Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a24
TOELATINGSARTIKELS
Hoogtepunte van die SA Akademie gedurende die tydperk 2009-2025
Highlights of the SA Academy for the period 2009-2025
Linda Brink
Projekkoördineerder. SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: linda@akademie.co.za
OPSOMMING
In hierdie bydrae word gefokus op die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in die tydperk ná die Akademie se eeufees in 2009. Die geskiedenis wat 2009 voorafgegaan het, is in verskeie bronne gedokumenteer, soos in Hertzog en Nienaber (1950), Moll (1984) en Kapp (2009).2 In die genoemde tydperk, naamlik 2009 tot 2025, het die Akademie se werksaamhede redelik konstant gebly en was die Akademie steeds getrou aan sy doelstellings, naamlik die ontwikkeling en bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en die gehalte van Afrikaans. 'n Oorsig word gegee oor aktuele sake en projekte waarmee die Akademie die afgelope 16 jaar deurlopend besig was, wat wissel van erkenning vir uitnemendheid, ontwikkeling van woordeboeke, die uitgee van twee vaktydskrifte wat die mens- en natuur-wetenskappe onderskeidelik dek, sowel as ander publikasies, uitreiking na ander Akademies in die buiteland, die omarming van die digitale wêreld in al sy fasette, en vele meer.
Trefwoorde: Afrikaanse taal; Hertzogpryswenner-huldigingsreeks; kunsversameling; ooptoegangtydskrifte; taalkommissie; VivA
ABSTRACT
This contribution focuses on the history of the South African Academy for Science and the Arts (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) since its centenary in 2009. The period prior to 2009 has already been documented in various sources, such as Hertzog and Nienaber (1950), Moll (1984) and Kapp (2009).1 In the period under discussion, i.e. from 2009 to 2025, the Academy's activities have remained fairly constant, and the Academy has continued to be faithful to its objectives, namely the development and promotion of science, technology, literature in Afrikaans, and the arts, as well as the promotion of the use and quality of Afrikaans. An overview is provided of current affairs and projects with which the Academy has been continuously involved over the past 16years, ranging from recognition of excellence, development of dictionaries, publication of two journals focusing on the humanities and the natural sciences respectively, and other publications, outreach to other Academies abroad, embracing the digital world in all its aspects, and much more.
Keywords: Afrikaans language; art collection; Hertzog prize winner tribute series; language commission; open access journals; VivA
Inleiding
Met die stigting van 'n liggaam op 2 Julie 1909 deur 'n handjievol mense wat die Hollandse en Afrikaanse taal en kultuur in Suid-Afrika daadwerklik moes handhaaf en bevorder, het hulle nie toe al kon weet wat die toekoms vir die land en ook vir Nederlands en Afrikaans sou inhou nie. Hieruit het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, soos ons dit vandag ken, ontwikkel. In hierdie bydrae word 'n oorsig gegee van die tydperk 2009 tot 2025 en val die lig op die wyse waarop die Akademie sy doelstellings uitgeleef het. Die krag van die Akademie lê in die gesamentlike poging, voortspruitend uit die vrywillige bydraes van sy indiwiduele lede en die werkgemeenskappe. In sy handhawingsaksies het die Akademie vakwoordeboeke, handboeke en tydskrifte gepubliseer, en aanmoediging en erkenning verleen aan voortreflikheid deur die bekroning van hoogstaande bydraes op vele terreine. Op die voor-aand van die 100-jarige viering van Afrikaans wat in 1925 naas Hollands amptelike status verkry het, is dit gepas dat daar ook 'n oorsig gegee word oor die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die afgelope 16 jaar, ná die verskyning van prof. Pieter Kapp se boek, Draer van 'n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909-2009.
Oorsig oor 'n tydperk van 16 jaar
In 2009 het die Akademie sy jubeljaar (1909-2009) onder die voorsitterskap van dr. Van Zyl de Villiers gevier. Die eeufees het by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein plaasgevind, die plek waar die Akademie 100 jaar tevore gestig is. Gedurende hierdie ysige paar wintersdae het die Akademie nie net 'n simposium gehou en die gebruiklike Akademie-pryse toegeken nie, maar is 25 eeufeesmedaljes ook aan veteraandeelnemers aan die Afrikaanse kultuurlewe oorhandig,3 waaronder prof. Adam Small (skrywer), dr. Abraham H de Vries (skrywer), mev. Nettie Immelman (klavieropleiding oor dekades), Nel Erasmus (skilder), dr. Frederik Van Zyl Slabbert (politieke analis), mnr. Trevor A Manuel (ekonomie en finansies), prof. NJ Beukes (geologie) en prof. A Rooseboom (ingenieurswese).
Daar was ook meer rede om fees te vier, want die Tydskrifvir Geesteswetenskappe het in 2009 dubbele internasionale erkenning verkry met sy opname in die Social Sciences Citation Index van Tompson Reuters (VSA) en die Scopus-indeks van Elsevier (Nederland); 'n prestasie vir 'n Afrikaanse akademiese tydskrif.4 Die tiende uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) het verskyn wat vir 'n verdere hoogtepunt gesorg het en wat ook deel uitgemaak het van die Akademie se eeufeesvieringe. Hierdie tiende, verbeterde uitgawe het sowat sewe jaar ná die negende, volledig hersiene uitgawe van 2002 verskyn. In die relatief kort tydsverloop tussen die twee uitgawes is die verfyning van die spelreëls voortgesit, maar terwyl die negende uitgawe die spelreëls as uitgangspunt geneem het, het die bywerking van hierdie tiende uitgawe veral die woordelys as vertrekpunt geneem. Die resultaat was 'n baie hegter samehang tussen die spelreëls en die aangebode woorde in die lys.
Die redakteurs van die feesuitgawe was dr. Marietta Alberts, prof. Johan Anker, Madaleine du Plessis, prof. Ernst Kotzé (voorsitter), dr. Frikkie Lombard (sekretaris), mnr. Tom McLachlan (ondervoorsitter), prof. Annél Otto en prof. Gerhard van Huyssteen. Hierdie lede het almal tydens die feesvieringe in Bloemfontein die CL Engelbrechtprys vir Taalwetenskap van die Akademie ontvang. In die voorwoord van hierdie 2009-uitgawe word ook erkenning gegee aan proff. Wannie Carstens, Anna Coetzee, Elvis Saal en dr. Anton Prinsloo.5 Die Elsabé Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur in Afrikaans het die vorige jaar tot stand gekom en reeds met die eerste toekenningsgeleentheid in 2009 is 41 vertaalde werke vir die prys voorgelê en die gevolgtrekking waartoe die Raad gekom het, was dat die prys 'n belangrike gaping in die literatuurwêreld gevul het.6
'n Belangrike ontwikkeling wat ook in die Akademie se eeufeesjaar plaasgevind het, was 'n rondetafelgesprek op 19 Mei in Antwerpen, België. Dit was die eerste keer dat Vlaamse organisasies in hulle totale omvang om die tafel gaan sit het om gesprek te voer met lede van die Afrikaanse Taalraad7 (gestig 2008) en met die SA Akademie. Prof. Wannie Carstens het die Afrikaanse Taalraad daar verteenwoordig, maar het ook 'n voorlegging voorberei waarin hy die Akademie se rol beklemtoon het as 'n voorstander van die hoër funksies van Afrikaans.8Voortvloeiend hieruit was 'n Roots-simposium wat op 22 en 23 September 2009 in Kaapstad gehou is en waar prof. Carstens en prof. Jacques van der Elst ook referate gelewer het. Dit was 'n goeie geleentheid om netwerke uit te brei en skakeling te bewerkstellig. Verder was dit 'n belangrike verwikkeling dat die Nederlandse en die Belgiese regerings bereid was om fondse te verskaf om die simposium te hou. Dr. Leopold Scholtz het in België 'n reuserol gespeel om die Belgiese regering te oorreed om betrokke te raak. Hy het in die koerante geskryf, met mense en ministers gepraat en hulle het die potensiaal ingesien. Die atmosfeer en die klimaat teenoor Afrikaans het begin verander en die hele proses het die Akademie tot op die drumpel van direkte skakeling met die Lae Lande gebring.9
Die gedagte van 'n Vrye Afrikaanse Universiteit (VAU) het in 2010 in die geledere van die Akademie vlamgevat en na heelwat gesprekke en 'n besoek aan dr. Theuns Eloff, rektor van die NWU, is 'n sakeplan met die oog op die stigting van 'n maatskappy sonder winsoogmerk opgestel. 'n VAU het egter nie uit hierdie beweging voortgespruit nie. Die Solidariteit-beweging het naamlik met 'n inisiatief begin wat gelei het tot die stigting van Akademia (2011), 'n Afrikaanse universitêre instelling wat steeds van krag tot krag gaan. Die HUB van die Akademie, prof. Jacques van der Elst, is in 2010 as direksielid van Akademia benoem.10 Die eerste drie kursusse het reeds in Januarie 2012 begin.11
Prof. Wannie Carstens het dr. Van Zyl de Villiers in 2011 as voorsitter van die Akademie opgevolg en dr. Dionë Prinsloo het die leisels as HUB by prof. Van der Elst oorgeneem. Dit was ook die jaar van voorspoed, maar ook teëspoed vir die Akademie. Engelenburghuis het, ná dekades van betreklike veiligheid, die teiken van booswigte geword met vier inbrake of pogings tot inbrake. Veral onvervangbare, kosbare Japanse en Chinese porselein, wat die eertydse bewoner van die huis, dr. Frans Vredenrijk Engelenburg gedurende sy lewe bymekaar gemaak het, is uit die Engelenburghuis se versameling gesteel.12
'n Ligpunt was 'n erflating van nagenoeg R7 miljoen rand in kontant en aandele van mej. EC Steijn, oud-hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria wat vir 'n goeie inspuiting van die Akademie se finansies gesorg het. Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) kon ook in hierdie jaar sy 50-jarige bestaan vier13 en 'n herdenkingsuitgawe het hieruit voortgevloci.14 In hierdie selfde jaar het die TGW 'n ooptoegangtydskrif geword, deurdat dit opgeneem is in SciELO, ASSAf se voorkeurindeks, waar uitgawes van die tydskrif gratis afgelaai kon word.15
'n Belangrike verwikkeling wat reeds vyf jaar tevore begin het en ook tydens ronde-tafelgesprekke in Nederland en Vlaandere verder gevoer is, het vrugte afgewerp en op 17 tot 19 Junie 2011 is 'n Afrikaanse fees in Amsterdam, Nederland gehou wat baie positief ontvang is. Dit was die eerste Afrikaanse kunstefees wat in Europa gehou is. 'n Hoogtepunt was die bydrae van die digter Breyten Breytenbach, sowel as 'n lesing van dr. Michael le Cordeur wat ook goed ontvang is. Die doel van die fees was om die breë publiek in die Lae Lande meer bewus te maak van die bestaan en die posisie van Afrikaans.16 Verskeie feeste onder die titel Festival voor het Afrikaans het sedertdien plaasgevind: 2013, 2016, 2018, 2023.
