Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.60 n.2 Pretoria Jun. 2020
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2a7
RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
Die geregtigheidsideaal by NP van Wyk Louw
NP van Wyk Louw's ideal of justice
Derek Van Der Merwe
Emeritus Professor in Regsgeleerdheid, Universiteit van Johannesburg. Suid-Afrika. E-pos: dvandermerwe@uj.ac.za
OPSOMMING
NP van Wyk Louw se geregtigheidbeskouings vind ten diepste neerslag in sy drama, Die dieper reg, en in sy essay, "Die ewige trek", beide in 1938 geskryf. Mens moet verby die Afrikanernasionalistiese ondertone van sy beskouings kyk om steeds waarde vir die moderne staats- en regsdenke daaruit te put. Hierdie waarde lê opgesluit in sy verwoording van die Platoniese regsidee as die nastrewenswaardige, maar onbereikbare, sneeupunt van die denke. Daar word voorgestel dat die Groot Trek Van Wyk Louw se eie toets van volstrekte regvaardigheid faal, maar dat 'n beter uitdrukking van die regsidee geleë is in die soeke van die negentiende-eeuse Voortrekkernasate na die "koningstem" in hulle demokratiese bestel. Die Suid-Afrikaanse Grondwet, 1996, is tans daardie "koningstem", en trou aan die waardes en beginsels daarvan, baan dit die weg vir uitdrukking van Van Wyk Louw se regsidee.
Trefwoorde: geregtigheid; die reg; regsidee; Plato; koningstem; Groot Trek; Voortrekkers; (Afrikaner)nasionalisme; (Afrikaner)volk; dieper reg; wil-en-daad; dualisme; eksistensialisme; "loyalty to loyalty"; keuse; grondwet
ABSTRACT
The concept of justice in NP van Wyk Louw's work finds its most complete expression in the drama text Die dieper reg ("the deeper justice") and in an essay entitled "Die ewige trek", both written in 1938. The strongly nationalistic tones characterising these works (1938 was the centenary year of the Great Trek), the linguistic licence he allowed himself to express his particular concept of justice and an underlying dualism in his use of a combination of the above resulted in critics' apparent struggle to acknowledge an inherent worth in Louw's view of justice as a philosophical construct. This essay seeks to present an argument for an understanding of his concept of justice in these and other works as an expression of the Platonic idea of law ("Rechtsidee"). It is proposed that the question often posed and variously answered by the politically inept Voortrekkers and their nineteenth-century descendants, namely "Who has the king's voice?", as a fundamental question of democratic statehood is a good example of an - ultimately unattainable - search for an ideal of justice, of the idea of law, that would satisfy Van Wyk Louw's concept of justice within an emerging nationhood. That search, conducted in the context of an open discourse, was just such a "powerful metaphysical instrument of the spirit" that elevated the Voortrekkers and their nineteenth-century descendantsthrough trial and error to "a higher form of humanity". The current South African Constitution is the contemporary repository of the "king's voice" and loyalty to its values and principles is fundamental to a proper understanding and expression of Van Wyk Louw's idea of law.
Keywords: justice; law; idea of law; Plato; king's voice; Great Trek; Voortrekkers; (Afrikaner) nationalism; (Afrikaner) nationhood; profound law; will-and-deed; dualism; existentialism; loyalty to loyalty; choice; constitution
1. INLEIDING
NP van Wyk Louw het nooit in sy skryfwerk hom bewustelik met die juridiese van die samelewing, met die regstelsel waaraan 'n staat se inwoners onderwerp word, besig gehou nie. Hy het hom wel oor tipies juridiese begrippe uitgespreek, en sterk ook: "reg", "onreg" (individuele en nasionale), "regte", "geregtigheid", "billikheid", die "regsidee" (Louw 1986a:100-101 en 429-431). Hy het na die Romeinse reg en na Hugo de Groot (bekende beoefenaar van die Romeins-Hollandse reg) verwys as elemente van die "wetsbegrippe" wat 'n ingeweefde deel is van die Wes-Europese kultuurgoed. Dié kultuurgoed het hy as die "geestelike boloop" van die Afrikanerkultuur beskryf (Louw 1986a:447). Mens soek egter tevergeefs na 'n tematiese behandeling van die positiewe reg van 'n staat, van die regstelsel as dominante ordeningsmeganisme van 'n volk of 'n staat.
Mens kan oor die redes hiervoor spekuleer. Die positiewe reg (veral die positiewe reg van sy tydsgewrig) se aandrang is dat daar net één regte - of ten minste gesaghebbende - antwoord kan wees wanneer 'n regspreker moet kies tussen botsende aansprake of belange. Dalk was so 'n siening strydig met "die onsekere spel van die rede, van die opweeg van argument teen argument en die swewende balans wat vry van die keuse en die handeling en die bitterheid bly", wat volgens hom die speelveld van die intellektualis is (Louw 1986a:99). Dalk het die gesagsgebondenheid van die reg, die binding van die regsdenke aan bepaalde gesagsbronne (ter uitsluiting van ander), watter skatkis ook al daardie bronne is, gestuit teen sy aandrang op die "oop gesprek", daardie "menslikste van alle aktiwiteite" (Louw 1986a:179,415,427), waar stukkies van die waarheid blootgelê word sonder die praktyksgerigtheid, die dwingelandy, van die besluit, die regsoordeel (Burger 2006:ii-iii; Louw 1986a:438; Louw 1986b:3-5).
Dalk het die denkstyl van die regsgeleerde, een wat besondere waarde aan presedente, aan die uitsprake van vroeëre regters en die menings van vroeëre juriste heg, hom nie aangestaan nie. In sy briewereeks onder die opskrif Lewe uit 'n tradisie (Louw 1986a:432-441) vermaan hy juis teen 'n omgaan met tradisie wat in 'n simplistiese lewe "in" of "van" 'n tradisie ("soos 'n luiaard van sy kapitaaltjie", Louw 1986a:434) uitmond. Hy verdedig 'n standpunt wat voorkeur gee aan die lewe "uit" 'n tradisie, die "leef in 'n bestendige debat met die verlede" (Louw 1986a:437). Dit is sekerlik so dat heelwat regsgeleerdes in sy tydsgewrig hulle skuldig gemaak het aan die beoefening van 'n regswetenskap wat die antwoord op 'n regsvraag gesoek het in die rasegtheid van 'n reël, beginsel of leerstuk, een wat in hoofsaak uit 'n diepgaande studie van die erkende bronne van die Suid-Afrikaanse reg (en nie daarbúite nie) ontbloot word. Aan so 'n formuleagtige (positivistiese) regswetenskap, een wat beoefen word asof daar 'n "versekerde vooruitgang van feit tot feit deur eeu na eeu" is, sou tereg die etiket van 'n ondersoek "in" 'n tradisie gehang kon word (Louw 1986a:122). Maar die bestes onder die regters, regspraktisyns en regsakademici het hulle tog met ondersoeke "uit" 'n tradisie besig gehou. Hulle het 'n bestendige debat met die juridiese verlede gevoer, een wat "elke groot moment van die [juridiese] verlede kan oproep wanneer dit as gewone ervaring nodig word" (Louw 1986a:437).
Of dalk het hy gewoon soos sy medeletterkundige Eugéne Marais gevoel. Marais het lank as prokureur in die platteland praktiseer. Sy pa, soos Van Wyk Louw s'n, was ook 'n prokureur op die platteland (Steyn 1998:5, 8). In 1921, in 'n resensie van CJ Langenhoven (ook 'n prokureur) se werke, het Marais geskryf, "g'n man met 'n siel bokant die van 'n streepmuis kan hom by voortduring aan die soort werk gee nie" (Nienaber-Luitingh 1962:32). Hy het beslis so oor die politiek gevoel: "Glo my: om los vas te hou aan alle politieke oortuigings - dis een van die soorte spesery waardeur die demokrasie teen bederwe bewaar word" (Louw 1986b:486). Moontlik het hy die wetmakers en die wetsuitleggers oor dieselfde kam geskeer.
