Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a13
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Afrikaans in die hoër onderwys: Enkele tendense uit die ondersoeke Staat van het Nederlands en Stand van Afrikaans
Afrikaans in tertiary education: Some trends evident from the studies Staat van het Nederlands and Stand van Afrikaans
Elirea BornmanI; Conrad SteenkampII; Rone WdzrengaIII; WAM CarstensIV
IDepartement Kommunikasiewetenskap, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: elireabornman@gmail.com
IIHoof- Uitvoerende Beampte, Afrikaanse Taalraad, Kaapstad, Suid-Afrika. E-pos: conrad@afrikaansetaalraad.co.za
IIINavorsingskoördineerder Afrikaanse Taalraad, Noordwes-Universiteit en Gent Universiteit, Suid-Afrika en België. E-pos: rone@viva-afrikaans.org
IVNavorsingsfokusarea Taal en Literatuur in die, SA Konteks, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom, Suid-Afrika. E-pos: Wannie.Carstens@nwu.ac.za
OPSOMMING
In die artikel word gefokus op die stand van Afrikaans in die hoër onderwys in Suid-Afrika. Die besprekings word gebaseer op response van 114 studente wat ingesluit is in die ewekansige landswye steekproef van Afrikaanssprekendes wat deelgeneem het aan die Stand van Afrikaans-vraelysondersoek in 2024. Die vrae het aspekte soos die onderrigtaal, handboeke, studie-materiaal, werkopdragte en eksamens gedek. Daar is ook gekyk na die taal van sosiale interaksie soos gesprekke met medestudente en die taal wat in studentebehuising gebruik word. Die taal waarin hoëronderriginstellings met studente en hulle ouers kommunikeer, soos webwerwe en nuusbriewe, is ook ondersoek.
Die resultate word vergelyk met tendense wat na vore getree het in die Staat van het Nederlands-ondersoeke in Nederland, Vlaandere en Suriname. Slegs 27,3% van die studente het aangedui dat hulle deurentyd in Afrikaans onderrig ontvang het. Die gegewens vir die verskillende dimensies van onderrig dui verder daarop dat die ruimte van Afrikaans in die hoër onderwys tans beperk is. Aanbevelings vir verdere navorsing word in die slotopmerkings gemaak.
Trefwoorde: hoër onderwys; stand van Afrikaans; stand van Nederlands; Suid-Afrika, onderrig in Afrikaans; werkopdragte; eksamens; gesprekke met dosente; gesprekke met medestudente; webwerwe
ABSTRACT
This article examines the vitality of Dutch and Afrikaans in the higher education sector. Initially, the article considers the UNESCO (2003) report on the vitality of languages and the role of education - and higher education in particular - in determining the vitality of a language, the extent to which the language is transmitted from one generation to the next, and the modernisation of the language, which includes its ability to expand into new and emerging domains, such as new media, technological and scientific developments, and new professions.
The discussion of the state of Dutch is based on the results of three Staat van het Nederlands studies conducted in 2016, 2018 and 2020 among panels of respondents from the Netherlands, Flanders and Suriname. The results indicate that Dutch is increasingly threatened by English in the higher education sector. Although tuition in career-orientated institutions was still predominantly offered in Dutch only, the use of Dutch was declining in university tuition. Of the different regions under consideration, the situation in the Netherlands was the worst. Only 28,1% of the students said that they received tuition in Dutch only. The corresponding percentages were 43,5% in Flanders and 64,3% in Suriname. The option "English only" was chosen by respondents in all three countries. The authors of the reports also voiced concerns about the fact that most Dutch academics and researchers strive to publish their articles in high-ranking English journals. English is furthermore increasingly becoming the dominant language at academic conferences - even conferences focusing on the Dutch language.
In 2024 the Afrikaans Language Board (Afrikaanse Taalraad) initiated a similar investigation into the state of Afrikaans. This study took the form of a questionnaire survey among a random sample of 2 083 Afrikaans-speaking respondents. The sample included 114 respondents who indicated that they were studying at a higher education institution and answered the questions on language use in the higher education sector. Since there are no longer any public universities in South Africa that can be regarded as "Afrikaans only" universities, it can be predicted that the situation of Afrikaans is worse than that of Dutch in the above-mentioned three Dutch-speaking regions.
Surprisingly, the percentage of students who indicated that they received tuition in Afrikaans only (27,3%) compared quite well with the corresponding percentage for the Netherlands (28,1%), but were far lower than that for Flanders and Suriname. Most of the respondents (53,0%) indicated that they received tuition in Afrikaans and English, while only 8,5% of the respondents said that they received tuition in English only. The conclusion is that the majority of Afrikaans-speaking students - even those studying at institutions that still offered a range of courses through the medium of Afrikaans - received tuition in English and Afrikaans, and not in Afrikaans only.
Responses to questions examining various dimensions of university teaching revealed the limited use of Afrikaans in the higher education sector. Of the full respondent group, only slightly more than a quarter indicated that they spoke only Afrikaans to lecturers and that lecturers always presented classes in Afrikaans (27,4% and 28,0%, respectively). Less than a quarter of the respondents said that study material was always in Afrikaans (23,2%), that handbooks were in Afrikaans (20,9%), that they always did assignments in Afrikaans (22,5%), and that they always wrote examinations in Afrikaans (24,8%).
The study also examined language use in social interaction on campuses of higher education institutions and in official communication from these institutions to students and parents. Only 26,8% of the respondents indicated that they always spoke Afrikaans with fellow students. The percentages were even lower for always using Afrikaans in discussions with fellow students outside lecture halls (24,6%) and in student accommodation (23,4%). Newsletters that were always in Afrikaans from higher education institutions were reported by only 16,3% of the students. Only 21,0% of the students indicated that the websites of their institutions were fully available in Afrikaans. The responses indicated that English was the only other language used in their higher education institutions.
The conclusion is that the position of Afrikaans in higher education is a cause for serious concern. In higher education, Afrikaans is still used and heard only in small pockets here and there. That is the case not only at universities and colleges, which are predominantly English, but also at institutions that still claim that they offer a range of qualifications through the medium of Afrikaans. This article makes recommendations for further research. In particular, it is recommended that research be conducted among students of Northwest University and Stellenbosch University to establish the reasons why they do not receive tuition in Afrikaans only while they are registered for courses the universities claim to offer through the medium of Afrikaans.
Keywords: higher education; position of Afrikaans; position of Dutch; teaching in Afrikaans; assignments; examinations; discussions with lecturers; discussions with fellow students; websites
1. Inleiding
"I speak my favourite language
because
that's who I am.
We teach our children [in] our favourite language,
because
we want them to know who they are."
(Christine Johnson, Tohono O'odham elder, American Indian Language Development Institute, June 2002)
Die verslag van die UNESCO Ad Hoc Expert Group on Endangered Languages (2003:1) begin met die bogenoemde aanhaling. Die verslag fokus op faktore wat die vitaliteit van 'n taal bepaal en daartoe bydra dat 'n taal óf gedy óf wegkwyn en uiteindelik uitsterf. UNESCO beskou taaldiversiteit as 'n belangrike komponent van die erfenis van die mensdom. Elke taal vergestalt die unieke kennis en kultuur van 'n sekere groep mense. Die verlies van een taal is gevolglik 'n verlies vir die totale mensdom.
Die aanhaling hier bo plaas die klem op die bepalende rol wat onderrig in die lewenskragtigheid van 'n taal speel. Volgens UNESCO (2003) word 'n taal bedreig wanneer sprekers ophou om die taal te gebruik, wanneer die taal toenemend slegs in beperkte domeine gebruik word en wanneer dit nie langer van een generasie na 'n volgende generasie oorgedra word nie. Daar is gevolglik nie nuwe sprekers - volwassenes en kinders - nie. Die onderwys speel 'n belangrike rol in die oordrag van die taal tussen generasies (Rys et al., 2017). As 'n taal vir kommunikasie in die onderwys gebruik word, is daar 'n baie kleiner kans dat dit kan uitsterf. Taalgeletterdheid is verder belangrik. Dit is veral belangrik dat boeke en leermateriaal om die taal aan te leer, beskikbaar moet wees.
Dit is egter nie genoegsaam dat 'n taal formeel deur kinders, studente en volwassenes aangeleer word nie (UNESCO, 2003). Dit is nodig dat 'n taal die uitdagings van moderniteit en ontwikkeling die hoof kan bied. Dit beteken dat die gebruik van die taal moet uitbrei na nuwe en ontluikende domeine, soos nuwe beroepe en tegnologieë, nuwe media en die internet. 'n Taal wat dit nie doen nie, loop gevaar om irrelevant en gestigmatiseer te word. Ook hier speel die onderwys 'n kritieke rol.
Twee kriteria is hier van belang: (a) tot op watter vlak en (b) hoe wyd onderwys in die betrokke taal plaasvind. 'n Taal wat die medium van onderwys is vir alle vakgebiede tot op die hoogste vlak, het 'n groter kans om te gedy as 'n taal wat beperk is tot taalonderrig. Dit is verder belangrik dat geskrewe materiaal oor 'n breë front beskikbaar moet wees om die gebruik van die taal op alle terreine, ook op nuwe en ontluikende terreine, te ondersteun.
Ten einde terminologie te skep en uit te brei om tred te hou met ontwikkelings in die wetenskap, tegnologie en beroepswereld, moet 'n taal 'n proses van intellektualisering ondergaan (Khumalo, 2017). Intellektualisering behels dat die standaardspreektaal omvorm, uitgebrei en gemoderniseer word sodat die terminologie die volle omvang van wetenskaplike strengheid en presisie kan verwoord en die taal die vermoë het om die volle kompleksiteit van wetenskaplike denke weer te gee. Volgens Finlayson en Madiba (2002) behels intellektualisering die radikale transformasie van die kapasiteit en rol van 'n taal sodat dit uitdrukking kan gee aan alle vorme van kennis in alle lewensfere. Die intellektualisering van 'n taal vind egter nie spontaan plaas nie. Dit impliseer gewoonlik bewustelike en gerigte prosesse wat deur uitgewers en private organisasies geïnisieer kan word, maar veral binne die hoër onderwys momentum word (Alberts, 2014). Dit beteken dat die hoër onderwys 'n sleutelrol speel in die groei en ontwikkeling van 'n taal om by die moderne wêreld aan te pas sodat dit in alle lewensdomeine - en nie slegs in sosiale en intieme sfere nie - gebruik word.
