SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue1The changing world of Afrikaans drama translations and adaptations: A few remarks author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a1 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

     

    The context: Afrikaans as official language 1925 - 2025 / Woord vooraf: Die konteks: Afrikaans as amptelike taal 1925 - 2025

     

     

    Met die erkenning van Afrikaans as amptelike taal in 1925, was een van die kwessies ter sprake die volgende: Alhoewel "Dutch" die een amptelike taal was volgens die Grondwet van die Unie van Suid-Afrika, die South Africa Act of 1909, was dit algemene kennis dat Hollands vir alle praktiese doeleindes eintlik Afrikaans was, byvoorbeeld in geregshowe en in regsdokumente. 'n Oplossing vir hierdie toedrag van sake was om te aanvaar dat "in de uit-drukking 'Hollandse' in artikel 137 de woorden Afrikaans en Nederlands ingesloten zijn" (Mnr. Centlivres, parlementêre wetsopsteller, soos aangehaal deur Kannemeyer, 1995: 450).1 Artikel 137 van die South Africa Act lui as volg:

    Both the English and Dutch languages shall be official languages of the Union, and shall be treated on a footing of equality, and possess and enjoy equal freedom, rights, and privileges; all records, journals, and proceedings of Parliament shall be kept in both languages, and all Bills, Acts, and notices of general public importance or interest issued by the Government of the Union shall be in both languages.

    Toe daar ná baie debatvoering eenstemmigheid hieroor was, was die oplossing dat die Grondwet gewysig moes word en dit kon alleen gebeur met 'n tweederde-meerderheid in beide huise (die Volksraad en die Senaat).

    'n Wetsontwerp is, in ooreenstemming met artikel 152 van die South Africa Act, aan die Senaat en die Volksraad voorgele. Met die tweede lesing van die wetsontwerp op 8 Mei 1925 is dit in 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat aangeneem. Die goedkeuring van die Parlement was die eerste stap in die wetgewende proses. Hierna het die Goewerneur-Generaal die Wet geteken op 22 Mei 1925 (dit was ook 'n noodsaaklike stap in die proses) en daarna het die Wet op de Officiële Talen van de Unie, 1925 in die Staatskoerant verskyn op 27 Mei 1925. Hierdie Wet het met terugwerkende krag gegeld vanaf 31 Mei 1910.

    Wie 8 Mei wil vier as 'n besondere dag in Afrikaans se geskiedenis, kan dit dus doen. 27 Mei is egter die dag waarop Afrikaans wetlik 'n amptelike taal geword het - ook 'n dag om te vier.

    Reeds voor 27 Mei 1925 is daar al begin met die standaardisering van Afrikaans - 'n proses wat daartoe gelei het dat Afrikaans toenemend in 'n verskeidenheid (lae en hoë) funksies gebruik kon word. Destyds was Afrikaans in al sy variëteite al goed gevestig as spreek- en gebruikstaal, maar die hoë funksies moes nog verder ontwikkel word.

    Danksy die kodifisering van Afrikaans, onder meer deur die ontwikkeling van 'n spel-lingstelsel, die publikasie van 'n verskeidenheid woordeboeke waarin die snel-toenemende woordeskat van Afrikaans opgeteken kon word, die dokumentering van die wordende grammatika van wat later Standaardafrikaans genoem sou word, en die publikasie van letterkundige werke, kon Afrikaans as skryftaal floreer. Afrikaans het in die loop van die 20ste eeu sodanig ontwikkel dat die taal teen die 1960's al goed gevestig was in alle funksies. In hierdie proses het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (hierna SA Akademie) deurgaans 'n kernrol gespeel.

    Die eerste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) ('n bron wat vandag op talle Afrikaanssprekendes se boekrakke staan of moet staan) het in 1917 verskyn, danksy die inisiatief van die SA Akademie. In die jare hierna is die verfyning van die spellingstelsel deur opeenvolgende hersiene uitgawes van die AWS behoorlik geboekstaaf. Die 11de uitgawe van die AWS is in 2017 gepubliseer as 'n baken vir die ontwikkeling en vestiging van 'n eie spellingstelsel vir Afrikaans.

    Akademielede en ander lede van die breë taalgemeenskap, soos byvoorbeeld die Afrikaanse pers, het vanuit die staanspoor 'n deurslaggewende aandeel gehad in die ontluiking van die woordeskat en grammatika deur deelname aan projekte, die ontwikkeling van vakterminologie, en die slypproses van die taal in wetenskaplike publikasies. Afrikaans is as 'n wetenskapstaal gevestig en die SA Akademie se doel, bestaan en wese is ongetwyfeld nou gekoppel aan hierdie proses.

     

    Die temanommer

    Dit is om hierdie rede dat besluit is dat die SA Akademie met die viering van Afrikaans se status as amptelike taal in 2025 ook 'n bydrae sal lewer, eiesoortig aan sy mandaat - die uitbou van Afrikaans in sy hoë funksies, in die besonder in die wetenskap. Met die oog hierop is ons vroeg in 2023 deur die hoofredakteur genader om as gasredakteurs van 'n spesiale uitgawe van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) op te tree.

