SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue4Problems with and after the direct translation author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.64 n.4 Pretoria Dec. 2024

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2024/v64n4a15 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS / RESEARCH AND REVIEW ARTICLES: ONTLAERING

     

    Pieter Odendaal: Onderhoud Ontlaering 2021

     

     

    In Oktober 2023 het ek, Mathilda Smit (MS) die geleentheid gehad om met Pieter Odendaal (PO) te gesels na aanleiding van sy betrokkenheid by die laaste Ontlaeringkongres. Sedertdien het hy nog groter naam gemaak met die sukses van sy tweede digbundel, Ontaard wat in 2024 die Eugène Maraisprys en die NIHSS Toekenning vir Poësie ontvang het. Boonop is sy toneelstuk Droomwerk genomineer vir die Hertzogprys vir Drama in 2024.

    MS: Pieter, dit is vir my 'n groot voorreg om met jou hierdie onderhoud te voer na aanleiding van jou betrokkenheid by die laaste (aanlyn) Ontlaering-geleentheid in April 2021. Jy het ons destyds nog vanuit Peru met jou voorlesing vermaak.

    Die tema van die kongres was "Geworteldheid: die onderrig van Afrikaans in spesifieke ruimtes". Op watter manier voel jy "geworteld" in Afrikaans? En hoe (indien enigsins) beïnvloed die geografiese plek waar jy jouself bevind (Suid-Afrika, Australië, Peru) jou idee van die taal?

    PO: Ek het nog altyd 'n gekompliseerde verhouding met Afrikaans gehad. Dis die taal waarin ek droom en bid, en ook die taal wat gebruik is om mense sistematies uit te sluit en te onderdruk. As ek elders as Suid-Afrika is, is daar 'n vreeslike gemis na Afrikaans, en in Suid-Afrika dikwels 'n weersin in hoe sommige Afrikaanssprekendes hulself in hierdie gedeelde land gedra. Maar ek kan en wil dit nie prysgee nie, ek voel ontwortel daarsonder. Sommige stories moet juis in Afrikaans geskryf word, om Afrikaans óóp en anders te skryf, om te help om die diep wonde te versorg.

    MS: Dink jy dat 'n konsep soos "ontlaering" steeds in die Suid-Afrikaanse, Afrikaanse taalgemeenskap ondersoek behoort te word? Op watter maniere dink jy kan Afrikaanse letterkundeonderrig meer inklusief wees en dus wegbreek uit 'n laer? (Veral in ag genome die demografie van meeste Afrikaans departemente?

    PO: Ongetwyfeld, ja. Daar is nog baie werk wat voorlê, en die gevaar van tokenistiese insluiting bly groei. Die Afrikaans 100-veldtog is 'n relevante voorbeeld. Die sistemiese transformasie van die taal, die manier hoe dit op alle opvoedkundige vlakke onderrig word, die boeke wat gepubliseer word, tekste wat opgevoer en verfilm word, moet alles onder die loep kom. Ek dink ook die idee van "laertrek" strek verder as bloot die taal, dit is 'n kulturele en geografiese werklikheid oral in ons land (waar bevoorregtes hulself agter estate-hekke isoleer). As ons 'n toekoms in hierdie land wil verbeel, moet dit saam met mense wees wat nie dieselfde tale as ons praat nie, nie dieselfde agtergronde as ons deel nie.

    Op 'n opvoedkundige vlak is 'n eerste stap om ons vir die herstandaardisering van Afrikaans te beywer en die uitdrukking van verskeie soorte Afrikaans in die klaskamer aan te moedig, insluitende die behandeling van tekste vanuit verskillende streke wat verskillende variante verteenwoordig. Om weg te beweeg van 'n strewe na sg. "suiwer Afrikaans" - ek sien dit op sosiale media wanneer veral die ouer garde dit bekla as Engelse woorde, of uitdrukkings wat volgens hulle nie in die HAT hoort nie, in die pers en op TV gebruik word. Ons moet wegbeweeg van 'n impuls na behoudendheid. Afrikaans gaan eers floreer as ons die klipmure wat so sorgvuldig en sistematies daarrondom opgebou is, help afbreek.

