Services on Demand
Article
Indicators
Related links
- Cited by Google
- Similars in Google
Share
Lexikos
On-line version ISSN 2224-0039
Print version ISSN 1684-4904
Lexikos vol.33 spe Stellenbosch 2023
http://dx.doi.org/10.5788/33-2-1845
ARTICLES
Verskillende perspektiewe oor glossariums: Vertalend teenoor leksikografies
Different Perspectives regarding Glossaries: Translational versus Lexicographic
Ilse Feinauer
Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, Stellenbosch (aef@sun.ac.za)
OPSOMMING
Die term glossarium kom onder andere in sowel vertaling as leksikografie voor in wat lyk soos verskillende toepassings: vir vertaling - 'n lys woorde wat deur die vertaler tot die doelteks toegevoeg word; vir leksikografie - 'n tipe woordeboek of naslaanwerk. Dit lyk of die term meer dikwels in die metataal van sowel praktiese (literêre) vertaling en praktiese leksikografie voorkom as in die vertaalwetenskap en metaleksikografie. In albei gevalle word die term egter minder koherent, minder eenduidig en vaer gebruik as wat van 'n term in 'n wetenskaplike veld verwag sou word. In hierdie artikel probeer ek die uiteenlopende toepassings van die term glossarium sistematies te onderskei, want dit sal feitlik onmoontlik wees om glossarium ondubbelsinnig te definieer. Ek begin deur die ekstratekstuele en tekstuele kenmerke van die term glossarium te ontleed deur die verskille en ooreenkomste aan te toon soos dit onderskeidelik in die vertaalwetenskap en metaleksikografie gebruik word. Die artikel is meer deskriptief as normerend, maar stel tog voor dat glossarium gereserveer word vir gebruik in die vertaalwetenskap en dat die term spesialiswoordeboek (eentalig, tweetalig, meertalig) in die metaleksikografie gebruik word.
Sleutelwoorde: glossarium, glos, vertaalwetenskap, metaleksikografie, (literêre) vertaling, terminologie, spesialiswoordeboeke, tekstueel, ekstratekstueel, leksikale digtheid, vertaalekwivalent
ABSTRACT
The term glossary appears inter alia in both translation and lexicography with what looks like different applications: for translation - a list of words added to the target text by the translator; for lexicography - a type of dictionary or reference work. It seems that the term more frequently occurs in the metalanguage of both practical (literary) translation and lexicography than in the metalanguage of translation studies and lexicographic theory. In both cases however the term is used in a less coherent, less uniform and more fuzzy way, than would be expected from a term used in a scientific discipline. In this article I will try to distinguish the diverse applications of the term glossary in a systematic way since it might be impossible to define glossary unambiguously. I will start off by unpacking the extra-textual and textual features of the term glossary showing the differences and similarities as used in the fields of translation studies and metalexicography. The article will be more descriptive than normative, but suggests that the term glossary is reserved in translation and that the term specialised dictionary (monolingual, bilingual, multilingual) is used in the lexicographic field.
Keywords: glossary, gloss, translation studies, meta-lexicography, (literary) translation, terminology, specialised dictionaries, textual, extra-textual, translation equivalent
1. Inleiding
1.1 Oorsig van die artikel
Hoewel die term glossarium deur sowel die vakgebied Vertaling as Leksikografie gebruik word, wil dit voorkom of die vakgebiede se onderskeie toepassings daarvan heeltemal verskil: Vir vertaling verteenwoordig die term deesdae 'n lys woorde wat deur die vertaler, redigeerder of uitgewer by die doelteks gevoeg word; vir leksikografie verteenwoordig die term 'n tipe woordeboek of naslaanbron.
