Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a17
NAVORSINGS- EN OORSIGARTIKELS
Die rol van die 1920-proefvertaling in die ontluiking van Afrikaans as 'n Bybeltaal
The role of the 1920 trial translation in the development of Afrikaans as a Bible language
JA Naudé
Departement Hebreeus. Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika, E-pos: naudej@ufs.ac.za
OPSOMMING
Nadat die Vrystaatse Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk goedkeuring verleen het vir 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans tydens die sitting van 25 Mei 1916, het die vertalers voor 'n moeilike probleem te staan gekom. As skryftaal het Afrikaans nog nie 'n vaste vorm gehad nie en daar moes derhalwe na 'n eenvormige standaard gesoek word. Om dit te verkry, het die vertalers op 4 April 1917 besluit om eers 'n voorlopige vertaling van die Evangelie van Johannes, die boek Hosea en die boek Jona te maak en dit privaat te sirkuleer sodat 'n standaardteksvorm vasgestel kon word.
Hierdie proefvertaling wat deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BBBG) gepubliseer is, is in 1934 as verlore aangemeld. Op 16 Maart 2023 is die vertaling egter in die NG Kerk Argief op Stellenbosch opgespoor.
In hierdie bydrae word die ontluikende rol van die 1920-proefvertaling vir Afrikaans as Bybeltaal gedemonstreer deur die beskrywing en ontleding van geselekteerde vertaalvoorstelle en -keuses. As een van die tekste van 'n aanvangstekensisteem vir 'n Bybelvertaling in Afrikaans word die trajek daarvan gevolg deur die proefvertalings van 1922 en 1929, sowel as die eerste volledige vertaling van 1933 (en sy hersiening in 1953), om die invloed daarvan op die ontluiking van Afrikaans as Bybeltaal te bepaal.
Trefwoorde: vertaalkunde, Kobus Marais, Christiane Nord, Bybelvertaling, proef-vertaling, trajek, taalontwikkeling, skryftaal, omgangstaal, hedendaagse taalgebruik, aanspreekvorm, voornaamwoord, eienaam, betreklike voornaamwoord, attributiewe byvoeglike naamwoord, wisselvorm, kerktaal, Seun van die Mens, Afrikaans, Nederlands
ABSTRACT
The aim of this essay is to demonstrate the role of the 1920 trial translation of the Gospel of John, the Prophet Hosea and the Prophet Jonah in the emergence of Afrikaans as a Bible language by means of a description and analysis of selected translation proposals with respect to a constellation offeatures including divine forms of address and epitheta (considering the Afrikaner epistemological tradition of Neo-Calvinism prevalent during the 1920s), morphophonological and morphosyntactic change and lexical alternatives, as well as the translation choices thereof in the subsequent translations.
The trial translation was reported as lost in 1934, but was discovered on 16 March 2023 in a file at the Dutch Reformed Church Archives at Stellenbosch.
After the Bible translations of the Bible Translation Movement (1872-1911), there was much controversy about Afrikaans as a Bible language. There was no fixed form of Afrikaans as a written language when the Synod of the Dutch Reformed Church in the Free State commissioned a translation of the Bible in Afrikaans in 1916. The translators decided at their first meeting in the beginning of 1917 to undertake a trial translation of the Gospel of John, the Prophet Hosea and the Prophet Jonah, which could then serve as a guide for translating the rest of the Bible.
The negative criticism during 1918 and 1919 of the language use of the proofs of the 1920 trial translation after its circulation from the last quarter of 1917 enhanced the publication of the next trial translation titled Die Vier Evangelie en die Psalme (The Four Gospels and the Psalms) in 1922, which also received negative critique. The Afrikaans translation project was then reconceptualised considering the previous two failures. The third trial translation titled Die Vier Evangelies en die Boek van die Psalms (The Four Gospels and the Book of Psalms) published in 1929 was well received and served as a guide for the successful translation of the first complete Bible in 1933. With this translation Afrikaans as a Bible language was established, which was only possible after Afrikaans had achieved recognition as an official language in 1925.
In the 1920 trial translation the alternative formulations, which were placed between brackets, are only found in the translations of three of the six translators and only in the following passages: Jonah 1-4, Hosea 2, John 10-13,15 and 20:4. These cases reveal that there were translation problems which compelled the translators to exercise translation choices. Therefore, these alternative formulations are first described and analysed.
The emerging role of Afrikaans as a Bible language during 1912-1923 is demonstrated by comparing the issues in the verses described above with their renderings in the Dutch Statenvertaling, the Bible translations of the Bible Translation Movement (1872-1911) and the 1922 trial translation. I also follow the trajectory of these issues through 1923-1967 with the 1929 trial translation and the appearance of the first complete Bible translation in Afrikaans in 1933, as well as its revision in 1953.
In the emergence of Afrikaans as a Bible language, the problem of the translators was to free themselves from the bonds of the Dutch language and writing tradition, especially the words and expressions of the State Translation, so that Afrikaans could be used according to its own idiom.
The analysis is in line with the view of Marais (2014; 2019; 2023) namely, that the conceptualisation of translation has expanded to encompass translation as a complex, unpredictable process (rather than solely a product). Complex systems are adaptive, dynamic (constantly changing) and emergent (having the tendency to self-organise to reach a subsequent higher state), following particular trajectories because of the influence of attractors. Translation is also a meaning-making process driven by translation agents and attracted by a purpose or skopos which must satisfy the needs of the audience, and which is informed, amongst others, by the translation brief (Nord, 2023:180).
Keywords: translation studies, Kobus Marais, Christiane Nord, Bible translation, trial translation, trajectory, language development, written language, colloquial speech, contemporary speech, form of address, pronoun, proper noun, relative pronoun, attributive adjective, variant, church language, Son of Man, Afrikaans, Dutch
Van 'brabbeltaal' tot Bybeltaal, van 'kombuistaal' tot kerktaal en kanseltaal, van 'bastertaal' ('verbasterde Hollands') tot rasegte Afrikaanse taal, van 'dialek' tot selfstandig volgroeide en volwaardige taal - dit is die wonder van die ontwikkeling van Afrikaans in 'n klein aantal jare - minder as 'n halfeeu. (Du Plessis, 1959:91)
1. Inleiding
Die Nederlandse Statenvertaling (1637) is hoofsaaklik deur Afrikaanse Bybellesers gebruik totdat die eerste volledige Bybel in Afrikaans gedurende 1933 amptelik deur kerke in Suid-Afrika in gebruik geneem is.
Afgesny van die Nederlandse invloed ná die tweede Britse oorname van die Kaap in 1806, was die gevolg die ontwikkeling van 'n aantal verskillende Afrikaanse variëteite aan die Kaap en in die binneland in die omgewing van die Gariep, die destydse Oosgrens en later in die Oranje-Vrystaat Republiek en die Zuid-Afrikaanse Republiek (Conradie & Groenewald, 2014:27-60; Van Rensburg, 2012).
Teen hierdie agtergrond is die vertalings van die Bybelvertalingsbeweging (1872-1911) in die Paarl gedoen (Naudé, 2020:873-875). 'n Ongepubliseerde vertaling van Markus was reeds in 1878 beskikbaar en 'n proefvertaling is in 1889 gepubliseer. Gepubliseerde vertalings van Genesis (1893), Matteus (1895), Openbaring (1898), Hooglied (1905), Psalms (1907), Handelinge (1908a) en Markus (1908b) het gevolg. Daar was egter nog diegene, soos die politikus Jan Hendrik Hofmeyr (1845-1912), wat die voortgaande gebruik van Nederlands in plaas van die opkomende Afrikaans bepleit het (Hofmeyr, 1913:647-660). Nederlands is nog steeds in die NG kerk gebruik tot 1920. Bybellesers was nog oortuig daarvan dat die dominansie van die Nederlandse taal en die Statenvertaling steeds verkiesliker was as die Afrikaanse "dialek" en 'n Afrikaanse Bybelvertaling. Dit was die belangrikste rede vir die mislukking van hierdie projek (Naudé, 2008). Die eenvoudige en alledaagse spreektaal kon nie sonder meer die statige taalgebruik van die Statenbybel vervang en Bybeltaal word nie. Vir Bybellesers was vertalings soos "di Gees van God broei op di waters" (Gen. 1:2) in 1893 en "uw knopkiri en wandelstok fertroos my" (Ps. 23:5) in 1907 onaanvaarbaar (Du Plessis, 1959:93).
Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 het die impak van Britse imperialisme verminder en waar die Afrikaanse jeug in beheer gekom het, is die gebruik van Afrikaans bepleit - ook in die kerk (Spies, 1986:222-227). Op kerklike aandrang word daar besluit om die Statenbybel in Afrikaans te vertaal as die volgende projek vir die vertaling van die Bybel (1912-1923). Ten opsigte van hierdie tweede poging van 'n Bybelvertaling in Afrikaans meld Oberholster (1958:75) dat die vertalers aan die begin voor 'n moeilike probleem te staan gekom het. As skryftaal het Afrikaans nog nie 'n vaste vorm gehad nie en daar moes dus na 'n eenvormige standaard gesoek word. Om dit te probeer verkry, is op 4 April 1917 besluit "om eers 'n voorlopige vertaling van die boeke Jona, Hosea en die Evangelie van Johannes te maak, en dit privaat te sirkuleer, om langs dié weg tot 'n standaard teksvorm (sic) te geraak".
In sy boek The Book of a Thousand Tongues noem Eric M North (1938:108) ten opsigte van Afrikaans dat die 1933-vertaling "began with the tentative publication of Hosea, Jonah and St John in 1920".
In sy studie oor die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling meld Nienaber (1934:172) dat hy hierdie proewe nie in die hande kon kry nie. Op 'n navraag gedurende Februarie 2023 aan die BBBG se argief by Cambridge Universiteit kon die argivaris net die volgende inskrywing opspoor: "The Bible House Library possesses galley proofs of St John's Gospel, Hosea and Jonah, prepared by the Committee appointed by the Synods of the Dutch Reformed Church and published by the BFBS." Op 16 Maart 2023 het ek die dokument gevind in 'n lêer (OPEN-FOLDER 1922 Joh-Hosea-Jon) wat in die NG Kerk Argief op Stellenbosch bewaar word. Die eksemplaar, wat sonder titelblad en ook ongedateerd is, is duidelik 'n drukproef met 45 genommerde bladsye met Die Heilige Evangelie volgens die Beskrijwing van Johannes, Die Profeet Hosea, en Die Profeet Jona.
