SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33The Talking DictionaryThe Cambridge World History of Lexicography índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Lexikos

    versão On-line ISSN 2224-0039
    versão impressa ISSN 1684-4904

    Lexikos vol.33  Stellenbosch  2023

    http://dx.doi.org/10.5788/33-1-1822 

    ARTICLES

     

    Nuwe raamstruktuurtipes in aanlyn woordeboeke

     

    New Types of Frame Structures in Online Dictionaries

     

     

    Rufus H. Gouws

    Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Suid-Afrika (rhg@sun.ac.za)

     

     


    OPSOMMING

    In die leksikografiepraktyk lei die oorgang vanaf gedrukte na aanlyn woordeboeke tot talle veranderinge. Hierdie veranderinge moet in die leksikografieteorie beskryf word. Woordeboekstrukture is ook 'n teiken van veranderinge, met ou strukture wat aangepas en nuwe strukture wat ontwikkel word. In hierdie artikel is die fokus op verskeie aspekte van een van die nuwe struktuurtipes in aanlyn woordeboeke, naamlik die skermskootstruktuur. Hierdie struktuur huisves onder meer individuele woordeboekartikels, artikeldele, beperkte artikels asook artikeldeeltrajekte. Naas die kernartikel laat die skermskootstruktuur ook uitgebreide artikels toe wat 'n nuwe tipe raamstruktuur vertoon, te wete 'n artikelraam. 'n Artikelraam kan die gevolg van horisontale uitbreiding na links en/of regs asook opwaartse en/of afwaartse vertikale uitbreiding wees. Geïntegreerde en niegeïntegreerde artikelbuitetekste bied huisvesting aan leksikografies relevante data wat nie in die kernartikel verskyn nie. Veral in die kommersiële leksikografie raak nieleksikografiese data in woordeboeke al hoe belangriker en die skermskootstruktuur moet so beplan word dat hierdie data gehuisves word sonder om data-oorlading tot gevolg te hê. Dit kan geplaas word in 'n soekraam wat in die skermskootraamstruktuur voorsien word.

    Sleutelwoorde: aanlyn woordeboek, artikelraam, artikelraamstruktuur, buiteteks, dataverspreiding, raamstruktuur, skermskootraam, skermskootstruktuur, soekraam, spyskaartteksblok


    ABSTRACT

    In the lexicographic practice the transition from printed to online dictionaries resulted in numerous changes. These changes have to be accounted for in lexicographic theory. Dictionary structures also are a target of changes, with some old structures being adapted and new structures being developed. The focus in this article is on various aspects of one of the new structures in online dictionaries, namely the screenshot structure. This structure accommodates among other individual dictionary articles, partial articles, restricted articles as well as partial article stretches. Besides the core article the screenshot structure also allows extended articles that display a new type of frame structure, namely an article frame. An article frame can be the result of horizontal expansion to the left and/or right as well as upward and/or downward vertical expansion. Integrated and non-integrated article outer texts accommodate lexicographically relevant data that are not included in the core article. Especially in commercial lexicography non-lexicographic data in dictionaries become increasingly important and the screenshot structure should be planned in such a way that these data can be accommodated without resulting in data-overload. Non-lexicographic data can be allocated to a search frame prevailing in the screenshot frame structure.

    Keywords: article frame, article frame structure, data distribution, frame structure, menu textblock, online dictionary, outer text, screenshot frame, screenshot structure, search frame


     

     

    1. Ter agtergrond

    In die verhouding tussen teorie en praktyk in die leksikografie speel die teorie dikwels 'n navolgersrol om 'n beskrywing te gee van prosedures wat in die praktyk uitgevoer is. Die koms van die digitale era het daartoe gelei dat 'n verskeidenheid aanlyn woordeboeke tot stand gekom het en kenmerke vertoon wat nog nie in die teorie beskryf is nie. Die taak van die metaleksikograaf is nie net om vernuwend te dink en voorstelle vir aanpassings in die leksikografiepraktyk voor te stel nie, maar ook om krities na bestaande woordeboeke te kyk en dit te beskryf waarvoor daar nog nie in die teorie voorsiening gemaak is nie. Dit geld ook die benutting van woordeboekstrukture. Hierdie artikel poog om enkele aspekte van een van hierdie struktuurtipes oorsigtelik te bespreek.

    Die oorgang vanaf gedrukte na aanlyn woordeboeke het tot talle veranderings in die struktuur en aanbieding in aanlyn woordeboeke gelei. Hierdie veranderings kom ook op die gebied van woordeboekstrukture voor. 'n Oorsig oor woordeboekstrukture wys dat sommige daarvan slegs in gedrukte woordeboeke voorkom, ander kom in sowel gedrukte as aanlyn woordeboeke voor, maar ondergaan wel bepaalde aanpassings wanneer hulle in aanlyn woordeboeke gebruik word. Daarbenewens is daar strukture wat slegs in aanlyn woordeboeke voorkom.

