.
3. DIE TERM BOER
3.1 Vestiging van die naam
Die feit dat die Boer met 'n politieke stelsel van rassediskriminasie of wit superioriteit vereenselwig is, het die Boer se taal, Afrikaans, ook die "taal van die onderdrukker" gemaak (Faure 1995:136; Du Preez 2004:2; Baines 2009:10). Hoewel die gebruik van Afrikaans deur VWB dit juis in staat gestel het om konneksies te maak tussen konflikterende diskoerse, het teenstrydighede in VWB se gebruik van die konsep Boer as sowel 'n skeldnaam as 'n prysnaam moontlik ook dié dubbelsinnigheid waaronder die term gebuk gaan, in stand gehou.
In Hermann Giliomee se Die Afrikaners (2004:27-32) praat hy van onder meer die ontwikkeling van 'n Boer-ras uit die landbouers en die ontstaan van Boere-rassisme in 'n konteks waar sosiale en ekonomiese statusgroepe (en hul regstatus) in die vroeë Kaapkolonie belyn kon word met ras. In die laat 1700's is begin om te verwys na Africanders (ook na swart Kaapenaars), Afrikanen en Afrikaners, maar spesifiek om stedelinge te benoem. Boer is gebruik vir plattelanders. Dit is gebruik om Europeërs, hoofsaaklik Hollanders, Franse en Duitsers, te beskryf wat in die Kaap gebore is en Hollands of Afrikaans (waarna ook verwys is as Boere-Afrikaans) gepraat het (Giliomee 2004:307).
Die skeldnaam/prysnaam-teenstrydigheid wat in die woord Boer opgesluit is en deur VWB gereproduseer is, is 'n definisie-digotomie en dateer uit die laat 19de en vroeë 20ste eeu. In dié tyd het die gebruik van die term Boer in die openbare domein verbreed na 'n beskrywing van 'n spesifieke groep mense wat Afrikaans of Hollands gepraat het en in 'n bepaalde geografiese gebied - die sogenaamde Boererepublieke, die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Vrystaatse Republiek - oorwegend oorleef het danksy bestaansboerdery (Verhoef 2012:210). Vroeë Engelse woordeboeke definieer Boer (hoofletter) of boer as 'n onbeskaafde mens, sonder maniere, lomp en selfs dom; later word dit 'n beskrywing van die Afrikanervolk en teen 1994 word Boer verduidelik as 'n skeldnaam of 'n prysnaam vir 'n Afrikaner of die polisie (Woordenboek der Nederlandsche Taal, 1902:157-159; Beknopt Nederlands Woordeboek voor Zuid-Afrika, 1908:118, HAT 1965:77; HAT 1994:98).
Die positiewe gebruik van Boer - die prysnaamdimensie - is verwant aan die mitologisering van die Boer in die 19de eeu. Die historikus Thomas Pakenham skryf in sy boek The Boer War (1979:1) dat Boere republikeine was en 'n pioniersgees gehad het. Dié pioniersgees, saam met die idee van 'n uitverkore volk wat posgevat het ná gebeure soos die Voortrekkers se oorwinning oor die Zoeloes in die Slag van Bloedrivier, het bygedra tot die mitevorming (Giliomee 2012:223). Die oorwinning van die Boere oor die magtige Brittanje in onder meer die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) en die afweer van die Jameson-inval in 1895 het die mite versterk.
Die durf van die Boere in die Anglo-Boereoorlog (ook die Tweede Vryheidsoorlog of Suid-Afrikaanse Oorlog genoem) (1899-1902) het voortgebou hierop. Sodoende het die konsep Boer 'n betekenisverruiming ondergaan en het dit 'n nasionalistiese dimensie bygekry.
Hoewel die woord Boer weens die verstedeliking van die Afrikaner en ná Uniewording minder gebruik is, het die geboorte van Nasionale Pers in 1915 beslag gegee aan aktivistiese geskiedskrywing van die Afrikaner wat erg subjektief, anti-Brits en anti-imperialisties was (Muller 1990:557). Dit was die uitvloeisel van wat Rabe (2016:57) noem die "volksera" waarin Nasionale Pers as "volkspers" tot stand gekom het om idealisties-ideologies en kapitalistiese ideale te help dryf ná die vernietigende gevolge van die Anglo-Boereoorlog, die Eerste Wêreldoorlog (1914-1919) en die 1914-Rebellie op die Afrikanerpsige.
Verhale van die "kleine Boerenasie" wat deur roemryke dade van stryders probeer het om hul republieke van die Britte te red, is opgeteken in byvoorbeeld koerante, tydskrifte, geskiedenisboeke asook handboeke vir skole en universiteitse (Muller 1990:528-529). Geskiedskrywing het dus die mitiese Boer help vaslê.
Met die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in 1961 het die Nasionale Party-regering wit eenheid probeer skep en die konsep Boer het nie meer in die retoriek gepas nie. Die term Boere-Afrikaner het eers in die laat 1980's weer lewe gekry vanweë die moontlikheid van politieke verandering - spesifiek die idee van magsdeling. Regse politieke groeperinge soos die Boerestaat Party het hulself Boere eerder as Afrikaners genoem. Die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) onder leiding van Eugene Terre'Blanche het ook die term Boer toegeëien (Froneman & Pretorius 2014). Terre'Blanche verduidelik in VWB (Terreblance 1990:12) die verskil tussen Boer en Afrikaner soos volg: "Daar bestaan eintlik nie so 'n ding soos 'n Afrikaner nie. Dié wat uit die Kaap weggetrek het, is Boere. Hulle het oorloë teen Engels en swartmense gevoer."
Dié historiese ontwikkeling van die konsep Boer verklaar ook waarom dit 30 jaar later weens negatiewe en positiewe betekenisassosiasies 'n bron van omstredenheid is.
3.2 Die Boer in postapartheid Suid-Afrika
Die gebruik van Boer is in postapartheid Suid-Afrika steeds 'n polemiese gesprekspunt. Wat blyk uit die literatuur is dat veral die ambivalensie van Boer in hedehistoriese politieke en kulturele kontekste voortgesit word. Trouens, die betekenisskakerings van die woord - veral die onderskeid tussen Boer en boer - word nie altyd in verwysings in die openbare domein weerspieël nie - soos wat die onlangse Grondwethofuitspraak uitwys (sien 1).