Hy het hom nou wel nie beredeneerd oor 'n regstelsel uitgelaat nie. Maar oor die groter filosofiese vraagstukke van die geregtigheid het hy sterk en gereeld standpunt ingeneem. Hy het "geregtigheid" as een van die groot (Platoniese) idees of intuïsies van die mensheid gekenteken ("naakte, inhoudlose ideale"), as een van die hoogste waardes, naas waarheid en skoonheid (Louw 1986a:169, 170, 171-172). Die geregtigheidskonsep omsoom 'n wye spektrum van die geesteslewe: filosofie, moraliteit, politiek, godsdiens, kuns en kultuur, die reg. Van Wyk Louw se omgaan met die geregtigheidsvraagstuk, met "reg" en "onreg", was ingebed in die diskoerse wat hy oor filosofiese, politieke, morele, godsdienstige en letterkundige vraagstukke gevoer het. Kommentaar oor sy beskouings is ook vanuit hierdie dissiplines gelewer. Net JC van der Walt, in 'n 1985-gedenklesing, het Van Wyk Louw se denke in die konteks van "regs-denke" ontleed (Van der Walt 2006:57-65).
In wat volg, ondersoek ek, soos Van der Walt 35 jaar gelede, Van Wyk Louw se beskouings oor "geregtigheid", oor "reg" en "onreg" en oor die "regsidee". So 'n ondersoek na sy "regsdenke" hou gevare in. Betekenistoedigting gaan noodwendig plaasvind. En dit vind plaas vanuit 'n denkwêreld waaroor Van Wyk Louw hom nie uitgelaat het nie en in 'n huidige sosiopolitieke milieu so wyd soos die Heer se genade van sy eie milieu verwyder. Meer nog, Van Wyk Louw se denkwêreld, die wêreld van fiksionaliteit, is ver verwyder van die juris se pogings om begripsnoukeurigheid op die verwikkelde werklikheid van menslike verhoudings en menslike denke en drifte toe te pas. Maar, nou ja, die gesprek is immers oop …
2. DIE DIEPER REG EN "DIE EWIGE TREK": KERNBRONNE VIR VAN WYK LOUW SE GEREGTIGHEIDSBESKOUING
Die verhoogstuk Die dieper reg, het in Julie 1938 in boekvorm verskyn (en is in September en weer in Desember van daardie jaar opgevoer) (Steyn 1998:246) en die essay "Die ewige trek" (Louw 1986a:94-102) in Oktober 1938. Hierdie twee werke, geskryf binne enkele maande van mekaar, bevat Van Wyk Louw se mees omvangryke beskouings oor "geregtigheid" en oor "reg" en "onreg". In "Kultuur en krisis" (Louw 1986a:450-466), geskryf in Julie 1952, maak hy sy bekende uitspraak dat 'n volk slegs "in geregtigheid" op bestaansreg kan aanspraak maak, weliswaar 'n politieke konstruk wat ook waarde vir die regsdenke inhou.
Die dieper reg
Dié verhoogstuk is geskryf vir 'n opvoering wat deel was van die Voortrekkereeufeesvierings wat met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument buite Pretoria op 16 Desember 1938 saamgeval het. Die stuk is reeds op 23 Julie 1938 gepubliseer (Steyn 1998:245-246).
Die tema van die stuk (Louw 1942:9-10) is dat "die Voortrekkers van hierdie land", soos alle afgestorwenes, ná hul dood in die Saal van Ewige Geregtigheid moet verskyn, sodat daar oor hulle dade geoordeel word. 'n Koor van Hemelse Figure wag hulle in en besing die heiligheid en onbegryplikheid van "die Reg" te midde van die swaarkry van die aardse bestaan. Die gestorwe trekkers het 'n Voorspraak, "een van die hoogste dienaars van die Geregtigheid". Teenoor hierdie figuur staan die Aanklaer, "geen duiwelse figuur … nie, maar 'n magtige en hooghartige Gees wat koninklik in sy eie reg staan".
Die trekkers lewer 'n pleidooi vir 'n geregtigheidsoordeel oor hulle dade, 'n oordeel "opdat die ewige reg geskied" (Louw 1942:17). Hulle pleidooi is dat die pyn en smart en lyding van die trek, "die hoogste offer wat die vryheid vra", nie verniet moes gewees het nie, maar dat dit 'n wilsdaad was "waarmee hulle die geloof aan hulle bloedsbesef se waarde betuig het" (Louw 1942:9, 21). Hierdie wilsdaad was die besef, in hulle byna redelose eenvoud, dat dit in hulle bloed was om die wil van God by wyse van 'n uitmergelende trek na 'n nuwe land, na vryheid, na nasiebou, suiwer uit te leef: "Hul kom van 'n volk wat …/ nog blindelings stry, half redeloos nog / groot dinge onwetend waag"; "Die stem van die vryheid was U stem / wat ons moes volg"; "Ú, Heer, was in ons bloed / en in ons wil / toe ons die vreemde land gedaag het"; "… in my [die Vrou] …/ bestaan 'n volk onsterflik / solank hy daardie bloed wil suiwer hou / bo wins en ydel woorde en medely" (Louw 1942:15, 29, 33). Hulle daadkrag en uithouvermoë is rede genoeg om hulle en hulle nasate toegang tot die ewige reg te gee: "[O]ns weet dat ons móéd voor U geregtigheid / sy waarde hou soos goud in vuur, / en dat ons daad in hierdie land moet bly, / 'n lig wat wink, 'n vlam wat skroei" (Louw 1942:33).
Belangrik is dat die Voortrekkers hulle nie op die reg oftewel die regmatigheid van hulle optrede beroep nie (Louw 1942:36):
Nie om die reg, maar om die wil
wat suiwer was, o Heer;
nie om die smart, maar om die daad
wat die staalwerk van ons mens-wees is,
moet U ons neem.
En (Louw 1942:38):
Voor U … vergaan
ons wete en ons wese soos
'n stem wat uitroep in die lug,
en al ons reg ly skipbreuk, sink
in U, verborge, bodemloos.
Kern tot hulle betoog is hulle "wil wat suiwer was" en hulle dade wat staalkrag aan hulle menswees verleen het. Teen hulle kan mens nie die verwyt slinger dat hulle die "dieper smaad van dadeloosheid" dra nie (Louw 1942:14).
Die Aanklaer se deurlopende verwyt teen die trekkers is dat hulle daad en hulle wil alléén, die goddelike oordeelstoets nie slaag nie. Hulle optrede maak van hulle blote opstandige, dwase wetsverbrekers, hulle dade was nietig en nederig. Die daadkrag waarop hulle roem is bloot die dierlike impulse van oorlewing, die pyn en drif wat ver benede die goddelike heerlikheid is (Louw 1942:24 en ook 22, 31). Volgens Olivier (1992:32) is die Aanklaer se (teenstrydige) verwyte teen die Voortrekkers 'n samevoeging van nihilistiese beskouings oor die tevergeefsheid van die menslike bestaan, sy die bestaan sinlik of moreel beoordeel word.
