Serviços Personalizados
Artigo
Indicadores
Links relacionados
- Citado por Google
- Similares em Google
Compartilhar
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.60 no.1 Pretoria Mar. 2020
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n1a12
RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
Sosiale weerbaarheid, strukturele kwesbaarheid en instaatstellende geleenthede in Genadendal, Suid-Afrika
Social resilience, structural vulnerability and capabilities in Genadendal, South Africa
Ina ConradieI, *; Anja Hüman-HendricksII; Nicolette RomanIII
IInstituut vir Sosiale Ontwikkeling, Universiteit van Wes-Kaapland. Bellville, Suid-Afrika. E-pos: iconradie@uwc.ac.za
IIDepartement Maatskaplike Werk, Universiteit van Wes-Kaapland, Suid-Afrika. E-pos: ahuman@uwc.ac.za
IIISARChI-Leerstoel in Menslike Instaatstellende Geleenthede Maatskaplike Samehorigheid en Kinder- en Gesinstudies Fakulteit Gemeenskaps- en Gesondheidswetenskappe Universiteit van Wes-Kaapland Suid-Afrika. E-pos: nroman@uwc.ac.za
OPSOMMING
Die dorpie Genadendal in die Wes-Kaap is in 1837 deur die Morawiese Kerk gestig. Ons het 'n reeks in-diepte kwalitatiewe onderhoude met twaalf afgetrede inwoners van die dorp gevoer en hulle belewenisse en herinneringe geanaliseer om hulle geleenthede, sosiale weerbaarheid en strukturele kwesbaarheid te evalueer. Ons gebruik Amartya Sen se benadering van Instaatstellende Geleenthede ("capability approach"), sowel as Weerbaarheidsteorie (kyk voetnoot 2) as teoretiese raamwerke. Ons het gevind dat daar 'n baie sterk sosiale verbondenheid bestaan het terwyl die deelnemers grootgeword het, wat hulle meer weerbaarheid gegee het gedurende die apartheidsperiode. Na die oorgang na demokrasie het hulle werksgeleenthede en geleenthede vir beter integrasie in die breë samelewing uitgebrei, maar as gevolg van die feit dat Kaapse bendefamilies in Genadendal ingetrek het, het hulle op nuwe maniere struktureel kwesbaar geword. Die analise van geleenthede, sosiale weerbaarheid en strukturele kwes-baarheid in Genadendal tydens en na apartheid illustreer die belewenisse van 'n atipiese, afgesonderde landelike gemeenskap in die Wes-Kaap tydens hierdie twee historiese periodes.
Trefwoorde: Genadendal, Suid-Afrika, verwesenlikingsgeleenthede, instaatstellende geleenthede ("capabilities"),2 weerbaarheid, strukturele kwesbaarheid, kwalitatief, sosiohistories, omskakelingsfaktore, agentskap, relasionele ontologie
ABSTRACT
The town Genadendal or Genaal as it is called by the residents, is situated in the Western Cape, and was founded by the Moravian Church in 1837. The Faculty of Community and Health Sciences at the University of the Western Cape (UWC) has had a longstanding relationship with the Genadendal community through UWC's community engagement activities. The elderly in Genadendal approached UWC to document some of their memories of the pre- and post 1994periods, and one of the authors conducted a series of qualitative in-depth interviews with twelve purposively selected retired residents of Genadendal to document their experiences and memories of both these periods. In this paper we analysed the data through the lens of Amartya Sen's Capability Approach (CA), as well as Resilience Theory1 to evaluate the opportunities, resilience and vulnerabilities of the participants. We explain the core concepts of both these theoretical approaches, and the ways in which they can be used in a qualitative study of this nature. We conclude that the two approaches are complementary and that the combined theoretical framework could potentially be used in additional contexts of a similar nature.
The results show that when the participants were growing up there were strong social support mechanisms and cohesive relationships in the closed community. These bonds and relationships protected them and provided them with resilience during the apartheid era. After democracy in 1994 their work opportunities improved and possibilities to be better integrated into the broader society opened up, but the protected life in Genadendal changed radically. Social housing was made available by the municipality to farm workers, and to people from Cape Town and the surrounding areas. Due to the influx ofpeople and gangster elements from Cape Town, structural vulnerabilities increasedfor the residents of Genadendal. The analysis of opportunities, resilience and structural vulnerabilities in Genadendal during and after apartheid, illustrates the experiences of an a-typical, isolated rural community in the Western Cape during those two historical periods. The following themes emerged:
Before and during the Apartheid era
The first theme identified was the sense of security experienced by the participants provided by the strong relationships amongst the people and the value driven guidance and care from the Moravian church and the teachers in the schools.
The second theme highlighted the benefit of landownership. Originally most ofthe families owned land on which they could grow their own vegetables and fruit and keep livestock, which protected them from poverty and hunger. The community shared their vegetables and meat to support each other and this provided protection and care which contributed to the well-being of everybody in the community.
The third theme the participants identified was that despite apartheid, the good education provided by caring teachers equipped them for life outside Genadendal. Many became teachers themselves. The good values instilled by the church were furthermore identified as a factor that facilitated social integration in the community of Genadendal and which equipped them for life outside the village.
The fourth theme dealt with the period after apartheid. The year 2000 was identified as the time when an influx of people from Cape Town in particular, who were accessing social housing provided by the municipality, brought about dramatic changes. With the influx came crime, drugs, gangsterism and the loss of the values and social cohesion which had been cherished by the community of Genadendal. The negative effects of apartheid and colonial policies now reached Genadendal, which had been reasonably protected until this time due to its special position as a Moravian Mission. They now entered a new era of establishing trauma rooms and support systems to deal with the social problems that entered the community. Despite new work opportunities created by the new democracy after 1994, the community felt they had lost their social cohesion and that the values they knew were no longer universally adhered to. Ironically, better political conditions had not necessarily brought about greater personal freedom and security.
It was found that combining the Capability Approach and Resilience Theory provides a potential framework for identifying resilience, vulnerability and capabilities in communities, in particular within historically and politically complex contexts.
Keywords: Genadendal, South Africa, capabilities, capability approach, resilience, structural vulnerability, qualitative, socio-historical, conversion factors, agency, relational ontology
INLEIDING
Ons bespreek hier die bevindinge voortspruitend uit 'n studie van kwalitatiewe onderhoude met afgetrede inwoners van die Morawiese sendingdorp Genadendal naby Caledon in die Wes-Kaap. Die onderhoude was daarop ingestel om die ervarings en belewenisse van die afgetredenes op te teken en 'n beeld te probeer vorm van hulle lewens, insluitende sowel hulle kwesbaarheid as hulle weerbaarheid tydens die apartheidsperiode. Verder wou ons ook navorsing doen oor hoe die deelnemers se lewens verander het na die begin van die demokratiese periode, toe vorige gewettigde rassediskriminasie geskrap is en mense gehoop het op gelyke geleenthede. Ons poog dan om die materiaal te interpreteer aan die hand van die Instaatstellende Geleenthede-benadering van Amartya Sen (1985a, 1985b, 1992, 1999), wat handel oor instaatstelling en die benutting van geleenthede, sowel as Weerbaarheidsteorie ("Resilience theory"). Ons stel ook voor dat hierdie gekombineerde benadering 'n bydrae kan lewer tot die teoretisering van strukturele kwesbaarheid en weerbaarheid in verhouding tot benutting of verwesenliking van geleenthede. Die teorieë word vervolgens bespreek.
GEÏNTEGREERDE TEORETIESE RAAMWERK
Weerbaarheidsteorie
Weerbaarheidsteorie ("Resilience theory") het in die fisiese wetenskappe ontstaan, en in hierdie veld is "veerkragtigheid" die term wat gewoonlik gebruik word. Teen die sewentiger- en tagtigerjare is daar egter al belangrike studies onderneem waar die konsep op sosiale en sielkundige studies toegepas is (Garmezy 1971; Bronfenbrenner 1989), en die term "weerbaarheid" is meer toepaslik vir die sosiale toepassing van die begrip. Weerbaarheid kan beskryf word as die kombinasie van psigologiese, sosiale, geskiedkundige, kulturele en biologiese dimensies wat 'n positiewe en beskermende invloed kan hê wanneer individue, families, groepe, gemeenskappe of 'n samelewing blootgestel word aan 'n risiko, of aan 'n katastrofiese gebeurtenis of gebeurtenisse (Werner & Smith 1982; Garmezy 1971; Santos 2012). Weerbaarheid is nie noodwendig 'n konstante gegewe nie, en kan verander na gelang van omstandighede of persoonlike of sosiale ontwikkeling. "It is a scientific construct that has to be inferred and cannot be directly observed or measured" (Obrist, Pfeiffer & Henlie 2010:286). Omdat dit op die beoordeling van 'n situasie berus, is dit 'n normatiewe konsep.3
Reeds in die navorsing van Werner en Smith (1982) in Kauai word klem gelê op beskermende faktore wat 'n uitwerking kan hê op individue, families en op die breë omgewing en groter weerbaarheid kan verseker. Zokolski en Bullock (2012) noem dat die meeste weerbaarheidsnavorsing nietemin nog op sielkundige weerbaarheid konsentreer. Dit is egter belangrik om strukturele probleme in die samelewing ook in ag te neem. In 'n konteks soos Suid-Afrika is strukturele probleme dikwels oorweldigend en oefen dit 'n sterk invloed uit op individuele situasies. Om hierdie rede gebruik ons die terme sosiale/maatskaplike of strukturele kwesbaarheid en weerbaarheid in hierdie artikel.
