Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a8
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
'n Morfologies-sistematiese analise van die kompo-sisiestrukture in "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" in Mede-wete (2014) deur Antjie Krog
A morphological-systematic analysis of the compositional structures in "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" ("four efforts in linguistic synapse tracing") in Mede-wete (Synapse) (2014) by Antjie Krog
Corné RichterI; Henning PieterseII
IDepartement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein, Suid-Afrika E-pos: RichterCM@ufs.ac.za
IIDepartement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat Bloemfontein, Suid-Afrika E-pos: pietersehj@ufs.ac.za
OPSOMMING
Met die lees van Antjie Krog se bundel Mede-wete (2014) asook resensie-artikels wat daaroor geskryf is, val dit die leser op dat Krog veral belangstelling toon in die werk van die Roemeens-gebore Duitse skrywer en vertaler Paul Celan (1920-1970), 'n Holocaust-oorlewende uit 'n Joodse familie. Celan se werk behels die gebruik van sekere tegnieke wat innoverende neologismes en morfologiese afwykinge insluit om woorde op te breek en iets "medemensliks" daaruit te kry en só deur verwringing 'n "nuwe taal" te skep. Krog maak kennis met dié tegnieke in 2008 tydens haar verblyf in Duitsland en maak dit haar eie nadat sy privaat onderrig oor die werk van Celan ontvang en van sy gedigte vertaal. Dié tegnieke beïndruk die leser van Mede-wete deur die wyse waarop Krog die taal en spesifiek woorde verander en nuut maak deur verskillende woordvormingsprosesse. Meer spesifiek is dit die wending weg van Standaardafrikaans wat Krog in die laaste afdeling, getiteld "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing", neem. In hierdie artikel word aandag gegee aan 'n morfologies-sistematiese analise van die laaste afdeling ('n korpus van 196 leksikale items) in Mede-wete. Aan die hand van die morfologiese ontledings en woordvormingsreëls van JGH Combrink (1990:53-58) word daar na die verskillende woordvormingsprosesse in Afrikaans gekyk. Die leksikale items word ook op 'n semantiese vlak in konteks met die bestaande temas in die res van die bundel geëvalueer.
Trefwoorde: Mede-wete; Antjie Krog; Paul Celan; innoverende neologismes; komposisiestrukture; morfologiese afwykinge; morfologies-sistematiese analise; woordvormingsprosesse
ABSTRACT
In reading Antjie Krog's volume ofpoetry, Mede-wete (2014), as well as review articles written by Helize van Vuuren (2014), Marlies Taljard (2014), Louis Esterhuizen (2014), Jacomien van Niekerk (2014), Louise Viljoen (2014 and 2016), Andries Visagie (2015), Ihette Jacobs (2015) and Susan Smith (2016), it strikes the reader that Krog shows particular interest in the work of the Romanian-born German writer and translator Paul Celan (1920-1970). Paul Celan is a poet and Holocaust survivor from a Jewish family. Although he could speak several languages at a young age, he spoke and wrote German at his mother's insistence. Due to a dislike for this language (the language of his mother's killers) but also a love for it (in memory of his parents), he creates a "new language" (actually a distortion of this language) by using certain techniques to break up words and get something "humane" out of it. Krog became acquainted with these techniques during her stay in Germany in 2008 and made them her own after receiving private instruction about the work of Celan and translating some of his poems with Michael Fried (art historian and poet). According to Krog, these techniques include innovative neologisms and morphological deviations. These techniques impress the reader of Mede-wete, especially how Krog changes and revitalises words through word-formation processes.
These word formation processes and techniques have also been used by other Afrikaans poets, as seen in the work ofinter alia Peter Blum ("Rooinekke op Hermanus" (Blum, 1955:9) and "Man wat mal word" (Brink, 2008:432); Breyten Breytenbach ("5", "oorlewingskuns", "Koong Byten 1" (Breytenbach, 2007: 47, 147, 152), "5.5.2", "9.1 Bedroomde woordetal dinkdinge en uithoud (Die soetpoesiegedig)" and "9.4 die nagselfie 1" (Breytenbach, 2019:94, 202, 205-206)); and Marlene van Niekerk ("Oggend van 'n waterfiskaal", "limerence 1" and "limerence 2" (Van Niekerk, 2013:9, 24, 25). Krog's latest collection of poems, plunder (pillage) (2022), also contains poems such as "dit kom nie meer op my af nie", "3. Aria vir die universum", and "6. Sanctus", in which neologistic word formation processes occur (Krog, 2022:11, 110, 113).
Where Krog uses techniques that deviate morphologically from the usual forms, Van Niekerk, in her poetry collection Kaar (2013), uses different varieties of Afrikaans to distort the language. In an article in which Pieterse (2017:375) examines the variation and varieties of Van Niekerk's use of language in Kaar, he refers to Deleuze and Guattari's views about a dominant major language (which is spoken by the oppressor and also by an oppressed minority) and a minor language. The minor language arises when the major language is "deterritorialised" by grammatical errors and the change of accents, alienating the language while also "renewing" it. Stander (2012:30) also refers to a major and minor language in a study on Die sneeuslaper (2010) by Van Niekerk. Stander refers to Deleuze and Guattari's publication Kafka: Toward a Minor Literature (1975) and comments that a minor language uses the same consonants, vowels, and vocabulary as the major language, but uses it differently. Stander says this technique involves a "strategic letting go of the old". Van Niekerk uses different varieties of Afrikaans in Kaar (Pieterse, 2017:372), and Krog creates new words in Mede-wete or deforms and distorts existing words to deterritorialise Afrikaans as a dominant language. In her study of Van Niekerk's Die sneeuslaper, in which the author creates the same minor language as in Kaar, Stander (2012:112) concludes that the stuttering ("stottering") of Afrikaans may be the result of a language experiencing political pressure. By creating a new language, Van Niekerk prevents the language from stagnating and ensures that it lives on dynamically. Stander 's (2012:112) conclusion, namely the "stuttering of Afrikaans" as a result of political pressure, is similar to Krog's last four poems in Mede-wete in which she (Krog) experiences the result of political pressure on Afrikaans. Krog then creates new words to renew the language.
In Krog's case, more specifically, it is the deviation from Standard Afrikaans that she uses in the last section, entitled "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" ("four efforts in linguistic synapse tracing"). Until now, no research on this process has been undertaken. This article tries to describe and analyse a possible morphological systematics of the last section in Mede-wete based on the morphological analysis and word-formation rules of JGH Combrink (1990:53-58), which include REDUCTIONS (Acronyms, Clippings, Back-formations or Abbreviations), COMBINATION-FORMS (Derivations and Compounds) and other combination-forms such as Reduction derivations, Techno derivations as well as Fusions. A corpus of 196 lexical items, as a representative sample, is analysed from a morphological-systematical perspective. Furthermore, these lexical items are evaluated on a semantic level, together with existing themes in the rest of the volume, to determine whether specific processes led Krog to the formation of these neologisms, and to determine the extent to which she dealt with such processes creatively - themes such as the relationship between the self and the A/other (Taljard, 2014); man's relationship to the land in the South African political context (Van Vuuren, 2014); postcolonial differences between place and space (Taljard, 2014); violence and disorder in our land; the burden of collective guilt borne by white South Africans (Van Vuuren, 2014); the connection between land and identity (Jacobs, 2015); connections on a cosmic level (a quest for greater unity with nature and the universe) (Visagie, 2015), and, in an autobiographical manner, Krog's position in a larger picture within the South African setting with regard to kindness towards different cultures, and gender groups (Taljard, 2014).
Keywords: Mede-wete (Synapse); Antjie Krog; Paul Celan; compositional structures; innovative neologisms; morphological deviations; morphological-systematical analysis; word-formation processes
1. Inleiding
Met die lees van Antjie Krog se bundel Mede-wete (2014) asook artikels en resensie-artikels wat daaroor geskryf is deur onder andere Helize van Vuuren (2014), Marlies Taljard (2014), Louis Esterhuizen (2014), Jacomien van Niekerk (2014), Louise Viljoen (2014 en 2016), Andries Visagie (2015), Ihette Jacobs (2015) en Susan Smith (2016), val dit die leser op dat Krog veral belangstelling toon in die werk van die Roemeens-gebore Duitse skrywer en vertaler Paul Celan (1920-1970). Krog maak kennis met die tegnieke wat Celan gebruik om woorde op te breek en dan nuwe woorde te vorm tydens haar verblyf in Duitsland in 2008 waartydens sy privaat onderrig oor die werk van Celan ontvang en van sy gedigte vertaal (Esterhuizen, 2014). Dit is ook dié tegnieke wat die leser van Mede-wete beïndruk deur die wyse waarop Krog die taal, en spesifiek woorde, verander en nuut maak deur verskillende woord-vormingsprosesse.
Hierdie woordvormingsprosesse en tegnieke is ook op plaaslike vlak in die poësie deur ander Afrikaanse digters op die proef gestel soos gesien kan word in onder meer Peter Blum se gedig "Rooinekke op Hermanus" uit Steenbok totpoolsee (Blum, 1955:9) en "Man wat mal word" (Brink, 2008:432) uit Enklaves van die lig (1958); verskeie gedigte van Breyten Breytenbach soos onder andere "5", "oorlewingskuns" en "Koong Byten 1" in Die windvanger (Breytenbach, 2007:47, 147, 152) asook "5.5.2", "9.1 Bedroomde woordetal dinkdinge en uithoud (Die soetpoesiegedig)" en "9.4 die nagselfie 1" in op weg na kû (Breytenbach, 2019:94, 202, 205-206); gedigte van Marlene van Niekerk soos onder andere "Oggend van 'n waterfiskaal", "limerence 1" en "limerence 2" in Kaar (Van Niekerk, 2013:9, 24, 25). Krog se nuutste digbundel, plunder (2022), bevat ook gedigte soos onder andere "dit kom nie meer op my af nie", "3. Aria vir die universum" en "6. Sanctus" waarin nuwe woordvormingsprosesse voorkom (Krog, 2022:11, 110, 113).
Reeds vroeg in die bundel Mede-wete verskyn daar nuutskeppings deur die digter-spreker en verwys sy na Celan, maar dit is egter in die laaste afdeling, getiteld "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing", dat Krog (in 'n korpus van 196 leksikale items) deur woordvormingsprosesse 'n kreatiewe variasie op en 'n wending weg van Standaardafrikaans neem.
