Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Tydskrif vir Letterkunde
On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X
Tydskr. letterkd. vol.60 n.1 Pretoria 2023
http://dx.doi.org/10.17159/tl.v60i1.15774
BOOK REVIEWS
Narreskip.
Johan Myburgh.
Pretoria: Protea, 2022. 112 pp.
ISBN 9781485313458.
In 2022 seil "'n skifgevrete skip" die Afrikaanse letterkunde binne met 'n "onverkose skriba" aan boord wat verslag lewer oor die "kaders en kamerade" wat plunder en verorber en nes in Sokrates se geval, die "mees geslepe een" tot stuurman verkies. Reeds die woord kader laat 'n mens se nekhare rys, want dit is een van die woorde wat die meeste met ons ANC-regering geassosieer word.
Plato oor Sokrates oor skeepskapteine wat naragtig optree, was die voorganger van die Switser Brant se Das Narrenschiff (1494), waarin hy 'n skerp satiriese aanval loods op veral die kerk. Myburg verwys in sy eietydse Narreskip na "raconteurs soos Basjan Brant" wat leef in Schlaraffenland of Kaukanië en sluit sy intertekstuele spel met hierdie drie tekste soos volg af:
Inkontinent droom ons nie meer van vader-
of van vastelande nie-niks is meer so vas
soos die grond eens was nie. Suipers, flierefluiters
lanterfant ons, dobbel ons ontfut, ontlas
van kaart, transport en 'n landskap met einders.
Ontkim dobber ons, sekerder van die onwis
as die ontwykende wis, boude, oorboord poog
ons nie eens meer om drolle uit drinkwater te vis. (11)
'n Vonds in dié bundel is die spel met die toentertydse taal om die historiese konteks op te roep. Mettertyd besef die leser dat Myburg besig is om te spot met ons eie suipers en flierefluiters. In die gedig "Reinaard" (12) is ons in die Middeleeuse Nkandla, Malpertuis. (Laasgenoemde is weer die naam van 'n rillerroman en fliek en is ook 'n skeepsverhaal.)
In teenstelling met die eerste reeks verse in die bundel, word 'n gedig gewy aan Frans de Waal se boek oor die era van empatie (13), waar die lesse te leer uit die natuur toegelig word. Myburg bring dit ook in verband met ons politiek-korrekte samelewing waar dit gebruiklik is om mense wat van jou verskil, te kwets, solank jy hulle nie ape noem nie. En eintlik is dit geen belediging nie, want ape is "verrassend meelewend".
Die ontnugtering oor "die postkolonie en standaarde wat finaal duik" sluit aan by Myburg se vorige bekroonde bundel Uittogboek. Verse in die derde afdeling van die bundel word gegroepeer onder die titel, "Museum van verlore objekte" (35). In hierdie verse betreur die digter die steel en vernietiging van antieke kunswerke. "Lamassu" (35) handel oor die gevleuelde leeu met menskop en vlerke wat die stadspoorte bewaak, maar wat verniel word deur:
... 'n sot met 'n lugdrukboor [wat] die beitel in die pupil druk en in 'n oogwink die klipiris moer toe kraak.
Kunswerke wat strydig is met dogma word vernietig. Hier ter lande word die brand in die Jagger Leeskamer ook beskryf en met verwondering word die red van 'n skaars manuskrip deur Cervantes beskryf.
Myburg se kritiese blik op vernietiging en verval kom in die vierde afdeling nader aan die been, wanneer inbrake, rooftogte en moorde binne die veilige ruimte van die huis beskryf word. Skokkend is ook die gejag na liggaamsdele om in moetie te gebruik, wat soos volg afsluit:
[.] Hoe harder die slagoffer
skree des te sterker die krag
van die moetie en groter die opbrengs
wat hardhandigheid eindelik gee. (48)
Met 'n grimas en afgryse lees mens die gedig oor die seuns wat ter wille van viriliteit 'n wyfiekrokodil vang om haar "reptilies [te] naai" (49).
In "Kwarantynkwatryne" (65) word verskeie kwatryne aangebied waarin die ervaring van die inperking tydens die pandemie die kern vorm, terwyl in die daaropvolgende afdeling besin word oor die rol van kuns, die verhouding tussen mens en hond, asook die vernietiging van grasperke en tuine.
In die sewende afdeling is ons weer terug by die heer Brant en sy satiriese blik. In die eerste vers word die uitbuiting van die mens deur straatsmouse en geldskieters krities bespot. "Fuifliedere" sluit aan by die wéreldse musiek van Carmina Burana en die rol wat wyn en beskonkenheid speel om pyn te verdring. "Hillbrow" (100) is 'n nostalgiese teruggreep op die kinderjare, maar ook die verval van die stad wat metafories vergelyk word met 'n boek waarvan die rug gebreek is.
Die essensie van die digter se intertekstuele spel met die narreskip, word soos volg in die slotvers verwoord:
In dié boekhou van die kwaad wat weinig
verskil van vroeë vergrype-boos bly
onverbiddelik boos, soms meer bisar,
nietemin nie minder wreed nie [...] (106)
Alles word gerelativeer en daar word nie tot 'n slotsom gekom nie. Die stuurman wat belangrik voel as sy muitende matrose hom prys, is steeds met ons-en aan boord het hy 'n Johan Myburg as waarnemer en skriba, wat die wandade op- en oopskryf.
Marius Crous
Marius.crous@mandela.ac.za
Nelson Mandela Universiteit
Gqeberha, Suid-Afrika
ORCID: https://orcid.org/0000-0003-0753-7700