SciELO - Scientific Electronic Library Online

vol.62 número3Analysing the contributory role of the accounting profession to save our planetEnvironmental identity in the Age of Man: New perspectives on Toorbos. Part 1 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados



Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google


Tydskrif vir Geesteswetenskappe

versão On-line ISSN 2224-7912
versão impressa ISSN 0041-4751

Tydskr. geesteswet. vol.62 no.3 Pretoria Set. 2022 



Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl: 80 jaar van kontroversie


The Afrikaans Language Museum and Monument in Paarl: 80 years of controversy



Jannie Rossouw

Besoekende Professor: Wits Besigheidskool Universiteit van die Witwatersrand Suid-Afrika. E-pos:




Hierdie artikel ontleed kontroversies oor die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl oor 'n tydperk van 80 jaar sedert die eerste oproep om die oprigting van 'n Afrikaanse taalmonument op 14 Augustus 1942 gedoen is. Die ontleding toon aan dat die Afrikaanse Taalmonument in die aanloop tot die oprigting, gedurende die konstruksie, omstreeks die opening en daarna omstrede gebly het. Die huidige twispunt gaan oor die naam van die Afrikaanse Taalmonument en die beplande samesmelting van monumente en museums tot vlagskipstrukture.
Hoewel die Monument 'n bekende baken is, is dit nie in dieselfde mate bekend dat daar ook 'n Afrikaanse Taalmuseum is wat saam met die Monument funksioneer nie. Die twee instellings maak saam die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) uit. Die Monument word wyd bespreek, terwyl die Museum grotendeels uit die openbare oog bly.
Die Monument in die Paarl is nie die enigste Afrikaanse taalmonument nie, maar wel die bekendste en opvallendste. Om hierdie rede bly die Monument in die openbare oog. In die aanloop tot die oprigting van die Monument was die plasing, funksie en simboliek daarvan omstrede. Besluite oor die openingsgeleentheid van die Monument in 1975 het tot heelwat politieke spanning gelei en het sekere mense van die Monument vervreem. Ongelukkig duur die politieke diskoers oor die Monument voort.
Die voortbestaan van die Monument het opnuut in die gedrang gekom nadat die Minister van Sport, Kuns en Kultuur die naam daarvan, naamlik die Afrikaanse Taalmonument, in Maart 2022 bevraagteken het. Intussen het die Minister ontken dat hy ooit die saak geopper het. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur beplan egter die samesmelting van sekere Suid-Afrikaanse monumente en museums onder departementele beheer tot "vlagskipstrukture". In só 'n struktuur bestaan die gevaar dat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument hul identiteite sal verloor. Voorts kan die samesmelting ook die Minister opnuut 'n geleentheid vir naamsverandering bied.
Een alternatief is om die beheer oor die ATM van die sentrale regering te vervreem. Die regering sal egter hiertoe moet instem. Só 'n stap sal egter ernstige finansiêle implikasies hê, want dit sal waarskynlik die einde van die sentrale regering se finansiêle steun aan die ATM beteken.

Trefwoorde: Afrikaans, Afrikaanse Taalmuseum en -monument, kritiek op die Afrikaanse Taalmonument: Paarl, politieke druk, naamsverandering, samesmelting, Suid-Afrikaanse erfenis, taalmonumente, Taalmuseum, vlagskipinstellings


This paper considers the controversies about the Afrikaans Language Monument in Paarl that arose during the period of 80 years since the first call for its erection. The research shows that the Monument was contentious not only in the time leading up to its construction, but at the time of its inauguration as well, a state of affairs that remains to this day, 80 years later.
Thefirst initiative to erect a language monument in Paarl dates back 80 years, to 14 August 1942, on the occasion of a commemoration of the founding of the Fellowship of True Afrikaners (Genootskap van Regte Afrikaners, or GRA) on 14 August 1875. On that occasion, an appeal was made for the erection of an Afrikaans language monument in Paarl. This culminated in the establishment of the Afrikaans language monument committee (ATMK, or Afrikaanse Taalmonumentkomitee), also in 1942.
Although the Monument on Paarl Mountain is a well-known structure, it is not generally known that the Monument functions in conjunction with the Afrikaans Language Museum, also in Paarl. Since the public focus is not on the Museum, it has been spared much of the controversy surrounding the Monument. The Museum, situated in the centre of Paarl, was inaugurated on 14 August 1975, commemorating the founding of the GRA in the same building a century earlier. The Monument and Museum form part of the same entity: the Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in Afrikaans (in English the Afrikaans Language Museum and Monument).
The use of the name of the town where the Afrikaans Language Monument is situated in the title of this paper is deliberate, as it is necessary to distinguish the Monument concerned from other Afrikaans language monuments. More than 20 other structures on public record commemorate the Afrikaans language in South Africa, although they are not on the scale of the Afrikaans Language Monument in Paarl.
Before, during and since the construction of the Monument, the most important controversies concerned matters such as its location, function and symbolism. A political controversy developed in the period before its inauguration on 10 October 1975. These historic controversies were called to mind by new political controversies about the Monument's name and its operational structure.
Three different schools of thought about the location of the Monument prevailed at the time, one of which was closely associated with its function. The first group lobbied for a monument located in the centre of Paarl. Another lobby group (driven by one person) favoured the establishment, at Kleinbosch near Paarl, of a "living" monument aimed at Afrikaans linguistics research rather than a physical or symbolic monument. The third group, which had its way, preferred the erection of the monument on the foothills of Paarl Mountain.
Debates about the function of the Monument were linked to the debate about its location. The basis of the debate was the choice between a symbolic structure and a functional Afrikaans research centre. The final outcome was that the Monument was to be a symbolic structure, while the Museum functions as an Afrikaans research centre.
Although the general symbolism embodied in the Monument reflects the origin and growth of Afrikaans as a language, the inclusion of the influence of indigenous languages on the development of Afrikaans in the design evoked limited but strong opposition. This criticism was misplaced, as the influence of indigenous languages on Afrikaans is clear from words such as dagga, dagha, boegoe, kwagga, aikona, donga, tambotie, konka, kierie, makietie, indaba, pasella, kaia, lobola, njala, tokkelossie, mamparra and tollie.
Political issues from the time of the inauguration of the Monument in 1975 are still present today. In 1975, South Africa had an apartheid government, and many critics maintained that the government "hijacked" the Monument as a symbol of Afrikaner-Nationalism. Another political factor at the time was the initial intention to exclude certain racial and language groups from the inauguration ceremony. This political dilemma was defused by inviting to the inauguration people from race and language groups other than white Afrikaans speakers.
The Monument still has to deal with controversial political issues. In March 2022, the Minister of Sport, Arts and Culture questioned the use of Afrikaans in the name of the Monument, suggesting that it should be changed to be more "inclusive". Following widespread public opposition to this suggestion, the Minister denied that he ever raised the matter. The response of the Minister is in itself problematic.
The Department of Sport, Arts and Culture embarked on an initiative to merge museums and monuments into "flagship institutions". Once this plan is implemented, the ATM will be merged with the National Library of South Africa (NLSA), the South African Library for the Blind (SALB) and the Amazwi South African Museum of Literature. The name of this flagship institution is still to be determined, but such a merger will give the Minister an opportunity to bring about the name change of the Afrikaans Language Monument through a back door, for example by naming the Monument after the flagship institution.
An alternative would be to move control of the ATM away from the central government, although the central government would have to agree to any such step. There is more than one option for a new control structure, but, at the same time, there are serious financial implications, because currently the ATM receives financial support from the central government. The Afrikaans Language Monument has proved to be controversial for more than 80 years. Its name is now the biggest issue that makes previous controversies seem like light skirmishes only.