Waar Krog tegnieke gebruik wat morfologies afwyk van die gewone vorme, maak Marlene van Niekerk in haar bundel Kaar (2013) op 'n soortgelyke wyse van verskillende variëteite van Afrikaans gebruik om die taal te vervorm.
In 'n artikel waarin Pieterse (2017:375) die variasie en variëteite van Marlene van Niekerk se taalgebruik in haar bundel Kaar ondersoek, verwys hy na Deleuze en Guattari se sienings omtrent 'n dominante majeurtaal (wat deur die onderdrukker en ook deur 'n onderdrukte minderheid gepraat word) en 'n mineurtaal. Die mineurtaal ontstaan wanneer die majeurtaal "gedeterritorialiseer" word deurdat grammatikale foute en verandering van aksente die taal vervreem, maar tog ook "vernuwe". Stander (2012:30) verwys ook na 'n majeur- en mineurtaal in 'n studie oor Die sneeuslaper (2010) van Marlene van Niekerk. Stander noem Deleuze en Guattari se publikasie Kafka: Toward a Minor Literature (1975) en maak die opmerking dat 'n mineurtaal dieselfde "konsonante, klinkers en woordeskat" as die majeurtaal gebruik, maar dat dit verskillend aangewend word. Volgens Stander behels hierdie tegniek 'n "strategiese losmaak van die oue", "the fracturing of and freeing from repressive fixations and despotic arrangements of a certain milieu, be it conceptual, social, affective or linguistic" (Houtum, 2010).
Van Niekerk wend verskillende variëteite van Afrikaans in Kaar aan (Pieterse, 2017:372) en Krog skep in Mede-wete nuwe woorde of vervorm en verwring bestaande woorde om Afrikaans as dominante taal te deterritorialiseer. Stander (2012:112) kom in haar studie oor Van Niekerk se Die sneeuslaper, waarin die skrywer dieselfde mineurtaal as in Kaar skep, tot die slotsom dat die "stottering van Afrikaans" die gevolg kan wees van 'n taal wat politieke druk ervaar. Deur 'n nuwe taal te skep, voorkom Van Niekerk dat die taal stagneer, maar wel eerder dinamies voortleef. Dit stem ooreen met wat Helize van Vuuren (2014) oor die laaste afdeling van Mede-wete sê:
Die taal as poëtikale voertuig van hierdie bewussynsveranderende, etiese en revolusionêre doel sien Krog as 'n nuwe begin met 'n 'vuurvarende sinaps', met opheffing van die skeiding 'julle/ons' in 'n eenwordende neologistiese 'ons'le' ('sillabe-sinaps in die noord/ suid-kompas', bl. 114).
Stander (2012:112) se gevolgtrekking, naamlik dat "die stottering van Afrikaans" die gevolg is van politieke druk, toon 'n ooreenkoms met Krog se laaste vier gedigte waarin sy, net soos Van Niekerk se "stottering", die gevolg van politieke druk op die status van Afrikaans ervaar en dan deur die skep van nuwe woorde die taal vernuwe.
Tot dusver is daar nog nie navorsing oor hierdie woordvormingsprosesse in die laaste afdeling van Mede-wete beskikbaar nie. Voges (2017:73) dui in haar studie "Die hantering van die begrip 'interverbondenheid' in Antjie Krog se bundel Mede-wete (2014)" in 'n slotparagraaf aan dat die moontlikheid vir verdere navorsing juis hierdie laaste afdeling sou kon insluit:
Dit sou ook sinvol wees om die tweede afdeling te betrek, deur na te gaan hoe Krog se poging om interverbondenheid tussen Afrikaans en die groter literêre gemeenskap te bewerkstellig [sic]. Krog se behoefte aan 'n nuwe soort Afrikaanse taal met 'n nuwe klank sou ook in verband met haar vorige werk gebring kon word.
Die kern van só 'n studie is om aan die hand van JGH Combrink (1990:53-58) se woordvormingsreëls te bepaal:
- Watter prosesse het die digter-spreker gelei na die vorming van 196 nuwe leksi-kale items in slegs vier gedigte?
- Watter komposisiestrukture kom voor?
- Hoe is dié strukture gevorm? Is dit as gevolg van:
• Reduksie (akronieme, knipsels, truvorme of inkortings),
• Kombinasie (afleidings, samestellings, samestellende afleidings, samestellende samestellings of vloekwoordinlywing),
• Reduksie-plus-kombinasie (reduksieafleidings, reduksiesamestellings, tegnoafleidings of tegnosamestellings)?
• Watter morfologiese en semantiese afleidings kan hieruit gemaak word?
• Is daar 'n onderliggende morfologiese sistematiek met die vorming van hierdie woorde te bespeur?
• Tot watter mate kan ons in hierdie korpus praat van 'n morfologiese sistematiek vanuit die perspektief van kreatiewe digkuns?
Die laaste afdeling in die bundel Mede-wete, naamlik "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" (voortaan ook afwisselend die digterlike korpus genoem), sal vanuit 'n morfologiese perspektief belig word; dus 'n taalkundige ondersoek ('n morfologies-sistematiese analise) na 'n digterlik-gebaseerde onderwerp. Uit die lys van 196 leksikale items uit die digterlike korpus word daar slegs 'n verteenwoordigende keur aangebied van voorbeelde wat morfologies geanaliseer word (volgens 'n siftingsproses gelei deur Combrink se woordvormingsreëls). Daar is gesoek na die mees toepaslike voorbeelde van woordvormingsprosesse. Daar word ook slegs na die tegnieke van Paul Celan (soos deur Krog beskryf) verwys omdat die omvang van sy werk 'n studie van sy eie behels.
2. Die studie van morfologiese sistematiek
Die sleutel tot die toepassing van hierdie morfologiese ondersoek van die laaste vier gedigte in Mede-wete is die morfologiese ontledings en woordvormingsreëls van JGH Combrink (1990:53-58). Aan die hand van hierdie analises word die verskillende woordvormingsprosesse in Afrikaans ontleed. Volgens Combrink is daar verskillende komposisiestrukture, afhangende van die wyse waarop hierdie strukture gevorm is en word daar onderskei tussen drie hoofwoordvormingsprosesse, naamlik:
• Reduksie (akronieme, knipsels, truvorme of inkortings),
• Kombinasie (afleidings, samestellings, samestellende afleidings, samestellende same-stellings of vloekwoordinlywing) en
• Reduksie-plus-kombinasie (reduksieafleidings, reduksiesamestellings, tegnoafleidings of tegnosamestellings) asook ander prosesse, soos versmeltings.
Combrink (1990:81) skryf:
Skepping sonder meer is 'n woordvormingswyse wat baie infrekwent deur die sprekers van Afrikaans benut word. Anders gestel: dis selde dat 'n nuwe woord in Afrikaans nie gemaak word op basis van, of minstens met behulp van, een of meer bestaande morfeme nie ... Vir die morfologie word skepping pas ter sake wanneer dit gepaard gaan met sistematiek.
Verder is dit ook van waarde dat hierdie leksikale items op 'n semantiese vlak tesame met bestaande temas in die res van die bundel geëvalueer word om vas te stel of sekere prosesse die digter-spreker gelei het tot die vorming van die nuwe woorde, in hoe 'n mate sy kreatief daarmee omgegaan het en hoe hierdie afdeling met die tematiek van die bundel skakel.
3. Temas in die bundel
Mede-wete stel nie teleur ten opsigte van die bekende Krog-temas nie. Die titel van die bundel dui reeds op die verhouding tussen die self en die A/ander deurdat die woorde mede en wete deur 'n koppelteken van mekaar geskei word: die woord mede-wete kan as geheel gesien word, maar ook as twee aparte woorde betekenis hê. Die HAT (2015:776) verklaar medewete as "kennis wat 'n mens van iets het saam met ('n) ander", maar volgens Visagie (2015:225) dwing die invoeging van die koppelteken die leser om aan die samestellende dele mede en wete (afsonderlik) aandag te skenk. (In die digter se eie woorde is daar nie in, byvoorbeeld Engels, 'n ekwivalent vir die konsep mede nie: "Engels het nie iets woordvormend soos medemens, mede-deelsaam, mede-doë ens. nie" (Krog in Esterhuizen, 2014). Taljard (2014) belig ook die tema van die verhouding van die self met die A/ander in hierdie bundel en wys dat medewete op "medeverantwoordelikheid" dui; die "saam- of medebestaan". Die woord wete dui op bewussyn of kennis en is volgens haar "kennis van die self, die A/ander en die aard en geskiedenis van ons saambestaan" (Taljard, 2014).
In Engels heet die bundeltitel Synapse wat op rou senupunte dui en Van Vuuren (2014) bring "grond" en "(on)mededeelsaamheid" hiermee in verband en beklemtoon hoe die digter-spreker dié twee brandpunte in die Suid-Afrikaanse politieke konteks benadruk, terwyl Viljoen op die "gekonnekteerdheid" fokus: "Die sinaps is 'n struktuur waardeur die boodskappe in die menslike senuweestelsel van die een sel na die ander gestuur word en speel 'n sentrale rol in die vorming van geheue wat in talle gedigte 'n tema is" (Viljoen, 2014a). Sy verwys na konneksies met ouers, kinders, kleinkinders, vriende, bediendes, politieke leiers en ander digters. Visagie (2015:226) ontleed die betekenis van die Griekse woord synapsis vanuit die Online Etymology Dictionary as "konjunksie" en saam met die werkwoord synaptein wat "omvat, saamvoeg, saambind of verbind beteken" is dit volgens hom relevant deurdat Krog 'n etiese verantwoordelikheid teenoor die A/ander in haar gedigte blootlê.
Die mens se relasie tot grond kom sterk na vore in Mede-wete. Die liefde vir, gekon-nekteerdheid met en eienaarskap van grond (Viljoen, 2014a en Taljard, 2014), asook postkoloniale verskille tussen plek en ruimte (Taljard, 2014) is sentrale begrippe in die bundel. Die digter-spreker beskryf die geweld en wantoestande in Suid-Afrika asook die las van kollektiewe skuld wat wit Afrikaners dra (Van Vuuren, 2014) en, soos Jacobs (2015:236) dit stel: "altyd die besinning oor _ die verband tussen grond en identiteit". Van Niekerk (2014) maak melding van Krog se "interaksie tussen uiterstes", naamlik haar geskiedenis as plaaskind van 'n Afrikanergesin met 'n liefde vir grond teenoor die geskiedenis van 'n "veranderde Suid-Afrika waarin lank nie alles verander het nie".
