SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue4Authority and solidarity: Forms of address and pronominal personal references in the Afrikaans Bible translation of 2020 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a14 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: ONTLAERING

     

    Lynthia Julius: Onderhoud Ontlaering 2021

     

     

    Lynthia Julius (LJ) het haar in die afgelope paar jaar gevestig as een van die vooraanstaande opkomende stemme in die Afrikaanse poësie. Sedert die publikasie van haar debuutbundel, Uit die Kroes (2020), het sy erkenning gekry vir haar eerlike en kragtige vertellings wat die Noord-Kaapse landskap, taal, en identiteit verweef. In 2023 het sy haar tweede bundel, Kinderlê, gepubliseer, wat haar digtersloopbaan verder versterk en bevestig. Hierdie e-posonderhoud dateer uit Oktober 2023 en bied 'n blik op haar skrywersreis, kreatiewe proses, en toekoms-planne as digter en akademikus. Mathilda Smit (MS) het die vrae gestel.

    MS: Lynthia, baie dankie dat ek namens die Ontlaeringspan vir jou 'n paar vrae kan vra na aanleiding van jou betrokkenheid by die laaste (aanlyn) Ontlaeringgeleentheid wat in April 2021 plaasgevind het. Jy het destyds van jou gedigte voorgelees en ons kon die kongres só suksesvol enpoëties afsluit. Dankie daarvoor. Die tema van die kongres was "Geworteldheid: Die onderrig van Afrikaans in spesifieke ruimtes." Jy word veral gekenmerk as digter vanuit die Noord-Kaap. Hoe beïnvloed jou geografiese omgewing jou taal en spesifiek jou tipe Afrikaans? En in watter mate voel jy geworteld in Afrikaans?

    LJ: Iemand het eenkeer vir my gesê my skryfwerk se krag lê in waar ek vandaan kom. Dit was lank voor ek gepubliseer het en ek sien al hoe meer hoe waar dit is. My wortels lê in die Noord-Kaap en daar kan nie 'n Noord-Kaap wees sonder Afrikaans nie.

    MS: Waarmee het jyjouself sedertdien besig gehou? Jy het genoem dat jy besig is met jou MA in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Hoe vorder jou studie en waarna kan ons uitsien wat eersdaags gepubliseer word?

    LJ: Ek het vir MA gekry, maar my ma se hoogtepunt van die dag van die gradeplegtigheid was dat my woonstel skoon was. Daar kom nog 'n bundel. Maar dis nou nog herskryf en herskryf en oor skryf. Uit die Kroes was baie makliker. Tweede kjeeners is probleme.

    MS: Hoe was jou ervaring van die skryfproses anders ná jou akademiese opleiding in kreatiewe skryf? Voel jy dat jou tweede bundel anders aangepak is? Gesels 'n bietjie meer oor hoe jou perspektief op die kreatiewe proses verander het.

    LJ: By wie die akademiese opleiding was, is vir my belangrik. Prof. Henning Pieterse en dr. Francois Smith gaan jou nie laat wegkom met swak werk nie. Jy sal twee jaar lank 'n tipe versvorm skryf tot jy hom regkry. Jy sit in daai klasse, partykeer met jou hande in jou hare en jy leer weer en weer om respek te hê vir skryf, die skryfproses en woorde. Ek skryf nie meer soos ek geskryf het voor ek my MA by Kovsies gedoen het nie.

    MS: Wat lees jy tans en watter jong skrywers maak jou opgewonde in Afrikaans? Hoe dink jy kan daar meer gedoen word om veral niestandaardvariëteite van Afrikaans in die literêre wêreld te omarm? Ek dink byvoorbeeld aan jou betrokkenheid by die Poort-slypskool. ('n Voëltjie het ook in my oor gefluister oor 'n projek by die A TKV Mag jy al iets daaroor sê?)

    LJ: Ek en my nefie lees tans Marius se merkwaardige medisyne deur Roald Dahl. Hy is graad een en het die jaar leer lees. Dis magic om te sien hoe die ou sit klank tot hy die woord kan lees. Alle jong skrywers maak my opgewonde. Ek dink tog Jerome Coetzee is op die oomblik "de life of de party" in Afrikaans. Ons kan begin deur keurders te kry wat niestandaardvariëteite praat of verstaan. Dit sal 'n begin wees. Yes, daar is 'n projek by ATKV, maar die mense moet Taalgenoot lees om te sien oor wat dit gaan.

    MS: Die omgewing waarin jy grootgeword het is die Noord-Kaap. Tot watter mate het die omgewing en die spesifieke Noord-Kaapse Afrikaans jou skryfwerk beïnvloed? En dink jy dat mens jou menswees en taalidentiteit met mekaar kan skei of is dit onlosmaaklik verbind?

