Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a8
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
'n Historiese oorsig van die deurlopende taalont-wikkeling in Afrikaans sedert 1916 in Huisgenoot
A historical overview of continuous language development in Afrikaans in Huisgenoot since 1916
Angélique van Niekerk
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: vnieka@ufs.ac.za. Orcid: https://orcid.org/0000-0002-8233-2441
OPSOMMING
Die artikel verskaf 'n datagedrewe oorsig van die kontinue taalontwikkeling van die taalgebruik in gedrukte Afrikaanse advertensies gedurende 'n relatiewe kort (historíese) tydspan in twee tydvakke. Advertensies is ewekansig geselekteer vanaf die eerste uitgawe van die tydskrif, Huisgenoot met 'n vyfjaarinterval terugwerkend vanaf 1924 tot Januarie 2024. Die data sluit ook die eerste uitgawe in 1916 in. Historiese taalkundenavorsing strek normaalweg oor 'n langer tyd as 100 jaar. Opmerklike en kontinue taalontwikkeling is opgeteken in 1916-1949 en 1994-2024.
Ten spyte van debatte oor die proses van standaardisering en puristiese en dualistiese teorieë oor die prosesse wat opgebou het ná 1925 (toe Afrikaans as een van drie landstale amptelike erkenning verkry het), bevat die data waarna verwys word in afdeling vier (en die addendum) 'n belangrike historiese korpus wat ook relevant is vir toekomstige ondersoek na taalverandering.
Die data het byvoorbeeld die volgende opmerklike veranderinge op taalvlak getoon:
• opvallend meer grammatikale variasie en Nederlandse invloed uit die versamelde data in tydvak 1 (afdeling D) is deel van die data ten opsigte van lidwoordgebruik; die vorm van die adjektief; die vorm van die werkwoord en wisselende vorme van voornaamwoorde (afdeling A en D van die analises) in tydvak 1 (tot 1949) in vergelyking met tydvak 2 (sedert 1994));
• veel meer sinsvlakinkortings (onderleksikalisering) is ingesluit in die data (addendum) in tydvak 2 (afdeling D) as in tydvak 1;
• toenemende informaliteit en minder hoflikheid in tydvak 2 (afdeling A van die datastel en analises) is opmerklik as tydvak 1 en 2 vergelyk word;
• toenemend meer talige kreatiwiteit en taalspel is in tydvak 2 gelys (afdeling E van die addendum) as in tydvak 1;
• aanwesigheid van taalvermenging met taalitems uit die Afrikatale in tydvak 2 in afdeling F is opvallend in die addendum;
• sigbare afname word getoon in Nederlandse invloed op die vlak van spelling, in kategorie B in tydvak 1 sedert 1916 (1916-1949) en bykans geen opmerklike Nederlandse invloed in dieselfde kategorie van die data is opgemerk in die tweede tydvak (sedert 1994 en tot 2024) nie.
Trefwoorde: Taalontwikkeling, taalverandering, hoflikheid, spelling, woordeskat, grammatika, talige kreatiwiteit, taalvermenging, sosiale en psigologiese aspekte, kontekstuele verandering
ABSTRACT
The article offers a data-driven overview of the continuous language development in printed Afrikaans advertisements during a relatively short (historical) time span. Advertisements were selected from the first edition of the Huisgenoot magazine in a five-year interval dating from 1924 to January 2024. The very first edition of the magazine in 1916 is also included.
Research within historical linguistics normally spans a much longer time than 100years. The chosen data from a young language, Afrikaans, however, offers an interesting view on especially the following categories in which data were listed as examples of continual language change (development), namely politeness, pronoun use (including forms of address), spelling, vocabulary, grammar (including sentence structure, articles, form of the adjective and verb), linguistic creativity (language play) and code-switching.
Noticeable and continual language change (development) was studied with respect to the periods 1916 to 1949 and 1994 to 2024 respectively. Despite the debates on the process of standardisation and the purist and dualistic theories used in this process that were followed up to 1925 (when Afrikaans obtained official status as one of three languages in South Africa) the written and standardised form of Afrikaans in the mainstream media in 2024 offers a point of reference for interpreting the data (timeframe one vs. timeframe two) in this overview. The data captured in section four (and the addendum) include an important historical corpus relevant to possible future investigation of language change.
The data have indicated the following noteworthy changes on a language level:
• In timeframe 1 (1916-1949), more grammatical variation is noticed in terms of the use of articles, the form of the adjective, the form of the verb (tenses), and the use of the personal pronoun - sections A and D of the analysis.
• More shortened sentences (under-lexicalisation) can be identified in the second timeframe (1994-2024) compared to the first timeframe in section D of the analysis.
• Continuous renewal on the lexicon level (section C of the analysis) in both timeframes studied (1916-1949 and 1994-2024) is noticed.
• An increased informality and less politeness (section A of the analysis) in timeframe 2 compared to timeframe 1 (1916-1949) can be mentioned.
• There is noticeably more language creativity and wordplay in timeframe 2 (section E of the analysis) than in timeframe 1.
• Only in the second timeframe (1994-2024) code-switching with the African languages is included (section F of the analysis).
• Dutch influence on Afrikaans decreased in the first timeframe since 1916 (1916-1949), and almost no noticeable Dutch influence in the second time frame (since 1994) can be seen.
• There is no variation in spelling in the second timeframe (1994-2024) of the analysis.
Exact examples of the data (examples divided by semicolons) are copied from the advertisements in the addendum (link) of this article to reflect the above trends within each category of analysis.
It is evident from the literature study that the sociolinguistic and psycholinguistic aspects of change will be reflected on a language level. This includes, for example, the way in which communication was carried out regarding the following aspects in the two selected timeframes: (1) gender roles and social status; (2) views held about physical appearance; (3) language pride and literature; (4) cultural world and daily life; (5) career, world of work (further) education; (6) the land (earth) and culture; (7) nation and ethnicity; (8) role of farmers; land and earth; (9) communication practice; and (10) financial practice.
Change is an inherent quality of any living organism, such as a tree, and Afrikaans displays the qualities of an organism that is very much alive. Language change in general (that is, in all languages) makes it evident that a continuous push and pull between disruption and restoration is part and parcel of a living language as is evident from the data (link in the addendum). Language change and development cannot be stopped ifa language is used as is evident from the Huisgenoot data.
Keywords: Language development, language change, politeness, spelling, vocabulary, grammar, language creativity, language mixing, psychological and social aspects, contextual change
1. Inleiding
Navorsing in historíese taalkunde, ook wat Afrikaans betref, beslaan normaalweg 'n veel langer tydvak as 100 jaar. Vergelyk in dié verband die navorsing oor Afrikaans se ontwikkeling en geskiedenis deur onder andere die volgende navorsers wat in meerdere publikasies hieroor gepubliseer het. Enkele bydraes van die navorsers met volledige publikasiebesonderhede is in die bronnelys ingesluit: Edith Raidt, Jac Conradie, Christo van Rensburg, Theo du Plessis, Jaap Steyn, Heinrich Grebe, Victor Webb, Fritz Ponelis, Wannie Carstens en Yvette Stoops. Steyn (1980) se Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans se omvattende oorsig van faktore wat die orentbring en/of uitsterf van standaardtale bepaal, is vandag steeds geldig.
Die geselekteerde en geskrewe datastel (Huisgenoot-gesinstydskrif sedert 19161) bied 'n interessante historíese oorsig op kontinue taalontwikkeling (-beweging), veral wat bepaalde aspekte (gelys in die analisegedeelte) betref, naamlik hoflikheid en voornaamwoordgebruik, spelling, woordeskat, grammatika, talige kreatiwiteit en taalvermenging. Die bevindinge sluit direk aan by die titel van Du Plessis (1986) se boek, Afrikaans in beweging, alhoewel dit in die boek in die eerste plek om taalpolitieke bewegings en die neerslag daarvan op taalvlak gaan.
Uit die datastel kan onderskryf word dat taalverandering onafwendbaar is ten spyte van die "long-standing custom of moaning about it" (Aitchison, 2013:3,4,15). Die aard van die proses van kontinue ontwikkeling het die ondersoek na advertensies uit Huisgenoot die afgelope 100 jaar gerig. Hieruit blyk die onbewuste beginsels en konvensies wat deur die taalgebruikers van die gebruiksvariëteit (soos vergestalt in die media en advertensies spesifiek) gevolg is/ word.
Aitchison se boek Language change (2013) vorm 'n belangrike teoretiese raamwerk om die ondersoek te rig, want:
1. Die optekening van taalverandering vereis 'n baie lang tydperk en beslis 'n tydperk langer as 100 jaar.
2. Sosiolinguistiese en psigolinguistiese veranderlikes is dikwels groot impetusse vir taalontwikkeling wat met verloop van 'n lang tyd wel talig neerslag kan vind en later as taalverandering kan reflekteer.
In die lig van bogenoemde twee aspekte word daar 'n toekomstige ondersoek voorsien wat juis fokus op die sosiolinguistiese en psigolinguistiese veranderlikes soos ook verantwoord kan word uit die ingeslote toeligting oor die uiteenlopende tekening van die onderskeie teikenmarkte in figuur 1 en 2. Die fokus val in die eerste plek hier op taalontwikkeling (tipies van 'n lewende taal) en nie taalverandering nie. Uit die bespreking van die genoemde voorbeelde word die sosiolinguistiese en psigolinguistiese veranderlikes ook duidelik aangestip.
Net soos Stoops (1972:50) bied dié ondersoek 'n oorsig waarin die gevolgtrekkings oor materiaalgebonde waarde beskik. Die ondersoek hoop om 'n oorsigtelik-historiese en datagedrewe perspektief te bied op die aard van kontinue taalontwikkeling in Afrikaans die afgelope 100 jaar op basis van geselekteerde (advertensie-)tekste in Huisgenoot. Navorsers soos Grebe (2010:207) lewer 'n pleidooi vir genoegsame stawende linguistiese data in sy artikel waarin hy die Oosgrenshipotese as teoretiese konstruk en bakermat van Standaard-afrikaans bevraagteken. Die omvangryke en volledige datastel waarna in paragraaf 4 van dié artikel verwys word, word as addendumskakel ingesluit (met kriptiese toeligting in hakies) in soverre dit relevant is vir die kategorisering. Voorbeelde word slegs met 'n kommapunt geskei in die addendum. Voorts is dié ondersoek nie gerig op taalverandering en/of 'n herbesoek van die taalgeskiedenis van Afrikaans nie, maar dit bied 'n gekategoriseerde én datagedrewe oorsig van die aard van kontinue taalontwikkeling van (Standaard-)Afrikaans in advertensietaal (Huisgenoot) die afgelope 100 jaar. Die datastel is tekenend van 'n lewende taal.
2. Teoretiese vertrekpunte
Daar is gepoog om die literatuurstudie te veranker en daarom te integreer met voorbeeldmateriaal uit die datastel alvorens die data volledig en gestruktureerd per kategorie (A-F) van ondersoek in afdeling vier van dié ondersoek (en in die addendum) ingesluit is.
