Serviços Personalizados
Artigo
Indicadores
Links relacionados
- Citado por Google
- Similares em Google
Compartilhar
Lexikos
versão On-line ISSN 2224-0039
versão impressa ISSN 1684-4904
Lexikos vol.32 Stellenbosch 2022
http://dx.doi.org/10.5788/32-1-1715
ARTICLES
Teksgebaseerde tesourusgebruik in 'n Afrikaanse taalonderrigkonteks
Text-based Use of a Thesaurus in an Afrikaans language and teaching context
Michele F. van der Merwe
Department Kurrikulumstudie: Afrikaans, Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch (michelevdm@sun.ac.za)
OPSOMMING
Die onderwerp van die artikel is die ontsluitingsmoontlikhede van tesourusgebruik in 'n Afrikaanse taalonderrigkonteks in die skoolklaskamer. Die tesourus is een van die oudste naslaanwerke in die geskiedenis van leksikografie; tog word dit nie in die aantal navor-singsartikels rakende die onderwerp gereflekteer nie. 'n Tesourus blyk nie 'n algemene fokuspunt van leksikografiese navorsing of opvoedkundige leksikografiese navorsing te wees nie. In 'n poging om die gaping in die literatuur te oorbrug, word daar oor die doel en leksikografiese funksie van 'n tesourus besin, veral in 'n taalonderrigkonteks. Die taalonderrigkonteks word vervolgens belig met verwysing na voorgestelde tesourusgebruik in skoolkurrikuladokumente, aangesien dit rigtinggewend is vir onderrigraamwerke in skole. Teksgebaseerde tesourusgebruik in die taalonderrigkonteks word aanbeveel en gemotiveer teen die agtergrond van 'n ondersoek na 'n tesourus en tematiese woordeboekafdelings. Aanbevelings vir enkele verbeterings tot leksikografiese produkte word vanuit 'n opvoedkundige leksikografiese perspektief gemaak ten einde optimale gebruik van 'n tesourus in 'n taalonderrigkonteks te verseker.
Sleutelwoorde: tesourus, teksgebaseerd, taalonderrigkonteks, woordeboekfunksie, opvoedkundige leksikografie, sinoniem, semantiese verhouding, woordeskatuitbreiding, woordeskatbenoeming, taalvariant
ABSTRACT
The topic of the article articulates and explores possibilities for the use of a thesaurus in the language and teaching context of the school classroom. Although the thesaurus is one of the oldest reference works in the history of lexicography, that fact is not reflected in the number of research articles on the topic. A thesaurus does not seem to be a general focus point of lexicographic research, nor be it of pedagogical lexicography. To address the gap in literature, the purpose and lexicographic functions of a thesaurus, especially in a language education context, are foregrounded. The language education context is illuminated with reference to the prescribed use of the thesaurus in school curricula documents, as they dictate the teaching policy in public schools. Text-based use of a thesaurus is recommended and is illustrated against the background of an investigation of a thesaurus and thematic dictionary sections. Recommendations for improvement of lexicographical products are made from a pedagogical lexicographic perspective to ensure optimal use of a thesaurus in a language education setting.
Keywords: thesaurus, text-based, language education context, dictionary function, pedagogical lexicography, synonym, semantic relation, vocabulary development, vocabulary acquisition, language variant
Die potensiele gebruik van 'n tesourus op skool, veral in die laerskool, mag 'n vreemde idee vir leksikograwe en onderwysers wees, aangesien tesourusgebruik gewoonlik met meer gesofistikeerde taalgebruikers geassosieer word. Skoolleerders word nie noodwendig as gesofistikeerde taalgebruikers beskou nie, aangesien hulle oor wisselende taalvaardighede en leksikografiese vaardighede beskik. 'n Tesourus is nie 'n bekende en algemeen gebruikte leksikografiese naslaanbron onder onderwysers nie. Tog verwys Tasovac (2012: 242) na navorsing in opvoedkundige leksikografie wat daarop dui dat die voorsiening van stelle semanties verwante woorde in 'n leksikografiese inskrywing taalaanleerders kan help om betekenis te verstaan en hul memorisering te verbeter (Geckeler 2002, Kremer et al. 2008).
Van Schalkwyk (1996: 286) beveel in 'n resensie van die Groot Tesourus van Afrikaans die onderrig van tesourusgebruik aan deur dit as 'n "noodsaaklikheid" te bestempel:
Waarop die voorafgaande afstuur, is die wenslikheid, nee, noodsaaklikheid dat die bestaan en waardevolle gebruike van die tesourus as besondere soort woor-deboek dieselfde gebruiksfrekwensie verkry as verklarende en vertalende (twee-talige) woordeboeke. Verder moet die woordeboekgebruiker (kleintyd) geskool word in die woordeboekkultuur en in die gebruik van die tesourus.
Carstens (1995: 205) is van mening dat daar in die moedertaalklas gedurende die primere onderwysfase met woordeboekpedagogiek begin moet word. Leerlinge en studente sal egter beslis daarby baat as woordeboekvaardighede gedurende ook die intermediere fases van tweede- en vreemdetaalonderrig geslyp word. Die verwagting word gestel dat leerlinge wat proefondervindelik oortuig geraak het van woordeboeke se probleemoplossende potensiaal selfstandige leerders sal word wat sal aanhou om woordeboeke te gebruik, selfs nadat die tydperk van formele taalonderrig afgesluit is (Carstens 1995: 205). Van der Merwe (2009: 302) bied 'n model vir woordeboekonderrig aan. Volgens die model bestaan woordeboekonderrig uit 'n proses met die volgende komponente: identifisering van uitkomste van die taalkurrikulum, vind van toepaslike woordeboek, metode van onderrig (verwysing na woordeboekteks en tesourusteks), woordeboeknaslaanvaardighede, woordeboektipologie en woordeboekfunksies (Van der Merwe 2009: 302).
Tesourusse, asook tesourusgebruik, figureer nie baie in akademiese opvoedkundige leksikografiese besprekings en tydskrifte nie, allermins in onderrigsituasiebesprekings. Soektogte in EBSCOhost se databasis onder soekwoorde soos "thesaurus" OR "thesaurus use" OR "lexicon" OR "glossary" OR "synonym dictionary" OR "vocabulary list", asook "language learning" OR "language teaching" OR "vocabulary learning" OR "vocabulary" OR "language skills" het tot gebrekkige soekresultate gelei, met slegs ses navorsingsartikels wat gevind is.