Hoe het dit gebeur dat hierdie term deur twee verskillende vakgebiede gedeel word? Tydens die vroeë geskiedenis van die Europese leksikografie was 'n glos 'n aantekening wat in die kantlyn of tussen die reëls by 'n Middeleeuse manuskrip gevoeg is om 'n (meestal Latynse) woord of frase te verduidelik. Die glosse is destyds altyd in die teks geïntegreer, hetsy in die besondere reël, in die kantlyn of aan die einde van die teks. Hierdie glosse is later versamel om woordeskatlyste of glossariums saam te stel, met parafrases of vertaalekwivalente wat tematies of alfabeties gerangskik is (Hartmann en James 1998: 63). Oor die jare het die leksikografie hierdie woordeskatlyste stelselmatig ontwikkel tot waar spesialisdeskundiges moeilike konsepte identifiseer en dit in glossariums verduidelik wat óf as 'n onafhanklike teks uitgegee word óf in handboeke geïntegreer word. Hierdie konteksonafhanklike kompilasies kan een-, twee- of meertalig wees, alfabeties sowel as tematies, linguisties én ensiklopedies. Hierdie praktyk kan dalk beskou word as die beskeie oorsprong van leksikografie soos ons dit vandag ken (Nkomo en Madiba 2011: 151).
Vandag se gebruik van glossariums in vertaalde produkte is nader aan die oorspronklike gebruik as wat by die leksikografie die geval is, naamlik aantekeninge oor moeilike woorde in die doelteks wat aan die einde van die teks ingevoeg word.
Dit wil voorkom of die term meer frekwent voorkom in die metataal van praktiese (literêre) vertaling en leksikografie as in dié van die vertaalwetenskap en metaleksikografie. Moontlik is hierdie minder koherente, minder eenduidige en verwarrende gebruik van terminologie daaraan toe te skryf dat sowel vertaling as leksikografie eeue lank prakties beoefen is voordat die gebiede redelik onlangs eers as onafhanklike vakkundige dissiplines geformaliseer is; die vertaalwetenskap sedert die 1960's en die metaleksikografie sedert die 1970's.
Hierdie artikel ondersoek ook die inkonsekwente, onduidelike en ongedefinieerde aard van die term glossarium in die vertaalwetenskap. Hierdie verwarrende gebruik van terminologie is ongelukkig niks nuuts in die vertaalwetenskap nie. Dit strek so ver terug soos Holmes se bekende 1972-artikel 'The name and nature of Translation Studies' waarin hy die vakgebied van die vertaalwetenskap karteer en terselfdertyd die metataal van die vertaalwetenskap in oënskou neem. Oor Holmes se term 'Translation Studies' is self heelwat gedebatteer voor dit uiteindelik aanvaar is. Die debat oor metataal in vertaalwetenskap word in meer onlangse werke voortgesit, onder andere in The Metalanguage of Translation (2009), onder redaksie van Yves Gambier en Luc van Doorslaer, Anthony Pym se 'Translation Research Terms: A Tentative Glossary for Moments of Perplexity and Dispute' (2011) en Lelanie de Roubaix se 'Where Boundaries Blur: André Brink as Writer, Bilingual Writer, Translator and Self-translator' (2012).
Argumente wissel van aannames dat die "terminological chaos" 'n negatiewe impak op die vertaalwetenskap se sosiale aansien kan hê, aangesien "a coherent use of terminology is surely part of the toolkit of the longest established professions" (Marco 2009: 77) tot Snell-Hornby (2009: 132) wat vra na "compatible discourse which cultivates an awareness of differences in usage and where terms are clearly defined within the language and the school of thought for which they apply". Pym (2011: 75) se argument stem ooreen met dié van Marco wanneer hy verwys na die dubbelsinnighede en vaaghede van redelik algemene terme in die vertaalwetenskap. Hy verduidelik dat sy 2011-lys 'n poging deur navorsers is "[to] make their terms as clear and specific as possible, since the discipline of Translation Studies is currently unable to do that for them".
