Services on Demand
Journal
Article
Indicators
Related links
-
Cited by Google
-
Similars in Google
Share
Tydskrif vir Geesteswetenskappe
On-line version ISSN 2224-7912Print version ISSN 0041-4751
Tydskr. geesteswet. vol.65 n.1 Pretoria Mar. 2025
https://doi.org/10.17159/2224-7912/2025/v65n1a25
TAALRUBRIEK
In my werk as taalpraktisyn sien ek soms dat 'n skrywer die onjuiste een kies uit 'n woord- of frasepaar wat duidelike of oënskynlike ooreenkomste toon. Hier onder volg enkele lukraak gekose pare wat 'n skrywer dalk kan laat wonder of wat hopelik net sommer interessant is om in gedagte te hou. By party is dit duidelik dat óf die een óf die ander korrek of gepas is; by ander weer is die skeidslyn vaag en kom wisselende gebruik soms voor.
1. aanvallig, aanvallend: In hedendaagse Afrikaans het hierdie twee woorde feitlik teen-oorgestelde betekenisse, want aanvallig beteken 'bekoorlik, lief, lieflik, aantreklik' (byvoorbeeld "'n aanvallige dogtertjie/meisie"), terwyl aanvallend 'aggressief, gereed tot die aanval, optrede wat getuig van 'n aanval' beteken (byvoorbeeld "die aanvallende leër/troepe", maar nie sommer "die aanvallende virus" nie). Albei word dus meestal van mense gesê. Histories kom albei woorde wel van die Nederlandse werkwoord aanvallen af, maar in Nederlands het aanvallen allerlei betekenisse en gebruike wat ons nie meer in Afrikaans ken nie. Die joernalis wat 'n groep oproerige betogers "aanvallig" genoem het, het dit dus vir Afrikaans heeltemal mis gehad. Daar sou aanvallend eerder kon deug.
2. afhanklik van, afhang van : Die betekenisgrens tussen hierdie twee frases vervloei dikwels, maar die noukeurige skrywer moet daartussen onderskei. Eersgenoemde beteken dat iets of iemand vir sy voortbestaan of onderhoud staatmaak op iets of iemand anders. 'n Pasgebore baba is vir oorlewing afhanklik van sy/haar moeder; 'n student is van sy/haar ouers of van 'n beursskema afhanklik terwyl hy/sy nog studeer.
Daarenteen hang die sukses van 'n skietstaking af van (is onderworpe aan, berus op) die bedinge en voorwaardes daarvan en die bereidheid van die strydende partye om daaraan te voldoen.
3. afdraand(e) x afdraend(e); opdraand(e) x opdraend(e): Al vier hierdie woorde het hul oorsprong in die Nederlandse werkwoorde afdragen en opdragen. Hoewel daar in Nederlands vir albei werkwoorde betekenisonderskeidings is wat klop met sommige betekenisonderskeidings van hulle Afrikaanse ekwivalente, is daar ook dié wat nie in Afrikaans bekend is nie.
Ek kan my nie as 'n kenner van óf Nederlands óf etimologie uitgee nie, maar dit is interessant dat die groot Nederlandse woordeboek, die WNT, by afdragende wel 'n betekenis gee wat ooreenstem met dié van afdraand/afdraande, nl. 'Schuin afloopende, hellend', maar nie iets soortgelyks by opdragend nie.
Sowel afdragende as opdragende is (byvoeglik gebruikte) onvoltooide/teenwoordige deelwoorde. In die standaardiseringsproses van Afrikaans het die -g- wat in Nederlands só tussen klinkers staan, feitlik deurgaans weggeval. Die ekwivalente Afrikaanse onvol-tooide/teenwoordige deelwoorde afdraende en opdraende, wat letterlik onderskeidelik 'besig om af te dra' en 'besig om op te dra' sal beteken, is wel denkbaar, maar gewis nie algemeen nie.
Hoe dit ook al sy, is daar drie goed omtrent die Afrikaanse afdraand 'dalende helling' en opdraand 'stygende helling' wat mens moet onthou:
(i) albei word met -aa- gespel, nie -ae- nie;
(ii) albei kan op 'n -d of op 'n -e eindig, soos wat "(e)" hier bo te kenne gee (indien dit byvoeglik voor 'n s.nw. gebruik word, meestal met -e), byvoorbeeld "Dit is 'n steil opdraand/opdraande" en "Die steil afdraande voetpad kou mens se enkels"; en
(iii) albei kan ook figuurlik gebruik word, byvoorbeeld Haar gesondheid is op die afdraand en Dis maar 'n opdraande stryd om alles betyds klaar te kry.
4. oppervlak x oppervlakte: In die praktyk loop dié twee woorde dikwels deurmekaar, maar eintlik verskil hulle betekenisse drasties. Oppervlak is bloot die boonste vlak van iets, waarvan sekere eienskappe wel genoem kan word, byvoorbeeld "'n koue/warm/skurwe/ gladde/ruwe/afgewerkte ens. oppervlak", maar nie grootte nie. Oppervlakte daarenteen is 'n grootheid wat area aandui en in vierkante metingseenhede aangegee (kan) word, soos morg, hektaar, m2, cm2 en so meer. (In die Staatstaaldiens destyds het ons soms met kennisgewings van byvoorbeeld die onderverdeling van landbougrond te doen gekry. Dan sou die Engels miskien lui "certain piece of land 12 hectares in extent" en die Afrikaans "sekere stuk grond groot 12 hektaar", maar dit is nie algemene taal of woordvolgorde nie.)
5. al te x alte: Wanneer 'n mens 'reeds te' bedoel, is al te twee woorde: "Dit is al te laat om nou by hulle te gaan kuier": 'reeds te laat'; "Ons het al te ver gestap om nou om te draai": 'reeds te ver'; "Hulle is al te oud om nog skolenetbal te speel": 'reeds te oud'. Alte, een woord, is weer 'n versterkende woord - dit versterk meestal 'n byvoeglike naamwoord, bv. as ouma vir haar kleindogter sê: "Maar jy lyk alte fraai vanoggend, my kind!" of "Julle weet alte goed dat julle gestraf gaan word as julle werk nie gedoen is nie"; of "Ek voel regtig nie alte gesond vandag nie".
Doeltreffende kommunikasie verg dat 'n mens die onderskeid tussen sulke oënskynlike pare noukeurig handhaaf.
JD (Tom) McLachlan
E-pos: tommcl@whalemail.co.za