Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a23
TOELATINGSARTIKELS
Orania se jaarlikse openbare vakansiedag en fees ter viering van Afrikaans1
Orania's annual public holiday and festival celebrating the Afrikaans language
Jannie Rossouw
Ereprofessor: Wits Besigheidskool, Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg, Suid-Afrika. E-pos: jannie.rossouw@wits.ac.za
OPSOMMING
Orania is geleë in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika, sowat 160 kilometer suid van Kimberley, op die suidelike oewer van die Oranjerivier. 'n Uitsonderlike kenmerk van Orania is die feit dat al die inwoners Afrikaanssprekend is. Om hierdie rede word Orania as 'n kultuurgemeenskap van Afrikaners beskou.
Navorsing is in die verlede oor verskeie aspekte van Orania onderneem en gepubliseer. Een aspek wat egter nie in die literatuur gedek word nie, is Orania se eie struktuur van openbare vakansiedae, en veral die viering van Taaldag op 14 Augustus as 'n openbare vakansiedag. Hierdie leemte in bestaande literatuur word met hierdie artikel aangevul deur te fokus op Orania se eie vakansiedae en sy jaarlikse viering van Taaldag, en wel teen die agtergrond van die deurlopende eeufeesvieringe in die res van Suid-Afrika in 2025 van die verklaring van Afrikaans tot amptelike taal. Taaldagvieringe in Orania duur elke jaar 'n hele week en verskeie byeenkomste, gesellighede en konserte word onder meer aangebied.
Orania se keuse van 14 Augustus as Taaldag ter viering van Afrikaans is ietwat ongewoon, aangesien die datum 14 Augustus 1875 betrekking het op die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl. Dit is voor die hand liggend dat 27 Mei as Taaldag in Orania herdenk behoort te word, want dit is immers die dag waarop Afrikaans se status as amptelike taal van Suid-Afrika, naas Engels en Nederlands, in 1925 erken is. In hul keuse van 14 Augustus vereenselwig Oraniërs hulle doelbewus met die pioniersgees van die stigterslede van die GRA.
Hierdie bydrae dien as basis vir verdere navorsing oor Orania se unieke openbare vakansiedae en die kulturele waarde daarvan in vergelyking met kulturele aktiwiteite in Suid-Afrika in die algemeen. Voorts vorm dit ook 'n basis vir verdere vergelykende studies oor Afrikaanse feeste, byvoorbeeld die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn, die Toyota US-Woordfees op Stellenbosch of Aardklop op Potchefstroom.
Trefwoorde: Afrikaans; Afrikaner-kultuurgemeenskap; status as amptelike taal; eeufeesviering; Genootskap van Regte Afrikaners; jaarlikse Taaldag-vieringe; plaaslike openbare vakansiedae; Orania; Orania Kunsteraad (OkeR); Taaldag; 14 Augustus
ABSTRACT
Orania is situated in the Northern Cape province of South Africa, some 160 kilometres south of Kimberley, on the southern bank of the Orange River. A particular characteristic of Orania is the fact that all inhabitants are Afrikaans-speaking. For this reason, Orania can be described as an Afrikaner cultural community. In 2021, Orania had 2 733 inhabitants in 649 households. The average annual population growth rate for the period 2014 to 2021 was 9,9%. By the end of December 2023, Orania had 2 875 inhabitants. This implies that the population growth rate is sustained by people from outside the town who settle there.
Various aspects of Orania have already been researched, for instance a review of the development of the town since its establishment by the Department of Water Affairs (currently Department of Water Affairs and Sanitation) in the 1960s and its (re)establishment as an Afrikaner cultural community in 1991. However, one aspect not covered in the literature is Orania's own structure of public holidays, and, in particular, its commemoration of Language Day (Taaldag annually on 14 August. This article addresses that lacuna in extant literature and focuses on Orania's public holidays and on the celebration of Language Day against the background of the centenary celebrations in 2025 of Afrikaans gaining official language status.
The following South African public holidays are not observed in Orania: Human Rights Day (March 21), Freedom Day (27 April), Workers' Day (1 May), Youth Day (16 June), National Women's Day (9 August), and Heritage Day (24 September). Instead, Orania commemorates Christian holidays, such as Christmas and Good Friday, as well as its own holidays, namely Majuba (Freedom) Day (27 February), Founders' Day (6 April), Diehard Day (Bittereinderdag, 31 May), Language Day (14 August), Heroes' Day (10 October) and Ascension Day (the date varying according to the date of the Easter weekend in any particular year).
For the purposes of this article Language Day, scheduled around 14 August each year, is of particular interest. Festivities normally continue for an entire week and are not limited to 14 August. Appropriately, these festivities are referred to as Language Week (Taalweek in Afrikaans) and may include activities ranging from concerts and singing to exhibitions. The organisers make a special effort to ensure the affordability of the event, for example by allowing free entry to activities for children under the age of 16. A further aim is to make festivities as inclusive as possible, for instance by hosting them in various suburbs of Orania. However, the observance of Language Day as a public holiday as well as associated Afrikaans language festivals in Orania are relatively unknown outside the community and these particular activities and customs celebrating Afrikaans receive scant, if any, coverage in South African media.
The choice of celebrating 14 August as Afrikaans Language Day in Orania was inspired by the establishment of the Society of True Afrikaners (Genootskap van Regte Afrikaners) in Paarl on 14 August 1875. Orania associates with the Society'spioneering spirit in the interest of the development of Afrikaans.
It would perhaps be more appropriate for Orania to commemorate 27 May as Language Day, since that was the date on which Afrikaans was formally recognised as one of South Africa's official languages: When the Union of South Africa came into being in 1910, English and Dutch were the official languages of the Union, but in 1925 the Official Languages of the Union Act, No. 8 of 1925, declared that the word "Dutch" included Afrikaans. In addition, the provision was deemed to have been in operation from 31 May 1910. Even so, by selecting 14 August as Language Day, Orania deliberately commemorates the pioneering spirit of the founders of the GRA.
This contribution serves as a basis for further research into Orania's unique selection of public holidays, as well as the cultural value of such festivities in the context of the prevalent cultural activities in South Africa in general. Furthermore, Orania's unique celebratory days can be compared to other Afrikaans festivals, such as the Little Karoo National Arts Festival (Klein-Karoo Nasionale Kunstefees) in Oudtshoorn, the Toyota US-Woordfees in Stellenbosch or Aardklop in Potchefstroom.