Die volgende algemene beginsels tekenend van taalverandering word toegepas op dié datastel, gerig op die ontwikkeling in Afrikaans die afgelope 100 jaar.
2.1 Toepaslike konstrukte van taalverandering
Die konvensionele konstrukte waaruit taalverandering blyk, soos uitspraak, spelling, betekenis en sintaksis word oorsigtelik bespreek met meestal ook voorbeelde uit veral Engels soos dit oor eeue heen geblyk het. Daarna word in die volgende paragraaf spesifiek na Afrikaans verwys met die oog op die data-analise in paragraaf vier.
Uit vorige eeue en buite Afrikaans se grense is daar talle voorbeelde van die verset van mense teen taalverandering. Dit is iets wat Aitchison (2013:7-8) veral toeskryf aan die vooroordeel van bepaalde sosiale klasse wat ook verband hou met nostalgie en 'n algemene teësin in enige verandering, nie net taalverandering nie. Met verwysing na die taalgebruik in die tyd van Chaucer en Shakespeare skryf Aitchison (2013:14): "Purists behave as if there was a vintage year when language achieved a measure of excellence which we should all strive to maintain. In fact, there never was such a year." Die onmoontlikheid om die spesifieke "vintage year" te bepaal, speel noodwendig in op die feit dat Afrikaans wel op 'n bepaalde dag amptelike status gekry het, te wete 27 Mei 1925.2
Verandering aan woordeskatitems en betekenisverandering is aldus Aitchison (2013:17) die eerste ooglopende vlakke van verandering in 'n taal soos dit ook geblyk het die mees ooglopende kategorie van ontwikkeling uit die datastel te wees. Vergelyk in dié verband die totale betekenisverandering van die Engelse woorde "master" en "mistress" aanvanklik met verwysing na werkers ("servants"), terwyl dit vandag in terme van mans verwys na 'n vaardigheid en in terme van vroue verwys na seksuele gunsies. Om dieselfde redes dat populêre opinie veld wen, sal taal en taalgebruik ontwikkel om sodanige opinie te kan verwoord (Aitchison, 2013:17,18).
Aitchison (2013:21,24) wys op die rol van wisselende spelling in ou dokumente as 'n tipe "vergelykende rekonstruksie" ("comparative reconstruction") om byvoorbeeld die prototaal (byvoorbeeld tale met Indo-Germaanse herkoms) se ooreenkomste vas te pen. William Labov (1972:43-89), en spesifiek Ferdinand de Saussure (1959), het met hul ondersoeke die streng skeidslyne tussen die diachroniese en sinchroniese taalkunde afgebreek om taalontwikkeling op 'n bepaalde tyd ('n paar jaar-intervalle) aan te teken sodat daar deur linguiste op basis van dié data diachroniese ondersoek gedoen kan word, want taalgebruik, soos menslike lewe, is nie staties nie (Aitchison, 2013:43). Die bepaalde invalshoek wat hier gevolg is, sou om dié rede as panchronisties gesien kan word omdat die fokus op funksionele universalia, soos kognitiewe en eksperimentele patrone van (taal)gedrag (Lozowski, 2023:163), val. Die bestudering van bepaalde "veranderinge in proses" ("change in progress") soos verbind aan Labov sal aan die hand van Huisgenoot die afgelope 100+ jaar opgeteken word.
Veranderinge wat opgeval het in Huisgenoot wat betref informaliteit, styl en talige kreatiwiteit kan waarskynlik ook teruggelei word na die politieke en sosiale geskiedenis van Afrikaans soos opgeteken deur onder andere Steyn, met Tuiste in eie taal (1980), Theo du Plessis en Hans du Plessis, met die titel Afrikaans en taalpolitiek (1987), Kotzé en Kirsten in 2016 asook Carstens en Raidt se dubbelvolume met die titel, Die Storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika in (2017 en 2019). Simplisties gesien, is die fase voor die amptelike erkenning van Afrikaans die aanloop tot dié datastel in tydvak 1 (datastel: 1916-1949) van dié ondersoek. Dit sluit aspekte in soos taalkontak tussen talle Europese immigrante sedert veral 1652 in die Kaap de Goede Hoop, inheemse taalbeïnvloeding aan die Kaap, die verskillende historiese variëteite van Afrikaans soos Kaapse Afrikaans, Oosgrensafrikaans en Oranjerivierafrikaans en die gestandaardiseerde Nederlandse basis.
Tydvak 1 van dié ondersoek na taalontwikkeling moet gelees word teen die agtergrond van die eerste amptelike erkenning van Afrikaans as een van drie landstale in 1925 (onder Nederlands is ook Afrikaans ingesluit in die 1925-wetgewing), die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die gevolglike groeiende taaltrots onder 'n bepaalde deel van die sprekerskorps, asook projekte direk verbind aan taalontwikkeling, die ekonomiese opbou van die land, rassesegregasie en nasiebou.
In die tweede tydvak (datastel: 1994-2024) van dié ondersoek is die polities-sosiale aspekte ter sake agtergrond, byvoorbeeld die demokratisering van Afrikaans onder alle rassegroepe, die status van Afrikaans as een van 12 amptelike tale, strewes soos nasiebou, die herstandaardisering van Afrikaans en inklusiwiteit, ook op taalvlak. Hierdie sosiale aspekte, soos Aitchison (2013) dit noem, sal uiteindelik neerslag vind op taalvlak.
In die datastel uit Huisgenoot is daar duidelike spore van die veranderende rol en status van vroue op kulturele vlak. Dit vind neerslag op taalvlak, soos in die tweede tydvak van analise aangetoon sal word, wat onder andere betref die taalkeuses gerig aan vroue in tydvak 1 wat byvoorbeeld oormatige (en eiesoortige) adjektiefgebruik insluit. Vergelyk die verskil in spesifiek die talige aanslag (adjektiewe) in advertensies in dieselfde tydvak waarin sigarette vir mans (wenners van die stad) en vroue (fyn dames aan die sy van 'n ware heer) geadverteer word.
Mans (as teikenmark) in figuur 1 word voorgestel as kompeterend, in beheer van keuses, tuis in verskillende kontekste; en geregtig op hul ontspanning. Vroue in figuur 1 word (as mark) geteken met aandaggewend aan klein dingetjies in die lewe, die swakker geslag (wat rus benodig en nie kompetisie vir mans is nie) en soos dames lyk en optree.
Aitchison (2013:100,101) oordeel dat sintaktiese verandering 'n veel meer onopvallende proses is as byvoorbeeld klankmatige taalverandering. Soos met klankmatige verandering impliseer sintaktiese ontwikkeling variasie. Dit beteken dat die ou en nuwe vorm naas mekaar afwisselend gebruik kan word. Die data ingesluit uit 1924 in afdeling 4 van dié ondersoek is byvoorbeeld tekenend van die variasie en vorme wat naas mekaar bestaan. Variasie lei egter nie noodwendig tot verandering nie. Sosiale norme, soos inklusiwiteit (meer as een vorm) en die (groeiende) herstandaardiseringskonteks4 van Afrikaans, speel sedert 1994 'n belangrike rol. Sintaktiese variante sluip ongesiens in 'n taal in en die weglating van bepaalde (logiese) sinselemente (predikaat/subjek) en/of die weglating van 'n tweede ontkenningspartikel (soortgelyk aan wat ook in Frans gebeur het met die eerste partikel) word deur Aitchison (2013:107,109) genoem as die variante wat verandering te weeg kan bring. Verder word inkortings en verkortings genoem as vorme van grammatikale variasie wat veral toegeskryf word aan onder andere sosialemedia-kommunikasie.
Die weglatings en inkortings in 'n taal (vergelykbaar met snoeiwerk aan lewende organismes, soos bome, word soos volg verwoord: "Words, like cliffs, erode over time. Latin mea domina 'my lady' changed to French ma dame. French ma dame became madam. Madam has become ma'am, and even'm, as in Yes'm." (Aitchison, 2013:114). Sosiale norme, moderne (aanlyn) kommunikasie en spreektaalnorme dra by tot die sintaktiese snoeiwerk en inkortings wat aanvanklik slegs as variasievorme bestaan, maar mettertyd verandering kan te weeg bring soos blyk uit afdeling D in tydvak 2 (volledig ingesluit in die addendum) van die ondersoek.
"Texting", die oormatige gebruik van afkortings en die toenemende visuele vergestalting van die talige en inhoudelike van 'n teks is nie net visueel opvallend nie, maar is as verkortings 'n vorm van talige kreatiwiteit wat selfs in studentetake, poësie en advertensietaal neerslag vind.5 Talle ondersoeke is al gedoen oor aspekte soos SMS-taal, maar wat met betrekking tot die datastel opmerklik was, is die vorming en verval van nuwe woorde weens 'n verandering in die ekstra-linguistiese konteks. Ons taal is 'n noodwendige instrument om in die wêreld te funksioneer. Dit is die rede waarom 'n tienjarige vandag die woord "Wi-Fi" ken, maar nie weet waarna sy/haar oupa verwys as Oupa van die "hi-fi" praat nie.
Net soos wat sosiale norme deesdae bepaal dat ons meer informeel aantrek, sinjaleer die taalgebruik en moderne skryftaal van 'n jonger generasie in tydvak 2 (addendum): minder formaliteit en informele voornaamwoordgebruik, 'n informaliteit, byna asof mense (bemarkers) intiem bekend is met hul teikenmark - soos wat menige Suid-Afrikaners al van telebemarker-oproepe ondervind het.
Semantiese verandering word as vaag, strydig en moeilik om te voorspel geag en boonop kan pejoratiewe en amelioratiewe betekenisverandering enige tyd in enige rigting beweeg (Aitchison, 2013:128-129). Die betekenisaspek van verandering was nuttig om te ondersoek wat betref idiomatiese taalgebruik in die datastel. Betekenisverandering en polisemiese betekenisverbreding in 'n immer veranderende wêreld is 'n gegewe. Die Engelse werkwoord fall "val" kan byvoorbeeld polisemies ingespan word om te verwys na pryse wat val, 'n gesig wat val, 'n stad wat val (oorlog) en iemand wat aan die slaap raak (fall into sleep). Dit is 'n geleidelike verandering van betekenis met behoud van die oorspronklike betekenis (Aitchison, 2013:133-134). Die feit dat Afrikaans soveel nuwe woorde en nuwe vorme skep, is tekenend van 'n lewende taal en 'n taal wat in pas is met ontwikkeling, soos veral uit kategorie C van die gekategoriseerde datastel blyk.
Aitchison (2013:149) onderskei tussen twee tipes eksterne vreemde taalinvloed in 'n taal: substraatinvloed ("substratum") en ontlening ("borrowing"). Ter sake vir die ondersoek na taalontwikkeling in Afrikaans is die uitspraak dat nuwe taalaanleerders (toetreders tot die taalgemeenskap) die woordeskat van die nuwe taal grotendeels onveranderd laat (insluit) en dat die klank en sintaktiese patroon van die huistaal/eerstetaal dikwels oorgeplaas word na 'n nuwe taal. Die impak van taalontwikkeling in dieselfde datastel (addendum) op grammatiese vlak (eerder as woordeskatvlak) behoort vir toekomstige ondersoek interessanter verskuiwings en veranderinge te toon. Die taalontwikkeling op woordeskatvlak sou in die voorgestelde ondersoek waarskynlik met die sosiolinguistiese en psigolinguistiese veranderinge in verband gebring kon word.
