SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue1King Kong adapatations (1959-2017): Transversing culture and society"Realness" in images: The adaptation of verbatim text to stage images with specific reference to tot stof | tot stilte - 'n paniekreaksie (2018) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a4 

    NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS

     

    Afrikaans as akademiese taal: Verlede, hede en toekoms

     

    Afrikaans as an academic language: The past, the present, and the future

     

     

    Tobie van Dyk

    Toegepaste Taalkunde Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika, E-pos: tobie.vandyk@nwu.ac.za

     

     


    OPSOMMING

    Moedertaalonderrig bied veelvuldige voordele op die gebied van akademiese, kognitiewe en sosiale ontwikkeling. In hierdie artikel is die fokus op Afrikaans as medium van onderrig binne 'n akademiese konteks en teen die agtergrond van die bevordering van meertaligheid en inklusiewe onderwys. Teoretiese perspektiewe rakende kwessies soos akademiese taalgebruik, moedertaalonderrig, meertaligheid, inklusiwiteit, sowel as taalbeplanning en -bestuur word verskaf. Die stand van Afrikaans binne die hoëronderwyssektor word onder die soeklig geplaas, met spesifieke verwysing na empiriese data uit 'n ondersoek wat in 2023 afgehandel is. Dit behels 'n taalhulpbronoudit, uitgevoer deur die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) in opdrag van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO). Alle openbare universiteite in Suid-Afrika is by die oudit betrek ten einde inligting te bekom oor die stand van inheemse tale by hierdie instellings as raamwerk vir die implementering van die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoër Onderwysinstellings (TOHO) wat in 2020 gepromulgeer is. Agt prioriteitsareas vir intervensie in die kort termyn is geïdentifiseer. Wat Afrikaans spesifiek betref, het die oudit aan die lig gebring dat die taal goed verteenwoordig is in vergelyking met ander tale by universiteite, maar dat daar ook steeds uitdagings bestaan, soos stigmatisering, hulpbrontoewysing en gebrekkige implementering van taalbeleide. Die insigte wat uit die ondersoek bekom is, beklemtoon dat nog méér gedoen moet word om veeltaligheid as bydraende faktor tot inklusiwiteit en 'n billike opvoedkundige omgewing in hoër onderwys in Suid-Afrika 'n werklikheid te maak.

    Trefwoorde: moedertaalonderrig; Afrikaans; akademiese taal; hoër onderwys; meertaligheid; inklusiwiteit en regverdigheid in onderwys; taalbe-planning; taalbeleid; taalhulpbronoudit; histories Afrikaanse univer-siteite; gemengdedata-insamelingsmetode


    ABSTRACT

    Mother tongue education offers multiple benefits in terms of academic, cognitive and social development. In this article, the focus is on Afrikaans as medium of instruction within an academic context and against the background of the promotion of multilingualism and inclusive education. Theoretical perspectives are provided regarding issues such as academic language use, mother tongue teaching, multilingualism, inclusiveness, as well as language planning and management. The contribution of Afrikaans to scientific research and publication, as well as the position of this language within the higher education sector are put under the spotlight, with specific reference to empirical data from an investigation completed in 2023. This involves a language resource audit, carried out by the South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) on behalf of the Department of Higher Education and Training (DHET). All public universities in South Africa were involved in the audit in order to obtain information on the state of indigenous languages at these institutions and this information will serve as framework for the implementation of the Language Policy Framework for Public Higher Education Institutions (LPHE) promulgated in 2020. The aim of this policy is to promote and strengthen the use of all official languages across all functional domains of public higher education in line with the stipulations of the South African Constitution.
    An educational research design and mixed methods approach to data collection were chosen for the audit. Two questionnaires were drawn up: one focused on students and one focused on staff, which were completed at all institutions. The questionnaires were followed up by semi-structured interviews with both staff and students in order to gain clarity on quantitative data and further input on questions from stakeholders at universities. Information was gathered regarding the status quo at institutions of higher learning in terms of language policy, language implementation planning, language policy monitoring, inclusion of regional languages, official languages of the institution, strengths and weaknesses, and priority areas that need attention. In addition, information on language services, teaching-learning and research, language of communication and administration, and student life was obtained. Findings include: The findings of the audit are presented and discussed with the support of visual material. : a limited knowledge of additional indigenous languages amongst personnel; that English is still the defacto language of instruction; and that neither students nor personnel are properly informed about institutional language policies, language services and available multilingual resources for teaching and learning. Surprisingly, 95.7% of students revealed that they prefer English as medium of instruction, but, on the other hand, most students would like to improve their ability in additional indigenous languages.
    Eight priority areas of intervention for the short term have been identified. These are: expertise and support in language planning and management; monitoring and reporting; co-ownership, co-responsibility, cooperation in funding; hegemony of English; academic language development; language ability of staff at conversational level; multilingual pedagogy; and development of terminology
    As far as Afrikaans is concerned, the audit revealed that the language is well represented at universities compared to other languages, but that there are still challenges, such as stigmatisation, resource allocation, and the effectiveness of the implementation of language policies. The insights gained from the investigation emphasise that much still needs to be done to realise multilingualism as a contributing factor to inclusiveness and a fair educational environment in higher education in South Africa. The rich tapestry of languages and cultures in South Africa makes it essential for the higher education environment to accommodate and promote multilingualism. Doing this is imperative to reflect demographic diversity and to promote inclusiveness and social cohesion. The audit underlines the fact that, among our indigenous languages, Afrikaans occupies a unique position, with a complex historical context and a significant speaker base. It is therefore important that appeals are continuously made, and arguments put forward for the strategic integration of Afrikaans in higher education as part of an ongoing programme for promoting a truly multilingual environment that respects all linguistic identities.

    Keywords: mother tongue teaching; Afrikaans; academic language; higher education; multilingualism; inclusivity and fairness in education; language planning; language policy; language resource audit; historically Afrikaans universities; mixed-methods data collection


     

     

    1. Inleidend

    Met die viering van Afrikaans se honderdste bestaansjaar, is dit nodig om ook een van die hoër funksies van die taal, naamlik dié van akademiese taal, onder die loep te neem. Die histories Afrikaanse universiteite (HAU's) het tot nou toe 'n betekenisvolle rol in die vorming van die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap gespeel. Afrikaans as akademiese taal het in 'n mindere of meerdere mate, veral sedert 1994, ook die toets van die tyd deurstaan op die gebied van die historiese, die kulturele en die politieke. Trouens, dit weerspieël vandag die breër maatskaplike veranderinge van die afgelope drie dekades van demokrasie in Suid-Afrika en funksioneer steeds as taal van onderwys en identiteit.

    In hierdie artikel word daar eerstens enkele teoretiese perspektiewe gedeel, insluitende 'n algemene beskrywing van akademiese taal en Afrikaans in 'n akademiese konteks. Daarna word Afrikaans as medium van onderrig, die bevordering van meertaligheid en inklusiewe onderwys, sowel as die bydrae van Afrikaans tot wetenskaplike ondersoek en publikasie bespreek. Die doel hiermee is nie net om die waarde van Afrikaans in akademiese omgewings te illustreer en die belangrikheid van die taal vir die bevordering van akademiese en kulturele doelwitte in Suid-Afrika uit te lig nie, maar ook om die internasionale toepaslikheid van so 'n diskoers te belig. Hierdie afdeling word afgesluit met 'n kort bespreking van taalbeplanning en taalbestuur.

    Tweedens word 'n kort historíese oorsig oor Afrikaans as akademiese taal gebied, in die besonder binne die konteks van HAU's, insluitende invloedryke organisasies en individue. Die fokus skuif dan na die stand van Afrikaans tans in die hoëronderwyssektor, met verwysing na empiriese data uit 'n onlangse ondersoek. In die vierde deel van die artikel word daar besin oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal, gebaseer op die voorafgaande inligting.

     

    2. Enkele teoretiese perspektiewe

    2.1 Akademiese taal

    Akademiese taal is gespesialiseerde taalgebruik wat in akademiese en onderwysomgewings gebruik word om komplekse idees, konsepte en argumente oor te dra, vakgesprek aan te moedig, en selfs nuwe woorde of terme te skep. Akademiese taal bevat gespesialiseerde (vak) terme en beskrywings van konsepte wat meestal nie in alledaagse taal voorkom nie en dikwels abstrak van aard is. Hierdie tipe taal is noodsaaklik om die kompleksiteit en diepte van akademiese navorsing en bespreking te kommunikeer (Hyland, 2009). Die grammatika en sintaksis van akademiese taal is volgens Schleppegrell (2004) dikwels ook kompleks, wat insluit die gebruik van uitgebreide sinstrukture (in die besonder saamgestelde en veelvoudige sinne) en passiefkonstruksies (onder andere om objektiwiteit en geloofwaardigheid te bewerkstellig, maar ook ruimte te laat vir afleiding en spekulasie). Spesifieke diskoerskonven-sies is ook tipies van akademiese taal (Gee, 2014) en hierdie konvensies sluit onder andere die volgende in: 'n formele toonaard, die gebruik van bepaalde registers, insluiting van en verwysing na wetenskaplike bronne, sowel as die sistematiese en logiese aanbieding van konsepte, idees, bewyslewering en argumentasie.