Dat dieselfde terminologiese inkonsekwenthede wat tot konseptuele verwarring, dubbelsinnigheid en misverstande lei, ook by sowel die leksikografiepraktyk as die metaleksikografie bestaan, blyk duidelik uit die onderstaande menings wat verwys na publikasies waarin spesialisterme op een of ander manier verwerk word. Is dit TSP-woordeboeke (taal vir spesifieke doeleindes), termbanke, termlyste, terminologiese standaarde, terminologiese leksikons, glossariums? Besomi beskryf byvoorbeeld die nomenklatuur van leksikografiese werke wat ekonomiese terme hanteer as vaag en onsistematies:
Lexicographical works concerning economics (exclusively or not) are a motley set of objects. As we shall see below …, they include a wide range of sizes, purposes, languages, editorial histories and intended audiences. And they have different names: we have dictionaries, encyclopaedias, encyclopaedic dictionaries, lexica, vocabularies and glossaries, which correspond to different kinds of reference works. The distinction between these kinds of works in practice is rather fuzzy. Several of them - both of general scope and specifically addressed to economics or the social sciences - actually carry more than one of these denominations in their title. (Besomi, in Fuertes-Olivera en Tarp 2014: 9)
Kudashev (2007: 159-160) skryf in soortgelyke trant wanneer hy die vraag probeer beantwoord: Are terminological collections dictionaries?
Terminological collections are published under a whole bunch of names. S. Landau (2001: 35) quotes a medical lexicographer (Manuila 1981: 58) who says in despair Some of the names given to terminological reference works - particularly 'glossary', 'vocabulary' and 'dictionary' - have been so misused that there is complete confusion, and the title on the cover of a book is no safe guide to its contents.
Kudashev (2007: 160) maak dan die radikale stelling dat hy reken daar is geen algemeen aanvaarde definisie van die term woordeboek om alle woordeboekagtige naslaanwerke onomwonde as woordeboeke te verklaar nie. Hy beskou dit as een van die ernstigste probleme in metaleksikografie, maar hierdie probleem is nie uniek aan metaleksikografie nie - die probleem is net so akuut in die vertaalwetenskap. Om die term vertaling te definieer, moet die produk, proses en alles wat verwys na vertalers se aktiwiteite ingesluit word. Dit omvat alle stamme wat gekoppel kan word aan vertaal-, of alles wat as vertalend of vertaalwetenskaplik beskryf kan word. Die leksikografiese artikel van die term translation in Dictionary of Translation Studies (Shuttleworth en Cowie 1997) beslaan twee bladsye, met die eerste sin wat lui:
An incredibly broad notion which can be understood in many different ways.
In hierdie artikel probeer ek om minstens die uiteenlopende toepassings van die term 'glossarium' op sistematiese wyse te onderskei aangesien dit dalk onmoontlik is om 'glossarium' ondubbelsinnig te kan definieer. Eerstens gee ek 'n uiteensetting van die ekstratekstuele en tekstuele kenmerke van die term 'glossarium' om sodoende die verskille en ooreenkomste uit te lig soos dit in die vertaalwetenskap en metaleksikografie gebruik word. Onder ekstratekstuele kenmerke bespreek ek waarom iets geglos word, die agente wat daarby betrokke is, wat geglos word en waar die glossarium gevind word, byvoorbeeld in die parateks of die sentrale teks. Daarna word die struktuur en inhoud van die items bespreek wat as sodanig geglos word, onder tekstuele kenmerke.
In 'n poging om hierdie pragmatiese en funksionele vaagheid aan bande te lê, probeer ek om die eienskappe van glossariums te identifiseer; ek probeer vasstel hoe vertalers en leksikograwe glos. Hierdie werkswyse dra daartoe by dat die artikel meer deskriptief as normatief van aard is.
2. Vraagstukke oor terminologie
Die term 'glossarium' as sodanig is nêrens in enige woordeboek, glossarium of terminologielys oor vertaalterme te vind nie.
2.1 Definisie van die term 'glossarium'
'n Moontlike lekedefinisie van die term kan soos volg lui: 'n lys woorde met een of ander verduideliking wat deur die vertaler by die doelteks gevoeg word.