Die proefvertaling het volgens die notules van die vertalers reeds in 1917 gesirkuleer, maar weens North se verwysing na 1920 as die publikasiedatum, word in hierdie bydrae daarna verwys as die 1920-proefvertaling van Johannes, Hosea en Jona (AFN 1920). In hierdie bydrae beoog ek om die ontluikende rol van die 1920-proefvertaling vir Afrikaans as Bybeltaal te demonstreer deur die beskrywing en ontleding van geselekteerde vertaalvoorstelle met verwysing na goddelike aanspreekvorme en epiteta (in die lig van die epistemologiese tradisie van Neo-Calvinisme), morfofonologiese en morfosintaktiese taalverandering en wisselvorme, asook die vertaalkeuses in die daaropvolgende vertalings.
Die uitgangspunt van hierdie ondersoek is gebaseer op die sienings in Marais (2014; 2019; 2023), wat die konseptualisering van vertaling uitbrei na 'n komplekse, onvoorspelbare proses (eerder as net 'n produk). Komplekse sisteme is aanpasbaar, dinamies (verander voortdurend), ontluikend (met die neiging om self te organiseer om 'n later hoër toestand te bereik) en volg spesifieke trajekte as gevolg van die invloed van aantrekkers. Die aanvangstekensisteem sluit al die veelvlakkige, komplekse en ontluikende kenmerke wat insette lewer in die vertaalproses in en die daaropvolgende tekensisteem dui die uitkoms aan wat uit die vertaalproses te voorskyn kom. Volgens Nord (2023:180) is vertaling funksionalisties en daarom 'n betekenisgewende proses wat deur vertaalagente (Conradie, 1985:464-487) gedryf word en aangetrek word deur 'n doel of skopos, wat die behoeftes van die gehoor moet bevredig en, onder andere, deur die vertaalopdrag bepaal word.
Die metodologie wat in hierdie ondersoek gevolg word, is 'n narratiewe raammodel (Baker, 2006). Hiervolgens kan geen spesifieke vertaalkeuse as willekeurig beskou word nie, maar as ingebed in en as 'n bydrae tot die beliggaming van 'n konkrete sosiale werklikheid (Naudé, 2005a; 2005b). Elke keuse in vertaling tree op as 'n indeks wat 'n narratief of 'n verhaal is van die wêreld, of 'n aspek daarvan. Die natuurlike neiging van komplekse sisteme vir wanorde (entropie) word beperk deur die proses van vertaling self, wat die behoefte aan gereelde hersiening en hervertaling impliseer. In hierdie bydrae verwys die term "hersiening" na die proses van redigering, regstelling en modernisering van 'n bestaande vertaling vir herpublikasie, terwyl die term "hervertaling" verwys na 'n volgende vertaling van 'n begin- of aanvangsteks in dieselfde taal (Koskinen & Paloposki, 2010).
Hierdie bydrae is soos volg georganiseer. Afdeling 2 is 'n beskrywing en analise van die 1920-proefvertaling van Johannes, Hosea en Jona met die fokus op die voorkeurvertalings of ander bruikbare vertalings wat as gids vir die vertaalwerk gebruik kon word. Afdeling 3 is 'n beskrywing en analise van vertaalkeuses van die 1922-proefvertaling op grond van die 1920-proefvertaling. Die trajek van hierdie kwessies deur die derde poging met 'n proefvertaling (1929) en die verskyning van die eerste volledige Bybelvertaling in Afrikaans in 1933, sowel as die hersiening daarvan in 1953, word in Afdeling 4 aangebied. In Afdeling 5 volg die gevolgtrekkings.
2. Die 1920-proefvertaling van Johannes, Hosea en Jona
2.1 Geskiedkundige agtergrond
In 1912 verskyn die Afrikaanse Kinderbybel van WJ Conradie met die titel "Bijbel geskiedenis vir ons volk", wat gretig gelees en later in skole gebruik is en bygedra het om vooroordeel teen die gebruik van Afrikaans in die godsdiens uit die weg te ruim (Nienaber, 1934:59; Keet & Groenewald, 1985:223-224). Geykte vorme is behou, byvoorbeeld Gods Koninkryk, verlore soon, Soon des Mensen, terwyl die Tien Gebooie en Onse Vader onveranderd in Nederlands gelaat is (Nienaber, 1934:59; Keet & Groenewald, 1985:223-224). Daar was nog nie konsensus oor spelling en vorme nie en voorbeelde van woorde wat probleme veroorsaak het, was gelowe, glo, of geloof; gedo, gedoë of gedoog, en teunaan of teen (Nienaber, 1934:59).
Op 24 en 25 Julie 1914 het die kongres van die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) te Stellenbosch aanbeveel dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word, die sinodes van die NG Kerk versoek word om Afrikaans naas Nederlands as die amptelike taal van die kerk te erken, asook om teologiese studente toe te laat om hulle eksamens in Afrikaans af te lê (Notule van ATV-kongres, 24 en 25 Julie 1914; Nienaber, 1934:60-61).
In reaksie op die hewige kritiek oor die besluite van die Afrikaanse Taalvereniging, word 'n ope vergadering gehou (Ons Moedertaal, 15 September 1914: 61-66; Nienaber, 1934:61-62). By die vergadering lewer prof. BB Keet 'n toespraak oor "Die Bybel in Afrikaans" en behandel drie vrae. 1. Is 'n nuwe vertaling van die Bybel nodig? 2. Hoe moet die werk verrig word? 3. Van wie moet dit uitgaan? Keet motiveer die vertaling van die Bybel in Afrikaans deur aan te toon dat die skrywers die Nuwe Testament in Hellenistiese Grieks, die volkstaal, geskrywe het. Dit was nie in Attiese Grieks, die taal van die geleerdes, nie. Verder het Martin Luther tydens die Hervorming die Bybel in Duits, die volkstaal, vertaal. Vir Keet was dit vir die armblankes, die bruin mense en die plattelanders noodsaaklik dat die Bybel in Afrikaans moet wees, sodat hulle dit kon verstaan. Hy wou dat die bevordering van die Afrikaanse vertaling geen aanstoot gee nie.
Hy pleit dus dat die vertaling uit die Statenvertaling geskied en nie uit die oorspronklike tale nie, omrede:
• Die Statenvertaling 'n goeie vertaling was.
• Daar in Suid-Afrika nie kundiges was om 'n totaal nuwe vertaling aan te durf nie.
• Die Statenvertaling so bekend was dat 'n splinternuwe vertaling meer aanstoot sou gee.
Hy het gepleit dat die sinodes van die Hollandse kerke in Suid-Afrika die vertaling moes onderneem. Volgens hom sou die Bybel Afrikaans as taal verhef deur die kragtige en suiwerende invloed van die Bybel op alle tale. Om die verhewenheid van Afrikaans as Bybeltaal te bewys, bied hy 'n vertaling van Jona 4:1-4 aan (Nienaber, 1934:166-167, AFN 1914).
In April 1916 het Vrystaatse onderwysers die noodsaaklikheid van 'n Bybelvertaling in Afrikaans bespreek, omdat Afrikaans en nie meer Nederlands nie in skole bestudeer word (Nienaber, 1934:62). Die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk besluit op 25 Mei 1916 ten gunste van 'n Afrikaanse Bybelvertaling: "De Synode besluite tot het vertalen van den Bijbel in Afrikaansch, en noodigt hiertoe uit de zamenwerking van de Ned. Ger. Kerken in de andere Provinciën, alsook van die Ger. en Hervormde Kerken. Zij drage dit werk op aan een speciale Commissie, die in onderhandeling zal treden met de Synodale Commissiën van gemelde Kerken, ten einde de kundigste en geschikste mannen voor dit werk te erlangen" (Acta Synodi Vrijstaat, 16 Mei 1916; Nienaber, 1934:64).
Die kommissie het op 9 Augustus 1916 vergader en die sinodes van al die ander provinsies en ander susterkerke uitgenooi om aan die projek deel te neem (Nienaber, 1934:65). In 1917 gee die BBBG sy goedkeuring en bied aan om vir die vertaling en publikasie te betaal. Ná vele vergaderings volg die sinodes van die ander provinsies die voorbeeld van die Vrystaat wat betref die erkenning van die gebruik van Afrikaans in die kerk en deelname aan die Bybelvertaling (Nienaber, 1934:65-69).
2.2 Die vertaalproses
Die Bybelvertaling begin amptelik op 22 November 1916 in Bloemfontein met die Breë Vergadering, bestaande uit die Vrystaatse Sinode se Kommissie van Bybelvertaling en die afgevaardigdes van die Gereformeerde Kerk (Nienaber, 1934:73). Daar is besluit om die Statenvertaling in Afrikaans te vertaal, met noukeurige raadpleging van die brontekste (Notule van die Breë Kommisie, 22 November 1916; Nienaber, 1934:74). As vertalers vir die Ou Testament is dr. BB Keet (Graaff-Reinet), dr. JD du Toit (Potchefstroom) en dr. TB Muller (Philippolis) benoem, en vir die Nuwe Testament is dr. GBA Gerdener (Kaapstad), prof. F Postma (Potchefstroom) en ds. NJ van der Merwe (Wepener) benoem (Nienaber, 1934:79). Die eerste taaladviseurs was: proff. JJ Smith, TH le Roux en DF Malherbe (Nienaber, 1983:70).
Op 4 April 1917 het die vertalers in Bloemfontein byeengekom. Benewens die hoofwerk waarvoor al die Bybelboeke onder die ses vertalers verdeel is, is besluit om 'n voorlopige vertaling as 'n Afrikaanse standaardteks voor te berei (Nienaber, 1934:80). Hiervoor moes dadelik een boek van die Nuwe Testament (Johannes) en twee van die korter boeke van die Ou Testament (Hosea en Jona) vertaal word. Dit moes gedruk en privaat as 'n tentatiewe vertaling gesirkuleer word, om naastenby die teksvorm vas te stel wat vir die hele vertaling gebruik kon word (Notule van die Afrikaanse Bybelkommissie, 4 April 1917; De Kerkbode 10 Mei 1917, p. 440).