    MS: Plek, landskap en grond figureer sterk in jou werk. Op watter plekke het jy jou sedertdien bevind en hoe het jou nomadiese leefstyl tot jou werk bygedra? Tydens die Covid-pandemie het jy onder andere in Australië tyd spandeer en ook teruggekeer na Bloemfontein.

    PO: Ek was in Australië om aan my PhD te werk, en het eintlik net vinnig kom kuier in Suid-Afrika toe die lockdowns posgevat het. Daarna het ek teruggetrek na my ouerhuis in Bloemfontein en ou seer daar gaan gesond maak, geleer om in die toenemend-onsekere hede te oorleef. Toe die grense weer oopgaan, het ek my geliefde in Peru gaan join en in die Andes gebergtes vir die virus weggekruip. Daar het ek heelwat aan my nuwe bundel geskryf, en uiteindelik in April 2021 teruggetrek Suid-Afrika toe om 'n post-doc in Creative Writing by die Universiteit tans bekend as Rhodes te voltooi. Daarna is ek saam met my man Potch toe om Creative Writing by die NWU te doseer.

    Die alewige rondtrek het my baie laat nadink oor die idee van ontheemding, en hoe dit al hoe moeiliker raak om 'n plek van refuge in ons verbrokkelende wêreld te vind. Ek het ook geleer om dankbaar te wees vir die eerlikheid waarmee ons dikwels in Suid-Afrika oor ras kan gesels, en die harde werk wat ons genoop word om te doen om 'n beter wêreld vir onsself te verbeel.

    MS: Jy het as student aan verskeie vertaalprojekte gewerk. Ek dink byvoorbeeld aan "Many tongues" en die InZync Poetry Projek in Kayamandi. Hoe belangrik is die vertaling van gedigte op sosiokulturele vlak spesifiek binne Suid-Afrika?

    Hoe ervaar jy dit om as vertaler tussen tale te beweeg? Wat is jou ervaring met van die ander amptelike landstale soos Sesotho en isiXhosa? En wat dink jy van die Afrikaanse letterkundelandskap moet oorgedra word na ander letterkundeliefhebbers in Suid-Afrika?

    PO: Vertaling is 'n reis na die ander, 'n ontmoeting, en 'n saamstap om dit wat vreemd is verstaanbaar te maak. Dit is daarom vir my van grondige belang om dit as filosofie in my lewe uit te leef, en in my werk gestalte te laat vind. My Sesotho en isiXhosa is beperk, maar ek is bevoorreg gewees om 'n sakvol sinne op te tel in my grootwordjare in Bloemfontein en my tyd in Kayamandi en Makhanda. Om mense in hul eie taal te kan groet, om hulle te vra hoe dit gaan, om hul name te vra én te onthou, is 'n eerste stap om medemenslikheid te beoefen. Gryp die voorreg om ander tale aan te leer heelhartig aan - so verbreed jou wêreld en verkry jou toegang tot ander s'n.

    MS: Jou vertaling van die Portugese skrywer Gonçalo M. Tavares se "Jerusalem" het ook in hierdie jaar verskyn. Is dit die eerste keer wat jy met Portugees gewerk het? Ek lei af dat jou kennis van Spaans sekerlik gehelp het? Watter uitdagings het jy gedurende die vertaalproses ervaar? En wat was veral moeilik om na Afrikaans te transponeer? (Nie net op talige-, maar ook op sosiokulture vlak).

    PO: Dit is my eerste verkenning van Portugees, en dit help dat Spaans en Portugees niggies is. Dat my man vlot Portugees kan praat, is ook nie te versmaai nie. Dit is juis deur hom (en sy vertaalagentskap Chiri Uchu TXT) wat die geleentheid om Tavares in Afrikaans te vertaal by my kom aanklop het. Die tradisie van Europese romans is baie anders as Afrikaanse literatuur. Dit was daarom moeilik om die oorspronklike toonaard van die roman te behou, én dit relatable vir Afrikaanse gehore te maak. Tavares is ook lief vir baie lang, ritmiese sinne, wat nie altyd so lekker in Afrikaans gewerk het nie. ("Kom tot die punt!" het ek my verbeelde lesers hoor sê.) Maar ek hoop dat ek 'n balans tussen getrouheid aan die teks en verstaanbaarheid in Afrikaans kon vind. Dis 'n belangrike boek wat die oorsprong en trajekte van boosheid in die wêreld, en die maniere waarop dit in ons daaglikse lewens figureer, ondersoek. Veral in die huidige konteks van globale konflik op verskeie terreine, is dit noodsaaklik om na te dink oor hoekom ons sulke verskriklike dinge aan mekaar bly doen, en waarheen dit ons gaan lei.

