SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue1Duwweltjies en verantwoordelikheid author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Journal

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Tydskrif vir Geesteswetenskappe

    On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751

    Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025

    https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a20 

    TOELATINGSARTIKELS

     

    Honderd jaar van Afrikaans as amptelike taal

     

    A hundred years of Afrikaans as an official language

     

     

    JD McLachlanI; EF KotzéII

    IVryskuttaalpraktisyn, Onrusrivier, Suid-Afrika. E-pos: tommcl@whalemail.co.za
    IIAfrikaanse Taalkunde en Toegepaste Taalstudies. Nelson Mandela Universiteit, Gqeberha, Suid-Afrika. E-pos: ernst.somerstrand@gmail.com

     

     


    OPSOMMING

    Op 27 Mei 2025 word die verklaring van Afrikaans tot 'n amptelike taal van Suid-Afrika 'n eeu vantevore gedenk. Die oogmerk van hierdie bydrae is om lig te werp op die begrip "amptelike taal" in die algemeen, om iets van die historiese agtergrond te skets en om Afrikaans as 'n amptelike taal in die konteks van die variëteite van Afrikaans te plaas. Ná die afloop van die Anglo-Boereoorlog is 'n Nasionale Konvensie van die twee verslane Boererepublieke en die bestaande twee Britse kolonies byeengeroep om 'n grondwet te beding vir die te stigte nuwe staatkundige entiteit, die Unie van Suid-Afrika. In dié grondwet is sowel Engels as "Hollands" as die amptelike tale van die Unie vasgelê, maar later is Afrikaans by wet by "Hollands" ingesluit.
    Hierdie wysiging het op 27 Mei 1925 in werking getree, wat meegebring het dat alle skriftelike handelinge deur die staat wat die burgery geraak het, in albei tale moes geskied. 'n Noodwendige gevolg van dié bepaling was dat Afrikaans as amptelike taal met rasse skrede moes ontwikkel op die vlak van die ortografíe, terminologie en grammatikale konsekwentheid. Latere Grondwette (dié van 1961 en 1983) het die gebruik van die twee amptelike tale ook na die provinsiale vlak uitgebrei. Omdat Afrikaans toe in alle regeringsfere op gelyke grondslag saam met die wêreldtaal Engels moes funksioneer, moes daar 'n standaardvariëteit wees wat die staat in staat gestel het om aan al die grondwetlike vereistes te voldoen en doeltreffend met 'n groot deel van die bevolking te kommunikeer.
    Tans het Suid-Afrika twaalf amptelike tale (nadat Suid-Afrika Gebaretaal onlangs bygevoeg is). Vorige Grondwette het uitdruklik bepaal waarvoor die destydse amptelike tale gebruik moes word, maar die Grondwet van 1996 swyg daaroor. Hy bepaal wel dat die staat praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die status van die tale te verhoog en hul gebruik te bevorder, en dat alle amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word, maar dit is vaag, en by gebrek aan vaste voorskrifte of enige aansporings vir gebruik, soos vantevore die geval was, ten einde uitvoering te gee aan die hoë ideale van gelykheid en billikheid, is Suid-Afrika van staatsweë de facto eentalig Engels.

    Trefwoorde: amptelike taal, formele taal, erkenning, standaardisering, Hollands vs Afrikaans, Engels


    ABSTRACT

    The date 27May 2025 marks the first centenary of Afrikaans as an official language of South Africa. The aim of this contribution is to clarify the concept of "official language" in general, to give some historical background and to place Afrikaans as an official language in the context of the varieties of Afrikaans. In the aftermath of the war between the British colonial power and the (defeated) Boer republics, a National Convention was convened, during which a Constitution for a new political entity, the Union of South Africa, was agreed upon. This included the recognition of both English and Dutch as official languages, the latter of which was subsequently defined by law to include Afrikaans. The introduction ofthat constitutional provision on 27 May 1925 meant that all written activities performed by the State that affected citizens had to be recorded in both languages. An inevitable corollary of this provision was that Afrikaans as an official language developed with rapid strides at the levels of orthography, terminology and grammatical consistency. Subsequent Constitutions (those of 1961 and 1983) extended the application to include the provincial level of government. Because Afrikaans had to function on an equal footing with the world language English in all spheres of government, it had to have a standardised variety to enable government to meet all the constitutional requirements and communicate effectively with a large portion of the population. At present, South Africa has twelve official languages (South African Sign Language having recently been added). While the previous Constitutions explicitly provided for the fields of application of the then official languages, the 1996 Constitution is silent on this count, and provides only that all official languages should enjoy parity of esteem and must be dealt with equitably. However, although there is a provision that "the state must take practical and positive measures to elevate the status and advance" the use of official languages other than Afrikaans and English, it is vague and without any provision to require, or provide any incentive to give effect to the lofty ideals of parity and equity of all official languages. At the level of government, South Africa has become de facto monolingually English.