Die gebruik in die hoër onderwys van die tale wat deur plaaslike groepe gepraat word, is, soos die aanhaling hier bo aandui, verder 'n belangrike manier om plaaslike kulture en identiteite te ondersteun, te beskerm, uit te bou en aan 'n nuwe geslag oor te dra (Aziakpono & Bekker, 2010; Bornman & Potgieter, 2017). Daarbenewens hou moedertaalonderrig, ook in die hoër onderwys, verreikende voordele vir leer in (Bornman et al., 2017; Webb, 2006). In die eerste plek bevorder moedertaalonderrig die kognitiewe, sosiale en affektiewe vaardighede wat die verwerwing van kennis en begrip fasiliteer. Die verwerwing van kennis is ook nie 'n geïsoleerde proses nie, maar vind plaas in die wisselwerking tussen dosente, studente en die leermateriaal. Doeltreffende kommunikasie, wat ook deur die gebruik van die moedertaal bevorder word, is gevolglik 'n integrale komponent van suksesvolle leer. Deelname aan vakkundige diskoerse word verder deur die gebruik van die moedertaal bevorder, terwyl navorsing aandui dat moedertaalleerders meer aktief en met meer selfvertroue aan die leerproses deelneem (vergelyk o.m. Hornberger, 1987; Hurst, 2016; Webb, 2006).
Bull (2012) asook Mortensen en Haberland (2012) wys daarop dat moedertaalonderrig in die hoër onderwys toenemend ondergrawe word deur prosesse van internasionalisering en globalisering asook deur globalistiese ideologieë. Internasionalisering, en veral die vermoë om internasionale studente te werf, word toenemend beskou as 'n kerndoelwit van hoër-onderriginstellings om as wêreldklasuniversiteite gereken te word. Ander tale as Engels word as 'n hindernis vir studentemobiliteit beskou en gevolglik word veral nagraadse kursusse toenemend in Engels aangebied. Die strewe na internasionalisering hang nou saam met prosesse van globalisering waar hoëronderriginstellings toenemend beskou word as 'n integrale deel van die globale kennisekonomie. Engels - as die voertaal van die globale ekonomie - dring dan ook orals in.
Die hoër onderwys is geen uitsondering nie. Bull (2012) wys wel daarop dat globalisering nie slegs deur werklike prosesse van integrasie en die wêreldwye verspreiding van kapitalisme en 'n globale kennisekonomie in die hand gewerk word nie. Dit word ook aangedryf deur globalistiese ideologieë waarvolgens globaliserende kragte as 't ware as "natuurlik" en onver-mydelik beskou word. In hulle strewe om wêreldklasuniversiteite te word, oordeel universiteitsbesture dikwels dat hulle nie anders kan as om die kommersialisering en kommodifisering, en die gepaardgaande verengelsing, van hoër onderwys te ondersteun nie. Die taalkeuses van studente en hulle ouers word ook deur globalisme beïnvloed. In plaas daarvan om die voordele van moedertaalonderrig in ag te neem wanneer hulle taalkeuses maak, glo baie studente dat Engels die sleutel is wat vooruitgang in die globale ekonomie ontsluit. Studente glo ook dikwels (verkeerdelik) dat die res van die wêreld eentalig Engels is (Balfour, 2007).
UNESCO (2003) moedig taalgemeenskappe aan om die situasie waarin hulle tale verkeer te ondersoek ten einde te bepaal welke aksies nodig is om die oorlewing van die tale te verseker en die vitaliteit daarvan in verskillende domeine te bevorder. In respons op UNESCO (2003) se verslag het die Taalunie1 (2017, 2019, 2021; Rys et al., 2017, 2019, 2021), in samewerking met die Meertens Instituut, die Universiteit Gent asook die Instituut voor de Opleiding van Leraren en Anton de Kom Universiteit van Suriname, 'n reeks ondersoeke geloods om die vitaliteit van Nederlands in verskillende domeine te bepaal.
Die hoër onderwys was een van hierdie domeine. In 2024 het die Afrikaanse Taalraad die Nederlandse ondersoeke2 opgevolg en 'n landswye ondersoek na die stand van Afrikaans geloods. Die resultate van een aspek van hierdie ondersoek - die Stand van Afrikaans 2024 - word in hierdie artikel bespreek. Hierdie bespreking word in perspektief geplaas teen die agtergrond van tendense wat in die Staat van het Nederlands-ondersoeke na vore getree het.
2. Die Stand van Nederlands in die hoër onderwys
Die eerste van die Staat van het Nederlands-ondersoeke is in 2016 onderneem en dit is daarna in 2018 en 2020 herhaal (Rys et al, 2017, 2019, 2021). Al drie ondersoeke het die vorm van internetopnames aangeneem waar vraelyste aan 'n paneel respondente in elke deelnemende land/streek - die sogenaamde Staat-Ned-panele - gestuur is om te voltooi. In Nederland en Vlaandere is die paneellede deur die Meertens Instituut en die Universiteit Gent gewerf. Respondente wat bereid was om op die paneel te dien, is ook gevra om hulle bereid te verklaar om aan die tweejaarlikse opvolgondersoeke deel te neem.
Die eerste ondersoek het 3 003 Nederlanders (onder wie 133 Friese), 3 419 Vlaminge en 113 Brusselaars betrek. In die ontleding van die data is onderskei tussen die respondente van Friesland en dié van ander Nederlandse streke. In die 2018-opname is 'n paneel van Suriname (die Suid-Amerikaanse staat waar Nederlands ook die amptelike taal is) betrek. Hierdie paneel het 3 624 Nederlanders (317 Friese ingesluit), 2 513 Vlaminge, 130 Brusselaars en 730 Surinamers ingesluit. Die 2020-ondersoek het 3 195 Nederlanders, 186 Friessprekendes, 4 007 Vlaminge, 309 Brusselaars en 949 Surinamers betrek.
Die 2016-ondersoek is as die nulmeting beskou en het 'n groot aantal domeine - waaronder ook die onderwys en hoër onderwys - ingesluit (Rys et al., 2017). Nie al die domeine is in die 2018-ondersoek herhaal nie. Aangesien die 2016-opname egter verengelsingsdruk in die hoër onderwys en wetenskapsbeoefening aan die lig gebring het, is die betrokke vrae in 2018 en weer in 2020 herhaal (Rys et al., 2021). Alhoewel die vraelyste nie wetenskapsbeoefening gedek het nie, is bykomende inligting ingesamel oor die taal wat in proefskrifte, verhandelings en wetenskaplike artikels gebruik word. Bykomende navorsing is ook oor die taal van onderrig by geselekteerde universiteite gedoen.
Die vrae is gestel aan ouers van studente wat besig was met hoër onderwys asook aan respondente wat self besig was met naskoolse studie. Min ouers het gereageer en hierdie groep is in die uiteindelike resultate buite rekening gelaat. Daar word in die Europese Nederlands-sprekende gebiede onderskei tussen instellings wat beroepsgerigte onderrig aanbied aan die een kant en universiteite aan die ander kant.
In die volgende afdeling word hoofsaaklik aandag geskenk aan die respondente se antwoorde op die vraag: "Mijn docenten geeft niet-taalvakken in het Nederlands" ("My dosente bied nie-taalvakke in Nederlands aan"). Die responsopsies was die volgende: "Altijd" (altyd), "Vaak" (dikwels). "Soms" (soms) , "Zelden" (selde) , "Nooit" (nooit), en "Nietvan toepassing" (nie van toepassing nie). Daar word ook kortliks verwys na die response op soortgelyke vrae oor die taal waarin studente met dosente en mede-studente kommunikeer, die taal waarin werkopdragte gedoen word asook die taal wat in die webwerwe van hoëronderriginstellings gebruik word.
2.1 Beroepsgerigte instellings
Wat onderrig by beroepsgerigte instellings betref, het relatief hoë persentasies - meer as wat die geval vir universiteite was - die opsie Altijd Nederlands gekies. Vir Vlaandere was hierdie persentasie so hoog as 75,1% in vergelyking met die 70,3% vir Suriname en 68,1% vir Nederland (Rys et al., 2021; Taalunie, 2021). Die persentasie vir Zowel Engels as Nederlands was ook die kleinste vir Vlaandere (16,6%) in teenstelling met 19,1% vir Suriname en 20,1% vir Nederland. In Nederland het 4,5% van die respondente aangedui dat Fries ook gebruik word. Vir die vrae wat gefokus het op die taal wat gebruik is in kommunikasie met dosente en studente, asook die taal van leermateriaal, was die aantal respondente wat gereageer het te min om werklik betroubare gevolgtrekkings te maak.
Rys et al. (2021) kom tot die gevolgtrekking dat beroepsgerigte onderrig in Nederland, Vlaandere en Suriname nog hoofsaaklik in Nederlands geskied. In al hierdie lande was daar wel sprake dat Engels met Nederlands gekombineer word. In al drie lande speel ander tale as Engels ook 'n rol. Fries word in Nederland genoem, Frans in Vlaandere en Sranantongo in Suriname.
2.2 Universiteite
Die taalsituasie by universiteite het egter skerp van dié van beroepsgerigte instellings verskil. Die respons Altijd Nederlands is die meeste in Suriname (64,3%) gekies in vergelyking met die 43,5% vir Vlaandere en slegs 28,1% vir Nederland (Rys et al., 2021; Taalunie, 2021). In Suriname is Zowel Engels as Nederlands ook die minste gekies (26,4% teenoor 37,8% in Vlaandere en 48,5% in Nederland). Die gevolgtrekking kan gemaak word dat "slegs Nederlands" die minste en "sowel Engels as Nederlands" die meeste in Nederland gekies is.