Drie navorsingsartikels is gevind wat op die onderrig van semantiese betrekkinge in taalonderrig fokus, maar met geen verwysing na tesourusgebruik nie, en word dus buite rekening gelaat in hierdie artikel. Augustosky en Fastman (2021) fokus op tesourusgebruik tydens die skryfproses, Stockdale (2019) op die skep van 'n tesourus vir kollegestudente, en Tamor en Walmsley (1983) op die voordele van die gebruik van 'n tesourus tydens redigeringstake in taalonderrig. Chainikova, Zatonskiy, Mitiukov en Busygina (2018) skryf oor die gebruik van 'n tesourus in die taalaanleerproses en slegs Mountain (2007) fokus op sinoniemonderrig met behulp van 'n tesourus.
Mountain (2007: 318) beskryf sinoniemonderrig met behulp van 'n tesourus deur na die voordele daarvan vir woordeskatonderrig, soos deur Graves (2006) en Cunningham en Allington (2007) beskryf, te verwys. Sy stel die gebruik van 'n tesourus in die klaskamer bekend deur leerders 'n dinkskrum-aktiwiteit te laat doen om geskikte sinonieme vir 'n semanties oormatig gebruikte woord, soos sê, te vind. Sinonieminskrywings in tesourusse word tydens die aktiwiteit verduidelik. Tesourusse is in die klas beskikbaar en leerders maak van ook aanlyn tesourusse gebruik. Soos leerders vertroud raak met tesourusgebruik, word 'n sinoniemspeletjie soos kolletjies-en-kruisies gedemonstreer en daarna ontwerp, aanvanklik deur die onderwyser en later deur die leerders, en leerders speel hul eie weergawes daarvan. Woorde soos tornado, orkaan en sikloon is as voorbeelde in die aanvangspel gebruik, aangesien dit weersomstandighede is wat aan leerders in die nagevorste omgewing bekend is. Met die opstel en speel van die sinoniemspeletjie vind groepbesprekings plaas en leerders vind gepaste sinonieme deur die semantiese waarde van 'n woord te bespreek. Sodoende word woordbewustheid gekweek. Die aangekweekte woordbewustheid en woordeskatontwikkeling vind volgens Mountain (2007: 322) verder neerslag in die klasgroep se skryfwerk soos die gereelde gebruik van 'n tesourus toeneem.
Met betrekking tot die gebruik van Tesourus van Afrikaans (voortaan TA) in die Afrikaanse taalonderrigsituasie is geen inligting gevind nie. Die ooglo-pende gaping in literatuur is dan ook een van die redes waarom hierdie navorsing onderneem word.
Hierdie artikel word gesitueer binne die konteks van opvoedkundige leksikografie met verwysing na tesourusgebruik in 'n opvoedkundige konteks, asook binne die teorie van leksikografiese funksies, met 'n bespreking van die leksikografiese funksies van tesourusse. Eerstens word die doel en leksikografiese funksies van 'n tesourus bespreek; tweedens word verwysings na tesourusgebruik in Afrikaanse skoolkurrikula ondersoek; derdens word die teksgebaseerde benadering tot die taalonderrigkonteks verduidelik; en in die laaste afdeling word teksgebaseerde tesourusgebruik in 'n skoolonderrigkonteks ondersoek, met verwysing na toepaslike leksikografiese voorbeelde. Aanbevelings word gemaak en moontlike wysigings voorgestel vir meer toepaslike leksikografiese hantering van tesourusartikels.
2. Doel en leksikografiese funksies van 'n tesourus in die taalonderrigkonteks
'n Tesourus verteenwoordig van die oudste leksikografiese werke, veral in die pre-alfabetiese tyd, toe alle woordeboeke tematies gerangskik is. Volgens Kay en Alexander (2016: 366) is 'n tesourus ook 'n leksikografiese naslaanwerk wat leksikale feite binne semantiese domeine weergee. Marello (1989: 1083) beskryf 'n tesourus as 'n woordeboek waarin die leksikale items gerangskik word met inagneming van hulle verhouding tot bepaalde konsepte of konsepkategoriee, maar ook met inagneming van hul onderlinge betekenisbetrekkinge. Kilgarriff en Yallop (2000: 1373) definieer 'n tesourus as 'n bron waar woorde met soortgelyke betekenisse saamgegroepeer is. Vier soorte tesourusse word onderskei, naamlik (1) tesourusse in boekformaat om gebruikers met woordkeuse te help; (2) WordNet-sagteware; (3) tesourusse in inligtingsprosesseringsisteme; en (4) outomatiese tesourusse wat met behulp van korpora saamgestel is om ooreenkomste tussen woorde te identifiseer (Kilgarriff en Yallop 2000: 1373). Dit is in teenstelling met drie soorte tesourusse wat deur Marello (1989: 1083) onderskei word, naamlik (1) kumulatiewe, (2) verklarende en (3) vertalende tesourusse, en verwys duidelik na die ontwikkeling van tesourusse, ook in die elektroniese omgewing. In 'n kumulatiewe tesourus word leksikale items onder 'n bepaalde konsep gerangskik sonder om vir hulle betekenisverklarings aan te bied., soos byvoorbeeld TA. 'n Verklarende tesourus bied betekenisverklarings vir woorde en uitdrukkings aan en 'n vertalende tesourus bied vertaalekwivalente vir woorde aan (De Stadler en De Stadler 2021: voorwoord).
In 'n tesourus word die struktuur van die woordeskat en die besondere verhoudings wat bestaan tussen die leksikale items in daardie woordeskat op die voorgrond geplaas. 'n Woordeskat vertoon 'n bepaalde struktuur waarbinne die verskillende leksikale items op grond van veral hulle betekenisse met mekaar saamhang. Veral vier betrekkinge kan binne hierdie struktuur onderskei word: sinonimie, hiponimie, meronimie en antonimie.
De Stadler en De Stadler (2021: voorwoord) beskryf die funksies van 'n tesourus volledig, naamlik (1) om die regte woord vir die regte konteks te sug-gereer; (2) hulp aan die skrywer om die stilisties lastige herhaling van 'n bepaalde woord te vermy deur die aandag te vestig op ander woorde wat min of meer dieselfde betekenis oordra; (3) die uitbreiding van die woordeskat van 'n taalgebruiker; en (4) om terminologiee vir bepaalde onderwerpe te verskaf
In ooreenstemming met die bogenoemde uiteensetting beskou Kay en Alexander (2016: 375) ook die algemeenste funksie van 'n tesourus as 'n hulpmiddel tot enkoderende take, naamlik die produksie van 'n teks. 'n Tesourus kan skrywers ondersteun om 'n alternatiewe woord te vind vir een wat reeds gebruik is, of om 'n meer gepaste woord vir 'n konsep te vind.
Met behulp van die leksikografiese funksieteorie vir gebruikersgerigte situasies kan daar aangetoon word dat 'n tesourus oor meer funksies beskik, veral as dit in 'n skoolonderrigkonteks ondersoek word.
