Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a6
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde as 'n vakdissipline
The development of Afrikaans linguistics as an academic discipline
Adri Breed
Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Suid-Afrika. E-pos: Adri.Breed@nwu.ac.za
OPSOMMING
Die ontwikkeling van Afrikaanse taalkunde as wetenskaplike vakgebied is goed gedokumenteer, maar die meeste bronne hieroor is meer as dertig jaar oud. Hierdie artikel bied vanuit 'n diachroniese perspektief 'n bygewerkte beskrywing van die vakgebied se ontwikkeling. Dit verken ook sleutelpublikasies, invloedryke bydraers en subdissiplines binne die Afrikaanse taalkunde. Nienaber (1934) beskryf vier fases, naamlik (i) die vormingsjare van Afrikaans (1657-1775), (ii) die ontluiking van 'n Afrikaanse taalidentiteit (1775-1875), (iii) die dokumentering van Afrikaans as taal (1875-1900), en (iv) die vestiging van Afrikaanse taalkunde as 'n aparte studieveld (1900-1940). Drie verdere fases word by Nienaber se indeling gevoeg, naamlik (v) die institusionalisering van Afrikaanse taalkunde (1940-1994), (vi) 'n afname in publikasies, maar 'n opbloei van nuwe subdissiplines en die deelname van vroulike taalkundiges aan die vakgebied (1994-2005), en (vii) die digitalisering en internasionalisering van die vakgebied (sedert 2005).
Trefwoorde: Afrikaanse taalkunde, taalontwikkeling, diachroniese perspektief, bibliometriese navorsingsmetodes, digitale bibliografie
ABSTRACT
The development of Afrikaans linguistics as a scientific field has been documented in various sources, but the majority of these were published over thirty years ago. In an attempt to provide a more accurate assessment of the evolution of Afrikaans linguistics into a contemporaryfield, an updated description is needed that outlines recent progress, challenges, and the current status of this discipline. The aim of this article is to provide a diachronic overview of the development of Afrikaans linguistics from its inception to the present day.
The greater part of the research outlined in this article consists of a literature review involving various sources, and exploring different perspectives to the development of Afrikaans linguistics. A diachronic perspective traces the historical progression of the field; a canonical approach highlights key publications and influential linguists who had made significant contributions; and a thematic approach focuses on various sub-disciplines and areas within Afrikaans linguistics. My aim in this article is to synthesise these different perspectives from various sources while simultaneously tracing the development of Afrikaans linguistics from the 17th century to the present.
GS Nienaber 's (1934) book Oor die Afrikaanse taal: 'n Bydrae oor sy ontwikkeling na aanleiding van enkele versterkingswyses (On the Afrikaans Language: A contribution to its development based on some reinforcement methods) is the earliest comprehensive source providing an historical overview of the development of Afrikaans linguistics. Published nearly a century ago, this book describes the establishment of Afrikaans linguistics as a distinctfield of study. Nienaber (1934:22-23) suggests that the growth of Afrikaans linguistics reflects the evolution of Afrikaans as a language, which, according to him, can be categorised into four phases up to 1930: (i) 1657 to 1775, (ii) 1775 to 1875, (iii) 1875 to 1900, and (iv) 1900 to "today" (referring to the publication date of the book). Nienaber 's timeline ends around 1940, and in this article, I argue that three additional phases in the development of Afrikaans can be identified: (v) 1940-1994, (vi) 1994-2005, and (vii) 2005 to the present.
The first phase (1657-1775) represents the formative years of Afrikaans, a period during which differences between Dutch used in the Cape Colony and Dutch used in Europe began to become noticeable. The available sources from this period shedding light on the history of the development of Afrikaans are mainly reports used by Dutch officials in the Cape Colony and other communities, including the language spoken by enslaved individuals during the colonial era, and texts written during this period by the coloured community of the Western Cape.
In the second phase (1775-1875), a burgeoning Afrikaans language identity can be observed, with growing interest in Afrikaans, likely due to the British authorities' emphasis on anglicisation during this period. Some sources, such as Changuion's (1844) book De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika (The Dutch Language in South Africa) and Lichtenstein 's (1811) Reisen im Südlich Afrika in den Jahren 1803, 1804, 1805 und 1806 (Travels in South Africa in the Years 1803, 1804, 1805, and 1806) describe unique Afrikaans words and expressions. These are representative of the beginning of linguistic research focusing specifically on Afrikaans as an object of study.
In the third phase (1875-1900), the first real documentation of Afrikaans occurs. This period sees speakers of the language gradually becoming aware of the language and the origin of a separate, autonomous, and recognised language. Such language awareness directly led to the so-called "first Afrikaans language movement," particularly realised through the establishment of the Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).
According to Nienaber (1934:22-23), the fourth phase (1900-1940) marks the real beginning of Afrikaans linguistics as a distinctfield of study - and not merely a subset of Dutch or Germanic studies. This period also saw the so-called "second language movement", with a number of important grammar sources appearing that discuss the structure of the Afrikaans language. These sources have served as standard linguistic works on Afrikaans for many years.
Phase five (1940-1994) can be seen as the institutionalisation of Afrikaans linguistics, marking the period when systematic linguistic studies, both in and about Afrikaans were initiated, indicating a new phase in the development of Afrikaans linguistics. During the period 1940-1994 South Africa was characterised by significant socio-political changes, including the implementation of Apartheid, a system of institutional racial segregation that lasted from 1948 until the early 1990s, and the subsequent transition to a new democratic government in 1994. With the advent of the National Party's coming into power in 1948, concrete efforts were made at the national level to promote Afrikaans as a spoken, cultural, and official language. Therefore, this was a period in which various normative sources addressing issues of "language purity, " as well as comprehensive sources outlining various aspects of Afrikaans's grammatical structure, emerged.
In the course of the sixth phase (1994-2005), the publication of academic research concerning Afrikaans linguistics sharply declined. This contrasts markedly with the growth andflourishing of Afrikaans linguistics from 1940 to 1990. During the latter period Afrikaans enjoyed a privileged status under the National Party government which ruled from 1948 to 1994. Nonetheless, several changes in the development of Afrikaans linguistics can be observed during the sixth phase, namely the increase of female researchers in the Afrikaans linguistic community as well as the emergence of cognitive linguistics as a new area of study within Afrikaans linguistics.
The kind of linguistic research practised in the past two decades, namely the seventh phase of the development of Afrikaans linguistics (2005-2024), is characterised by a very specific expansion within Afrikaans linguistics, namely research that utilises techniques typical of Digital Humanities. This is not only research conducted by using digital tools but it also reflects a shift of linguistic resources from printed media to digital media. Characteristic of this period is the development of two comprehensive electronic grammars, namely Taalportaal and the VivA Afrikaans Grammar. In the seventh phase of the development of Afrikaans linguistics, linguists thus employ both traditional and digital methods. A new generation of young researchers, particularly focusing on computer-based research, is emerging and unlocking new areas within the field.
Keywords: Afrikaans linguistics, language development, diachronic perspective, bibliometric research methods, digital bibliography
1. Inleiding
Die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde1 as wetenskaplike vakgebied is in verskeie bronne gedokumenteer, maar die meerderheid hiervan is meer as dertig jaar gelede gepubliseer. Om 'n goeie beeld te vorm van die evolusie van die Afrikaanse taalkunde tot die hedendaagse vakgebied, moet 'n bygewerkte beskrywing verskaf word wat die meer onlangse vooruitgang, uitdagings en die huidige status van hierdie vakdissipline weerspieël.
Só 'n onderneming word op tweeledige wyse deur Breed en Bosman (2024:13-33) aangepak. Eerstens bied die skrywers 'n omvattende literatuuroorsig van 'n aantal ouer kernbronne aan wat die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde beskryf. Hierdie oorsig bied 'n bondige samevatting van die historiese ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde soos aangeteken in gepubliseerde bronne, met spesifieke fokus op sleutelgebeure en mylpale tot aan die einde van die 20ste eeu. Tweedens, om die stand van die Afrikaanse taalkunde in die 21ste eeu te beskryf, voer hulle 'n bibliometriese analise2 uit van die bronne wat in die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT)3 gekatalogiseer is. Die eerste gedeelte van hul bespreking het dus 'n diachroniese fokus, wat strek van ongeveer 1650 tot 1999, terwyl die tweede gedeelte 'n sinchroniese fokus het wat uitsluitlik op die Afrikaanse taalkundekonteks vir die afgebakende tydperk van 2000 tot 2020 gerig is.
Hoewel Breed en Bosman (2024:13-33) 'n oorsigtelike beeld bied van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde oor die afgelope vier eeue (van ongeveer 1650 tot 2020), identifiseer hulle 'n leemte in hul bespreking wat verband hou met die tweeledige benadering wat hulle gevolg het. Aangesien die tweede deel van hul benadering, wat fokus op die stand van die Afrikaanse taalkunde in die 21ste eeu, nie op 'n diachroniese wyse aangepak is nie, maar eerder op sinchroniese wyse fokus op die spesifieke akademiese publikasies van die tydperk 2000 tot 2020, is daar die moontlike uitsluiting van belangrike Afrikaanse taalkundiges wat aktief was rondom die draai van die eeu (met ander woorde, spesifiek taalkundiges wat navorsing oor Afrikaans gedoen het in die tydperk 1990 tot 2010).
