SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.60 issue4-1The Old Testament in the 2020 Afrikaans translation: Some contentious issuesWhat does the Greek say? - Spotlight on translation problems the New Testament poses author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912
    Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.60 n.4-1 Pretoria Dec. 2020

    http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n4-1a6 

    RESEARCH AND REVIEW ARTICLES

     

    Die bronteks vir die 2020-vertaling van die Nuwe Testament

     

    The source text for the 2020 Afrikaans translation of the New Testament

     

     

    GJC Jordaan

    Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-posadres: gert.jordaan@nwu.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Die Loodskomitee van die Bybelgenootskap het voor die aanvang van werk aan die Afrikaanse vertaling van 2020 besluit dat die vierde hersiene uitgawe van die Wereldbond van Bybelgenootskappe (WBG) se Greek New Testament (UBS4) van 1994 as bronteks vir die vertaling van die Nuwe Testament sal dien. Die Loodskomitee het ook 'n aantal riglyne en aanbevelings opgestel vir die praktiese implementering van die besluit. Die riglyne en aanbevelings handel hoofsaaklik oor die manier waarop die vertalers variante lesings wat in die tekskritiese apparaat van die UBS4-uitgawe aangedui word, moet hanteer. Die belangrikste hiervan is dat die vertalers A- en B-gegradeerde lesings behoort te volg, en slegs met goeie motivering van C- en D-gegradeerde lesings sal afwyk. Gedeeltes in die teks in die UBS4-uitgawe tussen blok- of dubbelhakies word in die vertaling behou, met gepaste voetnote daarby. Voetnote waarin die vertalers tekskritiese inligting voorsien, moet so geformuleer word dat dit nie vir lesers verwarrend en misleidend sal wees nie. In hierdie artikel word die eindproduk van die vertaalwerk, soos dit in die finale proefvertaling op die Bybelgenootskap se webwerf aangebied word, geweeg aan die Loodskomitee se besluite en aanbevelings. Die uiteindelike bevinding is dat die vertalers getrou aan die voorskrifte en aanbevelings gehou het en op 'n sinvolle manier daaraan uitvoering gegee het.

    Trefwoorde: 2020-vertaling, Afrikaanse Bybelvertaling, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, bronteks van vertaling, Griekse bronteks vir Nuwe Testament, voorskrifte vir vertalers, aanbevelings vir vertalers, teksvariante, voetnote in Bybelvertaling, ontvanklikheid vir Bybellesers


    ABSTRACT

    This article is a study of the source text used for the 2020 Afrikaans translation of the New Testament. The Translation Launch Committee appointed by the Bible Society of South Africa gave instructions and recommendations, inter alia, regarding the source text for the translation of the New Testament. It was established from the Bible Society's documents that at the outset, the Launch Committee decided for good reason that the fourth revised Greek edition of the United Bible Societies, the Greek New Testament (UBS4rev), should be used as basic source text. The Committee also gave instructions and recommendations for the practical implementation of their decision, mainly about how variant readings in the text-critical apparatus of the UBS-text had to be treated in the process of translation. As a general rule, the translators had to follow the A- and B-rated readings in the apparatus, and could deviate from C- and D-rated readings, but then only with well attested reasons.
    Passages in the UBS4-edition in single or double square brackets had to be retained in the translation, accompanied by explanatory footnotes. Text-critical information in footnotes, moreover had to be formulated such that it would not be confusing or misleading to readers. In preparation for this article, the degree to which the translators eventually implemented the instructions and recommendations of the Launch Committee was investigated by making a study of the final proof translation as presented on the website of the Bible Society. It was established subsequently that the translators almost invariably followed the source text as prescribed by the Committee. There are only a few instances where they chose a variant reading that differs from the text of UBS4rev, for which case good reasons are provided. The Committee adhered closely to all other recommendations. The text-critical footnotes in the 2020 translation provide a clear picture of the variant readings that were considered in the process of translation and of other relevant text-critical information. The footnotes are formulated in such a way that it is highly improbable that any of them might lead to dispute or confusion among the readers. Overall, it proves that the translators executed the instructions and recommendations of the Bible Society's Launch Committee in a satisfactory and meaningful way.

    Keywords: 2020 Translation, Afrikaans Bible translation, Bible Society of South Africa, source text of translation, Greek source text of the New Testament, instructions for translators, recommendations for translators, textual variants, footnotes in Bible translation, reception by Bible readers


     

     

    1. INLEIDING

    Een van die eerste besluite wat die Loodskomitee moes neem toe hulle met die projek begin het om 'n nuwe direkte Afrikaanse vertaling van die Bybel te maak,was oor die bronteks waaruit daar vertaal moes word. Veral ten opsigte van die Nuwe Testamentiese bronteks, waaroor daar steeds ná eeue van stryd soms ernstige meningsverskil bestaan, was dit nodig om 'n goed gemotiveerde keuse te maak. Ná deeglike oorweging het die Loodskomitee van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op 15 September 2005 'n beleidsbesluit oor die bronteks geneem (Loodskomitee, Notule 2005-09-15: Brontekste OTNT).

     

    2. BASIESE VERTREKPUNT

    Aangesien die Bybelgenootskap van Suid-Afrika 'n lid is van die Wereldbond van Bybelgenootskappe (voortaan afgekort as WBG),1 het die Loodskomitee in 'n groot mate die aanbevelings van die WBG betreffende Bybelvertaling in ag geneem. Op grond hiervan is drie beleidsbesluite as die vertrekpunt vir die gebruik van die Griekse bronteks geformuleer (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.1.1).

    2.1 Basisteks: UBS4rev

    Die eerste beleidsbesluit was dat die WBG se vierde hersiene uitgawe van die Nuwe Testament in Grieks as die basisteks gebruik sou word:2

    Die basisteks wat as bron gebruik word vir die vertaling van die Nuwe Testament is die Griekse teks wat in die vierde uitgawe van die WBG se Greek New Testament (UBS4rev) van 1994 gedruk is.

