Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912
Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.60 n.4-1 Pretoria Dec. 2020
http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a5
RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
Die Ou Testament in die 2020-vertaling: Enkele netelige kwessies
The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issues
Herrie van Rooy
Skool vir Antieke Tale, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Herrie.vanrooy@nwu.ac.za
OPSOMMING
In 1984 het prof. JP Oberholzer 'n artikel geskryf waarin hy onder andere drie sake behandel waaroor die vertalers van die 1983-vertaling moes besluit. Dit raak die hantering van eiename, mate en gewigte, en die vertaling van Jahwe. Hierdie artikel bespreek hierdie drie sake, asook die hantering van die sogenaamde Messiaanse tekste in die Ou Testament. By die beoordeling van die besluite oor die 1983-vertaling en die 2020-vertaling, word aangesluit by die doelstellings en strategieë van die onderskeie twee vertalings. Wat eiename betref, sluit die 2020-vertaling in die meeste gevalle aan by die 1983-vertaling, maar daar is gepoog om konsekwenter te wees in die manier waarop die Hebreeuse name weergegee word. Geografiese name word minder vertaal as in die 1983-vertaling. Wat mate en gewigte betref, word die Hebreeuse terme behou, omdat dit byvoorbeeld die simboliek van getalle beter weergee. Die naam Jahwe word met "Here", enAdonai met "my Heer"/"die Heef' weergegee. Wat die hantering van die sogenaamde Messiaanse tekste van die Ou Testament betref, is daar besluit op twee uitgawes van die vertaling. Die een hanteer die saak soos die 1983-vertaling, en dui die verband met die Nuwe Testament in voetnote aan. 'n Tweede uitgawe van die 2020-vertaling gebruik, soos die 1933/53-vertaling, hoofletters in die betrekke Ou Testamentiese tekste.
Trefwoorde: Bybelvertaling, Ou Testament, 1933/53-vertaling, 1983-vertaling, 2020-vertaling, mate en gewigte, name van God, Jahwe, Adonai, Messiaanse tekste, eiename, JP Oberholzer
ABSTRACT
In 1984, prof JP Oberholzer, one of the translators of the 1983 Afrikaans translation of the Bible, wrote an article dealing, inter alia, with three important issues on which the translators had to make decisions in comparison with the 1933/53 Afrikaans translation of the Bible. The decisions dealt with the translation of personal names, weights and measures and the translation of the divine name YHWH (Yahweh). The ultimate decisions of the translators deviated from decisions on the previous translation. The decisions made by the two groups of translators have to be evaluated in the light of the different aims set out for the two translations, as well as the different translation strategies followed. With regard to names, the 1983 translation sought to be consistent, for example by using the same name for a certain person, even when variant forms of the name occurred in the Hebrew. For weights and measures, they decided on a metrical system. The name Yahweh was rendered by "Here" ("Lord"), and not by "Here" ("Lord"), as in the older translation. The editorial committee on the Old Testament of the 2020 Afrikaans Bible also had to deal with these issues, as well as many others. This article discusses the decisions of the editorial committee with regard to these issues, as well as the treatment of messianic passages from the Old Testament. Oberholzer did not discuss this last issue, but it became a contentious matter to critics of the 1983 Afrikaans translation. However, it is clear from the translation what principle the translators had followed in not using capital letters in the case of personal pronouns interpreted to be messianic in nature.
As regards personal names, the original decision was to follow the 1983 Afrikaans translation. However, that translation changed some of the customary forms of these names in Afrikaans and was not consistent in its practice. The 2020 translation reverts to many of the customary forms in Afrikaans and attempts to be more consistent, especially in following the common Hebrew pronunciation of these names and in retaining different forms of personal nouns, with footnotes linking the different forms to one another. Geographical names were frequently translated in the 1983 translation. Such translations occur less frequently in the 2020 translation, with footnotes explaining the meaning where the original names are used. For weights and measures, the original terms were used, with footnotes indicating the metrical equivalent. In this way, the symbolic values of the original numbers could be retained and some of the paraphrases in the 1983 translation avoided. The name YHWH is rendered by "Here" ("Lord"), while Adonai is rendered by "my Heer"/"die Heer" ("my Lord"/"the Lord"). With regard to the messianic texts in the Old Testament, the original decision was to follow the example of the 1983 translation. However, some of the churches involved in the whole project were in favour of following the example of the 1933/53 translation. Eventually, the Bible Society of South Africa decided on two versions of the 2020 translation, with the second one retaining capital letters as in the earlier translation. The first one follows the example of the 1983 translation, while adding footnotes to the texts in the New Testament that apply these Old Testament texts to Christ. The decisions made on the two translations with regard to the above-mentioned four issues have to be evaluated in the light of the different aims and strategies of the respective translations. Guided by the translation scope and strategies, the editorial committee on the translation of the Old Testament of the 2020 translation tried to be consistent in their decisions.
Keywords: Bible translation, Old Testament, 1933/53 Afrikaans translation, 1983 translation, 2020 translation, measures and weights, names of God, Yahweh, Adonai, messianic texts, proper names, JP Oberholzer
INLEIDING
Die redaksie van die Ou Testament van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans moes oor verskillende sake beginselbesluite neem in die lig van die vertaalopdrag vir die vertaling en die vertaalmodel wat gevolg sou word. In hierdie artikel word vier van die sake bespreek waaroor die redaksie besluite moes neem, en daar word aangedui dat die besluite ten nouste saamhang met die vertaalopdrag en vertaalbenadering. Oor drie van hierdie sake het die eindredaksie van die 1983-vertaling ook besluite moes neem, naamlik die hantering van eiename, mate en gewigte, en die weergawe van die naam Jahwe in Afrikaans. Die vierde saak is die hantering van sogenaamde Messiaanse tekste in die Ou Testament. Oor die vier sake het die eindredaksie van die 1983-vertaling 'n ander weg gevolg as die 1933/53-vertaling, juis in die lig van die vertaalstrategie van die 1983-vertaling. Die 1933/53-vertaling het in baie opsigte nou by die Nederlandse Statenvertaling aangesluit en was dikwels 'n woord-vir-woord-vertaling. Die 1983-vertaling het doelbewus van hierdie benadering weggebreek, soos hier onder aangedui sal word. Die hantering van die vertaling van Jahwe en van die Messiaanse tekste in die Ou Testament het egter skerp kritiek op die 1983-vertaling tot gevolg gehad en moes in die besluite oor die 2020-vertaling verreken word.
In hierdie artikel word eers aandag gegee aan die agtergrond van die besluite oor die vertaling van die Afrikaanse Bybel van 2020. Daarna word die besluite oor die vier sake wat hier bo genoem is, bespreek en beoordeel in vergelyking met die besluite en die praktyk van veral die 1983-vertaling.