Die Akademie het in 2011 ook 'n belangrike skenking van vaktaalwoordeboeke van Prolingua ontvang wat in die Akademie se boekery opgeneem is. Prolingua, 'n vakvereniging vir Engelse en Afrikaanse taalpraktisyns, is in 1950 gestig en het toe bekend gestaan as die Transvaalse Vereniging van Munisipale Vertalers. Die versameling wat die Akademie ontvang het, bestaan uit: Vakwoordeboeke: 261 titels; Algemene woordeboeke: 59 titels; Navorsings-materiaal: 175 titels. 'n Totaal van 495 titels is dus ontvang.17
'n Wiskunde-olimpiade vir laerskole, genoem Wiskunde-in-Aksie, het ook in 2011 afgeskop vir Afrikaanssprekende leerders in graad 6 en graad 7. Die doel was die ontginning en stimulering van wiskundige uitnemendheid onder die room van ons land se jong wiskundiges.18 Die olimpiade is moontlik gemaak deur 'n ruim skenking van prof. Oppel Greeff waarvan die opbrengs van die fonds vir die olimpiade gebruik kon word.19 Die Wiskunde-in-Aksie wat sedert 2011 by skole aangebied is, is op versoek van prof. Kobus van der Walt uitgebrei en vanaf 2017 is 'n Wetenskap-in-Aksie ook aangebied.20 Die Wiskunde-in-Aksie en die Wetenskap-in-Aksie is egter in 2022 gestaak omdat daar reeds ander organisasies is wat olimpiades op 'n baie groter skaal aanbied en die Akademie op ander gebiede 'n bydrae kan lewer.21
Erelidmaatskap van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) is in 2011 aan prof. Jacques van der Elst toegeken vir sy bydrae tot die bevordering van Neerlandistiek in Suid-Afrika. Hy was onder meer 'n stigterslid van die SAVN in 1991.22 Die SAVN ondersteun die beoefening, onderrig en bevordering van die Neerlandistiek (dit wil sê die Nederlandse taal, letterkunde en kultuur) in Suider-Afrika. Die Akademie het as deel van sy uitreiking na die Lae Lande van 23 September tot 4 Oktober 2011 ook gesprek gevoer met die Akademies in Nederland en Vlaandere. As HUB van die SA Akademie het prof. Van der Elst op Sondag 25 September in Brussel 'n gesprek gevoer met die voorsitter van die Koninklijke Vlaamse Academie voor Wetenschappen en Kunst (KVAB) en gesprek is ook gevoer met die Nederlandse Akademie (KNAW) op Woensdag 28 September in Amsterdam.23Die Voorsitter van die Akademie, prof. WAM (Wannie) Carstens, het in Januarie 2012 ook besoek gebring aan dr. Willy Vandeweghe van die Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal en Letterkunde (KANTL), Gent, België.24
In 2012 het die Akademieraad, onder die voorsitterskap van prof. Wannie Carstens, op aanbeveling van die Letterkundekommissie besluit om die Hertzogprys aan Adam Small vir sy drama-oeuvre toe te ken. Die toekenning het heelwat kritiek uitgelok, maar die besluit is verwelkom vanuit die geledere van die Afrikaanse skrywers en die breë publiek.25
'n Verdere hoogtepunt in 2012 was 'n belangrike projek van die Geskiedeniskommissie wat in 2012 uitgeloop het op 'n publikasie van 640 bladsye by Tafelberg Uitgewers met die titel: Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag onder die redakteurskap van prof. Fransjohan Pretorius. Dit was 'n projek van die Akademie se Geskiedeniskommissie waaraan 26 vooraanstaande historici meegewerk het. Die boek was gou die 33 ste beste verkoper op die plaaslike sowel as internasionale lys van die top 100 niefiksie boeke.26 Gratis eksemplare is na Afrikaanse hoërskole versprei. Die oorsprong van die boek was die 2006-beraad van die Kommissie, getiteld "Op die kantlyn? Die Afrikaner in die geskiedenis én Afrikanergeskied-skrywing", waartydens daar beswaar gemaak is teen die marginalisering en verdagmaking van die Afrikaner in die geskiedenis. Daar is daarop gewys dat, waar die skaal in die apartheidsjare te veel na 'n Afrikaner- of witsentriese benadering tot die verlede oorgeleun het, die pendulum nou weer te veel na die ander kant geswaai het met 'n groot fokus op die struggle-geskiedenis. Die besluit was gevolglik om 'n inklusiewe en gebalanseerde geskiedenis van Suid-Afrika te skryf wat sou probeer om die pendulum na die middel te stuur ter wille van versoening en wedersydse begrip onder die verskillende kulturele en politieke groepe.
Nadat die boek gepubliseer is, is besef dat die balans nog nie verkry is nie. Die Engelse weergawe, getiteld A history of South Africa: From the distant past to the present day, wat in 2014 deur Protea Boekhuis uitgegee is, is gevolglik aangepas om meer balans te kry. Gratis eksemplare is na Engelse hoërskole versprei.27 Die boek is in 2017 ook in Chinees vertaal, op koste van die Chinese regering.28
Prof. Jacques van der Elst het in 2012 as HUB van die Akademie uitgetree en dr. Dionë Prinsloo het by hom oorgeneem.29 Die Akademie het in die beginjare 'n enorme rol gespeel in die sukses van die Afrikaanse Taalraad (ATR).30 Tot die einde van September 2012 is die ATR se administrasie deeltyds deur die HUB van die Akademie by die Akademiekantoor in Pretoria gedoen,31 waarna hy met sy uittrede by die Akademie 'n virtuele kantoor bedryf het, as voorloper tot die totstandkoming van 'n fisiese permanente kantoor vir die ATR. Prof. Van der Elst was die eerste voltydse HUB van die ATR nadat hy as HUB by die Akademie uitgetree het.32 Die ATR het in 2016 'n nuwe tydperk betree met die aanstelling van dr. Conrad Steenkamp as die voltydse uitvoerende hoof met 'n permanente kantoor in die Kaap.33
'n Nuwe ontwikkeling het ook in 2012 plaasgevind met onderhandelinge deur prof. Gerhard van Huyssteen namens die Taalkommissie met die Akademieraad vir die totstandbring van 'n Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), iets soortgelyk aan bestaande institute in Nederland wat omsien na die Nederlandse taal. Die plan was dat dit 'n oop bron moes wees met verskillende dienste wat deur verskillende instansies gelewer sou word. Aanvanklik was die idee om 'n korpus van 50 miljard woorde daar te stel. Oorkoepelend was die plan om talle rolspelers te betrek om sekere dienste te lewer, byvoorbeeld om taalnavrae per telefoon te beantwoord, 'n sogenaamde dienslessenaar, iemand wat 'n "Facebook"-profiel beman om ook taalnavrae te hanteer, iemand wat die ortografíe van die AWS kon hanteer, ensovoorts. Al die komponente saam sou dus die virtuele instituut vorm.34 VivA het sedertdien behoorlik gevestig geraak en vervul vandag 'n groot rol in die beeld van Afrikaans as taal van die wetenskap.35
Na aanleiding van versoeke deur taal- en letterkundiges wat by die onderrig van Afrikaans in die buiteland betrokke is (proff. Jerzy Koch van Pole, Ena Jansen van Amsterdam, en Jacques du Plessis van die VSA) is in 2012 in oorleg met die Raad die voorbereiding gedoen tot die stig van 'n Internasionale Vereniging vir Afrikaans (IVA). Die doel sou wees om hiermee die geleenthede rakende Afrikaans in 'n internasionale konteks te ontgin. Prof. Wannie Carstens het heelwat tyd hieraan afgestaan en wye aanvaarbaarheid vir so 'n vereniging in Afrikaanse akademiese kringe, in die besonder in taalkunde- en letterkundekringe, gevind. Weens kapasiteitsprobleme kon die Akademie nie die Vereniging op die langer termyn ondersteun nie en in 2018 het die ATR op versoek van die SA Akademie die IVA oorgeneem. Die potensiaal van die IVA is egter tot op hede nog nie na behore benut nie, en dit ontneem Afrikaans van uitbreidingsgeleenthede in die buiteland.