Die Stem van Geregtigheid spreek die oordeel uit dat "die kragtige en eenvoudige daad van die Trekkers regvaardig is, en dat hulle in die land wat hulle verower het, sal bly bestaan" (Louw 1942:10). Hulle het meer bereik as wat hulle weet (Louw 1942:37-38):
[Hulle het] hoër Reg voor God behou
met een sterk, harde daad
as alle wysheid wat die woord
in sy blink nette vas kan vang
ná baie soek na Goed en Kwaad.
Hulle "reg en daad" voldoen aan die goddelike oordeel
omdat dit krag en eenvoud was,
omdat Hy self eenvoudig is:
één suiwer Wil, één ewige Daad
en bokant alle wisseling vas.
(Louw 1942:39)
Die geregtigheidskepping van die Voortrekkers, die "volstrekte regvaardigheid" wat aan hulle nasate bestaansreg as volk gee ("ingetrek en ingekweek") is die krag, eenvoud, suiwerheid, reinheid en ewigheid van Wil en Daad (Louw 1942:39). Dít gee sin aan hulle optrede. Hulle doenighede, "blind-tastend deur gevare voor, onwetend wat hul sou begin" (Louw 1942:10), is méér as die bloot sinlike, méér as alle wisseling van die menslike strewe. Soos wat die poësie en die kunste die "lewensvorm" is waarsonder 'n volk bloot "versamelings menslike materiaal [is] wat sinloos aankom en doodgaan" (Louw 1942:18), so ook is die Trekkerwil en -daad kragtig, eenvoudig, suiwer, rein en ewig. Dis 'n lewensvorm wat nog méér is selfs as die soektog na Goed en Kwaad wat die wysheid onderlê, dis die bron van bewuswording, van singewing vir die Afrikanervolk: "Die oomblik waarin 'n volk bewus word, is dié waarin hy aan sy verlede sin toeken" (Louw 1986a:17).
Méér, maar nie bokant nie. Die "geregtigheid", die volstrekte regvaardigheid, is nie "oneindig hoog bo die mens en sy drifte" nie; dit word "uit drif en daad en die wil wat rein streef, geskep" (Louw 1942:10).
Wat is die "geregtigheid" dan? Met die gedagte-rykheid wat die poësie hom veroorloof, gebruik Van Wyk Louw in Die dieper reg meerdere begrippe om "geregtigheid" te beskryf: "Geregtigheid", "reg", "regvaardig(heid)", "ewige reg", "Ewige Reg", "Ewige Gereg", "die reg" (in teenstelling met 'n volk se reg), "wet", "'n nuwe wet", "die hoë Reg", "die Reg", "U reg", "heilige Geregtigheid", "al ons reg", "julle reg". Die begrip "dieper reg" kom slegs in die titel voor.
Aan "geregtigheid" dig hy ook eienskappe toe. Dit meet "alle dade na hul maat van smart en mens-wees", dit "wreek sy eer" (Louw 1942: 9), dit word nie deur klagtes van stryd of smart gestuit nie, dit waai nie blindelings met die wil en wense van sterflikes nie, dis ewig, flikkerloos, vas, dieper as die wete, meer verborge as die daad, 'n vlam wat roerloos bo die lamp uit God brand. Ook menslike eienskappe word daaraan toegedig: Dit wag lank, maar waak altyd, 'n opponent wat mens kan slinger na die vergetelheid, wat mense langs vreemde paaie lei, wat donker draaie loop, ruiltransaksies oorweeg, van wie geëis kan word en wat vasgegryp kan word (Louw 1942:14, 19, 22, 24, 27, 28, 29, 30, 33, 36, 37).
"Geregtigheid" is nie gelyk aan God nie. Geregtigheid ("die Reg") is "aan die poorte van Sy huis gegrif", God is die gewer van geregtigheid, geregtigheid brand uit God se wese soos 'n vlam. Die Stem van Geregtigheid bevestig dat die Voortrekkers se dade regverdig "voor God" is, dat die dade "voor God kan staan" (Louw 1942:24, 27, 30, 37, 39).
Dis moeilik om in Die dieper reg 'n greep op Van Wyk Louw se geregtigheidsbegrip te kry, die ryk geskakeerdheid van sy omgaan daarmee ten spyt (of dalk juis as gevolg daarvan). Mens sukkel om juridiese noukeurigheid te ontdek in 'n begrip wat dán bloot "wet" is, dán bloot "Reg" of "reg" ("U/julle/al ons" reg), dán "ewige reg/Ewige Reg/Ewige Gereg", dán "heilige geregtigheid", dán "hoë Reg". Verder, die reg is "diep" en "hoog" (bokant, maar ook nie) en "heilig", maar ook "ons/julle" reg, verhewe met 'n hoofletter maar ook alledaags met 'n kleinletter. Dis 'n geregsoordeel (die Ewige Gereg), 'n Stem, 'n gedragsbeskrywing ("regverdig/regvaardig"). Dis 'n godsbegrip, dis van God, maar ís nie God nie. Wat is dit dan?
Meer nog, sommige kritici (Coetser 1994:45-48 gee 'n goeie oorsig) lê dit hom ten laste dat sy geregtigheidsbeskouing inherent gebrekkig is, omdat dit inherent dualisties is. Die verhoogstuk is geskryf ter viering van die Voortrekkers se emigrasie uit die Kaapkolonie 'n eeu vantevore en ter ondersteuning van 'n Afrikanernasionalisme wat die eeusfeesvierings ontlok het. Dis eng op die Groot Trek gefokus (noodwendig so, gegewe die opdrag - 'n halfuurstuk as deel van 'n volksfees) (Steyn 1998:245) en dié se nagevolge, nie as historiese gebeure nie, maar as 'n "mistieke ideëdrama oor die strewe van 'n volk" (Opperman 1953:207). Juis hierdie fokus kniehalter hom in sy selfopgelegde taak. Hy skryf oor die idee van geregtigheid, oor die dieper reg, maar hy plaas dit binne 'n konteks van 'n regverdiging, 'n verdediging van die Voortrekkernalatenskap - die Afrikanervolk. Dit werk nie, sê Opperman (1953:209-211). In die daad alleen (hoe suiwer, rein, kragtig, eenvoudig en ewig ook al), lui Van Wyk Louw se betoog, is die regverdiging, die regsgeldigheid, geleë. Maar dis 'n eksistensialistiese opvatting, een wat wil en daad tot maatstaf verhef, en sodoende 'n bestaanskwessie eties afmaak. Van Wyk Louw wil die Voortrekkers se Wil en Daad én as eie regverdiging, as eie maatstaf, sien, én regverdig deur 'n goddelike oordeel daaroor te vel. As die daad self (blind tastend en onwetend) 'n eie inherente "volstrekte regvaardigheid" het, hoekom behoef dit nog 'n geregtigheidsoordeel van God? God is Daad en God is Oordeel: kan dit wees?
Coetser (1994:41-42, 46) poog om 'n versoening te bewerkstellig. Hy stel 'n onderskeid voor tussen die trekkers se "wil" om te trek, wat God se Wil was wat "in" hulle was (in hulle bloed aanwesig); en die trekdaad self, waarin God nie teenwoordig was nie. Maar so 'n strakke onderskeid tussen die Wil (wat ooreenstem met God se wil en genade) en die Daad (waarvoor die trekkers op sterkte van hulle vrye wilsbeskikking self verantwoordelik is en voor God verantwoording moet doen) kom nie in Die dieper reg voor nie, ook nie in die aangehaalde tekste nie.
