Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a9
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES
'n Vergelyking tussen verwante tale, insluitende Bildts en Afrikaans
A comparison between related languages, including Bildts and Afrikaans
Marietta Alberts
Voormalige Direkteur: Terminologie en Standaardisering, Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, Suid-Afrika. E-pos: albertsmarietta@gmail.com
OPSOMMING
Die artikel fokus op ooreenkomste tussen verwante tale, onder andere Bildts en Afrikaans. Hierdie twee tale het 'n gemeenskaplike oorsprong en toon ooreenkomste op bepaalde terminologiese gebiede, veral die landbou. Die terminologies van hierdie tale en ander soortgelyke tale, soos Nederduits, Fries en Nederlands, kom onder die loep. Bepaalde ooreenkomste tussen Bildts, Afrikaans en die Suid-Afrikaanse amptelike Sintutale word ook bespreek. Dit is interessant dat verwante tale terme deur die prosesse van transliterasie en ontlening kan deel, hoewel die kontinente waarop hulle gebruik word, van mekaar verwyder is. 'n Taal, dialek of 'n taalvariëteit staan 'n beter kans om deur leksikografiese prosesse en terminologieskepping te ontwikkel (en te oorleef) as daardie taal of taalvariëteit gestandaardi-seer is en as sodanig erken word. Dit is dus van die uiterste belang om die woordvormingsbeginsels en skryf- en spelreëls van tale of taalvariëteite vas te lê. Hierdie proses, sowel as die opteken van die skriftelike vorm van 'n taal of taalvariëteit lei tot die ontwikkeling van leksikografiese en terminografiese produkte in daardie taal of taalvariëteit.
Trefwoorde: dialek, leksikografie, leksikon, nieverwante taal, ontstaansgeskiedenis, ooreenkoms, streektaal, terminologie, variëteit, verwante taal
ABSTRACT
This article focuses on similarities between isolated but related language varieties, especially Bildts and Afrikaans, both of which developed spontaneously and managed to survive. They share a similar lexical heritage and show similarities in certain terminological areas, especially in agriculture. The terminologies of these and similar language varieties, such as Low German, Friesian and Dutch, will receive attention. Historically, these language varieties were mutually comprehensible. The different language families and their genealogical relationships are discussed in this article, with special emphasis on Low German, Friesian, Bildts and Afrikaans. In the case of Afrikaans, the development of Afrikaans from Cape Dutch to Standard Afrikaans is discussed in broad terms. All of these language varieties were initially only spoken languages that were eventually reduced to writing, which required that their word-formation principles and spelling and orthographic rules be recorded. This process, as well as the documentation of the written form of languages or language varieties, lead to the development of lexicographical and terminographical products. Certain similarities between Bildts, Afrikaans and the official African languages (i.e. the Sintu languages) of South Africa are also discussed.
It is interesting to note that related languages can share terms even though they are used on different continents. In addition, it is noteworthy that non-related languages used on the same continent or on different continents can share terms, for instance through the processes of transliteration and borrowing. A language, dialect or language variety has a better chance of developing (and surviving) if it is standardised and the standard form is recognised and accepted, because the standard variety facilitates word and term creation. Language development stimulates the practice of lexicography and terminography. The attitude of language users, establishments dedicated to the promotion of the language concerned and governments also determines whether a language will develop and be used and standardised. In Friesland, the Fryske Akademy and in Het Bildt, the Bildtse Akademie, or Stichting Ons Bildt, are concerned with the furtherance ofthe languages for which they were founded, namely Friesian and Bildts, respectively. These bodies regulate the spelling and orthographic rules and dictionary compilation in their respective languages. In South Africa, the former dispensation of two official languages favoured the development of Afrikaans. Numerous general and technical bilingual dictionaries were compiled between 1925 and 1995. The Woordeboek van die Afrikaanse Taal ("Dictionary of the Afrikaans Language") is a comprehensive monolingual Afrikaans dictionary - an ongoing project since 1925. The current multilingual dispensation was introduced by the Constitution of the Republic of South Africa, 1993, section 3(9) ofwhich providedfor, among other things, the equal treatment of the eleven South African languages recognised as official languages. This was incorporated in the Constitution, 1996, as well. In 2023, South African Sign Language was included in section 6(1) of the Constitution, 1996, as an official language.
Eleven National Lexicography Units were established to develop monolingual dictionaries for each of the official languages. The National Lexicography Unit for South African Sign Language is in the process of being established. South African terminology practice is coordinated by the Terminology Coordination Section, a directorate within the National Language Service of the Department of Sport, Arts and Culture. A national term bank serves as a national repository for the dissemination of multilingual polythematic terminology in South Africa. Several institutions develop terminology in their respective fields, but these activities are not properly coordinated, which leads to duplication of projects and results in a proliferation of terms for the same concept in the same subject field and/or language. In order to survive, a language should be developed and used and should enable communication in all spheres of human activity. If a language loses its ability so to function, its value diminishes and its linguistic community moves to another, more suitable language. The users of Afrikaans (and the other official South African languages) could learn much from the small number of users of the Bildts language as far as language maintenance and determination is concerned.
Keywords: dialect, heritage, lexicography, lexicon, non-related language, regional speech, related language, similarity, terminology, variety
Die't syn aigen taal fersmyt, raakt syn diepste wezen kwyt.
1. Inleiding
Hierdie artikel word vanuit 'n terminologiese oogpunt benader, en geen aansprake word gemaak op kennis van historiese, taalkundige of sosiolinguistiese perspektiewe ten opsigte van taalvariasie of taalverandering nie. In die terminologiebedryf is dit interessant om te sien in welke mate verwante en selfs nieverwante tale ooreenkom, en gevolglik soortgelyke terme as deel van hulle terminologie (vakwoordeskat) het. Die pad wat Afrikaanse terminologie en verwante tale geloop het, word ondersoek.
In vervloë dae kon groot dele van die sprekers van die Lae Lande mekaar se tale verstaan - vergelyk byvoorbeeld die wye voorkoms van Nederduits (Engels: Low German) destyds. Veral seelui en handelaars van die Lae Lande het waarskynlik deur middel van die streektaal Nederduits gekommunikeer. Teen die agtergrond van beskikbare inligting oor Nederduits, Nederlands, Fries, Bildts en Afrikaans word bepaalde vergelykings getref. Daar word naamlik aangevoer dat dit in vervloë dae moontlik was om oor landsgrense heen te kommunikeer danksy ooreenkomste in die leksikons van verskillende streke in (nabygeleë) lande en dat hierdie leksikons mekaar beïnvloed het - veral op terminologiese gebied, naamlik in die woordeskatontwikkeling van vakgebiede en domeine (dit wil sê terminologieontwikkeling).
In hierdie artikel word daar veral gekyk na die ontwikkeling en behoud van twee bepaalde taalvariëteite, naamlik Bildts en Afrikaans vergeleke met Nederlands, maar ook na invloede van Fries, Nederlands en selfs Nederduits op daardie twee taalvariëteite. Ook die invloed van Afrikaanse terminologie (veral op die terrein van die landbou) op dié van die Sintutale wat amptelike tale in Suid-Afrika is, word beskou.
Enkele terme uit die taalgroepering Fries, Bildts, Nederduits en Nederlands word met Afrikaanse terme vergelyk. 'n Vergelykende studie is voorts gedoen oor veral Bildts, Afrikaans en die amptelike Sintutale in Suid-Afrika ten opsigte van sake soos taalontwikkeling en -erkenning, standaardisering, en leksikografie- en terminologieontwikkeling. Die artikel bevat verskeie tabelle met terme uit die landbou wat ooreenkomste en/of verskille in die betrokke tale toon.
Dit is interessant dat verwante tale of taalvariëteite en selfs ook nieverwante tale wat in dieselfde omgewing gebruik word, mekaar beïnvloed, en dit is eweneens interessant dat tale wat op verskillende kontinente gebruik word, mekaar steeds kan beïnvloed, spesifiek deur die terminografiese beginsels van transliterasie en ontlening.
2. Agtergrond
Volgens Ponelis (1989a:9-37; 1989b:38-59) is 'n taalfamilie 'n versameling tale wat uit dieselfde grondtaal ontwikkel het. Sulke tale staan in genealogiese verband met mekaar en heet dogtertale van die grondtaal en sustertale van mekaar. Gemeengermaans is die grondtaal waarvan onder meer Nederlands, Duits en Engels dogtertale is, terwyl Nederlands, Duits en Engels sustertale van mekaar is. Die grondtale van die meeste bekende taalfamilies is egter slegs uit wetenskaplike rekonstruksies daarvan bekend en word as prototale aangedui. Proto-Germaans (of bloot Germaans of Gemeengermaans) is dus die grondtaal van die Germaanse taalfamilie en Proto-Indo-Europees die grondtaal van die Indo-Europese taalfamilie. "Indo-Europees" dui op die uiteindes van die taalfamilie se verspreidingsgebied: van Indië tot Europa. Gemeengermaans is in die eerste plek 'n Indo-Europese taal en Duits, Nederlands en Afrikaans is Germaanse tale wat tot die Indo-Europese taalfamilie behoort. Volgens Paardekooper (1996) is Afrikaans "een soort Nederlands met een groot aantal vooral Noord-Hollandse dialectvormen. ... Tegenover ons Euro-Nederlands staat dus Afro-Nederlands oftewel Afrikaans. Het zijn twee kinderen van dezelfde ouders: het Beschaafde 17e-eeuwse Hollands en de schrijftaal van die tijd".
Die Germaanse tale kan ingedeel word in Noord-Germaans (met Deens, Sweeds, Noors, Yslands en Faroëes as hedendaagse voortsettings van die Oud-Noorse taal wat oorspronklik deur die Vikings gebruik is (vgl. http://en.m.wikipedia.org), Wes-Germaans, wat insluit Nederlands (waaruit Afrikaans ontwikkel het), Engels, Fries, Duits, Jiddisj, en Saksies (waaruit die noordelike niestandaard-Duits, Nederduits, voortgekom het), en Oos-Germaans, wat uitgesterf het en waarvan slegs Goties 'n opgetekende taal is (Ponelis, 1989b:45-52).
2.1 Nederduits
Nederduits (Engels: Low German) is 'n versamelnaam vir 'n groep taalvariëteite wat in Noordwes-Duitsland (waar dit "Wes-Duits" genoem word) en in Noordoos-Nederland gepraat word (waar dit Nedersaksies genoem word) (vgl. http://en.wikipedia.org>wiki/Low_German). Wes-Duits word tradisioneel in drie takke verdeel:
• Ingvaeoonse tale (Noordsee-Germaans), wat Engels, Saksies (noordelike Duits), die Laagduitse tale, westelike Nederlands (of Kusnederlands) en die Friese tale insluit, het reeds vroeg 'n taamlike hegte eenheid gevorm. Engels en Fries toon veral 'n noue verbintenis binne die Noordsee-Germaanse taalgroep (Ponelis, 1989b:46-48);
• Istvaeoonse tale (Noordwestelike Wes-Germaans), wat Nederlands en sy naaste verwante tale insluit; en
• Irminoonse of Herminoonse tale (Elbe-Germaans) wat Duits en sy naaste verwante tale en variëteite insluit (vgl. http://en.wikipedia.org>wiki/Low_German; https://en.wikipedia.org>wiki>elbe_german).