Die Akademie het in 2013 sy vlerke internasionaal wyer gesprei en 'n ooreenkoms vir nouer skakeling tussen die Koninklijike Vlaamse Academie van België voor Wetenschappen en Kunsten (KVAB) in Brussel is formeel onderteken. 'n Samewerkingsooreenkoms met die Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal en Letteren (KANTL) in Gent is daarna ook onderteken. Weens 'n tekort aan personeel kon die Akademie ongelukkig nie die samewerkings-potensiaal wat hierdie ooreenkomste vir akademici (in besonder Afrikaanse taal- en letterkundiges) geskep het, na behore benut nie.
'n Ooreenkoms tussen die Meertens Taalinstituut (KNAW) en die SA Akademie ten behoewe van die Nederlandse projek Het Taalportaal en die SA Akademie se projek Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is op 31 Januarie 2014 onderteken. Daarvolgens het die Instituut die "dop" voorsien van dit wat hulle reeds ontwikkel het en wat die Akademie voortaan kon gebruik vir sy eie produk.36 Gesprekke is ook verder gevoer met die Koninklijke Nederlandse Academie van Wetenschappen (KNAW) in Amsterdam vir 'n toekomstige ooreenkoms.37 Die Afrikaans Festival wat in 2013 in Amsterdam en Den Haag in Nederland gehou is, was 'n groot sukses. Die fees het sedert die vorige een in 2011 so geweldig gegroei dat toneel en debatvoering op die program bygevoeg is.
2013 was die jaar wat die Akademie, ná die onvermoeide ywer en deursettingsvermoë van die voorsitter van die Oudit- en Risikobestuurkomitee, mnr. Rudolph Botha, Artikel 18A-status verkry het, wat beteken dat finansiële skenkings aan die Akademie belasting-aftrekbaar is.38
'n Verdere positiewe stap was om die kunsversameling van die Akademie, wat sedert 2003 by die Universiteit Stellenbosch gehuisves is, terug te bring na Pretoria. Die Universiteit van Pretoria was hiermee behulpsaam en het die versameling veilig vervoer en gestoor tot die beplande nuwe gebou van die Akademie in 2017 voltooi is en die kunsversameling sy permanente tuiste kon kry.39 Die drie Essias Bosch-keramiekpanele wat by die Pretoriase Kunsmuseum in bruikleen was, is ook in 2013 na die Universiteit van Pretoria oorgebring vir voorlopige bewaring.
Gesprekke tussen lede van die Raad met rektore van sommige Suid-Afrikaanse universiteite oor Afrikaans as onderrigtaal het weer in 2013 plaasgevind. Dit is 'n inisiatief wat reeds van 2005 af herhaaldelik met rektore gevoer is, byvoorbeeld met prof. Barney Pityana, rektor van Unisa, en later met sy opvolger, prof. Mandla Makhanya; proff. Cheryl de la Rey van UP; Brian O'Connell (UWK), Russel Botman (US), Jonathan Jansen (UV), Ihron Rensburg (UJ) en dr. Theuns Eloff (NWU). Die Akademie het ook sedert 2004 herhaaldelik gesprekke met die bestuur by die Universiteit van Pretoria (UP) gevoer vir die instel van 'n Leerstoel vir Terminologie. UP was eerder te vinde vir 'n sentrum vir terminologieontwikkeling en was bereid om so 'n sentrum van die grond te kry, mits die Akademie 'n borgskap sou bekom om die sentrum vir minstens vyf jaar te befonds, waarna die universiteit die sentrum sou oorneem. Die Noordwes-Universiteit het in 2004 die Sentrum vir Tekstegnologie (CtexT) gestig en was bereid om met UP saam te werk indien so 'n sentrum van die grond sou kom. In 2013 het UP wel besluit om 'n vakterminologiesentrum, wat deur die Akademie geïnisieer is, in te stel.40Teen 2014 het kommer steeds bestaan oor die verengelsing van die histories Afrikaanse universiteite. Gesprekke met rektore waarmee reeds 'n paar jaar tevore begin is, is derhalwe voortgesit.41
Verskeie gesprekke is ook vir 'n paar jaar gevoer met die bestuur van die Academy of Science of South Africa (ASSAf) in verband met nouer samewerking tussen die twee akademies. In 2013 het prof. Arnold Vlietinck van die Universiteit van Antwerpen 'n referaat gelewer by 'n byeenkoms wat gesamentlik deur ASSAf en die SA Akademie aangebied is.42
'n Positiewe ontwikkeling in 2013 was ook 'n borgskap van mev. Deleen Bekker, moeder van mnr. Koos Bekker, vir die instel van die Deleen Bekker-prys vir beste rolprent of TV-draaiboek in Afrikaans.43 Sanlam het 'njaar later besluit om die prysgeld vir die MT Steynprys vir Natuurwetenskap en Tegnologie te borg. Nog 'n nuwe prys wat in dié tyd ingestel is, is die Protea Boekhuisprys wat roteer tussen beste ongepubliseerde meestersgraadverhandeling, 'n ongepubliseerde doktorale proefskrif in geskiedenis of kultuurgeskiedenis, en 'n gepubliseerde geskiedeniswerk in Afrikaans.44
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) waarvan die aanvoorwerk reeds in 2012 begin het, het in 2014 tot stand gekom onder die entoesiastiese leiding van prof. Wannie Carstens in sy hoedanigheid as voorsitter van die Akademie en prof. Gerhard van Huyssteen, die voorsitter van die Taalkommissie, nadat indringende marknavorsing met behulp van UP se Departement Sakebestuur gedoen is.45
Die beplanning om 'n Akademiegebou by Engelenburghuis op te rig, het reeds in 2013 begin.46 Mej. EC Steijn se boedel is in 2015 afgehandel en haar ruim en gewaardeerde erflating en ook met bykomende hulp van ander borge het dit vir die Akademie moontlik gemaak om met die bouwerk aan die nuwe Akademiegebou te begin.47 Die Akademiekantoor moes met sy personeel na tydelike huisvesting in Riviera verskuif word. Die eerste sooi is op 11 Junie 2015 deur die Akademieraad gespit en die voorsitter, prof. Wessel Pienaar, het by dié geleentheid onder meer gesê dat die Akademieraad "saam gespit het om 'n blywende vesting te laat verrys waarin die Akademie 'n doeltreffende tuiste sal vind vir sy werksaamhede".48 Die verkiesing van 'n nuwe Akademieraad het in 2015 vir die eerste keer in die geskiedenis van die Akademie elektronies plaasgevind.49
'n Belangrike verwikkeling in dieselfde jaar was 'n opwindende bydrae wat gemaak is tot die toekoms van die Akademie en vir Afrikaans deur 'n borgskap van die Dagbreek Trust. Hiermee is 'n nuwe projek van stapel gestuur om nagraadse beurse aan M- en D-graadstudente in alle vakdissiplines in Afrikaans beskikbaar te stel. Die projek sluit ook befondsing in vir navorsing wat tot 'n publikasie lei, en ook finansiële ondersteuning om publikasies in Afrikaans moontlik te maak. Geselekteerde navorsingsprojekte op die terrein van Afrikaans word ook ondersteun.50
In Mei 2015 het die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Universiteit Stellenbosch en Naspers die Jan H Maraisprys ingestel. Die administrasie van die prys is aan die Akademie toevertrou om die prys te bestuur en jaarliks 'n wenner aan te wys. Die prys word toegeken as erkenning vir 'n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Dit kan met reg die Afrikaanse "Nobelprys" genoem word.51 Die wenner van die prys het aanvanklik prysgeld van R500 000 ontvang, asook 'n afgietsel van 'n beeldjie van Jan H Marais, "Die helpende hand", wat deur die beeldhouer, Coert Steynberg, in opdrag van Jan H Marais se weduwee ter ere van hom ontwerp is. In 2022 is die prysgeld tot R750 000 verhoog. In 2024 was prof. Wannie Carstens, voormalige voorsitter van die Akademie, die ontvanger van die prys. Die meeste van die vorige ontvangers52 was ook almal Akademielede tydens hulle loopbane.