Breed en Bosman (2024:32) dui verder ook aan dat verdere navorsing nodig is om bronne wat gedurende die draai van die eeu gepubliseer is, te ondersoek, en dat 'n diachroniese benadering hiervoor wenslik sou wees. So 'n hersiene benadering sal help om meer sleutelfigure en belangrike publikasies in die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde te identifiseer. Hulle merk byvoorbeeld op dat Barbara Bosch tussen 1984 en 2000 'n indrukwekkende 38 akademiese artikels oor Afrikaans gepubliseer het, maar sy word nie as 'n prominente taalkundige in enige van die bronne wat die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde bespreek, erken nie. Dít terwyl sy waarskynlik een van die belangrikste vroulike beskrywende Afrikaanse taalkundiges tot op hede is. Hulle stel voor dat dit daarom nodig is om die bibliografiese omvang van toekomstige navorsing oor die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde te verbreed om 'n meer genuanseerde begrip van hierdie ontwikkeling te verkry.
Die doel van hierdie artikel is derhalwe 'n heraanbieding van Breed en Bosman (2024),4 maar hierdie aanbieding behels ook 'n aanvulling en uitbreiding wat ten doel het om die geïdentifiseerde leemte te vul. Dit sluit daarom die beligting van die rol van spesifieke Afrikaanse taalkundiges in die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde as vakgebied in, sowel as, anders as die benadering van Breed en Bosman (2024), 'n diachroniese beskrywing van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde in die tydperk 1990 tot 2024.
Hierdie artikel, wat grotendeels 'n literatuuroorsig van verskeie bronne behels, inkorporeer elemente vanuit verskillende perspektiewe om die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde as vakgebied te verken. 'n Diachroniese perspektief volg die historíese vordering van die vakgebied; 'n kanonieke benadering beklemtoon sleutelpublikasies en invloedryke taalkundiges wat wesenlike bydraes gelewer het; en 'n tematiese benadering fokus op verskeie subdissiplines en gebiede binne die Afrikaanse taalkunde. Die doel is om hierdie verskillende perspektiewe vanuit verskeie bronne te sintetiseer terwyl die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde van die 17de eeu tot die hede beskryf word. Soortgelyk aan die werkwyse wat in Breed en Bosman (2024) gevolg word, word die ondersoek in hierdie artikel uitgevoer met behulp van 'n tweeledige metode, naamlik om eerstens 'n literatuuroorsig uit te voer van bronne wat die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde bespreek, en tweedens deur die omvattende lys van Afrikaanse taalkundebronne wat op die DBAT gekatalogiseer is, te analiseer.5
2. 'n Tydlyn van Afrikaanse taalkunde: 1657-2024
GS Nienaber (1934) se boek Oor die Afrikaanse taal: 'n Bydrae oor sy ontwikkeling na aanleiding van enige versterkingswyses is die vroegste omvattende bron wat 'n historiese oorsig oor die ontwikkeling van Afrikaanse taalkunde bied. Dié boek, wat amper 'n eeu gelede gepubliseer is, beskryf die vestiging van die Afrikaanse taalkunde as 'n eiesoortige studieveld. Nienaber (1934:22-23) stel voor dat die groei van die Afrikaanse taalkunde die evolusie van Afrikaans as taal weerspieël, wat tot en met 1930 in vier fases gekategoriseer kan word: (i) 1657 tot 1775, (ii) 1775 tot 1875, (iii) 1875 tot 1900, en (iv) 1900 tot "vandag" (verwysend na die publikasiedatum van die boek). Terwyl Nienaber se tydlyn in 1934 eindig, gebruik Breed en Bosman (2024) sy klassifikasie as basis, maar brei hierdie ontwikkeling uit deur 'n vyfde fase wat strek van 1940 tot 1999 tot die ontwikkelingslyn van die Afrikaanse taalkunde te voeg.
Die skrywers dui egter aan dat daar 'n duidelike verandering te bespeur was in die ontwikkeling van Afrikaanse taalkunde met die aanbreek van 'n demokratiese Suid-Afrika: Die publikasie van bronne oor die Afrikaanse taalkunde het sedert 1994 skerp afgeneem, ná die verminderde status van Afrikaans as een van slegs twee amptelike landstale in Suid-Afrika tot een van 11 amptelike tale. Dit staan in skrille kontras met die groei en opbloei van die Afrikaanse taalkunde van 1940 tot 1990, waartydens Afrikaans van 1948 tot 1994 bevoorregte status onder die Nasionale Party-regering geniet het (Breed & Bosman, 2024:22, my vertaling - en sien ook Figuur 1 in §2.6).
Ek wil daarom Breed en Bosman (2024) se vyfde fase van ontwikkeling afbaken as 'n tydperk wat strek van 1940 tot 1994, en in die volgende afdelings (onder meer gebaseer op afleidings wat gemaak kan word vanuit die gekatalogiseerde bronne op die DBAT) argumenteer dat daar ook nog 'n sesde, en moontlik selfs 'n sewende, fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde geïdentifiseer kan word.
2.1 1657-1775: Die vormingsjare van die Afrikaanse taalkunde
Nienaber (1934:22-23) verduidelik dat hierdie eerste tydperk as die "vormingsjare" van Afrikaans beskou kan word. Dit is 'n tydperk waarin verskille tussen die Nederlandse taalgebruik in die Kaapkolonie en die Nederlandse taalgebruik in Europa merkbaar begin word. Volgens Scholtz (1980:42) is dit moeilik om die taalgebruik van hierdie tydperk te bestudeer, aangesien daar 'n tekort is aan geskikte bronne wat hierdie vroeë vorm van die taal bespreek. Die beskikbare bronne uit hierdie tydperk wat lig werp op die geskiedenis van die ontwikkeling van Afrikaans, word tot twee kategorieë beperk: (a) verslae van die Nederlands wat deur die Nederlandse amptenare aan die Kaapkolonie en ander gemeenskappe gebruik is, insluitende die taal wat deur tot slaaf gemaakte individue tydens die koloniale era gepraat is, en (b) tekste wat in hierdie tydperk deur die bruin gemeenskap van die Wes-Kaap6 geskryf is. Bronne soos Kolbe (1727) se Naaukeurige en uitvoerige beschryving van de Kaap de Goede Hoop, Van Reenen (1791-1792) se Kaapse joernaal, en Mentzel (1785-1787) se Beschreibung des ... Afrikanischen Vorgebirges der Guten Hofnung, is bronne uit hierdie tydperk wat beskrywings bevat van die vroeë vorme van die ontluikende Afrikaans wat in hierdie koloniale tydperk gebruik is (vergelyk ook Molsbergen, 1916:139; Nienaber, 1934:3; Scholtz, 1980:42-44; Raidt, 1991:101-153; Ponelis, 1993).
2.2 1 775-1875: Die ontluiking van 'n eie taaiidentiteit
Volgens Nienaber (1934:22-23) het die verskuiwing van koloniale buiteposte gelei tot 'n uitbreiding van die Afrikaanssprekende taalgebied, en 'n taalbelangstelling het ontstaan by sowel die sprekers van die taal as by taalkundiges. Nienaber (1934) en Van der Merwe (1970) skryf albei die groeiende belangstelling in Afrikaans gedurende hierdie tydperk toe aan die Britse owerheid se klem op verengelsing. Wat taalkundebronne betref, beklemtoon Van der Merwe (1968:40; 1970:40) die belangrikheid van Antoine Nicolas Ernest Changuion se werk. Changuion (1844) se boek De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika bevat byvoorbeeld 'n bylaag van 20 bladsye met Afrikaanse woorde en uitdrukkings. Lichtenstein (1811) se Reisen im Südlichen Africa in den Jahren 1803, 1804, 1805 und 1806 word ook as 'n betekenisvolle bron uit hierdie era beskou, aangesien dit waardevolle beskrywings van die ontwikkelende Afrikaanse taal bied (vergelyk Nienaber, 1934:3).
2.3 1875-1900: Die eerste dokumentasie van Afrikaans
In die tydperk 1875-1900 was daar skynbaar 'n ontwaking van belangstelling in Afrikaans, sowel in die letterkunde as die taalkunde. Volgens Nienaber (1934:22) was dit in hierdie tyd dat die eerste werklike dokumentasie van Afrikaans as taal plaasgevind het, en dit was 'n tydperk waarin die sprekers van die taal geleidelik bewus geword het van die taal en die oorsprong van 'n aparte, outonome en erkende taal. Hierdie taalbewustheid het direk gelei tot die sogenaamde "eerste Afrikaanse taalbeweging" wat veral verwesenlik is deur die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Die totstandkoming van hierdie genootskap word in meer besonderhede in verskeie bronne bespreek (vergelyk byvoorbeeld Carstens & Raidt, 2019:318-330; Scholtz, 1980:6-15; Van der Merwe, 1970:54-63).