    LJ: Ek kan nie ek wees sonder Gariep-Afrikaans nie. Dis onlosmaaklik deel van my. Dis wat die mense wat ek die liefste het, praat. My ma sê nou die dag vir my die mense by die kliniek in Namakwaland sê vir haar die dag wat die mense SASSA pay is "Boesmankrismis". 'n Kuns op sy eie.

    MS: Jy skryf ook krities oor jou en jou mense se geskiedenis. Die Nama-invloed word ook op talige vlak in jou werk bemerk. Alhoewel jy nie wegskram vir kritiek vanuit die dekoloniserende Weste nie, voel jy dat daar 'n balans is in die manier waarop jyjouself in die wêreld oriënteer? Dus as tipe tussenganger met Westersefilosofiese gedagtes op Afrika-bodem?

    LJ: Jy vra moeilike vrae. Ek voel daar moet 'n balans wees. Ek dink byvoorbeeld nou aan die gedig "Die intellektualisme van goed" in Uit die Kroes. Ek het in die Filosofie-klas gesit en ek was so homesick vir die Noord-Kaap en haar mense. Toe sit ek juis as tussenganger in daai klas, maar die werk wat gekom het was oor die provinsie wat ek lief het.

    MS: Wat dink jy oor die posisie van Afrikaans? Hoe sien jy die toekoms van die taal en waar dink jy kan die Afrikaanse literêre establishment verder die sogenaamde "laer" deurbreek? Waar dink jy is nog werk te verrig? Voel jyjouself tuis in die akademie? En dan spesifiek die Afrikaanse letterkunde?

    LJ: Ek weet definitief dat Afrikaans nêrens gaan nie. In 'n Beyoncè-liedjie sing sy: "The only way to go is up" en dis die geval met Afrikaans. Ek kom terug na die uitgewersproses en keurders. Ons moet plek maak vir alle variëteite van Afrikaans. As DJ Opperman dig "oupa het 'n fark gery" da moet ek loop opsoek wat dit beteken, maar as ek in Gariep-Afrikaans 'n ding skryf da word daar 'n verduideliking verwag sodat die leser moet verstaan.

    Die akademie is 'n vreemde plek. Da voel ek tuis, da voel ek nie tuis nie. Ek is lief vir Afrikaanse letterkunde. Ek het self sinke loop haal en 'n sinkhuis vir my in haar opgesit.

    MS: Jou debuutwerk Uit die Kroes (2020) het verskeie kortlyste van bekronings / literêre pryse behaal. Wat dink jy van literêre pryse en hoe belangrik is dit vir jong digters om só erkennning te ontvang? Dink jy daar is waarde in hierdie pryse? Of moet mens nie probeer om subjektiewe kuns só te beoordeel nie?

    LJ: Die tjeld is altyd welkom. My gunsteling kleur is tjeld, maar as jy skryf vir pryse en erkenning gaan jy lelik tweede kom. Ek het by die slimste man wat ek ken, geleer: "'n Prys is so goed soos daai komitee wat dit daai dag aan jou toeken."

    MS: Ervaar jy ná die sukses van Uit die kroes (2020) druk met die skryfvan jou tweede bundel? Is daar spesifiek temas wat jy bly oopskryf? Of voel jy dat die volgende bundel heeltemal wegbreek van jou debuut wat tematiek aanbetref? Het jy dalk al 'n titel wat jy met ons kan deel?

    LJ: Ek ervaar nou nog druk met die tweede bundel. Ek sien nooit die temas in my werk self raak nie. Tog weet ek daar is nog steeds baie Noord-Kaap. Ek dink die tweede bundel is baie anders as Uit die Kroes. Maar wat weet ek nou? Elke ma dink sy donkie is 'n resiesperd.

    MS: Jou werk bevat verskeie teoretiese uitgangspunte, soos die Feminisme, dekolonisering en 'n identiteitsvorming, sowel as die problematisering van die geskiedenis.

    Tot watter mate het die spesialiteitsvelde van ander vakrigtings jou digwerk beïnvloed? Ek dink byvoorbeeld aan jou nagraadse Filosofie-opleiding. Is 'n teoretiese "raamwerk" iets wat jy in gedagte hou tydens kreatiewe skryf? Ofword hierdie "rame" eerder later "toevallig" toegepas?

    LJ: Ek dink dit wat ek lees en leer het 'n invloed op my werk, maar ek hou nie 'n teoretiese raamwerk wanneer ek kreatief skryf nie. Daai rame word toevallig toegepas wanneer die slimmes jou werk lees en die teoretiese uitgangspunte noem.

    MS: Jou werk bevat sterk feministiese strekkings en die interseksionaliteit waar geslag en velkleur met mekaar verbind word. Vertel 'n bietjie van die sterk vroue wat jou grootgemaak het en die sterk vroue wat jou vandag nog inspireer.

