Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a10
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Afrikaans Huistaal die afgelope 100 jaar: Die bysin as gevallestudie
Afrikaans Home Language over the past 100 years: The subordinate clause as a case study
Nadine Fouché-KarstenI; Rone WierengaII; Adri BreedIII; Suléne PilonIV
INoordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika E-pos: nadine@viva-afrikaans.org
IIUniversiteit Gent, België en Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika E-pos: rone.wierenga@ugent.be
IIISkool vir Tale, Noordwes-Universiteit Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Adri.Breed@nwu.ac.za
IVDepartement Afrikaans, Universiteit van Pretoria Suid-Afrika; E-pos: sulene.pilon@up.ac.za
OPSOMMING
Die grense van grammatikale kategorieë wat op skoolvlak gebruik word, soos bysinne, behoort nie wollerig te wees nie. Tog wys Van der Merwe (1966) op die onduidelike grense van bysinkategorieë en op die feit dat Afrikaansonderwysers "skei waar nie geskei behoort te word nie". Dit wil voorkom of hierdie verwarring steeds bestaan, soos blyk uit 'n meningsopname in 2024 op sosiale media. Omdat bysinne gesofistikeerde sinskonstruksies skep en taalgebruikers bemagtig om hul ervarings van die wêreld uit te druk, wou ons vasstel tot watter mate die bysinkategorieë wat in skoolhandboeke van die afgelope 100 jaar onderskei word, deur wollerigheid gekenmerk word. Hiervoor is 'n bestekopname gedoen, beginnende by Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1924) tot by die resentste KABV-belynde handboeke vir graad 12. Daar is bevind dat die grense van die bysinkategorieë wat in hierdie bronne onderskei word, inderdaad "wollerig" is. Wollerige grense ontstaan, omdat: (i) bysinne wat dieselfde inleier het en logieserwys as dieselfde soort bysin beskou behoort te word, op grond van hul funksie as verskillende soorte bysinne gekategoriseer word; (ii) die kombinasie van verskillende kriteria vir kategorisering gebruik word; en (iii) die grense van verskillende subkategorieë van veral die bywoordelike bysin wollerig is, omdat betekenis as kategoriseringskriterium gebruik word en dieselfde bysin gevolglik as meer as een soort gekategoriseer kan word. Meerduidige kategorisering en 'n skeiding tussen bepalings en bysinne (wat as bepalings gebruik word) is ook aan die orde van die dag.
Trefwoorde: Afrikaans Huistaal; bestekopname; byvoeglike bysin; bywoordelike bysin; bysin; gesegdesin; kategorisering; onderwerpsin; skoolhand-boeke; voorwerpsin; wollerige grense
ABSTRACT
Categorisation is an inherent characteristic of all approaches to grammar. Although the boundaries of grammatical categories at school level should not be fuzzy, it seems that this is in fact the case. Fuzzy boundaries of grammatical categories are problematic within the context of school instruction, as any pedagogical school grammar, according to Bourke (2005:85) and Thornbury (1999:32), should meet specific criteria. Among such criteria are restrictedness and simplicity, which implies that a pedagogical grammar must clearly indicate what the boundaries of a given grammatical unit are.
Van der Merwe (1966) refers to, for example, the unclear boundaries of subordinate clauses, stating that teachers of Afrikaans separate where separation should not occur, and this confusion seems to persist, as evidenced by a survey conducted on social media in 2024. Since subordinate clauses create sophisticated sentence constructions and enable language users to express their experiences of the world, it was important to determine to what extent subordinate clauses at school level are characterised by fuzziness. To this end, a survey was conducted, beginning with Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1924) and extending the survey to the most recent CAPS-aligned textbooks for Grade 12 learners.
From the conducted survey it is clear that the boundaries of subordinate clauses at school level have indeed been fuzzy over the past 100 years. Fuzzy boundaries arise because subordinate clauses that are introduced by the same word class and should therefore logically be considered the same type of subordinate clause, are assigned to different types of subordinate clauses, based on their function. Although functional criteria are primarily used to distinguish the main types of subordinate clauses, this criterion is often associated with formal, syntactic, or semantic properties. This combination of different criteria for categorisation also indicates the poorly defined nature of subordinate clauses, or their fuzzy boundaries. Furthermore, the boundaries of various subcategories, particularly adverbial subordinate clauses, are fuzzy, as meaning is most often used as a criterion. This means that the same subordinate clause (e.g., Jason het te veel kersies geëet, [sodat] hy nou maagpyn het) can be classified in multiple ways, either as an adverbial clause of degree (answering the question "To what extent?") or as an adverbial clause of contingency (answering the question "What happened then?'").
Certain gaps regarding clause categorisation were also noted. For instance, in the sentence Die berig dat hy dood is, is onwaar, the subordinate clause dat hy dood is, is regarded as a subject clause, even though the main clause (Die berig is onwaar) has a subject (die berig). This is in contrast with the guideline that a clause can only be an object/ subject clause if such a part of the main clause is not present. Therefore, dat hy dood is should rather be classified as another type of clause. Den Hertog (1904:70) classifies such clauses that fulfil the function of modifiers of nouns, limiting the representation of the noun or providing secondary information about the noun, as adjective clauses.
We also noted a shift from viewing the modifier as a syntactic function that can be performed by different grammatical elements (including subordinate clauses), to viewing it as a formal-functional grammatical unit that is limited solely to the simple sentence and contrasted with subordinate clauses. For instance, in Den Hertog (1904:67) it is acknowledged that a subordinate clause can have the function of an adverbial when used as a modifier that restricts the action/state of the verb, therefore rendering it an adverbial clause. Likewise a subordinate clause can fulfil the function of a modifier of a noun within a noun phrase, leading to its classification as an adjective clause (compare Den Hertog, 1904:67). Modifiers have since been understood as a group ofwords without a predicate that is used for modification and is contrasted with subordinate clauses (compare Vermaak et al., 2013).
Keywords: adjective clause; adverbial clause; Afrikaans Home Language; categorisation; fuzziness; object clause; school textbooks; subordinate clause; subject clause; subject complement clause; survey
1. Inleiding
Kategorisering is 'n eienskap wat onlosmaaklik deel van alle benaderings tot die grammatika is (Aarts et al., 2004:1). Op skoolvlak kan grammatikale kategorieë se grense nie wollerig1wees nie (Aarts, 2024), aangesien skoolgrammatikas die beginsel van beperkendheid en eenvoudigheid moet handhaaf (Bourke, 2005:85; Thornbury, 1999:32). Hierdie beginsels sluit aan by die Suid-Afrikaanse skoolonderrigleerplan, oftewel die Kurrikulum- en Assesserings-beleidsverklaring (KABV), waar daar spesifiek verwys word na die konsolidering van korrekte en foutiewe antwoorde (Petersen, 2014:69). Onduidelike kategoriegrense wat tot meerdere korrekte analises lei, is dus teenstrydig met hierdie foutiewe-korrekte-benadering tot onderrig en assessering.
Een van die redes waarom die grense van grammatikale kategorieë op skoolvlak júis vaag is, is omdat die betekenis van grammatikale eenhede as die primêre maatstaf vir die klassi-fisering en kategorisering daarvan gebruik word. Byvoorbeeld, in die Afrikaans Huistaal-hersieningsgids van die Departement van Basiese Onderwys (Departement van Basiese Onderwys [DBO], 2020:27) word aangetoon dat die bywoord vinnig, soos in voorbeeldsin 1, die vraag "Hoe?" beantwoord en dat dit daarom 'n bywoord van wyse of manier is. Vervolgens word in dieselfde dokument aangedui dat tuis, soos in 2, die vraag "Waar?" beantwoord en daarom 'n bywoord van plek is. Na analogie hiervan word geredeneer dat in die straat, soos in 3, ook die vraag "Waar?", beantwoord en daarom ook 'n bywoord van plek is. Die frase in die straat bestaan egter uit drie afsonderlike woorde met drie verskillende woordsoorte, naamlik setsel, lidwoord en naamwoord. Dit moet verder op sintaktiese vlak eerder as setselstuk (wat funksioneer as bywoordelike bepaling) gekategoriseer word. Dit is derhalwe kortsigtig en foutief om hierdie frase, op grond van die betekenis daarvan, te kategoriseer asof dit 'n enkele woord is. Die gebruik van betekenis as kategoriseringsmaatstaf lei nie net tot vae kategoriegrense nie, maar dit bring ook mee dat verskillende vlakke van ontleding - in hierdie geval morfosintaktiese/woordsoortelike en sintaktiese kategorisering - verkeerdelik met mekaar oorvleuel.
1 Die seun hardloop vinnig.2
2 Ons het tuis geëet.
3 Die seun hardloop in die straat.
In Esterhuyse et al. (1990:431) word gewys op die feit dat bywoorde in "'n grys gebied [lê], en [dat] dit ... moeilik [is] om presies te sê watter 'soort' hulle is" - spesifiek verwysend na die manier waarop bywoorde in skoolmateriaal gesubkategoriseer word. Hierdie meerduidigheid blyk ook uit talle taalnavrae wat by VivA se taaladviesdiens3 ingedien word. 'n Graad 4-Afrikaansonderwyser het byvoorbeeld navraag gedoen oor die subkategorisering van die bywoord aanhoudend in 4, aangesien dit as 'n bywoord van tyd of van wyse beskou kan word. Hierdie meerduidigheid spruit uit die subjektiewe wyse waarop aanhoudend gekonseptualiseer word, aangesien dit kan dui op tydsduur ('aaneen'), of op wyse ('herhalend').
4 In die verte kras 'n seemeeu aanhoudend.
In 'n ander taalnavraag wou 'n onderwyser vasstel of die woord vraag 'n soortnaamwoord (oftewel soortnaam) of 'n abstrakte naamwoord (oftewel abstrakte selfstandige naamwoord) is. In skoolmateriaal word onder meer aangedui dat soortnaamwoorde 'n naam vir alledaagse dinge gee (Biesenbach et al, 2012) en gewoonlik 'n meervoudsvorm en verkleiningsvorm kry, asook geslag kan aandui (Viljoen et al, 2013). Daarteenoor word aangedui dat 'n abstrakte naamwoord 'n naam vir iets gee wat nie aangeraak kan word nie (Lawrence et al, 2014:371) en dat dit vormlik tipies op -heid, -ing, -skap of -isme eindig (Banda et al, 2014:238). Die feit dat betekenis as kategoriseringskriterium betrek word, lei hier weer eens tot meerduidigheid, aangesien die naamwoord vraag 'n meervoudsvorm kan neem (soos ander soortnaamwoorde), maar ook 'n saak wat nie aangeraak kan word nie, benoem (soos ander abstrakte naamwoorde). Verskeie naamwoorde kan weens hierdie vae grense nie op eenduidige wyse gekategoriseer word nie - 'n feit waarop Van Schoor (1983:235) reeds vier dekades gelede gewys het.