'n Nuwe tema in Krog se oeuvre is gedigte in Mede-wete waarin daar konneksies op 'n kosmiese vlak verwoord word. Volgens Visagie (2015:229) is daar 'n strewe na groter eenheid met die natuur en die heelal:
Die gewaarwording van die spreker dat die informatika inhou dat sy nie meer 'n 'noodwendigheid' vir haar familie is nie, laat haar smag na andersoortige verbintenisse soos met die niemenslike dier wat potensieel bindings en sinapse op 'n kosmiese skaal kan fasiliteer. Die vermoede is dat daar deur die mede-wetes van ander vorme van lewe op aarde uiteindelik fundamenteel groter ontdekkings mag wag as deur die blote illusie van 'n 'bo-aardse gloed' wat van 'n rekenaarskerm afkomstig is. Vir 'n oomblik is dit in 'om te ver-jy' (bl. 46-51) denkbaar om die gesig van die geliefde te sien 'sterrefiseer', 'bomefiseer' en te 'leeuefiseer' en daardeur iets van die 'bo-sinnelike' op te tel.
Die bundel, soos al haar vorige bundels, het 'n sterk outobiografiese inslag - die digter ondersoek haar eie posisie in 'n groter prentjie binne die Suid-Afrikaanse opset: hoe sy in naasteliefde teenoor verskillende kulturele, politieke en gendergroepe leef (Taljard, 2014). Buiten vir die gedigte met 'n anti-patriargale aanslag, skets sy ook die rol van sterk vroue uit haar voorgeslagte. 'n Gedig vir haar ma ("Ontwei", bl. 103), herinner aan die gedig, "Ma", wat sy as tiener in 1970 (Dogter van Jefta) geskryf het. In "Ontwei" is die "Ma" nou 'n bejaarde siek moeder wie se verweerde liggaam weens ouderdom as weerloos en verganklik beskryf word.
4. Paul Celan (1920-1970) se tegnieke
Paul Celan (gebore in 1920 as Paul Antschel in Czernovitz in Roemenië) is 'n digter en Holocaust-oorlewende uit 'n Joodse familie. Beide sy ouers het as Jode in Nazi-kampe gesterf. Celan het aanvanklik medies in Parys studeer, maar weens die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog het hy teruggekeer na Roemenië waar hy later as vertaler by 'n uitgewers-maatskappy gewerk en nog later skrywer geword het. Vanaf 1959 tot met sy afsterwe in 1970 het Celan as lektor in die Duitse Taal en Literatuur by L'École Normal Supérieure aan die Universiteit van Parys gewerk (Poetry Foundation, 2017).
Alhoewel Celan reeds op 'n jong ouderdom verskeie tale kon praat, het hy op aandrang van sy ma Duits gepraat en ook in Duits geskryf. Aan die een kant het hy 'n weersin gehad in dié taal omdat dit die taal van sy ma se moordenaars was, maar aan die ander kant was daar ook 'n liefde vir Duits omdat dit sy moedertaal was. Hy skryf veral vanaf 1959 korter gedigte wat meer gefragmenteerd is en skep as't ware 'n vreemde taal deur sekere tegnieke te gebruik om woorde op te breek en nuwe woorde te vorm om iets "medemensliks" daaruit te kry. Dit het tot gevolg dat sy poësie meer kripties en monosillabies geraak het (Poetry Foundation, 2017).
Antjie Krog maak kennis met dié einste tegnieke tydens haar verblyf in Duitsland en maak dit haar eie nadat sy saam met Michael Fried (kunshistorikus en digter) privaat onderrig oor die werk van Celan ontvang en van sy gedigte vertaal. In 'n onderhoud met Louis Esterhuizen (2014) noem sy hierdie tegnieke (voorbeelde uit die bundel Selected Poems (1996) deur Paul Celan):
• Innoverende neologismes
• Ongewone samestellings, soos weltblind, mondspiegel, seelenhell, gebetscharfen, silben-mole, Herzhammersilber, strahlenwind, (Celan, 1996:122, 178, 186, 202, 212, 238).
• Om ou woorde nuut te maak, byvoorbeeld die woord ichten (reël 8) in die gedig "Einmal" (Celan, 1996:278) wat dui op 'n werkwoord in die verlede tyd, gevorm uit die persoonlike voornmaamwoord ich ("ek"). (Kyk addendum.)
• Morfologiese afwykinge
• Die verandering van een letter wat 'n hele woord verander, byvoorbeeld "'Mach den Ort aus, machs Wort aus'. Deur middel van die enkele letter 'w' word 'plek/oord' 'woord'; 'Gedicht word Genicht'" (Krog in Esterhuizen, 2014).
• Die gebruik van foutiewe voor- en agtervoegsels.
• Grammatikafoute, die verandering van verbuigings en deur oorbekende of "besmette" woorde oop te breek en te destabiliseer.
Krog noem 'n ander voorbeeld waar Celan die woord "Menschen" in die gedig "Rauscht der Brunnen" (Celan, 1996:186) hanteer: "mit den Men, mit den Schen, mit den Menschen, ja das / mit dem Gestrüpp und mit / dem Augenpaar" en volgens haar sluit Celan aan by Levinas waarin "die oë van die ander die mensheid van die self na vore roep: 'Ich suchte dein Aug, als du's aufschlugst und niemand dich ansah'" (Celan, 1996:76); ook in "'Du schlugst die Augen auf - ich sehe mein Dunkel leben.'" (Celan, 1996:80). Die digter-spreker dui aan dat die navorsing in Afrika-filosofie die verskil tussen Afrika en Europese denke uitwys, byvoorbeeld dat die "jy" veelvuldig is, soos ook die "ek" (Krog in Esterhuizen, 2014). Ander tegnieke wat Celan gebruik, is
• Spel met kontinuïteit: die bywoord eng- in die eerste lettergreep van die gedig met die titel, "Engführung" (Celan, 1996:140) wat in Engels "narrow, cramped" beteken en in 'n vroeëre gedig, "Todesfuge" (Celan, 1996:62) in reël 4 voorkom: da liegt man nicht eng ("there you don't lie cramped") (George, 1997).
• Spel met sillabes en klanke: "Tiefimschnee, / lefimnee, / I-i-e." (Celan, 1996:240). George (1997) beskryf die spel: "The breaking up of thought and word into their component syllables and sounds, on the surface a whimsical gesture, hides deep and unspoken resistance to the accepted ways of communication."
Krog gebruik soortgelyke tegnieke in die laaste afdeling van Mede-wete in 'n gedigreeks, getiteld "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing". Opmerklik is 'n ooreenkoms tussen die twee digters se taal: albei is deur geweld aangetas en gestigmatiseerd - Krog s'n deur die apartheidsregime en Celan s'n deur die Holocaust. Krog is ook op soek na iets medemensliks en wil soos Celan haar taal transformeer om, soos sy dit stel: "'n moontlike bestaan van Afrikaans-wees van een-in-veelheid met die ander" te bewerkstellig (Van Vuuren, 2014).
5. Morfologiese sistematiek in "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing"
Soos reeds genoem, is die digterlike korpus in Mede-wete 'n gedigreeks wat uit vier gedigte bestaan waarvan die titel, "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing", impliseer dat Krog vier pogings (gedigte) aanwend om deur die taal 'n konneksie met die A/ander te vind. ('n Woordelys met 'n totaal van 196 neologismes uit die laaste afdeling word as addendum ingevoeg.)
Krog skep en herskep haar eie "nuwe" woorde (neologismes) in die bundel en enkele van hierdie skeppings is reeds in voorafgaande gedigte, soos onder meer "verlies" (bl.27), "moniaal" (bl. 41), "om te ver-jy" (bl. 46) en nog ander te bespeur. Maar dit is juis in die wending van die laaste gedigreeks waarin sy 'n "geveg" met Afrikaans aanknoop met haar "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing".
Die doel, soos reeds genoem, is om vas te stel hoe Krog in dié digterlike korpus van die bundel te werk gaan met hierdie skeppings. Hierdie navorsing maak nie aanspraak op 'n diep morfologiese of semantiese ontleding wat byvoorbeeld die metaforiek verskaf nie, maar daar word slegs op 'n basiese vlak gekyk waarmee die digter-spreker "speel" en of daar 'n morfologiese sistematiek met die vorming van hierdie woorde te bespeur is.
Vervolgens word 'n morfologiese analise aan die hand van Combrink (1990:53-85) aangebied met slegs twee verteenwoordigende voorbeelde by elke woordvormingsproses. Telkens word die gedig se titel en bladsynommer, die bladsynommer waarop die leksikale titel voorkom, die versreël en die leksikale item se nommer in die woordelys (kyk addendum) verskaf.
5.1 Afleidings
"2. sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas" (bl. 114)
(Bl. 115, reël 32, no. 40)
apoorte a- + -poort- + -e
prefiks + stam + suffiks
Morfologies bekyk, is die stam in bogenoemde nuutskepping poort wat volgens die HAT (2015:997) 'n "groot, aansienlike deurgang in 'n muur of ander soort omheining" of 'n "deurgang tussen berge" is. Die oppervlakmorfologie lei in hierdie geval egter nie net tot een lesing nie en daarom moet die betekenis ook binne die konteks van die gedig betrek word. Indien die leser apo- as 'n woorddeel lees wat "(tegnies) los van mekaar, apart, weg van" (HAT, 2015:59) beteken, ontstaan die visuele beeld van 'n deurgang tussen twee dele (berge) wat los van mekaar of apart staan. ("Apoorte" is ook 'n klankverwringing van "aparte"). Dit vorm 'n verband met die sinapsbeeld waar sinaps verwys na die "senuselbrug" of "die aansluitingspunt tussen senuselle" (PharosAfrikaans-Engels Woordeboek, 2005:1416). Krog noem dit in hierdie tweede gedig in reël 23: "wreedmoedige afstompings: laat sein oor die spleet". Van Vuuren (2014) verduidelik apoorte so:
Om 'apartwees dood' te 'begin sê' word in die tweede vers in dié afdeling neologisties (deur verwringing van die kernwoord 'apartheid') geformuleer as 'spoel die swoegtels van apoorte aardes los'. [...] Die taal as poëtikale voertuig van hierdie bewussynsverander-ende, etiese en revolusionêre doel sien Krog as 'n nuwe begin met 'n 'vuurvarende sinaps', met opheffing van die skeiding 'julle/ons' in 'n eenwordende neologistiese 'ons'le' ('sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas', bl. 114).