'n Ligpunt in 2016 was dat Zuid-Afrikahuis in Amsterdam "gered" is toe borge gevind is om Zuid-Afrikahuis te koop en op te knap. Daar was 'n gevaar dat die huis gesloop sou moes word. Die grootste biblioteek van Suid-Afrikaanse literatuur in die Noordelike halfrond word hier gehuisves en die huis het ook sterk tradisionele bande met die Akademie. 'n Skildery deur Willy Sluiter van een van die stigterslede van die SA Akademie, dr. HD van Broekhuizen, is in 'n soldervertrek in Zuid-Afrikahuis ontdek en in permanente bruikleen aan die Akademie geskenk. Ná onderhandelinge met die Nederlandse ambassade is die skildery na Suid-Afrika vervoer en is dit in Februarie 2016 tydens 'n onthaal waar verteenwoordigers van die Nederlandse ambassade en ander eregaste teenwoordig was, aan die Akademie oorhandig.53 Die volgende persone van die ambassade en Zuid-Afrikahuis was teenwoordig: Mnr. Robert-Jan Siegert, waarnemende ambassadeur van Nederland; dr. Jan Donner, voorsitter, Stichting ZASM; mnr. Jeroen-Louis Martens, Kulturele Attaché, Nederland; mnr. Khoa Bui, Verteenwoordiger Nederlandse Ambassade; mnr. Guido van den Bergh, HUB, Zuid-Afrikahuis, Nederland; mnr. Frank en mev. Isabel Burgers, verteenwoordigers in Suid-Afrika van die Zuid-Afrikahuis; en mnr. Hans Strien, Stichting ZASM, Nederland. By dié geleentheid het prof. Alex Duffey 'n kort lesing oor Willy Sluiter as skilder en oor dr. HD van Broekhuizen gelewer. Dr. Jan Donner het die skildery daarna aan die ondervoorsitter van die Akademie, prof. Irma Eloff, oorhandig.54
Nog 'n hoogtepunt in 2016 was die verskyning van 'n Afrikaans-Japannese woordeboek, waaraan prof. Ernst Kotzé en prof. Takashi Sakurai gewerk het, en wat die eerste in hierdie twee tale is wat sowel die romeinse alfabet as die logografiese en sillabiese karakters in Japan-nees gebruik. Die woordeboek is in 2016 in Tokio in 'n beperkte oplaag gepubliseer. Die papierweergawe (ongeveer 431 000 woorde gedrukte teks) is aangevul deur 'n CD-ROM-weergawe, wat sowel die teks as uitspraak van elke trefwoord bevat, en beslaan ongeveer 14 000 trefwoorde per taal. Daarby is die teks-en-klankweergawe, as derde formaat, terselfdertyd aanlyn deur Pharos in Kaapstad gepubliseer.55
Nog 'n monumentale werk wat in drie dele verskyn het, was Perspektief en profiel - 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis onder redaksie van prof. Hennie van Coller, 'n vorige voor-sitter van die Akademie.56 'n Verdere belangrike projek wat deur prof. Laurette Pretorius en dr. Friedel Wolff geloods is, was om die Afrikaanse Wikipedia uit te brei. Hulle het begin om werkswinkels aan te bied om belangstellendes op te lei om artikels te skryf en dit op Wikipedia te laai, en bestaande artikels te vertaal en by te werk.57 Prof. Pretorius het ook 'n handleiding opgestel om dit vir kursusgangers makliker te maak om die opleiding ook tuis te kan volhou. Die Afrikaanse Wikipedia bestaan sedert 16 November 2001 en is die Afrikaanse weergawe van die webgebaseerde vrye-inhoud-ensiklopedie Wikipedia. Daar is reeds Wikipedia's vir 293 tale en in 2016 was die Afrikaanse Wikipedia die 86ste grootste Wikipedia. Benewens Wikipedia se rol as die grootste (en steeds groeiende) ensiklopedie ooit, is dit ook 'n sleutelhulpbron in veeltalige kennisonttrekking en taaltegnologie op die wêreldwye web. Dit is welbekend dat vir Afrikaans om in die digitale wêreld te gedy, die Afrikaanse Wikipedia groot en van hoë gehalte moet wees. Omdat Wikipedia by uitstek 'n gemeenskapsprojek is waaraan enige persoon kan deelneem en meewerk, is dit die ideale manier vir Afrikaanssprekendes om saam te bou aan die toekoms van Afrikaans.
'n Belangrike toekenning wat die Akademie in 2016 gemaak het, was om erelidmaatskap aan prof. Adam Small toe te ken.58 Erelidmaatskap is die hoogste toekenning van die Akademie wat 'n persoon kan ontvang. Ander hoogtepunte was dat die Poortboekie van 2016 in brailleformaat aan die Prinshofskool geskenk is.59 Die beste werke van leerders wat aan die Akademie se Poort-kompetisie deelneem, verskyn jaarliks in die Poortboekie.
Die Akademie is ook in 2016 deur verteenwoordigers van die Hebei Universiteit in China genader om kontak op akademiese vlak te maak. Akademielid dr. Refilwe Ramagoshi het as leier van 17 afgevaardigdes uit Suid-Afrika na China opgetree. ASSAf-lede was ook deel van die afvaardiging. Dit het daartoe gelei dat dr. Ramagoshi twee jaar later (in 2018) as visepresident navorsing by dié Universiteit aangestel is.60
2017 was weer eens 'n groot hoogtepunt in die geskiedenis van die Akademie. Die langverwagte nuwe Akademiegebou is voltooi en die personeel kon in Augustus hulle splinternuwe kantore betrek. Die openingsgeleentheid is tydens 'n luisterryke openingsgeleentheid gevier. Die uitgaande voorsitter van die Akademie, prof. Wessel Pienaar, het die lintknipseremonie tydens die opening van die nuwe gebou in September hanteer. Prof. Irma Eloff het gedurende hierdie dae as voorsitter van die Akademie by prof. Wessel Pienaar oorgeneem. Die Engelenburg-huismuseum was ook by hierdie geleentheid weer oop vir die publiek nadat die museum gesluit was tydens die oprigting van die nuwe gebou. Die vertrekke in Engelenburghuis wat ná Engelenburg se dood deur die Akademie aangebou is (1953 en weer in 1999), is tydens die bou van die nuwe kantore gesloop. Die huis is teruggebring na die oorspronklike plan van 1903 en die aanbouing in 1922 deur dr. FV Engelenburg.61 Dit was ook 'n blye dag toe die Akademie se kunsversameling kort voor die opening oorgebring is na die nuwe Akademiegebou.62 Die drie groot Esias Bosch-keramiekpanele is twee jaar later, in 2019, na die Akademie oorgebring en is by die parkeerruimte van die Akademiegebou geïn-stalleer. 'n Spesiale geleentheid is daarvoor gereël en 'n aantal gaste het dit bygewoon.63
'n Verdere mylpaal was die verskyning van 'n eeufeesuitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). Hierdie elfde uitgawe van die AWS is luisterryk verwelkom tydens die bekendstelling op 3 Augustus 2017 by die Naspers-gebou in Kaapstad. 'n Beperkte oplaag van 'n faksimilee-uitgawe van die heel eerste Afrikaanse woordelijs en spelreëls van 1917 het ook verskyn en is in September 2017 by die nuwe Akademiegebou bekendgestel. 'n Gehalte-boek wat ook in 2017 verskyn het en geïnisieer is deur wyle dr. Douw Greeff, 'n vorige voorsitter van die Werkgemeenskap Pretoria, het ook verskyn met die titel Ons praat Afrikaans: diverse mense - een taal. Die boek bestaan uit wenfoto's van 'n internasionale fotokompetisie van amateur en professionele fotograwe wat meegeding het. Die beste foto's is in hierdie pragpublikasie opgeneem.64 Nog 'n uitgawe in 2017 was die verskyning van die tweetalige Kunswoordeboek/Arts Dictionary by Protea Boekhuis waaraan verskeie mense onder die leiding van prof. Alex Duffey vir baie jare gewerk het.65 Die eerste van die reeks huldigings-bundels van Hertzogpryswenners onder die oorkoepelende redakteurskap van prof. Jacques van der Elst het ook in 2017 verskyn. Die eerste nommer in die reeks is: 'n Huldiging: Adam Small, Denker, Digter, Dramaturg.66
'n Belangrike ontwikkeling in 2017 was die instel van 'n nuwe leerstoel "Zuid-Afrika: talen, literaturen en maatschappij" by die Universiteit Gent. Die Akademie het jaarliks 'n bedrag van R15 000 vir 'n tydperk van vyf jaar tot die leerstoel bygedra.67 Die Leerstoel het op 10 Oktober 2017 'n aanvang geneem en prof. Hein Willemse (UP) het die Leerstoel die eerste termyn beklee.68 Hy is opgevolg deur proff. Wannie Carstens (NWU, 2018), Louise Viljoen (US, 2019), en Marlene van Niekerk (US, 2023), almal by geleentheid lede van die SA Akademie.
Die Tydskrif vir Geesteswetenskappe het in 2018 'n nuwe webtuiste gekry waar al die jongste artikels per ooptoegang beskikbaar gestel is. Die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT)69 is vir 'n aantal jare deur AOSIS uitgegee, maar in 2018 is besluit dat die Akademie in die toekoms self die tydskrif se administrasie sal hanteer. Die wêreldwye oorname deur Engels as kommunikasietaal in die wetenskap het Afrikaans as vaktaal in die natuurwetenskappe onder druk geplaas en die situasie is verder vererger deur die toenemende miskenning van Afrikaans by Suid-Afrikaanse universiteite. In die tydperk 2015-2018 is Afrikaans formeel as onderrigtaal uitgefaseer by die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat en ook by Unisa. Aan die NWU en ook die Universiteit Stellenbosch het die druk op Afrikaans as onderrigtaal begin toeneem. Op aanbeveling van die redaksie het die Raad besluit om artikels wat in Engels vir die SATNT voorgelê word en wat deur die keuringsproses aanvaar is, in Afrikaans te laat vertaal en in Afrikaans en Engels aanlyn te publiseer.70 Die 18de jaarlikse studentesimposium in die natuurwetenskappe het, soos ook die vorige paar jaar, onder leiding van prof. Rudi Pretorius plaasgevind. Dit was 'n besondere geleentheid omdat dit vir die eerste keer in die nuwe Akademiegebou plaasgevind het. In dieselfde jaar is ook 'n studentesimposium in die sosiale en geesteswetenskappe onder leiding van prof. Linda van Ryneveld aangebied.71
'n Verdere verwikkeling was dat, ná 'n vrugbare besoek van prof. Hennie van Coller in September 2018 aan die Friese Akademie in Leeuwarden, 'n formele ooreenkoms van wedersydse goedgesindheid deur die SA Akademie en die Friese Akademie onderteken is.72
Die Taalkommissie het in 2018 een van hulle sittings van 26 Februarie tot 2 Maart in Windhoek, Namibië gehou. Die sitting het saamgeval met die Onderwyserskonferensie wat op 1 en 2 Maart in Windhoek plaasgevind het. Die Taalkommissie en ook die Akademieraad het hierdie uitreiking beskou as 'n waardevolle belegging in die uitbou van Afrikaans in die buiteland, spesifiek in die onderwys. Dié geleentheid is dan ook benut om die nuwe AWS bekend te stel, werksessies is aangebied,73 en 230 gratis eksemplare van die AWS is aan onderwysers oorhandig.74
Die Akademie het ook in 2018 'n waardevolle skenking van dr. Nicholas Clarke ontvang van 'n klein vleuelklavier wat eers aan sy ouma, mev. AM Coetzee, behoort het. Interessant is dat prof. Marinus Wiechers (ook 'n ontvanger van die Jan H Maraisprys en 'n vorige Akademielid) as kind op dié klavier by mev. Coetzee les geneem het.