    Woordeboekstrukture het onder meer ten doel om leksikografiese data, byvoorbeeld aanduiders in woordeboekartikels asook ander data wat nie in artikels optree nie, te huisves en om die gebruiker te help om die data te kan opspoor. Daar is 'n verskeidenheid plekke waar data deur die benutting van 'n uitgebreide dataverspreidingstruktuur geplaas kan word en wat as soekplekke dien waaraan inligting deur middel van 'n woordeboek se soekstruktuur onttrek kan word. Die verskillende soekplekke is onder meer:

    - die soeksone, dit is 'n gleuf in 'n woordeboekartikel waar 'n bepaalde aanduider of datatipe geplaas word;

    - die soekgebied, dit is die individuele woordeboekartikel;

    - die soekveld, dit is die woordeboek se sentrale teks wat die verskillende artikeltrajekte bevat;

    - die soekstreek, dit is die volle woordeboek met sy sentrale teks plus die verskillende buitetekste;

    - die soekdomein, dit is die portaal waarbinne aanlyn woordeboeke geplaas kan word; en

    - die soekuniversum, dit is die omgewing buite die soekdomein, byvoorbeeld die internet of ander woordeboekportaal-eksterne bronne waartoe gebruikers via die woordeboek toegang het.

    In gedrukte woordeboeke vertoon die soekstreek dikwels 'n raamstruktuur met buitetekste in die voor- en agtertekste-afdelings wat die sentrale teks aanvul (Kammerer en Wiegand 1998). 'n Onderskeid word gemaak tussen 'n volle raam, dit is waar sowel voor- as agtertekste voorkom, en 'n halwe raam, dit is waar die sentrale teks slegs deur óf voor- óf agtertekste aangevul word. Aanlyn woordeboeke kan wel buitetekste hê, maar hierdie buitetekste, oftewel buitekenmerke volgens Klosa en Gouws (2015) omdat dit nie net tekste is nie, maar ook onder meer video- en oudioknipsels mag wees, is nie lineêr posisioneel gebonde met betrekking tot die sentrale teks nie. Daarom vertoon aanlyn woordeboeke normaalweg nie 'n raamstruktuur nie.

    Een van die struktuurtipes wat uitsluitlik in aanlyn woordeboeke voorkom, is die skermskootstruktuur, vergelyk Gouws (2014: 165). Afhangend van die aard van die uitleg van 'n aanlyn woordeboek kan 'n skermskootstruktuur soms meer as een artikel bevat, maar dikwels slegs 'n enkele artikel, 'n beperkte artikel of 'n artikeldeel. Naas die leksikografiese data kan 'n skermskootstruktuur ook nieleksikografiese data insluit (Gouws en Tarp 2017: 403). Alhoewel die skermskootstruktuur reeds as een van die strukture van aanlyn woordeboeke geïdentifiseer is, is daar in die metaleksikografiese gesprek nog min aandag aan die spesifieke aard en inhoud van hierdie struktuur gegee. Die verhouding tussen die skermskootstruktuur en die artikelstruktuur as komponent van 'n skermskootstruktuur is ook nog nie na behore bespreek nie. In die bespreking van die struktuur van woordeboekartikels is daar wel reeds verwys na 'n dinamiese veelvlakkige artikelstruktuur. Dit lei daartoe dat die gebruiker in die raadpleging van die bewerking van 'n bepaalde lemma toegang het tot verskillende skermskote wat telkens slegs enkele soeksones van die betrokke artikel vertoon, vergelyk Gouws (2014). Dít blyk uit die volgende drie skermskote uit elexiko. Figuur 1 wys 'n deel van die openingskermskoot van die lemma Farbe se bewerking. Figuur 2 bied die skermskoot wat volg nadat daar op die struktuurmerker "weiter" van figuur 1 se eerste semantiese subkommentaar geklik word, en figuur 3 is die skermskoot wat volg op 'n klik op figuur 2 se data-aanduider "Grammatik".

     

     

     

     

     

     

    Hier beweeg die gebruiker in sy/haar soektog na bepaalde data van die een skermskoot na 'n volgende. Gouws (2018: 52 e.v.) dui daarop dat daar in hierdie tipe veelvlakkige artikelstruktuur onderskei moet word tussen die omvattende artikel, dit is die volle artikel wat weliswaar nie as 'n geheel in 'n enkele skermskoot verskyn nie, en die beperkte artikels, dit is daardie dele van die omvattende artikel wat in elke afsonderlike skermskoot verskyn. Gouws (2014) wys aan die hand van die kriteria vir woordeboekartikels daarop dat hierdie beperkte artikels wel as artikels benoem kan word, onder meer omdat elkeen steeds die lemmateken bevat en 'n leksikografiese bewerking bied van die leksikale item wat deur die lemmateken verteenwoordig word. In so 'n veelvlakkige artikel wys Gouws (2022) ook op die bestaan van 'n soektonnel, dit is waar 'n kommentaar of subkommentaar in 'n beperkte artikel deur opeenvolgende stappe uitgebrei word na daaropvolgende beperkte artikels met die soektog wat deur middel van die opeenvolgende datamerkers, die soektonnel, uitgevoer kan word. Die interne toegangstruktuur bepaal hierdie spesifieke soekroete.