Nederduits of Platduits het voortgespruit uit Saksies, wat 'n Noordsee-Germaanse taalvorm van noordelike Duitsland was (Ponelis, 1989b:50). Nedersaksies is die Laagsaksiese dialekte wat in Noordoos-Nederland gepraat word en in plaaslike ongestandaardiseerde ortografieë geskryf word wat op die Standaardnederlandse ortografíe berus (vgl. http://en.wikipedia.org>wiki/dutch).
Dit wil voorkom of Nederduits vroeër 'n gemeenskaplike taal was wat in die vroeë sestiende eeu deur veral handelslui en skeepslui gebruik is. Daar sal dus steeds woorde of terme in Nederduits wees wat ooreenkom met Duits en Nederlands en selfs met Afrikaans.
Die uitgebreide gebied waar Nederduits tans gepraat word, is nie 'n eenheid nie. Die taal bestaan eerder uit verskillende dialekte wat almal deel uitmaak van die Nederduitse dia-lekkontinuum, want gewoonlik praat elke dorp of stad sy eie variëteit van Nederduits wat dikwels ten opsigte van woordeskat en fonetiek duidelik van mekaar verskil. Daar is tans dus eintlik talle dialekte van Nederduits of Nedersaksies. Duitsland en Nederland erken Nedersaksies amptelik as 'n streektaal en gee beperkte steun daaraan, soos geformuleer in hoofstuk 2 van die Europese handves vir streek- en minderheidstale. Die ISO 639-2-taalkode van Nedersaksies is nds.
2.2 Fries
Nederland is aldus Scholtz (1996:7) "een land van vele dialecten, maar (als je het Fries even buiten rekening laat) met slechts één taal". Fries is die amptelike taal wat hoofsaaklik in die Nederlandse provinsies Friesland en Groningen gepraat word. Dit vorm saam met Nederlands die amptelike taal van Friesland (Fryslân). Die ISO 639-taalkodes is fy en fry. Fries is 'n Wes-Germaanse taal en dit volg die Wes-Friesiese alfabet. Die naaste verwante tale is Engels en Skots, wat saam met die Friese tale (Wes-Fries, Noord-Fries en Oos-Fries (tans Saterland-Fries) die Anglo-Friese tale vorm. Fries is 'n inheemse minderheidstaal wat deur die Europese Unie beskerm word. Friesland is sedert 1815 deel van sowel Nederland as Duitsland en die gebied lê langs die Nederlands-Duitse Noordseekus (https://en.wikipedia.org>wiki>Frisian_languages; http://af.m.wikipedia.org/wiki/Fries).
As Afrikaanssprekendes was ek en my man bevoorreg om tydens besoeke aan België, Noord-Holland en Friesland met verskillende variëteite/dialekte van die Nederlandse taal te doen te kry. In België was dit uiteraard Vlaams, en in Nederland het die meeste mense met ons Algemeen Beskaafde Nederlands (ABN) oftewel Standaardnederlands gepraat, hoewel daar uiteraard verskillende uitsprake is as gevolg van al die dialekte van Nederlands (vgl. Daniëls & Van de Laar, 1996). In Friesland het ons weer met Fries en Bildts te doen gekry. Dit was baie moeilik om Fries te verstaan, maar die Bildtse taal klink amper soos Afrikaans.
Die rede hiervoor is waarskynlik dat dit in sommige opsigte 'n soortgelyke ontstaansgeskiedenis as dié van Afrikaans het (vgl. 2.3 en 2.4; Ponelis, 1989b:63).
Ek het 'n besondere verwantskap met Friesland. As agtergrond moet genoem word dat my nooiensvan Balt is. Ek is naamlik van die vierde geslag van die stamvader Jan Jurgens Balt (1837-1908), wat in Ternaard in Friesland gebore is en hom in 1853 in Suid-Afrika gevestig het. Hy het as skeepsjonge in die apteek van die destydse VOC-skepe gewerk en het in Simonsbaai aan die Kaapse Skiereiland skipbreuk gely. Dit was die derde keer dat hy skipbreuk gely het, en aangesien dit volgens die Hollanders dan "skeepsreg" is, het hy besluit om hom permanent in Suid-Afrika te vestig. Sy kennis van Hollandse medisyne het hom die persoonlike volmag van president Paul Kruger van die destydse ZAR besorg om siekes te behandel. Hy het homeopatiese medisyne direk van die firma Schwabbe in Duitsland gekry.
Balt is nie 'n tipiese Friese van nie. Die Friese Balt-stamvader was 'n Hessiese huursoldaat, oorspronklik afkomstig van die Baltiese lande (Oossee-lande). Die Hessiese soldate het gedien in die Duitse regimente wat in diens van die Britse Ryk gestaan het. Die Balt-stamvader het hom ná sy soldatedienstyd in Ternaard, Friesland, gaan vestig.
Tipiese Friese vanne eindig gewoonlik op "-a", byvoorbeeld -inga, -ma, -sma, -stra. Die uitgange dui "seun van" (Alkema = seun van Alke; Aukema = seun van Auke) of "plek van herkoms/van die see/van die Suide" aan (Anjema = van die dorpie Anjum; Dijkstra of Dykstra = woon naby 'n dyk; Hoekstra = woon op 'n hoek; Offringa = van die dorpie Offrinwier).
Daar is steeds heelwat tipiese Friese vanne in Suid-Afrika bv. Boersma, Boerstra, Feenstra of Veenstra, Jansma, Postma, Terpstra, Thynsma, Scheltema, Spoelstra, Zijlstra of Zylstra, en so meer, wat die indruk wek dat die Friese immigrante ook 'n beduidende invloed op die Suid-Afrikaanse bevolking en Afrikaanse taal gehad het of steeds het.
Daar was ook klaarblyklik etlike leerkragte wat uit Friesland na Suid-Afrika geïmmigreer het. Trouens, die einste Jan Jurgens Balt was ook die eerste onderwyser van Gideon Retief von Wielligh, die ZAR se landmeter-generaal en lid van die Genootskap van Regte Afrikaners (Kleijn, 2024).
Die Friese onderwysers se invloed is ook te bespeur in onder meer die studentetaal van die Universiteit van Pretoria, waar 'n eerstejaarstudent 'n "ienk" (Fries: jongeling) genoem is/word en die ienks dikwels as "dom Urke" bestempel is/word. (Urk was 'n Friese eiland wat later ingepolder is. Weens hul aanvanklike afgesonderdheid het die eilandbewoners ondertrou, wat tot "dom" afstammelinge gelei het).
Die Friese het 'n interessante benoemingswyse: 'n seun sal byvoorbeeld die eerste naam van sy pa of oupa aan vaderskant as tweede naam kry, byvoorbeeld Jan Jurgens (Jan die seun of Jan die kleinseun van Jurgen + -s) of Thijs Coens (Thijs die seun of Thijs die kleinseun van Coen + -s of Coenraad + -s).
Fries het 'n ryk leksikografiese geskiedenis en beskik oor verskeie woordeboeke (vgl. o.m. Pebesma en Zantema, 1994; Boersma, 2002; http://mijnwoordenboek.nl). 'n Omvattende tweetalige Fries-Nederlandse woordeboek wat deur die Fryske Akademy saamgestel is, bestaan uit 25 dele wat die Friese taal sedert 1800 beskryf en aanteken. Die aanlyn weergawe daarvan is sedert 2010 beskikbaar (vgl. Fryske Akademy, 2010).
Die Fryske Akademy verskaf ook spel- en skryfhulp deur middel van die publikasie Friese spelling en taalhulp (vgl. Fryske Akademy, 2015).
2.3 Bildts - agtergrond
Soms gebeur iets ingrypends toevallig in 'n mens se lewe wat 'n noemenswaardige uitwerking het. So 'n toevalligheid was my kennismaking met die taal Bildts. Ek en my man het naamlik in 2000 die Algemene Jaarvergadering van die Bildtse Akademie, Stichting Ons Bildt, in Het Bildt (sien 2.3.1 hier onder) bygewoon as gaste van 'n Friese familielid, drs. Thijs Balt, wat in Het Bildt gebore is en daar groot geword het en ook lid van die Stichting is. Dit was 'n besonder interessante geleentheid, want dit blyk toe dat ons as Afrikaanssprekendes die Bildtse taal beter kon verstaan as selfs Nederlands of Vlaams.
Tydens die Algemene Jaarvergadering is diplomas aan verskeie lede van die spraak-gemeenskap uitgedeel wat kursusse in Bildts deurloop het om hul kennis van die Bildtse taal te verbreed en te verbeter. Dit het ook tydens die vergadering geblyk dat die spraakgemeenskap nie tevrede was met die bestaande Bildtse woordeboek nie. Die Bildtse woordeboek is naamlik deur linguiste verbonde aan die Rijksuniversiteit Groningen saamgestel. Een van die probleme wat daaruit gespruit het, was dat moedertaalsprekers nie by die saamstel van die woordeboek betrek is nie. Bildts word gepraat in die westelike gedeelte van Friesland, een van die provinsies van Nederland, en nie in Groningen nie, wat 'n ander Nederlandse provinsie is.
Ek het die aanwesiges op die ingewing van die oomblik in Afrikaans toegespreek en vanuit 'n Afrikaanse en leksikografiese perspektief raad gegee oor hoe om die Bildtse woordeboek te hersien sodat dit aan die moedertaalbehoeftes en -vereistes kon voldoen. Hierdie raad is met ope arms ontvang en ek is versoek om my aanbevelings ook op skrif te stel (vgl. Alberts, 2000).
Dit was 'n gulde geleentheid om kennis en perspektiewe wat in een taal verwerf is, aan 'n verwante taal oor te dra en so tersaaklike leksikografiese insigte te deel en hulp aan 'n ander (verwante) taal te verleen. Die gewraakte Bildtse woordeboek is intussen hersien en bygewerk (vgl. Buwalda et al., 1996; Buwalda et al., 2013). Die samestellers, HS Buwalda, SH Buwalda en ACB van der Burg, is moedertaalsprekers en is bygestaan deur 'n leksikograaf, H Sijens, verbonde aan die Fryske Akademy.
2.3.1 Het Bildt en Bildts
Het Bildt is 'n munisipaliteit en streek (waarvan Sint Annaparochie die hoofdorp is) in die provinsie Friesland. Daar is ongeveer 11 000 inwoners. Die gebied lê aan die Waddesee en het 'n kuslyn van15,4 km.
Die naam "Het Bildt" kom van "opgebild", wat aangeslik beteken, vanweë die feit dat die grondgebied ingepolder is. Die grond, wat eintlik seeklei is, is aanvanklik met riete beplant om van die seesout ontslae te raak. Die grond is baie vrugbaar, en gevolglik is Het Bildt 'n landbougebied wat hoofsaaklik groente, soos uie en aartappels, en vrugte, veral appels, produseer (Buwalda, 1979).