Binne die raamwerk van die leksikografiese funksieteorie onderskei Tarp (2000: 196) tussen verskillende leksikografiese funksies van 'n woordeboek, waar 'n leksikografiese funksie gedefinieer word as "the endeavour and ability of the dictionary to cover the complex needs that arise in the user in a particular user situation". Hy onderskei twee hooffunksies met betrekking tot gebruikersituasies, naamlik kommunikatief en kognitief. Die belangrikste kommunikatiefgerigte funksies sluit onder meer hulp met die resepsie en produksie van tekste in die huistaal en addisionele taal, asook vertalings van tekste uit die huistaal in 'n addisionele taal, in. Wanneer die kommunikatiefgerigte funksies van 'n tesourus ter sprake is, is dit van toepassing op die resepsie en produksie van 'n huistaal en 'n addisionele taal. Die fokus van hierdie artikel is op tesourusgebruik in die skoolkonteks. 'n Tesourus kan kommunikatiefgerigte funksies binne 'n onderrigkonteks vervul tydens die resepsie en produksie van beide taalvlakke.
Vervolgens verwys Tarp (2000: 197) na kognitiefgerigte funksies, wat onder meer inligting rakende taal, algemene kulturele en ensiklopediese inligting, asook spesifieke inligting omtrent 'n vakgebied insluit. Binne die onderrigkonteks kan die genoemde funksies ter sprake kom tydens tesourusgebruik. Inligting aangaande taal is ter sprake in die onderrigkonteks, veral tydens woordeskatontwikkeling, woordeskatuitbreiding en die identifisering van semantiese verhoudings tussen leksikale items. Betreffende kulturele en ensiklopediese inligting verskaf 'n tesourus tematiesgebaseerde inligting omtrent die organisasie van kennis in die wêreld. Kulturele en ensiklopediese inligting kan baie relevant tot die onderrigkonteks wees.
Kennis van die leksikografiese doel en funksies van 'n tesourus in 'n taalonderrigkonteks kan lei tot die gebruik van 'n tesourus in die skoolkonteks, maar die beskouing van 'n tesourus in rigtinggewende kurrikulumdokumente vir taalonderrig is deurslaggewend. Onderwysers se onderrig word deur die kurrikulum gerig en indien tesourusgebruik in die kurrikulum genoem word, kan dit lei tot tesourusgebruik in die klaskamer. Die tersaaklike kurrikulumdokumente word in die volgende afdeling ondersoek om vas te stel of die gebruik van 'n tesourus genoem word.
3. Verwysing na tesourusgebruik in Afrikaans-skoolkurrikula
Onderwysers in Suid-Afrikaanse openbare skole word gelei deur kurrikulumbeleidsdokumente soos die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (voortaan KABV) en in 'n mindere mate departementeel goedgekeurde skoolhandboeke. Tydens die oorweging van (woordeboekgebruik en) tesourusgebruik in onderrigverband sal dit rigtinggewend wees om kurrikulumbeleidsdokumente te ondersoek. Volgens Nkomo (2015: 76) verwys KABV-dokumente vir die algehele skoolstelsel herhaalde male na die belangrikheid van woordeboeke en woordeboekvaardighede. Nkomo (2015: 76) beskou kurrikulumdokumente as verteenwoordigend van Suid-Afrika se opvoedkundige beleid aangaande woordeboekgebruik en woordeboekkultuur. In 'n soektog na die woord woordeboek of woordeboeke is gevind dat die woord in 11 dokumente ten opsigte van Engels as vak voorkom. Die dokumente verteenwoordig Engels op verskillende vlakke, naamlik as huistaal en eerste addisionele taal in die Grondslagfase, as huistaal, eerste addisionele taal en tweede addisionele taal vanaf die Intermediere Fase tot die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase (Nkomo 2015: 76). Kurrikulumdokumente vir ander tale, byvoorbeeld Afrikaans, kan as blote vertalings van die Engels beskou word. Nkomo (2015: 77) beskou die verwysing na woordeboekgebruik in taalvakke in die Suid-Afrikaanse opvoedingstelsel as 'n merkbare aanduider dat woordeboeke as taalaanleerinstrument beskou word. Leerders word vanaf die Grondslagfase aangemoedig om woordeboeke te gebruik om hul woordeskat uit te brei en om betekenis- en spelinligting te soek (Nkomo 2015: 77). Ouer leerders word aangemoedig om woordeboeke te gebruik vir inligtingstipes soos uitspraak, woordsoorte, sinonieme, antonieme en homonieme, as 'n erkenning van die belangrikheid van taal as kommunikasiemedium in leersituasies en die feit dat woordeboeke kommunikatiewe sowel as kognitiewe aktiwiteite kan ondersteun (Nkomo 2015: 77).
'n Elektroniese soektog na die soekwoord tesourus in kurrikulumdoku-mente vir Afrikaans Huistaal in die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase (voortaan VOO-fase) lewer insiggewende resultate op, naamlik 'n voorkoms van ses keer. Die voorkoms van die soekwoord tesourus is insiggewend aangesien die navorser nie voorsien het dat tesourusgebruik in skoolverband wel genoem sal word nie. Tesourusgebruik word gewoonlik met gesofistikeerde taalgebruikers geassosieer. Vervolgens word die voorkoms van die woord tesourus in die KABV in konteks (kursiefdruk) verskaf, gevolg deur 'n kort kommentaar deur die navorser in terme van leerdoelwitte, onderwysersrol en leerderaktiwiteite:
- Beplanning, navorsing en organisering. Gebruik bronne en verwysingsmateriaal soos woordeboeke en tesourusse om effektiewe en presiese woordeskat te kies en aanbiedings te lewer deur gebruik te maak van notas en rekwisiete, oudio- en/of visuele hulpmiddels en grafieke om die aanslag en akkuraatheid van aanbiedings te verhoog (DBO 2011c: 18). Leerdoelwitte word ten opsigte van twee taalvaardighede gespesifiseer. Die onderwysersrol word gestipuleer, maar verwagtinge ten opsigte van leerders word nie verskaf nie.
- Woordeboeke/tesourus vir luisterbegrip (DBO 2011c: 22). 'n Vae, nie-spesifieke leerdoelwit ten opsigte van een van die vier taalvaardighede word aangebied. Geen onderwysersrol word gestipuleer nie en verwagtinge ten opsigte van leerders word nie verskaf nie.