    Motivering: Die United Bible Societies het die volgende riglyn gestel vir inter-konfessionele samewerking aan Bybelvertaling (vgl. Handboek voor de Nieuwe Bijbelvertaling A 1:3): "For joint translation programs, teams should base their work on the critical edition of the Greek New Testament published by the United Bible Societies." Die voorstel dat UBS4rev gebruik word, kom ooreen met die aanbeveling in punt 4 op A6:4 van die Handboek voor de Nieuwe Bijbelvertaling. (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.1.1)3,4

    Die gevolg van hierdie eerste besluit was dat die vertaling feitlik sonder uitsondering die vierde uitgawe van die WBG se Greek New Testament as bronteks gevolg het.

    2.2 Tekskritiese apparaat: UBS3corr

    Verder het die Loodskomitee besluit (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.1.1) om ook die 1983-uitgawe van die WBG se Greek New Testament te gebruik:

    Saam met die UBS4rev word ook die 1983-uitgawe van die UBS Greek New Testament (UBS3corr) gebruik.

    Motivering: Die Griekse teks van UBS3corr en UBS4rev is identies, maar die tekskritiese apparaat verskil. Die artikel van KD Clarke (2002:105-133), gerugsteun deur resensies van die UBS4-uitgawe deur Scanlin, Silva en Baarda (1994), Wong (1994), Elliott (1994) en Ellingworth (1996), oortuig dat daar soveel onduidelikhede en probleme ten opsigte van die tekskritiese apparaat en die teksgradering (A,B,C,D) van die UBS4-uitgawe bestaan, dat dit beter is om die tekskritiese apparaat van UBS3corr saam met UBS4rev te gebruik.

    Die implikasie van hierdie tweede beleidsbesluit was dat die vertalers B-lesings van die UBS4-uitgawe soms as C-lesings hanteer het en ander lesings as dié van die bronteks gevolg het. 'n Voorbeeld hiervan is Efesiërs 2:5, waar UBS4rev die besluit om die lesing τῷ Χριστῷ te volg met 'n B ("redelik seker") te gradeer. In UBS3corr word dit egter met 'n C ("redelik onseker") gegradeer. In ooreenstemming met laasgenoemde gradering het die vertalers alternatiewe variante ernstig oorweeg en besluit om die lesing ἐν τῷ Χριστῷ te volg (Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020; Ef. 2:5).

    2.3 Tekskritiese apparaat: NA26,27

    Daar is ook besluit om die tekskritiese apparaat van Nestle-Aland se Novum Testamentum Graece (NA26,27) (Aland et al. 1993; Aland et al. 2012) by te werk (Loodskomitee, Notule 2005, punt 2.1.1):

    Saam met UBS3corr,4rev word ook die 26e en 27e uitgawes van Nestle-Aland se Novum Testamentum Graece (NA26,27) gebruik.

    Motivering: Ook NA26,27 se Griekse teks is identies aan dié van UBS3corr,4rev, maar die tekskritiese apparaat is baie meer uitgebreid. Hierdie aanbeveling is ook eenstemmig met die Handboek voor Nieuwe Bijbelvertaling (A6:4), wat 'n vergelyking van NA26, NA27en UBS voorstaan, "aangezien geen uitgave als definitief kan worden beschouwd".

    Aangesien die Nestle-Aland-uitgawes (NA26,27) se tekskritiese apparaat meer uitgebreid is as dié van UBS3corr,4rev, het hierdie besluit daartoe gelei dat voetnote in die 2020-vertaling soms na variante lesings verwys wat nie in die UBS3corr,4rev voorkom nie. 'n Voorbeeld hiervan word gevind in die voetnoot by Matteus 9:13: "Ander mss en vroeë vertalings lui ook nog hierna 'tot bekering.'" Hierdie inligting kom nie in die UBS-apparaat voor nie, maar wel in die NA26,27-apparaat. Nog 'n voorbeeld is die voetnoot, "Sommige mss lui 'uit God se hemel'," by Openbaring 21:2, wat lui, "sien neerdaal van God uit die hemel".

    Hierdie beleidsbesluit wat die Loodskomitee oor die Nuwe Testament se bronteks en tekskritiese apparaat geneem het, is deur die 2020-vertalers in die vertaalproses geïmplementeer. Die belangrikste toepassings hiervan word vervolgens bespreek.

     

    3. A- EN B-LESINGS

    3.1 Aanbeveling betreffende die wyse van implementering

    Die Loodskomitee het voorsien dat die beleidsbesluit om UBS3corr,4rev as basisteks te gebruik, in die praktyk op die volgende wyse in die vertaling geïmplementeer sou moes word (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.1):

    Oor die algemeen word die A- en B-lesings van UBS3corr gehandhaaf. Waar daar egter in die resente vakliteratuur geldige argumente uitgemaak is ten gunste van 'n ander lesing as die A- en B-keuses, word daaraan oorweging geskenk.

    3.1.1 Motivering vir die wyse van implementering

    Die Loodskomitee het hierdie werkswyse soos volg gemotiveer (Loodskomitee, Notule 200509-15, punt 2.2.1):

    In graderings van tekskeuse in UBS3corr word die saak soos volg deur die samestellers verduidelik: A - "the text is virtually certain"; B - "there is some degree of doubt"; C - "there is a considerable degree of doubt"; D - "there is a very high degree of doubt". Hiervolgens lyk dit verantwoord om die A- en B-lesings in die vertaling te volg omdat daar redelike sekerheid oftewel min twyfel oor die betroubaarheid van die lesings bestaan. By die A- en die B-keuses is 'n bepaalde deel van die teksgetuienis (gewoonlik eksterne oorwegings) so beduidend dat vertalers nie weer van voor af die teks hoef te kontroleer nie.

    Selfs A- en B-lesings kan egter nie as definitief beskou word nie (vgl. Handboek voor Nieuwe Bijbelvertaling, A6:4; vgl. ook UBS3corr se definisies van A en B). Daarom kan, waar toepaslik, geldige argumente vir ander lesings vanuit die vakliteratuur steeds by A- en B-lesings oorweeg word. In sulke gevalle behoort die vertalers die nuwe argumente teen die UBS-samestellers se argumente (Metzger se Textual Commentary) op te weeg.

    3.2 Praktiese voorbeelde in die 2020-Vertaling

    In praktyk het die vertalers in ooreenstemming met die beleidsbesluit die A- en B-lesings van UBS3corr in die meeste gevalle gevolg. In slegs 105 gevalle in die hele Nuwe Testament het die vertalers dit nodig gevind om voetnote oor tekskritiese kwessies by die vertaling by te voeg.