Olivier (1992:31-35) se kritiek sluit by Opperman s'n aan. Die Voortrekkers se vryspraak is geleë in God se aanwesigheid in die (suiwer, rein, kragtige, eenvoudige, ewige) Daad - hulle Daad se essensie (die bloedsbesef daarvan) ís God. Geen moreel-etiese oordeel deur 'n Christen-God is nodig en word ook nie gevel nie (Olivier 1992:33). Hy poneer 'n lees van die verhoogstuk wat geen dualisme bevat nie (Olivier 1992:34-35). Die geregtigheidsoordeel is eksistensialisties gefundeer (God is Daad), nie (primêr) moreel-eties nie. Die "geregtigheid" van die Voortrekkers se Wil-en-Daad, sou mens dan kon sê, is in die eenselwigheid van hulle drif en daad met die goddelik-reine van Nasieskepping geleë, verguld in die vlam wat uit die Godheid brand. Die "intellektuele sentrum" van die verhoogstuk, het Van Wyk Louw in aantekeninge tot die stuk geskryf, is "[d]ie probleem van 'n klein volk se reg om kragdadig op te tree en sy wil deur te set, selfs voor hy nog 'n ryk kultuur het wat dit kwansuis sou kon regverdig" (soos aangehaal deur Olivier 1992:35).
Om die geldigheid van hierdie ontleding van 'n "nasionalistiese" geregtigheidsbeskouing, eksistensialisties eerder as teologies gefundeerd, te beoordeel, is dit nodig om sy geregtigheidsbeskouings in "Die ewige trek", 'n essay geskryf in Oktober 1938, enkele maande na die verhoogstuk gepubliseer is, te beskou.
"Die ewige trek"
"Die ewige trek" (Louw 1986a:94-102) besin oor die aard van volkwees, oor die ontstaan, die bestaan en die voortbestaan van 'n volk - die Afrikanervolk. 'n Volk is ewig aan't trek, op spore wat deur vroeëre geslagte gelê is. Die Groot Trek was die eerste van drie groot gebeurtenisse ("keerpunte") (Louw 1986a:96) wat tot die wording van die Afrikanervolk gelei het (die ander synde die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 en die erkenning van Afrikaans as amptelike taal in 1925). Dis die drie groeibewegings van die volk, wat mens laat insien dat 'n volk ewig aan die trek bly.
'n Volk se bestaan is afhanklik, nie van mense en groepe en partye nie, maar van 'n beweging wat uit die alledaagse stoot en druk en trek van mense ontstaan en "gaan ver bokant hulle voort", onbewus van volkswording soos 'n slaapwandelaar onbewus is (Louw 1986a: 95-96). Elders beskryf hy 'n volk - wat nie een wese is nie, wat nie uit een siel leef nie - se "besluit" in 'n krisistyd as "die swaar, dom, lomp besluiterighede van tallose halfbewuste individue" (Louw 1986a: 455).
Met elke groot keerpunt was daar twee ewe redelike teenstellende standpunte om te kies, 'n "volkome ewewig van die argumente" vir en teen, met as afloop die waagspel van die keuse (Louw 1986a: 95, 99). Behou Nederlands as ampstaal of kies die jong taaltjie, Afrikaans. Sluit 'n eerbare vrede met die Britse oormag, of veg tot die bitter einde. Bly in die Kolonie en stry vir beter lewensomstandighede, of trek onoordeelkundig die onbekende, gevaarlike binneland in. Telkemale is 'n geloofsdaad gepleeg, 'n kragtige wil het bo die redelike insig geseëvier (Louw 1986a:96-99). Wat betref die grootste van die drie keerpunte, die Groot Trek, het die mense "nog net half bewus en half redelik gehandel asof die geskiedenis wat moes kom, reeds in hulle geskemer het" (Louw 1986a:99).
Hierdie waagspel van die keuse vind dikwels sonder rede plaas, vind plaas sonder die luuksheid van "die opweeg van argument teen argument en die swewende balans wat vry van die keuse en die handeling en die bitterheid bly". Die enkeling móét kies - "die keuse en die daad is … onvermydelik", hoewel "die volk in sy geheel" albei kan doen. Die mens, en die volk, moet tot die daad kom (Louw 1986a:99-100).
Is die waagspel van die keuse dan volkome lukraak? Daar is tog oorwegings van "die reg en die billikheid, die beginsel" wat die besluit beïnvloed. Hierop is Van Wyk Louw se insiggewende antwoord: Ook "die reg" is in krisistye "net so fyn gebalanseerd as die praktiese argumente". Hoekom? In die sake van individu en volk is daar "'n ewige en onveranderlike regsidee", wat "aan alle regte handelinge uiteindelik hul waarde gee". Dis die "volstrekte Reg" waarna denkers deur die eeue "opgesien het soos na 'n koue, onbereikbare sneeupunt van die denke". Dis 'n "inhoudlose begrip … wat ons nooit bereik nie". Die "reg" wat onder mense geld is verwikkeld en verward, 'n versameling van "tallose konkrete 'regte'" wat bots en dus opweging verg. 'n Blote beroep op die reg los geen krisis op nie: Die keuse van 'n "regsbeginsel" is, polities gesproke, eerder 'n "rasionalisasie" van 'n voorafkeuse, 'n reddingsboei teen die besef dat daar nie vlugkans is in 'n wêreld van magsbewegings nie (Louw 1986a: 100-101).
Reg en onreg in 'n volk se bestaan is dus nie eenvoudig nie. By groot keerpunte vertoon die reg ook, soos die praktiese oorwegings, 'n fyn ewewig. Ook hier "sal die skeppende wil en die daad ingryp", die een reg sal werklikheid word, die ander sal 'n bloot "koue en abstrakte bestaan voer" (Louw 1986a: 101). Dis wil en daad wat mense se keuses dryf, wat aan 'n volk bestaansreg gee; 'n volk word gevorm "deur die magtige spel en stryd van die wil van tallose enkelinge". Dáárin is die regsidee opgesluit "wat aan alle regte handelinge uiteindelik hul waarde gee" (Louw 1986a:102). Teenoor Olivier (1992:24-31) se kentekening van die "regsidee" as instinkgedrewe, irrasioneel, sou dit beter as arasioneel, intuïtief beskryf kon word.
"Die ewige trek" stel mens in staat om aan die geregtigheidskonsep in Die dieper reg 'n nadere beskrywing te gee. Dis nie 'n reg van goed en kwaad nie, van reg en verkeerd, van reg en onreg nie. By só 'n reg is daar 'n ewewig van die argumente, wat tot keuse, tot die opweeg van botsende regte, dwing. Die keuse en die daad is onvermydelik: individue kies één, 'n volk kan méér as een kies. Die waagspel van die keuse, die daadkrag van die besluit, die ingreep van die skeppende wil en die daad, die magtige spel en stryd van die wil van tallose enkelinge, dit is opgesluit in die regsidee. Die "regsidee" is die volstrekte Reg, 'n inhoudlose, onbereikbare sneeupunt van die denke. Dis die "regsidee" wat aan alle handelinge uiteindelik hulle waarde gee. Nie die menslike oordeel, die menslike rasionalisasie, die redelike insig nie. Nee, dis die gewaagde wilsdaad (tydens die Afrikaner-volkskeerpunte), die daadkrag (om besluite enduit deur te voer), die beweging (die ewige trek van die volk) wat ver bokant menslike dadigheid voortgaan, die halfbewuste, halfredelike handeling (van die Voortrekkers) asof die geskiedenis in die handeling skemer, die "drif en daad en die wil wat rein streef", "één suiwer Wil, één ewige Daad, en bokant alle wisseling vas" (Louw 1942:10, 39).