Die streek Het Bildt lê in die westelike deel van Friesland en die inwoners beskou hulself dan ook as Friese. Fries word egter slegs in Minnertsga gepraat, wat in die kern van die gebied geleë is, en nie in die poldergebied nie. Die gebied het in 2018 met die munisipaliteite Franekerndeel, Menameradiel en gedeeltes van Littensradiel saamgesmelt en 'n nuwe munisipale gebied, Waadhoeke, het daardeur tot stand gekom.
Die streektaal wat in Het Bildt ontstaan het, word Bildts genoem. Dit is 'n Hollandse dialek wat by Suid-Hollands ingedeel word. Daar is na raming ongeveer 6 000 mense wat Bildts magtig is. Die Bildtse spraakgemeenskap is baie trots op hulle taal. Die taal het te midde van invloede van Fries en Nederlands behoue gebly vanweë hierdie taaltrots en waarskynlik ook omdat die gebied in 'n mate geïsoleerd is.
Bildts is 'n dialek wat in die sestiende eeu in die westelike gedeelte van Friesland ontstaan het. Die Friese bevolking het in daardie stadium oor die algemeen uit boere bestaan. Hulle wou graag 'n gedeelte van die Noordsee inpolder, maar het nie die nodige kennis gehad om grond uit die see te herwin en droog te lê nie. Die nodige kennis is verkry deur kundiges en werkers uit Rotterdam, Suid-Holland, Brabant, Zeeland en Amsterdam in te bring om hulle met die inpoldering van die gebied te help.
Volgens bronne (vgl. http://nl.wikipedia.org/wiki/Bildts) het die taal Bildts omstreeks die jaar 1505 ontstaan, nadat die noordelike Middelseegebied in opdrag van Georg, Hertog van Sakse, ingepolder is deur Hollandse edellui, die here Davelaar en Bontmantel, en hul werknemers uit die hedendaagse provinsie Suid-Holland. Die inpolderaars het in die streek aangebly en die eerste inwoners van Het Bildt geword. Daar word algemeen aanvaar dat die dialek Bildts tydens die inpoldering van die gebied ontstaan het deurdat die sestiende-eeuse Suid-Hollandse dialekte van die edellui en hul werknemers vermeng geraak het met die Fries van die polderbewoners van die omliggende gebied. Dit wil voorkom of die Rotterdamse, Amsterdamse en Zeelandse dialekte van Nederlands 'n invloed gehad het op die uitspraak en skryfwyse van Bildtse woorde.
Teen die sewentiende eeu het die Hollandse noorde die middelpunt geword van die Nederlandse taalgemeenskap as gevolg van die opgang van Amsterdam, die belangrikste stad van die destydse Wes-Europa. Die noordelik-sentrale dialekte van Nederlands omvat Hollands (van Amsterdam, Haarlem, Leiden, Den Haag en Delft) en Utrechts, wat die grondslag vorm van sowel Afrikaans as Algemene Nederlands (Standaardnederlands of die sogenaamde Algemeen Beskaafde Nederlands). Nederland het in daardie tydperk sy Goue Eeu van ongekende welvaart en kulturele opbloei beleef (Ponelis, 1989b:63; 67-68).
Daar bestaan steeds teenstrydige idees oor die presiese afkoms van die eerste inwoners van Het Bildt en oor die mate waarin Bildts deur die Friese taal beïnvloed is. Die Bildtse dialek bevat invloede van Ingvaeoons en word gereken as behorende tot Fries-Frankiese dialekte, soos Wes-Fries en Stadsfries. Bildts word soms 'n kreoolse taal genoem, maar die dialek word interessant genoeg soms wel in sekere bronne as taal aangedui.
Vir Afrikaanssprekendes is Bildts baie meer verstaanbaar as Standaardnederlands, Vlaams of Fries. Bildts gebruik byvoorbeeld, soos Afrikaans, die onbepaalde lidwoord "'n" en nie "een" soos Nederlands en Fries nie. Die gebruik van die onbepaalde lidwoord "'n", amper net soos in Afrikaans, is in die volgende paragraaf sigbaar, waarin die werksaamhede van belangrike amptenare in 'n verkiesingslokaal in Het Bildt beskryf word:
De ferantwoordlikhyd fan syn funksy als foorsitter drukte nou al sichtber swaar op him. Bij ferkiezens in 't stimburo motte je de kop d'r wel goed bij houwe, want âns klopt avens de telling niet en dan is de ellinde niet te oversien. ... Deur de bank reedlik gewoane minsen, maar soadra't se met 'n pin in 'e hand en 'n register of 'n kaartebak foor de neus 'n wat offisjele funksy hewwe, binne se niet meer te beskieten ... (Tilma, 1989: 41)
Bildts beskik oor uitgebreide spel- en skryfreëls (Buwalda & Buwalda, 1980), en sake soos vokaalgebruik (lang en kort vokale), die weglating van oorbodige letters, die fonetiese stelsel, werkwoorde, verkleinwoorde en meervoudsvorme kry veral aandag in daardie spel- en skryfreëls. "'t Is de meest loochise saak fan 'e wereld, dat men de taal der't men in dinkt en die't men praat, ok leert te skriven; en dat leste is dan ok de bedoeling van dut werky. 't Is dus allereerst foor de Bilkerts bedoeld, maar wij hope, dat ok niet-Bilkerts hur nut d'r met doen kinne" (Buwalda, 1980).
2.4 Afrikaans
Daar is merkbare ooreenkomste tussen die ontstaanswyse van Bildts en Afrikaans. Afrikaans het naamlik ook uit die Nederlandse dialekte van die sestiende en sewentiende eeu ontstaan (vgl. 2.1, 2.2 en 2.3).
Die Nederlandse taal is vóór die stigting van die verversingspos aan die Kaap in 1652 self ook deur vreemde tale beïnvloed (vgl. Boshoff, 1921; De Villiers, 1978:73-76; Raidt, 1982:8-10; 17-20; 1991:14-16; 40-41, 81-84). Afrikaans het volgens Carstens (2003:131) grotendeels uit die sewentiende-eeuse Hollandse volkstaal ontwikkel. Alle woorde wat voor 1652 in Nederlands bestaan het, kan dus beskou word as deel van die erfenis van Afrikaans. Selfs woorde wat Nederlands voor hierdie tyd aan byvoorbeeld Frans of Latyn ontleen het, is deel van die Afrikaanse erfgoed. Daar word soms gereken dat sowat 90- 95% van die Afrikaanse woordeskat tot die Nederlandse erfbron teruggevoer kan word. Die aanvanklike setlaars wat na Suid-Afrika gekom het, het uit dieselfde gebied (Suid-Nederland) gekom en dus dieselfde spraakgewoontes gehad. Net soos Bildts, het Afrikaans ook in 'n afgesonderde gebied ontstaan en ontwikkel.
2.4.1. Kaaps-Afrikaans
Die Vereenigde Oost-Indische Compangnie (VOC), die Nederland-gebaseerde multinasionale maatskappy van die 17de eeu, het vanaf 1652 'n halfwegstasie aan die voet van Tafelberg tot stand gebring om sy skepe wat na die Ooste gevaar het, of daarvandaan op pad terug na Europa was, van proviand te voorsien. Die Nederlanders was uiteraard nie die eerste Europeërs wat die Kaap aangedoen het nie. Gedurende die 15de eeu het die Portugese, wat voor die Nederlanders 'n magtige seevaartnasie was en toe reeds hulle eie internasionale ryk tot stand gebring het, met hulle skepe om die kus van Afrika gevaar en die Kaap aangedoen (vgl. Kotzé, 2014:1; Alberts, 2019:10-11).
Die VOC het sommige van sy amptenare vroeg reeds toestemming gegee om grond vir landboudoeleindes te bekom en boere te word om te voorsien in die vraag na voedsel van sowel die setlaarsgemeenskap as die verbyvarende skepe.
Die bevolking aan die Kaap het mettertyd gegroei tot 'n nedersetting wat bestaan het uit maatskappyamptenare, handelaars en vakmanne van wyduiteenlopende taalagtergronde. Nederlands, wat gebruik is deur Nederlandssprekendes van verskillende dialekagtergronde, was uiteraard in groot mate die omgangstaal, maar die taalgemeenskap het sprekers van Duits (Nederduits en Hoogduits) ingesluit (vgl. woorde soos liederlik, oorwaks, skoenwaks, swaap, swernoot, werskaf), asook van Portugees (vgl. woorde soos aia, atjar, bredie, sambreel, karba, kombers, kraal, mielie, tamaai, tjalie, tronk), Frans (vgl. woorde soos avontuur, balans, blond, dosyn, jaloers, kolom, kontrei, moeras, papier, toets) en ander Europese tale soos Sweeds, Deens, Hongaars, Russies, Spaans en later veral Engels (vgl. Carstens, 2003:132). Boonop het die inheemse bevolking tot die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans bygedra, byvoorbeeld die Khoi-Khoin (vgl. woorde soos abba, boegoe, geitjie, graatjie [meerkat], karos) en die San en later ook Xhosasprekers en Maleise slawe (woorde soos onder meer baie, baadjie, blatjang, bobotie, piering, rissie, sambok, soebat, sambal en tamaai en reduplikasies soos een-een, bietjies-bietjies, byna-byna, half-half, lui-lui enplek-plek (vgl. Ponelis, 1989a:11; Raidt, 1959; Raidt, 1983:18-20; 48-76; 169; Carstens, 2014; Kotzé, 2014:1; Alberts, 2019:1012).
Omdat die VOC in beheer van die gemeenskapstrukture was, het die vorm van Nederlands wat die amptenary onder mekaar gebruik het, die basis gevorm van 'n algemene omgangstaal. Boonop was daar destyds nog geen standaardvorm van Nederlands nie, en het daar deur 'n proses van gee en neem 'n soort Nederlandse koine, of dialekversmelting, ontstaan wat almal kon verstaan. Dit het ook die Khoi-Khoin en San, wat van 'n totaal ander taalagtergrond was, ingesluit, waardeur die taal weer op ander maniere beïnvloed en aangepas is. So 'n situasie sou dus aanleiding kon gee tot 'n vereenvoudiging van die onreëlmatige kenmerke van die Nederlands wat in Europa gepraat is, waardeur die grondslag van 'n vroeë Kaaps-Afrikaans gelê is (vgl. Kotzé, 2014:1, 2).
Omdat daar 'n behoefte was aan handearbeid om die grond te bewerk en veeteelt te beoefen, en die inheemse Khoi-Khoin en San meestal te selfstandig (en soms opstandig) was om hulle arbeid beskikbaar te stel, is toestemming verleen om 'n toenemende aantal slawe na die Kaap in te voer. Hierdie slawe het uiteraard ook tot die taleverskeidenheid bygedra (vgl. Kotzé, 2014:3).
Die VOC het die slawe nie net in Suidoos-Asië gekry nie. Slawe is na die Kaap gebring uit ander gekoloniseerde areas in Afrika, soos Angola, Guinee aan die weskus, Madagaskar en Mosambiek, en ook uit areas in Suidoos-Asië wat deur die Portugese en Nederlanders gekoloniseer is en waar hulle handelsposte gehad het, soos Bengale (tans Bangladesj), Ceylon (tans Sri Lanka), Indië, Maleisië en die Indonesiese argipel met sy duisende eilande, soos Sumatra, Java, Celebes, Ambon, Bali, Timor en andere - tussen 1652 en 1805 is altesaam ongeveer 63 000 slawe na die Kaap gebring (vgl. Kotzé, 2014:3-5).