    MS: Hoe het die voltooiing van jou Doktorale Proefskrif aan die Queensland Universiteit van Tegnologie in Brisbane, Australië met navorsingsfokus vanperformatiwiteit met 'n ekologiese fokus jou eie skryfwerk beïnvloed? Watter insigte vanuit jou navorsing kan jy hier kortliks met ons deel?

    PO: As deel van die PhD het ek onder andere met 'n groep digters in Kaapstad 'n reeks werkswinkels oor ons veranderende verhouding met water georganiseer om uiteindelik 'n spoken word production genaamd "What the Water Remembers" op die planke te bring. Toni Stuart, Lwanda Sindaphi, Afeefa Omar en ek het onder leiding van Jason Jacobs die produksie by Open Book Festival gedebuteer, waarna 'n speelvlak by Woordfees gevolg het. Die samewerkingsproses was deeply satisfying en dit was 'n voorreg om langs waterliggame in die stad oor water te skryf.

    Ek het geleer hoe spoken word gebruik kan word om die meer-as-menslike wêreld te personify en om as/namens/met water te praat. Die verbreding van tematiek en perspektief as jy met verskeie ander digters en rolspelers werk, eerder as om op jou eie voort te ploeter, is een van die belangrikste insigte wat ek opgedoen het - om saam werk te maak oor ons troebel verhouding met die meer-as-menslike wêreld kan ons help om daardie verhoudings, en ook ons verhoudings met mekaar en die geskiedenis, beter te verstaan. Die emosionele intensiteit van performance is ook 'n belangrike hulpmiddel om mense te laat voel-dink oor die web van verhoudings waarin ons onsself bevind.

    MS: Ek dink byvoorbeeld aan jou gedig "Stook" en die verwoestende veldbrande wat jy eerstehands in Lismore Australië beleef het. Kon jy die ekologiese krisis met behulp van gedigte skryf ten minste tydelik in jou eie kop besweer?

    PO: Beswering is 'n bridge too far, dink ek. Daarvoor het ons meer as woorde nodig. Maar dit het my gehelp om my eerstehandse ervarings van die ekologiese krisis te dokumenteer, en die verlies, versugting en afgryse van die grootskaalse verwoesting van ekosisteme te verwoord, om die gevoel van ontheemding so presies moontlik te beskryf.

    MS: Pieter, jy word ook by uitstek as 'n performance of"podium" digter gereken. Tot in watter mate verleen die "podium" anderperspektiewe en moontlikhede vir kreatiwiteit?

    Sien jy jouself as "performance" of "spoken word" digter? Of verkies jy om nie so in sulke "boksies" te dink nie? Is daar volgens jou beperkings in sulke tipe etikettering?

    PO: Die term "performance poet" is vir my problematies, veral gegewe die geskiedenis van die term en hoe Suid-Afrikaanse digters dit byna universeel teëstaan. Sien byvoorbeeld Raphael d'Abdon se 2018 artikel hieroor in English Studies in Africa. Ek verkies die term "spoken word" poet, alhoewel die teenoorstelling van hierdie soort poësie met "geskrewe" digkuns byna altyd 'n magsongelykheid impliseer, 'n bevoorregting van die geskrewe bo die gesproke woord, so asof spoken word 'n ander soort poësie is wat vergeefs probeer om die standaarde van regte, egte "Poësie" na te streef. Die bevoorregting van geskrewe poësie in Suid-Afrika verwys ook na 'n dieper tweespalt tussen geskrewe en oral letterkunde in die land, en 'n wydverspreide onkunde oor die groot mate waartoe die geskiedenis van imbongi in ons land kontemporêre vorme van poëtiese uitdrukking beïnvloed.