In die studie wat Mampane (2014) in townshipskole naby Pretoria onderneem het, bevind sy dat die meerderheid leerders optimisties is, ten spyte van die konstante bedreiging van geweld en 'n veelvoud akademiese uitdagings. Die leerders skryf hulle optimisme toe aan selfvertroue en interne beheer oor hulle lewens, sosiale ondersteuning, 'n weerbare persoonlikheid, 'n fokus op prestasie en aspirasies, en die vermoë om hulpbronne te identifiseer en te gebruik. Mosavel et al. (2015) kom tot soortgelyke gevolgtrekkings in hulle studie van 'n anonieme Suid-Afrikaanse township met 'n hoë misdaadvlak, wat hulle Masidaal noem. Hulle bevind ook dat die vermoë om persoonlike aspirasies te koester 'n groot bydrae maak tot weerbaarheid.
Onlangse navorsing lewer verder 'n belangrike bydrae tot die analise van weerbaarheid met behulp van sosiale teorieë. Mosavel et al. (2015) maak gebruik van 'n fenomenologiese benadering om hulle kwalitatiewe onderhoude te analiseer. Obrist et al. (2010) gebruik die Volhoubare Bestaansbeveiliging-benadering ("Sustainable Livelihood Approach") soos gekonseptualiseer deur DFID. Hulle analiseer die bestaansmoontlikhede vir elke huishouding, en kyk dan na skokke en stresfaktore, maar ook na instaatstelling, verwesenliking en bemagtiging ("capabilities"), bates en aktiwiteite, sowel as na funksionerende strukturele prosesse. Sodoende kan hulle op die positiewe moontlikhede fokus wat mense se weerbaarheid kan verhoog. Hulle gebruik dus doelbewus Giddens (1984) se struktureringsteorie, wat klem lê op die maniere waarop individue se handelinge en strukturele geleenthede mekaar aanvul. Hulle beklemtoon ook Ortner (2006) se gebruik van die teorie in etnografiese navorsing, en Bourdieu (1977) se gebruik van kulturele en simboliese kapitaal.
Instaatstellende Geleenthede (die "Capability approach")
Bogenoemde benadering is vir hierdie analise gekies omdat dit 'n raamwerk verskaf vir 'n ondersoek na die geleenthede wat mense het om 'n keuse te maak oor die soort lewe wat hulle graag wil leef (Sen 1999; Robeyns 2005; Alkire & Deneulin 2009). Ingrid Robeyns (2017) wys daarop dat daar belangrike verskille is tussen die terminologie wat Martha Nussbaum en Amartya Sen, die twee stigters van die benadering, gebruik. Nussbaum gebruik die benadering om grondwetlike maatstawwe daar te stel vir 'n lys van onvervreembare regte, terwyl Sen die benadering gebruik om vlakke van menslike ontwikkeling en welstand te bepaal. Hy doen dit deur te kyk na die geleenthede ("capabilities") wat 'n individu het om die keuses te maak wat sou kon lei tot nuwe uitkomste ("functionings"). In Sen se benadering word die wisselwerking tussen hierdie twee begrippe, die potensiaal om 'n uitkoms te hê en die uitkoms self, altyd voorveronderstel. Verder bestaan die geleentheid om 'n spesifieke keuse te maak uit die latente vermoë van die persoon sowel as uit die daadwerklike strukturele opset wat sy tot haar beskikking het. "[H]uman capabilities ... consist of the presence of those skills, talents, character traits and abilities, together with suitable external conditions and circumstances" (Robeyns 2017:94). Daarby kom werksaamheid of aksie ("agency"), die aktiewe stappe wat sy neem om haar keuses te verwesenlik. Ons sal konsentreer op Sen se weergawe van die benadering waarin geleenthede beklemtoon word, en sal vra watter geleenthede vir 'n betekenisvolle lewe met goeie lewenskwalitieit oor die periode van die lewe van die deelnemers bestaan het.
'n Analise van geleenthede en die verwesenliking daarvan betrek 'n stel konseptuele instrumente (Robeyns 2005, 2017), en ons sal dit waar toepaslik in aanmerking neem. Die analise is gegrond op die volgende konseptuele instrumente:
1. Die beoordeling of meting van die potensiaal of geleentheid vir 'n sekere uitkoms ("capability")
2. Die beoordeling of meting van die uitkoms ("functioning")
3. Die analise van die omskakelingsfaktore ("conversion factors") wat die verwesen-liking van die persoon se geleenthede beïnvloed het. Dit sluit persoonlike faktore asook sosiale en omgewingsfaktore in. Hierdie faktore is 'n belangrike deel van die benadering en gee die navorser die geleentheid om 'n genuanseerde analise te maak van die toeganklikheid van geleenthede. Bestaan hierdie geleenthede werklik, of net in teorie? Dit sluit dan ook 'n analise in van die werklike hulpbronne en dienste wat beskikbaar is, en hoe toeganklik hulle is.
4. Die invloed van die persoon se ondervinding, lewensgeskiedenis en persoonlike hulpbronne.
5. Die vermoë om daadwerklik oor te gaan tot handeling ("Agency") (Sien ook Alkire & Deneulin 1998; Deneulin 2008).
6. Die moontlike aanpassing of afgradering van voorkeure wanneer keuses afgradeer word as gevolg van sosialisering en/of berusting in jou lot ("adaptive preferences"), byvoorbeeld as 'n persoon sou terugstaan en nie gaan studeer nie omdat hy of sy tydens apartheid te min selfvertroue sou gehad het. Deneulin en McGregor (2010:506) noem hierdie soort keuses ook "reaksie-verskuiwings" omdat daar 'n ander keuse sou wees indien daar nie 'n tweede reaksie onder die invloed van sosialisering of berusting was nie.
7. 'n Laaste instrument kan 'n analise van die politieke ekonomie van die konteks wees. Dit word nie konvensioneel as deel van die analise van instaatstellende geleenthede gebruik nie, maar is aanbeveel deur Deneulin (2011) en word deur die skrywers ondersteun.
8. 'n Aantal skrywers het voorgestel dat 'n relasionele ontologie in hierdie benadering gebruik word (Martins 2006; Deneulin & De Herdt 2007; Smith & Seward 2009).
Ons volg hierdie aanbeveling, wat beteken dat ons alle individue sien as deel van kollektiewe netwerke en in inherente verhouding met ander, eerder as insulêre individue. Ons vra ook hoe die verhoudingsdinamiek in Genadendal bygedra het tot die beskerming teen eksterne skokke, watter uitwerking dit op die inwoners se weerbaarheid gehad het, en hoe individue binne 'n komplekse stel verhoudings leef wat hulle optrede en keuses voortdurend beïnvloed.
Die Instaatstellende Geleenthede-benadering is gebaseer op metodologiese individualisme, wat behels dat elke individu haar of sy eie standpunte en ervaringe verwoord. Om hierdie rede is hierdie onderhoude met individue gevoer. Dit beteken egter nie dat die benadering normatief of eties individualisties is nie, sodat dit moontlik bly om 'n relasionele ontologie te ondersteun (Robeyns 2017:184).
