Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a12
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Die trajek van Afrikaans as inheemse onderwys-taal van 1925 tot 2025: Gedagtes oor die verlede, die hede en die toekoms
The trajectory of Afrikaans as indigenous education language from 1925 to 2025: Thoughts on the past, the present and the future
Johan Beckmann
Navorsingsassosiaat: Kantoor vir Internasionale Betrekkinge, Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika. E-pos: johan.beckmann21@gmail.com. ORCID: https://orcid.org/0000-0002-7252-8483
OPSOMMING
UNESCO het al 'n groot hoeveelheid navorsing gedoen oor taaltrajekte (en onder andere bevind dat daar elke twee weke 'n taal "sterf'). Vrae oor die toekoms van Afrikaans as 'n relatiewe jong taal het daardeur na vore gekom.
Behalwe vir die Soweto-opstand van 1976 en die uitvaardiging van die Wet op Bantoe-Onderwys van 1953 was die afgelope honderd jaar relatief rustig vir Afrikaans as onderwystaal. Die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys, 32 van 2024 (algemeen bekend as die Bela-wet) het die situasie ingrypend verander.
In die artikel kom die posisie van Afrikaans as onderwystaal tussen 1925 en 1994 onder die soeklig. Belangrike elemente van die Bela-wet word ook belig. UNESCO se navorsingsverslae oor die uitwissing ("dood") van veral inheemse tale sal op die Bela-wet toegepas word om versigtige afleidings oor die toekoms en voortbestaan van Afrikaans as onderwystaal te kan maak.
Trefwoorde: onderwystaalbeleid, taalassimilasie, taalverval, taalontwikkeling, taaldiskriminasie, taaldruk, taalregte, taaloorlewing, moedertaalonder-wys, veeltaligheid, verstaatliking
ABSTRACT
This article presents a critical overview of 100 years of Afrikaans as an official and an indigenous language of education. It is, however, perhaps not the type of Afrikaans article (philosophical/historical/theoretical) with which the readers of the Tydskrif vir Geestes-wetenskappe (Journal of Humanities) would normally be expected to engage - notwithstanding the fact that the article is about Afrikaans as a language of education.
While I was searching for sources about language policy in higher education and training, I came across the vast amount of research that UNESCO has1 already done on language matters (among others that a language "dies" once every two weeks). The question arose as to how that fact could be linked to Afrikaans as a relatively new language of education (slightly more than 100years old).
I decided to focus on the development of Afrikaans as a language of education since 1925. In the introductory comments in the Afrikaans version of this article I set out reasons why I wanted to focus on the development trajectory of Afrikaans as an educational language. It started with a relatively calm development period, with some minor incidents having an impact on the development trajectory. Things started changing dramatically with the publication of the Bantu Education Act of 1953. Subsequent system changes followed, starting with the Soweto uprisings in 1976 and continuing until the beginning of the democratic era in 1994 when Afrikaans began facing intense pressure from a government dispensation that apparently sought to transform South Africa into a country in which English became the dominant language at the expense of all other languages spoken in South Africa, thereby creating a situation where these languages could eventually face extinction. After considering all the developments since 1925, I was inclined not to discard the possibility that Afrikaans might become extinct within the next 100 years, as suggested by Lagardien (2022).
In an autobiography by Meiring (2022), I unexpectedly came across official reports on how the British and the Americans2 attempted to use language assimilation, in addition to the Indian Residential School System (IRSS) in order to change the Canadian and American youth into well-mannered English-speaking Canadian and American youth with an English way of life deep into the 20th century.
Apart from the Soweto uprisings in 1976, the past hundred years was a relatively calm time for the development of the trajectory of Afrikaans as language of education. However, the Basic Education Laws Amendment Act (Bela)3 32 of 2024 (16 September 2024) changed the situation dramatically. The President has already signed the major part of the Bela Act into law. Sub-sections 4 and 5 which amend sub-sections 5 and 6 of the South African Schools Act of 1996 respectively are, however, still "frozen" (not signed into law yet subject to negotiations on the proposed amendments of the admission and language policies of public schools).
The proposed amendments to the two sub-sections of the Bela Law caused great trepidation, in particular in the school governing bodies and management structures of Afrikaans-speaking people. The two proposed amendments could be interpreted as mechanisms whereby schools ' competencies and capabilities to determine the admission and language policies of schools with regard to especially the use of language, in particular Afrikaans, as language of Learning and Teaching, could be transferred to the Provincial Head of the Department of Education (HOD).4
In this article I will investigate the position of Afrikaans as language of education between 1925 and 2025. The timeslot between 1925 and 1994 (when education was governed solely by the apartheid government) will feature strongly, as will the post-democratic period from 1994 onwards (which will include important elements of the Bela law). UNESCO's reports will include discussions of the causes of the destruction of especially indigenous languages and will form part of the arguments.
It would seem that there are many phenomena and strategies that may influence the future of Afrikaans. The steps taken to reduce the status of indigenous languages in the face of the provisions of the negotiated Constitution of1996 (RSA, 1996a) as the supreme law regarding the status of the languages of South Africa as a multilingual and diverse country should be taken into account. At this stage, English seems to be the only language of instruction at higher education level and it is also viewed as the sole language used in communication in the Department of Basic Education.
The linguicism or language discrimination/assimilation phenomenon provides lenses through which to observe the history of the trials and tribulations of Afrikaans. There are implications for the rights of language speakers emanating from the observations of what is happening to Afrikaans. I will refer to some of the implications and other phenomena that could be viewed as strategies that may be used to harm languages, shorten their lifespan, and even lead to their demise. Other forms of pressure exerted on languages by discrimination, assimilation, and linguicism, as well as pressure from outside and within languages as well as phenomena known as the death of language (or language murder or even language suicide) could have the same implications for indigenous languages. These can all alter the trajectory of languages, although they have not become generally used terminology in South Africa as yet.
Towards the end of the 19th century, Afrikaans emerged as an indigenous language from the interaction between Dutch, Khoisan and Malay languages. Attempts to establish it as a language of teaching and learning (LOLT)5 started then, but it had to face fierce opposition from Dutch and English. Efforts to introduce Afrikaans as an official LOLT in schools began in the Cape Province in 1914 at the initiative of the well-known Afrikaans author CJ Langenhoven, and then spread to the entire country.
One can distinguish two sentiments about the future of Afrikaans: an optimistic one (Afrikaans will not be destroyed) and a negative one (Afrikaans is not going to survive the onslaught). This article will survey the trajectory of the status of Afrikaans as an official language since 1925 (after it had become an official language in 1910 alongside English when the Union of South Africa was established).
This article will attempt to enable readers to develop a graphic representation of the development strategy of Afrikaans.
Keywords: education language policy, language assimilation, language deterioration, language development, language discrimination, language pressure, language rights, language survival, mother-tongue education, multilingualism, statism
1. Inleiding
My belangstelling in taal en onderwys (as oudtaalonderwyser), asook in die verband tussen taalbeleid en -wetgewing het die trajek van die ontwikkeling van tale vir my laat uitstaan as tema vir die artikel.6 My opvatting is versterk deur Lagardien (2022) se opmerking dat ten minste een van Suid-Afrika se 11 (tans 12) amptelike tale in die volgende 100 jaar vanweë taaldiskriminasie kan verdwyn.
Ek sal poog om 'n beeld te help skep van die ontwikkelingstrajek van Afrikaans as onderwystaal. Dit is nie 'n reglynige trajek nie, maar wissel na gelang van die omstandighede waarmee dit in aanraking kom. Ek vertrou die lesers sal ook hulle eie grafiese voorstellings van die trajek bou soos die geskiedenis van Afrikaans onder die loep kom.
Ek het gedink dat Afrikaans as onderwystaal vanaf 1925 op 'n rustige, gelyke pad was en dat die taal goed ontwikkel het as een van die twee amptelike onderwystale. Die ontwikkeling van hoër taalfunksies, soos om kursusse in hoër onderwys aan te bied, en vaktaalontwikkeling het Afrikaans ook toe gekenmerk. Teen die einde van die 1930's het die botsings tussen die politieke groep wat glad nie enkelmedium- Afrikaanse skole wou hê nie en die groep wat dit wou hê, die ontwikkelingslyn van Afrikaans polities aangeraak.7
Ná die verkiesings van 1948 was daar 'n aanpassing, maar Afrikaans en Engels was steeds die amptelike tale. Die nuwe eerste minister, dr. DF Malan, het in 1953 die Wet op Bantoe-onderwys uitgevaardig. Dit was die eerste keer dat daar in Suid-Afrika (en in Afrika as geheel) een wet gekom het wat al die inheemse tale onder een dak geplaas het.
Die onderwys is onder apartheidsreëls in twee groepe verdeel: Afrikaans en Engels vir wit sprekers (as een groep) en al die ander tale (met hulle skole ingesluit) in die land onder sentrale regeringsbeheer. Die inheemse Afrikatale wat nie amptelike tale was nie en die twee amptelike tale, Afrikaans en Engels, is nie gelyk behandel nie. Dit, tesame met die ander reëls wat inheemse mense onder druk geplaas het, het gelei tot die Soweto-opstande van 1976.
Daarna is 'n nuwe regeringsbedeling geskep met aparte regeringsdepartemente vir Blanke [sic] onderwys, Kleurlingonderwys [sic] en Indiëronderwys, asook twee liggame vir Swart onderwys (dié wat binne die wit Republiek se grense geval het en dié wat daarbuite geval het). Hierdie bedeling is steeds gekenmerk deur ongelykheid, en die weerstand teen Afrikaans het toegeneem.
In 1994 het die nuwe bedeling aangebreek met 118 amptelike tale, maar moedertaal-onderwys is net vir 3 jaar toegelaat. Daarna moes kinders oorskakel na Engels as onderwystaal. Afrikaans is tans onder hewige druk en loop gevaar om sy status as onderwystaal te verloor en volgens die teorieë van taaldiskriminasie blootgestel te word aan moontlike verval.
Dit alles beteken dat die ontwikkelingstrajek van Afrikaans byna onvermydelik gelei het tot 'n situasie waar die taal in gevaar verkeer om uitgewis te word. Indien al die inheemse tale nie saamwerk teen die pogings van die regering om Suid-Afrika 'n eentalige land met Engels as amptelike taal te maak nie,9 is daar 'n werklike kans dat Afrikaans as inheemse onderwystaal sal verdwyn, en dat dit gepaard sal gaan met 'n hele klomp sake wat die omgewing en lewensomstandighede van Afrikaanssprekendes ernstig sal benadeel. Afrikaanssprekende individue en organisasies sal elkeen sy eie beeld van die trajek van Afrikaans as onderwystaal moet opbou en daardeur in hulle toekomstige optrede gelei word.
Meiring (2022:177-179), 'n lid van die Waarheid- en Versoeningskomitee (WVK) in Suid-Afrika ná 1994, het Kanada na afloop van die WVK se werk besoek. Daar het hy kennis gemaak met 'n regter, die voorsitter van 'n komitee wat 'n ondersoek soortgelyk aan dié van die WVK ingestel het na die Kanadese Indian Residential School System (IRSS)-projek om binne 'n eeu en 'n half die inheemse bevolking en hulle tale te assimileer en te verander en hulle in Engelssprekende Kanadese te verander (Meiring, 2022:177) omdat daar op die inheemse tale en die sprekers daarvan neergesien is.
Gedurende die IRSS-projek is 150 000 inheemse leerders in kosskole opgeneem om hulle te verwesters. Leerders mag nie hulle huistale gebruik het nie, is van hulle families geskei en het hulle identiteit en selfrespek verloor. 10 000 leerders is vanweë die dwingelandy oorlede (Meiring, 2022:177). Die Kanadese ondersoekkomitee se gevolgtrekking, wat ná 2000 gepubliseer is, het die IRSS se maatreëls as "kulturele volksmoord" geëtiketteer (Meiring, 2022:179) en daarmee aangetoon dat die verdwyning van 'n taal baie meer gevolge inhou vir die sprekers daarvan as net die verval van 'n taal in onbruik.