    LJ: Die sterk vrouens wat my grootgemaak het, het nie wagte voor hulle monde nie. Ek dink dis iets gorgeous van anties. Hoe ouer hulle word, hoe minder filters het hulle en dis iets waarna ek uitsien as ek ouer word. Ek is met eerlikheid grootgemaak. Jy sê wat jy dink en jy bak nie mooi broodjies nie. Jy sal hoor jy het 'n "groot gesig soos 'n dansvloer" of 'n "groot kont soos 'n wasklip" en jy kan niks daaraan doen nie. Eendag as ek groot is, gaan ek ook so 'n eerlikheid in my het.

    MS: Antjie Krog se digterlike invloed word ook duidelik waargeneem. Ek dink maar byvoorbeeld aan jou gedig "Kleur kom tog alleen" wat inspeel op Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000) .... Het jy enige ander vroulike digterlike ghoeroes?

    LJ: Kyk, daar is niemand soos Krog (in Afrikaans) nie en in Engels is Sylvia Plath my ster. Maar ek lees so breed soos wat ek kan. Ek kom weer gisteraand op "Die moeder" van Elisabeth Eybers af, jirre, daai vrou het gedig.

    MS: Jy het onlangs saam met die digter/aktrise/spoken word kunstenaar Véronique Jephtas aan 'n drama gewerk, "My kroon se krank". Die poësie (uit haar debuutbundel Soe rond ommie bos (2021) het as wegspringplek gewerk om die drie vroulike karakters treffend uit te beeld. Tinnarie van Wyk Loots het die regie behartig. Dit het speeltyd by onder andere die Vrystaat Kunstefees gehad en is nou eersdaags by die Woordfees te sien. Vertel 'n bietjie van die proses in die verwerking van gedigte na die verhoog. Waarop het jy gefokus en wat was spesifiek uitdagings?

    Is daar enige ander sulke tipeprojekte op die horison?

    LJ: Veronique het vir my 'n draft gestuur en toe bou ek op dit. Dis iets heeltemal anders om jou woorde so lewendig op 'n verhoog te sien. Veronique het in die Wes-Kaap gesit en ek in die Noord-Kaap, maar ons het geweet waantoe ons op pad was. Dit was bietjie intimiderend om nou 'n drama aan te vat wat jy nog nooit probeer skryf het nie, maar ek dink ons het mekaar vertrou en ons het My kroon se krank klaar geskryf voor ons mekaar in lewende lywe ontmoet het.

    Daar is nie nou eers nog sulke tipe projekte op die horison nie.

    MS: Die temas van vrouwees, geslagsgebaseerde geweld en bruin identiteit staan voorop in beide jou en Veronique Jepthas se werk.

    Tot watter mate leen julle gedigte hulle vir die verhoog? Dink jy daar is iets te sê vir die tipe gedigte wat op 'n podium kan werk?

    LJ: Ek het nog nooit gedink my gedigte sal werk vir die podium nie, maar dis lekker om by jouself te kon steel en dit in die drama te sit. Drama werk soveel anders as alleen sit skryf en 'n boek publiseer. Ek dink die gedigte het hulle geleen, van hulle het geweet daar is belangrike werk om gedoen te word.

    MS: Veronique word beskryf as 'n "spoken word poet". Eien jy jouself ook as podiumdigter? Of skryf jy glad nie met die verhoog in gedagte nie?

    LJ: Ek sien nie myself as 'n podiumdigter nie. Ek skryf glad nie met die verhoog in gedagte nie. Eintlik is ek baie skaam en bang vir 'n verhoog.

    MS: By die onlangse ALV-kongres in Gqeberha (Augustus 2023) het daar weer vrae rondom identiteit, taalvariëteit en velkleur opgekom. Daar word toe weer opgemerk dat jy op jou Facebook-profiel 'nplakkaat ophou wat lees: "Ek is nie 'n bruin digter nie".

    Dalk kan jy in jou eie woorde gesels oor hoekom hierdie stelling steeds nodig is en hoekom jy besluit om so op 'n publieke platform grense (of laers) te deurbreek?

    LJ: Ek praat nie meer oor my profile pic op Facebook nie.

    MS: Lynthia, is jy bereid om 'n nuwe gedig hier met ons te deel? Net as lusmakertjie vir jou tweede bundel waarna ons so uitsien. Baie dankie!

    Iemand het eenkeer vir my suster gesê: "Ek want, maar ek kan nie" en ek sê ook nou so. Die gedigte gaan nou redigeerder toe en ek weet hulle gaan anders lyk as ons klaar is.

    Baie dankie vir die geleentheid!

     

     

     

    Lynthia Julius is gehore in Springbok. Sy word groot in Kimberley en behaal haar BA (hons) in Filosofie en MA in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy ontvang die Jan Rabie-Marjorie Wallace-skrywersbeurs vir 2024. Haar debuutbundel Uit die Kroes (2020) word opgevolg deur Kinderlê (2024).