    Daar is meer wat hierdie vorme van poësie deel as wat hulle van mekaar skei - onder andere 'n fokus op die musikaliteit en inkantatiewe moontlikhede van poësie. Desnieteenstaande is daar natuurlik die teenwoordigheid van die gehoor as jy poësie opvoer/voorlees. Die ritueel om saam om gedigte te vergader, maak weer van poësie die gemeenskaplike praktyk wat dit vir die grootste deel van die geskiedenis was. Om woorde te klink en beelde te verklank in die teenwoordigheid van ander skep 'n communion tussen digter en toehoorder wat jy nie op die bladsy kan voltrek nie. Die mag van die ritueel, van saam in real time op reis deur 'n gedig gaan, verteenwoordig vir my een van die kragtigste aspekte van spoken word.

    MS: Jy is besig met 'n projek waar musiek gekomponeer en geskep word as agtergrond vir jou gedigte. Hierdie album bied 'n ander platform vir jou gedigte.

    Verduidelik 'n bietjie hoe jou proses van toonsetting/ komposisie werk.

    Jy is 'n kranige pianis en het klassike musiekopleiding. Tot in watter mate het dit jou voorberei vir projekte waar jou gedigte deur middel van musiek groter strekwydte geniet?

    PO: Ek begin met die gedigte as basis en probeer uitvis watter van hulle ritmies of sonies hulself tot toonsetting leen. Daarna volg 'n basiese akkoordprogressie of beat, waarna ek gewoonlik 'n eerste draft van die vers opneem. As die gedig eers musikaal pas, komponeer ek verder elemente daarrondom. Vir van die verse het ons ook session musicians ingekry om saam op te neem, en ek het ook met 'n producer, DJ Taxman, uit Bloemfontein saamgewerk. Die afgelope paar maande het ek ook kragte saamgespan met die musikante Odwa Bongo en Luke Verrezen om live recordings van sommige treks by Sonic Nursery in Kaapstad op te neem.

    Ek dink my musikale agtergrond het oor die algemeen 'n groot invloed op die klankland-skap van my verse, en spesifiek ook hul ritmiese samestelling. Die sonoriteit van my verse staan dikwels voorop, en bepaal dikwels die woorde en beelde wat ek besluit om te gebruik. So uit die staanspoor is my verse dikwels musikaal ingestel, wat die transponering na musiek vergemaklik.

    MS: Jy het al lankal 'n droom gehad om by Poetry Africa in Durban op te tree. Tot in watter mate is dit belangrik dat jy as Afrikaanssprekende digter ook 'n podiumgeleentheid by die grootste poësiefees in Suid-Afrika kry?

    Watter gedagtes is volgens jou belangrik om te deel by hierdie fees? En tot in watter mate vind jy jouself verantwoordelik as verteenwoordiger van 'n spraakgemeenskap, indien wel?

    PO: Dit sou naïef wees om te dink dat ek die gehoor met Afrikaans kan stoomroller. As ek voor multitalige gehore optree, kies ek my set só om die Afrikaans met Engelse verse af te wissel. As jy eers die gehoor se harte kan ontsluit in 'n taal wat hulle verstaan, kan jy daarna gemaklik veeltalig met hulle verkeer. Ek sien myself nie as verteenwoordiger van 'n spraakgemeenskap nie, maar ek is ook bewus van my positionality as 'n wit Afrikaans queer digter en skroom nie om dit te belig nie.

    Ek is oorstelp gewees deur die gehoor se ontvangs van my werk by Poetry Africa, en ek jeuk nou om ook in Engels te publiseer, want ek besef toenemend ek praat nie net met Afrikaanse mense in my werk nie.

    MS: In jou nuwer werk word daar sterk besin oor die troebel toekoms van die mens se bestaan op die planeet. Die tipe ontaarding/ontheemding wat moet plaasvind skep 'n triestige apokaliptiese beeld ten opsigte van die mens en sy verhouding met die omgewing.

    Tot in watter mate ervaar jy hierdie finaliteit met gelatenheid? En dink jy dat skryf op 'n manier troos bied vir die onvermydelike?