Die tale wat hierdie slawe gepraat het, het gewissel van Laagportugees ('n vorm van Portugees wat drasties vereenvoudig is deur taalkontak met inwoners van die gekoloniseerde gebiede), tot die Austronesiese tale wat in Suidoos-Asië gepraat word, soos Maleis, Boeginees, Javaans, Makassar, en andere. Wat egter 'n belangrike feit is wat dikwels deur geskiedskrywers geïgnoreer word, is dat daar ook 'n vorm van Nederlands was wat, soos Laagportugees, deur taalkontak drasties vereenvoudig is. Gedurende die jarelange verblyf van VOC-amptenare het hulle hierdie vorm van Nederlands, Austronederlands, as 'n kommunikasiemiddel gebruik - 'n vorm van Nederlands wat die amptenare en die inwoners van die eilande onder mekaar as lingua franca gebruik het (vgl. Kotzé, 2014:3-5). Volgens Ponelis (1989a:32) was dit egter nie net die onderlinge beïnvloeding deur taalkontak wat een van die deurslaggewende faktore in die ontstaan van Afrikaans was nie, maar ook taalversteuring deur gebrekkige verwerwing van Nederlands deur vreemdtaliges.
Daar is waarskynlik twee redes daarvoor dat die Oos-Indiese tale, soos Maleis en die ander Austronesiese tale, eerder as die tale van Oos- en Wes-Afrika, en Bengaals of Tamil, 'n belangriker rol gespeel het as die tale van Afrika en Indië:
1. Die slawe uit Oos-Indiese gebiede was meestal geskoolde vakmanne, en kon die Arabiese alfabet lees en skryf. Dikwels, byvoorbeeld in die geval van sjeg Yusuf, was dit politieke gevangenes wat in hulle vaderland probleme vir die owerhede veroorsaak het, soos in Makassar. Hulle taal was vir hulle belangrik - in so 'n mate dat die imams by die moskees met verloop van tyd Kaaps-Afrikaans in Arabiese skrif geskryf het as lesboeke vir die jongspan.
2. Die gemeenskaplike vorm van Nederlands waarmee baie van hulle reeds op hulle eilande van herkoms kennis gemaak het, en wat ook baie kenmerke van hulle taal bevat het, was veel nader aan die taal wat in die Kaap gepraat is as enige van die tale wat die ander slawe as moedertale geken het (vgl. Kotzé, 2014:3-5).
Talle van die kenmerke wat Afrikaans van Europese Nederlands onderskei, kan in Austronederlands teruggevind word. Verder het 'n groot kontingent amptenare op weg terug na Nederland (soms tot 1 500 op 'n keer) vir lang tydperke, tot ses weke op 'n slag, aan die Kaap oorgebly en hulle stempel geplaas op die taal waarin hulle met die plaaslike bevolking gekommunikeer het. Daar het na raming sowat 330 000 sogenaamde tuisvaarders op dié wyse die Kaap aangedoen (vgl. Kotzé, 2014:3-5).
Tale soos Maleis, Javaans en Laagportugees het gevolglik 'n indirekte invloed gehad op die vorming van Afrikaans in die monde van die Kaapse sprekers (vgl. Kotzé, 2014:3-5).
Die slawe se kennis van Arabies het hoofsaaklik net behels dat hulle die Koer'aan in die oorspronklike taal kon lees, amper soos Latyn wêreldwyd in die Katolieke Kerk gebruik is. Tot vandag toe maak Arabiese woorde 'n beduidende deel van die Afrikaanse woordeskat van die Kaapse Moesliems uit. In die liedereskat van die Kaapse Moesliems is steeds heelwat Maleise woorde en uitdrukkings, soos minta maaf (vra ekskuus), ghoema, en so meer (vgl. Kotzé, 2014:4-5).
Soos die Oos-Indiese tale het Arabies ook 'n indirekte invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad:
1. 'n Skryfsisteem vir Kaaps-Afrikaans is in die Arabiese alfabet ontwerp meer as 'n eeu voordat die spelling van Afrikaans vasgelê is en 'n standaardvorm vir die taal ontstaan het. Toe hierdie vorm van Afrikaans, genaamd Arabiese Afrikaans, mettertyd geromaniseer is, dus in die Romeinse alfabet geskryf is, is daar ook 'n formele woordeskat vir religieuse gebruik vasgelê wat in verskeie opsigte van die Nederlandse ekwivalente verskil het. Hoewel dit nie op die hele Afrikaanse taalgemeenskap betrekking het nie, het Arabies vandag nog via die rol van die taal van Islam en die besoeke van duisende pelgrims gedurende die jaarlikse gadj, of pelgrimstog na Mekka, 'n direkte invloed op die leefwereld van 'n belangrike komponent van die Afrikaanse taalgemeenskap.
2. Die Oosterse tale het 'n beduidende invloed op die Afrikaanse woordeskat gehad en Afrikaans wyk dus dikwels van Nederlands af, nie net wat alledaagse woorde betref nie - daaronder tel woorde soos baie, baadjie, baklei, piesang, pondok (wat in Maleis 'n gewone huis is),piering, die name van baie kossoorte, soos atjar, bobotie en brijani (vgl. Kotzé, 2014:4, 5).
Aan die ander kant het tale soos Indonesies ook talle Nederlandse leenwoorde oorgeneem, wat vir Afrikaanssprekendes baie bekend voorkom (hoewel anders gespel), byvoorbeeld polisi, oranye, kalkun, apel, pir, wortel, mantel, mebel en bioskop (vgl. Kotzé, 2014:4, 5).
Wat die uitspraak van veral Kaaps-Afrikaans betref, het affrikate soos tj en dj in woorde wat deur sprekers van ander variëteite anders uitgespreek word, interessante verbande met sowel Nederlands as die Oosterse tale:
1. In die tale van Suidoos-Asië word die j altyd as dj uitgespreek, soos in jelek (lelik), jawab (vra), jumpa (ontmoet), Jakarta, ens. Dit kom, veral in informele taal, gereeld in Kaaps-Afrikaans voor.
2. Kenmerke van Nederlands in Kaaps-Afrikaans: -tsjie stem ooreen met die verkleiningsuitgang in Nederlands by woorde wat op -t of -d eindig (hondje, vaatje, bootje).
3. Kenmerke van Portugees: die uitspraak van genasaleerde vokale soos mens (vgl. Portugees homens), en die gebruik van vir by direkte voorwerpe ("ek sien vir jou") stem ooreen met die voorsetsels a en para, wat in soortgelyke konstruksies in Portugees voorkom (soos in a quem tu abençoares será abençoado; Afrikaans: Hy vir wie jy seën, salgeseën wees) (vgl. Kotzé, 2014:4, 5).
Afrikaans sou beslis nie die Afrikaans wat ons ken, gewees het sonder die invloed van die slawe nie; dit sou waarskynlik nader aan 'n taalvorm soos Surinaamse Nederlands gewees het. Saam met die invloed wat die Afrika-leefwêreld en dié van die eilande van Suidoos-Asië op die woordeskat en vorm van Afrikaans uitgeoefen het, het die moedertale van almal wat hulle aan mekaar verstaanbaar probeer maak het, 'n bepalende stempel afgedruk op die vorm wat die Afrikaanse taal uiteindelik aangeneem het (vgl. Kotzé, 2007:107-119; Kotzé, 2014:5).
Taalversteuring (die vinnige en deurdringende verandering wat toegeskryf word aan gebrekkige taalverwerwing) het op die sewentiende- en agtiende-eeuse Hollands (Nederlands) aan die Kaap ingewerk en daarvan Afrikaans-Hollands, later Kaaps-Hollands en uiteindelik Afrikaans gemaak. Die verandering van Hollands na Afrikaans het op alle maatskaplike terreine en by bevolkingsgroepe in verskillende streke van die land, stedelik sowel as landelik, min of meer gelyktydig plaasgevind. Die verandering het vinnig plaasgevind, in die sin dat die veranderinge teen 1750, 'n skrale eeu ná die nedersetting, reeds afgeloop of ver gevorderd was (Ponelis, 1989a:11; Raidt, 1989:96-99).
2.4.2 Standaardafrikaans
Afrikaans is die jongste en enigste Germaanse taal wat in Afrika ontstaan het (vgl. Raidt, 1989:96). Afrikaans het onder meer uit die sewentiende-eeuse Nederlands ontwikkel (vgl. 2.4.1) en die woordeskat en die sinsbou stem grootliks met dié van Nederlands ooreen. Daar bestaan egter opvallende verskille in die uitspraak van woorde en in die werkwoordelike en naamwoordelike vorme, wat in Afrikaans deur drastiese vereenvoudiging gekenmerk word (Raidt, 1989:97).
Afrikaans se ontstaansgeskiedenis word gekenmerk deur invloede van die dialektiese en maatskaplik geskakeerde sewentiende-eeuse Nederlands van amptenare, matrose, soldate en koloniste. Daar is dus invloede van die stedelike burgertaal, seemans- en handelstaal (vgl. Nederduits) en plattelandse Nederlandse streektale. Soos in die vorige afdeling uiteengesit, het die gebrekkige Nederlands van Europese immigrante (Duits, Deens, Frans, Portugees), Khoi-Khoin, San en Maleise slawe 'n beduidende invloed uitgeoefen, ook op die gesproke Nederlands aan die Kaap (vgl. Scholtz, 1963:251; Raidt, 1989:97, 100).
Volgens Raidt (1989:97-98) was die foute en afwykings aanvanklik onpatroonmatig, maar reeds kort ná 1700 het duidelike vereenvoudigingstendense sigbaar geword. Tussen 1740 en 1775 was die omgangstaal van die Kapenaars nie meer gelyk aan Europese Nederlands nie, maar dit was ook nog nie Afrikaans nie. Ten spyte van talle wisselvorme het die omgangstaal in die laaste kwart van die 18de eeu alreeds tipiese kenmerke van die Afrikaanse grammatikale struktuur gehad, sodat die taal wat omstreeks 1775 gepraat is, tereg Afrikaans genoem kan word. Die benaming "Afrikaans" is egter van relatief resente datum; dit het eers ná 1875 gebruiklik geword.
Verskillende faktore en prosesse was dus vir die geleidelike verandering van Nederlands na Afrikaans verantwoordelik, naamlik "normale" taalverandering, taalkontak en -beïnvloeding en taalversteuring (Raidt, 1989:98, 99).