Vir die ontleding van hierdie studie stel ons dus 'n gekombineerde, geïntegreerde teoretiese raamwerk voor wat bestaan uit die verskillende konseptuele konstruksies wat uit Weer-baarheidsteorie en die Instaatstellende Geleenthede-benadering kom. Beide hierdie benaderings word gebruik binne 'n relasionele ontologie, waar mense altyd binne 'n verhoudingskonteks gesien word. Ons sal poog om mense se weerbaarheid te peil na aanleiding van die beskermende faktore wat in hulle situasie teenwoordig is, en waarop hulle kan reken wanneer daar probleme ontstaan. Ons koppel dus die idee van weerbaarheid aan die beskikbaarheid van geleenthede, soos voorgestel deur verskillende skrywers (Grotberg 1995; Obrist et al. 2010; Mampane 2014), en soos dit gekonseptualiseer is deur Amartya Sen.4
Ons sal hierdie konsepte aanwend in 'n kwalitatiewe, narratiewe ondersoek, wat een van die maniere is waarvolgens die verwesenliking al dan nie van geleenthede bepaal kan word (Robeyns 2006, 2017). Sulke kwalitatiewe studies word toenemend in die Instaatstellende Geleenthede-benadering gedoen (Deneulin 2005; Conradie 2013; George 2015; Seeberg & Luo 2018; Kabeer 2019), en dit is 'n veld wat waarskynlik verder sal ontwikkel namate die benadering toenemend buite die dissipline van ekonomiese analise uitgebrei word.
NAVORSINGSKONTEKS EN 'N KORT GESKIEDENISAGTERGROND
Genadendal is in 1738 gestig deur 'n jong Morawiese sendeling, Georg Schmidt (Greytonaccommodation). Teen alle verwagtinge in, het Schmidt daarin geslaag om 'n gemeenskap van Khoi-inwoners by Genadendal tot stand te bring. Baie van die Khoi-mense het pokke gekry toe Europeërs hulle in die area gevestig het, en die populasie was toe al beduidend minder.5 Deur die plaaslike Khoi aan te moedig om hulle by Baviaanskloof te vestig, het Schmidt se ingryping waarskynlik die onbedoelde gevolg gehad dat hulle beskerm was teen die pokke-epidemie wat gedurende daardie tyd die dood van baie ander Khoisan-mense veroorsaak het, omdat hulle minder blootgestel was aan kontak met Europese setlaars.
Teen die einde van die 18de eeu het daar weer drie Morawiese sendelinge Genadendal toe gekom, en weer eens op 'n tydstip toe daar groot omwentelings was. Die Hollandse en Engelse boere in die Kaap het 'n voortdurende behoefte aan plaaswerkers gehad, en slawerny was op die punt om afgeskaf te word. Die Britse regering het daarom die "Hottentot Proclamation" in 1809 goedgekeur, om die Khoi te dwing om te registreer as plaaswerkers vir wit plaasboere in die Wes-Kaap. Diegene wat hulle by die sendingstasies wou vestig, kon hulle eie grond ontvang op voorwaarde dat hulle die Christelike geloof aanneem. Daar was gevolglik letterlik 'n toestroming na die verskillende sendingstasies van die Kaapprovinsie. Genadendal was gou die grootste nedersetting buite Kaapstad (Sahistory.org).
'n Periode van groei en vooruitgang het in Genadendal gevolg. Die eerste onderwyskollege in Suid-Afrika is in 1838 daar gebou. Daar was ook 'n groot biblioteek, onafhanklike klein-plasies, tuisnywerhede waar artikels soos handgemaakte messe en stoele vervaardig is, musiek en koorsang, 'n apteek, en oor die algemeen 'n hoër lewenstandaard as in die omliggende gebiede (Greytonaccommodation). Volgens die deelnemers het koningin Victoria in die laat 19de eeu die grond vir hulle gegee. Op dié manier het Genadendal-sendingstasie die tweede keer 'n toevlugsoord geword vir diegene wat hulle daar op gemeenskapsgrond gevestig het wat hulle self kon bewerk, eerder as om plaaswerkers te word op grond wat in die besit van wit boere was.
Die derde periode waartydens die inwoners van Genadendal teen eksterne faktore beskerm is, was ná 1948 toe apartheidswette geproklameer en oral in Suid-Afrika afgedwing is. Hierdie wette het 'n streng rasseklassifikasiestelsel vereis, en mense wat nie "wit" was nie, is as minderwaardig gesien, en het ook minder geleenthede vir ontwikkeling ontvang omdat hulle onder apartheid per definisie aan 'n "werkersklas" behoort het. Die apartheidswette is in Genadendal ook toegepas, maar omdat die gemeenskap hoofsaaklik uit "Kleurlinge"6 bestaan het - nadat die klein aantal wit inwoners na die nabygeleë Greyton verskuif is - en hulpbronne reeds gevestig was, was daar in Genadendal self 'n mate van beskerming teen die harde werklikhede van apartheid. Sommige mense van Genadendal, soos eerwaarde Chris Wessels, met wie ons 'n agtergrondsonderhoud gevoer het, het by die anti-apartheidstryd aangesluit en was lank in eensame aanhouding (Wessels 2016).
Toe apartheid tussen 1990 en 1994 tot 'n einde gekom het, is daar 'n nuwe "heropbou-en-ontwikkelingstrategie" vir Suid-Afrika aangekondig. Dit het die geleentheid geskep om gesubsidieerde behuising te bekom. Van die huise is ook in Genadendal gebou, en nuwe mense het daar ingetrek. Waar Genadendal dus aanvanklik 'n klein dorpie was waar almal mekaar geken en almal met mekaar gepraat het, het die dorpie teen 2011 1 593 huishoudings gehad en 5 663 inwoners (Frith n.d.). In die periode rondom 2011 was sowat 94% van die inwoners bruin en Afrikaanssprekend, terwyl 3% swart Afrikane (Nigeriese en Somaliese handelaars) en 2% Oosterlinge (waarskynlik Oosterse winkeleienaars) was. En die meerderheid van die nuwe mense het Engels gepraat, terwyl die mense van Genadendal meestal Afrikaanssprekend is. Dit is egter belangrik om kennis te neem van die feit dat die inwoners beweer dat die ontwrigting op hierdie stadium die gevolg was van die immigrasie van Kaapstadse bendes, en nie van die buitelandse handelaars nie. Die meeste van Genadendal se inwoners werk steeds op plase as seisoenale arbeiders, met dié verskil dat daar tans 'n minimumloon betaal word. Dit voorkom gedeeltelik dat die werkers ekonomies misbruik word.
Die impak van apartheidswetgewing en van vroeëre koloniale diskriminasie en uitsluiting in Suid-Afrika kan gesien word in die sosiale probleme wat in sommige gemeenskappe ondervind word. Dit blyk ook duidelik uit onlangse statistieke, twee dekades ná die afskaffing van apartheidswette. Terwyl die gemiddelde inkomste van wit Suid-Afrikaners in 2010 R9 500 per maand was, was dié van Kleurlinge R2 132 per maand.7 Hulle was ook die mense met die laagste persentasie hoëronderwyskwalifikasies, naamlik 7.4% (Statssa).
Hoewel 'n klein gedeelte van die mense uit hierdie groep daarin geslaag het om na die middelklas te beweeg, leef die grootste meerderheid nog in armoede. Teen hierdie nasionale agtergrond, sal ons na die sosiale en ekonomiese geleenthede in Genadendal kyk, en vra watter geleenthede mense gehad het om welstand te ervaar. Ons sal ook vra hoe weerbaar die deelnemers was onder moeilike omstandighede.
DIE NAVORSINGSMETODOLOGIE
Die Universiteit van Wes-Kaapland is sedert 2004 betrokke by die Theewaterskloof-area waar Genadendal geleë is. Die ouer lede van die Genadendal-gemeenskap het gevra dat daar 'n opname van hulle lewens en ondervindings gemaak word. Die studie wat met die bejaardes onderneem is, was een van die studies wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS), beter bekend as die National Research Foundation (NRF) befonds is. Die gemeenskap van Gena-dendal het 'n aantal projekte geïdentifiseer wat hulle ondersoek wou hê. Hierdie studie was op hulle wenslys.
'n Kwalitatiewe eksploratiewe studie is met die bejaardes in Genadendal uitgevoer. Die semi-gestruktureerde navorsingsvrae was gerig op die ervarings van die afgetrede inwoners van Genadendal met betrekking tot hulle lewenskwaliteit en geleenthede ter verbetering daarvan, asook met betrekking tot hulle weerbaarheid tydens die apartheidsperiode en daarna.
Die deelnemers is geselekteer op grond van hulle kennis van en ervaringe in Genadendal, en 'n doelgerigte nie-kansige steekproef is gebruik om twaalf deelnemers uit 'n groep ouers en grootouers op die dorp te selekteer. Die bejaardes is genader tydens 'n byeenkoms by die bejaardesentrum op die dorp. Die navorsingsprojek is aan hulle verduidelik en vrywillige deelnemers is geselekteer. Die navorsers het die deelnemers se ouderdomskategorie in ag geneem, veral die feit dat hulle tydens die apartheidsperiode gewerk het, terwyl hulle tydens die demokratiese periode as afgetredenes meer ingestel was op verskillende vorme van beveiliging. Almal van hulle woon in Genadendal.