Ponelis (1989:31) verduidelik dat die werke van hierdie tydperk hoofsaaklik gefokus het op die beskrywing van die fonetiek en grammatika van die ontluikende Afrikaanse taal. Voorbeelde van hierdie beskrywings is SJ du Toit se Eerste beginsels fan di Afrikaanse taal van 1876 (in die bronnelys as Genootskap van Regte Afrikaners, 1882), asook sy Fergelijkende taalkunde van Afrikaans en Engels in 1887. Die skepping van woordelyste vir Afrikaans was ook 'n belangrike ontwikkeling, byvoorbeeld Kern se 1890-woordelys wat in 1971 in Van der Merwe se Vroeë Afrikaanse woordelyste7 opgeneem is. Gedurende hierdie tydperk was die besprekings oor die gebruik van die ontwikkelende Afrikaanse taal in die Kaap nie net beperk tot die werke wat deur taalkundiges in Suid-Afrika geskep is nie, maar dit het ook normatiewe bydraes uit ander lande ingesluit. Een so 'n voorbeeld is Hoogenhout (1904) se Lehrbuch der Kapholländischen Sprache (Burensprache): Sprachlehre, Gespräche, Lesestücke und Wörterbuch (Handboek van die Kaaps-Hollandse taal (Boeretaal): taalonderrig, gesprekke, voorlesings en woordeboek) wat in Duitsland gepubliseer is.
2.4 1900-1940: Die vestiging van die Afrikaanse taalkunde
Nienaber se boek, wat in 1934 gepubliseer is, het kort ná 'n tydperk verskyn wat terugskouend as die "tweede Afrikaanse taalbeweging" bekend geraak het. Hierdie beweging het gestrek vanaf die eeuwisseling tot omstreeks 1925 - die jaar waarin Afrikaans as 'n amptelike taal erken is (soos bespreek word in bronne soos Scholtz, 1980:15; Carstens & Raidt, 2019:338-352; Steyn, 1980; 2014). Gedurende hierdie tydperk was daar 'n sterk gevoel van taalbewustheid onder Afrikaanssprekendes. Die taal het sy onafhanklikheid gevestig, nie net in alledaagse gebruik nie, maar ook in akademiese studie. Nienaber (1934:22-23) identifiseer hierdie tyd as die werklike begin van die Afrikaanse taalkunde as 'n eiesoortige studieveld - nie meer net 'n deelversameling van Nederlandse of Germaanse studies nie. Die tweede taalbeweging van Afrikaans het ook reeds baie aandag geniet in taalkundige literatuur (soos in werke van Carstens & Raidt, 2019:338-351; Scholtz, 1980:66-80; Botha, 1989:140-148).
Volgens Ponelis (1989:31) het die meeste Afrikaanse taalkundepublikasies in hierdie tydperk gefokus op historiese taalkunde wat die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaans as taal teoretiseer. 'n Sleutelpublikasie gedurende hierdie tyd was Hesseling (1899) se Het Afrikaans, waarin hy hipotetiseer dat die verskille tussen Afrikaans en Nederlands toegeskryf kan word aan 'n kreoliseringsproses waar Nederlands sterk deur Maleis-Portugees beïnvloed is. Hesseling se publikasie was inderdaad hoogs invloedryk en het 'n reeks verdere publikasies deur skrywers soos Boshoff (1921), Bosman (1923), Du Toit (1905), Franken (1953), Le Roux (1923) en Malherbe (1924) tot gevolg gehad. In hierdie publikasies word die oorsprong van Afrikaans verder ondersoek en 'n aantal ontstaansteorieë word hierin aangebied (raadpleeg ook Ponelis, 1993 vir 'n meer omvattende bespreking).
Alhoewel taalkundiges oorwegend op die ontwikkeling van teorieë oor die ontstaan van Afrikaans gekonsentreer het, het verskeie studies gedurende hierdie tydperk ook waardevolle insigte oor die struktuur van die Afrikaanse taal gebied. Hierdie werke het gehelp om die standaardisering van Afrikaanse grammatika te verstewig, met TH le Roux wat 'n besonder belangrike rol gespeel het (Carstens & Raidt, 2019:534). In 1912 stel Le Roux die vraag: "Het Afrikaans sy eie grammatika?" Hy argumenteer dat Afrikaans 'n gedefinieerde grammatika moet hê alvorens dit as skryftaal gebruik kan word. Dít het gelei tot die publikasie van verskeie vroeë grammatikale beskrywings van Afrikaans, waaronder Le Roux (1923) se beskrywing van Afrikaanse sintaksis, Le Roux en Pienaar (1925, 1945) se werk oor fonetiek, en Boshoff (1951, 1965) se leksikografiese en etimologiese navorsing oor Afrikaans (De Klerk, 1968:282-295).
2.5 1940-1994: Die institusionalisering van die Afrikaanse taalkunde
De Klerk (1968:282) merk op dat sistematiese taalkundestudies oor Afrikaans eers werklik in die 1940's uitgevoer is, wat 'n nuwe fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde aandui. Ten spyte van die beperkte linguistiese hulpbronne wat aan die begin van hierdie tydperk beskikbaar was, het die Afrikaanse linguistiek oor die volgende ses dekades aansienlike groei ondergaan wat betref beskrywende taalkundestudies. Volgens Van Rooy (2017:16) het drie sleutelfaktore die stand van die Afrikaanse taalkunde beïnvloed: (i) praktiese taalgebruikuitdagings, (ii) politieke en ideologiese oorwegings, en (iii) verwikkelinge op die gebied van algemene taalkunde.
Die genoemde praktiese uitdagings wat verband hou met die gebruik van Afrikaans het leksikografiese en standaardiseringspogings tot gevolg gehad. Met die Nasionale Party se bewindsaanvaarding in 1948 is daadwerklike pogings op nasionale vlak aangewend om Afrikaans as spreek-, kuituur- en amptelike taal te bevorder. Carstens en Raidt (2019:423) wys daarop dat die gebruik van Afrikaans ná 1925 sentraal in hierdie pogings gestaan het, aangesien dit ontwikkel moes word tot 'n taal vir verskeie funksies soos politiek, werk, ekonomie, media, letterkunde, sport, wetenskap, en die kunste. Dit is dus nie verbasend dat verskeie normatiewe bronne wat kwessies van sogenaamde "taalsuiwerheid" aanraak, in hierdie tydperk gepubliseer is nie. Voorbeelde hiervan is bronne soos Van der Merwe (1968), Odendal (1978), en De Villiers (1977).
In hierdie fase beleef die Afrikaanse taalkunde 'n opbloei van variasietaalkundestudies, waardeur die Afrikaanse taalkunde se grondgebied vergroot het. 'n Aantal voorbeelde van die navorsing wat veral in die tagtigerjare uitgevoer is, is die navorsing wat gedoen is oor Griekwa-Afrikaans (byvoorbeeld die Finale verslag van 'n ondersoek na die Afrikaans van die Griekwas van die tagtigerjare onder redaksie van Christo van Rensburg 1984), die Afrikaans van die Richtersveld (Van Rensburg, 1984-1986), die Afrikaans van die Saldanhabaai-omgewing (Eksteen, 1984), Oosgrens-Afrikaans (Van Rensburg, 1984), en ondersoek na die woordeskatverskynsels in die Hardeveld en Namakwaland (Coetzee, 1983).
Gedurende die tydperk 1940-1994 het Suid-Afrika beduidende politieke veranderinge ondergaan, insluitende die implementering van Apartheid, 'n stelsel van institusionele rassesegregasie wat van 1948 tot die vroeë 1990's geduur het, en die daaropvolgende oorgang na 'n nuwe demokratiese regering in 1994. Van Rooy (2017:17) merk op dat baie van die wetenskaplike werk oor Afrikaans in hierdie tyd derhalwe sterk op taalpolitiek gefokus het, en hierdie fokus het gelei tot 'n afname in beskrywende taalkundestudies oor die taal gedurende die laaste dekade van die 20ste eeu. Hierdie tendens is ook deur Van Rooy en Pienaar (2006) waargeneem. Publikasies soos dié van Steyn (1980, 1986, 1987), Du Plessis (1986), Du Plessis en Du Plessis (1987), Webb (1993, 1995), Hofmeyr (1984) en Du Plessis (1992) is voorbeelde van taalpolitieke publikasies uit hierdie tydperk. Politiese en ideologiese oorwegings het derhalwe in hierdie tyd ten sterkste die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde as vakgebied beïnvloed.