    PO: Ek dink soms dit sou makliker wees om die verval van ekosisteme en die gepaardgaande sosiale, politieke en ekonomiese krisisse te verwerk as dit alles op een slag kon gebeur, as 'n globale vloed op pad was en die einde afgehandel was. Maar elke dag is daar klein eindes, klein apokalipse, om ons - die aftakeling van biodiversiteit en 'n stabiele klimaat is uitgestrek en speel oor dekades af. Ons rou reeds, en weet dat erger dinge op pad is. Dalk het rou 'n nuwe manier van leef geword.

    Ek dink nie ek het al by troos uitgekom nie, en ek weet ook nie waar vertroosting te vinde is nie. Want nêrens kan jy wegbreek van die verwoesting nie - orals is die grond, die water, die lug reeds deurtrek met afvalstowwe wat ons ook van binne af siek maak. Ek probeer eerder 'n manier vind om dit alles te witness, om die simfonie van emosies wat ons teenoor die meer-as-menslike wêreld ervaar te verwoord, om die voortslepende ontaarding in koolstof te skets.

    MS: Jou drama Droomwerk is in 2021 met die ATKV woordveertjie-trofee vir die beste nuutgeskepte Afrikaanse teks bekroon. Dit het ook na Teksmark speeltyd by die Grahamstown National Arts Festival in Makhanda gehad, waarna speelvlakke by Aardklop, Woordfees, Suidoosterfees en die Homecoming Centre in Kaapstad gevolg het. Baie geluk met die mooi publikasie.

    Vertel 'n bietjie meer oor die proses van konsep tot produksie. Droomwerk (2023) raak moeilike en ongemaklike onderwerpe aan rondom jou voorsate en die rolle en bydraes in jou eie lewe en die groter sosio-politieke klimaat. Verantwoordbaarheid staan sterk voorop. Verduidelik hoe jy in die teks probeer sin maak rondom die verbintenis met jou voormense en hoe jy omgaan met hierdie moeilike verledes.

    PO: Ek en Droomwerk stap nou al 'n lang pad saam. Ek het in 2018 vir die eerste keer my oupa se senaatstoesprake tydens apartheid onder die provinsiale parlement gaan opdiep, en vir lank met die gefotostateerde woorde van my naamgenoot rondgereis voordat ek geweet het wat om daarmee te doen. Ek het ook gesukkel met die inherente ongelykheid in die storie van die twee Odendaal-voorouers wat ek wou vertel. Ek het honderde bladsye van Oupa Piet se woorde gehad, maar kon slegs enkele details oor Diana van Madagaskar opspoor, wat in die laat 1600's as 'n slavin in die Kaap aangeland het en geboorte gegee het aan Susanna Biebouw, wat die eerste Odendaal in Suid-Afrika se eerste vrou was.

    Toe ek uiteindelik begin skryf, het ek dit ritualisties benader. Ek het 'n reinigingseremonie by 'n sangoma deurgemaak, gevas en vir drie weke daagliks elke drie ure gepahla (my voormense opgeroep) om spesifiek vir Diana te vra dat ek nie haar storie sal vervuil in die verbeelding daarvan nie. Toe het die teks makliker gekom.

    My eie gestoei met my geestesgesondheid en die uiteindelike konsultasies met sangomas vorm die basis vir die manier waarop ek die voorouerlike trauma in my familie verwerk het en uiteindelik besef het waar die wortels van my depressie en angs lê.

    MS: In watter opsig is die skryf van 'n dramateks vir jou anders as die skryf van 'n gedig?

    PO: Dit verg meer volgehoue dissipline om 'n dramateks te skryf, en natuurlik moet jy karakters verbeel wat op hul eie bene kan staan en relatable is. Dis nie net meer 'n ander ek wat aan die woord is nie - ek plaas woorde in die monde van ander lewende wesens. Maar ek dink daar is ook interessante ooreenkomste tussen die skryf van gedigte en dramatekste wat woord-ekonomie betref. Alles wat oortollig is, word gestroop in 'n gedig; so is dit ook met dialoog in 'n dramateks. En as jy nie realistiese drama skryf nie, is daar ook meer ruimte vir beeldspraak en om met simboliek op die verhoog te werk.