Onderhoude is met 12 bejaardes oor die ouderdom van 60 in Afrikaans of Engels gevoer, volgens die keuse van die deelnemers, en alle onderhoude is in die huise van die deelnemers gevoer op tye wat hulle gepas het. Die onderhoude het gemiddeld ongeveer twee uur geduur, en slegs een onderhoud is met elke deelnemer gevoer. Etiese toestemming is verkry deur die betrokke nagraadse strukture aan die Universiteit van Wes-Kaapland.
Om die privaatheid van die deelnemers te beskerm, word geen name van deelnemers in hierdie studie vermeld nie; slegs fiktiewe name word gebruik. Alle moontlike voorsorg is getref om die vertroulikheid en privaatheid van die deelnemers te beskerm ten einde die ryk bron van data wat ingesamel is tydens die deel van ervarings en inligting met behulp van 'n storievertelproses van data-insameling te bewaar.
Die gesprekke is gebaseer op 'n semi-gestruktureerde vraelys, en was daarop gemik om ryk en genuanseerde materiaal oor die lewenservaringe en beskouinge van die deelnemers te verkry. Die lang, kwalitatiewe onderhoude is opgeneem en getranskribeer en deur 'n onafhanklike kundige gekodifiseer. Die resultate wat hier beskryf word, is daarop gebaseer. Alhoewel die hooftemas wat geïdentifiseer is in die meeste onderhoude voorkom, gebruik ons net 'n paar tekenende uittreksels uit enkele onderhoude, omdat dit die temas ten beste illustreer.
Dit is belangrik om te meld dat een van die outeurs wat ook die onderhoudvoerder was, self 'n afstammeling is van 'n familie wat oorspronklik van Genaal is. Die feit dat mense haar geken het, het beide voor- en nadele ingehou. Enersyds kon sy gemaklik toegang tot die gemeenskap kry en met goeie insig in die geskiedenis van Genaal die onderhoude voer en begryp. Dit het haar ook in staat gestel om met sensitiwiteit en respek hulle kultuur, oortuigings en standpunte te benader. Andersyds was ons baie bewus van die feit dat sy ook haar eie subjektiewe interpretasie aan die gebeure kon heg - daarom is die dienste van 'n onafhanklike kodifiseerder gebruik. Die mede-outeurs het egter ook meegewerk om hierdie moontlikhede uit te skakel.
ANALISE VAN DIE RESULTATE VAN WEERBAARHEID EN INSTAATSTELLENDE GELEENTHEDE
Om instaatstellende geleenthede te ondersoek beteken dat die navorser eerstens vra wat die persoon in staat is om te doen, en tweedens, met watter middele of instrumente: "... capability concentrates on the opportunity to be able to have combinations of functionings ... and the person is free to make use of this opportunity or not" (Sen 2005:154).
Alhoewel die data baie ryk en komplekse idees bevat, was die algemene en mees dikwels bespreekte temas dié van ekonomiese werksgeleenthede, skoolopleiding, en sosiale verhoudings en samehorigheid wat geskep en in stand gehou is deur die Morawiese kerk. Dit is dan ook hierdie temas wat in die kodering van die kwalitatiewe data geïdentifiseer is. Ons sal hierdie temas aan die hand van die kwalitatiewe materiaal en die teoretiese raamwerk bespreek. Ons beklemtoon dat alle eiename fiktief is om die vertroulikheid van die materiaal te beskerm.
Werksgeleenthede
Die belangrikste geleentheid wat al die deelnemers genoem het, is werksgeleenthede. Tydens die vroeë 1950's was Genadendal 'n landelike dorpie waar mense grond en 'n huis besit het, en waar almal tuingemaak het. Tydens al die onderhoude het mense onthou dat hulle as kinders in die groot tuine gehelp het, en dat hulle families grotendeels gelewe het van die groente en vrugte wat uit die grond gekom het. Hulle het nogtans bykomende inkomste nodig gehad, aangesien alles geld gekos het en daar nog geen betekenisvolle bestaansbeveiliging van die staat was nie. Teen daardie tyd het Genadendal se ekonomiese aktiwiteite, soos die stoelfabriek en die messemakery8 wat in die 19de eeu ontwikkel is, tot 'n einde gekom, en die onder-wyskollege het toegemaak. Vir betaalde werk moes 'n mens Genadendal verlaat en baie jongmense het dit gedoen. 'n Klein groepie het onderwysers geword en hulle opleiding by die Oudtshoorn Onderwyskollege ontvang, maar hulle moes die dorpie verlaat om werk te vind. Een egpaar het vertel hoe hulle apart moes woon vir hulle hele volwasse lewe omdat die pa in 'n fabriek in Kaapstad gewerk het, en die ma 'n onderwyseres in Caledon was, 'n plattelandse dorp nie ver van Genadendal af nie. Dit was egter belangrik om goeie werk te hê, aangesien hulle hul kinders na goeie skole wou stuur. Daar was egter net 'n klein groepie mense wat goeie salarisse kon verdien. Baie van die deelnemers het as handearbeiders gewerk op die omliggende plase wat deur wit boere besit is, dikwels vir lae lone. Om werk in die stad te soek, was ook moeilik, en een van die deelnemers, meneer Jan Smit, vertel van sy ondervinding in hierdie opsig:
Gedurende die laaste jaar van die oorlog het my ma by 'n Italiaanse krygsgevangene betrokke geraak, en ek is in 1946 gebore. Sy het op die plase in Grabouw gewerk en my hiernatoe gebring sodat my grootouers my kon grootmaak. Omdat ek ligter van vel as ander is, het dit my 'n paar geleenthede gegee. In my voorlaaste jaar op skool het ek gedruip, en moes ek die skool verlaat om te gaan werk. Ek moes ook tot die huishouding van die twee oumense bydra. 'n Wit vrou het daar aangekom en my gevra om as 'n vakleerling by 'n houtmeule naby die stad te gaan werk, wat ek gedoen het. Maar ek het gewerk en gewerk en my inkomste het laag gebly - ek kon net sowel saam met die ander iewers op 'n plaas gaan appelkose pluk het. Op die ou end het ek besluit om terug huis toe te gaan, want ek kon nie so aanhou werk nie. Gevolglik het ek na die ouvrou gekyk. Dit was net ek en sy. My suster het daardie tyd in die dorp gewerk. Ek het nog 'n vriend gehad wat as 'n werktuigkundige in Kaapstad gewerk het, en hy het vir my gesê ek moet ook soontoe kom. Hy het ook van 'n vakleerlingskap gepraat. Ek het toe daar gaan werk, maar nee, hulle het nie eens van 'n vakleerlingskap gepraat nie. Toe kry ek vir my 'n nuwe werk by 'n koerant in Maitland, as 'n werkswinkelassistent. Ek het van daardie werk gehou. Maar ek het vir hom gesê: Ek doen die werk, maar ek word nie betaal nie! Toe plaas hy druk op my om inligting oor my pa te kry, aangesien hy 'n witman was en ek meer betaling as 'n wit persoon sou kry. Ek het toe na die plaas naby Grabouw gegaan waar my ma gewerk het, en haar vir die inligting gevra. Al wat sy gesê het was: "En wat wil die kind nou weet?" Dit het ook nie gewerk nie. Toe is die besigheid verkoop, maar iemand het vir my 'n goeie woordjie gedoen en ek kon aanbly, en ek het die kans gevat.
Dis toe wat ek as motorwerktuigkundige opgelei is. Maar teen daardie tyd het ek al 'n gesin gehad. So het hulle my vir 'n IK-toets gestuur en my vir 'n jaar en 'n half afgegee. Dis hoe ek 'n motorwerktuigkundige geword het.
Toe aan mevrou Mina September gevra is wat die moeilike tye in haar lewe was, het sy die storie vertel van haar jongste dogter Shirley, wat hardwerkend was en baie ideale gehad het. Shirley het in die vroeë negentigerj are 'n rekenaarskursus gedoen, maar ten spyte daarvan kon sy nie werk kry nie. Op daardie stadium was haar ma ook siek, en die gesamentlike stres van die twee faktore het tot gevolg gehad dat die meisie op die ou end selfmoord gepleeg het.
