Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Lexikos
On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904
Lexikos vol.32 spe 2 Stellenbosch 2022
http://dx.doi.org/10.5788/32-3-1733
ARTIKELS/ARTICLES
Ruimtelike en temporele leksikografiese deiktiese verankering
Spatial and Temporal Lexicographic Deictic Anchoring
Rufus H. Gouws
Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch, Suid-Afrika. (rhg@sun.ac.za)
OPSOMMING
In hierdie bydrae word daar eerstens aandag gegee aan deiksis as 'n verskynsel in die semantiek. Die oordrag van deiksis na die leksikografie word bespreek en die verskynsel van leksikografiese deiktiese verankering word aan die orde gestel. Dit word aangetoon dat hierdie verankering op verskillende maniere gedoen kan word. Leksikograwe moet telkens besluit hoe hierdie proses ten beste in 'n bepaalde woordeboek uitgevoer moet word. Verskillende tipes teks-segmente kan gebruik word om deiktiese verankering te bewerkstellig en die optrede van teksseg-mente soos aanduiders, aanduidersimbole en aanduiderdele word kortliks bespreek.
Die hooffokus is op ruimtelike en temporele leksikografiese deiktiese verankering. Verskillende deiktiese merkers en verankeringsprosedures word bespreek. Daar word aangetoon dat woordeboeke hier naas enkelaanduiders ook soms aanduiderkomplekse gebruik en dat die aanduiderkomplekse 'n eenvormige of 'n hibriedeformaat kan hê. Daar word voorgestel dat suksesvolle deiktiese verankering dikwels vereis dat woordeboeke 'n primêre verankeringsprosedure moet aanvul met sekondêre verankering. Deiktiese verankering word as 'n veelfasige proses beskryf. Die bespreking word deurgaans aan die hand van opgetekende woordeboekvoorbeelde gedoen. Op grond van die bevindinge in die besprekinge word voorstelle aan die hand gedoen vir verbeterde prosedures van deiktiese verankering.
Sleutelwoorde: aanduidersimbool, deiktiese verankering, hibriede-aanduiderkompleks, internuitgebreide aanduider, leksikografiese deiksis, leksikografiese deiktiese sentrum, leksikografiese etikette, neologismes, primêre deiktiese aanduider, rudimentêre deiktiese verankering, sekondêre deiktiese aanduider
ABSTRACT
In this contribution attention is given to deixis as it is known in the field of semantics. The transfer of deixis to lexicography is discussed and the concept of lexicographic deictic anchoring is brought to the fore. It is shown how this anchoring can be executed in different ways. Lexicographers need to decide how to employ this procedure in a specific dictionary. Different types of text segments can be used to enable deictic anchoring. These segments that include items, item symbols and item parts are briefly discussed.
The main focus of this article is on spatial and temporal lexicographic deictic anchoring. Different deictic markers and anchoring procedures are discussed. In this regard it is shown that dictionaries do not only employ single items but also item complexes and that these item complexes can have a uniform or a hybrid format. It is suggested that successful deictic anchoring often demands that dictionaries should complement a primary anchoring procedure with secondary anchoring procedures. Deictic anchoring is discussed as a multi-phased process. The discussion is illustrated by real examples from dictionaries. Following the discussion suggestions are made for improved procedures of lexicographic deictic anchoring.
Keywords: deictic anchoring, hybrid item complex, internally-expanded item, item symbol, lexicographic deictic centre, lexicographic deixis, lexicographic labels, neologisms, primary deictic item, rudimentary deictic anchoring, secondary deictic item
1. Inleiding
Deur die keuse van leksikale items om as lemmas opgeneem te word, weerspieël 'n woordeboek daardie deel van die leksikon en van die werklike taalgebruik wat binne die tipologiese opdrag van die spesifieke woordeboek val. Die lemmas is makrostrukturele elemente en die makrostruktuur is 'n ordeningstruktuur (vergelyk Wiegand en Gouws 2013: 79) wat die lemmas volgens bepaalde beginsels rangskik. Deur 'n alfabetiese ordening word die lemmas in 'n woordeboek gedekontekstualiseer en die leksikograaf moet die artikel met bykomende aanduiders aanvul sodat gebruikers bewus kan raak van bepaalde semantiese en ander verbande waarin woorde optrede.
Lemmas en ander aanduiders in 'n artikel behoort nie altyd tot die verstekvariëteit van die taal van 'n betrokke woordeboek nie en dit is die taak van die leksikograaf om die gebruiker te help om bewus te wees van hierdie afwyking van die verstekwaarde. Waar 'n woordeboek in gebreke bly om dit te doen, kan dit die sukses van 'n woordeboekraadpleging negatief beïnvloed. Leksikograwe gebruik etikette en ander aanduiders om te help met die pragmatiese verbandlegging tussen 'n woordeboekinskrywing en die buitewoordeboekwêreld. Aspekte van hierdie leksilkografiese prosedure word in hierdie artikel bespreek. Bestaande bewerkings word krities bekyk en voorstelle vir verbeterde leksikografiese werkswyses word aan die hand gedoen.
2. Leksikografie en linguistiek
Volgens Wiegand (1989: 251) is die leksikografie 'n praktyk wat gerig is op die totstandkoming van woordeboeke, sodat 'n volgende praktyk, te wete die kulturele praktyk van woordeboekgebruik, moontlik gemaak kan word. Naas die leksikografiepraktyk is daar die teoretiese leksikografie, ook bekend as metaleksikografie of woordeboeknavorsing. Sommige leksikograwe beskou die metaleksikografie as 'n onafhanklike dissipline en hulle benadruk dit dat dit nóg 'n subdissipline van die linguïstiek nóg 'n vorm van toegepaste taalkunde is. Vergelyk in hierdie verband onder meer Wiegand (1989: 250, 258, 266), Bergenholtz en Tarp (2003) en Tarp (2008).
Onlangse navorsing in die metaleksikografie fokus onder meer op die belang daarvan om nie hierdie onafhanklike dissipline slegs in isolasie te beskou nie, maar om die interdissiplinêre aard van die metaleksikografie te erken. In hierdie verband is die wisselwerking tussen metaleksikografie en byvoorbeeld inligtingkunde en rekenaarwetenskap van wesenlike belang. Vergelyk in hierdie verband onder meer Bothma, Gouws en Prinsloo (2016) asook Bothma (2018). Om verder te kyk as net 'n fokus op die taalkundige inhoud van woordeboeke en om binne 'n omvattende woordeboekkultuur te werk wat uitgebrei is na sowel woordeboeke gerig op taal vir algemene doeleindes as woordeboeke gerig op taal vir spesifieke doeleindes, bewys die belang van 'n gepaste leksikografieteorie in die beplanning en samestelling van albei hierdie breë woordeboekkategorieë. Dit benadruk ook die belang van samewerking tussen leksikograwe en vakkundiges uit hierdie velde wanneer daar aan die spesifieke woordeboeke gewerk word.
Die interdissiplinêre aard van die leksikografie moet ook samewerking tussen leksikografie en linguistiek bevorder. Met betrekking tot die verhouding tussen hierdie twee velde kan verskeie benaderings onderskei word. Sommige leksikograwe en linguiste erken nie die bestaan van leksikografieteorie nie, vergelyk byvoorbeeld Atkins en Rundell (2008) en Béjoint (2010). Vir hulle behoort die gesprek oor leksikografie binne 'n linguistiese raamwerk plaas te vind met leksikograwe wat linguistiese teorieë in die beplanning en samestelling van hulle woordeboeke toepas. Metaleksikograwe wat wel die bestaan van leksikografieteorie vooropstel, se benadering is dat hierdie teorieë gebruik kan word om modelle te ontwikkel vir die beplanning en samestelling van woordeboeke. Deur leksikografiese teorieë as basis van die leksikografie te erken en dit in die leksikografiepraktyk toe te pas, word die bestaan en belang van linguistiese teorieë nie onderskat nie. Linguistiese teorie word wel as afsonderlik van leksikografieteorie gesien. In die wisselwerking tussen leksikografie en linguistiek word daar onderskei tussen enersyds linguistiek en linguistiese teorie en andersyds linguistiese data.
As 'n houer van kennis bevat 'n woordeboek waarin die algemene taal opgeneem en bewerk word 'n klomp linguistiese data, aangesien die bewerking primêr 'n weerspieëling bied van taalkundige kenmerke van die bewerkte leksikale item. Alhoewel taalkundige kennis aan die kant van die leksikograaf belangrik is om die keuse van die mees gepaste linguistiese data te verseker, impliseer die insluiting en aanbieding van hierdie linguistiese data nie dat die leksikografiese proses beheer of enigsins beïnvloed word deur een of meer linguistiese teorieë nie.