Die vooruitgang van die Afrikaanse beskrywende linguistiek is verder ook gevorm deur die verwikkelinge in die Algemene taalkunde, soos uitgelig deur Van Rooy (2017:18). Van der Merwe en Dekker (1963:43-44) gee 'n oorsig van die betekenisvolle bydraes wat in die 20ste eeu tot die internasionale veld van Algemene Taalkunde gemaak is. Volgens Van der Merwe en Dekker het die studie van taal gedurende hierdie tydperk veral gebou op die beginsels wat uiteengesit is in De Saussure (1916) se Cours de linguistique générale (in 1966 in Afrikaans vertaal as Kursus in algemene taalkunde deur Alewyn Lee). Die impak van dié publikasie het gelei het tot 'n hernieude fokus op dialektologie en 'n dieper verkenning van die veld van algemene taalkunde. Dit het die ondersoek van 'n sistematiese stel taaltekens behels, insluitende foneme, morfeme en seme. Uit internasionale linguistiese bronne weet ons dat hierdie metodologie wêreldwyd wyd aangeneem en beoefen is deur bekende taalkundiges soos Antoine Meillet (1866-1936, Frankryk), Edward Sapir (1884-1939, VSA), Otto Jespersen (1860-1940, Denemarke), Roman Jakobson (1896-1982, Rusland en VSA), Albert Willem de Groot (1892-1963, Nederland), Vilém Mathesius (1882-1945, Tsjeggo-Slowakye), Leonard Bloomfield (1887-1949, VSA), Benjamin Lee Whorf (1897-1941, VSA), Zellig Harris (1909-1992, VSA) en André Martinet (1908-1999, Frankryk).
Soos voorheen genoem, was daar 'n afname in beskrywende bronne oor Afrikaans gedurende die laaste twee dekades van die 20ste eeu. Nietemin is verskeie beskrywende bronne gedurende die vyfde tydperk (1940-1994) gepubliseer en die benadering wat Afrikaanse taalkundiges in die bestudering van die taalsisteme van Afrikaans gevolg het, is grootliks beïnvloed deur Amerikaanse strukturaliste, veral die werk van Harris, Bloomfield en Noam Chomsky. Aangesien die primêre fokus op die beskrywing van die taalsisteme was, is dit te verstane dat daar in hierdie tyd omvattende bronne verskyn het wat verskeie aspekte van Afrikaans se grammatikale struktuur uiteensit. Dit het werke oor fonologie, morfologie, sintaksis en semantiek ingesluit. Sterk beïnvloed deur die werk van Chomsky, is baie van die Afrikaanse taalkundenavorsing wat in hierdie tyd gepubliseer word, gebaseer op die teorie van die Transformasioneel-Generatiewe Grammatika (TGG) - 'n grammatikateorie wat taalstrukture verklaar aan die hand van linguistiese transformasies en frasestrukture. Enkele voorbeelde van studies wat vanuit hierdie teoretiese perspektief aangepak is, is Botha (1978) se Generatiewe taalondersoek: 'n sistematiese inleiding, De Bruto en Wissing (1974) se Aspekte van 'n Afrikaanse TG-fonologie en Jenkinson (1991) se artikel, Strukturalistiese en generatiewe benaderings tot die morfologie: 'n metodologiese vergelyking.
Soos genoem, verskyn daar in hierdie tydperk 'n hele aantal bronne wat sistematies die verskillende grammatikale vlakke van Afrikaans bespreek. Volgens Van Rooy (2017) word die volgende bronne as standaardwerke oor die hoofareas van beskrywende linguistiek in Afrikaans beskou: Algemene en Afrikaanse generatiewe fonologie (Wissing, 1982), Afrikaanse fonologie (Combrink & De Stadler, 1987), Samestelling, afleiding en woordsoortelike meerfunksionaliteit in Afrikaans (Kempen, 1969), Afrikaanse morfologie (Combrink, 1990), Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis en Afrikaanse sintaksis (Ponelis, 1968 en 1979 onderskeidelik), Die semantiek van Afrikaans (De Villiers, 1975), en Afrikaanse Semantiek (De Stadler, 1989). Van Rooy (2017:17) merk ook op dat hierdie bronne meer as drie dekades gelede gepubliseer is en dat daar sedertdien geen nuwe omvattende handboeke oor Afrikaanse grammatikale sisteme was nie.
Naas die boeke wat hier bo deur Van Rooy as seminale werke geïdentifiseer is, het verskeie prominente Afrikaanse taalkundiges in hierdie vyfde fase van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde na vore getree met beskrywende publikasies oor Afrikaans - nie slegs as boeke nie, maar ook as artikelpublikasies in geakkrediteerde tydskrifte, hoofstukke in boeke, intreeredes, tersiêre onderrigmateriaal, ensovoorts, wat óók as invloedryke of standaardbronne binne verskeie gebiede van die Afrikaanse taalkunde beskou kan word. Gebaseer op Breed en Bosman (2024), Eksteen (1983:23-27), Carstens en Raidt (2019:538-544), De Klerk (1968), asook die inligting oor bronne uit dié tydperk wat in die DBAT gekatalogiseer is, kan 'n aantal prominente8 taalkundiges9 binne bepaalde taalkundesubvakgebiede uitgelig word (vergelyk Tabel 1 hier onder). Hierdie taalkundiges se werk is van besondere belang vir die Afrikaanse taalkunde en is meestal gesaghebbend binne hul onderskeie vakgebiede.
2.6 1994-2005: Die veranderde stand en status van Afrikaans
Soos aangedui, het Breed en Bosman (2024:20-21) 'n bibliometriese analise uitgevoer op die bibliografiese inligting van Afrikaanse taalwetenskappublikasies uit die 21ste eeu, met behulp van data afkomstig van die DBAT. Die hoofdoel van hul studie was om prominente taalkundiges en die spesifieke subdissiplines en navorsingsareas waarin Afrikaanse linguistiese navorsing gedurende die 21ste eeu plaasgevind het, te identifiseer en te analiseer. Ter aanvulling van hierdie analise het hulle egter hul bespreking ingelei met 'n opsomming van die aantal en tipes publikasies per jaar, beginnende by die vroegste inskrywings in die DBAT. Hierdie opsomming was van belang omdat dit 'n oorsig bied van die diachroniese evolusie van die Afrikaanse taalkunde, wat verdere kontekstuele insigte in die ontwikkeling van die veld moontlik gemaak het.
Figuur 1 toon die aantal jaarlikse akademiese Afrikaanse taalkundepublikasies wat in die DBAT gekatalogiseer is, wat terugdateer na 1727, die publikasiedatum van die oudste bron wat in die databasis ingesluit is.10 Die vertikale stippellyne op die grafiek verteenwoordig die verskillende tydperke van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde, soos tot dusver bespreek in §2.1-§2.5. Die drie soliede horisontale lyne dui op drie betekenisvolle taalhistoriese gebeure wat vroeër uitgelig is, naamlik (i) die standaardisering van Afrikaans in 1925 (sien §2.4), (ii) die infasering van apartheid in 1948 (sien §2.5), en (iii) die aanbreek van 'n nuwe, demokratiese Suid-Afrika in 1994 (sien §2.5).
Die grafiek hier bo verskaf duidelike bewyse om die beeld van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde wat dusver in hierdie artikel aangebied is, te ondersteun. Dit toon dat die groeiende taalbewustheid onder Afrikaanssprekendes vanaf 1925 gelei het tot die sistematiese en voortdurende ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde, wat die taal se onafhanklikheid, nie net as 'n alledaagse kommunikasietaal nie, maar ook as 'n studieveld in die taalkunde, gevestig het.
Hierdie ontwikkeling en uitbreiding van die Afrikaanse taalkunde het voortgeduur tot 1994. Die publikasie van bronne oor die Afrikaanse taalkunde het egter sedert 1994 skerp afgeneem. Dit staan in skrille kontras met die groei en opbloei van die Afrikaanse taalkunde van 1940 tot 1990, waartydens Afrikaans van 1948 tot 1994 bevoorregte status onder die Nasionale Party-regering geniet het.
Die presiese redes vir die afname sedert 1994 is kompleks en verg verdere ondersoek. Nietemin het die rekonstruering van nasionale infrastruktuur, diskoerse en praktyke wat onder apartheid gebou is, 'n direkte impak op die lot van Afrikaans gehad. Staatsgedwonge tweetaligheid is vervang deur 'n meertaligheidsbeleid waarin Afrikaans gelyke status geniet het met tien ander Suid-Afrikaanse tale. In werklikheid het daar egter sedert 1994 'n Engelse eentaligheid geheers, wat gelei het tot die afskaal van Afrikaans as gebruikstaal in staatsburo-krasie, naamborde, produketikettering, aankondigings, televisie, handel, nywerheid, adver-tensies, en in 'n groot mate ook in wetenskaplike en akademiese publikasies. Daar is ook druk om Afrikaans binne die regstelsel af te skaf, en sommige Afrikaanse skole en universiteite word onder druk geplaas om na 'n eentalige, Engelse medium van onderrig oor te skakel (sien Carstens & Raidt, 2019:683-695; Steyn, 2014:440-470). Hierdie veranderinge het duidelik 'n impak op die Afrikaanse taalkunde gehad, soos ons kan sien in Figuur 1 (vergelyk ook die besprekings in Louw, 2004:211; en ook in Van Rensburg, Malherbe & Landman, 2001). Dis om hierdie rede, naamlik die duidelike verandering in die ontwikkelingspad van Afrikaanse taalkunde, dat 1994 gereken kan word as die begin van 'n sesde fase in die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde.