    Keywords: official language, formal language, recognition, standardisation, Dutch vs Afrikaans, English


     

     

    Op 27 Mei 1925 het Afrikaans formeel 'n amptelike taal van Suid-Afrika geword. Dit het by wet van die Parlement geskied: die Wet op de Officiële Talen van de Unie, 1925 (Wet No. 8 van 1925).

    Daardie gebeurtenis word vanjaar, 2025, herdenk, en in die afgelope paar maande is Afrikaanssprekendes reeds uit verskeie oorde van die komende herdenking bewus gemaak. Uit dié bewusmakingsveldtog het dit egter ook geblyk dat daar soms misverstand oor die term amptelike taal is.

    Hierdie kort meningstuk wil slegs iets oor die aanloop tot die verklaring tot amptelike taal sê en 'n bietjie lig werp op die term amptelike taal, wat kortliks omskryf kan word as die (of 'n) taal waarin 'n staat, regering of owerheid sy regeerwerk doen, die staatshuishouding bestuur en met sy landsburgers kommunikeer.

    Die bewusmakingsveldtog het soms aan die lig gebring dat party mense "amptelike taal" gelyk wil stel met "formele taal". Die twee is egter nie sinonieme nie, al word 'n amptelike taal dikwels, selfs meestal, in sy formele register gebruik. Hierdie beskouing dat amptelike taal dieselfde as formele taal is - in die geval van Afrikaans dus (formele) Standaardafrikaans - kon tot die persepsie gelei het dat ander variëteite as die standaardvariëteit deur die benaming "amptelike taal" en deur die herdenking van Afrikaans se verkryging van ampteliketaalstatus uitgesluit word, of dat dit weer net 'n eksklusiewe "witmenstaal-ding" soos in die vorige bestel sou wees.

    Dit is egter nodig om met genoeg realisme na die geskiedenis van hierdie gebeurtenis te kyk. Eerstens moet 'n mens onthou dat die Suid-Afrika - en trouens die wêreld - van 'n eeu of anderhalf eeu gelede grootliks verskil het van dié van vandag. Die inhoud en toepassing van 'n begrip soos "menseregte", byvoorbeeld, soos dit tans verstaan word, het wêreldwyd kwalik bestaan, en die verskillende koloniale moondhede het hulle maar min gesteur aan die behoeftes, en nog minder die regte, van die inheemse mense van hulle kolonies. Dit is ongelukkige historiese feite waaraan vandag helaas niks gedoen kan word nie. As 'n mens egter buite rekening laat dat geheel ander lewens- en wêreldbeskouings destyds gegeld het, en dan die sosiopolitieke omstandighede en gebeure van 'n eeu en meer gelede meet teen die standaarde, beskouinge en oortuigings van vandag, kan die ontwikkelingsgang van Afrikaans geskiedkundig skeefgetrek word. 'n Historíese perspektief is belangrik.

    In die Anglo-Boereoorlog is die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrijstaat, deur die koloniale moondheid Groot-Brittanje militêr verslaan, en kort daarna is daar toe begin om die bestaande twee Britse kolonies, die Kaapkolonie en Natal, en die twee verslane Boererepublieke tot 'n enkele staatkundige entiteit te verenig. Die Nasionale Konvensie het gevolg, waartydens op 'n grondwet vir die beoogde Unie van Suid-Afrika ooreengekom is. Met inagneming van die Britse oorheersing en die standpunte van party van die Britse leiersfigure hier te lande, asook die wesenlik Engelse owerhede in die Kaapkolonie en Natal, sou 'n mens kon verwag dat die te stigte Unie vir staatsdoeleindes eentalig Engels sou wees. Danksy die oortuigingswerk van oudpres. MT Steyn en genl. JBM Hertzog het die Unie se Grondwet, die Zuid-Afrika Wet, 1909 (wat deur die Britse Parlement aangeneem is!), egter in artikel 137 onder meer bepaal:

    De engelse alsmede de hollandse talen zijn officiële talen van de Unie. Zij [die twee tale] worden op een voet van gelijkheid behandeld en bezitten en genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten.