Vir hierdie voorlopige proefvertaling is die volgende persone aangewys: dr. Keet vir die boeke Jona en Hosea 1-2, dr. Muller vir Hosea 3-8, dr. Du Toit vir Hosea 9-14, prof. Postma vir Johannes 1-9, ds. Gerdener vir Johannes 10-15 en ds. Van der Merwe vir Johannes 16-21 (Nienaber, 1934:79). Elke vertaler moes die vertaling gebruik wat hy ken, maar ander bruikbare vertalings moes tussen hakies geplaas word. Die spelling, soos deur die ZA Akademie se Spelreëls bepaal, moes gevolg word. Die voorlopige vertalings moes teen 15 Mei 1917 gereed wees vir sirkulasie onder die vertalers (Nienaber, 1934:80).
Die vertalers het weer op 2 en 3 Julie 1917 in Bloemfontein byeengekom, waartydens vier hoofstukke van die voorlopige vertaling behandel is, naamlik Hosea 3 en 9, Jona 1 en Johannes 1 (Notule van die Vertalers 2 en 3 Julie 1917; De Kerkbode 23 Augustus 1917, p. 815; Nienaber, 1934:81). Sinskonstruksie en woordvorme is bespreek, byvoorbeeld die plek van die tweede nie in 'n sin, die uitgang -e by byvoeglike naamwoorde, die spelling van eiename, keuses tussen wisselvome soos na en naar, soos en soals, asook die of wat as betreklike voornaamwoord (Nienaber, 1934:81). Geen vaste besluite is geneem nie.
Daar is besluit om 'n oplaag van honderd eksemplare van die voorlopige vertaling van die Johannes-evangelie, Hosea, en Jona as proefvertaling te druk vir gratis verspreiding onder die hersieners, adviseurs, vertalers en ander belangstellendes. Die drukproewe moes binne drie weke deur proff. Du Toit en Postma vir konsekwentheid gekontroleer word. Die kommissie het onderneem om teen 15 Oktober 1917 die proefvertaling aan die belangstellendes te gee vir noukeurige nasiening en om kommentaar voor 15 Desember 1917 aan ds. Van der Merwe te stuur (Nienaber, 1934:81-82).
2.3 Beskrywing en analise van vertaalvoorstelle
2.3.1 Voorkeurvertalings en ander bruikbare vertalings
In die 1920-proefvertaling word die ander bruikbare vertalings, wat tussen hakies geplaas moes word, net gevind in die vertalings van drie van die ses vertalers, en wel in Jona 1-4, Hosea 2, Johannes 10-13, 15 en in Johannes 20:4. Hierdie gevalle dui vertaalprobleme aan waaroor die vertalers uiteindelik vertaalkeuses moes uitoefen. Dit word in hierdie bydrae beskryf en ontleed. Dit behels aanspreekvorme, voornaamwoorde, eiename, die uitgang -e by byvoeglike naamwoorde, vertaalkeuse by wisselvorme, en die of wat as betreklike voornaamwoorde (vergelyk Steyn, 1989 vir koerante se soortgelyke grammatiese probleme in 1917; Scholtz, 1980). Gegewe die omvang, word die ondersoek beperk tot hierdie kwessies. Die gebruik van vir in die beter dan/as-konstruksie (Hosea 2:6) sal in 'n toekomstige bydrae beskryf en ontleed word. Hierdie vertalings word met die 1917-uitgawe van die Statenvertaling (1637) vergelyk, wat 'n herdruk van die 1900-uitgawe is en waarskynlik die uitgawe is wat deur Afrikaanse lesers gebruik is. Geeneen van die tekste in die 1920-proefvertaling het parallelle in die vertalings van die Bybelvertalingsbeweging (1872-1911) nie. Waar vergelykings getref word, word dit met voorbeelde in soortgelyke kontekste gedoen.
2.3.2 Vertaalvoorstelle oor goddelike aanspreekvorme en epiteta
Die vertaling van Godsname, aanspreekvorme en epiteta is van die belangrikste aspekte wat 'n rol speel in die aanvaarbaarheid van 'n Bybelvertaling. Die gebruik van Afrikaanse voornaamwoorde en voornaamwoordelike aanspreekvorme in Afrikaanse Bybelvertalings is nie hiervan uitgesluit nie, soos blyk uit die publikasies van Scholtz (1963), Nienaber (1982), Steyn (2009:146-147), Kotzé (2020) en Conradie (2020:1052-1053). Die analises is konteksloos sonder inagname van die Neo-Calvinistiese tradisie met die oorsprong in die fundamentalistiese teologie van Amsterdam en Princeton wat 'n rol in die vertaalkeuses van die vertalers gespeel het, byvoorbeeld die gebruik van hoofletters of Nederlandse vorme vir goddelike aanspreekvorme (Naudé, 2005:26-27). Dié publikasies neem ook nie die unieke aard van die doeltaal wat gedurende die vertaalproses ontwikkel en verskil van gebruikstaal in aanmerking nie (Beerle-Moor & Voinov, 2012).
Vervolgens word die vertaalvoorstelle van goddelike aanspreekvorme vir die 1920-proef-vertaling (AFN 1920) bespreek en met die vorme in die Statenvertaling (SV 1917) vergelyk.
In die gevalle waar God of Jesus aangespreek word, word Gij (met hoofletter) as voorkeurvertaling voorgestel en U (hoofletter) in hakies as 'n ander bruikbare vertaling (1)(a) en (2)(a). In SV 1917 word Gij (met hoofletter) gebruik wanneer God aangespreek word (1) (b), maar gij (met kleinletter) wanneer Jesus aangespreek word (2)(b). (HEERE is die vertaling van die tetragrammaton YHWH, die persoonlike naam van God in Hebreeus).
(1) Jona 1:14
(a) AFN 1920: Gij (U) HEERE!
(b) SV 1917: Gij, HEERE!
(2) Johannes 10:24
(a) AFN 1920: Als Gij (U) die Christus is
(b) SV 1917: indien gij ...
In AFN 1920 word Gij (U) ook in Jona 2:2, 3, 6; 4:2; en Johannes 10:24 (2x); 11:3, 8, 21, 22, 27, 41, 42 gebruik. (In AFN 1914 word gy in Jona 4:2 gebruik.) In Johannes 1-9 en 16-21 word net U gebruik. Wanneer God en Jesus aangespreek word, stel twee van die vertalers Gij as voorkeurvertaling voor en U as ander bruikbare vertaling, terwyl twee vertalers slegs U gebruik. Soos blyk uit (3) en (4) word daar nie onderskeid getref tussen die sprekers (volgelinge en nievolgelinge, onderskeidelik) se gebruik van die hoflikheidsvorm nie.
(3) Johannes 1:50
(a) AFN 1920: Nathánaël antwoord en sê vir Hem: Rabbi! U is die Soon van God, U is die Koning van Israël.
(b) SV 1917: ... en zeide tot hem: Rabbi! gij zijt de Zone Gods, gij zijt de Koning Israëls.
(4) Johannes 2:18
(a) AFN 1920: Die Jode antwoord toe en sê vir Hem: Watter teken toon U ons dat U hierdie dinge doen?
(b) SV 1917: ... en zeiden tot hem: Wat teeken toont gij ons, dat gij deze dingen doet?
Wanneer Jesus sy volgelinge aanspreek, word die persoonsvoornaamwoorde jij (5) in enkelvoud en julle (6) vir die meervoud gebruik. Die SV 1917 gebruik deurgaans gij. In die voorwerpsposisie word jou (5) gebruik in AFN 1920 en u in SV 1917. As Jesus na God verwys, word die besitsvoornaamwoord Uw vir die tweede persoon gebruik en Sijn in die derde persoon wanneer daar na Jesus verwys word (7). Die SV 1917 gebruik dieselfde vorme, maar met kleinletters: uw en zijn. Die vorm Hij word gebruik in die onderwerpsposisie wanneer daar na Jesus verwys word. Die SV 1917 het weereens dieselfde vorm, maar begin met 'n kleinletter. Die vorm Hem ((5)(a) en (13)(a)), word gebruik wanneer Jesus die referent is.
(5) Johannes 1:49
(a) AFN 1920: Nathánaël sê vir Hem: Vanwaar ken U mij? Jezus antwoord en sê vir hom: Voordat Filippus jou geroep het, toe jij onder die vijeboom was, het ik jou gesien.
(b) SV 1917: Nathánaël zeide tot hem: Van waar kent gij mij? Jezus antwoordde en zeide tot hem: Eer u Filippus riep, daar gij onder den vijgeboom waart, zag ik u.
(6) Johannes 16:30-31
(a) AFN 1920: Nou weet ons (dissipels), dat U alle dinge weet, en U het nie nodig, dat iemand U sal vra nie. Hierom geloof ons, dat U van God uitgegaan het.
Jezus antwoord hulle: Glo julle nou?
(b) SV 1917: Nu weten wij, dat gij alle dingen weet, en gij hebt niet van noode, dat u iemand vrage. Hierom gelooven wij, dat gij van God uitgegaan zijt.
Jezus antwoordde hun: Gelooft gij nu?
(7) Johannes 17:1
(a) AFN 1920: Dit het Jezus gespreek, en Hij hef Sijn oë op ... en sê: Vader! ... verheerlik Uw Soon, sodat Uw Soon ook U mag verheerlik.
(b) SV 1917: ... en hij hief zijne oogen op ... en zeide: Vader! ... verheerlijk uwen Zoon, opdat ook uw Zoon U verheerlijke.
Wanneer die besitter Sion ('n goddelike/heilige stad) is wat as vroulik voorgestel word, word die tweedepersoons- besitlike voornaamwoord uw of alternatiewelik jouw (8) gebruik om na Sion te verwys. SV 1917 gebruik in hierdie geval slegs uw as besitlike voornaamwoord, maar die stad word aangespreek as gij (dochter Zion).