    Afrikaans in 'n akademiese konteks het beide historiese en hedendaagse waarde. Dit speel 'n belangrike rol in die bevordering van taaldiversiteit en akademiese onderskeiding in Suid-Afrika en dra by tot die bewaring van taal en kultuur en die behoud van 'n unieke kulturele identiteit (Smit, 2015).1 Volgens Kruger en Naudé (2012) dra die behoud en deurlopende gebruik van 'n taal daartoe by om kulturele diversiteit te bevorder en kulturele identiteit te versterk. Dit hou direk verband met die ontwikkeling van taalgebruik in sogenaamde hoërordekontekste, soos in onder meer howe, kontrakte, vakwetenskap, en hoër onderwys.

    2.2 Moedertaalonderrig, die bevordering van meertaligheid en inklusiwiteit

    Die begrip "moedertaalonderrig" verwys na kontekste waar studente in hul huistaal onderrig ontvang. Dit bied veelvuldige voordele op die gebied van akademiese, kognitiewe en sosiale ontwikkeling. Sodanige argument vorm die basis vir gesprekke oor die belang van moedertaalonderrig en die voordele wat dit inhou vir studente se akademiese sukses en algehele ontwikkeling. Navorsing oor moedertaalonderrig, en Afrikaans in die besonder, dui juis op verhoogde akademiese prestasie (Louw & Pienaar, 2017). Onderrig in die moedertaal dra op die langer termyn by tot hoër akademiese prestasie deur die bevordering van vermoëns in begrip, analise, assimilasie, evaluasie en toepassing van komplekse konsepte en idees (Murray, 2010; Thomas & Collier, 2002).

    Verbeterde kognitiewe ontwikkeling kan ook met moedertaalonderrig in verband gebring word, omdat dit die ontwikkeling van vaardighede in probleemoplossing, kreatiewe denke en kritiese oordeelvermoë kan fasiliteer deurdat studente meer betrokke en gemotiveerd is wanneer hulle in 'n taal leer waarin hulle gemaklik is (Baker & Wright, 2017; Cummins, 2000). 'n Meer uitgebreide woordeskat in vergelyking met dié van 'n tipiese addisioneletaalgebruiker dra verder by tot verhoogde begrip en redenasievermoë. Dit verminder taalhindernisse wat andersins kan lei tot frustrasie en afleiding. Wanneer studente in 'n taal leer wat hulle ken, kan hulle fokus op die inhoud van die vak eerder as om te worstel met die taal self (Cummins, 1978; Bates, 1999; Ganuza & Hedman, 2019; Morris & Cobb, 2004).

    Derdens is dit welbekend dat moedertaalonderrig 'n leerder se betrokkenheid by kulturele en historíese kontekste aansienlik kan beïnvloed en kan help met die bevordering van 'n dieper verbintenis tot kulturele erfenis en historiese begrip, sowel as die vorming van 'n kulturele identiteit (Alexander, 2009; Cummins, 2000; Skutnabb-Kangas, 2000). Taal en kultuur is onlosmaaklik geïntegreerd. So, byvoorbeeld, is leerders wat in hul moedertaal onderrig word en leer, dikwels meer kultureel betrokke by tekste en praktyke waaraan hul blootgestel word; dit lei weer tipies tot 'n diepgaande belewenis, waardering en bewaring van hul erfenis (Baker, 2006). Die verband tussen taal en historíese begrip is insgelyks betekenisvol. Historiese narratiewe is dikwels ingebed in die talige strukture en idiome van 'n taal. Volgens Heugh (2009) is leerders wat geskiedenis deur hul moedertaal leer, byvoorbeeld meer geneig om die fyner en kontekstuele betekenisse van historiese gebeure en figure te begryp en het hulle ook 'n beter retensie en begrip van historíese inhoud in vergelyking met dié wat in 'n tweede of vreemde taal opgelei is. Heugh skryf dit daaraan toe dat die moedertaal 'n meer genuanseerde begrip van historiese diskoers moontlik maak wat kultureel spesifiek en kontekstueel relevant is.

    Moedertaalonderrig is 'n fundamentele strategie vir die bevordering van veeltaligheid en inklusiwiteit in opvoedkundige omgewings. Deur studente se moedertaal na waarde te ag en as medium van onderrig en leer te gebruik, word omgewings geskep wat talige diversiteit as die norm stel en die ontwikkeling van veelvuldige taalvaardighede aanmoedig. Deur Afrikaans byvoorbeeld as een van die tersiêre onderrigtale te behou, dra universiteite ook by tot 'n inklusiewe onderwysomgewing wat alle tale en kultuurgroepe respekteer (Heugh, 2011; Hibbert & Van der Walt, 2014; Skutnabb-Kangas & Heugh, 2013). 'n Verdere voordeel, volgens Baker (2011), is dat moedertaalonderrig, binne 'n veeltalige konteks, die grondslag lê vir meertaligheid deur studente se huistale te versterk en terselfdertyd addisionele tale bekend te stel.

    Ons moet egter daarteen waak om die saak van moedertaalonderrig slegs vanuit 'n enkele perspektief te beredeneer. Moedertaalonderrig is nie noodwendig die enigste roete vir die bevordering van meertaligheid en inklusiwiteit nie; meertalige onderrigkontekste dra ook hiertoe by, soos byvoorbeeld uitgewys deur Cummins (1978; 2000). 'n Belangrike en unieke bydrae van moerdertaalonderrig binne 'n meertalige konteks is dat die talige en kulturele agtergronde van alle studente erken en gerespekteer word, minstens op simboliese vlak: dit versterk studente se identiteit, skep 'n meer inklusiewe atmosfeer, oorbrug kulturele gapings en voorkom marginalisering (García, 2009). Sodanige inklusiewe benadering versterk studente se gevoel dat hul waardeer en geag word, en dat hul deel is van die onderwysstelsel. Boonop verbeter moedertaalonderrig, in 'n meertalige konteks, kommunikasie tussen studente onder mekaar en tussen studente en dosente.

    Uit die bostaande bespreking kan die afleiding gemaak word dat die insluiting van Afrikaans in akademiese kontekste 'n kritieke en onvervangbare rol speel in die bevordering van taal- en kultuurerfenis, akademiese prestasie, sowel as die bevordering van meertaligheid en inklusiwiteit. Deur Afrikaans in akademiese omgewings te behou, kan Suid-Afrikaanse universiteite myns insiens nie net bydra tot die behoud van die taal en kultuur nie, maar ook 'n meer inklusiewe en diverse akademiese omgewing bevorder; dit skep immers ook 'n platform vir ander tale om dienooreenkomstig te groei en gevestig te raak as akademiese tale.

    2.3 Die bydrae van Afrikaans tot wetenskaplike ondersoek en publikasie

    Taal is nie bloot 'n instrument vir kommunikasie nie; dit is ook 'n noodsaaklike instrument vir die bevordering van kennis en die verspreiding van navorsingsinsigte. Die keuse van taal in wetenskaplike en vakkundige kontekste het 'n groot impak op die toeganklikheid, reikwydte en invloed van navorsingsbevindinge. Terwyl Engels dikwels die dominante taal in akademiese diskoers is, speel ander tale ook 'n kritieke rol in die konseptualisering en uitvoer van navorsing, sowel as die lewering van wetenskaplike publikasies.

    Die redes hiervoor is velerlei, maar kan as volg opgesom word (vergelyk Dubois, 2012; Schmidt, 2015; Zhao, 2018): (i) dit dra by tot diverse, en in baie gevalle ook omgewingspesi-fieke, perspektiewe wat weer kan lei tot deurbrake in navorsing en innovasie; (ii) dit dra daartoe by dat talige probleme wat in spesifieke kontekste voorkom, beter verstaan en opgelos kan word, omdat dit plaaslike, historíese, intellektuele, kulturele en identiteitselemente of tradisies integraal tot die navorsing hanteer - wetenskaplike bevindinge is makliker om te omskryf en te interpreteer, omdat dit direk van toepassing is op spesifieke kontekste; (iii) tale is tipies die draers van historiese en intellektuele tradisies wat sekere akademiese dissiplines aansienlik beïnvloed; en (iv) die bevordering van navorsing en publikasie in veelvuldige tale bevorder akademiese inklusiwiteit en toeganklikheid - deur wetenskaplike diskoers in 'n reeks tale te ondersteun, word akademici en navorsers uit verskillende talige kontekste byvoorbeeld bemagtig om aan globale navorsingsgesprekke deel te neem wat weer bydra tot 'n sogenaamde demokratisering en bevordering van globale begrip vir konteksspesifieke uitdagings.

    Die kern van die argument hier is naamlik dat ander tale, naas Engels, noodsaaklik is om verskeie insigte vas te vang en streekspesifieke uitdagings te beredeneer en oplossings daarvoor te vind ten einde 'n inklusiewe akademiese omgewing te verseker. Die impak van 'n taal op navorsing dra immers ook by tot die toeganklikheid van wetenskaplike kennis. Sulke bydraes verbreed die omvang en diepte van wetenskaplike literatuur, wat uiteindelik ook die globale navorsingslandskap verryk.

    Wat Afrikaans spesifiek betref (kyk na voorbeelde in die volgende paragraaf), weet ons dat die taal 'n ryk geskiedenis van bydraes tot verskeie akademiese velde deur navorsing en wetenskaplike publikasies het. Alhoewel dit nie so wyd as Engels begryp of erken word nie, het Afrikaans 'n beduidende rol gespeel in die bevordering van kennis in spesifieke streke en dissiplines. Die ontwikkeling van Afrikaans as 'n medium vir akademiese uitdrukking het 'n unieke ruimte geskep waarbinne plaaslike kwessies hanteer, streeksbelange op wetenskaplike wyse weerspieël en die globale akademiese landskap verryk word deur uiteenlopende perspektiewe op diverse aangeleenthede.