Net soos by woordsoorte, bestaan daar ook in die kategorisering van sintaktiese funksies op skoolvlak tans wollerige grense. In 'n taalnavraag wou 'n onderwyser byvoorbeeld weet of 'n bankie in 5 'n direkte objek (oftewel direkte voorwerp) is, omdat die gebruik van bruin in die betrokke handboek as 'n byvoeglike bepaling aangedui is. In die skoolbron word verder aangedui dat byvoeglike bepalings slegs die subjek (oftewel onderwerp) en die objek (oftewel voorwerp) van 'n sin kan beskryf. Die onderwyser kon duidelik sien dat 'n bankie nie die subjek van die sin is nie, en daarom moet dit die direkte objek wees, aangesien dit deur 'n byvoeglike bepaling beskryf word. 'n Vakadviseur wat gekontak is, het egter daarop gewys dat die hele sinsdeel op die bruin bankie 'n bywoordelike bepaling is, omdat dit die werkwoordgedeelte ten opsigte van plek spesifiseer. Die wyse waarop die grense van byvoeglike bepalings in skoolmateriaal afgebaken word, bring gevolglik verwarring mee.
5 Die man sit op 'n bruin bankie.
In die genoemde voorbeelde is eksemplaries verwys na die probleme wat deur vae kate-goriegrense by woordsoorte en sintaktiese funksies meegebring word. Omdat die huidige skoolkurrikulumdokument, soos reeds vroeër aangedui, deur 'n foutiewe-korrekte-benadering tot assessering en onderrig gekenmerk word, veroorsaak vae kategoriegrense onregverdigheid omdat meerdere korrekte analises nie noodwendig in die nasienriglyne van eksamenvraestelle ingesluit word nie. Vae kategoriegrense het ook tot gevolg dat onderwysers dieselfde grammatikale eenhede verskillend kategoriseer, en dat die onderrig van grammatikale eenhede derhalwe nie noodwendig konsekwent plaasvind nie.
Reeds in 1966 wys Van der Merwe daarop dat Afrikaansonderwysers "skei waar nie geskei behoort te word nie" deur te verwys na voorbeeldsinne 6 tot 8 wat deur onderwysers as verskillende soorte bysinne gekategoriseer word, hoewel 'n mens "nie 'n verskil kan verduidelik wat nie bestaan nie" (Van der Merwe, 1966:71). Onduidelike grense met betrekking tot die kategorisering van sinstrukture, in die besonder bysinne, het dus in 1966 al 'n probleem vir onderwysers geskep.
6 Die nuus dat hy kom, wek belangstelling.
7 Die nuus wat hy vertel, wek belangstelling.
8 Die nuus wanneer hy kom, wek belangstelling.
Byna ses dekades later is daar steeds nie konsensus onder Afrikaansonderwysers oor die subkategorisering van bysinne is nie, soos blyk uit 'n meningsopname4 wat in 2024 op VivA se Taalonderwysersforum5 uitgevoer is. Die vet gedrukte bysin in die sin Dit is eienaardig dat die enjin nie wil vat nie is byvoorbeeld nie op dieselfde wyse deur alle deelnemers gekategoriseer nie (vergelyk figuur 1). Sommige onderwysers het dit, waarskynlik weens die feit dat dit as die subjek van die sin in die plek van die voornaamwoord dit gebruik kan word, as 'n onderwerpsin gekategoriseer. Ander het dit as 'n bywoordelike bysin gekategoriseer, moontlik omdat dit vormlik deur 'n voegwoord (naamlik dat) ingelei word en voegwoorde op skoolvlak as tipiese inleiers van bywoordelike bysinne beskou word (vergelyk Viljoen et al., 2013). Geen verklaring kan aangebied word vir die feit dat sommige onderwysers dit as 'n byvoeglike bysin gekategoriseer het nie.
Bysinne is onses insiens een van die belangrikste grammatikale eenhede wat op skoolvlak duidelik onderrig behoort te word, aangesien bysinne gesofistikeerde sinskonstruksies wat 'n teks struktureel verryk, skep (Horton & Bingle, 2014). Dit help taalgebruikers om hul ervarings van die wêreld uit te druk, soos uit die onderstaande voorbeelde van die beskrywing van omstandighede (kyk voorbeeldsin 9) en deelnemers (kyk 10) blyk (Humphrey et al., 2012).
Daarom fokus ons6 in hierdie artikel spesifiek op die wyse waarop bysinne op skoolvlak onderrig word, veral in hoër grade.
9 Die planeet is in die moeilikheid, omdat ons te veel energie gebruik.
10 Ek hou daarvan om in die see te swem.
2. Bysinbeskrywings in skoolgrammatikas die afgelope eeu
Om te bepaal tot watter mate bysinonderrig deur vae kategoriegrense gekenmerk word, is 'n bestekopname gedoen, beginnende by Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1924; vergelyk §2.1) tot by die resentste KABV-belynde handboeke vir graad 12 (vergelyk §2.6). Hierdie ontleding identifiseer verder ook moontlike leemtes in bysinonderrig.
Vir hierdie bestekopname is bronne geselekteer wat (i) beskikbaar was; (ii) maklik toeganklik was, aangesien sommige van die ouer skoolbronne in spesiale versamelings gehuisves word, en (iii) verteenwoordigend van verskillende tydperke is. Waar moontlik is skoolhandboeke van graad 11 (oftewel standerd 9) en graad 12 (oftewel standerd 10) gebruik. Wanneer hierdie handboeke nie beskikbaar was nie, is laer grade se handboeke gebruik. Die Afrikaanse Spraakkuns, wat nie 'n skoolbron is nie, is by die bespreking betrek om vergelykings te tref tussen dié algemene grammatika en skoolbronne wat gedurende dieselfde tyd verskyn het. Weens beskikbaarheid en toeganklikheid as insluitingskriteria, kan bronne nie rigied afgebaken word nie. Die volgende Afrikaansspesifieke bronne7 is tydens die literatuurondersoek betrek:
• Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1924; 1925; 1933; 1946)
• Maskew Miller se Taal en Styl vir Standerds VII en VIII (Hoogenhout & Botha, 1925)
• Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938)
• Oefening en Taalwerk by die Nuwe Praktiese Grammatika, Stylkursus en Klankleer Deel 1 vir Std. VII en VIII (Vorm II en III) (Booysen & Marais, 1942)
• Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII, Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955)
• Moderne Afrikaanse Taalstudie - Deel 1: Afrikaans as Eerste Taal Eerste Jaar -Standerd VI (Uys & De Villiers, 1955)
• Ons Moedertaal vir Standerds IX en X: 'n Volledige Kursus vir Afrikaans as Eerste Taal (Van der Merwe et al., 1970)
• Taalstudie vir die middelbare skool 6 (Van Aardt et al., 1974a)
• Taalstudie vir die middelbare skool 7 (Van Aardt et al., 1974b)
• Taalstudie vir die middelbare skool 8 (Van Aardt et al., 1974c)
• Taalstudie vir die middelbare skool 9 (Van Aardt et al., 1974d)
• Afrikaans vir Vandag Eerste Taal 8 (Anker et al., 1986)
• Ruimland 9 & 10 (Esterhuyse et al, 1990)
• Raamwerk 8 (Esterhuyse et al, 2000)
• Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 (Scholtz & Vorster, 2013)
• Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek (Vermaak et al., 2013)
• Mind the Gap Afrikaans Huistaal Graad 12 Hersieningsgids (DBO, 2022)
2.1 Bysinskategorisering in die 1920's
Volgens Ponelis (1972:209) is vroeë Afrikaanse skoolgrammatikas oorspronklik op Den Hertog se Nederlandse grammatika (Den Hertog, 1903a; 1903b; 19048) gebaseer. Rondom 1925, toe Afrikaans ampteliketaalstatus verkry het, het Maskew Miller se Taal en Styl vir Standerds VII en VIII verskyn (Hoogenhout & Botha, 1925). Hierdie werk, in ooreenstemming met Den Hertog (1904), definieer saamgestelde sinne as sinne met twee of meer hoofwerkwoorde wat saam 'n geheel vorm (Hoogenhout & Botha, 1925:12). Dit beskryf ook hoe die dele van 'n saamgestelde sin gelyke waarde kan hê en in 'n neweskikkende (byvoorbeeld in 11) of onder-skikkende (soos dat hy deur die drankduiwel gevang is wat die indirekte objek van hy voel in 12 is) verhouding tot mekaar kan staan (Hoogenhout & Botha, 1925:12).
11 Hy haat die drank en smag tog daarna. [Neweskikkende verband]
12 Hy voel dat hy deur die drankduiwel gevang is. [Onderskikkende verband]
Ook die algemene Afrikaansgrammatikas wat gedurende hierdie tyd verskyn het, soos die Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1924:203; 1925:203), onderskei tussen sinne met neweskikkende sinsverband en onderskikkende sinsverband. Anders as in die skoolbron, dui Bouman & Pienaar (1924:203; 1925:203) aan dat die sinne wat in 'n onderskikkende verband teenoor mekaar staan, soos die organe van een liggaam is en daarom nie sonder mekaar kan voorkom nie. Die hoofsin in 12 sal daarom sintakties onvolledig wees sonder die bysin, aangesien die weglating van die bysin sou veroorsaak dat die objek in die hoofsin ontbreek. Aan die ander kant, is 'n hoofsin waarvan die predikaat uitgebrei word met 'n bysin wat as bywoordelike bepaling funksioneer (byvoorbeeld 13 hier onder), nie noodwendig sintakties onvolledig sonder die bysin nie. In laasgenoemde geval verskaf die bysin slegs addisionele inligting wat nie grammatikaal vereis word nie (vergelyk Van Rooy, 2017:286), en daarom het die weglating daarvan geen effek op die volledigheid van die hoofsin nie. Volgens Biber et al. (1999:193) en Huddleston en Pullum (2005) is die bysin van die hoofsin "afhanklik", omdat dit nie onafhanklik kan voorkom nie, maar deel van 'n ander struktuur vorm.