In die beplanning van 'n woordeboek moet leksikograwe bewus wees van wie die veronderstelde teikengebruiker van die woordeboek is. Met inagneming van die leksikografiese behoeftes van daardie gebruiker moet die tersaaklike leksikografiese funksies, die woordeboekstrukture en die inhoud bepaal word. Om die mees geskikte funksies, strukture en inhoud te bepaal, is 'n benadering wat gebaseer is op die tersaaklike leksikografieteorie belangrik. Om die inhoud vanuit 'n funksiegedrewe benadering te kies, vereis 'n vertroudheid met die woordeboekonderwerp van die bepaalde woordeboek. In 'n algemene verklarende of vertalende woordeboek is dit die algemene taal en taalgebruik wat opgeneem en bewerk word. Linguistiese data vorm 'n wesenlike deel van die aanbod in 'n algemenetaalwoordeboek, en in die keuse en aanbieding van hierdie data mag die waarde van linguistiese kennis nooit onderskat word nie. Desondanks word die beplanning en samestelling van so 'n woordeboek en die keuse, aanbieding en bewerking van linguistiese data volgens leksikografiese beginsels gedoen. Soms mag dit wel met linguistiese beginsels oorvleuel.
Die interdissiplinêre aard van leksikografie maak samewerking tussen leksikografie en linguistiek noodsaaklik. Dit is veral die geval in die beplanning en samestelling van woordeboeke wat op taal vir algemene gebruik gerig is. Die bydrae vanuit die linguistiek is nie beperk tot die taalkundige data wat in 'n woordeboek opgeneem word nie maar dit sluit ook die leksikografiese gebruik van bepaalde terme uit die veld van die linguistiek in, alhoewel hierdie terme in die leksikografie soms gebruik word om na effens verskillende konsepte te verwys as in die linguistiek. Linguistiese terme soos sinonimie, antonimie polisemie, homonimie, idioom en kollokasie asook grammatiese terme ter aanduiding van die woordsoort word dikwels in die teoretiese leksikografie, in die metataal van woordeboeke en ook as data-aanduiders in woordeboekartikels gebruik. Hierdie terme word nie noodwendig altyd op dieselfde manier as in die linguistiek gebruik nie, vergelyk Bergenholtz en Gouws (2012; 2014). Ter illustrasie van hierdie verskille kan die term antoniem gebruik word. In die linguistiek, meer spesifiek in die leksikale semantiek, verwys hierdie term na 'n spesifieke tipe betekenisteenoorgesteldheid, te wete waar die lede van 'n paar teenoorgesteldes gradeerbaar is en teenoorstaande pole van 'n betekeniskonti-nuum beset. Ander terme wat gebruik word om na betekenisteenoorgesteldheid te verwys, is onder meer komplementariteit, onverenigbaarheid en omgekeerdheid (De Klerk 1978: 105 e.v.). Woordeboeke gee dikwels geen blyke van hierdie verskillende tipes betekenisteenoorgesteldheid nie, en gebruik soms die term antonimie as 'n superordinaat en algemene term vir alle tipes betekenisteenoorgesteldheid 'n Bepaalde soeksone in 'n woordeboek kry die data-aanduider "Antoniem" alhoewel die teenoorgesteldes in die betrokke soeksone nie noodwendig antonieme is van die woord wat deur die lemma verteenwoordig word nie. In die volgende deelartikel van die lemma Kauf in De Gruyter se woordeboek Wörterbuch Deutsch als Fremdsprache (Kempcke et al. 2000) word die data-aanduider "ANT" (=Antonym) gebruik om aan te toon dat die naamwoord Verkauf (=verkoop) 'n antoniem van die naamwoord Kauf (=koop) is.
Antonimie is nie die teenstellingsbetrekking wat in hierdie woordpaar geld nie, maar wel omgekeerdheid. Eweneens voldoen woordeboekinskrywings wat as kollokasies gemerk word nie altyd noodwendig aan die streng linguistiese interpretasie van hierdie term nie.
Om binne die raamwerk van 'n bepaalde leksikografieteorie te werk, impliseer nie dat insigte vanuit die linguistiek geïgnoreer word nie. 'n Vertroudheid met linguistiek en linguistiese terme en om die vryheid te hê om hierdie terme op dieselfde manier of op 'n aangepaste manier in die leksikografiese omgewing te kan gebruik, help leksikograwe met 'n beter analise en bespreking ter verhoging van die leksikografiese gehalte van hulle woordeboeke.
Hierdie bydrae erken die belangrikheid daarvan dat daar 'n wisselwerking tussen linguistiek en leksikografie moet wees en dat leksikograwe ook linguistiese terme in die metataal van hulle woordeboek mag gebruik. Dit word ook erken dat leksikograwe die vryheid het om die gebruik van sulke terme by die spesifieke eise van die leksikografie aan te pas. In hierdie artikel word aandag gegee aan die leksikografiese gebruik van een term vanuit die linguistiek, te wete die term deiksis, en hoe dit in 'n leksikografiese omgewing 'n effense betekenisverruiming ondergaan het om 'n beter verklaring vir sekere leksikografiese prosedures moontlik te maak.
3. Deiksis in die linguistiek
In die studie van semantiek word deiksis, afgelei van die Griekse woord wat "aandui" of "wys na" beteken, as 'n term gebruik: "to handle the 'orientational' features of language which are relative to the time and place of utterance." (Lyons 1968: 275). Volgens Lyons (1968: 275)
Every language-utterance is made in a particular place and at a particular time: it occurs in a certain spatio-temporal situation. It is made by a particular person (the speaker) and is usually addressed to some other person (the hearer) ...
Bepaalde woorde word gebruik om 'n verband te lê tussen 'n bepaalde linguistiese uiting en die tersaaklike temporele, ruimtelike en sosiale omgewing waarbinne die uiting gemaak word. Daardie woorde maak die hoorder/leser bewus van die betrokke omgewing. Die hoorder/leser moet bewus wees van hierdie temporele en ruimtelike omgewing om die uiting optimaal te kan verstaan. Woorde wat 'n uiting koppel aan die temporele en ruimtelike konteks van 'n uiting wys as 't ware vir die leser/hoorder na die buitelinguistiese omgewing. Sulke woorde is deiktiese woorde en hulle veranker 'n uiting aan die buitelinguistiese konteks waarbinne dit gebruik word.
In 'n tipiese gespreksituasie vorm die spreker, die tyd en die plek van 'n bepaalde uiting die deiktiese sentrum, die zeroverwysingspunt, van die betrokke gesprek. In die interpretasie van 'n gesprek moet die leser/hoorder bewus wees van die perspektief van die spreker. Gevolglik sê Lyons (1977: 638) dat die kanonieke gespreksituasie egosentries is "in the sense that the speaker, by virtue of being the speaker, casts himself in the role of ego and relates everything to his viewpoint."
In die taalkunde word verskillende deiktiese kategorieë onderskei, onder meer persoonsdeiksis (aangedui deur die gebruik van voornaamwoorde), temporele en plekdeiksis asook sosiale deiksis - die manier waarop 'n gegewe uiting iets oor die geldende sosiale verhouding weergee.
4. Deiksis in die leksikografie
In die hieropvolgende afdelings van die artikel sal die bespreking primêr gerig wees op aspekte van woordeboeke wat die algemene taal as onderwerp het. Hierdie algemene woordeboeke weerspieël iets van 'n gegewe taal soos dit deur die betrokke taalgemeenskap gebruik word.
Woordeboeke is praktiese gebruiksinstrumente waaraan 'n gebruiker wat tot die teikengebruikersgroep behoort, daardie inligting moet kan onttrek wat 'n oplossing bied vir die probleem wat tot die woordeboekraadpleging aanleiding gegee het. In die beplanning en samestelling van enige woordeboek moet die keuse van leksikale items wat as lemmakandidate gekies word en die keuse van data wat aangebied word as aanduiders in die bewerking van die lemma of as aanduiders in 'n buiteteks, voldoen aan die bevrediging van die leksikografiese funksies van die spesifieke woordeboek.
'n Woordeboek met 'n teksproduksiefunksie sal gewoonlik meer koteksaanduiders verskaf as 'n woordeboek wat 'n teksbegripfunksie het. Ongeag die funksie, moet 'n gebruiker daardie inligting kan onttrek wat hom/haar kan help om 'n gegewe linguistiese uitdrukking te kan gebruik of verstaan in ooreenstemming met die spesifieke woordeboekeksterne omgewing waarin die betrokke uitdrukking voorkom. Die omgewing, hetsy pragmaties of kultureel, hetsy ruimtelike of temporeel, moet duidelik uit die leksikografiese aanbieding blyk.