Hierdie interpretasie is anders dus as dié van Van der Walt (2006:57-58). Hy koppel Van Wyk Louw se geregtigheidsbeskouing aan die natuurregsorde wat regsgeleerdes oor millennia heen steeds bly postuleer, een wat "aan die ideale of eise van regverdigheid of geregtigheid voldoen", wat "'n toetssteen vir die geldigheid van die positiewe reg [is]" of wat "dien as ideaalmodel vir die inhoud van die positiewe reg". Van Wyk Louw se dieper reg, sy "regsidee", staan bókant die rasionele strewe na die moreel/etiese goeie of die regverdige handeling, dis 'n reg "hoër" as die "baie soek na Goed en Kwaad" (Louw 1942:37-38).
Die Geregtigheid, dus, is die regsidee. Herkenbaar, soos die skadu's teen Plato se grotmuur, in die krag, die eenvoud, die reinheid, die suiwerheid van die Wil en die Daad, 'n weerspieëling van die koue, onbereikbare sneeupunt van die denke "wat oor alle dale en klowe glans". Herkenbaar slegs terugskouend, eers by nabaat word aan alle "regte handelinge" hulle waarde gegee, wanneer, byvoorbeeld, in die Voortrekkers se handelinge, die skemering van die geskiedenis wat moes kom (Louw 1986a:99), 'n eeu later herkenbaar word.
3. DIE REGSIDEE
Slegs die historiese, die nabetragting, stel mens in staat om die werking van die "regsidee", van "geregtigheid", te eien. Vir die huidige is alles blote strewe, die strewe na die goeie, die billike, die naasteliefde, om eerbaar te lewe en om aan elkeen te gee wat hom toekom. Dis 'n strewe eindeloos oorgelewer aan die verwikkeldheid en verwardheid van die menslike toestand. Die Voortrekkerdaad en die Voortrekkerwil was die grootste van die "keerpunte" wat tot die Afrikanervolk gelei het. Die Trekker-Wil-en-Daad, so bekyk Van Wyk Louw die gebeure 'n eeu later, was suiwer en rein afgestem op nasiebou - en nie byvoorbeeld op geldsug of magsug of blote losbandige voortbestaan nie. En daardie suiwerheid van wil en van daad was 'n skaduwing van die suiwer, glansende sneeupunt van die "Regsidee".
Of mens ná byna nóg 'n eeu van nabetragting en die dieper insigte wat tyd en argivale bronontginning meebring, dieselfde oordeel oor die Voortrekkers kan vel, is debatteerbaar. Dis sterk te bevraagteken of die meerderheid van die Voortrekkers (en nie min van hulle leiers nie) en hulle onmiddellike nasate - van wie die meeste hulle in die oor-Vaalse gebied gevestig het - in hulle verhoudings met swart stamme, met die Britse owerhede en selfs onder mekaar, Van Wyk Louw se toets van 'n volk se voortbestaan in geregtigheid geslaag het (Louw 1986a: 457, 460, 462). En, wat betref die Afrikaner van Van Wyk Louw se tyd, dien die "konstitusionele krisis" van die vroeë vyftigerjare, toe 'n parlementêre geknoei "die Kleurlinge" hulle grondwetlik gewaarborgde stemreg ontneem het (Verloren van Themaat & Wiechers 1967:484-525), nie ook as 'n keerpunt - weliswaar 'n verkreupelende keerpunt - nie, as 'n onterende voorbeeld van 'n volk wat Van Wyk Louw se eietydse toets van voortbestaan in geregtigheid gefaal het? Dis ironies dat Van Wyk Louw se aandrang dat 'n volk se voortbestaan "in geregtigheid" moet plaasvind, juis in 'n reeks briewe aan 'n jong vriend verskyn, waarin hy homself verdedig teen die aanklag dat hy en ander kunstenaars nie "genoeg doen" tydens die konstitusionele krisis nie (Louw 1986a:451).
Hoe dit ook al sy, Olivier (1992:33-34, 35) het reg wanneer hy die suiwerheidsbegrip bevraagteken. Hoe, vra hy, kan mens onderskei tussen 'n "blote daad", wat die geregtigheidstoets faal, en die "suiwer daad", wat die toets slaag? Mens se historiese blik op bepaalde gebeure word nie deur bloot menslike redelikheid en moraliteit gerig nie, maar berus op die legitimering van 'n vooropgestelde versuiwering van 'n bepaalde stel historiese gebeure.
Van Wyk Louw se geregtigheidsbeskouing, sy begrip van die "regsidee", is ongetwyfeld aan Plato se bekende "Ideëryk", soos beskryf in die dialoog Phaedo, ontleen (Kraut 619-622). Van Wyk Louw gebruik dikwels in sy essays Platoniese beeldspraak: Hy verwys, byvoorbeeld, na Plato se grotbewoner in "Kultuurleiers sonder kultuur" (Louw 1986a:78); na die alledaagse wat "in die vorm van die skoonheid ingaan" en dan vry bokant die lewe en die tyd staan; na kunsskryfwerk "wat die vorm van die skoonheid aanneem" en weer eens na die beeld van die grotbewoner in "Die onsterflikheid van die kuns" (Louw 1986a:110, 112); en na die "groot Ideë van die mensheid - waarheid, skoonheid, geregtigheid" en "die groot intuïsies van die mensheid - die Ideë van vryheid, van sosiale geregtigheid, van die organiese volkstaat" in "'n Lewenshouding vir 'n moderne mens" (Louw 1986a:169, 170).
Volgens Plato bestaan daar abstraksies (wat elkeen 'n "eidos" of "idea" het) buite-om die denke. Hierdie abstraksies is vorms of idees, ewig, onveranderlik, ontasbaar. Hulle is kenbaar deur die denke, maar nie ván die denke nie. Die alledaagse van die sintuie is bloot onvolkome voorstellings van die ideële vorms van 'n bonatuurlike, boredelike ryk, soos die skaduwees teen 'n grotmuur voorstellings is van die werklikheid daarbuite. In hierdie "ryk" alleen is die werklikheid; die alledaagse is illusie, strewe, moontlikheid. Alles van die alledaagse (dinge, denke, dade, verhoudings, emosies) is blote voorstellings van dié se ideële vorms (Skoonheid, Liefde, Geregtigheid, Dapperheid, Goedheid). Hoe suiwerder die denke oor mooi dinge, dapper dade, regverdige optrede, liefdesverhoudings, hoe nader beweeg blote voorstelling aan die volkomenheid van die Vorm. Die Regsidee, dus, is die boredelike (arasionele), bo-natuurlike werklikheid waarna die geregtigheidsvoorstellings van die mens (polities, moreel, juridies, teologies) strewe - hoe suiwerder, hoe doelgerigter die strewe, hoe groter die deelname aan die ewig-onveranderlike Platoniese werklikheid. So 'n strewe, "hoe onbereikbaar of onredelik, is … 'n magtige metafisiese werktuig van die gees om [die mens] telkens bokant homself tot 'n hoër vorm van die menslikheid te laat steier" (Louw 1986a:110).
4. WIE HEEFT DE KONINGSTEM? NEGENTIENDE-EEUSE STAATS- EN REGSDENKE
Van Wyk Louw se uitbeelding van die "één suiwer Wil, één ewige Daad" van die Groot Trek slaag nie volkome as voorstelling van die Idee van Geregtigheid nie. Maar is daar ander doenighede van die Voortrekkers wat aan Van Wyk Louw se Platoniese "nasionalistiese" geregtigheidsbeskouing (sy dieper reg) sou kon voldoen? Ter oorweging word gegee dat die eerste trekkersetlaars van die oor-Vaalse gebied se wroeging oor die koningstem hulle eiesoortige voorstelling is van die "regsidee", hulle "magtige metafisiese werktuig van die gees", wat hulle, kompromiegedrewe, vasgepen het in kernklousules van die 1858-Grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Van der Merwe 2017: hoofstukke 3 en 4).
