Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a11
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: ONTLAERING
Redakteursnota: Spesiale Ontlaering-uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe 2024
Op 8 Mei 2025 sal Afrikaans se honderdjarige status as amptelike taal van Suid-Afrika in Paarl by die Taalmonument gevier word. Om hierdie mylpaal te vier, is die Afrikaans Amptelik 100-veldtog op 8 Mei 2024 afgeskop. Deur vennootskappe aan te gaan met 'n aantal Afrikaanse organisasies en instansies, het hierdie veldtog ten doel om die ontwikkeling en welvaart van Afrikaans oor die afgelope 100 jaar te vier. Die organiseerders beskryf die veldtog as 'n viering van Afrikaans "in al haar variëteite, geure en kleure" (AFRIKAANS100, 2024). Ondanks hierdie edele bedoelings het een van die doelstellings van die veldtog én die naam van die veldtog skerp kritiek ontlok. Luidens die Afrikaans Amptelik 100-veldtog se webwerf is hulle verbind tot die groei van Afrikaans en wil hulle erkenning verleen aan die bydrae wat Afrikaans tot die breër Suid-Afrikaanse samelewing gemaak het, maar die organiseerders wil nie betrokke raak in die politiek (rondom Afrikaans) nie. Om 'n apolitiese standpunt in te neem, is egter aanduidend van 'n politieke standpunt. Daarom het paneel- en gehoorlede tydens 'n paneel-gesprek getiteld "Afrikaans 100: Vier ons of verdeel ons?" by die 2024 Suidoosterfees die veldtog gekritiseer omdat dit na hulle oordeel nie voldoende omgaan met die politiek van Afrikaans nie (Terblanche, 2024). Meer onlangs het die digter Pieter Odendaal in sy aanvaardingstoespraak van die Eugène Marais-prys vir sy bundel Ontaard (2024) die benaming van die veldtog soos volg gekritiseer (Opperman, 2024):
Om op 100 jaar te fokus, is om aan te hou om die Afrikaansskeppers van veral die 18de en 19de eeue te sideline - die generasies wat ons taal gevorm het... Die pleister van Afrikaans100 kan nie die harde werk vervang wat nodig is om witheid in Afrikaans te desentreer nie. Slegs dan kan ons geboorte gee aan 'n nuwe tong wat in almal se monde welkom voel.
Kritiek soos hierdie teen die Afrikaans Amptelik 100-veldtog omvat as't ware van die kernkwessies waarmee sedert die aanvang van die Ontlaeringinisiatief geworstel word.
In 2018 het 'n paarjong akademici wat spesialiseer in Afrikaanse letterkunde byeengekom om hul uitdagings rondom die onderrig van Afrikaanse letterkunde in veranderende en veranderde tersiêre kontekste te bespreek. Die gesprekke het gewentel rondom watter Afrikaanse literêre tekste nog vir watter tipe studente relevant is, en hoe om relevante tekste dan op sinvolle maniere aan hierdie nuwe generasie te doseer. Verskillende uitdagings en geleenthede soos 'n verouderde kanon, veranderende studentedemografie, ideologiese omwentelinge en ingrypende tegnologiese ontwikkelinge is geopper. Die gevolg van hierdie gesprek was die konseptualisering van die Ontlaeringinisiatief - sien Smit, Burger en Linde (2022) vir 'n bespreking oor die keuse van die woord "ontlaering" as titel van die projek, sowel as die uitgangspunte van die inisiatief - waarvan die eerste byeenkomste aan die einde van 2018 by die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Pretoria gehou is. Die fokus van hierdie geleenthede was op die raakpunte tussen Afrikaanse letterkunde, pedagogiek en burgerskap. 'n Aantal van die interessante en uiteenlopende bydraes wat tydens hierdie eerste geleentheid gelewer is, is in 'n spesiale uitgawe van die akademiese joernaal, Stilet (Basson & Strydom, 2019) gepubliseer.
Die plan was om vir drie jaar lank elke jaar 'n Ontlaeringbyeenkoms te hou, en in Januarie 2020 vind die tweede geleentheid op die QwaQwa-kampus van die Universiteit van die Vrystaat plaas. Tydens hierdie byeenkoms was die fokus die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde in 'n transnasionale konteks. In April 2021 vind die laaste Ontlaeringgeleentheid plaas, met 'n fokus op die geworteldheid van Afrikaans in spesifieke (letterlike en figuurlike) ruimtes, en hoe die onderrig van die Afrikaanse letterkunde hierdie spesifieke ruimtes in ag kan/moet neem en benut. Ten spyte van die plekgefokusde onderwerp moes die geleentheid as gevolg van die Covid19-pandemie ongelukkig aanlyn plaasvind. Dit het egter nie die omvang en kwaliteit van die bydraes negatief beïnvloed nie, en die geleentheid is gekenmerk deur stimulerende en vurige gesprekke oor Afrikaans, pedagogiek en geworteldheid. In 2022 verskyn 'n spesiale Ontlaeringuitgawe van die Tydskrifvir Letterkunde (Smit, Burger, & Linde, 2022) waarin bydraes rondom die QwaQwa-byeenkoms gepubliseer is.