Die sosiolinguistiese kwessie van behoefte en (funksie)verandering ("need and change") is uiters geldig in die datastel. Woordeskatverandering is opmerklik binne 'n korter tydbestek van dekades soos wat woorde in onbruik verval en ander benodig word. Aitchison wys tereg ook op die rol van politieke korrektheid wat in die geval van Afrikaans en die Suid-Afrikaanse konteks verder sal bydra tot taalontwikkeling waar bestaande taalvorme naas mekaar bestaan en/of mekaar geleidelik vervang as gevolg van 'n bepaalde ideologiese verskuiwing, byvoor-beeld agtergeblewenes en minderbevoorregtes, teenoor gemarginaliseerdes of gestremdes; mense met gestremdhede teenoor mense met fisieke uitdagings. Uitbreiding en/of spel met woordsoortelikheid ("conversions") sou op die rand van die kategorie val, maar die rede vir die ontwikkeling het te make met beide 'n versnelling in lewenspas soos dit uitspeel in korter stelswyses en ook die korter, kriptiese en kreatiewe aard van advertensiekommunikasie.
Die Engelse voorbeeld "Bettie upped her store" is tekenend van die spel met woord-soortelikheid ("up" as voorsetsel en werkwoord). Vergelyk ook 'n voorbeeld in die Afrikaanse sin, "Om werklik skoon te maak, moet jy net konsentreer" (gekonsentreerde skoonmaakproduk; spel met werkwoord en adjektief). In die datastel is talle voorbeelde van sintaktiese inkorting (afdeling D van tydvak 2) aangeteken wat enersyds te make het met 'n versnelde lewenspas en andersyds ook verband hou met die informeler aard van advertensietaal (Aitchison, 2013:154-155).
Wysiging in persoonlike voornaamwoorde en sinstruktuur (versagting/verdoeseling van die agent) is iets wat oor langer datastelle ook al vir Engels opgeteken is. Daar is byvoorbeeld 'n verskil in hoflikheid tussen "Jy moet binne 30 dae betaal" teenoor "Betaling binne 30 dae sal waardeer word". In die datastel is voorbeelde te make met hoflikheid en voornaamwoord-gebruik ingesluit.
Die rol van eufemisme in taalontwikkeling blyk duidelik uit die veranderende woordkeuse vet (dikwels gebruik in verband met vroue in tydvak 1 van die ondersoek) teenoor oorgewig, gesonde liggaam, ensovoorts.
Binne die sosiolinguistiek word daar, wat taalverandering betref, onderskei tussen ("deep") langtermynveranderinge en ("superficial") onmiddellike taalontwikkeling. Die veranderinge wat in die datastel opgeteken word oor die verloop van 100 jaar, ressorteer grotendeels onder die kategorie "superficial". Die oorsake van taalverandering lê op verskillende vlakke; die ooglopende is sosiale oorsake ("triggers") wat verband hou met interne psigolinguistiese veranderinge en eksterne sosiale veranderinge. Die eerste sigbare tekens van taalontwikkeling kan as "swak plek" ("weak point") of mode-item beskou word vir toegang tot groter sisteem-veranderinge op byvoorbeeld die vlak van sinstruktuur, uitspraak, ensovoorts. Net so wisselvallig as wat die modebedryf (klere, ontwerp, ensovoorts) is, so ad hoc is die ontwikkeling wat 'n reaksie is op 'n sosiale behoefte (Aitchison, 2013:160).
Die natuurlike geneigdheid van taalverandering toon die vermyding van herhaling, die skrapping van onnodige woorde en die behoud van 'n nabye verhouding tussen objek en werkwoord, iets wat duidelik opgemerk word in sosialemediakommunikasie en ook in die datastel; die skrapping van onnodige woorde is in kategorie D van die analises aangedui.
Die ikoniese aard van sosialemediakommunikasie, byvoorbeeld op WhatsApp, is algemene kennis en dit word deur Aitchison (2013:170-174) verbind met die natuurlike spieëlbeeldkarakter ("shadow") van taal en is inherent deel van hoe taal ook verander en/of ontwikkel. Aitchison gebruik kousaliteit (sinslogika/sinsopbou) en metafore as voorbeeld van die spieëling van taal. Dit is byvoorbeeld die rede waarom die volgende orde nie moontlik is nie: "Hy het onder die bus beland en oor die straat gehardloop."
Taal(gebruikers) het wel die vermoë om die nodige korreksie aan te bring om logika/ ekwilibrium te herstel en/of gapings in te vul.
Die instandhouding van 'n tuin (snoei, plant en bemes van 'n boom) word as metafoor deur Aitchison (2013:176) gebruik om taalverandering te beskryf. Soos in die geval van 'n tuin, staan aspekte wat nie vroeg aangepak word nie later op die voorgrond (soos 'n oorgroeide tuin).
Die sintaktiese vereenvoudiging van byvoorbeeld die weglating van die dubbele negatief blyk reeds 'n tendens te wees in Afrikaanse musiek en advertensietaal (al is ritme en kreatiwiteit ook rolspelers) in die unieke genre-aard.
"Exaptation", bedoelende die hergebruik van ou (taal)vorme met nuwe funksies, kan binne die konteks van sosiolinguistiek byna ikonies saamval met die globale groei in herwinningskultuur van ons alledaagse lewe wat byvoorbeeld motors, klere, meubels, enso-voorts insluit (Aitchison, 2013:187). Dit sluit in Afrikaans dinge in soos die gebruik van die woord perdekrag om (ten spyte van die afwesigheid van fisiese perde) in 2025 na 'n motor se enjinkapasiteit te verwys, of posbus wat in 2025 ook na iemand se elektroniese posbus (e-pos) verwys (en waarskynlik in Suid-Afrika teen 2025 byna nooit meer na die fisiese posbus in die straat verwys nie).
2.2 Taalontwikkeling in Afrikaans as deel van taalverandering
Die sosiale, maatskaplike en politieke veranderinge in Suid-Afrika (geskiedenis) soos simplisties gekaart op Carstens en Raidt (2017, 2019) vertel in twee dele "die storie van Afrikaans". Dié outeurs sowel as vele ander, onder andere JC Steyn (1980), MCJ van Rensburg (2021), FA Ponelis (1987), CJ Conradie (2017), LT du Plessis (1986, 1987), EF Kotzé (2016) en HP Grebe, (2010) het al die pad na standaardisering en die toenemende kontekstuele kompleksiteite rondom die afbakening van die bekende historiese variëteite geboekstaaf. Dit sluit in Van Rensburg (1984) se onderskeid tussen die historiese variëteite Kaapse Afrikaans, Oosgrensafrikaans en Oranjerivierafrikaans en die drie variëteite opgeteken deur Ponelis (1987), naamlik Suidwestelike, Noordwestelike en Oostelike Afrikaans. Die standaardiseringspad en herstandaardiseringsgesprekke val egter buite dié ondersoek alhoewel dit 'n noodsaak-like lens en agtergrond vorm in die optekening van die bevindinge en die slotgedagtes in dié ondersoek.
Conradie (2017) se oorsig van grammatiese veranderinge in Afrikaans, veral in vergelyking met Nederlands, word met voorbeelde uit die 1600's, 1700's en 1800's toegelig, maar dit is nie die fokus in die ondersoek waar ontwikkeling (die afgelope 100 jaar) in proses in die lewende taal Afrikaans aangeteken word nie (Conradie, 2017:67-76; 79-89). DB Bosman (1928:9, 13) noem in sy beskrywing van die ontstaan van Afrikaans reeds in hoofstuk 1 dat taalverandering gepaard gaan met of voorafgegaan word deur 'n verandering van die geestesgesteldheid van die gesamentlike sprekers en dat die proses duisende jare duur. Voorts sny dit aan by die bogenoemde gedagtes dat ontwikkeling 'n natuurlike en onafwendbare proses is: "Tog wen die jeug dit op den duur; die neiging tot ontwikkeling is sterker as die neiging tot behoud."
Vir die doel van die ondersoek na taalontwikkeling die afgelope 100 jaar in die genoemde datastel (Huisgenoot), word hier tydsgewys vertrek vanaf 'n veel later punt (die datastel strek vanaf 1916 tot 2024) as wat die geval is in tradisionele geskiedskrywing of in terme van bronne oor die genealogiese geskiedenis van Afrikaans. Die genoemde eerste tydvak tot 1949 (van dié ondersoek) kan taalhistories soos volg saamgevat word:
Sedert sy ontstaan in 1909 het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die spelling gestandaardiseer; van 1916 af word Afrikaans geleidelik as kerktaal gebruik en verdring dit in die Gereformeerde Kerke die tradisionele Nederlands; in dieselfde jaar word Afrikaans universiteitsvak en in die vroeë twintigerjare word dit stadigaan die onderrig-medium in die skole en universiteite. (Carstens & Raidt, 2019:439; vergelyk ook hoofstuk 16 in dié bron)
Conradie (2017:63-91) se resente nuttige en voëlvlug-oorsig van taalverandering in Afrikaans in Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde, se kategorieë van taalverandering en die gegewe voorbeelde van taalverandering was van groot waarde in die daarstel van 'n analise-raamwerk vir die bepaalde ondersoek met Huisgenoot (sedert 1916) as (resente) datastel.
Conradie en Groenewald (2017:57-60), soos Aitchison (2013), bevestig dat eksterne faktore en taaloordrag (tussen generasies en tussen tale) verreken moet word wanneer taalverandering bestudeer word. Soos reeds genoem, is die literatuur oor taalverandering dit eens dat honderd jaar nie 'n lang genoeg tydperk binne taalveranderingsondersoek is nie; is die ondersoek met 'n besondere datastel (a) 'n ontleding van die gevolg van taalontwikkeling en (b) nie 'n analise van taalverandering per se nie (vergelyk ook Aitchison, 2013:4). Binne die semantiek en sosiolinguistiek is die verband tussen taal en denke al meermale opgeteken.
Die aard van die kontinue taalontwikkeling in Afrikaans sedert 1916, ook op die vlak van denke, blyk veral sosiolinguisties en psigolinguisties verantwoord te kan word uit die datastel. Dit is daarom te verwagte dat 'n verskuiwing in denke op spesifiek woordvlak sal neerslag vind en dit sal in 'n opvolgondersoek met dieselfde oorhoofse datastel ondersoek word. Carstens en Raidt (2019:444-447) wys ook op die rol van veranderende lewensomstandighede, die natuurlike neiging tot taalekonomie en die rol van afwesige normatiewe en beperkende invloede (kerk, skool en staat) in taalverandering.