AGTERGROND
In 'n artikel wat in 1984 verskyn het, het een van die lede van die eindredaksie van die 1983-vertaling, prof. JP Oberholzer, 'n oorsig gegee van die geskiedenis van die vertaling, en ook in die besonder aandag gegee aan enkele sake waaroor die redaksie destyds beginselbesluite moes neem (Oberholzer 1984). Dit raak eiename, mate (en gewigte) en hoe die naam Jahwe, wat vir God in die Ou Testament gebruik word, hanteer sou word. Oor hierdie vertaalkwessies moes ook die redaksie van die Ou Testament van die 2020-vertaling besluite neem, maar hierdie keer in die lig van die nuwe vertaalopdrag en die vertaalmodel wat gevolg sou word. Soos hier onder aangedui sal word, verskil die 1983-vertaling en die 2020-vertaling van mekaar ten opsigte van die doel van die onderskeie vertalings; daarom sal die besluite oor die genoemde sake ook kan verskil. Hierdie artikel bespreek en beoordeel die besluite oor die 2020-vertaling en vergelyk dit met die besluite oor die 1983-vertaling. Bykomend tot hierdie drie sake is daar nog 'n saak wat aandag verdien, naamlik die hantering van die sogenaamde Messiaanse tekste in die Ou Testament. Oberholzer het hierdie aangeleentheid nie bespreek nie, waarskynlik omdat dit, toe hy sy artikel geskryf het, kort ná die verskyning van die 1983-vertaling, nog nie so sterk na vore getree het by die beoordeling van die 1983-vertaling nie. Dit het wel in die jare daarna baie aandag geniet en was een van die sake wat in besware teen die 1983-vertaling besondere gewig gehad het. In die bespreking hierna sal aangetoon word dat dit uit die vertaling self duidelik is hoe die vertalers die saak hanteer het.
Wanneer die besluite oor die vier sake in die twee vertalings vergelyk word, is dit nie die doel om die twee vertalings teen mekaar af te speel nie. Elkeen van die vertalings het 'n eie doel, of in die meer gebruiklike resente terminologie, skopos, gehad. Besluite oor vertaal-strategieë moet in die lig daarvan beoordeel word. Vir die 2020-vertaling is die volgende vertaalopdrag goedgekeur deur die kerke wat by die vertaling betrokke was (Bybel 2014: Voorwoord):
Skep 'n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik.
Die doel van die 1983-vertaling word soos volg in die voorwoord by die vertaling verwoord (Bybel 1992:5):
Die doel was 'n vertaling wat rekening hou met die ontwikkeling in Afrikaans die afgelope jare en met die resultate van wetenskaplike ondersoek; 'n waardige vertaling waardeur Afrikaanssprekendes aangespreek word, binne en buite die kerk, in die erediens en in huislike gebruik, in ons teenwoordige situasie en tyd.
Hierdie formulering sluit aan by 'n besluit wat geneem is ná 'n seminaar oor 'n nuwe vertaling in Julie 1968 (Oberholzer 1984:83) en wat feitlik woordeliks ooreenstem met die doel soos wat in die inleiding hier bo gestel is. Oberholzer haal ook aan uit die notule van die eerste vergadering van die vertalingskommissie op 2 Februarie 1971. Tydens dié geleentheid het die hoofsekretaris van die Bybelgenootskap, ds. JTM de Jongh van Arkel, 'n aantal belangrike opmerkings gemaak (Oberholzer 1984:84). Hy verwys spesifiek na 'n dinamiese vertaling, "met vermyding van teologies-tegniese, tradisioneel-kerklike begrippe, hoogdrawendheid en letterlikheid."
Die besluite van die span vertalers oor vertaalkwessies in die spesifieke vertaling waarvoor hulle verantwoordelik was, moet in die lig van die doelstellings van die spesifieke vertaling beoordeel word, en nie bloot deur die besluite van die onderskeie twee spanne met mekaar te vergelyk nie. Die doel van hierdie artikel is dus om die besluite van die1983-vertaling en die 2020-vertaling te beoordeel in die lig van hulle onderskeie skoposse en vertaalstrategieë.
EIENAME
Oberholzer (1984:88-90) bespreek eiename uitvoerig. Hy gee 'n uiteensetting van die historíese verloop van die denke hieroor en verwys ook na lyste van die Nederlandse Bybelgenootskap en 'n Duitse lys van 1971. Die besluite wat vir die 1983-vertaling geneem is, is ook belangrik vir die 2020-vertaling in gevalle waar daar aanvanklik besluit is om die name soos wat dit in die 1983-vertaling voorkom, te gebruik. Mettertyd is gedeeltelik hiervan afgewyk, soos hier onder aangetoon sal word.
Alhoewel al die besonderhede wat Oberholzer gee, nie hier volledig herhaal kan word nie, word sekere belangrike besluite oor die 1983-vertaling hier aangedui:
• Die algemene neiging was om name konserwatief te hanteer.
• Daar was nietemin die neiging om eerder die oorspronklike uitspraak te volg.
• Wat bekende name betref, is die tradisionele vorm gewoonlik behou.
• Een Hebreeuse letter sou met een Afrikaanse letter weergegee word.
• Medeklinkers is verdubbel waar van toepassing, behalwe in die geval van j.
• Waar verskillende name vir dieselfde persoon gebruik is, sou oorwegend een naam geyk word.
• By geografiese name is wegbeweeg van vorme soos "berg Sinai" na vorme soos "Sinaiberg".
• Heelwat geografiese name is ook vertaal, soos "Spooklaagte" in Josua 15:8.
Hierdie besluite behoort natuurlik inklusief hanteer te word. Die idee dat een Hebreeuse letter met een Afrikaanse letter weergegee moet word, word byvoorbeeld nie altyd in die geval van bekende name toegepas nie. So word die Hebreeuse letter 3 (kaf met 'n dagesj in) met 'n "k" weergegee, maar in die geval van "Melgisedek" word 'n "g" gebruik vir die kaf, omdat die "g" die tradisionele Afrikaanse spelling van die naam is. In baie gevalle het die 1983-vertaling name met 'n "k" gespel waar die 1933/53-vertaling 'n "g" gebruik het. Hiervan is daar baie voorbeelde, waarvan 'n paar genoem kan word: "Abimelek"/ "Abimeleg", "Akis"/"Agis", "Baruk"/"Barug en "Lakis"/ "Lagis". In hierdie voorbeelde, en baie soortgelyke voorbeelde, volg die Hebreeuse letter kaf op 'n vokaal, soos die "k" of "g" in die Afrikaanse voorbeelde hier bo. In die uitspraak van Hebreeuse woorde wat tans algemeen gevolg word, sal die kaf in sulke gevalle in Hebreeus as 'n g-klank uitgespreek word. Die keuse van 'n "k" in sulke gevalle in die 1983-vertaling volg die beginsel om dieselfde Afrikaanse konsonant vir 'n bepaalde Hebreeuse konsonant te gebruik, dus die geskrewe vorm van die brontaal. Dit druis egter in teen die manier waarop Hebreeus uitgespreek word. In gevalle soos hierdie volg die 2020-vertaling meesal die 1933/53-vertaling deur die "g" te gebruik, en volg só die manier waarop die name in Hebreeus uitgespreek word.
In die geval van die Hebreeuse letter n (chet of get) het die 1933/53-vertaling dit gewoonlik aan die begin van name met 'n "h" weergegee, maar aan die einde van name soms met 'n "g". In 2 Konings 17:6 kom die name "Halag" en "Habor" voor in die 1933/53-vertaling. Albei begin met 'n n, wat dus met 'n "h" weergegee is. Halag eindig egter ook met 'n n in die Hebreeus, wat met 'n "g" in die Afrikaans in die 1933/53-vertaling weergegee word. Die 1983-vertaling gebruik die "g" in al die gevalle, naamlik "Galag" en "Gabor". Die 2020-vertaling volg die 1983-vertaling in sulke gevalle, wat dus die beginsel volg om een Hebreeuse letter met een Afrikaanse letter weer te gee en om voorkeur aan die uitspraak in die Hebreeus te gee.