Keywords: Afrikaans; Afrikaner cultural community; annual Language Day celebrations; centenary celebrations; local public holidays; Language Day; official language status; Orania; Orania Arts Council (OKeR); Society of True Afrikaners; 14 August
1. Inleiding
Orania is geleë in die Noord-Kaapprovinsie van Suid-Afrika, sowat 160 kilometer suid van Kimberley, op die suidelike oewer van die Oranjerivier. 'n Uitsonderlike kenmerk van Orania is die feit dat al die inwoners Afrikaanssprekend is. Om hierdie rede word Orania as 'n kultuurgemeenskap van Afrikaners beskou. Wirz (2008:i) beskryf die dorp as 'n "(s)elfstandige Afrikaner Gemeenskap in die Noord Kaap" (sic).
Volgens Boshoff (2020:103-104) het die Afrikaner-Volkswag ten tyde van sy stigting in 1984 dit reeds onder meer ten doel gehad om 'n streek in Suid-Afrika te vestig waarin Afrikaners hulself kan regeer. Volgens Boshoff was dit die eerste tree in die rigting van die ontwikkeling van Orania in sy huidige formaat (2020:103-104).
Volgens Senekal (2021:529) is Orania aanvanklik in die 1960's opgerig om werknemers van die destydse Departement van Waterwese en hul gesinne te huisves. Hierdie mense was verantwoordelik vir die konstruksie van die kanaalskema vir besproeiing uit die Vanderkloofdam (destyds die PK le Roux-dam). Die dorp Vanderkloof by die Vanderkloofdam is opgerig vir behuising vir die personeel wat aan die dam se konstruksie gewerk het (Wirz, 2008:1).
Nadat die waterkanaalskema voltooi is, het Orania ontvolk. Gevolglik is die dorp deur die Departement te koop aangebied. Prof. Carel Boshoff het die leiding geneem met die aankoop van die dorp, met die gedagte dat 'n volkstaat vir Afrikaners daar gevestig sou word (Boshoff, 2012). Hervestiging in die "nuwe" Orania het in Februarie 1991 begin (Senekal, 2021:533) en huise is vanaf 13 April 1991 verkoop aan Afrikaners wat die ideale van 'n volkstaat onderskryf (Wirz, 2008:1). Volgens Wirz (2008:3) is Orania nie 'n plek waar apartheid beoefen word nie, maar waar Afrikaners kragtens die beginsel van selfwerksaamheid hul eie werk verrig.
Orania volg nie Suid-Afrika se kalender van amptelike vakansiedae nie (Boshoff, 2020:192-201). Die dorp het sy eie kalender vir openbare vakansiedae, hoewel godsdienstige vakansiedae met dié van die res van Suid-Afrika ooreenstem. Teen die agtergrond van die vieringe in 2025 om Afrikaans se verkryging van die status van amptelike taal 'n eeu gelede te gedenk, word gefokus op Orania se unieke openbare vakansiedae, die jaarlikse viering van Taaldag op 14 Augustus en die gepaardgaande jaarlikse Taalfees. Voordat Orania se jaarlike Taalfees in meer besonderhede bespreek word, word vervolgens inleidende inligting oor Orania, die stigting daarvan en die gemeenskap verskaf.
2. Beskrywing van Orania
Orania is by die aankoop daarvan in 1991 aanvanklik geregistreer as 'n bate van Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk (VAB). Die naam van die VAB is ondertussen verander na Orania Aan-deleblok (Edms.) Bpk. (OAB), wat handel dryf onder die naam "Orania Dorpsraad". Eiendomsbesit in Orania neem die vorm aan van 'n belang in 'n aandeelblokskema binne die OAB (voorheen die VAB), eerder as deur middel van 'n titelakte, soos in die meeste dele van die res van Suid-Afrika geld.
Orania word as een dorp beskryf, maar bestaan uit verskillende woonbuurte en sluit ook omliggende landbougrond in. Figuur 1 toon 'n skets van Orania, waarop straatname en die ligging van skole, kerke, besienswaardighede, sakegeboue en so meer aangedui is.
Deur middel van periodieke sosioëkonomiese en sakeopnames word betroubare data oor die inwoners van en sakeondernemings in Orania verkry. Teen die einde van 2021 is 'n sosioëkonomiese opname voltooi (Orania Sosio-Ekonomiese Opname, 2022), wat toon dat Orania 2 733 inwoners teen die einde van 2021 gehad het, terwyl daar 649 huishoudings op die dorp was. Volgens die Orania Sosio-Ekonomiese Opname (2022) was daar 'n " ... gemiddelde jaarlikse huishoudelike groeikoers van 9,9% vir die tydperk tussen 2014 en 2021".
Teen die einde van Desember 2023 het Orania 2 875 inwoners gehad, wat impliseer dat die bevolkingsgroeikoers volgehou word deur mense van buite die dorp wat hulle daar vestig.
Volgens De Klerk (2014) is dit die visie om Orania tot 10 000 inwoners of meer uit te bou. Teen 'n bevolkingsgroei sedert 1991 van sowat 10% per jaar, is die oogmerk van 10 000 inwoners realisties, maar dit sal waarskynlik eers oor 'n dekade of twee bereik word. Om vir die beplande groei in die inwonertal voorsiening te maak, is ekonomiese ontwikkelingsplanne vir Orania saamgestel en gepubliseer (Ontwikkelingspyplynprojekte, s.j.; OraniaEkonomiese Ontwikkelingsplan 2015). Hierdie ontwikkelingsplanne maak vir onder meer die ontwikkeling van bykomende woon- en sake-erwe voorsiening.
Wirz (2008:5) verduidelik dat ontwikkelingsbesluite in Orania volgens twee maatstawwe beoordeel word:
(i) Dit moet ekologiese volhoubaarheid bevorder.
(ii) Dit moet die gemeenskap se strewe na ekonomiese selfstandigheid ondersteun.
Orania is die enigste plek in Suid-Afrika wat 'n eie "geldeenheid" het (Rossouw, 2024:224-225), die ora (Φ). Weens wetlike beperkings staan die ora as 'n koepon bekend, nie as 'n geldeenheid nie (Rossouw, 2024:222). Bedrae, pryse en so meer in Orania word in ora uitgedruk. Die gebruik van die ora dra tot die gevoel van samehorigheid onder die inwoners van Orania by. Omdat die Suid-Afrikaanse rand in Orania sirkuleer, kan die dorp sonder die ora bestaan, terwyl die ora nie sonder Orania kan bestaan nie.
3. Orania se vakansiedagkalender
Orania het sy eie kalender vir openbare vakansiedae, hoewel godsdienstige en sommige ander vakansiedae met die res van Suid-Afrika se vakansiedagkalender ooreenstem (Boshoff, 2020:192-201). Boshoff (2020:191) verduidelik dat Orania " ... van die begin af gekies het om ons Afrikaner-identiteit uit te leef deur openbare vakansiedae wat vir die Afrikanervolk belangrik is, te onderhou".