Volgens Waxman (2022) was daar baie ooreenkomste tussen die IRSS en die VSA se Indian Boarding Schools-projek. Ook die gekolonialiseerde Afrikalande het soortgelyke druk op hulle inheemse tale ervaar (Sayedayn, 2021; Kehinde, 2006, in Mart, 2011:191). Sayedayn (2021:134) voer aan:
[c]olonization is often associated with economic and linguistic imperialism. What occurred in Ireland, Singapore, Kenya, and Papua New Guinea are good examples of this phenomenon. The identity of the colonized population comes to depend on mastering the language of the colonizer.
Ek stel vervolgens eers die sentrale navorsingsvraag en die akademiese argument aan die orde en bespreek dan die teoretiese benadering en die data-insameling.
2. Navorsingsvraag en -argument
Burger (2018) vra of die huidige voorgestelde wetswysigings oor Afrikaans as onderwystaal "nou regtig die begin van die einde vir Afrikaans is". Sy sê: "Suid-Afrika is vol swartgalliges wat glo als is aan't ondergaan - Afrikaans inkluis. Daar is ook optimiste wat sê nee wat, die taal was nog nooit so lewend nie." Een kernvraag kom na vore:
• Hoe het Afrikaans as inheemse en skoolonderwystaal in die afgelope 100 jaar ontwikkel en watter bedreigings vir die voortbestaan daarvan is belig deur die bestudering van die trajekte van tale in internasionale verband?
Uit die vergelyking van Afrikaans met internasionale tale wil dit voorkom of Afrikaans ook elemente het wat kan ooreenstem met wat in internasionale tale wat verdwyn het, voorgekom het.
3. Teoretiese benadering en data-insameling
Die assimilering, verval, uitwissing, vernietiging, verswelging, diskriminasie, verstaatliking, verdwyning, dood (selfs selfdood) of moord van 'n inheemse taal word in talle bronne gekoppel aan die uitwissing van 'n inheemse taal. Skrywers wie se toeligting van die skade wat aan inheemse tale se ontwikkelingstrajekte vermeld kan word, sluit in Meiring (2022), Malan (2010 en 2014), Sayedayn (2021), Mart (2011), Kehinde (2006, in Mart, 2011:191), Giliomee (2003), Bornman (2022) en Lagardien (2022).
Dit wil voorkom asof Coleman (2017) 'n baie relevante verskynsel in hierdie verband geïdentifiseer het, naamlik die vervanging van meervoudige onderwystale met 'n enkele dominante taal, naamlik Engels. Wat in Suid-Afrika besig is om plaas te vind (kyk par 4.1) kom ook in die gebiede voor wat deur Coleman (2017) en andere beoordeel word en sluit ook weerstand in teen die skynbare bevoordeling van Engels.
Presies hoe dit gebeur dat 'n inheemse taal soos Afrikaans "uitgewis" kan word, is nie baie duidelik nie. Meiring (2022) en Malan (2010 en 2014) verskaf wel nuttige inligting. Kehinde (2006, in Mart, 2011:191) vertel ook wat gebeur het wanneer tale in ander dele van Afrika vernietig is.
Coleman (2017:18) wys ook daarop dat wat besig is om te gebeur, is dat die globale homogenisering van onderwys en die taal van onderwys steeds toeneem. Coleman lig sy standpunt verder toe:
As English is increasingly given the role of medium of instruction, in secondary schools and universities throughout the world, the educational functions of national, regional and local languages wither and die ... these languages begin to disappear from other contexts as well: 'English is fast replacing local languages, even in domains such as the home'. (Bunce et al., 2016a:1)
Coleman (2017:20) haal Manocha en Panda (2015) aan, wat 'n duidelike voorbeeld verskaf van een van die dinge wat kan gebeur met kinders wie se moedertaal nie die onderwystaal is van die skool wat hulle bywoon nie:
In the Odia-medium schools the children's [SAORA] language and culture have no place [Insertion by the author]. The researchers record the devastating consequences when a child, using his home language, innocently asks a classmate to pass him a book:
Rahul received a tight slap on his head... The teacher yelled at Rahul, 'Why were you talking in Saora? Speak in Odia.'
The authors conclude with the heart-breaking observation that 'the students whose language and culture have no place in the school often drop behind; and all one sees are their big vacant eyes.'
Die beskrywings wat Meiring (2022) en Mart (2011) oor Kanada en die VSA verskaf, en Giliomee (2003) se beskrywing van wat tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog en in die skole met met Afrikaans as onderwystaal daarna tot in 2010 gebeur het, bevestig wat die ander outeurs sê. Een van die medewerkers van Coleman (2017) dui ook aan dat daar eintlik nog nie navorsing oor die uitwissingsfenomeen van inheemse tale gedoen is nie en dat baie navorsingswerk nog wag.
Data is ingesamel deur die analises van bronne oor Afrikaans, soos relevante gepubliseerde navorsingsartikels in Afrikaans en Engels. Regeringspublikasies en verslae van relevante en geloofwaardige navorsings- en ondersoekliggame is ook ontleed. Alle data is aan die hand van relevante teorieë oor toepaslike bedreigingsfenomene (wat tot die uitwissing van, of funeste gevolge vir 'n taal en sy sprekers kan lei) ontleed.
Die beskrywings van Meiring (2022) en onderwysreg- en beleidsdokumente is ook ondersoek op grond van die inligting wat na vore kom. Vrae oor moontlike skendings van die individuele en groepsfundamentele regte van sprekers van inheemse tale is ook gevra. Ek het ook betroubare nuus- en ander media gebruik.
4. Afrikaans versus Engels as dominante taal en ander invloede op die ontwikkeling van Afrikaans as onderwystaal
Dr. Henry Stone (1998:45), hoof van die Blanke (sic) eiesake onderwysdepartement voor 1994, sê dat daar "rooiwarm emosies" broei rondom tale, "want ... wie op 'n taal trap of sy suurstoftoevoer afsny, kry te doen met oorlewingsemosies. Subtiele en minder subtiele kragte ontspring by die Afrikaner uit 'n byna primordiale vrees
Stone inisieer só 'n verkenning van die spanning tussen 'n onderwystaal en die persepsies van die mag en invloed van 'n dominante taal soos Engels. Potgieter (2015:4) twyfel nie dat Engels "onregmatig in omtrent elke denkbare hoekie van ... die staatshuishouding en ... ons elkedagse nasiehuishouding bevoordeel" word nie. Afrikaans moes "... sy eens magtige status as een van slegs twee amptelike tale ... ná 1994 ... prysgee (terwyl ... Engels ... fabelagtig in status én mag toegeneem het) ...".
McGovern (2019) beweer dat min mense sal dink dat Engels nie die "leading world language" is nie. Hy bring meer duidelikheid oor die status van Engels. Hy sê eerstens dat meer mense Spaans as Engels as hulle eerste taal praat. Al praat drie keer meer mense Mandaryns-Chinees as hulle eerste taal as Engels, is McGovern (2019) oortuig "... few would dispute that English is the leading world language", al is dit slegs die derde grootste eerstetaal (moedertaal) in die wêreld. Engels is die wêreld se lingua franca of die grootste tweedetaal (dit wil sê, aangeleerd en nie moedertaal nie) en is in hierdie verband meer as twee keer groter as Hindi (nommer 2) en moderne Standaard-Arabies (nommer 3). McGovern (2029) beskryf Engels as die internasionale taal van die sakewêreld, die handelswêreld, van wetenskap en geneeskunde en nog baie ander sleutelareas. Ook in die diplomatieke wêreld wat vroeër deur Frans oorheers is, is Engels nou dominant in die meeste streke van die wêreld.
Crystal (2003:426) word ook deur McGovern (2019) aangehaal waar hy sê dat niemoedertaalsprekers van Engels dit al hoe meer as 'n praktiese werkinstrument gebruik. Dit neem al hoe meer die gestalte aan van 'n lingua franca wat deur miljoene mense gebruik word wanneer hulle met mekaar praat (McCrum, in McGovern, 2019).10
Volgens Silva (1997) en Smit (1997:170) is Engels vanaf 1806 as skoolonderwystaal in die Kaap op onwillige gemeenskappe afgedwing. Die wedywering tussen Nederlands- en Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes oor die taalmedium in skole het toe begin. Giliomee (2003:5) illustreer uit die geskiedenis (teen die einde van die 19de eeu) dat druk op 'n taal uitgeoefen kan word van buite en van binne:
The English-speaking part of the population tended to consider Afrikaans as a public language beneath contempt. The Cape Argus ... called Afrikaans a 'miserable, bastard jargon' ...
... even greater enemies of Afrikaans were those better-educated Afrikaners ... To them Afrikaans was an embarrassment ... a language welded from different tongues ... They considered Afrikaans an impoverished dialect, degenerate Dutch, an incomprehensible Creole tongue...
Die bostaande paragrawe gee 'n goeie aanduiding van die moeilike posisie waarin Afrikaans hom sou bevind, sou hy in 'n geskil met Engels betrokke raak in verband met die status van die twee tale as amptelike tale en as onderwystale. Dat sodanige twis sou kon lei tot 'n koersverandering in die ontwikkeling van Afrikaans as skoolonderwystaal, is byna onbetwisbaar.
In wese handel twis oor skole en tale oor 'n geskil oor die waarde van 'n moedertaal en ander tale as die taal van onderwys en leer in skole. Hierdie saak word hier onder aangeraak.
4.1 Moedertaalonderwys
Bornman (2022) wys daarop dat sommige mense glo Engels is "... in elk geval die wêreldtaal ... die taal van globalisering en die globale mark" en dat dit daarom "... beter is dat ons kinders en studente in Engels studeer" en beter voorberei word vir die beroepswêreld. Bornman (2022) verwys na dié aannames as "wanpersepsies en mites".
Moedertaalonderrig is 'n onderwerp "... waaroor daar wêreldwyd die meeste navorsing gedoen word" (Bornman, 2022). Bornman (2022) sê ook dat UNESCO se grootskaalse navorsingsprogramme telkens bevind het dat moedertaalonderrig "net eenvoudig die beste!" is.
4.2 Enkele aangeleenthede wat die ontwikkelingstrajek van 'n taal kan beïnvloed
4.2.1 Niemoedertaalsprekers en moedertaalsprekers
Giliomee (2003:5)11 illustreer uit die geskiedenis (teen die einde van die 19de eeu) dat die optrede van moedertaalsprekers sowel as niemoedertaalsprekers die vorming en ontwikkeling van 'n taal kan beïnvloed.
4.2.2 Verstaatliking
Die konstitusionele juris Malan (2010:281-282) sê die "diskoers oor enkelmedium- openbare skole en oor voertale in onderwys" (taalassimilasie) speel teen die agtergrond van "wedywerende opvattings oor die staat" af. Volgens Malan behels 'n Jakobynse beskouing van verstaatliking dat die "staat gewoonlik kultureel die karakter van die dominante gemeenskap, gewoonlik die meerderheid" aanneem, en daarna almal forseer "om die karakter daarvan aan te neem en derhalwe daarin geassimileer te word".
Malan (2010:282) sê ook dat opvoeding daarop gemik is dat kinders hulle "partikuliere identiteite moet aflê ten einde in 'n nuwe homogene staatsbepaalde identiteit op te gaan". Malan (2014) meen verder dat "taalverval" of die bedreiging van inheemse of minderheidstale in 'n homogene staat grootliks die gevolg van "verstaatliking" is wat onvermydelik 'n invloed op die rigting van die ontwikkeling van 'n taal sal hê.
4.2.3 Taaldiskriminasie of taalassimilasie
Die begrip "taaldiskriminasie" is die Afrikaans vir "linguicism". Dié begrip is in 1998 deur Skutnabb geskep (Skutnabb-Kangas & Phillipson, 1994) en poog om die verskynsel dat die vernietiging van 'n inheemse taal meer kan inhou as net die vernietiging van 'n taal, in een konsep vas te vang.