Om 'n woordeboek te raadpleeg op soek na die betekenis van die woord punt wat in 'n koerantberig oor krieket gebruik is, kan die gebruiker lei na die volgende deelartikel in die Afrikaanse woordeboek HAT:
Die woord punt word as 'n polisemiese woord behandel en in die sesde semantiese subkommentaar help die etiket krieket die gebruiker om die regte gebruiksomgewing en die betekenisparafrase van die gepaste betekenisonderskeiding van punt te vind. Indien die gebruiker 'n vakwoordeboek met krieketterme sou gebruik, sou die woord punt ook daarin as lemma opgeneem gewees het. Die woord sou egter nie met die etiket krieket gemerk gewees het nie, omdat krieket die verstek- semantiese veld is waartoe alle lemmata in die woordeboek behoort. Die gebruiker hoef dus nie in die artikel van die woord punt van die tersaaklike omgewing in kennis gestel te word nie. In HAT is die verstekomgewing die algemene taal. Gebruikers moet dus ingelig word wanneer woorde en betekenisonderskeidings afwyk van die verstekveld. In hierdie artikel geskied dit deur middel van die vaktaaletiket krieket wat die bepaalde betekenisonderskeiding van punt koppel aan die bepaalde gebruiksomgewing in die woordeboekeksterne omgewing.
Met verwysing na die linguistiese begrip deiksis waar woorde in 'n bepaalde linguistiese uiting daardie uiting aan die buitelinguistiese werklikheid veranker, kan die gebruik van 'n etiket soos krieket in hierdie woordeboek gesien word as 'n vorm van leksikografiese deiksis. 'n Bepaalde inskrywing, in hierdie geval die etiket, koppel 'n ander inskrywing, in hierdie geval een spesifieke betekenisonderskeiding van die woord punt, aan die buitewoordeboekwerklikheid.
Leksikografiese etikette kan beskou word as een van die tipes leksikografiese tekssegmente wat 'n inskrywing in 'n woordeboekartikel anker aan die buitewoordeboekwerklikheid - die pragmatiese voorkoms van daardie inskrywing in die werklike taalgebruik. Hulle verwys die woordeboekgebruiker vanuit die woordeboek na die woordeboekeksterne wêreld.
4.1 Leksikografiese deiksis
Die gebruik van die term leksikografiese deiksis is in Gouws (1988: 14) aan die orde gestel en verder bespreek in onder meer Gouws (1989: 202), Lombard (1993) en Beyer (2006). In 'n tipiese gespreksituasie vorm die spreker, die plek en die tyd van 'n uiting die deiktiese sentrum en alle verwysings na plek, tyd en persoon, byvoorbeeld deur uitdrukkings soos hier/daar; gister/ volgende jaar; jy / ons, moet vanuit die perspektief van die deiktiese sentrum geïnterpreteer word. 'n Woordeboek is nie 'n deelnemer aan 'n tipiese gespreksituasie nie, maar wanneer 'n woordeboek geraadpleeg word, is daar tog 'n tipe kommunikasiesituasie met die woordeboek as "spreker" en die gebruiker as "hoorder". Die tekste in 'n woordeboek word nie gesien as iets wat deur 'n bepaalde spreker geproduseer is nie; gevolglik speel persoonsdeiksis 'n beperkte rol in leksikografiese deiksis. In 'n sinchroniese algemenetaalwoordeboek wat op die standaardvariëteit van die betrokke taal gerig is, sal die deiktiese sentrum die taal van die standaardvariëteit wees soos wat dit gebruik is ten tye van die woordeboek se samestelling. Waar aanduiders ingesluit word waarvan die gebruik en algemene voorkoms afwyk van die tyd van die samestelling moet die leksikograaf die woordeboek-gebruikers dienooreenkomstig inlig. Indien dit nie gedoen word nie, kan die gebruiker se keuse van sulke vorme tot minder geslaagde kommunikasie lei. 'n Algemenetaalwoordeboek vertoon tipieserwys linguistiese uitdrukkings wat deur die hele geografiese omgewing van die beoogde teikengebruikersgroep gebruik word. Waar 'n aanduider met 'n beperkte geografiese verspreiding in so 'n woordeboek ingesluit word, moet die woordeboek hierdie beperking aandui. Selfs in 'n enkele variëteit van 'n taal, en dit sluit ook die standaardvariëteit in, het alle woorde en uitdrukkings nie dieselfde register- en stilistiese waarde nie. Sommige woorde kom slegs in óf formele óf informele taalgebruik voor, ander is beperk tot geselstaal terwyl sommige woorde as byvoorbeeld vloeke of aanstootlike taalgebruik geklassifiseer word. Ook hier kan woordeboekgebrui-kers met reg op leksikografiese leiding aanspraak maak om moontlike kommunikatiewe verleentheid te voorkom. Vergelyk in hierdie verband Zgusta (1971: 173).
Waar aanduiders in 'n woordeboek linguistiese vorme verteenwoordig wat in die werklike taalgebruik afwyk van die taal wat tipies is van die tyd van samestelling van die woordeboek, van die geografiese omgewing van die teikengebruikers en van die neutrale register van dié taal, val daardie linguistiese vorme buite die deiktiese sentrum van die betrokke woordeboek. Elke woordeboek het sy eie deiktiese sentrum. In algemenetaalwoordeboeke is die deiktiese sentrum daardie vorme wat tot die neutrale register van die taal ten tye van die samestelling van die woordeboek behoort en wat voorkom in die geografiese omgewing van die teikengebruikers van die woordeboek.
Taal en kultuur is dikwels verweefd en, na gelang van die woordeboek-soort, kan dit 'n invloed hê op die leksikografiese aanbieding en behandeling, aangesien sommige woordeboeke iets van die kultuur van die betrokke taalgemeenskap weerspieël. In die hantering van kultuurgebonde aanduiders moet die leksikograaf 'n goed omskrewe siening van die begrip kultuur hê. Hier kan leksikograwe hulle byvoorbeeld laat lei deur Kavanagh (2000: 102) se onderskeid tussen "culture with a capital C" en "culture with a small c". Kuituur met 'n hoofletter K verwys na gebruiklike kulturele aspekte soos musiek, argitektuur en letterkunde. Kavanagh se pleidooi is dat tradisionele gebruike asook die manier waarop taal die daaglikse lewe van die taalgemeenskap weerspieël, kultuur met 'n klein k, ook erken en leksikografies weergegee moet word.
Woorde wat ten opsigte van kultuur neutraal is, val binne die grense van die deiktiese sentrum, terwyl kultuurgebonde woorde afwyk van die verstek van die betrokke woordeboek se deiktiese sentrum. Leksikograwe moet bewus wees van kultuurgebonde woordeboekinskrywings sodat die nodige deiktiese verankering kan geskied.
Die tipologiese opdrag van enige woordeoek speel 'n belangrike rol m.b.t. die aard en omvang van afwykings van die deiktiese sentrum. In 'n skoolwoordeboek word veral die standaardvariëteit van die betrokke taal opgeneem en gebruik, maar in 'n omvattende woordeboek word daar van verskillende variëteite verslag gedoen. Ook hier sal die standaardvariëteit tipies as die deiktiese sentrum beskou word met inskrywings uit ander variëteite wat as sodanig aangedui moet word sodat die gebruiker hulle op 'n gepaste manier aan die woordeboekeksterne omgewing kan koppel. 'n Omvattende woordeboek met 'n sinchroniese fokus sal ook aanduiders insluit wat iets van die ontwikkeling en omvangrykheid van die betrokke taal weergee. In so 'n woordeboek sal daar aanduiders wees wat gekoppel moet word aan 'n spesifieke plek, 'n spesifieke tyd en 'n spesifieke register en styl.
'n Erkenning aan leksikografiese deiksis verplig die leksikograaf om die nodige leiding aan woordeboekgebruikers te gee sodat hulle bewus kan wees van afwykings van die woordeboek se verstekvertrekpunt.
Bolinger (1985: 69) beweer dat
Lexicography is an unnatural occupation. It consists in tearing words from their mother context and setting them in rows ... to make them fit side by side, in an order determined not by nature but by some obscure Phoenician sailors ... Half of the lexicographer's labor is spent repairing this damage to an infinitude of natural connections that every word in any language contracts with every other word.
Omdat leksikografie so 'n onnatuurlike bedryf is en woordeboeke woorde wat as lemmas ingesluit word, dekontekstualiseer, is dit belangrik dat die leksikograaf die gebruiker moet help met die herkontekstualisering van woorde deur hulle in die buitewoordeboekomgewing te veranker.
5. Tekssegmente in woordeboekartikels
Leksikografiese deiktiese verankering kan op verskillende maniere gedoen word en leksikograwe moet telkens besluit hoe hierdie proses ten beste in 'n bepaalde woordeboek uitgevoer moet word. Daar is ook verskillende tipes tekssegmente wat gebruik word om deiktiese verankering te bewerkstellig.
Tekssegemente in 'n woordeboekartikel kan in twee klasse verdeel word, te wete aanduiders en struktuurmerkers, vergelyk Wiegand (1989a: 427). Die verskillende tekssegmente in 'n woordeboekartikel kan vasgestel word deur 'n proses van funksionele en posisionele segmentering, vergelyk Wiegand (1989a: 438).