Bajaj (in Munday 2009: 193) definieer die term 'glos' "minder tegnies" - soos sy dit stel - d.w.s. soos wat nievakkundiges of vertaalpraktisyns dit sal verduidelik, as:
'n glos is beskrywende inligting wat by 'n doelteks gevoeg word om 'n bronteksitem te verduidelik.
Dit was omtrent die beste poging om glos en sodoende 'glossarium' te definieer wat ek kon opspoor.
Ek het 'glossarium' in vyf bronne nageslaan wat vertaalterminologie behandel, naamlik:
Dictionary of Translation Studies. 1997. Shuttleworth, M. en M. Cowie. Geen inskrywing vir 'glossarium' of 'glos' is gevind nie;
Translation Terminology. 1999. Deslisle, J., H. Lee-Jahnke en M.C. Cormier (Reds.). Daar is geen inskrywing vir 'glossarium' of 'glos' gevind nie;
Veeltalige vertaalterminologie/Multilingual Translation Terminology. 2010. Beukes, A.-M. en M. Pienaar (Reds.). Daar is geen inskrywing vir 'glossarium' of 'glos' gevind nie;
MonAKO. Online Glossary of Translation Studies Terms, University of Helsinki. Daar is geen inskrywing vir 'glossarium' of 'glos' gevind nie;
Translation Research Terms: A Tentative Glossary for Moments of Perplexity and Dispute. 2011. Pym, A. (Red.). Die term word op die leksikografiese manier gebruik as deel van die lemma vir "Translation actions" vir die naslaan van terme in glossariums.
Hoewel die term 'glossary' deel van laasgenoemde twee bronne se titel vorm, word die term as sodanig nie opgeneem nie en dit word dus nie op die manier beskryf waarop dit in die vertaalpraktyk - veral in literêre vertaling - gebruik word nie. Slegs Pym se lys (2011: 94) bevat die term, maar met die betekenis van 'n tipe woordeboek waarin die vertaler terme kan naslaan wanneer hy/sy vertaal; met ander woorde, die gebruik van glossarium hier is om vertaling te fasiliteer. Hierdie selfde betekenis van 'tipe woordeboek' word ook in die titels van sowel Pym as MonAKO se lys in die term glossary geaktiveer.
In woordeboeke wat leksikografieterme beskryf, word 'glossarium' wel opgeneem en onder andere soos volg in Dictionary of Lexicography (1998) gedefinieer:
Glossary: A type of REFERENCE WORK which lists a selection of words or phrases, or the terms in a specialised field, usually in alphabetical order, together with minimal definitions or translation equivalents.
Some developed into bilingual and multilingual specialised dictionaries (TERMINOLOGICAL DICTIONARY), but most have remained limited in size, sometimes forming part of another publication, e.g. as an appendix or INDEX in a book. (63)
In die omvattende Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung (Wiegand et al. 2017) word die volgende inskrywing aangetref wat niksseggend is as gevolg van die sirkeldefinisie:
Glossar das; -e
erklärendes Verzeichnis von Glossen zu einem bestimmten Text.