    Reeds uit die voorbeelde in figuur 1-3 is dit duidelik dat alle skermskote nie dieselfde uitleg en struktuur het nie. In hierdie artikel word enkele aspekte van die skermskootstruktuur asook die struktuur van artikels en beperkte artikels wat per skermskoot aangebied word, bespreek met die doel om 'n metaleksikografiese uiteensetting van enkele kenmerke van hierdie onbespreekte woordeboekstrukture te bied.

     

    2. Skermskoot van 'n tradisionele artikelstruktuur

    Anders as in elexiko, figuur 1-3, vertoon sommige aanlyn woordeboeke 'n tradisionele artikelstruktuur, dit is 'n struktuur vergelykbaar met dié van 'n gedrukte woordeboek. Vergelyk figuur 4 uit die Pharos Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Woordeboek.

     

     

    Dié skermskootdeel van die artikel van die lemmateken werk bied 'n tradisionele artikelstruktuur. Hier is geen sprake van beperkte artikels of 'n veelvlakkige artikelstruktuur nie. Die artikelstruktuur bevat ook slegs die kernartikel en geen ander aanvullende segmente of 'n soektonnel nie. Waar 'n aanlyn woordeboek hierdie soort artikelstruktuur handhaaf, is die fokus in die beplanning van die skermskootstruktuur primêr op die beskikbare vertoonruimte van die skerm van die betrokke apparaat - 'n rekenaar, tablet of selfoon - en die besetting daarvan deur die artikel-interne leksikografiese data. 'n Aspek van artikeldinamika wat hier ter sprake kan wees, is waar die artikel te lank is om ten volle op die skerm van die betrokke apparaat sigbaar te wees en waar die gebruiker op die skerm moet afbeweeg om die verdere artikeldele te kan sien. Hier is nie sprake van 'n veelvlakkige artikelstruktuur of van skermskote wat beperkte artikels bevat nie. So 'n artikel word steeds in 'n enkele skermskoot, weliswaar soms 'n verlengde skermskoot, aangebied met 'n eenvoudige skermskootstruktuur. Die inhoud van die skermskoot word hiërargies georden, dit verskyn nie in beperkte artikels nie, maar in een aaneenlopende artikel sonder enige bykomende data hetsy leksikografies hetsy nieleksikografies.

    In hierdie artikel word 'n eenvoudige skermskootstruktuur wat slegs 'n tradisionele artikelstruktuur vertoon nie verder bespreek nie. Aandag sal wel gegee word aan 'n skermskootstruktuur waar die tradisionele artikelstruktuur vergesel word van bepaalde artikel-eksterne inskrywings.

     

    3. Nuwe raamstruktuurtipes

    3.1 'n Artikelraamstruktuur

    3.1.1 Horisontale uitbreiding

    Die skermskoot in figuur 5 vertoon 'n deel van 'n beperkte artikel van die lemma Kritik in die Duden Online.

    Die beperkte artikel bevat 'n kerngedeelte wat bestaan uit die lemmateken, aanduiders en struktuurmerkers wat aangebied word as deel van die leksikografiese bewerking van die woord Kritik. Daarnaas is daar op die linkerflank 'n teksblok wat 'n spyskaart is ter aanduiding van die datatipes wat in die artikel aangebied word. Die spyskaart is deel van die woordeboek se kitstoegangstruktuur en 'n klik op 'n datamerker lei die gebruiker na 'n beperkte artikel wat die tersaaklike soeksone en aanduiders bevat. Die spyskaartteksblok tree nie as deel van die kernartikel op nie. Dit bevat ook nie aanduiders nie, maar slegs datamerkers.

    Figuur 6, 'n skermskootdeel uit die Merriam-Webster (MW) bied 'n beperkte artikel met 'n vergelykbare struktuur.

    'n Klik op die spyskaartteksblok se datamerker "Example sentences" lei tot die voorstelling in figuur 7.