Volkseie openbare vakansiedae vir Orania is vir die eerste keer te berde gebring op 'n VAB-direksievergadering wat op 20 September 1994 gehou is (VAB-direksievergadering 20 September 1994). Op daardie vergadering is besluit "(d)at 9 April 1995 'n openbare vakansiedag vir die dorp sal wees en die inwoners sal aangemoedig word om ook die dag so te vier", ter herdenking van Stigtingsdag op 6 April 1995. Daardie jaar was 9 April die naaste Sondag aan 6 April.
Op 'n VAB-direksievergadering wat op 4 Mei 1995 gehou is (VAB-direksievergadering 4 Mei 1995), is 'n beginselbesluit geneem "(d)at die gemeenskap van Orania aangemoedig word om die tradisionele vakansiedae soos van toepassing vir die Afrikaner, te vier en dat die implimentering (sic) daarvan by die volgende Dorpsraadvergadering oorweeg word."
Op 'n VAB-direksievergadering wat op 25 Januarie 1999 gehou is (VAB-direksievergadering 25 Januarie 1999), is die vakansiedae wat tans in Orania geld, vir 1999 goedgekeur. Voorts het die direksie besluit (VAB-direksievergadering 25 Januarie 1999) dat -
• werkgewers versoek word om sover moontlik tradisionele volkseie feesdae te hand-haaf en personeel die geleentheid te bied om die dae te benut en die verrigtinge by te woon;
• die dorpskantoor op die volkseie vakansiedae wat op weeksdae val, gesluit sal wees;
• betrokke instansies vooraf reëlings moet tref met besoekers en aflewerings op "Orania"-vakansiedae; en
• kerke en skole versoek word om aan Hervormingsdag, wat op 'n Sondag gevier word, meer prominensie te verleen.
Die direksie van die VAB het by meerdere geleenthede kennis geneem van probleme wat veroorsaak word deur die toepassing van volkseie vakansiedae in Orania, onder meer ten opsigte van aflewerings van buite Orania (VAB-direksievergadering 25 April 2002; VAB-direksievergadering 21 Mei 2002).
Op die direksievergadering van 24 Oktober 2002 (VAB-direksievergadering 24 Oktober 2002) is volkseie vakansiedae en die praktiese implikasies ten opsigte van afleweringsdienste op Orania weer onder die loep geneem. By daardie geleentheid het die direksie van die praktiese probleme kennis geneem, maar was nietemin " ... ten gunste daarvan dat Orania se eie vakansiedae deur al die inwoners van Orania na buite bekend gestel moet word" (VAB-direksievergadering 24 Oktober 2002). Voorts het die direksie besluit "(d)at Orania Sakekamer versoek word om Orania se eie vakansiedae na buite bekend te stel en sodoende die volkstaat te bevorder" (VAB-direksievergadering 24 Oktober 2002).
Op die direksievergadering van 24 Februarie 2005 (VAB-direksievergadering 24 Februarie 2005) is kennis geneem van 'n beroep deur prof. Boshoff dat Orania se eie vakansiedae eerbiedig moet word en 'n versoek dat die sakeondernemings op Orania op daardie dae gesluit moet wees. Op die direksievergadering van 8 Oktober 2007 (VAB-direksievergadering 8 Oktober 2007) is as beleid aanvaar dat " ... daar sover as moontlik saamgewerk word om Orania-vakansiedae te handhaaf, maar dat daar begrip is vir die besighede wat gebind is aan aflewerings en ook verplig is om dienste en goedere ... [te] ... verskaf op Orania-vakansiedae" (VAB-direksievergadering 8 Oktober 2007).
Op Orania word Menseregtedag (21 Maart), Vryheidsdag (27 April), Werkersdag (1 Mei), Jeugdag (16 Junie), Nasionale Vrouedag (9 Augustus) en Erfenisdag (24 September) nie gevier nie. Dit is gevolglik normale werks- en skooldae.
Orania se unieke vakansiedae is Majubadag (27 Februarie), Stigtingsdag (6 April), Bittereinderdag (31 Mei), Taaldag (14 Augustus),2 Heldedag (10 Oktober), en Hemelvaartdag, waarvan die datum wissel na gelang van die datum van die Paasnaweek (Boshoff, 2020:191-201). Voorts is die naam van die vakansiedag op 16 Desember in Orania Geloftedag en nie Versoeningsdag soos dit in die res van Suid-Afrika bekend staan nie (Boshoff, 2020:201).
Orania se volledige lys van openbare vakansiedae is dus soos volg:
Nuwejaarsdag, 1 Januarie
Majubadag (Vryheidsdag), 27 Februarie
Stigtingsdag, 6 April
Paasnaweek, na gelang van die stand van die maan
Hemelvaartsdag, na gelang van die datum van Paasnaweek
Bittereinderdag, 31 Mei
Taaldag, 14 Augustus
Heldedag, 10 Oktober
Geloftedag, 16 Desember
Kersdag, 25 Desember
Gesinsdag, 26 Desember
Orania het gevolglik ook twaalf openbare vakansiedae, soos die res van Suid-Afrika. Die praktyk in Orania verskil egter van die res van Suid-Afrika ten opsigte van die Maandag wat volg op 'n openbare vakansiedag wat op 'n Sondag val. In die res van Suid-Afrika is so 'n Maandag 'n openbare vakansiedag, terwyl dit nie in Orania die geval is nie.
Voor Suid-Afrika se volledig demokratiese verkiesing van 1994 was 6 April (as Stigtingsdag), 31 Mei (aanvanklik as Uniedag en sedert 1961 as Republiekdag), 10 Oktober (aanvanklik as Krugerdag en daarna as Heldedag) en Hemelvaartsdag vakansiedae in Suid-Afrika, benewens ander vakansiedae soos Kersfees, Paasfees en Nuwejaarsdag. Suid-Afrika se openbare vakansiedae het sedert 1995 verander, met die afkondiging van die Wet op Openbare Vakansiedae, Wet No 36 van 1994, wat op 1 Januarie 1995 in werking getree het (Republiek van Suid-Afrika, 1994).3
Die inisiatief van Orania om sy eie vakansiedae in te stel, eerder as om Suid-Afrika se amptelike nasionale vakansiedae te volg, kan dus teruggevoer word na die besluit van die VAB-direksievergadering op 20 September 1994 (VAB-direksievergadering 20 September 1994). Die simboliek van die unieke vakansiedae is soos volg:
3.1 Majubadag (Vryheidsdag), 27 Februarie
Op 27 Februarie vier Oraniërs die Slag van Amajuba. Dit gedenk die oorwinning tydens die Eerste Vryheidsoorlog van die magte van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) oor die Britse leër op 27 Februarie 1881 op die Amajubakoppie naby Volksrust. Hierdie veldslag was 'n nederlaag vir Brittanje en het tot die einde van die Eerste Vryheidsoorlog tussen die ZAR en Brittanje gelei. Hierdie dag word deur Oraniërs binne Orania en by die Amajubakoppie herdenk. Die dag staan as Majubadag en as Vryheidsdag bekend.