Die gebruik van Boer in politieke vryheidsliedere is al sedert die 1990's in die kollig. Die bekendste hiervan is "Kill the boer, kill the farmer" ("Dubula iBhunu"). In 1993 het Peter Mokaba, in daardie stadium die leier van die ANC-Jeugliga, die lied op 'n gedenkdiens vir die ANC-leier Chris Hani gesing wat kort tevore deur regses vermoor is (Brkc 2010). Ná Mokaba sou ander politici die struggle-lied aanhou sing totdat die burgerregtegroep AfriForum, in 'n konteks van plaasmoorde, 'n klag van haatspraak teen Julius Malema, in daardie stadium nog president van die ANC-jeugliga, ingedien het. In sy uitspraak het regter J. Lamont die woord Boer onder meer vertolk as verwysend na die wit Afrikaanssprekende gemeenskap sowel as na boere wat tot die groep behoort en dis verbied (Milo & Stein 2013:168). Die emotiewe waarde van die slagspreuk "Skiet die Boer/boer" word selfs kommersieel ingespan. Kill the Boer is onder meer die titel van 'n boek deur 'n AfriForum-leier, Ernst Roets, oor plaasmoorde (2018). En dan het die gebruik daarvan in verskeie liedere (De la Rey deur Bok van Blerk en Larney jou p**s deur Dookoom) en selfs T-hemde (met slagspreuke soos 100% Boer) omstredenheid veroorsaak (vgl. Batt 2014; Van Graan 2005:6; Grundlingh 2008:178; Poplak 2014; Lloyd 2014; Klopper 2017:64).
Die voortbestaan, selfs 'n herlewing van identiteitspolitiek, gee aan die konsep Boer die suurstof waarmee die historiese konnotasies - positief sowel as negatief - in stand gehou word. Die konflik rondom die term in postapartheid Suid-Afrika bied ook perspektief op hoe wesenlik VWB se gebruik van Boer 'n breuk met Afrikanernasionalisme verteenwoordig het. VWB het dit begin losmaak deur dit te koppel aan vryheidsvegters (Nel 2012). Taal het sodoende 'n instrument geword om weerstand te bied teen die politieke bestel.
4. VRYE WEEKBLAD EN BOER
4.1 Vrye Weekblad as alternatiewe koerant
Tomaselli en Louw (1991:6) het VWB as deel van die alternatiewe, sosiaal-demokratiese, onafhanklike pers geklassifiseer. As sodanig het VWB teenoor die Afrikaanse en Engelse establishment- of hoofstroompers gestaan. Hierdie (linkse) blaaie het inhoudelik en ideologies verskil van die hoofstroomkoerante (Atton 2002:12-19).
VWB se eerste uitgawe verskyn op 4 November 1988. Die loodsuitgawe verduidelik die koerant se credo soos volg:
Ons is lief vir die Afrikaanse taal en wil dit bevorder, maar ook help bevry van die stigma wat dekades se wit oorheersing daaraan gegee het as die taal van die onderdrukker. VWB glo Afrikaners moet hulself as deel van die meerderheid inheemse mense klassifiseer en vir 'n oop, nierassige demokrasie veg eerder as om hulself as 'n bedreigde minderheid te sien. (Du Preez 2005:7)
Die publikasie het nie aanklank gevind by die meeste wit Afrikaanssprekendes nie. Du Preez sê dit was nie vir "Oom Jan en Tant Sannie" nie (2013), maar vir "denkende" Afrikaners. Faure (1995:134) maak die punt dat dit vir vrydenkendes was en dat die gemiddelde Afrikaanse leser nie gewoond was aan wat VWB gebied het nie.
Du Preez (2005:7) erken dat die keuse van Afrikaans strategies was in die sin dat VWB gehoop het hul Afrikaansheid beskerm hulle teen die hardhandigheid van die regering teenoor mediarebelle. Die regering het egter die VWB deur hofsake (40 in vier jaar) probeer ondermyn. Desondanks het die VWB steun gebied aan lesers wat Afrikanernasionalisme verwerp het deur aan hulle alternatiewe inligting te gee oor die land en hulle voor te berei vir verandering (Jackson 1993:56; Faure 1995:125). So is 'n weerstandsidentiteit geskep wat vergelykbaar is met wat Mathes en Pfetsch (1991:37) 'n "counter public" noem. Deur die skepping van so 'n kontra-publiek het VWB ook 'n openbare platform gebied aan protesstemme wat nie voorheen 'n heenkome gehad het nie. Dit het hibridisering moontlik gemaak waarbinne Afrikaners kon begin om nie net hul taalidentiteit nie, maar ook Afrikaneridentiteit, voorheen gesetel in nasionalisme, te verbreed na 'n Suid-Afrikaanse identiteit.
4.2 VWB en Boer
Die gebruik van terme soos Afrikaner en Boer is deur VWB-joernaliste self gedebatteer asook tussen VWB en sy lesers (Du Preez 2005:72-76). In dié debat het die prysnaam-skeldnaam-digotomie weer sterk na vore gekom. Dit was veral die geval nadat Max du Preez, as redakteur, in 'n rubriek op 31 Mei 1991 geskryf het dat Afrikanerskap nie vir hom 'n politieke begrip was nie en dat hy nogal trots is om te sê hy is 'n Afrikaner:
Ek was nog nooit skaam om 'n Afrikaner genoem te word nie, ook nie 'n Boer of Boerseun nie. Ek noem myself so en is jammer vir die kastige "detribalised" Afrikaners wat daarvan wil weghardloop. "Boer" het 'n baie los, soms informele naam geword vir alle Afrikaners en niemand het die reg om dit vir hul klein randgroepie op te eis nie. Wat is my gevolgtrekking? Ek is 'n Afrikaner en 'n Boer en dit is glad nie vir my 'n issue nie.