Die 2020-vertaling volg nie die besluit van die 1983-vertaling om een vorm van 'n naam te yk nie. Dit geld veral die gevalle waar daar groot verskille tussen die verskillende vorme van 'n naam is. So word verskillende name (en verskillende vorme van een naam) vir koning Joj agin gebruik:ןיכִיוָהיֹ (2 Kon 24:6) ןכ וִיהָ ֹ (Jer. 52:32), ןיכִיוָי (Eseg.) ה ניכְָ (Jer. 27:20)וּה ניכְָ (Jer. 24:1) en וּהינָּכְָ. 22:24). Die 1933/53-vertaling gebruik "Jójagin" in 2 Konings 24:6, Jeremia 52:32 en Esegiël 1:2. In Jeremia 24:1 en 27:20 gebruik dit "Jegónja" en in Jeremia 22:24 "Gonja". Die 1983-vertaling gebruik in al hierdie gevalle "Jojagin" sonder 'n voetnoot om die verskillende spelwyses aan te dui. Die 2020-vertaling gebruik "Jojagin" in 2 Konings 24:6, Jeremia 52:32 en Esegiël 1:2. In Jeremia 22:24 word dit "Gonja" gebruik, met 'n voetnoot dat die naam "Jegonja" elders gebruik word, en dat dit 'n ander naam vir "Jojagin" is. In Jeremia 24:1 en 27:20 word "Jegonja" gebruik, en in voetnote word aangedui dat dit 'n ander naam vir "Jojagin" is. Die aansluiting by die spelwyse van die name in die Hebreeuse teks en die voetnote by "Gonja" en "Jegonja" sluit ten nouste aan by die bronteksgeöriënteerde aard van die 2020-vertaling. Die New International Version gebruik "Jehoiachin" in Jeremiah 24:1 en dui in 'n voetnoot aan dat die Hebreeus Jeconiah as 'n variant vir Jehoiachin het. Dieselfde gebeur in Jeremia 22:24, waar die voetnoot na Coniah in die Hebreeus verwys. De Nieuwe Bijbelvertaling gebruik "Jechonja" in Jeremia 24:1 en 27:20, asook in Jeremia 22:24 (waar 'n mens "Chonja" sou verwag). Daar is geen voetnote wat die naam aan "Jojagin" verbind nie.
Wat geografiese name betref, gebruik die 2020-vertaling weer "die berg Sinai" (Eks. 19:18), alhoewel name soos die "Surwoestyn" ook voorkom (Eks. 15:22). Dit is waarskynlik 'n voorbeeld waar die 2020-vertaling nie konsekwent is nie. Die 1933/53-vertaling het "die woestyn Sur" en De Nieuwe Bijbelvertaling het "de woestijn van Suf'.
Anders as die 1983-vertaling word geografiese name dikwels nie vertaal nie. In Genesis 24:10 verwys die 1983-vertaling na "Mesopotamië". Die 2020-vertaling gebruik eerder die naam in die oorspronklike teks, naamlik Aram-Naharajim. 'n Voetnoot verduidelik dat die naam "Aram van die twee riviere" beteken en dat dit na Mesopotamië verwys. Die New International Version, New Revised Standard Version en De Nieuwe Bijbelvertaling gebruik ook die naam soos in die oorspronklike teks, en die eersgenoemde twee het elkeen ook 'n verduidelikende voetnoot.
Die hantering van name in die 2020-vertaling soos wat hier bo bespreek is, hou verband met die skopos en vertaalstrategie van die vertaling. Dit doel is om die leser nader aan die bronteks te bring, maar sake wat vir die verstaan van die teks belangrik is, word in voetnote toegelig.
MATE EN GEWIGTE
Oberholzer (1984:90) gee 'n samevatting van die besluit om die metrisering van mate en gewigte in die 1983-vertaling te aanvaar. Hy dui aan dat die vertalers "45 sentimeter" vir 'n el gebruik het, "22 liter" vir 'n efa, "11,4 gram" vir 'n sikkel in die Ou Testament en "14 gram" vir 'n sikkel in die Nuwe Testament. Die koninklike el het hulle tot "50 sentimeter" afgerond.
Die 2020-vertaling volg hier 'n ander weg. Juis omdat dit 'n bronteksgeoriënteerde vertaling is, word die oorspronklike name vir mate en gewigte behou. Terme soos "el", "kikkar", "sikkel" en "efa" kom dus in die vertaling voor. Om die leser te help, word daar op twee maniere aanvullende inligting gegee. Voetnote word gebruik om mate en gewigte te verduidelik. So verwys Eksodus 38:24 na "29 kikkar" en "730 sikkel". Voetnote dui aan dat 29 kikkar ongeveer 990 kilogram is en 730 sikkel ongeveer 8,3 kilogram. Eksodus 38:9 verwys na "100 el", en die voetnoot dui aan dat dit ongeveer 45 meter is. In die voetnote word soms 'n kol aangetref, wat gevolg word deur 'n verwysing na 'n inskrywing in die Woordelys aan die einde van die Bybel. So 'n kol kom voor in die voetnoot by "100 el" in Eksodus 38:9. Ná die kol volg die woord "Lengtemate", wat na die gelyknamige inskrywing in die Woordelys verwys. Op dié manier word die oorspronklike terme so ver moontlik behou, maar die voetnote en die woordelys help die leser om die mate en gewigte beter te verstaan.
Die wegbeweeg van die oorspronklike mate het in sommige gevalle in die 1983-vertaling tot parafrase geneig. Esegiël 45:10-12 lui soos volg in die 1983-vertaling:
10 Julle moet skale gebruik wat reg weeg en julle moet die regte inhoudsmate vir droë stowwe en vloeistowwe gebruik. 11 Inhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens 'n vaste maatstaf. 12 Gewig moet volgens 'n vaste maatstaf bepaal word.
Die 2020-vertaling lui soos volg:1
10 Julle moet 'n onvervalste weegskaal, 'n onvervalste efa en 'n onvervalste bat hê.11 Die efa en die bat moet dieselfde inhoud hê: 'n Bat moet 'n tiende van 'n gomer hou, en 'n efa ook 'n tiende van 'n gomer. Die gomer moet die standaardmaat wees.12 'n Sikkel moet twintig gera wees; en twintig sikkel, vyf-en-twintig sikkel en vyftien sikkel moet vir julle 'n mina wees.
Voetnote gee die metrieke weergawes van die mate en gewigte. Sodoende word die oorspronklike mate en gewigte in die teks behou. In sommige gevalle veroorsaak die metrisering in die 1983-vertaling dat te fyn besonderhede gegee word, sodat die verhouding tussen sekere getalle versluier word. In die tabel hier onder word die loskoopwaardes vir mense gegee soos in Levitikus 27:1-7 voorgeskryf word. In die eerste kolom word die betrokke persoon genoem, in die tweede kolom die metrieke waarde volgens die 1983-vertaling en in die derde kolom die waarde volgens die bronteks:
Die 2020-vertaling gee in voetnote die gewig in gram, sodat die inligting beskikbaar is; maar die verhoudings is makliker om te verstaan wanneer die sikkel gebruik word.
Die verskillende maniere waarop die 1983-vertaling en die 2020-vertaling mate en gewigte hanteer, hang ten nouste saam met die doel van die twee vertalings. Die 1983-vertaling het die metrieke stelsel gevolg ter wille van verstaanbaarheid, terwyl die 2020-vertaling die terme van die bronteks gebruik omdat dit meer betekenisvol is. Dit bied egter verdere toeligting in voetnote waar nodig.