    In figure 5-7 is dit duidelik dat die inhoud van die spyskaartteksblok nie verander wanneer daar van een beperkte artikel na 'n ander beweeg word nie. As spyskaart is dit ter sake vir elke artikel met 'n verpligte mikrostruktuur - vergelyk Hausmann en Wiegand (1989: 346). In figuur 6 en 7 word die datamerkers wat die soeksone(s) aandui wat die fokus van die beperkte artikel is, wel in die spyskaartteksblok gemerk. Die spyskaartteksblok staan telkens links van die kernartikel. Vanuit die perspektief van die artikelstruktuur met elke artikel wat uit minstens twee basiese kommentare, dikwels 'n vormkommentaar en 'n semantiese kommentaar, bestaan (Hausmann en Wiegand 1989: 354), lyk die spyskaartteksblok met 'n eerste oogopslag na 'n pre-kommentaar. 'n Pre-kommentaar is 'n onmiddellike stuk van 'n woordeboekartikel met 'n linksuitgebreide mikrostruktuur wat onmiddellik voor die vormkommentaar optree, die linkerrandstruktuur van die woordeboekartikel vorm en meestal een of meer aanduidersimbole bevat (Wiegand 1989: 474; Wiegand et al. 2020: 581). Die inskrywings in 'n pre-kommentaar is, gewoonlik deur 'n prosedure van lemmatiese adressering, na regs geadresseer. In figuur 8, 'n artikeldeeltrajek uit die Kenkyusha's Lighthouse, lei 'n linksuitgebreide mikrostruktuur tot die plasing van gebruiksfrekwensiemerkers, die asteriske, in 'n prekommentaar waar hulle lemmaties na regs geadresseer is. In die artikel van die lemma Europe dui die drie asteriske daarop dat die woord Europe 'n hoër gebruiksfrekwensie het as die woord European met slegs twee asteriske in die prekommentaar terwyl die afwesigheid van hierdie aanduidersimbole in die artikel van die lemma European Communities daarop dui dat die leksikale item wat deur hierdie lemma voorgestel word 'n nog laer gebruiksfrekwensie as die voorafgaande twee woorde het.

     

     

     

     

     

     

     

     

    Die spyskaartteksblok in figure 5-7 bevat nie aanduidersimbole as inskrywings nie, maar wel datamerkers. Hierdie teksblokke is nie prekommentare nie, maar tree telkens as voorste rand van 'n uitgebreide artikel op. Die kernartikel word aangevul deur 'n artikelbuiteteks, die spyskaartteksblok, as voorste rand. Die optrede van die buiteteks het 'n artikelraamstruktuur tot gevolg. 'n Artikelraamstruktuur impliseer die bestaan van 'n artikelraam, hetsy 'n volle hetsy 'n halwe raam. In die voorafgaande voorbeelde bevat die raamstruktuur telkens slegs 'n buiteteks in die voortekste-afdeling en vertoon die artikel 'n halwe raam.

    Aangesien die datamerkers in die spyskaartteksblok van die genoemde voorafgaande artikels die gebruiker help om by spesifieke soeksones in die omvattende artikel uit te kom, kan hierdie spyskaartblok telkens as 'n geïntegreerde buiteteks van die artikel beskou word.

    'n Artikelraamstruktuur bevat nie noodwendig net geïntegreerde buitetekste nie. Vergelyk figuur 9 uit elexiko waar die artikel 'n volle raam vertoon met sowel voor- as agtertekste. Hierdie buitetekste is egter nie in die kernartikel, d.w.s. in die bewerking van die woord wat deur die lemmateken voorgestel word, geïntegreer nie. Dit ondersteun nie die gebruiker om spesifieke inligting aan die data in die woordeboekartikel te onttrek nie.

    Hierdie artikel is én na links én na regs uitgebrei. Die buitetekste is wel leksikografies relevant vir die artikel. Hulle bied kontekstualiserende hulp, met die voorteks wat die lemma binne die tersaaklike deeltrajek plaas en die agterteks wat die artikel binne 'n soekreeks, 'n spesifieke woordeboek, in die woordeboekportaal, die soekdomein, plaas. Dit gaan hier om niegeïntegreerde artikelbuitetekste.

    Die blokvorm waarin die buitetekste in die voorafgaande voorbeelde aangebied is, moet nie tot die gevolgtrekking lei dat teksblokke wat op die rand van 'n artikel geplaas is noodwendig buitetekste is nie. Vergelyk in hierdie verband figuur 10 uit die Algemeen Nederlands Woordenboek (ANW) waar die skermskoot 'n deel van die artikel van die lemma koe weergee.

    Hier is wel 'n halwe raam met die voorteksafdeling wat twee buitetekste, naamlik 'n vertikale alfabetbalk asook 'n deeltrajek bevat. Aan die regterflank van die artikel is 'n teksblok wat met 'n eerste oogopslag soos 'n agterteks lyk. Uit figuur 11, 'n nader weergawe van hierdie teksblok, is dit duidelik dat dit nie 'n buiteteks is nie, maar 'n artikel-interne teksblok wat as deel van die kernartikel 'n aantal soeksones bevat.