Aanduiders is tekssegemente waaraan die gebruiker inligting kan onttrek t.o.v. die aanbieding en bewerking van die onderwerp van die betrokke woorde-boek, byvoorbeeld uitspraakaanduiders, woordsoortaanduiders, kollokasie-aan-duiders, aanduiders van die betekensiparafrase, ensovoorts. Struktuurmerkers, ook bekend as mikrostrukturele struktuurmerkers, val in twee tipes uiteen, te wete tipografiese en nietipografiese struktuurmerkers. Tipografiese struktuur-merkers is die gebruik van byvoorbeeld vetdruk, romein en kursief, terwyl nietipografiese struktuurmerkers tekens soos 'n driehoek, asterisk, vierkant, ensovoorts is. Struktuurmerkers is nie datadraers en daarom kan gebruikers nie inligting oor die woordeboekonderwerp daaraan onttrek nie. Struktuur-merkers identifiseer 'n spesifieke aanduider of soeksone en dra by tot die voorstelling van die kits- interne toegangstruktuur van 'n woordeboekartikel. In figuur 3, 'n artikel uit HAT, word vetdruk as tipografiese struktuurmerker gebruik om die lemmateken te merk en kursief word gebruik om aanduiders van voorbeeldsinne te merk. Die inskrywing "g" is 'n nietipografiese struktuur-merker wat gebruik word in artikels van meerfunksionele woorde om 'n woord-soortaanduider te merk as een van meer as een woordsoortaanduider in die betrokke artikel. Die driehoekige pylpunt is 'n struktuurmerker wat die soek-sone merk waar onverklaarde gelede woorde aangebied word:
6. Deiktiese merkers
6.1 Deiktiese verankering deur aanduiders
'n Algemene en opvallende manier waarop deiktiese verankering plaasvind, is deur die gebruik van leksikografiese etikette. As tekssegmente in woordeboek-artikels tree leksikografiese etikette as aanduiders op, soos blyk uit die volgende deelartikel:
In hierdie artikel is die inskrywing "taalkunde" 'n etiket wat as aanduider met 'n lemmatiese adressering aantoon dat die woord sintaksis tot die vakgebied van die taalkunde behoort.
Leksikografiese etikette is nie die enigste tekssegmente wat as aanduiders deiktiese verankering bemiddel nie. In die volgende deelartikel van die WAT se lemmateken 1skoot begin die eerste semantiese subkommentaar met die internuitgebreide aanduider "Ook, verouderd, skot."
In hierdie artikel is die wisselvormaanduider "Ook skot" intern uitgebrei deur verouderd, 'n aanduider-interne aanduider, sodat die aanloopmerker ook as voorste aanduidersegment en die aanduider van die wisselvormadres skot as agterste aanduidersegment optree (Wiegand en Smit 2013: 153 e.v.).
In die WAT word aanduiders wat deiktiese verankering bemiddel dikwels gebruik in aanduider-interne uitbreiding. Dit kan soms tot komplekse aanduiders lei, soos te sien in die volgende voorbeeld uit die deelartikel van die lemma sommer:
In hierdie komplekse wisselvormaanduiderkluster word ses wisselvorme van sommer aangedui, te wete soema, somma, somme', somaar, somar en sommar. Die komplekse wisselvormaanduiderkluster word intern uitgebrei met drie aan-duiders wat deiktiese verankering bemiddel, naamlik geselstaal, verouderd, verouderd. Telkens het hierdie aanduiders een of meer wisselvormaanduiders as adres, met die adressering wat telkens na regs plaasvind.
Wisselvormaanduiders bevat soms in die WAT meer as een deiktiese merker wat op dieselfde wisselvorm as adres gerig is, soos in die volgende voorbeeld:
Die eerste semantiese kommentaar se soeksone vir koteksaanduiders word voorafgegaan deur die wisselvormaanduider "Verouderd en weinig gebr. vir kompanie 1". Deur die toepassing van 'n proses van funksionele segmentering, vergelyk Wiegand (1989a: 438), kan die verskillende funksionele tekssegmente in 'n artikel vasgestel word, in hierdie voorbeeld onder meer die aanduiders verouderd en weinig gebruiklik. Hierdie aanduiders tree albei as deiktiese merkers van die wisselvormadres, die aanduider kompanie 1, op.
Uit figuur 8 en 9 is dit duidelik dat dit nie net komplekse wisselvormaanduiders is wat deur deiktieseverankeringsaanduiders intern uitgebrei word nie.
In die WAT word aanlope as inskrywings altyd deur die nietipografiese struktuurmerker "■" voorafgegaan. In figuur 8 is daar twee aanlope. Eerstens om die byvoeglike gebruik van die lemma te benoem asook 'n tersaaklike koteksaan-duider te verstrek. Tweedens is daar 'n aanloop wat pragmatiese en semantiese data bevat. Funksionele segmentering van hierdie komplekse aanduider lei tot die vasstelling van die betekenisparafrase-aanduider na jou einde toe en die aanduiders streektaal en fig. (= figuurlik) wat as onderskeidelik ruimtelike en stilistiese merkers hierdie betrokke optrede van die lemma deikties veranker.
In figuur 9, enkele inskrywings uit die artikel van die lemma sweet, verskyn 'n veelvuldig verdigte aanduiderkluster met as aanduiders die idioom in die sweet van jou aangesig asook sy variante met die sweet van jou aangesig, in die sweet van jou aanskyn, met die sweet van jou aanskyn asook in die sweet des aanskyns.
Hierdie aanduiderkluster is ook 'n verdigte sublemmakluster. Dit bevat die idiome, die sublemmas in hierdie artikel van die lemma sweet, wat gidselemente is van die subartikel waarin die bewerking van die betrokke idiome gebied word. Die deiktiese aanduider verouderd tree as lemmateken-interne aanduideruitbreidingsinskrywing op met die idiome in die sweet van jou aanskyn en met die sweet van jou aanskyn as adres ter aanduiding daarvan dat hulle chronolektiese vorme is wat afwyk van die verstek van hierdie woordeboek en dus buite die sfeer van die leksikografiese deiktiese sentrum val.
6.2 Deiktiese verankering deur aanduidersimbole
As deel van 'n onnatuurlike bedryf, maak woordeboeke ook van 'n onnatuurlike sintaksis gebruik. Die gebruiker word dikwels met allerlei vorme van teksverdigting gekonfronteer. In 'n poging om ruimte te bespaar, benut veral gedrukte woordeboeke dikwels nietipografiese inskrywings om deiktiese verankering moontlik te maak.
Inskrywings vergelykbaar met nietipografiese struktuurmerkers word soms in woordeboeke gebruik om deiktiese verankering te bewerkstellig. In Sanders se Wörterbuch der deutschen Sprache (1860) word 'n asterisk gebruik om 'n aanduider te identifiseer as a vreemde woord. In die gebruikersleiding van A Dictionary of Basic Japanese Grammar (1986) word die volgende verklaring gegee vir die gebruik van sekere inskrywings:
In hierdie woordeboek lyk die dolk en ook sommige ander inskrywings, soos ook die asterisk in Sanders (1860), soos nietipografiese struktuurmerkers. Anders as wat die geval met struktuurmerkers is, kan daar wel inligting, naamlik die aard van die deiktiese verhouding, aan hierdie inskrywings onttrek word. Daarom is hierdie inskrywings nie struktuurmerkers nie, maar wel aanduidersimbole. 'n Aanduidersimbool is 'n leksikografiese simbool wat as aanduidervorm of as funksionele aanduidertoevoeging optree (Wiegand et al. 2010: 1473). Waar 'n lemma in A Dictionary of Basic Japanese Grammar die adres is van die dolksimbool, koppel daardie simbool, 'n aanduidersimbool, die aanduider aan die woordeboekeksterne omgewing en hierdie deiktiese verankering lig die gebruiker in dat die spesifieke lemma 'n woord verteenwoordig wat 'n formele vorm is en by implikasie nie in informele taalgebruik voorkom nie.
6.3 Ander vorme van deiktiese verankering
Naas aanduiders en aanduidersimbole kan aanduiderdele ook gebruik word om deiktiese verankering te bemiddel.
In die bogenoemde voorbeelde vind deiktiese verankering op 'n eksplisiete manier plaas deur middel van aanduiders en aanduidersimbole. Dit kan ook op 'n meer verskuilde manier gedoen word deur die verankeringsinskrywing as aanduiderdeel in die betekenisparafrase te integreer. Kaplan (2020: 215) gee die volgende voorbeeld van die behandeling van die lemma greaser in 'n beplande onpartydige woordeboek:
Die deiktiese verankering wat die aandag daarop moet vestig dat die woord aanstoot kan gee wanneer dit in die woordeboekeksterne wêreld gebruik word, geskied deur middel van die deiktiese merkers "offensive" en "denigrating" in die betekenisparafrase-aanduider. Hierdie deiktiese merkers is aanduiderdele - hulle is deel van die aanduider wat die betekenisparafrase bied en kan nie deur posisionele segmentering geïsoleer word nie.