Die opgaaf van kenmerke oor die aard van taalverandering en die omvattende bronver-wysings oor taalverandering, spesifiek ook in Afrikaans, kan herbesoek word by monde van al die genoemde outeurs en spesifiek in die omvattende bronnelys van deel 2 van Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika (2017). 'n Historiese oorsig van taalverandering en spesifiek in Afrikaans val egter buite die fokus van die ondersoek gerig op die laaste 100 jaar en pas ook nie binne die ruimtebeperkinge van die artikel nie.
3. (Die) Huisgenoot as relevante datastel
Die blad is gestig as De Huisgenoot in 1916 en staan vanaf 1917 bekend as Die Huisgenoot. Vanaf 1977 word dit net Huisgenoot genoem. In dié artikel word daar net Huisgenoot gebruik. Sedert 1987 bestaan daar ook 'n Engelse sustertydskrif van Huisgenoot, naamlik You en met die aanbreek van die digitale era het Huisgenoot steeds sy enorme markaandeel ook aanlyn vergroot soos Rabe (2016:73-78) bevestig. Froneman (2004:63) lys tientalle van die mediagerigte en kultuur-historiese ondersoeke wat sedert 1930 al oor Huisgenoot gedoen is. Froneman (2004) se eie media-ondersoek na Huisgenoot (1916-2003) toon die fluktuerende dominansie van veral twee motiewe in Huisgenoot, naamlik idealisme en markgerigtheid.
Ondersoeke van Rabe in 2016, Froneman in 2004 en die boek van Weideman in 2015 oor Huisgenoot se 100-jarige bestaan, gee almal ter sake media- en geskiedkundige regverdiging vir die plek wat Huisgenoot as algemeen bekende en historiese Afrikaanse teks (met 'n beduidende leserstal) vertolk. Dit is daarom 'n ideale teks om die aard van taalontwikkeling in Afrikaans die afgelope 100 jaar te ondersoek. Dit is nie net die oudste Suid-Afrikaanse tydskrif nie, dit het in 2016 steeds die grootste leserstal van alle Suid-Afrikaanse tydskrifte gehad. In 1990 het die markaandeel byvoorbeeld getoon dat meer as 50% van alle Afrikaans-sprekendes Huisgenoot lees.
Rabe (2016:55) het op LitNet 'n idealisties-ideologiese analise van Huisgenoot as "skrif van sy tyd" gepubliseer. Haar ondersoek het gefokus op die mediageskiedenis van die blad in geheel waarin sy kon aandui hoe die blad ontwikkel en voldoen het aan die eise van sy tyd, van 'n Afrikanernasionalistiese kultuurblad van een eeu gelede tot die meer globale populêre blad van vandag. Die argument is ter sake vir die keuse van die blad se rol tot die vestiging, ontwikkeling en kodifisering van Afrikaans as skryftaal.
In Van Rensburg se boek oor die eerste 100 jaar van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2021) word daar op talle plekke (15 keer in die register) melding gemaak van die spanning tussen die behoud van die Nederlandse skryfkonvensie en die Afrikaanse spreektaal(-patroon) en die rol wat Huisgenoot ook in die beginjare van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS1-3) gespeel het. Die redakteur van Huisgenoot in dié tyd, prof. JJ Smith, het ook op die "Woordelyskomitee" ("Woordelijs-Kommissie" vir A WS 1 en 2) gedien en daar is meerdere kere in die 1920's in Huisgenoot verslag gedoen oor die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS 1-3) en opdaterings aan die skryftradisie in Afrikaans. Die redakteur van Huisgenoot was ten gunste van die Nederlandse skryfkonvensie.
Dié wisseling tussen die Nederlandse en Afrikaanse skryftradisie blyk duidelik uit dié ondersoek (1916-1949), kategorie C van tydvak 1 (Van Rensburg, 2021:121-138). In die 1920's het min Afrikaanssprekendes behoorlike skoling in Nederlands gehad en aan die ander kant was Afrikaans sonder algemene skryfreëls, wat heelwat skryfvryheid toegelaat het (Van Rensburg, 2021:27). Hierdie wisseling, in byvoorbeeld die los- en vasskryf van woorde, die gebruik van leestekens en wisselende spelling, blyk duidelik uit die ingeslote datastel in paragraaf 4 (tydvak 1) van die ondersoek.
Marais se 2017-artikel oor die aard van die verandering van die beeld van die vrou in Huisgenoot van 1963 en 2016 kan dien as agtergrond vir 'n toekomstige sosiale en psigologiese analise, omdat dit tekenend is van die veranderende rol van die vrou in 'n moderne samelewing van moeder en tuisteskepper na ook beroepsvrou.
Scholtz (2010:3) verwys pertinent na die tydperk waarin Huisgenoot gestig is in 1916, ná die Anglo-Boereoorlog (ABO), as 'n tydperk van breë kulturele ontwikkeling, spesifiek op die gebied van taal, letterkunde, kultuur en geskiedenis. Vergelyk ook die bevindinge in die laaste analise-gedeelte van dié ondersoek wat die sosiale en psigologiese kontekstuele veranderinge betref.
DB Bosman (1928:147-149) en die ander ondersoekers waarna hier bo verwys word, het al gewys op die impak van kindertaal (teenoor grootmenstaal) op die standaardisering van Afrikaans.
Volgens Bosman was die doelbewuste vereenvoudiging deur (Nederlandse) immigrante wanneer hul met die inheemse mense in Suid-Afrika gekommunikeer het, deel van die faktore waarom Afrikaans se ontwikkeling so anders as dié van Nederlands daar uitsien. Die gebruik van woorde soos "mengeltaal", "normaal", "afwyking", "krom Afrikaans" en "eienaardige Hollands" dwarsdeur Bosman se teks is tekenend van twee sake, naamlik (a) dat taalverandering (in Afrikaans) beskou is as iets wat skaad en die argument (b) dat die taalontwikkeling (in Afrikaans) nie met die ontwikkeling van Nederlands vergelyk kan word nie, omdat die kontekste van die twee tale sedert die 1700's so verskillend was.
Du Plessis (1943), Rabe (2016:61) en Hofmeyr (2012:446) wys op die impak van Huisgenoot op die psige van die (wit) Afrikaanssprekende soos dit neerslag gevind het in die beginjare tot in 1990. Baie moontlike woordkombinasies met "volk-" kom voor, byvoorbeeld "volkstemming, volkstroming, volkslewe, volksliefde, volkseenheid, volkshart, volkstoestand, volksbestaan, volksellende, volksgesind (Feesbylae, 1990), volkskerk, volksontwaking en volkstaak".
4. Data en metodologie
Daar het die laaste 15 jaar Afrikaanse ondersoek oor die aard van advertensietaal op LitNet Akademies, die Tydskrif vir Geesteswetenskappe en in die boek Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022: Carstens & Van Dyk (reds.)) verskyn. Ruimtebeperkinge maak dit onnodig om advertensiekommunikasie in Afrikaans weer hier aan te sny. Die genoemde bronne is ook in die bronnelys ingesluit.
Advertensies kan wel om bepaalde redes gemotiveer word as 'n geldige datastel vir dié ondersoek na taalontwikkeling weens: (a) die informele en snelveranderende aard van advertensiekommunikasie, (b) die oënskynlike intimiteit tussen bemarker en (teiken)mark in nabootsing van mondelinge kommunikasie, en (c) die vernuwende aard (kreatiwiteit) van advertensietaal teenoor sommige ander vorme van geskrewe taal.
4.1 'n Kwalitatiewe ondersoek en data-insameling
Die aanvanklike datastel het die eerste uitgawe van Huisgenoot elke vyfde jaar terugwerkend vanaf 2024 behels. Die Universiteit van die Vrystaat (UV/UFS) sowel as die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsinginstituut (NALN) in Bloemfontein het beide versamelings van die Huisgenoot-tydskrif sedert die eerste uitgawe. Die biblioteek aan die Universiteit van die Vrystaat se netjies gebinde kopieë met beskikbare werkruimte het dit haalbaar gemaak om die volledige skanderings binne die raamwerk (dataseleksie) te doen.
Hieruit is die datastel ter wille van haalbaarheid ewekansig verklein aan die hand van bepaalde soeknoemers6 om ontwikkelingspatrone te probeer naspoor in die genoemde ses kategorieë tussen die tweede tydvak (sewe tydskrifte: 2024, 2019, 2014, 2009, 2004, 1999 en 1994) en die eerste tydvak (sewe tydskrifte: 1949, 1944, 1939, 1934, 1929, 1924 en 1916. 1916 is ingesluit, want dit was die eerste uitgawe).
Die verskille tussen die twee tydvakke is in die slotbeskouing ingesluit. (Vergelyk ook in dié verband die soortgelyke uitdagings tot data-afbakening en ekserpering uit die ondersoek van Stoops (1972) met data ook uit Huisgenoot.)
Die talige analises (afdeling 4.4.1 en 4.4.2) fokus op die 15 uitgawes (ewekansig ingesamel) uit die totale aantal van 25 Huisgenote wat geskandeer is vir die loodsondersoek. Op basis van die talige tendense gemerk in die loodsondersoek en die kategorieë van taalontwikkeling en -verandering gelys in die literatuur (deur die genoemde outeurs vermeld in die literatuurstudie en bibliografie) is die kategorie-indeling (A tot F in tydvak 1 en tydvak 2) vir die data in afdeling vier saamgestel. Die uitdagings wat betref dataseleksie en die proses van dataverkleining uit so 'n omvangryke datastel as Huisgenoot is hoegenaamd nie uniek nie, soos wat Stoops (1972:1-4) ook meld.
Van elke tydskrif in die totale datastel is die voorblad en alle advertensies binne al die soeknoemers (soos gedefinieer) gelys en geskandeer.
4.2 Dataseleksie
Alle advertensies wat (a) produkte of dienste of aktiwiteite gerig op taal en kultuur bemark en/of (b) verwysings na taal en kultuur insluit, maar iets anders adverteer (byvoorbeeld skoene, sigarette, ensovoorts) binne die genoemde 5-jaar-intervalle is nagespoor vir insluiting in die oorhoofse datastel. Die volgende soeknoemers is gebruik vir insluiting: kultuurspesifieke stokperdjies en ontspanningsaktiwiteite (volkspelebyeenkomste, dansuitvoerings, toneelop-voerings, kunstefeeste, akteurs en kunstenaars); woordeboeke; uitgewers; mediahuise; boeke/ skrywers; musiek (opvoerings en instrumente); opvoedkundige instellings (skole en kolleges); klere en bykomstighede (mode); godsdiens (Bybel); enige taalspesifieke verwysings/inspelings (spreekwoorde en idiomatiese uitdrukkings); kos (resepte, kostradisies en produkte soos koffie en melktert); kulturele praktyke (troues, verlowings en begrafnisse).