- Gebruik van woordeboeke, tesourusse en ander naslaanboeke om die betekenis, spelling, uitspraak, lettergreepverdeling en woordsoortlikheid van onbekende en komplekse woorde te bepaal (DBO 2011c: 24). Duidelike en spesifieke leerdoelwitte ten opsigte van taalstrukture en -konvensies word verskaf. Geen onderwysersrol word gestipuleer nie, maar verwagtinge ten opsigte van leerders word verskaf.
- Tekste vir gebruik tydens die geintegreerde onderrig van taalvaardighede. Naslaantekste: Ensiklopediee, handboeke, roosters, skedules, telefoongidse, tesourus, TVgidse, woordeboeke (DBO 2011c: 29). 'n Tesourus word as 'n naslaanbron erken en kan dus as teks vir integrasie van taalstrukture en -konvensies gebruik word, maar leerdoelwitte word nie gespesifiseer nie. Geen onderwysersrol word gestipuleer nie en verwagtinge ten opsigte van leerders word ongelukkig nie verskaf nie.
- Woordkeuse. Gebruik bronne en navorsingsmateriaal soos woordeboeke en tesou-russe om effektiewe en gepaste woorde te kies (DBO 2011c: 32). Die waarde van 'n tesourus as naslaanbron word erken en 'n spesifieke leerdoelwit word daarmee verbind, alhoewel dit vaag is en die konteks nie verskaf word nie. 'n Gepaste konteks kon moontlik kreatiewe skryf wees. Geen onderwysersrol word gestipuleer nie en verwagtinge ten opsigte van leerders word in 'n mindere mate verskaf.
- Woordelys. tesourus - 'n woordeboek wat volgens saakverbande georden is, saakwoordeboek (DBO 2011c: 101). In die kurrikulumdokumente word die konsep van 'n tesourus verklaar. Geen bronverwysing word aangedui nie, maar by nadere ondersoek is die bron opgespoor, naamlik die Pharos Verklarende Woordeboek. Dit is belangrik dat die woord tesourus in die woordelys opgeneem word en van 'n definisie voorsien word (die geslaagdheid van die betekenisoordrag van die definisie kan bevraagteken word). 'n Moontlike motivering vir die opname van tesourus is dat dit 'n minder bekende konsep as 'n woordeboek verteenwoordig. 'n Meer gepaste betekenisverklaring vir die gebruik deur onderwysers sou die verklaring deur De Stadler en De Stadler (2021: voorwoord) (sien Afdeling 2 in hierdie verband) wees. 'n Gepaste verklaring vir hoerskoolleerders kan uit die Verkla-rende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) verkry word, naamlik: "woordeboek waarin woorde sistematies volgens begrippe of konsepte gegroepeer is". 'n Meer gepaste verklaring vir die gebruik deur laerskoolleerders sou die Pharos Junior Tweetalige Skoolwoordeboek - Afr./Eng. se verklaring wees:
Die elektroniese soektog na die soekwoord tesourus in kurrikulumdokumente vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal in die VOO-fase lewer eweneens positiewe resultate op, naamlik 'n voorkoms van nege keer. Dit is min of meer 'n herhaling van resultate vir die Huistaalkurrikulum, met die volgende byko-mende inligting:
- Gebruik woordeboeke en tesourusse om woordeskat uit te brei (DBO 2011e: 37). 'n Leerdoelwit, alhoewel ietwat vaag, word ten opsigte van taalvaardighede gespesifiseer. Die onderwysersrol word gestipuleer, maar verwagtinge ten opsigte van leerders word nie verskaf nie.
- Gebruik woordeboeke en 'n tesourus om nuwe/onbekende woorde na te slaan (DBO 2011e: 62). 'n Leerdoelwit, alhoewel ietwat algemeen en nie-spesifiek, word ten opsigte van taalvaardighede verskaf. Die onderwysersrol word nie gestipuleer nie, maar verwagtinge ten opsigte van leerders word verskaf.
- Woordeboeke en 'n tesourus vir woordbetekenisse (DBO 2011e: 71). 'n Leerdoelwit word ten opsigte van taalvaardighede verskaf, maar dit is nie-spesifiek, aangesien dit net na woordbetekenis verwys. Die onderwysersrol word nie gestipuleer nie en verwagtinge ten opsigte van leerders word nie verskaf nie.
Die elektroniese soektog na die soekwoord tesourus in kurrikulumdokumente vir Afrikaans Tweede Addisionele Taal in die VOO-fase (DBO 2011f) lewer ook positiewe resultate op, naamlik 'n voorkoms van drie keer. In die kurrikulumverklaring word 'n tesourus aanbeveel as hulpmiddel vir die onderwyser en 'n tesourus kan ook as 'n teks gebruik word vir leerders. Te min inligting aan-gaande die gebruik van 'n tesourus as teks word aangebied om 'n onderwysersrol te stipuleer of om verwagtinge ten opsigte van leerders te konkretiseer. Aange-sien die kurrikulum onderrig vir taalaanleerders beskryf, kan volledige inligting omtrent die gebruik van 'n tesourusteks vir die aanleerderkonteks waardevol vir die taalonderwyser wees.
Dit is opvallend dat tesourusgebruik in die skool aanbeveel word, op alle vlakke van taalonderrig, insluitend huistaalvlak, addisionele-taal-vlak en tweedeaddisionele-taal-vlak. Aangesien 'n tesourus op 'n gesofistikeerde gebruiker gerig is, naamlik 'n gebruiker wat die tematiese werking van 'n tesourus verstaan en onder die knie het, kan dit nie aangeneem word dat 'n taalaanleerder oor die nodige vaardighede beskik om 'n tesourus suksesvol te gebruik nie. Taalaanleerders sal voldoende leiding van 'n onderwyser moet ontvang om 'n tesourus suksesvol te kan gebruik.
In sekere opsigte is kurrikulumvoorskrifte dus baie progressief en kan dit 'n groot bydrae maak tot doeltreffende tesourusgebruik in skoolonderrig. Gouws en Prinsloo (2005: 43) wys op die gebrek aan 'n woordeboekkultuur in Suid-Afrika en dit kan betwyfel word of die meerderheid van taalonderwysers bewus is van die voorstel in kurrikulumdokumente, asook van die onderrig-potensiaal van tesourusse. 'n Tesourus kan as 'n minder bekende leksikografiese produk, veral in skoolverband, beskou word en aktiwiteite vir tesourusgebruik figureer volgens die navorser se ervaring nie in voorgeskrewe taalhandboekreekse nie. Indien tesourusgebruik wel in handboekreekse sou figureer en meer onderwysers bewus word van die potensiele gebruik van tesourusse, kan die woordeboekkultuur in Suid-Afrika op 'n besliste wyse versterk word.