Alhoewel die poort in 'n omheining is of begrens word (die "ou" taal wat inklusief is), of tussen twee dele lê (swart en wit?), is dit 'n deurgang, 'n verbintenis en 'n konneksie (die nuutgeskepte taal) met iets anders (ek en die A/ander), soos wat die sinaps die verbintenis tussen senuselle is: "Die sinaps is 'n struktuur waardeur die boodskappe in die menslike senuweestelsel van die een sel na die ander gestuur word en speel 'n sentrale rol in die vorming van geheue wat in talle gedigte 'n tema is" (Viljoen, 2014a). Visagie (2015:226) sien dit as Krog se strewe in 'n etiese verantwoordelikheid teenoor die A/ander: om 'n konneksie te maak.
"4. tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" (bl. 118)
(Bl. 120, reël 62, no. 187)
onvervu(a)lde on- + -ver- + -vu(a)l- + -de
prefiks + prefiks + stam + suffiks
Krog maak hier doelbewus gebruik van klankomwisseling om 'n wyer betekenismoontlikheid aan die woord "onvervulde" te gee. Die leser kan 'n moontlike afleiding maak dat "onvervuldheid" ook "onvervaldheid" tot gevolg het: wanneer 'n ideaal nie vervul is nie laat dit 'n persoon met 'n blywende teleurstelling wat nie "'n vervaldatum" het nie. Hierdie betekenis stem ooreen met die teleurstelling wat die digter-spreker in die slotgedeelte van die laaste gedig ervaar wanneer die realiteit van die mens se beheptheid met homself by haar opkom: "...deur botmakende self-/ omhalsings en die waan dat elkeen se onvervu(a)lde/ verhemelte net vir die self glief" (reël 61-63).
5.2 Samestellings
"2. sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas" (bl. 114)
(Bl. 115, reël 29, no. 34)
woordeskot woord[e]- + -skot
stam + stam
Die leser kan bogenoemde samestelling herken as woordeskat waarin die digter-skrywer die woord "skat" na "skot" verander met 'n nuutskepping. Die verskil tussen die betekenisse van "skat" en "skot" verklaar die digter-spreker se manipulering van dié woord. Volgens die HAT (2015:781) beteken skat 'n "groot hoeveelheid; oorvloed van (interessante, kosbare, nuwe) dinge" terwyl die verouderde woord skot na 'n "afskeiding" of "afskorting" verwys. In die samestelling is woordeskat 'n oorvloed van woorde terwyl woordeskot 'n "afskorting" van hierdie woorde is. Die afleiding is dat die digter-skrywer woordeskot funksioneel gevorm het om (net soos in "wreedmoedige afstompings", reël 23) aan te dui dat daar nog nie 'n konneksie met die A/ander plaasgevind het nie; die sein het, soos in die sinaps, nog nie die spleet oorbrug nie - vandaar die "afskorting". Indien die konneksie gebeur, kan die woordeskot 'n woordeskat word: 'n oorvloed van interessante, nuwe, kosbare woorde. Dit is ook wat die digter-skrywer in die laaste afdeling van hierdie bundel prakties toepas. 'n Ander afleiding is dat die woord oorskot in woordeskot verskuil is, met ander woorde 'n "oorskot van woorde"; te veel woorde wat nie meer kan doen wat die digter-spreker wil kommunikeer nie, daarom moes sy nuwes maak. Skot kan ook in die sin van "skoot" dui op iets wat afgevuur word (HAT, 2005:1024).
"4. tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" (bl. 118)_ (Bl. 118, reël 11, no. 130)
droomster(k) droom- + -ster(k)
stam + stam
In hierdie voorbeeld is daar 'n sillabeversteuring waar 'n ekstra (opsionele) letter aan 'n bestaande nuutgeskepte samestelling gevoeg word. Die afsonderlike woorde "droom" en "ster" het volgens die HAT baie betekenisse, maar ten opsigte van die digter-skrywer se strewe na konneksies ook op kosmiese vlak (paragraaf 3), met ander woorde groter eenheid met die natuur en die heelal, verwys die ondersoek na die volgende betekenisse wat die kosmiese tema sowel as die uitreiking na die A/ander in verband bring:
Droom: "ideaal; (mooi) gedagtes oor wat jy graag sou wou hê/doen" (HAT, 2015:227, 228).
Ster: "hemelliggaam wat lig uitstraal" (HAT, 2015:1256).
Die "(k)" versterk inderdaad beide hierdie twee temas in "droomster(k)" en boonop geskied dit deur die taal in die nuutskepping van bogenoemde samestelling. Dit is 'n briljante wyse waarop daar slegs in een woord op drie verskillende vlakke betekenis toegevoeg word: die digter-spreker se strewe (droom) na konneksie op kosmiese vlak (ster) deur middel van 'n nuwe taal (droomster(k)). 'n Ander interpretasie is die verwysing na 'n vroulike vorm van dromer, naamlik "droomster" wat kan dui op die digter-spreker se eie drome.
5.3 Samestellende afleidings
In die volgende samestellende afleidings neem Krog woorde wat nie in bestaande samestellende afleidings voorkom nie, voeg dit bymekaar en skep nuwe samestellende afleidings wat vreemd is, maar ook nuwe betekenisse tot gevolg het. Vervolgens 'n paar voorbeelde met 'n verklaring uit die HAT oor die betekenisse daarvan:
"2. sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas" (bl. 114)
(Bl. 114, reël 7, no. 20)
intalige in- + -ta[a]l- + -ig- + -e
stam + (stam + suffiks + suffiks)
Daar word in die tweede gedig van die gedigreeks (waarin bogenoemde samestellende afleiding voorkom) gepoog om met "geforseerde" taal 'n konneksie met die A/ander te maak. In hierdie konteks praat die digter van "ons intalige kontinente" en wanneer 'n mens bogenoemde voorbeeld morfologies ontleed kan die stam in volgens die HAT (2015:499) as verskillende woordsoorte baie betekenisse dra waarvan die volgende vir dié voorbeeld van toepassing is: As voorsetsel: "'ingesluit in 'onderhewig/onderworpe aan 'lid/deel van 'wat betref' wat in die bepaling genoem word" (HAT, 2015:499); in hierdie geval dus kontinente wat "ingesluit" is by die taal, "onderhewig" is aan die taal, wat "lid/deel" is van die taal, of kontinente "wat die taal betref".
As bywoord, byvoeglike naamwoord, werkwoord en woorddeel met min of meer dieselfde betekenisse: "na binne toe" (HAT, 2015:499); 'n taal wat na binne (hart) toe gaan of wat na binne (grense) gerig is.
Taal dui op "'n spesifieke vorm van taal wat deur 'n bepaalde groep of individu gebruik word" en is die "manier waarop taalelemente gerangskik word" waardeur "kommunikasie bewerkstellig word" (HAT, 2015:1312). Deur die afleiding "intalige" te skep, doen die digter-spreker presies dít: sy rangskik taalelemente en skep 'n nuwe vorm van taal wat almal op die kontinent insluit (die hart sowel as grense) as 'n vernuwende vorm van kommunikasie vir almal.
"3. ESSAY-ABSTRAKTE le: SINAPS" (bl.116)
(Bl. 116, reël 28, no. 84)
magnoliameelawend
magnolia- + -mee- + -la[af]- + -end
stam + (stam + stam + suffiks)
Die dubbelklank "ee" in die woord "meeleef word deur Krog verander na "meelaaf'. Waar meeleef se betekenis "saamvoel met ander" (HAT, 2015:778) is, dui laaf op die aksie "om iemand beter te laat voel" (HAT, 2015:708). Die woord magnolia is afgelei van die Franse botanis Pierre Magnol se van - hy het bygedra tot die wetenskaplike kennis oor die magnolia wat nie net in spesifieke spesies nie, maar ook in "families" voorkom. Die magnolia-blom is simbool van die Yin, oftewel van die vroulike kant van die lewe (The Magnolia Flower: Its meanings and symbolism, s.j.). Dit blyk dat die digter-spreker met die "Sleutelwoord[e]" magnoliameelawend (reël 28) spesifiek verwys na die meelewing van vroue wat 'n teenpool is van die ouer mans wat sy in "ABSTRAK 5" beskryf as "sjarmant selfversekerd", "bedaard roekeloos" wat "niemand tot verantwoording roep" (reëls 24-29). Die afleiding kan hier gemaak word dat vroue die geroepe spesie bo mans is om die taak van meelewing uit te voer. "Meelawend" roep ook verslawend op wat pas in die konteks van die ouer mans se verslawing aan mag ("tot slaaf maak; jou lewe/dade beheer", HAT, 2015:1474).
5.4 Samestellende samestellings
"3. ESSAY-ABSTRAKTE le: SINAPS" (bl.116)
(Bl. 116, reël 2, no. 42)
fluweeltoon-geweerskote
fluweel + toon + geweer + sko[o]te
(stam + stam) + (stam + stam)
Die eerste samestelling dui op 'n sagte klank (toon), want volgens die HAT (2015:286) word die woord fluweel figuurlik gebruik vir "iets wat weens die sagtheid of glans daarvan aan fluweel laat dink". Dié samestelling staan in kontras met die tweede deel van die samestellende samestelling; geweerskote wat die "knal" van "die afskiet van 'n patroon met 'n vuurwapen" (HAT, 2015:1162) suggereer. Dit is 'n voorbeeld hoe Krog vreemde woorde met verskillende assosiasies saamvoeg in nuutgeskepte samestellings wat nuwe betekenisse tot gevolg het.
(Bl. 116, reël 17, no. 69)
medekaarsbloedbewaring
mede- + -kaar- + -s- + -bloed- + bewaring
stam + stam + voegsel + stam + stam
In hierdie samestellende samestelling kan bloed in die tweede samestelling figuurlik na die bewaring van die "familie" of "afkoms" (HAT, 2015:126) van 'n persoon verwys. In die eerste nuutgeskepte samestelling medekaars gebruik die liriese subjek die woord medekaar in plaas van mekaar en beklemtoon sy die samehorigheidsgevoel deur mede in te voeg, want mede beteken "ook; saam". Medekaarsbloedbewaringbepaal dat ons mekaar se afkoms moet bewaar.
5.5 Vloekwoordinlywing
'n Voorbeeld waar die digter-spreker twee woorde bewustelik reduseer en dan kombineer (reduksiesamestelling) is die woord "fokkals" in die laaste gedig op bl. 120, reël 68, no. 196: fokkals fokken + jakkals
óf
fokkals fokkol + alles
6. Enkele semantiese ontledings
Soos vroeëer vermeld, word die leksikale items nie op 'n metaforiese vlak ontleed nie. Uit voorafgaande voorbeelde is dit reeds duidelik dat Krog se manipulasie of spel met woorde op só 'n wyse geskied dat dit by temas in die bundel as geheel aansluit. Dit laat selfs die suggestie dat die digter-spreker met dié temas in die agtergrond bewustelik gelei is om kreatief te werk te gaan in die woordvormingsprosesse van hierde items.