In reaksie hierop skryf die joernalis Jacques Pauw (VWB, 7 Junie 1991) die volgende week:
Ek 'n Boer? Se moer. Ek assosieer my beslis nie met die subspesie wit Afrikaanse rassiste nie. Ek dink ook nie Max du Preez kan werklik nie, maar dit het ongelukkig hoogmode vir linksgesinde Afrikaners geword om hulself ná dekades weer "Boere" te noem.
Volgens hom kan 'n Boer net wit wees en het dit 'n rassebetekenis. Uit daaropvolgende lesersbriewe blyk ook dat Boer en Afrikaner heelwat apartheidbagasie gedra het (VWB 14-20 Junie:18). Dié kwessies is egter nie opgelos gedurende die bestaan van VWB nie - daar is nie 'n besliste, finale redaksionele standpunt daaroor ingeneem nie. Dit verklaar moontlik ook die VWB se voortgesette teenstrydige gebruik van Boer.
5. BOER IN VWB-OPSKRIFTE EN -PRIKKE
5.1 Voorblaaie
In die eerste empiriese gedeelte van hierdie studie is die voorblaaie van die 226 beskikbare uitgawes van VWB aan die hand van die gebruik van die term Boer en boer in hoof-, onder- en foto-opskrifte/-koppe en prikke ontleed. Vervolgens is positiewe, negatiewe of neutrale waardes toegeken aan elke voorbeeld. Die woord Boerestaat is ingesluit, maar nie Boerestaat Party of Orde Boerevolk nie omdat dit name was). In die 226 uitgawes is Boer/boer 34 keer op die voorblad gebruik oor enige nuustema van kultuur (Pierneef was Boere se werktuig) (VWB 28 Junie 1991) tot politiek (Dis hoekom die NP weer begin terugval op goeie ou Boerepolitiek) (VWB 15-21 November 1991) en geskiedenis (So is Boervroue uit die kloue van konsentrasiekampe gered) (VWB 12-19 November 1992). 'n Fyner ontleding wys dat Boer 29 (uit 34) keer gebruik is, 16 keer positief en 10 keer negatief. Die ander koppe was neutraal.
Boer is soms twee keer op dieselfde voorblad gebruik. Op 14 April 1989 was daar twee prikkels op die voorblad - een negatief en een positief: Boerskelm met poësie in sy hart, en Boerseun heel tuis in Cosatu. Die eerste voorbeeld gaan oor 'n skelm en het derhalwe 'n negatiewe konnotasie, maar in die tweede voorbeeld word Boer, deur dit te verbind aan die ANC-vakverbond Cosatu, ook iemand wat 'n rol kan speel in die bevrydingstryd. Daarteenoor is twee negatiewe prikkels later gebruik (7-13 Februarie 1991): 'n Boere-terroris se oorlogsverklaring, oor 'n regse se terreurplanne, en Die Boere in Botswana bly maar Boere, wat gaan oor Suid-Afrikaanse boere in Botswana wat klink en lyk soos Ventersdorp se regses (Joubert 1991:20-21).
Uit die data blyk dat die temas of rame waarin die woord op VWB gebruik is, gewissel het. Dit sluit in boer (kleinletter) as landbouer, maar ook die landbouer-Boer wat as 'n Afrikanernasionalis in 'n konflik gewikkel is met swart plattelanders (Dis Boer teen K**** op die platteland) (22 Julie-4 Aug. 1991). VWB het ook Boer as sinoniem gebruik vir Afrikaners as politieke leiers, sowel die verligtes as verkramptes asook die verregses. Dit is ook 'n verwysing na skelms (Boeremafia en boereverneukers), onderdrukkers (in politieke konteks) en is uiteraard gebruik in historiese nostalgiese verwysings na die Boererepublieke en die Anglo-Boereoorlog. Die woord Boer is in dié opsig as sowel prys- as skeldnaam gebruik. Van die meer neutrale verwysings was Die Boere trek terug Maputo toe (9-15 Oktober 1992), wat verwys na Suid-Afrikaners wat in Mosambiek gaan uitspan.
Dit is egter VWB se gebruik van die woord Boer as 'n politieke eretitel of prysnaam vir die "ander" - diegene wat 'n standpunt ingeneem het teen die apartheidsideologie en sy leiers en wat gevolglik gemarginaliseer en gedemoniseer is - wat moontlik die meeste bygedra het om 'n hibriede tussenruimte ("borderland") te skep waarbinne kulture kon ontmoet en waarin die wit Afrikaanssprekende identiteit mettertyd herskep kon word. Dié eretitel kon 'n postkoloniale transformerende rol speel om politieke konneksies te vestig met ander Suid-Afrikaners. Die voorbeelde sluit in: Joe Slovo en die Boere (VWB 4 Nov. 1989), Swapo se Boerseun (VWB 9 Des. 1988), Boerseun heel tuis in Cosatu (VWB 14 April 1989), Breyton oor Boer-wees (VWB 17 Aug. 1990), Beyers Naudé: banneling-Boer, Godsman en vryheidsvegter (VWB 1 Feb. 1991) en 'Rooi' Carl is eintlik 'n doodgewone Boer (VWB 22 Mrt. 1991). Vrey (2013:52) sê dat VWB sodoende 'n woord opgeëis het wat vroeër deur die regses gekaap is.
Joe Slovo en die Boere het verwys na Slovo, leier van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en 'n ANC-leier, Johnny Makatini, wat saam met die akademikus Sampie Terreblanche en die politikus Wynand Malan, asook Russe, in Duitsland was. In die konteks is Boer gebruik om Malan en Terreblanche uit te beeld as (politieke) hervormers wat NP-beleid uitdaag. In VWB-konteks verteenwoordig dit 'n positiewe gebruik van die term Boer.