    Een groot verskil is natuurlik wat die geselskap met die teks op die vloer tydens rehearsals doen. Ek het uit die staanspoor vir die regisseurs (Kanya Viljoen, ondersteun deur Lwanda Sindaphi) die vryheid gegee om te knip en plak soos hulle goeddink met die teks, omdat hulle baie meer ervaring as ek het van wat op 'n verhoog werk. Dit was wel 'n skok toe ek die geredigeerde weergawe van die teks uiteindelik onder oë kry - om die rooi strepe deur groot stukke dialoog te verwerk! Maar dit was bloot my kwesbare ego wat aan die woord was, en ek is diep dankbaar vir die werk wat die span gedoen het om die toneelstuk in sy uiteindelike vorm gestalte te gee.

    MS: 'n Konneksie met voormense lei nog 'n tema in, naamlik 'n tipe spiritualiteit of singewing van die mens se bestaan ten opsigte van 'n groter bewuswording met 'n opperwese.

    Hoe verstaan jy die mens seposisie ten opsigte van die kosmos, groter ideaal of"godheid"? Daar word verskeie spirituele tradisies in jou werk betrek. Ek dink byvoorbeeld aan die "Pachamama"/ Moeder Aarde konsep uit Peru, asook verwysings na inheemse tradisies en ook natuurlik die Christelike agtergrond waarin jy gebore is.

    Hoe vermeng/ maak jy sin van al hierdie (somtyds uiteenlopende) sienings?

    Dink jy dat hierdie spiritualistiese collage maar 'n teken van ons tyd is in ag geneem die transnasionale kultuuruitruil as gevolg van ons verhouding met tegnologie en die beskikbaarheid van inligting?

    PO: Ons elkeen stap 'n diep persoonlike pad om sin te maak van die Onnoembare, die Onkenbare. Ek het grootgeword in die kerk, maar dikwels ontuis daar gevoel a.g.v. my seksualiteit en die dogma wat ons dikwels weerhou om moeilike vrae te vra. Daarna het ek georganiseerde godsdiens verlaat, en jare lank geswerf, selfs aan die geveinsde sekerheid van die materialisme en kousaliteit van die wetenskap probeer klou. Maar die wereld het grys gewerd, en my eerste reis na Peru het my 'n woordeskat gegee om my liefde vir die natuur in geestelike terme te verwoord, 'n soort panteïsme en ritualistiese begronding in alles wat leef. My ondersoek na my voormense en om hulle as voortdurende agente in my lewe te herken, is aangevuur deur my vriendskappe met sangomas en die gedeelde verering van plant-medisyne wat Peruaanse en Suid-Afirkaanse inheemse tradisies deel.

    Ek probeer om in die algemeen nie voorskriftelik te wees nie, veral nie as dit kom by mense se geestelike lewens nie. Ek weet net wat vir my gehelp het om sin te maak van die veelvuldige verhoudings wat my aan die wereld en die mense om en in my bind. Sinkretisme is nie 'n nuwe ding nie - wêreldwyd is daar voorbeelde (veral in die globale Suide) van hoe mense uiteenlopende spirituele tradisies met mekaar vermeng. Ons grootste krag - en miskien ook ons ondergang - is dat ons die vermoë besit om verstaanskemas van die wêreld saam te weef wat nie aan enige wetenskaplike kriterium van toetsbaarheid hoef te voldoen nie.

    Maar ons bly geestelike wesens, en die Onsigbare bly soos 'n Golf oor ons lewens breek. Ek het vrede gevind in 'n laslappie-landskap van geestelike praktyke wat my help om gesond te bly.

    MS: In 'n resensie deur Andries Visagie word jy as "by uitstek die digterlike ghoeroe van die Antroposeen" bestempel. Talle van jou gedigte het 'n ekokritiese ingesteldheid en ondersoek die mens se vernietigende uitwerking op die omgewing en hoe ons eintlik onlosmaaklik verbind is met die natuur. Hoe dink jy (ook na aanleiding van jou navorsing in jou doktorale proefskrif) kan poësie gebruik word om 'n groter ekokritiese bewustheid te kweek? Of maak ons die verkeerde afleiding dat jy eintlik net besig is om te besin oor die mens se verhouding t.o.v die natuur, sonder dat bewaringskwessies/herwinning/die "groen" leefstyl die eerste oogmerk is?