In 2018 het deel 1 (oor die Europese geskiedenis van Afrikaans) van proff. Wannie Carstens en Edith Raidt se boek Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika - Biografie van 'n taal verskyn. Die tweede deel wat handel oor die Afrikageskiedenis van Afrikaans het in 2019 verskyn. Beide boeke is finansieel ondersteun deur die Akademie. 'n Projek wat reeds 15 jaar tevore aangepak is en waarop die Akademie met reg trots is, is die publikasie van Afrikaans poems with English translations wat saamgestel is deur proff. Hennie van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen.75
In 2018 het die Werkgemeenskap Vrystaat (Akademielede uit die geesteswetenskappe) en die Werkgemeenskap Bloemfontein (Akademielede uit die natuurwetenskappe) saamgesmelt met die benaming Werkgemeenskap Vrystaat. In die verlede het die twee werkgemeenskappe hul eie funksies gereël, maar later het hulle saamgewerk as een werkgemeenskap.76 Dit het dus sin gemaak vir die twee werkgemeenskappe om saam te smelt.
Die Marius Joosteprys wat die Dagbreek Trust reeds 'n paar jaar tevore ingestel het, word op versoek van die Dagbreek Trust sedert 2018 deur die SA Akademie geadministreer en bestuur. Die prys word jaarliks beskikbaar gestel aan die beste M-verhandeling in die Departement Afrikaans van 'n student wat 'n graad in die voorafgaande jaar by die volgende universiteite voltooi het: Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit, Universiteit van die Vrystaat, Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Johannesburg en UNISA. Die prysgeld beloop R10 000 per prys.77
In 2019 was die Akademie 110 jaar oud en dit is na behore gevier. Die feesvieringe het saamgeval met die jaarlikse algemene simposium van die Akademie op 11, 12 en 13 September by die Akademiegebou. Prof. Jacques van der Elst was die redakteur van die feesboek wat gekonsentreer het op die tydperk 1985 tot 2019.78 Die boek is tydens die simposium bekendgestel.79 'n Boek oor die Akademie se kunsversameling wat deur prof. Alex Duffey saamgestel is, is vroeg in 2020 bekendgestel.80 Die kurator en ere-vakkundige, mev. Annemarie Carelsen het, met die oog op die Akademie se simposium en 110-jarige feesvieringe, die Engelenburg-huismuseum heringerig.81 Nuusberigte oor die Akademie se 110de bestaansjaar het in 'n Beeld-bylaag (9 September) en in Rapport se Erfenisbylaag (22 September) verskyn. In 2019 is die kunslokaal by die Akademiekantoor, wat gewoonlik vir lesings en simposiums gebruik word, ook benut vir 'n ses-weke-lange solo-kunsuitstalling van die kunstenaar Danie Smith.82
Akademielede in die buiteland het in 2019 met die goedkeuring van die Akademieraad 'n Buitelandse Werkgemeenskap tot stand gebring. Die doelstellings van die nuwe werkgemeenskap is onder meer om sterk verbindings tussen buitelandse lede onderling, asook met lede binne Suid-Afrika te vestig; om die Akademie in die buiteland te bevorder; en om aan die binnelandse (Suid-Afrikaanse) gemeenskap internasionale en/of regionale perspektiewe, konteks, en insae rakende beskouings oor wêreldgebeure, tegnologiese en sosiale verwikkelinge, asook perspektiewe op Suid-Afrikaanse aangeleenthede te bied. Die voorsitter van die Werkgemeenskap is prof. Shana Ponelis.83 In hierdie selfde jaar het prof. Anne-Marie Beukes as die nuwe hoof- uitvoerende beampte by dr. Dionë Prinsloo oorgeneem.84
Daar het in hierdie tyd al vir 'n geruime tyd kommer bestaan oor die toekoms van Afrikaans as 'n akademiese en wetenskapstaal, 'n kommer wat nie ongegrond is nie. Afrikaanssprekende wetenskaplikes publiseer toenemend slegs in Engels as gevolg van die internasionalisering van universiteite en 'n gevolglike groter teikenmark. Hierdie tendens gebeur ten spyte van Afrikaans se uitsonderlike prestasie dat dit een van slegs vyf tale is wat in die 20ste eeu tot 'n volle wetenskapstaal ontwikkel het. Die onbehaaglike situasie waarin Afrikaans tans verkeer, word vererger deurdat verskeie taalkantore by regerings- en ander instansies wat terminologie geskep het, oor die afgelope paar dekades gesluit is. Geen vakkommunikasie is egter moontlik sonder gestandaardiseerde terminologie nie: 'n taal waarvan die terminologie nie ontwikkel nie, stagneer en loop die gevaar om as wetenskapstaal te verdwyn. 'n Welkome publikasie wat dus in 2019 verskyn het, was 'n handleiding vir vakterminologie met die titel Terminologie en Terminografie: 'n Handleiding deur die terminologiekenner, dr. Marietta Alberts.85 86
Dalende getalle studente wat by die Departemente Afrikaans by universiteite studeer het tot gevolg gehad dat minder beurse aan M- en D-graadstudente in 2019 toegeken kon word. Die Raad het, in oorleg met die TAO (Trust vir Afrikaanse Onderwys), besluit om vanaf 2021 beurse ook aan honneursgraadstudente toe te ken en dat 'n gedeelte van die bestaande beursgeld daarheen gekanaliseer kan word.87
Die Covid-19-pandemie wat Suid-Afrika aan die begin van 2020 getref het, het noodwendig ook 'n impak op die Akademie se werksaamhede gehad. Op 15 Maart 2020 het president Cyril Ramaphosa 'n nasionale ramptoestand in die land verklaar en op 23 Maart is 'n nasionale inperking ingestel wat uiteindelik weke van afsondering tot gevolg gehad het.88
In al hierdie maande het die Akademie se personeel meestal van hulle huise gewerk en gou aangepas in die ten volle digitale omgewing. Raads-, kommissie- en komiteevergaderings, simposia, lesings, asook bekroningsplegtighede wat gewoonlik in persoon aangebied is, het in hierdie tyd alles aanlyn plaasgevind. Erelidmaatskap is in 2020 aan prof. Jacques van der Elst toegeken. Die verkiesing vir die nuwe Akademieraad vir die termyn 2020 tot 2023 het op 8, 9 en 10 September 2020 plaasgevind. Omdat die vorige raadsverkiesing ook elektronies plaasgevind het, was hierdie wyse van verkiesing nie 'n probleem tydens die Covid-19-pandemie nie en alles het vlot verloop.89 Prof. Oppel Greeff is as nuwe voorsitter van die Akademie verkies in die plek van prof. Irma Eloff. Kunslesings wat prof. Alex Duffey in 2019 begin het en wat hy maandeliks by die Akademiegebou aangebied het oor buitelandse, sowel as plaaslike kunswerke en kunstenaars,90 het gedurende die Covid-19-pandemie voortgegaan, maar is in video-formaat by die Akademiegebou opgeneem toe die inperkingsmaatreëls verslap is. Die video's is daarna maandeliks op die Akademie se mediaplatforms geplaas. Die lesings van prof. Duffey is baie gewild en belangstellendes in die buiteland skakel ook in om daarna te kyk. Die projek gaan steeds voort en word in hierdie formaat in 2025 voortgesit.