    In artikel 137 volg daar dan egter nog 'n bepaling wat uiters belangrik is, nie net omdat dit 'n idee gee van wat 'n amptelike taal is of behoort te wees nie, maar ook omdat dit die verdere ontwikkeling van Afrikaans wesenlik beïnvloed het. Dié bepaling het gelui:

    Alle akten, verslagen en verrichtingen van 't Parlement worden in beide talen gehouden, en wetsontwerpen, wetten en kennisgevingen van algemeen publiek gewicht of belang door de Regering van de Unie uitgegeven, zijn en geschieden in beide talen.

    Dié bepaling het dit duidelik gemaak dat feitlik alles wat die staat skriftelik gedoen het wat die landsburgers geraak het, in albei tale moes geskied.

    Die "Hollands" wat hier in Suid-Afrika deur veral gewone mense gebesig is, was egter glad nie homogeen nie en ver verwyderd van die Standaardnederlands van die tyd, en slegs enkeles in Suid-Afrika kon dit min of meer na behore skryf. Terselfdertyd was Afrikaans pas ná Uniewording nog kwalik gestandaardiseer en dikwels, veral in skriftelike taal, was dit maar 'n mengsel van gesproke Afrikaans en verleerde Nederlands, ofte wel "Hollands".

    Mense soos CJ Langenhoven het hulle beywer vir die erkenning van Afrikaans as 'n volwaardige taal, veral nadat daar begin is om die ortografíe van Afrikaans te standaardiseer, en daar was moontlik ook twyfel of die Afrikaans-Hollands wat noodwendig gebruik is, regtens aan artikel 137 van die Zuid-Afrika Wet voldoen het. Waarskynlik het Langenhoven-hulle ook besef dat Standaardnederlands in Suid-Afrika 'n verlore saak was. Danksy die ywer van Langenhoven en sy geesgenote is daar op 8 Mei 1925 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat gehou waarop 'n wet - Wet No. 8 van 1925 - aangeneem is om dit duidelik te maak dat "Hollands" in Suid-Afrika ook Afrikaans ingesluit het. Dié Wet het soos volg bepaal:

    Nademaal er twijfel ontstaan is aangaande de betekenis van het woord 'hollandse' in de Zuid-Afrika Wet, 1909; en

    nademaal het dienstig is die twijfel weg te nemen;

    Zu het bepaald door Zijn Majesteit de Koning, de Senaat en de Volksraad van de Unie van Zuid Afrika als volgt:

    1. Het woord "hollandse"' in artikel honderd zeven en dertig van de Zuid-Afrika Wet, 1909, en elders in de Wet waar dat woord voorkomt, word hierbij verklaard het Afrikaans in te sluiten.

    2. Deze Wet kan voor alle doeleinden worden aangehaald als de Wet op de Officiële Talen van de Unie, 1925, en word geacht van kracht geweest te zijn vanaf de een en dertigste dag van Mei 1910.

    Hierdie Wet is op 27 Mei 1925 in Buitengewone Staatskoerant No. 1477 van 1925 afgekondig en het op daardie selfde dag in werking getree. Dit is ook interessant dat artikel 2 die Wet terugwerkend van krag gemaak het tot 31 Mei 1910, die datum waarop die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het. Afrikaans was dus feitelik sedert Uniewording 'n amptelike taal van Suid-Afrika.

    Nou moes die Afrikaans van die tyd op owerheidsvlak alles doen wat Engels kon doen, en dit het ongetwyfeld daartoe gelei dat Afrikaans ortografíes, grammatikaal en terminologies met rasse skrede ontwikkel is en ontwikkel het. Die entoesiastiese deelname van baie Afrikaanssprekendes het wesenlik tot die ontwikkeling bygedra.

    Bepalings soortgelyk aan dié van Wet No. 8 van 1925 is ook in die daaropvolgende grondwette (1961 [artt. 108-110] en 1983 [artt. 89-91]) vervat; trouens, die 1983-Grondwet het die bepalings uitgebrei deur uitdruklik te bepaal dat die vereiste van hierdie tweetaligheid ook provinsies geld, en selfs dat wanneer "enigiets van Staatsweë of deur of in opdrag van 'n instelling of liggaam beoog in artikel 84(1)(f) van die vorige Grondwet in 'n nuusblad gepubliseer word, die publikasie gelyktydig in albei die amptelike tale (moet) plaasvind". (Interessantheidshalwe kan genoem word dat die 1983-wet in art. 89(3) voorsiening maak vir die erkenning en gebruik in "selfregerende Swart gebiede" van "een of meer Swart tale" vir dieselfde doeleindes as wat vir Afrikaans en Engels voorgeskryf is.)