Die geleenthede wat ontbreek het vir meneer Smit en vir Shirley September, was nie dat hulle persoonlik nie in staat was om opgelei te word en goeie werk met 'n behoorlike salaris te kry nie, maar dat hulle nie in die ope arbeidsmark op gelyke voet met "witmense" kon kompeteer nie. Hulle rasseklassifikasie was daarom 'n sosiale beperking in Suid-Afrika onder apartheid, wat hulle werksgeleenthede op 'n strukturele vlak beperk het en tot strukturele kwesbaarheid gelei het. Mnr. Smit het herhaaldelik pogings aangewend om vooruit te kom, maar herhaaldelik voor verskillende beperkings te staan gekom. Hy het aktief probeer, en van sy eie kant tot aksie oorgegaan. In terme van ons teoretiese model het hy dus persoonlike aksie ("agency") gebruik om geleenthede meer toeganklik te maak, maar die sosiale omska-kelingsfaktore en strukturele beperkings was te sterk om deurgaans vir hom goeie uitkomste te verseker. Die tragiese afloop van Shirley Serptember se werksfrustrasies kan 'n voorbeeld wees van reaksieverskuiwing, waar haar aanvanklike aspirasies in mismoedigheid oorgegaan het as gevolg van haar strukturele kwesbaarheid.
Daar het saam met die einde van apartheid baie meer geleenthede gekom, maar as die gekleurde groep, nie wit of swart nie, voel sommige van hulle dat hulle nog steeds nie heeltemal bevry is nie. Mevrou Mina September sê in hierdie opsig:
Ek kan vir jou sê, ek is nie 'n rassis nie, maar as ons die huidige situasie mooi bekyk, is dit net apartheid in 'n ander kleur. Ons is net die vulsel tussen twee ander rassegroepe.
Dit is dus duidelik dat mense baie beperkings ervaar het wanneer hulle tot die arbeidsmark wou toetree. In die vroeë apartheidsjare het werksgeleenthede stelselmatig verdwyn, of is dit beïnvloed deur wetgewing wat deure vir hulle toegemaak het en hulle selfrespek afgetakel het. Genadendal se inwoners het 'n mate van beskerming teen hierdie negatiewe aanslag ervaar aangesien daar baie sterk gemeenskapsnetwerke was wat die meeste individue ondersteun het en weerbaar gemaak het. Nogtans het iemand soos Shirley September haar eie lewe geneem onder die aanslag van negatiewe ervarings en 'n gebrek aan geleenthede. Daar was dus wel beperkte ekonomiese geleenthede, en die inwoners van Genadendal was ook meer weerbaar as wat hulle sou gewees het sonder hulle groepsgebondenheid, maar ekonomiese omstandighede was dikwels moeilik.
Skoolopleiding
Daar was goeie skoolgeleenthede op Genadendal, en die onderwysers op die dorp was, soos die predikant, die leiers van die gemeenskap. Die volgende herinneringe is met die onderhoudvoerder gedeel:
Ons het groot respek vir die onderwysers en die predikant gehad. As jy nie wou luister nie, het die oumense die predikant geroep - "kom praat asseblief met die mannetjie, hy wil nie luister nie." Die Morawiese skool was ook 'n belangrike meganisme om sosiale waardes te versterk. Die skool het die gedrag versterk wat die kerk verkondig het.
Ons het onderwysers gehad - ek kan niks oor vandag se onderwysers sê nie, want ek het geen ondervinding van hulle nie - maar met ons onderwysers ... dit was die manier wat hulle geleef het. Nie net in die skool nie, maar buite ook, en dit wat hulle vir jou gegee het. Hulle was streng, maar hulle het jou rigting gegee en vir jou vertel wat in die wêreld daarbuite vir jou wag. Hulle het jou oortuig dat jy kán. Dis wat hulle gehad het, en wat hulle aan ons oorgedra het. Saans sou hulle huisbesoek doen om seker te maak ons doen ons huiswerk. Ons is ook aangemoedig om reguit te sê wat ons dink, en hulle sou ons siening in ag neem.
Die deelnemers het saamgestem dat die dissipline wat in die skole bestaan het positief was en 'n konstruktiewe rol in die gemeenskap gespeel het. Ons illustreer dit hier uit twee onderhoude:
Destyds, toe ek nog skoolgehou het, was daar nog dissipline in die skole, en jy kon die kinders gedissiplineer het, en jy kon met die kinders gewerk het. Hulle het na jou geluister en die ouer-onderwyser-verhouding was daardie jare baie beter as vandag.
Skool was lekker omdat jy eintlik baie beter as vandag se kinders geleer het. Onderwys was baie sterker. Ons het ons onderwyseres juffrou en meester genoem - dis hoe ons gepraat het. Nouja, hulle was baie streng, maar hulle het jou baie goed voorberei. Definitief. En jy het pak gekry, maar dit was alles in 'n goeie gees. Ons het 'n baie goeie skool gehad.
Daar was dus ooreenstemming dat die skool en die gesagsposisie van die onderwysers toe die deelnemers jonk was 'n baie positiewe rol in hulle lewens gespeel het. Hierdie positiewe sosiale omskakelingsfaktor het vir baie van die deelnemers deure oopgemaak in hulle latere lewens, en vir hulle baie positiewe uitkomste gelewer, soos in die geval van diegene wat self daarin geslaag het om onderwysers en professionele mense te word.
Sosiale omstandighede
Ten spyte van hoe moeilik dit was om maniere te vind om 'n bestaan te maak, het die deelnemers almal gepraat van die positiewe uitwerking wat dit gehad het om in 'n samehorige, sosiaal geïntegreerde gemeenskap groot te word. 'n Plek waar almal al die ander mense ken, en mense na mekaar omsien. Genadendal tydens die na-oorlogse (tweede wereldoorlog) periode was 'n plek waar daar sterk godsdienstige norme en waardes gegeld het, en hierdie waardes is deur die Morawiese Kerk versterk in kerkskole, in gesinne en in die gemeenskap as geheel. Ons sal probeer aantoon hoe dit plaasgevind het deur te vra hoe sosiale verhoudinge in Genadendal gefunksioneer het.
In hierdie analise verwys ons ook na die werk van die Amerikaanse sosioloog, Talcott Parsons (1951/1991), wat sosiale gedrag verstaan het as vorme van sosialisering wat ons onder sosiale druk uitleef. Indien ons nie sou konformeer nie, volg daar sosiale verwerping deur die groepe waaraan ons behoort. (Parsons noem dit "blame and shame "). Parsons se werk dateer uit dieselfde tydvak as dié waaroor die mense van Genadendal praat, en die rol van sosialisering, versterk deur die rol van die Morawiese Kerk in die gemeenskap, kan gesien word as 'n verwagting om te konformeer, iets waaraan die meeste van die deelnemers voldoen het -sommige onder druk. Sosiale tendense het intussen verander, en jongmense in Genadendal sou dalk vandag 'n ander respons hierop gehad het.
'n Tema wat herhaaldelik in die onderhoude voorkom, is dat daar van kinders verwag is om in die huis te help - hulle sou tuinwerk doen, water en vuurmaakhout gaan haal, en help kook en skoonmaak. Daar was ook vrye tyd om te speel, en daar is met groot afwagting daarna uitgesien. Verveeldheid, volgens 'n hele paar deelnemers, was iets ongekends. Die waardes wat die kerk en die skool die kinders geleer het, is versterk deur die gedeelde waardes van die gemeenskap. As iemand bees of skaap geslag het, sou jy 'n karmenaadjie - 'n stukkie vleis - vir al die naaste bure neem. En dieselfde het gegeld wanneer jou gesin byvoorbeeld 'n goeie boontjieoes gehad het. En as iemand siek was, of daar was dood in die familie, was die hele gemeenskap daar om ondersteuning te gee.
Die grootste ding is dat ons almalgelowiges was - diep gelowig was, en aan die Morawiese Kerk behoort het.
Ons is gedwing om Sondae Sondagskool toe te gaan, die vergaderings van die kerk se jeugbeweging by te woon, en elke kerkdiens by te woon. Jy was nie toegelaat om sommer net in die strate rond te loop nie. My ma was 'n klein mensie, maar baie beslis, vasberade. Saterdae het ons gaan dans, en as ek Sondagoggend wou aanbied om te kook sodat ek kerk kon mis, sou sy net sê, nee, my kos is klaar gekook. Sorg dat jy in die kerk kom.