Soos reeds genoem, kom verskeie van Krog se bekende temas van haar oeuvre weer in die bundel Mede-wete aan bod. Die tema wat die sterkste op die voorgrond tree, is die verhouding tussen die ek (self) en die A/ander (kulturele ander).
In 'n studie oor die begrip "interverbondenheid-tot-heelheid" in Mede-wete ('n neologisme deur Krog geskep wat afgewissel word met "ubuntu" en op die rol van vergifnis en versoening dui), brei Voges (2017:71) uit oor die digter-spreker se "behoefte aan interverbondenheid met die kulturele ander (tussen swart en wit mense van Suid-Afrika)". Verskillende persone se sienings oor die begrip "ubuntu" word van nader bekyk en sy verwys onder andere na Gyekye se siening: "Personhood may reach its full realization in community, but it is not acquired or yet to be achieved as one goes along in society ... One is a person because of what one is, not because of what one has acquired" (Gyekye in Voges, 2017:8). In Mede-wete is Gyekye een van die "Sleutelwoorde" in die derde gedig van die laaste gedigreeks (bl. 116, reël 6). Interverbondenheid word op verskillende vlakke gereflekteer en in Mede-wete is die begrip sinaps in die laaste afdeling, "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing", deurgaans 'n tema wat die konneksie belig asook die tema van interverbondenheid tussen die taal (Afrikaans) en die groter literêre gemeenskap en tussen die ek (self) en die "nie-menslike ander (in die vorm van die natuur en die kosmos)" (Voges, 2017:71).
Nog 'n bundeltema wat aansluit by die vorming van nuutgeskepte leksikale items in die digterlike korpus, is onder meer die geweld en wantoestande in Suid-Afrika wat gepaard gaan met verlies van menslikheid en die kollektiewe skuld wat dit tot gevolg het.
Vervolgens 'n paar voorbeelde uit die laaste vier gedigte wat op betekenisvlak verband hou met die belangrikste temas in die bundel, naamlik ek en die A/ander, konneksie/sinaps, konneksies deur taal en op natuur- en kosmiese vlak asook die geweld en wantoestande in Suid-Afrika. Hierdie voorbeelde belig die morfosemantiese aard van die woordkeuse se skakel met die tematiek van die bundel en die laaste afdeling.
6.1 Ek en die A/ander
"2. sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas" (bl. 114)
(Bl. 114, reël 5, no. 18)
gerasse ge- + -ras- + -(s)e
prefiks + stam + suffiks
Die stam (ras) in bostaande woord verwys volgens die HAT (2015:1034) op 'n kwetsende wyse na 'n "groep mense verbind deur 'n gemeenskaplike afkoms en gekenmerk deur min of meer vaste erflike eienskappe en ooreenkoms, veral wat voorkoms betref'. Met betrekking tot die tema in die bundel wat die meeste na vore kom, verteenwoordig Ek die groep mense met 'n wit vel en die A/ander dié met 'n nie-blanke vel, byvoorbeeld swart en bruin.
(Bl. 114, reël 16, no. 26)
sniks snik + niks
In hierdie voorbeeld kan twee woorde gelees word, naamlik snik ("hikkende geluid wat met huil gepaard gaan", HAT, 2015:1196) en niks ("nie iets nie" of "glad nie", HAT, 2015:843). Die neologisme sniks in die reël "sniks aan jou laat my onberoerd nie" kan op twee maniere betekenis oordra: dat niks aan die jou die "my" onberoerd laat nie, maar dat die niks terselfdertyd die "my" laat huil of snik.
6.2 Konneksie - Sinaps
"3. ESSAY-ABSTRAKTE le: SINAPS" (bl.116)
(Bl. 116, reël 11, no. 59)
eerknopend eer- + -knoop- + -end
stam + stam + suffiks
Ten opsigte van die wyse waarop die liriese subjek bostaande nuutskepping aanwend, is die volgende twee betekenisse van knoop van belang:
a) 'n voorwerp aan 'n kledingstuk wat "twee pante van die kledingstuk aan mekaar" heg wanneer jy die knoop deur 'n gaatjie steek, of
b) die "deel waar een of meer stukke tou ... in 'n knop vasgetrek is om 'n las/verbinding te verkry" (HAT, 2015:646).
In die konteks van die gedig moet die hegting of verbinding (konneksie) op 'n manier geskied waarop "agting bewys" of "eer betuig" word (HAT, 2015:242).
"4. tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" (bl. 118)
(Bl. 119, reël 44, no. 166)
getweë ge- + -tweë
prefiks + stam
Tweë is 'n meervoud van die telwoord twee (HAT, 2015:1377) en in reël 44 en 45 ("die begin van getweë / asem") dra tweë die boodskap oor dat die mens in groepe (meer as een) sal saamleef. Getweë laat dink 'n mens aan gedweë wat "stil en altyd gewillig om iemand te gehoorsaam; inskiklik" beteken (HAT, 2015:313). Deur laasgenoemde woord by te trek, kan die leser spekuleer dat die mens nie net in groepe sal saamleef nie, maar ook gedweë (inskiklik) sal saamleef omdat hul moeg is van die tweestryd.
6.3 Konneksie deur taal
"3. ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS" (bl.116)
(Bl. 116, reëls 7 en 8, no. 53)
morfeem-oopborend
morfeem- + -oop- + -boor- + -end
stam + stam + stam + suffiks
Reeds in die motto-gedig (bl. 111) van die laaste gedigreeks skryf die digter-spreker oor "die oopboor van verstopte sillabes". Sy span werkwoorde in wat ooreenstem met die werksaamhede in 'n werkswinkel wanneer sy "sillabes" wat "verstop" is wil "oopboor", 'n "uitgebrande tweeklank" wil "verstel" en "medeklinkers" wil "afsaag" sodat daar "lug" kan "instroom" op die "erbarmlose verstokte ou woorde". Sy wil 'n "nuwe taal" skep met "'n nuwe geluid" en hierdie taal sal "omgee omgewend apartwees dood begin sê". In hierdie gedig spesifiseer sy dat daar tot in die "kleinste strukturele deeltjie van 'n woord wat betekenis het en nie in kleiner deeltjies met betekenis opgebreek kan word nie" (HAT, 2015:812) deurgedring sal word.
(Bl. 116, reel 10, no. 56)
etiserende eti[e]s- + -e[e]r- + -end- + -e
stam + stam + suffiks + suffiks
Visagie (2015:226) skryf dat Krog die rol van vertaling in die oorbrugging van kulture belangrik ag: "Die verkenning van onderlinge verbondenheid sluit aan by die hoë premie wat Krog in haar werk heg aan die etiese verantwoordelikheid teenoor die ander." Die eti[e]s in die voorbeeld van "die etiserende tong" het twee moontlike betekenisse:
a) 'n Tong wat die etiese ("wat betref die etiek/sedewette; sedekundig; sedelik", HAT, 2015:268) e[e]r.
b) Eti- kan dui op etimologie wat die "geskiedenis van 'n woord met aanduiding van sy oorsprong en ontwikkeling in vorm en betekenis" of "woordafleiding" is (HAT, 2015:268) en sluit aan by temas soos herkoms, eer en etiek in die laaste afdeling. Elkeen van bogenoemde voorbeelde hou verband met die taal.
6.4 Konneksies op natuur- en kosmiese vlak
"2. sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas" (bl. 114)
(Bl. 115, reël 30, no. 36)
aar-eerde aar- + -eer- + -de
stam + stam + suffiks
In bogenoemde afleiding blyk dit dat die stam eer in die woord aarde gevoeg word en die leser lei om die afleiding te maak dat die aarde geëer moet word, of dat dit 'n geëerde aarde is. Op nog 'n vlak kan die betekenis van aar, naamlik "deel van 'n plant ... waarop die saad/ korrels verskyn" asook "buis waardeur bloed van die weefsels en organe na die hart teruggevoer word" (HAT, 2015:14) impliseer dat die aarde hoog geag moet word vir dié eienskappe wat ooreenstem met 'n aar, naamlik die draer van (nuwe) lewe.
"4. tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" (bl. 118)
(Bl. 118, reël 23, no. 147)
bloedbeeks bloed- + -beek- + -s
stam + (stam + suffiks)
Bloedbeeks word in gedig 4 as 'n byvoeglike naamwoord gebruik in "en iets wat voorlopig bloedbeeks splint". Waar splint na die gebreekte hout (boom) verwys, beskryf bloedbeeks die splint soos 'n "stroompie" (HAT, 2015:86) bloed. Bloed kan op 'n figuurlike vlak ook beteken dat die digter-spreker en die boom "familie" of van dieselfde "afkoms" is (HAT, 2015:126). Volgens Smith (2016:1221) is dit die "bloedgreep" wat tussen die boom se wortels lê waarmee Krog haarself as "oplosbaar/vervangbaar" sien.
6.5 Geweld en wantoestande in Suid-Afrika
"1. in gebreke bly binne-aars" (bl. 112)
(Bl. 113, reël 34, no. 16)
vierkamervuis vier- + -kamer- + -vuis
stam + stam + stam
Bostaande neologisme roep die woord "vierkamerhuis" in die geheue op, maar waar huis 'n plek is waar jy jou toevlug vind en geborge voel, verander vuis die emosionele verbintenis na iets gewelddadig. Die vier kamers kan ook na die hart se vier kamers verwys, maar in hierdie konteks is die hart dan 'n vuis. Is dit dié vuis wat met geweld die ek en die A/ander skei om in aparte kamers te bly, byna soos die driekamerparlement in die apartheidsera?