Die Voortrekkers was vroeg reeds begaan oor geregtigheid binne hulle ontluikende "maatschappij". In Desember 1836 by Thaba 'Nchu is "door eene algemene volkstem" 'n sewetal trekkerleiers aangewys om "niet dan de zuiverste rechtvaardigheid te plegen" (Pretorius & Kruger 1937:13-14). 'n Gees van demokratiese volkstemgedrewe verkiesing en besluitneming het deur die vroeë wetgewende arbeid van die trekkers geadem. In Oktober 1845, het 'n beduidende groep setlaars 'n pleidooi aan die Ohrigstadse volksraad gerig dat "order [en] regtvaardigheid" gehandhaaf moet word en dat 'n "regt vaardige bewerken" met die omliggende swart stamme ten opsigte van grondbesit en vreedsame saamleef, moet plaasvind (Breytenbach & Pretorius 1949:162, 164). Dit het nie gebeur nie.
Gou het afgeleë en onveilige omstandighede, verdeelde lojaliteite en leiersgebreke hulle egter genoop om hulle goudstandaard, die volkstem, bron van hulle geregtigheidsbeskouing, te ontleed. Aan wie ken die volkstem die hoogste gesag toe? Aan 'n verkose volksraad (wat, prakties gesproke, gesag swak gehandhaaf het), of aan 'n leier (soos 'n Andries Pretorius of 'n Hendrik Potgieter) om kragdadig (as "eenhoofdig bestierder") in die standhoudende krisisse van hulle bestaan leiding te gee, of behou die (meerderheid van die) volk steeds inherent die gesag, ongeag ander gesaghebbers? "Wie heeft de koningstem?" het die vraag gelui.
In September 1854 het vyf veldkornette van die Lydenburg-distrik die volksraad genader. Die volksraad het besluit om 'n destyds geldende grondwetsbepaling te wysig, kort na aanvanklike goedkeuring daarvan, op sterkte van druk van 'n meerderheid van die burgers. Het die publiek werklik die koningstem, het hulle in hulle petisie gevra, as die meerderheid 'n patent onregverdige wysiging aanbring, op aandrang van 'n meerderheid van die burgers? Meerderheidsdruk kan tog nie die wettige gesag vervang nie. Ons eis, so het hulle betoog, bloot dat "de regt en de wet" moet geld, nooit die meerderheidswil nie (Van der Merwe 2017:67-68). Die Vrystaatse volksraad is in dieselfde maand, na aanleiding van pogings onder die publiek om die twee Boererepublieke te verenig, en teenstand van die Vrystaatse volksraad, gevra, "Het die publiek die koningstem, ja of nee?" Die antwoord: die publiek is koning, maar die volksraad verteenwoordig die koningstem (Van der Merwe 2017:68). Op die vooraand van die uiteindelike aanvaarding van die 1858-Grondwet van die ZAR, na jare van stryd en onmin, het 'n afvaardiging van Lydenburg van staatspresident MW Pretorius 'n versekering gevra, en ook gekry. Dit was naamlik dat nie die meerderheidstem nie maar "wet en regt in vervolg alleen regeeren zoude". Dáárin alleen is die koningstem opgesluit (Van der Merwe 2017:92).
Hierdie stryd om inhoudgewing aan die koningstem is in meerdere klousules van die 1858-Grondwet finaal verwoord (Jeppe & Kotzé 1887:36, 39). William Robinson, Voorsitter van die Grondwetkommissie, het gesê dat in hierdie en ander artikels "word duidelijk vastgesteld de Koningstem van het volk" (Van der Merwe 2017:96). Die absolute gesag - die koningstem - berus by die volk; aan 'n gereeld verkose volksraad (nie aan die staatspresident nie, nie aan 'n krygsraad nie, nie aan 'n populistiese meerderheidswil nie) word die "hoogste gesag" verleen; aan die volk word geleentheid verleen om die lashebbers se wetgewende dade te beoordeel; die volkswil, nie die wil van die "Queen/King-in-Parliament" nie, seëvier.
Dis die uitdrukking van die demokratiese gees wat in die eerste Voortrekkers by Thaba 'Nchu werksaam was, gevorm uit die drif en die daad van onbeholpe, soms chaotiese Voortrekkerpolitiek, die strewe oor 20 jaar heen om 'n staatsvorm te skep. En dit het hulle reggekry, "the pure and original product of African conditions" (Bryce 1901:431), wat maar min gesteun het op die ervarings en insigte van ander lande en hulle regeringsmodelle. Die koningstem was hulle voorstelling van 'n "regsidee", van 'n geregtigheidsbeskouing, hulle "magtige metafisiese werktuig van die gees", wat hulle "telkens bokant [hulleself] tot 'n hoër vorm van die menslikheid … laat steier [het]" (Louw 1986a:110). "[D]eur die magtige spel en stryd van die wil van tallose enkelinge" (Louw 1986a:102) tydens grondwetvorming is in die koningstem die voorstelling van die "regsidee" opgesluit, "wat aan alle regte handelinge uiteindelik hul waarde gee" (Louw 1986a:100).
Die sin- en inhoudgewing van die uitoefening van die koningstem in die Voortrekkerstaats- en regsdenke soos vervat in die 1858-Grondwet van die ZAR- eerder as in die blote Groot Trek self - voldoen aan die oordeel van die Stem van Geregtigheid dat hulle "reg en daad voor God kan staan omdat dit krag en eenvoud was" (Louw 1942:39). Die verwoording van so 'n geregtigheidsideaal - die voorstelling van die regsidee - is Van Wyk Louw se "volstrekte regvaardigheid" (Louw 1942:10) van 'n demokratiese staats- en regsvorm wat ín die volk gesetel was, vír die volk geskep is en déúr die volk bedryf is.
Enkele besware sou teen hierdie stelling ingebring kon word.
Eerstens, dit het later geblyk nie so rigtinggewend te wees as wat die grondwetskrywers dit in 1858 bedoel het nie. President Paul Kruger en hoofregter John Kotzé was in die laaste dekade van die negentiende eeu hieroor haaks. Beide het die "koningskap" van die volkstem erken. Kruger het die oordrag deur die volk van die hoogste gesag aan die volksraad in die Grondwet sonder meer as bevestiging beskou dat die volksraad die onbetwiste finale gesagsbron in die ZAR was. Kotzé, weer, het die bepaling in artikel 12 dat die volk 'n driemaande-oordeelstyd oor alle wetgewing moet kry, as bevestiging beskou dat die volk 'n gesag het bókant dié van die hoogste gesag van die volksraad. Indien wetgewing nie aan hierdie oordeelstyd onderwerp is nie (wat dikwels gebeur het), dan het die hooggeregshof die reg gehad om namens die volk die grondwetlike regsgeldigheid van die volksraad se wetgewing te toets en, indien nodig, te verwerp. In die bekende saak van Brown v Leyds NO (1897 4 OR 17) het hoofregter Kotzé bevind dat 'n bepaalde wet van die volksraad die grondwetlike geldigheidstoets nie geslaag het nie en die wet as ongeldig verklaar. Die gevolge was katastrofaal vir die Republiek. Kruger het Kotzé in 1898, weens sy aandrang om die hoogste gesag van die volksraad grondwetlik uit te daag, afgedank. Hierdie afdanking het vir Britse imperialiste as bewys gedien van Kruger se staatkundige onbeholpenheid en geen geringe rol in die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog agtien maande later, gespeel nie. (Van der Merwe 2017: hoofstukke 9 en 10).