Sosiale veranderinge
Ná 1994 was die mense van Genadendal baie beter in staat om geleenthede buite die area te vind, maar diegene wat agtergebly het, moes met baie dramatiese veranderinge in hulle dorpie saamleef. Die twaalf deelnemers vertel almal dat die karakter van die dorpie om en by die jaar 2000 handomkeer verander het. Mense wat gesubsidieerde behuising soek, het van Kaapstad en elders daar ingetrek, maar saam met hulle 'n kultuur van sterk drank- en dwelmmisbruik, veral "tik" of metamfetamien of "ys" daar ingebring. Hierdie dwelm het baie gewild geraak in die armer Kaapstadse gemeenskappe, en lei dikwels tot aggressiewe en anti-sosiale gedrag. Lede van berugte en gewelddadige bendes in Kaapstad het ook in Genadendal ingetrek, en geweldsmisdade is nou deel van die area, iets wat voorheen ongekend was. Een van die deelnemers werk as vrywilliger in die "traumakamer" en vertel van talle gevalle van vrouemishandeling en verkragting. Die amptelike misdaadstatistieke bevestig hierdie tendense: in 2015 was daar twee moorde en een poging tot moord, 13 gevalle van seksuele oortredings, 101 gevalle van aanranding, 303 inbrake, en ander ernstige misdade. In 229 gevalle was misdade verwant aan dwelmmisbruik (Statssa). Hierdie tendense toon die mate waartoe historiese diskriminasie en onderdrukking in Suid-Afrika bygedra het tot sosiale disintegrasie in sommige gebiede, en die mate waartoe Genadendal se inwoners voorheen teen sulke sosiale disintegrasie beskerm was.
Mevrou Blanche Darries verwoord haar insig so:
Maar ek dink toe die Morawiese Kerk in beheer was, het hulle meer beheer oor die mense van Genadendal gehad. Daardie stabiliteit het nou verdwyn.
Mev Darries voeg by dat daar minder respek vir ander mense is in die huidige samelewing. Dit lyk selfs vir haar of vrouens deesdae meer drink as mans. Ander deelnemers reken ook dat die streng opvoeding wat hulle as kinders gehad het 'n baie goeie voorbereiding vir die lewe was. Hulle meen ook dat die feit dat ouers nie meer hulle kinders mag pak gee nie, die huidige probleme veroorsaak. Mevrou Mina September het 'n meer genuanseerde opvatting en sê dis dalk goed dat kinders nie meer pak kry nie, maar dat 'n kind nie ordentlik kan grootword sonder 'n sterk verhouding met 'n versorger soos 'n ouer nie.
As ons dus die geleenthede wat ons deelnemers gehad het toe hulle jonk was, vergelyk met wat hulle nou het, sien ons dat hulle 'n hegte gemeenskap gehad het waarin hulle gesosialiseer en geleer is om hulle goed te gedra, insluitende die feit dat "kinders gesien en nie gehoor word nie." (Meneer Jan Smit). Hierdie sosialisering het soms lyfstraf ingesluit, maar ook "boekevat" of gesinsbybelstudie en 'n diep geloof in die leerstellinge van die kerk, veral die Morawiese Kerk. Alhoewel hulle veilig en beskerm in Genadendal gevoel het, het hulle tog probleme teëgekom as hulle die area moes verlaat om 'n bestaan te maak.
Die belangrikste strukturele verandering wat ons deelnemers dus opgemerk het, is 'n sosiale verandering, met baie nuwe intrekkers of "outsiders" wat na Genadendal toe kom, en met 'n totaal ander stel norme en waardes in die skole, die kerke, en in die gemeenskap as geheel. Daar is steeds baie lede van die oorspronklike Genadendal-gemeenskap wat nog volgens die tradisionele norme probeer leef, maar dit raak al hoe moeiliker. Hulle voel dat die kerke miskien 'n gesamentlike sosiale aksie op die been moet probeer bring om die golf van sosiale disintegrasie te stuit voordat dit te laat is.
Mevrou September sluit egter af met:
Maar ek wil vir jou sê, die groot liefde wat mense vir mekaar gehad het, lê daar in die begraafplaas. Genadendal se mense was buitengewoon geheg aan mekaar.
Ten spyte van die positiewe beeld wat al die deelnemers oor die verlede het, blyk dit uit hulle herinneringe dat daar ook konflik en swaarkry was. Enkele negatiewe opmerkings is ook opgeteken: dissipline deur 'n pak slae, nie jou eie keuses maak in terme van hoe jy jou tyd sou wou deurbring nie, en die feit dat die hele gemeenskap kinders gedissiplineer het wanneer hulle gedink het dit was nodig. Dit is nogtans interessant dat elkeen van die twaalf deelnemers die sosiale samehorigheid wat hulle in die verlede ondervind het, kontrasteer met die vervreemding en sosiale disintegrasie van die hede. Mevrou September het gereken hulle was te afgesonder, wat dit vir hulle moeilik gemaak het om in die buitewêreld aan te pas. Maar sy het nietemin waardeer wat hulle gehad het:
Om hier groot te word, was die beste wat 'n kind kon hê - vry, wonderlik.
BESPREKING EN GEVOLGTREKKINGS
Die idee van instaatstellende geleenthede ("capabilities"), soos ontwikkel deur Amartya Sen vir ekonomiese ontledings, leen hom ook tot kwalitatiewe analise. Die benadering vra die belangrike vrae oor watter soort geleenthede vir die deelnemers beskikbaar was, hoe dit instrumenteel gewerk het, hoeveel keuses mense gehad het, en hoe dit hulle lewens verander het. Hierdie ondersoek is uitgevoer binne 'n baie spesifieke konteks, wat beskryf is in terme van geo-politieke en ander faktore.
Die eerste tema wat die deelnemers in hierdie navorsing beklemtoon het, was dat hulle as jongmense baie sekuriteit ervaar het binne die hegte bande wat in Genadendal deur die kerk, die skool en die hele gemeenskap gevorm is. Die Morawiese Kerk het 'n besondere rol gespeel in Suid-Afrika, en het op hulle sendingstasies nie net die kerk uitgebrei nie, maar ook gepoog om vir mense 'n diep gefundeerde lewensfilosofie te gee van selfrespek en liefde vir ander. Die ryk kulturele insette wat die kerk gemaak het, is ook nog te sien in die dorpie Genadendal (Wessels 2016).
Byna alle families het ook 'n stukkie grond gehad waarop hulle kon groente en vrugte kweek, en die tuine het hulle ook bestand gemaak teen armoede en ontbering. Verder het hulle geleer om te werk en saam verantwoordelikheid te neem vir die hele gesin se welstand. Dit het vir hulle die instaatstellende geleenthede gegee om met selfrespek en positiewe waardes groot te word, om gedissiplineer te wees, om gesond te eet, om die natuur te leer ken, en om deel van 'n hegte gemeenskap te wees. Hulle het ook die geleentheid gehad om goeie onderwys te bekom, en sommige van hulle kon daarop bou en in die onderwys of ander professies werk. Die kerk het meegehelp om hulle lewenswaardes te vestig en om sosiale integrasie te skep. Daar was vanselfsprekend ook uitsonderings, en baie mense het ook mislukkings en teleurstellings beleef. Die deelnemers het egter saamgestem dat hulle sterker was as gevolg van die buitengewone samehorigheid in Genadendal.
'n Mens sou kon aanvoer dat die Genadendal-gemeenskap tot 1994 kunsmatig, in 'n amper 19de-eeuse, voormoderne omgewing geleef het, ofskoon dit net gedeeltelike isolasie was, want baie van die inwoners werk in ander dele van die land. Hierdie isolasie het egter beteken dat die sosiale struktuur in Genadendal diep samehorig gebly het, en dat die kerk 'n sterk invloed op geloofsisteme en op sosiale norme en gedrag gehad het. Die teorie van sosiale verandering wat deur Talcott Parsons (1951) geformuleer is, is soos vroeër bespreek, verwant aan samehorige gemeenskappe van dié aard waar sosiale orde behou word deur streng maatskaplike norme, en mense wat die norme oortree, tot skande gemaak word. Parsons het normatiewe orde gesien as die proses wat die samelewing organiseer. "This order is based on the fact that actors - consciously or perhaps more often preconsciously - orientate themselves around a common norm, towards shared rules of behaviour" (Joas & Knöbl 2010:36). Die deelnemers vertel dat hulle tydens die vroeë jare van hulle lewe en binne die spesifieke ruimte van Genadendal in daardie spesifieke periode, vasgehou het aan sulke gemeenskaplike norme.
Dit is egter belangrik om by te voeg dat die manier waarop die deelnemers hulle ervarings onthou, ook selektief is, en dat hierdie weergawe van hulle herinneringe moontlik deels gekondisioneerde selektiewe indrukke mag wees. Navorsers in eksperimentele sielkunde wys daarop dat sulke selektiewe indrukke die gevolg mag wees van menslike geheueprosesse wat konformeer aan sosiale verwagtings, en wat sodoende sosiale stereotipes perpetueer (Rothbart et al. 1979; Seitz et al. 2018). Dit is 'n waardevolle hermeneutiese korreksie vir die interpretasie van "geromantiseerde" en sosiaal ongedifferensieerde herinneringe.
