SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33An Overview of English Dictionaries of AbbreviationsTowards Accuracy: A Model for the Analysis of Typographical Errors in Specialised Bilingual Dictionaries. Two Case Studies índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

    Links relacionados

    • Em processo de indexaçãoCitado por Google
    • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

    Compartilhar


    Lexikos

    versão On-line ISSN 2224-0039
    versão impressa ISSN 1684-4904

    Lexikos vol.33  Stellenbosch  2023

    http://dx.doi.org/10.5788/33-1-1836 

    RESENSIES REVIEWS

     

    Bonny Sands en Kerry Jones (Hoofredakteurs). N|uuki Namagowab Afrikaans English: Xoakixanisi / Mîdi di Khanis / Woordeboek / Dictionary

     

     

    2022, 313 pp. ISBN 978-0-6397-1245-1.. 2022, 313 pp. ISBN 978-0-6397-1245-1. Stellenbosch: African Sun Media. Gratis beskikbaar op aanvraag by die Departement van Sport, Kuns en Kultuur (DSKK) en African Tongue, Suid-Afrika.

    Oor die meriete van die N\uuki Namagowab, Afrikaans, English Woordeboek / Dictionary (2022) bestaan daar geen onduidelikheid nie. Dié woordeboek is immers in 2023 met die ATKV-Woordwystoekenning vir woordeboeke en taalgidse bekroon. Die beoordelaarspaneel, bestaande uit die gevierde taalkundiges Rufus Gouws, Ernst Kotzé en Gerhard van Huyssteen, was eenparig van oordeel dat veral die innovasie, omvang en gemeenskapsgerigtheid van dié werk hiervan 'n merkwaardige naslaanbron maak.

    In dié meertalige naslaanbron kom vier tale van die Noord-Kaap aan bod, naamlik N\uuki, Nama(gowab), Afrikaans en Engels. Sowel N\uuki as Nama word as bedreig beskou, maar die situasie is kritiek wat N\uuki betref en die taal is deur die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (UNESCO) geklassifiseer as "op die rand van uitsterwing". Tans is 4=xuu|eeki (mevrou) Katrina Esau van Upington die enigste oorlewende persoon wat N\uuki vlot kan praat. Die unieke variëteit van Afrikaans wat hier vir die eerste keer geboekstaaf word, staan bekend as "Onse Afrikaans" en die variëteit van Engels wat in die bron gebruik is, is Suid-Afrikaanse Engels.

    Benewens die beperkte boekoplaag is dié bron ook in digitale formaat beskik-baar op die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR) se woordeboekportaal. Vir alle N\uuki-lemmas is daar vertaalekwivalente in Nama, Afrikaans en Engels, asook klankopnames wat help met die uitspraak en aanleer van die taal. Die app-weergawe van die woordeboek, Saasi Epsi, kan op Google Playstore afgelaai word en vir elke N|uuki-lemma word daar, bene-wens die vertaalekwivalente in Nama, Afrikaans en Engels, 'n fonetiese tran-skripsie gegee. YouTube-videos met duidelike, bondige gebruiksaanwysings is vir elk van die formate beskikbaar. Dié naslaanbronne is geskep met fondse wat deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur beskikbaar gestel is en SADiLaR en African Tongue - 'n taalkundige konsultasiediens wat met kon-temporêre sprekers van die tale Ju, Tuu en Khoe in Suidelike Afrika saamwerk om kreatiewe en opvoedkundige hulpbronne te ontwikkel - het die projek gesamentlik onderneem om N\uuki en Nama te ontwikkel en te bewaar. Vir die doeleindes van hierdie resensie is slegs die gedrukte weergawe bestudeer.

    In die digitale era waarin daar 'n klemverskuiwing is van gedrukte na aanlyn boeke is die publikasie van enige werk, veral 'n gratis naslaanbron van dié aard en omvang, betekenisvol. In die eerste plek is dit 'n tasbare erkenning aan 4=xuu|eeki Katrina Esau vir haar onbaatsugtige ywer om haar moedertaal feitlik op eie houtjie te bewaar en te bevorder. Die groep akademici en navorsers wat dié naslaanbron die lig laat sien het, sou dit nie sonder haar steun kon doen nie. Terselfdertyd dra die boek daartoe by om die kulturele identiteit en waardigheid van 'n vergete groep mense te herstel en as sodanig is dit 'n nakoming van 'n wêreldwye onderneming, naamlik die Verenigde Nasies se Inter-nasionale Dekade van Inheemse Tale (2022-2032), om taalverlies om te keer en nuwe taalgebruikers te bemagtig. Verder vervul die boek 'n opvoedkundige rol en oorbrug dit die gaping tussen akademici, die sprekers van die bedreigde tale en die algemene Suid-Afrikaanse publiek, om sodoende 'n omgewing te skep waarin ons historiese en kontemporêre konteks beter verstaan kan word.