    Hier bo is gesê dat 'n amptelike taal 'n taal is waarin 'n staat, regering of owerheid sy regeerwerk doen, die staatshuishouding bestuur en met sy landsburgers kommunikeer. Die staat "kommunikeer" op 'n menigte terreine met sy burgers; dit is nie net byvoorbeeld die president wat die nasie op TV toespreek of iets dergeliks nie. Een vorm van sodanige kommunikasie is dat landsburgers - en trouens alle inwoners - aan derduisende wette en voorskrifte en bepalings moet voldoen, al kry nie almal met al sulke wetgewing te doen nie. Dit is immers 'n algemeen aanvaarde beginsel van 'n demokrasie dat burgers nie aan wette onderwerp mag word of daarkragtens vervolg mag word as die wetgewing nie vrylik vir hulle toeganklik is nie.

    'n Amptelike taal moet dus sulke kommunikasie moontlik maak. Dink maar aan plaaslike owerhede se bouregulasies, of spoedbeperkings in dorpsgebiede, of die vestiging van nywer-heidsgebiede, of vullisverwydering. Provinsiale owerhede kan aan plaaslike owerhede binne hulle provinsie weer die raamwerk voorskryf waarbinne die plaaslike owerhede moet funk-sioneer. En dan kom daar nog sake by soos provinsiale paaie, gesondheidsorg, watervoorsiening, en so meer.

    Op nasionale vlak is daar kwalik 'n terrein van die lewe waarop die staat nie pligte en verantwoordelikhede het en wetgewing van allerlei aard uitvaardig nie. Dit kan beroeps-gesondheid en -veiligheid behels, of spoorweë en hawens, of grensbeheer, dieregesondheid en veesiektes, belastings, buitelandse betrekkinge, minerale en energie, nasionale paaie, die registrasie van geboortes en sterfgevalle, identiteitsdokumente, paspoorte, bestuurslisensies, wapenbeheer, intellektuele goedere, mynbou, strafproses, erfreg, gevangenisse, werkloos-heidsversekering, mariene hulpbronne - werklik omtrent enigiets wat landsburgers raak.

    Afrikaans moes dus op al sulke terreine op gelyke voet met die gevestigde wêreldtaal Engels funksioneer. Dit is vanselfsprekend dat die variëteit van 'n amptelike taal wat op dié terreine en nog vele ander doeltreffend moet funksioneer, die formele variëteit sal wees. Tog is 'n taal nie amptelik omdat hy formeel is en 'n ontwikkelde skryfstelsel het nie. 'n Amptelike taal moet wel formeel kan wees en 'n behoorlike skrifstelsel hê, maar hy is amptelik omdat die betrokke staat hom wetlik of andersins aangewys het as die taal waarin daardie staat sy werksaamhede verrig. In Brittanje is Engels seker nie wetlik as die amptelike taal aangewys nie, want daar is kwalik 'n ander taal wat ter sprake is, en in enige ander "eentalige" land sal die betrokke landstaal seker by verstek die amptelike taal word; in byvoorbeeld die vroeë bestaan van die VSA is daar by referendum besluit dat Engels die amptelike taal sal wees en nie Nederlands nie.

    'n Amptelike taal is dus die taal (of die variëteit van daardie taal) waarmee die staat met die grootste moot van sy bevolking tegelykertyd kan kommunikeer. Daar is 'n menigte sake waaroor die staat met sy burgers kommunikeer, ongeag of almal die inhoud van die kommunikasie verstaan (iemand sal byvoorbeeld nie al die besonderhede van voorskrifte oor dieresiekte of bouregulasies so goed verstaan as 'n veearts of bou-ingenieur nie). Die Britse regering sal dus nie Keltiese tale soos Wallies, Iers of Skotse Gaelies, of geografies bepaalde (informele) variëteite van Engels, soos Skotse of Cockneyengels gebruik nie, want dit sal groot dele van die bevolking uitsluit.