    Dit blyk egter dat die vertalers die A- en B-lesings nie sonder meer gevolg het nie. In die praktyk is daar vir A- en B-lesings inderdaad ook variante lesings oorweeg, selfs al is sulke variante nie in die vertaling gevolg nie. 'n Voorbeeld hiervan is Lukas 18:25. Dit is die vers waarin Jesus sê dat dit makliker is vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan. Die UBS3corr,4rev volg die lesing κάμηλον ("kameel") klaarblyklik met volle sekerheid, in so 'n mate dat die tekskritiese apparaat nie eens 'n verwysing na 'n alternatiewe lesing bevat nie. Tog is daar 'n variante lesing wat in manuskrip S en nog vier laat manuskripte voorkom, waarin die woord κάμιλον ("skeepskabel") in die plek van κάμηλον ("kameel") gebruik word. Inligting uit die vakliteratuur (bv. Clarke1832; Coffman 1983-1999) en die vertaling in die Jubilee Bible 2000, wat lui, "For it is easier to put a cable through the eye of a needle" (Stendal 2003), het die vertalers laat besluit dat daar genoeg meriete in die variante lesing is om by die woord "kameel" die volgende voetnoot te voeg: "Enkele mss gebruik hier die woord 'skeepskabel'" (Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020; Luk. 18:25).

     

    4. C- EN D-LESINGS

    4.1 Aanbeveling betreffende die wyse van implementering

    Wat die C- en D-lesings in UBS3corr betref, het die Loodskomitee die volgende praktiese implementering van die beleidsbesluit as doelwit gestel (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.2):

    Waar die WGB-samestellers 'n C- of D-gradering aan hulle tekskeuse toeken, word die keuses van die BFBS2- en die GNTMT-uitgawes oorweeg, veral waar laasgenoemde eenstemmig is. Ook in sulke gevalle behoort nuwe lig vanuit die vakliteratuur in berekening gebring te word.

    'n Voorbeeld word in die volgende afdeling bespreek.

    4.2 'n Praktiese voorbeeld van 'n gemotiveerde keuse van 'n C-lesing

    'n Praktiese voorbeeld van 'n geval waar die 2020-vertalers ná deeglike oorweging op grond van intrinsieke oorwegings verkies het om van 'n C-lesing af te wyk, word in 1 Tessalonisense 2:7 gevind. Die UBS-teks verkies, met 'n C-gradering, die lesing ἐγενήθημεν ("ons was soos klein kindertjies in julle midde"). Die onsekerheid oor die lesing νήπιοι ("klein kindertjies") word deur Metzger (1975:215) gestel: "There is a considerable degree of doubt whether the text or the apparatus contains the superior reading." Die 2020-vertalers het grondige redes gehad om in hierdie geval eerder die variante lesing ἤπιοι ("sag, teer") te volg (vgl. BFBS2 en GNTMT).5 Die motivering vir die vertalers se besluit berus hoofsaaklik op intrinsieke kriteria uit die kerklike kommentaar op die vertaling. Die volgende oorwegings is deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Redaksiekommissie Nuwe Testament genotuleer (RKNT Notule 18 Sept 2015, bylae ANKOM 1-2TH 150206):

    1. Woordgebruik: "Vriendelik of sag" kom in die NT net voor in 2 Tim 2:24. Van die 16 keer wat "babatjies" in die NT gebruik word, is 12 deur Paulus, maar elke keer met verwysing na sy bekeerlinge. Nooit verwys hy na homself as 'n baba nie.

    2. Konteks: In vs 1-6 gee Paulus duidelike bewyse dat hy onverskrokke die Evangelie verkondig, al lei dit tot lyding en beledigings soos in Filippi (1-4). Hy laat hom ook nie vlei nie en soek nie die eer van mense nie (5-6). Waarom sou hy homself dan nou as totaal afhanklik, soos 'n babatjie voorstel? ... Kies mens vir "babatjies", maak die res van 2:7 nie sin nie. Die konteks van 2:7b-12 is baie duidelik dat Paulus geregtig was om eise aan die Tessalonisense te stel, maar dat hy "vriendelik, sag of toegeeflik" was om hulle ontwil. Dit sou hy nooit kon wees indien hy 'n hulpelose "babatjie" in hulle midde sou wees nie.

    3. Gevolgtrekking: Die ontstaan van hierdie variasie kan maklik verklaar word, maar dit gee geen aanduiding van watter die oorspronklike sou wees nie. Die manu-skripgetuienis dui sterker op die keuse vir "babatjies" en nie "vriendelik/sag" nie. Uit Paulus se woordgebruik, asook die konteks, is 'n keuse vir "babatjies" ongegrond en moet "vriendelik/sag" verkies word.

    Op grond van hierdie oorwegings het die vertalers die lesing ἤπιοι ("sag, teer") gevolg. Dit het gelei tot die vertaling "ons het teer geword in julle midde", met die meegaande voetnoot: "Die Griekse woord wat in die bronteks gebruik word, is nepioi "babatjies". Ander manuskripte het epioi "teer" en dit word gevolg op grond van die konteks" (Bybelvertaling 2020, 1 Tess. 2:7).

    4.3 Motivering vir die oorweging van C- en D-lesings

    Die Loodskomitee het die riglyn dat C- en D-lesings in die UBS3corr-apparaat oorweeg behoort te word, soos volg gemotiveer (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.2):

    Waar UBS-samestellers self hulle keuse as onseker aandui (C = "a considerable degree of doubt"; D = "a very high degree of doubt"), kan die vertalers dit nie hanteer asof daar sekerheid oor die keuse bestaan nie.

    Hierby moet in gedagte gehou word dat by die UBS-samestellings, ten spyte van die bedoeling om die teks volgens die gematig-eklektiese metode (met gelyke gewig aan eksterne, transkripsionele en intrinsieke oorwegings) te rekonstrueer, eksterne oorwegings (volgens die Westcott & Hort-model) in werklikheid meestal die swaarste geweeg het (vgl. Metzger se Textual Commentary). Ter wille van balans is dit dus nodig om, ten minste by C- en D-lesings, ander resente tekssamestellings wat op alternatiewe metodes saamgestel is, met die UBS-lesings te vergelyk.