Uit die advertensies is alle voorbeeldmateriaal (data) opgeteken waarna daar in afdeling 4 (figure) en in die addendum verwys word. Die omvang van die data en die sigbare veranderinge op sosiale en psigologiese vlak het dit gou duidelik gemaak dat 'n tweede ondersoek gedoen sal moet word, omdat alles nie in die bestek van een ondersoek gedek sal kan word nie. Hierdie artikel fokus net op die talige oorsig uit die datastel binne die genoemde kategorieë (A tot F) binne tydvak 1 (tot 1949) en binne tydvak 2 (sedert 1994). Alle advertensies uit Huisgenoot binne die bogenoemde soeknoemers (advertensies) en binne die genoemde twee tydvakke (1916-1949 en 1994-2024) is dus ingesluit as data in die ondersoek.
Conradie en Groenewald (2017:55-59) beskryf die tydperk 1925-1994 as die ontwikkelingsfase van Afrikaans en gee 'n nuttige oorsig van die eerste dekades in die geskiedenis van Afrikaans in die twintigste eeu. Vir die data-analise in tydvak 1 (van die gekose datastel) wat die sosiolinguistiese en psigolinguistiese aspekte betref, is veral die invoer van Afrikaans in die skole (1914), die eerste Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls (1917) en die gebruik van Afrikaans as kerktaal ter sake.
Die vooruitgang wat Conradie en Groenewald (2017:58) lys, is toepaslik vir die tweede tydvak (van die data) se analise en sentreer veral rondom internasionale belangstelling in aanleerderskursusse in Afrikaans, 'n tweede Afrikaanse streektaalwoordeboek in 2009 (Von Wielligh, 1925; Prinsloo, 2009) en die vlak van (talige) kreatiewe vergestalting: Afrikaanse kunstefeeste, TV-kanale en Afrikaanse films.
4.3 Metodologie
Bogenoemde dataseleksie het tot 'n haalbare datastel van 15 tydskrifte se geselekteerde advertensies gelei. Die eerste tydvak dek 1916-1949 en die tweede tydvak dek 1994-2024.
4.3.1 Analise-templaat vir talige optekening van ontwikkeling
Op basis van die loodsondersoek en die literatuurstudie is data chronologies in die volgende ses kategorieë apart ingesluit in die addendum vir tydvak 1 teenoor tydvak 2:
A. voornaamwoordgebruik en hoflikheid (stilistiese keuses)
B. woordeskat en argaïese leksikonitems
C. spelling
D. grammatikale aspekte (byvoorbeeld: werkwoordvervoeging, lidwoordgebruik, ontkenningsvorm)
E. talige kreatiwiteit (spel met klank, woord en sinstruktuur binne tydvak 1 teenoor tydvak 2)
F. taalvermenging (aard van vermenging in tydvak 1 teenoor tydvak 2).
Daar word in elk van die bogenoemde ses kategorieë in tydvak 1 (tot 1949) teenoor tydvak 2 (sedert 1994) 'n inleidende beskrywing gegee van die aard van die aspekte wat ingesluit is en daar word ook 'n volledige en toepaslike voorbeeld (advertensie) uit die datastel ingesluit en geanaliseer binne elk van die genoemde kategorieë binne beide tydvak 1 en tydvak 2.
Die finale datastel word met behoud van die formaat soos dit in Huisgenoot voorgekom het in die addendum (skakel ná die bibliografie) ingesluit. Daar word wel na voorbeelde uit die datastel verwys in die bespreking van tydvak 1 en tydvak 2 in paragraaf 4.
4.4 Talige analises
Die data word op die volgende wyse chronologies en geskei met 'n kommapunt (;) in die addendum (skakel) ingesluit.
Die (soms foutiewe en wisselende) gebruik van hoofletters en spelling in 'n advertensie is presies behou soos dit in die advertensie voorgekom het. Verskillende advertensievoorbeelde in die addendum word slegs met 'n kommapunt (;) geskei en talige toeligting as motivering (nie deel van die advertensie nie) en die rede vir die insluiting in die datastel en/of kriptiese verklaring word in ronde hakies () waar nodig meestal ná die voorbeeld ingevoeg, byvoorbeeld:
1916
Principaal (Nederlandse spelling); PARAPLUS (= meervoud; waarom hoofletters?) (sambreel in Standaardafrikaans, tydvak 2)
4.4.1 Tydvak 1: 1916-1949
Daar word een volledige advertensievoorbeeld per kategorie (A-F) ingevoeg en toegelig, maar alle toepaslike versamelde data word onder die kategoriehofies vir beide tydvak 1 en tydvak 2 ingesluit in die addendum (skakel).
A) Voornaamwoordgebruik en hoflikheid (formaliteit)
Figuur 3 uit 1924 bevat voorbeelde van onder andere ook:
• Nederlandse invloed in terme van werkwoorde en teenwoordige deelwoorde soos: "... aan al die hedendaagse vereistes beantwoordende". Stoops (1972:94-164) gee in die grootste deel van haar verhandeling aandag aan die werkwoordvorm in Huisgenoot in die tydvak 1920-1970. Stoops maak pertinent melding op verskillende plekke van oorheersende aspekte en neigings as sy na haar datastel verwys. Dit sluit aan by die gedagtegang hier in die ondersoek wat fokus op ontwikkeling eerder as taalverandering (Stoops, 1972: 22,45).
• Formaliteits- (aanspreek- en bespreek-)vorme en afkortings soos: Wel.Ed (vir "Wel Edele" heer).
• Wisselende Nederlandse en Afrikaanse spelling van titels soos mevr. en mev. en spelling van woorde soos posiesie (vir Standaardafrikaans se "posisie").
• Argaïese woordeskatitems (in die konteks van tydvak 2) ook onder Nederlandse invloed en toenemend afwesig in tydvak 2, byvoorbeeld gemakke (geriewe); tewens (selfs/ook); burgers (publiek); vernaamlik (met die doel); in die eersteplaas (in plaas van die eerste "plek", na aanleiding van die Nederlandse plaats vir "plek" in Standaardafrikaans).
• Geslagsgebonde onderskeid, byvoorbeeld: eggenote (vroulik), vaders (geen moeders word vermeld), besigheidsmanne, kerkmanne.
B) Woordkeuse (woordeskatuitbreiding), Nederlandse invloed, spellingkonvensies en argaïese leksikonitems teenoor nuwer leksikonitems in Standaardafrikaans
Figuur 4 uit 1949 bevat onder andere voorbeelde van gebruiksartikels en/of woordeskatitems wat grootliks in onbruik verval het in 'n moderner tydgees van tydvak 2, byvoorbeeld buustelyfies, borsrokke en kousophouerbande.
Die voorbeelde in afdeling B, gerig op woordkeuse (tydvak 1), is nie net tekenend van tegnologiese veranderinge (grammafoon, draagbare tikmasjien, ensovoorts) nie, maar ook deurspek van Nederlandse invloed, naamlik jurkies, immer, piano en Engelse invloed, naamlik staff, parte (kan Ndl. wees), ensovoorts in kontras met die aangeduide Standaardafrikaanse vorm in tydvak 2. Nederlandse invloed wys ook duidelik in die name van kleure soos ingesluit in die addendum (tydvak 1, kategorie B) byvoorbeeld ligroos en sitroen. Stoops (1972:49) verwys na pienk as "'n verwerplike leenwoord" in 1921.
C) Spelling
Opvallende Nederlandse spelling in die voorbeelde en onvaste spelling in tydvak 1 in vergelyking met tydvak 2, naamlik postbus versus posbus (tydvak 2) en principaal versus prinsipaal (Tydvak 2); ouderwetse aanspreek- en bespreekvorme soos: Gebroeders, Wel Edele heer, ensovoorts val op in tydvak 1 (1924, ensovoorts) van die ingeslote addendum (skakel). Figuur 5 uit 1929 bevat onder andere voorbeelde van:
• Formele voornaamwoordgebruik soos u (wat vandag in Afrikaans veral ook in advertensietaal grootliks in onbruik verval het).
• Ouderwetse woordkeuse, byvoorbeeld tabberds.
• Wisselende spelvorme, byvoorbeeld geinteresseer in plaas van "geïnteresseer" (ten spyte daarvan dat deeltekens wel in die res van die advertensie korrek gebruik is).
D) Grammatika
Onderstreepte gedeeltes in die datastel (addendum) merk die ontwikkeling en grammatikale wisseling tussen Nederlands en Standaardafrikaans (tydvak 1 teenoor tydvak 2) in terme van werkwoordvervoeging, lidwoorde ("die", "'n" in Afrikaans), ontkenning, byvoeglike naamwoorde, meervoudsvorme, voorsetsels en voornaamwoorde (Nederlandse invloed).
Die advertensievoorbeelde in kategorie D (in die datastel) wat grammatikale ontwikkeling illustreer, toon merkbaar meer variasie (wisselende vorme) en meer Nederlandse invloed tot nog laat in tydvak 1 as dit vergelyk word met die ander kategorieë, A, B, C, E en F in tydvak 2 (ingesluit in die addendum).
Bewese taalontwikkeling, anders as wat aangetoon word in bogenoemde voorbeelde (figuur 1 - 5 én in die addendum), kan duideliker op sintaktiese vlak opgemerk word. Vergelyk byvoorbeeld die enkele ontkenningsmerker in die 1944-voorbeeld hier bo wat anders is as in Standaardafrikaans (tydvak 2).
Vergelyk byvoorbeeld ook die besitlike vorm die uwe (Nederlandse herkoms by uwe word aangedui in die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal, HAT, (1991) in die 1929-voorbeeld (ingesluit in die addendum). Uwe is ook in Standaardafrikaans bekend, maar word geëtiketteer as: "geyk", "ouderwets" en "deftig" in die HAT (2015). Die minder bekende spelling en gebruik van verkouentheid (teenoor die meer bekende, verkoue) in die 1929-voorbeeld val ook op, alhoewel beide verkoue en verkouentheid in die HAT (2015) sonder etikette opgeneem is. Wisselende vorm (moontlike Nederlandse invloed) van die werkwoorde (bereid, bereikgeword is) is te sien in die 1924-voorbeeld: Bereid volgens 'n geheime ou resep het hierdie sous 'n smaak en bekoring wat geen ander sous ooit bereik geword is nie. Stoops (1972:162) se toeligting oor die eertydse gebruik van is as hulpwerkwoord van tyd in haar datastel (1920/1921 tot 1970/1971) uit Huisgenoot is ter sake vir toekomstige grammatiese analise. Stoops se datastel (1920/1921 tot 1970/1971) uit Huisgenoot fokus, anders as dié ondersoek, nie op spelling, woordeskatuitbreiding, talige kreatiwiteit, ensovoorts nie, maar wel op grammatikale "neigings" in terme van werkwoordvorm, verbuiging van die adjektief, meervoudsvorme en die woordorde by passiewe konstruksies (Stoops, 1972:4).