Kehinde (2006, in Mart, 2022:191) vat die implikasies van taalassimilasie in Afrika saam en verwys na sommige vrese van inheemse taalsprekers: "Western colonisers are not content with pillaging human and material resources ... They also ... destroy the indigenous cultures (values, religion, language, and dressing codes)." Vergelyk ook Meiring (2022) en Waxman (2022) asook Manocha en Panda (in Coleman, 2019:20).
Al die verskillende elemente van taaldiskriminasie kan 'n invloed op 'n taal se ontwikkelingstrajek hê.
4.2.4 Taalverdwyning
Taalverdwyning is waarskynlik die grootste vrees van taalliefhebbers. Die werklikheid van die verdwyning van tale is duidelik uit internasionale data soos dié van die UN DESA Policy Brief (2023) en die UN Permanent Forum on Indigenous Issues (hierna UNPF, 2018). 40% van die tale wat in die wêreld gepraat word, kan verdwyn en 95% van die wêreld se tale kan teen die einde van die 21ste eeu verdwyn of ernstig bedreig word.
Volgens die UNPF (2018) word taalverdwyning deur "assimilationist policies, social pressure, demographic change and the emphasis on a homogeneous nation State model ..." veroorsaak. Die druk van vreemdelinge (met groter hulpbronne) lei nie noodwendig tot die verdwyning van inheemse tale nie. Inheemse taalsprekers kan hulle suksesvol verset teen die druk op hulle tale (Sayedayn, 2021:137; UNPF, 2018).
4.2.5 Die grootste invloed op die trajek van Afrikaans as onderwystaal
Ek het reeds aangedui dat Afrikaans gemaklik van 1925 tot 1948 as onderwystaal kon ontwikkel toe net Engels en Afrikaans as amptelike tale en onderwystale erken is. In hierdie tydperk het 'n organisasie soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 'n groot rol gespeel in die gladde verloop van die ontwikkeling van Afrikaans as onderwystaal, onder andere deur die ontwikkeling van 'n spelstelsel vir Afrikaans, die ontwikkeling van vaktaal-woordeboeke, die stimulering van letterkunde in Afrikaans en ander bydraes om die ontwikkeling van Afrikaans stewig op koers te hou.
Die Akademie het 'n belangrike rol gespeel in die ophef van Afrikaans tot hoër funksies, soos universiteitsonderrig en navorsing.12 1909 is daarom 'n belangrike datum in die geskiedenis van Afrikaans met die stigting van "de Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst" (die SA Akademie). In die 116 jaar van sy bestaan (1909-2025) het die Akademie verskeie visionêre aksies geloods en Afrikaans bevorder.13
Die druk op Afrikaans as onderwystaal in die tydperke 1948 tot 1994 en van 1994 tot die hede is gekenmerk deur die felle druk op Afrikaans. Die hoofoorsaak van die spanning en druk op Afrikaans was polities en ekonomies van aard voor en tydens die oorgang na 'n demokrasie.
5. Afrikaans as taal en onderwystaal van ongeveer 1806 tot 1925 in die Kaap en Natal en die Oranje-Vrystaat en Transvaalse Republieke
Alhoewel die artikel handel oor Afrikaans as onderwystaal in die tydperk 1925 tot 2025, wil ek tog die tydperk 1806 tot 1925 as 'n inleiding gebruik tot 'n bespreking van die tydperk vanaf 1806 wat as 't ware "die tafel gedek het" vir insidente wat die gelykmatige ontwikkeling van Afrikaans as amptelike onderrigtaal vanaf 1925 in 'n mate gekniehalter het.
Volgens Carstens en Raidt (2019) was die "term 'Afrikaans' reeds teen 1875 in die omloop", maar nog nie gevestig nie. In 1875 is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat "hulle taal" wat hulle wou bevorder, Afrikaans genoem het, gestig (Willemse, 2015:4).
Van Oort (2008:54) merk op: "... die tweede koms van die Engelse in 1806 het die taalkontaksituasie aan die Kaap sodanig verander dat dit toenemend komplekse en spanningsvolle taalkontak tussen Nederlands, Engels en Kaaps-Hollands (Afrikaans) veroorsaak het". Smit (1997:169-170) som die taalsituasie in die onderwys tot 1948 op as "an ongoing rivalry and competition between ... two ... population groups, the Dutch/Afrikaans First Language speakers ... and the English First Language speakers".
In die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902), "Britain crushed the two Boer republics and introduced English as the sole official language in the ex-republics" (Giliomee, 2003:6). Engels het toe die enigste taal in skole geword en saam daarmee ook 'n voorbeeld van die misbruik van mag rakende taal geword.
Afrikaanse kinders was ná die Suid-Afrikaanse Oorlog in Suid-Afrikaanse skole. Hulle mag nie Afrikaans in skole gepraat het nie en is gestraf as hulle dit wel sou doen. In hedendaagse menseregtetaal beteken dit dat Afrikaanse kinders se reg op die keuse van 'n onderwystaal in artikel 29(2) van die Grondwet (RSA, 1996a) hulle ontneem is en dat hulle identiteit en menswaardigheid aangetas is.
Die druk op Afrikaans- eerstetaalsprekende kinders se taal is vererger weens hulle swakker prestasies as Engelssprekende leerders. In 1915 kon net 15% van Afrikaanse leerders verder as standerd 5 (hedendaagse graad 7) vorder (Giliomee, 2003:9).
Die regering van die Kaap het ná die einde van die oorlog gepoog om Nederlands ernstig aan bande te lê (Giliomee, 2003:6). Die Nasionale Konvensie wat die grondwet van die Unie van Suid-Afrika moes opstel, het in artikel 137 van die grondwet bepaal dat beide Engels en Nederlands amptelike tale van die Unie op 'n gelyke grondslag sou wees (Giliomee, 2002:7). 'n Uitvloeisel daarvan was die ontstaan van dubbelmedium-, enkelmedium- en parallel-mediumskole vir wit leerders.
Malherbe (1959) en Van Rensburg (2017) verwys na 'n ontwikkeling in 1914 as die "verrassende vordering" met Afrikaans ná Langenhoven se bewuswording van die ongemak van Afrikaanssprekendes met Hollands as skooltaal (Van Rensburg, 2017:55). Afrikaanssprekende kinders het nie Hollands geken nie en het uiters swak presteer.
In 1914 het die Afrikaanse skrywer en politikus CJ Langenhoven 'n lid van die Kaapse Provinsiale Raad geword. Op 23 April 1914 lê hy 'n voorstel aan dié Raad voor oor Afrikaans as LoLT (Language of Learning and Teaching)14 nadat hy buite raadsvergaderings "stemme gewerf het" (Van Rensburg, 2017:57) en só die eerste aktivis vir Afrikaans as skooltaal geword het. Die Kaapse Provinsiale Raad het Langenhoven se voorstel eenparig aanvaar (Van Rensburg, 2017:57), maar hy moes sorg vir ondersteuning van die invoer van Afrikaans as skooltaal tot in standerd 4, die voorsiening van onderwysmateriaal in Afrikaans, gehalteversekering van die onderwysmateriaal, en die stigting van 'n standaardiseringskommissie vir Afrikaans. Die provinsiale rade van die Vrystaat en Transvaal het ook in 1914 sy voorstel ondersteun, maar in Natal het ouers eers in 1916 in 'n ordonnansie die reg gekry om 'n LoLT te kies.15
6. Afrikaans as skoolonderwystaal van 1925 tot 1948
Die bespreking van die tydperk van 1925 tot 1948 word beperk tot die werk van Truter (2004),16Giliomee (2003), Stanley (2018) en die South African History Online (SAHO, 2019).
Die South African History Online (SAHO, 2019) berig dat die regering in 1936 'n Kommissie van Ondersoek na Swart Onderwys aangestel het. Daar is egter feitlik niks gedoen om die geïdentifiseerde probleme te hanteer nie. Hierdie versuim of onvermoë van die regering om swart onderwys se probleme te hanteer, het hulle die argwaan van swart mense teenoor Afrikaanse mense op die hals gehaal.
Die stygende getal arm Afrikaners het bygedra tot die "urgency to demand that the schools switch from Dutch to Afrikaans as medium of instruction" (Giliomee, 2003:14). Nadat Afrikaans die status van amptelike taal in 1925 verwerf het, het dit Nederlands feitlik onmiddellik as skoolonderwystaal vervang. Die Afrikaanse skole het sedert die 1920's in 'n toenemende mate enkelmediumskole geword (Giliomee, 2003:14). Tussen 1932 en 1958 het enkelmedium- Afrikaanstalige skole van 28% tot 62% vermeerder.
In 1938 het Malherbe 18 000 leerders by 'n ondersoek betrek en bevind dat tweetalige skole voordele bo eentalige skole het. Volgens Truter (2004:99) was die voordele van tweetalige skole bo eentalige skole volgens Malherbe dat dit
a type of school [was] where English and Afrikaans speaking children [could] associate freely together so that they learn to know each other as well as each other's language; and where the method of instruction is such that every child, no matter what the language of his home or his schoolmates, is guaranteed to become an educated, bilingual South African.
Daar was sterk weerstand teen sy siening deur voorstanders van moedertaalonderwys as LoLT.
Die SAHO (2019) verwys na die 1940-Kommissie van Ondersoek na griewe by swart skole. Weens vrees dat dit tot meer woede by die kinders kon lei, is die bevindinge nie geopenbaar nie
Die weerstand teen Afrikaans as enigste LoLT het deels voortgespruit uit Afrikaans se sukses gedurende die 1920's en 1930's. Afrikaanse enkelmediumskole het vermeerder en provinsiale onderwyswetgewing het die "reg van ouers om die voertaal ... bokant standerd vier (later standerd ses) te kies" erken (Truter, 2004:154).
Die Verenigde Party-regering (VP) van genl. Smuts het een nasieskap (Afrikaans- én Engelssprekend) in die vorm van tweetalige skole nagestreef (Truter, 2004:101). Volgens hulle moes die onderwysstelsel kinders goeie Suid-Afrikaners maak en nie goeie nasionaliste nie.
Die beginsel van moedertaalonderwys is aanvaar, mits die invoer van Afrikaans as tweede LoLT op 'n meer opvoedkundig-aanvaarbare tydstip sou plaasvind.
In die 1920's en 1930's is verpligte moedertaalonderwys van standerd 4 tot standerd 6 uitgebrei (Truter, 2004:77). Behalwe enkelmediumskole het daar ook parallelmediumskole ontwikkel. Dubbelmediumskole is vir eers geïgnoreer, maar het ná 1939 in die partypolitieke arena beland. Die provinsiale en nasionale verkiesings in 1943 het in 'n mate gewentel om die taalbeleid in skole met genl. Smuts se party, wat tweetalige skole voorgestaan het, en die opposisie wat enkelmedium- Afrikaanse skole voorgestaan het.
Genl. Smuts se party het die 1943-verkiesing gewen en dubbelmediumskole as beleid gepromoveer. Die VP-kongres het reeds in 1941 besluit om enkelmediumskole, veral Afrikaansmediumskole, af te skaf (Truter, 2004:101). Die uitslag van die parlementêre en die provinsiale verkiesing was 'n oorwinning vir die VP en dus 'n oorwinning vir die beginsel van tweetalige skole en 'n terugslag vir eentalige Afrikaansmediumskole.
In reaksie op die ontwikkelings het adv. CR Swart in 1944 'n mosie in die parlement ingedien vir 'n besluit ten gunste van die beginsel van moedertaalonderrig in primêre, sekondêre en hoër onderwys (Truter, 2004:101-102). Genl. Smuts het 'n teenvoorstel ter tafel gelê. Dit is aanvaar en het tot in 1948 gegeld.
7. Afrikaans as skoolonderwystaal van 1948 tot 1994
Esterhuizen (s.j.) bespreek die geskiedenis van die amptelike tale in Suid-Afrika. Voor 1994 was daar "net drie tale wat op verskillende tye ... die amptelike tale was: Nederlands, Engels en Afrikaans" (die ander Suid-Afrikaanse tale het op daardie stadium nie die status van amptelike tale gehad nie). Afrikaans was vanaf 1925 'n amptelike taal en 'n skooltaal, maar sonder enige werklike mag. Nadat 'n Afrikaanssprekende party, die Nasionale Party, die regering in 1948 oorgeneem het, het Afrikaans in 1950 die "hooftaal" geword, al het Engels steeds "'n groot rol gespeel".