    Histories het Afrikaans in die vroeë 20ste eeu formele erkenning gekry, wat gelei het tot die stigting van Afrikaanstalige opvoedkundige instellings en vaktydskrifte. Hierdie institusionalisering van wetenskaplike werk in Afrikaans was deurslaggewend in die kweek van 'n lewendige akademiese gemeenskap wat waardevolle navorsing oor 'n reeks onderwerpe en in feitlik alle dissiplines kon lewer. Trouens, van die mediese en gesondheidswetenskappe tot sosiale wetenskappe, geesteswetenskappe en natuurwetenskappe het Afrikaanstalige publikasies noemenswaardige bydraes tot die ontwikkeling van 'n reeks dissiplines gelewer. So byvoorbeeld het Afrikaanstalige mediese vaktydskrifte soos die Afrikaanse Mediese Joernaal noodsaaklike insigte verskaf oor gesondheidskwessies wat van toepassing is op die Suid-Afrikaanse bevolking (Cloete, 2007). Net so beklemtoon navorsing in die natuur-wetenskappe injoernale soos Koedoe, byvoorbeeld streeksbiodiversiteit en bewaringspogings (Smith, Thompson & Van Zyl, 2009). In die sosiale en geesteswetenskappe bied publikasies soos die Journal for Contemporary History weer kritiese ontledings van Suid-Afrika se sosio-politieke en historíese kontekste (De Klerk, 2014). Insgelyks dra die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2024) vir jare al by tot publikasies in Afrikaans en versterk daardeur die status van Afrikaans as wetenskapstaal. Dieselfde geld die Tydskrif vir Taalonderrig (Suid-Afrikaanse Vereniging vir Taalonderrig, 2024) wat navorsing en publikasie oor die gebruik van, en in, tale anders as Engels bevorder.

    Ten spyte van hierdie besondere bydraes, en daar is natuurlik talle meer, staar uitdagings Afrikaanstalige navorsing in die gesig, insluitende die globale oorheersing van Engels en 'n stelselmatige verskuiwing na Engelsmediumonderrig in hoër onderwys. Hierdie uitdagings beklemtoon die kritieke behoefte aan volgehoue ondersteuning en ontwikkeling van Afrikaanstalige vakkundige hulpbronne om te verseker dat ons talige erfenis 'n integrale deel van akademiese diskoers bly.

    2.4 Die belang van taalbeplanning en taalbestuur in universiteitskontekste

    Taalbeplanning en -bestuur is deurslaggewende komponente in die effektiewe funksionering van universiteite vir die skep van inklusiewe akademiese omgewings, verhoogde akademiese prestasie, die verbetering van kommunikasie, sowel as die bevordering van veeltaligheid. Soos ook blyk uit die empiriese data hier onder, is universiteite plekke waar eksterne belangheb-bendes, studente en personeel van verskillende taalagtergronde bymekaar kom en geak-kommodeer moet word. Doeltreffende taalbeplanning verseker dat hierdie diversiteit bestuur kan word op maniere wat opvoedkundige en nasionale doelwitte ondersteun.

    Doeltreffende taalbestuur by universiteite kyk eerstens na die taalbehoeftes van studente en personeel, en fasiliteer sodoende beter kommunikasie en akademiese sukses. Volgens Spolsky (2004) behels taalbeplanning die neem van besluite oor watter tale in onderwys, administrasie en sosiale interaksies binne akademiese instellings gebruik word. Hierdie beplanning is van kardinale belang om te verseker dat alle lede van die universiteitsgemeenskap toegang tot opvoedkundige hulpbronne het en ten volle aan akademiese en sosiale aktiwiteite kan deelneem. Tweedens bevorder effektiewe taalbeplanning wat meertaligheid ondersteun 'n ryker akademiese omgewing. Erkenning en ondersteuning van veelvuldige tale lok 'n diverse studentepopulasie en personeelkorps, wat die instelling se plaaslike relevansie en internasionale reputasie, asook akademiese diversiteit verhoog. Clyne (2005) beklemtoon in hierdie verband die belang van effektiewe taalbeleide en -implementeringsplanne.

    In aansluiting by die kwessie van inklusiwiteit, speel deeglike taalbeplanning en -bestuur in die derde plek ook 'n belangrike rol in die bevordering van billikheid en gelykheid. Universiteite kan byvoorbeeld taalbeleide implementeer wat ondersteuning bied aan nie-moedertaalsprekers, soos taalondersteuningsprogramme en meertalige onderwyshulpbronne. Sodoende kan studente taalhindernisse makliker oorkom, en hulle kry gelyke geleenthede. Wright (2010) voer aan dat taalbeleide en -implementeringsplanne by hoëronderwysinstellings ontwerp moet word om taaldiversiteit te akkommodeer en die nodige ruimte te skep vir waardering van ander se geskiedenis en identiteit, wat op wederkerige wyse weer kan bydra tot 'n meer regverdige akademiese ervaring. Laastens kan geargumenteer word dat ons in 'n toenemend geglobaliseerde wêreld leef en werk, en binne hierdie konteks staan universiteite voor die konstante uitdaging om by 'n veeltalige en multikulturele studentedemografie en streeksbehoeftes aan te pas. Soos Phillipson (2009) tereg opmerk, is strategiese taalbeplanning en -bestuur ook noodsaaklik vir universiteite wat poog om 'n internasionale voetspoor te vestig en akademiese samewerking te verbeter.

    Dit blyk, oorhoofs gesien, dat verantwoordelike en slim taalbeplanning instellings kan help om bostaande kompleksiteite beter aan te pak deur strategieë te ontwikkel wat belyn is met hul institusionele doelwitte. Doeltreffende taalbeplanning en -bestuur is myns insiens onontbeerlik vir universiteite wat daarna streef om 'n inklusiewe, billike en akademies lewendige omgewing te bevorder. Deel 3 (dit is hoofstukke 14-19) van die boek Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (Carstens & Van Dyk, 2022) bevestig hierdie standpunt en kan vir meer besonderhede geraadpleeg word oor sake soos taal, identiteit en nasievorming, asook taalbeplanning, taalbeleid, taalpolitiek, meertaligheid en taalsosiologie. Dit is alles sake wat aansnyding vind by die bespreking in hierdie deel van die artikel en ook lig werp op die rol en posisie van Afrikaans per se.

    In die volgende twee afdelings word die geskiedenis van Afrikaans by universiteite bespreek, asook 'n blik gewerp op waar ons tans staan, gebaseer op data uit 'n onlangse nasionale taalhulpbronoudit by openbare universiteite.

     

    3. Waar kom ons vandaan?

    3.1 Oor die algemeen

    'n Eerste, en myns insiens dié toonaangewende bron, is Die storie van Afrikaans - uit Europa en van Afrika: Deel 1 (Carstens & Raidt, 2017)2 - die voetnoot hier is belangrik, want dit is nie moontlik om die vier hoofstukke hier kortliks saam te vat nie. In die hersiene uitgawe van die boek Kortpad-Afrikaans - 'n Basiese grammatika (Loader, Van Dyk & Human, 2024) se inleidende hoofstuk word ook meer inligting verskaf oor Afrikaans se historiese wortels, wat kortweg beskryf kan word as 'n erfenis uit Afrika, Europa en Asië. Dit bied voorts 'n blik op die ontwikkeling van Afrikaans en die invloed van veral die slawetale daarop. Dit plaas ook Afrikaans in konteks binne Suid-Afrika vanuit 'n multikulturele perspektief en verspreiding binne ons landsgrense. Wat veral interessant is binne die konteks van hierdie artikel, is die bespreking van die verspreiding van Afrikaans aan universiteite buite die Suid-Afrikaanse grense: Afrika (Namibië), Rusland, die Verenigde State van Amerika, Engeland, en Europa (Nederland, België, Duitsland, Oostenryk, Switserland, Pole, Kroasië en Serwië).

    3.2 Afrikaans as medium van onderwys

    Giliomee (2004) se boek getiteld Die Afrikaners. 'n Biografie is insiggewend wat betref 'n beter begrip vir die groter konteks waarteen die voorgenoemde soeke na identiteit (waarvan taal, en die taal van onderwys, deel is) plaasvind. Insgelyks is Die storie van Afrikaans - uit Europa en van Afrika: Deel 2 (Carstens & Raidt, 2019) ook 'n besonder nuttige bron, veral wat die ontwikkeling van Afrikaans in Suid-Afrika betref.3

    Opgesom kom dit daarop neer dat die wortels van Afrikaansmediumonderwys teruggevoer kan word na die laat 19de en vroeë 20ste eeu, toe Afrikaners probeer het om hulle kulturele en talige identiteit te bevestig teen die agtergrond van Britse kolonialisme en verengelsing. Die vestiging van Afrikaans as onderrigtaal in die besonder, het momentum opgetel na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), wat Afrikaner-nasionalisme versterk en die begeerte vir outonomie, ook in die onderwys, vasgelê het. Gedurende die apartheidsera (1948-1994) is Afrikaans toenemend bevorder as deel van die kultuurerfenis van die Afrikanervolk. Afrikaanse universiteite het in hierdie tydperk ook sentraal tot Afrikaneridentiteit en ideologie gestaan. 'n Betreurenswaardige gevolg hiervan was die toenmalige nasionale taalbeleid waar Afrikaans bevorder is as primêre taal van onderrig en leer by skole en universiteite, naas Engels en soms ook ander tale. Talle Suid-Afrikaners het Afrikaans egter begin beskou as 'n simbool van onderdrukking as gevolg van die direkte verbintenis met die apartheidsregime. Dit het bygedra tot nog 'n keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, naamlik die Soweto-opstande in 1976. Sedert 1994, soos ons weet, is talle pogings aangewend om Afrikaans se historiese betekenis en waarde te balanseer met die bevordering van inklusiwiteit en erkenning van ander inheemse tale.