    PO: Ek dink die herbesinning van ons verhouding met die meer-as-menslike wêreld is 'n voorvereiste om anders daarmee om te gaan - die dink en voel en doen staan nie geïsoleerd van mekaar nie. Maar ek wil nie didakties oorkom in my gedigte nie - dis daar om uit te daag, nie aan te kla nie.

    Een van die wondere van gedigte is dat dit ons help om onsigbare (skynbaar-uiteenlopende) verbande tussen dinge te belig. Dit bied 'n reikwydte wat ander literêre vorme nie noodwendig het nie, en om hierdie interconnectedness te kan besing is een van die groot voorregte van skryf vir my.

    MS: Geestesgesondheid en kweer ("queer") identiteit is temas wat in Ontaard (2023) aandag geniet. Jou eie kinderdae en persoonlike ervarings word gebruik as wegspringplek vir verskeie gedigte. Ervaar jy 'n tipe verantwoordelikheid as verteenwoordiger van die LGBTQI+ gemeenskap en die manier hoe die Afrikaanse kultuur hiermee omgaan?

    PO: Weereens, ek wil nie graag 'n posterchild vir enigiets wees nie. Ek kan bloot oor my eie ervarings skryf en my struggles met ontheemding in 'n heteronormatiewe samelewing ondersoek. In Ontaard kon ek vir die eerste keer dieper delf om die wortels van hierdie ontheemding te verken - wanneer en waar ek al ontuis gevoel het. Maar dis nie noodwendig 'n call to arms nie. As dit met iemand anders kan resoneer, as mense iets kan voel, is ek dankbaar.

    MS: Jy doseer tans Kreatiewe Skryfkunde aan die NWU. Watter uitdagings ervaar jy in hierdie rol as dosent? Is daar enige lekker kreatiewe projekte waarvan jy hier iets kan vertel?

    PO: Een van die grootste uitdagings is om vir voorgraadse studente klas te gee wat nie noodwendig 'n passie vir skryf het nie. Voor ek begin doseer het, het ek heelwat werkswinkels aangebied waar die deelnemers vrywillig daar was en almal wóú skryf. 'n Mens kan nie 'n passie vir 'n kunsvorm kweek as die student nie 'n liefde daarvoor het nie. Ten spyte hiervan, is ek tog dankbaar vir die enkele studente wat deurgaans werk en my terugvoer ter harte neem. Dis vervullend om aan die einde van die semester hierdie studente se vordering te sien.

    Die BUA! Poetry inisiatief het ek in Augustus 2022 met die hulp van Allison-Claire Hoskins begin om spoken word by die NWU te bevorder. Intussen het ons slams op al drie kampusse gereël - Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark. Ons het onlangs ook die BUA! Poetry Anthology gepubliseer - 'n veeltalige versameling van 33 studente se gedigte. Die dors om te skep is beslis daar, dis net nie altyd in die klas nie!

    MS: Hoe sien jy die pad vorentoe? Watter ander projekte hou jou tans besig en wat maak jou hart opgewonde vir die toekoms?

    PO: Ek is in die vroeë fases van 'n nuwe toneelstuk (as ek net tyd daarvoor kan kry!) en het onlangs vir die skerm begin skryf. Die Engelse vertaling van geselekteerde verse uit my eerste twee bundels is so te sê afgehandel, en die volgende stap is om my gedigte in Spaans te vertaal en in Suid-Amerika te publiseer. Die spoken word album waarna ek verwys het, gaan ook eersdaags verskyn, en ek hoop om met 'n musikale produksie te toer om só my verse aan 'n wyer gehoor bekend te stel.

     

     

     

    Dr. Pieter Odendaal is 'n digter, dramaturg, vertaler en Skryfkuns-dosent aan die NWU. Sy debuutbundel, asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg), is met die 2019 Ingrid Jonker-prys bekroon. In 2024 het Odendaal se tweede bundel, Ontaard, die Eugène Maraisprys en die NIHSS Toekenning vir Poësie gewen, en sy toneelstuk Droomwerk is vir die Hertzogprys vir Drama genomineer. Odendaal is ook as een van die Mail & Guardian se 200 Young South Africans aangewys.