13 Die telefoon lui, terwyl hy nog sy koffie drink. (Van Rooy, 2017:290)
Bysinne in Maskew Miller se Taal en Styl vir Standerds VII en VIII (Hoogenhout & Botha, 1925) word met woordsoorte in verband gebring, aangesien dié skoolbron aandui dat naamwoorde, adjektiewe (oftewel byvoeglike naamwoorde) en bywoorde tot bysinne "omskep" of "uitgebrei" kan word. Byvoorbeeld, die naamwoord wens in 14 word uitgebrei tot die bysin wat hy gewens het in 15, en die resulterende bysin word dan 'n afhanklike selfstandige bysin genoem. Die adjektiefflukse in 16 word uitgebrei tot die bysin wat fluks is in 17, en hierdie bysin word 'n afhanklike byvoeglike bysin genoem. Die bywoord stukkend in 18 kan tot die bysin dat die stukke so spat in 19 uitgebrei word, en hierdie bysin word 'n bywoordelike bysin genoem. Die skoolbron noem hierdie bysinne, maar verskaf min verdere besonderhede oor hierdie tipes bysinne. Dit stel dat "verskillende soorte bysinne in byna elke grammatika te vinde is" en brei dan nie verder oor hierdie verskillende tipes uit nie (Hoogenhout & Botha, 1925:14).
Daar word wel in Maskew Miller se Taal en Styl vir Standerds VII en VIII (1925) beperkings gestel op die gebruik van bysinne. Die bron wys daarop dat die gebruik van die bysin in voorbeeldsin 17 verkeerd sal wees, tensy dit spesifiek gebruik word om iets te benadruk - in hierdie geval die feit dat die meisie fluks is (Hoogenhout & Botha, 1925:14). Aan die ander kant is Hoogenhout en Botha (1925:14) van mening dat 'n mens nie onnodig 'n afhanklike bysin tot 'n bywoordelike of byvoeglike bepaling moet dwing nie, aangesien bysinne (byvoorbeeld 20 hier onder), volgens dié bron, soms beter as byvoeglike bepalings (byvoorbeeld 21) klink.
20 Dit is my vyand wat my ongelukkig gemaak het.
21 Dit is my ongelukkig makende vyand.
In die Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1924:203; 1925:203), daarenteen, word sintaktiese funksie, woordsoortelike funksie en vorm (of 'n kombinasie van funksie, woordsoort en vorm) as bysinsubkategoriseringsmaatstaf gebruik. Daar word vervolgens tussen die volgende bysinsoorte onderskei:
° voorwerpsinne wat as die objek van 'n hoofsin gebruik word, byvoorbeeld dat hy dronk is in 22 (Bouman & Pienaar, 1924:207; 1925:207);
° afhanklike vraagsinne wat as die objek van 'n hoofsin gebruik word, byvoorbeeld wie ditgedoen het in 23 (Bouman & Pienaar, 1924:208; 1925:208);
° betreklike bysinne (ook relatiewe sinne) wat betrekking het op die inhoud van 'n ander sin, byvoorbeeld wat daar loop in 24 (Bouman & Pienaar, 1924:208; 1925:208);
° substantiefsinne wat op dieselfde plek as 'n naamwoord staan en as 'n subjek of objek gebruik word, byvoorbeeld dat hulle gereed is om jou te vertrou sonder om jou te ken en dat hulle niks het om te verloor nie in 25 (Bouman & Pienaar, 1924:210; 1925:210); en
° beknopte sinne wat vormlik onderskei word op grond van die weglating van 'n werkwoord, byvoorbeeld nie dat ek hom heeltemal veroordeel nie in 26 (Bouman & Pienaar, 1924:219; 1925:219).
22 Ek sien dat hy dronk is.
23 Ek sal jou sê wie dit gedoen het.
24 Die man wat daar loop is lid van die volksraad.
25 Dat hulle gereed is om jou te vertrou sonder om jou te ken is 'n bewys dat hulle niks het om te verloor nie.
26 Nie dat ek hom heeltemal veroordeel nie, maar hy is 'n skurk.
Terwyl tipes bysinne in die algemene grammatika dus op grond van sintaktiese funksie, woordsoortelike funksie en/of vorm onderskei word, word daar, soos hier bo bespreek, slegs op grond van woordsoortelike funksie in die skoolgrammatika onderskei. Dit lei tot twee uiteenlopend verskillende subkategoriseringsisteme vir bysinne - daar is dus al in die 1920's nie 'n goeie ooreenstemming tussen die beskrywing in die algemene grammatika en die skoolgrammatika nie.
2.2 Bysinskategorisering in die 1930's
In 1933 verskyn 'n nuwe uitgawe van die Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1933). Weer word 'n onderskeid getref tussen saamgestelde sinne bestaande uit twee of meer volledige sinne, soos in 27, en enkelvoudige sinne waarin een van die dele afhanklik is, soos in 28 (Bouman & Pienaar, 1933:170).
27 Die vrou gaan uit en die man bly tuis.
[Sinne met neweskikkende sinsverband]
28 Wie nie wil hoor nie, moet voel.
[Sinne met onderskikkende sinsverband]
In teenstelling met vorige uitgawes, word 'n gesistematiseerde aanbieding van bysinne in die Afrikaanse Spraakkuns van 1933 gegee, en die verband tussen verskillende soorte bysinne word duidelik aangedui. Drie hooftipes bysinne word onderskei (Bouman & Pienaar, 1933:174-177), naamlik:
• substantiefsinne, met subtipes (i) onderwerpsin (wat die plek inneem van die subjek; kyk 29), (ii) voorwerpsin (wat as objek gebruik word; kyk 30) en (iii) gesegdesin (wat as naamwoordelike deel van die gesegde/kopulapredikaat/kopulakomplement funksioneer; kyk 31);
• betreklike bysinne / relatiewe sinne / byvoeglike bysinne wat ingelei word deur 'n betreklike voornaamwoord en as bepaler van 'n antesedent (wat altyd 'n naamwoord is) funksioneer (kyk 32); en
• bywoordelike bysinne / adverbiale sinne wat as bywoordelike bepaling gebruik word (kyk 33).
29 Dat daar soveel verkeersongelukke voorkom, is te betreur.
30 Ons w eet dat die aarde rond is.
31 My broer het geword wat hy altoos begeer het.
32 Die man wat daar loop, is my oom.
33 Toe hy dit sê, lag al die mense.
Vyf jaar later verskyn Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938) wat, soos blyk uit die voorwoord, spesifiek vir skoolgebruik saamgestel is. Anders as in die bronne wat tot dusver bespreek is, word hierin 'n onderskeid tussen saamgestelde sinne en veelvoudige sinne getref. Waar saamgestelde sinne bestaan uit 'n hoofsin en meer as een bysin (kyk 34), bestaan 'n veelvoudige sin uit twee of meer hoofsinne en bysinne (kyk 35).
34 Toe ek die donderwolke sien opsteek, het ek geweet dat dit gaan reën.
[Saamgestelde sin; een hoofsin en meer as een bysin aangedui in vetdruk]
35 Ek was eerlik en het hom gesê dat ek die feite uit die ensiklopedie gehaal het.
[Veelvoudige sin; meer as een hoofsin en 'n bysin aangedui in vetdruk]
Dieselfde tipes bysinne as in die 1933-Afrikaanse Spraakkuns word in PraktieseAfrikaanse Grammatika met Oefeninge onderskei, naamlik (i) selfstandige bysinne (met subtipes onderwerpsinne, voorwerpsinne en gesegdesinne), (ii) byvoeglike bysinne en (iii) bywoordelike bysinne. In teenstelling met die Afrikaanse Spraakkuns, word twee subsoorte voorwerpsinne in die skoolbron onderskei, naamlik lydende voorwerpsinne (kyk 36) en meewerkende voorwerpsinne (sien 37).
36 Die bakker wil weet of u brood nodig het.
[Lydende voorwerpsin]
37 Wie die meeste punte behaal, sal ek 'n prys gee.
[Meewerkende voorwerpsin]
'n Ooreenkoms wat hierdie skoolbron met die Afrikaanse Spraakkuns van 1924, 1925 en 1933 toon, is die siening dat aanhalings as bysinne gereken word. Vergelyk in hierdie verband die vetgedrukte aanhaling in voorbeeld 38 uit Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938:166).
38 "Hou jou woord," was altydsy leuse.
Oor aanhalings word in die Afrikaanse Spraakkuns van 1924, 1925 en 1933 aangedui dat hierdie tipe sinne slegs oënskynlik 'n selfstandige sin is, omdat die gebruik van die aanhalingstekens in wese aandui dat hierdie sin afhanklik van die verdere mededeling is (Bouman & Pienaar, 1924:206; 1925:205; 1933:173; vergelyk ook Den Hertog, 1904:40 wat verwys na bysinne wat dieselfde vorm as hoofsinne kan hê). Sulke sinne word daarom in die genoemde bronne as 'n oorgang tussen die neweskikkende en die onderskikkende sinsverband beskou. Die afhanklikheid van 'n bysin word daarom nie bloot net "uiterlik" deur 'n "grammatiese middel" gemerk nie (Bouman & Pienaar, 1925:205).
2.3 Bysinskategorisering in die 1940's
Die bronne uit hierdie tydperk sluit in Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1946) en Oefening en Taalwerk by die Nuwe Praktiese Grammatika, Stylkursus en Klankleer Deel 1 vir Std. VII en VIII (Vorm II en III) (Booysen & Marais, 1942). Eersgenoemde gee verbatim dieselfde inligting as vorige uitgawes, terwyl die laasgenoemde bron nie enige teorie oor bysinne bevat nie en slegs oefeninge voorstel.
2.4 Bysinskategorisering: bronne tussen 1950 en 1970
In Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955) word die bysin nie, soos in vorige bronne, beskryf as 'n taaleenheid wat 'n sinsdeel van 'n hoofsin is nie, maar as 'n bepaling wat 'n gesegde bevat en na die hoofsin verwys, of 'n sinsdeel in die hoofsin aanvul (Van der Merwe & Kempen, 1955:216-217). Net soos Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938) word twee afsonderlike terme gebruik om die struktuur van 'n sin wat nie enkelvoudig is nie, te beskryf, naamlik "veelvoudige sin" (bestaande uit twee onafhanklike sinne met/sonder bysinne) en "saamgestelde sin" (bestaande uit twee sinne wat elk sy eie hoofwerkwoord het, maar waarvan een sin ondergeskik is).
Vyf verskillende soorte bysinne word onderskei, naamlik:
• die byvoeglike bysin wat 'n selfstandige werkwoord het en dieselfde funksie as 'n adjektief verrig;
• die bywoordelike bysin wat 'n selfstandige werkwoord het en dieselfde funksie as bywoorde en bywoordelike woordgroepe verrig;
• die onderwerpsin wat 'n selfstandige werkwoord het en as 'n subjek gebruik word;
• die voorwerpsin wat 'n selfstandige werkwoord het en as 'n objek gebruik word; en
• die gesegdesin wat 'n selfstandige werkwoord het en as aanvulling van die koppelwerkwoord dien.
In teenstelling met sy voorgangers groepeer Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII VormsII en III (Van der Merwe & Kempen, 1955) die gesegdesin, voorwerpsin en onderwerpsin nié saam onder 'n sambreelterm, soos "selfstandige bysin" of "substantiefsin", nie.