In die koppe Boerseun heel tuis in Cosatu (tweede kop/onderskrif), Swapo se Boerseun (fotokop) en 'Rooi' Carl is eintlik 'n doodgewone Boer (prik) word Boer/Boerseuns gebruik as sinonieme vir gewone Afrikaners. Sodoende maak VWB die punt dat jy 'n wit Afrikaner kan wees wat opstaan teen wit oorheersing sonder om 'n verraaier te wees. Boerseun is 'n nostalgiese term wat nie sommer geassosieer sal word met die taal wat die NP-regering gebruik het vir "othering" nie, veral vir kommuniste, terroriste, vyande van die Afrikanerdom, linkse willewragtags en volksvreemdes (Du Preez 2005:2). Boonop verskyn die berig oor Rooi Carl op 'n voorblad wat gaan oor swart gemeenskappe - ook boere - se hunkering na hul geboortegrond, waarvan hulle verdryf is.
Boer in voorbladkoppe en -prikke is met enkele uitsonderings nie noodwendig herhaal op die binneblaaie nie. Die Boere se Stonehenge (VWB 10-16 Januarie 1992:1 & 14-15) is een van die min voorbeelde wat identies voor en binne gebruik is. Die fotokop Slovo en die Boere, wat ook as 'n prikkel diens gedoen het op die voorblad, word die Boere en die Bolsjewiste op die binneblad (VWB 4 Nov.1988:8-9). Daareenoor word die onderkop Dis Boer teen K**** op die platteland (22 Julie-4 Aug. 1991) op die binneblad die hoofkop.
5.2 Binneblaaie
Vir die tweede deel van die empiriese studie is 'n algemene soektog na die woord Boer in die digitale VWB-versameling gedoen. Dit het 219 trefslae opgelewer. Hiervan is 'n verdere 90 uitgawes se binneblaaie aan die hand van 'n doelbewuste streekproef ontleed. Opskrifte/koppe word veral in tradisionele gedrukte media as bladontwerpelemente gebruik om die leser se belangstelling in die teks te prikkel (loktekste ("blurbs") en staande koppe ("kickers") word ook hiervoor gebruik). Die wat geïdentifiseer is, is ook as positief, negatief en neutraal geklassifiseer. Altesame 33 koppe met die woord Boer of boer is geïdentifiseer (Alliansie Boervolk is as die naam van 'n party nie getel nie). In 14 van die voorbeelde is Boer of boer positief gebruik en wel as prysnaam vir anti-apartheidsaktiviste en progressiewes, maar ook landbouers wat goeie werk doen (VWB 8 Mrt. 1991:7). Dit is ook 14 keer in 'n negatiewe konteks gebruik, onder meer as skeldnaam vir fanatieke regses en skelms (VWB 5 Jul.1989:5; VWB 27 Apr.1990:12; VWB 21 Sept:15). Vyf koppe en hul berigte is as neutraal geklassifiseer. Van groter belang vir die doeleindes van die studie was om te bepaal hoe Boer as identiteitsmerker gebruik is. In dié opsig is gevind dat Boer/boer 26 koppe (uit 33) met 'n hoofletter geskryf is. Van dié 26 opskrifte/koppe is 12 as positief, 12 as negatief en 2 keer as neutraal geklassifiseer. Die woord boer, met 'n kleinletter is slegs in een onder-/subopskrif gebruik en die gebruik was negatief (Só is swart boere vernietig) (VWB 12 Okt. 1990:10).
Uit 'n oorsig van die empiriese data van die binneblaaie, kan 'n paar algemene opmerkings gemaak word. Eerstens, Boer is van dag een af - in die lanseeruitgawe van 4 November 1988 - in koppe van berigte gebruik. (Joe Slovo en die Boere en Die Boere en die Bolsjewiste) (VWB, 4 November 1988:8-9). VWB het dus uit die staanspoor uit Boer bewustelik verbind met 'n alternatiewe politieke agenda. Dit het verwys na 'n ontmoeting tussen wit Suid-Afrikaners, Russe, Duitsers en ANC-lede in Duitsland. Een van die lede van die afvaardiging was Joe Slovo, die leier van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty. Van die narratiewe wat deur die regerende party gedryf is om die postkoloniale ons-hulle-digotomie ("othering") in stand te hou, was die Totale Aanslag en die Rooi Gevaar. Dit het verwys na 'n gewaande ideologiese aanslag teen Suid-Afrika deur die Sowjet-Unie en kommunisme waarin die ANC, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty en die United Democratic Movement geraam is as medepligtiges (Fourie 2008:253). Deur Boere met Bolsjewisme (Russiese Kommunisme) te verbind (asook latere koppe oor onder meer Russe wat saam met die Boere in die Anglo-Boereoorlog geveg het) het VWB die mite aangevat en doelbewus ondermyn. Dit het terselfdertyd, soos in die gebruik van Boer op voorblaaie, Boer gebruik as sinoniem vir hervormingsgesinde wit Suid-Afrikaners en protes aangeteken teen diegene met 'n regse politieke agenda wat in dié stadium die konsep opgeëis het.
Tweedens is die gebruik van Boer of boer in koppe ná die eerste uitgawe voortgesit. Van die temas wat deur die koppe weerspieël is, sluit in regse en linkse politiek, historiese navorsing (met 'n skoot nostalgie) oor die Anglo-Boereoorlog, landbou in Suid-Afrika (ingesluit droogtes, grondhervorming asook arbeidsverhoudings op plase), kultuur en selfs 'n berig oor 'n Boereskelm of die Boeremafia (VWB 15 Junie 1989: 5). Soos in die eerste uitgawe is Boer ook in die laaste uitgawe van 2 Februarie 1994 in 'n kop gebruik (Ander soorte Boere). In dié groetuitgawe van VWB op 2 Februarie 1994 word die Boer-debat (vgl. 4.2), oftewel wie en wat 'n Boer is, weer oorweeg en bespreek in 'n artikel met die kop Ander soorte Boere (VWB 2 Febr. 1994:64). In die formulering van dié kop word gesinspeel op 'n moontlike dubbelsinnigheid. In dié artikel, geskryf deur Virginia Keppler (sien ook 2. waar sy praat oor Afrikaans in VWB), praat sy van Max du Preez as 'n "Boere-oompie" en word die problematiek wat histories in die gebruik van Boer/boer opgesluit is, ook in die gebruik daarvan deur VWB, gereflekteer:
Vir die mense wat altyd wou weet of VWB nie 'n "Boere-koerant" is nie en of ek "darem goed behandel word". Die antwoord is nee, VWB was nie 'n "boere-koerant" en ja, ek is baie goed behandel… Dié [VWB-joernaliste] was ander soort Boere wat regtig nie k.k gevat het van Boere met hul roere nie.