Aangesien Breed en Bosman (2024) se benadering nie spesifiek fokus op die taalkunde-navorsing van hierdie afgebakende periode nie, bied ek vir hierdie fase ook 'n opsomming aan van die produktiefste taalkundiges wat in hierdie tydperk taalkundenavorsing gepubliseer het. Hierdie opsomming is gebaseer op die inligting van akademiese publikasies, soos akademiese artikels, proefskrifte, en intreeredes, wat op die DBAT gekatalogiseer is. Hierdie inligting word opgesom in Tabel 2, en dit sluit slegs die inligting in van taalkundiges wat meerdere Afrikaanse akademiese publikasies in hierdie tydperk gepubliseer het en dus as invloedryke taalkundiges11 van hierdie tydperk gereken kan word.
Uit die tabel kan verskeie waarnemings gemaak word. 'n Eerste aspek wat uitgelig kan word, is die toename in vroulike navorsers in die Afrikaanse taalkundegemeenskap. Terwyl daar vir die tydperk 1940-1994 slegs drie vroulike taalkundiges (Anna Coetzee, Barbara Bosch en Edith Raidt) as kernrolspelers op grond van hul publikasies in die Afrikaanse taalkunde erken is, kan daar vir hierdie tydperk reeds twaalf vroulike taalkundiges uitgelig word. Dit is verder merkwaardig dat al drie genoemde taalkundiges ook in hierdie sesde fase van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkundevakgebied steeds as produktiewe taalkundiges optree. Hierdie tendens dui op 'n groeiende en diversifiserende deelname van vroue in 'n veld wat tradisioneel as manlik-gedomineerd beskou is, en weerspieël 'n verandering in die wetenskaplike landskap van Suid-Afrika.
'n Tweede opvallende aspek is dat die data toon hoe sekere taalkundige tradisies, soos historiese taalkunde, leksikografie, leksikologie, grammatikastudies, sosiolinguistiek, variasietaalkunde en taalpolitiek, steeds sterk staan in hierdie tydperk en die aandag trek van 'n groot aantal Suid-Afrikaanse taalkundiges, sowel as enkele internasionale taalkundiges (veral op die gebied van historíese taalkunde). Hierdie vakgebiede het dus gevestig geraak as sterk tradisies waarin daar produktiewe diskoers plaasvind tussen verskillende taalkundiges, wat lei tot waardevolle bydraes en die verdieping van kennis binne die veld.
Laastens sien ons die opkoms van die kognitiewe linguistiek as 'n nuwe en opwindende veld. Hierdie subdissipline van taalkunde ondersoek hoe taal met kognisie gekoppel is en hoe taalgebruik die kognisie beïnvloed. Die kognitiewe linguistiek baan die weg vir verdere gebruiksgebaseerde taalnavorsing wat poog om taal in die konteks van menslike kognisie en daaglikse gebruik te verstaan. Hierdie nuwe benadering dui op 'n belangrike ontwikkeling in die veld en reflekteer die voortdurende evolusie en uitbreiding van taalnavorsing - óók in Suid-Afrika en óók vir Afrikaans.
2.7 2005-2024: 'n Digitale Afrikaanse taalkunde
Die tipe taalkundenavorsing wat in die afgelope ongeveer twee dekades beoefen word, dui 'n baie spesifieke uitbreiding van en binne die Afrikaanse taalkunde aan, naamlik navorsing wat gebruik maak van tegnieke wat kenmerkend is van Digitale Humaniora (voorts DH, en in Engels bekend as Digital Humanities), en daarom argumenteer ek dat ons ons tans in 'n sewende fase in die ontwikkeling van Afrikaanse taalkunde as vakgebied bevind.
DH kan kortliks beskryf word as 'n navorsingsveld op die kruispunt van digitale tegno-logieë en die geesteswetenskappe. Dit sluit die sistematiese gebruik van digitale geestes-wetenskapbronne in, asook die analise van hul toepassing ( Kirschenbaum, 2012:3). DH is dus nuwe maniere van navorsing wat samewerkende, dikwels transdissiplinêre en rekenaar-gebaseerde navorsing behels en dit maak gebruik van digitale hulpmiddels, instrumente en metodes (vergelyk onder andere ook Berry, 2012; Burdick et al., 2012; Holm et al., 2015 vir verdere bespreking).
Hoewel die internasionale ontwikkeling van DH teruggevoer kan word na die laat 1980's (vergelyk Burdick et al, 2012:9), en daar ook al 'n aantal Afrikaanse taalkundepublikasies rondom hierdie tydperk verskyn wat van DH-navorsingsmetodes gebruik maak - byvoorbeeld Alberts (1988), Cloete (1990) en Van der Bijl en Van Wyk (1992) - blyk dit uit die inskrywings op die DBAT dat DH-metodes veral vanaf die vroeë 2000's toenemend gebruik is in Afrikaanse taalkundenavorsing. Gedurende hierdie tydperk het navorsing in DH-subdissiplines soos rekenaarlinguistiek (byvoorbeeld Puttkammer, 2014; Dirix & Augustinus, 2020 en Van Heerden & Bas, 2021), korpuslinguistiek (byvoorbeeld Taljard & Bosman, 2015; Van Huyssteen, 2018; Saal & Fourie, 2021), en forensiese linguistiek (byvoorbeeld Kotzé, 2007; Carney & Bergh, 2014 en Grundlingh, 2015) meer algemeen geword.
Hierdie sewende fase van die ontwikkeling van Afrikaanse taalkunde word verder gekenmerk deur die gebruik van DH-tegnieke in gevestigde taalkundevelde soos Fonetiek en Fonologie, Sosiolinguistiek en Diskoersanalise. Digitale hulpmiddels en sagteware word gereeld gebruik om navorsing in hierdie tradisionele velde te onderneem. Daarbenewens is die gebruik van aanlyn sosiale media en ander digitale platforms as databronne vir die studie van taalvariasie en -verandering in digitale kontekste algemene praktyk.
Dit is nie slegs navorsing wat met behulp van digitale hulpmiddele uitgevoer word nie, maar daar is ook 'n verskuiwing van taalkundebronne vanaf gedrukte media na digitale media. Hoewel Van Rooy (2017) aantoon dat daar in die afgelope drie dekades geen nuwe omvattende handboeke oor Afrikaanse grammatikale sisteme gepubliseer is nie, word hierdie leemte sterk aangevul deur die totstandkoming van twee omvattende digitale grammatikabronne vir Afrikaans.
Die eerste bron is Taalportaal (www.taalportaal.org) (Van Huyssteen, 2020), 'n aanlyn grammatika wat fokus op Nederlands, Fries en Afrikaans. Die Afrikaanse afdeling van dié grammatika is onder redaksie van Gerhard van Huyssteen saamgestel deur elf ervare en gerekende Afrikaanse taalkundiges, en bied 'n uitgebreide en gesaghebbende wetenskaplike oorsig van die sintaksis, morfologie, fonetiek en fonologie van Afrikaans, gebaseer op vergelykings met die grammatikale vlakke van twee ander Wes-Germaanse tale - Afrikaans, Fries en Nederlands. Dié grammatika is in Engels geskryf en is gerig op 'n internasionale gehoor van taalkundiges en belangstellendes, met die doel om deeglike navorsing oor hierdie tale se grammatikas te ondersteun, aan te moedig en voortdurend uit te brei. Om die beskrywings van Nederlands en Fries te ontwikkel, het die Nederlandse Organisatie voor Wetenschappelijk Onderzoek (NWO) 'n bedrag van €1,7 miljoen bewillig aan die Taalportaal-konsortium, wat bestaan uit die Meertens Instituut, die Fryske Akademy, die Universiteit van Leiden en die Instituut voor Nederlandse Lexicologie. In samewerking met die konsortium het dit vinnig duidelik geword dat die projek ook 'n uitstekende geleentheid bied om 'n omvattende, vergelykende beskrywing van Afrikaans te skep, wat die taal internasionaal as 'n wetenskaplike studieveld kan bevorder (vergelyk VivA, 2024).