Die Akademieraad het ook in 2020, tydens die pandemie, begin om die prysestruktuur van die Akademie te hersien. Die proses het tot in 2022 geduur en pryse is verminder deur sommige te staak en ander pryse het saamgesmelt. Die volgende was die beweegrede daarvoor: (a) moontlik te veel toekennings, met die moontlike negatiewe persepsies wat daarmee saamhang; (b) wanbalans tussen geldwaarde en prestigewaarde van (veral) die gevestigde pryse; (c) soms geen logiese verband tussen die (skenkers-)naam van die prys en die vakgebied nie; (d) moontlike beperkings as gevolg van skenkings- of borgvoorwaardes of trustaktes; en (e) oneweredige dekking van die velde binne die huidige breë wetenskapsbeoefening.91
Lidmaatskap van die Akademie kon in die verlede slegs verkry word deurdat 'n dienende lid 'n kandidaat moes voorstel vir lidmaatskap, gesekondeer deur twee ander Akademielede. In 2021 het dit verander en bykomend tot die voorgenoemde proses kan 'n persoon wat graag lid van die Akademie wil word, aansoek doen vir lidmaatskap. Op die aansoekvorm word die vereistes vir lidmaatskap uiteengesit en indien 'n persoon van mening is dat hy/sy daaraan voldoen, kan hy/sy aansoek doen. Die aansoek gaan steeds deur die normale prosesse van keuring wat deur die Dagbestuur hanteer word.92
Die Akademie se webblad het aan die einde van 2021 aandag geniet en het 'n nuwe, moderner baadjie gekry wat in 2022 in werking getree het. 'n E-winkel is ook ontwerp vir die Akademie se publikasies met toegang op die Akademie se webblad.93
Afgesien van die Taalkommissie se werksaamhede is daar ook aan die begin van 2022 'n adviespaneel van 100 lede uit verskillende terreine en verteenwoordigend van taalvariëteite verkies. Die idee was dat hierdie adviespaneel moes stem en kommentaar lewer oor sake wat deur die Taalkommissie aan hul voorgele word.94 Die joernalis en kommentator, Heindrich Wyngaard, is as die voorsitter van die adviespaneel aangewys.95
Die Akademiepersoneel het in 2022, ná die Covid-19-pandemie, weer voltyds teruggekeer na die Akademiekantoor. Dit was vir die Akademiekantoor 'n sware slag met die afsterwe van prof. Jacques van der Elst in Februarie 2022. Prof. Van der Elst het ná sy uittrede as HUB steeds voortgegaan om 'n sleutelrol as projekleier te speel by die keuring van publikasies en navorsingsaansoeke. Hy was ook aan die stuur van die Herzogpryshuldigingsbundels en by tye van sy oorlye was daar nege manuskripte van die bundels wat, danksy hom, in verskillende stadia van afhandeling was.96
Die Akademie is vanaf 2022 op uitnodiging van die Afrikaanse Taalraad (ATR) as 'n vennoot betrokke by 'n langtermynnavorsingsprojek van vyf tot ses jaar om die stand van Afrikaans op verskeie terreine vas te stel.97
'n Versoek om samewerking met die SA Akademie is in 2022 van mnr. Deon Steyn, die Direkteur van die Afrikaanse Wikipedia van die WikimediaZA Chapter ontvang. Die Afrikaanse Wikipedia was in daardie jaar 21 jaar oud en die enigste digitale ensiklopedie in Afrikaans. 'n Sigbare "tuiste" vir die Afrikaanse Wikipedia is gesoek met 'n bemarkingsbord by die Akademiegebou en met 'n administratiewe beampte in die Akademiekantoor om behulpsaam te wees. Die Raad het daartoe ingestem en sedertdien is die Akademie ook die tuiste vir die Afrikaanse Wikipedia.98
Die hersiening van die Akademiepryse wat in 2020 begin is, is in 2022 afgehandel, waarna met die bestaande borge van pryse onderhandel is om die prysgeld te verhoog. Mnr. Koos Bekker het ingestem om die Deleen Bekkerprys vir beste draaiboek in Afrikaans, wat jaarliks toegeken word, vir 'n verdere vyf jaar te borg. Die jaarlikse prysgeld van R50 000 is tot R100 000 per jaar verhoog. Sanlam het besluit om die prysgeld vir die MT Steynprys vir Natuurwetenskap en Tegnologie wat jaarliks toegeken word, van R50 000 tot R100 000 te verhoog. Die ATKV het die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur en die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur se borggeld van R5 000 elk verhoog na R20 000 elk. Die twee pryse word driejaarliks toegeken. Eweneens het die Hiemstra Trust die prysgeld vir die LW Hiemstraprys vir Niefiksie wat ook driejaarliks toegeken word, van R30 000 na R50 000 verhoog.99 Die Rupert Musiekstigting het die Huberte Rupertprys vir Klassieke Musiek van R30 000 na R75 000 verhoog. Die frekwensie van toekenning is van 'n jaarlikse prys verander na 'n driejaarlikse toekenning.100
Prof. Hannes Rautenbach, lid van die Akademieraad, het op 1 Maart 2023 as hoofredakteur van die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) by prof. Oppel Greeff oorgeneem. Prof. Rautenbach het dadelik begin om die webtuiste van die SATNT te hersien en vernuwe. Die hoofdoel van die SATNT is om die natuurwetenskap en tegnologie veral in Suid-Afrika te bevorder deur ooptoegang eweknie-beoordeelde publikasies, maar om terself-dertyd 'n geleentheid te skep vir Afrikaanssprekende wetenskaplikes om hulle navorsings-resultate in hulle moedertaal te publiseer. Op hierdie wyse word die Afrikaanse natuurwetenskaplike en verwante tegnologiese vaktaal ook onderhou en uitgebou.101
'n Besluit is reeds gedurende 2023 deur die Raad geneem om die nodige toerusting (te wete 'n klanksisteem en kameras) vir die Akademiegebou se raadsaal en die kunslokaal aan te skaf om funksies, simposia en vergaderings in hibriede formaat te kan aanbied, wat dus beteken dat 'n persoon in enige plek in die wêreld kan inskakel en deelneem.102
'n Verdere ligpunt was dat die Akademie in 2021 die beursprogram aan studente uitgebrei het om ook honneursprogramme in te sluit. Vanaf 2015 tot 2023 het die SA Akademie reeds 445 beurse toegeken, 244 aan deeltydse en 201 aan voltydse studente. Honderd-agt-en-sestig beurse is aan mans en 277 aan vrouestudente toegeken. Die verdeling was soos volg: 178 doktorale studies, 230 meesters-, 22 honneurs- en 15 postdoktorale studie; 389 beurse is aan geesteswetenskapstudente en 56 aan natuurwetenskapstudente toegeken.103
In 2023 is prof. Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg as die reeksredakteur van die Hertzogprys-huldigingsreeks aangestel in die plek van prof. Jacques van der Elst wat in 2022 oorlede is.104
'n Nuwe Akademieraad is ook weer in 2023 verkies. Soos met die vorige Raadsverkiesing wat in 2020 tydens die Covid-19-pandemie gehou is, het die 2023-verkiesing ten volle elektronies plaasgevind. Die Akademie se ouditeure het ook hierdie keer die verkiesing hanteer in samewerking met die Akademie se IT-spesialis, mnr. Hannes Cruywagen. Prof. Ilse Feinauer is as die nuwe voorsitter van die Akademie verkies.105 Die hoogste eerbewys van die Akademie is erelidmaatskap en dit is aan die uitgaande voorsitter, prof. Oppel Greeff, toegeken.
Die Akademieraad het die strategiese sessie wat in 2023 gehou is, in April 2024 voortgesit. Tydens die 2023-sessie het prof. Kobus van der Walt gemaan dat alles gekompliseer word omdat almal die hele tyd voel dat die Akademie meer moet wees as net dit waarvoor hy eintlik daar is. Die eintlike doel van die Akademie is baie eenvoudig, naamlik: (1) As jy uitnemend is in jou werk, kan jy lid word van die organisasie; (2) As jy baie uitnemend is, word jy daarvoor beloon; en (3) Die Akademie bevorder Afrikaans en ondersteun inisiatiewe in daardie verband. Dit is wat die Akademie is en hy hoef nie meer te wees as dit nie. Prof. Van der Walt het gepleit dat die Raad nie foute moet soek wat nie daar is nie. Dit is asof mense nie wil aanvaar dat die Akademie is wat hy is nie. Almal wil hê die Akademie moet meer wees as wat hy veronderstel is om te wees. Die Akademie laat enige persoon toe en beloon enige persoon, ongeag kleur, ras, ensovoorts. Dit gaan oor uitnemendheid en volgens hom vaar die Akademie tot dusver goed vir dit waarvoor hy staan.106 Die visie en missie van die Akademie is by dié twee geleenthede weer onder die loep geneem en in 2024 deur 'n komitee verder verfyn. Die nuutgeformuleerde visie en missie van die Akademie is soos volg:
• Visie: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns speel 'n leidende rol in 'n inklusiewe omgewing waar kennis, kreatiwiteit en innovasie in Afrikaans gedy.
• Missie: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verbind hom tot die bevordering van die wetenskap, tegnologie, letterkunde en kuns in Afrikaans, asook die gebruik en beskerming van Afrikaans in al sy variëteite.107
Sedert die prysestruktuur van die Akademie in 2022 hersien is, word minder pryse per jaar toegeken en in 2024 is besluit om jaarliks slegs een in plaas van die gebruiklike twee bekroningsplegtighede te hou. Dit word gehou waar die simposium in 'n betrokke jaar aangebied word, naamlik in Pretoria of in Stellenbosch. In 2024 is dit in Pretoria gehou.108Die borg vir die Deleen Bekkerprys het in 2024 besluit dat voortaan slegs twee kategorieë bekroon moet word wat jaarliks roteer. Die prys vir beste teks in Afrikaans vir 'n dokumentêre program is uit die reglement geskrap omdat vervaardigers se werkwyse verander het en hulle nie meer met teks werk nie. Voortaan roteer die prys tussen beste draaiboek in Afrikaans vir 'n rolprent en beste draaiboek in Afrikaans vir 'n TV-drama. Verblydende nuus was dat twee bykomende pryse deur die borg bygevoeg is, naamlik twee aanmoedigingspryse van R20 000 elk per jaar vir vyf jaar vir 'n draaiboek in Afrikaans en wat jaarliks roteer tussen rolprent en TV-drama.109
'n Verdere besluit deur die Akademieraad was dat die NP van Wyk Louwmedalje vanaf 2025 nie meer jaarliks toegeken gaan word nie, maar driejaarliks. Die rede hiervoor was dat wetenskap toenemend in Engels bedryf word en dat dit vanselfsprekend beteken het dat verdienstelike kandidate verminder, met die gevolg dat dieselfde kandidate herhaaldelik voorgestel word. Om die integriteit van die prys te beskerm, is besluit dat die prys slegs elke drie jaar toegeken kan word.110 Die HUB, prof. Anne-Marie Beukes, het deur die loop van 2024 uitgetree en dr. Annelise de Vries is vanaf 1 November in haar plek aangestel.