Dit is nie maklik om Afrikaans as taal te klassifiseer nie. Kotzé (2018) stel dit so:
'n Kwessie van norm. In die geval van 'n geografiese vertrekpunt is Afrikaans 'n Afrikataal wat hier ontstaan en ontwikkel het en die naam van die vasteland weerspieël (die enigste taal in Afrika waarby dié kenmerk voorkom). In die geval van 'n genealogiese benadering is dit 'n Indo-Germaanse taal (verlangs selfs verwant aan Hindi), en meer spesifiek Wes-Germaans, wat onderlinge verstaanbaarheid met tale soos Nederlands (en in 'n mindere mate) Duits moontlik maak. Vanuit 'n kreoliseringsbenadering het Afrikaans voortgekom uit 'n kontaksituasie waarin sprekers van sowel verwante as onverwante tale hulle stempel gelaat het op dit wat uiteindelik deur hulle nageslag as moedertaal oorgedra is. Die variasie wat Afrikaans weerspieël, is in 'n groot mate ook die gevolg daarvan. Geopolities is Afrikaans 'n inheemse taal van Suid-Afrika, met al sy variëteite, en deel hy die leefruimte met tale wat genealogies as Sintutale beskryf kan word.
Afrikaans was in sy vroeë stadium hoegenaamd nie gestandaardiseerd nie. As 'n mens die ontwikkeling van gesproke en skriftelike Afrikaans en die invloed van vreemde tale en sprekers daarop bestudeer, is die volgende uiteensetting sinvol (vgl. Raidt, 1989:98):
In die koloniale tydperk in Suid-Afrika (1652-1961) was daar aanvanklik 'n gedurige toutrekkery tussen die tale Nederlands en Engels, afhangende van watter land aan bewind was, en sowel Nederland as Brittanje het natuurlik sy eie nasionale taal as die amptelike taal vir die kolonie aan die suidpunt van Afrika gebruik (Carstens & Raidt, 2019; Dyers, 2022:268). Afrikaans het uiteindelik in 1925 naas Engels en Nederlands die status van amptelike taal van die Unie van Suid-Afrika verkry, het algaande toenemend gestandaardiseerd geraak en het sedertdien die hoër taalfunksies van wetenskaplike en tegnologiese diskoers begin oorneem (vgl. Steyn, 1980:18).
Volgens Kotzé (2018) word Standaardafrikaans hoofsaaklik gekenmerk daardeur -
1. dat daar vaste reëls vir die spelling van woorde bestaan;
2. dat die leksikon 'n voorkeur vertoon vir woorde van Germaanse herkoms waarvoor daar Romaanse ekwivalente bestaan (waarvan heelparty soms verkeerdelik as leenwoorde uit Engels, en dus as anglisisties, beskou word), asook vir woorde uit Oos-Indiese en inheemse tale,
3. dat dit bepaalde reëls vir die grammatika vertoon, en
4. dat leenwoorde uit ander tale óf in die oorspronklike vorm behou word óf volgens bepaalde reëls getranslitereer word.
2.5 Sintutale
Hoewel die Sintutale 'n lang bestaansgeskiedenis het, is hulle hoofsaaklik deur sendelinge van verskeie sendinggenootskappe tot skryftale ontwikkel. Die Europese sendelinge het die tale neergeskryf soos hulle dit teen hul eie taalagtergrond kon interpreteer - byvoorbeeld Duits, Frans of Engels. Hierdie taleverskeidenheid is dan ook die hoofrede vir die verskille tussen die spel- en skryfreëls van verwante Sintutale.
Ná 1948 het die instelling van die taalrade vir die inheemse Sintutale in hulle samestelling en funksie 'n fundamenteel politieke kleur gekry. Hierdie taalrade is mettertyd aan die onafhanklike en selfregerende tuislande en soortgelyke politieke entiteite (bv. die voormalige Departemente van Bantoesake en van Bantoeonderwys) gekoppel. Hulle politieke rol was om die prentjie van afsonderlike ontwikkeling in die tuislandstrukture voor te hou. Sommige van die taalrade het aan die hoofministers en hulle kabinette verslag gedoen, terwyl ander onder die Departement van Onderwys en Opleiding, soos dit later sou heet, geressorteer het; sommige het selfs aan albei strukture verslag gedoen. Hierdie taalrade is hoofsaaklik deur die tuislandregerings befonds en verteenwoordigers van daardie regerings was lede van die taalrade. Daar was vir elke Sintutaal 'n taalraad, hoewel sommige weens politieke oorwegings gedupliseer is, byvoorbeeld in die geval van Xhosa in die Transkei en die Ciskei en Tswana in Bophuthatswana en Suid-Afrika (Ntshangasi, 1996). Die taalrade se hooftaak was om na die spelreëls en skryfwyse van die verskillende Sintutale om te sien. Elke taalraad het dan ook 'n woordelys saamgestel waarin die spelling en ortografíe van die betrokke taal weerspieël is. Hierdie woordelyste is "termlyste" genoem, wat ongelukkig die idee laat posvat het dat 'n gewone woordelys wat bedoel is om spel- en skryfwyse te illustreer, 'n werklike termlys is. Nie een van hierdie lyste het egter die terminologie (vakwoordeskat) van 'n bepaalde vakgebied bevat nie. Die woordelyste het wel die spel- en skryfprobleme in die woordeskat geïllustreer en spel- en skryfwyse in die verskillende tale gestandaardiseer (Alberts, 2019:14).
Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se Nasionale Taalliggame (NTL'e) het in 2004 begin om hierdie reëls te hersien. Die hersiene reëls is in 2008 gepubliseer, en PanSAT het onderneem om onmiddellik met die verdere hersiening daarvan te begin. Die NTL'e sal verantwoordelik bly vir die bywerking en hersiening van die reels, en die hersiene en bygewerkte reëls behoort ná afloop van die ampstermyn van die NTL'e gepubliseer te word, dus verkieslik elke vyfjaar (Alberts, 2017:143-148).
3. Taalontwikkeling, taaierkenning en standaardisering
Bildts en Afrikaans het albei 'n proses van ontwikkeling en standaardisering deurloop. Daar het met verdrag bepaalde taalreëls ontwikkel en spel- en skryftradisies het ontstaan. Later is die grammatika-, spel- en skryfreëls verfyn en aangeteken. Woordeboeke is mettertyd in beide tale saamgestel en gepubliseer. Verder het die terminologieë van verskillende vakgebiede en -terreine ontwikkel, wat aangeteken en gepubliseer is.
Die ontwikkelingsproses waardeur Bildts en Afrikaans gegaan het, is soortgelyk aan dié waardeur die Suid-Afrikaanse Sintutale - veral die minderheidstale Tsonga, Venda, Swati en Ndebele - tans gaan, asook Khoi, San en die Suid-Afrikaanse Gebaretaal (vgl. afd. 5).
Vir Bildts is sy grammatika en sy spel- en skryfreëls deur die Bildtse Akademie, die Stichting Ons Bildt, hanteer (Buwalda & Buwalda, 1980). Afrikaanse grammatika is aanvanklik deur akademici uit die taal soos dit gebruik is, geabstraheer. Standaardafrikaans se spelling en skryfwyse word deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) bereël en gereeld hersien, bygewerk en in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) gepubliseer. Die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is reeds in 1917 gepubliseer.
4. Leksikografie- en terminologieontwikkeling
Daar is verskeie taalkundige en leksikografiese publikasies in Bildts. Die belangrikste daarvan vir die doel van hierdie artikel is die Woordeboek fan 't Bildts. Die woordeboek bestaan uit drie dele:
• die woordelysgedeelte (459 bladsye), waarin die Bildtse lemmas en artikels behandel word;
• 'n indeks (226 bladsye) wat woordeboekgebruikers help om die Bildtse lemma (en artikel) met gemak volgens die Nederlandse inskrywing te vind; en
• 'n oorsig van Bildtse toponieme (57 bladsye), wat name bevat van landsgedeeltes, boerderye, brûe, buurte, dyke, vaartuie, herberge, huise, meulens, paaie, opritte, slote, stegies, strate en streke (vgl. http://www.argyf.fryske-akademy.eu/fa/.../view).
Die uitgebreide inleiding bevat inligting oor die geskiedenis van die woordeboek, die bronne wat geraadpleeg is, en 'n oorsig oor die klanke, die spraakkuns en die spelling.
Tydens die AJV van die Stichting Ons Bildt in 2000 (vgl. afd. 2.3) het dit geblyk dat die moedertaalsprekers nie baie tevrede was met die oorspronklike Bildtse woordeboek nie (vgl. Alberts, 2000:14).
Die terminologielyste wat in Bildts beskikbaar is, handel merendeels oor terreine van die landbou.
Die Afrikaanse taal beskik daarenteen oor 'n ryk woordeboektradisie. Bo en behalwe die omvattende eentalige verklarende Woordeboek van die Afrikaanse Taal ( WAT) wat sedert 1925 deur die nasionale leksikografiese eenheid vir Afrikaans, die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, saamgestel word, is daar verskeie handwoordeboeke, aanleerderswoorde-boeke en skoolwoordeboeke van formaat. Daar is ook verskeie gespesialiseerde woordeboeke in Afrikaans, soos onder meer sinoniem-, rym- en etimologiewoordeboeke en tesourusse (vgl. afd. 7).
'n Terugblik op die Suid-Afrikaanse vaktaalsituasie toon dat Suid-Afrika gedurende die vyftiger- tot negentigerjare 'n bloeityd beleef het in die skepping van veral Afrikaanse terminologie (vgl. afd. 8). Die eerste tweetalige vakwoordeboek (Chemieterme) met Afrikaans as een van die behandelde tale is reeds in 1918 deur DF Du Toit Malherbe saamgestel. Die uitgebreide en intensiewe vaktaalontwikkeling het bygedra tot die leksikale verryking en standaardisering van Afrikaans. Die terminologieontwikkeling in Afrikaans was sodanig dat terme tans in feitlik enige vakgebied of domein beskikbaar is - van grondkunde tot kernenergie. Afrikaanse terminologie is deur verskeie taalkantore, taalpraktisyns, vakkundiges en private instansies geskep, aangeteken en versprei (vgl. Alberts, 2003:127-161). Daar is na raming bykans 450 verskillende termlyste en vakwoordeboeke vir 'n verskeidenheid vakgebiede met Afrikaans as een van die behandelde tale (vgl. Alberts, 2015b).
5. Vergelykende studie
Dit is van belang om enkele vergelykings te tref tussen die verskillende tale wat in hierdie artikel bespreek word.
As enkele woorde uit Nederduits, Wes-Fries, Nederlands en Afrikaans met mekaar vergelyk word (vgl. Tabel 1), blyk dit dat daar ten spyte van die skrifvorm (skryf- en spelwyses), minimale verskille tussen Nederduits, Wes-Fries en Afrikaans is, terwyl die Nederlandse termekwivalente dikwels na aanleiding van Engelse bronterme geskep word (acceptasie, attack) en selfs direk aan Frans ontleen word (cognac). Die Nederlands gebruik cognac (ouer vorm: conjack) na aanleiding van die naam van die Franse stad Cognac waar dié tipe brandewyn blykbaar vir die eerste keer uit wyn gestook is (Boshoff & Nienaber, 1967:364).