Hierdie afdeling in die uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe bevat bydraes wat op uiteenlopende maniere met die onderwerp van die laaste Ontlaeringgeleentheid in gesprek tree.
Dié afdeling bestaan uit twee uiteenlopende artikels wat elk op 'n ander manier by die Ontlaeringprojek aansluit: 'n metanalitiese "wetenskap-van-wetenskap" beskouing van die ontlaeringprojek en 'n letterkundige artikel waarin 'n welbekende teks in die Afrikaanse kanon vanuit 'n vernuwende raamwerk ondersoek word. Dit word opgevolg deur twee boeiende onderhoude met die jong digters, Lynthia Julius en Pieter Odendaal. 'n Bondige maar ver-rykende afdeling, dus.
Burgert Senekal is welbekend vir sy navorsing waarin hy onder meer die funksionering van die Afrikaanse letterkunde as 'n netwerk bestudeer, sowel as die werking van netwerke binne die Afrikaanse letterkunde. Gegewe dat 'n laer beskou kan word as 'n spesifieke soort netwerk, en pogings tot die ontlaering van Afrikaanse letter- en taalkunde op tersiêre vlak beskou kan word as 'n proses waarin daar krities gedink word oor netwerke, is Senekal se benadering uiters gepas vir die analise van ontlaering en die netwerke wat deur die verloop van die projek gevorm is. In die eerste artikel in die Ontlaeringafdeling, "'n Netwerkwetenskap-like oorsig en verkenning van netwerke rondom die Ontlaeringprojek", gebruik hy netwerkmaatstawwe om vier netwerke te analiseer: "die kollokwiumnetwerk (wat bestaan uit rolspelers en die kollokwiums waarby hulle betrokke was), die mede-outeurskapnetwerk (wat bestaan uit mense wat bydraes tot die twee spesiale vaktydskrifuitgawes gelewer het), die verwysingsnetwerk (wat bestaan uit outeurs en die bronne waarna hulle verwys het) en die woordkovoorkomsnetwerk (wat bestaan uit woorde wat gereeld saam in opsommings van artikels in die twee spesiale vaktydskrifuitgawes voorkom)".
Senekal kom tot die gevolgtrekking dat die kollokwiumnetwerk heterogeen is en 'n lae digtheid het, met die kollokwiumorganiseerders (Earl Basson, Bibi Burger, Janien Linde en Mathilda Smit) as nodusse omdat hulle elkeen aan meer as een van die kollokwiums deelgeneem het. Daar is egter 'n groot verskeidenheid in die res van die sprekers, met deelnemers van diverse universiteite asook nie-akademiese instellings. Omdat die meeste artikels in die twee temanommers van vaktydskrifte (soos algemeen in die geesteswetenskappe) net deur een outeur geskryf is, toon die mede-outeurskapnetwerk "minimale betekenisvolle netwerkvorming". Die verwysingsnetwerk wys dat die artikels in die twee temanommers op 'n wye verskeidenheid bronne steun, met verwysings na sekere outeurs soos Walter Benjamin, Fritz Ponelis, Hein Willemse, André P Brink, Louise Viljoen, Willem Anker, Michael Chapman, Willie Burger, Edward Said en Ato Quayson wat meermale voorkom. Soos Senekal aanvoer, suggereer die verwysings na hierdie spesifieke outeurs "'n klem op postkoloniale studies (Said en Quayson), 'n insluiting van Suid-Afrikaanse eerder as slegs Afrikaanse letterkunde (Chapman en Brink), en 'n oorkoepelende fokus op temas wat verband hou met linguistiek en die rol van die letterkunde in die samelewing." Hierdie gevolgtrekking word ondersteun deur die woordkovoorkomsnetwerk, wat daarop dui dat woorde wat verband hou met die (Suid-)Afrikaanse taal- en letterkunde dikwels voorkom, asook woorde wat verband hou met postkolonialisme, identiteit en historiese narratiewe. Op gronde van die kollokwium-, verwysings- en woordkovoorkomsnetwerk kom Senekal tot die gevolgtrekking dat die netwerke gevorm deur die verskillende Ontlaeringsamekomste en -publikasies strook met die oogmerke van die Ontlaeringprojek, naamlik om vernuwende en kritiese benaderings tot die Afrikaanse taal- en letterkunde aan te wakker en om die netwerke wat daarmee verband hou, te verruim.
Die artikel wat op Senekal s'n volg, sit die Ontlaeringprojek se poging tot vernuwing voort deurdat dit 'n opwindende nuwe interpretasie van ouer Afrikaanse literatuur behels.