    Die voorwerk beslaan 'n indrukwekkende 35 bladsye en bied boeiende, insiggewende leesstof. Die materiaal word deurgaans in Afrikaans en Engels aangebied en wel in die genoemde volgorde, omdat Afrikaans (53,8%) eerder as Engels (3,4%) in die Noord-Kaap as lingua franca gebruik word.

    In die Voorwoord verduidelik Nigel Crawhill, die Kanadese taalkundige en afdelingshoof van plaaslike en inheemse kennisstelsels van UNESCO, hoe die ontmoeting met David Kruiper en Elsie Vaalbooi daartoe gelei het dat die oorblywende sprekers van N\uuki opgespoor is en die geskiedkundige projek uit-eindelik onderneem kon word.

    Hierop volg die Vooraf-gedeelte deur die hoofredakteurs Bonny Sands en Kerry Jones. Interessant is die motivering vir die meertalige aanbod: dit weer-spieël die ryk taalkundige en kultuurgeskiedenis van die Noord-Kaap en 'n kon-teks waarbinne die sprekers in hul daaglikse omgang met mekaar die tale vermeng.

    In die gedeelte oor die vroeë dokumentasie van N\uuki word 'n bondige oor-sig gegee van die navorsingsbydraes in die vorm van aantekeninge en klankopnames oor jare heen. Dié baanbrekerswerk oor meer as 'n honderd jaar word uit-eindelik alles op een plek saamgevat en dit verleen gewigtigheid en geloofwaardigheid aan die naslaanbron.

    Die afdeling oor die N\uu-herlewingsverhaal beskryf die proses wat in die negentigerjare van stapel gestuur is en waar taalkundiges en navorsers, veral van Namibië en Amerika, nóú saamgewerk het met die oorblywende sprekers om oor 'n periode van meer as 25 jaar storieboeke en leerstof te produseer en uit-eindelik die naslaanbron te publiseer. Die omvang en skaal van dié proses laat die verstand duisel en bring opnuut 'n bewondering vir die medewerkers wat die moed van hul oortuiging gehad het om die taak te voltooi. Uitgebreide digitale opnames van die Oostelike en Westelike dialekte van die N\uuki-taal is op 'n moeisame, tydrowende manier bekom en dié klankopnames vorm die basis van die woordeboek. Hiermee is die voortbestaan van N\uuki verseker, maar terselfdertyd het die taal ook 'n skrifbeeld of ortografie verkry wat dit binne die sfeer van geletterdheid plaas.

    Kleurfoto's van xuu|eeki Katrina Esau en die nuwe geslag aanleerders van N\uuki, volwasse N\uuki-sprekers wat tot die woordeboek bygedra het en ander deelnemers aan die projek, naamlik verteenwoordigers van die N\uuki-taalower-heid, Nama-sprekers, plaaslike Afrikaanssprekendes, navorsers, taalaktiviste en taalkundiges wat in verskillende hoedanighede by die projek betrokke was, is ingesluit. Hiermee word die nodige erkenning verleen aan elkeen wat 'n opofferende bydrae tot dié grootse projek gelewer het en vir die gebruiker van die naslaanbron kry die oeroue taal gestalte en word dit verlewendig deur middel van die fotobeelde.

    Inligting oor die vier tale wat afwisselend as bron- en doeltale in die woor-deboek verskyn, word vervolgens gegee. Dié interessante agtergrondfeite help die gebruiker om die plek van die betrokke tale binne die komplekse Suid-Afri-kaanse taallandskap te begryp en onderlinge taalbeïnvloeding beter te verstaan. Die klem val nie op die standaardvorme van Afrikaans en Engels nie, maar op die variëteite daarvan soos dit deur die N\uuki- en Nama-sprekers in die alledaagse omgang gevorm en gebruik is. Veral van belang vir Afrikaanse akade-mici en leksikograwe is die dokumentasie van Onse Afrikaans, 'n variëteit van die Noord-Kaap. Vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) wat saam met die Afrikaanse Taalraad (ATR) werk aan variëteite onder die ProVARIA-vaandel, is dit byvoorbeeld waardevolle materiaal.

    Die volgende afdeling is 'n gebruikersgids en dit bevat toeligting wat spe-sifiek op die woordeboek-gedeelte gerig is. Dit sluit toeligting in ten opsigte van die inhoud van elke woordeboekinskrywing, rededeel-etikette, afkortings en akronieme, die naslaan van woorde, spelling en uitspraak en simbole wat in die transkripsie van N\uuki-woorde gebruik word. Omdat N\uuki nie 'n skryftra-disie het nie, vervul dié afdeling ook die rol van 'n minigrammatika. Dit is 'n waardevolle, onontbeerlike toevoeging tot die inhoud wat die taal vir 'n ver-skeidenheid gebruikers toeganklik maak.