Met die toevloei van nuwe inwoners teen die einde van die 20ste eeu, het die sterk gevestigde waardes van Genadendal egter nie meer as 'n verenigende meganisme gefunksioneer nie, en die sosiale struktuur het 'n dramatiese verandering ondergaan. Die nadelige lang-termynuitwerking van die vernietigende koloniale en apartheidsbeleid het die dorpie binne-gedring in die vorm van anti-sosiale gedrag, tot 'n baie groter mate as voorheen. 'n Nuwe era het aangebreek waar traumakamers en ander ondersteuningstelsels deur die ouer inwoners opgerig is in 'n poging om die nuwe probleme te hanteer. Ten spyte van nuwe werksgeleenthede en blootstelling, voel hierdie deelnemers die verlies aan van hulle samehorige en voorheen ondersteunende gemeenskap. Die konkrete gevolge wat hulle elke dag sien van 'n ander waardestelsel en 'n gebrek aan gemeenskapsbande laat hulle duideliker besef hoe die ou waardestelsel hulle beskerm en weerbaar gemaak het, terwyl die nuwe era hulle weerbaarheid afgetakel het.
Ons het ook gevra wat die wisselwerking was tussen hulle weerbaarheid en die manier waarop hulle op strukturele geleenthede kon reageer. Beide tydens en na apartheid was daar sterk persoonlike en sosiale omskakelingsfaktore wat hulle vermoëns om keuses uit te oefen en geleenthede te benut beperk het, alhoewel die aard van die omskakelingsfaktore in die twee periodes verskil het. Hierdie sterk sosiale omskakelingsfaktore, die aftakelende uitwerking van rassediskriminasie en die ontwrigting van bendegeweld wys terselfdertyd hoe sterk die uitwerking van gemeenskapsverhoudings, beide positief en negatief, op die inwoners van Genadendal was.
Die kombinasie van die Instaatstellende Geleenthede-benadering en weerbaarheidsteorie het ons in staat gestel om 'n stel bruikbare konsepte aan te wend vir hierdie kwalitatiewe analise. Ons stel voor dat hierdie gekombineerde teoretiese raamwerk 'n potensiële raamwerk sou kon vorm vir ander maatskaplike ontledings waar weerbaarheid, weerloosheid en die ontleding van geleenthede 'n rol speel. Veral in die Suid-Afrikaanse historiese en politieke konteks speel mense se weerbaarheid en vermoë om konstruktiewe keuses te maak 'n baie belangrike rol in ontwikkeling en transformasie, en kan hierdie stel gekombineerde teoretiese konsepte waarskynlik met vrug gebruik word. Die gebruik van die Instaatstellende Geleenthede-benadering stel beleidsmakers verder in staat om nie net om te sien na basiese lewenskwaliteit nie, maar ook om te vra watter addisionele geleenthede mense behoort te hê om keuses te kan maak oor die soort lewe waaraan hulle self waarde sou kon heg. Selfbeslissingsreg en groter persoonlike outonomie sal ook 'n betekenisvolle bydrae maak tot groter persoonlike en maatskaplike weerbaarheid in 'n konteks soos dié van postapartheid Suid-Afrika.
BIBLIOGRAFIE
Alkire, S. & Deneulin, S. 2009. The human development and capability approach. In: Deneulin, S. & Shahani, L. (eds). An introduction to the human development and capability approach: freedom and agency. London: Earthscan, pp. 22-48. [ Links ]
Alkire, S, & Deneulin, S. 1998. Individual motivation, its nature, determinants and consequences for within group behaviour. Discussion paper IRES, University of Leuven. [ Links ]
Bourdieu, P. 1977. Outline of a theory of practice. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Bronfenbrenner, U. 1989. Ecological systems theory. Annals of Child Development, (6):187-249. [ Links ]
Conradie, I. 2013. Can deliberate efforts to realise aspirations increase capabilities? A South African case study. Oxford Development Studies, 14(2):189-219. [ Links ]
Deneulin, S. 2011, The Capability Approach: A Note on Two Interpretations, Institute of Development Studies archive. https://www.ids.ac.uk%2Ffiles%2Fdmfile%2FTheCapabilityTraditionANoteonTwoInterpretationsSeverineDeneulin2.doc&usg=AOvVaw0GPQ7xtt0yYFdZzzAf4Ad3 (Toegang verkry op 2019.08.16). [ Links ]
Deneulin, S. 2008. Beyond individual freedom and agency: structures of living together in the capability approach. In: Comim, F., M. Qizilbash & S. Alkire. The capability approach. Concepts, measures and applications. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 105-121. [ Links ]
Deneulin, S. 2006. Development as Freedom and the Costa Rican Human Development Story. Oxford Development Studies, 53(3-4):493-510. [ Links ]
Deneulin, S. & De Herdt,T. 2007. Individual freedoms as relational experiences - Guest editors' introduction. Journal of Human Development and Capabilities, 8(2):179-184. [ Links ]
Deneulin, S. & McGregor, J.A. 2010. The capability approach and the politics of a social conception of wellbeing. European Journal of Social Theory, 13(4):501-519. [ Links ]
Frith, A. n d: http://census2011.adrianfrith.com/place/171004 [2019.03.05]. [ Links ]
Garmezy, N. 1971. Vulnerability research and the issue of primary prevention. American Journal of Orthopsychiatry, 41(11):101-116. [ Links ]
George, A. 2015. Explicating the Capability Approach through the voices of the poor: A case study of waste-picking women in Kerala. Journal of Human Development and Capabilities, 16 (1):33-46. [ Links ]
Giddens, A. 1984. The constitution of society. Cambridge: Polity Press. [ Links ]
Greytonaccommodation: http://www.greytonaccommodation.com/genadendal.htmlat [2019.02.03]. [ Links ]
Grotberg, E. 1995. A guide to promoting resilience in children: strengthening the human spirit. Bernard van Leer Foundation. [ Links ]
Joas, H. & Knöbl, W. 2010. Social Theory. Twenty introductory lectures. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Kabeer, N. 2019. Randomized control trials and qualitative evaluations of a multifaceted programme for women in extreme poverty: empirical findings and methodological reflections. Journal of Human Development and Capabilities, 20 (2):197-217. [ Links ]
Mampane, M.R. 2014. Factors contributing to the resilience of middle-adolescents in a South African township: Insights from a resilience questionnaire. South African Journal of Education, 34 (4):1 - 11, http://www.sajournalofeducation.co.za [2019.06.18] [ Links ]
Martins N. 2006. Capabilities as causal powers.Cambridge Journal of Education 30: 671-685. [ Links ]
Martins, N. 2007. Ethics, Ontology and Capabilities. Review of Political Economy, 19(1): 37-53. [ Links ]
Mosavel, M., Ahmed, R., Ports, K. & Simon, C. 2015. South African urban youth narratives: resilience within community. International Journal of Adolescence and Youth, 20 (2):245-255, http://dx.doi.org/10.1080/02673843.2013.785439 [Toegang op 2018.08.08] [ Links ]
Mwangi, C.N., Ireri, A.M. & Mwaniki, E.W. 2017. Correlates of Academic Resilience among SecondarySchool Students in Kiambu County, Kenya. Interdisciplinary Education and Psychology, 1(1):4. [ Links ]
Obrist, B., Pfeiffer, C. & Henley, R. 2010. Multi-layered social resilience: a new approach in mitigation research. Progress in Development Studies,1 (4): 283-293. [ Links ]
Ortner, S. 2006. Anthropology and social theory. Durham: Duke University Press. [ Links ]
Otto, H-U, 2019. Persoonlike mededeling. [ Links ]
Parsons, T. 1951 [1991]. The Social System. Routledge. [ Links ]
Robeyns, I. 2017. Wellbeing, Freedom and Social Justice. The Capability Approach Re-examined. Cambridge: Open Book. [ Links ]
Robeyns, I. 2006. The capability approach in practice. Journal ofpolitical philosophy, 17(3):351-376. [ Links ]
Robeyns, I. 2005. The capability approach: a theoretical survey. Journal of human development, 6(1): 93-114. [ Links ]
Rothbart, M, Evans, M, & Fulero, S. 1979. Recall for confirming events: Memory processes and the maintenance of social stereotypes. Journal of Experimental Psychology, 18(4):343-355. [ Links ]
Sahistory.org: http://www.sahistory.org.za/article/1800s [2019.06.06] [ Links ]
Santos, R. S. 2012. Why Resilience? A Review of Literature of Resilience and Implications for Further Educational Research. Qualifying Paper, Claremont, CA: Claremont Graduate University.https://go.sdsu.edu/education/doc/files/01370-ResiliencyLiteratureReview%28SDSU%29.pdf [Toegang op 2019.08.10]. [ Links ]
Seeberg, W. & Luo, S. 2018. Migrating to the city in North-West China: young rural women's empowerment. Journal of Human Development and Capabilities. 19(3):289-307. [ Links ]