    In hierdie verband kan die volgende oorweeg word. Vir lesings waarby intrinsieke oorwegings swaarder weeg: die tweede uitgawe van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap se Griekse Nuwe Testament (BFBS2, red. GD Kilpatrick) van 1954 (jongste druk 1965); en vir lesings waarby die meerderheid manuskripte die swaarste weeg: die Greek New Testament According to the Majority Text (GNTMT, red. ZC Hodges en AL Farstad) van 1982. Laasgenoemde uitgawe is metodologies gesproke vir kritiese samestellers onaanvaarbaar. Tog bied dit, saam met die BFBS2, alterna-tiewe rekonstruksies van die teks wat oorweeg kan word waar die gematigde eklektiese metode nie tot redelike sekerheid kan kom nie. In hierdie opsig verdien veral dié lesings waarin die BFBS2 en die GNTMT se tekskeuse met mekaar ooreenkom, oorweging.

    Hiervoor bestaan daar ruimte in die UBS se riglyne vir Bybelvertaling (A1:3): "Though a critical text should form the basis of any adequate translation, it is recognized that in some situations certain constituencies may require that some passages of the New Testament found in the Byzantine tradition should be noted in the translation." Die BSA se bedoeling is dat sulke "Bisantynse lesings" slegs in voetnote tot hulle reg sal kom (vgl. ook die Handboek voor Nieuwe Bijbelvertaling, A6:4, punt 2). Waar die UBS-samestellers egter self getwyfel het (C- en D-lesings), terwyl daar 'n oortuigende motivering vir 'n alternatiewe lesing bestaan, kan so 'n lesing egter deur die vertalers vir opname in die teks oorweeg word.

    In die geheel gesien, pas hierdie aanbeveling binne die globale vertalingsriglyn van die UBS (A1:3): "Translators should normally follow this (UBS-) text for readings rated as A or B ... but may choose other well attested readings when the text has a C rating."

    Aangesien die UBS3corr as vertrekpunt dien, behoort afwyking daarvan slegs om baie goeie redes plaas te vind. Ter kontrolering hiervan behoort die vertalers, indien hulle wel sou besluit om 'n ander lesing as dié van die UBS3corr te volg, hulle keuse deeglik te motiveer en aan 'n staande paneel van deskundiges voor te lê.

    4.4 'n Praktiese voorbeeld van die keuse van 'n C-lesing om intrinsieke redes

    Benewens die voorbeeld van 1 Tessalonisense 2:7, wat in 4.2 hier bo bespreek is, het die vertalers ook in Efesiërs 2:5 om goeie redes van 'n C-lesing afgewyk. Die samestellers van UBS3corr,4rev verkies in Efesiërs 2:5 die lesing συνεζωοποίησεν τῷ Χριστῷ ("saam met Christus lewend gemaak"). Die 2020-vertalers het egter besluit om eerder die variante lesing in P46 B 33 et al. te volg, naamlik συνεζωοποίησεν ἐν τῷ Χριστῷ ("saam lewend gemaak in Christus"). Die vertalers se motivering vir die keuse van hierdie variante lesing is die volgende (RKNT Notule 11-08-2016):

    Die volgende vers (vers 6) sê uitdruklik dat ons saam met mekaar opgewek is, en hierdie saam-opwekking vind by die wederkoms plaas, in Christus. Dit word benadruk deur die die frase ἐν τῷ Χριστῷ wat byna soos 'n refrein in verse 6 en 7 herhaal word.

    Gevolglik lui die 2020-vertaling: "in Christus saam lewend gemaak", met die volgende voetnoot: "Bronteks lui: 'saam met Christus'. Die lesing van baie goeie mss is egter in die vertaling gevolg." (Bybelvertaling 2020, Ef. 2:5).

     

    5. TEKSKRITIESE OPMERKINGS IN VOETNOTE

    5.1 Riglyn vir die gebruik van voetnote

    Die Loodskomitee het die volgende praktiese riglyn vir die vertalers gestel oor tekskritiese inligting in voetnote (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.3):

    Variante lesings in die apparaat van NA26,27 of UBS3corr,4rev (A, B, C of D) wat na die oordeel van die vertalers vir Afrikaanse Bybellesers van belang is, behoort in voetnote by die vertaling aangedui te word.

    Die Loodskomitee het die riglyn soos volg gemotiveer (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.3):

    Die Handboek voor Nieuwe Bijbelvertaling (A6:4, punte 2 en 6) dui op die wenslikheid van die plaas van alternatiewe lesings in voetnote.

    Bybelvertaling 2006+ is juis bedoel om meer die karakter van 'n studie-vertaling te dra, sodat goedgekose voetnote oor alternatiewe lesings volkome binne die opset van die vertaling inpas.

    5.1.2 Praktiese voorbeelde van verwysings na variante lesings in voetnote

    Die implementering van bogenoemde riglyn het daartoe gelei dat daar in die 2020-vertaling 'n hele aantal voetnote voorkom waarin verwys word na ander lesings as dié wat in die UBS3corr,4rev- en NA26,27-teks gedruk of in die vertaling gevolg is. Ter wille van goeie benutting van ruimte is voetnote spaarsamig gebruik, met die gevolg dat daar uiteindelik slegs 105 voetnote in die vertaling is waarin tekskritiese opmerkings gemaak word. Daar was hoofsaaklik twee redes waarom die vertalers voetnote met tekskritiese opmerkings by die vertaling geplaas het:

    (1) In gevalle waar teksvariasie 'n verskil maak aan die vertaling, is die nodige toeligting vir die lesers in voetnote aangebied. Dit is gedoen waar die 2020-vertaling as gevolg van teksvariasie opvallend verskil van die 1933/53- of die 1983- Afrikaanse vertaling of van ander bekende vertalings. 'n Voorbeeld hiervan is 1 Korintiërs 13:3, waar die variante lesings καυθήσωμαι ("verbrand word") en καυχήσωμαι ("roem") in manuskripte voorkom (vgl. die UBS3corr,4rev- apparaat). Die 1933/53- vertaling lui: "Al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word." Die 2020-vertaling lui egter: "Al gee ek my liggaam oor sodat ek my daarop kan beroem." Dit word gevolg deur die voetnoot, "Sommige mss lui 'gee ek my liggaam oor om verbrand te word'." 'n Soortgelyke voorbeeld kom voor by Lukas 6:48, waar die 2020-vertaling in navolging van die UBS-teks lui dat die huis bly staan het "omdat dit goed gebou was". Hierdie vertaling verskil opvallend van die ou bekende vertaling "omdat sy fondament op rots was" (vgl. AV1933/53, KJV). Lukas 6:48 is dus in die 2020-ver-taling van die volgende voetnoot voorsien: "Ander mss en vroeë vertalings lui 'omdat sy fondament op die rots gebou was'."