    Om wette, regulasies, reëls, voorskrifte, hofuitsprake en so meer te kan skryf, moet die taal, of die tersaaklike variëteit van die taal, sekere eienskappe hê, soos die nodige konse-kwentheid van grammatika - sinsbou, spelling ens. - semantiek en woordeskat (by name terminologie). As die taal wat die staat vir sy werksaamhede gebruik, nie oor sulke eienskappe beskik nie, deug hy nie. In 'n demokratiese bestel moet 'n regering ook verslag doen van sy werksaamhede en hoe hy belastingbetalers se geld bestee. As die betrokke taal hom nie in staat stel om dit te doen nie, is daar probleme.

    Wanneer mense dus kla omdat Standaardafrikaans die ampteliketaalvariëteit van Afrikaans is, moet 'n mens vra of ander variëteite oor die vermoë beskik om as amptelike taal te funksioneer - byvoorbeeld die terminologie, stabiliteit en konsekwentheid het om daardie rol te vervul.

    En dit geld allermins net Afrikaans.

    Omdat 'n staat se amptelike taal op sulke terreine moet kan funksioneer, dra dit natuurlik by tot die voortgesette ontwikkeling en voortgesette standaardisering van die taal, maar die taal se amptelike status het niks te doen met sy letterkunde of sy gebruik as onderwystaal en dergelike nie. Daar is natuurlik oorvleueling en wedersydse beïnvloeding, maar "amptelike taal" is nie gelyk te stel aan "standaardtaal" of "standaardvariëteit" nie.

    Samevattend dus: 'n Amptelike taal is die taal wat 'n owerheid, soos die staat, vir die doel van sy werksaamhede en kommunikasie met sy burgers gebruik. Omdat dit in die geval van 'n staat elke denkbare terrein van die staatshuishouding raak, moet die amptelike taal gestandaardiseer wees. Sedert Uniewording in 1910 tot en met die politieke oorgang van 1994 was Afrikaans en Engels ons land se amptelike tale, en die verheffing (in 1925, terugwerkend tot 1910) van Afrikaans tot amptelike taal het vereistes aan hom gestel wat noodwendig bygedra het tot sy ontwikkeling en standaardisering, maar daardie ontwikkeling en standaardisering is grotendeels aangedryf deur die sprekers van die taal.

    Tans (2025) het Suid-Afrika deur die byvoeging van SA Gebaretaal twaalf amptelike tale. In teenstelling met ons vorige grondwette, wat redelik uitdruklik bepaal het waarvoor en hoe die amptelike tale gebruik moet word, swyg die 1996-Grondwet daaroor. Artikel 6(2) bepaal wel dat "die staat praktiese en daadwerklike maatreëls (moet) tref om die status van die tale te verhoog en hul gebruik te bevorder" en artikel 6(4) dat "alle amptelike tale gelykheid van aansien (moet) geniet en billik behandel (moet) word". In watter mate dit tans in Suid-Afrika verwesenlik word, is 'n ope vraag. Dit is seker begryplik dat die taalbeplanners en onderhandelaars in die aanloop tot die aanvaarding van die 1993-Grondwet welwillendheid teenoor almal en alle taalgroepe in die land wou toon. Die taalbeplanners het egter nagelaat om 'n billike en werkbare stelsel vir die gebruik van die aanvanklike elf tale te ontwikkel, en die onderhandelaars het eweneens nagelaat om so 'n stelsel in die Grondwet in te skryf.

    Dit het daartoe gelei dat Suid-Afrika tans van staatsweë defacto eentalig Engels is. Die ontwikkeling en uitbouing van die nege skriftelike tale (buiten Engels en Afrikaans) is dus wesenlik in die hande van die sprekers van daardie tale, maar 'n mens kan met reg vra hoekom hulle die moeite sou doen as die staat in al drie regeringsfere onverskillig en afsydig daarteenoor staan.