    3.3 Histories Afrikaanse universiteite

    Hierdie artikel kan weens ruimtebeperkings nie reg laat geskied aan die ontstaansgeskiedenis, ontwikkeling en groei van die sogenaamd histories Afrikaanse universiteite (HAU's) nie. Daar word daarom volstaan by enkele oorkoepelende opmerkings oor HAU's. Die 20ste eeu het, eerstens, die stigting van verskeie Afrikaansmediumuniversiteite gesien: (i) die Universiteit van Stellenbosch; (ii) die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (tans die Noordwes-Universiteit); (iii) die destydse Universiteit van die Oranje Vrystaat (tans die Universiteit van die Vrystaat); (iv) die Universiteit van Pretoria; en (v) die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg).

    Verder, ná 1994, het Suid-Afrikaanse universiteite groot transformasie ondergaan met die samesmelting van onderriginstellings en die sogenaamde massifikasie van hoër onderwys wat begin het in die vroeë 2000's. Afrikaanse universiteite moes gevolglik aanpas om meer inklusief en divers te wees, met onderwys wat de jure in verskeie tale behoort te geskied, maar helaas, en de facto, primêr in Engels plaasvind.4 Afrikaanse universiteite dra vandag steeds by tot Suid-Afrika se akademiese en kulturele diversiteit deur voortdurende aanpassing en (ongelukkig, in sommige gevalle), konformering. Hierdie universiteite speel, in 'n mindere of 'n meerdere mate, 'n belangrike rol in navorsing, innovasie, en die behoud van Afrikaans as taal en kultuur binne 'n konteks van inklusiwiteit en die omarming van verskeie kulture en perspektiewe. Dit blyk egter nie noodwendig altyd die geval te wees by sogenaamd Engelse universiteite nie. Ten slotte kan aangevoer word dat Afrikaanse universiteite by uitnemendheid die komplekse interaksie van taal, identiteit en onderwys in Suid-Afrika se voortdurende reis na versoening en ontwikkeling weerspieël.

     

    4. Waar staan ons tans?

    In 2020 het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) die nuwe Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoër Onderwysinstellings (TOHO) laat promulgeer. Hierdie beleidsraamwerk het in Januarie 2022 in werking getree. Die primêre doel met hierdie beleidsraamwerk is "[...] to promote and strengthen the use of all official languages across all functional domains of public higher education including scholarship; teaching and learning; as well as wider communication in line with Section 29(2) of the South African Constitution" (DHOO, 2020:5). Tans is daar twaalf amptelike tale in Suid-Afrika en binne die konteks van die Suid-Afrikaanse Grondwet is al ons tale nou gelyk voor die reg. Die beleidsraamwerk vereis egter nie van universiteite om al twaalf tale gelykwaardig te akkommodeer nie. Dit vereis wel dat daar naas Engels minstens twee amptelike inheemse tale bevorder en versterk moet word - vir doeleindes van hierdie artikel is dit belangrik om daarop te let dat Afrikaans ook as inheemse, en selfs as 'n Afrikataal, geag word. Voorts word daar van visekanseliers verwag om jaarliks aan die DHOO te rapporteer oor die implementering van die beleidsraam-werk en die vordering met die ontwikkeling en versterking van die inheemse tale. Laastens is dit 'n vereiste van die beleidsraamwerk dat universiteite nie sogenaamde agterdeurklousules in hul eie taalbeleide mag insluit nie, voorbeelde hiervan sluit onder meer in indien finansieel regverdigbaar, indien volhoubaar, of indien prakties uitvoerbaar.

    Die DHOO het aan Universiteite Suid-Afrika (in Engels afgekort as USAf) die opdrag gegee om toe te sien dat universiteite wel die beleidsraamwerk implementeer. USAf is 'n liggaam waar alle openbare universiteite sitting het en waar alle visekanseliers en nog enkele verteenwoordigers uit hul instellings byeenkom om sake wat die sektor as geheel raak, te bespreek en tot insigte te kom om kwessies die hoof te bied, byvoorbeeld studenteopstande oor studiegelde, veiligheid op kampusse, en ook taal van onderrig en leer en navorsing. Deur USAf se Onderrig en Leer-subgroep (in Engels afgekort as TLSG), en met die hulp van die verdere subgroep binne die TLSG wat fokus op die bevordering van die inheemse tale, naamlik die praktykgemeenskap vir die bevordering van Afrikatale (in Engels afgekort as CoPAL), is die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) aangewys om 'n taalhulpbronoudit by alle openbare universiteite in Suid-Afrika uit te voer ten einde tot insigte te kom oor wat reeds beskikbaar is en wat nog benodig word om die beleidsraamwerk te kan implementeer. SADiLaR het die oudit in 2023 voltooi en die volledige verslag is ter insae beskikbaar - kyk Van Dyk, Wilken, Ravyse, Du Plessis, Khumalo en Steyn (2023). Die res van hierdie afdeling fokus op insae uit die ouditverslag.

    4.1 Benadering tot die taalhulpbronoudit

    Vir doeleindes van die taalhulpbronoudit is daar besluit om 'n opvoedkundige navorsings-ontwerp te volg. Sodanige ontwerp stel die navorsers in staat om komplekse opvoedkundige fenomene, wat 'n verskeidenheid van veranderlikes insluit, te ondersoek. Sodanige ontwerp lei tot gefokusde data-insameling en -ontleding waaruit afleidings uit die data gemaak kan word wat veralgemeenbaar, betroubaar (dit meet konsekwent) en geldig (beide interne en eksterne geldigheid) is, en uiteindelik datagedrewe en ingeligte besluitneming lewer.

    Die navorsingsontwerp het gelei tot 'n gemengdemetodebenadering waar beide kwantitatiewe en kwalitatiewe data ingesamel is. Hiervoor is twee vraelyste opgestel: een vir studente en een vir personeel wat by al die deelnemende instellings voltooi is. Die personeelvraelys het 64 vrae ingesluit met 10 oop vrae wat kwalitatief ontleed is. Die studentevraelys het 43 vrae ingesluit, waar 20 oop vrae kwalitatief ontleed is. Die vraelyste is opgevolg deur semi-gestruktureerde onderhoude met beide personeel en studente ten einde klarigheid te kry oor kwantitatiewe data sowel as verdere insette of vrae van belanghebbendes by universiteite. Elke vraelys het vyf afdelings gehad (wat artikuleer met die beleidsraamwerk) met vrae gefokus op die studente- of personeelperspektief met spesifieke doelstellings. Dit het behels die insameling van:

    institusionele inligting oor die status quo in terme van taalbeleid, taalimplemeterings-plan(ne), taalbeleidsmonitering, streekstale, amptelike tale van 'n instelling, sterk- en swakpunte, en prioriteitsareas wat aandag benodig;

    inligting oor taaldienste, byvoorbeeld vertaling, redigering en tolking, asook prioriteitsareas wat aandag benodig;

    inligting oor onderrig en leer (en navorsing) om inligting te bekom oor die gereedheid, oftewel volwassenheid, van instellings om die implementering, gebruik en ont-wikkeling van die inheemse tale in hul onderrig en leer te bewerkstellig, en in die besonder oor hoe addisionele ondersteuning aan studente gebied kan word vir wie Engels nie 'n huistaal is nie;

    inligting oor taal van kommunikasie en administrasie om inligting in te win oor die gebruik van taal in amptelike institusionele kommunikasie, en of dit inderdaad in Engels en minstens twee ander tale geskied, onder meer met die doel om 'n gevoel van insluiting en 'n kultuur van meertaligheid te vestig; en

    inligting oor studentelewe / buite-kurrikulêre aktiwiteite om tot beter begrip te kom van hoe die buite-kurrikulêre program taalmatig daar uitsien, byvoorbeeld in koshuise, by sportgeleenthede en amptelike seremoniële aktiwiteite van die betrokke universiteit.

    Vervolgens word bepaalde data uit die oudit uitgelig en kortliks toegelig, in die besonder wat Afrikaans betref. Daarna word enkele algemene prioriteite wat op die kort termyn aandag benodig, kortliks bespreek.

    4.2 Oor die algemeen - data uit die taalhulpbronoudit

    Al 26 openbare universiteite is genader vir deelname aan die taalhulpbronoudit. Slegs een het geen reaksie getoon nie, ten spyte van herhaalde pogings om hul te oortuig van die verpligting deur USAf om wel deel te neem. Een ander instelling het studenteopstande gehad die dag van die oudit en daar kon dus slegs met 'n klein groepie personeellede in 'n veilige ruimte vergader word. In totaal, het 1 048 personeellede die vraelyste voltooi en 1 550 studente. Uit die 25 deelnemende instellings, het 15 aangedui dat Afrikaans een van hul amptelike tale in terme van hul taalbeleid is. Uit hierdie 15, is vier uit die Wes-Kaap, een uit die Noord-Kaap, een uit Noordwes, vier uit Gauteng, twee uit die Vrystaat en drie uit die Oos-Kaap. Met die uitsondering van Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, kom Afrikaans dus in die taalbeleide van al ses ander provinsies voor. Dit is ook belyn met die streekstale wat in hoofsaak in daardie omgewings gebruik word. Meer gedetailleerde inligting oor individuele instellings is beskikbaar in Van Dyk, et al. (2023).