3.2 Stigtingsdag, 6 April
Op 6 April 1652 het Jan van Riebeeck, die leier van 'n groep Nederlanders in opdrag van die VOC, in die Kaap aan wal gestap met die oog op die stigting van 'n verversingspos vir skepe op die seereis tussen Europa en die Ooste; Van Riebeeck was die eerste kommandeur van dié nedersetting. Uit die vestiging van die verversingspos het 'n gemeenskap ontwikkel waarin die oorsprong van die Afrikaners van vandag geleë is. Saam met Stigtingsdag herdenk Oraniërs ook jaarliks die hervestiging van die dorp, alhoewel die amptelike heropening van Orania in sy huidige vorm op 13 April 1991 was.
3.3 Hemelvaart
Die datum van die herdenking en viering van Hemelvaart word deur die datum van Paasnaweek bepaal. Hemelvaart word in Orania 40 dae ná Paasnaweek herdenk en gevier as 'n godsdienstige vakansiedag. Dit val jaarliks op 'n Donderdag en word deur die meeste gemeentes in die dorp met 'n erediens en in sommige gevalle met nagmaal gevier.
3.4 Bittereinderdag, 31 Mei
Die Vrede van Vereeniging is op 31 Mei 1902 onderteken, wat die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die [Tweede] Anglo-Boereoorlog) tussen die ZAR en die Oranje-Vrystaat, aan die een kant, en Brittanje, aan die ander kant, beëindig het. Orania herdenk hierdie dag met verwysing na en ter herinnering aan die dapper Afrikanermanne en -vroue wat in die oorlog tot die allerlaaste, die bitter einde, weerstand teen die Britte gebied het. Op hierdie dag vind daar ook 'n georganiseerde besoek plaas aan die terrein van die Doornbult-konsentrasiekamp (ook bekend as die Oranjerivier-konsentrasiekamp), sowat 30 kilometer van Orania af (rigting Hopetown).
3.5 Taaldag, 14 Augustus
Die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA)4 op 14 Augustus 1875 in die Paarl word in Orania beskou as die eerste tree na die formalisering en ontwikkeling van Afrikaans tot 'n algemene gestandaardiseerde skryf- en wetenskapstaal. Die pioniersgees van die lede van die GRA en die eerste georganiseerde poging van die GRA om Afrikaans verder te ontwikkel, is die beweegrede vir Oraniërs om 14 Augustus as vakansiedag te gedenk. Ten tyde van die identifikasie van Orania se openbare vakansiedae het die dorpsbestuur en inwoners aanklank by 14 Augustus as datum gevind. Gevolglik is geen ander datum as 14 Augustus vir die viering van Taaldag oorweeg nie.
3.6 Heidedag, 10 Oktober
Orania herdenk 10 Oktober as Heldedag, nadat dit vroeër as Krugerdag herdenk is. Dit word gevier op die geboortedag van pres. Paul Kruger, die laaste president van die ZAR. Oraniërs het besluit om die dag se herdenking uit te brei om alle volkshelde, waarvan daar vele was, te gedenk.
3.7 Geloftedag, 16 Desember
Die Slag van Bloedrivier en die gelofte word op Geloftedag herdenk. Die dag het 'n godsdienstige karakter, op grond van die gelofte wat Sarel Cilliers, 'n lekeprediker van die Voortrekkers, afgelê het. Orania herdenk en vier dit as 'n aanbiddingsdag, met 'n erediens en 'n feesrede by Oewerpark. Op hierdie dag trek sommige Oraniërs tradisionele Voortrekkerdrag aan.
4. Taalfeeste in Orania
In die konteks van hierdie navorsing is Taaldag, wat jaarliks op 14 Augustus gevier word, van belang. Wanneer enige bedrywighede, byvoorbeeld die herdenking van Taaldag of ander taalfeeste in Orania, bespreek word, is dit van belang om te onthou dat die inwoners, ten spyte van hul taalooreenkoms, nie noodwendig eensgesind is nie. Senekal (2021) verwys na onder meer spanning wat van tyd tot tyd tussen die dorp se leiers voorgekom het.
Ten spyte van onderlinge verskille slaag die inwoners van Orania deur middel van die Orania Kunsteraad (OKeR)5 nietemin daarin om jaarliks 'n Afrikaanse Taalfees met die oog op Taaldag van stapel te stuur. OKeR is in 1996 gestig met die oogmerk om die kunste in Orania te bevorder. Dit is 'n maatskappy sonder winsoogmerk, en persone uit die publiek wat OKeR se oogmerke steun, kan om lidmaatskap aansoek doen. Die lede verkies sewe direkteure, wat toesig hou oor die finansiële sake, beleidvorming en ander wetlike vereistes rakende OKeR. Enige lid van OKeR kan egter by die werksaamhede daarvan betrokke raak en hulp verleen. OKeR bestaan uit "gildes" wat vir verskillende kunsvorms verantwoordelik is. Tans word die Beeldende Kunste-gilde, die Musiekgilde, die Skrywersgilde en die Toneelgilde binne OKeR gehuisves.
OKeR se uitvoerende liggaam staan as die bestuur bekend. Die bestuur is die kern van OKeR en bestaan uit lede wat vrywillig deelneem aan die beplanning en uitvoering van die organisasie se aktiwiteite. Die bestuur hanteer onder andere die beplanning en uitvoering van die jaarlikse Taalfees.
Volgens Boshoffhet Taaldag " ... deur die jare ontwikkel tot nie net een dag ... [van viering] ... nie, maar 'n hele Taalweek ... ". Sy voeg by: "(t)oneelstukke, skool-optredes en sang-en-musiekaande met baie plaaslike talent maak dit 'n hoogtepunt op Orania se kultuurkalender" (Boshoff, 2020:199).
OKeR se heel eerste Taalfees, met die tema "Afrikaans 90-Taalfees", is van 8 tot 15 Augustus 2015 aangebied en is gekenmerk deur musiekuitvoerings, die vertoning van Afrikaanse rolprente, radio-onderhoude6 en kunsuitstallings. Dit het sedertdien die toon vir Taalfeeste aangegee.