Uit die voorbeelde van gesegdesinne wat in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III gebied word, blyk dit dat gesegdesinne, in teenstelling met onder andere Den Hertog (1904) se grammatika, nie uitsluitlik deur betreklike voornaamwoorde ingelei hoef te word nie. In 39 word die gesegdesin deur die betreklike voornaamwoord wat ingelei, terwyl die gesegdesin in 40 die onderskikkende voegwoord dat as inleier het.
39 Piet is wat hy graag wil wees.
40 Dit blyk dat hy onverskillig gery het.
Verder word daar onderskei tussen agt subsoorte bywoordelike bysinne, naamlik bywoordelike bysinne van plek of rigting, tyd, manier of wyse, graad, doel, oorsaak of rede, gevolg, voorwaarde en toegewing (Van der Merwe & Kempen, 1955:220-221). Dit is veel minder as die vyf subsoorte en twaalf subsubsoorte bywoordelike bysinne wat in Den Hertog (1904) voorkom, asook die subsoorte bywoordelike bysinne wat in Afrikaanse Spraakkuns 1933 (Bouman & Pienaar, 1933:181-185) aangetref word. Elkeen van die subsoorte bywoordelike bysinne in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III word hier onder met voorbeelde toegelig.
In dieselfde jaar verskyn die skoolbron Moderne Afrikaanse Taalstudie - Deel 1: Afrikaans as Eerste Taal Eerste Jaar - Standerd VI (Uys & De Villiers, 1955). In teenstelling met Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955) wat aandui dat saamgestelde en veelvoudige sinne uit bysinne kan bestaan, word bysinne hier slegs in verband met saamgestelde sinne gebring. Verskillende eienskappe, wat in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III ontbreek, word ook aan bysinne toegeken, naamlik dat (i) 'n bysin 'n subjek en 'n gesegde het, (ii) die woordvolgorde van bysinne van dié van enkelvoudige sinne verskil, (iii) bysinne deel vorm van 'n ander sin en daarom dieselfde funksie as "enkele woorde" (byvoorbeeld nuuskierig) of "uitbreidings" (byvoorbeeld uit nuuskierigheid) verrig, en (iv) bysinne altyd met voegwoorde begin (Uys & De Villiers, 1955:123-124).
Dieselfde vyf bysintipes as in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III, word ook in Moderne Afrikaanse Taalstudie - Deel 1: Afrikaans as Eerste Taal Eerste Jaar - Standerd VI onderskei. Een opsig waarin Moderne Afrikaanse Taalstudie van eersgenoemde bron verskil, is dat onderwerpsinne, voorwerpsinne en gesegdesinne daarin saam gegroepeer word en as "naamwoordelike bysinne" benoem word. Hierdie bysinne word op dieselfde wyse in die 1933-Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1933) en in Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938) saam gegroepeer. Daar word ook in Moderne Afrikaanse Taalstudie net melding gemaak van bywoordelike bysinne van tyd, rede, toegewing en voorwaarde "en andere", sonder om 'n volledige lys van die ander soorte bywoordelike bysinne te gee.
In Ons Moedertaal vir Standerds IX en X (Van der Merwe et al., 1970:186) word bywoordelike en byvoeglike frases "of sinsnedes (gewoonlik vaagweg bepalings genoem)" van bysinne onderskei. Die bywoordelike bepaling word beskou as "[e]nige groep woorde (sonder 'n selfstandige [werkwoord]) wat by die gesegde die standpunt, houding, oordeel, ens., van die spreker of skrywer aangee", terwyl die byvoeglike bepaling beskryf word as "[e]nige groep woorde (sonder 'n selfstandige [werkwoord]) wat die houding, oordeel of standpunt, ens. van die spreker of skrywer t.o.v. die onderwerp en/of die voorwerp gee" (Van der Merwe et al., 1970:186). Daarby word aangedui dat wanneer 'n sin meer as een selfstandige werkwoord bevat, dit 'n saamgestelde sin (bestaande uit een hoofsin en ten minste een bysin) of 'n veelvoudige sin (bestaande uit ten minste twee hoofsinne, met of sonder bysinne) kan wees. Hierdie beskrywing is in ooreenstemming met Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955) en Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938).
Daar word ook, soos in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955), eksplisiet gestel dat gesegdesinne nie noodwendig deur 'n betreklike voornaamwoord ingelei word nie. Geen uiteensetting van die subsoorte bywoordelike bysinne kom in Ons Moedertaal vir Standerds IX en Xvoor nie, hoewel daar, in ooreenstemming met Afrikaanse Spraakkuns 1933, eksemplaries na bywoordelike bysinne van plek, tyd, wyse of manier, rede, doel, graad, toegewing, vergelyking, en gevolg verwys word.
In 1974 publiseer Van Aardt et al. 'n reeks skoolhandboeke, getiteld Taalstudie vir die middelbare skool wat gemik is op standerds 6 tot 9. Hierdie reeks is saamgestel volgens die provinsiale regerings se lesplanne vir die onderrig van Afrikaanse grammatika. Die inhoud met betrekking tot die onderrig van bysinne wat in elkeen van hierdie handboeke aangebied word, is so gestruktureer dat elke jaar se inhoud op die voorafgaande jaar s'n voortbou. Hierdie hele reeks is in een jaar gepubliseer en vermoedelik tegelykertyd ontwikkel.
Taalstudie vir die middelbare skool 6 (Van Aardt et al, 1974a) bied 'n inleiding tot die onderskeid tussen enkelvoudige en saamgestelde sinne, maar fokus primêr op woordsoorte waar dit gaan oor die ontleding van sinne. Twee subsoorte saamgestelde sinne word onderskei, naamlik neweskikkend en onderskikkend saamgestelde sinne. Sodoende word die onderskeid tussen neweskikkende en onderskikkende voegwoorde, asook die funksie daarvan, beklemtoon. Slegs byvoeglike bysinne en bywoordelike bysinne word onderskei, en geen melding word gemaak van onderwerpsinne, voorwerpsinne of gesegdesinne nie. Daar word aangedui dat die term "byvoeglike bysin" (kyk 50) sinonimies is aan die term "betreklike bysin" (Van Aardt et al., 1974a:135), en dit word soos volg gedefinieer: "Die byvoeglike bysin ... word gewoonlik ingelei deur die betreklike voornaamwoord wat ... Let daarop dat die funksie van ... [byvoeglike] bysinne ... eintlik vergelyk kan word met die funksie van 'n byvoeglike naamwoord."
Die onderskeid tussen die verskillende soorte bywoordelike bysinne kom eers in Taalstudie vir die middelbare skool 7 aan bod. Hierin word tussen drie soorte bywoordelike bysinne onderskei, naamlik bywoordelike bysinne van tyd, plek en wyse (vergelyk voorbeelde 51 tot 53).
In Taalstudie vir die middelbare skool 8 word veelvoudige sinne naas saamgestelde en enkelvoudige sinne beskryf, maar veral die beskrywing van veelvoudige sinne verskil van bronne soos Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge wat dateer uit 1938 (kyk §2.2) en Ons Moedertaal vir Standerds IX en X (Van der Merwe et al., 1970:186). Saamgestelde sinne word beskou as sinne met meer as een gesegde wat met behulp van enige voegwoord (byvoorbeeld omdat of want) verbind word, of as enkelvoudige sinne waar "bysinne by die s.nw. of ww. [gevoeg word]" (Van Aardt et al., 1974c:22-23). Bysinne by die werkwoord en bysinne by die selfstandige naamwoord verwys in wese na die gebruikliker byvoeglike en bywoordelike bysinne. Daarenteen word veelvoudige sinne in dié bron beskryf as sinne wat met onder andere 'n kommapunt verbind word (Van Aardt et al., 1974c:22-23).
Uit die voorbeelde wat aangebied word (Van Aardt et al., 1974c:24-25), blyk dat bepalings, net soos in Ons Moedertaal vir Standerds IX en X (Van der Merwe et al., 1970:186), as 'n grammatikale eenheid sonder 'n werkwoord beskou word (sien 54) en teenoor die bysin, wat wel 'n werkwoord bevat, gestel word (sien 55).
54 Die bruin hond slaap.
[Bepaling by die naamwoord]
55 Die dorsmasjien wat reeds oud is, spoeg die kaf uit.
[Bysin by die naamwoord]
Geen verdere onderskeid met betrekking tot die verskillende soorte bysinne word in hierdie bron getref nie, maar die kwessie word vollediger in Taalstudie vir die middelbare skool 9 uiteengesit. In die laasgenoemde bron word verskillende soorte bysinne in die afdeling oor onderskikkend saamgestelde sinne, wat naas neweskikkend saamgestelde sinne bespreek word, hanteer. Onderskikkend saamgestelde sinne bestaan onder andere uit byvoeglike bysinne, onderwerpsinne, voorwerpsinne, gesegdesinne en bywoordelike bysinne. Agt verskillende soorte bywoordelike bysinne word gelys en met voorbeelde toegelig (kyk 56-63 vir Van Aardt et al., 1974d:225-226 se voorbeelde). Onderstaande indeling stem grotendeels ooreen met die indeling in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955) en Ons Moedertaal vir Standerds IXen X (Van der Merwe et al., 1970).
Met betrekking tot byvoeglike bysinne word daar in Taalstudie vir die middelbare skool 9 gemeld dat die term "byvoeglike bysin" sinonimies met "betreklike bysin" is. Daarby word aangedui dat byvoeglike bysinne deel van die subjek of die objek is, en die naamwoord bepaal. Die inleier daarvan is 'n betreklike voornaamwoord, soos aangedui in 64 uit Van Aardt et al. (1974d:223).
64 Die soldaat wat in die slag verwond is, herstel nou mooi.
Twee opmerkings rakende die uiteensetting van die gesegdesin in Van Aardt et al. (1974d) verdien aandag. Eerstens word daar afstand gedoen van die term "naamwoordelike gesegde" wat in die 1933-Afrikaanse Spraakkuns gebruik word om na die funksie van die gesegdesin te verwys. Die funksie van die gesegdesin word eerder as "aanvulling" van die koppelwerkwoord beskryf. Tweedens word dieselfde siening as in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955) en Ons Moedertaal vir Standerds IX en X (Van der Merwe et al., 1970) gehuldig, naamlik dat gesegdesinne ook deur onder-skikkende voegwoorde, en nie net deur betreklike voornaamwoorde nie, ingelei kan word. Vergelyk 65, waar die gesegdesin deur die onderskikkende voegwoord asof ingelei word.