    Die gebruikstoeligting word aangevul met notas oor die N\uuki-gramma-tika wat aandui in watter opsigte dit van die grammatika van onderskeidelik Afrikaans en Engels afwyk. Ingewikkelde taalkonsepte word op 'n eenvoudige, helder manier verduidelik en bied 'n fassinerende blik op 'n baie komplekse taal.

    Die laaste gedeelte van die voorwerk word in beslag geneem deur inligting oor waar en hoe om toegang tot die digitale weergawes van die woordeboek te verkry, asook 'n lys van addisionele hulpbronne wat publikasies, films en digitale versamelings insluit. Dié gegewens is uiters waardevol en nuttig en hiermee word die beskikbare navorsingsmateriaal wat oor die afgelope meer as honderd jaar versamel is, op een plek bymekaargebring. Interessante ensiklo-pediese inligting is verder vervat in drie lyste wat die volgende insluit: N\uuki-plekname, N\uuki-persoonsname en N\uuki-groetwoorde en ander algemene sinne. Hierdie lyste bevat, waar moontlik, vertaalekwivalente in Nama, Afrikaans en Engels, asook betekenisinligting. Dié gegewens dra daartoe by om, aanvullend tot die woordeboek, die ryke taal- en kulturele erfenis van die Khomani San te weerspieël.

    Die woordeboek-gedeelte beslaan 276 pp. en is verdeel in vier afdelings met opeenvolgend N\uuki (p. 37-92), Nama (p. 93-157), Afrikaans (p. 159-239) en Engels (p. 241-313) as brontale. Vir die doeleindes van hierdie resensie word vervolgens enkele opmerkings vanuit 'n leksikografiese perspektief gemaak en toegelig met Afrikaanse voorbeelde uit die artikels van N\uuki wat die fokus van dié naslaanbron is.

    Die uitleg is gebruikersvriendelik met, in die middel bo-aan elke bladsy, 'n opskrif (die naam van die betrokke taal) wat aandui in watter afdeling die gebruiker hom of haar bevind. Bo-aan die linker- en regterkant van elke bladsy word die eerste en laaste trefwoord wat daarop voorkom, aangegee. Hiermee word die vindbaarheid van woorde verhoog. Elke bladsy is in twee kolomme verdeel. Omdat die inligtingaanbod in die artikel van elke trefwoord so dig is, help die korter reëls met leesbaarheid en begrip.

    Die trefwoorde is in vetdruk en die doeltale is onderstreep. Aan die rededele is eenvoudige kodes, bv. T1, T2, T3, ens. toegeken wat maklik in die voor-teks nageslaan kan word. Dié stelsel is funksioneel, want anders sou die naam van die betrokke rededeel in elk van die vier tale herhaal moes word. In die N\uuki-afdeling word die fonetiese transkripsie vir elke trefwoord tussen vierkantige hakies aangedui. Dit is nie duidelik waarom fonetiese transkripsies vir trefwoorde in Nama, Afrikaans en Engels ontbreek nie. Waarskynlik is dit omdat die fokus van die woordeboek N\uuki is en omdat dit baie tydrowend sou wees om die transkripsies vir die ander tale, veral Nama, by te werk.

    Indien daar vir 'n betrokke trefwoord verskillende vertaalekwivalente moont-lik is, word hulle deur kommas van mekaar geskei. Die Afrikaans vir N\uuki flaitsi word byvoorbeeld aangedui as mondfluitjie, bekfluitjie, harmonika. Dié vertaalekwivalente is sinonieme. By die trefwoord |hoqo word vertaalekwiva-lente wat nie sinoniem is nie, ook met kommas van mekaar geskei, naamlik spook, duiwel, Satan, nagmerrie, gees, vyand. Dié werkwyse verskil van die konvensie in vertalende woordeboeke om vertaalekwivalente wat betekenis-matig verskil, met kommapunte te skei. Dit sou beter wees om by die bestaande konvensie te hou.

    Vertaalekwivalente wat in Standaardafrikaans nie dieselfde gevoelswaarde het nie, word ongemerk gelys. By N\uuki kx'a'u word opdrink en opsuip naas mekaar gegee. Dit is nie duidelik of dit is omdat die betrokke woorde in die Noord-Kaapse variant van Afrikaans waarskynlik dieselfde sosiostilistiese waarde het nie. Hier sou 'n mens beter gebruiksleiding verwag.