Keywords: Afrikaans, Afrikaans Language Museum and Monument, criticism of the Afrikaans Language Monument: Paarl, flagship institutions, language monuments, language museum, merger, name change, political pressure, South African heritage



1. Agtergrond1

'n Artikel met die titel "Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl: 40 jaar later" (Van Zyl & Rossouw, 2016) het in 2016 in hierdie tydskrif verskyn. Dit was by geleentheid van die viering van die 40e bestaansjaar van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl. Daardie artikel het onder meer die historiese konteks van en die kontroversie rondom die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument bespreek. Verdere verwikkelinge sedert 2016 noodsaak egter verdere navorsing oor die toekoms van die ATM.

'n Voorstel om 'n monument vir die Afrikaanse taal in die Paarl op te rig is 80 jaar gelede, op 14 Augustus 1942, vir die eerste keer formeel geopper. Dit was tydens 'n seremoniele onthulling van 'n gedenkplaat in die Kleinbosch-begraafplaas buite die Paarl ter ere van ds. SJ du Toit en mnre. DF du Toit en PJ Malherbe,2 drie stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), wat daar begrawe is. Die onthullingsplegtigheid is op 26 September 1942 opgevolg met 'n openbare vergadering in die Paarlse stadsaal waartydens die Afrikaanse Taalmonumentkomitee (ATMK) gestig is. Ds. PJ Loots, 'n predikant en gemeenskapsleier in die Paarl, is tot voorsitter verkies. Die oogmerk van die ATMK was om 'n Afrikaanse Taalmonument in die Paarl tot stand te bring.

Die opening van die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl het op 14 Augustus 1975 plaasgevind, en die inwyding van die Monument op 10 Oktober 1975. Die volgorde van die opening en inwyding bepaal die struktuur van die volle naam van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, met "museum" wat eerste gemeld word.

Die inwyding van die Monument, wat met groot feesvieringe en koorsang gepaardgegaan het, is deur die toenmalige eerste minister van Suid-Afrika, adv. BJ Vorster, waargeneem. Dit is deur meer as 40 000 mense bygewoon (Die Burger, 1975). Vorster het die oprigting van die Monument beskryf as 'n bewys van Afrikaners en Afrikaans se reg om in Afrika te wees (Vorster, 1975).

Die Afrikaanse Taalmonument is teen die hange van Paarlberg opgerig. Die Museum, wat nie so bekend as die Monument is nie, word gehuisves in die destydse woonhuis van mnr. Gideon Malherbe, waar die GRA op 14 Augustus 1875 gestig is.

Die Afrikaanse Taalmuseum is 'n onderskatte kultuurbate, want dit word deur die Monument teen die hange van Paarlberg oorskadu. Terwyl daar verskeie Afrikaanse taalmonumente bestaan (soos hier onder genoem word), is die Museum 'n unieke kultuurbate. Dit huisves 'n groot aantal Afrikaanse tekste, en gedeeltes van die Museum is so gerestoureer dat dit ooreenstem met die uitleg van die huis in 1875 (Die Afrikaanse Taalmuseum, 2015). Die Museum is op navorsing gerig, en het 'n leeskamer en ander navorsingsfasiliteite.

Die ATM ontvang jaarliks 'n subsidie van die staat (die Departement Sport, Kuns en Kultuur, of DSKK). Die ATM is 'n agentskap van die DSKK en die subsidie stel die ATM in staat om te verseker dat alle werksaamhede kan voortgaan. Hierdie fondse word aangevul met inkomste uit ander projekte en toegangsgelde by die Museum en Monument. Sonder die staatsubsidie kan die ATM finansieel nie oorleef nie, want die subsidie verteenwoordig die grootste persentasie van die ATM se jaarlikse inkomste. Die ATM word bestuur deur 'n Beheerraad, ondersteun deur 'n Oudit- en Risikokomitee en 'n Vergoedingskomitee. Die permanente personeelkorps van die ATM staan onder die leierskap van die Direkteur van die ATM.

Die gebruik van die woord Paarl in die titel van hierdie artikel is nie toevallig nie. Die artikel handel oor die Monument teen Paarlberg, maar daar is verskeie ander Afrikaanse taalmonumente in Suid-Afrika. Die Monument in die Paarl is bloot die bekendste en sigbaarste. In Burgersdorp is 'n monument opgerig nä die aanvaarding, op 9 Junie 1882, van Nederlands as amptelike taal naas Engels in die Parlement van die destydse Kaapkolonie ("Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika", s.j.). Hierdie monument is op 18 Januarie 1893 onthul en word beskou as die eerste taalmonument in Suid-Afrika (De Afrikander Handelshuis, 2016).

Verskeie ander Afrikaanse taalmonumente is deur die jare opgerig (sien byvoorbeeld Carstens & Raidt, 2019:579-590). Die Afrikaanse Taalmonument in Kroonstad3 is op 28 Maart 1960 deur neef4 Ferdie van Rensburg onthul. Die Afrikaanse Taalmonument in Welkom is op 20 Augustus 1960 deur prof. DF Malherbe5 onthul (Swart, 1989). Die oprigting van hierdie twee Afrikaanse taalmonumente staan teen die agtergrond van die landwye taalfees in 1959 wat deel uitgemaak het van en saamgeval het met die vyftigjarige bestaansvieringe van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die dertigjarige bestaansvieringe van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) (Venter, 1959). 'n Skool is ook in hierdie jaar opgerig met 'n naam wat die taalfees in herinnering roep, naamlik die Laerskool Taalfees in Witbank (vandag eMalahleni). Die tema van die taalfeesvieringe was "Die Wonder van Afrikaans".

Die Suid-Afrikaanse regering het 1975 tot "Taaljaar" verklaar (LitNet, 2016) en afgesien van die Monument in die Paarl is ander Afrikaanse taalmonumente of gedenkplate ter herdenking van Taaljaar ook opgerig. Die volgende Afrikaanse taalmonumente en gedenkplate hou almal verband met die Taaljaar:

Onthulling in 1975: Aberdeen, Belfast, Burgersfort, Ermelo, Johannesburg, Lichten-burg, Makhado (Louis Trichardt), Montagu, Ohrigstad, Oos-Londen, Petrus Steyn, Reddersburg, Reitz, Riebeeck-Kasteel, Springbok, Touwsrivier, Trompsburg, Ventersdorp

Onthulling in 1976: Delareyville, Worcester

Daar is in in 2014 'n Afrikaanse Taalmonument in Windhoek (Namibie) opgerig.

Die struktuur van die artikel hierna is soos volg: Afdeling 2 gee kortliks agtergrond oor die aanloop, konstruksie en simboliek van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. In afdeling 3 word historiese en kontemporere kontroversies oor die monument bespreek. Die gevolgtrekkings volg in afdeling 4.


2. Aanloop, oprigting en simboliek van die Afrikaanse Taalmonument, Paarl6

Die oogmerk van die ATMK was om fondse in te samel vir die oprigting van 'n taalmonument vir Afrikaans in die Paarl en die toekenning van beurse aan studente wat op 'n intensiewe studie van die Afrikaanse taal fokus (ATMK-notule, 26 Oktober 1942). Die Afrikaanse Taal-en Kultuurbond (ATKB) (sedert 1991 opgeneem in die ATKV) was vanaf 1963 intensief by die werksaamhede van en fondsinsameling deur die ATMK betrokke en het mettertyd op eie koste al die administratiewe en sekretariele pligte oorgeneem (ATMK-Jaarvergaderingnotule, 15 Maart 1963). Die regering het voorwaardelik finansiele steun beloof, maar met die voor-behoud dat die volle bedrag vir die oprigtingskoste ingesamel moes word voordat daar met die bouwerk van die Monument begin kon word (ATMK-notule, 26 Oktober 1942).