4. Teksgebaseerde benadering tot die taalonderrigkonteks
Tesourusgebruik in taalonderrigklasse, asook die onderrigbenadering vir onderwysers om te volg, word, soos in die vorige afdeling beskryf, in kurrikulumdokumente genoem. Volgens die KABV (DBO 2011c: 11) vir Afrikaans Huistaal moet die benadering tot taalonderrig "teksgebaseerd, kommunikatief, geintegreerd" asook "proses-georiênteerd" wees. Volgens Lawrence et al. (2014: 258) stel 'n teksgebaseerde benadering leerders in staat om vaardige, vrymoedige en kritiese lesers, skrywers en kykers van tekste te word. Dit sluit die luister en kyk na en lees en ontleding van tekste in om te verstaan hoe dit saamgestel is en watter effek dit het. Die hoofbron van inhoud en konteks vir die kommunikatiewe, geintegreerde leer en onderrig van taal is outentieke tekste (Lawrence et al. 2014: 258).
Die kommunikatiewe benadering vereis dat 'n leerder baie en ryk blootstelling aan die teikentaal moet kry. Om dit te bereik, moet leerders genoegsame geleenthede gebied word om taal te gebruik en te oefen.
Breê riglyne word in die KABV voorsien, soos leerderdeelname aan 'n debat waarvan die inhoud gebruik word vir die skryf van 'n argumenterende of beredenerende opstel, waarin grammatikale strukture soos sinonieme, anto-nieme, ontkenningsvorme, voegwoorde, ens. gebruik moet word (DBO 2011c: 11). Daarby word die gebruik van outentieke tekste (soos dialoê, onderhoude, ens.) aangemoedig ten einde leerders aan realistiese taal, waaruit grammatika onderrig kan word, bloot te stel. Die gebruik van outentieke tekste skep ook die geleentheid om leerders bewus te maak van die grammatikale strukture wat met spesifieke tekstipes geassosieer word, byvoorbeeld die gebruik van die verlede tyd in verhalende opstelle. Daarenbowe moet grammatika gekoppel word aan funksionele gebruike, onder andere die uitdrukking van gedagtes of gevoelens, die rig van versoeke, en die vergelyking en kontrastering van dinge (DBO 2011b: 10).
Goed-ingeligte taalonderwysers wat die voordele van tesourusse en woordeboeke in die klas insien op grond van die gebruikswaarde daarvan en die voordele aan woordeboekgebruik verbonde, sal van 'n tesourus gebruik kan maak. 'n Tesourus, vanuit die spesifieke aard daarvan, kan byvoorbeeld vir taalondersteuning en die uitbreiding van woordeskat gebruik word. Richards (1976: 78) se beskrywing van wat dit beteken "om 'n woord te ken" is volgens hom nie net beperk tot kennis van die woord se betekenis en vorm nie, maar ook afleidings, wat kennis van ook sintaktiese optrede en die netwerk van assosiasies met ander woorde insluit. Meara (1996) beskryf leksikale kennis deur aspekte van woordeskatgrootte, die getal leksikale eenhede wat die persoon ken en woordeskatorganisasie, naamlik hoe woorde 'n netwerk met mekaar vorm, te beklemtoon. Volgens Meara (1996) is daar 'n beduidende korrelasie tussen 'n groot woordeskat en 'n netwerk van betrekkinge en assosiasies tussen leksikale items.
Die bogenoemde netwerk van semantiese betrekkings tussen leksikale items word in 'n tesourus verskaf en daarom kan 'n tesourusteks dus as 'n uiters gepaste teks beskou word vir die onderrig van semantiese betrekkinge. Vergelyk De Stadler en De Stadler (2021: voorwoord) in hierdie verband:
'n Woordeskat (ook leksikon genoem) - en die Afrikaanse woordeskat is hier geen uitsondering nie - vertoon naamlik 'n bepaalde struktuur waarbinne die verskillende leksikale items op grond van veral hulle betekenisse met mekaar saamhang.
In 'n tesourus word die struktuur van die woordeskat en die besondere verhoudings wat bestaan tussen die leksikale items in daardie woordeskat egter wel op die voorgrond geplaas en moet die woordeboekgebruiker dus verwag om inligting te kry oor die sinonieme, teenoorgesteldes, hiponieme of superordinate van 'n bepaalde woord.
Die onderrig van 'n netwerk van semantiese betrekkinge van die leksikon kan direk met sekere leerdoelwitte van die KABV geskakel word, naamlik:
- Onderskeiding tussen woorde wat algemeen verwar word: homofone, homonieme, sinonieme (bv. erken/herken, bedank/afdank, verliefde/geliefde). Skep van lyste homonieme, sinonieme en antonieme. (DBO 2011c: 24, 25)
Teksgebaseerde onderrig kan met behulp van 'n tesourus plaasvind wanneer die onderwyser die tesourus as teks gebruik en taalkonvensies en -strukture daarmee onderrig. Die onderwyser kan artikels uit die tesourus as teks tydens die onderrigproses gebruik. In die volgende afdeling word voorbeelde van die teksgebaseerde kommunikatiewe onderrig van semantiese betrekkinge met behulp van 'n tesourus bespreek, met spesifieke verwysing na tesourusartikels wat as teks gebruik word.
5. Teksgebaseerde tesourusgebruik in 'n skoolonderrigkonteks
Vervolgens word kurrikulumgerigte taalleerdoelwitte in die skoolonderrigkonteks geskakel met voorbeelde van teksgebaseerde tesourusgebruik, met verwysing na die onderskeie onderrigfases. Voorbeelde van tesourusartikels as tekste in kommunikatiewe onderrigaktiwiteite word bespreek. Vier tesourusverwante onderrigdoelwitte, naamlik woordeskatonderrig, woordeskatuitbreiding, onderrig van semantiese verhoudings en onderrig van taalvariante, word aan die hand van toepaslike tesourustekste gei'llustreer.
Woordeskatonderrig vind in veral die Grondslagfase in die huistaal, maar ook addisionele taal, plaas, waar leerders oor ontluikende geletterdheidsvaardighede beskik. Woordeboeke gerig op die Grondslagfase word gewoonlik tematies of gedeeltelik tematies gestruktureer met verwante konsepte bymekaar gegroepeer, en verteenwoordig dus 'n tesourusafdeling in 'n woordeboek. Alhoewel aktiwiteite uit 'n formele tesourus nie in die Grondslagfase aanbeveel word nie, kan tematiese afdelings vir woordeskatuitbreiding gebruik word.
Tesourusafdelings in woordeboeke gerig op die Grondslagfase verwys gewoonlik na kurrikulumgerigte temas wat gereeld in die Grondslagfase gebruik word. Sien 'n illustrasie uit die Oxford First Bilingual Dictionary - English + Afrikaans as voorbeeld.