    Waar enkelwoordvertalings nie moontlik is nie, word verklarende frases gegee. By die N\uuki-trefwoord tsyoo staan daar byvoorbeeld: Afr.: sit met een been reguit en by n|'hobo: Afr.: rituele verfmerke op die gesig, om die gesig soos 'n gemsbok s'n te laat lyk. Dié verklarende frases verskyn as meerwoor-dige trefwoorde in die Afrikaanse afdeling. Waar nodig word die verklarende frases aangevul met addisionele verklarende aantekeninge en dan is die onderstreepte taalnaam kursief. Vergelyk by dieselfde lemma: Afr.: Die verfmerke is soos dié van 'n gemsbok, bv. wanneer 'n jongmeisie haar mondigwording (hok-meisie) deurloop.

    Betekeniswaardes word tussen enkelaanhalingstekens gegee. Die N\uuki-trefwoord |'umsi!oo word vertaal met sleutelbeenholte. Ter verduideliking word bygevoeg dat die N\uuki-woord letterlik 'asem' + 'gat' beteken. Vir die gebruiker bied dit insig in die manier waarop woordvorming in N\uuki plaasvind.

    Addisionele inligting rakende die vertaalekwivalent word tussen ronde hakies verstrek. In die N\uuki-afdeling by die trefwoord a word byvoorbeeld die volgende gegee: Afr.: hier (van iets wat naby is) en by die trefwoord kina Afr.: hulle (slegs vir mense gebruik). Dié inligting wat die funksie van etikette vervul, help die gebruiker om die vertaalekwivalent reg te verstaan en te gebruik. Aan die Afrikaanse kant verskyn sowel die trefwoord hulle as die etiket (gebruik vir iets wat nie menslik is nie) in vetdruk. Dit is strydig met die algemene lek-sikografiese praktyk.

    In sommige artikels is inligting oor die kulturele tradisie en leefwyse van die N\uuki-sprekers ingebed wat die gordyn effens lig op 'n vergete gemeen-skap. Die woord oro word soos volg vertaal: Afr.: kewer wat 'maan' genoem word Afr.ons: lyfvretertjie, poepgogga. Die volgende inligting word ter agter-grond bygevoeg: Afr.: 'n ongeïdentifiseerde insek wat 'maan' genoem word omdat daar geglo word dat, wanneer 'n vrou daaroor loop, sy haar maandstonde sal kry. Dit is swart, die grootte van 'n R2 muntstuk. Dit het riffels op die rug, 'n klein koppie met voelers en 'n kort nek soos 'n toktokkie. Dit lyk na 'n liewenheersbesie met klein beentjies, is rond en het 'n ronde, klein koppie. Die insek lyk baie soos die Omorgus asperulatus en toktokkie.

    Waar dit wel voorkom, word vertaalekwivalente in Afrikaans (Afr.) en Onse Afrikaans (Afr.ons) verstrek. By N\uuki tsaus word byvoorbeeld Afr.: oog en Afr.ons: puts gegee. Vir die navorser wat in die variëteite van Afrikaans belangstel, is dié dokumentasie van onskatbare waarde.

    Homoniemnommers ontbreek deurgaans by inskrywings soos ||xuri (T1) Afr.: wildehond en ||xuri (T1) Afr.: wortel van die dawidjiesplant. Dit is waar-skynlik omdat verhewe syfers in kombinasie met die N\uuki-klikletters verwarrend sou wees. Homoniemnommers ontbreek egter ook aan die Afrikaanse en Engelse kant waar dieselfde argument nie water hou nie.

    Die trefwoorde wat in die N\uuki-afdeling nagegaan is, verskyn in die Nama-, Afrikaanse en Engelse afdelings as vertaalekwivalente, en omgekeerd. Dit is ver-antwoordelike leksikografiese praktyk.

    Dié naslaanbron is 'n monumentale werk wat al die lof verdien wat in die media daaraan toegeswaai is. Dit is maklik leesbaar en toeganklik, nie net vir aka-demici en taalstudente nie, maar enige taalentoesias wat sy of haar horisonne wil verbreed. Die navorsers het met die hulp van gemeenskapsleiers en die oor-blywende sprekers van N\uuki uitstekend daarin geslaag om 'n byna vergete taal in boekvorm te rekonstrueer en sodoende vir die nageslag te laat voortleef. In die laaste instansie dien dit as navolgenswaardige voorbeeld van hoe ander bedreigde tale, op eie bodem, maar ook internasionaal, gedokumenteer en bewaar kan word.

    A.E. Cloete

    Buro van die WAT Stellenbosch Suid-Afrika (aec@sun.ac.za)