Ten spyte van die feit dat fondse teen 'n trae tempo ingesamel is, het die ATMK in 1964 'n kompetisie vir die ontwerp van die monument uitgeskryf (ATMK-Werkskomiteenotule, 11 November 1964). Die ontwerpvoorstel van mnr. JC (Jan) van Wijk is as wenontwerp aangewys (ATMK-Werkskomiteenotule, 24 Januarie 1966; Van Wijk, 2014:41).

'n Stuk grond van ongeveer 85 ha teen die hange van Paarlberg is deur die Paarlse Stadsraad beskikbaar gestel vir die oprigting van die Monument (ATMK-notule, 21 Februarie 1964). Van Wijk het die geskikste plek vir die plasing van die Monument op hierdie grond bepaal (e-pos Erna van Wijk, 14 Maart 2014).

Van Wijk het sekere beginsels as uitgangspunt vir die ontwerp gebruik. Die eerste was dat die Monument by die natuurlike omgewing moes inskakel en dit moes aanvul. Voorts het hy 'n beeld van Afrikaans gesoek (Van Wijk, 2014:23) en het aanklank gevind by die woorde van sen. CJ Langenhoven, wat Afrikaans as 'n snelstygende boog beskryf. Derdens het Van Wijk die woorde van prof. NP van Wyk Louw gebruik, wat Afrikaans beskryf as die taal wat Wes-Europa en Afrika soos 'n brug verbind. In die ontwerp word die invloed van inheemse Afrikatale op Afrikaans deur drie koepels gesimboliseer. Die invloed van die Maleise taal en kultuur op Afrikaans word deur 'n muur op die trapaantrede van die Monument voorgestel. Links van die podium tot die Monument is drie suile wat Wes-Europese tale en kulture verteenwoordig (Nederlands, Frans, Duits, Portugees en ander) wat in Afrikaans neerslag gevind het. Die podium verteenwoordig die suidpunt van Afrika. Die hoofsuil van die Monument stel die snelstygende boog van Afrikaans en sy versnellende groei voor. Die suil staan in 'n poel water wat Afrikaans simboliseer as 'n lewende, groeiende entiteit wat lewensonderhoud vir sy voortbestaan nodig het. Die skerp lyne van die suil beeld die tweesnydende swaard uit, soos deur NP van Wyk Louw beskryf. Die ligspel wat binne die brug plaasvind as gevolg van die waterpoel, saam met die perforasies in die hoofsuil, versinnebeeld die taal as glansende werktuig. Die tweede suil van die monument is die republieksuil, wat Suid-Afrika uitbeeld. Dit is oop na die Afrika-vasteland om die interaksie tussen Afrikaans, Suid-Afrika en Afrika uit te beeld (Die Afrikaanse Taalmonument, 2014; ATMK-Werkskomiteenotule, 15 Februarie 1968). Die Monument is gebou met 'n betonmengsel wat bestaan uit sement, wit sand en Paarl-graniet. Dit het verseker dat die monument by die natuurlike omgewing aanpas (ATM-monumentboekie). Daar is ook 'n opelugamfiteater op die terrein ingerig, wat vir die opening in 1975 gebruik is, en sedertdien vir kulturele geleenthede en konserte gebruik word.

Die totale boukoste van die monument en amfiteater (slegs die geboue, uitgesonderd terreinontwikkeling en -infrastruktuur) het uiteindelik R1 061 411,45 beloop (brief van Jan van Wijk, 30 Julie 1976). Aangepas vir inflasie sedert 1975 beloop dit sowat R60 miljoen teen huidige waarde. Die boukoste is gefinansier uit die bydraes wat deur die jare sedert die stigting van die ATMK ingesamel is, en is aangevul deur 'n bydrae van die destydse regering (ATMK-Werkskomiteenotule 23 Maart 1973; Pieters, s.j. 46).


3. Historiese en kontemporere kontroversie oor die Afrikaanse Taalmonument

Monumente is dikwels onderhewig aan subjektiewe kritiek (Smith, 2013:58). Eldridge haal King aan, wat beweer dat monumente dikwels omstrede is. In die aanloop tot die oprigting van monumente en daarna is daar dikwels meningsverskil oor die boodskap wat die monument moet oordra en ook oor die wyse waarop dit oorgedra word (Eldridge, 2003:25).

Die Afrikaanse Taalmonument is geen uitsondering nie. Daar was omstredenheid voor, tydens die bou en met die inwyding van die monument, en dit duur steeds voort. Aanvanklik moes die ATMK dus kontroversie oor feitlik elke faset van die projek hanteer en in afgelope jare hanteer die Beheerraad en personeel van die ATM hierdie omstredenheid. Histories het dit gehandel oor die ligging, die voorkoms, die aard of funksie, die simboliek en die politieke ondertoon van die Monument, en die vraag of dit hoegenaamd opgerig moet word. Die jongste twispunt gaan oor die naam van die Afrikaanse Taalmuseum en die outonomie van die organisasiestruktuur waarbinne die ATM funksioneer.

3.1 Historiese kontroversies7

3.1.1 Ligging van die monument

Die eerste meningsverskil was oor die ligging van die Monument. Sekere lede van die ATMK was van mening dat die Monument oorkant die huidige Afrikaanse Taalmuseum in die Paarlse middedorp opgerig moet word. Dit sou die verbintenis met die Museum bevestig. Hierdie voorkeur is gesteun deur die toenmalige Historiese Monumentekommissie (HMK) (ATMK-Werkskomiteenotule, 16 Augustus 1963; sien ook Die Huisgenoot, 1950:12). Die HMK het aanvanklik geweier om die plasing van die Monument teen Paarlberg te oorweeg omdat die berg op 25 Oktober 1963 tot 'n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Die HMK was van mening dat die natuurlike omgewing deur die Monument geskend sou word (ATMK-notule, 1 November 1963).

Die kritiek op die voorstel dat 'n monument in die Paarlse middedorp geplaas word, was dat die monument baie groter en grootser moes wees as wat die beperkte beskikbare ruimte sou toelaat. Die meerderheid van die lede van die ATMK was ten gunste van 'n voorstel om die Monument teen Paarlberg op te rig (ATMK-notule, 9 November 1962). Die ATMK het in 1964 besluit dat die Monument op die huidige terrein opgerig sou word (ATMK-notule, 21 Februarie 1964).

Adv. WA de Klerk, 'n lid van die ATMK, was nie net gekant teen die bergterrein nie, maar ook teen 'n monument in die Paarlse middedorp. Volgens De Klerk moes die monument "ontwikkel" word op 'n plek wat na sy mening 'n sterker verbintenis met die ontstaan van die Afrikaanse taal het (Die Burger, 1971; De Klerk, 1974; Pakendorf, 1992). Hy het Kleinbosch buite die Paarl (die familieplaas van die Du Toits en Malherbes) vir hierdie doel geidentifiseer (Coombes, 2003:46). Dit is ook die terrein waar die gedenkplaat by die begraafplaas in 1942 onthul is en waar die idee van 'n Afrikaanse taalmonument in die Paarl in die eerste instansie geopper is. Voorts was De Klerk se voorkeur die ontwikkeling van 'n "lewende monument", gefokus op literatuurnavorsing, eerder as 'n simboliese struktuur.

3.1.2 Funksie, simboliek en voorkoms

Vrae oor die aard en funksie van die monument vir die Afrikaanse taal is dikwels geopper in besprekings van die ATMK. Daar was 'n gevoel dat 'n taal "nie iets is wat jy gaan besigtig nie" (Die Suid-Afrikaan, 1995:33), maar dat dit liefs moet voortleef in die prestasies daarvan soos uitgedruk in konkrete geskrifte (Van Niekerk, 2000:6). Uiteindelik het die ATMK besluit op 'n simboliese monument, saam met die Afrikaanse Taalmuseum, wat die droom van 'n Afrikaanse navorsinginstituut sou vervul (Van Wijk, 2014:21-22).