In 2022 is van 8 tot 14 Augustus tydens Taalweek 14 byeenkomste aangebied. Die tema van Taalweek was Tongtippie Taalweek. Daar was onder meer middaguurkonserte, twee boekbekendstellings, drie musiekkonserte, 'n piekniek, 'n poppekasaanbieding, 'n gemeen-skapskonsert en kunstenaarsgesprekke. Daar was ook 'n aanlyn kunsveiling om aan Orania se beeldende kunstenaars wyer blootstelling te bied. Die byeenkomste is deur ongeveer 800 mense bygewoon, maar daar is nie rekords beskikbaar wat toon hoeveel van hierdie mense van buite Orania gekom het om geleenthede by te woon nie. Voorts het sommige inwoners van Orania ook meer as een geleentheid bygewoon, wat beteken dat 'n deelnamekoers van inwoners nie bereken kan word nie.
Taalweek in 2023, met die tema "Sonde met die bure - Tong in die kies!", is van 14 tot 20 Augustus gehou en het gefokus op onder meer (i) die geboorte van die Afrikaanse skrywer CJ Langenhoven 150 jaar tevore op 13 Augustus 1873; (ii) 'n volksliedkompetisie; en (iii) 'n wyer verspreiding van feeste deur die dorp om toeganklikheid vir die inwoners te verbeter.
Die fokus op die geboorte van Langenhoven 150 jaar tevore herinner aan die landwye Langenhovenfeeste wat vir die honderdjaarherdenking van Langenhoven se geboorte in 1973 georganiseer is (Kannemeyer, 1995:47). Vergeleke met hierdie omvattende fokus op Langenhoven sowat 50 jaar gelede, trek hy tans betreklik min aandag as Afrikaanse skrywer. Kannemeyer (1995:21-47) bespreek die rol van me. Sarah Goldblatt, die administrateur van Langenhoven se letterkundige nalatenskap, met betrekking tot die uitbouing van Langenhoven se nalatenskap nogal afwysend ("Sarah Goldblatt en die Langenhoven-industrie"). Goldblatt het egter uitnemend daarin geslaag om Langenhoven se nalatenskap lewend te hou, onder meer geoordeel aan die feit dat sy daarin kon slaag om 1973 tot Langenhoven-feesjaar verklaar te kry. In hierdie konteks verklaar Malherbe (2021) dat Goldblatt die nalatenskap en werk van Langenhoven lewend gehou het solank sy geleef het. Die vraag is dus of Langenhoven lank reeds vergete sou wees as Goldblatt nie haar lewe ná Langenhoven se dood in 1932 aan sy letterkundige nalatenskap en die "Langenhoven-industrie" gewy het nie.
Volgens inligting wat van OKeR verkry is, is feesgeleenthede sedert 2023 na Kleingeluk uitgebrei (aangedui as 'n uitbreiding van Orania in Figuur 1, waar die NG Kerk geleë is). Dit verseker dat feesgeleenthede oor 'n wyer geografiese gebied in Orania aangebied word. Voorheen was daar nie 'n geskikte lokaal of ruimte in Kleingeluk vir die aanbieding van taalfeesaktiwiteite nie. Die Afrikaanse Taalfees in Kleingeluk word in die vorm van straatkuns en straatmusiek aangebied, wat ook geleenthede vir samesang skep.
Bywoningsgetalle vir feesgeleenthede tydens Taalweek in 2023 was soos volg (e-pos van mev. Boshoff):
• Volksliedjieaand: 250
• Erflig boekbekendstelling: 40
• Skoppensboer-digbundel: 20
• Gemeenskapskonsert: 300
• Poppekas: 50
• Kortfilmfees: 200
Altesaam 860 mense het dus die feesgeleenthede tydens Taalweek in 2023 bygewoon.
In 2024 was die tema van die Taalfees TAALtoffie TAALweek. Bywoningsgetalle vir feesgeleenthede tydens 2024 se Taalweek was soos volg (E-pos van mev. Boshoff):
• OSK-Kunsuitstalling: 50
• FAK-Liedjiesaand: 150
• Boekvoorlesing: 30
• Middagetelesing: 40
• Gemeenskapskonsert: 300
• Poppekas: 50
• Die Waterwyser (blyspel): 280
• Kortfilmfees: 250
• Sangaand en kunsuitstalling: 30
Altesaam 1 180 mense het dus die feesgeleenthede tydens Taalweek bygewoon. 'n Vergelyking van bywoningsgetalle vir 2022, 2023 en 2024 toon 'n toename in die aantal persone wat bywoon, wat 'n groeiende belangstelling by die inwoners van Orania in die Taalfees bevestig, hoewel die feesgeleenthede ook deur mense van buite Orania bygewoon word.
OKeR se oogmerk is om die feesgeleenthede tydens Taalweek vir Oraniërs teen baie bekostigbare pryse aan te bied. 'n Algemene reeling van die bestuurskomitee is dat alle kinders jonger as sestien jaar byeenkomste gratis kan bywoon. Dit is deel van OKeR se bydrae om kunswaardering en -vaardighede onder jongmense te bevorder. OKeR is gevolglik afhanklik van borge om jaarliks die feesgeleenthede tydens Taalweek aan te bied. Taalweek in Orania herinner aan ander jaarlikse taalfeeste wat in Suid-Afrika aangebied word, byvoorbeeld die Toyota US-Woordfees in Stellenbosch, die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn en die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.
'n Landswye nasionale taalfees (wat Namibië insluit) word vir 2025 beplan, waarin die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) saam met die Afrikaanse Taalraad (ATR) die leiding neem (Eloff, 2023). Die veldtog vir hierdie landwye feesviering het op 8 Mei 2023 by wyse van 'n bekendstelling en 'n mediakonferensie 'n aanvang geneem. Die sekretariaat vir die landswye taalfees is by die ATR gesetel.
Die landswye taalfees neem die vorm aan van 'n feesveldtog, wat op 8 Mei 2025 'n hoogtepunt by die ATM in die Paarl sal bereik (Eloff, 2023).7 Dit herdenk in werklikheid die dag, naamlik 8 Mei, waarop die Suid-Afrikaanse Parlement die Wet op die Amptelike Tale van Suid-Afrika, Wet No 8 van 1925 (Unie van Suid-Afrika, 1925), aanvaar het, wat Afrikaans by "Hollands" ingesluit het en hom so, naas die Zuid-Afrika Wet, 1909, se Engels en Hollands as amptelike tale van die Unie, 'n amptelike taal van Suid-Afrika gemaak het.
Een oogmerk van die viering van die verklaring van Afrikaans tot 'n amptelike taal is om plaaslike organisasies en gemeenskappe aan te moedig om hierdie gebeurtenis feestelik te gedenk. 'n Tweede oogmerk is dat feesboodskappe uit alle uithoeke van Suid-Afrika en Namibië in die tydperk voor 8 Mei 2025 na die ATM in die Paarl gebring moet word (Eloff, 2023). Feesboodskappe wat na die ATM gestuur word, herinner aan die taalfakkelloop na die ATM in 1975 (Rossouw, 2023). Laastens word die hoogtepunt van die feesvieringe in Mei 2025 by die ATM in die Paarl beplan (Eloff, 2023).