"2. sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas" (bl. 114)
(Bl. 114, reël 5, no. 19)
stroomkreng stroom- + -kreng
stam + stam
In hierdie tweede gedig van die laaste afdeling skryf die liriese subjek in reël 3-5: "hoor jy my grabbel / in hegge in omhagte heinings in papiere / gerasse en die stroomkreng van harsings". Die stam stroom verwys op 'n figuurlike wyse na 'n "voortbewegende menigte" of letterlik na 'n "rivier; spruit" (HAT, 2015:1281) terwyl kreng 'n "kadawei" (Coetzee, 2009:160) of "dooie dier in 'n staat van ontbinding" (HAT, 2015:686) impliseer. Dus 'n stroom mense wat voortbeweeg, maar eintlik reeds dood is - dié stroom mense se harsings is reeds in 'n staat van ontbinding. 'n Ander betekenisopsie van kreng is wanneer 'n mens 'n skip "laat oorhel op een kant vir herstel" wat impliseer dat beskadiging plaasgevind het. Selfs die woord krenk se betekenis van "geestelike pyn aandoen; beledig; grief; seermaak" (HAT, 2015:686) sluit aan by die proses van aftakeling, hetsy fisies of geestelik. In Nederlands is daar nog 'n betekenis van kreng, naamlik "gemene vrouw" of "teeí" (Martin, 2011:932).
7. Slot
Uit die morfologiese analise van verteenwoordigende voorbeelde uit die laaste gedigreeks in Mede-wete kan die leser aflei dat Krog op 'n bepaalde wyse te werk gaan ten opsigte van leksikale vernuwing deurdat sy bestaande woorde "verwring" en "omvorm" of nuwes skep om betekenis oor te dra. Dié patroonmatige tegnieke wat sy gebruik, stem ooreen met dié van Celan (waarmee sy kennis gemaak het en waarin sy tydens haar verblyf in 2008 in Duitsland privaat onderrig ontvang het). Krog gebruik ook (soos Van Niekerk in Kaar) soortgelyke tegnieke om die taal te vervorm en 'n mineurtaal te skep wat aan haar 'n platform bied om opinies oor politiek-georiënteerde onderwerpe te lug en 'n hele groep mense te kan verteenwoordig (Stander, 2012:41). Pieterse is van mening dat "net soos die doel van die mineur in musiek is om die refrein - die konstante in musiek - te deterritorialiseer, is die doel van mineurliteratuur om die konstante in taal te laat varieer" (Pieterse, 2017:377).
Uit die navorsing van hierdie artikel is die volgende bevindings afgelei ten opsigte van die morfologiese vernuwing wat Krog toepas:
• Die toevoeging van 'n suffiks of bloot 'n ekstra letter of klank aan die einde van 'n bestaande woord wat die oorspronklike woord se betekenis verander, byvoorbeeld verdorb, droomster(k), vervoerd, gewor(d)p.
• Vokaalverandering binne-in die woord wat tot 'n nuwe betekenis lei, maar ook die oorspronklike betekenis van die woord (voor vokaalverandering) suggereer, byvoorbeeld medemanslik, kwats, aanvellende, w(a)onde, enkelha(o)ltes, selfom-halsings, onvervu(a)lde, ontkannend.
• Die invoeging van 'n medeklinker (tussen hakies) binne-in 'n woord wat die leser met twee opsionele keuses met twee verskillende woordbetekenisse laat, byvoorbeeld elk(h)aar-wees, medel(j)ye, heelhei(l)dswordende, op(p)erlug, verb(l)ind.
• Die samevoeging van bekende woorde tot nuwe kombinasies. Dit gaan hier om die opheffing van die arbitrêre en konvensionele aard van woorde/stamme sodat 'n nuwe kombinasie 'n nuwe en dus nie-konvensionele betekenis kan skep vir slegs die konteks van die gedig, byvoorbeeld woordeskot, laafhê, oorlag, boomwees, skepstort.
• Die samevoeging van vreemde woorde met verskillende assosiasies in nuutgeskepte samestellings wat nuwe betekenisse tot gevolg het, byvoorbeeld fluweeltoon-geweerskote, medekaarsbloedbewaring, leegsmoedvendetta.
• Die gebruik van 'n woord in sy morfologiese vorm waarin daar 'n ander woord skuil wat nie in die morfologiese analise voorkom nie, byvoorbeeld -rooi- in dagga-prooiogend.
• Die gebruik van deelwoorde en adjektiewe met -end-uitgange, byvoorbeeld nuut-woordend, middelmurgvlietend, magnoliameelawend, sorgasemend.
• Die skep van ongewone werkwoord-nuutskeppings deur die werkwoordvormende afleidingsmorfeem ver- te gebruik, byvoorbeeld vergras, vermier, verwolk, ver-swatwitpens.
• Die gebruik van reduksiesamestelling deur een of albei woorde te reduseer en dan te kombineer wat 'n nuutskepping tot gevolg het, byvoorbeeld ons'le (ons + julle), honger 'le (honger + hulle) en nywerig (nydig + ywerig).
Na aanleiding van die bevindings oor die prosesse wat Krog gebruik het asook Combrink (1990:81) se siening dat "skepping pas ter sake [word] wanneer dit gepaard gaan met sistematiek", toon die artikel aan dat daar beslis 'n morfologiese sistematiek in die vorming van Krog se morfologiese vernuwing is. Die afleiding is dat daar soms wel grys areas is waar die leser nie met sekerheid kan bepaal of die digter-skrywer net intuïtief te werk gegaan het en of sy 'n sistematiek gevolg het nie. Dit is duidelik dat Krog deur woordspel leksikale items spesifiek so manipuleer dat die nuutskeppings se betekenisse inpas by die tema van elke gedig en ook by die temas van die bundel as geheel. Hierdie leksikale vernuwing is die resultaat van 'n tussenspel tussen morfologiese geledingspatrone en semantiese taalspel (betekenismanipu-lasie weens morfologiese ingreep) en maak dit moontlik om 'n nuwe taal te skep wat, binne die tematiek van die gedigte en die bundel, alles en almal in die nuwe Suid-Afrikaanse bedeling insluit.
BIBLIOGRAFIE
Blum, P. 1955. Steenbok totpoolsee. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk. [ Links ]
Breytenbach, B. 2007. Die windvanger. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Breytenbach, B. 2019. op weg na kû. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Brink, AP. 2008. Groot verseboek. Deel 2. Eerste uitgawe in drie dele. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Celan, P. 1996. Paul Celan. Selected poems. Translated with an introduction by Michael Hamburger. London, New York, Victoria, Ontario, Auckland: Penguin Books. [ Links ]
Combrink, JGH. 1990. Afrikaanse morfologie - Capita Exemplaria. Pretoria: Academica. [ Links ]
Coetzee, A. 2009. Die vlugtige taal van vergeet: Die metafoor by Breyten Breytenbach. Tydskrif vir letterkunde, 46(2):150-168. [ Links ]
Esterhuizen, L. 2014. "Die verweerde liggaam vertaal haar ontologie". [Intyds]. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/tag/mede-wete/ [2018, November 25]. [ Links ]
George, EE. 1997. Language and the Holocaust: reflections on the poetry of Paul Celan. Michigan Quarterly Review, 36(3). [Intyds]. Beskikbaar: http://hdl.handle.net/2027/spo.act2080.0036.318 [2021, Februarie 26]. [ Links ]
Gouws, RH & Odendal, FF. (reds.). 2005. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Vyfde uitgawe. Kaapstad: Pearson Education South Africa. [ Links ]
Gouws, RH, Luther, J & Pheiffer, F. (reds.). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Sesde uitgawe. Kaapstad: Pearson Holdings (Edms.) Bpk. [ Links ]
Houtum, HJ. 2010. Deterritorialization. [Intyds]. Beskikbaar: https://repository.ubn.ru.nl [2021, Januarie 15]. [ Links ]
Jacobs, Ihette. 2015. Resensie. Mede-wete (Antjie Krog). Tydskrif vir letterkunde, 52(2):235-236. [ Links ]
Krog, A. 2014. Mede-wete. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Krog, A. 2022. plunder. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Martin, Willy. (red.). 2011. Groot Woordeboek - Afrikaans en Nederlands (deur Pharos Woordeboeke). Kaapstad: NB-Uitgewers. [ Links ]
Pharos Afrikaans-Engels /English-Afrikaans Woordeboek Dictionary. 2005. Kaapstad: NB-Uitgewers. [ Links ]
Pieterse, HJ. 2017. Variasie en variëteit: 'n Voorlopige verkenning van die voorkoms en funksie van taalvariëteite in Kaar (Marlene van Niekerk). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1):369-386. [ Links ]
Poetry Foundation - Paul Celan. 2017. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.poetryfoundation.org/poets/paul-celan [2018, Februarie 12]. [ Links ]
Smith, Susan. 2016. "Landskapverinniging" as sentrale motief in die gedig "tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid" in die bundel Mede-wete (2014) van Antjie Krog. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 56(4-2):1213-1226. [ Links ]
Stander, AS. 2012. Taal wat stamel, stotter en struikel: Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper (2010) as mineurletterkunde. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. [Intyds]. Beskikbaar: http://hdl.handle.net/10019.1/20061 [2018, April 2]. [ Links ]
Taljard, M. 2014. Resensie: "Mede-wete" (Antjie Krog). [Intyds}. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2014/12/08/resensie-mede-wete-antjie-krog/#more-55426 [2018, Desember 08]. [ Links ]
The Magnoliaflower: its meanings and symbolism. s.j. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.flowermeaning.com/magnolia-flower-meaning/ [2018, Desember 14]. [ Links ]
Van Niekerk, J. 2014. Lewe sonder wete van ander - Resensie van Mede-wete deur Antjie Krog. Rapport. 7 Desember. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.netwerk24.com/vermaak/2014-12-07-lewe-sonder-wete-van-ander [2020, September 5]. [ Links ]
Van Niekerk, Marlene. 2013. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Van Vuuren, Helize. 2014. LitNet Akademies-resensie-essay: Mede-wete deur Antjie Krog. [Intyds]. Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-mede-wete-deur-antjie-krog/ [2018, Desember 3]. [ Links ]
Viljoen, Louise. 2014a. Resensie: Antjie Krog - Mede-wete. Die Burger. 13 Desember. [ Links ]
Viljoen, Louise. 2014b. Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Stellenbosch: Sun Media. [ Links ]
Viljoen, Louise. 2016. Antjie Krog's Mede-wete / Synapse as a challenge to new ways of comparative reading. Literator, 37(1). [Intyds]. Beskikbaar: http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1271 [2018, Julie 21]. [ Links ]
Visagie, A. 2015. Sinaps-opsporing tussen self en ander in Antjie Krog se Mede-wete (2014). Tydskrif vir letterkunde, 52(2):225-234. [ Links ]
Voges, R. 2017. Die hantering van die begrip 'interverbondenheid' in Antjie Krog se bundel Mede-wete (2014). Ongepubliseerde MA-verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. [Intyds]. Beskikbaar: https://scholar.sun.ac.za [2020, Oktober, 26]. [ Links ]
Ontvang: 2024-04-19
Goedgekeur: 2024-11-06
Gepubliseer: Desember 2024
Corné Richter voltooi haar BA-graad in 1994 aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en keer ná jare terug na die akademie. Sy verwerf in 2017 haar honneurs- en in 2020 haar MA-graad in Letterkunde by dieselfde universiteit met die titel "'n Morfologies-sistematiese analise van die komposisiestrukture in 'vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing' in Mede-wete (2014) deur Antjie Krog". Sy is tans 'n junior navorser by die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat en was as projekassistent betrokke by die publikasie Van toeka af die toekoms in. Die geskiedenis van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat 1918-2023 wat in 2023 verskyn het.