Loots, die eerste voorsitter van die AMTK (ATMK-notule, 20 Oktober 1942), was vanuit die staanspoor haaks met die ander komiteelede oor die simboliek van die monument. Volgens Loots moes die simboliek 'n baie groter ereplek gee aan die rol van die kerk en die Bybelver-talers in die totstandkoming van Afrikaans as wat die AMTK beoog het. Pieters (s.j.:47) wys egter daarop dat Loots gefouteer het. Die kerk het nie die ontwikkeling van Afrikaans ondersteun nie en het aan Hollands voorkeur gegee (Pieters, (s.j.:47).

Loots se verdere kritiek was dat die erkenning wat die ontwerp van die Monument aan inheemse tale verleen, "histories 'n leuen" is (ATMK-notules; Beningfield, 2004:154). Dit is onkundige kritiek deur Loots, want 'n nuwe taal word noodwendig bei'nvloed deur die inheemse tale van dieselfde omgewing (Van Rensburg, 2012:16-17; Le Cordeur, 2010a; Le Cordeur, 2010b). Van Zyl (2013) dui aan dat nuwe tale in 'n mark- of arbeidsituasie ontwikkel waar die partye nie mekaar se tale verstaan nie. Albei situasies was aan die Kaap aanwesig, waar die VOC-amptenare met die Khoi ruilhandel gedryf het (marksituasie) en hulle ook as arbeiders in diens geneem het (arbeidsituasie) (Van Zyl, 2013). Die voorkoms van woorde soos dagga, dagha, boegoe, kwagga, aikôna, donga, tambotie, konka, kierie, makietie, indaba, pasella, kaia, lobola, njala, tokkelossie, mamparra en tollie in Afrikaans bevestig dat Loots gefouteer het (sien o.a. Steyn, 2014).

Die voorkoms van die Monument is steeds 'n debatspunt. Dit is onder meer as 'n falliese simbool beskryf (Huigen, 2008:156), wat manlik gedomineerde oorheersing impliseer. 'n Interessante gevolg van hierdie beskrywing is 'n advertensie vir die bemarking van kondome wat in die 1990's verskyn het, met 'n afbeelding van die Afrikaanse Taalmonument daarby (Pieters, s.j.:42).

Volgens Coombes het die destydse hoof van die Dal Josafat-kunsstigting, mnr. Hardy Botha, die Monument 'n "mausoleum", 'n "lifeless monstrosity" en 'n "disgusting thing" genoem (2003:46). Sommige respondente in die navorsing oor die Monument wat deur Smith onderneem is, het die Monument as "odd" beskryf, terwyl beskrywings soos "vreemd dog interessant", "bisar" en "beslis aaklig" ook gerapporteer is (Smith, 2013:249).

Die indrukwekkende voorkoms van die Monument word onderstreep deur die feit dat dit opgeneem is in 'n boek oor die wêreld se 500 mees ikoniese argitektoniese strukture (Cattermole, 2008:383). Die Monument is die enigste Suid-Afrikaanse struktuur of gebou wat op hierdie wyse vereer is.

3.1.3 Politiek

Reeds voor die inwyding en sedertdien staan die Monument midde-in die politiek, ten spyte van pogings om dit te vermy. In die aanloop tot die inwyding van die Monument het sake 'n besliste politieke kleur gekry. Hugo verklaar dat die destydse Nasionale Party-regering Afrikaans met die inwyding van die Monument openlik as 'n kragtige simbool van Afrikanernasionalisme gekaap het (2009:109). Die regering het onder meer 1975 tot Taaljaar verklaar.

Voorts het die rol van verskillende Afrikaanssprekende bevolkingsgroepe by die inwyding van die monument op 10 Oktober 1975 politieke ondertone gehad. De Klerk het reeds in 1968 gemaan dat bruin mense van die begin af by die proses ingeskakel moes word, terwyl sommige ATMK-komiteelede van mening was dat ook swart mense en Engelssprekendes van alle rasse by die inwyding betrek moes word (ATMK-notule, 22 November 1968). Die ATMK het inderdaad (maar te laat) besluit dat al hierdie groepe by die inwydingseremonie betrek moes word, waarskynlik onder druk van die destydse regering (Sunday Times, 1975).

Ná 1994 is inisiatiewe begin om hierdie gaping te oorbrug en die beeld van die Museum en Monument te transformeer. Afrikaans en sy verhouding met die ander amptelike tale in Suid-Afrika bly steeds 'n sogenaamde "site of contestation" (Simos, 2012:1; Smith, 2013:135). Verskeie respondente in Smith se navorsing het die Monument op negatiewe wyse geassosieer met die apartheidsera (2013:244-245), maar die Monument het baie min politieke konnotasies vir oorsese besoekers, volgens Smith (2013:245).

3.2 Kontemporêre kontroversie

Die ATM werk doelgerig daaraan om die Monument te herposisioneer as 'n kulturele baken, eerder as politieke ikoon. Die ATM-beheerraad het die beeld van die Monument getransformeer sodat meer mense daarmee kan assosieer. Hierdie doelwit word bereik deur 'n wye verskeidenheid van geleenthede by die Monument aan te bied wat die breê Suid-Afrikaanse publiek teiken. Die uitstallings in die Museum is vernuwe met die oog op 'n meer inklusiewe hervertelling van die verhaal van Afrikaans in al sy fasette.

Kotze en Senekal (2020) het met die gebruik van onder meer sosiale medianavorsing bevind dat " ... not only white people visit this monument to Afrikaans, but ... (other races) ... also take pictures ... and post about it on ... social media platforms. As such, we show that the interest in this monument - just like the language itself - is not exclusively tied to one race." Kotze en Senekal (2020) toon dus die sukses van die transformasie-inisiatiewe van die ATM. Volgens hulle is die Monument lank nie meer die "eksklusiewe eiendom" van 'n enkele bevolkingsgroep in Suid-Afrika nie.

Ten spyte van die transformasiedoelwitte van die ATM is daar steeds wantroue in die pogings om mense uit 'n wyer agtergrond te betrek. Hierdie inisiatiewe is by geleentheid selfs as "flying a flag of convenience" en die bedryf van "selective history" beskryf (Smith, 2013:267).

3.2.1 Politiek (weer 'n keer)

Die ATM, en spesifiek die Monument, bly nie uit die politieke spervuur nie. Soos in 1975 die geval was, het politiek ná die bewindsveranderings van 1994 weer kop uitgesteek. In 2002 is daar van owerheidsweê voorgestel dat die Afrikaanse Taalmonument 'n monument vir alle tale in Suid-Afrika word, en nie slegs vir Afrikaans nie. Die gedagte is heftig teengestaan, onder andere deur die toenmalige Direkteur van die ATM, mnr. JP (Jack) Louw. Louw het in 'n brief aan die Nasionale Vergadering verklaar dat pogings om die simboliek, wat uiters spesifiek op die herkoms van Afrikaans gerig is, te manipuleer om "gelyke simboliese betekenis vir al elf amptelike tale in die Taalmonument te vind", op karaktermoord sou neerkom (Brief, 19 November 2002).

Volgens Smith het die ATM deur middel van erkenning en bevordering van Afrikaans die simbool van die hernieude stryd om die behoud van die taal geword (2003:136). Die Suid-Afrikaanse nasie het egter 'n "tumultuous history which has left people scarred and deeply suspicious" (Hauptfleisch aangehaal in Smith, 2003). Afrikaans word steeds in sekere kringe geassosieer met die apartheidsregering wat voor 1994 aan bewind was. Dit lei tot 'n weersin in die taal by 'n groot persentasie van die Suid-Afrikaanse bevolking (Smith, 2013:134).