Derdens, in die uitgawes wat ondersoek is, is Boer, soos reeds genoem, by 'n paar geleenthede meer as een keer in een uitgawe in koppe gebruik, maar ook in onderkoppe, loktekste en staande koppe. Soos wat vroeër oor koppe aangetoon is, is daar voorbeelde van positiewe en negatiewe gebruik van Boer op binneblaaie, selfs waar artikels naas mekaar staan. Op 12 Oktober 1990, as deel van 'n reeks artikels oor die Gronddebat (wat as staande kop gebruik is) word Boer gebruik in 'n kop ("'n Boer is soos 'n pa vir sy werkers" en Die Boervrou wat 'n engel geword het) asook in 'n onderkop (Só is swart boere vernietig). In dié reeks artikels word Boer positief en negatief gebruik. In die uitgawe van 16-22 Augustus 1991 word Boer twee keer in koppe gebruik (Wie het Boerebloed aan hul hande?, "Die Boere is die beste mense"). Op 23 Februarie 1990, kort ná die vrylating van Nelson Mandela, word Boere op twee aangrensende bladsye positief gebruik in twee koppe: Nelson en die Boere en Vat die hardekwas-Boere met jou saam! (VWB, 23 Februarie 1990:12-13).
Vierdens is 26 van die 33 koppe waarin Boer en boer gebruik is op binneblaaie polities van aard (een berig word wel twee keer gebruik, naamlik Vat die hardekwas-Boere met jou saam! in die uitgawes van 14 Julie 1989 en 23 Februarie 1990). Van dié landbouberigte oor boere fokus spesifiek op landbou-aangeleenthede, maar van die artikels het dikwels sterk politieke temas hanteer. Dit is om daardie rede dat van die berigte ook as politieke nuus beskryf word. In die berigte met 'n politieke tema was nege positief deurdat Boer verbind is aan andersoortige idees, byvoorbeeld die koppe Die boere-aktivis met die werkershande en safaripak (wat moontlik eerder Boer moes gewees het) (VWB 1 September 1989:7), wat verwys na 'n gewone Afrikaanse man wat as linkse aktivis in Pretoria werk, en En 36 jaar later, hier is die Boere se Freedom Charter (VWB 8 Februarie 1991:13). Deur Boere met 'n struggle-handves te verbind, skep VWB afstand tussen wit Afrikaanssprekendes en die bestaande politieke stelsel en sy beleid. Soos reeds aangedui, het Max du Preez self in Februarie 1990 twee berigte oor oudpresident Nelson Mandela geskryf (Nelson en die Boere en Vat die hardekwas-Boere met jou saam (VWB, 23 Feb.1990: 12-13). Die berigte het onderskeidelik gegaan oor 'n ontmoeting tussen Du Preez en Mandela en 'n ope brief waarin Du Preez Boer as wisselvorm vir Afrikaners gebruik. In die brief tree hy as verteenwoordiger in vir die moeilike Boere, oor wie hy baie krities is, maar met wie hy terselfdertyd kan identifiseer (veral as die latere VWB-debat oor Boer-wees oorweeg word). Hy skryf:
Dis vir Afrikaners moeiliker om politieke verandering te aanvaar as vir seker enigiemand anders in ons land … Die Boere is 'n hardegat-klomp. Dis lekkerder om hulle aan jou kant te hê as teen jou…Hulle is vir jou meer werd net soos hulle is, safaripakke, snorre, bakkies, Saterdagmiddagbraai, rugby en al.
In dié voorbeeld skep hy enersyds begrip vir die "self", maar bied hy andersyds weerstand teen die heersende ideologie deur in gesprek te tree met die ikoniese leier van die "ander" - Nelson Mandela. Du Preez staan self hier te midde van die vloeibare identiteitskonfigurasie wat VWB gereflekteer het deur sekere aspekte van die Afrikaneridentiteit (Boer-wees) te omarm, maar by ander geleenthede die negatiewe aspekte van dieselfde identiteit te verwerp (rassisme, fanatisisme).
Politieke opskrifte/koppe met negatiewe politieke konnotasies - waarvan daar 15 in totaal was - het oorwegend gegaan oor regses of regse politieke sienings wat gereflekteer word: Dié Boere minag die Afrikaner (VWB 27 April 1990:12) en Uit die gemors kom nog 'n Boere-UDI (VWB 21 September 1990:15). In albei dié gevalle is onderhoude met Robert van Tonder, leier van die Boerestaat Party, gevoer en word hy ook as "fanatieke Boer" beskryf. Die gebruik van Boer in die voorbeelde dui daarop dat VWB as 't ware aan lesers die vraag vra: Is jy dié soort Boer?
Vyfdens was daar onder die 33 koppe 13 verwysings na boere as landbouers. Opvallend van VWB se soms speelse hantering van Afrikaans was twee woordspelingkoppe geskoei op die lied O, Boereplaas (Afrikaanse woorde deur C.F. Visser) en wat na landboukwessies verwys het. Die kop O Boereplaas, geboortegrond, aan wie behoort jy eintlik? (VWB 21 September 1990:18) verskyn as deel van 'n rubriek oor grondeienaarskap.'n Soortgelyke kop, O boereplaas (VWB 1-6 November1991:6) is ook gebruik vir 'n kongres van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie.
Laastens is Boer in enkele koppe gebruik oor kultuursake. Een hiervan was Paul Slab nou 'n Boere-Rambo-Lear (VWB 17 November 1989) - 'n berig in die Vrydag-bylae tot VWB oor die akteur Paul Slabolepszy, wat aan Boer enersyds 'n nie-tipiese dimensie gee, maar andersyds tog aansluit by die mitiese "dapper" Rambo-agtige Boer. Die kop Viva Boeremusiek! (VWB 7 Februarie 1991) het gegaan oor die insluiting van boeremusiek in die SA Musiek-Alliansie se planne om Afrikaanse musiek te bevorder. In die kop gebruik VWB die woord viva, wat hoewel dit deesdae algemeenlik gebruik word, destyds sterk verbind is aan bevrydingsbewegings, en is dit op politieke vergaderings gebruik om goedkeuring toe te sê aan mense of idees. Deur "Boeremusiek"1 as kultuurvorm eie aan Boere saam met viva te gebruik, gebruik VWB weer eens die geleentheid om Afrikanersimbole te bevry van engheid en konserwatisme.