    Die ANW se kernartikels vertoon 'n blokstruktuur met 'n linkerblok, sentrale blok en regterblok. Figuur 10 vertoon dus artikel-interne teksblokke wat deel van die kernartikel is asook 'n artikel-eksterne teksblok wat die twee buitetekste van hierdie artikel huisves en as voorste raamtekste optree. In hierdie skermskoot van die ANW-artikel het die twee buitekste 'n homogene aard deurdat albei niegeïntegreerde buitetekste is.

    Buitetekste wat in 'n enkele raam optree, hoef nie homogeen van aard te wees nie. Figuur 12, 'n deel van die artikel van die lemma around in die Oxford English Dictionary (die OED), bied 'n voorbeeld van 'n artikel met 'n halwe raam waar die agtertekste-afdeling twee buitetekste bevat. Hierdie buitetekste is heterogeen van aard. Daar is naamlik 'n geïntegreerde buiteteks met inligting oor die herbewerking van die spesifieke artikel asook 'n lysting van enkele meerwoordige leksikale items en kollokasies wat in die betrokke omvattende artikel behandel word sowel as 'n verwysing na 'n woordeboek-eksterne bron waar meer inligting oor die woord wat deur die betrokke lemma verteenwoordig word, gevind kan word. 'n Klik op 'n inskrywing in hierdie lys neem die gebruiker na die betrokke soeksone in die woordeboekartikel. Tweedens is daar ook 'n niegeïntegreerde buiteteks, naamlik die deeltrajek waarbinne die lemma around voorkom.

    Hierdie buitetekste vorm gesamentlik die agterste raam van die artikel.

    3.1.2 Vertikale uitbreiding

    Die artikelraamstruktuur maak voorsiening vir 'n halwe raam met óf voor- óf agtertekste of vir 'n volle raam wat een of meer buitetekste in sowel die voor- as agtertekste-afdelings bevat. In figuur 13, 'n skermskootdeel van die artikel van die lemma Fluss in dict.cc se tweetalige woordeboek Duits-Nederlands, word die bewerking in die kernartikel aangevul deur 'n niegeïntegreerde buiteteks in die agtersteraamposisie waarin bykomende data verskaf word, naamlik 'n lysie taalpare, met Duits as eerste lid, wat ook in die dict.cc-woordeboekportaal verskyn. In hierdie lysie is die taalpaar Duits-Nederlands in vet gedruk omdat dit aandui uit watter woordeboek die betrokke artikel kom. Hierdie buiteteks is die gevolg van horisontale artikeluitbreiding na regs.

    Die horisontale artikeluitbreiding om buitetekste as voor- of agtertekste in te sluit, kan ook aangevul word deur 'n vertikale uitbreiding wat tot gevolg het dat 'n kernartikel deur vertikale raamtekste begrens word, naamlik opwaarts en/of afwaarts uitgebreide raamtekse.

    Die woordeboek dict.cc het 'n standaardartikeluitleg wat deurgaans gebruik word en waarvolgens die skermskootstruktuur aangepas word. Hier bevat die verstekskermskoot 'n kernartikel met 'n horisontale uitbreiding na regs (die lys taalkombinasies) en 'n opwaartse vertikale uitbreiding wat meer as een raamteks insluit. Die boonste raamteks in figuur 13 bevat 'n alfabetbalk en regs van die balk die taal wat in die betrokke artikel met die Duitse woord gekombineer word, in figuur 13 is dit "Niederländisch" (=Nederlands). Onder die gleuf met die alfabetbalk is 'n gleuf met 'n teks wat die taalpaar asook die lemmateken aandui en heel regs in hierdie gleuf is daar 'n datamerker, hier "Translation 1-8 of 8", wat die gebruiker na verskillende beperkte artikels in die bewerking van die betrokke lemmateken kan lei. Hierdie buitetekste in die boonste raam is leksikografies relevant. Die boonste teks is 'n niegeïntegreerde raamteks en die onderste een is geïntegreerd in die leksikografiese aanbod van die woordeboekartikel.

    Die raamtekste in figuur 5-7, 9-10 en 12-13, hetsy geïntegreerd hetsy niegeïntegreerd, is telkens relevant vir die betrokke artikel of beperkte artikel. Daarom staan hulle as primêre artikelraamtekste bekend.

     

     

     

     

     

     

     

     

     

    3.2 Verdere raamstrukture in die skermskootstruktuur

    3.2.1 Sekondêre raam

    Die skermskootstruktuur is 'n ordeningstruktuur. Dit vertoon die produk van die ordening en onderlinge posisionele verhouding tussen segmente in skermskote van woordeboekartikels. Dit kan onder meer die openingskerm, 'n woordeboek- of artikelspyskaart, 'n alfabetbalk, 'n artikeltrajek of -deeltrajek of 'n artikel of beperkte artikel bevat.