Die Afrikaanse Taalmonument het opnuut die onderwerp van politieke twis geword ná die uitsprake van die huidige Minister van Sport, Kuns en Kultuur, mnr. Nathi Mthethwa. Die ATM het op 18 Mei 2022 in 'n mediavrystelling soos volg verklaar (ATM 2022):

Dit is korrek dat die agbare minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, op 10 Maart 2022 in Pretoria gesê het dat die ATM se naam moet verander. Dit was tydens die jaarlikse ondertekeningseremonie van die aandeelhouerkompakooreenkoms tussen die Departement en alle hoofde en voorsitters van die openbare entiteite wat onder sy portefeulje val.

In reaksie het die instelling besluit om 'n konsultasieproses van stapel te stuur om die haalbaarheid van 'n moontlike naamsverandering te ondersoek. Die eerste stap is om 'n strategiese beplanningsessie met die ATM-raadslede op 26 en 27 Mei 2022 te hou, gevolg deur 'n openbare vergadering op 28 Mei in die Paarl waartydens die publiek se insette gevra sal word. Tot dan verkies die ATM se raad en bestuur om nie verdere openbare kommentaar te lewer nie om sodoende nie die proses vooruit te loop nie.

Die verklaring deur die ATM-raad het die spreekwoordelike knuppel in die hoenderhok gegooi. Op die openbare vergadering van 28 Mei 2022 het die aanwesige lede van die publiek en verteenwoordigers van politieke partye en die burgerlike samelewing almal oorweldigende steun vir die behoud van die naam Afrikaanse Taalmonument uitgespreek.

Van Heerden (2022) verskaf 'n omvattende bespreking van die kommentare en besware wat tydens die vergadering geopper is. Van Heerden (2022) rapporteer dat besware teen die moontlike naamsverandering uit verskeie oorde en deur verskeie persone uitgespreek is, terwyl daar tydens die vergadering geen steun vir 'n verandering van die naam van die ATM, die museum of die monument was nie. Volgens Van Heerden (2022) het dr. Corné Mulder (Parlementêre Hoofsweep van die Vryheidsfront+, die VF+), me. Alana Bailey (Afriforum), mnre. Willie Aucamp (LP vir die Demokratiese Alliansie, die DA), Mark Johannes (lid van die Awê Musiekgroep), Pieter Marais (LPW van die VF+ en lid van die Griekwa-koningshuis), Gerhard Pretorius (FAK), Désirée van der Walt (LP van die DA) Danie van Wyk (uitvoerende voorsitter van die DAK8-netwerk), en twee ongeidentifiseerde sprekers teen die naamsverandering beswaar gemaak. Die besware het hoofsaaklik gefokus op:

Afrikaans as 'n taal om op trots te wees;

Die behoud van die naam Afrikaanse Taalmonument en teenkanting teen politieke of ander pogings om dit te verander;

Die grondwetlike beskerming wat Afrikaans geniet;

Die erkenning van Afrikaans as 'n inheemse taal in Suid-Afrika;

Die ekonomiese voordeel vir die plaaslike ekonomie van die Paarl wat spruit uit die besoekers aan die Afrikaanse Taalmonument;

Die inklusiwiteit van die Afrikaanse Taalmonument vir alle Afrikaanssprekendes; en

Die Suid-Afrikaanse wortels van Afrikaans;

Die DA het die gesprek opgevolg met 'n versoekskrif aan die ATM (e-pos van Leon Schreiber, 2 Junie 2022) waarin -

[d]ie DA ... 'n dringende beroep ... (doen) ... op die bestuur van die Afrikaanse Taalmonument om nie die knie te buig voor die waansin van Nathi Mthethwa en die ANC nie. Eerder as om monumente van hul betekenis te stroop en ons diversiteit te probeer aanval, behoort Suid-Afrika se ryk en diverse taalerfenis gekoester en beskerm te word.

Die FAK het 'n versoekskrif aan Mthethwa gerig waarin beswaar gemaak word teen die voorgestelde naamsverandering. Mthethwa het egter geweier om die versoekskrif in ontvangs te neem en ontken dat hy ooit gesê het dat die Monument se naam moet verander (Heyns, 2022).9 Volgens Heyns (2022) het 'n beampte van die DSKK, mnr. Simon Nkanunu, in 'n brief aan die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Sport, Kuns en Kultuur beweer dat Mthethwa by onbevestigde gerugte betrek word en nooit gevra het dat die naam verander word nie (sien ook Nienaber, 2022a).

Tydens die bespreking van die begrotingspos van Die Presidensie in die Parlement op 9 en 10 Junie 2022 het dr. Pieter Groenewald, die leier van die Vryheidsfront Plus (VF+) in die Parlement, die kontroversiêle naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument geopper. Groenewald het gesê (2022):

Die kwessie van Afrikaans is ook belangrik. Die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, dreig om die woord Afrikaans uit die Afrikaanse Taalmonument en museum te verwyder. Dit terwyl daar waarskynlik nie nog 'n monument in Suid-Afrika is wat meer inklusief is en meer erkenning gee aan ander tale soos die Nguni- en Khoi-San-tale nie.

In reaksie op Groenewald se toespraak het pres. Cyril Ramaphosa in sy "Repliek op die Begrotingsposdebat" (2022a) gesê:

Honourable Groenewald ... raised the issue of the Afrikaanse Taalmonument and I said that from what I heard from Minister Mthethwa, that was not the case, but he has said that he wants to have a further discussion with me on this matter.

Dit is interessant dat hierdie opmerking van Ramaphosa (2022a) in sy repliek in die Parlement nie in die gepubliseerde teks van die "Repliek op die Begrotingsposdebat" (2022b) voorkom nie. Die opmerking in die Parlement word gesien as 'n aanduiding daarvan dat die regering en Mthethwa -

nooit van voorneme was om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander nie, soos in die skrywe van Nkanunu gemeld is; of

van die voorneme om die ATM se naam te verander, afgesien het.

Beide die VF+ en die DA het positief op hierdie reaksie deur Ramaphosa gereageer en vertolk dit as bevestiging dat die naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument nie langer op die politieke agenda is nie. Uit hul reaksie op Ramaphosa se standpunt in die Parlement blyk dat beide die VF+ en die DA van mening is dat die tweede moontlikheid (dat van die voorneme afgesien is) die korrekte interpretasie is. Trouens, enige interpretasie dat Mthethwa kwansuis nooit 'n naamsverandering geopper het nie, is ongeloofwaardig.

Barnard (2022) rapporteer "(d)ie VF Plus verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se uitlating dat daar geen voorneme is om die Afrikaanse Taalmonument en -museum [sic] (ATM) se naam te verander nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die party". Groenewald het egter bygevoeg dat " ... daar nogtans gewaak moet word teen subtiele druk wat die minister en die regering steeds op die ATM-raad kan plaas om die naam te verander" (Barnard, 2022).

Die DA het by wyse van 'n mediaverklaring deur me. Veronica van Dyk (Demokratiese Alliansie, 2022) soos volg gereageer:

Die DA verwelkom president Cyril Ramaphosa se versekering vandag in die Parlement dat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument nie gedwing sal word om sy naam te verander nie. ... Sou die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, ooit weer terugloop op sy besluit rakende die naam van die Afrikaanse Taalmonument, sal die DA dit weer teenstaan. Ons sal nie toelaat dat enige inheemse tale, insluitend Afrikaans, vertrap word nie. Ons versoek ook steeds dat Minister Mthethwa onomwonde op 'n openbare platform sy besluit om nie die ATM se naam te verander nie, bekendmaak.

Intussen berig Van der Westhuizen (2022) dat Mthethwa in antwoord op 'n Parlementêre vraag verklaar het dat daar geen beleid is om die naam van die Afrikaanse Taalmuseum of die Afrikaanse Taalmonument te verander nie. Die Ministerie en die DSKK het geen beleid om die woord Afrikaans uit die Monument se naam te verwyder nie (Van der Westhuizen, 2022). Mthethwa het egter bygevoeg dat die departementele beleid bloot verander is sodat elke entiteit onder die DSKK se beheer minstens een inheemse taal aan boord neem (Van der Westhuizen, 2022). Die volle Engelse bewoording van die Mthethwa se Parlementêre antwoord is die volgende (Parliamentary Question, 2022):

No such policy has been made by the Department or the Ministry to remove Afrikaans from the name of the Afrikaanse Taalmuseum en monument. So there will be no name change on the ATM. We have charged our entities to ensure that as part of the language development, the entity should take on board at least one indigenous language.