JAHWE EN ANDER NAME VIR GOD
In die besware teen die 1983-vertaling het die vertaling van die naam Jahwe baie aandag gekry. Daar is twee name van God in die Ou Testament, naamlik הוהי (YHWH - Jahwe) ינ אָד (Adonai). In sommige vertalings word daar tussen die twee name onderskei, maar nie in ander nie. So word daar in Nederlands in De Nieuwe Bijbelvertaling (2004) "DE HEER" en "de Heer" gebruik, terwyl daar in die Groot Nieuws Bijbel geen onderskeid gemaak word nie. Ook in Engelse vertalings soos die NIV word die onderskeid dikwels gemaak deur die gebruik van hoof- en kleinletters, naamlik hoofletters vir "Lord" (Jahwe) en kleinletters ná die "L" in "Lord" (Adonai). In die 1933/53-vertaling is 'n soortgelyke strategie gevolg deur Jahwe te vertaal met "Here" enAdonai met "Here". Alhoewel hierdie soort onderskeid gesien kan word, kan dit nie gehoor word wanneer die teks voorgelees word nie.
Oberholzer (1984:90) gee kortliks aandag aan die besluite oor die vertaling van Jahwe, en ook die kombinasie Adonai Jahwe. Die vertalers van die 1983-vertaling het geoordeel dat die weergawe van Jahwe met "Here" verwarrend kan wees as die vorm met die hoofletters gebruik word en daar ook 'n vorm voorkom met net die "H" as 'n hoofletter. Dit het dan eintlik net betekenis vir diegene wat Hebreeus ken. Daarom is daar besluit om die tradisie te volg van die Nuwe Testament, wat by die Septuagint aangesluit het en Jahwe met KÚpioc; vertaal het. Waar Jahwe en Adonai op hulle eie voorkom, is albei met "Here" weergegee. Wat die kombinasie van Adonai Jahwe betref, is die algemene weergawe in die 1983-vertaling "die Here God" of "die Here my God".
Ná die verskyning van die 1983-vertaling was daar vir 'n aantal jare die geleentheid om voorstelle te maak vir die hersiening van die vertaling. Die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika het 'n groep deputate benoem wat tot 1991 verslag gelewer het oor voorstelle vir herformulerings. Een van die sake wat telkens aandag geniet het, is die moontlike hersiening van die vertaling van Jahwe enAdonai. Op die Sinode van 1991 het 'n rapport van die deputate gedien waarin die saak in die besonder hanteer is. Hieroor is 'n meerderheids- en minderheidsverslag uitgebring (GKSA 1991:104-116). Die 1983-vertaling is aanvaar, alhoewel 'n onderskeid tussen die name volgens die Sinode beter sou gewees het. Die Sinode het daarna telkens weer daaroor besin en was deurgaans ten gunste van 'n vertaling waarin daar tussen die twee name onderskei sou word. In 1997 het die deputate gerapporteer dat dit nie sinvol is om met die oog op 'n moontlike hersiening van die 1983-vertaling oor die vertaling van die name Jahwe en Adonai verder te besin nie, maar dat die saak weer op die tafel sal kom wanneer daar aandag gegee sal word aan 'n nuwe Bybelvertaling (GKSA 1997:124-125). In 2012 het die Sinode daarvan kennis geneem dat die 2020-vertaling tussen die twee name sal onderskei (GKSA 2012:95-96), soos hier onder aangedui sal word.
Vertalers kom telkens te staan voor die vraag hoe die naam Jahwe en die ander name vir God vertaal moet word. Dit is natuurlik nog soveel moeiliker wanneer die Bybel vertaal word in tale waarin daar nog nie 'n vertaling bestaan nie, of waar inheemse name vir God die gevaar loop dat idees oor God/god in daardie kulture die boodskap kan versluier. Die probleem word goed geïllustreer deur 'n reeks artikels wat Jacob Loewen, destyds 'n vertaalkonsultant vir die United Bible Societies in Kanada, in 1984 en 1985 gepubliseer het. Die artikels was bedoel om vertalers wat in verskillende omgewings en tale werk, te help om besluite te neem oor hoe om die verskillende name van God te vertaal. Die eerste twee artikels (Loewen 1984a:211-215, 1984b:201-207) bevat 'n bespreking van die verskillende name van God wat in die Ou en Nuwe Testament voorkom. Vir die vertaling van die name van God in albei testamente is dit uiteraard noodsaaklik om 'n oorsig te hê van die verskillende name en kombinasies van name.
In die derde artikel bespreek hy die moeilike saak om die regte name in 'n teikentaal te kies (Loewen 1985b). In hierdie artikel gee hy 'n aanduiding van sy eie praktiese ervaring met hierdie probleem in die sendingveld in Suid-Amerika (Loewen 1985b:201-202) en in Afrika (Loewen 1985b:203, 205-206). In 'n sekere sin is die probleem wel kleiner in tale wat reeds 'n lang tradisie van Bybelvertaling het en waar vertalers by vorige vertalings kan aansluit. Tog is dit ook nie altyd so eenvoudig nie, soos Loewen aandui in sy bespreking van die vertaling God in 'n aantal Europese tale. Hy het die vertaling in die Grieks van die Septuagint, in Engels, Duits, Frans en Spaans bespreek en met mekaar vergelyk (Loewen 1985a).
Loewen (1985a:401) wys daarop dat die vertalings wat hy bestudeer, geen moeite het om die name van afgode te translitereer nie, soos blyk uit name soos "Dagon" en "Baal". Hierdie vertalings gebruik die standaardsoortnaam vir die Hebreeuse El en Elohim ("God", "Gott", "Dios" ens). Dit geld ook vir Adon en Adonai, wat Engels gewoonlik met "Lord" weergee. Dit gebeur min dat eiename wat 'n spesifieke betekenis het, vertaal word. Hy (idem :402-404) wys ook daarop dat die onderskeid tussen Jahwe en Adonai in die Septuagint dikwels verdwyn, veral omdat albei dikwels met KÚpioc; weergegee word. Wat in die moderne vertalings wat hy bestudeer het, dikwels gebeur, is dat daar tussen Jahwe en Adonai deur die gebruik van hoofletters onderskei word (soos "Lord" vir Adonai en "LORD" of "Lord" vir Jahwe). Die probleem is dat hierdie onderskeid net gesien en nie gehoor kan word nie. Alhoewel dit nie altyd opgemerk word nie, word hoofletters ook gebruik in vertalings van El of Elohim wanneer die woorde na die ware God verwys en kleinletters wanneer dit na afgode ("god" of "gode") verwys (idem:405).
In 1990 het Ellingworth 'n studie gemaak van die vertaling van die verskillende name van God en hoe die name in verskillende vertalings weergegee is. Hy verwys nie na die werke van Loewen wat hier bo bespreek is nie. Ellingworth (1990:345) wys daarop dat die debat hieroor grotendeels deur Ou Testamentici oorheers is en dat dit veral gegaan het oor die weergawe van Jahwe. Hy maak geen opmerking daaroor of Nuwe Testamentici enige probleme met die weergawe van 0eoc; het nie. Hy verwys ook nie na die situasie van KÚpioc; nie, wat in die Septuagint vir die naam Jahwe gebruik word en waarby die Nuwe Testament aansluit. Wat die vertaling van Jahwe betref, onderskei hy vier kategorieë in die vertalings wat hy bestudeer het (idem:346):
• vertaling met "the LORD", of die ekwivalent daarvan in ander tale;
• vertaling met "the Lord", dus sonder die vier hoofletters;
• vertaling met "the Eternal" deur Moffat en Segond;
• vertaling met "Yahweh" in 'n getranslitereerde vorm ("Jehova" by die Jehovagetuies).
Hy het self ernstige besware teen die gebruik van die vier hoofletters (Ellingworth 1990:349350) en stel drie moontlikhede voor (idem:350), naamlik transliterasie ("Jahwe" dus), of om Jahwe en Elohim met "God" te vertaal en, as die tradisie te sterk is, met "the Lord". In die tweede kategorie onderskei hy nie tussen Jahwe, Adonai en Elohim nie, en neem nie in ag dat die Nuwe Testament tussen die name "God" (0eos) en "Here" (KÓpios) onderskei nie.