Die tweede bron, wat direk voortvloei uit die Taalportaal-grammatika, is 'n Afrikaanse grammatika wat in Afrikaans geskryf is en bekende navorsing uit bestaande grammatikabronne (soos Ponelis, 1979 en Van Schoor, 1983) asook aanvullende insigte uit moderne Afrikaanse korpusse insluit. Hierdie gratis, aanlyn beskikbare grammatika staan bekend as die VivA Afrikaansgrammatika en bestaan uit twee komponente: die Algemene Afrikaanse Grammatika (AAG) en die Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) (vergelyk Breed, 2020). Hierdie tweedelige grammatika word op VivA se Taalonderrigportaal (www.viva-afrikaans.org) aangebied en is spesifiek ontwikkel vir voor- en nagraadse studente en dosente in Afrikaanse taalkunde. Die projek behels die samewerking van vyftien gevestigde en opkomende Afrikaanse taalkundiges en bied omvattende beskrywings van die woordklaskategorieë en grammatika van Afrikaans.
In die sewende fase van die ontwikkeling van Afrikaanse taalkunde maak taalkundiges dus gebruik van beide tradisionele en digitale metodes. 'n Nuwe generasie jong navorsers, wat veral op rekenaargebaseerde navorsing fokus, kom na vore en ontsluit nuwe terreine binne die veld. Die Afrikaanse taalwetenskapgemeenskap is relatief klein, en die navorsingsuitset van 'n spesifieke gebied word sterk beïnvloed deur die produktiwiteit van individuele navorsers wat op daardie spesifieke studieveld fokus. Tabel 1 bied 'n lys van taalkundiges aan wat volgens data wat uit die DBAT vir hierdie tydperk onttrek is (Breed & Bosman, 2024), gereken kan word as belangrike toetreders tot die Afrikaanse taalkunde in die sewende fase van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde as studieveld.
Wanneer ons die inligting vervat in Tabel 2 en Tabel 3 met mekaar vergelyk, is dit opmerklik hoe die Afrikaanse taalkunde in die laaste twee dekades gegroei het ten opsigte van die vakgebiede wat ondersoek word, asook die getal taalkundiges wat aktief aan die Afrikaanse taalkunde deelneem. Dit is ook duidelik dat sommige Afrikaanse taalkundiges 'n langdurige en gevestigde loopbaan in die Afrikaanse taalkunde het, en as prominente taalkundiges vir die tydperk 1994 tot 2024 gereken kan word.
Die internasionalisering van Afrikaans as vakgebied blyk duidelik uit Tabel 2. Waar slegs drie internasionale taalkundiges uit die tydperk 1994-2005 as taalkundiges gereken kan word wat gereeld oor Afrikaanse taalkundeonderwerpe publiseer, verskyn daar in Tabel 3 die name van meer as 15 internasionale taalkundiges wat in die tydperk 2005-2024 taalkundige navorsing oor Afrikaans doen. Dit impliseer 'n daadwerklike, groeiende belangstelling in Afrikaans as fokus van taalkundenavorsing.
3. Slot
In hierdie artikel is aangetoon dat die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde sewe onderskeibare fases toon - elk met sy eie vlak van ontwikkeling. Ten spyte daarvan dat Afrikaans op verskeie vlakke onder druk is en dat Afrikaanse departemente by Suid-Afrikaanse universiteite aan die krimp is, toon hierdie oorsig dat die Afrikaanse taalkunde 'n gesonde vakgebied bly wat boonop groei ten opsigte van subdissiplines en die aantal opkomende en gevestigde navorsers wat binne die vakgebied werksaam is, beide op nasionale en internasionale vlak.
ERKENNING
Ek wil graag Me. Roné Wierenga, medewerker aan die DBAT, en Me. Elize van Eldik van die NWU se Ferdinand Postma Biblioteek bedank vir die DBAT-inligting wat hulle verkry en aan my beskikbaar gestel het.
BIBLIOGRAFIE
Alberts, M. 1988. Gerekenariseerde taaldokumentasiedatabasisse: DOCNET-projek in die LEXINET-program. Pretoria: RGN. [ Links ]
Berry, DM. 2012. Introduction: Understanding the Digital Humanities. In Berry, D (ed.). Understanding Digital Humanities. London: Palgrave Macmillan, pp. 1-20. doi: 10.1057/9780230371934_1. [ Links ]
Boshoff, SPE. 1921. Volk en Taal van Suid-Afrika. Pretoria: Dusseaux / Amsterdam: JH de Bussy. [ Links ]
Boshoff, SPE. 1951. Die vaktaalburo van die Suider-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, 11(1):6-21. [ Links ]
Boshoff, SPE. 1965. Etimologie. Taalfasette, 1:7-19. [ Links ]
Bosman, DB. 1923. Oor die Ontstaan van Afrikaans. Amsterdam: Swets & Zeitlinger. [ Links ]
Botha, RP. 1978. Generatiewe taalondersoek: 'n sistematiese inleiding. Kaapstad: HAUM. [ Links ]
Botha, TJR. 1989. Afrikaans sedert die negentiende eeu. In Botha, TJR, Ponelis, FA, Combrink, JGH & Odendal, FF. (reds.). Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 127-154. [ Links ]
Breed, A (red.). 2020. VivA se Afrikaansgrammatikas. Virtuele Instituut vir Afrikaans. https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal. [ Links ]
Breed, A & Bosman, N. 2024. An introduction to Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives. In Carstens & Bosman (eds). Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives. Cape Town: Sun Media, pp. 13-41. [ Links ]
Breed, A, Carstens, WAM & Olivier, J. 2016. Die DBAT: 'n Onbekende digitale taalkundemuseum. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2-1):391-409. [ Links ]
Burdick, A, Drucker, J, Lunenfeld, P, Presner, T & Schnapp, J. 2012. Digital Humanties. Cambridge: MIT Press. [ Links ]
Carney, TR & Bergh, L. 2014. 'n Taalkundige perspektief op woordeboekgebruik in die hof: die woordeboek as toevlugsoord. LitNet Akademies, 11(2):23-64. [ Links ]
Carstens, WAM & Raidt, EH. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika (Vol. 2). Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Changuion, ANE. 1844. De Nederduitsche Taal in Zuid-Afrika hersteld: zijnde eene handleiding tot de kennis dier taal, naar de plaatselijke behoefte van het land gewijzigd. Kaapstad: JH Collard. [ Links ]
Cloete, I. 1990. 'n Sintaktiese ontleder vir onderrig in rekenaarlinguistiek. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 30(2):100-110. [ Links ]
Coetzee, JCN. 1983. Dialektiese woordeskatverskynsels in die Hardeveld en Namakwaland en Hottentotswoorde wat besig is om uit hierdie streektaal te verdwyn. Unie, 79(12):311-313. [ Links ]
Combrink, JGH. 1990. Afrikaanse morfologie: capita exemplaria. Pretoria: Academica. [ Links ]
Combrink, JGH & De Stadler, LG. 1987. Afrikaanse fonologie. Johannesburg: Macmillan. [ Links ]
De Bruto, HF & Wissing, DP. 1974. Aspekte van 'n Afrikaanse TG-fonologie (No. 4: Taalkunde vir vandag). Johannesburg: McGraw-Hill. [ Links ]
De Klerk, GJ. 1968. Stand van Afrikaanse taalkunde en bronnegids. In Van der Merwe (red.). Afrikaans: sy aard en ontwikkeling. Pretoria: Van Schaik, pp. 282-295. [ Links ]
De Saussure, F. 1916. Cours de linguistique générale. (éd. de Sechehaye, A & Riedlinger, A). Paris: Payot. [ Links ]
De Stadler, LG. 1989. Afrikaanse semantiek. Johannesburg: Southern Book Publishers. [ Links ]
De Villiers, M. 1975. Die semantiek van Afrikaans. Kaapstad: HAUM. [ Links ]
De Villiers, M. 1977. Die plek van die normatiewe in die taalwetenskap. Taalfasette, 22(3):1-9. [ Links ]
Dirix, P & Augustinus, L. 2020. Bootstrapping the Extension of an Afrikaans Treebank through Gamification. Presentation delivered at the Computational Linguistics in the Netherlands (CLIN30) Event, Utrecht. [ Links ]
Dong, D & Chen, M-L. 2015. Publication trends and co-citation mapping of translation studies between 2000 and 2015. Scientometrics, 105(2):1111-1128. doi: 10.1007/s11192-015-1769-1. [ Links ]
Du Plessis, H & Du Plessis, T (reds.). 1987. Afrikaans en Taalpolitiek: 15 opstelle. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewers. [ Links ]
Du Plessis, HGW. 1986. Om Afrikaner en Afrikaans te wees. Woord en Daad = Word and Action, 26(292):5-8. [ Links ]
Du Plessis, T. 1992. Veranderende opvattings rondom Afrikaans sedert die sewentigerjare. In Webb (red.). Afrikaans ná apartheid. Pretoria: Van Schaik, pp. 91-115. [ Links ]