Die respons Altijd Engels het ook voorgekom by universiteite in Nederland en Vlaandere. Dit was veral die geval in Nederland waar hierdie opsie deur 14,3% van die respondente gekies is. Die ooreenstemmende persentasies vir Vlaandere was 5,3%. Daar was 'n klein persentasie Vlaamse studente (1,9%) wat aangedui het dat hulle slegs in Frans onderrig ontvang. Volgens Rys et al. (2021) het hierdie studente waarskynlik aan Franstalige universiteite gestudeer. In die meertalige Suriname was daar geen studente wat aangedui het dat hulle geheel en al in 'n ander taal onderrig ontvang het nie.
Volgens die Taalunie (2021) het tendense ten opsigte van onderrigtale vir nie-taalvakke in Nederland sedert 2018 redelik stabiel gebly: 53,1% van die respondente het gerapporteer dat Zowel Engels als Nederlands, 23,1% dat Altijd Nederlands en 18,4% dat Altijd Engels gebruik is. In Vlaandere het die respons Zowel Engels as Nederlands toegeneem na 47,9%, terwyl die keuse vir Altijd Nederlands afgeneem het na 34,1% en Altijd Engels bykans verdubbel het na 6,9%. Terwyl dit gevolglik uit die ondersoeke voorkom of die opmars van Engels as onderrigtaal in die hoër onderwys in Nederland effens afgeplat het, gaan dit in Vlaandere stadig maar seker voort.
In Nederland en Vlaandere kon agteruitgang in die gebruik van slegs Nederlands ook in ander domeine van die hoër onderwys (kommunikasie met dosente, kommunikasie met mede-studente, webwerwe en werkopdragte) waargeneem word sedert die nulmeting in 2016. Daar was verder 'n toename in die gebruik van Engels ten opsigte van studiemateriaal, werkopdragte en so meer. In Vlaandere en Brussel het Frans ook 'n rol gespeel en in Suriname ook Sranantongo, laasgenoemde meestal in mondelingse kommunikasie.
Rys et al. (2021) maak die gevolgtrekking dat Nederlands in die hoër onderwys toenemend deur Engels bedreig word. Hierdie bedreiging word die ergste in Nederland ervaar, maar kan ook duidelik in Vlaandere waargeneem word. Die indringing van Engels is die minste in Suriname waar die meerderheid van studente aangedui het dat hulle steeds onderrig slegs in Nederlands ontvang het.
2.3 Houdings teenoor Nederlands
Houdings teenoor Nederlands as onderrigtaal is ondersoek met die stelling: "In het hoger onderwijs mogen niet-taalvakken in een andere taal dan het Nederlands worden gegeven." ("In die hoër onderwys kan 'n ander taal as Nederlands in die onderrig van nie-taalvakke gebruik word.") Die resultate weerspieël die veranderende taalklimaat in die hoër onderwys en het nie veel tussen die drie opnames verskil nie (Rys et al., 2021; Taalunie, 2021).
Onder moedertaalsprekers was veral die Brusselaars positief oor die gebruik van ander tale (87,7%); 'n tendens wat waarskynlik die gevolg is van die meertalige samestelling van die Brusselse bevolking. Hulle is gevolg deur die Friese (76,4%), die Vlaminge (76,1%), die Nederlanders (61,6%) en die Surinamers (54,8%). Onder nie-moedertaalsprekers is dit veral die Friese (81,8%) wat besonder positief oor die gebruik van ander tale, vermoedelik hoofsaaklik Fries, op universiteitsvlak was.
2.4 Bykomende inligting
Soos reeds genoem, het die Taalunie ook bykomende indieptenavorsing oor die gebruik van Nederlands by hoëronderriginstellings gedoen (Rys et al., 2017, 2019, 2021). In 2016 is gekyk na die taal van studiegidse by drie universiteite (die Universiteit Leiden en die Tegniese Universiteit van Eindhoven in Nederland en die Universiteit Gent in Vlaandere). In 2018 is navorsing gedoen oor die onderrigtaal in 'n vak in die Geesteswetenskappe (Geskiedenis) en 'n vak in die Natuurwetenskappe (Wiskunde) by die Universiteit Utrecht (Nederland), die Universiteit Antwerpen (Vlaandere) en die Anton de Kom Universiteit in Paramaribo (Suriname).
In 2020 is weer gekyk na die taal van studiegidse vir die twee vakke wat ondersoek is. Al hierdie ondersoeke het verengelsingstendense aan die lig gebring. Dit het geblyk dat voorgraadse kursusse (baccalareusgrade) hoofsaaklik in Nederlands aangebied is, terwyl nagraadse kursusse (veral gedoseerde meestersgrade) merendeels in Engels aangebied is. Dit was die geval by al die universiteite asook vir albei die vakke wat ondersoek is. Die Universiteit Utrecht in Nederland het die sterkste Engelse oriëntering geopenbaar.
Die feit dat studiegidse vir voorgraadse kursusse hoofsaaklik in Nederlands was, is vreemd inaggenome die response in die vraelysopname wat dui op 'n toename in die gebruik van Engels in onderrigsituasies. Volgens Rys et al. (2021) kan die diskrepansies moontlik toegeskryf word aan die beperkte aard van die navorsing (slegs twee vakke en enkele universiteite).
Daar kan ook diskrepansies wees tussen dit wat in jaarboeke staan en dit wat in die praktyk gebeur. So kan dit wees dat dosente lesings in Engels gee ter wille van studente in die klas wat nie Nederlands goed verstaan nie, maar dat die jaarboek aandui dat die kursus in Nederlands aangebied word. Dit kan ook wees dat sommige dosente nie Nederlands behoorlik magtig is nie en daarom lesings eerder in Engels aanbied.
2.5 Wetenskapsbeoefening
Rys et al. (2017) spreek ook kommer uit oor verengelsing in die domein van wetenskapsbe-oefening. Hulle wys byvoorbeeld daarop dat Nederlandse navorsers en akademici merendeels verkies om in Engels te publiseer. 'n Belangrike rede is dat die aantal publikasies van 'n individu in sogenaamde A1-tydskrifte (dit is internasionale tydskrifte met 'n hoë impakfaktor waar artikels anoniem en onafhanklik beoordeel word) 'n groot rol speel in aanstellings en bevordering in die akademie. Die meerderheid van A1-tydskrifte publiseer meestal in Engels. Rys et al. (2017) wys verder op 'n sterk tendens dat voordragte by wetenskaplike kongresse toenemend in Engels aangebied word. Dit gebeur selfs by kongresse wat op die Nederlandse taal fokus.
Die keuse van Engels wanneer nuwe navorsing gepubliseer of in kongreslesings gerapporteer word, het volgens Rys et al. (2017) belangrike implikasies vir die vitaliteit van Nederlands. As Nederlands nie langer in wetenskaplike publikasies gebruik word nie, kan dit die ontwikkeling van nuwe terminologie vir ontluikende velde verhinder.
Nie alleen word Nederlands nie verder verryk deur nuwe terminologie nie, maar bestaande wetenskaplike terminologie kan in onbruik raak. Rys et al. (2017) spreek dan ook die voorneme uit om in toekomstige ondersoeke van die Staat van het Nederlands verder en in meer diepte te kyk of die snelle verengelsingstendense in wetenskapbeoefening voortduur.
Vervolgens word gerapporteer oor hoe die ooreenstemmende Afrikaanse ondersoek in hierdie verband verloop het.
3. Die Stand van Afrikaans 2024
Afrikaans in die hoër onderwys het sedert 1994 'n uiters stormagtige tydperk beleef (Bornman et al., 2017, 2021). Ten spyte van die feit dat Afrikaans in die Grondwet van Suid-Afrika (1996) as een van (tans) twaalf amptelike tale erken word, word die hoëronderwyssektor gekenmerk deur die hegemonie van Engels. Hierdie verengelsing word in 'n groot mate aangevuur deur die aandrang op transformasie (Department of Education, 1996). Volgens Badat (2010) het transformasie ten doel om die sosiale, politieke en ekonomiese ongelykhede van apartheid uit te wis en gelyke toegang vir almal tot hoër onderwys en in die besonder groter deelname van swart mense, vroue, gestremdes en volwasse leerders te bevorder. Dit impliseer dat die taal van onderrig ook vir hierdie groepe toeganklik moet wees.
Net soos wat taal in Europa as 'n hindernis vir studentemobiliteit beskou word (Bull, 2012; Mortensen & Haberland, 2012), word 'n taal soos Afrikaans deur baie beskou as 'n struikelblok wat gelyke toegang tot hoëronderriggeleenthede belemmer (Mzangwa, 2019). Engels word gevolglik as die enigste (of dominante) taal van onderrig gepropageer. Volgens Pandor (2018) bestaan daar verder 'n sterk verwagting dat die demografie van akademiese personeel by historiese wit hoëronderriginstellings moet verander en dat veral meer swart professore aangestel moet word. Hoëronderriginstellings is gevolglik onder druk om akademici aan te stel wat nie noodwendig Afrikaans magtig is nie.
Daar is verder by die Suid-Afrikaanse regering 'n onwilligheid, en selfs onvermoë, om meertaligheid in die hoër onderwys te bevorder en die intellektualisering van alle Suid-Afrikaanse tale te fasiliteer sodat elke taal - en ook Afrikaans - kan uitdrukking gee aan alle vorme van kennis en volledig as onderrigtaal in die hoër onderwys kan dien (Van der Walt & Steyn, 2016).
Die Staat van het Nederlands-ondersoeke het Afrikaanse navorsers en die Afrikaanse Taalraad geïnspireer om in samewerking met die Taalunie in Nederland 'n soortgelyke ondersoek te loods om die stand van Afrikaans te ondersoek. Dit sou baanbrekerswerk in die Suid-Afrikaanse konteks wees. Befondsing is van Die Dagbreek Trust verkry en MarkData3 is in 2024 gekontrakteer om die landswye ondersoek te onderneem. Die vraelys wat in die Nederlandse ondersoeke gebruik is, is met behulp van kundiges op verskillende terreine vir die Suid-Afrikaanse konteks aangepas.
Die oorkoepelende navorsingsvraag vir die ondersoek na die Stand van Afrikaans 2024 was die volgende:
• In watter mate word Afrikaans in verskillende lewensdomeine deur Afrikaanssprekendes gebruik?