6.4 Deiktiese verankering deur middel van leksikografiese etikette
6.4.1 Tipes leksikografiese etikette
Deur leksikografiese etikette te gebruik, handhaaf woordeboeke 'n lang leksikografiese tradisie. Vergelyk in hierdie verband onder meer Gouws (1988). 'n Verskeidenheid soorte leksikografiese etikette kom voor, vergelyk Hausmann en Wiegand (1989: 341). Die leksikograwe van enige woordeboek het die vryheid om te kies watter etikette hulle wil gebruik en presies wat die afwykingswaarde is wat elke etiket verteenwoordig. Dit bring mee dat verskillende woordeboeke dikwels dieselfde etikette gebruik maar nie met presies dieselfde toepassingsbestek nie, of dat verskillende etikette in verskillende woordeboeke gebruik kan word om dieselfde afwykingstipe te bespreek. In die internasionale leksikografie bestaan daar geen gestandaardiseerde stel etikette nie en dit is daarom noodsaaklik dat leksikograwe duidelike leiding aan hulle gebruikers gee ten opsigte van die keuse van etikette asook die waarde van elke etiket.
Van die breë etiketkategorieë wat in woordeboeke aangetref, is onder meer
- vaktaaletikette
- temporele etikette
- ruimtelike etikette
- stilistiese etikette.
Hierdie etikette speel 'n belangrike rol in deiktiese verankering en het 'n werklike invloed op die gebruikers se interpratesie van die gepastheid al dan nie van 'n bepaalde vorm vir 'n gegewe gebruiksituasie - vergelyk in hierdie verband Sipka, Vrbinc en Vrbinc (2021).
In die res van hierdie artikel is die primêre fokus op deiktiese verankering ten opsigte van ruimtelike en temporele afwykings in verklarende woordeboeke.
7. Vasstelling van ruimtelike en temporele afwykings in verklarende woordeboeke
7.1 Deiktiese verankering
Die gebruik van ruimtelike en temporele etikette in woordeboeke kan as 'n vorm van leksikografiese plek- en tyddeiksis beskou word. Die suksesvolle toe-passing van 'n prosedure van deiktiese verankering vereis die insluiting van 'n woordeboekinskrywing wat op sy eie of as deel van 'n groter aanduider geadresseer is aan 'n ander aanduider en wat daardie aanduider identifiseer as verteenwoordigend van 'n linguistiese vorm waarvan die gebruik buite die sfeer van die deiktiese sentrum van die spesifieke woordeboek val. Hierdie identifiserende inskrywing is 'n deiktiese aanduider of deiktiese deelaanduider. In figuur 12 is die etikette verouderd en streektaal telkens 'n deiktiese aanduider.
Aan hierdie aanduiders onttrek die gebruiker inligting dat die aanduider waaraan hulle geadresseer is (in hierdie artikel is dit die lemma) 'n linguistiese vorm verteenwoordig wat buite die sfeer van hierdie woordeboek se deiktiese sentrum val.
Die tipe verklarende woordeboek bepaal die gebruik van aanduiders in daardie woordeboek. 'n Skoolwoordeboek bevat tipieserwys linguistiese uitdrukkings wat tot die standaardvariëteit van die betrokke taal behoort. Die deiktiese sentrum van so 'n woordeboek sal weerspieël word deur die standaardtaal soos wat dit gebruik word tydens die tydvak waarbinne die woordeboek saamgestel word. Gevolglik sal hoogstens enkele woorde wat van die deiktiese sentrum afwyk as lemmas opgeneem word.
In sy opname en bewerking is 'n omvattende woordeboek gerig op die verskillende variëteite van 'n taal en alhoewel so 'n woordeboek 'n sinchroniese benadering mag hê met die standaardvariëteit van die betrokke taal as deiktiese sentrum, sluit dit dikwels wel vorme in wat afwyk van die heersende gebruik ten tye van die samestelling van die woordeboek. Gevolglik sal so 'n woordeboek meer etikette gebruik ter aanduiding van temporele en ruimtelike afwykings van die deiktiese sentrum.
In woordeboekartikels moet gebruikers daartoe in staat wees om op 'n ondubbelsinnige manier die adresseringsverhoudings waarby etikette betrokke is te kan identifiseer en interpreteer. Etikette tree meestal in verhoudings van lemmatiese adressering op, alhoewel 'n etiket met 'n lemmatiese adressering nie noodwendig die volle semantiese spektrum van 'n lemma in sy bestek hoef te hê nie. 'n Polisemiese woord mag enkele betekenisonderskeidings hê wat tot die neutrale register behoort en wat nie geëtiketteer hoef te word nie. Daar mag egter ook een of meer betekenisonderskeidinge wees wat 'n beperkte gebruik van die woord verteenwoordig. Die artikel van die lemma punt2 in HAT (figuur 2; hier weer gegee as figuur 13) kan as voorbeeld dien:
Die lemma hoef nie geëtiketteer te word nie aangesien die woord punt ook binne die deiktiese sentrum van die woordeboek val alhoewel die betekenisonderskeidinge in die semantiese subkommentare 2, 3 en 6 daarvan afwyk en daarom geëtiketteer is. In hierdie gevalle anker die etikette musiek, drukkuns en krieket die betrokke betekenisonderskeidinge van die woord punt aan die woordeboekeksterne wêreld van musiek, drukkuns en krieket onderskeidelik.
Die tipe, inhoud en struktuur van 'n woordeboekartikel het 'n besliste invloed op die omvang van deiktiese identifisering wat plaasvind. Lemmata is nie die enigtse aanduiders in woordeboekartikels wat geëtiketteer kan word nie. In figuur 14, 'n deelartikel van die WAT se lemma swem, word die sinoniemaanduiders doef, doef-doef en ghoef telkens as geselstaalvorme geëtiketteer:
In woordeboeke wat met verskillende variëteite van 'n taal werk, kan die bewerking van 'n enkele lemma tot die insluiting van meer as een uitspraakaanduider lei wat enersyds die uitspraak van die standaardvariëteit verteenwoordig en andersyds die uitspraak van 'n spesifieke ander variëteit. Hierdie laasgenoemde uitspraakaanduider moet geëtiketteer word en tree as 'n nielemmatiese adres op.
Sublemmatiese adressering kom ook voor wanneer 'n aanduider wat as sublemma opgeneem word, byvoorbeeld 'n aanduider wat 'n vaste uitdrukking aanbied, geëtiketteer word. Geheg aan die artikel van die lemma 1oor in die WAT is 'n reeks idiome wat as sublemmas optree. In figuur 15 is 'n deeltrajek van idiome met onder ander die idiome jou oor/ore gooi en op jou ore loop wat geëtiketteer is as onderskeidelik geselstaal en streektaal.
Ook sublemmas in 'n lemmanis kan die adres van sublemmatiese adressering wees, soos blyk uit figuur 16, 'n deeltrajek uit die lemmanis, geheg aan die artikel van die WAT se lemma kerk. Hier is sublemmas soos kerkbeuk en kerkboog die adres van die etiket (boukunde).
7.2 Ruimtelike verankering
Die suksesvolle verklaring en gebruik van etikette om deiktiese verankering te verseker, behoort die gebruiker te help om vertroud te raak met die presiese aard van die afwyking van die deiktiese sentrum. Wat dit betref, is die gebruik van die etiket krieket in die artikel van HAT se lemma punt2 voldoende. Vaktaaletikette, en hier sluit die term vaktaaletiket 'n verwysing na enige van 'n ver-skeidenheid gespesialiseerde en vakgebiede in, vergelyk Gouws (2020), lei gewoonlik tot 'n ondubbelsinnige aanduiding van die afwyking van die deiktiese sentrum. Ruimtelike afwykings kan egter nie altyd so suksesvol deur die gebruik van 'n enkele etiket aangedui word nie. Die Afrikaanse verklarende woordeboek Nasionale woordeboek gebruik die etiket gewest, 'n afkorting vir gewestelik, om streekgebonde vorme te merk. Weens sy gerigtheid op die standaardvariëteit van Afrikaans sluit dié woordeboek nie baie dialektiese vorme in nie. Waar sulke vorme wel ingesluit word, lei die spesifieke etiketgebruik nie tot 'n suksesvolle deiktiese verankering nie. Dit blyk uit die artikel van die lemma ghantang:
Die lemma is geëtiketteer en die gebruiker kan daaruit aflei dat die woord nie dwarsdeur die geografiese gebied van die Afrikaanse taalgemeenskap gebruik word nie, maar die gebruiker het geen aanduiding binne watter streek dit wel gebruik word nie. In hierdie artikel is die gebruik van die etiket nie voldoende om suksesvolle deiktiese verankering te verseker nie. Dit kan beskou word as 'n voorbeeld van rudimentêre deiktiese verankering.