Du Toit, PJ. 1905. Afrikaansche studies. PhD-proefskrif. Gent: Rijksuniversiteit. [ Links ]
Du Toit, SJ. 1902. Fergelijkende Taalkunde fan Afrikaans en Engels = Comparative Grammar of English and Cape Dutch. 2de hersiene uitgawe. Paarl: Du Toit. [ Links ]
Eksteen, LC. 1983. Objek en metode in die Afrikaanse Taalwetenskap: 'n historiese oorsig. In Eksteen, L & Pretorius, R (reds.). Afrikaans: Objek en Metode. Pretoria: Van Schaik, pp. 3-39. [ Links ]
Eksteen, LC. 1984. Aspekte van Afrikaanse woordgebruik in die Saldanhabaai-omgewing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 24(4):289-308. [ Links ]
Franken, JLM. 1953. Taalhistoriese bydraes. Kaapstad: Balkema. [ Links ]
Genootskap van Regte Afrikaners. 1882. Eerste beginsels van di Afrikaanse taal. 2de druk. Paarl: DF Du Toit & Co. [ Links ]
Grundlingh, L. 2015. Outeuridentifikasie: 'n Forensies-taalkundige ondersoek na Afrikaanse SMS-taal. LitNet Akademies, 12(3):143-175. [ Links ]
Hesseling, DC. 1899. Het Afrikaans. Leiden: NV Boekhandel & Drukkerij. [ Links ]
Hofmeyr, I. 1984. Building a nation from words. Johannesburg: University of the Witwatersrand. [ Links ]
Holm, P, Jarrick, A & Scott, D. 2015. Humanities World Report 2015. London: Palgrave Macmillan. [ Links ]
Hoogenhout, NM. 1904. Praktisches Lehrbuch der Kapholländischen Sprache (Burensprache): Sprachlehre, Gespräche, Lesestücke und Wörterbuch. Wien: Hartleben. [ Links ]
Jenkinson, AG. 1991. Strukturalistiese en generatiewe benaderings tot die morfologie: 'n metodologiese vergelyking. Acta Academica 23(3):120-138, Aug. [ Links ]
Kempen, W. 1969. Samestelling, afleiding en woordsoortelike meerfunksionaliteit in Afrikaans. Kaapstad: Nasou. [ Links ]
Kirschenbaum, M. 2012. What Is Digital Humanities and what's it doing in English Departments? In Gold, MK (ed.). Debates in the Digital Humanities. Minnesota: University of Minnesota Press, pp. 3-11. [ Links ]
Kolbe, P. 1727. Naaukeurige en uitvoerige beschryving van de Kaap de Goede Hoop... Alles, geduurende een lang verblyf aan de gemelde Kaap, na waarheit beschreven. Amsterdam: Lakeman. [ Links ]
Kotzé, EF. 2007. Die vangnet van die woord: forensies-linguistiese getuienis in 'n lastersaak. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 25(3):385-399. [ Links ]
Kotzé, H. 2020. Interpreting research in South Africa: A bibliometric study. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 59:45-60. doi: 10.5842/59-0-830. [ Links ]
Kotze, H & Wierenga, R. 2021. 'n Oorsig oor die ontwikkeling en waarde van Interpreting Research in South Africa (IRSA). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(4-2):1397-1415. [ Links ]
Le Roux, JJ. 1923. Oor die Afrikaanse sintaksis. Amsterdam: Swets & Zeitlinger. [ Links ]
Le Roux, TH. 1912. Heeft het Afrikaans een grammatika? Die Brandwag, 1 Sept., pp. 213-214. [ Links ]
Le Roux, TH & Pienaar, P de V. 1925. Afrikaanse fonetiek. Kaapstad: Juta. [ Links ]
Le Roux, TH & Pienaar, P de V. 1945. Uitspraakwoordeboek van Afrikaans. Pretoria: JL van Schaik. [ Links ]
Lichtenstein, H. 1811. Reisen im Südlich Afrika in den Jahren 1803,1804,1805 und 1806 (Lichtenstein 's travels). Berlin: Salfeld. [ Links ]
Loubser, JE & Du Toit, SJ. 1980. Eerste Beginsels van die Afrikaanse Taal, en, Fergelijkende Taalkunde fan Afrikaans en Engels. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Louw, PE. 2004. Anglicising Postapartheid South Africa. Journal of Multilingual and Multicultural Development, 25(4):318-332. doi: 10.1080/01434630408666535. [ Links ]
Malherbe, DF. 1924. Resensie: "Het Afrikaans: bydrage tot de geschiedenis der Nederlandse taal in Zuid-Afrika" deur DC Hesseling. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, 3(2):110-120. [ Links ]
Mentzel, OF. 1785-1787. Vollständige und zuverlässige, geographische und topographische Beschreibung des ... Afrikanischen Vorgebirges der Guten Hofnung. Glogau: Christian Friedrich Günther. [ Links ]
Molsbergen, G. 1916. Reizen in Zuid-Afrika in de Hollandse tijd. Deel II. Tochten naar het Noorden 1686-1806. Den Haag: Martinus Nijhoff. [ Links ]
Nienaber, GS. 1934. Oor die Afrikaanse taal. 'n Bydrae oor sy ontwikkeling na aanleiding van enige versterkingswyses. Amsterdam: Swets & Zeitlinger. [ Links ]
Odendal, FF (ed.). 1978. Gesag en norm in die taal- en letterkunde. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit. [ Links ]
Ponelis, FA. 1968. Grondtrekke van die Afrikaanse sintaksis. Pretoria: JL van Schaik. [ Links ]
Ponelis, FA. 1979. Afrikaanse Sintaksis. Pretoria: JL van Schaik. [ Links ]
Ponelis, FA. 1989. Die aard en bestudering van die Afrikaanse taal. In Botha, JTR, Ponelis, FA, Combrink, JGW & Odendal, FF (reds.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Academica, pp. 9-37. [ Links ]
Ponelis, FA. 1993. The Development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang. [ Links ]
Puttkammer, MJ. 2014. Efficient development of human language technology resources for resource-scarce languages. PhD thesis (Linguistics and Literary Theory). Potchefstroom: North-West University, Potchefstroom Campus. [ Links ]
Raidt, EH. 1991. Afrikaans en sy Europese verlede. Kaapstad: Nasou. [ Links ]
Saal, E & Fourie, A. 2021. "dit en dat" en "al daai goed": 'n Korpuslinguistiese ondersoek na pragmatiese merkers in gesproke Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(1):1112-1128. [ Links ]
Scholtz, J du P. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
STATSSA (Statistieke Suid-Afrika). 2016. Gemeenskapsopname: Statistiese Vrystelling. http://cs2016.statssa.gov.za/wp-content/uploads/2016/07/NT-30-06-2016-RELEASE-for-CS-2016-_Statistical-releas_1-July-2016.pdf [22 Junie 2023]. [ Links ]
Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Steyn, JC. 1986. Nasionalisme en die politisering van taal en kultuur in die dertigerjare. Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat. [ Links ]
Steyn, JC. 1987. Trouwe Afrikaners: Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse Taalpolitiek. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Steyn, JC. 2014. 'Ons gaan 'n taal maak': Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal- Uitgewers. [ Links ]
Taljard, E & Bosman, N. 2015. Korpuslinguistiek en metafoorondersoek: moontlikhede en uitdagings met verwysing na kat- en hondmetafore in Afrikaans en Noord-Sotho. Voordrag tydens die Colloquium over het Afrikaans, UGent, Gent. [ Links ]
Van der Bijl, L & Van Wyk, HG. 1992. Sintaktiese ontleders in die rekenaarlinguistiek: die beginsels. South African Journal of Linguistics = Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 10(supplement 13):102-120. [ Links ]
Van der Merwe, HJJM. 1968. Die Afrikaanse spelling. In Van der Merwe (red.). Afrikaans: sy aard en ontwikkeling. Pretoria: Van Schaik, pp. 98-110. [ Links ]
Van der Merwe, HJJM. 1970. Herkoms en Ontwikkeling van Afrikaans: sds. 9 en 10. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. [ Links ]
Van der Merwe, HJJM. 1971. Vroeë Afrikaanse Woordelyste. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Van der Merwe, HJJM. & Dekker, L (reds.). 1963. Inleiding tot die taalkunde. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Van Doorslaer, L. 2016. Bibliometric studies. In Angelelli, CV & Baer, BJ (eds). 2016. Researching translation and interpretation. London & New York: Routledge, pp. 168-176. [ Links ]
Van Heerden, I & Bas, A. 2021. AfriKI: Machine-in-the-Loop Afrikaans Poetry Generation. In Proceedings of the First Workshop on Bridging Human-Computer Interaction and Natural Language Processing. [ Links ]
Van Huyssteen, GB. 2018. 'n Korpusondersoek na huidiglik. Literator 39(2):a1527. doi: 10.4102/lit.v39i2.1527. [ Links ]
Van Huyssteen, GB (red.). 2020. Taalportaal. https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-1581327776365425 [16 September 2024]. [ Links ]