Die gebruik van Boer op die binneblaaie van VWB het voortgebou op die agenda wat VWB op die voorblad gestel het. Hoewel die gebruik van Boer op die voorblad meer negatief as positief was, het dit anders op die binneblaaie gelyk. Op die binneblaaie was die positiewe en negatiewe gebruik van Boer gelyk. Dit beteken dat Boer meer dikwels op die binneblaaie in positiewe kontekste gebruik is as op die voorblad.
Die prentjie het egter verander nadat boer as landbouer in die ontleding ingesluit is omdat landbou in daardie tyd reeds ingekleur was deur politieke kwessies soos grondhervorming. Die positiewe gebruik van Boer het neerslag gevind deur die Boer-identiteit te gebruik in politiek progressiewe kontekste. So is die kontra-publiek ("counter public") geskep sodat Afrikaanssprekendes die status quo kon bevraagteken. Hoewel Boer dikwels positief gebruik is, is dit minder pertinent as prysnaam in koppe gebruik op die binneblaaie as op die voorblad waar Boer gebruik is om individue te beskryf (Beyers Naudé, Breyten Breytenbach). Die skeldnaam-aspek is ook meer subtiel in koppe op die binneblaaie. Trouens, enkele koppe wat op die oog af positief lyk, was in werklikheid negatief, bv. Die Boere is die beste mense (VWB 16-22 Augustus 1991:5) wat gegaan het oor die intimidasie van swart mense in Ventersdorp. Dit wys weer op die inkonsekwente gebruik van Boer/boer.
Hoewel die prysnaam-skeldnaam-digotomie meer subtiel is op die binneblaaie, is die meer gereelde positiewe gebruik van Boer in koppe op die binneblaaie steeds 'n voortsetting van VWB se pogings om 'n ruimte te skep vir die identiteits(her)konfigurasie van wit Afrikaanssprekendes. Insgelyks het die negatiewe koppe (en berigte) afstand probeer skep tusssen andersdenkende wit Afrikaanssprekendes en die ideologie wat in die negatiewe gebruik van Boer opgesluit is. Daar sou moontlik beweer kon word dat die inkonsekwente gebruik van Boer as prysnaam sowel as skeldnaam juis die herkonfigurasie van wit Afrikaanssprekendes se identiteit aangemoedig het deur enersyds te wys wat hulle kan wees en andersyds te beklemtoon wat jy nie ideologies gesproke behoort te wees of glo nie. Op dié manier is die skep van 'n weerstandsidentiteit aangemoedig.
6. GEVOLGTREKKINGS
VWB het die konsep Boer - selfs ná 'n interne debat en openbare polemiek oor die gebruik, betekenis en belangrikheid daarvan - aanhou inspan as sowel 'n prys- as skeldnaam. Die ambivalensie van die konsep is deur die debat onderstreep. Desondanks is dit vóór en ná die polemiek byna dieselfde aantal kere op die voorblad gebruik, maar minder op die binneblaaie (21 voor en 12 keer daarna).
Die inkonsekwente gebruik van die term op die voorblad as 'n positiewe sowel as negatiewe konsep kan enersyds die gevolg wees van die historiese vestiging van die woord, wat as die eerste deel van die studie uiteengesit word juis as moontlike verklaring vir die gebruik van Boer deur VWB. Uit die staanspoor het Boer positiewe en negatiewe konnotasies gehad, wat selfs in woordeboekdefinisies aangedui word, en dit word in VWB-voorblaaie geïllustreer. Die mitologisering van die Boer, aan die hand van aktivistiese geskiedskrywing oor die Afrikaner in die eerste helfte van die 20ste eeu, kompliseer verder die gebruik van Boer, veral wanneer dit later met die booshede van apartheid geassosieer word. Dit word dan 'n sinoniem vir korruptes, skelms, verkramptes, onderdrukkers - maar ook vir vryheidsvegters en doodgewone wit Afrikaanssprekendes. Die uiteenlopende betekenisse is weerspieël in die debatte wat VWB na binne en na buite (met lesers) oor Boer gevoer het.
Hoewel VWB die konsep Boer op uiteenlopende maniere op die voorblaaie en binneblaaie gebruik het, is dit die gebruik daarvan as eretitel of prysnaam wat 'n besliste boodskap uitgestuur het dat Afrikaners 'n rol kon speel in politieke vernuwing. Boer as eretitel is nie baie op die voorblad gebruik nie - slegs ses keer in net meer as vyf jaar - maar meer kere op die binneblaaie. Op die binneblaaie was die gebruik egter meer subtiel en is die eretitel nie noodwendig aan individue gekoppel nie, maar eerder idees. Dit was een aspek van 'n omvattender postkoloniale diskoers waarin die publikasie taal en simbole transformerend gebruik het in 'n dinamiese identiteits(her)skepping. Boer was nie die enigste konsep wat op dié manier deur VWB gebruik is nie. Daar is deurlopend vrae gevra oor wat 'n Afrikaner is en hoe die identiteit verskil of ooreenstem met Boer. In dié opsig het VWB moontlik self die dubbelsinnigheid van inkonsekwente gebruik van Boer - en ook Afrikaner - probeer verstaan, verklaar en moontlik selfs verander.