Net soos in die Nederlandse ondersoeke, is vrae oor die hoër onderwys ook ingesluit. Die navorsingsvrae wat die ondersoek na die stand van Afrikaans in hierdie domein gerig het, was die volgende:
• In watter mate word Afrikaans vir onderrig in die hoër onderwys gebruik?
• In watter mate word tale wat afwyk van Standaardafrikaans in die hoër onderwys gebruik?
• In watter mate is studiemateriaal in die hoër onderwys in Afrikaans?
• In watter mate kan studente in Afrikaans rekenskap gee van hulle kennis en insig?
• In watter mate kan studente in Afrikaans met dosente kommunikeer?
• In watter mate kan studente met medestudente in Afrikaans kommunikeer?
• In watter mate kommunikeer hoëronderriginstellings met studente, ouers en/of voornemende studente in Afrikaans?
Multistadium- gestratifiseerde waarskynlikheidsteekproefneming is geïmplementeer om 'n steekproef van Afrikaanssprekende huishoudings te trek. Die teikenpopulasie was Afrikaans-sprekendes in die 50 areas wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut4 geïdentifiseer is as streke met 'n relatief hoë persentasie Afrikaanssprekende inwoners (Afrikaanse Taalraad & Solidariteit Navorsingsinstituut, 2022). Die Solidariteit-data is geverifieer deur vergelykings met die GeoTerraImage (GTI)-inligting wat op 'n gereelde basis aangepas word. Hierdie inligting is gebruik om opnemersgebiede (sogenaamde enumerator areas of EA's of OG's in Afrikaans) te trek. Die steekproef is verder gestratifiseer om te verseker dat die volgende verteenwoordig word:
• Metro's, nie-metro stedelike en nie-metro landelike gebiede wat in die 50 streke ingesluit is
• Al nege provinsies
• Lae-, hoë- en middel-inkomstegebiede soos geïdentifiseer deur die GTI
• Die rassegroepe wat in die 50 streke teenwoordig is.
Ten einde te kwalifiseer om aan die ondersoek deel te neem, moes 'n persoon Afrikaans as huistaal of addisionele taal gehad en 16 jaar of ouer gewees het. In stedelike OG's is vier tot agt en in niestedelike OG's ses tot tien onderhoude per OG gevoer. Hierdie metodologie het meegebring dat die finale gerealiseerde steekproef alle bevolkings-, geslag- en ouderdoms-groepe, asook al die provinsies van Suid-Afrika, ingesluit het.
Die aanvanklik beplande steekproefgrootte was 1 500. Ná die opname is egter besluit dat daar nie genoeg inligting oor skoolgaande kinders ingesamel is nie. Daar is toe teruggegaan na die oorspronklike stedelike OG's en spesifiek gesoek na huishoudings waar kleuters, laeren/of hoërskoolleerlinge teenwoordig was. So is 'n bykomende 500 onderhoude gevoer.
Die finale gerealiseerde steekproef was 2 083 respondente. Die finale datastel is geweeg deur Ontwerp- en RIM-wegingsbeginsels te gebruik. Dit behels die regstelling van die disproporsionele steekproefontwerp wat by die multistadium- gestratifiseerde keuringsproses ingestel is, asook vir die demografiese eienskappe wat nie gestrook het met die populasieprofiele nie.
In die finale steekproef het 114 respondente aangedui dat hulle of hulle kinders besig was met naskoolse onderwys. Die demografiese samestelling van hierdie groep word in Tabel 1 weergegee.
Die meeste vrae wat op hoër onderwys gerig was, is uiteindelik deur 114 respondente voltooi. In die Suid-Afrikaanse vraelys word die term "Skoolafrikaans" gebruik om respondente te help om te onderskei tussen Standaardafrikaans en variëteite soos byvoorbeeld Kaaps. In hierdie artikel word die term "Afrikaans" gebruik om Standaardafrikaans aan te dui.
Op aanbeveling van MarkData word persentasies gebruik om die bevindings weer te gee. Dit word gedoen, omdat die finale datastel geweeg is en die gerealiseerde frekwensies (aantal respondente) dikwels nie die geweegde persentasies direk weerspieël nie. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die aantal respondente vir al die provinsies - maar veral in die geval van Mpumalanga, die Vrystaat en Noordwes - laag was. (Daar was geen respondente vir KwaZulu-Natal nie.) Tendense vir die verskillende provinsies word wel uitgewys, veral omdat sekere provinsies geassosieer word met instellings wat aandui dat hulle kwalifikasies in Afrikaans aanbied.
Die resultate behoort bloot as 'n aanduiding van moontlike tendense beskou te word. Daar moet eerder gefokus word op die totale persentasies vir die hele ondersoekgroep. Verdere navorsing is nodig alvorens betroubare gevolgtrekkings ook vir provinsies en ander subgroepe getref kan word. Oor die behoefte aan verdere navorsing word in die slotopmerkings meer gesê.
4. Tendense ten opsigte van Afrikaans in die hoër onderwys
Anders as wat in die Europese en Suid-Amerikaanse Nederlandssprekende gebiede die geval was, het Suid-Afrika nie meer openbare universiteite wat as "Afrikaanse" universiteite bekend staan nie. Dit beteken dat selfs op voorgraadse vlak alle universiteite feitlik alle kursusse in die eerste plek in Engels aanbied. Volgens inligting wat deur die Afrikaanse Taalraad ingesamel is, bied die Universiteit Stellenbosch5 en die Noordwes-Universiteit (NWU) nog 'n aantal kursusse in verskillende fakulteite in Afrikaans aan (Afrikaanse Taalraad, s.d.).
Om die toenemende verengelsing in die hoër onderwys teen te werk en 'n tuiste vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe te bied, het Akademia as 'n privaat klassieke tersiêre instelling in 2011 sy deure geopen (Akademia, s.d.). Hierdie instelling bied 'n aantal grade en nagraadse diplomakursusse in die Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geestesweten-skappe, Opvoedkunde en Natuurwetenskappe aan.
Daar is ook 'n aantal beroepsgerigte instellings waar Afrikaans nog as onderrigmedium gebruik word (Afrikaanse Taalraad, s.d.). So bied die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) 'n aantal diplomakursusse in onderwysrigtings aan (Afrikaanse Taalraad, s.d.). Die Sol-Tech Opleidingsentrum, wat op die inisiatief van Solidariteit gestig is, bied 'n wye reeks tegniese kursusse in Afrikaans aan. Die instelling Akademiese Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS) bied onderwysgrade en -diplomas aan; by die Centurion Akademie kan op sekere kampusse spesifieke diploma- en sertifikaatkursusse in Afrikaans geneem word; die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) bied voorgraadse Baccalareus-grade en nagraadse onderwysdiplomas aan; terwyl die Christelike Gereformeerde Teologie Seminarium6 teologiese opleiding aanbied.
Hierdie gegewens behoort reeds 'n aanduiding te gee dat Afrikaans in die Suid-Afrikaanse hoër onderwys in 'n noutegang is. Daar is slegs enkele universiteite en instellings (Akademia, AROS, die Universiteit Stellenbosch, die Noordwes-Universiteit) wat nog aandui dat hulle 'n reeks grade en ander tersiêre kwalifikasies in verskillende fakulteite in Afrikaans aanbied. 'n Soortgelyke situasie geld vir beroepsgerigte instellings. Dit is teen hierdie agtergrond wat tendense oor die gebruik van Afrikaans geëvalueer moet word.
Die persentasie respondente wat aangedui het dat hulle alleenlik in Afrikaans onderrig ontvang het (27,3%), vergelyk verrassend nie sleg met die ooreenstemmende persentasie (28,1%) vir Nederland nie (Tabel 2; Figuur 1). Dit is wel aansienlik laer as wat vir Vlaandere (43,5%) en Suriname (64,3%) die geval was. Aansienlike verskille kan ook tussen die provinsies waargeneem word. Tot soveel as 76,4% van die respondente van Mpumalanga (hou egter die klein aantal respondente in ag) en 52,2% van die Noord-Kaap het aangedui dat hulle altyd in Afrikaans onderrig ontvang.
Vir die twee provinsies waar 'n universiteit geleë is wat nog aandui dat hulle 'n aantal kwalifikasies in Afrikaans aanbied - Noordwes en die Wes-Kaap - was die ooreenstemmende persentasies egter so laag as 25,7% en 25,3% respektiewelik. (Die klein aantal respondente vir Noordwes moet wel in ag geneem word.) Dit is moeilik om te verklaar waarom sulke relatief hoë persentasies respondente in Mpumalanga en die Noord-Kaap nog deurgaans onderrig in Afrikaans ontvang. Dit wil voorkom of die Afrikaanse aanbod by instellings in Noordwes en die Wes-Kaap selfs meer beperk is as wat hierdie instellings geneig is om voor te gee. Die afleiding kan gemaak word dat dit vir die meerderheid van die studente nie moontlik was om al hulle vakke/kursusse in Afrikaans te neem nie.
Daar was min sprake van onderrig uitsluitlik in 'n dialek ('n taalvorm wat afwyk van Standaardafrikaans). Slegs 2,5% van die totale ondersoekgroep het hierdie opsie gekies. Dit was ook net in die Noord-Kaap (6,4%), die Oos-Kaap (5,5%) en Gauteng (3,6%) waar respondente aangedui het dat hulle slegs in 'n dialek (oftewel 'n variëteit van Afrikaans) onderrig ontvang het. Dit is egter wel merkwaardig dat dieselfde twee provinsies (Oos-Kaap - 19,9%; Noord-Kaap - 7,8%) asook die Wes-Kaap (8,2%) aangedui het dat hulle soms onderrig ontvang in iets tussen Skoolafrikaans en 'n dialek. Dit is egter slegs respondente in die Oos-Kaap (10,9%) wat aangedui het dat hulle onderrig in Afrikaans en 'n dialek ontvang.