65 Hy lyk asof hy geslaag het.
2.5 Bysinskategorisering in die 1980's
In die 1986-skoolbronAfrikaans vir Vandag Eerste Taal 8 (Anker et al., 1986) word die term "saamgestelde sin" gebruik om te verwys na een hoofsin wat met een of meerdere bysinne verbind. Dit word dus nie, soos die Taalstudie vir die middelbare skool-reeks, benader as 'n sambreelterm vir neweskikkend saamgestelde sinne en onderskikkend saamgestelde sinne nie (kyk §2.4). So 'n saamgestelde sin kan uit 'n hoofsin en 'n byvoeglike bysin (kyk 66), of hoofsin en 'n bywoordelike bysin (kyk 67) saamgestel wees (Anker et al., 1986:172-173).
66 Die man wat daardie motor roekeloos bestuur, dra 'n rooi das.
[Hoofsin en byvoeglike bysin]
67 Hy was hier, terwyl ek siek was.
[Hoofsin en bywoordelike bysin]
Soos in die bronne wat reeds bespreek is, beskryf Afrikaans vir Vandag Eerste Taal 8 ook die funksie van die byvoeglike bysin as 'n bepaler van die naamwoord. In 66, byvoorbeeld, bepaal die byvoeglike bysin wat daardie motor roekeloos bestuur slegs die naamwoord man, nie die man nie. Die funksie van 'n byvoeglike bysin word dus met dié van 'n adjektief vergelyk. Daarby word aangedui dat 'n byvoeglike bysin geïdentifiseer kan word deur die vraag "Watter + naamwoord?" te vra.
Wanneer die bywoordelike bysin bespreek word, word dit weer eens teenoor die
bywoordelike bepaling (bestaande uit bywoorde en bywoordelike woordgroepe sonder 'n gesegde) gestel. Slegs vier bywoordelike bysinne word onderskei, naamlik bywoordelike bysinne van tyd, plek, wyse en graad wat elkeen met 'n betrokke vraag geassosieer word (Anker et al,. 1986:173).
68 Ek het hom geroep toe ek hom sien.
[Bywoordelike bysin van tyd: Beantwoord die vraag " Wanneer? \
69 Jy kan gaan waarheen jy wil.
[Bywoordelike bysin van plek: Beantwoord die vraag "Waar?"]
70 Hy hardloop asof die duiwel agter hom is.
[Bywoordelike bysin van wyse: Beantwoord die vraag "Hoe vind die handeling plaas?"]
71 Hy skud so hard dat al die appels op die grond val.
[Bywoordelike bysin van graad: Beantwoord die vraag "Tot watter mate?" en word gekenmerk deur die bywoord so in die hoofsin]
2.6 Bysinskategorisering in die 1990's
In Ruimland9 & 10 (Esterhuyse et al., 1990), 'n skoolbron uit die 1990's, word bysinne weer eens in vyf tipes verdeel, naamlik onderwerp-, voorwerp- en gesegdesinne, en byvoeglike en bywoordelike bysinne. In teenstelling met Afrikaans vir Vandag Eerste Taal 8 (Anker et al., 1986), word daar in Ruimland aangedui dat die byvoeglike bysin die hele subjek of objek van die hoofsin spesifiseer, en nie net die naamwoord wat daarin voorkom nie. Daar word geredeneer dat die byvoeglike bysin wat die hoofartikel skryf in 72 die subjek die persoon bepaal, en nie net die naamwoord persoon nie. Dit veronderstel ook dat die byvoeglike bysin nié as deel van die subjek of die objek beskou word nie, maar eerder as 'n afsonderlike, ongeïntegreerde deel van die sin. Dit is in teenstelling met die siening in Afrikaans vir die middelbare skool 9 (Van Aardt et al., 1974d) waar die byvoeglike bysin as deel van die subjek of objek geag word (kyk §2.4). Hierbenewens word ook aangedui dat byvoeglike bysinne deur betreklike voornaamwoorde ingelei word.
72 Die persoon wat die hoofartikel skryf, is die redakteur. [Byvoeglike bysin]
Die sintaktiese eienskappe van onderwerpsinne geniet veral in Ruimland 9 & 10 (Esterhuyse et al., 1990) aandag. Daar word aangedui dat die onderwerpsin in die plek van die voornaamwoord dit (kyk 73) of hy/sy (kyk 74) kan staan, of dat dit voorafgegaan kan word deur 'n voorlopige subjek in die vorm van die voornaamwoord dit (kyk 75). Leerders word ook daarvan bewus gemaak dat voorwerpsinne nie noodwendig ná die hoofsin hoef te staan nie, maar ook voor die hoofsin kan voorkom (kyk 76).
73 Wat ek lees (= dit), is interessant.
74 Wie aan die hoof van die koerant staan (= hy/sy), beklee 'n verantwoordelikeposisie.
75 Dit is nie waarskynlik dat die berig gepubliseer sal word nie.
76 Hoeveel mag die nuusskeppers het, besef ons nou eers.
2.7 Bysinskategorisering in die 2000's
In die skoolbron Raamwerk 8 (Esterhuyse et al., 2000) word enkelvoudige sinne teenoor saamgestelde sinne gestel, en daar word aangedui dat eersgenoemde net "een gesegde" bevat (in vetdruk in 77), terwyl saamgestelde sinne "meer as een gesegdedeel" bevat (in vetdruk in 78). Net soos in Maskew Miller se Taal en Styl vir Standerds VII en VIII (kyk §2.1) word aangedui dat dit "soms beter [is] om een woord in plaas van 'n bepaling of sin te gebruik" (Esterhuyse et al., 2000:144). Vergelyk 79, waar die bepaling met die rooi hare gebruik word, in teenstelling met 80 waar een woord, naamlik rooihaarvrou, gebruik word.
77 Die werkers saag die bome af.
[Een gesegde: afsaag]
78 Die werkers op die bakkie saag die bome langs die swembad af, omdat hulle die plaveisel beskadig.
[Twee gesegdes: afsaag; beskadig]
79 Die vrou met die rooi hare het met ons kom praat.
[Bepaling: met die rooi hare]
80 Die rooihaarvrou het met ons kompraat.
2.8 Bysinsleiding in die huidige 2011-onderrigleerplan
In huidige skoolhandboeke word daar dikwels 'n gedetailleerde uiteensetting van sinstrukture, insluitende die onderskeid tussen hoofsinne en bysinne, aangebied. Alhoewel die benaderings en terminologie effens oor die verskillende handboeke heen verskil, is die klassifikasie van bysinne grotendeels vergelykbaar. By die bespreking in hierdie afdeling word een handleiding, naamlik Mind the Gap Afrikaans Huistaal Graad 12 Hersieningsgids (DBO, 2020), en twee skoolhandboeke wat tans vir graad 12-leerders voorgeskryf word, naamlik Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 (Scholtz & Vorster, 2013) en Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek (Vermaak et al, 2013), ingesluit.
In Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 (Scholtz & Vorster, 2013) word saamgestelde sinne beskryf as sinne wat meer as twee hoofwerkwoorde bevat. Drie soorte saamgestelde sinne word onderskei, naamlik (i) neweskikkend saamgestelde sinne (bestaande uit twee hoofsinne wat ewe belangrik is), (ii) onderskikkend saamgestelde sinne (bestaande uit een hoofsin en een of meer bysinne), en (iii) veelvoudige sinne waarvan dieselfde stel eienskappe as by neweskikkend saamgestelde sinne gegee word. Verdere verskille en/of ooreenkomste tussen die drie soorte saamgestelde sinne word nie gegee nie.
'n Uiteensetting van die verskillende soorte bysinne waaruit onderskikkend saamgestelde sinne kan bestaan, word wel gegee. Hier word onderskei tussen (i) selfstandige bysinne, (ii) bywoordelike bysinne en (iii) byvoeglike bysinne. Die selfstandige bysin word verder in drie subkategorieë verdeel, naamlik (i) onderwerpsinne (kyk 81), (ii) voorwerpsinne (kyk 82) en (iii) gesegdesinne (kyk 83), wat ál drie tot stand kom deur onderskeidelik die subjek, voorwerp en gesegdedeel (oftewel die sinsdeel ná 'n koppelwerkwoord) met 'n gesegde uit te brei. Hierdie uiteensetting en subkategorisering van die selfstandige bysin, is soortgelyk aan dié van Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1933), Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938) en Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955).
81 Dat hy verongeluk het, is waar.
[Onderwerpsin]
82 Hy voorspel dat dit sal reën.
[Voorwerpsin]
83 Hy is wat almal van hom sê.
[Gesegdesin]
Ook bywoordelike bysinne word in Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 verder verdeel in bywoordelike bysinne van tyd, plek, wyse, graad en modaliteit. Al die verskillende soorte (en subsoorte) bysinne word in voorbeelde 84 tot 91 geïllustreer.
84 Terwyl die son skyn, het ons gaan visvang.
[Bywoordelike bysin van tyd]
85 Ons woon waar die twee riviere bymekaar vloei.
[Bywoordelike bysin van plek]
86 Jan gaan tekere asof hy besete is.
[Bywoordelike bysin van wyse]
87 Ons leer ons werk totdat ons dit baie goed ken.
[Bywoordelike bysin van graad]
88 Hy koop 'n Lotto-kaartjie met die hoop dat hy dalk mag wen.9[Bywoordelike bysin van modaliteit]
89 Dat hy verongeluk het, is waar.
[Onderwerpsin]
90 Hy voorspel dat dit sal reën.
[Voorwerpsin]
91 Hy is wat almal van hom sê.
[Gesegdesin]
Byvoeglike bysinne word slegs met een voorbeeld geïllustreer (kyk 92). Daarby word aangedui dat byvoeglike bysinne deur betreklike voornaamwoorde, soos wat, waarop en waarmee ingelei word.
92 Die perd waarop die man ry, het hom afgegooi. [Byvoeglike bysin]
Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek (Vermaak et al., 2013) verskil van Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 in dié opsig dat dit nie soorte saamgestelde sinne onderskei nie. Hier is weer 'n terugkeer na die beskouing dat saamgestelde sinne uit 'n hoofsin en een of meer bysinne bestaan, en veelvoudige sinne uit twee of meer hoofsinne met of sonder een of meer bysinne. Veelvoudige sinne hoef derhalwe nie bysinne te bevat nie (vergelyk 93 vir 'n voorbeeld van 'n veelvoudige sin).
93 Snitte wat dikker is, is beter vir braai, want dun steak is altyd taai.
Die kategorieë bysinne waaruit saamgestelde (en ook veelvoudige) sinne kan bestaan, stem grotendeels ooreen met dié van Viva Afrikaans Huistaal Graad 12, naamlik onderwerpsinne, voorwerpsinne, gesegdesinne, byvoeglike bysinne en bywoordelike bysinne. Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek verskil egter van Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 in die opsig dat onderwerpsinne, voorwerpsinne en gesegdesinne nie saam gegroepeer word as selfstandige bysinne nie. Dit stel ook meer soorte bywoordelike bysinne as Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 voor, naamlik bywoordelike bysinne van plek, tyd, wyse, rede, gevolg, doel, graad, voorwaarde, toegewing en verhouding. Hierdie subkategorisering stem tot 'n groot mate ooreen met die indeling in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955) en Taalstudie vir die middelbare skool 9 (Van Aardt et al., 1974d). Daarby word veral die wysiging in die woordvolgorde van bysinne, waar die werkwoord nader aan die einde van die bysin staan, beklemtoon.