Seitz, B. M, Polack, C.W, Cody, W., & Miller R. R. 2018. Adaptive memory: is there a reproduction-processing effect? Journal of Experimental Psychology: Learning, Memory and Cognition 44(8):1167-1179. [ Links ]
Sen, A. 1985a. Well-being, agency and freedom: the Dewey lectures 1984. The Journal of Philosophy, 82(4):169-221. [ Links ]
Sen, A. 1985b. Commodities and Capabilities. New Delhi: Oxford University Press. [ Links ]
Sen, A. 1992. Inequality reexamined. New York: Russel Sage Foundation & Oxford: Clarendon Press [ Links ]
Sen, A. 1999. Development as freedom, Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Sen, A. 2005. Human rights and capabilities, Journal of Human Development and Capabilities. 6(2):151-166. [ Links ]
Smith, M. & Seward, C. 2009. The Relational Ontology of Amartya Sen's Capability Approach: Incorporating Social and Individual Causes. Journal of Human Development and Capabilities, 10(2):213-235. [ Links ]
Statssa: www.statssa.gov.za/publications/P03014/P030142011.pdf [Toegang op 2019.04.16]. [ Links ]
Van Rensburg, A., Theron, L. & Rothmann, S. 2015. A review of quantitative studies of South African youth resilience: Some gaps. South African Journal ofScience. 111(7/8):1- 9, Ar t. #2014-0164, 9 pages.http://dx.doi.org/10.17159/sajs.2015/2014 [Toegang op 2019.07.08]. [ Links ]
Werner E. & Smith, R. 1992. Overcoming the odds: High-risk children from birth to adulthood. New York: Cornell University Press. [ Links ]
Wessels, C. 2016. Persoonlike onderhoud in Genadendal. [ Links ]
Zolkoski, S. & Bullock, L. 2012. Resilience in children and youth: a review. Children and Youth Services, 4:2295-2303. [ Links ]
Ontvang: 2019-08-28
Goedgekeur: 2020-01-29
Gepubliseer: Maart 2020
Ina Conradie is 'n emeritus senior lektrise aan die Instituut vir Sosiale Ontwikkeling, Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het 'n PhD in Ontwikkelingstudies, waarin sy die Instaatstellende Geleenthede-benadering ("Capability Approach") gebruik het om 'n kwalitatiewe analise van instaatstellende geleenthede in Khayelitsha te onderneem. Sy het hoofstukke in verskeie boeke gepubliseer, sowel as artikels in nasionale en internasionale tydskrifte. Sy is ook die mede-outeur van 'n boek wat deur die RGN gepubliseer is.
Ina Conradie is an emeritus senior lecturer at the Institute for Social Development at the University of the Western Cape. She has a PhD in Development Studies, using the Capability Approach for the qualitative analysis of capabilities in Khayelitsha. She has published several book chapters as well as papers in national and international journals. She is the co-author of a book published by the HSRC.
Anja Hüman-Hendricks is 'n opgeleide en geregistreerde maatskaplike werker. Sy het 'n meestersgraad in Kinder- en Gesinstudies in 2010 aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) behaal. Haar navorsingsbelangstelling en gemeen-skapsbetrokkenheid sentreer rondom die welstand van kinders en gesinne, die versterking van gesinne, kinderbeskerming, jeug en ouerskap. Tans is sy 'n PHD-student en doserende personeellid in die Departement Maatskaplke Werk, UWK.
Anja Hüman-Hendricks is a trained and registered social worker. She has a Masters in Child and Family Studies obtained in the year 2010, from the University of the Western Cape (UWC). Her research and community engagement interests are child and family well-being, strengthening families, child protection, youth and parenting. She is currently a PHD student and lecturing as a member of staff within the Department of Social Work, UWC.
Nicolette Roman het 'n PhD in Psigologie en is 'n NNS-gegradeerde Gevestigde Navorser in Suid-Afrika. Sy beklee tans die SARChl-Leer-stoel in Menslike Instaatstellende Geleenthede, Maatskaplike Samehorigheid en Kinder- en Gesinstudies, in die Fakulteit Gemeenskaps- en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Haar navorsing fokus op versterking van die gesin deur die ouer-kind-verhouding, begrip en ontwikkeling van menslike vermoëns en die oordrag van dergelike bekwaam-hede aan kinders in die gesin sowel as begrip van die rol van die gesin binne sosiale samehang. Haar navorsing is nasionaal en internasionaal gepubliseer en aangebied en sy het die kritieke massa van gesinsnavorsing in Suid-Afrika uit-gebrei. In 2015 het sy die Kanselierstoekenning vir Uitstaande Alumni in Gesondheidsweten-skappe asook die Dekaan se Meriete Navorsings-toekenning in die Fakulteit Gemeenskaps- en Gesondheidswetenskappe ontvang. In 2018 is sy ook die ontvanger van die Akademiese Pres-tasietoekenning as Gevestigde Navorser in die Fakulteit Gemeenskaps- en Gesondheids-wetenskappe.
Nicolette Roman has a PhD in Psychology and is rated as an Established Researcher nationally in South Africa. She currently holds the position of SARChI Chair in Human Capabilities, Social Cohesion and the Family in the Child and Family Studies Unit, in the Faculty of Community and Health Sciences, at the University of the Western Cape. Her research focuses on strengthening the family through the parent-child relationship, understanding and developing the human capabilities and the transference of the capabilities to children in the family as well as understanding the role of the family in social cohesion. She has published and presented her research both locally and internationally and has grown the critical mass in family science in South Africa. In 2015, she achieved the Chancellor's Outstanding Alumni Award in Health Sciences as well as the Dean's Research Excellence Merit Award in the Faculty of Community and Health Sciences. In 2018, she was awarded the Academic Achievers Award for an Established Researcher in the Faculty of Community and Health Sciences.
* Ina Conradie was verantwoordelik vir die skryf van alle afdelings, uitgesonderd die afdeling oor navorsingsmetodiek, wat deur Anja Human behartig is. As deel van haar doktorale studie is die navorsing onderneem en die onderhoude ook gevoer deur Anja Human; prof Roman was as promotor by die navorsing betrokke.
1 Santos (2012) makes the point that there is a plethora of research from different perspectives in Resilience Theory, and that it is impossible to link it to one group of scholars. In contrast, the CA has two founder members, Sen and Nussbaum, and they present subtle differences, so it is customary to state which perspective one uses - Sen for Quality of Life assessments, or Nussbaum for constitutional benchmarks.
2 Alhoewel die Engelse term "capabilities" internasionaal aanvaarbaar is en dikwels ook byvoorbeeld in Nederlandse en Duitse navorsingstudies onvertaald gebruik word, verkies ons om die term in Afrikaans te omskryf met terme soos "instaatstelling" en "verwesenlikheidsgeleenthede" na aanleiding van die Duitse terme "Handlungsbefähigung und Wirklichungschancen" wat deur prof Hans-Uwe Otto van Bielefeld Universiteit gebruik is (Otto 2019). Ons stel die oorhoofse term Instaatstellende Geleenthede voor.
3 Daar is egter ook navorsers wat hiervan verskil en wat interessante werk doen oor die kwantitatiewe meting van weerbaarheid (Van Rensburg, Theron & Rothman 2015; Mwangi, Ireri & Mwaniki 2017).
4 Sen sien geleenthede baie breed, en dit sluit ook alledaagse geleenthede in soos om gesond en gereeld te eet, om gesond te wees, om sinvolle verhoudings te ervaar, en so meer.
5 Die Khoisan-bevolking het nie immuniteit teen pokke gehad soos die Europese setlaars nie, en kontak met die setlaars het dwarsdeur die Kaapkolonie tot 'n epidemie van die siekte onder die Khoisan aanleiding gegee, wat tot die dood van 'n groot deel van die groep gelei het.
6 "Kleurling" is die term vir mense wat van gemengde afkoms is, en is die term waarmee die deelnemers na hulleself verwys.
7 Die mediaaninkomste van die Swart bevolkingsgroep in Suid-Afrika was selfs laer, nl. R2 167 per maand (www.statssa.gov.za/publications/P02112/P021122010.pdf. [2019.04.16].
8 Die konsep vir die herneutermesse van Genadendal is deur Morawiese sendelinge na die Kaap gebring, en in 1851 is een van die messe uitgestal in die Great Exhibition in London. https://www.facebook.com/GenadendalMissionMuseum/photos/genadendal-herrneuter-knivesmany-of-you-may-know-that-genadendal-started-the-fir/212074205517656/ [2019.10.10].