Die totale persentasie respondente wat die opsie "Slegs Engels" gekies het (8,5%) was laer as wat verwag kon word. Relatiewe hoë persentasies respondente van Limpopo (38,3%) en Noordwes (22,9%) - asook respondente van Gauteng (7,8%) en die Oos-Kaap (14,4%) -het hierdie opsie gekies. Dit is verder opvallend dat geen respondente van Mpumalanga en die Wes-Kaap aangedui het dat hulle slegs in Engels onderrig ontvang nie.
"Engels en Afrikaans" was nie slegs die opsie wat deur die meerderheid (53,0%) van die totale ondersoekgroep gekies is nie, maar soveel as 73,9% van respondente van die Vrystaat, 73,8% van Gauteng, 63,2% van die Wes-Kaap en 51,4% van Noordwes het aangedui dat hulle onderrig in Afrikaans en Engels ontvang. Onderrig in Afrikaans en Engels is deur 23,6% van die respondente in Mpumalanga aangedui en deur deur 28,5% van die respondente in die Oos-Kaap. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat onderrig in provinsies wat tradisioneel met Afrikaanse onderrig geassosieer is (soos die Wes-Kaap met die Universiteit Stellenbosch en Noordwes met Noordwes-Universiteit) ), hoofsaaklik in Afrikaans en Engels geskied en dat ook hier min studente kan sê dat hulle slegs in Afrikaans onderrig ontvang het.
4.2 Die gebruik van Afrikaans wat aspekte wat met hoër onderwys verband hou, betref
In opvolgvrae is gepoog om dieper te kyk na verskillende dimensies van hoër onderrig en 'n meer gevarieerde peiling te maak van die mate waarin Afrikaans gebruik word. Daar is gekyk na die taal wat in gesprekke met dosente gebruik word, die taal waarin klasse gegee word, die taal van studiemateriaal asook die taal waarin werkopdragte gedoen en eksamens geskryf word (Figuur 2; Tabel 3).
Van die totale ondersoekgroep het net meer as 'n kwart aangedui dat hulle altyd Afrikaans met dosente praat (27,4%) en dat dosente altyd in Afrikaans klas gee (28,6%). Die persentasies vir die ander dimensies is laer as 25%: 23,2% vir studiemateriaal, 20,9% vir handboeke, 22,5% vir werkopdragte en 24,8% vir eksamens.
Hierdie gegewens dui daarop dat min Afrikaanssprekende studente nog die voorreg het om in Afrikaans te studeer en deurgaans aktiwiteite wat met hoër onderwys verband hou, in Afrikaans te beoefen. Daar is ook min sprake van akademiese gesprekke en debatte - wat so 'n belangrike rol in leer speel (Webb, 2006) - tussen dosente en studente in Afrikaans. Die feit dat die meeste van hierdie persentasies, veral dié wat met onderrig, werkopdragte en eksamens verband hou, tot onder of na aan 25% gedaal het, is 'n aanduiding dat Afrikaans in die hoër onderwys ernstig bedreig word.
As 'n mens na die Wes-Kaap en Noordwes kyk (die provinsies met universiteite wat aan-dui dat hulle nog 'n reeks kwalifikasies in Afrikaans aanbied), is dit verder opvallend hoe min studente deurgaans Afrikaans in hierdie situasies gebruik en/of toegang tot Afrikaanse leer-materiaal het. Wat Noordwes betref (hou die klein aantal respondente in gedagte), het slegs in die geval van studiemateriaal, werkopdragte en eksamens net meer as 'n derde (37,2%) van die studente aangedui dat hulle altyd Afrikaans gebruik.
Die situasie in die Wes-Kaap is selfs swakker. Hier het skaars 'n kwart van die studente aangedui dat hulle altyd Afrikaans met dosente praat (25,3%) en werkopdragte in Afrikaans doen (26,0%). Vir al die ander situasies was die gebruik van "Altyd Afrikaans " selfs laer. Dit is veral opvallend dat slegs 17,6% van die Wes-Kaapse studente aangedui het dat hulle altyd hulle eksamens in Afrikaans skryf. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die aanbod van Afrikaans in die praktyk beperk is selfs by universiteite wat aandui dat hulle nog verskeie kwalifikasies in Afrikaans aanbied.
Soos wat Rys et al. (2021) bespiegel ten opsigte van hoër onderwys in Nederland, is daar waarskynlik faktore op grondvlak wat taalgebruik beïnvloed. Dit is moontlik dat dosente aangestel word - hoofsaaklik as gevolg van transformasiedruk - wat nie Afrikaans magtig is nie en vir alle groepe moet klasgee. Dit is waarskynlik ook minder werk vir dosente om lesings slegs in Engels voor te berei en aan te bied, al is hulle daartoe in staat en veronderstel om sekere klasse in Afrikaans te gee. Dit is verder veral verontrustend dat lae persentasies studente aandui dat hulle werkopdragte en eksamens altyd in Afrikaans doen.
Dit impliseer dat Afrikaanssprekende studente nie alleenlik nie die voordele geniet van die beter insig en begrip wat moedertaalonderrig bied nie, maar dat hulle ook nie hulle moedertaal kan gebruik om beter uitdrukking van hulle kennis en insig te gee nie (Bornman et al., 2017). Dosente wat nie Afrikaans magtig is nie, kan ook nie werkopdragte en eksamens in Afrikaans nasien nie, wat waarskynlik die rede is waarom studente dit ook in Engels moet doen.
Dit is opvallend dat relatief hoë persentasies studente van die Vrystaat aangedui het dat hulle net Afrikaans met dosente praat (79,5%) en dat daar slegs in Afrikaans klas gegee word (79,5%). Die persentasies "Altyd Afrikaans" vir die ander kategorieë was egter laag - deurgaans 26,1%. Dit wil voorkom of Afrikaans nie sy teenwoordigheid by hoëronderwysinstellings in die Vrystaat verloor het nie. Nietemin moet die meerderheid Afrikaanssprekende studente belangrike aspekte van hulle studies soos werkopdragte en eksamens in Engels doen. Weens die klein aantal respondente vir die Vrystaat (5), is dit nie moontlik om werklik te weet of hierdie gegewens slegs die ervarings van individue of algemene tendense weerspieël nie.
Dit is moeilik om te verklaar waarom relatief hoë persentasies studente in Mpumalanga - meer as 50% behalwe in die geval van handboeke - aangedui het dat hulle altyd met dosente Afrikaans praat, altyd klas in Afrikaans kry, hulle studiemateriaal altyd in Afrikaans is, hulle hul werkopdragte in Afrikaans voltooi en altyd eksamens in Afrikaans skryf. (Die feit dat daar net vyf respondente vir Mpumalanga was, moet hier in gedagte gehou word.)
Mpumalanga word oortref deur die Noord-Kaap waar respektiewelik 58,4%, 58,6%, 65,0%, 58,6% en 50,8% van die studente aangedui het dat hulle altyd Afrikaans met dosente praat, altyd in Afrikaans klas het, dat leermateriaal altyd in Afrikaans is, dat hulle altyd in Afrikaans werkopdragte doen en altyd in Afrikaans eksamens skryf. Dit is slegs in die geval van handboeke wat die ooreenstemmende persentasie laer as 50% is (44,3%). Die Taalraad, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) en ander instansies betrokke by hoër onderwys sal weer moet kyk na hoëronderriginstansies in hierdie provinsies en hoe hulle aan hulle ondersteuning kan bied om hulle Afrikaanse aanbod verder te versterk.
Die provinsie wat deurgaans die swakste gevaar het, is Gauteng. Klein persentasies studente (11,5%) het aangedui dat hulle altyd met dosente Afrikaans praat en altyd klas in Afrikaans kry. Vir die ander kategorieë was die ooreenstemmende persentasies 8%, wat minder as 'n tiende van die studente verteenwoordig. Waar Gauteng voorheen die tuiste was van groot Afrikaanse universiteite, soos die Universiteit van Pretoria (UP) en die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU),7 terwyl die voormalige tweetalige Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) ook hier geleë is, wil dit voorkom of Afrikaans grootliks sy teenwoordigheid in die hoër onderwys in hierdie provinsie verloor het. 'n Mens kan aanvaar dat daar waarskynlik nie studente van Akademia of ander Afrikaanse instellings soos AROS in die steekproef was nie. Behalwe vir hierdie kleiner hoëronderriginstellings, is Afrikaans in die hoër onderwys klaar-blyklik vinnig besig om in hierdie provinsie te verdwyn.
4.3 Afrikaans as kommunikasiemedium en sosiale omgangstaal by hoëronderriginstellings
Universiteite word gewoonlik nie slegs gesien as plekke van onderrig nie, maar word ook geassosieer met sosiale interaksie en aktiwiteite (Selim, 2023). Hierdie sosiale interaksie speel weer 'n belangrike rol in die vorming van studente se nasionale en kulturele identiteit (Bornman & Potgieter, 2017).
Die studentesamestelling op alle Suid-Afrikaanse universiteitskampusse - met die moontlike uitsondering van instellings wat uitsluitlik Afrikaans is - het sedert die einde van apartheid meer multikultureel en divers geword (Ngidi & Mncwango, 2022). Dit beteken dat 'n velerlei tale in sosiale ruimtes gepraat word. Vir die Afrikaanse gemeenskap is dit belangrik dat daar wel op kampusse 'n Afrikaanse sosiale en kulturele wêreld bestaan. Anders as wat waarskynlik vir Nederlands die geval is, is dit vir Afrikaanssprekende studente in 'n mindere mate moontlik om deurgaans Afrikaans in gesprekke met medestudente en dosente te gebruik. Gesonde identiteitsvorming berus daarop dat hulle hul taal vryelik en op alle terreine kan praat en sonder skaamte of terughouding hulle kultuur kan beoefen. Hulle moet ook voel dat hulle taal en kultuur aanvaar en geag word.
In die volgende reeks vrae is gekyk na die taal van sosiale interaksie asook amptelike kommunikasie van hoëronderriginstellings, soos nuusbriewe. Die totale persentasies soos weerspieël in Figuur 3 en Tabel 4 wys dat Afrikaans ook - net soos in die geval van onderrigdimensies - in die sosiale omgang gekrimp het en waarskynlik op die meeste kampusse feitlik onsigbaar geword het. Slegs op die eerste, algemene stelling het meer as 'n kwart (26,8%) van die studente aangedui dat hulle altyd Afrikaans met hulle medestudente praat.