OKeR se beplanning met die oog op die eeufeesviering van Afrikaans se verkryging van ampteliketaalstatus in 2025, was ten tyde van die voltooiing van hierdie manuskrip nog nie afgehandel nie. OKeR het wel reeds besluit om 'n Taalfees met die openbare vakansiedag van 14 Augustus te laat saamval, soos sedert 2015 die gebruik is, en ondanks die beplande landswye Afrikaanse taalfees nie die feesdatum te verskuif nie. OkeR het 'n baie beperkte menings-opname (vier respondente) oor Taalweek onder 'n klein steekproef van Orania se inwoners gedoen (e-pos van mev. Boshoff). Die volgende menings is gerapporteer:
• Eerste respondent:
Ek dink nie ons moet skuif nie. Waarom kan ons nie twee keer feesvier nie? Die 100 jaar fees kom en gaan. Ons fees is 'n konstante oor die afgelope 10 jaar. Ons kan gerus deelname betuig met die 8 Mei-fees en selfs iets beplan vir daardie tyd hier plaaslik, om die landswye inisiatief te ondersteun.
• Tweede respondent:
Myns insiens maak dit absoluut sin dat OKeR Taalweek vir 2025 sou laat saamval met Afrikaans 100. Ek weet nie of daar praktiese struikelblokke in die pad daarvan mag wees nie maar in beginsel is dit 'n logiese stap.
• Derde respondent:
Nee, Taalfees moet nie skuif nie, maar ons kan gerus iets doen 8 Mei ook.
• Vierde respondent:
Omdat OKeR sy Taalweek organiseer rondom die herdenking van die geboorte van die taal - 14 Augustus 1875 (GRA) - is daar 'n gevestigde tradisie en program. In Orania sluit ons onsself by 'n lang Afrikanertradisie aan wat oor staatbestelle strek. Dus is die taal se sogenaamde geboorte en dus sy 150ste bestaansjaar vir ons 'n natuurlike klem. Die 100 jarige herdenking van amptelike status verleen deur die Suid-Afrikaanse staat is weliswaar 'n uiters belangrike datum in die taal se bestaan. Met beperkte hulpbronne is OKeR se fokus gerig op die herdenking wat met die tradisionele 14 Augustus program saamval maar sal ook graag herkenning (sic) wil gee aan die 8 Mei datum en oorweeg wat 'n gepaste metode is. Die jaar 2025 is vir OKeR 'n belangrike jaar om aan taal aandag te gee en beplan ons nog aan verskeie aksies om dit te herdenk. In samewerking met Begrond wil ons graag ook saam die praktiese gebruik van Afrikaans in ons dorp aandag gee. Die gedagte is om 'n projek in die boubedryf in Orania te loods. 8 Mei kan moontlik daarin 'n rol speel as afskoppunt. Geen definitiewe datums is al in plek nie.
5. Die keuse van 14 Augustus as Taaldag
Die viering van Afrikaans in Orania dra by tot die handhawing van die Afrikaanse kultuur en taal. Die keuse van 14 Augustus as Taaldag ter viering van Afrikaans verg egter nadere toeligting. Dit is die dag in 1875 waarop die GRA in die Paarl gestig is, en op 14 Augustus 1975 is die Afrikaanse Taalmuseum in Huis Gideon Malherbe in Pastorielaan in die Paarl geopen (Van Zyl & Rossouw, 2016; Van Zyl, 2020). Dié datum, en selfs die Paarl, kan egter nie as die wortel(s) of oorsprong van Afrikaans beskou word nie. In hierdie opsig het die vierde respondent wat hier bo aangehaal word, nie gelyk met die siening dat 14 Augustus die herdenking van die geboorte van die Afrikaanse taal as gevolg van die stigting van die GRA is nie.
Toe die dorpsbestuur van Orania destyds op vakansiedae besluit het, was 14 Augustus die enigste datum wat ter sprake was. Geen ander datum was onder oorweging nie, onder meer omdat daar destyds in Orania nie werklik sprake van omstredenheid oor die keuse van 14 Augustus was nie (telefoongesprek met mnr. F de Klerk). In die keuse van 14 Augustus as jaarlikse Taaldag en openbare vakansiedag het Oraniërs aanklank gevind by die pioniersgees van die stigterslede van die GRA. Daar is ook aanklank gevind by die eerste georganiseerde poging van die GRA om Afrikaans verder tot skryf- en wetenskapstaal te ontwikkel, wat dus by die latere algemene standaardisering van Afrikaans aangesluit het.
Die enigste wyse om te oordeel hoeveel steun 14 Augustus as Taaldag en openbare vakansiedag tans in Orania geniet, is om dit teen die agtergrond van die dorp se verblyfregdokumente te oorweeg. Die Orania verblyfregbeleid: Weergawe 4 (huidige beleid) bepaal onder meer dat "Orania se strewe tot Afrikanerselfbeskikking bewerkstellig (word) en neerslag (vind) in eie arbeid, eie instellings en eie grond" (Orania Dorpsraad, 2022:2), waar "eie instellings" ook die stelsel van eie openbare vakansiedae behels. Voorts bepaal die Orania verblyfregbeleid: Weergawe 4 (Orania Dorpsraad, 2022:2) soos volg:
'n Voornemende inwoner en/of aandeelhouer en/of titelhouer se verbintenis tot Orania se aard, grondslag en strewe, wat verseker dat inwoners Orania se Christelike waardes en oortuigings deel, by ons kultuur en gebruike inskakel en 'n bydrae tot die behoud en opbou van ons gemeenskap lewer, is die toets vir volhoubare groei wat in diens van ons groter strewe staan.
Dieselfde dokument bepaal ook dat elke " ... aansoeker verder 'n akte van verbintenis tot Orania se aard, grondslag en strewe (onderteken) ..." (Orania Dorpsraad, 2022:5). Uit hierdie verbintenisse tot die aard, instellings, karaktereienskappe en strewes van Orania wat nuwe intrekkers deur die verblyfreg-aansoekproses aangaan, word afgelei dat alle inwoners Orania se stelsel van unieke openbare vakansiedae steun, op dieselfde wyse as die steun vir toenemende selfbeskikking waartoe inwoners en aansoekers om verblyfreg hulle verbind.
Oor die aard van Afrikaans binne die Afrikanerkultuur verklaar die samesteller van Jong Afrikaner: A Self Portrait) (Van Wyk, 2012) dat "Afrikaners are always challenged because of their language. They feel that they are being challenged because of things such as the changing of street names. Though I can see the value in these things, there is still that feeling. Still, it can be a good thing because the best art is often made when there is a feeling that something is under attack" (Collison, 2012:36).