Figuur 6 uit 1924 is in die geheel in Nederlands aangebied, terwyl ander advertensies en berigte in dieselfde uitgawe gedeeltelik of grootliks in Afrikaans geskryf is. Let op na die Nederlandse spellingspatroon, byvoorbeeld hardlijvig ("hardlywig" in Standaardafrikaans), vruchtensmaak ("vrugtesmaak" in Standaardafrikaans) ensovoorts; die Nederlandse bepaalde lidwoord het kind ("die" in Afrikaans), die Nederlandse verkleiningsuitgang -tje in teelepeltje, die Nederlandse werkwoord zijn waar die werkwoord "wees" in Standaardafrikaans normaalweg op "sal" (zal) volg en hebben in die voorbeeld (in plaas van die werkwoord "het" in Standaardafrikaans).
E) Talige kreatiwiteit (taalspel): woord en klankherhaling, strukturele (sintaktiese) taalspel, asook spel met idiomatiese en vaste uitdrukkings
Die toepaslike teksgedeeltes uit die data (advertensie) is ter wille van duidelikheid/toeligting onderstreep in die addendum om die stilistiese en strukturele taalspel te toon. Die voorbeeld as spel met idiomatiese uitdrukkings is donker gedruk (in die addendum) om die taalspel duideliker aan te toon.
Figuur 7 uit 1924 is volledig in Afrikaans in teenstelling met figuur 6 en dit bevat voorbeelde van verskillende vorme van talige kreatiwiteit soos aangedui, byvoorbeeld suiwer die lug, van edeler bloed. Talige kreatiwiteit in tydvak 1 is gerig op woordvlak, veral klankherhaling.
In tydvak 2 (addendum) staan die spel met die idioomskat (soos donker gedruk, aangedui in kategorie E) en stilistiese inspeling op sinsvlak (soos in die onderstreepte voorbeelde in kategorie E aangetoon) voorop. Visuele kreatiwiteit (grafologie) en spel met die (vorm) handelsnaam soos in tydvak 2 geïdentifiseer, is grootliks afwesig in tydvak 1 as dit vergelyk word met tydvak 2.
F) Taalvermenging
Figuur 8 uit 1929 (tydvak 1) bevat onder andere taalvermenging wat Afrikaans, Duits en Engels insluit, maar geen voorbeelde met Afrikataal/inheemse taalinvloede soos wel aangetref is in tydvak 2 nie. Die afwesigheid van die Afrikatale in tydvak 1 staan in kontras met die voorbeelde en die insluiting van die inheemse tale in kategorie F van tydvak 2. Die 1949-voorbeeld in tydvak 1 (addendum) bevat onder andere 'n interessante Maleise invloed, soos tjap met die Afrikaanse betekenis van stempel - uit Maleis/ Kaaps-Maleis in die konteks van 'n tjap van my handtekening. Die omvangryke woordeskatitems in Afrikaans (totaal anders as die Nederlandse ekwivalente) ingesluit in afdeling B (addendum) wys op die groeiende taaltrots in die bepaalde sprekersgemeenskap, veral in tydvak twee, byvoorbeeld geheuekaart, blokraaisel, sandspuit. Die gebruik van Duits in figuur 8 is vanweë die handelsnaam, Zeiss punktal, maar die kontinue ontwikkeling van Afrikaans (ingesluit die gebrek aan konsekwente woordkeuse en spelling) blyk ook uit figuur 8 waar daar in dieselfde advertensie, bril en brilglase gebruik word vir bril in Standaardafrikaans.
Die insluiting van semantiese deursigtige eksemplariese items in die vorming van handelsname en taalvermenging om handelsname te vorm, val buite die ondersoek. Dit sluit byvoorbeeld bekende Suid-Afrikaanse handelsname soos Koffiehuis (Afrikaans), StaSoft (Engels) en ProVita (Latyn) in (vergelyk ook Van Niekerk, 2005). Ander voorbeelde van taalvermenging in tydvak 1 met Duits, Engels en Nederlands soos opgeneem in die addendum is nie gekoppel aan 'n handelsnaam nie.
Dieselfde formaat van data-insluiting per kategorie en toeligting in hakies () as in tydvak 1 word in tydvak 2 van die addendum gebruik. Daar word ook een volledige advertensievoorbeeld per analisekategorie (A-F) ingesluit in paragraaf vier naas al die relevante data se volledige insluiting onder die bepaalde ses kategoriehofies in die addendum (skakel ná die bibliografie). Talige formaliteit en formele voornaamwoordgebruik is toenemend afwesig in gestandaardiseerde Afrikaans in die massamedia weens die groeiende intiemer (persoonlike) aard van die genre gerig op 'n baie spesifieke gesegmenteerde mark en nie net 'n globale Afrikaans-sprekende mark soos in tydvak 1 nie.
A) Voornaamwoordgebruik en hoflikheid (stilistiese keuses)
Figuur 9 uit 2014 stel kinders aan die woord en bevat geen formele voornaamwoorde of aanspreekvorme nie. Ma 's in plaas van moeders (soos in tydvak 1) word gebruik. Die gebruik van ikone om produkkwaliteite aan te toon, is visueel aantreklik en opvallend anders as in tydvak 1. Die insluiting van 'n diverse etniese Afrikaanstalige mark is ook opvallend in vergelyking met tydvak 1. ('n Tikfout word opgemerk in die woord belonigs in plaas van "belonings".)
B) Woordkeuse (woordeskatuitbreiding) en argaïese leksikonitems teenoor nuwer leksikonitems
Tegnologiese veranderinge in kontras met tydvak 1 staan voorop wat woordkeuse betref, byvoorbeeld CD, faks, geheuekaart, internet, Facebook, # (hutsmerk), slimfoon, aanlyn, rekenaar, Tiktok, ensovoorts.
Figuur 10 uit 2024 en figuur 11 uit 2004 bevat tientalle van die kontekstuele veranderinge van tydvak 2 soos dit op woordvlak vergestalt word, byvoorbeeld e-pos, aanlyn, visuele vergestalting van strepiesbetaalkode, sudoko (spel), webbladadresse asook sigbare insluiting van 'n etnies diverse teikenmark in tydvak 2 anders as tydvak 1.
C) Spelling
As die aantal voorbeelde in tydvak 1 en tydvak 2 (kategorie C in die addendum) vergelyk word, is hier beduidend meer eenvormigheid in spelling (kategorie C van tydvak 2) en nie soveel wisselvorme nie. Veel minder sleng en Kaaps as wat 'n mens sou verwag (in ag genome die gees van diversiteit en inklusiwiteit), is in die volledige datastel (gebruik die addendumskakel) van tydvak 2 aanwesig.
D) Grammatikale ontwikkeling
Die kontinue onderleksikalisering (predikaat of subjekweglating en onvoltooide sinne) in tydvak 2 in kontras met tydvak 1 is opvallend in die datastel. Talle verkortings talig verant-woordbaar uit die aard van sosialemediakommunikasie soos TikTok, Facebook, ensovoorts, kan ook gelys word:
Figuur 12 uit 2014 bevat onder andere enkelwoorde as ongeleksikaliseerde sinne, aangebied met hoofletter en 'n punt: Nuus. Leefstyl. Sterre. Talle ander tipes onderleksikalisering dwing die teikenmark tot samewerking om 'n boodskap te konstrueer, byvoorbeeld: Al jou belangstellings op een plek. Die soort onderleksikalisering en ekonomiese taalgebruik ontbreek grootliks in tydvak 1 tot 1944 en dit is tipies van moderne sosialemediakommunikasie asook spreektaal waar die insluiting van deiktiese verwysings te verwagte is, byvoorbeeld in figuur 12: ...jou Samsung slimfoon en ... Laai dit in jou Google Play winkel af.
E) Talige kreatiwiteit (taalspel): woord- en klankherhaling, spel met sintaktiese struktuur, spel met idiomatiese en vaste uitdrukkings asook beeldvorming ("image") van die handelsnaam
Die toepaslike teksgedeeltes uit die data (advertensie) is ter wille van duidelikheid/toeligting onderstreep om die opvallende taalspel (sinsvlak en klankvlak) te toon. Die spel met idiomatiese uitdrukkings is donker gedruk om die taalspel in die data (addendumskakel) duideliker te toon.
Figuur 13 uit 2019 bevat onder andere 'n verwysing na die idiomatiese uitdrukking, met die maan gepla wees (om met tye bietjie mal te wees of om vreemde sosiale gedrag te openbaar) en die inspeling tussen die letterlike plasing van die maan as 'n hemelliggaam met volmaan en die figuurlike en/of psigologiese betekenis van die maan vir die mens. Afdeling E in tydvak 2 (van die addendum) bevat sigbaar meer taalspel met tientalle inspelings op idiomatiese uitdrukkings en/of die letterlike en figuurlike betekenis van woorde as in tydvak 1, byvoorbeeld: Dis 'n guide geleentheid, dis neusie verby; oos, wes, tuis bes; wat is 'n huis sonder 'n moeder?; die sleutel tot sukses; ensovoorts.
F) Taalvermenging
Die gebruik van Engelse eksemplariese woorddele in die vorming van handelsname in tydvak 2 (sedert 1994) is baie opvallend in die volledige datastel, byvoorbeeld Shoe City, Mr Price en Miway asook taalvermenging in die skepping van handelsname, byvoorbeeld Foto First (Engels: "photo"). Die semantiese deursigtigheid van handelsname met eksemplariese woorddele val buite die bepaalde ondersoek (vergelyk ook Van Niekerk, 2005 in dié verband). Die voorbeelde in die figure is hier ingesluit ter illustrasie van die bekendheid en aanneemlikheid van Engels en Engelse woorddele (bousels) in Afrikaanstalige tekste soos uit die datastel in die tydvak. Die behoud van Engelse slagspreuke ("slogans") in Afrikaanse advertensies is opvallend in tydvak 2, soos ingesluit in die addendum (sedert 1994). Die groei in taalvermenging met Engels ook op die vlak van handelsname in tydvak 2 (in vergelyking met tydvak 1) is opmerklik in die addendum.
Figuur 14 uit 2019 is'n Afrikaanse advertensie wat naas Afrikaans (gratis, ensovoorts) ook Engels (free) en Sotho (mahala) woordkeuses insluit om ook die multikulturaliteit en die visuele aspek te ondersteun en die handelsmerk "Microsoft" as ras- en kultuurinklusief voor te stel.