Dit is interessant om die term kombuis se etimologie na te gaan. Die term kombuis ("kookkamer") kom van die Middelnederlandse term cabuse, wat 'n voorraadkamer of kookruimte op 'n skip was. Die Engelse term caboose is ook "a small kitchen on the deck of a ship". In Nederduits was kombuis aanvanklik die benaming vir kajuit. In Fries is kajút en kombof sinonieme van onderskeidelik kajuit en kombuis in Nederlands - dus tipiese seemansterme. In Nederlands word die term kombuis slegs in skeepsverband gebruik. Die Nederlandse keuken is sinoniem met kombuis in Bildts en Afrikaans (Boshoff & Nienaber, 1967:362-363; Van Wyk et al, 2003:206).
Aangesien die meeste termlyste in Bildts oor aspekte van die landbou handel, bevat die volgende lys slegs landbouverwante terminologie in Bildts, Fries, Nederlands en Afrikaans (vgl. Tabel 2). Dit is opmerklik hoeveel die skrifbeeld van Bildtse terme ooreenkomste met Afrikaans toon. Die Bildts en Afrikaans is ook dikwels nader aan mekaar as aan Nederlands (vgl. Oosterbaan, 1989:140-157).
Wanneer terme in Nederlands, Bildts en Afrikaans vergelyk word, sien mens egter dikwels dat 'n Afrikaanse term soms aan Nederlands ontleen is en soms aan Bildts (vgl. Tabel 3):
6. Amptelike Suid-Afrikaanse tale
Die rol en funksie van Afrikaans en die Sintutale het sedert 1994 aansienlik verander as gevolg van politieke en maatskaplike veranderinge. Die Suid-Afrikaanse regering is regtens verplig om meertaligheid in Suid-Afrika te bevorder. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993 (Wet No. 200 van 1993), en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, het 'n heeltemal nuwe talebestel vir Suid-Afrika ingevoer. Taalregte word in verskillende artikels van die Grondwet, 1996, genoem. In artikel 6 word daar voorsiening gemaak vir elf amptelike tale vir Suid-Afrika en vir die ontwikkeling van dié tale wat voorheen beperkte amptelike status geniet het. Die taalopdrag soos vervat in die Grondwet veronderstel verder -
• die daarstelling van infrastruktuur deur die staat vir die ontwikkeling en bestuur van al die tale wat in die Grondwet genoem word, en
• die instelling van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (art. 6(5)) Die Grondwet, 1993, vereis reeds in art 3(10) dat PanSAT by Parlementswet ingestel moet word. Dit word in artikel 6(5) van die Grondwet, 1996, herhaal (Alberts, 2003:132, 133; Alberts, 2017:149-163).
Suid-Afrika beskik oor voortreflike wetgewing wat die talebestel behoort te beskerm en taalontwikkeling te fasiliteer. Die agtiende Wysigingswet op die Grondwet 3 van 2023 wysig artikel 6(5)(a) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, en maak voorsiening vir die ontwikkeling van twaalf amptelike tale deur Suid-Afrikaanse Gebaretaal by te voeg. Suid-Afrikaanse Gebaretaal geniet gevolglik sedert 2023 ook die status van amptelike taal. Die Nasionale Taalbeleidsraamwerk van Maart 2003 gee uiting aan die grondwetlike vereistes vir taalgebruik en -ontwikkeling. Verder gee die wet oor die gebruik van die amptelike tale ("Use of Official Languages Act" 12 van 2012) en die voorgestelde regulasies (2013) riglyne vir taalgebruik deur die owerhede op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak. Die Suid-Afrikaanse Taalpraktisynsraad (Beukes, 2014) maak onder meer daarvoor voorsiening dat taalpraktisyns oor die nodige vaardighede moet beskik om in die taalpraktyk werksaam te wees. Die tersaaklike wetgewing vereis dat daar ook aan meertalige terminologieontwikkeling aandag gegee moet word (Alberts, 2017:150-162; Alberts, 2019:12-29).
Die LANGTAG-verslag (DACST, 1996) is deur die Nasionale Taaldiens (NTD) van die Departement van Kuns en Kultuur (DKK) verder gevoer, en 'n nasionale taalbeleidsraamwerk (vgl. DAC, 2002; DAC, 2003a) is gedurende 2002 gepubliseer. 'n Implementeringsplan vir die nasionale taalbeleidsraamwerk, wat 'n algemene strategie vir die ontwikkeling van die Sintutale aanbied, is in 2003 bekendgestel (DAC, 2003b).
7. Leksikografieontwikkeling in Afrikaans en die Sintutale
Die Sintutale beskik oor verskeie woordeboeke - hoewel nie so talryk as Afrikaans nie. Daar moet in gedagte gehou word dat die taalbeleid van 'n land 'n invloed op die woordeboekpro-duksie uitoefen. In die vorige regeringsbestel was daar 'n beleid van twee amptelike tale, en gevolglik is hoofsaaklik tweetalige (Engels en Afrikaans) algemene en vakwoordeboeke saamgestel en gepubliseer. Sedert 1994 word daar egter weens die meertaligheidsbeleid waar moontlik algemene en vakwoordeboeke in die elf amptelike skriftale saamgestel en gepubliseer. As twaalfde amptelike taal word die gebare van Suid-Afrikaanse Gebaretaal as videogrepe aangeteken en gestandaardiseer.
Waar daar aanvanklik slegs twee amptelike woordeboekkantore bestaan het, naamlik die Buro van die Afrikaanse Taal (WAT) in Stellenbosch en die Dictionary of South African English (DSAE) by die Rhodesuniversiteit in Makhanda (voorheen Grahamstad), is daar sedert 1998 elf nasionale woordeboekeenhede, naamlik die nasionale leksikografiese eenhede (NLE's), een vir elke amptelike taal, ingestel (vgl. PanSAT, 1999). PanSAT is tans (2024) besig om 'n NLE vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal in te stel.
Die NLE's is maatskappye sonder winsoogmerk (MSW) en elkeen is verbonde aan 'n plaaslike universiteit wat binne die geolinguistiese gebied geleë is waar die meeste moedertaalsprekers van die betrokke taal woon. Die idee is dat taalkundiges verbonde aan die universiteit kan meewerk aan die betrokke woordeboek deur taalprobleme te help uitstryk en dat moedertaalgebruikers vir insette geraadpleeg kan word. Die verskillende NLE's is soos volg:
• Afrikaans: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Stellenbosch
• Engels: Dictionary of South African English (DSAE), Makhanda
• Ndebele/isiNdebele, Pretoria
• Noord-Sotho/Sesotho sa Leboa/Sepedi, Polokwane
• Suid-Sotho/Sesotho, Bloemfontein
• Swati/Siswati, Mbombela
• Tsonga/Xitsonga, Tzaneen
• Tswana/Setswana, Mmabatho
• Venda/Tshivenda, Thohoyandou
• Xhosa/isiXhosa, Alice
• Zulu/isiZulu, Durban
• Suid-Afrikaanse Gebaretaal (tans [2024] in stigtingsproses).
Elke NLE teken die algemene woordeskat op van die taal waarvoor hy ingestel is en die data word as algemene (een-, twee- of meertalige) woordeboeke gepubliseer. Satellietprodukte soos skoolwoordeboeke word moontlik gemaak deur die manipulering van die data. Die data word rekenaarmatig in die TshwaneLex-program opgeteken, wat verskeie produkte moontlik maak, soos publikasies en aanlyn weergawes.
Daar bestaan reeds algemene en vakwoordeboeke vir gebaretaal (vgl. Nieder-Heitmann, 1980; NID, 2022). Tans word gebare deur verskeie instansies as videogrepe gedokumenteer en die te stigte NLE vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal sal waarskynlik kan meewerk om die gebare te dokumenteer en te standaardiseer. Verskeie woordeboeke is ook vir die Khoi- en Santale saamgestel (vgl. Haacke et al., 2002; 2010).
8. Terminologieontwikkeling in Afrikaans en die Sintutale
Hoewel Afrikaanse terminologie gedurende die vyftiger- tot negentigerjare 'n bloeityd beleef het, is slegs enkele vakwoordeboeke, wat almal private inisiatiewe was, in hierdie tyd in die Sintutale gepubliseer (Alberts, 2003:137; Alberts, 2015b).
Die Terminologiekoördineringsafdeling (in die praktyk word slegs die Engelse benaming Terminology Coordination Section en die afkorting TCS gebruik) en sy voorgangers het in die verlede as nasionale terminologiediens en as staatsinstelling amptelik vertalende twee-rigtingvakwoordeboeke saamgestel, maar voor 1994 is daar reeds besef dat daar 'n dringende behoefte aan terminologie in die verskillende Sintutale was. Kontak is gemaak met die taalrade wat daardie tale amptelik hanteer het, en daar is begin met navorsing oor woordvormingsbeginsels in dié tale. In 1995 stel die Nasionale Terminologiediens (NTD; voorganger van die TCS) moedertaalsprekers van die inheemse tale as terminoloë aan om die optekening van terminologie in die verskillende Sintutale te behartig (Alberts, 2003:138; Alberts, 2015b).
Die TCS werk ten opsigte van Afrikaanse termskepping nou saam met die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) en die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, en ten opsigte van Engels word die English Academy of Southern Africa en die Nasionale Taalliggaam vir Engels van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad geraadpleeg. Die lede van die nasionale taalliggame vir die Sintutale word gebruik om die terminologie van die Sintutale te beoordeel en goed te keur. Die nasionale taalliggame kan terme slegs beoordeel op grond van woordvormingsbeginsels en spel- en skryfreëls, aangesien die lede taalkundiges is en nie vakkundiges nie.
Wat vaktaalbestuur betref, word daar nie in die regering se taalimplementeringsplan 'n spesifieke strategie vir die bestuur van terminologiedata uiteengesit nie. Sowel die LANGTAG-verslag as die taalbeleidsraamwerkdokument plaas egter vaktaalbestuur binne die opdrag van die TCS (Ferreira, 2002).
In Suid-Afrika geskied terminologieontwikkeling in alle Suid-Afrikaanse amptelike tale, ook dus in die amptelike tale wat voorheen as minderheidstale beskou is. Hoewel die Khoi- en Santale nie amptelike taalstatus geniet nie, word dié tale se terme deur die betrokke Tegniese Komitees van die onderskeie nasionale taalliggame opgeteken. Gebaretaalterme word deur die NTL vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal deur middel van videogrepe vasgelê en aan belanghebbendes versprei. PanSAT is ook reeds besig om 'n NLE vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal tot stand te bring. Terminologieontwikkeling het ten doel om die gebruik van al die Suid-Afrikaanse tale op elke moontlike terrein van menslike kundigheid, werksaamheid en kommunikasie moontlik te maak. Dit kan lei tot die ontwikkeling van die tale tot funksionele tale op alle terreine van menslike aktiwiteit.
Hoewel daar talryke inisiatiewe bestaan vir die skep en optekening van terminologie in die Sintutale, word terminologieontwikkeling tans gereguleer en gekoördineer deur die TCS. Dié kantoor beskik oor 'n nasionale register waar alle terminologieprojekte geregistreer moet word ten einde duplikasie van werksaamhede op vakterreine uit te skakel. Meertalige, veeltematiese terme word deur die TCS aangeteken en aanlyn beskikbaar gestel.