Dit is totaal onduidelik wat "inheemse taal aan boord neem" vir die Afrikaanse Taalmonument inhou.

Die waarheid is die grootste slagoffer van die politieke twis wat oor die naam van die Afrikaanse Taalmonument ontstaan het, gegewe die optrede van Mthethwa. Groenewald het gelyk dat waaksaamheid nodig is " ... teen subtiele druk wat die minister en die regering steeds op die ATM-raad kan plaas om die naam te verander" (Barnard, 2022). Die Demokratiese Alliansie (2022) is korrek in sy opmerking oor die gevaar dat "... die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa ... terugloop op sy besluit rakende die naam van die Afrikaanse Taalmonument ...".10 Politieke druk vir 'n naamsverandering kan opnuut kop uitsteek. Dit is egter nie die enigste saak wat die Afrikaanse Taalmonument se naam in gevaar stel nie.

3.2.2 Rasionalisasie

Die DSKK het 'n rasionalisasieplan vir museums en monumente onder sy beheer ontwikkel. Hiervolgens word beplan om bestaande museums en monumente hul outonomie te ontneem en die instellings in groter vlagskipinstellings ("flagship institutions") saam te snoer.

Die plan word gemotiveer op grond van besparings wat na bewering deur groter vlagskipinstellings behaal kan word, teenoor die kostestruktuur van individuele outonome instellings. Die verwagte besparings is bereken op grond van 'n aantal aannames, wat onder meer die rasionalisasie van beheerrade van hierdie instellings en 'n mate van personeel-rasionalisasie insluit. Of rasionalisasie wel die verwagte besparings sal meebring, sal net die tyd leer.

Kragtens hierdie plan sal vier instellings op die gebied van taal en literatuur (language and literature) saamgegroepeer word in 'n nuwe vlagskipinstelling. Die betrokke instellings is die volgende:

Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika (National Library of South Africa, of NLSA);

Suid-Afrikaanse Biblioteek vir die Blindes (South African Library for the Blind, of SALB);

Amawazi Suid-Afrikaanse Museum vir Literatuur (Amazwi South African Museum of Literature); en

Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM).

Die naam van hierdie vlagskipinstelling moet nog bepaal word. Die rasionalisasie bied egter aan Mthethwa 'n gulde geleentheid om die naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonu-ment deur die agterdeur te bewerkstellig, byvoorbeeld deur die Monument na die vlag-skipinstelling te vernoem.

Die opmerking van Mthethwa oor 'n verandering van die naam van die Afrikaanse Taalmonument, wat intussen ontken is, kan dus moontlik slegs 'n rookskerm wees vir die implementering van die groter rasionalisasieplan waarbinne Mthethwa sy doelwit met 'n naamsverandering kan bereik. Dit sal in daardie omstandighede nodig wees vir die publiek, die burgerlike samelewing en politieke partye om dieselfde druk uit te oefen as wat die geval met Mthethwa se direkte aanslag op die naam was.

Historiese skermutselinge in die aanloop tot die oprigting van die Afrikaanse Taalmonu-ment op Paarlberg, kritiek op die aanwending en ontwerp, probleme met die inwydingseremonie en kommentaar op die struktuur en voorkoms word verdwerg deur die huidige aanslag teen die aard en voortbestaan van die Afrikaanse Taalmonument. Jukskeibrekers in die aanloop tot die oprigting van die Monument en in die tydperk daarna kon in hul wildste drome nie die huidige aanslag voorsien nie.

3.2.3 Onafhanklikheid

'n Alternatief teen die aanslag van Mthethwa is om die ATM onafhanklik van die Suid-Afrikaanse regering te maak. Dit sal die "gesag" ophef wat die regering, die Minister en die DSKK tans oor die ATM uitoefen op grond van die subsidiering van die ATM deur die staat.

'n Voorstel van die DA-regering in die provinsie Wes-Kaap is een moontlikheid om hierdie oogmerk te bereik. Die DA-regering in die Wes-Kaap het 'n versoek aan Mthethwa gerig dat die bestuur van die Monument aan die Wes-Kaapse regering oorgedra word (Nienaber, 2022b). Mthethwa het nie op hierdie versoek gereageer nie.

Die DA se voorstel dat die sentrale regering die Monument aan die Wes-Kaapse DA-regering moet oordra, is nie heeltemal so eenvoudig as wat dit op die oog af lyk nie. Hoewel nie eksplisiet uitgestippel nie, word aanvaar dat die voorstel by implikasie ook die oordrag van die Museum insluit, en dus op die geheel van die ATM betrekking het.

Die voorstel vir "provinsiale onafhanklikheid" van die ATM kan slaag as (i) die sentrale regering instem; (ii) die sentrale regering die ATM se bates (grond en geboue) aan die Wes-Kaapse provinsiale regering oordra; en (iii) die Wes-Kaapse provinsiale regering finansiele verantwoordelikheid aanvaar vir die staatsubsidie wat die ATM jaarliks van die sentrale regering ontvang, hoewel sodanige oordrag natuurlik nie die moontlikheid van volgehoue steun deur die sentrale regering uitsluit nie.

Die subsidie wat die ATM ontvang, bestaan uit 'n jaarlikse bedrag ter bestryding van lopende uitgawes (byvoorbeeld personeel en onderhoud) en periodieke toekennings vir kapitale werke. Laasgenoemde toekenning wissel na behoefte. Die totale toekenning (lopende uitgawes en kapitale werke) vir die finansiele jaar tot 31 Maart 2021 het R10 550 881 beloop (ATM, 2021). Dit gee 'n aanduiding van die jaarlikse finansiele verpligting wat die Wes-Kaap provinsiale regering sal moet aanvaar as die sentrale regering tot die oordrag van die ATM instem.

'n Alternatief is die "onafhanklikheid" van die ATM binne 'n stigting of trust onder privaat beheer. Dit sou kon slaag as (i) die sentrale regering instem; (ii) die sentrale regering die ATM se bates (grond en geboue) aan so 'n stigting of trust oordra; en (iii) die stigting of trust finansiele verantwoordelikheid vir die ATM aanvaar. Die sentrale regering sou ook kon voortgaan om die ATM binne 'n "onafhanklike" struktuur te steun.

Die onmiddellike gevolg van so 'n oordrag sal natuurlik wees dat die stigting of trust wat die ATM oorneem, vir die lopende finansiele koste van die Museum en Monument verantwoordelik sal wees. Voorts sal die stigting of trust ook voldoende fondse moet insamel om die aankoopprys van die ATM te betaal as die regering instem tot oordrag, maar nie tot kostelose oordrag nie. Selfs al stem die regering tot kostelose oordrag in, sal daar steeds koste uit die eiendomsoordrag voortspruit.

Die bedryfskoste van die ATM sal hoer wees as wat tans die geval is, onder meer omdat die regering geen bates verseker nie. Daarteenoor sal die stigting of trust die Museum, die inhoud daarvan en die Monument moet verseker.

Die nuwe stigting of trust kan die verantwoordelikheid slegs aanvaar indien die sentrale regering tot eiendomsoordrag instem, maar ook in die veronderstelling dat -

voldoende donasies en skenkings jaarliks ingevorder word om die staatsubsidie wat wegval, te dek, wat 'n baie riskante opsie is; of

'n vooraf befondsde trustfonds geskep word wat jaarliks voldoende volgehoue inkomste lewer om die Museum en Monument onbepaald te laat voortbestaan, want die befondsing van 'n trustfonds voor die verpligting oorgeneem word, is 'n baie veiliger opsie.