Vir kommunikasie buite lesingsale en in koshuise, kommunes en/of studenteverblyf is die ooreenstemmende persentasies selfs laer (24,6% en 23,4% respektiewelik). Selfs die "Soms Afrikaans"-opsies is deur minder as 'n derde van die studente gekies (33,0% vir algemene kommunikasie, 28,2% vir kommunikasie buite lesinglokale en 24,5% vir kommunikasie in studentebehuising). Dit is veral opvallend hoe min Afrikaans in die verskillende vorme van studentebehuising gepraat word.
Wat die gegewens vir provinsies betref, is dit opvallend dat die persentasies vir "Altyd Afrikaans" deurgaans die hoogste is vir die Noordwesprovinsie. (Neem wel die klein aantal respondente in ag.) Vir algemene kommunikasie is die ooreenstemmende persentasie so hoog as 77,1%; vir kommunikasie buite lesingsale 62,8% en vir kommunikasie in studentebehuising 51,4%. Hierdie gegewens kan beskou word as 'n aanduiding dat kampusse in Noordwes - ten spyte van die inkorting van onderrig in Afrikaans - nog wel in 'n mate 'n Afrikaanse sosiale en kulturele ruimte vir Afrikaanssprekende studente skep.
Ook in die Oos-Kaap het relatief hoë persentasies Afrikaanssprekende studente aangedui dat hulle "Altyd Afrikaans" in algemene kommunikasie met medestudente (57,3%), buite lesinglokale (41,4%) en in studentebehuising (49,5%) gebruik. Ook op kampusse in die Noord-Kaap (soos moontlik op dié van die Sol Plaatje Universiteit in Kimberley) blyk dit dat daar nog in 'n mate 'n Afrikaanse leefwereld bestaan.
Dieselfde kan ongelukkig nie van die Wes-Kaap gesê word nie. Vir algemene kommunikasie tussen studente is die persentasie vir die "Altyd Afrikaans"-opsie slegs 25,4% en vir kommunikasie buite lesinglokale en in studenteverblyf so laag as 20,8% en 20,7% respek-tiewelik. Selfs die opsie "Soms Afrikaans" is deur slegs 27,1%, 27,0% en 26,4% respektiewelik vir algemene kommunikasie, kommunikasie met medestudente en interaksie in studenteverblyf van die studente gekies. Die gevolgtrekking kan gemaak word dat die sosiale en kulturele ruimtes vir Afrikaanssprekende studente klein is op die kampusse waar hulle in die Wes-Kaap studeer.
Ook in die ander provinsies is die gebruik van Afrikaans beperk. Dit is veral die geval in Gauteng. Net soos in die geval van aspekte wat met onderrig verband hou, is die teenwoordig-heid van Afrikaans in die sosiale en kultuurlewe gering. Studente in hierdie provinsie ervaar waarskynlik min verbondenheid met hulle taal- en kultuurgroepe in hierdie hoogs diverse, maar ook geglobaliseerde, onderwyskontekste. Hulle is vryswewende individue in 'n geglobaliseerde en verengelsde wêreld. Daar is wel aanduidings dat hulle 'n mate van sosiale ondersteuning van hulle lidmaatgroepe ervaar in dié opsig dat relatief hoër persentasies (meer as in die geval van "Altyd Afrikaans") aangedui het dat hulle "Soms Afrikaans" gebruik in sosiale verkeer by die instellings waar hulle studeer (44,5% algemene kommunikasie; 48,9% in kommunikasie buite lesingsale; 48,9% in kommunikasie in studenteverblyfplekke).
Dit is interessant dat relatief hoë persentasies studente by instellings in die Vrystaat, Mpumalanga en die Noord-Kaap ook aangedui het dat hulle soms Afrikaans in sosiale kontekste by hulle instellings gebruik. Wat by die Vrystaat opval, is dat slegs 26,1% van die respondente gesê het dat hulle altyd Afrikaans by hulle studenteverblyf gebruik. Daar was geen respondente wat aangedui het dat hulle meestal of soms Afrikaans gebruik nie. Dit is moontlik dat die respondente wat aangedui het dat hulle wel altyd Afrikaans praat, in privaat behuising gewoon het. By ander behuising - moontlik dié wat deur die universiteit voorsien word - was daar min sprake van 'n Afrikaanse sosiale en kulturele wêreld.
Net soos die geval met onderrigaktiwiteite was, kan die gevolgtrekking gemaak word dat Afrikaans 'n mindere plek ook in die sosiale en kulturele lewe van onderriginstellings inneem. Afrikaans het wel nie heeltemal verdwyn nie. Afrikaanssprekende studente is orals op ons kampusse en dit wil voorkom of daar nog geleenthede bestaan, ofskoon beperk, om in sosiale verkeer hulle taal te gebruik.
Min hoëronderriginstellings het ook die moeite gedoen om met Afrikaanssprekende studente en hulle ouers in Afrikaans te kommunikeer. So min as 16,3% van die totale groep respondente het aangedui dat nuusbriewe en ander vorme van kommunikasie altyd in Afrikaans was. As die "Altyd", "Meestal" en "Soms"-opsies bymekaar getel word, dui dit daarop dat 63,7% van die respondente aangedui het dat daar per geleentheid met hulle in Afrikaans gekommunikeer word. Met die uitsondering van die Noord-Kaap waar 52,2% van die respondente aangedui het die instellings altyd met hulle in Afrikaans kommunikeer, is die ooreenstemmende persentasies vir al die provinsies laag. Vir die Wes-Kaap is dit so laag as 14,3% - selfs laer as die 16,3% vir Gauteng. Die feit dat hoëronderriginstellings so min met Afrikaanssprekende studente in hulle moedertaal kommunikeer, is 'n aanduiding van 'n gebrek aan erkenning van en agting vir die moedertaal van Afrikaanssprekende studente.
4.4 Die gebruik van Afrikaans op die webwerwe van hoëronderriginstellings
Die webwerwe van hoëronderriginstellings dien 'n verskeidenheid funksies. In die eerste plek vestig dit die plek van die betrokke universiteit in die digitale ruimte (Bushnaq, 2023). Dit dien verder as 'n inligtingsbron van dit wat die instelling aan voornemende studente kan bied. As sodanig is dit 'n belangrike werktuig om voornemende studente te lok asook om alumni en ander donateurs te oortuig om geld en ander hulpbronne aan die instelling te skenk. Die taal van 'n webwerf is waarskynlik ook 'n aanduiding van die instelling se ingesteldheid teenoor taal en kultuur en die aard van die taalklimaat by die instelling. Dit is verder belangrik om in gedagte te hou dat tegnologie en programmering dit vir enige instansie moontlik maak om iets soos 'n webwerf volledig in 'n aantal tale toeganklik te maak.
Slegs 21,0% van die ondersoekgroep het gesê dat die webwerf van hulle instelling volledig in Afrikaans beskikbaar was. Verder het 14,4% gesê dat min Afrikaans op die webwerwe gebruik is en 14,1% dat geen Afrikaans gebruik is nie. Slegs in Mpumalanga en die Noord-Kaap het meer as die helfte van die respondente - 76,4% en 52,2% respektiewelik - aangedui dat die webwerwe van hulle instellings volledig in Afrikaans was. Slegs 19,2% van die respondente van Mpumalanga het aangedui dat daar min Afrikaans en 23,6% dat daar geen Afrikaans op die webwerwe van hulle instellings was nie.
Vir die ander provinsies lyk die prentjie heel anders. Vir die Wes-Kaap was die ooreenstemmende persentasie slegs 22,6% en vir Noordwes het geen enkele respondent aangedui dat die webwerf van hulle instelling volledig in Afrikaans was nie. Wat Noordwes betref, is dit insiggewend dat geen studente aangedui het dat 'n groot deel van die webwerf van hulle instelling in Afrikaans was nie. Daar was wel 52,8% wat gesê het dat die betrokke webwerwe deels in Afrikaans was. Daar was egter ook 37,2% wat te kenne gegee het dat daar geen Afrikaans op die webwerwe was nie.
'n Soortgelyke prentjie word weerspieël in die data vir die ander provinsies. Ook vir die Oos-Kaap en die Vrystaat het geen respondente aangedui dat die webwerwe van hulle instellings volledig in Afrikaans toeganklik was nie. Daar moet wel gemeld word dat, alhoewel die persentasies vir Gauteng vir die eerste drie kategorieë (alles Afrikaans; groot deel Afrikaans; en deels Afrikaans) relatief klein was, daar tog gesamentlik 55,8% van die respondente aangedui het dat daar 'n Afrikaanssprekende komponent op die webwerwe van hulle instellings was.
Die feit dat Afrikaans in 'n beperkte mate voorgekom het op die webwerwe van hoër-onderriginstellings, impliseer waarskynlik ook dat die webwerwe nie toeganklik is in ander Suid-Afrikaanse tale, met die uitsondering van Engels, nie. Dit dui weer op 'n ingesteldheid wat anglisering as vanselfsprekend ervaar asook 'n gebrek aan toewyding om 'n meertalige taalklimaat te skep.
Die taal van die webwerwe van die instansies waar die studenterespondente gestudeer het, skep nie die indruk dat die taal van Afrikaanssprekende studente erken en gerespekteer is nie. Dit skep verder die indruk dat die meeste hoëronderriginstellings nie werklik belangstel om Afrikaanssprekende studente te werf nie.
4.5 Ander tale wat in die hoër onderwys gebruik word
Engels is die enigste ander taal wat deur respondente genoem is wat gebruik is by die instellings waar hulle studeer. Dit dui weereens op die homogeniserende verengelsingsproses wat tans besig is om in die hoër onderwys in Suid-Afrika af te speel.
5. Slotopmerkings
Die resultate wat in hierdie artikel bespreek is, skilder deurgaans 'n prentjie van beperkte ruimtes vir Afrikaans in die hoër onderwys. Die gebruik van Afrikaans het in so 'n mate ingekrimp dat 'n mens die indruk kry dat die taal by baie hoëronderriginstellings bykans onsigbaar geword het. Dit wil voorkom of die impak van Afrikaanse instellings soos Akademia en AROS op hierdie stadium nog beperk is en dat die meerderheid Afrikaanssprekende studente hulle taal slegs in 'n beperkte mate kan gebruik by die hoëronderriginstellings waar hulle studeer.