Daar is ook verskeie private inisiatiewe wat konsepte in Engels (as brontaal) definieer en dan vertaalekwivalente in Afrikaans en die Sintutale (as doeltale) voorsien. Voorbeelde hiervan is die strafreg-, strafprosesreg- en bewysregterminologie wat deur die Sentrum vir Regster-minologie in Afrikatale (SRTAT) aangeteken word. Die Sentrum het aanvanklik slegs Noord-Sotho-termekwivalente voorsien, maar die ander Sintutale word ook reeds toegevoeg. 'n Tweetalige regswoordeboek is in 2015 gepubliseer, en die drietalige regswoordeboek (Engels-Xhosa-Afrikaans) in 2019. Die Tsonga-weergawe is reeds op die pers. Die Sentrum vir Politieke en Verwante Terminologie (CEPTSA) het aanvanklik slegs vertalende Engels-Afrikaanse vakwoordeboeke gepubliseer, maar het later begin om kernterme van definisies te voorsien en vier Sintutale (Zulu, Xhosa, Tswana, Noord-Sotho) is as doeltale bygevoeg (vgl. Alberts, 2015a). Terminologie oor 'n wye verskeidenheid vakgebiede word ook deur die vakvereniging Prolingua aangeteken.
Verskeie staatsinstansies het taalafdelings wat vertaal- en tolkdienste lewer. Die terminologie van die betrokke instansie moet egter beskikbaar wees, want daarsonder kan geen vertaal- en tolkdienste gelewer word nie. Hieronder tel onder meer die Nasionale Parlement, die Kantoor van die Staatsregsadviseur in die Departement van Justisie, Statistieke Suid-Afrika, Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, en so meer. Daar is ook verskeie owerhede op provinsiale en plaaslike vlak soos munisipaliteite wat terminologie versamel, aanteken en versprei.
Daar is verskeie nasionale en internasionale navorsingsaktiwiteite aan die gang om leksikografiese en terminografiese produkte elektronies aan te teken, sodat hulle in toepassings van mensliketaaltegnologie (MTT) (Human Language Technologies (HLT)) gebruik kan word (vgl. speltoetsers, taalkoppelvlakke, spraaksintese en -herkenning).
Die meeste tersiêre instellings is aktief besig met vaktaalprojekte. Sommige het reeds begin om terminologiekursusse aan te bied. Dit blyk uit 'n oudit wat by die tersiêre instellings gedoen is, dat daar steeds talle projekoorvleuelings is wat 'n proliferasie van terme vir dieselfde konsep in dieselfde vakgebied of taal tot gevolg het, en die penetrasie en standaardisering van termekwivalente nadelig beïnvloed (Alberts, 2015b; Alberts, 2019:28-29; Goosen, 2024).
9. Vergelyking tussen Bildts, Afrikaans en die Sintutale
Soos uit voorafgaande besprekings blyk, het Suid-Afrika volgens wetgewing 'n meertalige beleid waar al die amptelike tale gelyke status geniet. "Deze theoretische situasie (gelijkgesteldheid) is echter niet de werklijkheid. In de praktijk wordt er steeds meer gediscrimineerd, zowel tegen het zwarte talen als tegen het Afrikaans. Het beleid van het ANC, dat de dienst uitmaakt in de regering, is dat alle elf talen moeten worden erkend, maar dat alleen Engels the language of record zal zijn" (Scholtz, 1996:7).
Hoewel Engels deesdae as die lingua franca van Suid-Afrika beskou kan word, is daar tog 'n besliste beweging na meertaligheid, en meertalige terme word op veral tersiêre vlak beskikbaar gestel. Die kontak tussen die verskillende taalgroepe sal die behoefte aan meertalige termlyste en vakwoordeboeke algaande versterk. Dit is interessant om in die terminologieprak-tyk daarop te let dat die beskikbare Afrikaanse terminologie dikwels as bron dien vir die skep van Sintutaal-termekwivalente. Die Afrikaanse terme is in baie gevalle baie beskrywend en dit help die termskeppers in Sintutale om ekwivalente in hul eie tale te skep.
Hoewel daar geen verwantskap tussen Bildts en Afrikaans met die Sintutale bestaan nie, is dit tog interessant om 'n vergelyking tussen hierdie tale te tref. Aangesien die beskikbare Bildtse bronne oorwegend uit die gebied van die landbou kom, is slegs landbouterme as voorbeeldmateriaal gebruik, vgl. Tabel 4.
Die Sintutale ontleen dikwels landbouterme aan Afrikaans, waarskynlik omdat Afrikaans-sprekende landbouers en plaaswerkers dikwels in Afrikaans kommunikeer. Die Ngunitale, waarvan Xhosa 'n voorbeeld is, ontleen dikwels eerder aan Engels. Dit is duidelik uit al die bygaande tabelle dat genoemde terme in verwante (en selfs nieverwante) tale deur trans-literasieprosesse gevorm is; meermale is die terme aan slegs een brontaal ontleen (Alberts, 2017:94-96; Alberts, 2019:90-93).
10. Slotsom
Aangeleenthede soos taalontwikkeling en -standaardisering is moontlik indien tale amptelike erkenning kry. Afrikaans het ontwikkel omdat dit naas Engels tot amptelike taal verhef is, waardeur ook terminologieontwikkeling moontlik en nodig gemaak is en grootskaalse taalontwikkeling kon plaasvind. Die Sintutale word tans doelbewus ontwikkel, omdat die tale sedert 1994 amptelike status geniet. Suid-Afrikaanse Gebaretaal is sedert 2023 'n amptelike taal en word dus ook amptelik ontwikkel.
Bildts bestaan naas Nederlands en Fries, omdat dit as dialek of streektaal deur regeringslui erken word en omdat die nagenoeg 6 000 mense wat die taal magtig is, doelbewus besluit het om die taal waar moontlik te gebruik, te bevorder, te bewaar en te ontwikkel, onder meer deur die aktiewe opteken daarvan en die samestelling van woordeboeke.
Taalgebruikers se volgehoue gebruik van 'n taal kan 'n taal laat voortbestaan. Die teen-oorgestelde is egter ook waar. Indien die taalgebruikers nie doelbewus hul taal gebruik, bevorder, bewaar, ontwikkel en op gestandaardiseerde wyse (t.o.v. grammatika, skryf- en spelreëls) gebruik nie, sal die taal (watter taal ook al) stelselmatig verdwyn.
'n Minderheidstaal (soos Bildts en Suid-Afrikaanse Gebaretaal) kan tot amptelike taal verhef word indien die gebruikers daarvan hulle dit ten doel stel om besluitnemers van die gebruikswaarde daarvan te oortuig, deur byvoorbeeld drukgroepe te vorm wat daardie doelwit nastreef.
Die voortbestaan van 'n taal hang grootliks van sy taalgebruikers af. Indien taalpraktisyns goeie taalgebruik handhaaf en die standaardvorm van die taal beheers en gebruik, sal algemene taalgebruikers hopelik hulle voorbeeld volg.
Vakkundiges kan ook tot taalhandhawing en taalontwikkeling bydra indien hulle terme konsekwent gebruik en so tot die standaardisering van konsep en term bydra volgens die beginsel van een begrip, een term. Terminologieontwikkeling en -standaardisering is 'n waarborg vir taalontwikkeling.
Moedertaalonderrig bly steeds die gewenste medium van onderrig. Ouers, leerkragte en leerders moet egter bewus gemaak word van die voordele wat dit inhou om die begrippe deur middel van die moedertaal te internaliseer voordat daar na die gebruik van tweede of derde tale oorgeskakel word.
Politici het ook 'n belangrike rol om te vervul. Taal het 'n emosionele waarde en is die draer van kultuurgoedere. Wanneer politici deur taalgebruik 'n voorbeeld stel, sal gemeenskappe besef dat hul tale funksionele waarde het.
'n Taal kan slegs erken word en ontwikkel indien die gebruikers hul deel daartoe bydra. "Hoe meer funksies 'n taal verloor, hoe vinniger gaan die taal se gebruikswaarde agteruit, hoe kleiner krimp sy taalwêreld, en hoe makliker verskuif sy taalgemeenskap na 'n ander, meer bruikbare taal" (Buys, 2014:4). Hierdie stelling geld vir enige taal. Tale moet nie net ter wille van selfbehoud ontwikkel en bewaar word nie, maar veral omdat hy aan kommunikasiebehoef-tes moet kan voldoen. Die gebruikers van Afrikaans kan baie oor taalhandhawing en -behoud by die handjievol gebruikers van Bildts leer.