Afrikaans was vanaf 1948 'n LoLT (Truter, 2004:123) en enkelmediumskole het amptelike NP-beleid geword. Die oorwegend Engelssprekende Natal het eers in 1969 moedertaalonderwys gemagtig. Daar was ook teenstand teen pogings om Afrikaans die "hooftaal" in die onderwys ten koste van die dominante Engels te maak.
Een jaar ná die promulgering van die Wet op Bantoe-onderwys sê Coetzee (1954:1973) dat subartikels 2(a-b) van hierdie wet die beheer oor naturelle-onderwys by die Unieregering geplaas het en provinsiale rade se bevoegdhede heeltemal weggeneem het (Coetzee, 1954:174), waarskynlik vanweë vrese dat van die provinsies deur ander partye as die heersende party geregeer kon word en aan die onderwysstelsels sou verander. Naturelle-onderwys (sic) het 'n parallelle stelsel van die ander onderwysstelsels geword, maar was minder bevoorreg as die twee hoofstelsels.
Volgens Giliomee (2003:15) sou Afrikaans en 'n wit regering in 1960 baie versterk gewees het as die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap van 1,5 miljoen by die 1,8 miljoen wit Afrikaanssprekendes betrek is (Giliomee, 2003:15). Die voortbestaan van Afrikaans as onderwystaal sou dan ook 'n sterker kans gehad het en die ontwikkelingspatroon van Afrikaans sou meer opwaarts geneig het.
Die regering het in 196017 die LoLT-beleid in bruin skole ingrypend gewysig sonder om die bruin gemeenskap te raadpleeg. In 1936 is sowat 42 000 bruin kinders slegs in Afrikaans onderrig (Giliomee, 2003:16). In 1970 is byna alle bruin kinders in Afrikaans onderrig. Hierdie ingryping van die regering het neergekom op wat Malan (1910) "verstaatliking" sou noem.
Die ignoreer van die bruin gemeenskap in besluitneming oor gedeelde belange het verdere druk op Afrikaans as onderrigtaal geplaas. Die bruin gemeenskap kon die beperking van hulle LoLT as onderdrukking gesien het. Waar owerhede gewoonlik 'n "vreemde" maar dominante taal as amptelike taal probeer vestig, het die owerheid nou sprekers wat sy LoLT-keuse gedeel het, vervreem.
Giliomee (2003:16) waarsku teen gevare vir Afrikaans in die gebeure ná 1948. Afrikaans, apartheid en die Afrikaans-beheerde staat het niewit Afrikaanssprekendes laat voel hulle "had become locked in a tight and suffocating embrace. Afrikaans had become the language of the oppressor .". Hierdie gevoel wat by niewit Afrikaanssprekendes moes ontstaan het, moes hulle laat dink het hulle word uit eie geledere onderdruk en sou hulle geesdrif vir Afrikaans ondermyn het - iets wat ook in die ontwikkelingskurwe van Afrikaans sigbaar sou wees.
Giliomee (2003:16) verwys na 'n stelling van Alan Paton, die skrywer van Cry the beloved country, wat in 1976 deur prof. Jakes Gerwel van die Universiteit van Wes-Kaapland aangehaal is: "... 'only a fool or a philologist' would discuss Afrikaans without thinking immediately of Afrikaner nationalism and its close association with apartheid".
Volgens Giliomee (2003:16) het Afrikaans volgens Paton die definiërende eienskap van die staat geword en het die grootste deel van die bevolking die staat (insluitende Afrikaans) geïdentifiseer in terme van "its image of arrogance and cruelty".
Afrikaners se begeerte om hulle taal as LoLT te behou, het toegeneem saam met hulle vrees dat "Afrikaans, the very symbol of their roots in Africa, would not survive" (Giliomee, 2003:16). Die eienskappe van 'n moontlike slagoffer van taaldiskriminasie is al hoe duideliker deur Afrikaans vertoon.
As 'n mens na die termyn 1969 tot 1994 kyk, val dit op dat die getal leerders wat Afrikaans as LoLT gebruik het, verbasend vanaf 1948 in sekondêre skole verminder het (Behr & MacMillan, 1971:63, in Truter, 2004:124-125.) Die projeksie van 'n 1970-sensus was dat Afrikaanssprekendes wat Afrikaans as LoLT gebruik, bestendig sou afneem (Giliomee, 2003:16-17). In 1970 was hulle 18% van die bevolking en die raming vir 2000 was 15%. Volgens Stats SA (2022) se verslag oor die 2022-sensus het die persentasie van die bevolking wat Afrikaans die meeste as huistaal gebruik, tot 10,6% in 2022 gedaal. Op die grafiek van die ontwikkeling van Afrikaans as onderwystaal sal die persentasie van die bevolking wat Afrikaans die meeste as huistaal gebruik het, vanaf 1969 deur 'n afwaartse streep verteenwoor-dig word.
FEDSAS (die Nasionale Verteenwoordigende Organisasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) het in Oktober 2023 'n reeks PowerPoint-skyfies met uittreksels uit die Luritz Nasionale Databasis van Desember 2021 versprei. Die skyfies vul die data in die bostaande paragrawe visueel goed aan.18
In figuur 4 word die klein groei in die toename van die gesamentlike Afrikaanse bevolking van 2021 tot 2041 aangedui, sowel as die groei van die getal bruin, wit en swart Afrikaans-sprekendes.
Die jaar 1976 laat Suid-Afrikaners onmiddellik aan die Soweto-opstand van 1976 dink. Die aspekte van die onderwys wat soveel ontevredenheid en argwaan by swart mense laat ontstaan het, het voor 1976 onbeteueld voortgeduur. Afrikaanssprekendes het die probleme óf nie verstaan nie, óf wou of kon dit nie hanteer nie.
Die totale skeiding tussen rassegroepe se skole het voortgeduur. Per capita-besteding aan swart onderwys het minder gebly as dié aan wit onderwys (ongeveer een-tiende daarvan). Swart skole se fasiliteite, onderwysers en teksboeke was swak (Amoako, 2020) en gevoelens van onderdrukking, rassediskriminasie, minderwaardigheid en uitsigloosheid het toegeneem. Ontevredenheid oor hulle behandeling deur wit Afrikaanssprekendes het meer intens geword en het begin lei tot gewelddadige verset en opstand teen die taalbeleid. Wat Amoako (2020) hier sê, ondersteun in 'n mate die opvattings dat die verset nie soseer teen Afrikaans gerig was nie, maar teen die hele regeringsbedeling wat deur Afrikaanssprekendes vir hulle onderdrukking verantwoordelik was.
Stanley (2018:1040) weerspreek algemene opvattings dat leerderopstande en -proteste eers teen 1970 begin het. Sy sê: "South African student protests and related activities in predominantly mission schools and colleges ... occurred well before 1920." Dit het gepaardgegaan met politieke protes teen "racial policies and practices by the state ..." (Stanley, 2018:1042-1043).
Die leerders se beskouing was dat hulle inrigtings deel van die staatsmasjinerie op die plaaslike vlak was en nie soseer dat dit Afrikaanse skole was nie (Stanley, 2028:1048). Dit was 'n voorafskaduwing van die gewelddadige protesaksies in die 1970's en daarna. Dit resoneer ook met Malan (2014) se siening van "verstaatliking" as die hoofoorsaak van die verval van inheemse nie-onderwystale.
Die toenemende vrees oor die toekoms van Afrikaans het waarskynlik sommige Afrikanerpolitici en -ampsdraers gedurende die 1970's hulle magte laat oorskry (Giliomee, 2003:17). Dr. AP Treurnicht, die adjunkminister van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling, het gemeen dat Afrikaans net kon oorleef as die regering die LoLT in swart skole bepaal het, omdat dié skole subsidies van die staat ontvang het (Giliomee, 2003:17).
Amoaka (2020) verduidelik die ontstaan van die Soweto-opstand van 1976. Hy verwys na die "Afrikaans-medium decree" wat deur die minister van Bantoe-onderwys en -ontwikkeling (1974) uitgevaardig is. Hierdeur is beide Afrikaans en Engels verpligtend in swart sekondêre skole gemaak (en nie net Afrikaans nie). Volgens Verhoef (2016)19 is die dekreet nie op alle skole afgedwing nie en die Cillié-kommissie van ondersoek het syfers verskaf oor skole wat vrygestel is van die gebruik van Afrikaans.
Volgens dr. Treurnicht moes die dekreet swart mense toerus om met Afrikaans- en Engelssprekende wit mense te kan kommunikeer (Amoaka, 2020). Die dekreet was baie onpopulêr, ook onder ouers en swart gemeenskapsorganisasies (Giliomee, 2003:17).
Op 16 Junie 1976 het verset deur leerders in Soweto begin. Leerders het plakkate met slagspreuke soos "If we must do Afrikaans Vorster20 must do Zulu" gedra (Giliomee, 2003:17). Ná 16 maande en verskeie konfrontasies met die polisie was 600-700 swart mense dood.
Die twaalfjarige Hector Pieterson is op 16 Junie 1976 deur die polisie doodgeskiet. Die fotograaf Sam Nzima het 'n foto geneem van Hector wat weggedra word na Nzima se motor. By 'n nabygeleë kliniek is hy dood verklaar. Die foto het skokgolwe deur die wêreld gestuur en gelei tot vrae oor Afrikaans.
Die 1974-dekreet is deur sommige mense as die enigste oorsaak van die opstande voorgehou. Andere het polities-geïnspireerde motiewe geblameer en taal net as 'n periferale oorsaak beskou. Pohland-McCormick (2006) verklaar: "The attacks on the symbols and institutions of the apartheid state ... indicated a political crisis that called into question the structures of apartheid and the system of thought it was premised on." Shebone, Barrell en Seegers (2007:355) meen dat leerders in Soweto geweier het om "nog langer aandadig aan hulle eie verdrukking te wees. Die verwerping van Afrikaans as onderrigmedium het 'n opstand ontlok ...".
Inwoners van Soweto het Afrikaans al twee dekades voor die onluste "die taal van die onderdrukker genoem" (Shebone et al., 2007:363). 'n 1972-meningspeiling het bevind dat 98% van die swart jongmense in Soweto nie Afrikaans as LoLT wou hê nie, omdat dit hulle kanse op werk in Johannesburg sou benadeel. Ongeveer 50% van die respondente het gedink Afrikaners "is die wreedste en mins simpatieke groep in Suid-Afrika".
Drie weke ná die begin van die opstand het MC Botha, die destydse minister van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling en Bantoe-onderwys, aangekondig dat skoolhoofde self verder die voertaal in hulle skole kon bepaal. Afrikaans het nog verder veld as LoLT in swart sekondêre skole verloor. Die proteste en geweld het vir nog meer as 'n jaar voortgeduur (Pohland-McCormick, 2006).
Volgens Shebone et al. (2007:364) het Kunene (s.d.) van die Zoeloe-koerant Ilanga die oorsake van die Soweto-opstand in een paragraaf vasgevang:
Swartes vernietig nie fasiliteite nie ... Hulle vernietig simbole van die hele stelsel wat wittes vir hulle bedink het ... paswette Bantoe-onderwys geen verblyfsekerheid nie ... onbillike verdeling van die land se rykdom, en 'n ontkenning van die demokratiese reg op besluitneming.21
Kunene het afgesluit met die stelling dat Afrikaans feitlik "patologies verag, verwens, verafsku en gehaat" word. Afrikaners wou egter steeds hulle taal as LoLT en amptelike taal behou. Die begeerte het toegeneem namate die vrese dat "Afrikaans, the very symbol of their roots in Africa, would not survive" toegeneem het.