    4.3 In die besonder - data uit die taalhulpbronoudit

    In hierdie deel van die artikel word data aangebied per afdeling uit die personeel- en studentevraelyste en wat spesifiek die stand van Afrikaans raak.

    4.3.1 Betreffende institusionele inligting

    Die huistaal van die meerderheid personeellede is Afrikaans (N=17.92%), gevolg deur Engels (N=15.35%), isiZulu (N=13.06%), isiXhosa (N=12.77%) en Sepedi (N=10.01%). Bykans 'n derde van universiteitspersoneel is nie noodwendig 'n ander inheemse taal magtig nie. Die bestuur van meertalige klaskamers en meertalige onderrig is daarom ook potensieel moeilik haalbaar. Dit bevestig wel dat gesprekstaalkursusse vir dosente besonder nodig is.

    Die huistaal van die meerderheid studente is isiZulu (N=20,81%), gevolg deur Sepedi (N=14,74%), dan isiXhosa (N=12,15%), dan Setswana (N=9,95%) en daarna eers Afrikaans (N=8,14%). Afrikaans staan dus in die vyfde plek wat die grootte van die huistaalpopulasie betref, wat aandui dat meertalige onderrig aan die orde van die dag behoort te wees en wel Afrikaans moet insluit, maar nie ander tale uitsluit nie.

    Taalbeleide is soos reeds aangedui, belyn met streekstale. Engels uitgesluit, volg hier twee voorbeelde ter illustrasie - een uit 'n provinsie waar Afrikaans 'n dominante taal is (kyk Figuur 1) en een uit 'n provinsie waar Afrikaans 'n minder dominante taal is (kyk Figuur 2). Universiteite wat geleë is in provinsies waar Afrikaans sterker figureer, sluit dit dan tipies by hul taalbeleide in. So byvoorbeeld, sal universiteite in die Wes-Kaap wel Afrikaans in hul taalbeleid insluit, terwyl universiteite in provinsies soos Mpumalanga dit nie sal doen nie.

     

     

     

     

    Die studentevraelyste het kommerwekkende data na vore gebring, naamlik dat Engels, soos ook verwag, die de fcto-taal is vir onderrig en leer (vergelyk Figuur 3), ten spyte van die huistaalverspreiding, streekstale en tale wat de jure by universiteitstaalbeleide ingesluit is.

     

     

    Wat meertaligheid betref, het die meerderheid studente aangedui dat hulle die betrokke instelling as eentalig ervaar (kyk Figuur 4).

     

     

    Teenoor die inligting in Figuur 4, het personeel aangedui dat hul instellings hulself amptelik as synde meertalig identifiseer (kyk Figuur 5). Dit bevestig weer dat universiteite tipies die regte geluide maak en voldoen aan eise van byvoorbeeld die DHOO, maar in praktyk speel 'n ander scenario uit.

     

     

    Uit die vraelyste het dit ook duidelik geblyk dat nóg personeel nóg studente goed ingelig is oor die institusionele taalbeleide, wat dit behels, waar dit verkrygbaar is, hoe dit gemoniteer word en of daar 'n taalombud is. Personeel was wel beduidend beter ingelig as studente, maar uit die gestruktureerde onderhoude het dit duidelik geblyk dat personeel weet dat daar byvoorbeeld 'n taalbeleid is, maar dat hulle nie noodwendig weet wat die detail van die beleid behels nie. Wat veral kommerwekkend is, is dat 'n beduidende persentasie van personeel en studente telkens aangedui het dat hul "nie weet nie", eerder as "ja" of "nee". Hieruit kan die afleiding gemaak word dat interne kommunikasie oor taalbeleide en -planne nie goed is nie en dat die implementering daarvan moontlik gebrekkig is.

    4.3.2 Betreffende taaldienste

    Die meeste personeellede het aangedui dat daar wel taaldienste aan hul instellings beskikbaar is, maar dat dit slegs toeganklik is vir 'n eksklusiewe groep, tipies senior bestuur. Dit sluit dienste in soos vertaling (N=20,30%), Redigering (N=19,83%), proefleesdienste (N=16,20%), tolkdienste (N=12,91%), terminologie-ontwikkelingsinisiatiewe (N=11,11%), en opleiding in meertaligheidspedagogiek (N=7,74%). Hierdie data is van nut in terme van toekomstige fokus en hulpbrontoedeling. Wat tegniese taalhulpbronne betref, soos onderskrifsagteware, oorklankingsagteware, outomatiese stemherkenning en dies meer, het 'n skokkende 39,11% van die respondente aangedui dat hul glad nie weet of hul instellings hierdie tipe hulpbronne beskikbaar het nie, terwyl talle hiervan gratis by dié instellings beskikbaar is. Dit blyk weer dat duidelike kommunikasie en bewusmakingsveldtogte gebrekkig is by universiteite en dat iets soos tegnologie besonder geredelik beskikbaar is en instrumenteel kan wees in die bevordering van meertaligheid.

    Wat die studente betref, was 'n bewustheid van taaldienste by instellings ook laag (N=31,69%) en 'n duidelike behoefte aan veral redigering en proefleesdienste is in die gestruktureerde onderhoude gelug.

    Wat Afrikaans in die besonder betref, is feitlik al die bostaande taaldienste in Afrikaans beskikbaar, behalwe in die geval van spesifieke sagteware wat in Engels ontwerp is, of wat 'n funksie in 'n ander taal moet verrig.

    4.3.3 Betreffende onderrig en leer

    Studente het aangedui dat die volgende meertalige onderrig-leer-hulpbronne beskikbaar is:

    Dit is vergelykbaar met die personeelterugvoer, en daar blyk nie statisties beduidende verskille tussen die twee datastelle op presies dieselfde vraag te wees nie. Dit blyk wel uit die bostaande data dat universiteite inderdaad meertalige hulpbronne beskikbaar stel, maar dat dit steeds beperk is. Dit is wel positief dat daar 'n verskeidenheid meertaligheidshulpbronne beskikbaar gestel word. Dit is egter oorhoofs inisiatiewe van individuele personeellede en nie noodwendig gekoördineerde aktiwiteite van instellings nie.

    Wat Afrikaans in die besonder betref, het dit by herhaling geblyk dat verskeie onderrig-leerhulpbronne wel in Afrikaans beskikbaar is. Hierdie trajek behoort voortgesit te word en nie ten koste van enige van die ander inheemse tale nie. Inteendeel, daar behoort van institusionele vlak af finansiële hulpbronne beskikbaar gestel te word vir gekoördineerde innovasie en aktiwiteite om die amptelike inheemse tale van die betrokke instelling uit te brei, verkieslik in samewerking met ander universiteite. Dit sluit in 'n fokus op Afrikaans, hoewel daar tans meer hulpbronne in Afrikaans beskikbaar is as in die ander inheemse tale. Geen taal het naastenby die hulpbronne wat Engels het nie.

     

     

    Studente-respondente het verder aangedui dat hulle in hoofsaak verkies om in Engels onderrig-leer te ontvang en in Engels aan klasgesprekke wil deelneem, maar met addisionele voorsiening in ander amptelike tale as verdere hulpbronne. Die drie grootste tale wat betref studente se voorkeur vir onderrig-leer en gesprekke, is Engels (N= 65,01%), isiZulu (N=5,97%) en Afrikaans (N=5,47%). Dit is wel interessant dat die behoefte aan Afrikaans en isiZulu veel kleiner is as die behoefte aan Engels; trouens, selfs al word ál die ander amptelike tale saamgevoeg, is die oorheersing van Engels steeds duidelik.

    Wat die verbetering van algemene taalvaardigheid betref, het 'n verstommende 95,7% van die studente-respondente aangedui dat hulle beslis hul vermoë in 'n ander taal wil verbeter. Uit 'n vraag oor die tale waarin hul wel hul algemene taalvaardigheid wil verbeter, blyk die volgende:

     

     

    4.3.4 Betreffende die taal van kommunikasie, administrasie, kentekens en bemarking

    Soos uit Tabel 1 blyk, kommunikeer universiteite in die meerderheid van die gevalle nie in meer as twee amptelike tale benewens Engels nie. Uit verdere kwantitatiewe data, wat ook bevestig is deur die gestruktureerde onderhoude, blyk dit dat Afrikaans, Sesotho en isiZulu die drie grootste tale is wat benewens Engels vir kommunikasie, administrasie, kentekens en bemarking gebruik word. Hieruit kan afgelei word dat universiteite steeds te kort skiet wat 'n inklusiewe, verwelkomende en meertalige omgewing betref.

     

     

    4.3.5 Betreffende studentelewe en buite-kurrikulêre aktiwiteite

    In hierdie afdeling word daar hoofsaaklik op studenteresponse gefokus, omdat personeel nie noodwendig altyd betrokke is by, of bewus is van, die taalgebruik in buite-kurrikulêre aktiwiteite nie. Desnieteenstaande is dit wel interessant dat die studente- en personeeldata vergelykbaar is.

    Op 'n vraag of studente-aktiwiteite soos amptelike seremonies, sportbyeenkomste, koshuis-vergaderings, konserte, ensovoorts in minstens twee tale anders as Engels voorkom, het 56,3% van die studente "ja" geantwoord, en 43,7% "nee". Uit die semi-gestruktureerde onderhoude het dit geblyk dat ander tale inderdaad meer informeel en op eie inisiatief gebruik word, eerder as wat die betrokke instelling dit bepaal.