BIBLIOGRAFIE
Alberts, M. 2000. Die hersiening van die Bildtse woordeboek. In: AFRILEX Newsletter 5, Dec. 2000:1314. http://afrilex.africanlanguages.com/newsletterdec00.htm. [ Links ]
Alberts, M. 2003. Vaktaalontwikkeling en -opleiding in Suid-Afrika. In: 'n Man wat beur. Huldigingsbundel vir Dirk van Schalkwyk. Stellenbosch: Buro van die WAT, pp.127-161. [ Links ]
Alberts, M. 2015a. Centre for Political and Related Terminology in Southern African Languages (CEPTSA) - translating and explanatory dictionaries. Lexikos, 25. Afrilex Series 25:1-34. [ Links ]
Alberts, M. 2015b. 'n Oorsig van vaktaalontwikkeling en -opleiding in Suid-Afrika met spesiale verwysing na Afrikaans. Ongepubliseerde verslag opgestel in opdrag van Die Dagbreek Trust en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, November 2015. [ Links ]
Alberts, M. 2017. Terminology and Terminography Principles and Practice. A South African Perspective. Milnerton: McGillivray Linnegar Associates. [ Links ]
Alberts, M. 2019. Terminologie en Terminografie: 'n Handleiding. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. [ Links ]
Beukes, SM. 2014. Language Practitioners' Council Bill. Referaat gelewer by die Prolingua-werksvergadering, 13 Mei 2014, Florida-kampus, Unisa, Roodepoort. [ Links ]
Boersma, PYJ. 2002. Wurdboek fan de Fryske taal/Woordenboek der Friese taal. Ljouwert/Leeuwaren: Fryske Akademy. [ Links ]
Boshoff, SPE. 1921. Volk en taal van Suid-Afrika. Pretoria: De Bussy. [ Links ]
Boshoff, SPE & Nienaber, GS. 1967. Afrikaanse Etimologieë. Pretoria: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. [ Links ]
Botha, TJR, Ponelis, FA, Combrink, JGH & Odendal, FF. (reds.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Academica. [ Links ]
Buwalda, HS. 1979. Fan de Bildtse grond. Luwt: Algemiene Fryske Underrjocht Kommisje. [ Links ]
Buwalda, HS, Buwalda, SH. 1980. Hoe skrive wy 't in 'tBildts? Luwt/ Ljouwert: Fryske Akademy. [ Links ]
Buwalda, HS, Buwalda, SH, Van der Burg, ACB et al. 1996. Woordeboekfan 'tBildts en lijyfan toponimen. Leeuwarden-Ljouwert/Amsterdam: Elsevier. [ Links ]
Buwalda, HS, Buwala SH, Van der Burg, ACB & Sijens, H. (reds.). 2013. Woordeboek van 'tBildts. Tweede verbeterde weergawe van Het Woordeboek fan't Bildts (1996) waarby ingesluit is die spellingboekie: Hoe skrive wy 't in 't Bildts? St Anne: Fryske Akademy/HDU. [ Links ]
Buys, F. 2014. Afrikaanse Universiteit bekendgestel. Pretoria East Rekord, November 2014:4. [ Links ]
Carstens, WAM. 2014. Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika. 'n Biografie van Afrikaans. Referaat gelewer by die Prolingua-werksvergadering, 8 Oktober 2014, Tshwane Munisipaliteit, Centurion. [ Links ]
Carstens, WAM & Raidt, EH. 2019. Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika - biografie van 'n taal. Deel 2. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Carstens, WAM & Van Dyk, TJ. 2022. Toegepaste taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. [ Links ]
Daniëls, W & Van de Laar, F. 1996. Spellingchaos. Een buitenparlementair onderzoek naar de nieuwe spelling. Utrecht: Uitgeverij Scheffers. [ Links ]
Department of Arts and Culture (DAC). 2002. National language policy framework. Final draft (NLPF).13 November 2002. Pretoria: Department of Arts and Culture. [ Links ]
Department of Arts and Culture (DAC). 2003a. National Language Policy Framework (NLPF) and Implementation Plan. Pretoria: Department of Arts and Culture. [ Links ]
Department of Arts and Culture (DAC). 2003b. Implementation plan: Framework for the National Language Policy. Final draft. 10 April 2003. Pretoria: Department of Arts and Culture. [ Links ]
Department of Arts, Culture, Science and Technology (DACST). 1996. Towards a national language plan for South Africa. The Final LANGTAG Report. Pretoria: DACST. [ Links ]
De Villiers, M. 1978. Nederlands en Afrikaans. Kaapstad: Nasou. [ Links ]
Dyers, C. 2022. Taal, identiteit en nasievorming. In Carstens, WAM & Van Dyk, TJ. 2022. Toegepaste taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 264-278. [ Links ]
Ferreira, DM. 2002. Terminologiebestuur in Suid-Afrika: 'n Beoordeling van drie werkmetodes. Lexikos, 17 (Afrilex-reeks 17):56-76. [ Links ]
Fryske Akademy. 2010. Woordenboek der Friese Taal. Fries-Nederlands. 1800-1975. 25 dele. Instituut voor Nederlandse Taal. Aanlyn sedert 2010. Ljouwert: Fryske Akademy. [ Links ]
Fryske Akademy. 2015. Friese spelling en taalhulp. Aanlyn sedert 2015. Ljouwert: Fryske Akademy. [ Links ]
Goosen, M. 2024. 'n Kritiese analise van terminologiebestuur binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ongepublisserde PhD-tesis. Pretoria: UP. [ Links ]
Haacke, WHG & Eiseb, E. 2002. Khoekhoegowaab Dictionary with English- Khoekhoegowaab Index. Windhoek: Gamsberg Macmillan. [ Links ]
Haacke, WHG, Eiseb, E & Gericke, C. 2010. Khoekhoegowaab-Afrikaans Glossarium. Windhoek: Macmillan Education. [ Links ]
http://af.m.wikipedia.org/wiki/Fries [ Links ]
http://en.m.wikipedia.org [ Links ]
https://en.wikipedia.org>wiki>Frisian_languages [ Links ]
http://fryske-akademy.nl/nl/kennis-en-sameleving/fries-spelling-en-taalhulp [ Links ]
http://nl.wikipedia.org/wiki/Bildts [ Links ]
http://en.wikipedia.org>wiki>Low_German [ Links ]
http://argyf.fryske-akademy.eu/fa/.../view [ Links ]
http://mijnwoordenboek.nl [ Links ]
https://nid.org/za>news>nid-online [ Links ]
Kleijn, A. 2024. Terugslae, tragedies en teleurstellings van Villeria se taalpionierstigter. https://bronberger.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=6647:Terugslae%20tragedies%20en%20teleurstellings%20van%20Villieria%20se%20taalpionierstigter&catid=50:toeka-se-dae&Itemid=76. [ Links ]
Kotzé, EF. 2007. Die betroubare woord: 'n Beskouing van Arabies-Afrikaanse Maleierafrikaans en Kaaps-Afrikaanse tekste as fonologiese bloudruk vir hedendaagse Praatafrikaans. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 11(2):107-119. [ Links ]
Kotzé, EF. 2014. Slawe en Kaapse Afrikaans. Gesprek met Ina Strydom in Tale wat ons Praat (tans Taaldinge), RSG, 15 Junie 2014. [ Links ]
Kotzé, EF. 2018. Kaaps en (her)standaardisering. Gesprek met Ménan van Heerden, LitNet, 14 Maart 2018. [ Links ]
Nasionale Instituut vir Dowes (NID). 2022. https://nid.org/za>news>nid-online. [ Links ]
Nieder-Heitmann, N. 1980. Praat met die Dowes. Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Dowes. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Ntshangasi, D. 1996. Working document: Future of the present language boards. LANGTAG subcommittee on the Development of (South) African Languages, 20 February 1996.Unpublished document, DAC, Pretoria. [ Links ]
Oosterbaan, DK. 1989. Van Afsluitdijk tot Lauwers: Het boerenleven in Friesland van 1900 tot 1950. St. Anne: Stichting Ons Bildt. [ Links ]
Paardekooper, PC. 1996. Skyfie in de rekenaar. Afro-Nederlands houdt niet van Engels. Wetenschap & Onderwijs. Zaterdag 28 September 1996:2. [ Links ]
Pebesma, H & Zantema, A. 1994. Van Goor's klein Fries woordenboek: Nederlands-Fries en Fries-Nederlands. Amsterdam/Ljouwert: Elsevier. [ Links ]
Ponelis, FA. 1989a. Die aard en bestudering van die Afrikaanse Taal. In: Botha, TJR, Ponelis, FA, Combrink, JGH, Odendal, FF. (reds.). Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 9-37. [ Links ]
Ponelis, FA. 1989b. Nederlands-Afrikaans: die Europese agtergrond van Afrikaans. In: Botha, TJR, Ponelis, FA, Combrink, JGH & Odendal, FF. (reds.). Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 38-71. [ Links ]
Raidt, EH. 1959. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou. [ Links ]
Raidt, EH. 1982. Historiese perspektiefop die normering van Afrikaans. journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA0000016-233. [ Links ]
Raidt, EH. 1983. Einführung in Geshichte und Struktur des Afrikaans. Darmstadt: Wissenschafliche Buchgesellshaft. [ Links ]
Raidt, EH. 1989. Ontwikkeling van Vroeë Afrikaans. In Botha, TJR., Ponelis, FA., Combrink, JGH. & Odendal, FF. (reds.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 96-126. [ Links ]
Raidt, EH. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou. [ Links ]
Reynierse, C. 1991. South African Multi-Language Dictionary and Phrase Book. Cape Town: Reader's Digest Association South African (Pty) Ltd. [ Links ]
Scholtz, J du P. 1963. Taalhistoriese Opstelle. Pretoria: JL van Schaik. [ Links ]
Scholtz, L. 1996. Beatrix moet het Afrikaans beschermen. NRC Handelsblad. Maandag 9 September 1996:7. [ Links ]
Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Suid-Afrika. 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. [ Links ]
Suid-Afrika. 1999. Wysigingswet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad. Wet 10 van 1999. [ Links ]
Tilma, A. 1989. Beste Bildstar en ândere ferhalen. St. Anne: Stichting Onse Bildt. [ Links ]
Van Wyk, GJ, Cloete, AE, Jordaan, A, Liebenberg, HC, Lubbe, HJ. 2003. Etimologiewoordeboek van Afrikaans. Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). [ Links ]
Ontvang: 2024-10-10
Goedgekeur: 2024-10-31
Gepubliseer: Desember 2024
Marietta Alberts begin haar loopbaan in 1971 as terminoloog by die Taaldiensburo in die destydse Departement van Nasionale Opvoeding. Sy dien onder meer as sekretaris van die Koördinerende Vaktaalraad en as lid van die taaltaakgroep LANGTAG. In 1982 aanvaar sy 'n pos by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en doen as hoofnavorser navorsing oor leksikografie, terminologie en rekenaarlinguistiek. Sy keer in 1995 terug na die Nasionale Terminologiediens en stel o.m. die konsepwetgewing vir die instelling van die nasionale leksikografiese eenhede op. In 2000-2001 neem sy vir bykans twee jaar as kantoorhoof waar. In 2001 word sy by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad aangestel as bestuurder van die nuutgestigte nasionale leksikografiese eenhede. Sy gee by verskeie staats- en tersiêre instansies opleiding in terminologie en terminografie. By haar aftrede was sy Direkteur: Terminologie en Standaardisering. Sy was 'n stigters- en bestuurslid van Afrilex, dien in ISO/TC 37 en SABS/TC 37, en was vise-president van Infoterm. Sy ontvang erelidmaatskap van Infoterm, Afrilex en Prolingua. As Taalkommissielid ontvang sy die CJ Langenhovenprys (2003), 'n ATKV-Woordwystoekenning (Woordveertjie) (2006) en die CL Engelbrechtprys (2009). As lid van vakwoordeboekspanne ontvang sy die Stalsprys (2011), ATKV-Woordwystoekennings (Woordveertjies) (2008; 2017; 2019; 2020) en die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se woordeboekprys (2017), en in 2024 word die SAAWK se Erepenning vir Geesteswetenskappe aan haar toegeken. Sy is die outeur van twee boeke oor terminologie en terminografie (2017, 2019).
Marietta Alberts started her career as terminologist in 1971 at the Language Services Bureau in the then Department of National Education. She served as secretary of the Coordinating Terminology Board (COTERM) and as a member of LANGTAG (Language Task Group). In 1982 she accepted a position at the Human Sciences Research Council as chief researcher of lexicography, terminology, and computational linguistics. In 1995 she returned to the National Terminology Service and was instrumental in drafting the draft Bill dealing with the establishment of the national lexicography units. For almost two years in 2000 and 2001, she acted as manager of the terminology office, and in 2001 she was appointed manager at the Pan South African Language Board of the newly established National Lexicography Units. She conducted training in terminology principles and practice at various tertiary and government institutions. Upon retirement from PanSALB, she was the Director: Terminology and Standardisation. She is a founder member of Afrilex and served on its Board. She also served on ISO/TC 37 and SABS/ TC 37 and was Vice-President of Infoterm. She received honorary membership of Infoterm, Afrilex and Prolingua. During her career she was the recipient of the CJ Langenhoven Award (2003), an ATKV Wordwise trophy (2006) and the CL Engelbrecht Award (2009) as a member of the Taalkommissie (language commission). As a member of terminology teams, she received the Stals Award (2011), ATKV Wordwise trophies (2008, 2017, 2019, 2020) and the Dictionary Award of the South Africa Translators' Institute (2017). In 2024 she received the SAAWK Medal of Honour for Human Sciences. She is the author of two books on terminology and terminography (2017, 2019).