8. Afrikaans as skoolonderwystaal vanaf 1994
'n Verslag van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Solidariteit Navorsingsinstituut oor die algemene demografie van Afrikaans is in November 2022 bekendgestel. Volgens LitNet (2022) het Steenkamp, die ATR-hoof, aangedui dat die verslag die "kwesbare aspekte van Afrikaans" aanraak. Daar is bevind dat Afrikaanssprekendes "krimp as 'n persentasie van die land se algehele bevolking" en dat hulle bedingingsmag teenoor die staat daardeur verswak word.
Steenkamp (2004) is oortuig dat Afrikaanssprekendes "buite hulle gemaksone sal moet beweeg om die lewenskragtigheid van Afrikaans te behou en uit te bou". Afrikaans sal moet afsien van sy witmanstaalbeeld en saam met ander Afrikaanssprekendes en ander inheemse taalsprekers werk om Afrikaans teen die beleid van Engels as die dominante taal in Suid-Afrika te verskans. Beide standpunte verdien ondersteuning: beter samewerking "tussen Afrikaanse organisasies en netwerke" en "nuwe in-diepte gesprekke tussen wit, bruin en swart Afrikaans-sprekendes oor kwessies soos identiteit, taal, en die onderwys".
Die vermindering van Afrikaans se toegang tot staatshulpbronne word nou ook as 'n vorm van druk op Afrikaans as LoLT genoem. Verminderde toegang tot staatshulpbronne is waarskynlik 'n skending van artikel 3(2) van die Grondwet van 1996 (RSA, 1996a) en onderhewig aan moontlike regsoptrede. Hierdie artikel bepaal dat:
Alle burgers ... in gelyke mate (a) geregtig [is] op die regte, voorregte en voordele van burgerskap en (b) onderworpe aan die pligte en verantwoordelikhede van burgerskap [Invoeging tussen hakies en verskuiwing van [is] deur die outeur].
Die posisie van Afrikaans het vanaf 1994 aansienlik verander in die lig van nuwe grondwetlike en ander regsbepalings. Subartikel 6(1) van die Grondwet van 1996 verklaar 11 tale22 as die amptelike tale van die RSA. Subartikel 2 verwys na die negatiewe geskiedenis van inheemse tale en gelas die staat om maatreëls te tref om hulle status en gebruik te bevorder. Afrikaans is nou in 'n vreemde posisie waar dit net een van 12 amptelike tale is teenoor ander tye wat dit een van twee of drie was. Vanaf 1806 was Engels altyd een van, of die enigste amptelike LoLT.
Artikel 29(2) van die Grondwet van 1996 (RSA, 1996a) gee elkeen23 die reg om 'n LoLT te kies in openbare instellings waar dit "redelikerwyse doenlik" is. Die frase "redelikerwyse doenlik" is onduidelik en skep 'n geleentheid om iemand te verhoed om hierdie reg uit te oefen as die LoLT deur 'n gemagtigde persoon nie as "redelik doenlik" beskou word nie.
Die res van die artikel verplig die staat om alle redelike alternatiewe (ook enkel-mediuminstellings) te oorweeg om aan almal redelike toegang tot hierdie reg te verseker. Billikheid, doenlikheid en die regstel van rassediskriminasie van die verlede moet verseker word.
Die laaste drie toevoegings hier bo is 'n kompromis wat ter elfder ure tydens die KODESA-onderhandelings aanvaar is. Dit bevat newelagtige en versluierde taal en die bepalings is so vaag dat enige of al drie van die voorbehoude gebruik sou kon word om die keuse van Afrikaans as LoLT te verydel.
In die koerantartikel "Afrikaans: 'Angie draai mense 'n rat voor die oë'" verwys Price (2024) na oudminister Motshekga se uitspraak in Bloemfontein in Mei 2024 dat die Bela-wetsontwerp nie "Afrikaans as moeder- en onderrigtaal in openbare skole sal vernietig nie". Sy verwys ook na die Departement van Basiese Onderwys (hierna DBO) se voorneme om moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys (MTO) vanaf 2025 by openbare skole in te faseer.
Sy het bygevoeg dat die DBO eerder "by Afrikaanse skole wil leer hoe om ook ander landstale in skole uit te bou".
Alana Bailey (in Price, 2024), die hoof van Afriforum se kultuursake, was skepties oor dié uitlatings wat Afrikaners gerus wou stel. Bailey het aangevoer dat enkelmedium- Afrikaanse skole se "personeellede en beheerliggame gewoond daaraan" is om deurlopend "onder druk te verkeer om na dubbel- of parallelmedium om te skakel. Die minister self en ander ANC-politici se venynige aanvalle op Afrikaanse skole in die verlede maak die ware stand van sake duidelik".
President Ramaphosa het ook voor die nasionale verkiesing op 29 Mei 2024 verwys na die belangrikheid van moedertaalonderwys. Beide president Ramaphosa en minister Motshekga se versekerings in die aanloop tot die nasionale verkiesing van Mei 2024 is met skeptisisme ontvang en as 'n "verkiesingsfoefie" afgemaak.
Currie en De Waal (2010) behandel die menseregte wat in hoofstuk 2 van die Grondwet (RSA, 1996a) verskans is. Artikels 30 en 31 word as minderheidsregte bestempel. Artikel 30 handel oor taal en kultuur: Elkeen (Afrikaanssprekendes ingesluit) het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem mits "niemand wat hierdie regte uitoefen" dit doen "op 'n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie".
Artikel 31 handel oor die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe. Dit beskerm persone "wat aan 'n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort" en bepaal: Hulle mag nie die reg ontsê word om "saam met ander lede van daardie gemeenskap (a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en (b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie", mits die reg nie uitgeoefen word "op 'n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie".
Currie en De Waal (2010) bespreek ook toepaslike aspekte van individuele regte in die lig van die ontwikkeling van 'n taal as onderwystaal. Individuele regte in die Handves van Regte in die Grondwet van 1996 (RSA, 1996a), soos gelykheid voor die reg (artikel 9), menswaardigheid (artikel 10) en kinderregte (artikel 28, subartikel 2 in die besonder), beskerm taalregte op verskeie wyses. Gelykheid voor die reg (artikel 9) kan ontoelaatbaar beperk word deur nie aan 'n leerder sy/haar keuse van 'n LoLT beskikbaar te stel nie. Artikel 10 (menswaardigheid) kan eweneens geskend word deur nie moedertaalonderrig vir 'n leerder moontlik te maak nie en hom/haar bloot te stel aan ander dominante (en soms onverstaanbare) tale.
Artikel 28(2) van die Grondwet van 1996 (RSA, 1996a) verklaar dat 'n kind se beste belang "... van deurslaggewende belang (is) in elke aangeleentheid wat die kind raak". As 'n kind die reg ontneem sou word om in die LoLT van sy/haar keuse onderrig te word, kan dit 'n skending van 'n fundamentele reg van so 'n kind (iemand jonger as 18) wees en aan die ouers of voogde van sodanige leerder goeie rede gee om hulle op regsbeskerming te beroep.
Sedert 1996 gee regspraak in howe op drie vlakke blyke daarvan dat Giliomee se vermoedens onnodig pessimisties was. Waar onderwysdepartemente Afrikaanse skole soms wou dwing om leerders wat Engels as LOLT verkies in te neem en hulle taalbeleid te wysig, het die howe al by 'n paar geleenthede teen departemente besluit. Sedert 2002 het howe rakende die volgende skole, naamlik die Laerskool Potgietersrus, Hoërskool Ermelo, Laerskool Middelburg, Mikro Laerskool, Hoërskool Overvaal, Seodin-skole, Hoërskool Fochville en die Rivonia Laerskool almal bevindings gemaak wat Giliomee se vermoedens weerspreek of nuanseer.24
Namate die stryd om die behoud van Afrikaans as onderwystaal voortwoed, is dit baie moontlik dat sake na die howe geneem sal word om beslissings oor twispunte te kry.
9. Die Presidensie van die Republiek van Suid-Afrika. 2024. Die Wysigings-wet op Wette op Basiese Onderwys (Wet No. 32 van 2024)(16 September 2024)25
Die Departement van Basiese Onderwys probeer al van 2013 af die basiese onderwyswette wysig om die onderwysstelsel te verbeter. Die jongste weergawe van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys is op 16 September 2024 gepubliseer - nadat die president die Wysigingswet onderteken en dit sodoende wetgewing gemaak het, behalwe die sub-artikels van die wysingswet wat wysigings van artikels 5 (wat oor openbare skole se toelatingsbeleid handel) en 6 (wat oor openbare skole se taalbeleid handel), van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (RSA, 1996b) voorstel en wat vir verdere onderhandelinge uit die goedgekeurde deel van die wetgewing onttrek is.
10. Waaroor handel die debatte oor die Bela-wet?
Die fel woordestryd (insluitende dreigemente oor moontlike hofsake uit Afrikaanse geledere) wat ná die publikasie van die wetsontwerp ontstaan het, is algemene kennis. Dit is veral die voorgestelde wysigings aan subartikels 5 en 6 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996 (RSA, 1996b) wat die vurige debatte ontlok het. Le Cordeur (2025) beweer in 'n rubriek dat daar 56 redes is waarom Bela nodig is. Wat hy waarskynlik probeer sê, is dat die Bela-wet 56 artikels bevat wat almal gerig is op die verbetering van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Dit is korrek, maar hy probeer daarmee die kommer veral in Afrikaanse geledere dat die implementering van die Bela-wet 'n ernstige bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans as taal (veral as onderwystaal) inhou, as oordrewe voorhou en dat dit nie die heftige reaksie wat daartoe gelei het, regverdig nie.
Soos in 9 hier bo aangedui, stel die twee wysigings waaroor die hewige debat handel, veranderinge voor aan artikel 5 van die Skolewet van 1996 wat openbare skole se toelatingsbeleid reguleer, asook aan subartikel 6, wat oor openbare skole se taalbeleid handel. Die ander 54 voorgestelde wysigings is meer administratief van aard en het nie weerstand ontlok nie. Die wysigings aan artikels 5 en 6 is meer polities van aard en hou nou verband met die eerbiediging al dan nie van mense se fundamentele regte rakende toegang tot onderwys en onderwystale.
Die artikels is só geskryf dat dit vertolk kan word as die toekenning van onbeperkte mag aan die provinsiale direkteurs van onderwys om die toelatings- en taalbeleide van openbare skole te bepaal en skole te dwing om die bepalings van die direkteurs te aanvaar, ten spyte van die teenkanting daarteen wat in die geledere van veral Afrikaanssprekendes bestaan.
Artikel 526
Die bestaande artikel 5 in die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (RSA, 1996b) bevat eintlik net regeringsvoorskrifte wat deur skole se bestuur en beheerliggame uitgevoer moet word. Subartikel 5(5) bepaal dat die beheerliggaam van 'n openbare skool die toelatingsbeleid van sodanige skool bepaal, onderhewig aan enige toepaslike provinsiale wetgewing. Subartikel 5(7) bepaal dat 'n aansoek om die toelating van 'n leerder tot 'n openbare skool aan die betrokke provinsiale onderwysdepartement gemaak moet word en bepaal ook hoe dispute oor toelating hanteer moet word. Dit is belangrik om daarop te let dat die beheerliggaam van 'n skool nie die toelatingsbeleid van die skool aan die direkteur van onderwys van die provinsie hoef voor te lê vir goedkeurig of implementering nie.
Al die bepalings oor die toelatingsbeleid van leerders word oorkoepel deur artikel 29(1) (a) en (b) van die Grondwet van 1996 (RSA, 1996a) wat soos volg lui:
29. (1) Elkeen het die reg-
(a) op basiese onderwys, met inbegrip van basiese onderwys vir volwassenes; en
(b) op verdere onderwys wat die staat deur middel van redelike maatreëls in toenemende mate beskikbaar en toeganklik maak.
In die onderstaande paragraaf sal ek poog om kortliks aan te dui waaroor die betrokke partye by die onderhandelinge oor die wysigings gedebatteer het.