Daar is in verskeie kringe kontroversie oor die keuse van 14 Augustus as datum vir enige herdenking van Afrikaans, ten spyte van die steun wat hierdie datum in Orania geniet. Die bestaan van Afrikaans as 'n taal lank voor 14 Augustus 1875 word deur die GRA se eie oogmerke bevestig, naamlik om (i) die Bybel in Afrikaans te vertaal; (ii) 'n maandblad (Di Patriot) te publiseer; en (iii) 'n Afrikaanse spraakkuns- en woordeboek te skep, terwyl 'n verdere oogmerk was om Afrikaans tot 'n skryftaal te ontwikkel (Kannemeyer, 1984). Dit bevestig dat die oorsprong van Afrikaans lank voor 14 Augustus 1875 te vinde is. Ten tyde van die stigting van die GRA in 1875 is afwysend na die stigterslede verwys as "skoolmeestertjies en Dalse wynboertjies"8 wat van 'n reeds bestaande taal 'n "beskaafde taal" wil maak (Von Wielligh, 1926:57-58). Daar is destyds in die algemene omgang neerhalend gepraat van "Africander Dutch" en "Boeren-Hollands" (FAK, s.j.)
Adv. WA de Klerk, 'n Afrikaanse skrywer, was van mening dat Afrikaans se wortels op Kleinbosch in Dal Josafat buite die Paarl te vinde is (De Klerk, 1974). De Klerk was van mening dat Kleinbosch die plek is waar " ... bykans elke faset van die Afrikaanse kultuur sy beslag gekry het" (Pakendorf, 1992). De Klerk fouteer egter met sy interpretasie van die geskiedenis van Afrikaans, want die wortels van die taal kan teruggespoor word tot 'n tydperk lank voor die vestiging van die voorsate van sommige GRA-lede in Dal Josafat, soos ander navorsers duidelik aandui.
Volgens Carstens en Raidt is "die ontwikkeling van Afrikaans ... die produk van (i) normale taalverandering, (ii) beïnvloeding van taalkontak en (iii) taalversteuring" (2017:485). Carstens en Raidt (2017) is dit met Van Zyl (2013) eens. Volgens Van Zyl (2013) ontwikkel nuwe tale in 'n mark- of arbeidsituasie wanneer verskillende partye mekaar se tale nie verstaan nie. Dit was die geval aan die Kaap, waar amptenare van die Vereenigde Nederlandsche Geoctroyeerde Oostindische Compagnie (afgekort en algemeen bekend as die VOC) met die Khoi handel gedryf het (marksituasie) en hulle as arbeiders gebruik het (arbeidsituasie) (Van Zyl, 2013).
Gevolglik sal dit minder omstrede wees om 27 Mei as Taaldag in Orania te herdenk. Die pioniersgees van die lede van die GRA is egter 'n bron van inspirasie vir die inwoners van Orania, wat hulle gevolglik met 14 Augustus vereenselwig.
6. Gevolgtrekkings
Die viering van Taaldag as 'n openbare vakansiedag en die gepaardgaande jaarlikse Afrikaanse Taalfees in Orania is betreklik onbekend buite die dorp. Hierdie gebruike en praktyke om Afrikaans te handhaaf en uit te bou, kry min blootstelling in die media in die res van Suid-Afrika. Saam met die ander unieke vakansiedae en die gebruik van 'n eie geldeenheid dra dit by tot 'n gevoel van samehorigheid in die dorp.
Die keuse van 14 Augustus as die dag om die jaarlikse Taalfees in Orania te anker, is ongewoon en dalk selfs omstrede. Dit sal minder omstrede wees om 27 Mei as Taaldag in Orania te herdenk. Dit is die dag waarop Afrikaans se status as die amptelike taal van Suid-Afrika, naas Engels, erken is. In die keuse van 14 Augustus as jaarlikse openbare vakansiedag ter herdenking van die Afrikaanse taal, het Oraniërs egter 'n aanknopingspunt gevind by die pioniersgees van die stigterslede van die GRA en by die eerste georganiseerde poging van die GRA om Afrikaans verder tot skryf- en wetenskapstaal te ontwikkel, wat weer by die latere algemene standaardisering van Afrikaans aansluit.
Hierdie toeligtingstuk dien as basis vir verdere navorsing oor Orania se unieke openbare vakansiedae, die kulturele waarde daarvan en vergelykings met die handhawing van kultuur in Suid-Afrika. Voorts dien dit ook as basis vir verdere vergelykende studies van Afrikaanse feeste, byvoorbeeld die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn, Toyota US-Woordfees in Stellenbosch of Aardklop in Potchefstroom.
BIBLIOGRAFIE
Sekondêre bronne:
Boshoff, A. 2020. Van ossewa tot in Orania: Een lewe - en meer. Orania: Die Vryheidstigting. [ Links ]
Boshoff, CWH. 2012. Dis nou ek: 'n Outobiografie. Pretoria: Lapa Uitgewers. [ Links ]
Brunn S & R Kehrein (eds). 2020. Handbook of the changing world language map. Cham, Switserland: Springer. [ Links ]
Carstens, WAM & EH Raidt. 2017. Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika. Deel 1. Pretoria: Protea Boekhuis. [ Links ]
Collison, C. 2012. Interview: Roelof Petrus van Wyk. SA Art Times. July. [ Links ]
De Klerk, F. 2014. Orania - Van dorp tot stad: 'n Nuwe strategie. Orania: Oraniabeweging. [ Links ]
De Klerk, WA. 1974. Klein reis deur Drakenstein. Johannesburg: Perskor. [ Links ]
Eloff, T. 2023. Pollie, ons gaan Paarl toe. Beeld. 9 Mei. https://epublikasies.netwerk24.com/html5/reader/production/default.aspx?pubname=&pubid=729a0459-c70b-4a46-8953-baa0d614e625 [9 Mei 2023]. [ Links ]
FAK. S.j. "Skoolmeestertjies en wynboertjies" begin 'n taalbeweging. https://www.afrikanergeskiedenis.co.za/skoolmeestertjies-en-wynboertjies-begin-n-taalbeweging/ [6 Mei 2023]. [ Links ]
Kannemeyer, JC. 1984. Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. https://www.dbnl.org/tekst/kann003gesk01_01/index.php [23 April 2023]. [ Links ]
Kannemeyer, JC. 1995. Langenhoven: 'n Lewe. Tafelberg: Kaapstad. [ Links ]
Malherbe, D. 2021. Searching for Sarah, the woman who loved Langenhoven. Tafelberg: Cape Town. [ Links ]
Ontwikkelingspyplynprojekte. S.j. Publikasie van Orania Bestuursdienste. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy. [ Links ]
Oraniabeweging. S.j. www.orania.co.za [verskeie datums]. [ Links ]
Orania Dorpsraad. 2022. Orania verblyfregbeleid: Weergawe 4. Junie. Dokument beskikbaar by Orania Dorpsraad. [ Links ]
Orania Ekonomiese Ontwikkelingsplan. 2015. 25 Mei. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy. [ Links ]