Teen so 'n beswaar, naamlik dat die koningstem as geregtigheidsideaal nie so rigtinggewend was as wat voorgehou is nie, sou mens Van Wyk Louw se vermaning (Louw 1986a:100) kon gebruik dat die episode, hoe krisisagtig ook al, 'n voorbeeld is van die verwikkeldhede en verwardhede van die mensdom, van 'n soeke na die ewige en onveranderlike "regsidee", 'n menslike onbeholpenheid in die opweeg van die botsende "regte" wat Kruger en Kotzé vir hulleself toegeëien het. Dis bloot 'n poging om op te sien na die glansende sneeupunt van die "volstrekte Reg", geen ontkenning daarvan nie.
Kruger en Kotzé het beide onwrikbaar aan die gevolge van die toepassing van die koninklike volkstem op die praktiese politiek geglo: Kruger aan die hoogste gesag van die wetgewer om onbevraagtekend wette te maak; Kotzé aan die gesag van die regspreker om die geldigheid van wette aan grondwetlike vereistes te toets. In die taal van die Amerikaanse filosoof Josiah Royce (soos bespreek deur Coetser 1994:36-39) openbaar beide 'n "loyalty" aan 'n gesagsbron hoër as die staatkunde - die volkstem as koningstem. Wat by Kruger en Kotzé ontbreek het, was 'n "loyalty to loyalty": 'n wedersydse erkenning van die geldigheidswaarde van meerdere sienings. Noodwendig so: dis deel van die menslike toestand om te moet kies. In die taal van "Die ewige trek", word 'n volk gevorm "deur die magtige spel en stryd van die wil" (Louw 1986a:102) van (in hierdie een, kritieke, geval) 'n staat se president en hoofregter. In die kontinue spel en stryd van die wil van enkelinge is, terugskouend, die "regsidee" opgesluit "wat aan alle regte handelinge uiteindelik hul waarde gee" (Louw 1986a:100). Dis 'n ontluikende, strewende "loyalty" aan 'n ewigheidswaarde (die koningstem as grondslag van 'n demokratiese bestel) wat moeisaam maar eindelik opgaan in 'n "loyalty to loyalty" ('n begrip waarna van Wyk Louw goedkeurend verwys het in "Argumente teen 'n hark", Louw 1986a:477) aan die meerdere maniere van voorstel daarvan, wat diep insig meebring in die volstrektheid - die absolute - van 'n onbereikbare "regsidee".
Nog 'n beswaar is dat Paul Kruger en sy aanhangers later die koningstem vir politieke gewin toegeëien het, deur dit as 'n verskyningsvorm te gebruik van die slagspreuk vox populi, vox Dei. Die vox populi, die volkstem, was natuurlik die koningstem (Van der Merwe 2017:150); dit was ook die stem van God, opgesluit en verweef in die volk se psige. In 'n toespraak by Paardekraal in Desember 1880, op die vooraand van Boere-opstand teen Britse gesag in die Transvaal, het Kruger gesê: "Die stem van die volk het tot my geroep, ek hoor in daardie stem die stem van God, en ek gehoorsaam dit." Dit sou sy politieke mantra in later jare word: God se Koninklike stem spreek deur die volk tot hom, hy verteenwoordig nie net die volk nie, maar is die uitvoerder van God se wil ten opsigte van die Boerevolk (Van der Merwe 2017: 66-167, 292, 308, 339).
Hierdie "vergoddeliking" van die koningstem, vir politieke gewin, sou Van Wyk Louw teen die bors gestuit het. Hy het hom in 1953 negatief oor hierdie sêding uitgespreek: "Vox populi, vox Dei… dit [is] die oorgee aan byna bloot biologiese drifte en begeertes. Dít kan nie die demokrasie wees waaraan 'n mens teen die wanhoop in, vasklou nie!" (Louw 1986a: 476, 486; Louw 1986b:513). Die gestoei met die egte bewoording van die koningstem in die 1858-Grondwet het juis ten doel gehad om te keer dat 'n blote beroep op die meerderheidstem, op "'n uitbalanseer van die dom oordele van miljoene" (Louw 1986a:486), genoeg is om "de regt en de wet" in 'n demokrasie te laat seëvier. Meer nog, dis onvanpas om aan 'n staatkundige tema vir 'n oop gesprek, soos "Wie heeft de koningstem?", een wat in 'n voorstelling van die "regsidee" vir die ontluikende trekkervolk uitgemond het, die aard van 'n "stem van God" toe te ken. Onvanpas, want daardeur word aan "die volk" eienskappe toegedig wat dit nie het nie: "'n Volk is nie een wese nie; hy het geen eenheid van oorleg, geen eenheid van wil nie"; dit "[leef] nie uit een siel … nie" (Louw 1986a:455).
Die Duitse juris FC von Savigny het in 1814 'n polemiese geskrif, Vom Beruf unsrer Zeit für Gesetzgebung und Rechtswissenschaft, die lig laat sien. Die geskrif het teenstand gebied teen 'n beweging in die Duitse state om ook die Duitse gemenereg te kodifiseer, soos wat die Franse met hulle Code Civil van 1804 gedoen het. Sy standpunt was dat "das Recht wie die Sprache [lebt] im Bewusstsein des Volkes", dat "der eigentliche Sitz des Rechts [sei] das gemeinsame Bewusstsein des Volkes" (Savigny 1828:9, 11, 12, 116). Die juiste taak van die regswetenskap was om die gemenereg se "innere, stillwirkende Kräfte" te ontbloot, nie aan die "Willkühr" van 'n wetgewer mee te werk nie (Savigny 1828:14). Die "regsbewussyn", "regsgevoel", "regsoortuiging", "regsgewoontes", "regseiesoortighede" wat Savigny in sy geskrif besing het, het 'n latere juris, GF Puchta, in die allesomvattende begrip van die "Volksgeist" saamgevat. Sodoende het die Duitse Historiese Skool ontstaan, wat vir die grootste deel van die negentiende eeu in die Duitse gebiede toonaangewend was (Allen 1961:83-86; Van Zyl 1979:246-256). Hulle invloed, weens die diepgang van hulle navorsing in die Romeinse en latere Europese Romanistiese reg, het wyd gestrek. Ook in Suid-Afrika, waar 'n vertakking van die Europese Romanistiese reg, naamlik die Romeins-Hollandse reg, beoefen is (en word), het hulle invloed gehad, vernaamlik in die sogenaamde "puriste-beweging" van die sestiger- en sewentigerjare (Van Zyl 1979:483-486).
Hierdie beweging het nie meer invloed in die Suid-Afrikaanse reg nie - ook nie elders nie. Tereg ook, sou Van Wyk Louw gesê het: 'n Soeke na 'n volk se gees, se bewussyn, se gevoel, se oortuiging, om daaruit 'n regswetenskap te bou wat 'n voorstelling van die geregtigheidsideaal van 'n volk sou wees, is gedoem tot mislukking, gedoem omdat daar gewoon nie so iets is nie, so min as wat daar 'n vergeestelikte Godstem in 'n volk bestaan. Die vraag na die koningstem is gewoon dit: 'n vraag. Dis 'n vraag wat gesprek, wroeging, strewe, twis en drif ontlok, wat 'n unieke, bodemgebonde oplossing in die smeltkroes van 'n bloedsbesef gegiet, verg, en wat een gekry het. Een wat, hoe verwikkeld en verward ook al die toepassing daarvan, 'n voorstelling was en is van 'n "regsidee" wat die volstrekte regvaardigheid van 'n demokratiese staats- en regsvorm versinnebeeld, ook vir die hier en die nou van 'n gans ander een-en-twintigste-eeuse Suid-Afrikaanse samelewing.