Terwyl die Taalunie kommer uitspreek oor die bedreiging van Nederlands deur die opmars van Engels in die hoër onderwys (Rys et al., 2021), is die situasie van Afrikaans waarskynlik veel meer kritiek. Slegs klein persentasies Afrikaanssprekende studente geniet nog die voorreg om deurgaans in Afrikaans onderrig te ontvang, toegang tot Afrikaanse leermateriaal te hê, werkopdragte in Afrikaans te doen en eksamens in Afrikaans af te lê. By die meeste Suid-Afrikaanse hoëronderriginstellings bestaan daar klaarblyklik ook nie 'n meertalige kultuur waarbinne studente toegelaat en selfs aangemoedig word om hulle taal in alle akademiese en sosiale ruimtes te gebruik nie.
Die beperkte gebruik van Afrikaans in die hoër onderwys hou in die eerste plek 'n ernstige bedreiging vir die vitaliteit van die taal in (UNESCO, 2003). Die volgehoue intellektualisering en modernisering van die taal ten einde nuwe en ontluikende terreine te beskryf, word waarskynlik aan bande gelê (Alberts, 2014; Finlayson & Madiba, 2002; Khumalo, 2017). Dit kan meebring dat die taal weer soos in die vorige eeu - toe Afrikaans dikwels as 'n "kombuis-taal" gebrandmerk is - as minderwaardig gestereotipeer kan word. Dit kan studente en ander sprekers motiveer om eerder globalistiese ideologieë aan te hang waarin Engels as die (enigste) taal beskou word wat die deure na die globale wêreld van moderniteit en wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling kan oopsluit (Bornman et al, 2021).
Die beperkte gebruik van Afrikaans by hoëronderriginstellings impliseer dat min Afrikaanssprekende studente die voordele van moedertaalonderrig geniet (Bornman et al., 2017; Webb, 2006) - voordele wat in werklikheid in die Grondwet van Suid-Afrika (1996) aan hulle toegeken word. Hulle identiteitsvorming word waarskynlik ondergrawe deur die gebrek aan 'n meertalige taal- en kulturele klimaat by die meeste hoëronderriginstellings wat impliseer dat hulle taal en kultuur nie erken en gekoester word nie en dat geleenthede om hul taal vryelik in sosiale ruimtes te gebruik, beperk is. Terwyl die internet geleenthede skep om meer as een taal op webwerwe te gebruik, wil dit voorkom of dit nie vir hoëronderriginstellings 'n saak van erns is om met studente, hulle ouers en/of voornemende studente in hulle moedertaal, in hierdie geval Afrikaans, te kommunikeer nie.
Alhoewel hierdie navorsing belangrike tendense in die stand van Afrikaans in die hoër onderwys aan die lig gebring het, was die aantal respondente te min om veralgemenings te maak. Veel meer indieptenavorsing is nodig om vas te stel wat die dinamika is wat die gebruik van Afrikaans in die praktyk beïnvloed. Daar sal veral gekyk moet word na universiteite soos die Noordwes-Universiteit en die Universiteit Stellenbosch wat nog amptelik aandui dat hulle 'n reeks kwalifikasies in Afrikaans aanbied.
Die vraag is waarom so min studente in die betrokke provinsies ervaar dat hulle deurgaans in Afrikaans onderrig ontvang en belangrike aktiwiteite wat met leer verband hou, soos werkopdragte en eksamens, altyd in Afrikaans kon doen. Ondersoeke soortgelyk aan die Stand van Afrikaans moet gedoen word met veel groter ondersoekgroepe van studente spesifiek aan sodanige instellings. Daar moet ook ondersoek ingestel word na die redes vir die beperkte omvang van onderrig in Afrikaans. Soos in die Staat van het Nederlands -ondersoeke kan ook gekyk word na die taal van studiegidse en ander leermateriaal vir spesifieke dissiplines en fakulteite, maar veral ook na die taal waarin lesings aangebied word.
Die Afrikaanse taalgemeenskap het belangrike stappe geneem om wetenskapsbeoefening in Afrikaans aan te moedig en te bevorder. So bied 'n vaktydskrif soos die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW), asook die verskillende afdelings van LitNet Akademies, aan Afrikaanssprekende akademici die geleentheid om in Afrikaans in geakkrediteerde tydskrifte te publiseer. Hiermee word ook gepoog om Afrikaans as akademiese en vaktaal te bevorder. Die kommer wat deur die Nederlandse navorsers uitgespreek word, geld ook vir Afrikaans. Navorsing behoort deurgaans gedoen te word om vas te stel of hierdie inisiatiewe voldoende is om te verseker dat die bestaande terminologie in alle vakgebiede steeds gebruik word en dat nuwe terminologie vir ontluikende velde geskep word.
In Nederland word verengelsing in die hoër onderwys waarskynlik hoofsaaklik aangevuur deur die transformerende druk van internasionalisering, globalisering en globalistiese ideologieë wat meebring dat Engels as onderrigtaal verwelkom word (Bornman et al., 2021; Bull, 2012; Mortensen & Haberland, 2012). In Suid-Afrika is die situasie meer kompleks. Benewens globaliseringsdruk, speel politieke faktore ook 'n bepalende rol.
Die uitdaging vir taalaktiviste, akademici en navorsers is om vol te hou om druk toe te pas op die Suid-Afrikaanse regering en die bestuur van hoëronderriginstellings om moeder-taalonderrig - en derhalwe ook onderrig in Afrikaans - te omarm en te bevorder sodat moeder-taalonderrig in die hoër onderwys vir alle Suid-Afrikaanse studente toeganklik sal wees.
BIBLIOGRAFIE
Akademia. s.d. Akademia: Jou Afrikaanse tuiste. https://akademia.ac.za/ [19 November 2024]. [ Links ]
Alberts, M. 2014. Terminology development at tertiary institutions: A South African perspective. Lexikos, 24:1-26. [ Links ]
Afrikaanse Taalraad. s.d. Afrikaans in hoër onderrig. https://www.afrikaansetaalraad.co.za/wp-content/uploads/2020/07/SNI-Afrikaanse-kursusse-en-vakke_Interaktiewe-PDF.pdf [19 November 2024]. [ Links ]
Afrikaanse Taalraad & Solidariteit Navorsingsinstituut. 2022. Die algemene demografie van Afrikaans. Pretoria: Afrikaanse Taalraad & Solidariteit Navorsingsinstituut. [ Links ]
Aziakpono, P & Bekker, I. 2010. The attitudes of isi-Xhosa-speaking students towards language of teaching and learning issues at Rhodes University, South Africa: General trends. South African Linguistics and Applied Language Studies, 28(1):39-60. doi:10.29891/16073614.2010.488442. [ Links ]
Badat, S. 2010. The challenges of transformation in higher education and training institutions in South Africa: Paper commissioned by the Development Bank of South Africa. https://www.dbsa.org/sites/default/files/media/documents/2022-11/ The Challenges of Transformation in Higher Education and Training Institutions - 2010.pdf [10 Desember 2025]. [ Links ]
Balfour, RJ. 2007. University language policies, internationalism, multilingualism, and language development in South Africa and the UK. Cambridge Journal of Education, 37(1):35-49. doi: 10.1080/03057640601178998. [ Links ]
Bornman, E, Pauw, JC, Potgieter, PH & Janse van Vuuren, HH. 2017. Moedertaalonderrig, moedertaalleer en identiteit: Redes vir en probleme met die keuse van Afrikaans as onderrigtaal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(3):724-746. doi:10.17159/2224-7912/2017/v57n3a4. [ Links ]
Bornman, E, Janse van Vuuren, HH, Pauw, JC & Potgieter, PH. 2021. Globalisme en taal in die hoër onderwys: Redes vir die keuse van Engels as onderrigtaal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(1):307-328. doi:10.17159/2224-7912/2021/v61n1a18. [ Links ]
Bornman, E & Potgieter, PH. 2017. Language choices and identity in higher education: Afrikaans-speaking students atUnisa. Studies inHigherEducation, 42(8):1474-1487. doi: 10.1080/03075079.2015.1104660. [ Links ]
Bull, T. 2012. Against the mainstream: Universities with an alternative language policy. International Journal of the Sociolinguistics of Language, 216:55-73. doi:10.515/ijsl-2012-0039. [ Links ]
Bushnaq, M. 2023. 21 of the best college websites (and why they're so great). https://morweb.org/post/college-websites [21 November 2024]. [ Links ]
Department of Education. 1995. Green paper on higher education transformation. Pretoria: Department of Education. [ Links ]
Grondwet van Suid-Afrika. 1996. http://www.constitutionnet.org/files/AFRIKAAN.PDF [26 Oktober 2013]. [ Links ]
Finlayson, R & Madiba, M. 2002. The intellectualization of the indigenous languages of South Africa: Challenges and prospects. Current Issues in Language Planning, 3(1):40-61. [ Links ]
Hornberger, NH. 1987. Bilingual education success, but policy failure. Language in Society, 16:205-226. [ Links ]
Hurst, E. 2016. Navigating language: Strategies, transformations, and the 'colonial wound' in South African education. Language and Education, 30(3):219-234. doi:10.1080/09500782.2015.11022 74. [ Links ]
Khumalo, L. 2017. Intellectualization through terminology development. Lexikos, 27:252-264. [ Links ]
Mortensen, J & Haberland, H. 2012. English - the new Latin of academia? Danish universities as a case. International Journal of the Sociolinguistics of Language, 216:175-197. doi:10.1515/ijsl-2012-0045. [ Links ]
Mzangwa, ST. 2019. The effects of higher education policy on transformation in post-apartheid South Africa. Cogent Education, 6:1592737. doi:10.1080/23386X.2019.1592737. [ Links ]
Pandor, GNM. 2018. Contested meanings of transformation in higher education in post-apartheid South Africa. Ongepubliseerde doktorale proefskrif, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. [ Links ]
Rys, K, Van der Meulen, M, Hinskens, F, Van der Gucht, F, De Caluwe, J, Heeringa, W & Van der Peet, M. 2017. Onderzoeksrapport: Staat van het Nederlands. Den Haag: Taalunie, Meertens Instituut & Universiteit Gent. [ Links ]
Rys, K, Heeringa, W, Van der Peet, M, Hinskens, F, De Caluwe, J, Misier, SD, Balesar, U & Rozenblad, M. 2019. Staat van het Nederlands: Onderzoeksrapport 2019. Den Haag: Taalunie, Meertens Instituut & Universiteit Gent. [ Links ]
Rys, K, Heeringa, W, Rutten, JS, Hinskens, F, De Caluwe, J, Balesar, U & Misier, MD. 2021. Onderzoeksrapport 2021: Staat van het Nederlands. Den Haag: Taalunie, Meertens Instituut, Universiteit Gent, Universiteit van Suriname. [ Links ]
Selim, A. 2023. The dark side of university social life. https://medium.com/@ASll0_/the-dark-side-of-university-social-life-7dc0eb74b44b [21 [21 November 2024]. [ Links ]
Taalunie. 2017. De Staat van het Nederlands: Publieksrapport 2017. Den Haag: Taalunie. [ Links ]
Taalunie. 2019. De Staat van het Nederlands: Publieksrapport 2019. Den Haag: Taalunie. [ Links ]
Taalunie. 2021. De Staat van het Nederlands 2021: Publieksrapport. Den Haag: Taalunie. [ Links ]
UNESCO Expert Group on Endangered Languages. 2003. Language vitality and endangerment. Paris: UNESCO. [ Links ]
Van der Walt, H & Steyn, H. 2016. Afrikaans as taal van onderrig en leer aan skole en ander onderwysinstansies: "Ou" wyn in nuwe sakke. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 56(4-1):1034-1047. doi: 10.17159/2224-7912/2016/v56n4-1a10. [ Links ]
Webb, VN. 2006. Perspektiewe op moedertaalonderrig. Supplement - Moedertaalonderrig: Tydskrifvir Geesteswetenskappe, Junie:37-50 [ Links ]
Ontvang: 2024-12-04
Goedgekeur: 2025-02-20
Gepubliseer: Maart 2025
Elirea Bornman is 'n navorsingsgenoot en emeritus professor in die Departement Kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy het 'n doktorsgraad in Sosiale Sielkunde aan Unisa verwerf en was voorheen werk-saam by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), waar sy by verskeie navorsings-projekte betrokke was. Haar navorsings-belangstellings fokus veral op etniese en nasionale identiteit en die rol van taal in identiteitsvorming. Sy is die outeur of mede-outeur van verskeie boeke, hoofstukke in boeke, artikels in nasionale en internasionale vaktydskrifte, kongreslesings en navorsingsverslae. Sy het in 2018 'n C2-navorsingsgradering van die NNS ontvang.