(8) Johannes 12:15
(a) AFN 1920: Vrees nie, dogter van Sion! Kijk daar! uw (jouw) Koning kom
(b) SV 1917: Vrees niet, gij dochter Zion! zie, uw Koning komt
Ik en Mij is onderskeidelik die voornaamwoord vir die eerste persoon enkelvoud in onderwerpen voorwerpsposisie wanneer God aan die woord is (9). Die persoonlike voornaamwoord vir die derde persoon vroulik enkelvoud, as onderwerp gebruik, is sij. Die enkelvoud derde persoon vroulike voornaamwoord vertoon die vorm haar in die voorwerpsposisie, waar dit as besitlike voornaamwoord gebruik word en na 'n voorsetsel. Die meervoudsvorm van die derde persoon na 'n voorsetsel is hulle.
(9) Hosea 2:12
(a) AFN 1920: En Ik sal oor haar besoek die dae van die Baals, waarin sij aan hulle (dié) gewierook het en haar versier het met haar voorhoofsiersel, en haar halssierraad, en het haar boele agterna gegaan, maar het Mij vergeet, spreek die HEERE.
(b) SV 1917: En Ik zal over haar bezoeken de dagen des Baals, waarin zij dien gerookt heeft, en zich versierd met haar voorhoofdsiersel, en haar halssieraad, en is hare boelen nagegaan, maar heeft Mij vergeten, spreekt de HEERE.
AFN 1920 stel Mensesoon voor as die vertaling van die epiteton ό υιός του άνθρωπου (letterlik: die seun van die mens), 'n benaming vir Jesus. 'n Ander bruikbare vertaling wat voorgestel word, is Soon des mensen (10).
(10) Johannes 12:23 (ook Johannes 12:34 (2x))
(a) AFN 1920: Die uur is gekom vir die Mensesoon (Soon des mensen) om verheerlik te word.
(b) SV 1917: ... de Zoon des menschen ...
Die voorstel van AFN 1920 is soortgelyk aan die vertalings van die Bybelvertalingsbeweging (1872-1911) wat die Griekse frase vertaal met Menseseun (11) en (12).
(11) Matteus 8:20
AFN 1895: ... di Menseseun het ni 'n plek waar Hy syn hoof neerlê ni.
(12) Markus 8:31-32
AFN 1908b: ... dat di Menseseun baing moes ly.
Dieselfde konstruksie word in AFN 1920 vir die vertaling van Ιούδας Σίμωνος Ίσκαριώτου [letterlik: van Judas van Simon van Iskariot] voorgestel met 'n ander bruikbare vertaling, waarskynlik as gevolg van invloed van die verkorte vorm Judas Iskariot in byvoorbeeld Markus 10:4 (13).
(13) Johannes 13:2 (ook Johannes 13:26)
(a) AFN 1920: die hart van Judas Simonssoon Iskariot (Judas Iskariot, soon van Simon) gegee het dat hij Hem sou verraai
(b) SV 1917: ... Judas, Simons zoon, Iskariot
2.3.3 Vertaalvoorstelle bepaal deur morfofonologiese verandering
Ten opsigte van die gebruik van verboë (met uitgang -e) en onverboë (sonder uitgang -e) vorm van die byvoeglike naamwoord groot word in die vertaling van Jona in AFN 1920 die verboë vorm deurgaans gebruik met die onverboë vorm as ander bruikbare vertaling (14)(a). SV 1917 gebruik die verboë vorm (groote) (14)(b).
(14) Jona 1:2; 3:3; 4:11
(a) AFN 1920: die grote (groot) stad
(b) SV 1917: de groote stad
Ander gebruiksgevalle in Jona van AFN 1920 is 'n grote (groot) wind (1:4); grote (groot) vrees (1:10, 16); grote (groot) storm (1:4,12); 'n grote (groot) vis (1:17). SV 1917 gebruik die verboë vorm (groote) in al die gevalle. In Jona 3:7 het die onverboë vorm van groot egter voorkeur bo die verboë vorm.
(15) Jona 3:7
(a) AFN 1920: sij groot (grote) manne
(b) SV 1917: zijner grooten
In Johannes word alleen die onverboë vorm van groot gebruik (16).
(16) Johannes 6:2 (ook 6:5; 12:12)
(a) AFN 1920: 'n groot skare
(b) SV 1917: eene groote schare
Ander gebruiksgevalle in Johannes van AFN 1920 is 'n groot menigte (5:3); 'n groot gemompel (7:12); die groot dag (7:37); 'n groot aantal van die Jode (12:9); vol groot visse (21:11). In AFN 1920 word die gebruik van baie (in plaas van baing (12)) ingevoer - in Jona as ander bruikbare vertaling (17)(a) en (18)(a) in plaas van die voorkeurvertaling grote of groot, maar in Johannes (19) en Hosea (20) word baie gebruik as aanbevole vertaling.
(17) Jona 4:1
(a) AFN 1920: Dit het Jona groot verdriet aangedoen (baie verdrietig gemaak)
(b) SV 1917: Dit verdroot, Jona met groot verdriet
(18) Jona 3:3
(a) AFN 1920: En Ninevé was 'n grote (groot) stad van God ('n baie groot stad)
(b) SV 1917 ... eene groote stad Gods
(19) Johannes 6:10
(a) AFN 1920: En daar was baie gras op die plek
(b) SV 1917: ... veel gras ...
(20) Hosea 9:9
(a) AFN 1920: Hulle het hulleself baie diep verderwe
(b) SV 1917: ... zeer diep verdorven
By voorsetsels met in word as ander bruikbare vertaling op voorgestel (21).
(21) Hosea 2:8
(a) AFN 1920: Mij koring wegneem in (op) sij tyd en Mij mos in (op) sij bepaalde tijd.
(b) SV 1917: ... op zijnen tijd, en mijnen most op zijnen gezetten tijd.
Die saamgetrokke vorm van geen word in Jona as ander bruikbare vertaling voorgestel (22) en (23).
(22) Jona 3:7
(a) AFN 1920: Laat geen (g'n) mens of dier
(b) SV 1917: Laat mensch noch beest
(23) Jona 4:11
(a) AFN 1920: mense ... wat geen (g'n) onderskeid weet tussen hul regterhand en hul linkerhand nie
(b) SV 1917: ... die geen onderscheid weten ...
Die vol vorm geen word in AFN 1920 Johannes gebruik.
2.3.4 Vertaalvoorstelle bepaal deur wisselvorme
Ten opsigte van vertaalkeuse word ander bruikbare vertalings vir die volgende voorkeurvertalings voorgestel (24-41):
2.3.5 Vertaalvoorstelle bepaal deur morfosintaktiese verandering
Die betreklike voornaamwoord wat word as ander bruikbare vertaling voorgestel in plaas van die (42).
(42) Johannes 12:44
(a) AFN 1920: Hij wat in Mij geloof, geloof nie in Mij nie, maar in Hem, Die (wat) Mij gestuur het.
(b) SV 1917: Die in mij gelooft, gelooft in mij niet, maar in dengenen, die mij gezonden heeft.
Dieselfde vertaalvoorstel word herhaal in AFN 1920 Johannes 10:29, 36; 11:27, 37; 12:13, 49; 15:21, 26.
2.4 Resepsie van die 1920-proefvertaling
In die terugvoer in Desember 1917 van prof. JJ Smith, een van die taaladviseurs, meld hy dat die vertaling van Jona te veel kommas gebruik en die punktuasie van Johannes verbeter moet word, terwyl Hosea se punktuasie in orde is (Nienaber, 1983:70). Smith beveel aan dat eerder die fonetiese punktuasiesisteem wat die natuurlike spraakritme volg in plaas van die ou grammatiese skryfsisteem met al sy kommas, wat hy hinderlik vind, as punktuasie-sisteem gebruik word. Hy is ook oortuig dat die skryftaal so natuurlik moontlik moet wees, sonder om in platvloersheid te verval en daarom moet dit spreektaalvorme soos ek, as, na, bring en dink ook in die skryftaal benut (Nienaber, 1983:70).
Die derde vertalersvergadering het op 16 Januarie 1918 en die daaropvolgende dae in Kaapstad plaasgevind, waartydens vorme waaroor daar verskil bestaan, sowel as die terugvoer deur ongeveer dertig individue oor die 1920-proefvertaling, bespreek is (Nienaber, 1934:82).
Daar is besluit om die volgende woordvorme te gebruik: Ek in plaas van ik, hom (ook vir God) in plaas van hem, toe, soos, as, my, sy, dit is, bring, drink, U vir God en u in plaas van jy en julle in twyfelagtige gevalle, en geen. Verder volg punktuasie die fonetiese sisteem, versnommers word sonder punt geskryf, en 'n vers begin met 'n kleinletter as die voorafgaande vers afgesluit word met 'n dubbelpunt en of of. Op grond van die terugvoer op die proefvertaling is besluit dat die vorm seun in die algemeen gebruik word, behalwe in verhewe style in geykte uitdrukkings soos Soon des Mensen, Soon van God. Die spelling baie word gevolg, en word naas veel gebruik. Wat word as die enigste betreklike voornaamwoord en jou as besitlike voornaamwoord (voorlopig sonder die slot w) gebruik. Israel moet sonder deeltekens geskryf word (Notule van Vertalers, 16 Januarie 1918; Nienaber, 1934:82-83).
3. Die impak van die 1920-proefvertaling op die ontluiking van Afrikaans as Bybeltaal in die 1922-proefvertaling
3.1 Vertaalproses
Die sirkulasie in 1917 van die 1920-proefvertaling het die polemiek vir of teen Afrikaans weer laat opvlam. Hierdie debat het die vertalers op die vierde vergadering wat vanaf 7 Julie 1919 in Bloemfontein plaasgevind het, laat besluit om by die Breë Kommissie vir Bybelvertaling aan te beveel om die kerklike publiek so gou moontlik oor die resultate van die Bybelvertaling in te lig, sodat wegbeweeg kon word van die teoretiese kritiek ten gunste van 'n meer gegronde beoordeling van die werk. Daarom is besluit dat Die Vier Evangelie en die Psalme so gou moontlik in druk moes verskyn. Daarvoor moes Keet Lukas, Postma Markus, Van der Merwe Matteus en Du Toit die Psalms afhandel (Notule van Vertalers, 7 Julie 1919). Die hersiening van die vertaling van die Psalms en eerste sewe hoofstukke van Matteus is tydens die vergadering afgehandel (Nienaber, 1934:84).