'n Groot, kleurvolle beeidende illustrasie van 'n akwarium word verskaf. Aan weerskante van die bladsy word komponente wat in die beeldende illustrasie voorkom in twee tale benoem en van 'n prentjie voorsien. Woordeskatontwikkeling kan plaasvind met die verskaf van konsepte wat tematies verband hou met die akwarium, byvoorbeeld dolfyn, paling, vin, kieu en seekat. Dit kan impetus gee vir die ontwikkeling van woordeskatvaardighede met behulp die van inoefening van praat- en skryfvaardighede.
'n Sogenaamde raaiselvraag word telkens gevra, wat verseker dat leerders by die prent betrokke raak. In die betrokke toneel is die raaiselvraag: "Watter soort seedier sou jy graag wou wees?" So 'n vraag laat leerders dink en 'n mening oor 'n saak lug, wat denkvaardighede, praatvaardighede en fonemiese bewustheid aanmoedig.
'n Bladsy word gewy aan konsepte wat in 'n antonimiese verhouding tot mekaar staan, byvoorbeeld donker teenoor lig, eenders teenoor verskillend, en gelukkig teenoor treurig. Konsepte word met behulp van verduidelikende en verhelderende illustrasies duidelik aan leerders oorgedra. Aan die onderkant van die bladsy word voorbeeldsinne in beide tale verskaf waar die gebruik van antonieme gedemonstreer word. Die onderwyser kan die bladsy op 'n teksgebaseerde wyse in die klaskamer gebruik om antonimie te demonstreer en te oefen.
Volgens Antonacci en O'Callaghan (2011: 10) ontwikkel leerders se woordeskat vinnig in die Grondslagfase, maar vanaf graad 4, oftewel die Intermediêre Fase, begin leerders met 'n swakker woordeskat struikelblokke met leesbegrip en vakwoordeskat ervaar. Woordeskatuitbreiding speel dus 'n deurslaggewende rol in huistaalonderrig en addisioneletaalonderrig. Tesourusgebruik word nie in die laerskool in kurrikulumdokumente (DBO 2011a, DBO 2011d) aanbeveel nie, maar soms is daar wel gepaste leksikografiese produkte om te gebruik in die onderrigkonteks. 'n Woordeboek soos die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek, waar innoverende leksikografiese praktyke soos die invoeg van tesouruskassies gebruik word, kan vir Afrikaans Huistaal vanaf graad 4 of Afrikaans Addisionele Taal vanaf graad 6 gebruik word. Vergelyk byvoorbeeld die lemma kieskeurig in hierdie verband:
kieskeurig b.nw., bw. [kieskeuriger, die kieskeurigste] kieskeurig wees moeilik wees om tevrede te stel ten opsigte van kos/klere. ens.: Nkola is so kieskeurig; ek weet nie wat om hom vir sy verjaardag te gee nie. Ek is baie kieskeurig as dit by vis kom; ek maak altyd seker dis vars.
TESOURUS
Die gebruiker van die woordeboek vind 'n verklaring van die woord, maar bykomend ook 'n ingevoegde teks, die sogenaamde tesouruskassie, waar sinonieme vir die lemma, asook voorbeelde van die gebruik daarvan, verskaf word. Dit is tot voordeel van die gebruiker, veral die ontwikkelende woordeboekgebruiker in die laerskool, wanneer addisionele inligting rakende sinoniem-gebruik verskaf word. So 'n hibriede karakter van 'n skoolwoordeboek, met alfabetiese sowel as tematiese bewerking, getuig van gebruikersvriendelikheid, waar die gebruiker se taalvaardigheidsvlak in ag geneem word.
Met teksgebaseerde tesourusgebruik kan die onderwyser dus in hierdie geval die onderrig van die betekenisverklarings van 'n woord, asook die sinonieme van 'n woord, as onderrigdoelwit verwesenlik.
Die onderwyser in die laerskool kan ook van 'n tesourus gebruik maak, maar moontlik met beperkte tesourustekste. Vergelyk byvoorbeeld die uittrek-sel onder die inskrywing kossoort, uit die aanlyn weergawe van TA:
Met teksgebaseerde tesourusgebruik kan die onderwyser woordeskatontwikkeling tydens kreatiewe skryfwerk as onderrigdoelwit verwesenlik deur leerders verskillende woorde uit die bogenoemde teks te laat gebruik. Voordat die verskillende woorde gebruik word, kan 'n klasbespreking oor die verskillende gebruike en betekenisse van die tematies verwante woorde plaasvind.
Die volgende uittreksel uit die lemma natuur uit TA kan moontlik gebruik word vir woordeskatontwikkeling tydens kreatiewe skryfwerk in die hoêrskool, aangesien dit uiteenlopende sake onder die spesifieke onderwerp in bestek het:
Semantiese verhoudings soos sinonimie, antonimie, hiponimie en meronimie vorm deel van die wesenlike aard van 'n tesourus en die onderrig daarvan kan suksesvol met 'n tesourus bereik word aangesien dit woordbewustheid kan kweek. Soos reeds genoem, val die onderrig van semantiese verhoudings tussen woorde binne die bestek van Afrikaanse taalkurrikula. Die verskillende soorte semantiese betrekkinge tussen leksikale items word in die voorwoord van TA deeglik uiteengesit, in 'n verduideliking waarby die taalonderwyser, maar ook die leerder en ander moontlike gebruikers van die tesourus, sal baat. Volgens De Stadler en De Stadler (2021: voorwoord) kan verskillende soorte verhoudings binne hierdie struktuur onderskei word, waaronder veral die volgende vier:
Die bogenoemde teks rakende natuur kan as 'n voorbeeld dien vir teksgebaseerde onderrig van bovermelde semantiese verhoudinge. Indien die teks vanaf die begin bestudeer word, kan daar opgemerk word dat die woorde diereryk en fauna in 'n sinonimiese verhouding met mekaar staan, en hulle is dan ook met behulp van 'n komma geskei. Dieselfde geld vir die woorde planteryk en flora. Tussen natuurryk en diereryk bestaan 'n hiponimiese verhouding, maar dit word nie so vir die gebruiker aangedui nie. 'n Gebruiksetiket sou hier waardevol wees, veral vir die hoërskoolgebruiker.
Onder natuurmens word stroper en wildstroper as teenstelling tot buitemens en ander sinonieme verskaf. Dit word heeltemal korrek met 'n kommapunt aangedui en is 'n konvensie wat die gebruiker kan aanleer. Dit sou egter meer gebruikersvriendelik wees indien 'n etiket soos "antoniem" of "teenstelling" voorsien kon word.