Juis omdat die moeilike saak van die vertaling van die name van God, en veral van Jahwe, so belangrik is, het die United Bible Society in 'n stadium 'n groep gehad wat hierdie vraagstuk tydens werkwinkels bestudeer het. Ná die vergadering van Mei 1991 het die studiegroep 'n verklaring uitgereik. In dieselfde uitgawe van die Bible Translator waarin hierdie verklaring verskyn het, is nog ses artikels oor die onderwerp en verwante sake gepubliseer, onder andere oor spesifieke vertalings in spesifieke tale. Benewens die verklaring van die groep is veral twee van die ander artikels van belang vir hierdie bydrae. In die verklaring wat die studiegroep uitgereik het, word sewe sake genoem wat probleme skep met die vertaling van die name van God, veral van Jahwe. Sommige van hierdie sake is nie van belang vir 'n vertaling in Afrikaans nie, maar die volgende is wel (UBS Study Group 1992:403):
• In sommige gevalle, soos in Eksodus 3:14-15, is die betekenis van die naam Jahwe belangrik. In die meeste gevalle is dit gewoon net 'n naam wat na God verwys.
• Baie vertalings word gemaak in 'n taal wat reeds 'n tradisie het vir die vertaling van Jahwe, en dit moet gerespekteer word.
• Tale verskil daaroor of name betekenis het en of dit bloot gebruik word om 'n persoon te identifiseer.
• Tale verskil ook daaroor of hulle een standaardnaam vir God het, of baie sulke name, (of woorde) of geen.
Hierdie punte is van belang vir 'n vertaling in Afrikaans, byvoorbeeld die tradisie wat deur die 1933/53-vertaling in aansluiting by die Statenvertaling geskep is, maar waarvan die 1983-vertaling afgewyk het. Afrikaans het byvoorbeeld net een woord vir God, terwyl daar in Hebreeus minstens drie woorde onderskei kan word. Al drie word gewoonlik met "God" vertaal (הַוֹלאֱ ,לאֵ en die meervoud daarvan, םיהִלֹאֱ). Die drie woorde kan ook gebruik word vir 'n afgod of afgode. Geen Afrikaanse vertaling het nog probeer om die drie woorde met drie verskillende woorde te vertaal nie.
Die verklaring noem ses moontlikhede hoe die probleem hanteer kan word (UBS Study Group 1992:403-404):
• Translitereer die naam ("Jahwe" en vermy "Jehova").
• Vertaal in Engels met "Lord" - in Afrikaans het "Here" of "Here" gebruiklik geword.
• Vertaal die betekenis van Jahwe.
• Gebruik 'n naam uit die betrokke kultuur.
• Vertaal Jahwe en Elohim op dieselfde manier.
• Gebruik 'n kombinasie van bogenoemde.
Die transliterasie word deur sommige verkies, omdat Jahwe 'n eienaam is en as sodanig weergegee moet word (UBS Study Group 1992:404-405). Verskillende mense of vertalers verkies om dit nie te doen nie, om verskillende redes, soos byvoorbeeld dat dit vir die lesers van 'n vertaling vervreemdend kan wees (UBS Study Group 1992:405). Dikwels word die ekwivalent van die Engelse "Lord" verkies, wat weer die probleem skep dat daar in die vertaling nie tussen Jahwe en Adonai onderskei kan word nie, veral as die teks voorgelees word (idem:405-406).
In 'n artikel in dieselfde uitgawe van die tydskrif bespreek De Blois (1992) die betekenis en vertaling van Jahwe in die lig van die verklaring van die studiegroep en in die lig van Mettinger se studie oor die name van God. Verder kyk hy ook na die vertaling van die uitdrukking wat in die 1933/53-vertaling vertaal is met "die Here van die leërskare", asook plekke waar die woord El verbind word aan ander terme (idem:406). Hy wys op 'n aantal belangrike konklusies van Mettinger, naamlik dat die naam Jahwe waarskynlik beteken "Hy is" en later dalk "Hy is die een wat bestaan", en dat die naam in die uitspraak geleidelik met Adonai vervang is (idem:407).
Hy verwys na die eerste opsie van die studiegroep se stuk, naamlik om die naam te translitereer en, in aansluiting daarby, na die ontstaan van die verkeerde lees van die naam as Jehovah reeds in die sestiende eeu (De Blois 1992:408). Baie vertalings het eerder gekies om in Engels "LORD" te gebruik (idem:409). Hy bespreek ook pogings in verskillende tale om die naam Jahwe te vertaal volgens die betekenis daarvan (idem:410-412). Hy is ook krities oor die gebruik om deur middel van hoofletters tussen Jahwe en Adonai te onderskei (idem:412). Vir die nuwe Afrikaanse vertaling bring hierdie artikel en die vorige een veral twee teenstellende aspekte na vore, naamlik dat daar aan die een kant by die bestaande tradisie aangesluit kan word (soos dié van die 1933/53-vertaling), en aan die ander kant dat 'n ortografíese onderskeid (soos in die 1933/53-vertaling) tussen die weergawe van Jahwe en Adonai nie sinvol is nie.
Die artikel van Osborne (1992) bevat 'n voorstel dat die naam Jahwe nie orals op dieselfde manier in 'n vertaling weergegee moet word nie, maar dat daar op grond van die spesifieke konteks verskillende vertaalmoontlikhede op verskillende plekke is. Dikwels kan 'n voetnoot die gebruik in die spesifieke konteks verduidelik. Alhoewel dit 'n interessante voorstel is, is die probleem dat die gewone leser nie maklik sal verstaan hoekom verskillende oplossings op verskillende plekke gepas is nie. Ter wille van die gewone leser sal 'n konsekwente weergawe gepaster wees. Carroll (2002) benader die probleem van die vertaling uit 'n wetenskaplike hoek. Hy is krities oor die gebruik van hoofletters om die onderskeid tussen Jahwe en Adonai uit te druk, al is dit in Engelse vertalings 'n tradisie wat teruggaan na die King James-vertaling (idem:59). Hy is eerder ten gunste van 'n weergawe met die vier konsonante soos in Hebreeus (YHWH) (idem :58). Hy is ten gunste daarvan dat vertalers die problematiek van die vertaling van hierdie naam en ander gevalle erken. In sommige gevalle is 'n sinvolle vertaling nie altyd eenvoudig nie en kan probleme met behulp van voetnote verduidelik word (idem:63). Die gebruik van voetnote om probleme en alternatiewe vertalings aan te dui, is kenmerkend van die 2020-vertaling.
De Nieuwe Bijbelvertaling het ook aandag gegee aan die vertaling van Jahwe en besluit om te bly by die weergawe met vier hoofletters (de Heer) (2004:VII).
Die saak van die vertaling van Jahwe en ander name vir God, asook die kombinasie van verskillende woorde, het die indringende aandag van die redaksie van die Ou Testament van die 2020-vertaling geniet. Bo is daar verwys na die UBS Study Group se opmerking dat 'n weergawe van die naam met Jahwe vervreemdend kan werk. Dit sluit aan by die saak van subjektiewe teorieë waarna Nord (2001) verwys. Sy toon aan dat die leser van 'n vertaling sekere verwagtinge het wat verbind is aan die saak van so 'n subjektiewe teorie. As die vertaling nie aan die leser se verwagtinge voldoen nie, kan die leser maklik die vertaling onaanvaarbaar vind (idem:191). Dit verbind sy aan lojaliteit, wat inhou dat die verwagtinge en bedoelings van al die vennote in 'n vertaling in ag geneem moet word (idem :195). Van der Merwe (2012:4) verbind hierdie teorie van Nord spesifiek aan die vertaling van Godsname, waar vertalers ter wille van aanvaarbaarheid soms moet afsien van 'n vertaling wat wetenskaplik beter verantwoord is.