Corné Richter completed her BA degree in 1994 at the University of the Orange Free State and, after many years, returned to academia. She obtained her honours degree in 2017 and her MA degree in Literature in 2020 at the same university with the title "A morphological-systematic analysis of the compositional structures in 'vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing' ('four efforts in linguistic synapse tracing') in Mede-wete (Synapse) (2014) by Antjie Krog". She is currently a junior researcher at the Department of Afrikaans and Dutch, German and French at the University of the Free State and was involved as a project assistant in the publication of Van toeka af die toekoms in. Die geskiedenis van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat 1918-2023 that was published in 2023.
Henning Pieterse behaal die graad DLitt et Phil in Afrikaanse taalkunde (1995). Hy is mederedakteur (saam met PH Swanepoel) van Perspektiewe op taalbeplanning vir Suid-Afrika (1993). In 1989 verskyn sy digdebuut, Alruin, wat bekroon word met die Eugène Maraisprys (1990) en die Ingrid Jonkerprys (1991). In dieselfde jaar is hy eindredakteur van John Boje se 'n Keur uit die Pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer, wat bekroon word met die Akademie-prys vir Vertaling (1990). Hy is Hoofredakteur van TydskrifvirLetterkunde tussen 1992 en 2002. In 1998 publiseer hy 'n bundel kortverhale, Omdat ons alles is en in 2000 'n tweede digbun-del, Die burg van hertogBloubaard, wat bekroon word met die Hertzogprys in 2002. Sy vertaling van Rilke se Duineser Elegien (2007) word in 2008 bekroon met die Nedbank-Akademieprys vir Vertaalde Werk. In 2018 verskyn Tussen die abjekte en die eteriese. 'n Keur uit diepoësie van Michel Houellebecq. Sy vrye, berymde vertaling van Van den vos Reynaerde verskyn in 2023 as Reinaard die vos. Hy is ook in 2023 mederedakteur (saam met Angelique van Niekerk en Jaap Steyn) van Van toeka af die toekoms in. Die geskiedenis van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat 1918-2023. Pieterse is 'n professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat.
Henning Pieterse obtained the degree DLitt et Phil in Afrikaans linguistics (1995). He is coeditor (with PH Swanepoel) of Perspektiewe op taalbeplanning vir Suid-Afrika (1993). In 1989, his poetry debut, Alruin, appeared, and he was awarded the Eugène Marais Prize (1990) and the Ingrid Jonker Prize (1991). In the same year, he was the final editor of John Boje's 'n Keur uit die Pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer, which was awarded the Academy Award for Translation (1990). He was Editor-in-Chief of Tydskrif vir Letterkunde from 1992 to 2002. In 1998, he published a collection of short stories, Omdat ons alles is, and in 2000, a second collection of poems, Die burg van hertog Bloubaard, which was awarded the Hertzog Prize in 2002. His translation of Rilke's Duineser Elegien (2007) was awarded the Nedbank Academy Prize for Translated Work in 2008. In 2018 appears Tussen die abjekte en die eteriese. 'n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq. His free, rhyming translation of Van den vos Reynaerde appears in 2023 as Reinaard die vos. He is also a co-author in 2023 (along with Angelique van Niekerk and Jaap Steyn) from Van toeka af die toekoms in. Die geskiedenis van Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat 1918-2023. Pieterse is a professor in the Department of Afrikaans and Dutch, German and French at the University of the Free State.
ADDENDUM
Einmal
1 EINMAL,
2 da hörte ich ihn,
3 da wusch er die Welt,
4 ungesehn, nachtlang,
5 wirklich.
6 Eins und Unendlich,
7 vernichtet,
8 ichten.
9 Licht war. Rettung.
1.
in gebreke bly binne-aars
(Instrange yourself, /deeper. Paul Celan)
1 wanneer ontbinding soos refreine onhoudbaar binne-aars tap
2 skroei heimwee brandstroke om dit wat kon wees:
3 orberende hart van die heuninglyf eens en maanhaar
4 oë heilhappend uit die slankheid van witstinkhouthalse
5 tong gevolmag
6 die son sniert
7 die nagberg nerts
8 haelwitogig die ek in die vlamstippeklem van die groot luister
9 om knalbenig te leef op die volle omgee af hosanna en here
10 die aarde het ek in my mond geneem. 'n verhewigde land
11 probeer begryp. daarvan herstel ek nie weer nie
12 nog van die gebral
13 van oorhoofse manlikheid
14 nog van die raafgier
15 van geldgrabbelary
16 nog van mense versug tot bestuurde verhongering
17 die waarheid wou ek bestek die ondiep oopkap
18 die onmededeelsames vergruis die ineengeklaagdes
19 tot integrasie bevry 'n klipkapper wees
20 'n priesteres van stof
21 'n vorm-eter
22 'n regentes van
23 aardkorsbeminning in
24 universums van omgee
25 maar my eie verrotting huigel nie, is nie skroomvallig nie
26 dit kyk mens al hoe omvattender aan - hou
27 die hibriede moree-arm hart die lamhangende slagtersarm
28 die keelvel van as al hoe hitsiger dop
29 in trae sterrewaas
30 gryp sterflikheid
31 hinnikend
32 deur my heen
33 ek hang met my hand aan my enigste téénwees:
34 die hortende donker dahlia-gevulde vierkamervuis
2.
sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas
1 hoor jy my
2 jy wat julle/ons is
3 hoor jy my grabbel
4 in hegge in omhagte heinings in papiere
5 gerasse en die stroomkreng van harsings
6 jy laaf op die uitroffelende ente
7 van ons intalige kontinente -
8 daar waar ons losgeskaar is
9 eens toe ons retinas mekaars was
10 eens voor ons andersheem begin bloei het
11 eens toe ons elk(h)aar-wees moontlik was
12 hoor jy my?
13 jy wat julle/ons is
14 my bannendste buig in my my binneste
15 moet bagger in buigtes onnegeerbare bogte want
16 sniks aan jou laat my onberoerd nie
17 kom ons begin weer as vuurvarende sinaps
18 jou'le wolkheid en ons'le stof
19 sandklip sling fyn traseer mier'le ons'le wange
20 hoor jou'le my?
21 jy wat ons'le is
22 as weggeskrote sompige lewers leef ons
23 wreedmoedige afstompings: laat sein oor die spleet
24 alle jou'le ons'le alle aard'le arm'le honger'le
25 asmekaar waks ons'le almals voete voer mekaars monde
26 vervullings van meesalwing
27 voort in erbarmde armadaskes sterre
28 dit wat anders ek'le gryp die ons'le
29 in 'n nuwe woordeskot van etaak
30 ons knal gans die aar-eerde tot kielblou-klank
31 (hoor jy die nuwe-newe die safte hoe verlosbluffend
32 spoel die swoegtels van apoorte aardes los?)
3.
ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS
Nur die Hoffnung kauert erblindet im Licht. Ingeborg Bachmann
1 ABSTRAK 1: die keelafgesnyde woord die onskuldige land die sintaksis met
2 ou bloed aan gammele fluweeltoon-geweerskote en die gevilte baard oprillend
3 roofsugskitterend tydens slordige gebede o plekke van stilstand en besweke
4 ingewande? Doodsbringdommende wange skrielpuisterig daggaprooiogend
5 tankwiegend
6 Sleutelwoorde: loodklotend medemanslik kamoefleertierend Gyekye
7 ABSTRAK 2: verse in hul eie universums van verminkte sintaksis morfeem-
8 oopborend nuutwoordend binne ou vokaalgerasde asems vertaling word
9 ekstensie en radikale voorwaarde vir begrip lees is om te vertaal? dit rus nooit
10 maklik op die etiserende tong
11 Sleutelwoorde: taalheiningknotting Celan etiesentrifugaal eerknopend
12 versterrend
13 ABSTRAK 3: vuur wat nie uitbrand haar hare gregoriaans gegrint digstruikend
14 as takkies verdorb ontluisterd kwats die berk gragontgogelde warhede die af-
15 gemete gang van wanhoop vat net vát aan my asof blindvingerpuntend on-
16 ontkinde berou 'n stuk sterwing
17 Sleutelwoorde: medekaarsbloedbewaring middelmurgvlietend laafhê
18 grondifiseer
19 ABSTRAK 4: nooit verlaat sy oë haar mond nie sy's bewus van te veel bloed
20 in haar lippe 'n mondholtelossigheid sy's woord-artikulerende asof in gesprek
21 met sy oë as sy nou haar tong? wegdraaiend 'n glas pynvaart
22 Sleutelwoorde: medel(j)ye loefagtervolgde weerskynsbedier aanvellende
23 een-in-vele
24 ABSTRAK 5: daar's iets aan ouer mans 'n sjarmante selfversekerdheid? 'n
25 bedaarde roekeloosheid? hul weerlose wangteerheid ont-engende ooglede
26 eis niks breek niks roep niemand tot verantwoording hy bemin met byna
27 treurende wenkbroue wat onverwags voor hom staan
28 Sleutelwoorde: heilspreekgelommerd magnoliameelawend oorlag
29 medemenses
30 ABSTRAK 6: mensdeurwraakte gewrig van die wêreld ademloospêrelend tou
31 woordwrakke gedigte skeur oor die blaai waaruit dialoë wel voltydsvallende
32 blare? die gebou oorkant sigbaarder iemand maak 'n venster oop eensaamheid
33 hang altyd vernullend aan die elmboë
34 Sleutelwoorde: leegsmoedvendetta oewer- en eweningloos Carson
35 meegevoelfalend
36 ABSTRAK 7: die afrikaanse letterkunde sinkshackend almal hurk op die
37 grondvloer druk mekaar vir ekstra beenspasie nou en dan pluk iemand die
38 blikdeur oop is julle wragtig nog hier? iemand sing yoohotohoo iemand molm
39 'n ander kakkerlakend
40 Sleutelwoord: medeklinkermedepligtigheid bobeenversitters-in-
41 krimpende-taal oud-ontongend
42 ABSTRAK 8: méér is nodig in dié kakebeen van haat as vlerkskarnierende
43 hiernamaalse mense droom nie meer geregtigheid nie maar rykdom? ag
44 om droesemtoe deurspriet te voel deur elke menselied en hoe jou huid
45 sorgasemend afgronde dek
46 Sleutelwoorde: evangaliesmedesleurend wanhoopsepifanie Hinsey
47 rulleswart sneeubrei plantliks
48 ABSTRAK 9: die gesig onthuts my die inval van jou oë: onderbreek my
49 wees hou my in kruisverhoor spreek geregtigheid gaan my begrip vooraf
50 is die voorportaal van my verwildering die oog-issigheid 'n kleed van bevel:
51 voldoen!