Op die vertalersvergadering op 20 Julie 1920 te Bloemfontein is aandag gegee aan die voorlopige proewe van Markus, Lukas en die Psalms en sekere veranderinge is aanbeveel (Notule van die Vertalers, 20 Julie 1920; Nienaber, 1934:87). Die volgende beginsels is neergelê:
• Spelling volg die spelreëls van die SA Akademie.
• Platheid en omskrywing moes vermy word.
• Waar daar misverstand oor Nederlandse en Afrikaanse woorde bestaan, moes ondubbelsinninge woorde in die plek daarvan gebruik word nadat die bronteks geraadpleeg is.
• Eiename bly onveranderd, behalwe dat Z in S en V in W verander word.
• Die Y in Egypte en ander woorde word gehandhaaf.
• Verouderde woorde met verouderde betekenis word verander ná raadpleging van die bronteks (Notule van die Vertalers, 20 Julie 1920; Nienaber, 1934:87-88).
Die Bybelvertalingskommissie het in hulle verslag vir die Vrystaatse Sinode van 1922 gemeld dat die vertaling van Die Vier Evangelie en die Psalme ter perse is en dat die drukwerk in Duitsland deur die BBBG gedoen word.
3.2 Beskrywing en analise van vertaalkeuses
3.2.1 Vertaalkeuse by goddelike aanspreekvorme en epiteta
Net soos by Johannes 1-9 en 16-21 in AFN 1920 word net U in AFN 1922 as aanspreekvorm vir God en Jesus gebruik. Dit geld ook nou vir die gevalle in AFN 1920 waar U as 'n ander bruikbare vertaling naas Gij voorgestel is, naamlik Johannes 10:24 (2x); 11:3, 8 (2x), 21, 22, 27, 41 (2x), 42 (2x).
Net soos by AFN 1920 (3)(a) en (4)(a) word daar nie onderskeid getref tussen die sprekers (volgelinge en nievolgelinge, onderskeidelik) se gebruik van die hoflikheidsvorm nie. Wanneer Jesus sy volgelinge aanspreek, volg AFN 1922 die SV 1917 deur die persoonsvoornaamwoorde u vir die enkelvoud (44) sowel as die meervoud (45) te gebruik in plaas van jij (5)(a) in enkelvoud enjulle (6)(a) vir die meervoud soos in AFN 1920. Die SV 1917 gebruik deurgaans gij. In navolging van SV 1917 (5)(b) word in AFN 1922 in die voorwerpsposisie u (43) in plaas van jou (5)(a) van die AFN 1920 gebruik. As Jesus na God verwys, word die besitsvoornaamwoord U in AFN 1922 in plaas van Uw (soos in AFN 1920) vir die tweede persoon gebruik en Sy in plaas van Sijn (soos in AFN 1920) in die derde persoon wanneer na Jesus verwys word (45). Die vorm Hy in plaas van Hij word gebruik in die onderwerpsposisie wanneer na Jesus verwys word (45). Hieruit kan afgelei word dat AFR 1922 voorkeur het vir voornaamwoordsvorme met vol vokale (soos ek, my, hy, hom, sy, haar). Die vorm hem (43) of Hem (48), word egter gebruik wanneer Jesus die referent is.
(43) Johannes 1:49 (Vergelyk met (5))
AFN 1922: Nathánaël sê vir hem: Vanwaar ken U my? Jesus antwoord en sê vir hom: Eer Filippus u geroep het, toe u onder die vyeboom was, het Ek u gesien.
(44) Johannes 16:30-31 (Vergelyk met (6))
AFN 1922: Nou weet ons (dissipels), dat U alle dinge weet, en U het nie nodig, dat iemand U sal vra nie. Hierom geloof ons, dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Geloof u nou?
(45) Johannes 17:1 (Vergelyk met (7))
AFN 1922: Dit het Jesus gespreek, en Hy hef Sy oë op na die hemel, en sê: Vader! die uur het gekom, verheerlik U Soon, sodat ook U Soon U kan verheerlik.
Wanneer die besitter Sion is, word die tweedepersoons- besitlike voornaamwoord u in AFN 1922 in plaas van uw of alternatiewelik jouw soos in AFN 1920 gebruik (46).
(46) Johannes 12:15 (Vergelyk met (8))
AFN 1922: Vrees nie, dogter van Sion! Siet! u Koning kom
Ek en My is onderskeidelik die voornaamwoord vir die eerste persoon enkelvoud in onderwerpen voorwerpsposisie wanneer die Here of God aan die woord is (vergelyk met (9)(a)). Die persoonlike voornaamwoord vir die derde persoon vroulik enkelvoud as onderwerp gebruik, is sy. Die enkelvoud derde persoon vroulike voornaamwoord vertoon die vorm haar in die voorwerpsposisie, waar dit as besitlike voornaamwoord gebruik word en na 'n voorsetsel. Die meervoudsvorm van die derde persoon na 'n voorsetsel is hulle.
In AFN 1922 is die ander bruikbare vertaling van AFN 1920, naamlik Soon des mensen, in plaas van Mensesoon gebruik, wat in AFN 1920 die voorkeurvertaling vir die epiteton ó υιός του άνθρωπου (47) is.
(47) Johannes 12:23 (Vergelyk met (10))
AFN 1922: Die uur het gekom, dat die Soon des mensen sal verheerlik word.
In AFN 1922 word die ander bruikbare vertaling in AFN 1920 gevolg in plaas van die voorkeurvertaling Judas Simonssoon Iskariot (48).
(48) Johannes 13:2 (Vergelyk met (13))
AFN 1922: toe die duiwel dit al in die hart van Judas Iskariot, die soon van Simon, gegee het om Hem te verraai
3.2.2 Vertaalkeuse by morfofonologiese verandering
Ten opsigte van die gebruik van verboë en onverboë vorm van die byvoeglike naamwoord groot, word in die vertaling van Johannes alleen die onverboë vorm van groot gebruik, byvoorbeeld 'n groot skare (6:2; 6:5; 12:12) soos in AFN 1920 (16)(a).
Ander voorkeurvertalings in AFN 1920 Johannes word in AFN 1922 behou: 'n groot menigte (5:3); 'n groot gemompel (7:12); die groot dag [dag is nie in die bronteks nie, maar word veronderstel en daarom onderstreep] (7:37); 'n groot skare van die Jode (12:9); vol groot visse (21:11). Die gebruik van baie is behou in AFN 1922 Johannes 6:10 (19)(a). Die vol vorm geen word steeds in AFN 1922 Johannes gebruik (vergelyk (22)(a) en (23)(a)).
3.2.3 Vertaalkeuse by wisselvorme
Die volgende vertaalkeuses word in AFN 1922 uitgeoefen:
(a) Ander bruikbare (meer formele) vertalings van AFN 1920, naamlik kudde in plaas van trop (27), linnedoek in plaas van handdoek (29), en omgord in plaas van gebind (30).
(b) Die voorkeurvertalings van AFN 1920, naamlik oorledene in plaas van dode (28), geloof in plaas van glo (32), ter wille van julle in plaas van om julle ontwil (39).
(c) Nuwe skepping: sneller as in plaas van die voorkeurvertaling sneller dan of ander bruikbare vertaling gouwer als (41).
(d) In plaas van die voorkeurvertaling erg aangedaan in die gees of ander bruikbare vertaling verontwaardig van AFN 1920 (40), word die SV 1917 letterlik vertaal as word Hy seer bewoë in die gees.
3.2.4 Vertaalkeuse by morfosintaktiese verandering
Die betreklike voornaamwoord wat word deurgaans gebruik in relatiewe sinne in AFN 1922.
(49) Johannes 12:44 (Vergelyk met (40))
AFN 1922: Hy, wat in My geloof, geloof nie in My nie, maar in Hem, wat My gestuur het.
3.3 Resepsie van die 1922-proefvertaling
Daar is altesaam 70 000 kopieë van Die Vier Evangelië en die Psalme versprei (Naudé, 2004:133). Baie kritiek is oor die taalgebruik van die proefvertaling gelewer. Veral oor die gebruik van tydsvorme (byvoorbeeld die onvoltooide verlede tyd en die verlede tydsgebruik van die teenswoordige tydsvorm) en Nederlandismes in die vertaling (byvoorbeeld "is gehoor word" en "verwagtende was") was daar hewige kritiek (Nienaber, 1934:102, 104).
Daar was 'n polemiek in De Kerkbode oor die aanspreekvorm u, wat deurgaans in AFN 1922 gebruik is. Voorstanders van die gebruik van jy, jou en julle argumenteer dat Afrikaans nie anders moet wees as baie Europese tale soos Frans en Duits waarin die Here as jy aangespreek word nie. 'n Argument teen die gebruik van jy, jou en julle was dat dit nie strook met die atmosfeer in godsdiensoefeninge nie (Steyn, 2009:146-147).
Een vraagstuk was of die epiteton Soon des mensen in AFN 1922 as Seun van die mens vertaal kan word. Een van die taaladviseurs, prof. DF Malherbe, was van mening dat Soon des mensen gehandhaaf moet word, terwyl prof. LJ du Plessis dit 'n "taalkundige gedrog" genoem het (Nienaber, 1983:76).
Die Vier Evangelië en die Psalme as proefvertaling misluk weens die interferensie van die Nederlandse taal met uitdrukkings soos "om Syns Naams wil" en "my beker is oorvloei-ende" (Ps 23:3, 5), wat onaanvaarbaar was in 'n tyd toe Afrikaans as taal belangrik geword het vir 'n nuwe identiteit vir die Afrikaner (Smit, 1970:228).