    Die dinamiese aard van aanlyn woordeboeke dwing leksikograwe om die skermskootstruktuur en die leksikografiese data wat daarin vertoon word vroegtydig te beplan. Die skermskootstruktuur vertoon al die verskillende segmente wat in die skermskoot verskyn en horisontaal en vertikaal georden word. Die kern van die skermskootstruktuur is die woordeboekartikel of artikelreeks saam met die buitetekste van die onderskeie artikels of beperkte artikels wat as primêre raamtekste optree. In die beplanning van die skermskootstruktuur moet leksikograwe besluit oor die opname en plasing van ander segmente in die skermskoot wat nie deel van die aanbod van die artikel is nie. Die verstekskermskoot in aanlyn woordeboeke vertoon nie noodwendig net die uitgebreide artikel, d.w.s. die kernartikel plus moontlike artikelraamtekste, nie. Vergelyk figuur 14, 'n skermskoot van 'n deel van die artikel van die lemma chairman uit Longman Dictionary of Contemporary English (LDOCE).

     

     

    Naas die kernartikel met die niegeïntegreerde horisontaal na regs uitgebreide raamtekste is daar ook 'n teks bo die lemmateken wat die woordeboektitel bevat asook 'n aanduiding dat dit om die eentalige Engelse woordeboek (in hierdie woordeboekportaal) gaan. Daar is ook 'n blokkie waar die woord waarna gesoek word, ingetik kan word. Hierdie vertikaal opwaarts uitgbreide teks is nie 'n buiteteks van die artikel nie, maar die titelteks van elke skermskoot in hierdie woordeboek, soos ook te sien in figuur 15, wat 'n deel van die openingskermskoot van hierdie woordeboek weergee, maar geen woordeboekartikel bevat nie.

    Figuur 16 uit die American Heritage Dictionary (AHD) het ook 'n teks wat die woordeboek se titel bevat en wat in elke skermskoot verskyn. Daarbenewens is daar in hierdie skermskoot ook horisontaal geordende buitetekste wat eweneens in elke skermskoot verskyn. Hierdie tekste dra nie by tot die leksikografiese bewerking of kontekstualisering van die lemmateken of 'n aanduider in die woordeboekartikel nie.

    Vanweë hulle posisie in die skermskoot is dit wel raamtekste wat ook die artikel of selfs die uitgebreide artikel kan omraam, maar hulle is nie deel van die uitgebreide artikel nie. Die inhoud van hierdie tekste is wel leksikografies van aard aangesien dit inligting oor sekere aspekte van die woordeboek verstrek. Dit is egter nie deel van die woordeboekartikel nie. Figuur 17 wys dat hierdie raamtekste ook verskyn in die openingskermskoot van die woordeboek wat geen woordeboekartikel bevat nie - waar hulle dus nie deel van 'n artikelraam is nie.

    Teenoor die primêre raamtekste wat die kernartikel omraam en die uitgebreide artikel vorm, vorm die buitetekste in figuur 15-17 'n sekondêre raam. Hierdie raamtekste is wel leksikografies van aard - die titel van 'n woordeboek en hulp met die gebruik daarvan - maar vorm nie deel van 'n uitgebreide artikel nie. In die beplanning van die skermskootstruktuur moet leksikograwe wel voorsiening maak vir 'n soekplek waar sulke tekste geplaas kan word. Hierdie data tree nóg in 'n soeksone nóg in 'n soekgebied op. Hulle beset 'n nuwe soekplek, te wete 'n soekraam. 'n Soekraam is die posisie in 'n skermskootstruktuur waarin raamtekste geplaas kan word wat leksikografies ter sake is, maar nie deel van 'n uitgebreide artikel is nie. Sulke tekste tree nie noodwendig net saam met 'n uitgebreide artikel op nie, maar kan ook saam met 'n kernartikel optree, soos blyk uit figuur 16 waar die artikel geen buitetekste het nie.

     

     

     

     

     

     

    'n Skermskoot wat 'n soekraam met sy sekondêre raamtekste bevat, bied ruimte vir die artikel plus bykomende segmente wat vir die spesifieke woordeboek deur die leksikograaf en/of uitgewer verlang word. 'n Vergelykbare skermskootstruktuur is ook te sien in die voorafgaande figure 5 (Duden), 6 (MW), 9 (elexiko), 10 (ANW) en 12 (OED).