Die opvallendste patrone uit die datastel in die addendum én die talige analise (in paragraaf 4.4.1 en 4.4.2), aldus die analiseraamwerk (A-F), kan soos volg saamgevat word. Die datastel toon in tydvak 1 (1916-1949) opvallend meer grammatikale variasie uit die versamelde data in afdeling D. Die volgende aspekte was opvallend wanneer tydvak 1 met tydvak 2 vergelyk word:
• lidwoordgebruik (Nederlandse het, de en een in tydvak 1 teenoor Afrikaanse die en 'n);
• wisselende vorm van die adjektief in tydvak 1;
• wisselende vorm van die (juiste) werkwoord. Vergelyk die deeglike oorsig van Stoops (1972:94-161) veral wat is en was betref; die Nederlandse hulpwerkwoord had saam met die voltooide deelwoord; die gebruik van die infinitief; en die impak op woordorde met die gebruik van modale werkwoorde soos dit ook neerslag gevind het in die datastel in tydvak 1 (tot 1949) van kategorie D in die addendum;
• wisselende gebruik van voornaamwoorde in terme van formaliteit en Nederlandse spelling teenoor Afrikaanse spelling (afdeling D van die analises in tydvak 1 in vergelyking met tydvak 2 sedert 1994);
• veel meer sinsvlakinkortings (onderleksikalisering) opgeteken uit die data (addendum) in tydvak 2 (afdeling D) as in tydvak 1;
• deurgaans (onderskeidende) vernuwing op woordeskatvlak (afdeling C van die datastel en analises) in albei tydvakke van die ondersoek;
• toenemende informaliteit en minder hoflikheid (afdeling A van die datastel en analises) as tydvak 1 en 2 vergelyk word;
• toenemend meer talige kreatiwiteit en taalspel in tydvak 2 gelys (afdeling E van die analises) as in tydvak 1;
• (sedert 1994) taalvermenging met taalitems uit die Afrikatale (op skrifvlak) in afdeling F van die analises én die volledige addendum;
• al minder en soms wisselende parallelle Nederlandse en Afrikaanse invloed (byvoorbeeld die 1924-advertensievoorbeelde) en vorme in tydvak 1 (sedert 1916) en byna geen opvallende Nederlandse invloed in Afrikaans in die tweede tydvak (sedert 1994) nie; en
• geen spellingvariasie met Nederlands in die tweede tydvak (1994-2024) van die analises en addendum nie; heelwat spelvariasie wat betref los- en vasskryf, gebruik van hoofletters en weglating van deeltekens is gelys in tydvak 1 (addendum).
4.4.3 Toekomstige ondersoek: sosiolinguistiese en psigolinguistiese aspekte
Steinberg en Angelopulo (2015:218-219) wys daarop dat 'n funksionele benadering tot massakommunikasie op die sosiale gevolge van massakommunikasie fokus. Daar word vier basiese funksies van massakommunikasie onderskei: toesig oor die omgewing, korrelasie van diverse sosiale elemente, sosialisering en kulturele oordrag, en vermaak. Die aard van kulturele oordrag (van Afrikaanssprekendes en aan Afrikaanssprekendes) is ook ter sake in 'n opvolg-ondersoek met dieselfde datastel.
In die optekening van die talige ontwikkeling in die genoemde tydvakke (1916-1949 en 1994-2024) wat betref die bogenoemde ses kategorieë van talige analise (A-F), het die volgende sosiolinguistiese en psigolinguistiese aspekte aandag getrek:
1. geslagsrolle en sosiale aansien (vroue en kinders, ensovoorts)
2. die aard en tipe klem op fisieke voorkoms (mans teenoor vroue)
3. taaltrots en die waarde van boeke
4. kulturele wêreld en leefwereld in die algemeen
5. beroep, werk en studie
6. land en plaaslike mark
7. nasiebou en etnisiteit
8. boere en grondverbondenheid
9. kommunikasiepraktyk
10. finansiële praktyk
Daar sal in 'n beplande toekomstige ondersoek op die aard van die geïdentifiseerde bogenoemde tien kategorieë van sosiale en psigologiese verskuiwing gefokus word. Die voorbeelde reeds as figure ingesluit, sluit noodwendig ook aan by die gelyste verskuiwings wat verdere ondersoek vereis. Die aard van die verandering in denke sal in 'n toekomstige ondersoek kan aandag kry. Dit sluit byvoorbeeld in dat daar aandag gegee word aan die norme (van tydvak 1) waaruit dit duidelik geblyk het dat lyfstraf vir kinders normaal geag is; beroepe soos boer, opvoedkundige en predikant (vir mans) algemeen was; die ouerskaptaak die uitsluitlike rol van die vrou was; en rook (tot in 1994) en alkohol (vir mans) die norm was.
Daarteenoor is dit duidelik in tydvak 2 (1994-2024) dat mense van kleur toenemend ná 1994 'n sigbare mark word; rook (van tabak) nie meer so sosiaal aanvaarbaar is nie; vroue professionele loopbane kan volg; en kommunikasie (bekendmaking van inligting aan 'n groter publiek) op ander maniere as via die koerant kan geskied.
Figuur 15 met advertensies uit 1934 en 2004 sou beslis deel uitmaak van 'n toekomstige ondersoek waarin die veranderende rol en status van vroue en mans, belang van voorkoms en die toenemende informele aard (afwesigheid van formele voornaamwoorde, byvoorbeeld "u" in Afrikaans) van kommunikasie aandag moet geniet.
Die hoeveelheid en aard van voorbeelde wat per kategorie (A-F) in tydvak 1 en 2 opgeteken is (addendumskakel) regverdig verdere ondersoek en beskrywing. Op sigwaarde kan verskillende hipoteses uit die optekening ondersoek word, byvoorbeeld dat:
• talige kreatiwiteit (kategorie E) veel meer omvangryk is in tydvak 2 as in tydvak 1 omdat genoegsame taalontwikkeling eers moes vorm aanneem alvorens daar vryer met Afrikaans omgegaan kon word (in tydvak 2);
• standaardisering en herstandaardisering vinniger geskied op die vlak van spelling en voornaamwoordgebruik as op die vlak van die sintaksis en werkwoordelike struktuur - vandaar die aard en groter omvang van data in tydvak 1 (kategorie A) as in tydvak 2; en
• Afrikaans 'n lewende en groeiende taal is vergelykbaar met ander groot tale (ook buite die Suid-Afrikaanse konteks) soos blyk uit die aard en omvang van woordkeuse en woordeskatvernuwing wat verband hou met tegnologie in die data in kategorie B van beide tydvak 1 en tydvak 2.
5. Slotgedagtes
Ter aansluiting by die genoemde metafoor in die inleiding van Aitchison (2013) dat taal 'n lewende organisme soos 'n boom is, toon die ontwikkelingspad van Afrikaans in die datastel dat dié boom soms takke, blare of vrugte verloor op dieselfde manier as wat woordskatvernu-wing (uitsterf van ou woorde en vorme en die vorming van nuwe woorde) geskied. Bome dra anders vrugte en blare (nuwe lote) in verskillende omgewings met meer of minder son en 'n eiesoortige klimaat, daarom lyk en klink die Afrikaans van die gestandaardiseerde media soos wat verwag kan word anders as gesproke Afrikaans in byvoorbeeld die Noord-Kaap of op die Kaapse vlakte.
Die Afrikaans van tydvak 1 (tot 1949) en tydvak 2 (sedert 1994) is te verwagte onder-skeidend anders soos wat bome ook anders lyk en ander blomme en vrugte dra soos die seisoene wissel. Lewende organismes soos bome se aard en voorkoms word beïnvloed deur hul omgewing en die invloed van ander organismes en veranderlikes in die omgewing. Die aard van taalkontak en taalbeïnvloeding is daarom eiesoortig anders in tydvak 1 en tydvak 2 wat kategorie F van die datastel in die addendum betref. Vergelyk die aanwesigheid van Nederlands (spelling, woordvlak en sintaktiese vlak) in tydvak 1 en die aanwesigheid van Engels en Sotho in tydvak 2 in die datastel.
Eksterne sosiolinguistiese redes buite die taalsisteem (klimaatsverandering in die natuur raak alle lewende organismes, ingesluit bome) en interne psigologiese redes (lewensiklus van lewende organismes, byvoorbeeld bome) binne die taalsisteem (die denke van die verskillende taalgebruikers) word as oorsake vir taalontwikkeling (en uiteindelike taalverandering) gesien.
Die voorspelling sou waarskynlik datagewys gemaak kan word dat die taalontwikkelinge uit die datastel vir 'n lang tyd naas ander vorme gaan voortbestaan as variasie (eerder as verandering op die kort duur), ook weens die toenemende debatte oor herstandaardisering en inklusiwiteit in Afrikaans, naas Standaardafrikaans (met die 100-jaar-herdenking van Afrikaans as 'n amptelike taal in Mei 2025).
Taalontwikkeling en gevolglike taalverandering is beslis nie 'n toevallige (lukrake) proses nie, want dieselfde tipe taalveranderinge geskied dikwels oor taalgrense heen. Mode-aanpassings ("fashion") wat byvoorbeeld inkortings betref, word geag snellers te wees vir potensiële "sagte/swak" plekke in 'n taal.
Faktore wat taalontwikkeling in Afrikaans in die toekoms kan aanhelp, hou ook verband met die resente bedeling waarin Afrikaans nou staan. Daar is oënskynlik die eerste keer in die geskiedenis van Standaardafrikaans, in die middel negentigerjare, 'n groter bewustheid van vreemdetaalaanleerders (as sprekergroep) van Afrikaans. Die afleiding word gemaak omdat die skoolsisteem in Suid-Afrika tot in 1994 Afrikaans as verpligte huistaal of tweede taal vir matriekvrystelling vereis het. (Dit is nie meer die geval nie.) Die invloed van Engels op Afrikaans is egter wel al deeglik ondersoek deur onder andere René Dirven (2012) en Bruce Donaldson (1988). Meer aanleerdersinvloed op Afrikaans se soepelheid sal dus mettertyd eers blyk, want Afrikaans is (anders as voor 1994) in 2024 een van die 13 amptelike tale met gelyke status in die Suid-Afrikaanse konteks. (Nuwe of ander voeding vir 'n lewende organisme kan die aard van die organisme verander sodat die boom byvoorbeeld meer vrugte dra en droogtebestand raak.) Hierby moet verreken word dat 'n beweging in die rigting van hiper-korreksie deur aanleerders (addisionele taalsprekers) net so moontlik is as toenemende vereenvoudiging.
Die faktor wat waarskynlik die grootste invloed gaan hê op die wyse waarop Afrikaans verder gaan ontwikkel, het te make met die talle herstandaardiseringsinisiatiewe soos bespreek in die proefskrif van Odendaal (2012:457-470). Dit skakel ook nou met die ondersoek wat in die artikel in die vooruitsig gestel word wat betref Odendaal se voorgestelde taalontwikkelingsmodel en die verwysing na politieke, ekonomiese en sosiale konteks. Die onderwerpe herstandaardisering en inklusiwiteit is die afgelope paar jaar algemeen op die agenda by kongresse en simposiums, byvoorbeeld by die "Kaaps Symposium" op 15 en 16 Augustus 2024 by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) asook gesprekke oor herstandaardisering tydens die Vrystaat Kunstefees in Julie 2024, om maar twee te noem.
Die data uit Huisgenoot is tekenend daarvan dat Afrikaans voortdurend groei en aangepas het die afgelope 100 jaar sedert amptelike erkenning in 1925. By monde van die data en die onderskeid van Aitchison (2013:222-230) tussen taalmoord en taalselfmoord word Afrikaanssprekendes hiermee opgeroep om hul aandeel in die ontwikkeling van Afrikaans met 'n oop gemoed te rig op die sosiale behoefte van die wyer gemeenskap wat die taal praat: "So what can be done? The answer, perhaps, is to ensure that people are aware of the value of their first-learned language. Only they, the speakers, can preserve it" (Aitchison, 2013:233).