Wat Jahwe self betref, is daar besluit dat daar aan die een kant by die tradisie aangesluit moet word deur Jahwe met "Here" te vertaal en om nie een of ander vorm soos Jahwe te gebruik nie. Dit sluit nie net by die tradisie aan nie, maar ook by die gebruik in die Nuwe Testament om Jahwe in aansluiting by die Septuagint met KÚpioc; te vertaal.
Die vertalers het egter ook waarde geheg aan die opmerking wat dikwels in die literatuur voorkom dat bloot 'n ortografiese onderskeid tussen die weergawes van Jahwe en Adonai nie werklik sinvol is nie. Die vertaalopdrag vir die 2020-vertaling meld spesifiek dat die vertaling ook geskik moet wees vir voorlesing, en 'n ortografiese onderskeid word nie in 'n voorlesing opgemerk nie. Adonai in die Hebreeus is 'n meervoudsvorm, met 'n besitlike voornaamwoord, eerste persoon, enkelvoud, daaraan gekoppel, dus letterlik "my Here". Die meervoudsvorm "Here" het in Afrikaans die geykte weergawe van Jahwe geword. Daarom is besluit om Adonai met "my Heer" weer te gee, waardeur teruggegryp word na die betekenis van die Hebreeuse woord met die besitlike voornaamwoord. Omdat die "my" nie in alle kontekste pas nie, is daar ook besluit om in die gevalle waar "my Heer" nie pas nie, "die Heer" te gebruik.
Hierdie besluit bied ook 'n goeie oplossing vir die gevalle waar die Hebreeus Jahwe en Adonai saam gebruik, soos dikwels die geval is in Esegiël. So staan in Esegiël 3:11 die bekende formule הוִהיֹ ינדָאֲֹ רמַאָ הּכ. Die 1933/53-vertaling lui: "So spreek die Here HERE". Die 1983-vertaling is effens vryer: "[S]preek hulle aan, sê vir hulle wat Ek, die Here God sê". Met hierdie weergawe sluit hierdie vertaling aan by die leestradisie van die Masoretiese Teks, wat die vokale van die naam Elohim by die konsonante van Jahwe voeg. In plekke soos hierdie sal die 2020-vertaling eerder die vorm "my Heer"/"die Heer", "die Here" gebruik, afhangende van die konteks. Op hierdie manier kan die onderskeid tussen die twee name gesien en gehoor word.
Die kombinasi תוא֔בָֹצְ הו֣הָ dikwels in die Ou Testament voor. O'Kennedy (2007b) bied 'n goeie oorsig van die voorkoms van die benaming in die Ou Testament, en ook oor hoe dit in verskillende vertalings vertaal is (idem:83-84). In 'n ander artikel uit 2007 behandel O'Kennedy in die besonder die vraag oor hoe die benaming in Afrikaans vertaal sou kon word (O'Kennedy 2007a). Wat תוא֔בָֹצְ self betref, wys hy daarop dat die term op drie maniere verstaan word, naamlik dat dit verwys na Israel se aardse leërmagte of na God se hemelse leërskare. Soms kan dit verwys na die hele skepping (idem:192-193). Hy verwys na verskillende weergawes van die uitdrukking in verskeie Afrikaanse vertalings (idem:195-197) en oordeel dat "die Here, Heerser oor alle magte", soos in die aanvanklike dokumentasie van die 2020-vertaling aangedui, beter is as ander weergawes in Afrikaans. Sy eie voorstel is om dit te vertaal met "Here van alle magte" (idem:198). Die 1933/53-vertaling het dit weergegee met "die Here van die leërskare" en die 1983-vertaling met "die Here die Almagtige". Die 2020-vertaling gebruik die uitdrukking "die Here, Heerser oor alle magte". Dit lyk effens anders as die voorstel waarna O'Kennedy verwys, met die gebruik van die vier hoofletters ("Here").
In die voorwoord tot die vertaling word 'n lys gegee van al die name en kombinasies van name wat vir God gebruik word, met 'n aanduiding van hoe elke woord of frase vertaal word. Op dié manier kan die leser makliker die verskillende name in die vertaling onderskei. Die 2020-vertaling slaag uitmuntend daarin om die onderskeid tussen Jahwe en Adonai in die geskrewe teks duidelik te maak, maar op so 'n wyse dat die verskil ook tydens voorlesing gehoor kan word.
DIE VERTALING VAN MESSIAANSE TEKSTE IN DIE OU TESTAMENT
Oberholzer (1984) het nie hieraan aandag gegee nie, maar dit is een van die sake waaroor daar baie skerp kritiek was op die 1983-vertaling en later ook op die 2001-omdigting van die psalms. Dit handel veral oor die saak van hoe tekste in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament aan Christus verbind word, in vertalings (en verklarings) hanteer moet word. Die probleem kan geïllustreer word deur te let op hoe Jesaja 53:4 en die aanhaling daarvan in Matteus 8:17 in die 1933/53- en 1983-vertaling hanteer word. Matteus sê eksplisiet dat die teks van Jesaja 53:4 in Jesus vervul is.
Albei die vertalings wys in Matteus daarop dat die woorde van Jesaja in Jesus vervul is. Die 1933/53-vertaling sê eksplisiet dat Jesaja 53:4 direk na die Messias verwys, terwyl die 1983-vertaling dit nie doen nie. Dit is op grond van hierdie saak dat daar beswaar gemaak is teen die 1983-vertaling se hantering van die sogenaamde Messiaanse tekste in die Ou Testament, en ook later teen die 2001-omdigting van die psalms. Besware teen die 1983-vertaling is baie duidelik uiteengesit in die Gereformeerde Kerk Die Kandelaar se beswaarskrif teen hierdie vertaling (GKSA 1988:283-302; GKSA 1991:117-128). Die basiese beswaar word soos volg verwoord (GKSA 1988:289):
Die 1983-vertaling misken die Christologiese karakter van die Ou Testament met name in die eksplisiet Messiaanse tekste waarin die woord hy konsekwent met 'n kleinletter gespel is, byvoorbeeld in Jes. 53 en Ps. 110.
Soortgelyke besware is ook ingedien teen die 2001-omdigting. Omdat hierdie besware reeds in die verlede omvattend hanteer is (Van Rooy 2004, 2005; Helberg 2006), word dit nie hier in detail bespreek nie.
Besware teen die hantering van die sogenaamde Messiaanse tekste was egter nie beperk tot die Gereformeerde Kerke nie.2 In 1987 het twee beswaarskrifte teen die aanvaarding van die 1983-vertaling op die Wes-Kaapse en Noord-Transvaalse sinodes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gedien. Die een by die Wes-Kaapse Sinode is ingedien deur ds. Mike Smuts en die een by die Noord-Transvaalse Sinode deur ds. Danie Haasbroek (Haasbroek & Hoek 2008:63). Die stuk van Haasbroek en Hoek is 'n memorandum wat in 2008 aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gestuur is vir oorweging in die werk aan die vertaling wat tans bekend staan as die 2020-vertaling. Die opskrif van die stuk maak die gevoel van die skrywers baie duidelik: "Wil ons 'n Ou Testament sonder Christus hê?" Hulle beskou die 1983-vertaling as 'n voorbeeld van vertalings wat "Christus se Name in die Messiaanse profesieë in die Ou Testament weglaat" (Haasbroek & Hoek 2008:3). Al die argumente van die stuk kan nie hier herhaal of saamgevat word nie, maar dit is duidelik dat hierdie saak baie belangrik was vir diegene wat 'n sterk standpunt gehandhaaf het oor die behoud van hoofletters in tekste in die Ou Testament wat na hulle oordeel vooruitgewys het na die komende Messias.