4. Die impak van die 1920-proefvertaling op die ontluiking van Afrikaans as Bybeltaal vanaf 1923 tot 1967
4.1 Die vertaalproses
In die lig van die negatiewe kritiek op die Die Vier Evangelië en die Psalme het die vertalers besef dat 'n suiwerder Afrikaanse vorm nodig is om meer onafhanklik van die Nederlandse Statenvertaling te raak. Daar moes eerder uit die Hebreeuse en Griekse brontekste vertaal word omdat Afrikaans die potensiaal het om aan te pas by die Nabye-Oosterse taal en kultuur (Venter, 1953; Steyn, 2009:143-146). Uit hierdie gesigspunt volg die vertaalopdrag vir die 1933-vertaling: Vertaal uit Hebreeuse en Griekse brontekste in Afrikaans om die styfheid van die Nederlands aan die een kant en die platheid van die gewone Afrikaanse spreektaal aan die ander kant te vermy (Du Plessis, 1959:93; Naudé, 2009:64-68). 'n Eie, volwaardige, volgroeide Bybeltaal is hierdeur geskep (Du Plessis, 1959:94).
Tydens die vertalersvergadering op 10 en 11 Julie 1923 is besluit dat eiename konsekwent volgens die Afrikaanse spelreëls gespel sou word. Daar is besluit om die woord Hom vir Hem te gebruik, jy, jou en julle sou konsekwent toegepas word, en U sou alleen gebruik word vir die Opperwese en wanneer 'n mindere 'n meerdere toespreek.
Uit die hergekonseptualiseerde projek verskyn Die Vier Evangelies en die Boek van die Psalms in 1929 as proefvertaling. Die volledige Bybel in Afrikaans is in 1933 in gebruik geneem, en in 1953 verskyn 'n hersiene uitgawe.
4.2 Die taalgebruik van die 1929-proefvertaling, die 1933-vertaling en die 1953-hersiening
4.2.1 Vertaalkeuse by goddelike aanspreekvorme en epiteta
Soos in AFN 1922 word in AFN 1929 net U as aanspreekvorm vir God en Jesus gebruik. Dit word in AFN 1933 en AFN 1953 nagevolg. Net soos by AFN 1920 en AFN 1922 word daar nie in AFN 1929 onderskeid getref tussen die sprekers (volgelinge en nievolgelinge) se gebruik van die hoflikheidsvorm nie en word U elke keer gebruik. Dit word in AFN 1933 en AFN 1953 nagevolg.
In AFN 1929 word, wanneer Jesus sy volgelinge aanspreek, die persoonsvoornaamwoorde jy in enkelvoud en julle vir die meervoud gebruik teenoor die AFN 1922 wat die persoonsvoornaamwoorde u vir die enkelvoud (43) sowel as vir die meervoud (44) gebruik. Die AFN 1929 stem hierin ooreen met AFN 1920 (5)(a) en (6)(a), maar met die vorm van die vol vokaal jy in die enkelvoud en julle vir die meervoud. In die voorwerpsposisie word jou in AFN 1929 net soos in AFN 1920 (5)(a) gebruik, teenoor die u in AFN 1922 (43). As Jesus na God verwys, word in AFN 1929 die besitsvoornaamwoord u in kleinletters vir die tweede persoon gebruik en sy word gebruik in die derde persoon wanneer daar na Jesus verwys word, teenoor die hoofletters in AFN 1922 (45). Net soos in AFN 1922 word die vorm Hy gebruik in die onderwerpsposisie wanneer daar na Jesus verwys word (45). Hierdie gebruike van die voornaamwoorde word onveranderd nagevolg in AFN 1933 en AFN 1953.
Wanneer die besitter Sion is, word die tweedepersoons- besitlike voornaamwoord jou in plaas van u (soos in AFN 1922 (46)) gebruik. Dit word telkens net so in AFN 1933 en AFN 1953 nagevolg.
In 1929 word die Afrikaanse vorm Seun van die mens as die vertaling van die epiteton ό υιός του άνθρωπου gebruik in plaas van AFN 1922 (47) en 'n ander bruikbare vertaling van AFN 1920 (10)(a), naamlik Soon des mensen. Dit word in AFN 1933 en AFN 1953 nagevolg.
Die konstruksie Judas Iskariot, die soon van Simon in AFN 1922 (48) word in AFN 1929 vertaal om te lees Judas Iskáriot, die seun van Simon. Dit word net so in AFN 1933 en AFN 1953 nagevolg.
4.2.2 Vertaalkeuse by morfofonologiese verandering
Ten opsigte van die byvoeglike naamwoord groot, word in die vertaling van Jona in AFN 1933 die onverboë vorm (50) gebruik, behalwe by Jona 3:3 (51) waar die verboë vorm van AFN 1920 steeds gebruik word. In AFN 1953 is dit wel verander na die onverboë vorm.
(50) Jona 1:2; 4:11 (Vergelyk met (14))
AFN 1933: na die groot stad Ninevé
(51) Jona 3:3
AFN 1933: 'n ontsaglike grote stad
AFN 1953: 'n ontsaglike groot stad
Ander gebruiksgevalle in Jona van AFN 1933 en AFN 1953 is groot storm (1:4,12), 'n groot vrees (1:16), 'n groot vis (1:17) en sy groot manne (3:7). In AFN 1929, AFN 1933 en AFN 1953 Johannes word alleen die onverboë vorm van groot gebruik.
Die gebruik van baie in Johannes 6:10, soos in AFN 1920 (19)(a) en AFN 1922, word steeds in AFN 1929, AFN 1933 en AFN 1953 gebruik. In Johannes 7:12 is daar 'n uitbreiding van die gebruik van baie in AFN 1929 (52), waar dit die funksie van groot, oorneem in 'n idiomatiese vertaling soos in AFN 1920 en AFN 1922. Dit word nagevolg in AFN 1933 en AFN 1953.
(52) Johannes 7:12
AFN 1922: En daar was 'n groot gemompel
AFN 1929: daar is baie oor hom gemompel
In Jona word beide die voorkeurvertaling groot en die ander bruikbare vertaling met baie van AFN 1920 (17)(a) deur 'n idiomatiese vertaling in AFN 1933 vervang en in AFN 1953 nagevolg.
(53) Jona 4:1
AFN 1933: Maar Jona was hieroor erg ontstemd
Die baie in die ander bruikbare vertaling van Jona 3:3 in AFN 1920 (18)(a), naamlik 'n baie groot stad, word met 'n meer beskrywende term ontsaglike vervang om te lees 'n ontsaglike groot stad (51). Die vertaling baie diep verderwe van AFN 1920 Hosea 9:9 (20)(a) word met 'n idiomatiese vertaling baie, baie verkeerdgehandel in AFN 1933 vervang en in AFN 1953 behou.
Die gebruik van die voorsetsels in en op (21)(a) word gevestig in AFN 1933 en AFN 1953 - in by tydsverloop en op by spesifieke tyd (54). Die gebruik van die voorsetsel aan in AFN 1922 om die voorwerp aan te dui, word in AFN 1933 geskrap (55). Dit word in AFN 1953 gevolg.
(54) Hosea 2:8
AFN 1933: Daarom sal Ek my koring terugneem in die oestyd en my mos op die bepaalde tyd,
(55) Johannes 8:5
AFN 1929: en Moses het aan ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig
AFN 1933: en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig
Slegs geen word in AFN 1933 en AFN 1953 gebruik (56) of met 'n nie-konstruksie vervang (57).
(56) Jona 3:7 (Vergelyk met (22)(a))
AFN 1933: geen mens of dier
(57) Jona 4:11 (Vergelyk met (23)(a))
AFN 1933: mense ... wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie
4.2.3 Vertaalkeuse by wisselvorme
Die volgende vertaalkeuse word in AFN 1929, AFN 1933 en AFN 1953 uitgeoefen:
(a) Ander bruikbare vertalings van AFN 1920, naamlik oorlog in plaas van krijg (27), toe die dag breek in plaas van toe die dageraad opgaan (34), verloof in plaas van ondertrouw (37), kudde in plaas van trop word behou, maar linnedoek (29) word met doek vervang en omgord (30) word met vasgemaak vervang. Die ander bruikbare vertalings om julle ontwil vervang voorkeurvertaling ter wille van julle (39). Die voorkeurvertaling geloof (32) word vervang met die ander bruikbare vertaling glo.
(b) Die voorkeurvertalings van AFN 1920 word behou, naamlik oorledene in plaas van dode (28), seeliede in plaas van matrose (24) en geglo in plaas van geloof (31).
(c) Nuwe skepping:feestye in plaas van die voorkeurvertalingfeeste of die ander bruikbare vertaling hoogtije (25), versmag in plaas van die voorkeurvertaling oorstelp of die ander bruikbare vertaling oorweldig (33), inhaal in plaas van die voorkeurvertaling ontmoet of die ander bruikbare vertaling aantref (35), verwyder in plaas van die voorkeurvertaling wegdoen of die ander bruikbare vertaling wegmaak (36), onvertaald/ weggelaat in plaas van die voorkeurvertaling gebeur of ander bruikbare vertaling geskied (38), vinniger as vervang sneller as (41).
(d) Soos in AFN 1922 word nie die voorkeurvertaling of ander bruikbare vertaling gebruik nie, maar word die SV 1917 (40) letterlik vertaal as geweldig bewoë geword in sy gees.
Die keuses behels die verwydering van Nederlandse leenwoorde en verouderde vorme en die vervanging daarvan met deftige en idiomatiese Afrikaanse vorme.
4.2.4 Vertaalkeuse by morfosintaktiese verandering
Die betreklike voornaamwoord wat word in AFN 1929, 1933 en 1953 gebruik. Daar is ontwikkeling van Hij wat in AFN 1920 (42) en Hy, wat in AFN 1922 (49) na Die wat in 1929 (58)(a) en na Wie in AFN 1933 en AFN 1953 (58)(b).
(58) Johannes 12:44
(a) AFN 1929: Die wat in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het.
(b) AFN 1933: Wie in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het.