Die omvattende WAT sluit woorde van verskillende variëteite in, onder andere ook van verskillende dialekte. Om aan gebruikers te wys dat die dialektiese vorme 'n beperkte gebruik het, gebruik hierdie woordeboek die leksikografiese etiket streektaal. Ook in hierdie woordeboek is die gebruik van hierdie etiket as die enigste aanduider van 'n geografiese beperking nie voldoende vanuit 'n deiktiese perspektief nie. Gebruikers sal weet dat die woord nie dwarsdeur die geografiese gebied van die taalgemeenskap voorkom nie en dat dit dus nie sonder meer gebruik moet word nie. Tog kan hulle nie net op grond van die streektaaletiket die ruimtelike gebruiksbeperking aan 'n spesifieke geografiese streek koppel nie. Gevolglik is die deiktiese verankering onvolledig - nogmaals rudimentêre deiktiese verankering. Waar hierdie etiket gebruik word om aan te toon dat die voorkoms van 'n bepaalde vorm beperk is tot een of meer streke, behoort die etiket ondersteun te word deur bykomende aanduiders om die deiktiese verankering beter te presiseer. Dit kan byvoorbeeld gedoen word deur die etiket aan te vul met 'n aanduider wat die spesifieke streek benoem waar die geëtiketteerde vorm voorkom. So 'n plek-identifise-rende aanduider is ook 'n deiktiese aanduider want dit dui vir die gebruiker op die plek in die woordeboekeksterne wêreld waar die woord gebruik word. Die etiket is die primêre deiktiese aanduider wat 'n beperkte gebruik aandui, terwyl die plek-identifiserende aanduider 'n sekondêre deiktiese aanduider is wat die verband tussen die woord en 'n spesifieke streek aandui en sodoende die bereiking van die primêre deiktiese verankeringsfunksie verseker. Die gebruik van hierdie tweedevlakdeiktiese-aanduider verander die bewerking vanaf 'n rudimentêre na 'n volledige deiktiese verankering.
Waar die artikelstruktuur van 'n woordeboek ook 'n soeksone het vir voorbeeldaanduiders, behoort die sitaataanduiders ook die deiktiese verankering te bevestig wat deur die etiket en plek-identifiserende aanduider bewerkstellig word deur óf 'n verwysing na die streek te bevat óf vanuit 'n bron uit die geïdentifiseerde streek te kom. Hierdie tipe suksesvolle deiktiese verankering kan gesien word in die artikel van die lemma Reuens in die WAT:
'n Etiket streektaal is geadresseer aan die lemma om die beperkte geografiese gebruik aan te dui. Die spesifieke streek moet ook aangedui word en dit word hier op twee maniere gedoen. In elk van die voorbeeldsinne, die koteksaanduiders, is daar telkens 'n verwysing na die inwoner van 'n streek ("'n Overberger") of 'n plek ("Swellendamse blouberge", "Houwhoek" en "Caledon"). Dit dra ook by tot 'n deiktiese presisering van die beperking wat deur die etiket verstrek word. Daarbenewens is die laaste aanduider in hierdie artikel "(Ook opgeteken in Caledon en die Overbergkontrei)" 'n aanduider van die plek van optekening. Dit is ook 'n deiktiese aanduider en voltooi en presiseer die deiktiese verankering. Hierdie WAT-artikel bied 'n voorbeeld van 'n veelfasige uitvoering van deiktiese verankering - 'n trippelvlakbenadering.
In die artikel van die lemma Reuens is die inskrywings wat die deiktiese verankering bewerk nie jukstaposisioneel geplaas is nie. Die eerste deiktiese aanduider, die etiket streektaal, staan in 'n verhouding van onmiddellike lemmatiese adressering, terwyl die laaste deiktiese merker, die aanduider "(Ook opgeteken in Caledon en die Overbergkontrei)", in 'n verhouding van afstands-lemmatiese adressering optree. So 'n aanduider het nie dieselfde deiktieseverankeringsimpak as 'n aanduider wat in 'n soeksone in die onmiddellike omgewing van die geadresseerde aanduider optree nie. Die voorbeeldsinne is nie aanduiders nie, maar aanduidertekste, dit wil sê funksionele tekssegmente met aanduiderfunksie en 'n natuurliketaalsintaksis wat uit ten minste een volwaardige sin bestaan (Wiegand en Smit 2013: 153). Die deiktiese merkers in hierdie voorbeeldsinne is aanduiderteksdele. Die voorbeeldsin as 'n geheel het 'n lemmatiese adressering. Die deiktiese merkers, as aanduiderteksdele, het nie 'n eie adresseringsverhouding nie, maar as deel van 'n aanduiderteks is hulle betrokke by adressering en wel die sekondêre adressering wat tipies is van aanduidertekste (Gouws 2014: 182), teenoor die primêre adressering van aanduiders (Wiegand en Gouws 2013a: 276).
Die presisering van die ruimtelike afwyking deur 'n tweede fase in die proses van deiktiese verankering, kan op 'n eksplisieter manier geskied as in die bogenoemde WAT-artikel; 'n manier wat ook tot 'n vinniger toegang tot die tersaaklike data sal lei. Hierdie eksplisieter deiktiese verankering kan geskied deur 'n proses van soeksone-interne uitbreiding wat lei tot 'n hibriede-aanduiderkompleks in die soeksone vir etikette.
Die WAT maak reeds dikwels gebruik van 'n prosedure waar 'n jukstaposisie van etikette wat op dieselfde lemma gerig is in die soeksone vir etikette in die onmiddellike omgewing van die lemma geplaas word. In figuur 19 en 20 is daar onderskeidelik twee en drie etikette in dieselfde soeksone wat elk telkens 'n andersoortige deiktiese verankering bewerkstellig:
In hierdie voorbeelde word die verskillende etikette telkens deur 'n kommapunt van mekaar geskei. Hierdie struktuurmerker wys daarop dat die etikette nie as 'n enkele komplekse aanduider optree nie maar dat elk 'n afsonderlike aanduider is wat afsonderlik 'n gebruiksbeperking aandui en dus verskillende rolle speel in die deiktiese verankering van die woorde wat deur die onderskeie lemmas verteenwoordig word. Hier vind onderskeidelik 'n twee- en drievoudige deiktiese verankering plaas en dit is telkens 'n enkelfasige verankeringsproses wat deur onmiddellike lemmatiese adressering bereik word.
Die soeksone wat óf 'n enkele etiket óf 'n jukstaposisie van etikette kan akkommodeer, sou ook gebruik kon word in die verfyning van die deiktiese verankering deurdat die etiket aangevul kan word met 'n aanduider wat die spesifieke plek identifiseer waartoe die woord wat deur die lemma verteenwoordig word, tipies behoort. Hierdie kombinasie van etiket en plekaanduider vorm dan 'n aanduiderkompleks, dit wil sê 'n kombinasie van meer as een aanduider, in hierdie voorbeeld met dieselfde deiktiese funksie. 'n Woordeboek benut 'n beperkte aantal etikette wat in die gebruikersleidingsvoorteks gelys en verklaar moet word. Dit sluit byvoorbeeld 'n etiket soos streektaal in. Elke spesifieke plekaanduider kan nie ook etiketstatus kry nie want dit sou tot 'n inflasie van etikette lei wat die trefkrag van etikettering kan verlaag. 'n Ander tipe aanduider sou wel as plekaanduider gebruik kan word. Die aanduiderkompleks hoef nie homogeen te wees ten opsigte van die aanduidertipe nie. Dit kan byvoorbeeld 'n etiket bevat, die tipiese aanduider waarvoor die soeksone in die artikelstruktuur geskep is, asook 'n ander aanduider, byvoorbeeld 'n plekaanduider wat nie 'n etiket is nie. Die kombinasie van 'n etiket en 'n presiserende plekaanduider lei tot 'n hibriede-aanduiderkompleks. Die struktuurmerker, in die WAT 'n kommapunt, wat verskillende etikette in hierdie soeksone skei, word nie gebruik om die etiket en plekaanduider te skei nie, aangesien hulle saam dieselfde verankeringsfunksie het. In die geval van die lemma Reuens sou die eerste twee fases van die deiktiese verankering tot die volgende aanduiderkompleks kon lei:
Alhoewel albei hierdie aanduiders, die etiket streektaal en die plekaanduider "Overberg", deur posisionele segmentering as afsonderlike tekssegmente aantoonbaar is, wys die verhoudingsmerker ">" dat die tweede aanduider 'n presisering is van die beperking wat deur die etiket aangedui is. Dit is weer eens tweefasige deiktiese verankering maar dit lei tot 'n presieser aanduiding van die afwyking van die deiktiese sentrum. Die verskillende tipografiese struktuurmerkers, naamlik kursief vir die etiket en romein vir die presiserende plekaanduider, wys ook daarop dat dit nie 'n jukstaposisie van etikette is nie. In hierdie artikel sou dieselfde voorbeeldsinne steeds gebruik kon word en hulle dra steeds by tot die deiktiese verankering. Die laaste aanduider in die artikel, "(Ook opgeteken in Caledon en die Overbergkontrei)", sou weggelaat kon word aangesien sy funksie reeds deur die presiserende plekaanduider in die etiketsoeksone vervul word.