    Die honderd jaar sedert Afrikaans 'n amptelike taal geword het, word belig deur akademiese uitsette uit 'n verskeidenheid invalshoeke bymekaar te bring. Hierdeur word die lewenskragtig-heid van die taal gevier en tewens die volgehoue rol van die SA Akademie in die Afrikaanse gemeenskap erken.

    Die uitgawe het ten doel om terug te kyk en bestek op te neem van die afgelope eeu, te besin oor die hede en ook projeksies te maak oor die toekoms. Die kollig val sodoende op Afrikaans as wetenskapstaal - in die wydste sin van die woord.

    Die tersiêre landskap het, wat Afrikaans as onderrig- en kommunikasietaal betref, die afgelope dekades onherroeplik verander en Afrikaans as wetenskapstaal is as gevolg daarvan ongetwyfeld onder druk aan universiteite in Suid-Afrika. Besluite wat in die verlede oor taal geneem is, het duidelik 'n impak ten opsigte van die hedendaagse konteks. Dat die "akademiese onderbou van Afrikaans" (aldus dr. Edwin Hertzog in 'n bydrae in die TGW, September 2022) se momentum sedert 1994 gestuit is, is baie sigbaar vir diegene wat hulle daagliks met Afrikaans as akademiese taal en as vaktaal besig hou.

    Daar is minder publikasies in vaktydskrifte, selfs minder vaktydskrifte in Afrikaans, min verhandelinge en proefskrifte word nog in Afrikaans geskryf, Afrikaans word stelselmatig aan universiteite afgeskaal, Afrikaanse studente wat hulle kursusse in Afrikaans wil volg, word minder en die aanbod kleiner, Afrikaanssprekende dosente aan universiteite word minder, ensovoorts. Hieroor word onder meer besin in hierdie uitgawe.

    'n Belangrike vraag vir die tyd waarin ons nou leef, die tweede kwart van die 21ste eeu, is hoe ons te werk kan gaan om Afrikaans binne 'n meertalige bedeling (waarvan mense die aard en implikasies nog nie regtig begryp nie) in Suid-Afrika se breë onderwysopset (van tersiêr, sekondêr, primêr tot preprimêr) nie net te behou nie, maar ook uit te brei. Dit is ons groot uitdaging en ook ons werklikheid.

    Wat in hierdie uitgawe versamel is, is die resultaat van Akademielede se reaksie op die versoek om saam te werk om die geleidelike opbou van Afrikaans se akademiese infrastruktuur te dokumenteer. 'n Taal moet naamlik 'n gesonde en ondersteunde taalinfrastruktuur hê om te kan groei en die bydraes wat hierin opgeneem is, is 'n bewys van volgehoue werk om juis sodanige infrastruktuur nie net te vestig en in stand te hou nie, maar dit inderdaad ook uit te brei.

    In die 16 navorsingsartikels is daar uiteensettings van 'n groot verskeidenheid aspekte: die Afrikaanse taalkunde (Breed, Wierenga e.a., Ludiek & Breed, Kotzé), die Afrikaanse letterkunde (Odendaal, Keuris), Afrikaans as reklametaal (Van Niekerk), historíese taalkunde (Kotzé, Van Niekerk), toegepaste taalkunde (Weideman), Afrikaans in die onderwyskonteks (Wolhuter, Beekmann, Bornman e.a.), Afrikaans in Bybelvertalings (Naudé), Afrikaans as akademiese of wetenskapstaal (Van Dyk, Ludiek & Breed), die eerste eeu van die WAT (A du Plessis e.a.), Afrikaans as vaktaal (Alberts), taalbeplanning rakende Afrikaans in 'n meertalige konteks (T du Plessis, Van Dyk) en Afrikaans as 'n konferensietaal (Olivier).

    In ses toeligtingstukke kan die geïnteresseerde leser inligting bekom oor die grondwetlike taalregte van alle landsburgers (Carney), 'n uiteensetting van die belangrike begrip amptelike taal (McLachlan & Kotzé), Afrikaans in 'n internasionale konteks (J du Plessis), die rol van die Suid-Afrikaanse Tydskrifvir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) in die ontginning van die natuurwetenskappe in Afrikaans (Eloff), Afrikaans as erfenistaal (Rossouw) en 'n samevatting van die hoogtepunte van die SA Akademie, 2009-2025 (Brink).

    Ons bedank van harte die medewerkers tot hierdie uitgawe, die keurders wat elke bydrae sorgvuldig geweeg het en in die besonder vir Zarike Gouws, wat as ons redaksie-assistent opgetree het en die talle lastige administratiewe take verbonde aan so 'n projek uitnemend hanteer het.

    Ons dink dat hierdie uitgawe as 'n baken kan dien vir toekomstige navorsers en lesers oor Afrikaans vanuit 'n wetenskaplike hoek beskou. Die bydraes gaan in die eerste plek oor Afrikaans, sy funksies en gebruiksfasette, maar dit geld ook as besinning oor en bestekopname van die stand van sake in 2025.

    Mag die volgende 100 jaar lei tot verdere oop gesprekke, besinnings en robuuste debat in en oor Afrikaans.

    Nerina Bosman en Wannie Carstens

    Gasredakteurs

    Maart, 2025

     

     

    1 Kannemeyer, JC.1995. Langenhoven, 'n Lewe. Kaapstad: Tafelberg.