Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a2
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Die eerste eeu van Afrikaans as vaktaal, 1925-2025
The first century of Afrikaans as language for special purposes, 1925-2025
Mariëtta Alberts
Voormalige Direkteur: Terminologie en Standaardisering, Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: albertsmarietta@gmail.com
OPSOMMING
Die Suid-Afrikaanse vaktaalbedryf het 'n interessante geskiedenis met veral Afrikaanse vaktaal wat aanvanklik 'n bloeitydperk beleef het. In die land se voormalige tweetalige bestel moes Afrikaanse termekwivalente verskaf word om Afrikaans in staat te stel om sy regmatige plek langs die dominante wereldtaal Engels in te neem. Aanvanklik is vertalende vakwoordeboeke en termlyste deur vakkundiges en akademici saamgestel om die konsepte van die terreine waarop hulle werksaam was, vir vakkommunikasie beskikbaar te stel. Later het vertalers, veral dié verbonde aan taalkantore, begin om die bron- en doeltaalterminologie waarmee hulle daagliks omgegaan het, aan te teken sodat hulle dit later weer kon benut. Nog later is terminoloë in diens geneem om die terminologie van 'n verskeidenheid van vakgebiede aan te teken. Hulle het veral in komiteeverband saam met vakkundiges gewerk wat hulle behulpsaam was daarmee om konsepte te verklaar en te benoem en gepaste terme in Afrikaans te skep. Al hierdie aktiwiteite het daartoe gelei dat Afrikaanse vaktaal deur herhaalde gebruik die vakgebiede en taal kon binnedring en so gestandaardiseer geraak het. Verskeie gestandaardiseerde terminografiese benaderings is in dié vaktaalproses gebruik. In die loop van die afgelope dertig jaar is daar ook aandag gegee aan die ontwikkeling van die Sintutale en Suid-Afrikaanse Gebaretaal omdat die Grondwet bepaal dat al die amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word. Nuwe Afrikaanse terme word steeds deur staatsinstellings aangeteken, maar op die meeste terreine is daar reeds Afrikaanse terminologie en is daar dus nie vernuwing vir Afrikaans nie. Gelukkig is daar steeds vakkundiges, taalpraktisyns en individue wat terme vir hul beroepsdoeleindes in Afrikaans aanteken en versprei.
Trefwoorde: aanlyn, brontaal, dissemineer, doeltaal, ekwivalent, gemeenskaps-georiënteerde terminografiebenadering, oop bron, standaardisasie, taalbeplanningsgeoriënteerde terminografiebenadering, term, termbank, terminologie, terminologiebeleid, terminologieopleiding, termlys, vakgeoriënteerde terminografiebenadering, vaktaal, vakwoordeboek, vertaalgeoriënteerde terminografiebenadering
ABSTRACT
This article traces the history of terminology development in South Africa from 1925 to 1999 and from 2000 to 2025, while also exploring potential future directions for language for special purposes in the country. It highlights the various subject areas that were prioritised during these periods. Although there were several instances of duplication, Afrikaans terminology managed to achieve standardisation, despite the development of multiple terms for some concepts, which can result in miscommunication.
After Afrikaans had been declared an official language, South African terminology practice bloomed. This meant that, in the dispensation of the time, Afrikaans had to function alongside the dominant global language English in all matters of state. The development of Afrikaans terminology benefited from the need to create equivalent terms for English, allowing Afrikaans to effectively function alongside English as an official language. This process was rooted in a language-planning approach to terminography.
Initially, subject specialists and academics compiled bilingual dictionaries and term lists to enhance communication by sharing subject-specific terminology in both languages. They utilised a subject-oriented terminography approach, where each concept was represented by the term in the source language (English) and its corresponding term in the target language (Afrikaans). Later, translators employed by language bureaux began documenting the terms from their translation work to facilitate reuse. The approach, known as translation-oriented terminography, aims to standardise terminology within specific subject areas. Over time, terminologists were hired to document terminology across various fields, often collaborating with subject specialists to clarify concepts and their translation equivalents. Previously, the focus was primarily on creating bilingual dictionaries to provide users with easy access to terminology. Through consistent use, these terms became standardised in both languages within their respective fields. In the last thirty years, there has been a greater emphasis on developing terminology in the Sintu languages and signs in South African Sign Language, as mandated by the Constitution of the Republic of South Africa, 1996.
Explanatory and translating term lists, along with technical dictionaries, are now created with enhanced information, including definitions. Current terminography practices still adhere to a language planning approach; however, a language-community approach is also implemented better to address the needs of language communities. While government agencies continue to document Afrikaans terminology, most of the new terminology being developed in the Sintu languages already has corresponding Afrikaans terms. As a result, there is limited new terminological development for Afrikaans in the public sector. Fortunately, subject specialists, language practitioners, and individuals continue to document and share terminology relevant to theirfields. During the course of the past century, various organisations, government institutions, and individuals contributed to the creation of Afrikaans term lists and technical dictionaries.
Terminography, the practice of terminology work, is a complex process, and it is encouraging to see its continued advancement. Various tertiary institutions are actively developing terminology for their academic fields; however, a lack of collaboration among them has resulted in an overabundance of terms within specific subject areas and languages. The National Terminology Development Directorate, known as the Terminology Coordination Section (TCS) of the Department of Sport, Arts and Culture, has yet to fully fulfil its role in coordinating terminology development. This has sometimes led to project duplication, and the national term bank, intended to serve as a comprehensive repository for multilingual terminology, is still in progress.
Several institutions currently have the capacity to participate in the online dissemination of terminology and digitisation of outdated printed term lists and technical dictionaries that are no longer easily accessible. The terminological data in these publications remain relevant and can be revised. Once digitised and formatted into a database, these data can be used to develop term equivalents in official South African languages beyond English and Afrikaans.
The article concludes with guidelines for future terminology development in South Africa, with particular focus on enhancing Afrikaans for special purposes.
Keywords: community-oriented terminography approach, disseminate, equivalent, language for special purposes, language planning-oriented terminography approach, online, open source, source language, standardisation, subject-oriented terminography approach, target language, technical dictionary, term, term bank, terminology, terminology policy, terminology training, term list, translation-oriented terminography approach
1. Inleiding
Vaktaal (Engels: language for special purposes (LSP)) is 'n belangrike skakel in die ontwikkeling van enige taal tot 'n funksionele gebruikstaal wat in 'n verskeidenheid van sfere van menslike kommunikasie gebruik kan word. Vaktaal omvat naamlik die woordeskat (dit wil sê die terminologie) van 'n verskeidenheid van vakgebiede, domeine en professies. Die vaktaalpraktyk behels aspekte soos terminologieteorie en -beginsels, en die metodes en prosesse (dit wil sê terminografie) wat gebruik word om konsepte wat eie aan 'n vakgebied, domein of professie is, deur middel van brontaalterme te versamel, aan te teken, te sistematiseer, te verklaar, eenduidig in doeltale te benoem en op verskeie wyses, bv. harde kopie of aanlyn, te dissemineer. Die terme word dan deur vakkundiges, taalpraktisyns en selfs leke gebruik, en deur herhaalde gebruik dring die terme die vakgebied binne en word hulle so in taal/tale en vakke gestandaardiseer. Wanneer 'n konsep met behulp van verskeie brontaalterme en/of doeltaalekwivalente benoem word, veroorsaak dit 'n proliferasie van terme vir daardie konsep wat tot kommunikasieprobleme kan lei.
Dit is gevolglik belangrik om samewerking tussen belangegroepe te bewerkstellig om sodanige proliferasie van terme binne 'n vakgebied, domein of beroep te voorkom. Die konseptuele inhoud van vakterreine moet eenduidig benoem word om sinvolle vakkommunikasie moontlik te maak. 'n Taal met 'n behoorlike vaktaal kan as wetenskaps-, tegniese, professionele, akademiese en onderrigtaal beskou word waarin kommunikasie op velerlei terreine van menslike aktiwiteit moontlik is.
Die geskiedenis van vaktaalontwikkeling in Suid-Afrika loop saam met dié van die erkenning van Afrikaans as amptelike taal 'n eeu gelede. Verder het die ontwikkeling en standaardisering van die Afrikaanse spel- en skryfwyse deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) grootliks daartoe bygedra dat termskepping volgens die riglyne wat sedert 1917 in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls beskikbaar is, kon plaasvind.
Die Afrikaanse vaktaal het gedurende die eerste 75 jaar ná die erkenning van Afrikaans as amptelike taal 'n bloeitydperk beleef en kon aan onder meer die behoeftes van vakkundiges en die taalgemeenskap voldoen. Talle vakspesialiste het gedurende hierdie tydperk die terme van hul onderskeie vakgebiede aangeteken om vakkommunikasie binne die vakgebiede te standaardiseer. Die proses is verder bevorder deur vertalers, wat as gevolg van die toenmalige tweetalige beleid, die terme wat tydens die vertaalproses gegenereer is, aangeteken het. Daardeur was die bron- en doeltaalterme van verskeie vakgebiede vir latere vertaalwerk weer beskikbaar. Verskeie staatsinstellings het aktiewe taalkantore gehad wat die terminologie van die bepaalde instelling te boek gestel het. Die termskepping het gewoonlik in Afrikaans plaasgevind omdat Engels, wat as dominante wereldtaal reeds terminologie op verskeie vakgebiede gehad het, as brontaal gedien het.
Die situasie vir Afrikaanse vaktaalontwikkeling het egter in die nuwe meertalige bestel drasties verander. Sedert Suid-Afrikaanse Sintutale in 1995 amptelike status verwerf het, word meer aandag geskenk aan die ontwikkeling van terminologie in daardie tale, omdat die Grondwet, 1996, in art 6(2) wys op die "historíese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense". Daar moet dus aan die behoeftes van die (vak)taalgemeenskap van hierdie tale voldoen word. Terminologie word sedertdien in verskeie vakgebiede in die Sintutale geskep, maar hierdie situasie beteken dat daar in staatsinstellings nie juis meer nuwe terminologie in Afrikaans geskep word nie - deels omdat die konsepte in die vakgebiede waaraan gewerk word, reeds in Afrikaans benoem is of omdat daar nie Afrikaanse moedertaalsprekers as terminoloë in diens is nie. Die goeie nuus is egter dat vakkundiges en taalpraktisyns in die private sektor weer begin besef dat dit van belang is om die Afrikaanse terminologie wat in hul onderskeie vakgebiede bestaan, aan te teken en beskikbaar te stel.
2. Vaktaalontwikkeling: Die verlede (1925-2000)
Hoewel daar in hierdie artikel hoofsaaklik gefokus word op die ontwikkeling van Afrikaanse vaktaal die afgelope eeu, mag die uitwerking van die huidige meertalige taalbeleid daarop nie onderskat word nie.
Met die erkenning in 1925 van Afrikaans as een van die destydse amptelike tale van Suid-Afrika het daar 'n groter bewustheid by individue en instansies ontstaan om Afrikaanse terme te skep en aan te teken. Die eerste vakwoordeboek is reeds in 1918 deur prof. DF du Toit Malherbe saamgestel - dit was die Engels-Afrikaanse Skeikundige terminologie. Die toenmalige Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het reeds die eerste Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls (AWS) in 1917 saamgestel en gepubliseer, en hierdie AWS het waarskynlik toe reeds as basis gedien vir die termskeppingsproses in Afrikaans (wat die daaropvolgende publikasies van die AWS inderdaad was).
Nadat Afrikaans die status van amptelike taal naas Engels verkry het, moes daar skielik 'n tweetalige diens gelewer word sodat Afrikaans sy volwaardige plek langs dié dominante wereldtaal kon inneem. Skielik moes Afrikaanse vaktaal vir 'n verskeidenheid van beroepe en vakgebiede ontwikkel word. Die ontwikkeling van Afrikaanse terme oorheers gevolglik in die vorige bestel die Suid-Afrikaanse terminografiebedryf. 'n Hele aantal vertalende Engels-Afrikaans/Afrikaans-Engelse tweerigtingvakwoordeboeke en -terminologielyste is gepubliseer (Grobler, Prinsloo & Van der Merwe, 1991:9; Alberts, 1988; 1999; 2003:134, 135; 2015b).
Die staat het in 1928 'n Vertaalburo in die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap gestig. Daar is toe ook by die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (later SA Vervoerdienste) en die Suid-Afrikaanse Weermag (Vloot, Lugmag en Leër) taaldienste tot stand gebring. Die staatsamptenare verbonde aan die Staatsdiens se taalkantore was meesal Afrikaanssprekend, maar moes dokumente in Engels en Afrikaans lewer. Vertalers verbonde aan instellings in die openbare sektor het spoedig besef dat die tweetalige terminologie waarmee hulle daagliks werk, aangeteken en gestandaardiseer moet word om eksakte kommunikasie te bevorder, want 'n proliferasie van terme vir dieselfde konsep het tot wankommunikasie gelei. Die vertalers het gevolglik begin om termlyste vir eie gebruik saam te stel. Nog later het taalkantore termlyste vir hul onderskeie beroepsfere begin saamstel om te verseker dat terme konsekwent gebruik en gestandaardiseer word. Die tweetalige termlyste wat deur verskeie instansies saamgestel is, het 'n stewige terminologiese basis in Suid-Afrika help vestig (Botha, Alberts & Kapp, 2010; Alberts, 2015b). Die proses waarin vertalers terminologie aanteken, staan bekend as die vertaalgeoriënteerde terminografiebenadering (Engels: translation-oriented terminography (TOT)) (vgl. ISO, 2000; Alberts, 2017:177-179).
Vakkundiges en akademici het ook in die beoefening van hul beroepe besef hoe belangrik dit is om Afrikaanse terme te skep en aan te teken sodat hulle Afrikaans in hulle beroepe of vakonderrig kon gebruik. Die terminografieproses het die vakgeoriënteerde benadering (Engels: subject-oriented terminography approach) gevolg waarin die konsep binne 'n bepaalde vakgebied benoem moet word (Alberts, 2017:179-180). Die Vakwoordeboek (Wetenskaplik en tegnies) - Scientific and Technical Dictionary, wat as twee volumes deur prof. DF Du Toit Malherbe in 1932 gepubliseer is, is met die samewerking van 25 vakspesialiste saamgestel. Dit was een van talle voorbeelde van termlyste en vakwoordeboeke wat deur vakkundiges en akademici saamgestel is. Ander voorbeelde waarvan slegs die vakgebied en jaartal verstrek word, is die volgende ('n komma [,] tussen datums dui op herdrukke van dieselfde vakwoordeboek of termlys deur dieselfde outeur(s), terwyl 'n kommapunt [;] tussen datums dui op verskillende vakwoordeboeke of termlyste deur verskillende outeurs, wat dit duidelik maak dat daar reeds in daardie vroeë stadium van vaktaalontwikkeling duplikasie van projekte was.) Hier word slegs genoem op watter terreine vakwoordeboeke of termlyste verskyn het: handel (1933); geneeskunde (met veeartsenykundige, tandheelkundige en hospitaalterme) (1935); Suid-Afrikaanse motorterme (1935); medies (1935; 1944, 1966; 1962; 1979, 1988, 1991, 1997; 1993); regte (1948, 1963, 1981, 1984, 1992; 1976, 1978, 1991); steenmesselwerk (1951); veesiektes (1953); elektronika (1954); beskermde veldblomme van Kaapland (1958); rekeningkunde (1958, 1981); drank (1961); fisika (1961; 1983); soogdiere (1962); mikrobiologie (1962); letterkunde (1963); effektebeurs (1963, 1968); tegniek (1964, 1968; 1976); vlegwerk (1964); elektriese ingenieurswese (1965); elektrisiteit (1965; 1967); statistiek (1961; 1965); grondmeganika (1965; 1972; 1984); plantname (1966); drukkerswese (1967); saketerme vir skryfbehoeftehandelaars (1970); kerkterme (1970); nasionale boomlys (1972, 1978); argitektuur (1972); oftalmologie (1972); toneel, ballet, rolprente en hoorspele (1972); berg- en riviername (1973); ekonomie (1973, 1976; 1976); fotografie (1973); verpleegkunde (1975); varswatervisse (1975); rekenmeestersberoep (1975); geomorfologie (1978); biologie (1978, 1979); rekenaarwese (1979;1985); psigologie (1979, 1988); regsgeleerdheid (1980); handel (1978, 1981); veldblomme van Oos-Kaapland (1981); plaagdoders (1982); strategie (1982, 1983); biologie (1983; 1984); veekunde (1983); regte (1986); molekulêre biologie (1987); buitelandse plekname (1987); swamme (1988); spyskaarte en kombuisterme (1988); sterrekunde (1990); grondkunde (1990, 1993, 1995); katoen (1990); kommunikasie (1991); frases (1992); marknavorsing (1991; 1993); geografie (1992); regs- en handelsterme (1992); argeologie (1993); empiriese opvoedkunde/opvoedkundige sielkunde (1992; 1993); verkiesings (1994); polisie (1994); genetika en statistiek (1994); musiek (1994); sake (1991; 1995); ondernemingsbestuur (1996); paramediese beroep (1996); siviele ingenieurswese (1996); snelskrif (s.j.).
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) bring in die vroeë veertigerjare sy Fakulteit Natuurwetenskappe en Tegnologie tot stand, en dit het daartoe bygedra dat Afrikaans op 'n verskeidenheid van terreine as volwaardige wetenskapstaal ontwikkel moes word. Die staat het in 1950 'n ooreenkoms met die SAAWK gesluit waar-kragtens die Vaktaalburo daar tot stand gekom het wat verantwoordelik was vir die ontwikkeling van hoër registers van vaktaal. Binne die eerste twee jaar is vier terminologielyste bekendgestel en is bestaande terminologielyste hersien (Kapp, 2009:125-127; Alberts, 2015b). Verskeie vakwoordeboeke is deur die Vaktaalburo saamgestel op gebiede soos die volgende: fisika (1948); landbou en bosbou (1950); paleontologie (1950); opvoedkunde en sielkunde (1951); geneeskundige ontleedkunde (1953); skeikunde (1955); boukunde (1960, 1981); opmeetkunde (1960, 1965); aptekerswese (1965); statistiek (1965); versekering (1964, 1970); sterrekunde (1966); water- en rioolwerke (1970); geologie (1970); papier (1970); biblioteekwese (1971); wiskunde (1971, 1987); plantkunde (1971); plastiek (1971, 1973); musiek (1971, 1973); en ingenieurswese (1976).
In 1950 is 'n vakvereniging, die Transvaalse Vereniging van Munisipale Vertalers, gestig om vertalers verbonde aan verskeie munisipaliteite met vertaalprobleme te help. As gevolg van die belangstelling deur nasionale instellings en munisipaliteite in ander provinsies as Transvaal is die naam verander na die Vereniging van Munisipale Vertalers. Later is meer klem op terminologiewerk gelê en is die naam verander na die Terminologievereniging van Suid-Afrika (Termsa), wat uiteindelik in die negentigerjare Prolingua geword het (Prolingua, 2015:2). Hierdie vakvereniging het onder meer die Aandelebeursterme (1963, 1985) en die Lewensversekeringswoordeboek (1987) saamgestel, en sedert 1994 het hy ook 'n aanlyn termlys wat terminologie van verskeie vakterreine bevat (http://prolingua.org.za).
In 1954 het die staat sy verskillende taaldienste geherorganiseer en sowel die Vertaalburo as die Vaktaalburo na die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap (later die Departement van Nasionale Opvoeding) oorgeplaas. 'n Nuwe Taaldiensburo is toe in die plek van die Vertaalburo vir die staat gestig. Hoewel die Departement die Vaktaalburo beheer en gefinansier het, het dit egter steeds onder die SAAWK geressorteer (Kapp, 2009:127).
In die vyftigerjare het vertalers by die Taaldiensburo begin om Engelse en Afrikaanse terme op indekskaarte aan te teken. In 1956 het die Terminologieseksie (later Afdeling Terminologie) as deel van die Taaldiensburo ontstaan. Terminoloë is aangestel om die vaktale van 'n verskeidenheid van vakgebiede te ontwikkel. Vakkomitees wat uit vakkundiges en terminoloë bestaan het, is ingestel om die terme van die onderskeie vakgebiede te bespreek en te finaliseer (Alberts, 2003:135; 2015b). Die vakkomitees het slegs vertalende vakwoordeboeke saamgestel (vgl. 3.2.1). Die Terminologieseksie/Afdeling Terminologie van die Taaldiensburo van die Departement van Nasionale Opvoeding het onder meer vakwoordeboeke en termlyste op die volgende terreine saamgestel: skeikunde (1951); weermag (1954); liggaamlike opvoeding (1957; 1968); poskantoor (1959); insekname (1959, 1963); elektrotegniek (1963); werktuigkunde (1963); akkerbou (1964); blommerangskikking (1964); meganika (1964); grondkunde (1965); kuns (1967); voorligting (1967); chemie (1968); rekenaarwese (1969); hoedemakery (1970); drukkersterme (1971); landbou-ekonomie (1971); haarkappery (1971); werkstudie (1971); borduurwerk (1972); hokkie (1972); suiwel (1972); rekeningkunde (1973); landbou-ingenieurswese (1973); wynbou (1973); basketbal, korfbal en netbal (1975); en huishoudkunde (1975). Die vakwoordeboeke wat saamgestel is, is deur die Staatsdrukker gedruk en versprei. Die doel van hierdie publikasies was hoofsaaklik om Afrikaanse termekwivalente vir Engelse terme te verskaf sodat Afrikaans gelyk kon staan met Engels ten opsigte van die vermoë om tegniese en wetenskaplike inligting te hanteer (Jordaan-Weiss, 1996:374).
Taalkantore verbonde aan bepaalde instellings, ander staatsdepartemente, semistaats-instellings en ander institute, organisasies of verenigings wat vertalers in diens gehad het, het ook aandag aan terminologiewerk geskenk (Botha, Alberts & Kapp, 2010) en vakwoordeboeke of termlyste saamgestel waaronder op die volgende vak- of werksgebiede:
• SA Vervoerdienste: o.a. spoorweë en verwante tegnologie (1934, 1939); lokomotiewe (1953); spyskaarte (1957, 1974, 1987); motorterme (1965); elektrotegniek (1966); elektrisiteit (1967); sweiswerk (1970); vliegtuigaandrywing (1970); vliegtuiguitrusting (1971); motorvoertuie (1973); vliegtuigboukunde (1977); vliegtuignavigasie (1980); verpakking en behouering (1982); sinjaal- en treinbedryf (1985); spoorbane (1986); rollende materiaal (1990)
• Poswese (1959); poskantoorbedryf met ingenieursterme (1964); poswese (1990)
• SA Weermag (leër, lugmag, vloot), insluitende duikbote (1969); krygskunde (1983); navigasie- en lugvaartweerkunde (s.j.)
• SA Weerburo: Antarktika (1961)
• Natuurbewaring: beskermde veldblomme van Kaapland (1958), veldblomme van Oos-Kaapland (1981)
• Geologiese Opname/Kamer van Mynwese: geologie en verwante vakgebiede (1941, 1953)
• Bosbou: houttegnologie (1969)
• Landbou: voorligtingkunde (1967); gewone insekname (bosluise, myte, aalwurms, spinnekoppe) (1979), landbou (2011)
• Mynbou: mynventilasieterme (1961); springstofterme (1970)
• Die uitsaaiwese (die SAUK-taaldienste se vertalers het verskeie termlyste in Engels, Afrikaans en sommige Sintutale saamgestel, maar inligting oor dié termlyste kon nie bekom word nie
• Die SAUK het sedert 1994 'n meertaligheidsbeleid, maar dit is nie bekend of daar nog 'n taaldiensseksie is nie
• Die staalbedryf: Yskor-taaldiens se Staalwoordeboek (1978)
• Kragverskaffing: Evkomwoordeboek vir kragontwikkeling en -verspreiding (1967, 1977) en die Eskomwoordeboek vir die elektrisiteitsvoorsieningsbedryf (1987)
• Die Atoomenergiekorporasie van Suid-Afrika se Kernbedryfwoordeboek (1990; 1995)
• Die Raad Vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN): binnelandse plekname (1987); RGN-terminologie (1990)
• Die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR): onder meer 'n tekstiel-woordeboek (1977); pad- en vervoerterme (1986) en 'n fisikawoordeboek (s.j.), en
• Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS): onder meer houtterme (1960); elektrotegniese terme (insluitende statiese omsetters, grondterme, transduktors en elektriese traksie) (1958, 1962, 1964, 1968); verligting (1962); sweisterme (1963); masjiene en transformators (1964); industriële veiligheidstekens (1967); beveiligingsreëls (1967); skakelborde en toestelle vir aansluiting en spanningsreëling (1967); steke, stiksels en nate (1968); asbesterme (1975); kleefmiddels vir hout (1977); vuurvastemateriaalnywerheid (1980); kleefmiddels (1981); kwaliteit (1987); tekstiel-goedere en tekstielkoopware (1987); kwaliteitsversekering en kwaliteitsbeheer (1988); klerelys (1989).
Hierdie instellings het almal die een of ander taaldiens gehad en taalpraktisyns het termlyste en vakwoordeboeke saamgestel. Die terminologie van die bepaalde instelling is in die meeste gevalle deur die instelling self aangeteken en dan as vakwoordeboeke of termlyste gepubliseer (Alberts, 2003:136; 2015b). Dit is egter uit genoemde vakgebiede baie duidelik dat daar geen terminologiekoördinering was nie en elke instelling het na goeddunke terminologie geskep en versprei.
Ander instellings wat ook in dié tyd termlyste opgestel het, was die volgende:
• Die brandstofbedryf: Shell Internasionale Petroleum: Tegniese terme (1960); Suid-Afrikaanse Steenkool-, Olie- en Gaskorporasie (Sasol): SASOL-terminologie (1972, 1978, 1993)
• Die Wolraad: Verklarende woordeboek vir die wolbedryf (1958)
• Banke: Banktaalwoordelys (1974, 1985), Banktaal (Standard Bank, 1984), Finansiële woordeboek/Sakewoordeboek (1985, 1988, 1991)
• Aptekerswese: Aptekersterme (1950), Aptekerswoordeboek (1962)
• Die Brandweerinstituut: Brandweerwoordeboek (1985)
• Portlandsementinstituut: Beton (1988)
• Munisipaliteite: onder meer Institute, verenigings en komitees (1970)
• Die Staatsbiblioteek: Biblioteekkundige terme (1961)
• Kultuurorganisasies: Musiek (1950); Rugby (1959); Krieket (1979), Motor (1979); Gholf (1986); Tennis, muurbal, tafeltennis, pluimbal, ringtennis, vlugbal (1978); Noodhulp (s.j.) - publikasies in die Handhaaf- en Boureeks van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK)
• Vakverenigings: Filatelistiese woordelys (Afrikaanse Filatelistiese Vereniging, 1953); Motoristehandboek en termlys (1969) en Visterme (1969) deur die Afrikaans-Portugese Vriendskapsvereniging; Stadsbeplanning (Universiteit van Pretoria in samewerking met Termsa, 1990), Terme van die Johannesburgse Effektebeurs (Prolingua, 1986), aanlyn Prolingua-terminologielys
• Akademici verbonde aan tersiêre instellings: Stadsbeplanning (1990); Linguistiek (1974); Psigologie (1961; 1979, 1988; 1986, 1989; 1987); Geneeskunde (1979, 1997; 1972, 1981, 1988); Teologie (1984); Terminografie (1989); Taalbeplanning (1993); Antropologie en argeologie (1996); Sielkunde (1997), Geesteswetenskappe, Afrikaanse Taalgids (s.j.)
• Die Koringraad, die Sitrusraad, en groot fabrieke het ook termlyste vir interne gebruik saamgestel
• Terminologiesentrums: die Sentrum vir Politieke en Verwante Terminologie (CEPTSA), wat sedert 1990 verskeie staatkundige en politieke woordeboeke gepubliseer het, en die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale (SRTAT), wat sedert 1985 meertalige regswoordeboeke saamstel.
2.1 Die koördinering van vaktaalaktiwiteite
Verskillende instellings het die terme wat eie aan hul beroepe was, begin aanteken en dit het 'n proliferasie van Afrikaanse terme vir dieselfde konsep in dieselfde vakgebied meegebring. Die oorvleueling van projekte en die gevolglike proliferasie van terme blyk duidelik uit die titels van die verskillende termlyste en vakwoordeboeke wat op dieselfde vak- of randgebiede deur verskillende individue of instellings saamgestel is. Daar was geen samewerkingsooreen-komste of koördinering van projekte nie en elke instelling het na behoefte terme geskep en gebruik.
In 1958 is die Vaktaalkommissie gestig om as sentrale liggaam die koördinering van Afrikaanse terminologiewerk en die produksie en disseminering van Afrikaanse terminologie te behartig (Cluver, 1995). Een van die gevolge van die gelykberegtiging van Engels en Afrikaans (Wet 32 van 1961, artikels 108 en 118) was dat Afrikaans ontwikkel en uitgebrei moes word, maar dit was van die uiterste belang dat daar bepaalde riglyne en norme vir termskepping gestel moes word en dat instellings, waar moontlik, moes saamwerk (Alberts, 2003:134).
In 1966 vervang die Vaktaalskakelkomitee die Vaktaalkommissie (Cluver, 1995). In 1974 is die Koördinerende Vaktaalraad (KOVAK) gestig om die Suid-Afrikaanse vaktaalaktiwiteite te koördineer. KOVAK het die Vaktaalskakelkomitee vervang. Die hoofde van die groot taalkantore in die land was lede van KOVAK, naamlik dié van die Spoorwegtaalburo, die Taaldiensburo en die Afdeling Terminologie van die Departement van Nasionale Opvoeding, die Vaktaalburo van die SAAWK, die Direktoraat Taal van die Suid-Afrikaanse Weermag (voorheen Krygstaalraad), die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Yskor, die SABS, die SAUK en die WNNR, asook verteenwoordigers van die Staatsdrukker, die Vereniging van Munisipale Vertalers, die provinsies se vertalers en die Johannesburgse Tegniese Kollege. Die Direkteur: Kuns en Kultuur van die Departement van Nasionale Opvoeding was die voorsitter en die Afdeling Terminologie het die sekretariaat behartig (Kapp, 2009:129; Alberts, 2003:135, 136; 2015b).
KOVAK het norme vir terminologiewerk en die samestelling van vakwoordeboeke gestel en moontlikhede ondersoek om die Suid-Afrikaanse vaktaalpraktyk te rekenariseer (Alberts, 1983; 2003:137). Die verskillende instellings moes kernterme in hul eie vakwoordeboeke identifiseer en dit aan die WAT verskaf vir opname. Eksemplare van alle vakwoordeboeke moes aan die WAT en biblioteke gestuur word. KOVAK het egter nie sy koördineringsrol behoorlik vervul nie en die taalkantore en -dienste het basies voortgegaan met hul eie aktiwiteite.
In 1976 is die Afdeling Terminologie van die Departement van Nasionale Opvoeding met die Vaktaalburo van die SAAWK geamalgameer tot 'n nuwe Vaktaalburo en wel as deel van die Departement (Kapp, 2009:128; Alberts, 2003:135-137; 2015b). In daardie stadium was daar ses-en-twintig terminoloë wat terminologie in verskeie subgebiede (natuurwetenskappe, geesteswetenskappe, ekonomiese wetenskappe, rekenaarwetenskappe, ens.) help aanteken het. Nuut aangestelde terminoloë het in verskeie vakgebiede onder mentorskap van senior terminoloë gewerk om ondervinding op te doen voordat hulle aan bepaalde subterreine toegedeel is.
Die konsepte en brontaalterminologie (Engels) van die verskillende vakterreine is met behulp van vakkundige insette nagevors, aangeteken en gesistematiseer en van Afrikaanse doeltaaltermekwivalente voorsien. Die nuwe Vaktaalburo in die Departement van Nasionale Opvoeding (later die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie (DKKWT)) het vakwoordeboeke op onder meer die volgende vakgebiede saamgestel: ekonomie (1976, 1981); ingenieurswese, hidroulika, pneumatika, fluïdika (1976); kernenergie (1976); filatelie (1977); fisika (1977); handwerk (1977); teater (1977); kriminologie (1978); sielkunde (1978); veeartsenykunde (1978); Bybelkunde (1979); hotelontvangs (1979); vergaderingprosedure en redevoering (1979); houtwerk (1980); sokker (1980, 1982); sosiologie (1980); aptekerswese (1981); dierkunde (1982); fotografie (1982); radio en televisie (1982); weerkunde en hidrologie (1983); mynbou (1983); buitelandse plekname (1987); maatskaplike werk (1984); biblioteekkunde, inligtingkunde en verwante gebiede (1989); naaldwerk en modebedryf (1989); staatkunde en verwante gebiede (1989); LAN-terminologie (1990); chemie (dele 1 en 2) (1991); tuinboukunde met plantname (1991).
Ná afloop van 'n vaktaalondersoek in 1984 (Cluver & Scheffer, 1984) word KOVAK ontbind, en word die staat se terminologiekantoor ooreenkomstig die 1984-vaktaalmodel die nasionale bestuurseenheid vir vaktaalbedrywighede (Scheffer, 1987:33). Die Vaktaalburo se naam is in 1985 verander na die Nasionale Vakterminologiediens (NVD). Dié kantoor vervang KOVAK as koördinerende liggaam. Die eenheid se naam word later verander na die Nasionale Terminologiediens (NTD). Vakkomitees onder leiding van die nasionale terminologiekantoor het verskeie vakwoordeboeke uitgegee (Alberts, 2003:137; 2015b).
Hoewel die NTD as nasionale terminologiekantoor en as staatsinstelling in die verlede amptelik vertalende vakwoordeboeke in Engels en Afrikaans saamgestel het, is daar vóór 1994 reeds besef dat daar 'n dringende behoefte aan terminologie in die verskillende Sintutale was. Daar is kontak gemaak met die destydse taalrade wat die inheemse tale amptelik hanteer het en daar is toe begin met navorsing oor woordvormingsbeginsels en die skryf- en spelreëls van die verskillende inheemse tale. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, het die gelyke beregtiging van alle amptelike tale vereis, maar reeds in 1995 het die terminologiekantoor elf moedertaalsprekers (een per amptelike Sintutaal, maar twee vir Zulu en twee vir Tswana) as terminoloë aangestel om die aantekening van terminologie in die verskillende Sintutale te behartig (Alberts, 2003:138; 2015b). In daardie stadium was daar steeds 10 Afrikaanssprekende terminoloë in diens van die NTD, wat voortgegaan het met die tweetalige vaktaalprojekte waarmee hulle besig was. Interessant genoeg was daar nooit 'n Engelsmoedertaalsprekende terminoloog in diens van die NTD of sy voorgangers nie.
'n Nuwe afdeling vir Sintutale is ingestel en daar is dadelik met die indiensopleiding van die nuutaangestelde Sintutaalterminoloë begin. Die kantoor kon daarna amptelik begin met die saamstel van elftalige vakwoordeboeke waarin uitgebreide inligting soos definisies toegevoeg is. Hierdie ontwikkeling van terminologie in elf tale in plaas van slegs twee het die terminologiekantoor noodwendig 'n groeifase laat beleef, wat uiteindelik tot voordeel van al die inwoners van Suid-Afrika sou wees (Jordaan-Weiss, 1996:374).
Van die eerste vertalende en verklarende termlyste wat in al elf amptelike tale verskyn het, was Weerkunde (1996), Inheemse soogdiere (1996) en Basiese Gesondheid (1997). Die bestaande NTD-personeel wat voorheen in Engels en Afrikaans gewerk het, het steeds terminografie in afgebakende subvakgebiede bedryf, naamlik natuur-, lewens-, handels- en geesteswetenskappe (kyk Figuur 1). Dié personeel het ook voortgegaan om die tweetalige vertalende vakwoordeboeke waaraan hulle gewerk het, te voltooi en te publiseer. Voorbeelde daarvan is: Maat-skaplikewerkwoordeboek (1995); Drukkerswoordeboek (1995); Geologiewoordeboek (1996); Tegniesetekenewoordeboek (1996); Poskantoorwoordeboek (1998).
Daar was ook by die nasionale terminologiekantoor 'n Afdeling Stelselontwikkeling en Navorsing wat onder meer behoeftebepalingsondersoeke gedoen het en projekprioriteite bepaal het (vgl. Alberts, 1990:60). Dié afdeling het ook 'n register saamgestel waarop alle terminologieprojekte (beplan, lopend, afgehandel, uit druk) geregistreer is ten einde duplisering van projekte te verhoed en samewerking met ander kundiges op 'n bepaalde terrein te probeer bewerkstellig. Daar was ook 'n Afdeling Rekenaarfasiliteite, wat verantwoordelik was vir rekenaarprosesse soos die hantering van die databasisprogram, en die finale voorbereiding van woordeboekmanuskripte vir publikasie, asook vir publikasies soos die maandelikse nuusbrief Termmakelaar/Termbroker (vanaf ongeveer 1996) (vgl. NTD, 1997b), 'n katalogus van vakwoordeboekpublikasies (vgl. NVD, 1988/89; NTD, 1993; 1997c; 1998), en 'n gids van taalbronne wat in Suid-Afrika beskikbaar was (vgl. NTD, 1997a). Die NTD het beslis gepoog om 'n koördinerende rol te vertolk en om inligting oor terminologiese aktiwiteite so goed moontlik te versprei.
Senior terminoloë het van 1995 tot 2000 terminologieopleiding aan provinsiale medewerkers verskaf. Die kantoor het ook in hierdie tydperk aan internasionale projekte deelgeneem, soos die meertalige projekte van die Europese Unie en van die International Organization for Unification of Terminological Neologisms (IOUTN), wat 'n wereldbank van internasionale terme, die World Bank of International Terms (WBIT), bestuur. Daar is hoofsaaklik Afrikaanse terme in verskeie vakgebiede tot die IOUTN-lys toegevoeg (Alberts, 2000b; 2000c:47-58). Daar is destyds ook met die Lessius-Universiteitskollege in Antwerpen saamgewerk en in 2001 is verskeie tweetalige vakwoordeboeke na hierdie universiteit gestuur vir gebruik in vertaal- en tolkopleiding.
Slegs enkele vakwoordeboeke, wat almal private inisiatiewe was, word in hierdie tyd in die Sintutale gepubliseer (Alberts, 2003:137; 2015b), waaronder meertalige Brouerywoorde-boek (1961); meertalige Foto- en kinematografieterme (1961); meertalige Grondmeganikaterme (1965); meertalige Bankwoordeboek (1966); Rekenaarterme in Engels en Zulu (s.j.); Verkiesingsterme in Engels, Afrikaans en Sotho (1994), Grammatikaterme in Engels en Noord-Sotho (1994).
In die negentigerjare was daar op lyste wat die produksie weerspieël het van vakwoor-deboeke waarvan Afrikaans een van die behandelde tale was, meer as 150 titels (Luther, 2005). Daar was selfs 'n Motoristehandboek en termlys (1969) en Visterme (1969) deur die Afrikaans-Portugese Vriendskapsvereniging met slegs Afrikaanse termekwivalente naas die Portugese brontaalterme. 'n Opname wat in 2015 namens die SAAWK gedoen is, toon 365 vak-woordeboeke en termlyste waarvan Afrikaans een van die behandelde tale was (Alberts, 2015b). 'n Onlangse opname (2024) toon dat daar in die tydperk 1925 tot 2025 minstens 480 vakwoordeboeke en termlyste saamgestel en gepubliseer is waarvan die skrywer bewus is. Daar was ook 82 projekte wat deur tersiêre instellings onderneem is (vgl. Alberts, 2015b; Taalsentrum, US, 2024; VivA, 2024; Wikipedia, 2024).
'n Terugblik op die Suid-Afrikaanse vaktaalsituasie toon dat Suid-Afrika van die vyf-tigerjare tot aan die einde van die negentigerjare 'n bloeityd beleef het wat die skepping van veral Afrikaanse terminologie betref.
3. Vaktaalontwikkeling: Die hede (2000-2025)
3.1 Taal- en terminologiebeplanning
Die destydse Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie het in 1996 'n taakspan, die Language Plan Task Group (LANGTAG), aangewys om die talesituasie in Suid-Afrika te ondersoek - dit was eintlik 'n taalbeplanningsoefening. Die LANGTAG-verslag (LANGTAG, 1995, 1996; Cluver, 1996) het implikasies vir die kort- en langtermynvaktaalbestuur gehad en die vaktaalbehoeftes van die elf amptelike tale moes binne 'n meertaligheidsbestel ondervang word. Die vaktaalgebruikersgemeenskap verskil ook van dié van die vorige talebestel, en terminologiedata moes in verskillende registers beskikbaar gestel word (Ferreira, 2002).
Op grond van aanbevelings vervat in die LANGTAG-verslag (LANGTAG, 1995, 1996) is die Nasionale Terminologiediens, van die Direktoraat Wetenskap en Tegnologie en die Staatstaaldiens (vertaalafdeling) van die Direktoraat Kuns en Kultuur van die destydse Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie (DKKWT) op 1 April 1998 geamalgameer tot die nuwe Nasionale Taaldiens (NTD); dié nuwe taalkantoor ressorteer vanaf daardie datum onder die Direktoraat Kuns en Kultuur van die Departement. Die terminologiedienste sou voortaan bekend staan as die Terminologie- en Plekname-afdeling van die Nasionale Taaldiens (Kapp, 2009:130).
Die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie is in Augustus 2001 in twee afsonderlike departemente verdeel, naamlik die Departement van Kuns en Kultuur (DKK) en die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT). Die Terminologie- en Plekname-afdeling staan sedert Augustus 2001 bekend as die Terminologiekoördineringsafdeling (TKA) van die Nasionale Taaldiens van die Departement van Kuns en Kultuur (tans: Departement van Sport, Kuns en Kultuur) (Alberts, 2003:138). (In die praktyk word slegs die Engelse benaming Terminology Coordination Section en afkorting TCS vir die kantoor gebruik en volgens sy mandaat word nie voorsiening gemaak vir kantoor- of projekbenamings in Afrikaans of die Sintutale nie.)
Die sentralisering en burokratisering van terminologiedienste in 2001 het probleme veroorsaak vir vaktaalontwikkeling op nasionale, provinsiale en plaaslike bestuursvlakke. Nie net is die meeste groot taalkantore aansienlik verklein nie, maar daar het 'n groot tekort aan opgeleide terminoloë en 'n afname in vrywilligerbetrokkenheid ontstaan (Kapp, 2009:130-131).
Veeltaligheid in Suid-Afrika is 'n feit wat met erns bejeën moet word, maar dit bied wel baie uitdagings wat vaktaalontwikkeling in Suid-Afrika betref. Volgens die Sensus 2022-gegewens het slegs 10% van die Suid-Afrikaanse bevolking Engels as eerste taal en 'n beduidende persentasie van die bevolking kan slegs deur hulle onderskeie moedertale doeltreffend bereik word. Inligtingsvloei word belemmer deur faktore soos 'n lae geletterd-heidspersentasie en die feit dat die vaktale van die amptelike tale buiten Afrikaans en Engels swak ontwikkel is.
Die feit dat die meeste Suid-Afrikaners nie eerstetaalsprekers van Engels is nie, impliseer dat baie van hulle beperkte of geen toegang tot inligting het nie - 'n belangrike kommoditeit vir ekonomiese en maatskaplike deelname en vir Suid-Afrika (Statistics South Africa, 2013:iii; 2022). Die ontwikkeling van menslike potensiaal en die aktiewe bevordering van die wetenskap en tegnologie ressorteer onder die belangrikste prioriteite van die huidige Suid-Afrikaanse regering (Carstens, 1997:1-24). Sonder taal (ook gebaretaal) is kommunikasie egter nie moontlik nie en sonder vaktaal is vakspesifieke kommunikasie onmoontlik.
Hierdie faktore stel toenemende eise aan die amptelike tale en vereis meertalige terminologie op verskillende vak- en kennisgebiede. Die behoefte aan vaktaal is waarskynlik groter in Suid-Afrika as in enige ander land, gegewe die meertaligheidsbeleid waarvolgens die 12 amptelike tale (met inbegrip van Suid-Afrikaanse Gebaretaal) doelbewus bewaar, bevorder en ontwikkel moet word. As gevolg van die hegemonie van Engels sukkel die ander amptelike tale egter met vaktaalontwikkeling (Fourie, 1994:13; Alberts, 1997b:179-191; 1998:230; 2003:127; 2015b; Ferreira & Du Plessis, 2007:56).
Oorlewing in die hoogs mededingende wêreld van die wetenskap en tegnologie dwing die gebruikers van die Sintutale om hul konseptuele siening van hul tale te verander en aan te pas by die maatskaplike, kulturele en ekonomiese konsepte van die moderne wêreld (Ferreira, 2002:169). Terminologiegroei is volgens Nkabinde (1992:95) gebonde aan die mens se betreding van wetenskaplike, ekonomiese en tegnologiese lewensterreine. Wetenskaplike en tegnologiese kennis behoort deur middel van die Sintutale gepopulariseer te word en behoort gevolglik ontwikkel te word om op alle vlakke van die samelewing as funksionele tale gebruik te kan word (Abdulaziz, 1989:32). "Hoe meer funksies 'n taal verloor, hoe vinniger gaan die taal se gebruikswaarde agteruit; hoe kleiner krimp sy taalwêreld; en hoe makliker verskuif sy taalgemeenskap na 'n ander, meer bruikbare taal" (Buys, 2014:4).
3.1.1 Taalbeleid, wetgewing en taalstrukture wat vaktaalontwikkeling beïnvloed
Taalbeleid bepaal die status wat 'n land aan sy tale verleen en gevolglik staan vaktaalontwikkeling en -bestuur in direkte verhouding tot die taalbeleid van 'n land (Alberts, 2003:134; 2008; 2010). Hierdie benadering tot terminologieontwikkeling word die taalbeplanningsgeoriënteerde terminografiebenadering (Engels: language-planning terminography approach) genoem (Alberts, 2017:181-182).
Die meeste terme bereik Suid-Afrika deur medium van Engels. Suid-Afrikaanse Engels het 'n unieke karakter ontwikkel deur die absorpsie van woorde uit Frans, Duits, Portugees, Maleis, Persies, Arabies, Afrikaans en die Sintutale (Grobler et al., 1991), en dit bly steeds 'n taal met 'n goedontwikkelde korpus van terme wat konsepte in velerlei vakgebiede benoem. Hierdie korpus van terme word deurlopend outomaties bygewerk wanneer nuwe terme nuwe konsepte in Engels benoem. Dit was gevolglik nog nooit vir 'n Suid-Afrikaanse liggaam nodig om amptelik terminologie in Engels te ontwikkel nie. Trouens, in Suid-Afrika word Engels hoofsaaklik as die bron- of dokumenteringstaal beskou. Daar word relatief min veranderinge aan die Engelse terme gemaak - soms wel spel- of skryfwyseaanpassings (Alberts, 2003:134).
Die rol en funksie van Afrikaans en die Sintutale het sedert 1994 aansienlik verander as gevolg van politieke en maatskaplike veranderinge. Die Suid-Afrikaanse regering is regtens verplig om meertaligheid in Suid-Afrika te bevorder. Die sogenaamde Tussentydse Grondwet, 1993 (Wet No. 200 van 1993), en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, het 'n totaal nuwe talebestel vir Suid-Afrika ingevoer. Taalregte word in verskillende artikels van die Grondwet, 1996, genoem. In artikel 6 word daar voorsiening gemaak vir elf amptelike tale vir Suid-Afrika en vir die ontwikkeling van dié tale wat voorheen beperkte amptelike status geniet het. Sedertdien (2023) is Suid-Afrikaanse Gebaretaal ook as amptelike taal bygevoeg. Die taalopdrag soos vervat in die Grondwet veronderstel -
• die daarstelling van 'n infrastruktuur deur die staat vir die ontwikkeling en bestuur van al die tale wat in die Grondwet genoem word, en
• die instelling van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (artikel 6(5)) (Alberts, 2003:132, 133).
Die LANGTAG-verslag (DACST, 1996) is deur die Nasionale Taaldiens verder gevoer en 'n nasionale taalbeleidsraamwerk (DAC, 2002) is gedurende 2002 bekendgestel. 'n Implementeringsplan vir die nasionale taalbeleidsraamwerk, wat 'n algemene strategie vir die ontwikkeling van die Sintutale aanbied, is in 2003 bekendgestel (DAC, 2003). Wat vaktaalbestuur betref, word daar nie in die implementeringsplan 'n spesifieke strategie vir die bestuur van terminologiedata uiteengesit nie. Beide die LANGTAG-verslag en die taalbeleids-raamwerkdokument rig egter vaktaalbestuur binne die TCS in (Ferreira, 2002).
3.1.2 Nasionale terminologiebeleid
Daar het nog nooit sedert die RGN-vaktaalverslag van 1984 'n nasionale terminologiebeleid vir Suid-Afrika gegeld nie. Daar bestaan verskeie voorbeelde van terminologiebeleidsraam-werke op internasionale gebied (bv. dié van UNESCO, 2005, en ISO, 2005; 2020) wat deur die SABS/TK 37 ('n nasionale komitee van die internasionale ISO/TK 37-komitee van die Internasionale Standaardeorganisasie (ISO)) as nasionale standaard vir Suid-Afrika aanvaar sou kon word. Die gebrek aan 'n terminologiebeleid veroorsaak dat terminologiewerk lukraak gedoen word deur enige instelling wat terminografie wil bedryf sonder om die nasionale terminologiekantoor in ag te neem of leiding by dié kantoor te vra. Die TCS voldoen nie aan sy doel om die koördineringsgesag vir terminologie in Suid-Afrika te wees nie.
Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSKK) het in 2023 tenders gevra vir die ontwikkeling van 'n nasionale terminologiebeleid (NTB) vir die TCS, 'n direktoraat binne die Nasionale Taaldiens van die Departement. Die nasionale terminologiebeleid is in die tydperk Augustus 2003 tot Junie 2024 ontwikkel en is spesifiek op die werksaamhede van die TCS as nasionale terminologiekantoor gerig. Die doel van die beleid is om riglyne aan beleidmakers in die regering en ander instellings te verskaf oor hoe om terminologieontwikkeling te ondersteun en terminografiese metodes en praktyke toe te pas ten einde vaktaal in Suid-Afrika doeltreffend te bestuur. Die nasionale terminologiebeleid plaas klem op terminologiebestuur deur die TCS en die koördinering van die terminologie van vaktale deur verskillende instellings ten einde konseptuele vakkennis met behulp van meertalige terme in die amptelike Suid-Afrikaanse tale ooreenkomstig die Suid-Afrikaanse Grondwet aan te teken en te versprei (Layton, Alberts & Sanker, 2024). Hopelik sal hierdie beleid die terminologiebedryf weer op die regte spoor bring.
3.2 (Vak)taalkantore, taaldienste en taaleenhede
Die meeste van die destydse groot taalkantore is intussen verklein of ontbind. Buiten die TCS, wat terminologiewerk namens die sentrale regering behartig, is daar tans egter wel verskeie taal- en redaksiekantore, taaldienste en taaleenhede op al drie die owerheidsvlakke (nasionaal, provinsiaal, plaaslik) wat hulle in 'n mindere of meerdere mate met terminologiewerk bemoei.
3.2.1 Terminology Coordination Section
Sedert 1994 gee die nuwe regering deur middel van die NTD, en later die TCS, aandag aan vaktaalontwikkeling en -voorsiening in die elf amptelike tale (en sedert 2024 ook aan Suid-Afrikaanse Gebaretaal), en wel op 'n verskeidenheid van spesialisgebiede.
Daar was vir ongeveer 'n dekade ná 1994 steeds tien Afrikaanstalige terminoloë by die TCS werksaam, wat ook vir die Engelse brontaalterme en -definisies verantwoordelik was.
Dit blyk uit die navorsing wat onderneem is om 'n Nasionale Terminologiebeleid vir die TCS te ontwikkel (vgl. Layton, Alberts & Sanker, 2024), dat die begroting en personeelstruktuur van die TCS tans voorsiening maak vir slegs een terminoloog per amptelike taal. In die praktyk is daar tans (2024) slegs een terminoloog per Sintutaal werksaam, maar geen Engelstalige of Afrikaanstalige terminoloog nie. 'n Pos wat vakant raak, byvoorbeeld deur bedanking of aftrede, word nie gevul nie. Daar is weliswaar in 2024 'n gebaretaalpos goedgekeur om die vaktaalbegrippe se gebare te standaardiseer, maar die aanstelling van terminoloë om Engels en Afrikaans te hanteer, is nie in die vooruitsig nie. Boonop ontvang die nuutaangestelde terminoloë slegs opleiding om die rekenaarbestuurstelsel te bedryf en nie in die teorie en praktyk van terminologie en terminografie nie, hoewel daar verskeie handleidings beskikbaar is (Cluver, 1989; Alberts, 2017; 2019). Die kantoor beskik ook nie oor genoegsame hulpbronne om al die vaktaalprodukte te lewer wat die Sintutale se vaktale sodanig sal uitbrei dat hulle tot funksionele tale kan ontwikkel wat in alle gebruiksfere van menslike aktiwiteit aangewend kan word nie (Layton, Alberts & Sanker, 2024).
Engels dien steeds as brontaal omdat tersaaklike vakgerigte inligting meestal in Engels beskikbaar is. Daar is egter by die TCS daarvan sprake om die Sintutale as brontale te gebruik - iets wat slegs moontlik sal wees indien vakkundige bronne in dié tale beskikbaar is. Voorheen, tydens die tweetalige bestel, is slegs vertalende vakwoordeboeke en termlyste saamgestel met die doel om Afrikaanse termekwivalente so gou doenlik aan gebruikersgroepe beskikbaar te stel. Definiëring sou tydrowend wees, maar omdat die terminoloë deurgaans saam met vakkundiges in vakkomiteeverband gewerk het, kon hierdie kundiges behulpsaam wees met die verklaring van konsepte en die benoeming daarvan in Afrikaans. In die huidige meertalige bestel moet verrykte en uitgebreide terminologiese inligting voorsien word. Definisies word in Engels verskaf, met meestal slegs termekwivalente in Afrikaans en die Sintutale. Dat daar steeds geen Engels-moedertaalspreker by die nasionale terminologiekantoor in diens is nie, is onbegryplik, gegewe die feit dat definisies vir konsepte slegs in Engels verskaf word.
Tydens die ondersoek vir die NTB (vgl. Layton, Alberts & Sanker, 2024) het dit geblyk dat, hoewel Afrikaans nog as een van die amptelike Suid-Afrikaanse tale terminologies behandel behoort te word, daar in werklikheid nie meer by die TCS sprake is van die uitbreiding van die Afrikaanse vaktaal nie. Die vakgebiede waaraan daar tans op nasionale vlak gewerk word, is op die laer registers van vaktaalgebruik gerig (bv. basiese gesondheid en skoolvakke), waarvoor daar reeds Afrikaanse terme bestaan; die kantoor voldoen dus nie aan die vaktaalbehoeftes van Afrikaans op hoër vlakke nie (Alberts, 2003:143; 2015b; 2019).
Terminologiewerk vorder stadig, is duur en is tydrowend vanweë die groter aantal (voorheen terminologies onontwikkelde) tale betrokke en die aantal nuwe terme wat geskep en goedgekeur moet word. Daar is sedert 1994 'n afname in die publikasie van nuwe vakwoordeboeke deur die nasionale terminologiediens (Luther, 2005). Die volgende gedrukte meertalige terminologielyste in al elf tale is sedert 2000 deur die TCS saamgestel: Wiskunde (Grade R tot 6) (2003); Parlementêre en politieke terme (2005; 2013); Inligting en kommunikasie (2005); Sokker (2009; 2018); MIV/Vigs (2013); Verkiesing (2014); Kuns en Kultuur (2015); Lewensoriëntering (2016); Finansiële terme (2017); Menslike, sosiale, ekonomiese en bestuurswetenskappe (2017); Farmaseutiese terme (2021); Ingenieurs- en konstruksieterme (lopend); Verkeersveiligheid (lopend); Inheemse plante en diere (lopend); Verkiesing, natuurwetenskappe en tegnologie (sonder Afrikaanse terme, s.j.) (vgl. TCS, 2018).
Die TCS en sy onmiddellike voorgangers het sedert die RGN-verslag van 1984 (Cluver & Scheffer, 1984) die vaktaalkoördineringsrol oorgeneem. As vaktaalkantoor van die sentrale regering is die TCS dus veronderstel om steeds 'n nasionale terminologiediens te lewer. Dit behels alle aspekte van die aantekening, standaardisering, disseminering en koördinering van meertalige vaktaaldata. Die terminologiekoördineringsproses is veronderstel om die volgende te behels:
• samewerking en skakeling tussen belanghebbendes, rolspelers en medewerkers (bv. vakspesialiste, akademici, taalkundiges, taaleenhede in nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlakke, nasionale taalliggame, nasionale leksikografiese eenhede, onderwys en opleiding (primêr, sekondêr en tersiêr), uitgewers, ens.)
• behoeftebepaling en prioriteitsbepaling
• koördinering van terminologieontwikkelingsinisiatiewe
• registrasie van terminologieprojekte in 'n nasionale register om samewerking te bewerkstellig en oorvleueling van projekte te beperk
• aantekening van terminologiese data in die nasionale termbank
• disseminering van terminologiese data (Alberts, 2015b; Layton, Alberts & Sanker, 2024)
Vantevore het die nasionale terminologiediens, as fasiliteerder van vaktaalaktiwiteite, vaktaalbehoeftes geïdentifiseer en samewerking tussen alle belanghebbendes bevorder. Die Afdeling Stelselontwikkeling en Navorsing wat hierdie sake hanteer het, bestaan nie meer by die TCS nie (vgl. Figuur 1). Skakeling en wedersydse stimulering en samewerking is tans nie na wense nie. 'n Nasionale register waarin alle vaktaalprojekte geregistreer moet word om duplisering te verhoed en, waar moontlik, samewerking te bewerkstellig, was lank onder konstruksie (Alberts, 2000a; 2015b; Layton, Alberts & Sanker, 2024).
Die nasionale termbank waarin alle terminologie gedeponeer behoort te word, is steeds nie operasioneel nie (Layton, Alberts & Sanker, 2024). Sedert die rekenarisering van die terminografieproses is van verskeie doelgemaakte datavasleggingsprogramme gebruik gemaak. Tans word die Autshumato Terminology Management System (TMS) gebruik wat deur CTexT van die Noordwes-Universiteit ontwikkel is. Dit is 'n oopbronrekenaarstelsel wat as terminolo-giebestuurstelselprogram die kantoor in staat stel om die nasionale termbank te beheer en te bestuur. Die stelsel bied 'n aanlyn terminologiediens wat die skep, die in- en uitvoer van terminologie en die instandhouding van data vergemaklik. Die stelsel is taalonafhanklik en enige taal kan in die stelsel bygevoeg word. Die TMS vergemaklik ook die uitvoer van terme as glossariums (wat saam met vertalingsprogrammatuur gebruik kan word) óf as woordeboeke (wat gepubliseer kan word) óf as aanlyn data. Die terminologiekantoor poog om alle termino-logiese aktiwiteite uit te voer en rekenaartoepassings aan te wend volgens internasionale standaarde, soos bepaal word deur die Internasionale Standaardeorganisasie se Tegniese Komitee (ISO TK/37) (Alberts, 2003:139; 2015b; Layton, Alberts & Sanker, 2024).
Vertalers verbonde aan die Nasionale Taaldiens en eksterne taalwerkers kan met die TCS skakel en van die beskikbare terminologie gebruik maak. Die terminoloë kan ook terme by die taalpraktisyns oes deur alle bron- en doeltaaldokumente te ekserpeer volgens die ISO TK/37-standaarde se vertaalgeoriënteerde terminografiebenadering (ISO, 2002; Alberts, 2017:179-180).
Die TCS werk ten opsigte van Afrikaanse termskepping nou saam met die Taalkommissie van die SAAWK en die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (PanSAT) en ten opsigte van Engels word die English Academy of Southern Africa en die English National Language Body (PanSAT) geraadpleeg. Die lede van die nasionale taalliggame vir die Sintutale word gebruik om die Sintutale se terminologie te beoordeel en goed te keur en die Nasionale Taalliggaam vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal maak seker dat die gebare wat vir bepaalde begrippe gebruik word, korrek is sodat dit deur middel van videogrepe beskikbaar gestel en gestandaardiseer kan word (vgl. 3.3.2.6; Blose, 2024). Die lede van die NTL'e kan nie konseptuele en vakkundige inhoude beoordeel nie, want hulle is linguiste; hulle kan gevolglik slegs bepaal of terme aan die woordvormingsbeginsels en spel- en skryfreëls van die betrokke taal voldoen (Alberts, 2013:1-28).
3.2.2 Ander taalkantore en taaleenhede
Afgesien van spontane en dikwels ongekoördineerde termskeppingsaktiwiteite is daar ook doelbewuste pogings in Suid-Afrika om die terminologieë van bepaalde vakgebiede of beroepe te verwerk en in termlyste/vakwoordeboeke of aanlyn beskikbaar te stel. Die Nasionale Taalbeleidsraamwerk van Suid-Afrika (2003) (Engels: National Language Policy Framework [NLPF]; DAC, 2002) gee, net soos die Grondwet, 1996, erkenning aan die amptelike tale en die gelykberegtiging van dié tale. Volgens hierdie beleid moet elke amptelike taal gelyke toegang tot die linguistiese hulpbronne van die staat hê om nasionale harmonie en die linguistiese en kulturele diversiteit van die land te bevorder. Die NLPF het ten doel om alle openbare amptelike dokumente in die elf skriftelike amptelike tale aan die publiek beskikbaar te stel (vgl. NLPF, 2002).
Die NLPF vereis verder dat daar taaleenhede in al drie regeringsfere (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) ingestel word. Voorbeelde van sulke taaleenhede is die taaldienste by die Subdirektoraat Taaldienste van die Departement van Kultuursake en Sport van die provinsie Wes-Kaap, waar die Taalforum van die Wes-Kaap gestig is om die provinsie se taalaktiwiteite te koördineer; die Limpopoprovinsie se Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Vertaal-en Tolkafdeling van die Parlement; die Owerheidskommunikasie en Inligtingstelsel; die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde; die Kantoor van die Staatsregsadviseur, Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling; Statistieke Suid-Afrika; Departement van Landbou, Wes-Kaap, en vertalers verbonde aan munisipaliteite. Hierdie instellings publiseer nie noodwendig hul terminologie nie, maar die vertalers verbonde aan die instellings gebruik die terme wanneer hulle vertaal en so word die terme gestandaardiseer. Standaardisasie is 'n proses wat plaasvind wanneer terme deur herhaalde gebruik die vakgebied en taal/tale binnedring en so standaardterminologie word.
Die NLPF-beleid is nie altyd prakties uitvoerbaar nie, maar die beleid vir die gebruik van die amptelike tale ingevolge die "Use of the Official Languages Act", 2012 (Wet No. 12 van 2012) vereenvoudig die kommunikasieproses deur die vereiste dat dokumente wat onder die aandag van die algemene publiek gebring moet word, in minstens drie van die amptelike tale beskikbaar gestel moet word. Die drie Sothotale is onderling verstaanbaar en so ook die vier Ngunitale; gewoonlik word daar dus een taal uit elk van hierdie groeperinge gekies vir kommunikasiedoeleindes. Afrikaans, Engels, Tsonga, Venda en Suid-Afrikaanse Gebaretaal moet dus ook om die beurt gebruik word. Dit is egter nie die ideale situasie nie en lok dikwels skerp kritiek van taalgemeenskappe uit. Terminologiebestuur moet dus ook binne sodanige veeltaligheidsbestel uitgevoer word.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is een van die staatsondernemings wat terminologiese inligting aan hul teikengebruikers, die belastingbetalers, beskikbaar stel. Die SAID se webtuiste bevat 'n Engelse glossarium en 'n veeltalige termlys (2022) in al 11 amptelike tale wat 450 finansiële terme bevat (o.m. belasting, testament, akronieme en afkortings) (vgl. SARS-SAID, 2022). Die veeltalige termlys is saamgestel met die doel om die tale wat terminologies hulpbronarm is, te bevorder, en aan die teikengebruikers se spesifieke taalbehoeftes te voldoen (Goosen, 2024). Hierdie termlyste is dus volgens 'n gemeen-skapsgeoriënteerde terminografiese benadering opgestel (Engels: community-oriented terminography approach) (Alberts, 2017:180). Die meertalige Covid 19-terminologielys wat deur die taaldiensafdeling van die Tshwane Munisipaliteit opgestel is (Mnisi, 2024), is ook 'n voorbeeld van 'n termlys wat op die spesifieke behoeftes van die gebruikersgemeenskap gemik is.
3.3 Ander instansies en individue
Buiten staatsinstellings is daar ook ander instansies en individue wat steeds aandag aan vaktaalontwikkeling skenk.
3.3.1 SAAWK
Die destydse Vaktaalburo van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het verskeie vakwoordeboeke saamgestel en by nabaat kan gesê word dat hierdie kantoor seker nooit in 1976 met dié van die staat geamalgameer moes word nie.
3.3.1.1 Terminologiekomitee
Die SAAWK het later 'n Terminologiekomitee gehad wat uit 'n linguis, 'n vakkundige en 'n terminoloog bestaan het en van 1995 tot ongeveer 1999 gefunksioneer het. Die Terminologiekomitee het vakkundiges wat daarin belanggestel het om termlyste of vakwoordeboeke saam te stel, ondersteun deur terminografiese hulp te verleen en te help met termskepping (vgl. Bouwoordeboek 2020, Kunswoordeboek 2021).
3.3.1.2 Ondersteuning aan vaktaalprojekte
Die SAAWK ondersteun steeds vaktaalinisiatiewe wat deur individue of vakkomitees hanteer word, bv. die Musiekwoordeboek (2000), die Bouwoordeboek (2020), die Kunswoordeboek (2021), en die aanlyn Sciwoord (bestaande uit die Chemie-, die Fisika- en die Kern-energiewoordeboek). Die Akademie het reeds versoeke gekry om die Veeartseny-, die Wiskunde-en die Argitektuurwoordeboek te hersien (De Villiers, 2024; Willemse, 2024; Brink, 2024a).
3.3.1.3 Vaktaalkommissie
Die Akademieraad het dit reeds in 2024 goedgekeur om 'n Vaktaalkommissie (as verlengstuk van die toenmalige Terminologiekomitee) in te stel (Brink, 2024b) wat onder meer daarvoor verantwoordelik sou kon wees om nuwe projekte te identifiseer, bestaande vakwoordeboeke te laat hersien, befondsing daarvoor te kry en selfs (afgetrede) Akademielede te versoek om die terminologie eie aan hul onderskeie vakgebiede aan te teken en die terminologie met behulp van vakkundiges en taalkundiges te verifieer en aan teikengebruikers beskikbaar te stel.
3.3.1.4 Betrokkenheid van die Taalkommissie by terminologie
Die SAAWK se Taalkommissie het die Akademielede in 2016 versoek om ten minste 100 kernterme van hul onderskeie vakgebiede aan die Taalkommissie te stuur vir insluiting in die woordelysgedeelte van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Die versoek was dat die terme die vakgebied eenduidig moes verteenwoordig, voorbeelde van nuutskeppings moes wees en moontlike spelling- en/of skryfprobleme kon veroorsaak. Verskeie lede van die Akademie het termlyste aan die Taalkommissie gestuur en hierdie lyste is sorgvuldig tydens Taalkommissiesittings deurgewerk met die oog op opname in die woordelysgedeelte van die 2017-AWS. Die verskillende uitgawes van die AWS was oor die jare waardevolle hulpmiddels by termskepping omdat dit woordvormings-, spel- en skryfreëls vir Afrikaans bepaal.
3.3.1.5 Virtuele Instituut vir Afrikaans
Die SAAWK is een van die stigterslede van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), wat 'n maatskappy sonder winsoogmerk is en tussen 2010 en 2014 gekonseptualiseer en gevestig is. VivA is 'n gesamentlike inisiatief van die Akademie, die Dagbreek Trust, die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) van die Noordwes-Universiteit en die Afrikaanse Taal- en Kultuur-vereniging (ATKV). Alle aspekte van die struktuur, grammatika, dokumentering en ontwikkeling van Afrikaans word reeds deur VivA ondervang. Die VivA-projek gebruik die oopbron-Autshumato-TMS om Afrikaanse grammatika, woorde, terme, gesegdes, vertalings, etimologieë en taaladvies vas te lê, wat dan op die webwerf (http://viva-afrikaans.org) deur middel van die korpusportaal en die woordeboekportaal beskikbaar gestel word.
Die gebruik van VivA se infrastruktuur maak dit moontlik om termdatabasisse/termlyste aan VivA te lisensieer. Daar word onderling deur die samestellers van die vakwoordeboeke of termlyste en VivA bepaal of die terminologiese data gratis of teen betaling aan gebruikers beskikbaar gestel word. VivA beskik ook oor 'n selfoontoepassing vir 'n Afrikaanse woordeboek wat kitstoegang tot vaktaaldata verleen; dit is met die ondersteuning van die Atterbury Trust ontwikkel (SAAWK, 2015b:7). Vakwoordeboeke en termlyste op die volgende terreine is byvoorbeeld aanlyn op VivA beskikbaar: etimologie, blokkiesraaisels, kuberterme, wynbedryf, sterrekunde, voorsetsels, kollokasies, entrepreneurskap, statistiek, voëlname, paramediese beroep, fisika, chemie en kernenergie - (hierdie drie in Sciwoord), kookkuns, politiek, psigiatriese versteurings, die Covid-19-termlys, die VivA/RSG-uitspraaklys, die FAK se Noodhulplys, en die Prolingua-termlys. VivA het ook Wikipedia, Wiktionary en 'n Wikipedia-rekenaartermlys aanlyn beskikbaar. Verskeie meertalige lyste deur die TCS, soos dié oor inligting en kommunikasie, lewensoriëntering, natuurwetenskappe en tegnologie, wiskunde, en die termlys vir menslike, sosiale, ekonomiese en bestuurswetenskappe (almal vir die Intermediêre Fase), MIV/vigs-, sokker-, verkiesings-, en parlementêre en politieke terme is ook op VivA beskikbaar (vgl. https://viva-afrikaans.org/portale/produkte-en-dienste).
Die SAAWK ondersteun ook die Afrikaanse Wikipedia, waarin ook 'n lys van Suid-Afrikaanse vlinders (s.j.) te vinde is.
3.3.1.6 SAA WK-toekennings
Die SAAWK bekroon jaarliks werk van uitmuntende gehalte met behulp van verskeie toekennings. CEPTSA het in 2001 die Stals-prys vir die Nuwerwetse Politieke woordeboek ontvang. Dit is 'n prys wat toegeken word vir hoogstaande publikasies in, by voorkeur, Afrikaans, deur individue of groepe waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskapsbeoefening gelewer word. Die suksesvolle individu of groep persone kan hierdie toekenning net een maal ontvang.
3.3.1.7 SAAWK-boekery
Die SAAWK het 'n aansienlike aantal algemene en vakwoordeboeke in sy boekery beskikbaar wat oor verskeie jare deur verskillende taalkantore en individue saamgestel is, en wat aan navorsers, vertalers en studente beskikbaar gestel word. Die vakwoordeboeke in hierdie boekery sluit omtrent alle vakgebiede of navorsingsterreine in (Alberts, 2015a); die meeste van hierdie vakwoordeboeke is reeds uit druk en sommige is nooit hersien nie. Die terme is egter steeds baie bruikbaar, maar dit is nie altyd moontlik om die vakwoordeboeke of termlyste te bekom nie. Hierdie terme sou gedigitiseer en in VivA opgeneem kon word.
3.3.2 Kuituur- en professionele verenigings en rade
3.3.2.1 Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) stel nie self termlyste of vakwoorde-boeke saam nie, maar het in die verlede ondersteuning aan individue gegee wat termlyste saamgestel het (Alberts, 2003:139; 2015b). Termlyste - soos Hokkie (1935), Korfbal (1935), Swem- en Waterpolo (1936),Atletiek (1939), Boks (1939), Motor-, Musiek-, Rugby-, Gholf- en Tennisterme - is in die FAK se Handhaaf- en Boureeks gepubliseer (kyk afd. 2 hier bo). Die Noodhulptermlys is onlangs deur die FAK namens die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga hersien en saamgestel (Nel, 2024).
Die FAK beskik nie tans oor die nodige kapasiteit om met nuwe terminologieontwikkeling te begin nie, maar is reeds besig om die vaktaalprojekte wat deur hulle ondersteun is, by te werk en te digitiseer. Die Krieket-, Motor- en Tennisterme is reeds gedigitiseer en op aanvraag beskikbaar. Dit is ook aanlyn op die VivA-platform beskikbaar (Nel, 2024).
Volgens die FAK se Adjunkhoof (vgl. Theron, 2024) sal die FAK met volgehoue druk en positiewe insette voortgaan om Afrikaans nie te laat vervlak tot bloot 'n gebruikstaal nie, maar om nog steeds te strewe na die edel doel om Afrikaans as volwaardige vak-, wetenskaps- en dinamiese taal te vestig en voort te bou.
3.3.2.2 Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging
Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) het ook nooit self vakwoordeboeke of termlyste saamgestel nie, maar sy inisiatief om pryse aan woordeboeke van gehalte toe te ken, dien as aansporing vir woordeboeksamestellers. Die ATKV se Woordwystoekenning ("Woordveertjie"), met 'n kontantprys en 'n trofee daaraan verbonde, word jaarliks toegeken aan 'n uitmuntende (vak)woordeboek wat die vorige jaar gepubliseer is. Voorbeelde van vakwoordeboeke wat reeds hierdie gesogte toekenning ontvang het, is AJ Smit se Opvoed-kundewoordeboek in ses volumes (2008, private publikasie); Woordeboek vir die Gesondheids-wetenskappe deur AJ Brink en J de V Lochner (2011, Pharos); die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale (SRTAT) se Engels-Afrikaanse/Afrikaans-Engelse verklarende woordeboek Straf-, Strafproses- en Bewysreg (2015, Juta); die Engels-Afrikaanse/Afrikaans-Engelse Verklarende Politieke Woordeboek deur die Sentrum vir Politieke en Verwante Terminologie in Suidelike Afrika (CEPTSA) (Juta, 2017); die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale (SRTAT) se drietalige (Engels-Xhosa-Afrikaanse/Xhosa-Engels-Afrikaanse/Afrikaans-Engels-/ Xhosa- verklarende woordeboek: Straf-, Strafproses- en Bewysreg (2019, Juta); die Kuns-woordeboek deur A Duffey en S Roets (2021, Protea Boekehuis).
3.3.2.3 Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut
Die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) is 'n professionele vereniging wat die belange van taalpraktisyns behartig. SAVI poog om taalpraktisyns op verskeie terreine te verteenwoordig, en hul belange en die gehalte van vertaaldienste te beskerm. SAVI het uit die Munisipale Vertalersvereniging, wat in 1950 gestig is, ontstaan en verteenwoordig tans verskeie taalwerkers in Suid-Afrika en op die vasteland van Afrika wat in die taalbedryf werksaam is. SAVI het verskeie akkrediteringseksamens ontwikkel, waaronder ook een vir terminoloë.
Die SAVI-prys vir die Beste Vertalende Woordeboek word ook jaarliks aan die beste (vak) woordeboek van die jaar toegeken. CEPTSA se Verklarende Politieke Woordeboek (2018) het hierdie prys in 2018 ontvang.
3.3.2.4 Prolingua
Prolingua, 'n professionele vereniging vir taalpraktisyns, het reeds in 1950 tot stand gekom (Prolingua, 2015:1-2; Alberts, 2017:164) en tot en met 2018 maandeliks werksvergaderings gehou om terminologieprobleme te bespreek en nuwe terme te skep. Die lede kommunikeer sedertdien aanlyn en kry steeds die geleentheid om probleemterme onderling te bespreek en oplossings te vind. Prolingua poog om op dié wyse die terminologie van verskeie domeine te verbeter en, waar moontlik, vir vertaaldoeleindes te standaardiseer.
Prolingua het die nodige toestemming van die meeste uitgewers, vakwoordeboeksame-stellers en vaktaalkantore ontvang om die vaktaaldata van publikasies wat reeds uit druk is en waarvan die outeursreg opgehef is, in die Prolingua-termlys op te neem. Die vaktaaldata word sedert 1984 versamel en die beskikbare terme word voortdurend hersien en bygewerk, en dan aanlyn versprei (2024, Prolingua). Voorbeelde van terreine wat gedek word, is brandweer, elektrotegnies en elektronika, kernenergie, plastiek, poskantoor, opmeetkunde, en stads-beplanning. Verskeie termlyste wat onlangs deur individue of instansies saamgestel is, is ook in die Prolingua-termlys opgeneem, byvoorbeeld brug- (die kaartspel), Gautrein-, motorvoertuig-, radio-, water- en rioolterme, en die nuwe name van die hoër howe.
Hoewel Prolingua aan tweetalige termlyste werk, is daar steeds 'n groter behoefte aan die skep van Afrikaanse terme.
3.3.2.5 Afrilex
Die African Association for Lexicography (Afrilex) is 'n vereniging wat in 1995 gestig is om die belange van individue en organisasies wat met leksikografie en terminografie gemoeid is, te beskerm en te bevorder. Dit word gedoen deur middel van die koördinering van projekte, en navorsing en opleiding op bepaalde terreine.
Tersaaklike leksikografies en terminografies georiënteerde inligting word op konferensies en seminare, en in werkwinkels en opleidingskursusse gedeel en verder deur middel van artikels in die Lexikos-vaktydskrif in die Afrilex-reeks, nuusbriewe en 'n Facebook-blad versprei. Verskeie vakgerigte artikels oor terminologieteorie en die terminografiebedryf is reeds (ook in Afrikaans) in Lexikos gepubliseer. Artikels wat aan Lexikos vir publikasie vooigelê word, moet oor 'n Engelse en 'n Afrikaanse opsomming, asook sleutelterme in beide tale beskik. Terminologie uit leksikografie, terminografie en selfs linguistiek in artikels of opsommings word op hierdie wyse te boek gestel en versprei.
Die personeel van die elf nasionale leksikografie-eenhede is lede van Afrilex en die eenhede kry op internasionale konferensies die geleentheid om hul werksaamhede te bespreek (vgl. Alberts, 2022:1-24). Die personeel verbonde aan instellings wat met vaktaal gemoeid is, behoort ook lede van Afrilex te wees om meer blootstelling van leksikografiese en terminografiese beginsels en praktyke te wete te kom. Die vakvereniging skakel gereeld met soortgelyke nasionale en internasionale instansies (bv. SAVI, Prolingua, Euralex, Asialex en Infoterm).
3.3.2.6 Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Dowes/Nasionale Instituut vir Dowes
Gebaretaal is 'n konseptuele taal en gebare verteenwoordig die konsepte wat nie met behulp van terme verwoord kan word nie. In 1980 is die woordeboek Praat met die Dowes deur Norman Nieder-Heitmann in opdrag van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Dowes saamgestel en deur die Staatsdrukker gepubliseer. Dit is 'n woordeboek waarin sketse en foto's van gebare opgeneem is om die gebare te standaardiseer sodat dowes, gehoorgestremdes en horendes sinvol kan kommunikeer.
Sedertdien het die Nasionale Instituut vir Dowes (NID), wat 'n maatskappy sonder winsoogmerk is wat die belange van dowes en gehoorgestremdes bevorder, in samewerking met die Nasionale Taalliggaam vir Suid-Afrikaanse Gebaretaal (NTL SAGT) van PanSAT begin om videogrepe op te neem van gebare wat in verskillende vakgebiede aangetref word. Voorbeelde van hierdie video's, waarmee in 2010 begin is en wat deur die NLT SAGT nagegaan en goedgekeur is, behels gesondheid (2010, NTL SAGT; 2024, NID); plekname (2023,
Universiteit van die Vrystaat); kriminologie (2023, Universiteit KwaZulu-Natal); en sosiolinguistiek (2024, Universiteit van die Witwatersrand). Die meeste van hierdie termlyste is sonder opgeneemde videogrepe deur die samestellers aangebied en dit is eintlik standaardpraktyk dat gebaretaal as videogrepe aan die NTL SAGT voorsien moet word.
Daar is ook aanlyn hulpmiddels beskikbaar wat deur die NID in Engels en Suid-Afrikaanse Gebaretaal saamgestel is, byvoorbeeld by https://nid.org/za>news>nid-online (2022, NID) en 'n gebaretaalglossarium deur die Universiteit van die Witwatersrand (2022). Die Noordwes-Universiteit (2024) bied 'n gebaretaalkursus aan vir horende en niehorende persone om kommunikasievaardighede te bevorder.
Aangesien Suid-Afrikaanse Gebaretaal sedert 2023 die status van amptelike taal geniet, het die TCS in 2024 'n gebaretaalterminoloog in diens geneem (kyk 3.2.1).
3.3.3 Vakkomitees
3.3.3.1 Sentrum vir Politieke en Verwante Terme in Suidelike Afrika
Die destydse vakkomitee vir die staatkundeprojek (vgl. Staatkundige en verwante terme, 1989) het in 1990 die Sentrum vir Politieke en Verwante Terme in Suidelike Afrika (CEPTSA) by die Randse Afrikaanse Universiteit gestig; CEPTSA het later onder die vaandel van die Universiteit van Johannesburg gewerk. Die tweetalige vertalende politieke woordeboek (Nuwerwetse Politieke woordeboek, 2001) en hersiene uitgawes daarvan is reeds gepubliseer. 'n Termlys met 1 000 kernterme is reeds in Engels, Afrikaans en vier van die Sintutale verklaar en gepubliseer (2004) (Alberts, 2015a:1; 2015b:1). Die komiteelede se tweetalige, vertalende en verklarende politieke woordeboek is in 2017 deur Juta gepubliseer.
3.3.3.2 Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale
Die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale (SRTAT) het in 1994 befondsing van die Nasionale Taaldiens ontvang om 'n drietalige regswoordeboek (Engels, Afrikaans, Noord-Sotho) oor straf-, strafproses- en bewysreg saam te stel. Die Engels-Afrikaanse verklarende deel van hierdie regswoordeboek is in 2015 deur Juta gepubliseer en daar is reeds begin met die vertaling van die vaktaaldata in die ander Sintutale (Alberts, 1997a, 1997b; 2003:140; 2015b; CLTAL, 2015). Die eerste in die reeks meertalige regswoordeboeke oor hierdie afdelings van die reg, naamlik die Engels-Xhosa-Afrikaanse weergawe, is in 2019 deur Juta gepubliseer. Die Engels-Tsonga-Afrikaanse weergawe is reeds (2024) op die pers by Juta.
3.3.4 Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad
Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se betrokkenheid by terminologieontwikkeling is beperk tot die validering en verifiëring van terminologielyste. Die nasionale taalliggame kan slegs insette gee ten opsigte van die woordvormingsbeginsels en spel- en skryfreëls van die betrokke tale en nie die vakkundige inhoud nie, want die lede van die nasionale taalliggame is linguiste en nie vakkundiges op die gebied van die betrokke termlys nie (vgl. Alberts, 2017:208, 210, 291-292).
Die tweerigtingvertalende Khoekhoegowaab-Afrikaanse Glossarium (2010) is in opdrag van PanSAT saamgestel en die projek is ook in sy geheel deur PanSAT gefinansier. Die Tegniese Komitee: Terminologie en Leksikografie van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) en die Nasionale Taalliggaam vir Khoe en San (NTLKS) het waardevolle insette in die samestellingsproses gelewer.
3.3.5 Individue
Hoewel die saamstel van 'n vakwoordeboek 'n langdurige en moeisame proses is, is daar steeds individue en akademici wat 'n behoefte aan 'n vakwoordeboek in hul spesialiseringsveld identifiseer en dan begin om in hul vrye tyd 'n vakwoordeboek saam te stel (Alberts, 2015b). Voorbeelde van sulke projekte met Afrikaans as een van die behandelde tale is Epidemiologie (2000); Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe (2001); Afrikaans-Japannese woordeboek (2001); Brugwoordelys (kaartspel) (2002, 2010); Akademiese termlys (2003); Etimologie (2003); Sakewoordeboek (2003, 2009); Ekonomiese en bedryfswoordeboek (2004); Oseano-logiewoordeboek (2004); WAITT-woordeboek (rekenaarwese) (2004); Kurrikulumterm lys (2005); Kuberwoordeboek (2006); Opvoedkundewoordeboek (drie dele; 2007/2008); Kookkuns (2008); Wiskunde vir skole (2009); Wynbedryf (2012, 2024); Wetenskapfiksie (2012); Statistiekwoordeboek (2015); Amateurradio (2016); Radiowoordelys (2016, 2017); Lugvaartterme (2018), Woordeboek van Psigiatriese versteurings (2019), Afrifiksie (webwerf) (lopend), Konyntelery (s.j.), Woordeboek van Afrikaans Vandag (s.j.), Chemie-/Wetenskapwoordeboek (s.j.) (Clarke, 2024; Viljoen, 2024).
3.3.6 Banke en versekeringsmaatskappye
Verskeie taaldienste verbonde aan banke en versekeringsmaatskappye het in die verlede vakwoordeboeke saamgestel en tans word termlyste steeds bygehou vir interne gebruik. Hierdie terme sou waardevol kon wees, maar is nie algemeen beskikbaar nie en is gevolglik net vir die bepaalde instansie se taaldienste van waarde (Alberts, 2015b). Daar was in 'n stadium 'n terminologieforum waar taalpraktisyns verbonde aan die taaldienste van hierdie instansies gereeld byeengekom het om terminologieprobleme te bespreek, maar hierdie inisiatief het doodgeloop (Roux, 2024; Absa, 2024; Nedbank, 2024; Standard Bank, 2024; Sanlam, 2024).
3.3.7 Uitgewers
Uitgewers het ook gedurende die periode 1925-2025 tyd en geld in vaktaalprojekte belê deur vakspesialiste te nader om vakwoordeboeke saam te stel, maar vakspesialiste het ook uitgewers genader om vakwoordeboeke wat deur hulle saamgestel is, te publiseer. 'n Vakwoordeboek is gewoonlik slegs bestem vir 'n beperkte spesialisgebruikersgroep en om vakwoordeboeke te publiseer is dus nie vir uitgewers betalend nie.
Verskillende uitgewers het wel vakwoordeboeke gepubliseer, byvoorbeeld op die volgende terreine: motors (1935) en geneeskunde (1935) deur Nasionale Pers; musiek (1971), wiskunde (1971), toneel, ballet, rolprente en hoorspele (1972) en frases (1992) deur Tafelberg-Uitgewers; wetenskap en tegnologie (1973), psigologie (1979) en rekenaarwese (1985) deur McGraw-Hill; geneeskunde (1974) deur Elsevier; die nasionale boomlys (1972, 1978), genetika en statistiek vir veekunde (1983), wetenskap (1984), sake (1991) en geneeskunde (1993) deur Oxford; polisie (1994) deur Van Schaik; rekeningkunde (1958; 1996), verpleegkunde (1984), kommunikasie (1991), eiendomsagentskappe (1992), gesondheidsorg (1997), politiek (2017) en regte (1963, 1986; 2015, 2019) deur Juta; sake (1991, 1993, 1995), rekenaars en internet (1998), nuwe woorde en oues wat in die slag gebly het (1999), boomtermlyste en boomwoordeboeke deur Briza (CD-ROM), ekonomie en bedryfswese (2004) en oseanologie (2004) deur Pharos; sleng (2006) deur Pearson; die kuberomgewing (2006) en kuns (2020) deur Protea Boekehuis; wiskunde (2009) deur Cambridge University Press. Ander uitgewers soos Kaap en Transvaal Drukkers, Lexikon Uitgewers, Nasionale Boekdrukkers, Nasionale Opvoedkundige Uitgewery Beperk (NASOU), Lex Patria, Pro Media, Excelsior Drukkers, HAUM, Hayne & Gibson, Kagiso, Voortrekkerpers, en andere het ook deur die jare vak-woordeboeke en termlyste gepubliseer. Die Staatsdrukker was uiteraard die grootste uitgewery wat by vaktaalpublikasies betrokke was (Alberts, 2003:137; 2015b).
Hoewel mediahuise en uitgewers die publikasie van vakwoordeboeke nie as lonend beskou nie, behoort daar met hulle onderhandel te word om vakwoordeboeke of vaktaaldata ook aanlyn te publiseer, wat vir alle belanghebbendes van waarde kan wees. Die register kan dan makliker vir verskillende gebruikersgroepe aangepas word sodat die vaktaaldata vir sowel die vakspesialis as die leek bruikbaar kan wees (Alberts, 2015b).
3.3.8 SADiLaR
Die South African Centre of Digital Resources (SADiLaR) (https://sadilar.org; SADiLaR, 2024) is 'n nasionale sentrum wat deur die staat befonds word en fokus op die navorsing in en ontwikkeling van die amptelike tale van Suid-Afrika in domeine soos taaltegnologie en taalverwante studies. SADiLaR werk volgens 'n naaf-en-speekmodel met die naaf wat by die Noordwes-Universiteit (NWU) as 'n selfstandige entiteit van die Universiteit gehuisves word. Dié nasionale sentrum, in samewerking met ses verskillende nodusse (d.w.s. deelnemende instansies), is hoofsaaklik verantwoordelik vir datakurasie (waar datastelle geskep, geselekteer, geklassifiseer, en van een formaat na 'n ander omgeskakel, geverifieer en bewaar word), dataontwikkeling en -bewaring, die digitale bewaring van data wat digitaal geskep is, en die verspreiding van sulke datadomeine. Verskillende nodusse wat oor spesiale vaardighede beskik, onderneem taalprojekte soos korpusontwikkeling, taaltegnologie, en digitisering (Calteaux, 2022; Goosen, 2024).
SADiLaR verskaf befondsing vir ad hoc-projekte (soos bv. die Covid-19- meertalige termlys deur Tshwane Munisipaliteit se taaldiens) sonder dat die deelnemende instansie 'n nodus hoef te wees. Verskillende taalhulpbronne is onder verskillende lisensies beskikbaar, en nie alle hulpbronne gebruik oopbronprogrammatuur nie. Die deelnemende instansie besluit self onder watter lisensie die data vrygestel kan word en dit is dan as sodanig beskikbaar vir enige ander persoon of instansie om te gebruik. Hergebruik word aangemoedig om proliferasie van projekte en taalbronne te verhoed. Die sentrale naaf bestuur 'n hulpbronkatalogus, wat basies 'n aanlyn databasis is, en stel projekinligting daarop beskikbaar. Daar is ook 'n hulpbronindeks (vgl. https://www.sadilar.org/index.php/en/). Taalhulpbroninligting is gevolglik aan almal en oral beskikbaar - plaaslik en internasionaal. SADiLaR het onlangs ook 'n taaloudit onderneem.
Deelnemende instansies behou die outeursreg op hul data - SADiLaR is bloot 'n verspreidingsagent wat waarde toevoeg deur 'n platform beskikbaar te stel waarop data versprei kan word volgens die korrekte en internasionaal aanvaarbare standaarde. As taalhulpbronne op een plek, byvoorbeeld by SADiLaR, beskikbaar is, is dit makliker om dit te vind en om toegang daartoe te verkry.
Outeursreg is uiteraard 'n belangrike saak wat verband hou met terminologieontwikkeling. Allerlei probleme kan by die definiëring van konsepte of by die oorname van definisies uit gepubliseerde werke ontstaan. Daar moet daarteen gewaak word dat intellektuele regte van deelnemende instansies nie geskend word nie (vgl. die Wet op Outeursreg 98 van 1978). Daar behoort eintlik nie enige outeursregbelemmering op terminologie te wees nie, want terminologie moet vir almal oral beskikbaar wees.
Persone en instansies is steeds lugtig om hul taalhulpbronne (bv. vakwoordeboeke en termlyste) te deel en hulle besef nie altyd watter sinvolle bydraes hulle tot taalnavorsing en -ontwikkeling in die land kan maak nie. SADiLaR doen gevolglik baie vaardigheidsontwikkelingswerk en bied ook werkswinkels aan ten einde die heersende individualistiese perspektief en onkunde op grondvlak te probeer oorkom.
SADiLaR is betrokke by die digitisering van onder meer termlyste en vakwoordeboeke en bevorder vaktaal op velerlei gebiede. Daar is tans oor die algemeen meer hulpbronne in Afrikaans as in die Sintutale beskikbaar. Gevolglik word daar gepoog om die Sintu-taaldepartemente by tersiêre instellings te betrek om terminologiese en ander taalhulpbronne op die betrokke nasionale platform beskikbaar te stel. SADiLaR is die perfekte platform hiervoor - die nasionale sentrum kan alle taalhulpbronne huisves, toegang bestuur, almal se belange beskerm, en die ontwikkeling van die amptelike tale op 'n meer formele en georganiseerde basis laat geskied. Die sentrum is staatsbefonds en befondsing is nie noodwendig volhoubaar nie (Calteaux, 2022).
3.4 Tersiêre instellings
3.4.1 Terminologieopleiding
In die verlede moes terminoloë indiensopleiding onder begeleiding van 'n mentor ontvang. Tans is daar by die TCS slegs indiensopleiding ten opsigte van databasishantering en nie in die beginsels en praktyk van terminologie en terminografie nie. Terminoloë moet gegradueerd wees, maar ongelukkig is daar nie voorgraadse terminologieopleiding by tersiêre instellings beskikbaar nie. Vanaf die laat negentigerjare word 'n volledige module in Terminologie vir nagraadse studente aan die Departement Afrikatale van die Universiteit van Pretoria aangebied en 'n aantal studente het al in terminologie gepromoveer. Sommige Suid-Afrikaanse tersiêre instellings het reeds begin om nagraadse terminologiekursusse aan te bied, maar dit maak gewoonlik 'n onderafdeling of module uit van die linguïstiek-, leksikografie-, vertaal-, tolk- of taalpraktykkursusse. Een van die aanbevelings in die verslag oor die Nasionale Terminolo-giebeleid (Layton, Alberts & Sanker, 2024) is dat doelgemaakte terminografiekursusse ontwikkel word wat by tersiêre instellings aangebied kan word.
Daar is sedert 2002 gepoog om 'n terminologieopleidingsentrum aan die Universiteit van Pretoria tot stand te bring (Alberts, 2003, 2004a, 2004b, 2005a, 2005b, 2007 en 2014). Daar is destyds betoog dat 'n terminologiesentrum aan die UP vir alle departemente en fakulteite van onskatbare waarde sou kon wees (Alberts, 2012). Die idee was om die toenmalige Direkteur: Terminologie en Standaardisering van PanSAT aan die UP te sekondeer. Weens bepaalde logistieke redes is hierdie plan nie in werking gestel nie (Alberts, 2015b).
Die toenmalige Direkteur: Terminologie en Standaardisering van PanSAT het tussen 2002 en 2010 terminologieopleiding aan verskeie taalpraktisyns verbonde aan tersiêre instellings se taalsentra aangebied, byvoorbeeld by die Universiteit Stellenbosch, Rhodes-Universiteit, Durbanse Universiteit vir Tegnologie, Universiteit van die Vrystaat en die Universiteit van Pretoria. Sy het ook 'n geïntegreerde terminologiese ontwikkelingsmodel voorgestel (vgl. Alberts, 2005b, 2014:1-26; 2017:325-327) waarvolgens terminologieontwikkeling by tersiêre instellings uitgevoer kon word (kyk Figuur 2).
Verskeie tersiêre instellings het hierdie modelbenadering gevolg en verskeie termino-logielyste is reeds in samewerking met die vakkundiges (bv. doserende personeel) verbonde aan bepaalde departemente en fakulteite saamgestel (vgl. 3.4.2.1).
3.4.2 Vaktaalontwikkeling
3.4.2.1 Betrokkenheid van tersiêre instellings by vaktaal
Die vertalers verbonde aan tersiêre instellings se taaldienste versamel terminologie in die vertaalproses, maar die doel is nie noodwendig om sulke termlyste algemeen beskikbaar te stel nie. Die meeste van dié taaldienste het Afrikaanstalige vertalers in diens.
Sommige tersiêre instellings is meer aktief by vaktaalprojekte betrokke. Die termino-grafieproses wat gevolg word, stem ooreen met die geïntegreerde terminologiese ontwikkelingsmodel wat Alberts (2015c, kyk Figuur 2) vir gebruik deur tersiêre instellings ontwikkel het.
3.4.2.1.1 Universiteit Stellenbosch
Die Taalsentrum verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) lewer uitstekende werk ten opsigte van terminologieontwikkeling en verskeie termlyste (meestal Engels-Afrikaans-Xhosa) is al saamgestel en gedruk, byvoorbeeld vir sosiologie, maatskaplike werk, sielkunde, familiereg, strafreg, inheemse reg, handelsreg, rekeningkunde, ekonomie, besigheidsbestuur, bedryfsielkunde, statistiese metodes, inligtingstelsels, menslike bestuur, openbare ontwik-kelingsbestuur, praktiese teologie, sendingwetenskap, ekklesiologie, toegepaste wiskunde, rekenaarprogrammering, ingenieurswese, chemie, fisika, mediese en gesondheidswetenskappe, landbouwetenskappe, rugby, sokker en krieket. Hierdie termlyste is almal in samewerking met vakkundiges verbonde aan US saamgestel en termlyste vir sommige vakgebiede is sedert 2015 aanlyn op 'n oopbronterminologiewerf beskikbaar. Daar is reeds 6 000 inskrywings in agt vakgebiede aanlyn beskikbaar, naamlik dinamiese en bestuurswetenskappe, ingenieurswese, inleiding tot sielkunde, maatskaplike werk, sosiologie, sport, teologie, regsgeleerdheid (onderverdeel in: familiereg, gewoontereg, inleiding tot die reg en strafreg). Gesondheids-wetenskappe, agriwetenskappe en natuurwetenskappe is aan die kom (vgl. Taalsentum, 2024).
Die US se Fakulteit Opvoedkunde het 'n selfoontoepassing, MobiLex, aan studente beskikbaar gestel wat 'n drietalige opvoedkundeverwante termlys bevat waarin terme uit die ekonomiese en bestuurswetenskappe, geografie, geskiedenis, kurrikulumstudies, natuur-wetenskap, opvoedkundige sielkunde, taalonderrig en wiskunde reeds opgeneem is (Van der Merwe, 2020).
3.4.2.1.2 Rhodes-Universiteit
Nadat PanSAT in 2009 terminologieopleiding by Rhodes aangebied het, is verskeie terminologieprogramme begin om terminologie deur middel van blogs aan dosente en studente beskikbaar te stel, onder meer in farmasie, regte, joernalistiek en mediastudies, onderwys, sielkunde, aardwetenskappe, politiek, selbiologie, linguistiek, letterkunde, vertaalstudies, leksikografie en sosiolinguistiek. Terminologieontwikkeling by Rhodes geskied hoofsaaklik in Engels en Xhosa en terme word tans deur 'n leerbestuurstelsel, genaamd Ruconnected, aan studente beskikbaar gestel; dit sluit ook terminologie vir rekenaarwetenskap en politieke studies in (vgl. Maseko, 2011:188,194; 2012; Alberts, 2017:320-322; Nosilela, 2019:173-176).
3.4.2.1.3 Universiteit van Kaapstad
Die Universiteit van Kaapstad (UK) stel terminologie in elf tale op hul hipermediaplatform Vula beskikbaar, byvoorbeeld terme in ekonomie, fisika, gesondheidswetenskappe, statistiek en wiskunde (Nkomo & Madiba, 2011).
3.4.2.1.4 Universiteit van KwaZulu-Natal en Durbanse Universiteit vir Tegnologie
Die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) stel terminologie hoofsaaklik in Engels en Zulu beskikbaar en het reeds terminologie in 22 vakgebiede beskikbaar, onder meer in anatomie, argitektuur, fisika, inligtingstegnologie, kriminologie, musiek, navorsing, omgewings-wetenskappe, rekenaarswetenskap, regte, maatskaplike werk, sosiale wetenskappe en wiskunde. Die terme is aanlyn beskikbaar (UKZN, 2024). UKZN het die termlyste vir sielkunde- en verpleegkunde saam met die Durbanse Universiteit vir Tegnologie (DUT) saamgestel (Nosilela, 2019:163).
UKZN werk dikwels saam met die TCS aan terminologieprojekte, soos byvoorbeeld oor afvalbestuur en ekonomie.
3.4.2.1.5 Universiteit van Suid-Afrika
Een van die aktiwiteite van die Taaleenheid binne die Departement Onderrigondersteuning en Fasilitering by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) is terminologieontwikkeling. Geoterm (2014), wat Engels-Afrikaanse Geografiese terme bevat, is op die leerbestuurstelsel myUnisa beskikbaar en sedert 2020 ook in Noord-Sotho en Zulu.
Unisa het ook assesseringsterme in elf tale (Mphaphuli, 2022) beskikbaar. Die linguistiese termlys in Afrikaans, Engels, Tswana, Tsonga en Zulu is deur die Departement Linguistiek en Moderne Tale saamgestel en is aanlyn beskikbaar. Die veeltalige robotikaterme met Engelse definisies is aanlyn as oopbron-glossarium beskikbaar (Mzimba, 2023).
3.4.2.1.6 Universiteit van Wes-Kaapland
Die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het 'n eksperimentele projek in dentisie (tandformules en -ontwikkeling, soorte en aantal tande, en rangskikking van tande) waarby studente betrek word en die behandelde tale is Afrikaans, Engels, Xhosa en Chinees (Antia, 2015:480).
3.4.2.1.7 Akademia
Die Hoëronderwysinstelling Akademia (www.akademia.ac.za) se BA (Taalstudies) is in 2024 bekendgestel met Afrikaans en Nederlands as verpligte vakke. Linguistiek en Taalpraktyk tel onder die keusevakke en die oogmerk van die program is om studente wat dit suksesvol voltooi, toe te rus om loopbane te volg in onder meer vertaling en tolking, teksredigering, taalbeplanning en -ontwikkeling, digitale media, en dergelike (vgl. Akademia, 2024). Verskeie fakulteite van Akademia het reeds termlyste vir interne gebruik saamgestel (bv. ekonomiese wetenskappe) en daar word beoog om binnekort met ander projekte, byvoorbeeld regte, te begin. Daar sal met SADiLaR, SRTAT en ander tersiêre instellings geskakel word om oorvleueling en duplisering van projekte te voorkom. Die hoofdoel van die terminologieontwikkeling by Akademia is immers om nuwe konsepte in Afrikaans te benoem eerder as om terme vir bestaande konsepte te prolifereer (Brits, 2024).
3.4.2.2 OERTB
Fondse is in 2014 deur die Departement van Hoër Onderwys bewillig vir die ontwikkeling van vaktaal by tersiêre instellings deur die vestiging van 'n veeltalige termbank met oop toegang binne die hoëronderwysmilieu. Die Online Educational Resource Term Bank (OERTB) (sien www.oertb.coml; OERTB, 2017) het ten doel om vaktaalontwikkeling tussen universiteite te koördineer en om die amptelike Sintutale te ontwikkel as tale van akademiese diskoers -spesifiek om studente deur middel van hulle moedertale toegang tot kernkonsepte in akademiese dissiplines te gee. Die primêre begunstigdes van hierdie nasionale terminologieontwikkelings-projek was eerstejaar-universiteitstudente met 'n Sintutaal as moedertaal. Die projek sluit Afrikaans egter nie uit nie. Wat Afrikaans betref, is daar 'n behoefte daaraan om bestaande vaktaalinligting te konsolideer, en Afrikaanse terminologielyste by te werk om tred te hou met nuwe wetenskaplike en tegnologiese ontwikkelinge en met resente taalkundige tendense (Alberts, 2015b).
Die hoofrolspelers in die ontwikkeling van die OERTB was die Universiteit van Pretoria in samewerking met die Universiteit van Kaapstad. Die meeste tersiêre instellings was van 2015 tot 2017 by die OERTB-projek betrokke, maar ongelukkig is die befondsing in 2017 gestaak. Dit blyk uit 'n oudit wat by die tersiêre instellings gedoen is, dat daar reeds talle projekoorvleuelings is, wat die binnedringing en standaardisering van termekwivalente in die betrokke tale nadelig sal beïnvloed (Alberts, 2015b). Uit die 54 vakgebiede wat sedert die inwerkingstelling van die OERTB deur die TCS en tersiêre instellings saamgestel is, was daar 25,9% duplisering van vakgebiede en 'n beduidende aantal konsepte in dieselfde taal wat deur verskillende terme benoem word (Goosen, 2024). Die proliferasie van terme veroorsaak dat terme nie die vakgebied en betrokke taal of tale binnedring nie en gevolglik nie gestandaardiseer kan raak nie. Daar is egter min proliferasie van Afrikaanse terme in die OERTB, want die Afrikaanse terme van die verskillende vakgebiede is meestal reeds gestandaardiseer en beskikbaar. Dit is enersyds goeie nuus, maar andersyds beteken dit dat daar nie Afrikaanse terme vir nuwe ontwikkelinge en op nuwe terreine geskep word nie; die taal se vaktale stagneer dus.
4. Vaktaalontwikkeling: Die toekoms
'n Blik op die historíese ontwikkeling van vaktaal in Suid-Afrika toon dat dit 'n moeisame en langsame proses was. As daar egter gekyk word na die aantal vakwoordeboeke en termlyste wat wel geproduseer is, is vaktaalontwikkeling in Suid-Afrika 'n suksesverhaal. Daar is aan verskeie dissiplines aandag gegee en leemtes en behoeftes kan bepaal word uit die gekonsolideerde vakwoordeboekpublikasielys wat in onlangse oudits saamgestel is (Alberts, 2015b; VivA, 2024, Clarke, 2024; Viljoen, 2024). Dit blyk dat daar sedert die vyftigerjare ten minste 567 vakwoordeboeke of termlyste gepubliseer is. Daar is tans verskeie lopende projekte en die tersiêre instellings werk steeds ook aan vaktaalprojekte. Baie vakwoordeboeke en termlyste is egter reeds uit druk (National Terminology Service, 1993; 1997; 1998) en behoort hersien en gedigitiseer te word.
Afrikaanse vaktaal het 'n bloeitydperk beleef gedurende die voormalige tweetalige bestel (en veral van 1935 tot 1994), maar weens ekonomies-politieke redes bevind Afrikaans hom tans in 'n oorlewingsfase (in plaas van 'n handhawingsfase), aangesien die klem tans gelê word op die ontwikkeling van die Sintutale en Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Die hegemonie van Engels as dominante wêreldtaal veroorsaak verder dat al die amptelike vaktale sukkel om te ontwikkel (Alberts, 2015b; Marais, 2015; McLachlan, 2015).
Dit blyk uit 'n ondersoek wat in opdrag van die Dagbreek Trust en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oor die stand en status van Afrikaanse vaktaal gedoen is (vgl. Alberts, 2015b) en die projek om 'n nasionale terminologiebeleid vir die staat saam te stel (Layton, Alberts & Sanker, 2024), dat die vaktaalontwikkeling wat deur die nasionale terminologiekantoor, die TCS, onderneem word, nie aan die land se vaktaalbehoeftes kan voldoen nie. Die TCS vervul nie tans sy koördineringsrol nie en gee nie aandag aan indiensopleiding of die opleiding van terminoloë en medewerkers nie. Verder werk dié kantoor net saam met enkele staatsdepartemente, terwyl provinsiale en munisipale taalkantore nie noodwendig die hulp ontvang wat hulle behoort te kry nie. Die nasionale termbank is tans nie funksioneel nie en terme is nie aanlyn beskikbaar nie. Die nasionale register, wat ten doel het om duplisering van vaktaalaktiwiteite uit te skakel en samewerking te bewerkstellig, was tot onlangs nog onder konstruksie. Toekomstige samewerking kan bevorder word indien instellings wat terminografie bedryf, hul vaktaalprojekte by die TCS registreer.
Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad is volgens sy mandaat veronderstel om aandag te gee aan (vak)taalontwikkeling. Die nasionale taalliggame moet alle terminologie wat in die onderskeie amptelike tale en in Khoi en San (en gebare in die geval van Suid-Afrikaanse Gebaretaal) geskep word, beoordeel ten opsigte van woordvormings-, spel- en skryfbeginsels, maar dit word nie doeltreffend genoeg gedoen nie omdat die samestellers van vakwoordeboeke en termlyste nie van hierdie moontlikheid bewus is nie of omdat produkte wat wel voorgele word, nie die nodige aandag kry nie of omdat die proses so stadig is dat dit samestellers frustreer. Vaktaalontwikkeling sou baat daarby kon vind indien terminologie aan die nasionale taalliggame voorgelê en inderdaad ook beoordeel word.
Verskeie taalkantore (by nasionale, provinsiale, munisipale en semistaatsinstellings, banke, ens.) versamel steeds terminologie vir interne gebruik. Privaat instansies, sentrums en individue stel steeds vakwoordeboeke saam. Die verskillende instansies maak van 'n verskeidenheid van terminologiebestuurstelsels en datavasleggingsprogrammatuur gebruik, maar dit sou verkieslik wees dat sulke programmatuur met mekaar versoenbaar is om die uitruil van data in die toekoms te vergemaklik. Data behoort gedigitiseer en oop te wees vir vrye toegang en algemene gebruik, want data wat nie oop gelisensieer is nie, raak onbruikbaar. Gepubliseerde vaktaalprodukte (vakwoordeboeke en termlyste) behoort gedigitiseer te word en in oopbronformaat beskikbaar gestel te word. Dit maak ook nie sin om terminologiese data aan outeursreg te onderwerp nie - vaktaal behoort oop en vryelik beskikbaar te wees. Die intellektuele eiendom van enige produk wat deur 'n werknemer van 'n tersiêre instelling ontwikkel word, behoort egter aan daardie instelling en dit maak instellings huiwerig om termlyste vryelik beskikbaar te stel.
Die verskillende tersiêre instellings kan die vaktaalbedryf bevorder deur behoorlike terminologieopleidingskursusse aan te bied en deur in hul begrotings voorsiening te maak vir vaktaalontwikkeling. Die tersiêre instellings wat tans aktief met terminologieontwikkeling besig is, moet saamwerk om duplisering van projekte en 'n proliferasie van terme vir dieselfde konsepte in die betrokke tale te voorkom. Navorsing oor terminologie moet verkieslik aanlyn beskikbaar gestel word vir leer- en onderrigdoeleindes. Die terme wat aanlyn in die oop domein beskikbaar gestel word, moet van 'n hoë gehalte wees en die doeltreffendheid daarvan moet gereeld gemeet word (deur verifiëring en datavalidering/-bekragtiging). Daar behoort ook stelsels te wees waardeur kommentaar op vaktaaldata gelewer kan word en wat die hersiening en bywerking daarvan sal vergemaklik (Alberts, 2015b; 2017:260-261; 2019:213-214; 220; 225).
Bestaande infrastruktuur, soos taalkantore, termbanke, digitale platforms en finansiering, moet benut word eerder as om nuwes te ontwikkel of te verkry. Alle terminologie wat beskikbaar is (selfs terminologieprodukte wat reeds uit druk is), behoort gedigitiseer te word en gratis aanlyn (bv. by die TCS, VivA, universiteite of SADiLaR) beskikbaar te wees en daar behoort koppelvlakke en skakels te wees na alle vaktaalaktiwiteite (Alberts, 2015c). Indien daar wel van terminologiebestuurstelsels en datavasleggingsprogrammatuur gebruik gemaak word waarvoor lisensies bekom moet word, moet die lisensiehouer daarvan verseker wees dat daar volhoubare tegniese hulp beskikbaar sal wees.
Die land beskik oor kundiges wat 'n magdom vaktaalkennis in pag het en hierdie kundigheid moet benut word. Afgetrede akademici, vakkundiges en taalpraktisyns kan van groot waarde wees wanneer definisies en vertalings gedoen moet word of kommentaar benodig word. 'n Lys wat bygehou word van alle individue wat as rolspelers by vaktaalontwikkeling betrek sou kon word, sal van groot waarde wees (vgl. Alberts, 2015c).
Die taalbepalings van die Grondwet, 1996, impliseer dat staatsdepartemente aandag moet gee aan die ontwikkeling van die amptelike tale, wat noodwendig terminologie in al twaalf amptelike tale in die geval van nasionale departemente insluit, of in ten minste drie van die tale wat in 'n bepaalde provinsie gebruik word (Republic of South Africa, 2012; Republic of South Africa, 2013; ATKV, 2015:96). Die staatsdepartemente behoort terminologieontwikkeling dus ook behoorlik te finansier. Die privaat sektor, mediahuise en uitgewers sou ook by die finansiering van vaktaalontwikkelingsprojekte betrek kon word omdat hulle immers ook die eindgebruikers van terminologie is.
Projekleiers en die vakkomiteelede wat met die fisiese aanteken van terminologiese inligting gemoeid is, behoort vir hul werk vergoed te word. Skenkings kan belê word en die opbrengs dan gebruik word om vaktaalprojekte te finansier (SRTAT, 2015; Venter, Botha, Du Plessis & Alberts, 2017). Slegs wanneer daar van vergoeding sprake is, kan daar ook van vordering sprake wees. Die feit van die saak is dat die land opgeleide terminoloë en begeesterde vakkundiges, akademici en studente nodig het om meertalige en veeltematiese terminologie te ontwikkel. 'n Daadwerklike gesamentlike poging moet aangewend word om meertalige terminologie in 'n verskeidenheid van dissiplines te ontwikkel, aan te teken en nasionaal beskikbaar te stel. Sonder vaktaal kan daar immers nie sprake wees van behoorlike vakkommunikasie nie.
5. Samevatting
Hoewel hierdie artikel konsentreer op Afrikaanse vaktaal, moet Afrikaans nie in isolasie beskou word nie, want die huidige Grondwet vereis by implikasie dat aandag aan die ontwikkeling van vaktaal in al die amptelike tale gegee word. Suid-Afrika beskik oor voortreflike wetgewing en taalstrukture wat die talebestel behoort te beskerm en te ontwikkel. Die vaktale van die amptelike tale moet in die toekoms saam ontwikkel word - nie net ter wille van hul eie behoud en ontwikkeling nie, maar veral om vakgerigte kommunikasie te bevorder. Afrikaans se ontwikkeling as vaktaal sal egter in die toekoms waarskynlik nie afhang van die taaldienste van die nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede nie - enersyds omdat Afrikaanse terminologie in daardie sfere grotendeels reeds bestaan en opgeteken is, maar andersyds omdat meer klem tans gelê word op die ontwikkeling van die Sintutale en Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Afrikaanse vaktaal se behoud as professionele, akademiese en onderrigtaal hang grootliks af van kampvegters vir vaktaalontwikkeling in Afrikaans in akademiese en privaat geledere.
BIBLIOGRAFIE
Abdulaziz, MH. 1989. Development of scientific and technical terminology with special reference to African languages. Kiswahili, 56:32-49. [ Links ]
Akademia. 2024. BA (Taalstudies). Inligtingsblad. Pretoria: Akademia. [ Links ]
Alberts, M. 1983. Aspekte van die rekenarisering van vakwoordeboeke. MA-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria. [ Links ]
Alberts, M. 1988. Vaktaalontwikkeling in Suid-Afrika. INEG 917, Akademie-argief: AR 49: Agenda 19.6.1988, bylae. [ Links ]
Alberts, M. 1990. 'n Bepaling van Afrikaanse vakleksikografiese behoeftes. Ongepubliseerde DLitt et Phil-tesis. Pretoria: UNISA. [ Links ]
Alberts, M. 1997a. Legalese: South Africa's 12th official language?, unpublished paper read at the Seminar on Language in Court, Northern Department of Education, Arts, Culture and Sport, Thohoyandou, 16-17 May 1997. [ Links ]
Alberts, M. 1997b. Legal terminology in African languages. Lexikos 7, Afrilex Series 7:1997:179-191. [ Links ]
Alberts, M. 1998. The harmonisation of Nguni and Sotho: terminological perspectives. In: Prah, KK (ed.). 1998:229-242. [ Links ]
Alberts, M. 1999. Terminology in South Africa. Lexikos 9, Afrilex Series 9:18-35. [ Links ]
Alberts, M. 2000a. Audit on South African terminology projects July 2000. Unpublished document. Pretoria: National Terminology Service and the Department of Arts, Culture, Science and Technology. [ Links ]
Alberts, M. 2000b. Terminology management at the National Language Service. Lexikos 10, Afrilex Series 10:234-251. [ Links ]
Alberts, M. 2000c. Overview of current initiatives in terminology in South Africa. NEOTERM - World Specialized Terminology. No. 37/38. Warszawa 2000:47-58. [ Links ]
Alberts, M. 2003. Vaktaalontwikkeling en -opleiding in Suid-Afrika. In Botha, W. (red.): 'n Man wat beur: Huldigingsbundel vir Dirk van Schalkwyk. Stellenbosch: WAT, pp. 127-161. [ Links ]
Alberts, M. 2004a. Envisaged Lexicography and Terminology Training Centre, Department of African Languages, University of Pretoria, in conjunction with PanSALB. Unpublished document. Pretoria: PanSALB. [ Links ]
Alberts, M. 2004b. Establishment of a Lexicography and Terminology Training Centre at the Department of African Languages, School for Languages, University of Pretoria. Unpublished document. Pretoria: PanSALB. [ Links ]
Alberts, M. 2005a. Envisaged Lexicography and Terminology Training Centre, Department of African Languages, University of Pretoria, in conjunction with PanSALB. Unpublished document. Pretoria: PanSALB. [ Links ]
Alberts, M. 2005b. Terminologieopleiding op universiteitsvlak. Ongepubliseerde referaat gelewer by die Akademie-simposium, 23-24 Junie 2005, Pretoria. [ Links ]
Alberts, M. 2007. Voorstel vir die vestiging van 'n Terminologiesentrum aan die Universiteit van Pretoria. Ongepubliseerde dokument. SAAWK: Pretoria. [ Links ]
Alberts, M. 2008. National language and terminology policies - A South African perspective. eDITion Terminologiemagazin, Ausgabe 1/2008. Deutscher Terminologie-Tag e.V. (DTT), Deutches Institut für Terminologie e.V. (DIT):18-21. [ Links ]
Alberts, M. 2010. National language and terminology policies - A South African perspective. Lexikos 20. Afrilex Series 20:599-620. [ Links ]
Alberts, M. 2012. Terminology as an aid in teaching and learning, unpublished paper read at the Closed Workshop on Verification of Scientific Terminology & International Translation Day. 28 September 2012, Cape Peninsula University of Technology, Bellville. [ Links ]
Alberts, M. 2013. The Afrikaans orthographical rules as guide for other South African languages. Lexikos 23. Afrilex Series 23:1-28. [ Links ]
Alberts, M. 2014. Terminology development at tertiary institutions: A South African perspective. Lexikos 24. Afrilex Series 24:1-26. [ Links ]
Alberts, M. 2015a. Centre for Political and Related Terminology in Southern African Languages (CEPTSA) - translating and explanatory dictionaries. Lexikos 25. Afrilex Series 25: 1-34. [ Links ]
Alberts, M. 2015b. 'n Oorsig van vaktaalontwikkeling en -opleiding in Suid-Afrika met spesiale verwysing na Afrikaans. Ongepubliseerde verslag opgestel in opdrag van Die Dagbreek Trust en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, November 2015. [ Links ]
Alberts, M. 2015c. Die Akademie se Vaktaalburo - verlede, hede en toekoms. Ongepubliseerde verslag opgestel in opdrag van Die Dagbreek Trust en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Desember 2015. [ Links ]
Alberts, M. 2017. Terminology and terminography principles andpractice. A South African perspective. Milnerton: McGillivray Linnegar Associates. [ Links ]
Alberts, M. 2019. Terminologie en terminografie. 'n Handleiding. Pretoria: SAAWK. [ Links ]
Antia, BE. 2015. Language policy and terminology in South Africa. In Kockaert, HJ & Steurs, F, pp. 467-488. [ Links ]
ATKV. 2015. Jou taal, jou keuse: Dis wet! Taalgenoot. ATKV: Winter 2015: 96. [ Links ]
Botha, W (red.). 2003. 'n Man wat beur: Huldigingsbundel vir Dirk van Schalkwyk. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Botha, W, Alberts, M & Kapp, P. 2010. The historical experiences in developing Afrikaans as a language, unpublished paper read at the Steering Committee: African Languages Roundtable, Department of Higher Education and Training, 22 October 2010, Pretoria. [ Links ]
Buys, F. 2014. Afrikaanse universiteit bekendgestel. Pretoria East Rekord. November 2014:4. [ Links ]
Carstens, A. 1997. Introduction to terminology and terminography. Pretoria: University of Pretoria. [ Links ]
CLTAL. 2015. Legal Terminology: Criminal Law, Procedure and Evidence/Regsterminologie: Straf-, Strafproses- en Bewysreg. Clairmont: Juta. [ Links ]
Cluver, AD de V & Scheffer, CJ (reds.). 1984. RGN-ondersoek na vaktaalaangeleenthede in Suidelike Afrika: Verslag van die ondersoek na organisatoriese aangeleenthede op vaktaalgebied. Pretoria: RGN (Term-1). [ Links ]
Cluver, AD de V. 1989. A manual of terminography. Pretoria: HSRC. [ Links ]
Cluver, AD de V. 1995. Language development in South Africa: Towards a national language plan for South Africa. Final report of the Language Plan Task Group (LANGTAG). 1995. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology. [ Links ]
Cluver, AD de V. 1996. Language development. Proceedings of a LANGTAG workshop on issues in language development: Focussing on the future of the apartheid language boards and the harmonisation and development of African languages. 28 March 1996, Unisa, Pretoria. [ Links ]
Department of Arts and Culture (DAC). 2002. National language policy framework: Final draft (NLPF). Pretoria: Department of Arts and Culture. [ Links ]
Department of Arts and Culture (DAC). 2003. Implementation plan: Framework for the national language policy. final draft. Pretoria: Department of Arts and Culture. [ Links ]
Department of Arts, Culture, Science and Technology (DACST). 1996. Overview, recommendations and executive summary from the final report of the Language Plan Task Group (LANGTAG). Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology. [ Links ]
Ferreira, DM & Du Plessis, LT. 2007. Terminologiebestuur in Suid-Afrika: 'n Beoordeling van drie werkmetodes. Lexikos 17. Lexikos-reeks 17:56-76. [ Links ]
Ferreira, DM. 2002. Terminologiebestuur in Suid-Afrika, met spesifieke verwysing na die posisie van histories ingekorte tale. Ongepubliseerde D.Phil.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. [ Links ]
Fourie, DJ. 1994. The rejection of terminology: Observations from the African languages. South African Journal for African Languages, 12(1):11-15. [ Links ]
Galinski, C & Schmitz, K-D (eds). 1996. TKE '96: Terminology and Knowledge Engineering. Frankfurt/M: Indeks Verlag. [ Links ]
Goosen, M. 2024. 'n Kritiese analise van terminologiebestuur binne die Suid-Afrikaanse konteks. Ongepubliseerde PhD.-tesis. Pretoria: UP. [ Links ]
Grobler, E, Prinsloo KP & Van der Merwe, IJ (eds). 1991. The language atlas of South Africa: language and literacy patterns. Pretoria: RGN. [ Links ]
International Standards Organisation (ISO). 2002. Translation-oriented terminography, ISO/TC 37/SC2. [ Links ]
International Standards Organisation (ISO). 2005. Guidelines for terminology policies: Formulating and implementing terminology policy in language communities. ISO/CD 29383-1. [ Links ]
International Standards Organisation (ISO). 2020. Terminology policies: Development and implementation. ISO/CD 29383-1. [ Links ]
Jordaan-Weiss, M. 1996. Practical terminology work in SouthAfrica: Problems, solutions and challenges. In: Galinski, C & Schmitz, K-D (eds). 1996:373-380. [ Links ]
Kapp, PH. 2009. Draer van 'n droom: Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1909-2009. Hermanus: Hemel-en-See Boeke. [ Links ]
Kockaert, HJ & Steurs, F. 2015. Handbook of terminology. Volume 1. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins. [ Links ]
LANGTAG. 1995. Towards a national language plan for South Africa: A report of the Language Plan Task Group (LANGTAG). Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology. [ Links ]
LANGTAG. 1996. Information on the Language Plan Task Group (LANGTAG). Pretoria: State Language Services, Department of Arts, Culture, Science and Technology. [ Links ]
Layton, RL, Alberts, M & Sanker, S. 2024. National Policy on Terminology. Pretoria: Department of Sport, Arts and Culture. [ Links ]
Luther, J. 2005. Vaktaalontwikkeling. Ongepubliseerde dokument. [ Links ]
Marais, D. 2015. Afrikaans in gevaar? Taalgenoot. ATKV, Lente 2015:61-63. [ Links ]
Maseko, P. 2011. Intellectualisation of African languages with particular reference to isiXhosa. Ongepubliseerde PhD-tesis, Rhodes-Universiteit. [ Links ]
Maseko, P. 2012. Advancing the use of African languages in SA higher education: strategies, challenges and opportunities, paper read at the Closed Workshop on the Verification of Scientific Terminology & International Translation Day. 28 September 2012, CPUT, Bellville. [ Links ]
National Terminology Service. 1993. Catalogue of technical dictionaries. Pretoria: Department of National Education. [ Links ]
National Terminology Service. 1997a. Directory of language resources in South Africa. Second Edition. February 1997. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology [ Links ]
Nasionale Terminologiediens. 1997b..Termmakelaar/Termbroker. Nuusbrief van die Nasionale Terminologiediens. Vol. 5 No 1, Maart 1997. Pretoria: Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie. [ Links ]
National Terminology Service. 1997c. Catalogue of technical dictionaries. March 1997. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology. [ Links ]
National Terminology Service. 1998. Catalogue of technical dictionaries. Pretoria: Department of Arts, Culture, Science and Technology. [ Links ]
Nasionale Vakterminologiediens (NVD). 1988/89. Katalogus van Vakwoordeboeke/Catalogue of Technical Dictionaries. NASOP 08-002 (88/04). Pretoria: Departement van Nasionale Opvoeding. [ Links ]
Nieder-Heitmann, N. 1980. Praat met die Dowes. Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Dowes. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Nkabinde, AC. 1992. Lexicography in Zulu. In Algemene en vakleksikografie in die praktyk: Referate gelewer tydens 'n werkwinkel in Pretoria op 16 Junie 1992:84-95. Pretoria: Departement van Nasionale Opvoeding. [ Links ]
Nkomo, D & Madiba, M. 2011. The compilation of multilingual concept literacy glossaries at the University of Cape Town: A lexicographical function theoretical approach. Lexikos 21. Afrilex-reeks 21: 255-268. [ Links ]
Nosilela, B. 2019. Making South African tertiary education multilingual: The implementation, monitoring and evaluation of SANTED multilingualism. Ongepubliseerde tesis, Rhodes-Universiteit. [ Links ]
Prah, KK (ed.). 1998. Between distinction & extinction. the harmonisation & standardisation of African languages. Johannesburg: Witwatersrand University Press. [ Links ]
Prolingua. 2015. Prolingua 65! 'n Vereniging vir Afrikaanse en Engelse Taalpraktisyns /An Association for English and Afrikaans Language Practitioners. 28 Oktober 1950 - 12 Augustus 2015. Pamflet saamgestel ter viering van Prolingua se 65ste bestaansjaar. [ Links ]
Scheffer, CJ. 1987. Promoting and merging terminological activities in South Africa. Logos 7(2):31-34. [ Links ]
Statistics South Africa. 2013. Multilingual statistical terminology. Pretoria: Statistics South Africa. [ Links ]
United Nations Educational, Scientific and Cultural Orgnisation (UNESCO). 2005. Guidelines for terminology policies. Vienna: Infoterm. [ Links ]
Venter, A, Botha, S, Du Plessis, L & Alberts, M. 2017. Explanatory Political Dictionary - Verklarende Politieke Woordeboek. Kaapstad: Juta. [ Links ]
Wetgewing
Republic of South Africa. 2012. Use of Official Languages Act, 2012 (Act No. 12 of 2012). [ Links ]
Republic of South Africa. 2013. (Proposed) Use of Official Languages Regulations, 2013. General Notice No. 411 of 2013. Government Gazette No. 36392 of 26 April 2013. Pretoria: Government Printer. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 1961. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 32 van 1961. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 1993. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 200 van 1993. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 1978. Wet op Outeursreg 98 van 1978. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 1995. Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad 59 van 1995. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 1996. Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 1999. Wysigingswet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika. 2015. Konsepwysigingswet op Outeursreg. [ Links ]
Privaat e-posse
Blose, O.Z. 2024. Privaat e-posboodskap: SASL video clips. 2024-05-13. [ Links ]
Brink, L. 2024a. Privaat e-posboodskap: Hersiening van vakwoordeboeke: Veeartseny. 2024-03-12. [ Links ]
Brink, L. 2024b. Privaat e-posboodskap: Vaktaalkommissie. 2024-04-10. [ Links ]
Brits, K. 2024. Privaat e-posboodskap: Terminologieontwikkeling by Akademia. 2024-04-19. [ Links ]
Calteaux, K. 2022. Privaat e-posboodskap: Info oor SADiLaR asb. 2021-02-22. [ Links ]
Clarke, C. 2024. Privaat e-posboodskap: Lys van Vakwoordeboeke en termlyste van Cyril Clarke. 2024-03-25. [ Links ]
De Villiers, VZ. 2024. Privaat e-posboodskap: Sciwoord Chemie en Kernenergieterme, 2024-03-12. [ Links ]
Mnisi, S. 2024. Privaat e-posboodskap: Covid-19 Multilingual termlist, 2024-04-16. [ Links ]
Nel, C. 2024. Privaat e-posboodskap: Terminologielyste deur die FAK, 2024-03-14. [ Links ]
Roux, A. 2024. Privaat e-posboodskap: Vakwoordeboeke en termlyste deur banke/versekeringsmaatskappye, 2024-04-19. [ Links ]
Theron, Petré. 2024. Privaat e-posboodskap: Terminologielyste deur die FAK, 2024-03-19. [ Links ]
Viljoen, M. 2024. Privaat e-posboodskap: Vakwoordeboeke en termlyste 2024-04-22. [ Links ]
Willemse, H. 2024. Privaat e-posboodskap: Hersiening van vakwoordeboeke 2024-11-05. [ Links ]
Aanlyn soektogte
Absa. 2024. Termlys: www.absainvestmentmanagement.co.za/wealth-and-investment-management/help/glossary/ [ Links ]
Akademia, 2024 www.akademia.ac.za [ Links ]
Department of Arts and Culture (DAC). 2002.http://www.dac.gov.za/sites/default/files/LPD-Language%Policy%20Framework_English_O.pdf) [ Links ]
Geoterm. 2014. https://gama.unisa.ac.za/geoterm/ [ Links ]
McLachlan, T. 2015. Oor Afrikaans en die toekoms daarvan. In: Litnet seminare en essays, 2015-12-03. http://www.litnet.co.za/oor-afrikaans-en-die-toekoms-daarvan/ [3 Desember 2015] [ Links ]
Mphaphuli, T. 2022. Working towards mother-tonguie based multilingual education. https://www.umsa.ac.za/sites/myunisa/default/News/Articles/Working-towards-mother-tongue-%E2%80%93based-multilingual-education; https://uir.unisa.ac.za/handle/10500/28523 [ Links ]
Mzimba, N. 2023. Unisa @ 150: A South African first as multilingual robotics glossary is launched. https://www.unisa.ac.za/sites/corporate/default/Collrges/Huma-Sciences/News-&-events/articles/unisa-150-An-SA-first-as-multilingual-robotics-glossary-is-launched; https://uir/uisa.ac.za/bitstream/handle/10500/3044/Robotics%20_%20English%20-%20Find%20/v7.pdf?sequince=1&isAllowed=y [ Links ]
Nasionale Instituut vir Dowes (NID). 2022. https://nid.org/za>news>nid-online [ Links ]
Nedbank, 2024. Termlys: www.nedbank.co.za/content/Nedbank/desktop/gt/en/aboutus/glossary/html [ Links ]
Noordwes-Universiteit (NWU). 2024. https://humanities.nwu.ac.za>suid-afrikaans-gebaretaal [ Links ]
Online Eduational Resoure Term Bank (OERTB). 2017. www.oertb.com [ Links ]
Prolingua. 2024. www.prolingua.org.za/prolingua-list-of-terms.php. [ Links ]
SADiLaR. 2024. www.sadilar.org.za (geraadpleeg op 2024-04-10) [ Links ]
Sanlam, 2024. www.sanlaminvestments.com/documents/Glossary%20of%20Terms.pdf [ Links ]
SARS-SAID. 2022. https://www.sars.gov.za/wp-content/uploads/Docs/Translations/Taxterminology/SARS-MultilingualTerminology-list-2022.pdf; https://www.sars.gov.za/media-release/launch-of-sars-multilingual-tax-terminology-publication/ [ Links ]
Standard Bank. 2024. Termlys: www.standardbank.co.za/southafrica/personal/products-and-services/bank-with-us/foreign-exchange/International-payments/glossary/Statistics South Africa. https://census.statssa.gov.za [ Links ]
Suid-Afrika. 2003. National Language Policy Framework. http://www.dac.gov.za/sites/default/files/LPD_Language%20Policy%20Framework_English_0.pdf [ Links ]
Taalsentrum, Universiteit Stellenbosch. 2024. Taalsentrum-terminologie. https://languagecentre.sun.ac.za/trilingual-terminology-website-launched [ Links ]
Terminology Coordination Section (TCS), Department of Arts and Culture. 2018. https://www.dac.gov.za/terminology-list. [ Links ]
Universiteit van die Witwatersrand. 2022. https://www.wits.ac.za>introductorySASLvocabularycurriculum. [ Links ]
Universiteit van KwaZulu-Natal. 2024. https://ukzntermbank.ukzn.ac.za/PublicSearch.aspy [ Links ]
Van der Merwe. 2020. Multilingual glossary project. https://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID-7465. [ Links ]
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). 2024. https://viva-afrikaans.org/. [ Links ]
Wikipedia. 2024. www.af.wikipedia.org/wiki/lys_van_Afrikaanse_vakwoordeboeke_en_terminlogielyste. [ Links ]
Ontvang: 2024-05-18
Goedgekeur: 2024-10-08
Gepubliseer: Maart 2025
Mariëtta Alberts begin haar loopbaan in 1971 as terminoloog by die Taaldiensburo in die destydse Departement van Nasionale Opvoeding. Sy dien onder meer as sekretaris van die Koördinerende Vaktaalraad en as lid van die taal-taakgroep LANGTAG. In 1982 aanvaar sy 'n pos by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en doen as hoofnavorser navorsing oor leksikografie, terminologie en rekenaarlinguistiek. Sy keer in 1995 terug na die Nasionale Terminologie-diens en stel o.m. die konsepwetgewing vir die instelling van die nasionale leksikografiese eenhede op. In 2000-2001 neem sy vir bykans twee jaar as kantoorhoof waar. In 2001 word sy by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad aangestel as bestuurder van die nuutgestigte nasionale leksikografiese eenhede. Sy gee by verskeie staats- en tersiêre instansies opleiding in terminologie en terminografie. By haar aftrede was sy Direkteur: Terminologie en Standaardisering. Sy was 'n stigters- en bestuurslid van Afrilex, dien in ISO/TC 37 en SABS/TC 37, en was vise-president van Infoterm. Sy ontvang erelidmaat-skap van Infoterm, Afrilex en Prolingua. As Taalkommissielid ontvang sy die CJ Langen-hovenprys (2003), 'n ATKV-Woordwystoeken-ning (Woordveertjie) (2006) en die CL Engel-brechtprys (2009). As lid van vakwoordeboek-spanne ontvang sy die Stalsprys (2011), ATKV-Woordwystoekennings (Woordveertjies) (2008; 2017; 2019; 2020) en die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se woordeboekprys (2017), en in 2024 word die SAAWK se Erepenning vir Geesteswetenskappe aan haar toegeken. Sy is die outeur van twee boeke oor terminologie en terminografie (2017, 2019).
Mariëtta Alberts started her career as terminologist in 1971 at the Language Services Bureau in the then Department of National Education. She served as secretary of the Coordinating Terminology Board (COTERM) and as a member of LANGTAG (Language Task Group). In 1982 she accepted a position at the Human Sciences Research Council as chief researcher of lexicography, terminology, and computational linguistics. In 1995 she returned to the National Terminology Service and was instrumental in drafting the draft Bill dealing with the establishment of the national lexicography units. For almost two years in 2000 and 2001, she acted as manager of the terminology office, and in 2001 she was appointed manager at the Pan South African Language Board of the newly established National Lexicography Units. She conducted training in terminology principles and practice at various tertiary and government institutions. Upon retirement from PanSALB, she was the Director: Terminology and Standardisation. She is a founder member of Afrilex and served on its Board. She also served on ISO/TC 37 and SABS/ TC 37 and was Vice-President of Infoterm. She received honorary membership of Infoterm, Afrilex and Prolingua. During her career she was the recipient of the CJ Langenhoven Award (2003), an ATKV Wordwise trophy (2006) and the CL Engelbrecht Award (2009) as a member of the Taalkommissie (language commission). As a member of terminology teams, she received the Stals Award (2011), ATKV Wordwise trophies (2008, 2017, 2019, 2020) and the Dictionary Award of the South Africa Translators' Institute (2017). In 2024 she received the SAAWK Medal of Honour for Human Sciences. She is the author of two books on terminology and terminography (2017, 2019).