    Die tale wat volgens studente wel gebruik word, word in Figuur 8 voorgestel. Hierdie data is vergelykbaar met, of bevestig, ander datastelle, naamlik dat by universiteite waar hoofsaaklik studente uit bepaalde taalgemeenskappe geakkommodeer word, daardie tale ook op informele wyse deel van die studentegemeenskap se daaglikse handel en wandel word.

     

     

    Op die belangrike vraag of studente van oordeel is dat hul universiteit wel deur die buite-kurrikulêre aktiwiteite meertaligheid bevorder, het 57,28% "ja" geantwoord en 42,72% "nee". Onder personeel was die resultaat dat 55,93% "ja" geantwoord het, 24,28% "nee" en 19,79% dat hul nie weet nie. Hieruit wil dit blyk dat personeel nie volledig in voeling is met studente se taalbehoeftes op die informele vlak nie. Dit is nie noodwendig 'n tekortkoming nie, want studente wil ook nie noodwendig hê dat alles gereguleer word nie. Wat wel belangrik is, is dat universiteite tog meertalige omgewings moet kweek en versorg en baie duidelik aandui oor waar hul staan in terme van die bevordering van meertaligheid.

    4.4 Prioriteitsareas op kort termyn

    Die volgende agt prioriteitsareas uit die taalhulpbronoudit (Van Dyk, et al., 2023) is geïdentifiseer vir die kort termyn (3-5 jaar) en is op beide nasionale en institusionele vlak van belang:

    (i) Kundigheid en ondersteuning in taalbeplanning en -bestuur

    In die Suid-Afrikaanse akademiese omgewing is die implementering van robuuste taalbeleide van kardinale belang vir die bevordering van 'n inklusiewe leeromgewing. Bowendien, met die toenemende globalisering van onderwys en die diverse linguis-tiese agtergronde van ons studentekorps, word 'n strategiese benadering tot taal-beplanning en -bestuur dringend noodsaaklik. Dit strek verder as die klaskamer en sluit die breër institusionele en sosiale kontekste in. Daar blyk egter 'n gebrek aan kapasiteit en beperkte kundigheid op nasionale en institusionele vlak te wees, en dringende investering in die bou van intellektuele kapasiteit op die gebied van taalbeplanning en -bestuur is nodig.

    (ii) Monitering en verslagdoening

    Op die terrein van taalbeleidbeplanning en taalbestuur is doeltreffende monitering ook belangrik om die suksesvolle implementering en deurlopende aanpassing van institusionele strategieë te verseker - sistematiese en deurlopende monitering van taalbeleid en beplanningsinisiatiewe is kritiek vir suksesvolle implementering. Reël-matige monitering stel instellings in staat om die impak van hul beleid te evalueer, areas ter verbetering te identifiseer en proaktief op ontwikkelende taalbehoeftes te reageer.

    (iii) Mede-eienaarskap, medeverantwoordelikheid, samewerking in befondsing

    Op die gebied van taalbeplanning en -bestuur is samewerking (universiteitsintern én -ekstern), mede-eienaarskap en medeverantwoordelikheid by herhaling deur data uit die taalhulpbronoudit beklemtoon. Dit sluit in gedeelde projekte, gedeelde visie en gedeelde finansiële verantwoordelikheid op nasionale, sowel as institusioneel-interne vlak. Die transformerende impak van vennootskappe wat verskeie belanghebbendes betrek, insluitende opvoedkundige instellings, regeringsliggame en private organisasies kan nie onderskat word nie. Gedeelde inisiatiewe versprei verantwoordelikheid vir taalbeplanning en deel die gebruik van 'n poel kundigheid en bestaande hulpbronne om verder op voort te bou. Boonop dra gedeelde befondsing by tot die volhoubaarheid van taalbeleidsimplementering. 'n Gesamentlike, insluitende benadering bevorder 'n gevoel van kollektiewe eienaarskap, verryk die taalbeplanningsproses en verbeter die doeltreffendheid daarvan om die veelvlakkige linguistiese uitdagings in beide akademiese en breër samelewingskontekste die hoof te bied.

    (iv) Hegemonie (dominansie) van Engels

    Om die hegemonie van Engels aan die orde te bring, vereis 'n gesamentlike poging om linguistiese diversiteit te bevorder. Uit die ouditdata het dit duidelik geblyk dat daar 'n groot behoefte is aan die waardering / agting en insluiting van 'n verskeidenheid tale in opvoedkundige kontekste. Trouens, die implementering van beleide wat die gebruik van plaaslike tale saam met Engels erken en ondersteun, bevorder 'n meer inklusiewe linguistiese omgewing waar ander inheemse tale die nodige ruimte en veiligheid het om te floreer. Verder het dit geblyk dat die investering in, en die ontwikkeling van hulpbronne, opvoedkundige materiaal en taalvaardigheidsprogramme vir minder dominante tale dringend noodsaaklik is. Deur individue te bemagtig om hul moedertaal in akademiese en professionele omgewings te gebruik, daag ons nie net die oorheersing van Engels uit nie, maar dra ons ook by tot 'n meer regverdige en kultureel verrykte linguistiese landskap.

    (v) Akademiese taalontwikkeling

    'n Dringende fokus op akademiese taalontwikkeling beklemtoon die deurslaggewende rol daarvan in die bevordering van effektiewe kommunikasie en vakkundige betrokkenheid. Die diepgaande impak wat akademiese taalvermoë op studente se akademiese sukses het, kan boonop nie onderskat word nie. Akademiese taalvermoë strek verder as alledaagse kommunikasie, en sluit 'n gespesialiseerde woordeskat, diskoersstrukture en retoriese konvensies in wat noodsaaklik is vir vakkundige gesprek.

    Die kweek van hierdie vaardighede rus studente toe om komplekse idees te verwoord, betrokke te raak by akademiese gesprekke en betekenisvol by te dra tot hul onderskeie velde. Wat belangrik is, is dat 'n sterk grondslag in akademiese taal 'n hoeksteen is vir navorsingsuitnemendheid, kritiese denke en effektiewe kennisverspreiding. Hier is dit belangrik om die punt te maak dat sou hierdie tipe vaardighede in die huistaal ontwikkel word, die oordrag van vaardighede na ander vakke en na ander tale veel gemakliker sal kan geskied. Taal en leer is integraal deel van mekaar; taal word derhalwe 'n middel tot 'n doel, en studente wat in hul huistaal hiermee bemagtig is, vorder veel beter as ander studente.

    (vi) Taalvermoë van personeel op gespreksvlak

    Basiese gesprekstaalvaardigheid in die amptelike tale van 'n universiteit bevorder interpersoonlike kommunikasie en skep 'n meer inklusiewe omgewing. Uit die ouditdata het dit geblyk dat studente nie van dosente verwag om vloeiend in hul huistale te kan kommunikeer nie, maar dat 'n basiese vaardigheid tog belangrik is. Basiese gesprekstaalvaardigheid dra by tot 'n harmonieuse onderrig- en leeromge-wing, help om sterker verhoudings met studente te bou en 'n multikulturele omgewing te bevorder waar diversiteit geakkommodeer en waardeer kan word. Taaldepartemente en/of skole by universiteite kan 'n beduidende rol speel in die bevordering van veeltaligheid. Geoormerkte institusionele befondsing is egter nodig vir sukses in hierdie verband.

    (vii) Meertalige pedagogiek

    Die aanvaarding van pedagogiese benaderings wat linguistiese diversiteit in die klaskamer omarm, is van groot belang binne die konteks van die taalbeleidsraamwerk wat geïmplementeer moet word. Meertalige pedagogie-opleiding strek veel verder as konvensionele taalonderrigmetodes; dit sluit in die erkenning en gebruik van die ryk tapisserie van tale wat deur studente in 'n klaskamer gepraat word. Hierdie tipe bewusmaking en opleiding rus opvoeders toe met die vaardighede om studente se veeltaligheid as 'n waardevolle opvoedkundige hulpbron te benut, wat kommunikasie en begrip verbeter. Deur 'n inklusiewe leeromgewing te skep en te bevorder wat diverse linguistiese agtergronde akkommodeer, dra 'n meertalige pedagogiek by tot billike onderwys, kulturele waardering en verbeterde akademiese uitkomste.

    (viii) Terminologie-ontwikkeling

    Die belangrikheid van meertalige terminologie-ontwikkeling verdien ook aandag. Meertalige terminologieë is die spil vir gefokusde kommunikasie oor diverse ling-uistiese landskappe heen. Die gebruik van vaktaal bring duidelikheid en akkuraatheid in akademiese en professionele diskoers mee. Namate tale saam met gespesialiseerde dissiplines of subdissiplines ontwikkel, word die skep van akkurate en gestandaardiseerde terminologie 'n integrale deel van ons daaglikse bestaan by universiteite. Hierdie ontwikkeling fasiliteer nie net kruiskulturele begrip nie, maar ondersteun ook kennisverspreiding op 'n globale skaal.

     

    5. Waarheen is ons op pad?

    Wanneer ons die vraag probeer beantwoord oor waarheen ons op pad is met die implementering van die taalbeleidsraamwerk, is dit nodig om 'n argument te formuleer gebaseer op empiriese data en gepaardgaande met die nodige sensitiwiteit vir bepaalde kwessies, insluitende kulturele hervorming, nasiebou, volhoubaarheid en effektiwiteit.