Hierdie moeilike saak kan toegelig word met verwysing na tien aanhalings van die Ou Testament in Matteus waar daar spesifiek in die evangelie verwys word na die vervulling van die Ou Testamentiese tekste in Jesus. Die tekste word in besonderhede bespreek deur Menken (2004) en Van Rooy (2015). In al hierdie gevalle is dit uit die 1933/53- en 1983-vertaling duidelik dat die aanhalings in Matteus in Jesus vervul is. Die betrokke Ou Testamentiese tekste word normaalweg nie in die 1983-vertaling deur die gebruik van hoofletters as Messiaans aangedui nie. Dit gebeur wel in sommige van die gevalle in die 1933/53-vertaling. Die volgende tekste in die Ou Testament word Messiaans vertaal in die 1933/53-vertaling: Jesaja 8:23-9:1 (Matt. 4:15-16), Jesaja 53:4 (Matt. 8:17), Jesaja 42:1-4 (Matt. 12:18-21) en Jesaja 62:11 en Sagaria 9:9 (Matt. 21:5). Dit is egter nie die geval met die ander tekste nie: Jesaja 7:14 (Matt. 1:23) en Hosea 11:1 (Matt. 2:15). Jeremia 31:15 (Matt. 2:18) het nie 'n verwysing na 'n persoon nie, maar na 'n gebeurtenis (dat Ragel oor haar kinders treur). Dieselfde geld vir Sagaria 11:12-13 (Matt. 27:9-10). Psalm 78:2 (Matt. 13:35) se eerste deel word uit die Septuagint aangehaal. Die "Ek" in die psalm staan aan die begin van 'n sin, sodat dit in elk geval 'n hoofletter het. In Jesaja 8:23 verbind die 1983-vertaling die optrede wat beskryf word, aan die Here, en word die Here se naam in die vertaling ingevoeg, terwyl dit nie in die oorspronklike staan nie. Uit hierdie voorbeelde is dit duidelik dat die 1933/53-vertaling, wat sommige tekste in die Ou Testament Messiaans weergegee het, dit nie in alle gevalle kon doen nie. Die verstaan van 'n teks as direk-Messiaans is dus 'n saak van interpretasie. Die verskil in interpretasie word bepaal deur die perspektief waarvolgens die Ou Testament gelees word. Groenewald (2010:1-7) vergelyk die verskille met die wyse waarop Jode en die kerk deur die eeue die Ou Testament gelees het. Die probleem is soms dat die Nuwe Testament as vertrekpunt geneem word en dat die boodskap van die Ou Testament nie eers as Ou Testament, los van die latere vervulling in Christus, verstaan word nie (vgl. Helberg 2006:592).
Die redaksie van die Ou Testament het hierdie sogenaamde Messiaanse tekste op dieselfde manier as die 1983-vertaling hanteer. Die Ou Testamentiese tekste wat op een of ander manier in die Nuwe Testament aan Jesus verbind word, kry voetnote om só die verband met die Nuwe Testament duidelik te maak. In 2012 is daar egter nog 'n besluit oor hierdie saak aan die Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika meegedeel (GKSA 2012:95). Dit is dat sommige van die kerke wat in die Advieskomitee van die Bybelgenootskap vir die Bybel in Afrikaans gedien het, baie sterk daaroor gevoel het dat daar wel hoofletters by Messiaanse tekste in die Ou Testament gebruik moet word. Die gevolg is dat daar, benewens die weergawe met die Deuterokanonieke Boeke, uiteindelik twee weergawes van die 2020-vertaling beskikbaar is, naamlik die gewone een, wat deur die redaksie van die Ou Testament afgelewer is en deur die begeleidingskomitee aanvaar is, en 'n tweede, met hoofletters. 'n Aparte werkskomitee, bestaande uit afgevaardigdes van die kerke wat die oortuiging oor hoofletters deel, het hieraan gewerk. Die beginsel was dat die tekste wat in die 1933/53-vertaling hoofletters gehad het, só behou sou word, asook die ander tekste wat in die Nuwe Testament op Jesus van toepassing gemaak is, indien die komitee daaroor eensgesind sou wees. Hierdie tweede uitgawe sal later as die gewone uitgawe verskyn. Die enigste verskil tussen die twee vertalings sal die hoofletters wees in tekste wat deur die werkskomitee bepaal is. Alhoewel 'n mens begrip het vir die tegemoetkomende standpunt van die Bybelgenootskap, is die tweede uitgawe na my oordeel nie nodig nie. Die voetnote wat gebruik word om na die Nuwe Testamentiese gebruik van die betrokke tekste te verwys, verduidelik die verband tussen die twee Testamente voldoende.
SAMEVATTING
Die artikel bespreek vier sake waaroor die redaksie van die Ou Testament van die 2020-vertaling besluite moes neem. Die besluite oor hierdie sake is bespreek en beoordeel in vergelyking met die besluite wat die 1983-vertaling oor hierdie sake geneem het. In albei gevalle is die besluite beoordeel in die lig van dié van die onderskeie vertaalopdragte vir elkeen van die Bybel-vertalings. In die 1983-vertaling is daar baie klem op verstaanbaarheid gelê, terwyl die 2020-vertaling 'n bronteksgeöriënteerde vertaling is.
Wat eiename betref, sluit die 2020-vertaling in die meeste gevalle by die 1983-vertaling aan. Daar is wel gepoog om konsekwenter te wees wat betref die manier waarop die Hebreeuse name weergegee word. Ook word geografiese name minder as in die 1983-vertaling vertaal. Wat mate en gewigte betref, word die Hebreeuse terme behou, omdat dit soms die simboliek van byvoorbeeld getalle beter weergee. Wat die naam Jahwe betref, is daar besluit om dit met "Here" weer te gee, terwyl Adonai met "my Heer"/"die Heer" weergegee word, sodat die onderskeid tussen die twee name ook by voorlesing gehoor kan word. Wat hierdie drie sake betref, het die redaksie van die Ou Testament gepoog om getrou aan die vertaalopdrag en -strategie te bly om 'n grondteksgeoriënteerde vertaling tot stand te bring, maar wel in die Afrikaans van vandag. In aansluiting by die model word belangrike inligting oor hierdie sake in voetnote verskaf om aan te dui dat die vertaalkeuses wetenskaplik begrond was en nie lukrake keuses van die vertalers verteenwoordig nie. Wat hierdie drie sake betref, kan geoordeel word dat die vertalers gelei is deur die geformuleerde skopos van die vertaling en die vertaalstrategie waarop daar besluit is.
Wat die hantering van die sogenaamde Messiaanse tekste van die Ou Testament betref, is daar twee uitgawes van die vertaling beplan. Een hanteer die saak soos die 1983-vertaling, maar voetnote is bygevoeg om die verband met die Nuwe Testament aan te dui. 'n Tweede uitgawe van die 2020-vertaling gebruik, soos die 1933/53-vertaling, wel hoofletters in die betrokke Ou Testamentiese tekste.