    3.2.2 Skermskootraamstruktuur

    Die artikelraamstruktuur met sy primêre en sekondêre raam is nie die enigste nuwe tipe raamstruktuur in aanlyn woordeboeke nie. Die skermskootstruktuur kan ook uitgebrei word om 'n eiesoortige raamstruktuur te vertoon, maar wat nie ter bevordering van leksikografiese inligtingsonttrekking benut word nie. Figuur 18, 'n skermskoot met 'n deel van die artikel van die lemma definite uit die Merriam Webster, vertoon 'n uitgebreide artikel wat uit die kernartikel en 'n voorste raam, die spyskaartteksblok, bestaan. Daarbenewens bevat die skermskoot ook 'n titelteks, naamlik die gleuf bo die uitgebreide artikel waar die titel van die woordeboek verskyn, keuses van bronne waartoe die gebruiker toegang het asook die soekkassie waar 'n woord waarna gesoek word, ingetik kan word. Die uitgebreide artikel asook die titelteks is leksikografies relevante segmente van die skermskoot en vorm 'n skermskoot wat die kernartikel asook primêre en sekondêre raamtekste bevat.

     

     

    Die skermskootstruktuur van aanlyn woordeboeke moet nie net voorsiening maak vir die plasing van leksikografiese data nie, maar moet ook 'n soekplek skep waar nieleksikografiese data geplaas kan word. Om nie die aandag van die leksikografiese data, die hooffokus van skermskote van aanlyn woordeboeke, weg te lei nie, is dit waarskynlik die beste dat die soekplek vir sulke nieleksikografiese data in die skermskootraam verskyn. Die skermskootstruktuur se verstekweergawe met 'n kernartikel, uitgebreide artikel en daarbenewens soms ook sekondêre raamtekste kan dus uitgebrei word deur die toevoeging van 'n ander tipe raamkomponent. In figuur 18 word die verstekskermskoot horisontaal en vertikaal uitgebrei deur die toevoeging van raamtekste. Naas die stukkie woordvermaak as middelste teks in die agterste raam, is daar in dié raam twee advertensies. Die onderkant van die skermskoot vertoon ook 'n advertensie as raamteks. In figuur 19 uit Duden Online word die leksikografies relevante data aangevul deur 'n volle horisontale sowel as 'n volle vertikale raam beset deur nieleksikografiese data. Hierdie weergawe van Duden Online wat gratis beskikbaar is, bevat talle advertensies en die skermskootstruktuur van die woordeboek is so beplan dat daar in die skermskootraam plek is vir hierdie advertensies. 'n Ander tipe dinamika is hier ter sprake deurdat die advertensies nie staties is nie, maar selfs tydens 'n enkele raadpleging van die betrokke artikel verander.

     

     

    Aangesien dit nie leksikografiese data is wat in hierdie raam vertoon word nie kan hierdie raam nie as 'n leksikografiese soekplek beskou word nie. Dit word dus nie as sodanig benoem nie, maar staan as 'n skermskootraam bekend.

    In gedrukte woordeboeke speel bladuitleg asook die uitleg en voorkoms van buitetekste 'n belangrike rol (Almind en Bergenholtz 2000). Aanlyn woordeboeke het ook 'n estetiese dimensie en in die kommersiële leksikografie moet die skermskootstruktuur so beplan word dat dit ook ruimte bied aan nieleksikografiese data. Dit mag nie lukraak gedoen word nie. Dit is deel van die leksikografiese proses dat die leksikograaf moet toesien dat die woordeboekspesifieke besetting van die skermskootstruktuur nie die gebruiker benadeel in die raadpleging van die woordeboek nie. Gevolglik is nie net die artikelstruktuur belangrik nie, maar ook die skermskootstruktuur en ook die funksionele benutting van 'n skermskootraam.

    Data-oorlading kan maklik suksesvolle woordeboekraadpleging kortwiek - vergelyk Gouws en Tarp (2017). In figuur 20, die Macmillan Dictionary se openingskermskoot van die lemma information overload se artikel met sy uitgebreide artikelstruktuur en skermskootraamstruktuur is data-oorlading 'n wesenlike gevaar as die gebruiker slegs op soek is na die betekenis van information overload.

     

     

    Soos in die geval van artikelraamstrukture kan daar in die skermskootstruktuur ook 'n volle raam sowel as 'n halwe raam optree en dit geld op horisontale en vertikale vlak. Leksikograwe moet saam met uitgewers beplan aan die beste benutting van die nuwe tipes raamstrukture om te verseker dat geïntegreerde en niegeïntegreerde artikelrame asook die besetting van 'n skermskootraam tot voordeel van die woordeboek se teikengebruiker sal wees.