Orania Sosio-Ekonomiese Opname, 2022. Voorberei deur Urban-Econ Development Economists (Pty) Ltd. Beskikbaar by die Orania Dorpsraad en Orania Ontwikkelingsmaatskappy. [ Links ]
Pakendorf, G. 1992. W.A. de Klerk is in pylvak, maar sy vuur is nog nie geblus. Die Burger. http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1992/03/07/11/14.html [verskeie datums]. [ Links ]
Republic of South Africa. 1994. Public Holidays Act, No. 36 of 1994. https://www.ilo.org/dyn/travail/docs/2264/Public%20Holidays%20Act%201994.pdf [23 April 2023]. [ Links ]
Rossouw, J. 2023. Die laaste geografies omvattende kulturele viering van Afrikaans: Die fakkelloop tydens die Taaljaar 1975. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 63(2):307-326. [ Links ]
Rossouw, J. 2024. Die ora se eerste 20 jaar. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 64(2):219-239. [ Links ]
Senekal, B. 2021. Die eerste 40 jaar van Orania. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(2):526-551. [ Links ]
Unie van Zuid-Afrika. 1925. Wet op de Officiële Talen van de Unie, Wet No 8 van 1925. [ Links ]
Van Wyk, P. 2012. Jong Afrikaner: A Self Portrait. Fourthwall Books. Johannesburg. [ Links ]
Van Zyl, A. 2013. Die invloed van die slawe op die vorming van Afrikaans. Ongepubliseerde lesing gelewer by ATM-slawedagviering, Paarl, 5 Desember 2013. [ Links ]
Van Zyl, A. 2020. Afrikaans Language Monument: A contested monument for a contested language. In Brunn S & Kehrein (eds). 2020. [ Links ]
Van Zyl, A & J Rossouw. 2016. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl: 40 jaar later. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2-1):295-313. [ Links ]
Von Wielligh, GR. 1926. Persoonlike herinneringe van die Patriotmanne. In Gedenkboek ter eere van die Genootskap van Regte Afrikaners (1875-1925). Potchefstroom: Afrikaanse Studentebond, pp. 56-65. [ Links ]
Wirz, H. 2008. Dr Heinz Wirz met die Ora Geldstelsel van Orania. Privaat publikasie deur dr Heinz Wirz. Edenvale. [ Links ]
Persoonlike onderhoude, persoonlike dokumentasie en ander persoonlike bronne:
E-poskorrespondensie en persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. G Snyman, Dorpsbestuurder: Orania.
E-poskorrespondensie en telefoniese gesprekke met mev. Anesta Boshoff, Uitvoerende Beampte van die Orania Kunsteraad (OKeR).
E-poskorrespondensie en telefoniese gesprekke met mnr. F de Klerk, besturende direkteur van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.
E-poskorrespondensie en telefoniese gesprekke met mnr. T McLaclan, 'n taalpraktisyn.
E-poskorrespondensie met me. Yolandi Roets, vorige Uitvoerende Beampte van die Orania Kunsteraad (OKeR).
Persoonlike en telefoniese gesprekke met mnr. J Kemp, 'n joernalis van Pretoria FM wat in Orania woonagtig is.
Notules van Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk (VAB):
Die notules van direksievergaderings van die VAB, en opvolgend van die Orania Aandeleblok (Edms) Bpk (OAB), wat handel dryf onder die naam "Orania Dorpsraad", word bewaar in Orania se argief by die Orania Dorpsraad. Notules van die volgende vergaderings is in hierdie navorsing gebruik:
VAB-direksievergadering, 20 September 1994.
VAB-direksievergadering, 4 Mei 1995.
VAB-direksievergadering, 25 Januarie 1999.
VAB-direksievergadering, 25 April 2002.
VAB-direksievergadering, 21 Mei 2002.
VAB-direksievergadering, 24 Oktober 2002.
VAB-direksievergadering, 24 Februarie 2005.
VAB-direksievergadering, 8 Oktober 2007.
Internetbronne:
Ontvang: 2024-08-20
Goedgekeur: 2025-01-24
Gepubliseer: Maart 2025
Jannie Rossouw is 'n ereprofessor by die Wits Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand. Hy het aan die einde van 2020 uitgetree as tussentydse hoof van die Wits Besigheidskool en was voorheen by die SA Reserwebank en by Unisa werksaam. Hy is 'n onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Finbond Mutual Bank en dien as lid van twee direksiekomitees. Hy is ook lid van ander direksies en direksiekomitees.
Jannie Rossouw is an honorary professor at the Wits Business School of the University of the Witwatersrand. At the end of 2020 he stepped down as interim head of the Wits Business School. He was previously employed at the SA Reserve Bank and at Unisa. He is an independent non-executive director of Finbond Mutual Bank and serves as a member of two of its board committees. He is also a member of other boards and board committees.
1 Die outeur bedank mnre. Frans de Klerk, Gawie Snyman, James Kemp en Tom McLachlan, mevv. Anesta Boshoff en Yolandi Roets en anonieme keurders vir hul hulp. Enige foute of weglatings bly egter die outeur se verantwoordelijkheid. Hierdie artikel behels die persoonlike siening en mening van die outeur en moet nie aan die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Universiteit van die Witwatersrand of enige organisasies in Orania toegeskryf word nie.
2 In 1975 het die destydse Suid-Afrikaanse regering wel eenmalig 14 Augustus tot openbare vakansiedag verklaar, om saam te val met die Taaljaar-feesvierings van daardie jaar (Van Zyl & Rossouw, 2016).
3 Hierdie wet is wel in Afrikaans ook afgekondig.
4 Die outeur is 'n agterkleinseun van mnr. PJ Malherbe, een van die stigterslede van die GRA.
5 Inligting oor OKeR is verkry van mev. Yolandi Roets, die vorige Uitvoerende Beampte, en mev. Anesta Boshoff, die huidige Uitvoerende Beampte van OKeR.
6 Beskikbare rekords noem nie watter radiostasies onderhoude uitgesaai het nie. Daar kan egter aanvaar word dat daar onderhoude was op Radio Orania, 'n gemeenskapsradiostasie wat uitsaai op 95.5 FM.
7 27 Mei 1925 is die datum waarop die betrokke wet gepromulgeer is, met terugwerkende krag vanaf 31 Mei 1910.
8 "Dalse wynboertjies" is 'n verwysing na die feit dat 'n aantal van die stigterslede van die GRA in Dal Josafat buite die Paarl met wyndruiwe geboer het.