Van Reenen, Willem. 1791-1792. Kaapse joernaal van Willem van Reenen. Ongepubliseerd. [ Links ]
Van Rensburg, FIJ, Malherbe, EFJ & Landman, KJH. 2001. Die Grondwet en veeltaligheid: Is veeltaligheid ons erns? Kaapstad: Die Vrydaggroep. [ Links ]
Van Rensburg, MCJ. 1984. Oosgrens-Afrikaans. In Van Rensburg, MC (red.). Die Afrikaans van die Griekwas van die tagtigerjare. Bloemfontein: RGN. [ Links ]
Van Rensburg, MCJ. 1984-1986. Die Afrikaans van die Richtersveld. Pretoria: RGN. [ Links ]
Van Rensburg, MCJ. (red). 1984. Finale verslag van 'n ondersoek na die Afrikaans van die Griekwas van die tagtigerjare. Pretoria: RGN. [ Links ]
Van Rooy, B. 2017. Die Afrikaanse taalkunde van toeka tot nou. In Carstens, WAM & Bosman, N (reds.). Kontemporêre Afrikaanse taalkunde. Pretoria: Van Schaik, pp. 1-26. [ Links ]
Van Rooy, B & Pienaar, M. 2006. Trends in recent South African linguistic research. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 24(2):191-216. [ Links ]
Van Schoor, JL. 1983. Die grammatika van standaard-Afrikaans. Kaapstad: Lex Patria. [ Links ]
VivA. 2024. Afrikaansgrammatika (AAG en ASG). https://viva-afrikaans.org/portale/taalonderrigportaal/afrikaansgrammatika. [ Links ]
Webb, VN. 1993. Language policy and planning in South Africa. In Grabe (ed.). Annual Review of Applied Linguistics XIV. Cambridge: Cambridge University Press, pp. 254-273. [ Links ]
Webb, VN. 1995. A sociolinguistic profile of South Africa: a brief overview. In Webb (ed.). Language planning for a post-apartheid South Africa. The LiCCA (South Africa) report. Pretoria: University of Pretoria, pp. 15-40. [ Links ]
Wissing, DP. 1982. Algemene en Afrikaanse generatiewe fonologie. Johannesburg: Macmillan. [ Links ]
Ontvang: 2024-09-18
Goedgekeur: 2025-01-05
Gepubliseer: Maart 2025
Adri Breed, 'n NNS-gegradeerde navorser, is 'n medeprofessor in beskrywende Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy spesialiseer in sintaksis en semantiek, met 'n besondere fokus op die konstruksionalisering van Afrikaans en ander Wes-Germaanse konstruksies. Sy voltooi vyf grade aan die NWU, insluitende 'n graad in Bedryfskommunikasie (BBk - 2005), 'n graad in Teologie met Antieke Tale (BTh Tale - 2005), 'n Honneursgraad in Afrikaanse Taalkunde (BA Hons - 2007), 'n Magistergraad in Afrikaanse Letterkunde (MA - 2007), en 'n PhD in Afrikaanse Taalkunde (2012). Gedurende haar doktorale studie spandeer sy ongeveer tien maande aan die Universiteit van Antwerpen, België. Sy is tans die Adjunkdirekteur van die Skool vir Tale (Potchefstroomkampus) aan die NWU. Adri is een van die outeurs en moderators van Taalportaal (www.taalportaal.org) en het as eindredakteur vir die Afrikaansgrammatika van die Virtuele Instituut vir Afrikaans gedien (2020-2024).
Adri Breed, an NRF-rated scholar, is an Associate Professor of Afrikaans Descriptive Linguistics at North-West University's Potchef-stroom Campus. She specialises in syntax and semantics, with a particular focus on the constructionalisation of Afrikaans and other West Germanic constructions. She holds five degrees from NWU, including a degree in Business Communication (BBk - 2005), a degree in Theology with Languages (BTh Languages -2005), an Honours degree in Afrikaans Linguistics (BA Hons. - 2007), a Master's degree in Afrikaans Literature (MA - 2007), and a PhD in Afrikaans Linguistics (2012). During her doctoral studies, she spent approximately ten months at the University of Antwerp, Belgium. She is currently the Deputy Director of the School of Languages (Potchefstroom Campus) at NWU. Adri is one of the authors and moderators of Taalportaal (www.taalportaal.org) and served as the editor-in-chief for the Virtual Institute for Afrikaans's Afrikaans Grammar (2020-2024).
1 "Afrikaanse taalkunde" verwys na die wetenskaplike studie van die Afrikaanse taal as studieonderwerp. Hierdie vakgebied sluit die ontwikkeling van Afrikaans as 'n onafhanklike taal in, en word ondersoek vanuit verskeie perspektiewe: (1) 'n diachroniese perspektief, wat fokus op die historíese ontwikkeling en ontstaan van Afrikaans; (2) 'n beskrywende perspektief, wat die grammatikale strukture en konstruksies van die taal analiseer; en (3) 'n toegepaste perspektief, wat die gebruik en toepassing van die taal in praktyk, soos in taalonderrig, kommunikasie of tegnologie, ondersoek.
2 Bibliometriese navorsingsmetodes poog om navorsingsuitsette te meet en te ontleed (Van Doorslaer, 2016:168), met behulp van bibliografiese inligting as hul primêre databron (vergelyk Dong & Chen, 2015:1112). Volgens Kotzé (2020:46) en Kotzé en Wierenga (2021:4) kan navorsers hierdie metode gebruik om verskeie veranderlikes, soos publikasietellings, te oorweeg en akademiese literatuur en die impak daarvan kwantitatief te bestudeer.
3 Die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) is 'n omvattende databasis van materiaal rakende Afrikaanse taalkunde, wat deur die Vakgroep Afrikaans en Nederlands van die Noordwes-Universiteit in Suid-Afrika begin is en steeds onderhou word. Die DBAT bevat tot op hede meer as 18 000 gekatalogiseerde bronne, waarvan 'n groot gedeelte ook digitaal toeganklik is deur skakels op die platform. Navorsers kan die DBAT gebruik om 'n wye verskeidenheid Afrikaanse taalkundige bronne direk en elektronies te verkry, van vroeë 18de-eeuse werke tot onlangse publikasies. Hoewel die bibliografie weekliks bygewerk word, is volledigheid nie gewaarborg nie, aangesien dit afhang van data wat die projekspan deur beskikbare navorsingskanale kan bekom. Die omvang van die DBAT word ook beïnvloed deur die vakgroep se personeelkapasiteit en beskikbare finansiële hulpbronne tydens 'n bepaalde tydperk (sien ook Breed, Carstens & Olivier, 2017 vir 'n verdere beskrywing van hierdie hulpbron).
4 'n Gedeelte van Breed & Bosman (2024) is op versoek van die redakteurs van hierdie spesiale uitgawe vertaal na Afrikaans en met verdere inligting bygewerk tot 'n selfstandige artikel.
5 Die doel van hierdie tweeledige metode is om 'n so genuanseerde en objektiewe beeld as moontlik van die ontwikkeling van die Afrikaanse taalkunde te skets. Hierdie benadering het egter 'n leemte, aangesien dit nie rekening hou met die moontlike belangrike invloed van spesifieke individúe (soos dosente wat taalkundeklasse in 'n universiteitskonteks aanbied), bepaalde vakgroepe, departemente, instellings of selfs spesifieke bronne op die ontwikkeling van die vakgebied nie. Verder is hierdie studie afgebaken tot die ontwikkeling van Afrikaanse taalkunde en bespreek dit nie die ontwikkeling van die Algemene Taalwetenskap in Suid-Afrika nie, hoewel laasgenoemde 'n beduidende invloed op Afrikaanse taalkunde kon hê. Hierdie aspek sou in toekomstige navorsing ondersoek kon word.
6 Die term "coloured" word amptelik deur die Suid-Afrikaanse regering gebruik (sien STATSSA 2016) om hierdie groep te onderskei van die drie ander groot bevolkingsgroepe in Suid-Afrika (nl. swart, wit en Indiërmense), en die term "bruin" word as Afrikaanse vertaling van hierdie term verkies.
7 Raadpleeg Du Toit (1902) vir publikasie-inligting van die hersiene tweede uitgawe.
8 Sommige Afrikaanse taalkundiges het skynbaar uitsluitlik onder hul vanne en voorletters gepubliseer. Ander taalkundiges het af en toe hul voorname of volle name gebruik wanneer hulle publiseer. Waar dit geredelik moontlik was om die taalkundiges se voorname of doopname te vind, is dit so aangedui in die artikel. Andersins word slegs die voorletters en vanne van die taalkundiges in die tabel aangebied.
9 Vroulike taalkundiges wat op Afrikaans werk, word met skuinsdruk aangedui in die tabel (kyk §2.6 vir 'n verdere bespreking hieroor).
10 Kolbe (1727) is die oudste bron wat op die DBAT gekatalogiseer is (sien §2.1).
11 Internasionale taalkundiges wat oor Afrikaans werk, word met 'n asterisk aangedui in die tabel.