     

    4. Ten slotte

    Alhoewel die oorgang vanaf die gedrukte na die aanlyn omgewing reeds tot 'n groot verskeidenheid aanpassings in die leksikografie gelei het, is nog nie naastenby al die moontlikhede wat die nuwe medium bied, benut nie. Praktiese leksikograwe tree vernuwend op in hulle beplanning en produksie van aanlyn woordeboeke. Metaleksikograwe moet hierdie vernuwing in hulle teoretiese modelle insluit, maar self ook met vernuwende voorstelle vorendag kom. Dan kan 'n grondige teoretiese benadering 'n vertrekpunt wees vir die verdere beplanning en produksie van goeie aanlyn woordeboeke. Sodoende kan die gebruiker baat by 'n omvattende data-aanbod en 'n optimale onttrekking van inligting aan hierdie data. In hierdie verband speel woordeboekstrukture 'n wesenlike rol. Leksikograwe moet saam met rekenaar- en inligtingswetenskaplikes werk om die gewenste strukture te ontwikkel wat sowel 'n omvattende dataverspreidingstruktuur as 'n soekstruktuur 'n werklikheid kan laat word. Nuwe strukture, soos die skermskootstruktuur, maar ook nuwe tipes raamstrukture kan 'n bydrae lewer om die gepaste leksikografiese data te akkommodeer en om 'n niesteurende posisie vir nieleksikografiese data te skep.

     

    Bronnelys

    5.1 Woordeboeke

    5.1.1 Aanlyn woordeboeke (Almal geraadpleeg: Junie 2023)

    AHD = American Heritage Dictionary. http://ahdictionary.com/

    ANW = Algemeen Nederlands Woordenboek. http://anw.inl.nl/

    dict.cc = https://www.dict.cc/

    Duden = Duden Online. https://www.duden.de/suchen/dudenonline/

    elexiko = http://www.owid.de/wb/elexiko/start.html

    LDOCE = Longman Dictionary of Contemporary English. http://www.ldoceonline.com

    Macmillan = Macmillan Dictionary. https://www.macmillandictionary.com/dictionary/british/ (Woordeboek sluit op 30 Junie 2023.)

    MW = Merriam-Webster. http://www.merriam-webster.com/dictionary

    OED = Oxford English Dictionary. https://www.oed.com/

    Pharos = Pharos Afrikaans-Engels/English-Afrikaans Woordeboek. https://www-pharosaanlyn-co-za.ez.sun.ac.za/soek/

    5.1.2 Gedrukte woordeboeke

    Takebayashi, S. en Y. Kojima (Reds.). 1990. Kenkyusha's Lighthouse English-Japanese Dictionary. Tokio: Kenkyusha.         [ Links ]

    Wiegand, H.E., R.H. Gouws, M. Kammerer, M. Mann en W. Wolski (Reds.). 2020. Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung / Dictionary of Lexicography and Dictionary Research. Deel 3. Berlyn: De Gruyter.         [ Links ]

    5.2 Ander bronne

    Almind, R. en H. Bergenholtz. 2000. Die äshetische Dimension der Lexikographie. Fix, U. (Red.). 2000. Bild im Text - Text und Bild: 259-288. Heidelberg: Universitätsverlag C. Winther.         [ Links ]

    Gouws, R.H. 2014. Article Structures: Moving from Printed to e-Dictionaries. Lexikos 24: 155-177.https://doi.org/10.5788/24-1-1256        [ Links ]

    Gouws, R.H. 2018. Accessibility, Access Structures and Access Procedures. Jesenšek, V. en M. Enčeva (Reds.). 2018. Wörterbuchstrukturen zwischen Theorie und Praxis: 35-56. Berlyn: De Gruyter.https://doi.org/10.1515/9783110598650-003

    Gouws, R.H. 2022. Extended Article Comments in Online Dictionaries. Lexicography. Journal of ASIALEX 9(2): 111-138.         [ Links ]

    Gouws, R.H. en S. Tarp. 2017. Information Overload and Data Overload in Lexicography. International Journal of Lexicography 30(4): 389-415.         [ Links ]

    Hausmann, F.J. en H.E. Wiegand. 1989. Component Parts and Structures of General Monolingual Dictionaries. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 328-360.

    Hausmann, F.J., O. Reichmann, H.E. Wiegand en L. Zgusta (Reds.). 1989-1991. Wörterbücher. Ein internationales Handbuch zur Lexikographie / Dictionaries. An International Encyclopedia of Lexicography / Dictionnaires. Encyclopédie internationale de lexicographie. Berlyn: Walter de Gruyter.         [ Links ]

    Kammerer, M. en H.E. Wiegand. 1998. Über die textuelle Rahmenstruktur von Printwörterbüchern. Präzisierungen und weiterführende Überlegungen. Lexicographica 14: 224-238.         [ Links ]

    Klosa, A. en R.H. Gouws. 2015. Outer Features in e-Dictionaries. Lexicographica 31: 142-172.         [ Links ]

    Wiegand, H.E. 1989. Arten von Mikrostrukturen im allgemeinen einsprachigen Wörterbuch. Hausmann, F.J. et al. (Reds.). 1989-1991: 462-501.