Tesourustekse leen hulle dus by uitstek tot die onderrig van semantiese betrekkinge tussen leksikale items, wat gekombineer kan word met verskeie lees- en skryfvaardighede, soos soeklees en kreatiewe skryfwerk.
Tesourustekste uit TA kan effektief gebruik word tydens die onderrig van taalvariante ook, alhoewel die verskaffing van taalvariante nie noodwendig as deel van die wesensaard van 'n tesourus gereken word nie. Dit wil voorkom asof die etiket "lekties" gebruik word om na taalvariante te verwys, maar die gebruik en bestek van die etiket word nie in TA verklaar nie. Met 'n elektroniese soektog is vasgestel dat die etiket "lekties" in die meeste gevalle na Kaapse Afrikaans verwys. Die etiket word 149 maal in TA gebruik. Die artikel liefde en vriendskap dien as voorbeeld waar talle woorde van etikette voorsien is, onder andere "lekties":
Met die bestudering van hierdie artikel kan interessante klasgesprekke rakende taalvariante in Afrikaans ontgin word, byvoorbeeld oor taalidentiteit, taalnorme en taalpersepsies. Ongelukkig gaan onderwysers en leerders eerstens nie weet dat taalvariante deur die tesourus aangedui word nie en tweedens heel moontlik nie daarvoor soek nie. Hier kort die gebruiker dus leiding deur 'n verklaring van die verskynsel en etiket, hoe dit in die tesourus gebruik word en hoe om daarvoor te soek.
Dit kan vir 'n onderwyser nuttig wees om 'n soektog na verskeie taal-variante, byvoorbeeld Overbergse Afrikaans, Noordwestelike Afrikaans, asook Swartlandse Afrikaans (wat nie onder taalvariante gelys word nie) te kan loods. Aanlyn soektogte na ander taalvariante as Kaapse Afrikaans het geen resultate opgelewer nie. Bykomende waardevolle soektogte kan ook na voorbeeldwoorde met etikette soos sleng, figuurlike taalgebruik of verouderde taalgebruik uitgevoer word, aangesien dit binne die onderrigraamwerk van die Afrikaanse vakkurrikulum val. Dit blyk tans nie moontlik te wees nie.
'n Etiket wat die samestellers moontlik kan oorweeg om by te voeg, is dié van idiomatiese uitdrukkings, aangesien dit 'n belangrike komponent van die onderrig van taalstrukture en -konvensies behoort uit te maak. Idiomatiese uitdrukkings kan ook 'n rol speel in die woordeskatontwikkeling van taalaanleerders. Indien idiomatiese uitdrukkings duidelik gemerk is, kan die gebruiker (onderwyser en leerder) dit maklik identifiseer en taalkundig korrek daarmee omgaan.
Die gebruik van 'n tesourus in die taalklas kan met die gebruik van verklarende en vertalende woordeboeke in die huistaal- en addisioneletaalklas gepaardgaan. Kundige onderwysers en gebruikersvriendelike woordeboeke kan tot voordeel van die gebruiker wees en sodoende bydra tot die skep van 'n woordeboek- (en tesourus-) kultuur in Suid-Afrika.
6. Gevolgtrekking
Ondersoek is ingestel na die moontlike gebruik van 'n tesourus in die taalonderrigkonteks van verskillende taalvlakke in Suid-Afrika. Die onontginde potensiaal van die tesourus in 'n taalonderrigkonteks op skool is in die artikel beklemtoon, met verwysing na die ontsluiting van moontlikhede vir onderrig.
Die doel en leksikografiese funksies van 'n tesourus is beskryf en teen die agtergrond van 'n taalonderrigkonteks gesitueer in 'n poging om die gaping in die literatuur te oorbrug. Konteks vir taalonderrig is verskaf, met verwysing na voorgeskrewe tesourusgebruik in skoolkurrikuladokumente, aangesien dit rigtinggewend en beleidmakend vir onderrigraamwerke in skole is. Teksgebaseerde tesourusgebruik word voorgestel en dit word geillustreer teen die agtergrond van 'n ondersoek na 'n tesourus en tematiese woordeboekafdelings in woordeboeke. Met behulp van teksgebaseerde tesourusgebruik kan die onderwyser 'n tesourus as teks gebruik in die onderrig van taalstrukture en -konvensies.
Dit word sterk aanbeveel dat naslaanwerke soos woordeboeke en tesourusse as verpligte materiaal vir skole aangekoop word. Dit kan verseker dat onderrigdoelwitte, soos in die taalkurrikula gestipuleer, verwesenlik word indien onderwysers en leerders voldoende toegang tot woordeboeke en tesourusse het. Samewerking tussen die Departement van Basiese Onderwys, woordeboekuitgewers en nasionale woordeboekeenhede kan lei tot verhoogde en verbeterde gebruik van leksikografiese produkte. Dit kan moontlik lei tot 'n verbetering in die geletterdheidsvlak in Suid-Afrika.
Aanbevelings van enkele verbeterings tot leksikografiese produkte word vanuit 'n opvoedkundige leksikografiese perspektief gefundeer ten einde optimale gebruik in 'n taalonderrigkonteks te verseker. Die volgende aanbevelings vir Tesourus van Afrikaans geld indien die skoolkonteks ook as gebruikerskonteks verreken word:
(1) Oorweeg 'n meer gebruikersvriendelike skooluitgawe gemik op leerders en onderwysers.
(2) Ontwerp aanlyn kurrikulumgerigte aktiwiteite op alle taalvlakke gerig op tesourusgebruik.
(3) Ontwerp aanlyn onderwysershandleidings gerig op tesourusgebruik.
(4) Maak onderwysers, ouers en leerders op die sosiale media bewus van tesourusgebruik.
(5) Verlewendig die bestaande webwerf met daaglikse bywerkings, byvoorbeeld "sinonieme van die dag".
Daar word aanbeveel dat soektogte in die aanlyn weergawe van TA verbeter word. Die gebruiker kry 'n aantal opsies om 'n soektog uit te voer, maar slegs een opsie lewer resultate, aangesien die gebruiker nie 'n antwoord kry wanneer die soekbevel "soek vir enige van hierdie woorde" gegee word nie, maar slegs as "presiese frase" as soekbevel gebruik word. Dit is inligting wat nie aan die gebruiker in die inleiding ("Die aard en gebruik van 'n tesourus") verskaf word nie. Indien 'n gebruiker dit nie toevallig agterkom nie, is daar geen waarborg dat 'n suksesvolle soektog uitgevoer kan word nie, want heel moontlik gee die gebruiker moed op na die eerste mislukte soektog.