4.3 Resepsie van die 1929-proefvertaling, die 1933-vertaling en die 1953-hersiening
Die Vier Evangelies en die Boek van die Psalms (1929), die 1933-vertaling en die 1953-hersiening is positief ontvang en die 1953-hersiening is steeds die topverkoper van die Bybel in Afrikaans. Van Die Vier Evangelies en die Boek van die Psalms (1929) is 19 758 eksemplare verkoop (Naudé, 2004:134). Daar is 300 000 kopieë in die eerste twee jaar ná publikasie van AFN 1933 verkoop (North, 1938:108). Vanaf 1933 tot 1953 is 1 944 458 eksemplare van die 1933-vertaling verkoop en 4 996 561 eksemplare van die 1953-hersiening in die eerste vyftig jaar van die gebruik daarvan (Naudé, 2004:134).
5. Gevolgtrekkings
Tussen 1912 en 1923 was daar nie net 'n worsteling om 'n Afrikaanse standaardtaal tot stand te bring nie, maar ook 'n Bybeltaal wat aanvaarbaar vir gebruikers sou wees. Ooreenstemming tussen twee moontlikhede moes gevind word. Aan die een kant moes die styl natuurlik wees sodat dit as eg ervaar word, maar aan die ander kant moes die presiese register gevind word om die waardigheid en verhewenheid van die Bybel te weerspieël (Conradie, 1983:106). Dit is uiteindelik gevind in die 1953-hersiening, met enersyds die afwyking van die spreektaal en terugval op die Nederlands en andersyds die wegskaaf van Neerlandismes - 'n goue middeweg sonder om nederlandisties te word (Du Plessis, 1959:94). In hierdie proses het die 1920-proefvertaling 'n onontbeerlike rol gespeel.
Die 1920-proefvertaling het van die belangrikste grammatiese vertaalprobleme waarvoor vertaaloplossings vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans gevind moes word, aan die orde gestel. Die ses vertalers daarvan was geografies verteenwoordigend vir die bepaling van die eenvormige standaard vir die Bybeltaal van Afrikaans wat nog nie 'n vaste skryfvorm gehad het nie. Dit was ook bepalend vir die vertaalmetodologie wat gevolg moes word. Die bevindinge van die beskrywing en analise van die voorkeur- sowel as ander bruikbare vertalings, en die vertaalkeuses soos in die daaropvolgende vertalings, word in Tabel 2 saamgevat.
Die volgende is voorbeelde van kwessies in die 1920-proefvertaling wat teruggevind word in die hervertalings van 1983 (Louw, 1986; Vosloo, 1986; Ponelis, 2002), sowel as 2020 (De Wet, 2020; Naudé, 2020) en hulle onderhawige proefvertalings, wat nie in hierdie bydrae ontleed is nie en die tydperke van 1967 tot 1992 en 1997 tot 2020, respektiewelik, dek:
(a) Oor die jy-jou-U-kwessie van AFN 1920 en AFN 1922 het die vertalers van AFN 1929, AFN 1933 en AFN 1953 uiteindelik besluit dat U gebruik word as aanspreekvorm wanneer 'n meerdere of 'n vreemdeling, of as 'n beleefdheidsvorm van mens teenoor mens en dat jy enjou teenoor gelykes en minderes gebruik word, maar nooit teenoor jou meerdere, en allermins teenoor die Opperwese (Steyn, 2009:146-147).
In die AFN 2020 word hierdie besluit verder verfyn:
Wanneer Jesus hoflik of eerbiedig aangespreek word, word 'U/Uself' gebruik in die vertaling. Wanneer Jesus egter afwysend of aggressief aangespreek word, word 'jy/jyself' gebruik, en 'hy/hom' wanneer so 'n spreker (of iemand wat Jesus nog nie as Messias aanvaar nie) oor Jesus praat. (AFN 2020, Voorwoord)
(b) Sedert 1929 word die Afrikaanse vorm Seun van die mens as die vertaling van die epiteton ó υιός του άνθρωπου gebruik in plaas van die vertaling Soon des mensen in AFN 1922 en die ander bruikbare vertaling soos in AFN 1920 voorgestel. Dit word net so in AFN 1933 en AFN 1953 nagevolg, asook in die hervertaling soos in AFN 1983 en die proefvertalngs daarvan (AFN 1971, AFN 1975 en AFN 1979). In die hervertaling van AFN 2020 en die proefvertaling daarvan (AFN 2014) is die vorm Seun van die Mens.
(c) Die ander bruikbare vertaling in AFN 1922 Johannes 13:2 Judas Iskariot, die soon van Simon wat in AFN 1929 vertaal is as Judas Iskariot, die seun van Simon en net so in AFN 1933 en AFN 1953 nagevolg, maar is in beide die hervertalings en hulle proefvertalings verander na Judas, seun van Simon Iskariot.
(d) Ten opsigte van die gebruik van die onverboë vorm van die byvoeglike naamwoord groot saam met baie, word in die hervertaling van Jona 3:3 in AFN 1983 die onverboë vorm van die ander bruikbare vertaling van AFN 1920 steeds gebruik, naamlik 'n baie groot stad, maar in die hervertaling van Jona 3:3 in AFN 2020 word baie vervang deur 'n uitsonderlike groot stad.
(e) Die voorkeurvertaling handdoek in AFN 1920 word in AFN 1983 en die proefvertalings AFN 1971, AFN 1975, AFN 1979 daarvan teruggevind, terwyl die ander bruikbare vertaling in AFN 1920 Johannes 13:4 linnedoek wat in AFN 1922 gebruik is, maar met doek vervang is in AFN 1929, AFN 1933 en AFN 1953 weer in AFN 2014 en AFN 2020 teruggevind word. Die ander bruikbare vertaling matrose (Jona 1:5) in AFN 1920 word in AFN 1983 en AFN 2020 teruggevind.
Die volgende vertaalkeuses soos voorgestel in AFN 1920 het deel van die Bybeltaal geword: (a) Ander bruikbare vertalings van AFN 1920, naamlik oorlog, toe die dag breek, kudde, oorledene, om julle ontwil; (b) die voorkeurvertalings van AFN 1920, naamlik geglo; en (c) die betreklike voornaamwoord wat.
In die ontluiking van Afrikaans as Bybeltaal was die probleem vir die vertalers om hulle te bevry van die bande van 'n dominante Nederlandse skryftradisie, woorde en uitdrukkings-wyses van die Statenvertaling sodat Afrikaans gebruik kon word volgens sy eie idioom. Die bevryding het eers in Mei 1925 gekom toe Afrikaans amptelike status verkry het en Nederlands sy dominansie as amptelike taal naas Engels moes prysgee. Eers toe kon die eise wat Bybelvertaling stel 'n onontbeerlike rol in die ontwikkeling van 'n skryftaal en 'n deftige styl van 'n jong taal speel.
BIBLIOGRAFIE
Baker, M. 2006. Translation and conflict: A narrative account. New York: Routledge. [ Links ]
Beerle-Moor, M & Voinov, V. 2012. Introduction to language vitality through Bible Translation. In Beerle-Moor, M & Voinov, V (eds). Language vitality through Bible translation. New York: Peter Lang, pp. 1-17. [ Links ]
Conradie, CJ. 1983. Afrikaanse Bybelvertalings: 'n taal in wording. In Sinclair, AJL (red.). G.S. Nienaber - 'n huldeblyk: Studies opgedra aan prof. dr. GS Nienaber in sy tagtigste jaar. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland, pp. 105-111. [ Links ]
Conradie, CJ. 1985. Die normering van Afrikaanse Bybeltaal. In Botha, RP & Sinclair, M. (reds.). Norme vir taalgebruik. SPIL Plus 10. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch, pp. 464-487. [ Links ]
Conradie, CJ. 2020. Taalverandering in die Afrikaanse vertalings van die Evangelie van Markus. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-1):1047-1065. [ Links ]
Conradie, CJ & Groenewald, G. 2014. Die ontstaan en vestiging van Afrikaans. In Carstens, W & Bosman, N. (reds.). Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik, pp. 27-60. [ Links ]
Conradie, WJ. 1912. Bijbel geskiedenis vir ons volk. Kaapstad: HAUM. [ Links ]
De Wet, K. 2020. Die derde Afrikaanse Kerkbybel: Proses en praktyk van 'n direkte vertaling. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-1):1007-1027. [ Links ]
Du Plessis, SJ. 1959. Afrikaans as kanseltaal. In Labuschagne, GJ. (red.). Feesbundel aangebied ter geleentheid van die viering van "die wonder van Afrikaans". Johannesburg: Dagbreek Boekhandel, pp. 89-95. [ Links ]
Hofmeyr, JH. 1913. Het leven van Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan). Kaapstad: Van De Sandt De Villiers Drukpers. [ Links ]
Keet, BB & Groenewald, EP. 1985. Die Bybel in Afrikaans. In Wegener, GS. In die begin was die Woord. Kaapstad: Human & Rousseau, pp. 221-238. [ Links ]
Koskinen, K & Paloposki, O. 2010. Retranslation. In Gambier, Y & Van Doorslaer L. (eds). Handbook of Translation Studies, Volume 1. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins, pp. 294-298. [ Links ]
Kotzé, EF. 2020. Gesag en solidariteit: Aanspreekvorme en pronominale persoonsverwysings in die Afrikaanse Bybelvertaling van 2020. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 60(4-1):1066-1091. [ Links ]
Louw, JP. 1986. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling: Kritiese Evaluering - Nuwe Testament. In Louw, JP, Vosloo, W & Webb, VN. (reds.). Die taal van die Bybel en die predikant. Pretoria: NG Kerkboekhandel, pp. 1-11. [ Links ]
Marais, K. 2014. Translation theory and developmental studies: A complexity theory approach. London: Routledge. [ Links ]
Marais, K. 2019. A (bio)semiotic theory of translation: The emergence of social-cultural reality. London: Routledge. [ Links ]
Marais, K. 2023. Trajectories of translation: The thermodynamics of semiosis. London: Routledge. [ Links ]
Naudé, JA. 2004. Afrikaanse Bybelvertalings 'vir Afrika'. Die vertalers en hulle kulturele agenda. Acta Theologica, 24(1):127-146. [ Links ]