Die Hertzogpryswenners-huldigingsreeks wat in 2015 onder die leiding van prof. Jacques van der Elst begin is, gaan steeds voort en aan die einde van 2024 is die volgende 17 bundels reeds gepubliseer:
• 'n Huldiging: Adam Small, Denker, Digter, Dramaturg (redakteur: Jacques van der Elst)
• Karel Schoeman: Stiltes en stemme (redakteur: Willie Burger)
• Ina Rossouw: Digter van die kwiksilwerwoord (redakteur: Daniel Hugo)
• Marlene van Niekerk: Die tempteerbare oog (redakteur: Marius Crous)
• Bartho Smit: Koorddanser tussen triomfen tragedie (redakteurs: Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris)
• Etienne Leroux: Die rumoerige swart nar (redakteur: Hennie van Coller)
• Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik (redakteur: Karen de Wet)
• PG du Plessis: Hy was 'n rukkie pagter hier (redakteur: Heilna du Plooy)
• Reza de Wet: Die dramaturg as dromer (redakteurs: Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris)
• Breyten Breytenbach: Woordenaar woordnar (redakteur: Francis Galloway)
• Johann de Lange 60: 'n Huldiging (redakteur: Daniël Hugo)
• Elsa Joubert: Die verste grens verby (redakteur: Thys Human)
• Pieter Fourie: Teatermaker (redakteur: Fanie Olivier)
• Anna M. Louw: Fassinerende, veelkantige skrywer (redakteur: Chris N van der Merwe)
• NP van Wyk Louw: Silwer herberg in die sneeu (redakteur: Ronél Johl)
• Antjie Krog: 'n Ondersoekte lewe (redakteur: Louise Viljoen)
• Wilma Stockenström: Met my wysvingertop (redakteur: Ronél Foster)
In 2025 is dit 100 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika aanvaar is. Beplanning is reeds in 2023 landswyd deur verskeie organisasies van stapel gestuur vir die feesvieringe in 2025. Die dryfkrag agter die projek was dr. Theuns Eloff en me. Astrid de Vos van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Dit is 'n gekoördineerde poging wat talle feeste op alle vlakke van die samelewing deur die hele land gaan hou, met 'n nasionale geleentheid op 8 Mei 2025 by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl. Lede van die Akademieraad sal ook die fees op 8 Mei in die Paarl bywoon.111 Die Akademie het self ook 'n paar projekte vir die feestyd beplan wat reeds in 2024 al begin het, onder andere 'n kunsuitstalling; 'n lesingreeks deur die Taalkommissie van die Akademie; deelname van die Taalkommissie aan 'n paneelgesprek by die Woordfees in Stellenbosch in 2024; 'n spesiale uitgawe in 2025 van die Tydskrif vir Geesteswetenskappe; en drie Afrikaanse kunsliedkonserte, in samewerking met mnr. Giep van Zyl wat een van die organiseerders van die Afrikaans Amptelik 100-fees is, waarvan die eerste konsert in Maart 2025 op "Kuns op die water" aangebied word, 'n tweede konsert in Mei in die Kaap en 'n derde konsert kort daarna in Pretoria.112 Akademielid, prof. Hein Viljoen van die Noordwes-Universiteit, het reeds in 2023 begin met onderhandelinge en die soek van borgskappe vir 'n digitale biblioteek van die Afrikaanse letterkunde as 'n verjaardaggeskenk vir die Afrikaans Amptelik 100-projek in 2025. Dit is 'n omvangryke projek wat groot koste gaan meebring en die gedagte is om eers klein te begin en namate die projek vorder, dit verder uit te brei.113
Ten slotte
Uit die voorafgaande oorsig is dit duidelik dat die Akademie, wat in 1909 tot stand gekom het, steeds vorentoe kyk en dat die visie en missie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns relatief konstant gebly het, naamlik die bevordering van die hoëre funksies van Afrikaans in die wetenskappe en die kunste. Aanvanklik was dit ten nouste verweef met Nederlands/Hollands, maar mettertyd het die klem na Afrikaans verskuif. Die Akademie se aktiwiteite word oor dekades heen gekenmerk deur pro-aktiwiteit, opbou en ondersteuning, erkenning aan uitnemendheid en aanpasbaarheid in 'n ewigdurend veranderende wêreld.114
Dit was ook die geval in die tydperk ná 2009 soos blyk uit hierdie oorsig. In die uitvoer van sy mandaat is talle nuwe projekte en inisiatiewe aangepak, het nuwe leiers na vore getree, het die internasionale voetspoor van die SA Akademie verbreed, en kon die SA Akademie ook sy voete vind in die kompleksiteite van die politieke bedeling van die tyd. Die SA Akademie bly 'n kernrolspeler in die lewe van Afrikaans as 'n wetenskapstaal en bied in hierdie proses ruimte vir sy lede om ook volhoubaar hulle bydraes te lewer, maar wel in Afrikaans, naas die ander tale van die land.
BIBLIOGRAFIE
Hertzog, JBM & Nienaber, PJ. 1950. Op brandwag vir ons taal: die geskiedenis en werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. [ Links ]
Kapp, PH. 2009. Draer van 'n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1909-2009. Hermanus: Hemel en See Boeke. [ Links ]
Moll, JC (red.). 1984. Akademie 75. Pretoria: SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. [ Links ]
Nienaber, PJ. 1968. Wat doen die Akademie? Kaapstad: Nasionale Boekhandel. [ Links ]
SA Akademie (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns). 1959. Feesalbum. Pretoria: JL van Schaik. [ Links ]
SA Akademie (Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns). 1975. Afrikaans: dit is ons erns. Johannesburg: Perskor. [ Links ]
Van Huyssteen, GB, Botha, M & Antonites, A. 2016. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en markbehoeftes in die Afrikaanse gemeenskap. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 56(2): 410-437. [ Links ]
Van Huyssteen, GB. 2017. Gratis portaal 'n skatkis van taal se grammatika https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/320-gratis-portaal-n-skatkis-van-taal-se-grammatika [Accessed on 21 October 2022]. [ Links ]
Wierenga, R, Fouché-Karstens, N & Breed, A. 2023. Digital linguistic resources for Afrikaans. In Carstens, WAM & N Bosman (eds). 2024. Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives. Stellenbosch: African Sun Media. pp. 639-666. [ Links ]
Ontvang: 2025-01-15
Goedgekeur: 2025-01-24
Gepubliseer: Maart 2025
Linda Brink behaal haar THOD in 1974, waarna sy twee jaar onderwys gee. Sy verhuis daarna na die destydse Suidwes-Afrika en word boervrou op 'n beesplaas en werk ook in die privaat sektor. Suidwes-Afrika verkry in 1990 onafhanklikheid en word herdoop tot Namibië. Sy bekom daarna Namibiese burgerskap. Sy keer in 1992 terug na Suid-Afrika en aanvaar 'n pos by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria. Sy neem kort daarna weer haar Suid-Afrikaanse burgerskap op.
In 2007 sit sy haar studies voort terwyl sy voltyds werk en volg 'n oorbruggingskursus aan die Noordwes-Universiteit om van onderwys na die vakgebied geskiedenis (2008) oor te skakel. Sy behaal hierna die volgende kwalifikasies in geskiedenis aan die NWU: BA Honneurs (cum laude) (2009), MA (cum laude) (2010) en PhD (2015).
Linda Brink obtained her Higher Education Diploma (THOD) in 1974, subsequently teaching for two years. After moving to the then South West Africa, she became a farmer's wife on a cattle farm, and also worked in the private sector. South West Africa gained independence in 1990 and was renamed Namibia. She acquired Nami-bian citizenship, but returned to South Africa in 1992, where she took up a position at the Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Academy for Science and Arts). Shortly thereafter, she resumed her South African citizenship.
In 2007, she continued her studies while working full-time and completed a bridging course at North-West University, enabling the transition from education to the field of history (2008). She subsequently obtained the following degrees from the NWU: BA Honours degree (cum laude) (2009), MA (cum laude) (2010) and PhD (2015).
1 For more information, kindly refer to the bibliography provided at the end of this contribution.
2 Vir meer besonderhede kan die bronne aan die einde van hierdie bydrae geraadpleeg word.
3 J. van der Eist (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms. SA Akademie vir Wetenskap en Kuns 1909-2019 (SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2019), pp. 13, 14.