Vir die gebruiker wat in streektaal belangstel, lei so 'n hibriede-aanduiderkompleks met albei aanduiders wat nie in 'n afstandsadresseringsverhouding tot die lemma optree nie, tot 'n vinniger en makliker onttrekking van die verlangde inligting.
In die gebruik van ruimtelike etikette is die taak van die leksikograaf nie net om aan te toon dat 'n woord 'n ruimtelike beperking het nie. Verdere presisering is nodig sodat volledige deiktiese verankering bereik kan word. In hierdie verband moet nuwe tipes leksikografiese aanbiedings oorweeg word.
7.3 Temporele verankering
Soos dit met ruimtelike etikette die geval is, moet die gebruik van temporele etikette ook in tandem met aanvullende aanduiders optree. Wanneer leksikograwe 'n besluit oor die gebruik van temporele etikette neem, is dit belangrik om te weet presies wat die bestek van die temporele kontinuum is wat die neutrale temporele waarde van die woordeboek weerspieël. Hoe lank gelede laas moes 'n woord gebruik gewees het om byvoorbeeld as verouderd geëtiketteer te word? Die WAT gebruik die etikette verouderd en verouderend. In die gebruikersgids word verklaar dat die etiket verouderd gebruik word om aan te toon dat 'n lemma, betekenisonderskeiding of uitdrukking verouderd geraak het en in onbruik verval het. Verouderend dui volgens die geruikersgids daarop dat 'n lemma, betekenisonderskeiding of uitdrukking op grond van sy kwynende gebruiklikheid besig is om te verouder. Daar word nie aangedui vir hoe 'n lang tyd die woord in onbruik moet wees of in watter mate dit reeds in onbruik moes verval het om vir een van hierdie etikette te kwalifiseer nie. Voldoende temporele deiktiese verankering is moeilik bereikbaar as die bestek van die etiket nie nader bepaalbaar is nie.
In die WAT word gebruikers nie altyd optimaal gehelp om óf die gebruik óf die niegebruik van hierdie etikette te interpreteer nie. Dit geld ook die gebruik van die deiktiese aanduider verouderd en verouderend waar dit nie as 'n etiket optree nie.
Albei betekenisonderskeidinge van die woord kompenie word as verouderd gemerk en al die voorbeeldmateriaal in die betrokke semantiese subkommentare het 'n 1937-dagtekening.
Hierdie deel van die WAT het in 1984 verskyn. 'n Woord waarvan die optekening effens minder as 50 jaar voor die verskyning van dié woordeboekdeel was, word as verouderd aangedui. Hierdie voorbeeldmateriaal vorm 'n aanvullende en sekondêre vlak van deiktiese verankering. 'n Deiktiese aanduider soos verouderd, hetsy as etiket hetsy as deel van 'n komplekse aanduider, dui op 'n algemene temporele beperking. Om suksesvolle deiktiese verankering te verseker, is sekondêre deiktiese aanduiders, byvoorbeeld die tydaanduiders van gebruiksvoorbeelde, ook nodig om die rudimentêre verankering tot 'n volledige deiktiese verankering te omskep.
Die lemma ruif word ook as verouderd aangedui en wel deur die temporele etiket:
Die voorbeeldsin in hierdie artikel kom uit 'n artikel wat in 1979 geskryf is. Die lemma ruif is opgeneem in Deel XIII van die WAT wat in 2009 verskyn het. Die temporele etiket word aangevul deur die optekeningsdatum van die sitaat om deiktiese verankering te bewerkstellig deur middel van 'n tweefase-bewerking. Die implikasie van die sekondêre deiktiese aanduider, die aanduider van die datum van die voorbeeldsin, is dat hierdie woord wat in 1979 opgeteken is as verouderd geag word - 'n optekening dertig jaar voor die publikasiedatum van hierdie deel van die woordeboek.
Geen temporele etiket word gebruik in die artikel van die lemma skerpskuttery nie:
Die twee voorbeeldsinne in hierdie artikel kom uit 1959 en 1961. Hierdie deel van die WAT het in 2013 verskyn. 'n Woord waarvoor die enigste opgetekende voorbeeldsinne uit 1959 en 1961 kom, meer as 50 jaar voor die verskyning van hierdie woordeboekdeel, is nie as verouderd aangedui nie. Hierdie soort inkonsekwentheid maak dit moeilik vir die woordeboekgebruiker om die inskrywings in die woordeboek suksesvol deikties te kan veranker aan die woordeboekeksterne wêreld.
Soos in die geval van ruimtelike etikette moet temporele etikette as primêre deiktiese merkers gesien word. 'n Ruimtelike etiket soos streektaal gee slegs 'n vae anduiding van ruimtelike beperking en moet liefs van 'n presiserende aanduider vergesel word om 'n volledige deiktiese verankering te kan bewerkstellig. Eweneens kan etikette soos verouderd en verouderend ook as onpresiese aanduiders van 'n temporele beperking gesien word. 'n Veel meer gerigte deiktiese verankering kan wel plaasvind indien die toeligtingsteks van die woordeboek 'n aanduiding gee van die bestek van hierdie etikette. So 'n aanduiding sal waarskynlik nie heeltemal presies kan wees nie, maar dit kan 'n tersaaklike tydgleuf verstrek. Vir die etiket verouderend sou die verklaring by-voorbeeld iets kon wees soos: "Wat kwynende gebruiklikheid oor die afgelope 30 jaar vertoon", terwyl die etiket verouderd verklaar kan word as "Wat die afgelope 50 jaar grootliks in onbruik was". Hierdie etikette hoef dan nie deel van hibriedeaanduiderkomplekse te wees nie, want geen verdere temporele presisering is nodig in die etiketsoeksone nie. Die gleuf vir temporele etikette kan slegs die betrokke etiket bevat, aangesien die gebruiker sal weet wat die spesifieke temporele afwyking van die leksikografiese deiktiese sentrum is. Ter wille van bykomende ondersteuning is dit belangrik dat die dagtekening van sitate wat as koteksaanduiders verstrek word wel die temporele kontinuum wat die etiket verteenwoordig, moet ondersteun. Uiteraard sal daar soms ook voorbeelde opgeneem word wat buite die betrokke tydvak val, maar die verklaring van die etiket se bestek is nie absoluut nie en laat ruimte vir uitsonde-ringsgevalle. Die WAT maak tans gebruik van 'n aanduider "■ In 'n ou bron" waar die soeksone vir koteksaanduiders 'n sitaat bevat met 'n veel ouer dagtekening as die res van die sitate. In ooreenstemming daarmee sou die artikel van 'n woord wat as verouderd geëtiketteer is maar wat 'n sitaat uit 'n onlangse bron bevat, 'n aanloopaanduider soos "■ In 'n onlangse bron" kon hê.
7.3.1 Neologismes
Met betrekking tot temporele deiktiese verankering in gedrukte woordeboeke word veral inskrywings deikties gemerk wat tot 'n ouer era behoort. Veral in omvattende woordeboeke word inskrywings selde as neologismes gemerk want die woordeboek fokus op die insluiting van vorme wat reeds gevestig is in die leksikon van die betrokke taal. Die moontlikhede wat die digitale era bied en die dinamiese aard van aanlyn woordeboeke maak dit moontlik om wel ook vorme op te neem wat van die temporele kern van die leksikografiese deiktiese sentrum afwyk deurdat hulle neologismes verteenwoordig wat nog nie genoegsaam in die leksikon gevestig is om aan die gewone opnamekriteria te voldoen nie. Gedrukte woordeboeke is reeds enigsins verouderd wanneer hulle verskyn en hulle kan nie al die jongste toevoegings tot die leksikon insluit nie. Nuwe vorme wat vroeë tekens van vestiging in die leksikon toon, kan dikwels eers met 'n volgende uitgawe van 'n woordeboek vir insluiting oorweeg word. Die gemak waarmee inskrywings in 'n aanlyn woordeboek opgeneem en weer weggelaat kan word, kan daartoe lei dat leksikograwe dit kan oorweeg om niegevestigde neologismes op te neem. Sulke vorme kan dan gemerk word met 'n deiktiese aanduider wat aantoon dat hulle nog nie in die leksikon gevestig is nie, maar 'n gebruiklikheid het wat hulle vir voorlopige opname laat kwalifiseer. As dit later vasgestel sou word dat sulke vorme modevorme of leksi-kale eendagsvlieë was, kan hulle maklik genoeg weggelaat word sonder dat leksikograwe hoef te wag vir die bewerking van 'n nuwe uitgawe van die woordeboek.