Hoofstuk 16 van Aitchison se Language change argumenteer dat voorspellings oor die toekoms van 'n taal op basis van die perspektief op die hede gemaak kan word. Emosionele uitsprake oor taalverandering en die toekoms van 'n taal spruit meestal uit vrees en hoop en verreken nie die kontinue noodwendigheid en natuurlikheid van (taal)verandering nie. Taalverandering (buite die Afrikaanse taalgrense) het oor eeue heen getoon dat 'n voortdurende stoot en trek tussen vernietiging ("disruption") en opbou ("restoration") die normale gang van (taal)lewe is. Taalverandering en taalontwikkeling kan nie gekeer word as 'n taal gebruik word nie.
Standaardisering en herstandaardisering in terme van Afrikaans kan 'n sterk eenheids-funksie onder die sprekerskorps vervul en 'n simbool van nasionale trots en eenheid word -soos wat die nasionale Springbok-rugbyspan in 2024 reeds vermag het. Dié hoë ideaal moet Afrikaanssprekendes se omsigtige doel wees en nie die bewaring van 'n taal asof 'n taal op 'n bepaalde dag en datum oor 'n ideale vorm beskik het nie. In die woorde van die Nederlandse taalkundige Jan Stroop is taalverandering "in principe goed: taalverandering is voor hem taalverbetering" (Hüning, 2012:61).
Aan die teenkant van die oproep staan verlies soos verwoord deur Samuel Johnson:
"I am always sorry when any language is lost, because languages are the pedigree of nations." (Tour to the Hebrides, 1773.)
BIBLIOGRAFIE
Aitchison, J. 2013. Language Change: Progress or Decay? Fourth edition. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
BBC News. 2024. https://www.bbc.com/news/world-africa-14094918 [20 April 2024]. [ Links ]
Bosman, DB. 1928. Oor die ontstaan van Afrikaans. Tweede uitgawe. Amsterdam: Swets & Zeitlinger. [ Links ]
Carstens, WAM & Raidt, EH. 2017. Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika - Deel 1. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Carstens, WAM & Raidt, EH. 2017. Die storie van Afrikaans uit Europa en van Afrika - Deel 2. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Conradie, CJ & Groenewald, G. 2017. Die ontstaan en vestiging van Afrikaans. In Carstens, WAM & Bosman, N (reds.). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 29-62. [ Links ]
Conradie, CJ. 2017. Taalverandering in Afrikaans. In Carstens, WAM & Bosman, N (reds.). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Tweede uitgawe. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 63-91. [ Links ]
De Saussure, F. 1959. Course in General Linguistics. New York City: The Philosophical Library Incorporated. [ Links ]
Dirven, R. 1986. De invloed van het Engels op het Afrikaans. South African Journal of Linguistics, 4(4):1-14. [ Links ]
Donaldson, BC. 1988. The Influence of English on Afrikaans: A Case Study of Linguistic Change in a Language Contact Situation. Pretoria: Serva. [ Links ]
Du Plessis, JHO. 1943. Die Afrikaanse Pers: 'n studie van die ontstaan, ontwikkeling en rol van die Hollands-Afrikaanse Pers as sosiale instelling. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. [ Links ]
Du Plessis, LT. 1986. Afrikaans in beweging. Bloemfontein: Patmos. [ Links ]
Du Plessis, H & Du Plessis, LT (reds.). 1987. Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM. [ Links ]
Froneman, J. 2004. Dominante motiewe in die transformasie van Huisgenoot, 1916-2003. Ecquid Novi, 25(1):61-79. [ Links ]
Gouws, A. 2019. Herstandaardisering van Afrikaans: die tameletjie en uitdaging van opsies en besluite. Geplaas 21 Aug. 2019. https://www.litnet.co.za/herstandaardisering-van-afrikaans-die-tameletjie-en-uitdaging-van-opsies-en-besluite/. [ Links ]
Grebe, H. 2010. Die Oosgrenshipotese as geografiese en teoretiese konstruk. LitNet Akademies, 7(3):195-211. [ Links ]
Hofmeyr, JW. 2012. Die Afrikaanse kerke in die twintigste eeu. In Pretorius, F (red.). Geskiedenis van Suid-Afrika: van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, pp. 443-452. [ Links ]
(Die) Huisgenoot. 1916-1949, 1994-2024. UV Biblioteek / UFS Library. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat. [ Links ]
Hüning, M. 2012. Kroniek van de taalkunde 2010/11. Internationale Neerlandistiek, 50(2):58-64. [ Links ]
Kotzé, I & Kirsten, J. 2016. The heritage of a language: Discourses of purism in Afrikaans historical linguistics. Language Matters, 47(3):349-371. [ Links ]
Lozowski, P. 2023. In Search of Panchrony: Saussure versus Cognitive Linguistics. Lublin Studies in Modern Languages and literature, 47(2):153-164. [ Links ]
Labov, W. 1972. Where Do Grammars Stop. In Shuy, RW (ed.). Monograph Series on Languages and Linguistics - 23rd Annual Round Table. Sociolinguistics: Current Trends and Prospects. Washington: University of Georgetown Press, pp. 43-89. [ Links ]
Marais, SH. 2017. Die uitbeelding van die vrou in Huisgenoot (1963 en 2013): 'n Multimodale diskoersanalise. Literator, 38(2):1-10. [ Links ]
Odendaal, BG. 2012. Die herstandaardisering van Afrikaans: 'n Praktiese benadering met die AWS as gevallestudie. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. [ Links ]
Ponelis, FA. 1987. Die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. In Du Plessis, H & Du Plessis, LT (reds.). Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM, pp. 3-16. [ Links ]
Pretorius, F (red.). Geskiedenis van Suid-Afrika: van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. [ Links ]
Prinsloo, AF. 2009. Annerlike Afrikaans. Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Rabe, L. 2016. Huisgenoot as tydgenoot: 'n mediageskiedkundige kroniek van 'n tydskrif as "skrif ' van sy tyd. LitNet Akademies, 13(3):55-84. [ Links ]
Scholtz, L. 2010. Die Burger vir vólle 95 jaar. Die Burger 95, bylae tot Die Burger. 26 Julie: 3. [ Links ]
Steinberg, S & Angelopulo, GC. 2015. Introduction to Communication Studies for South African students. Second edition. Cape Town: Juta & Company. [ Links ]
Steyn, JC. 1980. Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. [ Links ]
Stoops, YHL. 1972. Die taalgebruik in "Die Huisgenoot". Ongepubliseerde MA-verhandeling. Port Elizabeth: Universiteit van Port Elizabeth. [ Links ]
Van Niekerk, A. 2005. Handelsname: 'n vorm van leksikale vernuwing teen die agtergrond van globalisering, Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 23(1):39-58. [ Links ]
Van Niekerk, A & Jenkinson, AG. 2011. Graphology in Print Advertising: Iconic Functions. Journal for New Generation Sciences, 9(2):116-134. [ Links ]
Van Niekerk, A. 2022. Advertensietaal. In Carstens, WAM & Van Dyk, TJ (reds.). Toegepaste Taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik Uitgewers, pp. 497-520. [ Links ]
Van Rensburg, MCJ. 1984. Die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare. Pretoria: RGN-verslag. [ Links ]
Van Rensburg, MCJ. 2021. Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls se eerste honderd jaar. Pretoria: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. [ Links ]
Von Wielligh, GR. 1925. Ons geselstaal: 'n oorsig van gewestelike spraak soos Afrikaans gepraat word. Pretoria: Van Schaik Uitgewers. [ Links ]
Weideman, E. 2015. Tiaras, trane en tee - tien jaar by Huisgenoot, YOU en DRUM. In Rabe, L (red.). 'n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, pp. 221-229. [ Links ]
Ontvang: 2024-07-30
Goedgekeur: 2025-01-29
Gepubliseer: Maart 2025
Angélique van Niekerk is 'n professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar belangstelling in vreemdetaalonderrig, spesifiek Afrikaans en ook apart vir Nederlands, stuur geakkrediteerde formele kortleerprogramme vir onderskeidelik Afrikaans en Nederlands as vreemdetale aan die UV van stapel. Naas formele voorgraadse en nagraadse onderrig bied sy ook twee keer per jaar 'n volledige aanlyn kortleer-program vir Nederlands as vreemdetaal aan.
Haar navorsingsfokus val op toegepaste lin-guistiek binne die dissiplinêre velde Semantiek, Pragmatiek, Diskoersanalise en op die talige aard van advertensiekommunikasie in die besonder. Sy lewer talle geakkrediteerde publikasies oor die Afrikaanse taalkunde sowel as Kommuni-kasiewetenskappe soos wat haar Google Scholar profiel ook toon. Sy het in 2023 NNS-gradering ontvang.
Angélique van Niekerk is professor in the Department of Afrikaans and Dutch, German, and French at the University of the Free State. Her interest in foreign language teaching, specifically Afrikaans and Dutch, led to the launch of two formal accredited short learning programs for Afrikaans and Dutch as foreign languages at the UFS. Besides formal lecturing on undergraduate and postgraduate levels, she also presents the SLP in Dutch. This SLP is offered fully online every semester.
Her disciplinary focus is on applied linguistic research within the disciplines of Semantics, Pragmatics, and Discourse analysis, as well as the linguistic nature of advertising communication. She has produced many accredited publications within Afrikaans linguistics and Communication Sciences as is evident from her Google Scholar profile. She received an NRF rating in 2023.
1 In afdeling 3 word die totstandkoming en ontwikkeling van die tydskrif, ook die name De Huisgenoot, Die Huisgenoot en Huisgenoot, kortliks beskryf.
2 Vergelyk oor die amptelike status van Afrikaans in 1925 die bydraes van McLachlan & Kotzé asook Carney in hierdie uitgawe van die TGW.
3 Alle voorbeelde kom uit Huisgenoot en dit word slegs met jaartalle aangedui ter wille van onderskeiding.
4 Vergelyk Odendaal (2012) asook Gouws (2019) vir meer oor herstandaardisering in Afrikaans. Die kwessie word verderaan weer bespreek.
5 Grafologie en Paleografie val buite die ondersoek; Van Niekerk & Jenkinson (2011) gee aandag aan die visuele vergestalting van die talige aspek van 'n advertensie.
6 Die term soeknoemer verwys na die keusebeginsels waarvolgens data (advertensies) geselekteer is om ingesluit te word vir die kategorisering en opname in die addendum. Voorbeelde is verwysings na taal, kunstenaars, boeke, ensovoorts.
ADDENDUM
Skakel na die addendum: https://doi.org/10.38140/ufs.27889095
Data word gekategoriseerd en chronologies in twee tydvakke aangebied.
Let op:
• Voorbeelde is ingesluit met behoud van die skryfwyse (hoofletters, spelling, leestekens) waarin dit in die advertensie verskyn het.
• Voorbeelde uit die advertensies word slegs met 'n kommapunt (;) geskei.
• Toeligting/kommentaar in hakies () is nie deel van die data (advertensievoorbeeld) nie.
28 Januarie 2025