Voorts sal voldoende fondse ingesamel moet word vir die aankoop van die ATM se bates indien die regering nie tot kostelose oordrag instem nie. Die fondse vir so 'n aankoop is nodig bo en behalwe die trustfonds vir die lopende befondsing van die ATM.

Gebaseer op die subsidie van sowat R10,6 miljoen in die finansiêle jaar tot 31 Maart 2021, inflasie sedertdien en hoêr koste (byvoorbeeld versekeringskoste) as wat tans die geval is, sal 'n trustfonds van ongeveer R350 miljoen nodig wees vir die volhoubare bestuur en onderhoud van die ATM. Dit veronderstel 'n jaarlikse onttrekking van 3,5 persent uit die trustfonds, wat jaarliks in nominale randwaarde met die inflasiekoers groei danksy groei in die trustfonds se kapitaal.

Enige vorm van "onafhanklikheid" van die DSKK sal die ATM beskerm teen druk om die naam of enigiets anders te verander. Dit sal ook die departementele voorskrif dat die ATM 'n inheemse taal "aan boord moet neem", ongedaan maak.


4. Gevolgtrekkings

Die oprigting van die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van Paarlberg was die resultaat van 'n grootse poging sedert die voorstel in 1942 gemaak is. Die Monument word ondersteun deur die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl en die twee dien saam as simbole wat die ontstaan en vestiging van 'n nuwe taal in Suid-Afrika gedenk. Die Monument teen Paarlberg is nie die enigste Afrikaanse taalmonument nie. Navorsing is dus nodig om te bepaal of daar nog Afrikaanse taalmonumente is wat "ontdek" moet word en waarvan die inligting nie by die ATM aangeteken is nie.

Die Afrikaanse Taalmonument teen Paarlberg is egter die bekendste taalmonument en is oor die afgelope 80 jaar, sedert die eerste oproepe vir die oprigting daarvan, dikwels in kontroversie gehul. Pieters se stelling "... the Taalmonument has survived unchanged but not unchallenged" (s.j.:42) verwoord die huidige situasie. Die fisiese struktuur het wel onveranderd gebly, maar persepsies van die Monument bly nooit staties nie.

Dit is opvallend dat die Monument omstrede is, maar nie die Museum nie. Die verklaring is waarskynlik dat die Museum nie so sigbaar en prominent as die Monument is nie.

Die jongste twispunt volg ná 'n opmerking deur die Minister van Sport, Kuns en Kultuur oor 'n naamsverandering vir die Afrikaanse Taalmonument. Hierdie politieke aanslag op die Monument is vir die oomblik afgeweer met weerstand deur die publiek, verteenwoordigers van die georganiseerde burgerlike samelewing en politieke partye. Die teenkanting teen 'n naamsverandering was so oorweldigend dat die Minister by wyse van korrespondensie deur 'n beampte van die DSKK ontken het dat hy ooit die moontlikheid van 'n naamsverandering geopper het. Die publiek sal besluit of hulle die Minister se ontkenning glo, omdat Mthethwa intussen in antwoord op 'n Parlementêre vraag aangedui het dat naamsverandering nie ter sprake is nie, maar dat die ATM 'n inheemse taal aan boord moet neem. Die implikasie van laasgenoemde opmerking is onduidelik.

Die voortbestaan van die identiteit en naam van die ATM binne 'n beoogde vlagskipinstel-ling plaas nuwe uitdagings op die pad van die Museum en Monument. Die reaksie van die publiek op die politieke druk vir 'n naamsverandering gee die indruk dat 'n naamsverandering wat binne 'n vlagskipinstelling ter sprake kan kom, dieselfde gevolg kan hê.

Finansiêle en bestuursonafhanklikheid van die sentrale regering vir die ATM sonder finansiêle hulp van die sentrale regering kan oorweeg word as laasgenoemde daartoe instem.

Die twee alternatiewe is oordrag aan die Wes-Kaapse provinsiale regering, of oordrag aan 'n privaat instelling. Laasgenoemde opsie sal egter groot privaat finansiêle eise stel en verantwoordelikhede meebring.

Kontroversie oor die Afrikaanse Taalmonument is nog lank nie verby nie. Nou, 80 jaar ná die eerste stappe om die ATM op te rig, kom die naam van die Afrikaanse Taalmonument in die gedrang. Dit laat vorige probleme na bloot ligte skermutselinge lyk.



Afrikaanse Taalmonumentkomitee (ATMK). Ongepubliseerde notules. 1942-1975.         [ Links ]

ATM. 2021. Annual Report 2020/21. Aanlyn by [9 Junie 2022].         [ Links ]

ATM. 2022. Mediaverklaring. 18 Mei 2022. Aanlyn by [I9 Junie 2022].         [ Links ]

Barnard, M. 2022. VF Plus bly oor Ramaphosa se antwoord oor Taalmonument. Netwerk24. 11 Junie. Aanlyn by [12 Junie 2022].         [ Links ]

Beningfield, J. 2004. Native lands: Nation, language and landscape in the Taal Monument, Paarl, South Africa. Social Identities, 10(4).         [ Links ]

Carstens, WAM & Raidt, EH. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van 'n taal, Deel 2. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Cattermole, P. 2008. Architectural excellence: 500 iconic buildings. Ontario: Firefly Books.         [ Links ]

Coombes, AE. 2003. History after Apartheid: Visual culture and public memory in a democratic South Africa. Durham: Duke University Press.         [ Links ]

Cornelissen, C. 2022. Woede oor R22 miljoen vir stok in grond met met vlag. Maroela Media. 11 Mei. Aanlyn by > sa-nuus [25 Julie 2022].         [ Links ]

Demokratiese Alliansie. 2022. DA verwelkom President se versekering dat die Afrikaanse Taalmuseum se naam nie sal verander nie. Persverklaring deur Veronica van Dyk, LP. Aanlyn by [12 Junie 2022].         [ Links ]

De Klerk, WA. 1974. Klein reis deur Drakenstein. Johannesburg: Perskor.         [ Links ]

Die Afrikaanse Taalmonument. 2014. Inligtingsboekie.         [ Links ]

Die Afrikaanse Taalmuseum. 2015. Inligtingspamflet.         [ Links ]

De Afrikander Handelshuis. 2016. Die Eerste Taalmonument in Suid-Afrika. 26 Desember. Aanlyn by [8 Junie 2022].         [ Links ]

Die Burger. 1971. Die eg ou-Kaapse gaan tot niet. 2 November.         [ Links ]

Die Burger. 1975. Veertigduisend by die Taalfees. 11 Oktober.         [ Links ]

Die Huisgenoot. 1950. 4 Augustus.         [ Links ]

Die Suid-Afrikaan. 1995. Taalmonument: Fallus of volkskat? Vol 53.         [ Links ]

Eldridge, R. 2003. An introduction to the philosophy of art. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Groenewald, PJ. 2022. Ramaphosa moet oop kaarte speel oor diefstal op sy plaas. Vryheidsfront Plus. 9 Junie. Aanlyn by [12 Junie 2022].         [ Links ]

Heyns, T. 2022. Minister weier glo petisie oor Taalmonument. Maroela Media. 8 Junie. Aanlyn by [9 Junie 2022].         [ Links ]

Hugo, D. (red.). 2009. Halala Afrikaans. Stellenbosch: Protea Boekhuis.         [ Links ]

Huigen, S. 2008. Taalmonumente. In Grundling A & Huigen S. (reds.). Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar: Kritiese opstelle oor Afrikaanse herinneringsplekke. Stellenbosch: SunPress.         [ Links ]

Kotze, E & Senekal, B. 2020. Not just a language with white faces: Analysing #taalmonument on Instagram using machine learning. The Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa. Jaargang 16, Nommer 1.         [ Links ]