In "Waar spoke nog speel: 'n Queer verkenning van die affektiewe rol van die spookagtige plaasruimte in CJ Langenhoven se 'Die bouval op Wilgerdal'" analiseer Chan Croeser Langenhoven se kortverhaal uit 1924 deur middel van 'n queerlesing en met 'n fokus op die affektiewe. Croeser stel dat om iets vanuit 'n queer perspektief te lees, is om die "verborge betekenisse" in 'n teks te onthul, veral betekenisse wat in stryd is met samelewingsnorme en normatiewe interpretasies van die teks. Croeser bring die metode van queerlees in verband met Avery Gordon se herformulering van Derrida se "hauntology" - 'n navorsingsmetode wat ondersoek instel na wie of wat weggelaat word uit 'n spesifieke kunswerk, kultuurproduk of gemeenskap. Gordon se hauntologie1 bou dus ook voort op Freud se konsep van die unheimliche, sy woord vir verontrustende ervarings waarin aspekte wat die individu psigies onderdruk het na die oppervlak terugkeer. Terwyl die unheimliche verwys na 'n individuele ervaring en hauntologie na sosiale verskynsels, hou albei verband met die sogenaamde "return of the repressed", die onthutsende besef dat die normatiewe (individuele en gemeenskaplike) bestaan, berus op uitsluiting. Die onthutsendheid van hierdie ervaring verklaar Croeser se gebruik van affekteorie, wat probeer om die mens se emosies en ander subjektiewe ervarings te teoretiseer. Die affekte waaraan daar hier veral aandag gegee word, is dié wat verband hou met spookagtige ervarings.
Croeser kom tot die gevolgtrekking dat die maniere waarop die uitbeelding van die plaasruimte in "Die bouval op Wilgerdal" 'n unheimliche atmosfeer skep, kontrasteer met hoe die plaasruimte tradisioneel in die Afrikaanse literatuur, vernaamlik in die plaasroman, uitgebeeld word. Croeser argumenteer dat die verhaal in hierdie opsig beskou kan word as 'n verqueering van die tradisionele plaasroman se ideologiese onderbou, veral in soverre as wat die genre 'n spesiale verhouding tussen wit Afrikaanssprekendes en die plaas veronderstel, en die voortbestaan van hierdie verhouding deur middel van die heteroseksuele huwelik en die oordrag van die plaas aan geslag na geslag romantiseer. Waar die plaas in die tradisionele plaasroman bedreig word deur (ekonomiese, natuurlike of menslike) magte van buite, kom die bedreiging in Langenhoven se verhaal as't ware van binne af, en is dit gesetel in die heteronormatiewe en patriargale waardes van die plaasruimte.
In die twee onderhoude met onderskeidelik Lynthia Julius en Pieter Odendaal gesels die digters met Mathilda Smit oor hul eie geleefde ervarings rondom ontlaering, Afrikaans, onderrig en geworteldheid. Odendaal se insigte oor sy eie gevoelens van ontheemding op verskillende maniere, die helende potensiaal van poësie, spesifiek spoken word poetry, en interverbonden-heid met die meer-as-menslike wêreld bied interessante perspektiewe op die idees rondom ontlaering. Julius se antwoorde oor identiteit, taalvariëteite, tussengangerskap, sinkhuisbou in die Afrikaanse literêre establishment, en vroue wat nie 'n wag voor die mond het nie, is eerlik en beeldryk. Uit die twee digters se antwoorde is dit duidelik dat ontlaering op verskillende maniere uiters relevant is vir die akademiese en literêre kontekste waarin Afrikaans funksioneer.
Die ontlaering van akademiese en literêre ruimtes oor die algemeen, en spesifiek in die Afrikaanse konteks, is waarskynlik iets wat nooit as 'n afgehandelde projek beskou sal kan word nie. Die Ontlaeringspan se groetboodskap (veral aan jong en opkomende akademici en kreatiewe skrywers) is dus: ontlaer met ywer voort!
Earl Basson, Bibi Burger, Janien Linde en Tildie Smit
Gasredakteurs
November 2024
BRONNELYS
AFRIKAANS100. 2024. Meer oor Afrikaans100. https://afrikaans100.org/meer-oor-ons/. Datum van gebruik: 8 November 2024. [ Links ]
Basson, E & Strydom, W. 2019. "Redakteursnota." Stilet, 31(1 & 2):i-vi. [ Links ]
Du Toit, DJ. 2016. Virtualiteit in Dietrich Bonnhoeffer se Sanctorum Communio. Ongepubliseerde PhD-proefskrif: Universiteit van Pretoria. [ Links ]
Opperman, AJ. 2024. Viering van Afrikaans 'skep verwronge beeld', sê digter Pieter Odendaal. Netwerk24, 24 September. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/aktueel/viering-van-afrikaans-skep-verwronge-beeld-se-digter-pieter-odendaal-20240924. Datum van gebruik: 8 November 2024. [ Links ]
Smit, M, Burger, B & Linde, J. 2022. Transnasionale ontlaering / Transnational unlaagering. Tydskrif vir Letterkunde, 59(1):1-6. [ Links ]
Terblanche, S. 2024. 'Afrikaans 'n huis, maar baie kinders staan steeds buite'. Netwerk24, 3 Mei 2024. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/afrikaans-n-huis-maar-baie-kinders-staan-steeds-buite-20240503. Datum van gebruik: 8 November 2024. [ Links ]
1 Deon Johannes du Toit (2016:94) vertaal die Franse term "hantologie" as "spookologie". Hierdie vertaling vervat egter nie die oorspronklike se woordspel met "ontologie" nie.