4 Notule van die Akademieraad, 24 Junie 2009, p. 11.
5 EF Kotze, et al. (reds.), Afrikaanse woordelys en spelreëls (Pharos, 2009).
6 Notule van die Akademieraad, 26 Maart 2009, p. 12.
7 Die Akademie het 'n bepalende rol gespeel in die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad (ATR) - een van die besondere gebeurtenisse die afgelope 16 jaar. Dié liggaam is ná 'n intensiewe, inklusiewe en veral raadplegende proses van vyf jaar (2003-2008) op 24 Mei 2008 te Wellington gestig. Die ATR se groot voordeel lê daarin dat Afrikaanssprekende gemeenskappe met mekaar praat waar dit voorheen nie altyd moontlik was nie. Die algemene gevoel was dat die toekoms van Afrikaans in die herstel van menseverhoudinge lê. Die eerste voorsitter van die ATR, prof. Wannie Carstens, het vanaf2008 tot 2011 gedien en in 2010 het die HUB van die Akademie, prof. Jacques van der Elst, ook die HUB van die ATR geword. (Notule van die Akademieraad, 30 September 2010, p. 5.)
8 Notule van die Akademieraad, 26 Maart 2009, pp. 6, 7.
9 Notule van die Akademieraad, 26 Maart 2009, p. 5.
10 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 14.
11 Notule van die Akademieraad, 23 Maart 2012, p. 22.
12 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 15.
13 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 15.
14 Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 51(4), 2011.
15 Notule van die Akademieraad, 23 Junie 2011, p. 10.
16 Notule van die Akademieraad, 23 Junie 2011, p. 6.
17 Notule van die Akademieraad, 22 September 2011, p. 9.
18 Notule van die Akademieraad, 23 Maart 2012, p. 22.
19 Notule van die Akademieraad, 22 September 2011, p. 18.
20 Notule van die Akademieraad, 30 Maart 2017, p. 17.
21 Notule van die Akademieraad, 18 November 2021, p. 5.
22 Notule van die Akademieraad, 22 September 2011, p. 2.
23 Notule van die Akademieraad, 23 Maart 2012, p. 13.
24 Notule van die Akademieraad, 23 Maart 2012, p. 13.
25 J. van der Elst (red.), Verlede Hede Toekoms..., p. 15.
26 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 16.
27 J. van der Elst (red.), Verlede Hede Toekoms..., pp. 59, 60.
28 Notule van die Akademieraad, 30 Maart 2017, p. 14.
29 Notule van die Akademieraad, 23 Maart 2012, p. 4.
30 Sien weer noot 7 oor die totstandkoming van die ATR.
31 Notule van die Akademieraad, 23 Maart 2012, p. 8.
32 Notule van die Akademieraad, 20 Junie 2012, p. 5.
33 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 23.
34 Notule van die Akademieraad, 13 September 2012, p. 6.
35 Vergelyk Van Huyssteen e.a. 2016; Van Huyssteen, 2017 asook Wierenga e.a. 2024 vir meer oor die totstandkoming, doelwitte en take van VivA.
36 Notule van die Akademieraad, 28 Maart 2014, p. 14.
37 Notule van die Akademieraad, 28 Junie 2013, p. 11.
38 Notule van die Akademieraad, 5 April 2013, p. 7.
39 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 17.
40 Notule van die Akademieraad, 11 September 2013, p. 9.
41 Notule van die Akademieraad, 28 Maart 2014, p. 11; J. van der Elst (red), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 18.
42 Notule van die Akademieraad, 11 September 2013, p. 12.
43 Notule van die Akademieraad, 11 September 2013, pp. 5, 6.
44 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 67.
45 Notule van die Akademieraad, 13 Junie 2014, pp. 5, 6. Vergelyk ook Van Huyssteen e.a. 2016 in hierdie verband.
46 Notule van die Akademieraad, 11 September 2013, pp. 20, 21.
47 J. van der Elst (red.), Verlede Hede Toekoms..., p. 20.
48 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 19.
49 Notule van die Akademieraad, 11 Junie 2015, pp. 4, 5.
50 Notule van die Akademieraad, 26 Maart 2015, pp. 5-7.
51 Notule van die Akademieraad, 26 Maart 2015, pp. 7, 9.
52 Die volgende persone het ook die prys gekry: 2016: prof. Herman Giliomee (UK); 2017: proff. Jaap Steyn (UV) en Jan van der Watt (UP en Radboud Universiteit Nijmegen); 2018: proff. Christo van Rensburg (UP en UV) en Marinus Wiechers (Unisa); 2019: prof. Fransjohan Pretorius (UP); 2020: prof. Jean Sonnekus (UJ); 2021: proff. Hennie van Coller (UV en voormalige voorsitter van die SA Akademie) en Ina Wolfaardt-Gräbe (Unisa); 2022: prof. Rufus Gouws (US); 2023: prof. Louise Viljoen (US); 2024: prof. Wannie Carstens (NWU en voormalige voorsitter van die SA Akademie).
53 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 17.
54 Notule van die Akademieraad, 31 Maart 2016, p. 17.
55 Notule van die Akademieraad, 30 September 2015, p. 2.
56 Notule van die Akademieraad, Woensdag 5 Oktober 2016, p. 2.
57 Notule van die Akademieraad, 30 Junie 2016, p. 10.
58 Notule van die Akademieraad, 31 Maart 2016, p. 5.
59 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 22.
60 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 24.
61 Notule van die Akademieraad, 27 September 2017, p. 14.
62 Notule van die Akademieraad, 27 September 2017, p. 15.
63 Notule van die Akademieraad, 20 Junie 2019, pp. 5, 6.
64 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 25.
65 Notule van die Akademieraad, 30 Maart 2017, p. 11.
66 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 29.
67 Notule van die Akademieraad, 30 Maart 2017, p. 13.
68 Notule van die Akademieraad, 27 September 2017, p. 12.
69 Die bydrae van prof. Kobus Eloff ook in hierdie uitgawe verskaf meer inligting oor die rol van die SATNT in die ontwikkeling van die natuurwetenskappe in Afrikaans.
70 J. van der Elst (red.), Verlede Hede Toekoms..., p. 27.
71 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 27.
72 Notule van die Akademieraad, 22 November 2018, p. 6.
73 Notule van die Akademieraad, 27 September 2017, p. 9.
74 Notule van die Akademieraad, 12 April 2018, p. 9.
75 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms... , p. 28.
76 Notule van die Akademieraad, 21 Junie 2018, p. 6.
77 Notule van die Akademieraad, 11 April 2019, p. 4.
78 Die voorafgaande geskiedenis (ook tot 2009) van die SA Akademie is deeglik in ander bronne gedokumenteer. Van die bronne is opgeneem in die lys van verwysings aan die einde van hierdie bydrae.
79 Kopieë van die feesuitgawe is by die Akademiekantoor beskikbaar.
80 Notule van die Akademieraad, 11 April 2019, p. 11.
81 Notule van die Akademieraad, 11 April 2019, p. 14.
82 Notule van die Akademieraad, 11 September 2019, p. 9.
83 Notule van die Akademieraad, 11 April 2019, p. 16.
84 Notule van die Akademieraad, 20 Junie 2019, p. 1.
85 Notule van die Akademieraad, 20 Junie 2019, p. 7.
86 Die bydrae van dr. M Alberts in hierdie uitgawe oor die eerste honderd jaar van vaktaal in Afrikaans verskaf verdere waardevolle inligting in hierdie verband.
87 Notule van die Akademieraad, 11 September 2019, p. 11.
88 Die eerste golf van die virus het van Maart tot November 2020 geduur, die tweede golf van Desember 2020 tot April 2021 en 'n derde een van Mei tot Oktober 2021. Die vierde golf was van Desember2021 tot April 2022 en 'n vyfde een het van Mei tot Julie 2022 geduur. Die bevestigde getal mense wat wêreldwyd positief vir die siekte getoets het, soos gepubliseer deur die WHO op 22 Desember 2024, was 777 112 363 en die getal sterftes was 7 079 587. In Suid-Afrika het 102 595 mense daaraan beswyk.
89 Notule van die Akademieraad, Woensdag 16 September 2020, p. 5.
90 Notule van die Akademieraad, 20 Junie 2019, p. 9.
91 Herbesinning oor Akademietoekennings, 25 Oktober 2020.
92 Notule van die Akademieraad, 15 Julie 2021, p. 6.
93 Notule van die Akademieraad, Donderdag 21 April 2022, p. 5.
94 Notule van die Akademieraad, 15 September 2021, p. 10; Notule van die Akademieraad, 18 November 2021, p. 5.
95 Notule van die Akademieraad, 21 April 2022, p. 6.
96 Notule van die Akademieraad, 21 April 2022, p. 5.
97 Notule van die Akademieraad, 21 April 2022, p. 13. Notule van die Akademieraad, 21 April 2022, p. 14.
99 Notule van die Akademieraad, 14 Julie 2022, pp. 5, 6.
100 Notule van die Akademieraad, 14 September 2022, p. 6.
101 Notule van die Akademieraad, 20 April 2023, pp. 10, 11.
102 Notule van die Akademieraad, 20 April 2023, p. 12.
103 Notule van die Akademieraad, 27 September 2023, pp. 8, 9.
104 Notule van die Akademieraad, 27 September 2023, p. 10.
105 Notule van die Akademieraad, 27 September 2023, p. 13.
106 Notule van die Akademieraad, 13 Julie 2023, p. 10.
107 Notule van die Akademieraad, 19 Julie 2024, p. 12.
108 Notule van die Akademieraad, 19 Julie 2024, p. 12.
109 Notule van die Akademieraad, 19 Julie 2024, p. 16.
110 Notule van die Akademieraad, 19 Julie 2024, p. 17.
111 Notule van die Akademieraad, 18 April 2024, p. 20.
112 Notule van die Akademieraad, 14 November 2024, p. 25.
113 Notule van die Akademieraad, 27 September 2023, p. 11.
114 J. van der Elst (red.), Verlede \ Hede \ Toekoms..., p. 1.