52 Sleutelwoorde: ontLevinas binêrevermyding ademdeurwaks mededoog
53 ABSTRAK 10: ek hu 'n onnamaakbare boom my egbindelik benaamde?
54 haar bedagse asemblossing op my skouers ek's jags op haar aflaat haar tong
55 in my oor pluk 'n brandende lont deur my harskings vryvuurwirrkaatsend
56 vlamtasbaarste my. goddin
57 Sleutelwoorde: vergras vermier verwolk verswartwitpens //Kabbo
58 landskapverinniging enkelmensvel-opgee-end
4.
tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid
1 (die onkwantifiseerbare)
2 my liggaam leer geleidelik die ontologie van ansigbaarheid
3 lees om sodoende met heelhei(l)dswordende vibrasies
4 as permanente onsekerheid op asem te kom van ons
5 op(p)erlug en allenighede wil my oë slegs: die wees
6 en die radelose gryp van mortaliteit
7 begin sysnap as 'n soort onfinaliteit
8 (die kritieke vraag)
9 :die berg strik die kleur van gestoofde pienkgeprikte kweper
10 in ons midde-syn is die skielik onkodeerbare pyn
11 wat ek voel bloot 'n droomster(k) self wat stramlighouend wrik?
12 of dalk tiperend van 'n elektromagnetiese hart?
13 is dit onmoontlik om uit te reik as 'n word-
14 deurwarde maar waastulpende
15 oneindigheidsverbondte mens gebenig
16 bevlesig en vervoerd tot in die nano-ste nanonietjie-gebod?
17 want wat de fok anders bedoel die inhomse filosowe?
18 is dit dít?
19 (definiërings van onderlinge verbinding)
20 jirre my takkerasie my boomlinggeliefdste -
21 hoe sjarmantogig waak jou allesherstellende begrip
22 van boomwees molmneutig mosbassig
23 en iets wat voorlopig bloedbeeks splint
24 ek is daar ín
25 én jy jy's opgeraap tot die radiogolwe van wesenheid
26 ook besig om veelwees te huidig om heelsaamheid
27 van al ons wesende gewordendes van klip
28 tot tjilp te bedadig van reënstrekking tot ribsterglip
29 (vraag oor metodologie)
30 ek moet julle bly pla my verbonde verbande
31 soos ek probeer ontsnap uit die enkele mond van w(a)onde
32 ('n verontrustende postulaat)
33 want dit is natuurlik die hoop: die vrymaakende kantelduik
34 die salige sillabe opstygend vanuit die enkelha(o)ltes die banier
35 van iets méér as invoelende verbeelding méér as erbarming as
36 met. goedgeefs soos eiers 'n deursinggewende klier bytsoda-
37 oop die opreep die skepstort die snikstase
38 van die vrymaak-verslinding na veelvoud [ ] [ ]
39 die mirakelmakendheid daarvan dat dit die hoop is
40 die onder oë sien die verb(l)ind word
41 (teorie anderkant die sogenaamde aard van denke)
42 tot in-sig wees: ek is [ ] die bedelaar ekpraat leeu [ ] ek
43 sneeu ek [ ] hoor die boom teen die saag skreeu - onverleë
44 die einde van liedletsels en die begin van getweë
45 asem klein jasmynjort nywerig en windversnik
46 soveel meer as mensestemme val ons voddes binne
47 ons móét God ry tot hy mak is en ons weggee
48 as ademloos lig-wigtiges aan die tampende skyn
49 van wimpelvlerknaguile skil wat ver-een
50 verru jou hare in die skokmat-sig van groen
51 om die geskiedenis van soomloses te vernu
52 (uiteindelike kwalitatiewe diskoers)
53 so word die weerloosheid van alles onverduurbaar en dis
54 goed - jy voel die dun danheid van eweningspunt en newel-aar
55 aflosbaar is ons gewor(d)p: die koedoe tgrrt ons voor
56 'n aarbewing hort die klip radar mis die boom
57 whsspp die bloedgreep wat tussen sy wortels begrawe
58 lê die ster maak gereed om met ons harte te stip
59 (voorspraakmakende interpretasie)
60 ons hoor dit nie ons probeer van mekaar wegstammel
61 deur handgooiende hatery deur botmakende self-
62 omhalsings en die waan dat elkeen se onvervu(a)lde
63 verhemelte net vir die self glief
64 ons bly in die graan-roggelende kore van duiwe in-tuur
65 stiks ontkannend dat ons slymlywende lewe heelalwyend
66 van hartkleur wil wees - (ons behoort uitgeroei te word lief
67 as sintuiglose haatdorwende gierskytende bokse
68 goedskikse fokkals)
WOORDELYS
"1. in gebreke bly binne-aars"
(Bladsy 112)
1. orberende
2. heilhappend
3. witstinkhouthalse
4. sniert
5. nagberg nerts
6. haelwitogig
7. vlamstippeklem
8. knalbenig
9. raafgier
10. geldgrabbelary
11. ineengeklaagdes
12. vorm-eter
13. aardkorsbeminning
(Bladsy 113)
14. hibriede moreel-arm hart
15. lamhangende slagtersarm
16. vierkamervuis
"2. sillabe-sinaps in die noord/suid-kompas"
(Bladsy 114)
17. omhagte
18. gerasse
19. stroomkreng
20. intalige
21. losgeskaar
22. mekaars
23. andersheem
24. elk(h)aar-wees
25. bannendste
26. sniks
27. jou'le, ons'le, aard'le, arm'le, honger'le, ek'le, mier'le
28. sompige
29. almals
30. asmekaar
31. mekaars
32. meesalwing
33. armadaskes
(Bladsy 115)
34. woordeskot
35. etaak
36. aar-eerde
37. nuwe-newe
38. verlosbluffend
39. swoegtels
40. apoorte
"3. ESSAY-ABSTRAKTE re: SINAPS"
(Bladsy 116)
41. gammele
42. fluweeltoon-geweerskote
43. oprillend
44. roofsugskitterend
45. besweke
46. doodsbringdommende
47. skrielpuisterig
48. daggaprooiogend
49. tankwiegend
50. loodklootend
51. medemanslik
52. kamoefleertierend
53. morfeem-oopborend
54. nuutwoordend
55. vokaalgerasde
56. etiserende
57. taalheiningknotting
58. etiesentrifugaal
59. eerknopend
60. versterrend
61. digstruikend
62. verdorb
63. ontluisterd
64. kwats
65. gragontgogelde
66. warhede
67. blindvingerpuntend
68. on-ontkinde
69. medekaarsbloedbewaring
70. middelmurgvlietend
71. laafhê
72. grondifiseer
73. mondholtelossigheid
74. woord-artikulerende
75. pynvaart
76. medel(j)ye
77. loefagtervolgde
78. weerskynsbedier
79. aanvellende
80. een-in-vele
81. wangteerheid
82. ont-engende
83. heilspreekgelommerd
84. magnoliameelawend
85. oorlag
86. medemenses
(Bladsy 117)
87. mensdeurwraakte
88. ademloospêrelend
89. woordwrakke
90. voltydsvallende
91. vernullend
92. leegsmoedvendetta
93. oewer- en eweningloos
94. sinkshackend
95. yoohotohoo
96. kakkerlakend
97. medeklinkermedepligtigheid
98. bobeenversitters-in-krimpende-taal
99. oud-ontongend
100. vlerkskarnierende
101. droesemtoe
102. deurspriet
103. sorgasemend
104. evangaliesmedesleurend
105. wanhoopsepifanie
106. rulleswart
107. sneeubrei
108. plantliks
109. oog-issigheid
110. ontLevinas
111. binêrevermyding
112. ademdeurwaks
113. mededoog
114. egbindelik
115. asemblossing
116. harskings
117. vryvuurwirrkaatsend
118. vlamtasbaarste
119. goddin
120. vergras, vermier, verwolk, verswartwitpens
121. landskapverinniging
122. enkelmensvel-opgee-end
"4. tesis in gestapelde sillabeversteuring oor ingebedheid"
(Bladsy 118)
123. ansigbaarheid
124. heelhei(l)dswordende
125. op(p)erlug
126. sysnap
127. pienkgeprikte
128. midde-syn
129. onkodeerbare
130. droomster(k)
131. stramlighouend
132. word-deurwarde
133. waarstulpende
134. oneindigheidsverbondte
135. gebenig
136. bevlesig
137. vervoerd
138. nano-ste nanonietjie-gebod
139. inhomse
140. takkerasie
141. boomlinggeliefdste
142. sjarmantogig
143. allesherstellende
144. boomwees
145. molmneutig
146. mosbassig
147. bloedbeeks
148. wesenheid
149. veelwees te huidig
150. wesende gewordendes
151. tot tjilp te bedadig
152. van reënstrekking tot ribsterglip
(Bladsy 119)
153. w(a)onde
154. enkelha(o)ltes
155. invoelende
156. deursinggewende
157. bytsoda-oop
158. opreep
159. skepstort
160. snikstase
161. vrymaak-verslinding
162. mirakelmakendheid
163. verb(l)ind
164. in-sig wees
165. liedletsels
166. getweë
167. jasmynjort
168. nywerig
169. windversnik
170. lig-wigtiges
171. tampende
172. ver-een
173. verru
174. skokmat-sig
175. danheid
176. eweningspunt
177. newel-aar
178. gewor(d)p
179. tgrrt, whsspp
180. aarbewing
181. hort
182. bloedgreep
(Bladsy 120)
183. wegstammel
184. handgooiende
185. botmakende
186. selfomhalsings
187. onvervu(a)lde
188. graan-roggelende
189. in-tuur
190. stiks
191. ontkannend
192. slymlywende
193. heelalwyend
194. haatdorwende
195. gierskytende
196. fokkals