Mind the gap (DBO, 2020) verskil nie van Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 of Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek met betrekking tot die subkategorisering van bysinne nie. Dit is egter opvallend dat daar nie 'n eksplisiete bespreking van die verskillende tipes bywoordelike bysinne (byvoorbeeld bywoordelike bysinne van tyd, wyse of graad) aangebied word nie. Hierdie tipes bywoordelike bysinne kom egter wel in die memoranda agter in Mind the Gap voor. Hieruit blyk dit dat hierdie subkategorieë as agtergrondkennis beskou word en dat die aanname gemaak word dat die handleiding in samehang met voorgeskrewe handboeke, soos Viva Afrikaans Huistaal Graad 12, gebruik sal word.
Samevattend beskou (kyk TABEL 1 vir 'n volledige opsomming), word bysintipes in die huidige onderrigleerplan op grond van 'n kombinasie van funksionele, sintaktiese, betekenis-en/of vormlike kenmerke onderskei.
Die algehele aanbod met betrekking tot bysinne in die huidige skoolhandboeke is meer beperk wat die beskrywings en verklarings van bysinne betref as wat die geval in die vroeër bronne is. Die subsoorte bywoordelike bysinne wat aangebied word, is gereduseer tot vyf, teenoor bronne soos Taalstudie in die middelbare skool en Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III waarin daar onderskeidelik agt en nege subsoorte gelys word.
2.9 Gevolgtrekking
Die beskrywing van bysinne in skoolgrammatikas het oor die afgelope 100 jaar op verskeie maniere ontwikkel. Hoewel vyf hoofsoorte, naamlik onderwerpsinne, voorwerpsinne, gesegdesinne, byvoeglike bysinne en bywoordelike bysinne, meestal onderskei word, het die kriteria vir subkategorisering, die vorm wat hierdie bysinne kan hê en die subkategorieë daarvan met verloop van tyd verander. Hier onder word kortliks oor elkeen van hierdie drie ontwikkelingsaspekte uitgebrei.
Aanvanklik is slegs funksie as primêre maatstaf vir bysinskategorisering gebruik. In Den Hertog (1904) se grammatika, byvoorbeeld, is 'n bysin as 'n byvoeglike bysin gekategoriseer wanneer dit as 'n byvoeglike bepaling, dit wil sê 'n sinsdeel wat een of ander selfstandigheid beperk of uitbrei, gebruik is (vergelyk Den Hertog, 1904:67). Dit is as 'n bywoordelike bysin gekategoriseer wanneer dit as 'n bywoordelike bepaling, dit wil sê as 'n sinsdeel wat die handeling/toestand beperk of uitbrei, gebruik is (Den Hertog, 1904:78-79). Daar is aanvanklik dus nie tussen bysinne en bepalings onderskei nie.
Hierdie onderskeid word later wel getref, aangesien die definisie van bepalings verander het na "'n groep woorde sonder 'n gesegde" (vergelyk Vermaak et al., 2013). Waar 'n bepaling aanvanklik beskou is as 'n sintaktiese funksie wat deur verskillende konstruksies (bysinne ingesluit) verrig kan word, word dit later beskou as 'n sintaktiese eenheid met 'n spesifieke vorm en funksie, wat slegs tot die enkelvoudige sin beperk is en wat teenoor die bysin staan. Vergelyk voorbeelde 94 en 95 uit Afrikaans vir Vandag Eerste Taal 9 (Anker et al., 1986:173) om hierdie onderskeid te illustreer.
94 Hy praat hard. [Bywoordelike bepaling]
95 Hy praat so hard dat my ore tuit. [Bywoordelike bysin]
Verskillende soorte bysinne is ook later van tyd met sekere woordsoorte in verband gebring. Byvoorbeeld, substantiefsinne (later ook bekend as selfstandige bysinne en naamwoordelike bysinne) is onderskei op grond van die feit dat dit op dieselfde plek as 'n naamwoord staan of dieselfde funksie as 'n naamwoord verrig. Daar is ook in verskeie bronne aangedui dat byvoeglike bysinne dieselfde funksie as adjektiewe verrig, en dat bywoordelike bysinne soos bywoorde gebruik word. Volgens Den Hertog (1904:43) is so 'n siening nie korrek nie:
Veel meer bezwaarlijk nog is de indeeling der bijzinnen naar de woordsoorten, waardoor zij vervangen kunnen worden ... Het is nl. volstrekt niet juist, dat een bijvoeglijke zin altijd door een bijv. nwd., een bijwoordelijke bijzin altijd door een bijwoord weer te geven zou zijn. De telephoondraden, die over ons huis heenloopen, is niet alleen te vervangen door de over ons huis heenloopende telephoondraden, maar ook door de telephoondraden boven ons huis. En een bijwoordelijke bijzin kan men in negen van de tien gevallen beter door een zelfst. nwd. met een voorzetsel dan door een bijwoord weergeven.
Buiten dat die kriteria vir die kategorisering van bysinne oor die afgelope 100 jaar verander het, is ook nie net een vorm aan 'n soort bysin gekoppel nie. Neem die gesegdesin as voorbeeld. Hoewel die Afrikaanse Spraakkuns (Bouman & Pienaar, 1933; 1945) en Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Burger & Botha, 1938), in ooreenstemming met Den Hertog (1904), stel dat die gesegdesin slegs deur 'n betreklike voornaamwoord ingelei kan word, word hiervan afgewyk in skoolbronne wat daarna verskyn het. In Ruimland (Esterhuyse et al., 1990:437) word onderskikkende voegwoorde (soos of) byvoorbeeld ook as inleiers van gesegdesinne gereken (vergelyk voorbeeld 96).
Wat ook opgemerk is, is dat sommige subkategorieë van 'n spesifieke soort bysin verander het. Den Hertog (1904:57) onderskei tussen drie subkategorieë voorwerpsinne, naamlik lydende voorwerpsinne, medewerkende/belanghebbende voorwerpsinne en oorsaaklike voorwerpsinne. Tog word so 'n onderskeid nie verder in enige ander Afrikaanse skoolbron aangetref nie. Afrikaanse Grammatika met oefeninge (Botha & Burger, 1938) is die uitsondering. Hierin word na lydende voorwerpsinne en meewerkende voorwerpsinne verwys (vergelyk §2.2).
Ook die term "saamgestelde sin" is in verskillende tydperke verskillend gedefinieer. Waar saamgestelde sinne in Den Hertog (1904:3-4) se grammatika aanvanklik beskou is as 'n oorkoepelende benaming vir sinne in 'n neweskikkende en onderskikkende sinsverband, word dit in 1938 in Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938) gedefinieer as 'n sinstruktuur wat uit 'n hoofsin en meer as een bysin bestaan. Hierdie siening word in Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII Vorms II en III (Van der Merwe & Kempen, 1955), Afrikaans vir Vandag Eerste Taal 8 (Anker et al., 1986), Raamwerk 8 (Esterhuyse et al., 2000) en Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek (Vermaak et al, 2013) voortgesit. Daarenteen keer Taalstudie vir die middelbare skool 7 (Van Aardt et al., 1974b), Taalstudie vir die middelbare skool 8 (Van Aardt et al., 1974c) en Viva Afrikaans Huistaal Graad 12 (Scholtz & Vorster, 2013) weer terug na die onderskeid tussen neweskikkend en onderskikkend saamgestelde sinne. Die onderskeid word egter in Van Schoor se Grammatika van Standaard-Afrikaans afgekeur. Van Schoor (1983:41) redeneer dat 'n onderskeid tussen saamgestelde sinne en veelvoudige sinne, en per implikasie ook neweskikkend en onderskik-kend saamgestelde sinne, "oordrewe en irrelevant" is, omdat die term "saamgestelde sin" 'n mens in staat stel om te verwys na "alle sinne met meer as een klous".
Bepaalde leemtes is ook met betrekking tot bysinkategorisering opgemerk. In voorbeeld 97 hier onder word die bysin as 'n onderwerpsin geklassifiseer, hoewel die hoofsin (naamlik Die berig is onwaar) 'n subjek (naamlik die berig) het. Dieselfde geld vir 98 waar die bysin as 'n voorwerpsin gereken word, hoewel die hoofsin (naamlik Hy vra 'n waarborg) wel 'n objek (naamlik 'n waarborg) het. Dit is teenstrydig met eksplisiete riglyne dat 'n bysin slegs 'n onderwerpsin of voorwerpsin kan wees indien so 'n sinsdeel in die hoofsin ontbreek (vergelyk onder andere Esterhuyse et al, 1990:437; Vermaak et al., 2013). Die betrokke bysinne behoort derhalwe eerder as 'n ander soort bysin geklassifiseer te word. Den Hertog (1904:70) klassifiseer sulke bysinne as byvoeglike bysinne.
97 Die berig dat hy dood is, is onwaar.
98 Hy vra 'n waarborg dat die geld terugbetaal sal word.
Dit is ook in baie gevalle moeilik om tussen verskillende tipes bysinne te onderskei, omdat bysinne wat dieselfde inleier (vorm) het, en logieserwys as dieselfde soort bysin beskou kon word, op grond van hul funksie verskillend gekategoriseer word. Die bysinne in voorbeeld 99 en 100 het duidelik dieselfde struktuur, aangesien albei deur die onderskikkende voegwoord dat ingelei word. Tog word hulle verskillend geklassifiseer. Aangesien dat hy vanaand kom kuier in 99 die objek van die hoofsin Hy sê is, word dit as 'n voorwerpsin geklassifiseer, terwyl dat hy daar niks van geweet het nie in voorbeeld 100 die aanvulling van die koppelwerkwoord blyk is, en daarom as 'n gesegdesin gekategoriseer word.
99 Hy sê dat hy vanaand kom kuier. [Voorwerpsin]
100 Johan laat blyk dat hy daar niks van geweet het nie. [Gesegdesin]
So 'n benadering tot bysinskategorisering en -klassifisering skep 'n skeiding waar geen skeiding hoort nie. Dit kan vir leerders en onderwysers verwarrend wees en dit moeilik maak om korrek en konsekwent tussen verskillende kategorieë te onderskei. Daarby vereis dit dat leerders ook met sintaktiese funksies vertroud moet wees voordat tipes bysinne onderskei kan word.