5. SLOT
Die werke waarin NP van Wyk Louw se gedagtes oor geregtigheid die sterkste neerslag vind, die verhoogstuk Die dieper reg en sy essay, "Die ewige trek" (beide van 1938), is geskryf binne 'n denkraamwerk wat sterk nasionalisties georiënteerd was (Van Rensburg 1975:51-67; Olivier 1992:16-51; Coetser 1994:39-45). Sy werk is gedryf deur 'n behoefte om aan die Afrikanervolk 'n staanplek te gee in 'n wêreld waarin 'n magstryd tussen kragtige nasies aan die opbou was en een waarin die nietigheid van die Afrikanervolk maklik tot vernietiging kon lei. Sy oorwegings van destyds het, in die nuwe sosiopolitieke omstandighede van 'n een-en-twintigste-eeuse Suid-Afrika, trefkrag verloor.
Hierdie oorwegings ten spyt, behou die skerpheid van sy insigte oor die "dieper vrae" van menswees, in hierdie en ander werke, die rykheid van sy taalgebruik en die diepgang van sy argumente steeds vandag 'n verfrissende trefkrag. Dit stel mens in staat, buite-om die nasionalisme en die volkseie, om steeds met sy werk om te gaan en sy insigte aan 'n oop gesprek aan ander insigte te onderwerp. Sy geregtigheidsideaal, sy regsidee, bly so nastrewenswaardig - en so onbereikbaar - soos wat hy dit destyds so fyn en woordryk beskryf het. In die staats- en regsdenke van die huidige Suid-Afrika verteenwoordig die Grondwet die koningstem; die gees, bedoeling en doelstellings van die Grondwet is die teelaarde vir die magtige spel van die stryd en die wil. Hierdie spel en stryd, wat tans op alle lewensterreine woed, behoort op die volstrekte regvaardigheid van die "regsidee" uit te loop. Die "regsidee", die volkome uitleef van die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid, is 'n dieper reg wat in die onbereikbare sneeupunt van die denke neerslag vind. Maar die bewuste strewe na daardie dieper reg is kernbelangrik. Die dryfkrag daarvoor lê in 'n "loyalty to loyalty", 'n getrouheid aan die trou verwoord in die grondwetlike koningstem. Sonder so 'n bewuste "loyalty to loyalty" - en tans het ons dit nie - is ons bloot besig met swaar, dom, lomp besluiterighede.
BIBLIOGRAFIE
Allen, C.K. 1961 (6e uitgawe). Law in the Making. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Brown v Leyds NO (1897) 4 OR 17. [ Links ]
Bryce, J. 1901. Studies in History and Jurisprudence,band I. Oxford: Clarendon Press. [ Links ]
Breytenbach, J.H. & Pretorius, H.S. 1949. Notule van die Volksraad van die Suid-Afrikaanse Republiek, Deel I (1844-1850). Kaapstad: Staatsdrukker. [ Links ]
Burger, W. 2006. In Burger, W. (red.). Die oop gesprek. N.P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: LAPA uitgewers, pp. i-iii. [ Links ]
Coetser, J.L. 1994. Die dieper reg (N.P. van Wyk Louw): Royce, regsidee, resepsie. Literator, 15(2):35-54. [ Links ]
Jeppe, C. & Kotzé, J.G. 1887. De locale wetten der Zuid Afrikaansche Republiek 1849-1885. Pretoria: JF Cilliers. [ Links ]
Kraut, R. 1998. In Audi, R. (red.). The Cambridge dictionary of philosophy. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 619-624. [ Links ]
Louw, N.P. van Wyk. 1942 (2e uitgawe). Die dieper reg. Kaapstad: Nasionale Pers Bpk. [ Links ]
Louw, N.P. van Wyk.1986a. Versamelde prosa, band I. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Louw, N.P. van Wyk. 1986b. Versamelde prosa, band II. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Nienaber-Luitingh, M. 1962 (2e uitgawe). Eugene Marais. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Olivier, G. 1992. N.P. van Wyk Louw. Literatuur, filosofie, politiek. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Opperman, D.J. 1953 (2e uitgawe). Digters van dertig. Kaapstad: Nasou Bpk. [ Links ]
Pretorius, H.S. & Kruger, D.W. 1937. Voortrekker-Argiefstukke 1829-1849. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Savigny, F.C. von. 1828 (2e uitgawe). Vom Beruf unsrer Zeit für Gesetzgebung und Rechtswissenschaft. Heidelberg. [ Links ]
Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw. 'n Lewensverhaal, Deel I. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Van Rensburg, F.I.J. 1975. Swewende ewewig. Beskouings oor die werk van N.P. van Wyk Louw, band 2. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Van der Merwe, D. 2017. Brown v Leyds. Who has the king's voice? Durban: Lexis Nexis. [ Links ]
Van der Walt, J.C. 2006. In Burger, W. (red.). Die oop gesprek. N.P. van Wyk Louw-gedenklesings. Pretoria: LAPA uitgewers, pp. 52-78. [ Links ]
Van Zyl, D.H. 1979. Geskiedenis van die Romeins-Hollandse reg. Durban: Butterworths. [ Links ]
Verloren van Themaat, J.P. & Wiechers, M. 1967 (2e uitgawe). Staatsreg. Durban: Butterworths. [ Links ]
Ontvang: 2019-07-05
Goedgekeur: 2020-01-27
Gepubliseer: Junie 2020
DEREK VAN DER MERWE het die grade BA (Regte) en LLB (cum laude) in onderskeidelik 1974 en 1976 aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Ná voltooiing van militêre diensplig het hy hom by die Fakulteit Regsgeleerdheid van die Universiteit van Suid-Afrika aangesluit, en het in 1982 sy LLD-graad verwerf. Hy is ʼn ontvanger van ʼn Alexander von Humboldt-beurs en was in 1999 ʼn Ernst Oppenheimer Memorial Trust-genoot.
In 1986 is hy as professor in privaatreg aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit aangestel, waar hy van 1993 tot 2001 dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid was. In 2001 is hy as viserektor van die RAU aangestel. Met die totstandkoming van die nuwe Universiteit van Johannesburg (UJ) in 2005 het hy provisekanselier geword en later adjunkvisekanselier, ʼn amp wat hy tot sy aftrede in 2014 beklee het. Hy is tans emeritus professor in regsgeleerdheid by UJ. Sedert sy aftrede het hy twee boeke geskryf: Brown v Leyds: Who has the King's Voice? (LexisNexis 2017) en The Voice of the People: Ohrigstad 1845-1849 (LexisNexis 2019). Hy bly gemoeid met voortgesette akademiese navorsing, maar gee ook deeltyds klas en dien as konsultant vir die Raad op Hoër Onderwys.
DEREK VAN DER MERWE was awarded the degrees BA (Law) and LLB (cum laude) in 1974 and 1976, respectively, at the University of Pretoria. After completing his conscription, he joined the Faculty of Law of the University of South Africa. He is a recipient of an Alexander von Humboldt scholarship and was an Ernst Oppenheimer Memorial Trust Fellow in 1999.
In 1986, he was appointed professor of private law at the then Rand Afrikaans University, and served as Dean of the Faculty of Law from 1993 to 2001. He was appointed Vice-Rector of RAU in 2001. When the new University of Johannesburg (UJ) was established in 2005, he became its Pro Vice-Chancellor and later its Deputy Vice-Chancellor, an office he held until his retirement in 2014. He is currently emeritus professor of law at UJ. Since his retirement, he has published two books: Brown v Leyds: Who has the King's Voice? (LexisNexis 2017) and The Voice of the People: Ohrigstad 1845-1849 (LexisNexis 2019). Apart from carrying on with academic research, he teaches law part-time and serves as consultant for the Council on Higher Education.
Derek van der Merwe