    (2) Sommige variasies word egter bloot ter wille van interessante inligting vir die lesers in die voetnote genoem, soos in Openbaring 21:2, wat vertaal word: "sien neerdaal van God uit die hemel." Hoewel die 2020-vertaling in hierdie geval met albei die vorige Afrikaanse vertalings en met die meeste bekende moderne vertalings ooreenstem, het die vertalers 'n voetnoot bygevoeg: "Sommige mss lui 'uit God se hemel'." Hierdie variante lesing word nie in UBS3corr,4rev vermeld nie, maar dit word wel in die tekskritiese apparaat van NA26,27 aangedui. Die variante lesing van "kameel"/"skeepskabel" deur die oog van 'n naald in Lukas 18:25, wat in 3.2 hier bo bespreek is, is 'n verdere voorbeeld van 'n variante lesing wat ter wille van interessantheid in die 2020-vertaling se voetnote ingesluit is.

    5.2 Vereiste van helderheid van voetnote

    Oor die tekskritiese opmerkings in voetnote het die Loodskomitee een baie besliste voorwaarde gestel (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.4): "Alle tekskritiese opmerkings in voetnote moet so gedoen word dat dit nie verwarrend en misleidend moet wees nie."

    5.2.1 Motivering vir die stel van die voorwaarde

    Hierdie vereiste is baie belangrik binne 'n lesersgemeenskap waar gemoedere soms hoog kan loop oor kwessies soos variante lesings, manuskripte en gedrukte uitgawes van die Griekse Nuwe Testament. Tekskritiese voetnote by die 2020-vertaling moes daarom so geformuleer word dat dit nie by hierdie debat betrokke raak nie. Die Loodskomitee het dus die volgende besluit geneem (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.4):

    Enersyds moet 'n oordrewe vertroue in en gearriveerde afhanklikheid van 'n bepaalde teksuitgawe (in casu die UBS-uitgawe) vermy word, asof die laaste woord daarmee gespreek is. Andersyds mag die indruk nie geskep word dat die teks op losse skroewe staan en dat ons maar moet raai wat nou eintlik in die Nuwe Testament geskrywe staan nie.

    5.2.2 Praktiese voorbeelde van gebalanseerde voetnote

    'n Voorbeeld van so 'n "gebalanseerde" voetnoot is dié by Lukas 6:48, wat reeds in 5.1.2 (1) hier bo genoem is. Die lesing διὰ τὸ καλῶς οἰκοδομῆσθαι αὐτήν ("omdat dit goed gebou was") is met redelike sekerheid deur die samestellers gevolg, soos blyk uit die [B]-gradering in die UBS3corr-apparaat. Dié sekerheid is gegrond op die hoogaangeskrewe teksgetuies waarin die lesing voorkom, soos P75, Alef, B, en ook die vroeë Siriese en Koptiese vertalings (vgl. Metzger 1975:97). Die alternatiewe lesing τεθεμελίωτο γὰρ ἐπὶ τὴν πέτραν ("omdat sy fondament op die rots gebou was") word in verreweg die meeste teksgetuies aangetref. Dié teksgetuies is egter hoofsaaklik van Bisantynse en Westerse herkoms, en daarom bestaan die opvatting in tekskritiese kringe dat dit minder waarde het. Die 2020-vertalers het die lesing van die UBS-teks gevolg met die vertaling "omdat dit goed gebou was." Die voetnoot by die vertaling het hulle egter só geformuleer dat dit nie na die aansien of waarde van die teksgetuies verwys nie. Dit sê net: "Ander mss en vroeë vertalings lui 'omdat sy fondament op die rots gebou was'" (Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020; Luk. 6:48).

    Op 'n soortgelyke manier word daar in die 2020-vertaling se voetnote ook van die volgende formulerings gebruik gemaak:

    "Sommige mss lui" (bv. Mark. 10:24; Luk. 10:1; Op. 5:10)

    "Sommige mss en vroeë vertalings lui" (bv. Mark. 10:43; Luk.11:2, 4)

    "Ander mss voeg by" (bv. Rom. 8:1)

    "Ander mss en vroeë vertalings lui" (Luk. 17:35; Rom. 16:7)

    Dit blyk dat die formulerings "sommige mss" en "ander mss" in die voetnote willekeurig afgewissel word. Daar is ook nêrens in die bewoording van die voetnote selfs 'n subtiele verwysing na (kwantitatief) meer of minder manuskripte of (kwalitatief) na belangriker en minder belangrike manuskripte nie.

     

    6. "BYVOEGINGS" EN "WEGLATINGS"

    6.1 Riglyn vir die hantering van vermeende interpolasies

    Die laaste riglyn wat die Loodskomitee vir die vertalers gestel het, hou verband met gedeeltes in die teks waarvan die oorspronklikheid bevraagteken word (Loodskomitee, Notule 200509-15, punt 2.2.5). Dit lui soos volg: "Gedeeltes wat in die UBS3corr tussen blokhakies [ ] en dubbele blokhakies [[ ]] gedruk is, word in die vertaling opgeneem, laasgenoemde met opmerkings in voetnote."

    6.1.1 Motivering vir die aanbeveling van die riglyn

    Hierdie werkswyse word soos volg gemotiveer (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.2.5):

    Hoewel die UBS-samestellers met die blokhakies en dubbele blokhakies aandui dat hulle sterk twyfel dat die gedeelte deel van die teks moet wees, gee hulle daarmee ook te kenne dat dit na hulle oortuiging op grond van die tradisionele belang daarvan nie uit die teks weggelaat kan word nie. Daarom sal insluiting daarvan met voetnoot-opmerkings gepaard moet gaan. Hierdie aanbeveling stem ooreen met die riglyn in punte 5 en 7 van die Handboek voor Nieuwe Bijbelvertaling, A6:4.