    Suid-Afrika word gekenmerk deur 'n besondere ryk tapisserie van tale en kulture, wat dit noodsaaklik maak vir die hoëronderwysomgewing om meertaligheid te akkommodeer én te bevorder. So 'n benadering weerspieël nie net demografiese diversiteit nie, maar bevorder ook inklusiwiteit en sosiale kohesie. Onder die inheemse tale beklee Afrikaans 'n unieke posisie, met 'n komplekse historíese konteks en 'n beduidende sprekersbasis (dit is tans steeds die derde grootste taal in Suid-Afrika). Dit is daarom belangrik dat daar deurlopend pleidooie gelewer en argumente voorgehou word vir die strategiese integrasie van Afrikaans in hoër onderwys, sodat dit 'n werklike veeltalige omgewing bevorder wat alle linguistiese identiteite respekteer. In hierdie verband kan 'n aantal tersaaklike punte aangevoer word.

    Die belangrikheid van blootstelling aan veeltaligheid in die algemeen en huistaalonderrig in die besonder in hoëronderwysomgewings, sluit eerstens kognitiewe voordele in. Navorsing dui daarop dat meertaligheid kognitiewe vermoëns, kritiese denke en probleemoplossings-vaardighede verbeter deur genoemde blootstelling en medium van onderrig. Deur kursusse in verskeie tale, of 'n kombinasie van tale aan te bied, insluitende Afrikaans, kan universiteite 'n meer veelsydige en aanpasbare studentekorps kweek, wat van kernbelang is vir die werks-omgewing.

    'n Veeltalige benadering erken en bekragtig tweedens die kulturele erfenis van diverse gemeenskappe. Afrikaans, as een van die land se inheemse tale, is 'n noodsaaklike medium waardeur geskiedenis, letterkunde en sosiale identiteit uitgedruk en verken kan word. Dieselfde geld ook vir die ander inheemse tale. Die ouditdata het uitgewys dat kundiges van ander inheemse tale moet gaan kyk hoe Afrikaans ontwikkel en gegroei het tot volwaardige akademiese taal en 'n taal van sosiale kohesie en kulturele erfenis.

    Derdens, deur te verseker dat onderwys in studente se huistale beskikbaar is (natuurlik binne die konteks van die institusionele en die streekstale), kan akademiese prestasie en retensiekoerse aansienlik verbeter word. Vir talle studente kan onderrig in die huistaal begrip en betrokkenheid by die onderrig-leer-proses verbeter en sodoende die kognitiewe las wat met leer in 'n tweede taal geassosieer word, verminder.

    Afrikaans het vierdens ontwikkel as 'n taal van onderwys, kultuur en letterkunde. Die insluiting daarvan (nie as vak nie, maar wel as taal van onderrig en leer) in die hoëronderwys-kurrikulum gaan nie bloot oor die behoud van 'n taal nie; dit gaan oor die erkenning van die bydraes van Afrikaanssprekende wetenskaplikes tot Suid-Afrika se kultuurlandskap, asook tot die wetenskap self. Afrikaans is voorts ryk aan literêre en filosofiese tradisies, wat 'n robuuste raamwerk bied vir dissiplines soos die geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe en die regte. Die integrasie van Afrikaans in hierdie velde kan 'n dieper begrip van Suid-Afrikaanse identiteit en geskiedenis, asook inheemse kennis, bevorder. Deur Afrikaans saam met ander inheemse tale te bevorder, kan interdissiplinêre studies aangemoedig word wat temas van taal, identiteit en sosiale geregtigheid ondersoek - kwessies wat tans baie belangrik is in die Suid-Afrikaanse sosio-politieke bestel. Sodanige studies kan die akademiese diskoers verryk en bydra tot 'n meer holistiese opvoeding.

    Bostaande is egter makliker gesê as gedaan. Daar is talle uitdagings wat die hoof gebied moet word en wat ons besluitneming raak. Van die mees kritieke, sluit in die kwessie van persepsie en stigmatisering. Die eerste hiervan is dat die stigma rondom Afrikaans en Afrikaanssprekendes daadwerklik aandag moet kry. Daar is tot nou toe besondere werk in dié verband deur verskeie organisasies gedoen, maar dit is 'n kontinue proses, veral in die lig van Afrikaans se historiese konnotasies. Opvoedkundige instellings behoort aktief te werk om die narratief rakende Afrikaans te herdefinieer en dit as 'n waardevolle bate in 'n veeltalige samelewing voor te hou. Een van die studente wat aan die taalhulpbronoudit deelgeneem het, het tydens die semi-gestruktureerde onderhoude die volgende kragtige opmerking gemaak (Van Dyk et al., 2023): [Student 24, Universiteit D] I now realise that being multilingual is an asset and not a liability.

    Die tweede kwessie is hulpbrontoewysing. Die implementering van 'n meertalige universiteitsomgewing, veral 'n meertalige kurrikulum, vereis voldoende hulpbronne (insluitende meertalig-opgeleide personeel - dit is personeel wat in meer as een van die amptelike tale sou kon doseer, sowel as personeel wat opgelei is in die gebruik van meertalige pedagogie), onderrigmateriaal en taalondersteuningsdienste. Universiteite behoort myns insiens hulle daartoe te verbind om in hierdie hulpbronne te belê om doeltreffende onderrig te verseker.

    Die derde kwessie is dié van taalbeleid. Elke universiteit het 'n omvattende, en weldeur-dagte, taalbeleid nodig om die implementering van veeltalige onderwys te rig. Belangheb-bendes, insluitende regeringsliggame, opvoedkundige instellings en gemeenskappe, moet saamwerk om duidelike riglyne daar te stel wat taaldiversiteit bevorder. Tans, soos dit blyk uit die taalhulpbronoudit, is taalbeleide hoofsaaklik kosmeties van aard, en in die praktyk oorheers Engels steeds.

    'n Vierde kwessie is die benutting van tegnologie en opvoedkundige innovering. Met die snelle pas van die vierde industriële revolusie en in die besonder die enorme ontwikkeling van kunsmatige intelligensie, is dit dringend noodsaaklik dat daar op innoverende wyse omgegaan word met die tegnologie tot ons beskikking. Op kreatiewe wyses kan tegnologie gebruik word om veeltaligheid te bevorder. So byvoorbeeld kan 'n sogenaamde "tutor-bot" wat met studente in verskillende tale kan kommunikeer addisioneel tot die dosent in plek gestel word; teks wat deur kunsmatige intelligensie geskep is, behoort omarm en deel van die onderrig-leer-proses te wees (ook in verskillende tale).

     

    6. Ten slotte

    In hierdie artikel is daar gepoog om 'n besondere breë studieterrein in oënskou te neem. Talle van die punte wat hierin aangeraak is, verdien volledige rapportering in afsonderlike artikels. Hier is gepoog om 'n voëlvlug oor taal, meertaligheid en Afrikaans in die besonder in die hoëronderwyssektor te bied. Belangrike teoretiese perspektiewe is aangebied, Afrikaans in die universiteitswese het ter sprake gekom en daar is na die stand van Afrikaans in die hoëronderwyssektor gekyk, met spesifi eke verwysing na empiriese data uit 'n taalhulpbronoudit wat onlangs afgehandel is.

    Opsommend en ten slotte kan dit gestel word dat 'n veeltalige landskap in Suid-Afrikaanse hoëronderwys nie net 'n ideaal behoort te wees nie. Dit is inteendeel 'n noodsaaklikheid vir die bevordering van 'n inklusiewe en billike opvoedkundige omgewing. Afrikaans, as 'n inheemse taal, speel hier 'n deurslaggewende rol in die opsig dat dit as voorbeeld vir ander inheemse tale kan geld, in die besonder wat die wyse waarop dit die akademiese omgewing en ervaring kan verryk en bewaar, betref, asook hoe dit tot kulturele erfenis bydra. Deur meertaligheid te omarm en Afrikaans te bevorder, kan hoëronderwysinstellings studente bemagtig, die land se diverse taalidentiteite eerbiedig, en bydra tot 'n meer inklusiewe samelewing. Dit is noodsaaklik vir beleidmakers, opvoeders en gemeenskappe om saam te werk om so 'n visie te verwesenlik, ten einde te verseker dat die veeltalige potensiaal van Suid-Afrika ten volle tot voordeel van almal ingespan word.

    In die Taalbeleid vir Hoër Onderwys (DHOO, 2002:11) wat steeds tot 'n groot mate van krag is, word die volgende uitspraak gemaak, wat na my oordeel ons denke oor Afrikaans, oor meertaligheid in die algemeen, en oor taalbeplanning en -bestuur behoort te rig:

    The Ministry acknowledges that Afrikaans as a language of scholarship and science is a national resource. It, therefore, fully supports the retention of Afrikaans as a medium of academic expression and communication in higher education and is committed to ensuring that the capacity of Afrikaans to function as such a medium is not eroded. In this regard, the Ministry endorses the views of the then President, Mr. Nelson Mandela, as expressed in his speech to the University of Stellenbosch in 1996, on the occasion of the acceptance of an honorary doctorate that: "The real issue is not the extermination or preservation of Afrikaans as an academic medium. Rather, the question is this: Amongst ourselves, how are we to negotiate a dispensation for the South African university system that meets the following three criteria? Firstly, that a milieu should be created and maintained for Afrikaans to continue growing as a language of scholarship and science. At the same time, that non-speakers of Afrikaans should not be unjustly deprived of access within the system. And moreover, that the use and development of no single language medium should – either intentionally or unintentionally – be made the basis for the furtherance of racial, ethnic or narrowly cultural separation."