Deur die gebruik van Boer as prysnaam is 'n nierassige ruimte geskep waarbinne wit gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes 'n nuwe identiteit kon skep en in gesprek kon tree met die kulture van sowel "ander" Afrikaners as "ander" rasse. Indien identiteitsformasie as 'n dinamiese proses gesien word, beteken dit dat wit Afrikaners nie nodig gehad het om alle aspekte van hul bestaande Afrikaneridentiteit summier te verwerp nie. Die wisselwerking tussen die ou en die nuwe identiteit het die weg gebaan vir 'n transformasieproses. In die postkoloniale konteks het VWB Boer dus gebruik om 'n alternatiewe Afrikaneridentiteit te probeer skep. As deel van dié dinamiese en vloeibare proses het VWB probeer sin maak van wie of wat Afrikaners en Boere is. In die proses, soos blyk uit VWB se taalgebruik, het dit nie volledig en permanent gebreek met identiteite wat met die heersende onderdrukkende ideologie geassosieer is nie. Trouens, deur Boer sowel positief as negatief te gebruik, is juis uitgewys dat 'n Boer of 'n Afrikaner goed óf sleg kon wees - daar was skurke, maar ook helde. VWB het in 'n tussenruimte tussen kulture (en rasse) gewerk vanwaar dit kon probeer om aan sy lesers die noodsaak uit te wys van identiteits(her)konfigurasie sodat ook hulle uiteindelik na mede-Suid-Afrikaners kon uitreik.
BIBLIOGRAFIE
Ashcroft, B. 2001a. Post-colonial transformation. London: Routledge. [ Links ]
Ashcroft, B. 2001b. On post-colonial futures. London: Continuum. [ Links ]
Atton, C. 2002. Alternative media. London: Sage. [ Links ]
Baines, G. 2009. De la Rey (Yet) Again: Afrikaner identity politics and nostalgia in post-apartheid South Africa. Paper presented to the International Association for the Study of Popular Music Conference, Liverpool, July. https://www.researchgate.net/publication/29807430DeLaReyridesyetagain_A frikaneridentitypoliticsandnostalgiainpost-apartheidSouthAfrica [23 July 2018]. [ Links ]
Batt, M. 2014. AfriForum submits hate speech complaint against rap group Dookoom. AfriForum. 14 Okt. https://www.afriforum.co.za/afriforum-submits-hate-speech-complaint-rap-group-dookoom/ [12 Des. 2013]. [ Links ]
Beknopt Nederlands Woordeboek voor Zuid-Afrika. 1908. Kaapstad: Juta. [ Links ]
Brkc, B. 2010. "Kill the Boer": a brief history. Daily Maverick, 29 Mar. https://www.dailymaverick.co.za/article/2010-03-29-kill-the-boer-a-brief-history/#.W6Q1louUU30.email [21 Sept. 2018]. [ Links ]
Childs, P. & Williams, P. 1997. An introduction to post-colonial theory. Prentice Hall Europe. [ Links ]
Claassen, G. 1998. Magazines. Life's own story In De Beer, A.S. (ed). Mass Communication toward the millennium. The South African Handbook of Mass Communication. 2nd ed. Hatfield: Van Schaik. [ Links ]
Claassen, G. 2000. Vrye Weekblad and the Afrikaans Alternative Press. In Switzer, L. & Adhikari, M. (eds). South Africa's Resistance Press. Alternative voices in the last generation under apartheid. Ohio University: Centre for International Studies. [ Links ]
Du Preez, M. 1990. Vat die hardekwas-Boere met jou saam. Vrye Weekblad: 13, 23 Feb. [ Links ]
Du Preez, M. 2004. Pale native: Memories of a renegade reporter. Cape Town: Zebra Press. [ Links ]
Du Preez, M. 2005. Oranje blanje blues - 'n Nostalgiese trip. Vrye Weekblad 88-94. Kaapstad: Zebra Press. [ Links ]
Du Preez, M. 2009. Dwars. Mymeringe van 'n gebleikte Afrikaan. Kaapstad: Zebra Press. [ Links ]
Du Preez, M. 2013. Vrye Weekblad as alternatiewe koerant. [Informele gesprek met honneursstudente aan die Noordwes-Universiteit]. 31 Julie. Potchefstroom. [Opname in besit van outeurs]. [ Links ]
Faure, C. 1995. Ondersoekende joernalistiek en sosiale verandering: 'n Ontleding en evaluering van die agendastellingsrol van Vrye Weekblad (1988-1993). Unisa. (Proefskrif - Phd). [ Links ]
Fourie, W. 2008. Afrikaner identity in post-aparteid South Africa: The Self in terms of the Other. In Hadland, A., Louw, E., Sesanti, S. & Wasserman, H. (eds). Power, politics and identity in South African media. Selected seminar papers. Cape Town: HSRC Press. [ Links ]
Froneman, J.D. & Pretorius, C. 2014. Max du Preez's Vrye Weekblad and the redefining of the Boer Afrikaner identity. Paper presented at the annual South African Communications Association, Potchefstroom, 3 Okt. [Unpublished]. [ Links ]
Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners - 'n Biografie. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Giliomee, H. 2012. Afrikanernasionalisme, 1875-1899. In Pretorius, F. (ed). Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad:Tafelberg . [ Links ]
Gomez, S.L. 2018. "Not White/Not Quite":Racial/Ethnic Hybridity and the Rhetoric of the "Muslim Ban". Journal of Contemporary Rhetoric, 18:(1/2):72-83. [ Links ]
Grobler, J. 2012. Staatsvorming en stryd, 1850-1900. In Pretorius, F. (ed). Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad:Tafelberg. [ Links ]
Grundlingh, A. 2004. Die "De la Rey-fenomeen en die herskep van herinneringe, 2006-2007. In Grundlingh, A.M. & Huigen, S. (eds). Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke. Stellenbosch: Sun PReSS. [ Links ]
HAT: handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 1965. Johannesburg: Perskor. [ Links ]
HAT: handwoordeboek van die Afrikaanse taal. 3de uitg. 1994. Midrand: Perskor. [ Links ]
Jackson, G.S. 1993. Breaking Story.The South African Press. Boulder: Westview Press. [ Links ]