    6.1.2 Praktiese voorbeelde

    Die bekendste gedeeltes in die Nuwe Testament wat in tekskritiese kringe as die gevolg van interpolasie beskou word, is die gedeelte oor die owerspelige vrou (Joh. 7:53-8:11), die slot van Markus (Mark. 16:9-20) en, les bes, die doksologie van die Ons Vader-gebed in Matteus (Matt. 6:13). Al drie hierdie gedeeltes is in die 2020-vertaling ingesluit, met toepaslike voetnote.

    (1) Die insluiting van die gedeelte oor die owerspelige vrou in Johannes 7:53-8:11 is 'n sprekende voorbeeld van die praktiese uitvoering van die beleidsbesluit oor dubbelhakietekste. In die UBS-teks is hierdie verse tussen dubbelhakies geplaas. Die 2020-vertalers het dit in die teks van die vertaling ingesluit, met die volgende voetnoot: "Volgens teksgetuienis was hierdie gedeelte nie aanvanklik deel van die bronteks nie. Dit bevat egter so 'n outentieke getuienis oor Jesus dat dit mettertyd in baie mss opgeneem is en sodoende deel van Die Evangelie volgens Johannes geword het."

    (2) In die slot van Markus het die vertalers voor die probleem van drie variante lesings te staan gekom. 'n Aantal manuskripte bevat die sogenaamde stomp slot, wat eindig met die woorde van Markus 16:8 "want hulle was bang". Dan is daar ook 'n sogenaamde kort slot, wat ná Markus 16:8 'n verdere 2 sinne byvoeg, en die tradisionele lang slot, wat uit 12 verse (vs. 9-20) bestaan. Die UBS-samestellers het ná vers 8 die tradisionele lang slot in dubbelhakies by die teks geplaas, en daarna ook nog die kort slot, ook tussen dubbelhakies. Die 2020-vertalers het hierdie variasie-eenheid hanteer deur die lang slot (Mark. 16:9-20) in die vertaling in te sluit, met 'n voetnoot by vers 8 wat soos volg lui: "Ander mss en vroeë vertalings bevat ook ná vs 8 nog vs 9-20. Hoewel aanvaar word dat dit 'n later invoeging is, is dit in die gedrukte bronteks op grond van die tradisie tussen vierkantige hakies opgeneem." Die kort slot, daarenteen, is nie in die 2020-vertaling ingesluit nie, maar slegs in 'n voetnoot vertaal. Die voetnoot lui soos volg: "In sommige mss is benewens, of in die plek van, vs 9-20, die volgende bygevoeg: 'En hulle het alles wat aan hulle vertel is, kortliks aan dié saam met Petrus berig.

    Hierna het Jesus self deur hulle die heilige en onverganklike verkondiging van die ewige verlossing uitgestuur. Amen.' Dit ontbreek egter in die bronteks."

    (3) In die geval van die doksologie by die gebed in Matteus 6:13 het die vertalers die weg van analogie gevolg. In die UBS-teks is die doksologie nie in die teks ingesluit nie, ook nie tussen blokhakies nie, maar slegs as 'n alternatiewe lesing in die tekskritiese apparaat vermeld. Daarom het die 2020-vertalers die woorde aanvanklik ook net in 'n voetnoot ingesluit. Op navraag van die kerklike lesers het die vertalers egter die saak in heroorweging geneem. Met die insluiting van die tradisionele slot van Markus as voorbeeld, is besluit om die doksologie op dieselfde wyse in Matteus 6:13 in te sluit (vgl. RKNT 2017-03-03 Notule, punt 6.1). Gevolglik is die doksologie in die finale teks ingesluit, met die volgende voetnoot: "Volgens teksgetuienis was hierdie lofprysing nie aanvanklik deel van die bronteks nie. Dit het egter so deel van die liturgie van die vroeë kerk geword dat dit mettertyd in baie mss opgeneem is en sodoende deel van die gebed geword het."

    Benewens hierdie drie gedeeltes, is daar in die UBS-teks talle enkelwoorde of -frases wat tussen blokhakies geplaas is. Waar sulke gedeeltes deel van 'n groter variasie-eenheid uitmaak, het die vertalers dit soos 'n gewone variante lesing beoordeel, met die gevolg dat die meeste daarvan uiteindelik deel van die vertaling geword het. Daar is egter enkeles (vgl. byvoorbeeld Matt. 23:4; 27:16; Mark. 15:27; Op. 14:3; 13:1) wat op tekskritiese gronde uitgesluit is. In ieder geval is die vertaling telkens van 'n toepaslike voetnoot voorsien. Waar die insluiting of weglating van 'n blokhakieteks werklik geen verskil aan die betekenis van die betrokke sin sou maak nie, is dit ingesluit sonder enige meegaande voetnoot (bv. Matt. 6:33; Mark. 14:33; Joh. 13:36).

    6.2 Vermeende weglatings

    Die Loodskomitee het geen beleid vir die weglating van tekste geformuleer nie. Dit kan egter nie aan onvolledigheid toegeskryf word nie, aangesien daar uit die staanspoor glad nie sprake daarvan was dat enige deel of dele van die bronteks uit die vertaling weggelaat kan word nie. Inteendeel, daar het geen twyfel bestaan nie dat die bedoeling met die vertaling was dat die bronteks volledig vertaal moet word (Loodskomitee, Notule 2005-09-15, punt 2.1.1).

    Op verskeie plekke moes die UBS-samestellers kies tussen korter en langer variante lesings wat in die manuskripte voorkom. Waar hulle op tekskritiese gronde besluit het om 'n korter lesing in die teks te plaas, kan dit nie as 'n weglating beskou word nie, maar as 'n herstel van die teks in sy oorspronklike vorm. Waar die 2020-vertalers korter tekskeuses van die UBS-samestellers ondersteun het, het hulle dikwels die vertaling voorsien van 'n voetnoot, soos in Matteus 20:16: "Ander mss en vroeë vertalings lui ook nog hierna 'Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.' Dit word aanvaar dat dit hier nie deel van die oorspronklike teks is nie; vgl. egter Matt 22:14, waar dit wel deel van die bronteks is."