     

    BIBLIOGRAFIE

    Alexander, N. 2009. Mother tongue based bilingual education in Africa: A cultural and intellectual imperative. In Gogolin, I. & Neumann, U. (eds). Streitfall Zweisprachigkeit - The Bilingualism Controversy. VS Verlag für Sozialwissenschaften, pp. 199-204.         [ Links ]

    Baker, C & Wright, WE. 2017. Foundations ofbilingual education and bilingualism. Ontario: Multilingual Matters.         [ Links ]

    Baker, C. 2006. Foundations of bilingual education and bilingualism. Bristol: Multilingual Matters.         [ Links ]

    Baker, C. 2011. Foundations of Bilingual Education and Bilingualism. Bristol: Multilingual Matters.         [ Links ]

    Bates, E. 1999. On the nature and nurture of language. In Levi-Montalcini, R, Baltimore, D, Dulbecco, R, Jacob, F, Bizzi, E, Calissano, P & Volterra, V (eds). Frontiere Della Biologia: Il Cervello di Homo Sapiens. Rome: Instituto della Enciclopedia Italiana, pp. 241-265.         [ Links ]

    Carstens, WAM & Raidt, EH. 2017. Die storie van Afrikaans - uit Europa en van Afrika, Deel 1. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

    Carstens, WAM & Raidt, EH. 2019. Die storie van Afrikaans - uit Europa en van Afrika, Deel 2. Pretoria: Protea Boekhuis.         [ Links ]

    Carstens, WAM & Van Dyk, TJ (reds.). 2022. Toegepaste taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Cloete, T. 2007. Medical Research in Afrikaans: A Historical Overview. Afrikaans Mediese Joernaal, 19(2):45-52.         [ Links ]

    Clyne, M. 2005. Understanding and managing linguistic diversity. Johannesburg: Multilingual Matters.         [ Links ]

    Cummins, J. 1978. Educational implications of mother tongue maintenance in minority-language groups. Canadian Modern Language Review, 34(3):395-416.         [ Links ]

    Cummins, J. 2000. Language, power, and pedagogy: bilingual children in the crossfire. Bristol: Multilingual Matters.         [ Links ]

    De Klerk, V. 2014. Contributions of Afrikaans to South African social science research. Journal for Contemporary History, 39(1):112-127.         [ Links ]

    Desai, ZK. 2012. A case for mother tongue education? PhD dissertation. Cape Town: University of the Western Cape.         [ Links ]

    DHOO. 2002. Language Policy for Higher Education. https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201409/langpolicy0.pdf [15 September 2024].         [ Links ]

    DHOO. 2020. Language policy framework for public higher education institutions. Staatskoerant, 43860.         [ Links ]

    Dubois, A. 2012. The influence of French language in the social sciences: A historical perspective. French Studies in the Humanities, 7(2):85-98.         [ Links ]

    Ganuza, N & Hedman, C. 2019. The impact of mother tongue instruction on the development of biliteracy: Evidence from Somali-Swedish bilinguals. Applied Linguistics, 40(1):108-131.         [ Links ]

    García, O. 2009. Bilingual education in the 21st Century: A global perspective. Malden:Wiley-Blackwell.         [ Links ]

    Gee, JP. 2014. How to do discourse analysis: A toolkit. London: Routledge.         [ Links ]

    Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners. 'n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Heugh, K. 2009. Language and literacy in bilingual children: A synthesis of research evidence. International Journal of Bilingual Education and Bilingualism, 12(1):1-19.         [ Links ]

    Heugh, K. 2011. Language policy and education in South Africa. Ontario: Multilingual Matters.         [ Links ]

    Hibbert, L & Van der Walt, C. 2014. Multilingual universities in South Africa. Ontario: Multilingual Matters.         [ Links ]

    Hyland, K. 2009. Academic discourse: English in a global context. London: Continuum International Publishing Group.         [ Links ]

    Jooste, JP. 1957. Die geskiedenis van die P.U. vir C.H.O. (tot Inkorporasie). Koers. Bylaag: 63-110.         [ Links ]

    Kruger, J & Naudé, A. 2012. The role of Afrikaans in preserving cultural heritage. Journal of South African Languages, 28(1):45-58.         [ Links ]

    Loader, R, Van Dyk, T & Human, C. 2024. KortpadAfrikaans - 'n Basiese grammatika. Johannesburg: UJ Press.         [ Links ]

    Louw, D & Pienaar, H. 2017. Educational outcomes of mother tongue instruction in South Africa. South African Journal of Education, 37(1):101-115.         [ Links ]

    Morris, I & Cobb, T. 2004. Vocabulary profiles as predictors of the academic performance of Teaching English as Second Language trainees. System, 32(1):75-87.         [ Links ]

    Murray, T. 2010. The impact of mother tongue instruction on academic performance. Journal of Education and Language, 15(3):203-219.         [ Links ]

    Phillipson, R. 2009. Linguistic Imperialism Continued. London: Routledge.         [ Links ]

    Schleppegrell, MJ. 2004. The language of schooling: A functional linguistic perspective. London: Routledge.         [ Links ]

    Schmidt, H. 2015. German contributions to the field of physics: A legacy of innovation. Journal of Historical Physics, 23(4):200-214.         [ Links ]

    Skutnabb-Kangas, T & Heugh, K (eds). 2013. Multilingual education and sustainable diversity work: From periphery to center. New York: Routledge.         [ Links ]

    Skutnabb-Kangas, T. 2000. Linguistic genocide in education - Or worldwide diversity and human rights. Mahwah, NJ & London: Lawrence Erlbaum Associates.         [ Links ]

    Smit, B. 2015. Language and identity in South African education. South African Review of Sociology, 46(2):132-148.         [ Links ]

    Smith, A, Thompson, J & Van Zyl, M. 2009. Biodiversity Research in Afrikaans: Case Studies from 'Koedoe'. Koedoe, 51(1):75-82.         [ Links ]

    Spolsky, B. 2004. Language Policy. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

    Stellenbosch Universiteit. 2024. https://web.archive.org/web/20180910165009Mtp7www0.sun.ac.za/100/en/timeline/1960/ [15 Augustus 2024].         [ Links ]

    Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 2024. https://tgwsak.co.za/ [27 Augustus 2024].         [ Links ]

    Suid-Afrikaanse Vereniging vir Taalonderrig. 2024. https://www.journals.ac.za/jlt [27 Augustus 2024].         [ Links ]

    Thomas, WP & Collier, VP. 2002. A national study of school effectiveness for language minority students ' long-term academic achievement. Santa Cruz: Center for Research on Education, Diversity & Excellence.         [ Links ]

    Van Dyk, TJ, Wilken, I, Ravyse, N, Du Plessis, D, Khumalo, L & Steyn, J. 2023. National Language Resources Audit. Potchefstroom: SADiLaR.         [ Links ]

    Wright, S. 2010. Language policy and language planning: From nationalism to globalisation. Houndmills: Palgrave Macmillan.         [ Links ]

    Zhao, L. 2018. The rise of mandarin in scientific research and technology: A case study. Asian Journal of Science and Technology, 29(1):50-65.         [ Links ]

     

     

    Ontvang: 2024-10-12
    Goedgekeur: 2024-12-05
    Gepubliseer: Maart 2025

     

     

     

    Tobie van Dyk is professor in toegepaste taalkunde aan die Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale. In sy navorsing fokus hy op taal vir spesifieke doeleindes, en in die besonder taal vir akademiese doeleindes en die meting daarvan. In aansluiting hierby, is die aangeleentheid van taalbeplanning en taalbestuur tans hoog op sy navorsingsagenda. Hy is die outeur en mede-outeur van talle publikasies in plaaslike en inter-nasionale vaktydskrifte en het 'n C2-navorsings-gradering van die NNS. Hy is in 2023 na die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) gesekondeer om oor-koepelende verantwoordelikheid namens Universities South Africa (USAf) te neem vir 'n nasionale taalhulpbronoudit by Suid-Afrikaanse universiteite. Die sekondering is vir 'n verdere drie jaar verleng om oor die bestekopname toesig te hou en universiteite van raad te bedien. Die doel hiermee was om tot ingeligte besluite te kan kom oor die behoeftes en gereedheid van universiteite om die Nasionale Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoër Onderwysinstellings te implementeer.
    Tobie van Dyk is professor of applied linguistics at North-West University's School of Languages. He focuses on language for specific purposes in his research, particularly language for academic purposes and its measurement. Accordingly, the matter of language planning and language management currently features prominently in his research. He is the author and co-author of numerous publications in local and international journals and is considered an established researcher in South Africa, with international recognition. He was seconded to the South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) in 2023 to take over-arching responsibility, on behalf of Universities South Africa (USAf), for a national language resource audit at South African universities; this secondment has been extended for a further three years to oversee post-audit endeavours and to provide support to universities in this regard. The aim of the audit was to reach informed decisions about the needs and readiness of universities to implement the National Language Policy Framework for Public Higher Education Institutions.
    1 Kulturele identiteit verwys hier nie na Afrikaneridentiteit per se nie, maar eerder na 'n Afrikaanse identiteit en 'n Afrikaanse akademiese identiteit.
    2 Kyk hoofstukke 5, 6, 7 en veral ook 11.
    3 Kyk in die besonder hoofstukke 14-17.
    4 Kyk ook afdeling 4 hier onder.