As die Bela-wet bekragtig word en in werking tree, sal artikel 5 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (RSA, 1996b) gewysig word deur byvoegings tot die huidige subartikel 5(5), wat slegs bepaal dat die toelatingsbeleid van 'n openbare skool deur die beheerliggaam bepaal word. Die byvoegings sluit in:
1) Dat die toelatingsbeleid ooreenkomstig die Grondwet en tersaaklike wetgewing bepaal moet word.
2) Die beheerliggaam moet by die oorweging van die toelatingsbeleid of wysigings daarvan vir goedkeuring deur die provinsiale onderwyshoof daarvan oortuig wees dat die algemene behoeftes van die breër gemeenskap in die betrokke onderwysdistrik in ag geneem is [Beklemtoning bygevoeg deur die skrywer]. Die volgende faktore moet volgens subartikel 5(a) in ag geneem word, maar dit sluit nie noodwendig ander faktore uit nie:
a die beste belang van die kind met die klem op gelykheid (soos in artikel 9 van die Grondwet) en billikheid
b die beskikbaarheid van toegang tot ander skole in die gemeenskap27
c die beskikbare hulpbronne van die skool en die doelmatige en doeltreffende van staatshulpbronne en
d die beskikbare spasie vir leerders by die betrokke skool.
3) Ná oorlegpleging met die betrokke skool se beheerliggaam het die provinsiale onderwys-hoof van die provinsie se onderwysstelsel ooreenkomstig die wysiging die finale gesag om 'n leerder tot 'n openbare skool toe te laat ingevolge subartikel 5(b), onderhewig daaraan dat die leerder of ouers van die leerder wat toegang tot die openbare skool geweier is, binne 14 dae ná ontvangs van die kennisgewing oor die weiering appèl by die uitvoerende raad mag aanteken [Beklemtoning bygevoeg deur die skrywer].
4) Ingevolge subartikel 5(c) moet die toelatingsbeleid wat volgens artikel (5) opgestel is elke drie jaar hersien word, of wanneer die faktore in subartikel 5(a) verander, of wanneer omstandighede dit vereis, of op versoek van die direkteur-generaal
5) Subartikel 5(f) verskaf die wetlike reëls wat vir die hantering van appelle geld.28
'n Mens kan die bekommernis oor die nuwe magte van die departementshoof begryp. Wanneer 'n departementshoof toelating tot 'n openbare skool weier, kan dit gebeur dat skole (geleidelik) in enkelmedium- Engelse skole of dubbelmediumskole (Engels en 'n inheemse taal) verander. Só kan skole enkelmedium- Engelse skole word en kan die inheemse tale uit die skoolomgewing verdwyn en uiteindelik heeltemal van die toneel verdwyn met al die negatiewe gevolge van so 'n verdwyning of uitsterf van 'n taal.
Afrikaans kan onder groot druk kom ingevolge die nuwe artikel (5). Dit is egter nie waar dat die DH se nuwe magte aan hom/haar vrye teuels verskaf wat betref die toelating van leerders tot openbare skole nie. Die departementshoof is verplig om oorleg met die beheerliggaam van 'n skool te pleeg. Daar is ook baie duidelike voorsiening vir appèlle teen departementshoofde se besluite.
Wat egter ook baie duidelik is, is dat beheerliggame ten volle vertroud moet wees met hulle verpligtinge en regte in hierdie verband. Dit is ook van wesenlike belang dat skole ondersteun sal moet word deur verenigings van beheerliggame (soos onder andere FEDSAS) wat hulle van ingeligte regsadvies sal kan voorsien. Dit is verder duidelik dat al die verenigings van beheerliggame van skole met 'n inheemse taal as medium verkieslik in een verkose liggaam of in harmonie met mekaar sal moet werk. Hulle sal ook in gesonde verhoudings met die uitvoerende gesag rakende onderwys in die provinsies moet funksioneer.
Indien net Afrikaanse openbare skole (enkel- of dubbelmedium) sal appelleer teen Departementshoofde se besluite, sal dit daartoe kan lei dat hulle van rassisme (as onbillike diskriminasie ingevolge artikel 9(3) van die Grondwet van 1996 (RSA, 1996a)) beskuldig kan word. Soos sommige individue en organisasies vrees, kan dit grootliks daartoe bydra dat die doodsklok vir Afrikaans as onderwystaal en op ander terreine kan lui tensy al die inheemse tale saamwerk soos in die bostaande paragraaf aangevoer.
Artikel 6
Die huidige subartikel 6(1) verleen aan die minister van basiese onderwys die mag om sonder raadpleging van skole en skoolbeheerliggame die norme en standaarde vir die taalbeleid van 'n openbare skool te bepaal, maar die minister is nie verplig om dit te doen nie. Terwyl die minister van basiese onderwys die norme en standaarde van openbare skole se taalbeleide kan bepaal, verleen die huidige subartikel 6(2) aan skoolbeheerliggame die bevoegdheid om die taalbeleid van 'n openbare skool te bepaal onderhewig aan die Grondwet, die Skolewet, en enige toepaslike provinsiale wetgewing. Volgens subartikel 6(3) mag geen vorm van rassisme voorkom as die artikel geïmplementeer word nie, terwyl subartikel 6(4) bepaal dat 'n erkende gebaretaal die status van 'n amptelike taal in hierdie verband sal geniet.
Dit is ook in hierdie geval belangrik om daarop te let dat die beheerliggaam van 'n skool nie die taalbeleid van die skool aan die direkteur van onderwys van die provinsie hoef voor te lê vir goedkeurig of implementering nie.
In die onderstaande paragrawe sal ek probeer om kortliks aan te dui waaroor die betrokke partye by die onderhandelinge oor die wysigings van hierdie subartikel gedebatteer het. Hierdie artikel is besonder vaag, en kan lei tot byna enige interpretasie by die toepassing daarvan - iets wat nie gesonde bepalings van taalbeleide kan verseker nie.
Die Bela-wet bevat die volgende wysigings van die huidige artikel 6 van die Skolewet van Suid-Afrika 84 van 1986 (RSA, 1996b):
1. Die taalbeleid van 'n openbare skool moet beperk wees tot een of meer van die amptelike tale wat in artikel 6(1) van die Grondwet van 1996 (RSA, 199a) genoem word (subartikel 6(2).
2. 'n Erkende Suid-Afrikaanse gebaretaal sal in terme van subartikel 6(4) ook wat die taalbeleid betref die status van 'n amptelike taal geniet (subartikel 6(4)).
3. Subartikel 6(5) stem grootliks ooreen met die subartikel in artikel 5 wat die byvoegings van die Bela-wet lys. Die volgende verskillende byvoegings oor faktore wat in ag geneem moet word by die bepaling van die openbare skool se taalbeleid word egter gemaak:
a Die taalbepalings in artikel 6(2) van die Grondwet (subartikel 6(b))
b Artikel 29(2) van die Grondwet oor die keuse van onderrigtale (subartikel 6(c))
c Die veranderende getal leerders wat die onderrigtaal by die openbare skool praat (subartikel 6(d))
d Die inskrywingstendense van die openbare skool (subartikel 6(f)).
e Subartikel 6(6) bevat ook bepalings oor die hersiening van die taalbeleid soortgelyk aan dié oor die hersiening van die toelatingsbeleid.
f Subartikel 6(7) bevat die bepaling wat waarskynlik die grootste oorsaak van twis oor die Bela-wet is. Dit bepaal naamlik dat die DH, ondanks die bepalings van subartikel 6(2), waar prakties moontlik en onderhewig aan subartikel 6(5) (wat handel oor die faktore wat in ag geneem moet word wanneer die taalbeleid opgestel word) 'n openbare skool opdrag kan gee om meer as een taal van onderrig aan te neem [Beklemtoning deur die skrywer bygevoeg].
g Subartikel 6(8) plaas beperkings op die bevoegdheid van die DH om by die vasstelling van die moontlikheid vir 'n openbare skool om meer as een taal van onderrig te hê deur hom/haar te verplig om onder andere die volgende faktore te oorweeg:
i Die beste belang van die kind met die klem op gelykheid en billikheid soos in artikel 9 van die Grondwet beoog
ii Die veranderende getal leerders wat die taal van onderrig by die openbare skool praat
iii Die noodsaaklikheid van die doeltreffende gebruik van klaskamerruimte en hulpbronne van die openbare skool
iv Die algemene taalbehoeftes van die breër gemeenskap waarbinne die openbare skool geleë is.
h Subartikel 6(9) verbied die provinsiale onderwysdepartementshoofde om aan 'n skool opdrag te gee om meer as een taal van onderrig aan te neem tensy [Beklemtoning deur die skrywer bygevoeg]:
i Die skool en die beheerliggaam skriftelik van die departementshoofde se voorneme om op te tree ooreenkomstig subartikel 6(7) verwittig is (subartikel 6(9)(a)) en ook van redes vir die voorneme voorsien is
ii Die ouers wat met die skool geassosieer is, en die gemeenskap waarin die skool geleë is, in kennis gestel is van die departementshoofde se voornemens om so op te tree en die redes daarvoor aan hulle voorsien is (subartikel 6(9) (b). Subartikels 6(9)(b)(i-iii) verskaf 'n lys van voorbeelde van wyses waarop die kommunikasie met die ouers wat met die skool geassosieer is en die breër gemeenskap gekommunikeer kan word.
iii Die skool, die beheerliggaam, die ouers van die skool, en die gemeenskap waarin die skool geleë is, 'n redelike geleentheid gegun is om vertoë oor sodanige stap, aan die departementshoofde te rig (subartikel 6(9)(c)).
iv Subartikels 6(9)(d) en (e) gee toeligting oor wat met subartikel 6(9)(c) bedoel word, naamlik dat 'n openbare verhoor, met redelike kennisgewing, met die departementshoofde gehou moet word het om die gemeenskap in staat te stel om vertoë aan hulle te rig in verband met sodanige voornemens (subartikel 6(9)(d) en dat enige vertoë wat aan die departementshoofde gerig word, behoorlik oorweeg word (subartikel 6(9)(e).
v Subartikels 6(10)(a) en (b) verplig die departementshoofde om die skool en die beheerliggaam te verwittig (soos beoog in subartikels 6(9)(b)(i-iii)) van hulle besluite ooreenkomstig subartikel 6(7) en die redes daarvoor.
vi Subartikel 6(11) bepaal duidelik dat, indien die departementshoofde ingevolge subartikel 6(7) wil optree, hulle nie die opdrag kan instel voordat alle nodige stappe gedoen is nie, om te verseker dat die skool die nodige hulpbronne met inbegrip van opvoeders en leer- en onderrigondersteunings-materiaal het wat die skool in staat sal stel om voldoende onderrig in die bykomende taal of tale van onderrig te voorsien.
vii Subartikels 6(12-14) bepaal die verskillende appèlprosesse wanneer beheerliggame by 'n lid van die uitvoerende raad beswaar wil maak, binne 14 dae ná die ontvangs van die opdrag van die DH kragtens subartikel 6(7).
Beide die wysigings van artikel 5 en 6 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (RSA, 1996b) maak dit vir departementshoofde moontlik om op twee verskillende wetlike wyses (deur die toelating van 'n leerder teenstrydig met die skool se toelatingsbeleid en die afdwing van 'n ekstra onderrigtaal op 'n skool) die posisie van Afrikaans as onderrigtaal aan 'n openbare skool te verander tot die nadeel en uiteindelike verdwyning van Afrikaans as onderrigtaal.
Om hierdie bevoegdheid van die departementshoofde te beperk in die lig van die wysigingsklousules is dit vir beheerliggame, skole, gemeenskappe en verenigings van beheer-liggame nodig om kennis te neem van, en te handel ooreenkomstig die betekenis en implikasies van onder andere die volgende frases en konsepte met regskonnotasies wat in die wysigings van artikel 6 van die Skolewet voorkom of geïmpliseer word:
1. Die redes vir die ingrypende stappe wat die departementshoofde wil neem ingevolge subartikels 5 en 6 van die Skolewet (soos gewysig), ten spyte van teenkanting wat hulle mag ervaar, moet aanvaarbaar en wettig wees. Beide vereistes waaraan die redes wat departementshoofde aanvoer moet voldoen het aan duidelike regskonnotasies (behalwe die gewone woordeboekbetekenisse) waaroor die geaffekteerde skole en persone behoorlik ingelig moet wees. Hulle moet ook in staat wees om toepaslike regstappe te volg om wat hulle as onaanvaarbaar beskou, teen te staan.