Elirea Bornman is a research fellow and professor emeritus in the Department of Communication Science at the University of South Africa. She holds a doctoral degree in Social Psychology from Unisa. Previously, she was employed at the Human Sciences Research Council (HSRC), where she was involved in various research projects. Her research interests focus in particular on ethnic and national identity and the role of language in identity formation.
She is the author or co-author of several books, chapters in books, articles in national and international journals, presentations at conferences and research reports. She received a C2-research rating from the NRF in 2018.
Conrad Steenkamp is die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, 'n organisasie wat hom beywer vir die bevordering van Afrikaans in sy volle diversiteit en vir versoening tussen die sprekers van die taal. Hy het 'n PhD in Sosiale Antropologie aan die Universiteit van die Wit-watersrand verwerf, 'n MSc in die Omgewings-wetenskappe (Diplom in den Umweltwissenschaften) aan die Universiteit Bielefeld in Duitsland, en 'n MBA aan die European Institute for Purchasing Management, Genève. Hy was post-doktorale navorsingsgenoot aan die Centre for Integrated Study van die Human Dimensions of Global Change van Carnegie Mellon-Universiteit in Pittsburgh, VSA, en het 20 jaar ervaring as konsultant in die omgewings- en ontwikkeling-sektor. Hy was onder meer betrokke by die onder-handelinge oor grondeise wat beskermde gebiede raak en het wye ervaring in die bestuur van kulturele en natuurlike hulpbronne, veral op gemeenskapsvlak.
Conrad Steenkamp is the CEO of the Afrikaanse Taalraad (Afrikaans Language Board). He has a doctoral degree in Social Anthropology from the University of the Witwatersrand in Johannesburg, and held a post-doctoral fellowship at Carnegie Mellon University's Centre for the Study of Human Dimensions of Global Change. He has an MSc in Environmental Counselling from the University of Bielefeld, Germany, and an MBA from the European Institute of Purchasing Management (EIPM) in Geneva. He completed a post-doctoral fellowship at Carnegie Mellon University's Center for the Integrated Study of Human Dimensions of Global Change in Pittsburgh, USA. With extensive experience as a consultant in the environmental and development sectors, he has participated in negotiations on land claims involving protected areas and has substantial expertise in managing cultural and natural resources, particularly at the community level.
Roné Wierenga is 'n doktorale student in beskrywende taalkunde aan die Noordwes-Universiteit en die Universiteit Gent. Haar PhD-projek behels 'n vergelykende studie van sin-taktiese en semantiese variasie in variëteite van Afrikaans. Haar navorsing fokus op taalverandering, taalvariasie en kontrastiewe taalkunde. Sy is aktief betrokke by verskeie navorsings-projekte, insluitende die Projek vir Variasie in Afrikaans (ProVARIA) en die Stand van Afrikaans. Sy dra ook by tot die uitbreiding en instandhouding van die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) en is 'n medewerker aan Afrikaanse grammatikas, soos VivA se Algemene Afrikaanse Grammatika en die Taalportaal-grammatika van Afrikaans, en aan taaltegnologieprojekte vir ander Suid-Afrikaanse tale en instansies.
Roné Wierenga is a doctoral student in descriptive linguistics at the North-West University and Ghent University. Her PhD project involves a comparative study of syntactic and semantic variation in lectal varieties of Afrikaans. Her research focuses on language change, language variation and contrastive linguistics. She is actively involved in several research projects, including the Project for Variation in Afrikaans (ProVARIA) and the Stand van Afrikaans. She also contributes to the continued development and maintenance of the Digital Bibliography of Afrikaans Linguistics (DBAT). Her research includes work on Afrikaans grammars, such as VivA's Algemene Afrikaanse Grammatika and the Taalportaal grammar, and language technology projects for other South African languages.
WAM (Wannie) Carstens het 'n DLitt in Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en het onder meer aan die Universiteit van Stellenbosch (US), die Universiteit van Kaapstad (UCT) en die Noordwes-Universiteit (NWU) gedoseer. Hy is die outeur of mede-outeur van 'n verskeidenheid boeke oor normatiewe linguistiek, tekslinguistiek, teksredi-gering en die geskiedenis van Afrikaans. Hy was ook mederedakteur van ses boeke oor die Afrikaanse taalkunde. Hy het ongeveer 60 artikels en hoofstukke in verskillende tydskrifte en boeke gepubliseer en het meer as 90 voordragte gelewer by nasionale en internasionale kongresse. Sedert sy aftrede in 2017 het hy volgehou om navorsing te doen, artikels te publiseer, referate by kongresse te lewer en as skrywer of redakteur/mede-redakteur van boeke op te tree. Hy het in 2019 'n C1-navorsingsgradering van die NNS ontvang, is die ontvanger van die CJ Langenhovenprys vir Afrikaanse taalwetenskap in 2022, en is in 2024 vereer met die Jan H Maraisprys vir sy bydrae om Afrikaans as wetenskaptaal te bevorder.
WAM (Wannie) Carstens obtained a DLitt in Afrikaans linguistics from the University of Stellenbosch and has taught at the University of Stellenbosch (SU), the University of Cape Town (UCT) and the North-West University (NWU). He is the author or co-author of numerous books on normative linguistics, text linguistics, text editing, and the history of Afrikaans. Additionally, he co-edited six books on Afrikaans linguistics. He has published approximately 60 articles and chapters in various journals and books and has presented more than 90 papers at various national and international conferences. Since his retirement in 2017, he has continued to conduct research, publish articles, deliver papers at conferences and act as author or editor/co-editor of books. He received a C1 research rating from the NRF in 2019, was awarded the CJ Langen-hoven Prize for Afrikaans linguistics in 2022 and was honoured with the Jan H Marais Prize in 2024 for his contribution to the promotion of Afrikaans as a language of science.
1 Voorheen bekend as die Nederlandse Taalunie
2 Die vrae wat sentraal staan in die Staat van het Nederlands is die volgende: Wanneer en hoe dikwels gebruik inwoners van Nederland, Vlaandere, Brussel en Suriname Nederlands en in watter sosiale situasies? Met hierdie navorsing monitor die Taalunie sedert 2016 die gebruik en posisie van die Nederlandse taal. Die navorsing word periodiek herhaal om ontwikkelinge te volg en nuwe beleid te kan ontwikkel om die posisie van Nederlands waar nodig te versterk. Met die resultate kan die samelewingsdebat oor die posisie, krag en potensiële bedreiging van Nederlands op grond van feitelike gegewens gevoer word. Bron: Anonieme keurder.
3 MarkData was vroeër bekend as die vraelys- en opinienavorsingsentrum van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN). In 1996 het hierdie sentrum geprivatiseer as 'n onafhanklike agentskap wat fokus op marknavorsing wat strategiese insig fasiliteer.
4 Raadpleeg vir meer inligting: https://solidariteit.co.za/bemagtig-met-inligting.
5 Vroeër: die Universiteit van Stellenbosch. Vergelyk: https://www.sun.ac.za/afrikaans/meer-oor/waaromus.
6 Vergelyk https://christianhub.com/organisations/christelike-gereformeerde-teologiese-seminarium
7 Die voorloper van die hedendaagse Universiteit van Johannesburg.