Naudé, JA. 2005a. Translation and cultural transformation. The case of the Afrikaans Bible translations. In Hung, E. (ed.). Translation and cultural change: Studies in history, norms and image-projection. Amsterdam: Benjamins, pp. 19-42. [ Links ]
Naudé, JA. 2005b. The Afrikaans Bible translations and the formation of cultural, political and religious identities in South Africa. In House, J, Ruano, RM & Baumgarten, N. (eds). Translation yearbook of the International Association for Translation & Intercultural Studies 2005. Seoul: IATIS, pp. 167-179. [ Links ]
Naudé, JA. 2008. The role of pseudo-translations in early Afrikaans travel writing. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 26(1):97-106. [ Links ]
Naudé, JA. 2009. "Soos 'n hamer wat 'n rots vermorsel": Die Afrikaanse Bybel van 1933 as vertaling. Acta Theologica, 29(2):54-73. [ Links ]
Naudé, JA. 2020. Nuwe en ou skatte: Die 2020- Afrikaanse vertaling van die Bybel as 'n hervertaling. Tydskrifvir Geesteswetenskappe, 60(4-1):869-891. [ Links ]
Nienaber, PJ. 1934. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling en 'n hoofstuk oor die vertaling van die Psalm- en Gesangboek en die Formuliere. Kaapstad: Nasionale Pers. [ Links ]
Nienaber, PJ. 1959. Afrikaans verower die Kerk. In Du Buisson, MS. (red.). Die wonder van Afrikaans. Bydraes oor die ontstaan en groei van Afrikaans tot volwaardige wereldtaal. Johannesburg: Voortrekkerpers, pp. 60-83. [ Links ]
Nienaber, PJ. 1982. Die aanspreekvorme in die Afrikaanse Bybel van 1933. Acta Academica, Reeks B, 16:104-108. [ Links ]
Nienaber, PJ. 1983. Die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Bybelvertaling tot 1933. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 23(2):69-77. [ Links ]
Nord, C. 2023. Functionalist approaches. In Meylaerts, R & Marais, K. (eds). The Routledge handbook of translation theory and concepts. London: Routledge, pp. 169-184. [ Links ]
North, EM. 1938. The Book of a Thousand Tongues. New York: Harper & Brothers. [ Links ]
Oberholster, JAS. 1958. Die Bybel in Afrikaans. Kaapstad: N.G. Kerk-Uitgewers. [ Links ]
Ponelis, F. 2002. The language ecology of a new Afrikaans Bible. In Naudé, JA & Van der Merwe, CHJ. (eds). Contemporary Translation Studies and Bible translation. A South African perspective. Acta Theologica Supplementum 2. Bloemfontein: Publication Office of the University of the Free State, pp. 280-289. [ Links ]
Scholtz, J du P. 1963 [1953]. Die geskiedenis van die Afrikaanse aanspreekvorme. In Scholtz, J du P. (red.). Taalhistoriese opstelle. Voorstudies tot 'n geskiedenis van Afrikaans. Pretoria: JL van Schaik, pp. 52-72. [ Links ]
Scholtz, J du P. 1980. Wording en ontwikkeling van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Smit, AP. 1970. God het laat groei. Geskiedenis van die Bybelgenootskapsbeweging in Suider-Afrika 1820-1970. Kaapstad: Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. [ Links ]
Spies, SB. 1986. Rekonstruksie en unifikasie, 1902-1910. In Cameron, T & Spies, SB. (reds.). Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. Kaapstad: Human & Rousseau, pp. 219-227. [ Links ]
Steyn, JC. 1989. 'n Paar aantekeninge oor Afrikaanse koerante se grammatiese probleme in die 'owergangtijdperk' tot omstreeks 1917. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Taalkunde, 7(1):20-29. [ Links ]
Steyn, JC. 2009. Die Afrikaans van die Bybelvertaling van 1933. In Naudé, JA. (ed.). The Bible and its translations: Colonial and postcolonial encounters with the indigenous. Acta Theologica Supplementum 12. Bloemfontein: Publication Office of the University of the Free State, pp. 130-156. [ Links ]
Van Rensburg, MCJ. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA. [ Links ]
Venter, H. 1953. 'n Afrikaanse Bybelstyl. Koers, 21(3):130-134. [ Links ]
Vosloo, W. 1986. Die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling: 'n Beoordeling van die Ou Testament. In Louw, JP, Vosloo, W & Webb, VN. (reds.). Die taal van die Bybel en die predikant. Pretoria: NG Kerkboekhandel. pp. 12-30. [ Links ]
BYBELVERTALINGS
Afrikaans
1878. Die Evangelie volgens die beskrywing van Markus na die Hollandse vertaling van die State Bybel. Ongepubliseerd.
1889. Di Bybel in Afrikaans - Dri Proewe deur SJ du Toit. Paarl: DF du Toit.
1893. Di Eerste Boek van Moses genoem Genesis. Paarl: DF du Toit.
1895. Di Evangeli vollens Mattéus. Paarl: DF du Toit.
1898. Di Openbaring van Jesus Gristus met antekeninge deur SJ du Toit. Paarl: DF du Toit Drukkers en Uitgewers.
1905. Di Hoogliid fan Salomo. Stemmen des Tijds 1(1):14-20; 1(2):18-20.
1907. Di Psalme in Afrikaans fertaald. Paarl: Paarl Drukkers.
1908a. Di Handelinge fan di Apostels. Stemmen des Tijds 3(3):11-14; 3(4):4-12; 3(7):8-12; 3(9):2-8; (3)(10-11):15-21.
1908b. Di Evangeli follens Markus. Stemmen des Tijds 4:4-11; 4(9):12-14; 4(12):1-8.
1920. Die Heilige Evangelie volgens die Beskrijwing van Johannes, Die Profeet Hosea, Die Profeet Jona. Kaapstad: BBBG.
1922. Die Vier Evangelie en die Psalme. Kaapstad: BBBG.
1929. Die Vier Evangelies en die Boek van die Psalms. Kaapstad: BBBG.
1933. Die Bybel in Afrikaans. Kaapstad: BBBG.
1953. Die Bybel in Afrikaans. 1933. Kaapstad: BBBG.
1971. 'n Proefvertaling van 1 Samuel, Amos, Maleagi, Die Evangelie volgens Johannes, Die Brief aan die Fillippense, Die Brief aan die Kolossense vertaal uit die oorspronklike tale. Kaapstad: BGSA.
1975. Die Blye Boodskap. Kaapstad: BGSA.
1979. Die Nuwe Testament en die Psalms. Kaapstad: BGSA.
1983. Die Bybel. Nuwe Vertaling. Kaapstad: BGSA.
2014. Nuwe Testament en Psalms. 'n Direkte Vertaling. Bellville: BGSA.
2020. Die Bybel 2020-vertaling. Bellville: BGSA.
Nederlands
1917 [1637]. Bijbel dat is de gansche Heilige Schrift. Herdruk van die 1900-uitgawe. Londen: BBBG.
DOKUMENTE
Acta Synodi Vrijstaat, 16 Mei 1916.
De Kerkbode, 10 Mei 1917.
De Kerkbode, 23 Augustus 1917.
Notule van ATV-kongres, 24 en 25 Julie 1914.
Notule van die Afrikaanse Bybelkommissie, 4 April 1917.
Notule van die Breë Kommissie, 22 November 1916.
Notule van Vertalers, 2 en 3 Jule 1917.
Notule van Vertalers, 16 Januarie 1918.
Notule van Vertalers, 7 Julie 1919.
Notule van Vertalers, 20 Julie 1920.
Ons Moedertaal, 15 September 1914.
Ontvang: 2024-06-01
Goedgekeur: 2024-11-16
Gepubliseer: Maart 2025
Jacobus A Naudé is 'n senior professor in die Departement Hebreeus aan die Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika, waar hy Bybelhebreeuse taalkunde en Bybelvertaling (antieke en moderne vertalings) aanbied. In sy navorsing fokus hy op pre-moderne Hebreeuse taalkunde, spesifiek vanuit 'n generatiewe perspektief, sowel as op godsdiens- en Bybelvertaling vanuit 'n kompleksiteitsteoretiese gesigspunt. Hy publiseer oor temas soos die semiotiek van alteriteit, sensuur, oraliteit, die rol van paratekste/ metatekste en die beskrywing van die ontluiking van Afrikaanse en Engelse Bybelvertalings in 70 hoofstukke in boeke en 208 artikels in akademiese vaktydskrifte. Hy is redakteur van vier volumes oor die interaksie tussen vertaalkunde en religieuse vertaling en is mede-outeur van die Biblical Hebrew Reference Grammar (2 uitgawe, Bloomsbury, 2017). Hy is mederedakteur van Linguistic Studies in Ancient West Semitic (PSU Press) en dien op die adviespanele van The Bible Translator, Handbook of Translation Studies, Handbook of Terminology, Journal of Northwest Semitic Languages, en die National Association of Professors of Hebrew. Hy het gedien op die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se begelei-dingskomitee en drie redaksionele komitees vir die Bybelvertalingsprojek van die 2020-vertaling in Afrikaans, asook as vertaalkonsultant vir die Dinka Cam Bybel (Suid-Soedan, 2024).
Jacobus A Naudé is a senior professor in the Department of Hebrew at the University of the Free State, Bloemfontein, South Africa, where he teaches Biblical Hebrew linguistics and Bible translation (ancient and modern translations). His research focuses on pre-modern Hebrew linguistics, especially from a generative perspective, as well as on religious and Bible translation from a complexity theoretical viewpoint. He has published on themes such as the semiotics of alterity, censorship, orality, the role of paratexts/ metatexts and the description of the emergence of Afrikaans and English Bible translations in 70 chapters in books and 208 articles in academic journals. He edited four volumes on the interaction of translation studies and religious translation and co-authored A Biblical Hebrew Reference Grammar (2 edition, Bloomsbury, 2017). He co-edits the series Linguistic Studies in Ancient West Semitic (PSU Press) and serves on the advisory boards of The Bible Translator, Handbook of Translation Studies, Handbook of Terminology, Journal ofNorthwest Semitic Languages and the National Association of Professors of Hebrew. He served on the steering committee and the three editorial committees of the 2020 Afrikaans Bible translation project for the Bible Society of South Africa and as translation consultant for the Dinka Cam Bible (South Sudan, 2024).