Le Cordeur, M. 2010a. Die rol van Islam in Afrikaans: Afrikaans behoort aan almal wat dit praat, skryf en liefhet. Ongepubliseerde referaat gelewer by ATKV-kongres, Goudini, 27 Februarie.         [ Links ]

Le Cordeur, M. 2010b. Kaapse Afrikaans. Die Burger, 17 Maart.         [ Links ]

Litnet. 2010. Die ontstaan van die Afrikaanse Taalmonument en -museum. Aanlyn by [8 Junie 2022].         [ Links ]

Louw, J. 19 November 2002. Ongepubliseerde brief.         [ Links ]

Madia, M. 2022. Ramaphosa orders Mthwethwa to scrap R22m flag project. EWN. 20 July. [25 July 2022].         [ Links ]

Monumente, gedenktekens en interessanthede in Suid Afrika. s.j. Aanlyn by [9 Junie 2022].         [ Links ]

Nienaber, M. 2022a. G'n reaksie op FAK-versoekskrif aan minister oor monument. Netwerk24. 8 Junie. Aanlyn beskikbaar by [9 Junie 2022].         [ Links ]

Nienaber, M. 2022b. Taalmonument: Duisende onderteken DA-versoekskrif. Netwerk24. 9 Junie. Aanlyn by [7 Junie 2022].         [ Links ]

Oosthuizen, J. 2022. Minister in spervuur oor vlag- en Taalmonument. Voertaal. 19 Mei 2022. Aanlyn by [25 Julie 2022].         [ Links ]

Pakendorf, G. 1992. W.A. de Klerk is in pylvak, maar sy vuur is nog nie geblus. Aanlyn by [Verskeie datums].         [ Links ]

Parliamentary Question. 2022. National Assembly: Question No. 2130-2022. Written reply: Internal Question Paper No. 20-2022. Aanlyn by [16 June 2022].         [ Links ]

Pieters, H. s.j. The Taalmonument: Monument for what? Unpublished Master's dissertation, Department of Arts & Heritage, Maastricht University.         [ Links ]

Prince, L. 2022. 'Verstommend' dat Mthethwa volhou met omstrede vlagprojek. Netwerk24. 24 Julie. Aanlyn by [25 Julie 2022].         [ Links ]

Ramaphosa, MC. 2022a. Repliek op die Begrotingsposdebat. 10 Junie (soos gelewer). Aanlyn by [12 Junie 2022].         [ Links ]

Ramaphosa, MC. 2022b. Repliek op die Begrotingsposdebat. 10 Junie (soos gepubliseer). Aanlyn by [12 Junie 2022]. Schreiber, L. 2 Junie 2022. E-pos.         [ Links ]

Simos, C. 2013. Paarl Taal Monument: Struggle during apartheid and post-apartheid. Unpublished paper, Architecture Department, University of Cape Town.         [ Links ]

Smith, S. 2013. Monumentalising language: Visitor experience and meaning making at the Afrikaanse Taalmonument. Unpublished doctor's thesis, School of Tourism and Hospitality Management, Southern Cross University, Lismore, Australia.         [ Links ]

Smith, S. 13 November 2014. E-pos.         [ Links ]

Swart, MJ. (red.). 1989. Afrikanerbakens. FAK: Pretoria.         [ Links ]

Steyn, JC. 2014. Ons gaan 'n taal maak. Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal-uitgewers. Sunday Times. 1975. Top Nats intervene. 27 April.         [ Links ]

Van der Westhuizen, G. 2022. Afrikaans bly in Taalmonument se naam. Netwerk24. 15 Junie. Aanlyn by [16 Junie 2022].         [ Links ]

Van Heerden. S. 2022. Afrikaanses sê aikôna vir Mthethwa. MaroelaMedia. 28 Mei. Aanlyn by [25 Julie 2022].         [ Links ]

Van Niekerk, A. 2000. Taalmonument aan die suiderhang van Paarlberg. Die Taalgenoot, 8/9 (60).         [ Links ]

Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans ... Pretoria: Lapa Uitgewers.         [ Links ]

Van Wijk, E. 14 Maart 2014. E-pos.         [ Links ]

Van Wijk, J. 30 Julie 1976. Ongepubliseerde brief.         [ Links ]

Van Wijk, J. 2014. Taalmonument. Tokai: Historical Media.         [ Links ]

Van Zyl, A. 2013. Die invloed van die slawe op die vorming van Afrikaans. Ongepubliseerde lesing gelewer by ATM-slawedagviering. Paarl, 5 Desember 2013.         [ Links ]

Van Zyl, A. 2020. Afrikaans Language Monument: A contested monument for a contested language. In Brunn, S & Kehrein, R. (eds). 2020. Handbook of the changing world language map. Cham, Switzerland: Springer.         [ Links ]

Van Zyl, A & Rossouw, J. 2016. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl: 40 jaar later. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2-1).         [ Links ]

Venter, H. 1959. Die wonder van Afrikaans. Koers. Deel XXVI, Nommer 10. Aanlyn by file:///C:/Users/A0037611/Downloads/iburger,+1.pdf [16 Junie 2022].         [ Links ]

Vorster, BJ. 1975. Ongepubliseerde openingstoespraak (klankopname en transkripsie). 10 Oktober.         [ Links ]



Ontvang: 2022-06-21
Goedgekeur: 2022-08-02
Gepubliseer: September 2022




Jannie Rossouw is 'n besoekende professor aan die Wits Besigheidskool van die Universiteit van die Witwatersrand. Hy was voorheen by die SA Reserwebank en by Unisa werksaam. Sy diens as lid van die Oudit- en Risikokomitee van die Afrikaanse Taalmuseum en monument in die Paarl strek oor meer as 'n dekade.
Jannie Rossouw is a visiting professor at the Wits Business School of the University of the Witwatersrand. He previously worked at the SA Reserve Bank and at Unisa. He has served as a member of the Audit and Risk Committee of the Afrikaans Language Museum and Monument in Paarl for well over a decade.
1 Die artikel weerspieel die persoonlike sienings en menings van die outeur, en moet nie aan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument of aan die Universiteit van die Witwatersrand toegeskryf word nie.
2 Die outeur is 'n agterkleinseun van PJ Malherbe.
3 Kroonstad was destyds die hoofsentrum van jukskeisport in Suid-Afrika.
4 Die monument in Kroonstad is deur die jukskeispelers van Griekwaland-Wes opgerig. Die aanspreekvorm “neef” en “niggie” het destyds onder jukskeispelers voorgekom.
5 Prof. Malherbe was die seun van mnr. PJ Malherbe, een van die stigterslede van die GRA.
6 Hierdie afdeling is gebaseer op Van Zyl en Rossouw (2016), wat vir 'n meer omvattende bespreking geraadpleeg kan word.
7 Sekere aspekte van die historiese kritiek is ook deur Van Zyl (2020) en Van Zyl en Rossouw (2016) bespreek.
8 DAK in die Netwerk se naam verwys na die name van drie taalvaardige Khoi-leiers, naamlik Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa.
9 Hierdie ontkenning deur Mthethwa herinner aan sy gedrag na die bekendmaking vroeg in Mei 2022 van die DSKK se voorneme om 'n seremoniêle vlagpaal van 100 meter hoog teen 'n koste van R22 miljoen te laat oprig (Cornelissen, 2022). Na openbare kritiek het Mthethwa aangekondig dat die voorstel hersien sal word (Oosthuizen, 2022), terwyl president Cyril Ramaphosa daarna aangekondig het dat die projek van die baan is. In Julie 2022 is egter berig dat Mthethwa en die DSKK weer die oprigting van die vlagpaal oorweeg (Prince, 2022).
10 Sien asseblief ook die voetnoot oor die omstrede vlagpaal hier bo.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons