Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a3
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
The first century of the WAT
André du Plessis; Phillip Louw; Gerda Odendaal
Buro van die WAT & Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: wat@sun.ac.za
OPSOMMING
Die eerste eeu van die WAT weerspieël in baie opsigte die uitdagings en hoogtepunte wat kenmerkend is van globale projekte wat ten doel het om omvattende woordeboeke saam te stel. Die aanvanklike geesdrif is getemper deur die uitdagings om 'n volhoubare model vir materiaalversameling te vind en terselfdertyd 'n makro- en mikrostrukturele identiteit vir die woordeboek vas te pen. Ná die aanvanklike sukkelgang volg daar 'n periode van intense produktiwiteit en goeie alfabetiese vordering. 'n Verdere vasval weens 'n wending na 'n meer ensiklopediese benadering is besweer deur 'n vernuwingsproses waarin daar swaar op die nuutste metaleksikografiese insigte gesteun is. Insette deur akademici en ander rolspelers vanuit die breë Afrikaanse spraakgemeenskap is ook verkry ten einde 'n oplossing te vind vir die wetenskaplike dog sensitiewe hantering van leksikale items wat aanstoot kan gee. In daardie tydgleuf moes die WAT ook, as een van die Nasionale Leksikografie-eenhede binne PanSAT se strukture, 'n nuwe politieke bestel navigeer. Die 21ste eeu het op 'n uitdagende noot begin, met die Buro se staatsubsidie wat drasties besnoei is. Dit het die Buro genoop om deur middel van die WAT Trust met landswye fondswerwing te begin en die Afrikaanse spraakgemeenskap is terselfdertyd met behulp van 'n omvattende bemarkingsveldtog bewus gemaak van die WAT se waarde en rol. Hierbenewens moes die WAT ook vinnig aanpas by die elektroniese era, eers deur die Elektroniese WAT as CD-ROM-produk te lewer, en dit later in die Aanlyn WAT te omskep. Die noodsaak van 'n sneller voltooiing van die projek het ook duidelik geword en in 2018 is begin met 'n ambisieuse plan om die WAT teen 2028 tot by Z te voltooi. Hiermee is die Buro dan tans goed op dreef, terwyl daar ook tyd bestee en aandag gegee word aan inisiatiewe om inklusiwiteit te bevorder en om die elektroniese aanbod deurgaans te verbeter.
Trefwoorde: Afrikaans, Afrikaanse woordeboek, inklusiwiteit, leksikografie, leksikografie-eenheid, leksikografiepraktyk, Lexikos, omvattende woordeboek, taalvariëteite, Woordeboek van die Afrikaanse Taal
ABSTRACT
The first century of the WAT reflects, in many ways, the same challenges and highlights that characterise most global projects that aim to produce comprehensive dictionaries. The initial fervour was tempered by the challenges of finding a sustainable model for data collection and, at the same time, establishing a macro- and microstructural identity for the dictionary. After these initial struggles the WAT did enter a time of heightened productivity and good alphabetical progress - four volumes, covering the letters A-I, were published between 1950 and 1961. However, another troublesome period followed when the Bureau's editorial team became bogged down by the requirement to be more encyclopaedic in the microstructural treatment of entries. This particularly affected the work on the letters J-K, which comprised four volumes, with the last volume of K only published in 1991, thirty years after volume IV (covering H-I). When the unsustainability of this way of working became apparent, insights from the latest metalexicographical research were implemented to produce an updated editorial manual. This led to a significant uptick in the speed of production with the subsequent three volumes (covering L-O) requiring, on average, three years each for completion.
In a further major revision of the WAT team's editorial processes, input was garnered from a wide range of academics and role-players within the broader Afrikaans community in order to produce a more scientific and sensitive inclusion and treatment policy for lexical items that could cause offence. During that same time period, the WAT also had to determine its position with respect to a new political dispensation as one of the National Lexicography Units within PanSALB's structures. In that regard, the Bureau played an important part in the structural conceptualisation of the newly established National Lexicography Units and the provision of training in planning, management, editorial processes, and computerisation for their staff members.
The 21st century started on a challenging note, with the Bureau's state subsidy being reduced drastically. Initially, this had a damaging impact on production, and it forced the Bureau to start a countrywide fundraising campaign with the WAT Trust as its vehicle, in order to return to staffing levels that could support the required production rates. At the same time, a comprehensive marketing campaign was launched to draw the attention of the broader Afrikaans speech community to the WAT's role and value. The WAT simultaneously had to adapt quickly to a burgeoning electronic era, firstly by producing the Elektroniese WAT as CD-ROM product and later evolving it into the Aanlyn WAT. The necessity to further speed up production and publish the remaining letters as quickly as possible also became apparent. Consequently, funds were raised for additional editorial appointments, and in 2018 the Bureau embarked on an ambitious plan to complete the remaining 8 letters (from the last volume of S) and reach Z by 2028.
Currently, this ten-year plan is well on track. The Bureau is aware of its wider mandate, and concurrently to its alphabetical progress, is also devoting time and attention to initiatives promoting greater inclusivity and diversity. These include the expansion of coverage of previously marginalised varieties of Afrikaans, an internship programme that specifically focuses on training potential lexicographers from those previously marginalised communities, and continuous engagement through PanSALB initiatives to help train and support the other National Lexicography Units that play such a crucial role in the development of South Africa's official languages. Lastly, the WAT is continuously striving to improve its electronic offering. Exciting initiatives such as an updated and modernised Aanlyn WAT, fully digitalised library and material collections, and a research portal offering access to their products and data are therefore in various stages of development. With ongoing state support and extraordinary financial contributions by the public and donors through the WAT Trust, the WAT is in rude health and is looking forward to a bright future, well beyond Z.
Keywords: Afrikaans, Afrikaans dictionary, comprehensive dictionary, Dictionary of the Afrikaans Language, inclusivity, language varieties, lexicography, lexicographic practice, lexicography unit, Lexikos
1. Inleiding
In die Afrikaanse praktiese en teoretiese leksikografie is daar talle produkte wat met reg op monumentstatus kan aanspraak maak (Gouws, 2016:360). As een van die "omvangrykste en langdurigste leksikografiese projekte in Afrikaans" (Odendaal, 2016:259), en die sogenaamde "identiteitsdokument van die taal" (Meyer & Louw, 2023), verdien die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) as leksikografiese baanbreker met reg hierdie status. Die WAT se wesenlike impak oor die laaste 100 jaar op gebiede soos die taalpraktyk en die leksikografie, asook in die bevordering en behoud van Afrikaans in sy wydste sin, kan nie misken word nie en bevestig nogmaals sy monumentstatus. Die eerste eeu van die WAT was wel nie sonder struikelblokke nie en die volgende eeu hou ook vele uitdagings in. Hierdie artikel het ten doel om 'n oorsig te bied van die WAT se ontwikkeling en die rol wat die WAT in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse taal- en leksikografielandskap oor die afgelope 100 jaar gespeel het. Daar sal ook 'n blik gegee word op die huidige sowel as toekomstige bedrywighede van die Buro van die WAT.
2. Voorgeskiedenis1
Die idee van 'n woordeboek vir Afrikaans het sy oorsprong op 'n kongres van die Afrikaanse Taalvereniging wat in 1914 in Stellenbosch gehou is. Daar is besluit dat 'n tweetalige Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse woordeboek saamgestel moes word deur 'n kommissie waarvan prof. JJ Smith, wat pas as dosent in Frans en Duits aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel is, deel sou vorm (Snijman, 1964:11; Du Toit, 1966:180; Gericke, 1991a:7-8; Gouws & Ponelis, 1992:17-18; Kapp, 2013:27, 36). Benewens die tweetalige woordeboek, is 'n standaardwoordeboek van Afrikaanse woorde en idiome ook in die vooruitsig gestel (Gericke, 1991a:8). Dit is egter eers in 1920, in dieselfde jaar waarin Smith as die eerste professor in Afrikaans aan die US aangestel is, wat die saak verder gevoer is toe die Nasionale Pers Smith om hulp genader het met die opstel van 'n woordeboek (Snijman, 1964:11; Du Toit, 1966:72, 180; Kotzé, 1966:465; Snijman, 1975:3; Gouws & Ponelis, 1992:18).
Die aanvanklike plan was, aldus Smith in 'n artikel in Die Burger van 10 Julie 1920, om "'n meer populêre tweetalige woordeboek, Afrikaans-Engels en Engels-Afrikaans, uit te gee", terwyl daar terselfdertyd ook gewerk sou word aan "'n so volledig moontlike versameling van ons Afrikaanse woordeskat, sodat daar later 'n nog groter, vollediger en wetenskapliker tweetalige woordeboek, asook 'n verklarende eentalige Afrikaanse woordeboek uitgegee kan word" (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:11; 1975:3; Gouws & Ponelis, 1992:18). Dié plan sou egter spoedig vervang word deur 'n voorkeur vir 'n verklarende Afrikaanse woordeboek, aangesien Smith die "versameling van die Afrikaanse woordeskat" as "'n volksaak" en "die voltooiing van die eerste min of meer volledige Afrikaanse woordeboek" as "'n volksgebeur-tenis" beskou het (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:11; 1975:3). Ter ondersteuning van hierdie idee, maak DB Bosman in Die Burger van 20 Augustus 1924 'n aantal voorstelle vir die samestelling van "'n beknopte maar gesaghebbende Afrikaanse woordeboek" (Boshoff, 1926:315, 319). Met die oog op die samestelling van 'n Afrikaanse verklarende woordeboek, het Smith, die Nasionale Pers, die US, die regering, asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) intussen onderhandelinge gevoer (Snijman, 1964:11; Du Toit, 1966:180; Snijman, 1975:3). Die uiteinde van dié onderhandelinge was dat die regering op 12 Maart 1925 aanbeveel het dat "'n volledige en gesaghebbende woordeboek met Staatsteun opgestel word", waarvoor die Universiteitsraad "[a]an prof. Smith [...] buitengewone verlof vir drie jaar" toestaan "ten einde hom in staat te stel om sy belangrike werk i.v.m. die Afrikaanse woordeboek te voltooi" (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:11; Du Toit, 1966:181; Snijman, 1975:3-4). Op 25 Maart 1926 word die ooreenkoms tussen Smith, die Nasionale Pers en die US vir die opstel van die beoogde woordeboek met behulp van staatsteun bekragtig met die sluiting van 'n kontrak tussen die Nasionale Pers en die toenmalige Minister van Onderwys en Binnelandse Sake, DF Malan. Smith het egter reeds in Januarie van daardie jaar met die werk aan Die Afrikaanse Woordeboek (later Woordeboek van die Afrikaanse Taal) begin en sodoende die beoefening van die professionele leksikografie in Suid-Afrika afgeskop (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:11; Du Toit, 1966:181; Malan, 1974:292; Snijman, 1975:3-4; Gericke, 1991b:104).
Die beoogde woordeboek sou 'n verklarende standaardwoordeboek met woordverklarings, afleidings en voorbeeldsinne wees van ongeveer dieselfde omvang as die destydse Standaard-nederlandse woordeboek Van Dale, en moes, dienooreenkomstig die buitengewone verlof aan Smith toegestaan, binne drie jaar voltooi wees. Alhoewel daar op die samewerking van ander taalgeleerdes gehoop is, veral ten opsigte van die versameling van taalmateriaal, het Smith nie die nodige hulp gekry nie. Dít, tesame met spellingprobleme en Smith se bemoeienis met etimologiese vraagstukke, het daartoe aanleiding gegee dat die werk aan die woordeboek ontspoor het (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:11, 13; Du Toit, 1966:181; Snijman, 1975:4; Gouws & Ponelis, 1992:18, 22; Odendal, 2006:281). In reaksie hierop het die US reeds in 1928 Smith se verlof tot Desember 1930 verleng en in 1929 aangebied om verantwoordelikheid vir die woordeboek by die Nasionale Pers oor te neem, waarna die woordeboekkantoor op 1 April 1930 van die Kaap na Stellenbosch verskuif is (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:14; Du Toit, 1966:181; Snijman, 1975:3-4; Odendal, 2006:281). Daar is voorts ooreengekom dat die woordeboek teen 1936 voltooi moes word en Smith het 'n voltydse assistent (en van 1931 tot 1933 ook 'n tweede assistent) vir die bereiking van dié doel ontvang. Voortslepende spellingprobleme, materiaalversameling, etimologiese ondersoek en terminologiese vraagstukke het egter weereens vordering aan die woordeboek gerem (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:14; 1975:4).
'n Komitee wat op aandrang van die regering in die lewe geroep is om die stand van sake te ondersoek alvorens verdere finansiële steun bewillig sou word, het aanbeveel dat 'n Woordeboekkommissie beheer van Die Afrikaanse Woordeboek (voortaan: Woordeboek) moes oorneem. Die Woordeboekkommissie, waarin die regering en die US verteenwoordig was, is in 1937 saamgestel waarna fondse vir 'n verdere vyf jaar bewillig is (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:14). In 1942 gee die Kommissie Smith opdrag om "voorlopig sy ondersoek in verband met nuwe woorde te staak en die materiaal wat reeds versamel is te verwerk en persklaar te maak" met die doel om die Woordeboek binne drie jaar te voltooi (Schoonees, 1950:i; Du Toit, 1966:182). Ten spyte daarvan dat addisionele assistente aangestel is om Smith met die werk by te staan, het Smith in sy verslae telkens op die tydrowende aard van die werk gedui (Schoonees, 1950:i). As gevolg van volgehoue swak gesondheid moes Smith in 1943 eers siekteverlof neem en op 21 Augustus 1945 noodgedwonge die tuig as hoofredakteur neerlê. In dié tydperk het die rektor van die US administratiewe beheer van die Woordeboek oorgeneem en die Woordeboekkommissie het aanbeveel dat die redaksie uitgebrei word en publikasie in aflewerings geskied (Schoonees, 1950:i; Snijman, 1964:14; Du Toit, 1966:182; Snijman, 1975:4). So kom die eerste twintig jaar, oftewel die Smith-era, van die Woordeboek tot 'n einde sonder dat 'n enkele woordeboek gepubliseer is.
Gouws en Ponelis (1992:22) is van mening dat die Smith-era hoofsaaklik deur buitetalige oorwegings (d.i. die kulturele en politieke atmosfeer van die tyd) in plaas van linguistiese behoeftes en beskikbare leksikografiese kundigheid gestuur is. Dit het aanleiding gegee tot 'n skeiding tussen die Woordeboek en hoofstroom- Afrikaanse taalkundenavorsing en die gevolglike isolasie van die Woordeboek, sodat dit uiteindelik nie 'n groot invloed op die ontwikkeling van Afrikaans uitgeoefen het nie (Gouws & Ponelis, 1992:22). Tog meen Botha (2003b:12, 19) dat die werk aan die Woordeboek as stimulus gedien het vir "'n eerste teoretiese besinning in Afrikaans oor die praktyk van woordeboekmaak", deurdat enkele taalkundiges reeds in die Smith-era deur uitsprake, raadgewing of kritiek 'n invloed op die samestelling van die Woordeboek uitgeoefen het.
3. Begin van die produktiewe era
Ná Smith se uittrede is werk aan die Woordeboek aan die gang gehou deur twee van sy assistente, N van Blerk en MF Toerien (Schoonees, 1950:v). Daar is egter opnuut 'n komitee deur die regering aangestel om ondersoek in te stel na die vordering van die Woordeboek. Die Broeksmakomitee, soos wat dit later bekend gestaan het, het aanbeveel dat 'n Raad van Beheer oor Die Afrikaanse Woordeboek in die lewe geroep word, saamgestel uit verteenwoordigers van die regering, die US en die SAAWK, onder voorsitterskap van die Sekretaris van Onderwys, Kuns en Wetenskap, en onder administrasie van die rektor van die US (Schoonees, 1950:ii; Snijman 1964:14-15; Du Toit, 1966:182; Snijman, 1975:4; Odendal, 2006:281). Die Broeksma-komitee het voorts voorgestel dat twee voltydse reviseurs, twee voltydse hoofopstellers, een sekretaris-leksikograaf en 'n administrateur aangestel moes word (Schoonees, 1950:ii).
In Januarie 1947 word dr. PC Schoonees as nuwe hoofredakteur van die Woordeboek aangestel. Daar is bereken dat ongeveer 'n kwart van die Woordeboek teen dié stadium voltooi was, maar saam met die twee assistente wat die werk voortgesit het, begin hy die werk aan die Woordeboek opnuut. Definiëring is uitgebrei, meer sitate en poëme is verskaf, en in sommige gevalle is illustrasies bygevoeg. Die hulp van vakkundige medewerkers is ook ingewin by die verklaring van tegniese terminologie. Die versameling van taalmateriaal wat deur Smith aan die gang gesit is, is ook voortgesit met behulp van vrywilligers van regoor die land, en die redaksie is mettertyd uitgebrei. In 1948 onderneem Schoonees ook 'n studiereis na Nederland en Engeland ten einde kontak te maak met buitelandse woordeboekondernemings (Snijman, 1964:15; Du Toit, 1966:182). Die werk aan die Woordeboek was uiteindelik op dreef.
Op 7 Mei 1951 verskyn die eerste deel van Die Afrikaanse Woordeboek (Snijman, 1964:16; Du Toit, 1966:182),2 of die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), soos wat dit op die titelblad aangedui is.3 Die doel van die WAT is verwoord as "om, so volledig moontlik, 'n beeld te gee van die Afrikaanse taalskat in sy ruimste omvang" (Schoonees, 1950:iii). Dit sluit in standaardtaal, geselstaal, gewestelike taalmateriaal met 'n wyer gebruiksomvang, verouderde woorde, terminologie, vreemde woorde, algemeen bekende handelsname, obsene woorde, eiename met 'n oordragtelike betekenis of wat spreekwoordelik geword het, geografiese name, byvoeglike naamwoorde wat afgelei is van eiename, en neologismes (Schoonees, 1950:iii). Deel I van die WAT het dus "'n definitiewe aanduiding gegee" van "die omvang en aard van die woordeskat" van Afrikaans, aldus Snijman (1964:16). Teen 1954 het Smith se woordversameling van ongeveer 230 000 indekskaartjies tot meer as 500 000 aangegroei (Schoonees, 1955:iii), en onder Schoonees se hoofredakteurskap het nog drie woordeboekdele verskyn, te wete Deel II (D - F) in 1955, Deel III (G) in 1957, Deel IV (H - I) in 1961. Hy het ook die letter J en die eerste gedeelte van K persklaar gemaak voordat hy op 30 Junie 1962 uitgetree het (Snijman, 1968:i).
Hierna is die tuig op 1 Julie 1962 opgeneem deur dr. FJ Snijman; voorheen opsteller en later assistentredakteur (Hauptfleisch, 1984:i). Kort ná sy aanstelling, in Januarie 1963, is die miljoenste kaartjie tot die WAT se woordversameling gevoeg (Snijman, 1968:i), en sewe jaar later, in Januarie 1970, het die WAT die tweemiljoenste kaartjie ontvang (Snijman, 1976:i). Snijman se metaleksikografiese besinning oor sekere aspekte van die leksikografie het daartoe aanleiding gee dat die WAT se redaksionele stelsel onder sy leiding voortdurend aangepas en aangevul is. Hy was egter ook gesteld op skakeling na buite; deur lesings, radiopraatjies en artikels, en deur die vestiging en bevordering van bande met buitelandse leksikografiese instansies. Voorts is die organisasie en administrasie van die WAT tydens sy hoofredakteurskap op 'n nuwe grondslag geplaas (Hauptfleisch, 1984:i). Op 25 Mei 1973 is die Wet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Wet No. 50 van 1973) deur die Parlement goedgekeur, waarna dit op 1 April 1974 in werking getree het. Ingevolge hierdie wet is die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (voortaan: Buro van die WAT of slegs Buro) as regspersoon ingestel en permanent op Stellenbosch gevestig. Die WAT sou ook voortaan onder die beheer van die Beheerraad van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal staan (Snijman, 1976:i; Hauptfleisch, 1984:i). Onder sy hoofredakteurskap het uiteindelik Deel V (J - KJ) in 1968 en Deel VI (KLA - KOL-) in 1976 verskyn. Meer as die helfte van Deel VII is ook in drukproefvorm voltooi teen die tyd dat hy in 1981 as hoofredakteur uitgetree het (Hauptfleisch, 1984:i).
Op 1 Mei 1981 word die assistent-hoofredakteur, mnr. DC Hauptfleisch, tot hoofredakteur bevorder (Hauptfleisch, 1984:i), en teen 1983 het die Buro van die WAT al meer as driemiljoen kaartjies in sy woordversameling gehad (Hauptfleisch, 1984:vi). In 1984 verskyn Deel VII (KOM - KOR-) van die WAT. Twee jaar later word die Wet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal van 1973 deur die Wysigingswet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal gewysig. Ingevolge hierdie Wysigingswet sou die Buro van die WAT nie meer net op Stellenbosch gesetel wees nie, maar in die besonder aan die Universiteit Stellenbosch gevestig wees. Voorts is die doelstellings van die Buro duideliker uiteengesit, die samestelling van die Beheerraad van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal verander en die ledetal vermeerder, en die Beheerraad kon voortaan self oor die druk en herdruk van die WAT besluit, terwyl die opbrengs uit die verkope van die WAT aan die Buro betaal sou word. In 1987 word daar ook begin met die rekenarisering van sowel die administratiewe as redaksionele werksaamhede van die Buro. Wat laasgenoemde betref, is daar nie net van rekenaars gebruik gemaak in die opstel van die woordeboek nie, maar daar is ook begin om 'n elektroniese databasis saam te stel. Die Wet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word in 1991 verder gewysig sodat die Beheerraad nou groter outonomie sou hê ten opsigte van die aanstelling van personeel en finansiële bestuur (Hauptfleisch, 1991:i). In dieselfde jaar verskyn 'n tweede deel, Deel VIII (KOS - KYW-), onder Hauptfleisch se hoofredakteurskap.
Die teoretiese besinning oor woordeboekmaak wat reeds in die Smith-era 'n aanvang geneem het (sien afdeling 2), is ná die verskyning van die eerste WAT-deel verder gevoer. Dit is volgens Gouws (2003:76-77) veral resensente se kritiek op die WAT, oftewel die eksterne refleksiewe komponent van die WAT, wat as stimulus vir metaleksikografiese belangstelling in Afrikaans gedien het. Die Afrikaanse metaleksikografie is volgens Botha (2003b:12, 23) naamlik, op enkele uitsonderings na, in die eerste twee dekades ná die verskyning van die eerste deel van die WAT veral in die vorm van resensies oor die WAT bedryf. Die WAT het in hierdie era van sy geskiedenis dus as 't ware as dryfveer vir die ontwikkeling van die Afrikaanse metaleksikografie gedien. Alhoewel die leksikografieteorie aanvanklik nie 'n merkbare invloed op die samestelling van die WAT gehad het nie (Gouws, 2003:76-77; Botha, 2003b:267), sou die ontwikkeling van die metaleksikografie waartoe die eerste agt dele van die WAT aanleiding gegee het, wel "'n beslissende impak" op die samestelling van die daaropvolgende dele hê (Botha, 2003b:2).
4. Die eerste herskeppingsproses: Strategiese beplanning
Reeds voor die verskyning van Deel VIII is daar in 1989 met strategiese beplanning by die Buro van die WAT begin. Van 27 tot 29 November 1989 vind daar 'n groepsgesprek tussen die WAT-redaksielede en 'n groep taalkundiges plaas waar verskillende leksikografiese onderwerpe bespreek is (Van Schalkwyk, 1991:xv). Die uiteinde van die gesprek was 'n ingrypende hersiening van die WAT se redaksionele stelsel deurdat dit onder andere ooreenkomstig die nuutste taalkundige en leksikografiese navorsing aangepas is, asook baie vereenvoudig is ten einde die woordeboekmaakproses te versnel en die woordeboek self toegankliker te maak vir gebruikers. Ook die materiaalversamelings- en opnamebeleid is hersien (Hauptfleisch, 1991:i; Van Schalkwyk, 1994:i).
Op 31 Julie 1991 tree Hauptfleisch as hoofredakteur van die WAT af en word hy vanaf 1 Augustus 1991 deur dr. DJ van Schalkwyk opgevolg (Van Schalkwyk, 1994:i). Van Schalkwyk, wat die strategiese beplanning in 1989 gelei het, het die strategiese beplanning voortgesit (Botha, 2005:i). Dit sluit in personeelbeplanning, die ontwikkeling van produksienorme en 'n prestasiebestuurstelsel, en voortgesette rekenarisering van die administratiewe en redaksionele werksaamhede van die Buro (Van Schalkwyk 1994:i). Onder sy hoofredakteurskap is die idee van "koöperatiewe leksikografie" ook uitgebou, deurdat daar onder andere kontak opgebou is met leksikograwe en leksikografiese projekte in die res van Afrika, Europa, Amerika, Australië en Japan (Van Schalkwyk, 1994:iv; Botha, 2003a:47). Die Buro van die WAT het ook met die oog op die stimulering van die leksikografiese gesprek die eerste uitgawe van die vaktydskrif Lexikos in 1991 uitgegee (Van Schalkwyk, 1994:iv). Hierdie publikasie vir "die leksikografiese vakspesialis" sou jaarliks uitgegee word as een van die Buro se beoogde reekspublikasies in die AFRILEX ("Leksikografie in en vir Afrika")-reeks (Van Schalkwyk, 1994:iv; Harteveld, 1991:ix), en sou volgens Botha (2003b:220-221) instrumenteel wees in die ontwikkeling van sowel die nasionale as internasionale leksikografieteorie, asook die uitbou van Suid-Afrika se rol in die internasionale leksikografie. In 1992 verskyn ook die eerste satellietpublikasie van die Buro, Woordkeusegids: 'n Kerntesourus van Afrikaans, wat met buite-outeurs saamgestel is (Van Schalkwyk, 1994:i, iv).
Wat leksikografiese samewerking in veral Suider-Afrika betref, het die Beheerraad van die WAT die moontlikheid ondersoek om 'n Instituut vir Suider-Afrikaanse Leksikografie op die been te bring. Hiervoor is 'n onafhanklike eksterne navorsingspan bestaande uit dr. Mariëtta Alberts en prof. William Branford aangestel wat hulle ondersoek in die loop van 1992 uitgevoer het (Van Schalkwyk, 1994:iv; Alberts, 2022a:10; 2022b:5). Die navorsingspan het egter daarop gedui dat daar eerder 'n duidelike behoefte aan die stigting van 'n professionele vereniging vir leksikografie bestaan het (Alberts, 2022a:14-15).
In 1994 verskyn Deel IX (L) in rekordtyd (3 jaar) onder Van Schalkwyk se hoofredakteurskap (Van Schalkwyk, 1994:i, iv). Die naam van die woordeboek, wat tot en met die vorige uitgawe nog op die buiteblad aangedui is as Die Afrikaanse Woordeboek, is sedert hierdie uitgawe op sowel die buiteblad as die titelblad aangedui as Woordeboek van die Afrikaanse Taal.4 Hiermee saam het die Buro ook 'n nuwe embleem gekry wat op sowel die titelblad as die rugband van die WAT aangebring is (Van Schalkwyk, 1994:i).
Die verskyning van Deel IX het met 'n belangrike gebeurtenis saamgeval: die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika. In dié demokratiese gees hou die Buro van die WAT van 8 tot 10 Februarie 1994 'n internasionale kongres met die tema "Die hantering van rassismes, seksismes en ander sensitiewe terme in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal" wat deur Afrikaanse en Nederlandse metaleksikograwe, die WAT-redaksie, en verteenwoordigers van die verskillende Afrikaanse spraakgemeenskappe bygewoon is (Harteveld & Van Niekerk, 1995:234; Van Schalkwyk, 1996:i; Botha, 2003b:43; 2005:i). Die onderwerpe wat bespreek is, sluit in rassismes, seksismes en sensitiewe leksikale items wat gestigmatiseerde seksuele verskynsels, praktyke en voorkeure by mense aandui, sensitiewe leksikale items wat gestigmatiseerde fisieke of geestelike toestande en verskynsels by mense aandui, en sensitiewe leksikale items binne 'n sosiale, politieke en godsdienstige struktuur. Die uiteindelike doel van die kongres was om 'n ewewigtige redaksionele beleid vir die bewerking van pejoratiewe en sensitiewe leksikale items in die WAT te formuleer, wat ná afloop van die kongres aan taalgebruikers, taalpraktisyns, taalkundiges en ander nasionale en internasionale leksikograwe vir kommentaar gestuur is (Van Schalkwyk, 1996:i).
Die uiteenlopende reaksies op die beleid het die Buro genoop om 'n alternatiewe beleid op te stel wat op 31 Mei 1995 deur die Beheerraad van die WAT goedgekeur is. Hierdie beleid5 kom daarop neer dat alle pejoratiewe en sensitiewe leksikale items voortaan steeds opgeneem en gedefinieer sou word, maar dat die pejoratiewe of kwetsende aard van dié leksikale items behoorlik deur middel van etikettering aangedui word. Koteksinligting in die vorm van kollokasies en poëme word by al hierdie leksikale items weggelaat, en by rassismes ook sitate. By rassismes word verder ook semantiese betrekkinge soos kwetsende sinonieme, semantiese opposisies en verwysings weggelaat (Van Schalkwyk, 1996:i). Met hierdie stap wou die Buro "'n bydrae lewer tot die verbetering van menseverhoudinge in Suid-Afrika", aldus Van Schalkwyk (1996:i). Volgens Schoonheim (1998:122) het die Buro hiermee ook 'n belangrike posisie in die internasionale leksikografie ingeneem deurdat hierdie beleid as voorbeeld vir leksikograwe in ander lande dien.
Die nuwe demokratiese bedeling het ook ander omwentelinge vir die Buro van die WAT ingehou. In 1995 word die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) ingevolge die Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Wet No. 59 van 1995) in die lewe geroep. PanSAT is gestig ten einde uitvoering te gee aan afdeling 6 van die Suid-Afrikaanse Grondwet en het as primêre doel die bevordering van meertaligheid en die ontwikkeling van die voorheen gemarginaliseerde amptelike Suid-Afrikaanse tale, insluitende Suid-Afrikaanse Gebaretaal en die tale van die Khoi-Khoin en die San (Alberts, 2022b:7). Terselfdertyd besluit die Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie (DACST), wie se departement op daardie stadium woordeboekprojekte van die Buro en die Dictionary of South African English (DSAE) befonds het, om 'n wetsontwerp daar te stel waarvolgens leksikografie-eenhede vir al die amptelike Suid-Afrikaanse tale op die been gebring sou word. Hy het voorgestel dat die bestaande Wet op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal met sy onderskeie wysigings herroep word en deur die Wetsontwerp op Nasionale Leksikografie-eenhede (DACST 1996) vervang word (Alberts, 2022b:8-9).
Die wetsontwerp is egter uiteindelik onttrek, aangesien daar gemeen is dat, gegewe PanSAT se taalbevorderings- en ontwikkelingsfunksie, die leksikografie-eenhede eerder ingevolge 'n hersiene PanSAT-wet gestig moes word. Die PanSAT-wet is gevolglik geherformuleer sodat die afdelings van die Wetsontwerp op Nasionale Leksikografie-eenhede as artikels in die Wysigingswet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Wet No. 10 van 1999) geïnkorporeer is (Alberts, 2022b:8-9). Met die goedkeuring van hierdie wysigingswet het die Buro van die WAT die Nasionale Leksikografie-eenheid vir Afrikaans geword en is dit op 8 November 2000 as 'n artikel 21-maatskappy geregistreer wat deur 'n direksie bestuur word met die hoofredakteur as die uitvoerende direkteur (Botha, 2005:i; Alberts, 2022:9). Op 3 Julie 2003 word ook 'n Memorandum van Ooreenkoms tussen die Buro van die WAT, PanSAT en die Universiteit Stellenbosch onderteken (Botha, 2005:i). Te midde van bogenoemde omwentelinge en aanvanklike finansiële onsekerhede word die WAT Trust in 1999 gestig (www.wat.co.za/kortgeskiedenis).
Ondertussen ontvang die Buro van die WAT se vaktydskrif Lexikos in 1995 akkreditasie van die Suid-Afrikaanse Departement van Onderwys (www.wat.co.za/kortgeskiedenis), en word daar in dieselfde jaar opnuut 'n studie onderneem na die haalbaarheid van 'n vereniging vir leksikografie. Die idee is met oorweldigende entoesiasme begroet en só word die leksi-kografiese vereniging wat reeds in 1991 in die vooruitsig gestel is op 14 Julie 1995 in die lewe geroep (Alberts, 2022a:15). Die Buro het toestemming gegee dat die akroniem AFRILEX gebruik mag word, en sodoende kom dit as die African Association for Lexicography (AFRILEX) tot stand. Lexikos sou ook voortaan die mondstuk van die vereniging wees (Alberts, 2022a:15-16).
Ondanks al die nasionale woelinge op leksikografiese front, verskyn Deel X (M) van die WAT in 1996 - slegs twee en 'n halwe jaar ná die vorige deel (Van Schalkwyk, 1996:i). Hiermee het sowel die alfabet as die WAT volgens Van Schalkwyk (1996:i) die halfpadmerk bereik. In 2000 verskyn ook Deel XI (N - O) - die laaste deel onder hoofredakteurskap van Van Schalkwyk, wat aan die einde van 2003 afgetree het. 'n Groot deel van Deel XII (P - Q) is ook onder sy hoofredakteurskap voltooi. In 2003 verskyn die WAT vir die eerste keer in elektroniese formaat onder die titel Elektroniese WAT (A tot O) as CD-ROM. In dieselfde jaar verskyn nog 'n satellietpublikasie van die Buro, die Etimologiewoordeboek van Afrikaans, asook dié publikasie se elektroniese weergawe op CD-ROM (Botha, 2005:i).
Nog 'n uitvloeisel van die strategiese beplanning is die vestiging van die Buro as leksikografiese opleidingsentrum. Daar is reeds in 1995 begin met die aanbieding van kursusse in die algemene leksikografie, rekenaarleksikografie, en die beplanning en bestuur van leksikografieprojekte vir plaaslike en Nederlandse studente, universiteitskolleges, provinsiale owerhede, asook kollegas uit die res van Afrika (Botha, 2003a:43; 2003b:222-223; Van Schalkwyk, 2003, in Odendaal, 2017:81). Voorts is die insigte verkry uit die WAT se strategiese beplanning veral ook met die Nasionale Leksikografie-eenhede van die ander nege Afrikataaleenhede gedeel in 'n poging om "'n aktiewe rol [te speel] in die opheffing van ongelykhede op die terrein van die leksikografie", aldus Van Schalkwyk (2003, in Odendaal, 2017:81; Alberts, 2022b:14). Opleidingsessies oor die praktiese leksikografie, die metaleksikografie, die gebruik van rekenaarapparatuur en -programmatuur, bemarking en projekbeplanning en -bestuur is vir personeellede van dié eenhede by die Buro aangebied (Alberts, 2022b:12, 14).
5. Die tweede herskeppingsproses: Privaat befondsing en openbare bewusmaking
Op 1 Januarie 2004 word dr. Willem Botha die nuwe hoofredakteur van die WAT (Botha, 2005:ii), en twee jaar later in 2006, met die tagtigste bestaansjaar van die WAT, verskyn Deel XII (P - Q). In dieselfde jaar word die Elektroniese WAT (A tot Q) op CD-ROM vrygestel, die Aanlyn WAT word op die internet bekendgestel, en die satellietpublikasie Woordkeusegids word onder die titel Sinonieme en verwante woorde heruitgegee. In 2007 verskyn 'n Supplement tot die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (Botha, 2009:i; www.wat.co.za/kortgeskiedenis). Nóg twee jaar later in 2009 verskyn Deel XIII (R) van die WAT met sy ooreenstemmende CD-ROM-weergawe, Elektroniese WAT (A totR). In 2010 word die selfoonweergawe van die Elektroniese WAT vrygestel en nog 'n satellietpublikasie, Basic Afrikaans: The top 1000 words and phrases, in samewerking met die Vriende van Afrikaans (Malan, 2010:2; Botha, 2013:i; www.wat.co.za/kortgeskiedenis).
Gedurende dieselfde tyd word die Buro se staatsbefondsing drasties gesny - van R2,1 miljoen in 2003 tot slegs R1 miljoen in 2008. Dit het die Buro genoop om deur middel van die WAT Trust met landswye fondswerwing te begin (Botha, 2009:i). Die fondswerwing het ook hand-aan-hand gegaan met 'n bemarkingsveldtog om die WAT aan die wyer publiek bekend te stel. Hieruit het in 2010 een van die WAT se langslopende fondsinsamelingsprojekte, die Borg 'n Woord-projek, gevloei. Deelnemers kan óf 'n woord borg teen R100 per woord, óf 'n woord eksklusief koop teen R5 000 per woord (www.wat.co.za/borg-n-woord). Teen die begin van 2024 het deelnemers aan die Borg 'n Woord-projek al byna R4 miljoen tot die WAT se fondse bygedra (www.wat.co.za/inleiding, 1.3). Vanaf 2011 tot 2022 was daar ook op Vrydae in Monitor op RSG 'n rubriek Woord van die Week waarin 'n interessante woord uit die week se nuusgebeure bespreek is, gevolg deur 'n kort promosie vir Borg 'n Woord deur die programaanbieder. Ander bemarkingsveldtogte sluit in gereelde beantwoording van taalnavrae op die radiostasie RSG se taleprogram (tans "Taaldinge") deur senior redaksielede van die WAT, die Woord van die Week wat weekliks in die pers en op sosiale media geplaas word, 'n jaarlikse Nuutskeppingskompetisie wat in samewerking met RSG en die ATKV tydens die Woordfees op Stellenbosch gehou word, Woordpretgeleenthede waartydens praatjies en optredes deur Afrikaanse skrywers, mediapersoonlikhede en kunstenaars by die WAT gehou word, 'n Treffendste Afrikaanse Handelsnaamkompetisie, en insetsels op televisieprogramme soos Kwêla.
Teen 2013 het die finansiële ondersteuning van privaat individue en instansies 'n driekwart van die WAT se jaarlikse inkomste uitgemaak (Botha, 2013:i), en tans is die WAT vir slegs sowat 17% van sy totale jaarlikse begroting van staatsbefondsing afhanklik. Ten spyte van kwynende staatsbefondsing, is die WAT vandag waarskynlik finansieel die suksesvolste en stabielste leksikografie-eenheid in Suid-Afrika.
Aan die einde van 2012 is daar begin om die WAT se materiaalversameling, wat teen dié tyd tot byna viermiljoen indekskaartjies aangegroei het, te digitaliseer ten einde dit te beveilig, dit wyer toeganklik te maak, en werk aan die woordeboek te vergemaklik (Botha, 2013:i). 'n Jaar later verskyn die eerste deel van drie dele van die WAT wat die letter S sou dek, Deel XIV (S - SKOOL), en sy ooreenstemmende CD-ROM-weergawe, Elektroniese WAT (A tot SKOOL), die jaar daarop. Ook die Etimologiewoordeboek van Afrikaans en sy Supplement is in 2015 in 'n CD-ROM-weergawe geïntegreer (Botha, 2019:i; www.wat.co.za/kortgeskiedenis).
Teen 2015 het die Aanlyn WAT, wat deurlopend in ooreenstemming met die gedrukte woordeboek bygewerk is, nie meer tred gehou met die jongste ontwikkelinge in die elektroniese leksikografie nie. Daarom word daar in dieselfde jaar deur die redaksie gewerk aan 'n konsepontwerp vir die ontwikkeling van 'n moderne nuwe Aanlyn WAT, genoem die Loodsprojek (Botha, 2019:i; sien ook afdeling 7.1 vir meer hieroor). In die jaar daarop is daar ook gewerk aan die aanvulling en opdatering van die Aanlyn WAT deurdat meer as 800 ontbrekende nuwe woorde en betekenisonderskeidings van A tot R opgeneem is en/of gewysig is (Botha, 2019:i).
6. Die derde herskeppingsproses: Tienjaarplan
Met die negentigste bestaansjaar van die WAT is daar besef dat dit nog twee dekades sou duur voordat die WAT tot by Z voltooi sou wees. Met dít in gedagte, het die Buro van die WAT teen die einde van 2017 'n plan goedgekeur waarvolgens die woordeboek binne tien jaar (teen 2028) tot by Z voltooi sal wees. Ten einde die sogenaamde Tienjaarplan uit te voer, is vyf bykomende redaksielede in 2018 aangestel en is daar om addisionele befondsing by die Buro se groot donateurs soos Het Jan Marais Nationale Fonds, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, die Hiemstra Trust en Sanlam aansoek gedoen (Botha, 2019:i; Holtzhausen, 2022:xv). In 2019 is nog twee bykomende, deeltydse redaksielede aangestel om werk aan die Tienjaarplan te bespoedig (Botha, 2021:i).
In 2019 verskyn Deel XV (SKOOL - SRI) van die WAT saam met nog twee satellietpublikasies waaraan redakteurs van die WAT meegewerk het: die Prentewoordeboek Afrikaans-IsiXhosa Gr. R-3 en die Picture Dictionary English-Afrikaans Gr R-3 (Botha, 2019:i). Vanweë die feit dat die gedrukte woordeboek gaandeweg verouderd geraak het en die Aanlyn WAT al hoe groter geraak het, asook dalende verkope van die gedrukte WAT gepaardgaande met stygende drukkoste en die tydrowendheid om die gedrukte woordeboek persklaar te maak, is daar besluit dat Deel XVI die laaste gedrukte deel van die WAT sou wees (Botha, 2019:i; 2021:i).6 So verskyn die laaste deel van S, Deel XVI (SRP - SZONDI), asook die laaste gedrukte deel van die WAT, in 2021. Gegewe die toenemende verwyderdheid tussen die gedrukte woordeboek en die Aanlyn WAT, bevat sowel Deel XV as Deel XVI van die WAT addenda met nuwe woorde en uitdrukkings van A tot S in 'n poging om die kopers van die gedrukte woordeboek tegemoet te kom (Botha, 2019:i; 2021:i). Sowel Deel XV as Deel XVI het binne die tydraamwerk soos bepaal deur die Tienjaarplan verskyn.
In 2022 tree Botha as hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT af en word hy opgevolg deur dr. Phillip Louw. Die jaar daarna word die letter T op die halfpadmerk van die Tienjaarplan bekendgestel (www.wat.co.za/inleiding, 1.1 & 2.1).
7. Op pad na 'n nuwe eeu
7.1 Elektroniese herskepping
Die publisering van die letter T in Oktober 2023 - die eerste letter wat eksklusief aanlyn gepubliseer is - was veronderstel om saam te val met die bekendstelling van 'n nuwe herontwerpte Aanlyn WAT. Weens die tegniese eise wat 'n omvattende woordeboek soos die WAT stel, moes die herontwerp se bekendstelling noodgedwonge uitgestel word tot 2025. Dit is nie gewoon vir omvattende woordeboeke om van die gedrukte formaat na die e-formaat te beweeg voordat die projek voltooi is nie (vgl. Gouws, 2021). Die Aanlyn WAT en die Elektroniese WAT is nie van meet af as elektroniese produkte ontwikkel nie. Dit is eintlik net digitale weergawes van die gedrukte produk. Du Plessis (2014:80, e.v.) wys daarop dat die beskikbare data van die WAT juis 'n goeie platform is vir die skep van 'n werkbare en aanpasbare elektroniese produk, maar dat die elektroniese weergawes van die WAT, buiten enkele gevorderde toegangsroetes soos soekenjins, nie die gebruiker ter wille is in die e-omgewing nie.
Gouws (2021:1159) beaam hierdie gedagte en noem dat om "verstaanbare en voor die hand liggende redes" benut die Aanlyn WAT "nie naastenby alle moontlikhede van die betrokke medium nie". Hoewel die Tienjaarplan daarop gemik is om die WAT tot by Z te voltooi, moet hierdie plan ook die ruimte skep om aandag te gee aan die medium waarin die woordeboek aangebied word. Die digtheid van data, die veranderinge in gebruikersverwagtinge en -profiel en die toeganklikheid van woordeboekdata is onder meer verdere faktore wat ingespeel het op die uiteindelike besluit om die WAT slegs as aanlyn produk te publiseer en wat in ag geneem moet word in die herontwerp van die Aanlyn WAT (Du Plessis, 2023). Daarom het Louw vroeg in sy redakteurskap die herontwerp van die Aanlyn WAT as 'n bykomende prioriteit tot alfabetiese vordering gestel.
In die aanvang van die rekenaarera en die daaropvolgende digitale revolusie, moes die WAT se omvattende datastelle telkens in verskillende formate omgesit word (Du Plessis, 2023). Hierdie herhaaldelike omskakeling van data, 'n tekort aan ontwikkelingstyd en die voorkeur aan die gedrukte produk en die gepaardgaande vereistes daarvan, het die WAT veral in die aanlyn omgewing gekniehalter (Du Plessis, 2014; 2023). Daarom is daar in 2019 besluit om daarvan werk te maak om woordeboekdata wat nie voorheen in die huidige woordeboek-skryfprogrammatuur, TLex, saamgestel is nie, met behulp van die ontwikkelaar van TLex om te skakel. Hierdie data-omskakelings was die eerste fase in 'n groter projek om die WAT se data in een werkbare formaat te giet. Tydens die Covid-19-pandemie het die redaksie besef dat die huidige leksikografiese proses, d.i. die proses wat gevolg word om onder andere die manuskrip vir 'n bepaalde trajek te voltooi, ook nie volhoubaar is in die digitale era nie. Daar is veral aanpassings gemaak in die gebruik van elektroniese korpusse, asook in TLex, om vinniger en meer akkuraat te werk. Hierdie aanpassings en die bogenoemde data-omskakeling het die grondslag gelê vir die oorskakeling van die samestelling en druk van 'n gedrukte woordeboek na die publisering van 'n volkome aanlyn woordeboek (Du Plessis, 2023).
7.1.1 Die Aanlyn WAT
Die reeds genoemde Loodsprojek het ten doel gehad om die Aanlyn WAT te moderniseer deur middel van 'n gebruikersvriendelike gebruikskoppelvlak, verbeterde soekfunksionaliteit en die integrering van bestaande aanlyn leksikografiese tendense en praktyke (Du Plessis, 2023). Die Loodsprojek is egter in 2018 weens die prioritisering van die Tienjaarplan gestaak. Aan die einde van 2021, nadat besluit is dat die WAT nie meer in gedrukte formaat sal verskyn nie, is daar opnuut aandag aan die herontwerp van die Aanlyn WAT gegee. Die Aanlyn WAT is tans die WAT se vlagskipproduk en dit moet 'n produk wees wat gebruikersvriendelik is, wat kan voldoen aan die vereistes wat die gebruikers en moderne tegnologie stel, en wat die nuutste tendense in die elektroniese leksikografie betrek. Derhalwe is die eerste fase van die herontwerp van die Aanlyn WAT, wat onder meer op die Loodsprojek geskoei is, uiteindelik in 2022 onderneem. Hierdie herontwerp behels onder andere bywerking van die styl en uitleg van die Aanlyn WAT, aanpassing van en stilistiese veranderinge aan die woordeboekdata en 'n verbeterde subskripsiemodel (www.wat.co.za/inleiding/, 1.2). Die konsepontwerp van die herontwerpte Aanlyn WAT is aan die begin van 2023 goedgekeur. Dié ontwerp betrek ook sover moontlik die beginsel van "mobile first" (vgl. Undakat, 2023) om te verseker dat die Aanlyn WAT sy gebruikers se behoeftes op verskillende toestelle soos slimfone en tabletrekenaars kan bevredig.
Tydens die herontwerpproses is daar ook verdere omskakelingswerk aan die WAT se data onderneem en daar is prosesse in plek gestel vir die redaksie om op 'n meer gereelde basis, eerder as ná die voltooiing van 'n deel of letter, die Aanlyn WAT op inhoudelike vlak te kan opdateer. Dit is veral nodig omdat die aanvulling en verbetering van die Aanlyn WAT deurlopend oor die hele spektrum van die alfabet plaasvind. Ontbrekende nuwe woorde en uitdrukkings word deurgaans opgeneem en artikels word gewysig om onder andere voorsiening te maak vir nuwe betekenisonderskeidings, die byvoeging van sinonieme en antonieme en die bywerking en regstelling van kruisverwysings tussen die verskillende letters van die alfabet. Dit is egter nog geen omvattende herbewerking van die Aanlyn WAT nie en die groot herbewerking sal ná die voltooiing tot by Z plaasvind (www.wat.co.za/inleiding/, 1.2).
Met die eise wat 'n omvattende woordeboek soos die WAT stel, is dit nodig om die aanlyn produk noukeurig en stelselmatig te herontwerp (vgl. ook Gouws, 2021). Gevolglik is die herontwerp van die Aanlyn WAT in verskillende fases aangepak. Ná voltooiing van bogenoemde konsepontwerp en eerstefasedata-omskakeling, het die fokus na 'n tweede fase verskuif. In die tweede fase word daar beoog om die WAT se twee webwerwe, te wete die Aanlyn WAT en die korporatiewe webwerf, www.wat.co.za, te integreer. Dit sal 'n alles-in-een-platform skep waar gebruikers die aanlyn woordeboek, WAT se e-winkel en enige ander inligting oor die Buro en sy werksaamhede kan gebruik of nagaan. Die aanlyn omgewing skep die verwagting dat gebruikers vinnig en moeiteloos kan inteken en alle tekstuele data kan gebruik. Derhalwe moet die Aanlyn WAT se subskripsiemodel in ooreenstemming wees met ander aanlyn woordeboeke of naslaanbronne, en woordeboekdata wat buite die tradisionele makrostruktuur7val, bv. voor- en agtertekste, moet ook strook met die standaardpraktyke van die e-omgewing om dit vindbaar, bruikbaar en minder oorweldigend vir e-gebruikers te maak. Tydens hierdie fase word daar ook verdere aandag aan die aanbieding en omskakeling van woordeboekdata gegee sodat die Aanlyn WAT se data dwarsdeur soekbaar is en die woordeboek as geheel meer toeganklik en gebruikersvriendelik is (Du Plessis, 2023). In die derde fase word verdere verfyning van die Aanlyn WAT se soekenjin beoog, terwyl die moontlikheid van 'n woordeboekportaal ondersoek sal word waar ander leksikografiese hulpbronne soos die Etimologiewoordeboek van Afrikaans ook aanlyn gepubliseer en gebruik kan word. Ten laaste word 'n digitale navorsingsportaal oorweeg waar navorsers op 'n afsonderlike platform meer bepaalde of gevorderde soektogte binne beperkte datastelle kan onderneem (Du Plessis, 2023).
7.1.2 'n Omvattende korpus
In die leksikografiese proses steun die WAT se redaksie geredelik en voortdurend op die genoemde omvattende indekskaartjieversameling. Hoewel hierdie versameling kaartjies 'n toereikende korpus is vir die samestelling van die WAT, word dit nie noodwendig soos in die verlede bygewerk nie. Botha het daarvoor gesorg dat die digitisering van die kaartjiemateriaal wel teen 2017 voltooi is.
Die voordeel en toeganklikheid van digitale korpusse vir die samestelling van 'n omvattende woordeboek kan nie misken word nie. Die WAT bou daarom sedert 2020 deurlopend aan 'n uitgebreide digitale korpus van Afrikaanse bronne soos boeke, akademiese tydskrifte, tesisse, tydskrifte en nuusblaaie wat gratis of via medewerkende instansies soos die Universiteit Stellenbosch aanlyn beskikbaar is (www.wat.co.za/inleiding/, 1.5.2). Dit beteken nie dat die WAT nie voor 2020 elektroniese materiaal gebruik het nie, maar die verbetering daarvan en eksponensiële bywerking van digitale materiaal het veral in en ná die Covid-19-pandemie plaasgevind. Die gedigitiseerde kaartjies vorm ook deel van hierdie korpus, terwyl enige nuwe leksikale materiaal naatloos in die korpus geïntegreer kan word. In aansluiting by die digitale korpus, word die digitalisering van die WAT-biblioteek tans (2024) ondersoek. Alhoewel die hoofdoel van die projek is om die risiko rondom potensiële brandskade te verminder, sal die digitalisering ook dié waardevolle versameling bronne ten volle vir manuskripontwikkeling ontsluit (www.wat.co.za/inleiding/, 1.5.2).
7.2 Die bevordering van inklusiwiteit
Die WAT is as omvattende verklarende woordeboek reeds sedert sy ontstaan gemoeid met die optekening van Afrikaans in sy ruimste sin deurdat sowel gesproke as geskrewe materiaal uit al die variëteite van Afrikaans opgeteken is (Van Schalkwyk, 1994:i; 1996:i). Die sosiopolitieke konteks waarin die eerste dele van die WAT tot stand gekom het, het egter daartoe aanleiding gegee dat al die variëteite van Afrikaans nie altyd genoegsame verteenwoordiging in die WAT gekry het nie (Odendaal, 2023:195-198, 201-203). Naas die WAT se verbintenis tot omvattende optekening van al Afrikaans se variëteite, duur die WAT se pogings om veeltaligheid deur die bevordering en uitbou van leksikografiese aktiwiteite binne PanSAT en AFRILEX se strukture, ook voort. Hier onder volg dus 'n oorsig van die WAT se huidige en toekomspogings om inklusiwiteit te bevorder.
7.2.1 Kaapse Afrikaans
Enersyds in reaksie op kritiek dat die WAT nie Kaapse Afrikaans genoegsaam weerspieël nie (vgl. Odendaal, 2023:188), en andersyds danksy 'n opbloei in Kaapse Afrikaanse publikasies, het die WAT in 2020 besluit om sy opname van Kaapse Afrikaans van A tot Z te hersien (Botha, 2021:i).8 Hierdie projek, wat voorlopig aan die einde van 2023 voltooi is, het daartoe aanleiding gegee dat meer as 1 500 Kaapse Afrikaanse woorde, uitdrukkings en betekenisonderskeidings tot die WAT toegevoeg is (Odendaal, 2023:205; www.wat.co.za/inleiding, 1.5.1).
7.2.2 Samewerking met die ATR aan variëteiteprojek vir skole
Die WAT werk tans saam met die Afrikaanse Taalraad (ATR) aan 'n projek om die variëteite van Afrikaans se gebruik in skoolverband te bevorder. Saam met die Taalkommissie van die SAAWK en ander inhoudskeppende vennote van die ATR, word 'n woordelys van geldige Afrikaanse woorde uit die verskillende variëteite saamgestel, wat onder meer aan onderwysers en eksaminatore beskikbaar gestel kan word vir gebruik in die klaskamer. Die WAT, as omvattende woordeboek van al Afrikaans se variëteite, dra materiaal uit die woordeboek en databasis tot hierdie projek by.
7.2.3 ProVARIA
Op 30 Junie 2023 tree die WAT as gasheer op vir 'n ATR-werkwinkel, bygewoon deur taalkundiges van regoor die land, asook drs. Louw en Odendaal as WAT-verteenwoordigers. Die onderwerp was die navorsing, beskrywing en dokumentering van Afrikaans se variëteite, en 'n projek (ProVARIA) is formeel geloods om 'n variasieportaal aanlyn te skep, waartoe die WAT sal bydra as beskrywers van die leksikale items vir elke variëteit. (www.wat.co.za/wat-en-provaria-bewaar-die-rykheid-van-afrikaanse-varieteite/)
7.2.4 Internskapprogram
Twee jong aspirantleksikograwe uit spraakgemeenskappe van voorheen benadeelde variëteite van Afrikaans, kon in Julie 2023 by die WAT aansluit as deel van 'n jaar lange internskapprogram. Hulle is met die hulp van die Universiteit van Wes-Kaapland se Departement Afrikaans en Nederlands geïdentifiseer en het hulle basiese opleiding voltooi, waarna hulle vir 'n verdere jaar onder toesig manuskrip sal maak as junior mederedakteurs. Die WAT hoop om met hierdie voortgaande inisiatief nie net 'n groot bydrae te lewer tot toekomstige werk om die beskrywing van die variëteite te ondersteun nie, maar ook om te verseker dat daar 'n meer inklusiewe poel kandidate is wat kan en wil aansoek doen wanneer volle mederedakteursposte by die WAT vakant raak.
7.2.5 Bevordering van Afrikaans as vaktaal
Aan die ander kant van die taalspektrum beteken die WAT se verbintenis tot variëteitinklusi-witeit ook dat standaardterme uit 'n wye verskeidenheid vakgebiede ingesluit moet word, en daarvoor word staatgemaak op die hulp van 'n groot verskeidenheid vakkundige medewerkers (vgl. Swanepoel, 2014; Luther, 2019). Verder is die WAT besig om nou die grondslag te lê vir 'n navorsingsportaal (sien 7.1.1) wat dit vir akademici en studente makliker sal maak om die WAT as woordeskathulpmiddel vir enige vakgebied te gebruik. Vir die eerste fase van daardie projek sal die fokus op makliker ontsluiting van die woordeboekinhoud self wees. Maar soos in 7.1.2 genoem, is die WAT ook in die ondersoek- en beplanningsfase van 'n projek om die Buro se eie kernbiblioteek en ander bronversamelings te digitaliseer. Die hoop is dat van hierdie bronne, veral dié in die WAT se versamelings wat baie oud of uniek is, deur die navorsingsportaal vir legitieme navorsers beskikbaar gestel sal kan word.
7.2.6 Ondersteuning vir ander tale se nasionale leksikografie-eenhede
Die WAT het 'n lang verbintenis tot die opleiding van al tien die ander nasionale leksikografie-eenhede (Alberts, 2022b:3). Personeel van al die eenhede was reeds vir opleidingskursusse by die WAT en daar is steeds 'n behoefte aan opleiding by sommige eenhede namate nuwe redaksielede aangestel word. Die elf nasionale leksikografie-eenhede is verteenwoordig in die LexiEditors' Forum waar gemeenskaplike probleme twee keer per jaar bespreek word, en waar ervarings en opleiding ook gedeel kan word. In 2024 het Louw tydens die eerste forumvergadering in Makhanda byvoorbeeld opleiding oor uitgewerskontrakte aan die ander hoofredakteurs gebied. Dit bly vir die WAT 'n prioriteit om die ander amptelike landstale te help ondersteun met sy betrokkenheid binne PanSAT se strukture.
7.2.7 Lexikos en AFRILEX
Lexikos (sien afdeling 4) skep vir Afrikaanse en Suid-Afrikaanse meta- en praktiese leksikograwe 'n inklusiewe ruimte om sowel hulle vakkundige kennis as ontwikkelinge in die praktyk met 'n plaaslike en internasionale gehoor te deel. Die WAT as uitgewer van Lexikos bevorder en ondersteun hierdeur nie net Afrikaans as wetenskapstaal nie, maar ook die leksikografie as praktyk en wetenskap in die Suid-Afrikaanse en internasionale konteks. Die redaksie en redaksiekomitee, wat uit verskillende taal- en kultuuragtergronde afkomstig is, dra ook by tot die inklusiewe beeld van die tydskrif. Die WAT en sy personeel poog ook om 'n wesenlike bydrae tot die akademiese ruimte te maak deur onder meer by kongresse oor taalkunde, meertaligheid en leksikografie betrokke te wees, in die bestuur van AFRILEX te dien en, in samewerking met AFRILEX, werkswinkels en opleidingsgeleenthede aan te bied.
8. Ten slotte
Gouws (2016:367) noem tereg dat woordeboeke produkte is wat die "ontwikkeling van 'n taal, sy kreatiewe vermoë, en iets van die kultuur en die wêreldsiening van die taalgemeenskap weerspieël en kan help vestig". Die ontwikkeling en vestiging van Afrikaans as taal in eie reg word weerspieël in die ontwikkeling van die WAT veral omdat die WAT 'n wesenlike rol gespeel het in die vestiging, optekening of identifi sering van taal- en kultuurverskynsels in die breë Afrikaanse taalgemeenskap. Dit is daarom belangrik dat die WAT onwrikbaar bly in sy mandaat om 'n gesaghébbende skatkamer vir inklusiewe Afrikaans te wees (La Vita, 2023). Daar is baie min tale wat 'n omvattende woordeboek het of sal hê. Die WAT is daarom ook 'n leksikografi ese sowel as kulturele suksesverhaal. Dit is nie 'n gegewe dat 'n regering of 'n taalgemeenskap in 'n nasionale leksikografi ese projek sal belê nie.
Die feit dat die WAT kon voortbestaan deur verskillende ontwikkelingsperiodes met ondersteuning van sy gebruikers, spreek boekdele oor die vertroue wat die Afrikaanse gemeenskap in die WAT het, en wys op die waarde van so 'n woordeboekprojek. Op beide akademiese en praktiese fronte, het die WAT ook noemenswaardige bydraes gemaak, te wete die vestiging van 'n internasionale vaktydskrif, die betrokkenheid by leksikografi ese en taalkundige opleiding, die baanbrekerswerk in die Suid-Afrikaanse leksikografi epraktyk, en die ondersteuning van ander leksikografi e-eenhede en akademiese organisasies.
In die eerste eeu van die WAT se bestaan is daar baie vermag, baie omwentelinge gemaak en baie vernuwing het plaasgevind. Die volgende eeu hou nuwe uitdagings in 'n veranderende taallandskap, die eise van tegnologie, die tekort aan 'n woordeboekkultuur, 'n nuwe generasie van gebruikers maar die WAT is goed geposisioneer om hierdie uitdagings aan te pak en hopelik voort te bou aan die "lewende, alomveranderende museum en argief"van Afrikaans (Meyer & Louw, 2023).
BIBLIOGRAFIE
Alberts, M. 2022a. Lexikos and AFRILEX - A perfect lexicographic liaison. Lexikos, 32(2):1-26. [ Links ]
Alberts, M. 2022b. The South African National Lexicography Units - Two decades later. Lexikos, 32(3):1-24. [ Links ]
Boshoff, SPE. 1926. 'n Standaardwoordeboek van Afrikaans. In Gedenkboek ter eere van die Genootskap van Regte Afrikaners (1875-1925). Potchefstroom: Afrikaanse Studentebond, pp. 307-328. [ Links ]
Botha, W. (red.). 2003a. Curriculum vitae: DJ van Schalkwyk. In Botha, W. (red.). 'n Man wat beur. Stellenbosch: Buro van die WAT, pp. 42-49. [ Links ]
Botha, WF. 2003b. Die impak van die leksikografieteorie op die samestelling van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch. [ Links ]
Du Plessis, AH. 2014. A Functional Analysis of the e-WAT with Specific Focus on the Mobile Version: Towards a Model for Improvement. Lexikos, 24:75-93. [ Links ]
Du Plessis, AH. 2023. The WAT at a T-junction. Redesigning and updating the online Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ongepubliseerde referaat gelewer by die 27th International Conference of the African Association for Lexicography. 27 September, Bloemfontein. [ Links ]
Du Toit, PS. 1966. Die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte. In Thom, HB e.a. (reds.). Stellenbosch 1866-1966. Honderd jaar hoër onderwys. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, pp. 71-97. [ Links ]
Gericke, W. 1991a. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal - 'n kultuurhistoriese verkenning. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch. [ Links ]
Gericke, W. 1991b. Vroeë woordelyste en woordeboeke in verband met Afrikaans. Lexikos 1:104-112. [ Links ]
Gouws, RH. 2003. Oor patriotte en ander leksikografiese vernuwers. In Botha, W. (red.). 'n Man wat beur. Stellenbosch: Buro van die WAT, pp. 71-85. [ Links ]
Gouws, RH. 2016. Enkele minder bekende Afrikaanse woordeboekmonumente. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56 (2-1):355-370. [ Links ]
Gouws, RH. 2021. Op pad na 'n omvattende aanlyn woordeboek - met spesifieke verwysing na die Woordeboek van die Afrikaanse taal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(4-1):1156-1176. [ Links ]
Gouws, RH & Ponelis, FA. 1992. Issues in the development of Afrikaans lexicography. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde Supplement, 12:1-44. [ Links ]
Harteveld, P. 1991. Voorwoord. Lexikos, 1:ix-xi. [ Links ]
Harteveld, P & AE van Niekerk. 1995. Beleid vir die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Lexikos, 5:232-248. [ Links ]
Holtzhausen, J. 2022. Dr. Willem Botha: Planmaker en steunpilaar. Lexikos, 32(3):xv-xvi. [ Links ]
Kapp, P. 2013. Maties en Afrikaans: 'n Besondere verhouding, 1911-2011. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Kotzé, DJ. 1966. Stellenbosch se bydrae. In Thom, HB e.a. (reds.). Stellenbosch 1866-1966. Honderd jaar hoër onderwys. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, pp. 437-529. [ Links ]
La Vita, M. 2023. 'Woord-ghoeroe' wil 'skatkamer vir inklusiewe Afrikaans' skep. Netwerk24, https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/profiele/woord-ghoeroe-wil-skatkamer-vir-inklusiewe-afrikaans-skep-20230105. [12 Augustus 2024]. [ Links ]
Luther, J. 2019. Veels geluk, WAT, met die verskyning van Deel 15! VivA-blogs, https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/479-wat15. [31 Julie 2024]. [ Links ]
Malan, SI. 1974. Die groei van Afrikaans as skryftaal. In Kok, B. (red.). Afrikaans: Onspêrel van groot waarde. Johannesburg: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, pp. 279-293. [ Links ]
Malan, M. 2010. Wêreld-eerste: Lywige WAT op sel. Rapport, 22 Augustus 2010. [ Links ]
Meyer, N & Louw, P. 2023. Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT: 'n onderhoud. LitNet, https://www.litnet.co.za/phillip-louw-hoofredakteur-en-uitvoerende-direkteur-van-die-wat-n-onderhoud/. [12 Augustus 2024]. [ Links ]
Odendaal, G. 2017. Die rol van die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands in die ontwikkeling van die Afrikaanse leksikografie deur sy betrokkenheid by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. LitNet Akademies, 14(2):65-91. [ Links ]
Odendaal, G. 2023. WAT gemaak met Kaaps? Die opname van Kaaps in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. In Feinauer, I & Gouws, R. (reds.). Fritz Ponelis en die Afrikaanse taalwetenskap. Stellenbosch: SUN PReSS, pp. 187-215. [ Links ]
Odendal, FF. 2006. HAT veertig jaar - 'n persoonlike oorsig. Lexikos, 16:280-289. [ Links ]
Schoonheim, F. 1998. Een studie naar aspecten van de invloed van de Nederlandse lexicografie op Afrikaanse woordenboeken. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch. [ Links ]
Snijman, FJ. (hoofred.). 1964. U woorde, u woordeboek. Stellenbosch: Raad van Beheer oor Die Afrikaanse Woordeboek. [ Links ]
Snijman, FJ. 1975. U woorde, u woordeboek. Lantern, 25(1):2-9. [ Links ]
Swanepoel, PH. 2014. Evalueringskriteria en die interaksie tussen die leksikografieteorie en -praktyk; die ontwerp van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal as gevallestudie. Lexikos, 24: 378-401. [ Links ]
Unadkat, J. 2023. Mobile First Design: What it is and How to Implement it. BrowserStack, https://www.browserstack.com/guide/how-to-implement-mobile-first-design#:~:text=As%20mentioned%20frequently%2C%20mobile%20devices,for%20in%20th7e%20first%20place. [7 Julie 2024]. [ Links ]
Van Schalkwyk, DJ. 1991. Die woord vra kontak. Lexikos, 1:xv-xvii. [ Links ]
Woordeboek van die Afrikaanse Taal, https://www.wat.co.za/. [22 Junie 2023]. [ Links ]
Woordeboeke
Botha, WF. (hoofred.). 2005. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Twaalfde Deel P - Q. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Botha, WF. (hoofred.). 2009. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Dertiende Deel R. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Botha, WF. (hoofred.). 2013. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Veertiende Deel S - SKOOI. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Botha, WF. (hoofred.). 2019. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Vyftiende Deel SKOOL - AFRI LANKAANS. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Botha, WF. (hoofred.). 2021. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Sestiende Deel SRP - SZONDITOETS. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Hauptfleisch, DC. (hoofred.). 1984. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Sewende Deel KOM - KOR. Pretoria: Die Staatsdrukker. [ Links ]
Hauptfleisch, DC. (hoofred.). 1991. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Agste Deel KOS - KYW. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Schoonees, PC. (hoofred.). 1950. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Eerste Deel A - C. Pretoria: Die Staatsdrukker. [ Links ]
Schoonees, PC. (hoofred.). 1955. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Tweede Deel D-F. Pretoria: Die Staatsdrukker. [ Links ]
Schoonees, PC. (hoofred.). 1957. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Derde Deel G. Pretoria: Die Staatsdrukker. [ Links ]
Schoonees, PC. (hoofred.). 1961. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Vierde Deel H-I. Pretoria: Die Staatsdrukker. [ Links ]
Snijman, FJ. (hoofred.). 1968. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Vyfde Deel J - KJ. Pretoria: Die Staatsdrukker. [ Links ]
Snijman, FJ. (hoofred.). 1976. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Sesde Deel KLA - KOL. Pretoria: Die Staatsdrukker. [ Links ]
Van Schalkwyk, DJ. (hoofred.). 1994. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Negende Deel L. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Van Schalkwyk, DJ. (hoofred.). 1996. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Tiende Deel M. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Van Schalkwyk, DJ. (hoofred.). 2000. Woordeboek van die Afrikaanse Taal, Elfde Deel N - O. Stellenbosch: Buro van die WAT. [ Links ]
Ontvang: 2024-08-22
Goedgekeur: 2024-10-06
Gepubliseer: Maart 2025
André du Plessis has been a co-editor at the Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Dictionary of the Afrikaans Language) since July 2018. From 2014 to 2016 he was involved in numerous research projects, such as the SeLA project (Scientific e-Lexicography in Africa), at the Department of Afrikaans and Dutch, Stellenbosch University. In 2015 he obtained his MA in Lexicography at Stellenbosch University. From 2016 to 2018 he was editor and lexicographic systems specialist at Pharos Dictionaries. He has been a board member of AFRILEX (African Association for Lexicography) since 2017 and an associate editor of the journal Lexikos since 2021. In 2023 he was appointed as editor-in-chief of Lexikos. He is currently pursuing his PhD in Lexicography.
André du Plessis is sedert Julie 2018 'n mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Van 2014 tot 2016 is hy betrokke by verskeie navorsingsprojekte, soos die SeLA-projek (Scientific e-Lexicography in Africa), aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch. Hy behaal in 2015 sy MA in Leksikografie aan die Universiteit Stellenbosch. Van 2016 tot 2018 was hy redakteur en leksikografiese stelselspesialis by Pharos Woorde-boeke. Hy is sedert 2017 'n bestuurslid van AFRILEX (African Association for Lexicography) en sedert 2021 'n mederedakteur van die vaktydskrif Lexikos. In 2023 is hy as hoofredakteur van Lexikos aangewys. Hy is tans besig met sy PhD in Leksikografie.
Phillip Louw het 'n DLitt in Leksikografie (met die fokus op skoolwoordeboeke) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Hy het sy loopbaan as deeltydse dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US begin, waarna hy by die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal aangesluit het. Ná sewe jaar as mederedakteur van die WAT, het hy in 2005 as senior redakteur by Oxford University Press Southern Africa aangesluit. Sy eerste projek as redakteur vir OUP, die Oxford Afrikaans-Engels / English-Afrikaans Skoolwoordeboek / School Dictionary, het die ATKV-Woordwystoekenning in 2008 ontvang. Hy was ook die hoofredakteur van die eentalige Oxford Afrikaanse Skool-woordeboek wat in 2012 verskyn het. Tot Desember 2022 dien hy as Uitgewersbestuurder: woordeboeke en letterkunde by OUPSA, met 'n bykomende ondersteuningsrol vir die res van Afrika, Indië en Australië. In Januarie 2023 hervat hy sy loopbaan by die WAT deur as hoofredakteur en uitvoerende direkteur in diens te tree.
Vanaf 2013 tot 2019 was hy 'n lid van die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afri-kaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het meegewerk aan die elfde uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Sedert 2019 dien hy as bestuurslid van die African Association for Lexicography (AFRILEX) en sedert 2024 is hy 'n navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands.
Phillip Louw completed a DLitt in Lexicography (focusing on school dictionaries) at Stellenbosch University. He started his career as lecturer at the university's Department of Afrikaans and Dutch, after which he joined the Bureau of WAT as co-editor for seven years. In 2005 he started as senior editor at Oxford University Press Southern Africa. His first project as editor for OUP, Oxford Afrikaans-Engels / English-Afrikaans Skoolwoordeboek / School Dictionary, received the ATKV-Woordwys-toekenning in 2008. He also served as editor-inchief of the monolingual Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek published in 2012. Until December 2022 he served as publishing manager for dictionaries and literature data at OUP SA, with additional support duties in the rest of Africa, India and Australia. In January 2023 he resumed his career at the WAT by accepting the position as editor-in-chief and executive director. Beyond OUP and the WAT, he served on the Afrikaans Language Commission from 2013 to 2019 and was co-author of the eleventh edition of the Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. He has served on the board of the African Association for Lexicography (AFRILEX) since 2019. Since 2024 he is a research fellow at Stellenbosch University's Department of Afrikaans and Dutch.
Gerda Odendaal is sedert Julie 2016 'n mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Sy behaal in 2012 haar PhD in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch, waarna sy vir drie jaar as 'n nadoktorale genoot aan dieselfde universiteit verbonde is. Sy is tans die voorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad se Nasionale Taal-liggaam vir Afrikaans (NTLA), 'n navor-singsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands, en dien in die stuurkomitee van ProVARIA (Projek oor Variasie in Afrikaans).
Gerda Odendaal has been a co-editor at the Woordeboek van die Afrikaanse Taal since July 2016. She obtained her PhD in Afrikaans and Dutch in 2012 at Stellenbosch University, after which she was a postdoctoral fellow at the same university for three years. She is currently the chair of the Pan South African Language Board's Afrikaans National Language Body (ANLB), a research fellow at Stellenbosch University's Department of Afrikaans and Dutch, and serves on the steering committee of ProVARIA (Project on Variation in Afrikaans).
1 Hierdie afdeling is op Odendaal (2017) gebaseer.
2 In die woordeboek self word die publikasiejaar egter as 1950 aangedui.
3 Hierdie dubbele titelaanduiding is eers met die verskyning van die negende deel verander (sien afdeling 4). Die gebruik om na dié woordeboek as die WAT te verwys, het egter reeds in Deel II (1955) 'n aanvang geneem (vgl. Schoonees, 1955:i).
4 Daar is egter nooit amptelik afstand gedoen van die titel Die Afrikaanse Woordeboek nie (Van Schalkwyk, 1994:i). Die titel van die woordeboek word met die jongste gedrukte deel (Deel XVI, 2021) steeds op die rugband aangedui as Die Afrikaanse Woordeboek.
5 Vergelyk Van Schalkwyk (1996:i); Harteveld & Van Niekerk (1995:238-247) vir 'n volledige uiteensetting van dié beleid.
6 Hierdie besluit word tans heroorweeg.
7 Die tradisionele makrostruktuur (soos bepaal in gedrukte woordeboeke) verwys tipies na die ordening en aanbieding van leksikale items en sluit die toegangsalfabet en artikeltrajekte in.
8 Vir 'n volledige uiteensetting van hierdie projek, sien Odendaal (2023:203-211).