Keppler, V. 1994. Ander soort Boere. Vrye Weekblad: 64. 2 Feb. [ Links ]
Kessler, L. 1984. The dissident press. Alternative journalism in American history. Newbury Park: Sage Publication. (The Sage CommText Series,13). [ Links ]
Klopper, A.E. 2017. Identiteitskonfigurasies in wit Afrikaanse rap-musiek met spesifieke verwysing na Die Antwoord, Jack Parow en Bittereinder. Universiteit Stellenbosch. (Proefskrif - PhD). [ Links ]
Koenig-Visagie, L. 2011. Subversive semiotics and ironic anchorage on Vrye Weekblad covers: A visual analysis. Communicatio, 37(1):56-79. [ Links ]
Littlejohn, S.W. & Foss, K.A. 2008. Theories of Human Communication. 9th edition. Boston: Wadsworth Cengage Learning. [ Links ]
Lloyd, J. 2014. Dookoom: Larney jou kans. Litnet, 4 Nov. https://www.litnet.co.za/author/jason-lloyd/page/4/. [20 Nov. 2014]. [ Links ]
Mabuza, E. 2018. 'Hit the boer' song not racially offensive‚ rules ConCourt. 13 Sept. https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2018-09-13-hit-the-boer-song-not-racially-offensive-rules-concourt/ [21 Sept. 2018]. [ Links ]
Mathes, R. & Pfetsch, B. 1991. The Role of the Alternative Press in the Agenda-building Process: Spill-over Effects and Media Opinion Leadership. European Journal of Communication, 6:33-62. [ Links ]
Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide. Geboorte en groei van die Nasionale Pers 1915-1948. Kaapstad: Nasionale Boekhandel. [ Links ]
Nel, A. 2012. Nonconformist Journalism: The Vrye Weekblad (Free Weekly Newspaper) as a form of Afrikaans resistance press in 1980s South Africa. International Conference on Language, Medias and Culture, International Proceedings of Economics and Development Research, 33:144-149. www.ipedr.com. [10 July 2018]. [ Links ]
Pretorius, D. 2015. Graphic design in South Africa: A post-colonial perspective. Journal of Design History, (28)3: 293-311. [ Links ]
Poplak, R. 2014. The face of apartheid hate: How AfriForum made the angriest band in South Africa famous. Daily Maverick, 15 Oct. https://www.dailymaverick.co.za/article/2014-10-15-the-face-of-apart-hate-how-afriforum-made-the-angriest-band-in-south-africa-famous/ [20 Nov. 2014]. [ Links ]
Roets, E. 2018. Kill the Boer. Centurion: Kraal Uitgewers. [ Links ]
Terreblanche, C. 1990. "Ek is nie 'n rassis nie". Vrye Weekblad, 12, 11 Mei. [ Links ]
Tomaselli, K. & Louw, P.E. 1991. Studies on the South African Media: The Alternative Press in South Africa. Belville: Anthropos Publishers [ Links ]
Universiteit Stellenbosch. 2018. Vrye Weekblad [collection]. https://digital.lib.sun.ac.za/handle/10019.2/2 [2 Aug. 2018]. [ Links ]
Van Graan, M. 2005. What the Boer wore. Mail and Guardian. 6, 12 Apr. [ Links ]
Venter, I. 2018. Regstelling: Konsitusionele hof se bevinding oor 'slaan die boer'. https://www.netwerk24.com/Nuus/Hof/konstitusionele-hof-bevind-struggle-lied-is-nie-rassisties-20180913 [21 Sept. 2019]. [ Links ]
Verhoef, G. 2012. 'n Ekonomiese geskiedenis van die 19de eeu. In Pretorius, F. (ed). Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad:Tafelberg. [ Links ]
Woordenboek der Nederlandsche Taal. 1902. Derde deel. 1ste stuk. Leiden:'S.Gravenhage. [ Links ]
Ongepubliseerde honneursskripsies
2013. Die konteks, voorbladagenda en raming van Vrye Weekblad tussen November 1990 en Junie 1991. Student-navorsers: E. Baard, J. Cilliers, G. Germishuys, A. Honiball, J. Nel, C. Norton, M. Vrey.
Geraadpleegde Uitgawes van Vrye Weekblad
4 Nov. 1988; 9 Des. 1988; 14 Apr. 1989; 15 Jun. 1989; 7 Jul. 1989;
14 Jul.1989; 1 Sept. 1989; 17 Nov. 1989; 23 Feb.1990; 27 Apr. 1990;
17 Aug. 1990; 21 Sept.1990; 12 Okt. 1990; 7 Feb. 1991; 1 Feb. 1991;
8 Feb. 1991; 8 Mrt. 1991; 22 Mrt. 1991; 30 Mei-6 Jun.1991; 28 Jun.-4 Jul.1991;
16-22 Aug. 1991; 1-6 Nov. 1991; 15-21 Nov. 1991; 12-19 Nov. 1991; 14-20 Mei 1993; 2 Feb. 1994.
CORNIA PRETORIUS is 'n lektor verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Skool vir Kommunikasiestudies. Haar MA-verhandeling het gefokus op joernalistieke geskiedskrywing. As deel van die studie het sy ook die boek, Forging Unity: The story of North-West University's first 10 years, geskryf. Voorheen was sy 'n joernalis by Beeld, ThisDay, die Sunday Times en Mail & Guardian.
CORNIA PRETORIUS is a lecturer at the North-West University's School of Communications Studies. Her MA dissertation focused on journalistic history writing and included a book, Forging Unity: The story of the North-West University's first 10 years. She previously worked as a journalist at Beeld, ThisDay, Sunday Times and Mail&Guardian.
JOHANNES FRONEMAN is verbonde aan die Noordwes-Universiteit waar hy strategiese kommunikasieraadgewer in die kantoor van die visekanselier is. Voorheen was hy 'n joernalis en vir 25 jaar lank 'n dosent in joernalistiek. Hy het 'n besondere belangstelling in Afrikaanse mediageskiedenis. Van sy versameling koerante en tydskrifte kan gesien word op die webblad mediamense.co.za.
JOHANNES FRONEMAN is strategic communication advisor to the vice-chancellor of the North-West University. He previously taught journalism for 25 years at the university and has a special interest in Afrikaans media history. His collection of historically interesting newspapers and magazines can be viewed on the website mediamense.co.za.
1 Boeremusiek word in Pharos se Afrikaanse-Engelse woordeboek met 'n kleinletter geskryf.