Aangesien kurrikulumdokumente vir die onderrig van al die taalvakke op skool dieselfde beleid ten opsigte van taalonderrig in Suid-Afrika volg, kan die samestelling van 'n tesourus asook die bogenoemde aanbevelings vir nasionale woordeboekeenhede van toepassing wees op al die inheemse tale van Suid-Afrika.
Bibliografie
Woordeboeke
De Stadler, L.G. en A. de Stadler. 2021. Tesourus van Afrikaans. Kaapstad: Pharos (aanlyn) [ Links ]
Luther, J. 2009. HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek. Kaapstad: Pearson Education. [ Links ]
Odendal, F.F. en R.H. Gouws. 2005. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson Education. [ Links ]
Paizee, D., L. Roos en M. Janse van Rensburg. 2021. Oxford First Bilingual Dictionary - English + Afrikaans. Kaapstad: Oxford University Press Southern Africa. [ Links ]
Ander bronne
Antonacci, P.A. en C.M. O'Callaghan. 2011. Developing Content Area Literacy. Los Angeles, CA: Sage. [ Links ]
Augustosky, T. en B. Fastman. 2021. Tools to Help You Write Clear Environmental Health Messages. Journal of Environmental Health 84(5): 30-31. [ Links ]
Carstens, A. 1995. Language Teaching and Dictionary Use: An Overview. Lexikos 5: 105-116. [ Links ]
Chainikova, G.R., A.V. Zatonskiy, N.W. Mitiukov en H.L. Busygina. 2018. Development of Foreign Language Lexical Competence on the Basis of a Learner's Terminological Thesaurus and Dictionary. European Journal of Contemporary Education 7(1): 51-59. [ Links ]
Cruse, D.A., F. Hundsnurscher, M. Job en P.R. Lutzeier (Reds.). 2002. Lexikologie. Ein internationales Handbuch zur Natur und Struktur von Wörtern und Wortschätzen. Handbücher zur Sprach- und Kommunikationswissenschaft 21(1). Berlyn/New York: Walter de Gruyter. [ Links ]
Cunningham, P.M. en R.L. Allington. 2007. Classrooms that Work: They Can All Read and Write. Boston: Allyn & Bacon. [ Links ]
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011a. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Huistaal: Graad 4-6. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011b. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Huistaal: Graad 7-9. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011c. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Huistaal: Graad 10-12. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011d. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Eerste Addisionele Taal: Graad 4-6. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011e. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Eerste Addisionele Taal: Graad 7-9. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011f. Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Afrikaans Eerste Addisionele Taal: Graad 10-12. Finale hersiening. Pretoria: Staatsdrukker. [ Links ]
Durkin, P. (Red.). 2016. The Oxford Handbook of Lexicography. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Geckeler, H. 2002. Anfänge und Ausbau des Wortfeldgedankens. Cruse, D.A., F. Hundsnurscher, M. Job en P.R. Lutzeier (Reds.). 2002: 713-728.
Gouws, R.H. en D.J. Prinsloo. 2005. Principles and Practice of South African Lexicography. Stellenbosch: African Sun Media. [ Links ]
Granger, S. en M. Paquot (Reds.). 2012. Electronic Lexicography. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Graves, M.F. 2006. The Vocabulary Book: Learning & Instruction. New York: Teachers College Press. [ Links ]
Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991. Worterbücher, Dictionaries, Dictionnaires. An International Encyclopedia of Lexicography. Berlyn: Walter de Gruyter. [ Links ]
KABV. Sien Departement van Basiese Onderwys (DBO).
Kay, C. en M. Alexander. 2016. Diachronic and Synchronic Thesauruses. Durkin, P. (Red.). 2016: 367-392.
Kilgarriff, A. en C. Yallop. 2000. What's in a Thesaurus? Proceedings of the Second International Conference on Language Resources and Evaluation (LREC'00), May 2000, Athens, Greece. European Language Resources Association (ELRA): 1371-1379. Beskikbaar: https://aclanthology.org/L00-1134/ [26 April 2022].
Kremer, G., A. Abel en M. Baroni. 2008. Cognitively Salient Relations for Multilingual Lexicography. Zock, M. en C.-R. Huang (Reds.). 2008: 94-101.
Lawrence, D., M. le Cordeur, L. van der Merwe, C. van der Vyver en R. van Oort. 2014. Afrikaans-metodiek deur 'n nuwe bril. Kaapstad: Oxford University Press. [ Links ]
Marello, C. 1989. The Thesaurus. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 1083-1094.
Meara, I.S.P. 1996. The Dimensions of Lexical Competence. Brown, G., K. Malmkjaer en J. Williams (Reds.). 1996. Performance and Competence in Second Language Acquisition: 35-53. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Mountain, L. 2007. Synonym Success: Thanks to the Thesaurus. Journal of Adolescent & Adult Literacy 51(4): 318-324. [ Links ]
Nkomo, D. 2015. Developing a Dictionary Culture Through Integrated Dictionary Pedagogy in the Outer Texts of South African School Dictionaries. Lexicography 2(1): 71-99. [ Links ]
Richards, J.C. 1976. The Role of Vocabulary Teaching. TESOL Quarterly 10(1): 77-89. [ Links ]
Stockdale, J.G. 2019. A Dictionary and Thesaurus of Contemporary Figurative Language and Metaphor. Aanlyn voorlegging. Beskikbaar: https://search.ebscohost.com/login.aspx?direct=true&db=eric&AN=ED594968&site=ehost-live&scope=site [30 Julie 2022].
Tamor, L. en S. Walmsley. 1983. Using a Thesaurus in the Elementary School: Some Cautions. Language Arts (60)5: 554-57. [ Links ]
Tarp, S. 2000. Theoretical Challenges to Practical Specialised Lexicography. Lexikos 10: 189-208. [ Links ]
Tasovac, T. 2012. Potentials and Challenges of WordNet-based Pedagogical Lexicography: The Transpoetika Dictionary. Granger, S. en M. Paquot (Reds.). 2012: 237-258.
Van der Merwe, M.F. 2009. Die opvoedkundige waarde van woordeboeke: Voorstelle vir woorde-boekonderrig in Suid-Afrika. Lexikos 19: 297-313. [ Links ]
Van Schalkwyk, C. 1996. Resensie: De Stadler, L.G. en Amanda de Stadler. Groot Tesourus van Afrikaans. Lexikos 6: 283-293. [ Links ]
Zock, M. en C.-R. Huang (Reds.). 2008. COLING 2008: Proceedings of the Workshop on Cognitive Aspects of the Lexicon (COGALEX 2008), 24 August 2008, Manchester, United Kingdom. Stroudsburg, PA, VSA: Association for Computational Linguistics [Intyds]. Beskikbaar: https://dl.acm.org/action/showBook?doi=10.5555/1598848.