Die onlangse toetrede tot die leksikon van talle coronaneologismes kan as voorbeeld dien. Talle nuwe vorme is geskep wat leksikograwe ter wille van relevantheid so gou moontlik in hulle woordeboeke sou wou opneem, vergelyk voorbeelde soos grendeltyd, superverspreider, sleutelborddeftig, borrelbestaan, sosiale afstand, coronalatig en covidioot. 'n Hibriede- aanduiderkompleks, soos "(Neologisme > Hangende)" sal aandui dat inskrywings tans, dit wil sê op die datum waarop die inskrywing in die woordeboek opgeneem word, nuut in die taal voorkom, maar dat daar geen waarborg is dat die betrokke vorm 'n gestandaardiseerde item van die leksikon sal word nie. Ook hier moet die toeligtende aantekeninge die bestek van die etiket neologisme verklaar, byvoorbeeld as vorme wat die afgelope jaar in die taal voorkom. Die aanduiderkompleks moet aangevul word deur koteksinskrywings wat vergesel word van 'n aanduider wat die datum van opname verstrek en wat dan as 'n verdere inskrywing ter bereiking van volledige deiktiese verankering optree.
'n Hibriede- aanduiderkompleks, soos "(Neologisme > Hangende)" sal 'n vorm van komplekse deiktiese verankering wees wat die gebruiker help om die inligting te onttrek dat dit veilig is om die betrokke woord te gebruik, maar dat die vorm 'n beperkte gebruikslewe mag hê.
8. Ter afsluiting
Woordeboekgebruikers verwag leiding van hulle woordeboeke wat hulle daartoe in staat stel om suksesvol te kommunikeer sonder om woorde of uitdrukkings te gebruik wat onvanpas vir 'n bepaalde gespreksituasie is. Een van die opdragte aan leksikograwe is om genoegsame deiktiese aanduiders te verstrek om die gewenste en volledige deiktiese verankering te bewerkstellig. Verskillende tipes deiktiese merkers, byvoorbeeld aanduiders, aanduidersimbole en aanduiderdele kan 'n rol speel. Leksikografiese etikette tree dikwels in 'n fokus-posisie van 'n woordeboekartikel op en bewerkstellig die eerste fase van deiktiese verankering. Waar hierdie eerste fase slegs tot rudimentêre verankering lei, is verdere fases nodig, onder meer die gebruik van hibriede-aanduiderkomplekse en die gebruik van sitate wat as koteksaanduiders inskrywings bevat wat die nodige ruimtelike en temporele verbandlegging daarstel. Die bewerking in 'n woordeboek moet voorsiening maak vir die benutting van 'n multi-faseverankering waar dit nodig is om deiktiese sukses te behaal. Bewerkingseenhede in woordeboekartikels, hetsy die lemma hetsy 'n ander aanduider, moet die adres van genoegsame deiktiese aanduiders wees om die betrokke inskrywing suksesvol met die woordeboekeksterne werklikheid te kan verbind.
Bronnelys
Woordeboeke
https://www.lexico.com/definition/ Geraadpleeg Julie 2021.
https://longman-hat-co-za.ez.sun.ac.za/?m=d Geraadpleeg Julie 2021.
https://www-pharosaanlyn-co-za.ez.sun.ac.za/soek Geraadpleeg Julie 2021.
http://www.woordeboek.co.za.ez.sun.ac.za/ Geraadpleeg Julie 2021.
De Villiers, M. et al. (Reds.). 1987. Nasionale woordeboek. Kaapstad: Nasou. [ Links ]
Kempcke, G. et al. (Reds.). 2000. Wörterbuch Deutsch als Fremdsprache. Berlyn: De Gruyter. [ Links ]
Luther, J. et al. (Reds.). 2015. Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Kaapstad: Pearson. [ Links ]
Makino, S. en M. Tsutsui. 1986. A Dictionary of Basic Japanese Grammar. Tokio: The Japan Times. [ Links ]
Sanders, D. 1860. Wörterbuch der deutschen Sprache. Leipzig: Verlag von Otto Wigand. [ Links ]
Wiegand, H.E. et al. (Reds.). 2010. Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung / Dictionary of Lexicography and Dictionary Research. Deel 1. Berlyn: De Gruyter. [ Links ]
Ander bronne
Atkins, B.T.S. en Michael Rundell. 2008. The Oxford Guide to Practical Lexicography. Oxford/New York: University Press. [ Links ]
Béjoint, H. 2010. The Lexicography of English. Oxford: Oxford University Press. [ Links ]
Bergenholtz, H. en R.H. Gouws. 2012.Synonymy and Synonyms in Lexicography. Lexicographica 28: 309-335. [ Links ]
Bergenholtz, H. en R.H. Gouws. 2014. Lexicographical Perspective on the Classification of Multiword Combinations International Journal of Lexicography 27(1): 1-24. [ Links ]
Bergenholtz, H. en S. Tarp. 2003. Two Opposing Theories: On H.E. Wiegand's Recent Discovery of Lexicographic Functions. Hermes, Journal of Linguistics 31: 171-196. [ Links ]
Beyer, H.L. 2006. Metaleksikografiese ondersoek na konteksleiding in Afrikaanse vertalende woordeboeke. Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. [ Links ]
Bolinger, D. 1985. Defining the Undefinable. Ilson, R. (Red.). 1985. Dictionaries. Lexicography and Language Learning: 69-73. Oxford: Pergamon Press.
Bothma, T.J.D. 2018. Lexicography and Information Science. Fuertes-Olivera, P.A. (Red.). 2018. The Routledge Handbook of Lexicography: 197-216. Londen/New York: Routledge.
Bothma, T.J.D., R.H. Gouws en D.J. Prinsloo. 2016. The Role of e-Lexicography in the Confirmation of Lexicography as an Independent and Multidisciplinary Field. Margalitadze, T. en G. Meladze (Reds.). 2016. Proceedings of the XVII EURALEX International Congress. Lexicography and Linguistic Diversity, Ivane Javakhishvili Tbilisi State University, Tbilisi, Georgia, 6-10 September, 2016: 109-116. Tbilisi: Ivane Javakhishvili Tbilisi State University.
Beskikbaar: http://euralex.org/wp-content/themes/euralex/proceedings/Euralex%202016/euralex_2016_008_p109.pdf (en http://euralex2016.tsu.ge/publication2016.pdf).
De Klerk, W.J. 1978. Inleiding tot die semantiek. Durban: Butterworth. [ Links ]
Gouws, R.H. 1988. Die gebruik van etikette as leksikografiese hulpmiddel. S.A. Tydskrif vir Taalkunde. Geleentheidsuitgawe 6: 1-56. [ Links ]
Gouws, R.H. 1989. Leksikografie. Pretoria/Kaapstad: Academica. [ Links ]
Gouws, R.H. 2014. Expanding the Notion of Addressing Relations. Lexicography: 1(2): 159-184. [ Links ]
Gouws, R.H. 2020. Special Field and Subject Field Lexicography Contributing to Lexicography. Lexikos 30: 143-170. [ Links ]
Gouws, R.H., U. Heid, W. Schweickard en H.E. Wiegand (Reds.). 2013. Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography. Supplementary Volume: Recent Developments with Focus on Electronic and Computational Lexicography. Berlyn/New York: De Gruyter [ Links ]
Hausmann, F.J. en H.E. Wiegand. 1989. Component Parts and Structures of General Monolingual Dictionaries: A Survey. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 328-360.
Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991. Wörterbücher. Dictionaries. Dictionnaires. An International Encyclopedia of Lexicography. Berlyn/New York: De Gruyter. [ Links ]
Kaplan, S.M. 2020. A Theoretical Model for the Preparation of an Inclusive and Bias-Free Expression Dictionary. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. [ Links ]
Kavanagh, K. 2000. Words in a Cultural Context. Lexikos 10: 99-118. [ Links ]
Lombard, F.J. 1993. Etikette in sinchronies verklarende woordeboeke. Lexikos 3: 140-151. [ Links ]
Lyons, J. 1968. Introduction to Theoretical Linguistics. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Lyons, J. 1977. Semantics. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Sipka, D., A. Vrbinc en M. Vrbinc. 2021. Normative Labels in Slovene Dictionaries: Users' and Lexicographers' Perspectives. International Journal of Lexicography 34(2): 183-205. [ Links ]
Tarp, S. 2008. Lexicography in the Borderland between Knowledge and Non-knowledge. General Lexicographical Theory with Particular Focus on Learner's Lexicography. Tubingen: Niemeyer. [ Links ]
Wiegand, H.E. 1989. Der gegenwàrtige Status der Lexikographie und ihr Verhàltnis zu anderen Disziplinen. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 246-280.
Wiegand, H.E. 1989a. Der Begriff der Mikrostruktur: Geschichte, Probleme, Perspektiven. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 409-462.
Wiegand, H.E. en R.H. Gouws. 2013. Macrostructures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 73-110.
Wiegand, H.E. en R.H. Gouws. 2013a. Addressing and Addressing Structures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 273-314.
Wiegand, H.E. en M. Smit. 2013. Microstructures in Printed Dictionaries. Gouws, R.H. et al. (Reds.). 2013: 149-214.
Zgusta, L. 1971. Manual of Lexicography. Den Haag: Mouton. [ Links ]