Hierdie verwarring word selfs groter wanneer betekenis as maatstaf gebruik word om tussen verskillende subkategorieë van die bywoordelike bysin te onderskei. In 101, byvoorbeeld, word die beklemtoonde sinsdeel as 'n bywoordelike bysin van gevolg beskou, terwyl die beklemtoonde bysin in 102 as 'n bywoordelike bysin van graad gekategoriseer word (vergelyk Vermaak et al., 2013). Tog is dit nie duidelik waarom hulle nie dieselfde betekenis kan kommunikeer nie, want albei kan die vrae "Tot watter mate?" (om 'n graadbetekenis aan te dui) en "Wat het toe gebeur?" (om 'n gevolg aan te dui) beantwoord.
Hoewel funksie op skoolvlak as oorhoofse maatstaf by bysinkategorisering gebruik word, word hierdie kriterium dikwels met vormlike, sintaktiese of semantiese eienskappe in verband gebring (kyk §2.8). Die bywoordelike bysin word daaraan uitgeken dat dit die gesegde bepaal (funksie), vrae soos "Wanneer?" beantwoord (betekenis) en deur voegwoorde, soos voordat, ingelei word (vorm). Die kombinasie van verskillende kriteria vir kategorisering dui daarom boonop op die onduidelik afgebakende aard van bysinne, oftewel die wollerige grense daarvan.
3. Slot
Soos uit §2.9 blyk, het die beskrywing van bysinne in Afrikaans Huistaal oor die afgelope 100 jaar wel verandering ondergaan, al het die vyf hoofkategorieë grootliks onveranderd gebly. Hoewel funksie byvoorbeeld as hoofkriterium vir kategorisering gebruik word, word dit met bykomende kriteria uitgebrei, soos in die huidige onderrigleerplan (sien §2.8). Ook die vorm van die hoofsoorte bysinne en die subkategorieë waarin dit verdeel kan word, is op plekke gewysig. Hierdie wysigings is natuurlik te wagte, aangesien daar voortdurend navorsing oor taalkundige aspekte gedoen word. Hierdie navorsing lei tot nuwe insigte wat ook in skoolbronne gereflekteer behoort te word. Afrikaans Huistaal (en ander skoolgrammatikas) hoef dus nie noodwendig staties te wees nie. Daar is ruimte vir verandering wat met hedendaagse navorsing en benaderings byhou.
Op grond van die bevindinge van die huidige artikel, en in die besonder die vae kategoriegrense waardeur skoolbronne oor die afgelope 100 jaar gekenmerk word (kyk §2.9), is ons aanbeveling dat die kategoriegrense van bysinne in skoolbronne aangepas moet word, sodat Afrikaanse komplekse sinne konsekwent en op grond van maklik identifiseerbare eienskappe ontleed kan word. In 'n opvolgartikel, getiteld 'n Alternatiewe benadering tot kategorisering in Afrikaans Huistaal: Die bysin as gevallestudie, wat saam met die huidige artikel 'n eenheid vorm, word gepoog om so 'n alternatiewe bysinsindeling voor te stel.
BIBLIOGRAFIE
Aarts, B. 2024. Kan skoolgrammatikas wollerig wees? [Persoonlike korrespondensie]. 16 Aug., E-pos. [ Links ]
Aarts, B, Denison, D, Keizer, E & Popova, G. 2004. Fuzzy Grammar. New York: Oxford University Press. [ Links ]
Anker, J, Coetzee, G, Helm, C, Klopper, A, Verhoef, GM & Van Heerden, C. 1986. Afrikaans vir Vandag Eerste Taal 8. Kaapstad: Juta & Kie [ Links ]
Banda, C, Channing, O, De Beer, M, Gerber, J, Hanekom, P, Otto, S, Van Heerden, M & Van Rooy, R. 2014. Via Afrika Afrikaans Huistaal Graad 10 Leerderboek. Kaapstad: Via Afrika Publishers. [ Links ]
Biber, D, Johansson, S, Leech, G, Conrad, S & Finegan, E. 1999. Longman Grammar of Spoken and Written English. Essex, Engeland: Pearson Education Limited. [ Links ]
Biesenbach, J, Engelbrecht, A, Henning, C, Hofmeyr, L, Hugo, J, Louw, W, Mihai, M, Van Oort, R & Van Rooy, R. 2012. Platinum Afrikaans Huistaal Graad 5 Leerderboek. Kaapstad: Maskew Miller Learning. [ Links ]
Botha, MC & Burger, JF. 1938. Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge. Kaapstad: Maskew Miller Beperk. [ Links ]
Bouman, AC & Pienaar, EC. 1924. Afrikaanse Spraakkuns. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery. [ Links ]
Bouman, AC & Pienaar, EC. 1925. Afrikaanse Spraakkuns. Tweede druk. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery. [ Links ]
Bouman, AC & Pienaar, EC. 1933. Afrikaanse Spraakkuns. Derde verbeterde druk. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery. [ Links ]
Bouman, AC & Pienaar, EC. 1946. Afrikaanse Spraakkuns. Vierde hersiene druk. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Boekhandel. [ Links ]
Bourke, JM. 2005. The grammar we teach. Reflections on English Language Teaching, 4:85-97. [ Links ]
Booysen, CM & Marais, J. 1942. Oefening en Taalwerk by die Nuwe Praktiese Grammatika, Stylkursus en Klankleer Deel 1 vir Std. VII en VIII (Vorm II en III). Bloemfontein: Nasionale Pers. [ Links ]
Channing, OE, Hanekom, TP & Kritzinger, I. 2014. Via Afrika Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek. Kaapstad: Via Afrika Uitgewers. [ Links ]
Departement van Basiese Onderwys. 2020. Mind the Gap Afrikaans Huistaal Graad 12 Hersieningsgids. Pretoria: Departement van Basiese Onderwys. [ Links ]
Den Hertog, CH. 1903a. Nederlandsche Spraakkunst. Handleiding ten dienste van aanstaande (taal) onderwijzers. De leer van den enkelvoudigen zin. 2de druk. Amsterdam: W Versluys. [ Links ]
Den Hertog, CH. 1903b. Nederlandsche Spraakkunst. Handleiding ten dienste van aanstaande (taal) onderwijzers. De leer der woordsoorten. 2de druk. Amsterdam: W Versluys. [ Links ]
Den Hertog, CH. 1904. Nederlandsche Spraakkunst. Handleiding ten dienste van aanstaande (taal) onderwijzers. De leer van den samengestelden zin. 2de druk. Amsterdam: W Versluys. [ Links ]
Esterhuyse, J, Pienaar, J, Gouws, R, Botha, K & Links, T. 1990. Ruimland 9 & 10. Kaapstad: Maskew Miller Longman. [ Links ]
Esterhuyse, J, Gouws, S, Botha, K, Traut, J & Peacock, S. 2000. Raamwerk 8. Kaapstad: Maskew Miller Longman. [ Links ]
Horton, S & Bingle, B. 2014. Lessons in teaching grammar in primary schools. London: Learning Matters. [ Links ]
Hoogenhout, PI & Botha, MC. 1925. Maskew Miller se Taal en Styl vir Standerds VII en VIII. Kaapstad: Maskew Miller Beperk. [ Links ]
Huddleston, R & Pullum, GK. 2005. A Student 's Introduction to English Grammar. Cambridge University Press. Kindle-uitgawe. [ Links ]
Humphrey, S, Droga, L & Feez, S. 2012. Grammar and meaning. Newtown, Australia: Primary English Teaching Association Australia. [ Links ]
Lawrence, D, Le Cordeur, M, Van der Merwe, L, Van der Vfyver, C & Van Oort, R. 2014. Afrikaansmetodiek deur 'n nuwe bril. Kaapstad: Oxford University Press. [ Links ]
Petersen, L. 2014. Teachers' understanding of critical language awareness and their enactment of this understanding in the classroom. Kaapstad: Universiteit van Kaapstad. (Verhandeling - MEd. [ Links ])
Ponelis, FA. 1972. Die Afrikaanse sintaksis. In Van der Merwe (red.). Afrikaans: Sy aard en ontwikkeling. Pretoria: JL Van Schaik, pp. 209-218. [ Links ]
Richards, JC & Schmidt, R. 2013. Longman Dictionary of Language Teaching and Applied Linguistics. 4th ed. Abingdon, Oxon: Routledge. [ Links ]
Scholtz, PW & Vorster, ME. 2013. Viva Afrikaans Huistaal Graad 12. Florida Hills: Viva Publishers. [ Links ]
Thornbury, S. 1999. How to teach grammar. Harlow, Essex: Pearson Education Limited. [ Links ]
Uys, AM & De Villiers, M. 1955. Moderne Afrikaanse Taalstudie - Deel 1: Afrikaans as Eerste Taal Eerste Jaar - Standerd VI. Maskew Miller. [ Links ]
Van Aardt, CP, Combrink, JC & Eksteen, L. 1974a. Taalstudie vir die middelbare skool 6. Johannesburg: Perskor. [ Links ]
Van Aardt, CP, Combrink, JC & Eksteen, L. 1974b. Taalstudie vir die middelbare skool 7. Johannesburg: Perskor. [ Links ]
Van Aardt, CP, Combrink, JC & Eksteen, L. 1974c. Taalstudie vir die middelbare skool 8. Johannesburg: Perskor. [ Links ]
Van Aardt, CP, Combrink, JC & Eksteen, L. 1974d. Taalstudie vir die middelbare skool 9. Johannesburg: Perskor. [ Links ]
Van der Merwe, HJJM. 1966. Sinsbou (Sinsleer?). Klasgids: 71-72. [ Links ]
Van der Merwe, CP & Kempen, W. 1955. Afrikaans as Eerste Taal vir Stds. VII en VIII, Vorms II en III. Kaapstad: Nasou Beperk. [ Links ]
Van der Merwe, CP, Kempen, W, Van der Merwe, J & Meyer, PS. 1970. Ons Moedertaal vir Standerds IX en X: 'n Volledige Kursus vir Afrikaans as Eerste Taal. Johannesburg: Nasou Beperk. [ Links ]
Van Rooy, B. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In Carstens, WAM & Bosman, N. (reds.). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik, pp. 251-294. [ Links ]
Van Schoor, JL. 1983. Die Grammatika van Standaard-Afrikaans. Kaapstad: Lex Patria Uitgewers. [ Links ]
Vermaak, A, Du Plessis, S, Du Toit, E, Gouws, R, Hugo, J, Janse van Rensburg, C, Julies, G, Nel, M & Jansen van Nieuwenhuizen, I. 2013. Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek. Kaapstad: Maskew Miller Learning. [ Links ]
Viljoen, H, Lamprecht, R, Viljoen, F, Lighthelm, A, Murray, M, Conradie, N, Vosloo, R, Van Tonder, M & Plaatjies, S. 2013. Piekfyn Afrikaans - 'n Geïntegreerde taalteks uistaal Leerderboek Graad 9. Kaapstad: Best Books. [ Links ]
Vosloo, R, Viljoen, H, Prinsloo, B & Stevens, H. 2013. Piekfyn Afrikaans Geïntegreerde taalteks. Leerderboek Graad 12. Pretoria, Kaapstad: Best Books. [ Links ]
Ontvang: 2024-09-28
Goedgekeur: 2024-12-03
Gepubliseer: Maart 2025
Nadine Fouché-Karsien het in 2012 'n BEd-graad met Afrikaans as hoofvak aan die NWU behaal, in 2013 'n BEd-honneurs in Afrikaanse Taalonderwys en in 2016 'n MEd in Kurrikulum-Studies, albei ook met lof. Sy was vanaf 2016 tot 2019 'n lektor in die NWU se Fakulteit Opvoedkunde waar sy aspekte van Afrikaanse taalkunde en taalonderrig aan voorgraadse en nagraadse studente onderrig het. Sedert 2020 is sy 'n taal-kundeskrywer en -navorser vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), die leier van die projek Afrikaansgrammatika vir die onderwys en hoof-administrateur van Taalonderwysersforum, VivA se Facebookblad spesifiek gerig op die Afri-kaanstaalonderwysgemeenskap. Haar navor-singsbelangstellings sluit in kohesie, kritiese taalbewustheid en grammatika. Rakende gram-matika, fokus sy veral op die wyse waarop dit vernuwend onderrig kan word, asook die vernou-ing van die gaping tussen skoolgrammatika en die moderne taalkunde. Om in hierdie behoefte te voorsien, was sy in 2024 by 'n Afrikaans-onderwysersreeks in samewerking met Ina Stry-dom op RSG Taaldinge betrokke, hoewel sy ook al op verskeie ander geleenthede werkwinkels oor grammatikaonderrig aangebied het.
Nadine Fouché-Karsien obtained a BEd degree with Afrikaans as a major at NWU in 2012, followed by a BEd Honours in Afrikaans Language Teaching in 2013, and an MEd in Curriculum Studies in 2016, both with distinction. From 2016 to 2019, she was a lecturer in the Faculty of Education at NWU, where she taught aspects of Afrikaans linguistics and language teaching to both undergraduate and postgraduate students. Since 2020, she has been a linguist, writer, and researcher for the Virtual Institute for Afrikaans (VivA), the leader of the Afrikaans Grammar for Education project, and the chief administrator of Taalonderwysersforum, VivA's Facebook page aimed at the Afrikaans language education community. Her research interests include cohesion, critical language awareness, and grammar. Regarding grammar, she particularly focuses on innovative ways to teach it, as well as on narrowing the gap between school grammar and modern linguistics. To address this need, she was involved in a series for Afrikaans teachers, in collaboration with Ina Strydom, on RSG Taaldinge in 2024. Additionally, she has presented workshops on grammar teaching on various other occasions.
Rone Wdzrenga is 'n doktorale student in beskrywende taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en die Universiteit Gent in België. Haar PhD-projek behels 'n vergelykende studie oor sintaktiese en semantiese variasie in variëteite van Afrikaans. Haar navorsing fokus op taalverandering, taalvariasie en kontrastiewe taalkunde. Sy is aktief betrokke by verskeie navor-singsprojekte, insluitende die Projek vir Variasie in Afrikaans (ProVARIA) en die Stand van Afrikaans. Verder dra sy by tot die uitbreiding en instandhouding van die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT). Sy is ook werk-saam aan Afrikaanse grammatikas, soos VivA se Algemene Afrikaanse Grammatika en die Taal-portaal-grammatika oor Afrikaans, naas taalteg-nologieprojekte vir ander Suid-Afrikaanse tale en instansies.
Roné Wierenga is a doctoral student of descriptive linguistics at the North-West University and Ghent University in Belgium. Her PhD project involves a comparative study on syntactic and semantic variation in dialectal varieties of Afrikaans. Her research focuses on language change, language variation and contrastive linguistics. She is actively involved in several research projects, including the Project for Variation in Afrikaans (ProVARIA) and the Stand van Afrikaans. Furthermore, she contributes to the continued development and maintenance of the Digital Bibliography of Afrikaans Linguistics (DBAT). Her research includes work on Afrikaans grammars, such as VivA's Algemene Afrikaans Grammatika and Taalportaal, and language technology projects for other South African languages.
Adri Breed, 'n NNS-gegradeerde navorser, is 'n medeprofessor in beskrywende Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy spesialiseer in sintak-sis en semantiek, met 'n besondere fokus op die konstruksionalisme van Afrikaans en ander Wes-Germaanse konstruksies. Sy voltooi vyf grade aan die NWU, insluitende 'n graad in Bedryfs-kommunikasie (BBk - 2005), 'n graad in Teologie met Antieke Tale (BTh Tale - 2005), 'n Honneursgraad in Afrikaanse Taalkunde (BA Hons - 2007), 'n Magistergraad in Afrikaans Letterkunde (MA - 2007), en 'n PhD in Afrikaans Taalkunde (2012). Gedurende haar doktorale studie spandeer sy ongeveer tien maande aan die Universiteit van Antwerpen, België. Sy is tans die Adjunkdirekteur van die Skool vir Tale (Potchefstroomkampus) aan die NWU. Adri is een van die outeurs en moderators van Taalportaal (www.taalportaal.org) en het as eindredakteur vir die Afrikaansgrammatika van die Virtuele Instituut vir Afrikaans gedien (2020-2024).
Adri Breed, an NRF-rated scholar, is an Associate Professor of Afrikaans Descriptive Linguistics at North-West University's Potchef-stroom Campus. She specialises in syntax and semantics, with a particular focus on the con-structionalisation of Afrikaans and other West Germanic constructions. She holds five degrees from NWU, including a degree in Business Communication (BBk - 2005), a degree in Theology with Languages (BTh Languages - 2005), an Honours degree in Afrikaans Linguistics (BA Hons - 2007), a Master's degree in Afrikaans Literature (MA - 2007), and a PhD in Afrikaans Linguistics (2012). During her doctoral studies, she spent approximately ten months at the University of Antwerp, Belgium. She is currently the Deputy Director of the School of Languages (Potchefstroom Campus) at NWU. Adri is one of the authors and moderators of Taalportaal (www.taalportaal.org) and served as the editor-in-chief for the Virtual Institute for Afrikaans' Grammar (2020-2024).
Suléne Pilon is 'n beskrywende taalkundige van die Universiteit van Pretoria wat navorsing doen oor veral Afrikaanse sintaktiese konstruk-sies, wat sy vanuit 'n konstruksiegrammatika-perspektief beskryf. Sy is die moderator van die morfologieafdeling van die Afrikaanse Taal-portaal, en van die sintaksisafdeling van die Virtuele Instituut vir Afrikaans se Taalonder-rigportaal. Sy het ook al dikwels in die verlede saamgewerk aan navorsing oor en die ontwikkeling van Afrikaanse taaltegnologiehulpbronne en -toepassings, soos 'n Afrikaanse woordsoort-etiketteerder, die SADiLaR-befondsde Skryfhulp Afrikaans en CTexT se Afrikaanse Skryfgoed. Sy is sedert 2009 'n lid, en sedert 2022 ook die voorsitter, van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie.
Suléne Pilon is a descriptive linguist at the University of Pretoria, specialising in research on particularly Afrikaans syntactic constructions, which she describes from a construction grammar perspective. She is the moderator of the morphology section of the Afrikaans Language Portal and of the syntax section of the Virtual Institute for Afrikaans' Language Teaching Portal. She has also frequently collaborated on research and the development of Afrikaans language technology resources and applications, such as an Afrikaans part-of-speech tagger, the SADiLaR-funded Skryfhulp Afrikaans, and CTexT's Afrikaans Writing Assistant. She has been a member of the Language Commission of the South African Academy of Science and Art since 2009 and its chairperson since 2022.
1 In die Engelse taalkunde is die term "fuzziness" 'n standaardterm wat gebruik word om te verwys na 'n grammatikale eenheid "which has no clearly defined boundary" en wat gevolglik "fuzzy boundaries" het (Richards & Schmidt, 2013).
2 Elke voorbeeldsin kom uit die tersaaklike bron wat genoem word. Byvoorbeeld, die skoolbron Afrikaans Huistaal-hersieningsgids van die Departement van Basiese Onderwys (DBO, 2020:27) is hier die fokus, en daarom word geen bronverwysing by die betrokke voorbeeldsin ingevoeg nie. Slegs wanneer 'n voorbeeldsin nie uit die tersaaklike skoolbron kom nie, kry die voorbeeld 'n bronverwysing.
3 Nadine Fouché-Karsten vorm deel van VivA se taaladviesspan wat intydse terugvoer op taalnavrae voorsien.
4 Siegs die hoofadministrateur van Taalonderwysersforum, Nadine Fouché-Karsten, het toegang tot die resultate van hierdie meningsopname. Die deelnemers van Taalonderwysersforum is van 'n Google Form-skakel voorsien om die meningsopname te voltooi.
5 Taalonderwysersforum is die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se Facebookblad wat spesifiek vir dosente van Onderwysafrikaans, voornemende Afrikaansonderwysers en praktiserende Afrikaansonderwysers (insluitende tuisonderwysers) geskep is. Dit is 'n platform waar wenke rakende woordsoorte, klankleer, sintaksis, morfologie en semantiek gedeel word, omstrede kwes-sies ten opsigte van grammatika bespreek word, meningsopnames gehou en skakels na splinternuwe hulpmiddels en blogs aangekondig word wat op Taalonderrigportaal, een van die afdelings van Onderwys op VivA se webblad, beskikbaar gestel word.
6 Die outeurs van hierdie artikel is almal by die skryf van VivA se Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) en/of Algemene Afrikaanse Grammatika (AAG) betrokke.
7 Omdat geen skoolhandboeke wat uit die 1960's dateer, bekom kon word nie, word die bronne van die 1950's en 1970's saam bespreek in die afdeling "Bronne tussen 1950 en 1970".
8 Elkeen van die jaartalle dui op drie verskillende "dele" van die Nederlandse Spraakkunst wat verskyn het. Die deel oor die enkelvoudige sin het in 1903 verskyn, asook die deel oor woordsoorte. Die deel oor die saamgestelde sin het in 1904 verskyn.
9 In die bron is die bysin by hierdie voorbeeld foutiewelik as met die hoop dat hy dalk mag wen aangedui. Die sinsdeel met die hoop behoort egter nie deel van die aangeduide bysin te wees nie, aangesien dit deel van die hoofsin Hy koop 'n Lotto-kaartjie met die hoop is, en dit as bywoordelike bepaling funksioneer. Die bysin is slegs dat hy dalk mag wen, soos wat dit hier aangedui is.