BIBLIOGRAFIE
Bybel. 1933/53. Die Bybel. Kaapstad: Bybelgenootskap. [ Links ]
Bybel. 1992 (1983). Die Bybel: Nuwe vertaling. Kaapstad: Bybelgenootskap. [ Links ]
Bybel. 2004. De Nieuwe Bijbelvertaling. Haarlem: Nederlands Bijbelgenootschap. [ Links ]
Bybel. 2014. Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte vertaling. Bellville: Bybelgenootskap van Suid-Afrika. [ Links ]
Carroll, R.P. 2002. Between lying and blasphemy; or, On translating a four-letter word in the Hebrew Bible: Critical reflections on Bible translation. In A. Brenner en J.W. van Henten (eds). Bible translation on the threshold of the twenty-first century: Authority, reception, culture and religion. (Journal for the Study of the Old Testament. Supplement series 353). London: Sheffield Academic Press, pp. 53-64. [ Links ]
De Blois, K.F. 1992. Translating the names of God: Tryggve Mettinger's analysis applied to Bible translation. The Bible Translator, 43:406-414. [ Links ]
Ellingworth, P. 1990. The Lord: The final judge of functional equivalence. The Bible Translator, 41:345350. [ Links ]
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1988. Handelinge van die drie-en-veertigste Nasionale Sinode. Potchefstroom: Administratiewe Buro. [ Links ]
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1991. Handelinge van die vier-en-veertigste Nasionale Sinode. Potchefstroom: Administratiewe Buro. [ Links ]
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 1997. Handelinge van die ses-en-veertigste Nasionale Sinode. Potchefstroom: Administratiewe Buro. [ Links ]
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. 2012. Handelinge van die tweede Algemene Sinode. Potchefstroom: Administratiewe Buro. [ Links ]
GKSA kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. [ Links ]
Groenewald, A. 2010. Die een wat sal kom: 'Messiaanse tekste' in die Ou Testament en ander Joodse geskrifte. Verbum et Ecclesia, 31(1), Art.#396, 7 bladsye. DOI: 10.4102/ve.v31i1.396 [27 April 2020]. [ Links ]
Haasbroek, D. & Hoek, P.W. 2008. Wil ons 'n Ou Testament sonder Christus hê? http://www.2016vertaling.co.za/media/7c2a63d2fbfe3f60ffff80777f000101.pdf [27 Mei 2020]. [ Links ]
Helberg, J.L. 2006. Die Messiaanse aard van die psalms: Hoe dit 'n Nuwe-Testamentiese lees, vertaling en omdigting van die psalms raak. In die Skriflig, 40:575-596. [ Links ]
Loewen, J.A. 1984a. The names of God in the New Testament. The Bible Translator, 35:211-215. [ Links ]
Loewen, J.A. 1984b. The names of God in the Old Testament. The Bible Translator, 35:201-207. [ Links ]
Loewen, J.A.1985a. Translating the names of God: How European languages have translated them. The Bible Translator, 36:201-207 [ Links ]
Loewen, J.A.1985b. Translating the names of God: How to choose the right names in the target language. The Bible Translator, 36:401-411. [ Links ]
Menken, M.J.J. 2004. Matthew's Bible: The Old Testament text of the evangelist. Leuven: University Press. [ Links ]
Nederduitsch Hervormde Kerk. 1986. Notule van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Bylaag E. Pretoria: Argief, NH Kerk. [ Links ]
Nord, C. 2001. Loyalty revisited: Bible translation as a case in point. The Translator, 7(2):185-202. [ Links ]
O'Kennedy, D.F. 2007a. Is dit moontlik om die Goddelike naam in Afrikaans te vertaal? Old Testament Essays, 20(1):185-200. [ Links ]
O'Kennedy, D.F. 2007b. The use of the epithet תואבצ הוהי in Haggai, Zechariah and Malachi. Journal of Northwest Semitic Languages, 33(1):77-99. [ Links ]
Oberholzer, J.P. 1984. Die Afrikaanse Bybelvertaling 1983: Enkele aantekeninge. Hervormde Teologiese Studies, 40:82-91. [ Links ]
Osborne, N.D. 1992. The name: When does it make a difference? The Bible Translator, 43:415-422. [ Links ]
Pont, A.D. 1985. 'n Amptelike vertaling van die Bybel? Die Hervormer, 77(11):1-2. [ Links ]
UBS Study Group. 1992. How to translate the name. The Bible Translator, 43:403-406. [ Links ]
Van der Merwe, C.H.J. 2012. The Bible in Afrikaans: A direct translation, a new type of church Bible. Hervormde Teologiese Studies, 68(1): Art. #1204, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v68i1.1204. [ Links ]
Van Rooy, H.F. 2004. Die nuwe Psalmomdigting: Die Messias weggelaat? Hervormde Teologiese Studies, 60(3):755-767. [ Links ]
Van Rooy, H.F. 2005. Messiasverwagting en prediking uit die Ou Testament. In die Skriflig, 39:615-630. [ Links ]
Van Rooy, H.F. 2015. The Syriac versions of Old Testament quotations in Matthew. In die Skriflig, http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49i1.1916 [ Links ]
Ontvang: 2020-04-28
Goedgekeur: 2020-06-10
Gepubliseer: Desember 2020
Herrie van Rooy is emeritus professor in Ou Testament en Semitiese Tale aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus), Suid-Afrika. Hy het sy PhD in 1977 verwerf en het Semitiese Tale en Ou Testament aan sy alma mater gedoseer in die tydperk 1980-2014. Hy het gedien in die bestuur van die Ou Testamentiese Vereniging van Suid-Afrika (1992-2004; voor-sitter 1998-2004) en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Nabye Oosterse Studie (1988-2000; voorsitter 1996-2000). Hy dien in die redaksio-nele raad van Oudtestamentische Studiën sedert 1999. Hy is ook 'n lid van die begeleidings-komitee en die redaksionele komitee vir die Ou Testament van 'n nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel. Sy publikasies sluit in Studies on the Syriac Apocryphal Psalms (1999) en The East Syriac Psalm Headings: A Critical Edition (2013). Vir sy bydrae tot Bybelvertaling en die Afrikaanse Psalmomdigting het hy die Ds. Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. Hy is tans 'n B-gegradeerde navorser by die NNS.
Herrie van Rooy is emeritus professor in Old Testament and Semitics at the North-West University (Potchefstroom Campus), South Africa. He received his PhD in 1977 from and taught Semitics and Old Testament at his alma mater during 1980-2014. He served on the executive committees of the Old Testament Society (1992-2004; chair 1998-2004) and the South African Society of Near Eastern Studies (1988-2000; chair 1996-2000). He has served on the editorial board of Old Testament Studies since 1999. He is also a member of the steering committee and the Old Testament editorial committee of a new Afrikaans translation of the Bible. His publications include Studies on the Syriac Apocryphal Psalms (1999) and The East Syriac Psalm Headings: A Critical Edition (2013). For his work on Bible translation and the metrical version of the Psalms in Afrikaans, he received the Rev. Pieter van Drimmelen Medal from the South African Academy for Science and Arts. He is currently a B-rated scholar at the NRF.
1 In die laaste voorfinale vorm tot my beskikking.
2 In hierdie artikel word daar net verwys na sake wat op die tafel van die sinodes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en streeksinodes van die Nederduits Gereformeerde Kerk gedien het. Wat die Nederduitsch Hervormde Kerk betref, kon ek met behulp van die argivaris van die Hervormde Kerk net een skrywe opspoor wat by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gedien het (Nederduitsch Hervormde Kerk 1986) en waarop daar geantwoord is. Die sake wat in die skrywe vermeld word, handel oor enkele tekste in die Nuwe Testament. Uit 'n artikel van Pont (1985) blyk dit dat die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk nie 'n besluit geneem het oor die aanvaarbaarheid van die 1983-vertaling nie, sodat besware oor die vertaling nie op die Algemene Kerkvergadering se agenda verskyn het nie. Hartlike dank aan die argivaris van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Nándor Sarkady, vir hierdie inligting.