2. Dit is goed dat die breër gemeenskap (ouers en ander gemeenskapslede en -organisasies) in voorgeskrewe prosesse wat moet lei tot die neem van 'n besluit, deur die departementshoofde betrek moet word. Hierdie betrokkenheid gebeur egter nie outomaties nie en moet doelgerig deur die skole en beheerliggame en ander belang-hebbendes aangemoedig en georganiseer word.
3. Alle belanghebbendes behoort kennis te neem van riskante kommunikasiewyses wat departementshoofde kan gebruik. Die gebruik van 'n koerant kan problematies wees, as gevolg van onder andere die politieke konnotasies van koerante, die tale waarin dit gepubliseer word, en die toeganklikheid daarvan vir diegene wat van die kommunikasie kennis behoort te neem.
4. Daar word ook genoem dat die departementshoofde behoorlike oorweging moet skenk aan vertoë wat aan hulle gerig word. Beoordeling van vertoë behoort onpartydig te wees en behoort nie sommige rolspelers te bevoordeel en ander te benadeel nie. Persone betrokke by die beoordeling van vertoë behoort toepaslike onderwys- en regskennis en -ervaring te hê.
11. Slot
Die bespreking van, en die debattering oor die twee artikels wat nog nie afgehandel is nie, sal waarskynlik tot die grootste opwaartse kurwe of afwaartse beweging van die ontwikkelings-trajek van Afrikaans as onderwystaal lei. Die voorgestelde wysigings stel nie die bevoegdhede van beheerliggame ter syde nie, maar verleen aan die hoofde van die provinsiale departemente van basiese onderwys (departementshoofde) magte wat hulle in staat sal stel om skoolbeheer-liggame se toelatings- en taalbeleidsvoorstelle te wysig. Dit is egter bevoegdhede wat aan regsvereistes moet voldoen en daarom verskeie partye in staat kan stel om teen departements-hoofde se besluite te appelleer. Die laaste moontlike stap wat vir skole se beheerliggame (wat hulle pligte behoorlik nagekom het) beskikbaar sal wees, sal wees om die howe te nader.
Onbevestigde bewerings dat skole tale (veral Afrikaans) gebruik om leerders uit Afrikaanse openbare skole te sluit, het sterk in die debatte gefigureer. Dit plaas druk op beheerliggame (met skoolhoofde as ex officio-lede) wanneer hulle taal- en toelatingsbeleide ontwikkel, hersien of implementeer. Karvelas en Beckmann (2006) het 'n gevallestudie gedoen en gevind dat bewerings in die meeste gevalle onwaar was.
Wanneer enkelmedium- Afrikaanse skole parallelmedium word, verdwyn Afrikaans meermale as taal van leer en onderrig en word skole Engels- of parallelmedium (Bailey, 2024, in Price, 2024). FEDSAS (2023) se syfers wys dat die getal Afrikaanse enkelmediumskole van 2016 tot 2021 met 9,6% afgeneem het. Die druk op Afrikaans word al hoe meer intens en die moontlikheid van die verdwyning van Afrikaans as onderrigtaal en omgangstaal word steeds sterker in ooreenstemming met die beginsels van taaldiskriminasie.
Dit wil voorkom of Afrikaanssprekendes en ander inheemsetaalsprekers sal moet saamspan om die druk op hulle tale suksesvol teen te staan.29 Dit impliseer die bestaan van behoorlik funksionerende beheerliggame by alle skole, die bestaan van verskeie provinsiale en nasionale beheerliggaamfederasies wat almal saamwerk om onbillike en onregmatige druk op skole teen te staan. Alhoewel druk op 'n taal gewoonlik van buite en vanweë wetswysigings en bewindsverandering in 'n land veroorsaak kan word, kan die sprekers ook van binne af druk op 'n taal plaas.30
Die Wet op Bantoe-onderwys 47 van 1953 het die inheemse tale (behalwe Afrikaans) in 'n diskriminerende stelsel opgeneem wat, saam met apartheid en onderdrukking, tot aggressie, haat en gewelddadige verset teenoor Afrikaans gelei het. Ná die aanbreek van die nuwe (demokratiese) politieke bedeling in 1994 het Afrikaans net een van tien inheemse tale geword.
Die Bela-wet kan met die einde of die oorlewing van Afrikaans verbind word. Die einde van Afrikaans kan gepaard gaan met heelwat taal- en nietaalverskynsels wat die einde van 'n hele taal-, kultuur- en regsgemeenskap met funeste gevolge kan beteken. Meiring (2022), Kehinde (2006, in Mart, 2011:191), Kunene (s.d.) in Shebone et al., 2007:364), Manocha en Panda (2025 in Coleman, 2017), en Amoako (2020) het die gevolge van die verdwyning van 'n inheemse taal as 'n veelvoudige verskynsel beskryf. Al hierdie skrywers het feite aan die lig gebring en stellings gemaak wat tot die oortuiging kan lei dat Afrikaans se toekoms in die weegskaal kan wees.
Alhoewel Afrikaans in 'n onbenydenswaardige posisie is, is daar genoeg aanduidings dat dit ook die potensiaal en geleenthede het om die stryd om oorlewing te wen. Dan moet daar egter die wil wees om dit te doen saam met ander nie-Engelse taalgebruikers in die land (vergelyk ook Sayedayn, 2021:137; UNPF, 2018). Die druk van vreemdelinge (met groter hulpbronne) lei nie noodwendig tot die verdwyning van inheemse tale nie. Inheemsetaalsprekers kan hulle wel suksesvol verset teen die druk op hulle tale (Sayedayn, 2021:137; UNPF, 2018).
Die ontwikkeling van Afrikaans as onderwystaal grafies voorgestel as 'n lyn met insinkings en stygende lyne kan 'n redelike volledige en geskakeerde beeld van die ontwikkelingstrajek van Afrikaans daarstel. Dit kan lesers ook in staat stel om 'n mening te vorm oor die moontlike verdwyning of verbetering van Afrikaans as amptelike onderwystaal in die era ná die inwerkingtreding van wysigings aan die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (RSA, 1996b). Die wysigings sal die konsensus wat bereik kan word oor watter Bela-wysigings aan die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (RSA, 1996b) aangebring kan word ter wille van die verbetering van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, weerspieël.
BIBLIOGRAFIE
Afriforum. 2020. Wêreldwye feite oor Afrikaans. https://www.wereldwyd.-co.za-/wereldwye-feite-oor-afrikaans/ [10 Julie 2024]. [ Links ]
Amoako, HK. 2020. History of education in South Africa: 1900-1990. https://african-research.com/research/education/history-of-education-in-south-africa-1900-1990/ [30 Julie 2024]. [ Links ]
Bornman, E. 2022. Ouers, studente en kinders: Moet en kan hulle iets doen in die stryd vir Afrikaans? https://afriforum.co.za/ouers-studente-en-kinders-moet-en-kan-hulle-iets-doen-in-die-stryd-vir-afrikaans/ [16 Julie 2022]. [ Links ]
Burger, A. 2018. Kommer oor Afrikaans. Oordrewe of nie? https://www.uj.ac.za/wp-content/uploads/2021/10/wesby-by25082018-008.pdf [12 Julie 2024]. [ Links ]
Carstens, WAM & Raidt, EH. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika - Biografie van 'n taal. Deel 2. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Coetzee, JH. 1954. Die Wet op Bantoe-onderwys, 1953. Koers, 21(4):173-179. [ Links ]
Coleman, H (ed.). 2017. Development and multilingualism: An introduction. In Coleman, H (ed.). Selected proceedings of the 11th Language & Development Conference. New Delhi, India, 2015. [ Links ]
Currie, I & De Waal, J. 2010. The Bill of Rights Handbook. 5de uitgawe. Claremont: Juta & Company Ltd. [ Links ]
Die Presidensie van die Republiek van Suid-Afrika. 2016a. Goedkeuring van die President van Suid-Afrika van Basic Education Laws Amendment Act, 32 of 2024. Kaapstad: Republiek van Suid-Afrika. [ Links ]
Die Presidensie van die Republiek van Suid-Afrika. 2016b. Bepaling van die inwerkingstredingdatum van die Basic Education Laws Amendment Act, 32 of 2024 in die Proklamasiekennisgewing 237 van 2024 in Staatskoerant 51836 van 2014. Kaapstad: Republiek van Suid-Afrika. [ Links ]
Esterhuizen, Z. s.j. Suid-Afrika se amptelike tale. https://weet.co.za-skoolwerk-/suid-afrika-se-amptelike-tale/ [29 Julie 2024]. [ Links ]
FEDSAS (Die Nasionale Verteenwoordigende Organisasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). 2023. Onderwys in getalle. Skyfiereeks, FEDSAS, Bloemfontein. [ Links ]
Giliomee, H. 2003. The rise and possible demise of Afrikaans as a public language. PRAESA Occasional Papers, No 14. http://www.praesa.-org.za/wp-content/uploads/2017-/01/-Paper14.pdf [29 Julie 2024]. [ Links ]
Karvelas, N & Beckmann, J. 2006. Stifling transformation through enrolment manipulation? Education Management Association of South Africa 8th International Conference Mini-journal, 1(1):41-48. [ Links ]
Lagardien, I. 2022. Afrikaans may die - what is significant is whether it will be killed or suffer a 'natural' death. https://www.dailymaverick.co.-za/opinionista/2022-11-10-afrikaans-may-die-what-is-significant-is-whether-it-will-be-killed-or-suffer-a-natural-death [13 Julie 2022). [ Links ]
Le Cordeur, M. 2025. Daar is 56 redes waarom Bela nodig is. https://www.-netwerk24-com/netwerk24/stemme/menings/michael-le-cordeur-daar-is-56-redes-waarom-bela-nodig-is-20250106 [15 Januarie 2025). [ Links ]
LitNet. 2022. Persvrystelling: Bekendstelling van "Die algemene demografie van Afrikaans (2022)". https://www.litnet.co.za/persvrystelling-bekendstelling-van-die-algemene-demografie-van-afrikaans-2022/ [30 Julie 2024]. [ Links ]
Malan, K. 2010. Die Grondwet, onderwysowerhede en die pad vorentoe vir Afrikaanse skole. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 50(2):261-283. [ Links ]
Malan, K. 2014. Taalverval met besondere verwysing na die ideologie en praktyke van verstaatliking. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(3):462-480. [ Links ]
Malherbe, DF. 1959. Herinneringe in verband met die Akademie. In: Feesalbum 1909-1959. Pretoria: Wallachs Drukkers- en Uitgewersmaatskappy. [ Links ]
Mart, C. 2011. British colonial education policy in Africa. Internal Journal of English and Literature, 2(9):190-194. [ Links ]
McGovern, K. 2019. How did English become the 'global language'? FAQ/Medium. https://medium.com/english-language-faq/why-did-english-become-the-global-language-9bbc14b532cd [15 Julie 2024]. [ Links ]
Union of South Africa [SA]. 1913. Natives Land Act, 27 of 1913. [ Links ]
Meiring, P. 2022. In daardie tyd was daar reuse. Wellington, Suid-Afrika: CLF Uitgewers. [ Links ]
Pohland-McCormick, H. 2006. "I saw a nightmare..." Doing violence to memory: The Soweto Uprising, June 16,1976. New York City: Columbia University Press. http://www.-gutenberg-e.org/pohlandt-mccormick/PM.abb.html [1 Augustus 2024]. [ Links ]
Potgieter, FJ. 2015. Die waarde van Afrikaans in die huidige Suid-Afrikaanse onderwysbedeling. Woord en Daad, 54(426):4-9. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika [RSA]. 2024. Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys, 2024. Wet No. 32 van 2024. Sabinet Aanlyn. [ Links ]
Price, L. 2024. Afrikaans: 'Angie draai mense 'n rat voor die oë'. https://www.netwerk24.com-/netwerk24/nuus/onderwys/afrikaans-angie-draai-mense-n-rat-voor-die-oe-20240522 [21 Augustus 2024]. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika [RSA]. 1996a. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1976. Pretoria: Staatsdrukkery. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika [RSA]. 1996b. Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (SASA). Pretoria: Staatsdrukkery. [ Links ]
Republiek van Suid-Afrika [RSA]. 2024. Basic Education Laws Amendment Bill (Bela) (Wysigings-wetsontwerp op Basiese Onderwyswette). Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Sayedayn. S. 2021. Language & colonization: Statement of the problem. Journal of School & Society, 7(1):134-138. [ Links ]
Shebone, K, Barrell, H & Seegers, A. 2007. Op soek na 'n nuwe orde. In: Giliomee, H & Mbenya, B (reds.). Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers. [ Links ]
Silva, P. 1997. South African English: Oppressor or Liberator? In: The major varieties of English, Papers from MAVEN 97, Vaxjo, 20-22 November 1997. [ Links ]
Skutnab-Kangas, T & Phillipson, R. 1994. Discrimination and Minority Languages. The Encyclopedia of Language and Linguistics (1994). Pergamon Press & Aberdeen University Press, 993-995. http://www.tove-skutnabb-kangas.org/dl/205-Skutnabb-Kangas-T-Phillipson-R-2001-Discrimination-and-Minority-Languages-In-Mesthrie-Concise-Encyclopedia-Sociolinguistics.pdf [17 Julie 2024]. [ Links ]
Smit, U. 1997. Language policy and education in South Africa. In: Wodak, R & Corson, D (eds). Encyclopedia of Language and Education, Volume 1: Language Policy and Political Issues in Education. Kluwer Academic Publishers, pp. 169-178. [ Links ]
South African History Online [SAHO]. 2019. The History of Education: 1658 to present. https://www.sahistory.org.za/article/history-education-1658-present [17 Julie 2024]. [ Links ]
Stanley, L. 2018. Protest and the Lovedale Riot of 1946: 'Largely a Rebellion againstAuthority'? Journal of Southern African Studies, 44(6):1039-1055. [ Links ]
Stats SA. 2023. Census 2022. Statistical release. Pretoria: Stats SA. [ Links ]
Steenkamp, C. 2024. Kan die nuwe bedeling lei tot 'n Afrikaanse lente? https://www.-netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/kan-die-nuwe-bedeling-lei-tot-n-afrikaanse-lente-20240712 [17 Julie 2024]. [ Links ]
Stone, H. 1998. "Die wêreld die draai. Gedagtes rondom uitdagings aan die Afrikaanse minderheid in die nuwe onderwysbedeling in Suid-Afrika." Persoonlike publikasie. [ Links ]
Truter, EJJ. 2004. Taalbeleid in die onderwys. Acta Academica, 2004 Supplementum, 2:123-150. [ Links ]
UN DESA Policy BriefNo. 151. 2023. Why indigenous languages matter: The international decade on indigenous languages 2022-2032. https://www.un.-org/development/desa-/dpad-/wp-content/uploads/sites/45/publication/PB151.pdf [17 Julie 2024]. [ Links ]
Unie van Suid-Afrika [SA]. 1909. Grondwet van die Unie van Suid-Afrika in 1910. Kaapstad: Unie Parlement. [ Links ]
Unie van Suid-Afrika [SA]. 1925. Wet op Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet 8 van 1925. Kaapstad: Unie Parlement. [ Links ]
Unie van Suid-Afrika. 1953. Wet op Bantoe-onderwys 47 van 1953. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
UN Permanent Forum on Indigenous Issues. 2018. Together we achieve. https://www.un.org/development/desa/indigenouspeoples/wp-content/uploads-/sites/19/2018/04/Indigenous-Languages.pdf [17 Julie 2024]. [ Links ]
Van Rensburg, C. 2017. Die slag toe slim sy baas gevang het. Stellenbosch Papers in Linguistics, 48:51-66. [ Links ]
Van Rensburg, C. 2018. Van Afrikaans gepraat. Pretoria: Lapa. [ Links ]
Van Oort, CP. 2008. Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: 'n inklusiewe perspektief en implementering in 'n lesreeks. Ongepubliseerde PhD-proefskrif. Potchefstroom: NWU. [ Links ]
Verhoef, G. 2016. "Sonder onderwys, geen bevryding". Moedertaalonderrig en gemeenskap in die grondslag vir swart onderwys in Suid-Afrika, 1952-1990. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(3):747-762. [ Links ]
Waxman, OB. 2022. The history of native American Boarding schools is even more complicated than a new report reveals. https://time.com/6177069/american-indian-boarding-schools-history/ [19 Desember 2022]. [ Links ]
Willemse, H. 2015. The hidden histories of Afrikaans. https://www.up.ac.za-/media/-shared/45/willemse_mistra-20151105-2_2.zp80127.pdf [22 Januarie 2025 [ Links ]
Ontvang: 2024-08-27
Goedgekeur: 2025-02-17
Gepubliseer: Maart 2025
Johan Beckmann is 'n emeritus professor van die Universiteit van Pretoria (UP) waar hy vanaf 1992 in verskillende hoedanighede aan die Departement Onderwysbestuur en -beleid ver-bonde was, onder meer as departementshoof.
Prof. Beckmann het voor sy verbintenis met UP verskeie leiersposisies aan skole en statutêre onderwysersorganisasies beklee.
Hy was 'n stigterslid en die eerste voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg (SARO) in 1975 en ook die eerste direkteur van die interuniversitêre sentrum vir onderwysreg en -beleid.
Hy is twee keer uitgenooi om lesings by die gesogte Oxford Round Table te lewer.
Sy publikasies fokus op onderwys-beleid- en onderwysreg-aangeleenthede met die klem op skoolbeheer en -bestuur en die devolusie van gesag en die hersentralisering van mag.
Sy publikasies sluit mede-outeurskap van boeke, redakteurskap of mederedakteurskap van internasionale joernale en boeke, artikels in internasionale en nasionale joernale en redakteurskap van internasionale kongresverrigtinge in.
Hy het vir 'n paar jaar as adjımk-professor aan die East China Normal University in Shanghai se sentrale sentrum vir die opleiding van sekondêre skoolhoofde gedien.
Hy was ook 'n lektor in die internasionale aanlyn programme van die Finse Institute of Educational Leadership by die Universiteit van Jyväskylä.
Hy het meer as 50 meesters- en doktorale studente begelei.
Johan Beckmann is professor emeritus of the University of Pretoria (UP). Since 1992 he has been attached to the Department of Education Management and Policy Studies in various capacities, including head of the department.
Before joining UP he served in various leadership positions at schools and in statutory teachers' organisations.
He was a founder member and the first chairperson of the South African Association for Education Law (SAELPA) in 1975 and also the first director of the interuniversity centre for education law and policy.
He was invited twice to read papers at the prestigious Oxford Round Table.
His publications are focused on education law and policy, especially with regard to school governance and management and the devolution of authority and the recentralisation of power.
His publications include co-authorship of books, editor or co-editorship of international journals and books, articles in international and national journals and editing of international conference proceedings.
He was an adjunct professor at the East China Normal University in Shanghai's central centre for the training of secondary school principals for a number of years.
He was also a lecturer in the international online programmes of the Finnish Institute of Educational Leadership of the University of Jyväskylä.
He supervised more than 50 master's and doctoral students.
1 UNESCO's research reveals that approximately 4 000 indigenous languages are spoken internationally and that a grand total of 7 000 languages are spoken worldwide. One indigenous language becomes extinct every second week and more than half of the world's languages could be "dead" by 2100 (most of them probably indigenous languages).
2 Other colonial powers followed similar strategies with the indigenous languages with which they came into contact.
3 The Afrikaans for Bela is Belaw but it is used very seldom and everybody seems to refer to the Bela Act.
4 Contestations concerning the ability to determine the language and admission policies of schools mostly take place between Afrikaans-speaking people and the government.
5 Dit kom voor asof LoLT 'n afkorting is wat identies in Afrikaans en Engels is.
6 In die artikel sal daar ook terme voorkom wat waarskynlik nie algemeen onder studente van Afrikaans bekend is nie, soos taaldiskriminasie, verstaatliking en taalverdwyning.
7 Die Verenigde Party van genl. Smuts het teen 1941 al besluit teen enkelmedium- Afrikaanse skole (Truter, 2004:101), in teenstelling met hulle politieke opponente wat ten gunste van enkelmedium-Afrikaanse skole was en gekant was teen genl. Smuts se idee van twee tale, maar een groep mense, Suid-Afrikaners.
8 SA Gebaretaal is in Julie 2023 as die 12de amptelike taal erken.
9 Vergelyk Meiring (2022) se weergawe hier onder van wat in Kanada en die VSA gebeur het. Le Cordeur (2025) sinspeel ook daarop dat al die inheemse tale in Suid-Afrika saam behoort te staan om die regering se pogings om Engels die dominante taal te maak teen te staan.
10 McGovern verskaf nie 'n publikasiedatum vir McCrum se werk nie.
11 Kyk par. 4 hier bo.
12 Hiermee gee ek erkenning aan die rol van die Akademie.
13 Kyk ook par 4.2.5 hier bo.
14 Die Afrikaanse ekwivalent hiervoor is Taal van Leer en Onderrig.
Ek kon net in een publikasie 'n Afrikaanse ekwivalent van die afkorting LoLT kry. Van der Walt en Steyn (2016:1037) gebruik die logiese Afrikaanse afkorting TvOl vir die term Taal van Leer en Onderrig. Of dit in die praktyk gebruik word, is 'n ope vraag. Die afkorting LoLT is waarskynlik meer algemeen bekend en in gebruik.
15 Truter (2004:45-76) verskaf 'n volledige bespreking van hoe Afrikaans 'n skooltaal in al vier gebiede geword het.
16 Ek gebruik hier Truter (2004) se indeling van 1928 tot 1948 in twee tydperke.
17 Datum afgelei uit Giliomee (2003:16) se publikasie.
18 Soos deur een van die keurders tereg opgemerk is, is die skryfwyse van die woorde Nood-Kaap en Wes-Kaap in Figuur 1, 2 en 2 met 'n koppelteken. Aangesien hierdie figure gekopieer is uit FEDSAS-dokumentasie is die skryfwyse onveranderd gelaat.
19 Vergelyk voetnota 5.
20 Die eerste minister van die RSA ten tyde van die opstande.
21 Die oorspronklike stelling is in Afrikaans gepubliseer. Hierdie aanhaling is nie 'n vertaling nie.
22 Eintlik 12 as Suid-Afrikaanse Gebaretaal bygereken word.
23 Die beklemtoning is nodig in die lig van hoe die Grondwet van 1996 elke reg formuleer. Niemand mag op grond van onbillike diskriminasie van toegang tot 'n fundamentele mensereg uitgesluit word nie.
24 Toegang tot die sake is op die webwerf saflii.org/za/cases.
25 Algemeen bekend as die Bela-wet. Dit is interessant dat die Bela-wet ook in Afrikaans gepubliseer is. Wetgewing word al hoe meer net in Engels gepubliseer.
26 In die besprekings van die bepalings oor die toelatingsbeleid en skooltaalbeleid sal ek op enkele uitsonderings na die teks van die gewysigde artikels 5 en 6 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 (RSA, 1996b) woordeliks aanhaal om te probeer verhoed dat hierdie artikel tot enige verwarring aanleiding gee.
27 Hierdie aspek het sterk gefigureer in die Mikro- en Overvaal-hofsake waarna hier bo verwys is.
28 Hierdie bepalings wyk nie eintlik af van gebruiklike wetlike bepalings oor appelle nie..
29 Vergelyk ook Le Cordeur (2025).
30 Vergelyk ook verder Giliomee (2003) en Bornman (2022).