     

     

    Ontvang: 2024-10-06
    Goedgekeur: 2024-11-16
    Gepubliseer: Maart 2025

     

     

     

    Tom McLachlan is 'n beroepstaalpraktisyn wat die grootste deel van sy loopbaan in die Staatstaaldiens, vir die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie en in die Direktoraat Taaldiens van Unisa gewerk het. In die vroeë tagtigerjare was hy ook die hooftaalredakteur van die ensi-klopediereeks Wêreldspektrum. Van 1995 tot 2013 was hy lid, ondervoorsitter en voorsitter van die Taalkommissie van die SA Akademie, en was as sodanig ten nouste betrokke by die negende en die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Hy was medeskrywer vanX-Kit Afrikaans for English speakers, wat met 'n ATKV-Veertjie bekroon is, die skrywer van die taalgedeelte van die HAT Taal- en Feitegids en 'n medewerker aan verskeie woordeboeke. In 2015 ken die Akademie die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap aan hom toe vir sy bydrae tot die Afrikaanse taalpraktyk en as lid van die Taalkommissie van die Akademie. Sedert sy aftrede is hy 'n aktiewe vryskuttaalpraktisyn.
    Tom McLachlan is a professional language practitioner, who for a large part of his career worked as a language practitioner at the State Language Service, the South African Nuclear Energy Corporation and the Unisa Language Services Directorate. In the early 1980s he was the chief language editor of the Afrikaans encyclopaedia Wêreldspektrum. He served as member, deputy chairman and chairman of the Taalkommissie (language commission) of the SA Akademie from 1995 to 2013 and, as such, was closely involved in the ninth and tenth editions of the authoritative Afrikaanse woordelys en spelreëls (Afrikaans word list and spelling rules). He co-authored the X-Kit Afrikaans for English speakers, which was awarded an ATKV-Veertjie, was the author of the language section of the HAT Taal- en Feitegids and has contributed to several dictionaries. In 2015, he was awarded the CJ Langenhoven Prize for Linguistics by the SA Akademie for his contribution to Afrikaans language practice and the Taalkommissie. Since his retirement he has become an active freelance language practitioner.

     

     

    Ernst Kotzé is emeritus professor in Afrikaanse taalkunde en toegepaste taalstudies aan die Nelson Mandela-universiteit in Gqeberha (Port Elizabeth), voorheen ook navorsingsven-noot en dosent in forensiese linguistiek aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Hy het gestudeer aan die Universiteit van Kaapstad (BA en BA (Hons)) en die Universiteit van die Wit-watersrand (MA en PhD). Navorsingsgebiede sluit in linguistiek en Afrikaanse taalkunde, sosiolinguistiek, leksikografie, taalbeplanning en -beleid, historiese taalkunde, vertaalkunde en forensiese linguistiek. As ontvanger van die Alexander von Humboldt-stipendium het hy postdoktorale navorsing gedoen in Duitsland, akademiese poste beklee by verskeie universiteite in Suid-Afrika, en as besoekende professor onderrig gegee in België en Japan. Kotzé is 'n NNS-geëvalueerde navorser, en het verskeie beurse en toekennings ontvang, onder andere die SA Akademie se CJ Langenhoven-toekenning vir Taalwetenskap in 2003 (Leksikografie), en die CL Engelbrechtprestasieprys (Taalkundige Navorsing), die Marnixring Internationale Toekenning (Belgies) vir die internasionale bydrae tot die ontwikkeling van Nederlands (en Afrikaans), en 'n besondere erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir diens aan Afrikaans as wetenskaps- en standaardtaal. Hy het in totaal 44 boeke, 56 vaktydskrifartikels en 41 bydraes in kongresverhandelinge oor sy navorsgebiede in Afrikaans, Engels, Duits, Frans en Japannees gepubliseer.
    Ernst Kotzé is emeritus professor in Afrikaans Linguistics and Applied Language Studies at Nelson Mandela University in Gqeberha (Port Elizabeth), formerly a research partner and lecturer in forensic linguistics at the North-West University in Potchefstroom. He studied at the University of Cape Town (BA and BA (Hons)) and the University of the Witwatersrand (MA and PhD). Research areas include linguistics and Afrikaans linguistics, sociolinguistics, lexicography, language planning and policy, historical linguistics, translation and forensic linguistics. As recipient of the Alexander von Humboldt Scholarship, he did postdoctoral research in Germany, held academic positions at various universities in South Africa, and taught at various universities in Belgium and Japan as a visiting professor. Kotzé is an NRF-rated researcher, and has received several scholarships and awards, including the SA Academy's CJ Langenhoven Award for Linguistics in 2003 (Lexicography), and the CL Engelbrecht Achievement Award (Linguistic Research), the Marnixring International Award (Belgian) for the international contribution to the development of Dutch (and Afrikaans), and a special honorary award from the SA Academy of Science and Arts for service to Afrikaans as a scholarly and standard language. He has published a total of 44 books, 56 journal articles and 41 contributions in congress papers on his research areas in Afrikaans, English, German, French and Japanese.