    Seker die bekendste "weglating" is die gedeelte oor die drie hemelse getuies in 1 Johannes 5:7-8. Hier handel dit ook oor twee weergawes van die teks. Hoewel die tekskritiese getuienis oor die kort teks so oorweldigend is dat die debat hieroor reeds lankal tot 'n einde gekom het, het die vertalers dit nogtans goed geag om na die lesing met die "korter" teks in vers 7 'n voetnoot by te voeg: "Enkele laat mss voeg op grond van die Vulgaat hierna by '... in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.8 En daar is drie wat getuig op die aarde'."

     

    7. NUWE ONTWIKKELING TEN OPSIGTE VAN DIE BRONTEKS

    Die teks wat die United Bible Societies in hulle Greek New Testament opgeneem het, is volgens die sogenaamde gematigde eklektiese metode saamgestel. Dit geld ook vir die vierde uitgawe van 1994, wat deur die 2020-vertalers gebruik is. Sedertdien het die Institut für neutesta-mentliche Textforschung in Münster, Duitsland, onder leiding van Gerd Mink en Klaus Wachtel begin met die ontwikkeling van 'n nuwe tekskritiese metode wat bekend staan as die koherensie-gebaseerde genealogiese metode (Engels: "coherence-based genealogical method" - afgekort as CBGM). Hoewel die CBGM eintlik vir die Editio Critica Maior-projek bedoel is, is die eerste resultate van dié nuwe werkswyse reeds bekendgestel in die teks van die algemene sendbriewe van die Nestle-Aland Novum Testamentum Graece se 28ste uitgawe wat in 2012 gepubliseer is.

    Toe hierdie nuwe teks gepubliseer is, het die 2020-vertaling reeds ver gevorder, ook die vertaling van die algemene sendbriewe. Nogtans het die vertalers besef dat hulle hul oor die nuwe ontwikkeling moes verantwoord. Daarom het hulle die teks van die algemene sendbriewe in die NA28 met dié van die UBS4rev vergelyk. In die Jakobusbrief is vyf verskille opgemerk, in 1 Petrus agt verskille, in 2 Petrus is daar ses verskille, in 2 Johannes is daar twee en in die Judasbrief ook twee verskille. Dit is 'n totaal van 23 verskille. Die meeste van die verskille raak egter net kleiner sake soos punktuasie, cm-resitatief, vertellende Kai of ander variasies wat weinig of geen verskil aan die vertaling sou maak nie. In slegs drie gevalle is die teksverskille betekenisvol:

    1 Petrus 4:16> UBS4: "moet God verheerlik op grond van hierdie Naam."

    NA28: "moet God verheerlik in hierdie opsig."

    2 Petrus 2:6> UBS4: "as voorbeeld laat dien het van die dinge wat die goddeloses gaan tref."

    NA28: "as 'n voorbeeld laat dien van hulle wat goddeloos gaan wees."

    2 Petrus 3:10> UBS4: "die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word."

    NA28: "die aarde en wat daarop gedoen is, sal verbrand word."

    Die vertalers het hierdie drie variasie-eenhede bestudeer en in al drie gevalle bevind dat daar voldoende grond is om by die UBS4-teks te hou.

    Dit is duidelik dat die statuur van die CBGM tot op hede nog nie genoeg gegroei het om werklik 'n impak op huidige vertalingsprojekte te hê nie. Dit geld ook vir die 2020-vertaling. Indien die CBGM egter in die jare vorentoe wel momentum sou kry wat tot die publikasie van 'n volledige Griekse Nuwe Testament sou lei, sal toekomstige vertalers hulle uiteraard deeglik daaroor moet verantwoord.

     

    8. EVALUERING

    Samevattend kan gesê word dat die Loodskomitee uit die staanspoor 'n goed verantwoorde keuse gemaak het ten opsigte van die bronteks waaruit die 2020-vertaling gemaak moes word. Verder blyk dit dat die vertalers gehou het by die opdrag en die beleidsbesluite wat die Loodskomitee aan die begin van die projek vir die Nuwe Testamentiese bronteks gestel het. Die vertalers het ook die aanbevelings en die riglyne vir die praktiese implementering van die besluite getrou gevolg. Die vryheid wat hulle toegelaat is met betrekking tot die A-, B-, C- en D-lesings het hulle konserwatief en verantwoordelik gebruik, telkens met duidelike motivering in voetnote. Dit geld ook vir gedeeltes tussen blokhakies en vir die sogenaamde byvoegings en weglatings. Verder het die vertalers die tekskritiese opmerkings in die voetnote "gebalan-seerd" probeer hou, sodat dit nie die indruk skep dat dit een of ander tekskritiese standpunt of -rigting bevoordeel nie. Wat die hantering van die bronteks betref, was die 2020-projek se vertaling van die Nuwe Testament in die geheel suksesvol en baie bevredigend.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Aland, B., Aland, K., Karavidopoulos J., Martini, C.M. & Metzger, B.M. (eds). 1994. The Greek NewTestament. (4th rev. ed.). Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

    Aland, B., Aland, K., Karavidopoulos, J., Martini, C.M. & Metzger, B.M. (eds). 1993. Novum Testamentum Graece: Nestle-Aland 27th edition. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

    Aland, B., Aland, K., Karavidopoulos, J., Martini, C.M. & Metzger, B.M. (eds). 2012. Novum Testamentum Graece: Nestle-Aland 28th revised edition. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.         [ Links ]

    Aland, K., Black, M., Martini, C.M., Metzger, B.M. & Wikgren, A. (eds). 1983. The Greek New Testament. (3rd ed., corrected). Stuttgart: United Bible Societies.         [ Links ]

    Bybelgenootskap van Suid-Afrika. 2020. Die Bybel: 2020-vertaling. http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php [Geraadpleeg: Januarie - Maart 2020]        [ Links ]

    Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Loodskomitee vir Direkte Bybelvertaling in Afrikaans. 2005. Notule, 2005-09-15: Brontekste OTNT. (Ongepubliseer).         [ Links ]

    Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Redaksiekommissie Nuwe Testament. 2010-2019. Notules van vergaderings, 2010-2019. (Ongepubliseer).         [ Links ]

    Clarke, A. 1832. Commentary on Luke 18:25. (Adam Clarke commentary). https://www.studylight.org/commentaries/acc/luke-18.html [Date of access: 12 March 2020].         [ Links ]

    Coffman, J.B. 1983-1999. Commentary on Luke 18:25. Abilene, Tex.: Abilene Christian University Press. (Coffman commentaries on the Old and New Testament). https://www.studylight.org/commentaries/bcc/luke-18.html [Date of access: 15 February 2020].         [ Links ]

    Hodges, Z.C. & Farstad, A.L. (eds). 1982. The Greek New Testament according to the Majority Text. Nashville, Tenn.: Thomas Nelson.         [ Links ]

    Kilpatrick, G. (ed.). 1965. HKAINH AIA0HKH. London: British and Foreign Bible Society.         [ Links ]

    Loodskomitee kyk Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Loodskomitee vir Direkte Bybelvertaling in Afrikaans.         [ Links ]

    Metzger, B.M. 1975. A textual commentary on the Greek New Testament: A companion volume to the United Bible Societies' Greek New Testament. New York, NY: United Bible Societies.         [ Links ]

    Nederlands Bijbelgenootschap. ca. 2003. Handboek voor de Nieuwe Bijbelvertaling. ca. 2003. (Ongepubliseerd).         [ Links ]

    RKNT kyk Bybelgenootskap van Suid-Afrika: Redaksiekommissie Nuwe Testament.         [ Links ]

    Stendal, R.M. (ed.). 2003. The Jubilee Bible 2000. https://www.biblestudytools.com/jub/luke/18.html [18 March 2020].         [ Links ]

    Zuurmond, R. 2009. De theologie van de Nieuwe Bijbelvertaling. In de Weegschaal 38(9). https://www.karlbarth.nl/zuurmond-theologie-nbv/ [14 Junie 2020].         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2020-06-17
    Goedgekeur: 2020-07-27
    Gepubliseer: Desember 2020

     

     

     

    Gert Johannes Cornelis (Jorrie) Jordaan verwerf die kwalifikasies B.A., M.A. (Grieks), Th.B. en D.Litt. (Grieks) aan die destydse Potchefsroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO). As deel van sy doktorale studies doen hy navorsing oor Nuwe Testa-mentiese Paleografie en Tekskritiek aan Princeton Theological Seminary, V.S.A. Van 1973 tot 1982 is hy 'n dosent in Grieks aan die PU vir CHO. Daarna dien hy as predikant van Gereformeerde Kerke agtereenvolgens in Viljoenskroon/ Bothaville en Vanderbijlpark-Oos. In 1989 word hy aangestel as professor in Nuwe Testamentiese vakke aan die Teologiese Skool Potchefstroom en die Fakulteit Teologie van die PU vir CHO (die latere Noordwes-Universiteit). In hierdie tyd tree hy ook op as redakteur van Die Kerkblad en later as rektor van die Teologiese Skool. Hy is die outeur van 3 akademiese boeke en 27 artikels in vaktydskrifte, en dien in 'n aantal deputaat-skappe van die Gereformeerde Kerke in S.A. In 2016 emeriteer hy.
    Hy was van die begin af by die vertaalprojek van die 2020-vertaling van die Bybel betrokke. Hy was lid van die Loodskomitee van meer as een vertaalspan, die Redaksionele Komitee van die Nuwe Testament, en die Begeleidingskomitee.
    Gert Johannes Cornelis (Jorrie) Jordaan obtained the degrees B.A., M.A. (Greek), Th.B. and D.Litt. (Greek) at the Potchefstroom University for Christian Higher Education. His D.Litt.-studies took him to Princeton Theological Seminary, U.S.A., where he did research on New Testament Palaeography and Text Criticism. From 1973 until 1982 he lectured Greek at the PU for CHE, after which he served as pastor in Reformed Churches consecutively in Viljoens-kroon/Bothaville and Vanderbijlpark East respectively. In 1989 he was appointed professor in New Testament at the Theological School Potchefstroom and the Faculty of Theology of the PU for CHE (currently North-West University). During the next few years he also served as editor of the Die Kerkblad and subsequently as principal of the Theological School. He is the author of 3 academic books and 27 articles in peer-reviewed journals, and served in various deputy groups of the Reformed Churches in South Africa. He retired in 2016.
    Right from the outset he was involved in the translation project of the die 2020 Afrikaans Bible. He was a member of the Launch Committee, various translation teams, the New Testament Editorial Committee, and of the Steering Committee.
    1 Die Wereldbond van Bybelgenootskappe staan in Engels bekend as "United Bible Societies", afgekort as "UBS". In hierdie bespreking word daar, soos algemeen in die vakliteratuur, na die liggaam se verskillende uitgawes van die Griekse Nuwe Testament verwys as UBS/UBS en UBS. Die afkortings verwys onderskeidelik na die vierde uitgawe (Aland et al. 1994) en die derde hersiene uitgawe (Aland et al. 1983) van die WBG se Greek New Testament.
    2 Die afkortings UBS en UBS word albei in die literatuur vir die vierde uitgawe gebruik. In aanhalings in die artikel word die vorm behou soos wat dit in die bronteks voorkom.
    3 Zuurmond (2009:1) wys op die leemte dat "lang niet van iedere vertaling Handboeken beschikbaar zijn waarin de gekozen taalopvatting en de daaruit afgeleide principes helder en klaar beschreven zijn, zoals in het Handboek voor De Nieuwe Bijbelvertaling. De kritische lezer heeft echter met de NBV precies hetzelfde probleem. Want het NBG geeft dit Handboek niet vrij."
    4 Slegs 'n ongepubliseerde weergawe van die handboek (Nederlands Bijbelgenootschap ca.2003) is beskikbaar.
    5 BFBS verwys na die tweede uitgawe van die Griekse teks deur The British and Foreign Bible Society (Kilpatrick 1965). GNTMT verwys na The Greek New Testament according to the Majority Text (Hodges & Farstad 1982).