glossary: explanatory list of glosses regarding a specific text
Die volgende beskrywing deur Nkomo en Madiba (2011: 148) kan as 'n heel bruikbare kort definisie vir 'n glossarium in die leksikografie gebruik word:
Glossaries result from the collection, description and presentation of terms
Fuertes-Olivera en Tarp (2014: 13) skryf in hulle seminale publikasie Theory and Practice of Specialised Online Dictionaries: Lexicography versus Terminography dat die definiëring van die term 'spesialiswoordeboek' (specialised dictionary), problematies is. Hulle beskou spesialiswoordeboeke nie as 'n spesifieke soort woordeboek met rigiede en goed gevestigde kenmerke nie, maar 'n spesialiswoordeboek dui op 'n generiese konsep wat 'n reeks leksikografiese werke met verskillende kenmerke, groottes en name dek. Daarom word "glossarium" onder andere dikwels as benaming gebruik vir 'n spesialiswoordeboek. Volgens Fuertes-Olivera en Tarp (2014: 13) blyk dieselfde siening uit Hartmann en James (1998: 129) se onderstaande opmerking by hulle kort definisie van 'n specialised dictionary:
There is no uniform framework for this as the nature and scope of such reference works can range widely, from a brief glossary without definitions, through technical dictionaries aimed at lay persons, to large-scale and standardised terminological databases for subject experts and translators. - eie nadruk
Fuertes en Tarp (2014: 19) beskou spesialis- leksikografiese werke as publikasies wat 'n hele reeks verskillende benaminge kan hê soos 'woordeboek', 'ensiklopedie', 'ensiklopediese woordeboek', 'leksikon', 'woordeskatlys', 'glossarium', 'terminologiedatabasis', 'kennisbank', 'hulpbron', 'instrument', ens. Vir hulle is dit die funksie, en nie die naam nie, van hierdie onderskeie produkte wat bepaal of dit as spesialis-leksikografiese werk beskou word of nie. Daar moet iets wees wat hierdie produkte saam groepeer en die kategorisering daarvan regverdig onder dieselfde oorkoepelende konsep van 'n tipe leksikografiese produk.
Vir Fuertes-Olivera en Tarp (2014: 29) is dit vanselfsprekend dat woordeboeke geskep word om kommunikasieprobleme te voorkom en op te los. Maar woordeboeke wat ontwerp is om kitsinligting oor 'n spesifieke onderwerp te verskaf en woordeboeke (of ensiklopedieë) wat 'n diepgaande studie van een of meer vakgebiede moontlik maak, bied verskillende uitdagings en verg verskillende praktiese oplossings. Beteken die onderskeie funksies noodwendig ook verskillende benamings?
Ek is nie seker of hierdie metaleksikograwe se siening onderstaande probleem voldoende hanteer van 'n mediese leksikograaf, ene Manuila, wat reeds in 1981gestel is nie:
Some of the names given to terminological reference works - particularly 'glossary', 'vocabulary' and 'dictionary' - have been so misused that there is complete confusion, and the title on the cover of a book is no safe guide to its contents.
In addition to the names mentioned there are also terminological standards, lexicons, term banks, etc.
(Manuila 1981 opgeteken in Landau, in Kudashev 2007: 159-160)
3. Ekstratekstuele karakter
Ek gaan nou kyk na die ekstratekstuele aard van glossaria in onderskeidelik die vertaalwetenskap en metaleksikografie en soos reeds gemeld, bespreek ek dit aan die hand van die volgende W-vrae: waarom is daar glossariums, wie is die onderskeie agente wat betrokke is, wat word geglos en waar word die glossarium in die teks aangetref?
3.1 Waarom is daar glossariums?
Glossariums (vertaling en leksikografie) is gebruiksitems of hulpmiddels. Die vertrekpunt vir die skep van woordeboeke en ander leksikografiese hulpmiddels, ongeag wat hulle genoem word, is die gebruikers se sosiale behoeftes (Fuertes-Olivera en Tarp 2014: 58). Dieselfde geld vir glossariums wat in literêre vertaling gebruik word.
In die vertaalwetenskap kan die waarom saamgevat word deur 'n deel van Genette (1997: xviii) se definisie vir 'parateks' te gebruik, naamlik dat die parateks as mediator tussen die boek en die leser optree. Die rede waarom daar in literêre werke geglos word, is om doeltekslesers in staat te stel om hulle so na moontlik met die bronteksinhoud te laat identifiseer, en om soveel van die gebruike, gewoontes, denk- en uitdrukkingswyses te verstaan as wat hulle moontlik kan (Hatim en Munday 2004: 167). Die skep van 'n glossarium kan as ondersteuning vir en gebaar van welwillendheid teenoor die lesers beskou word, maar moenie as noodsaaklik vir die abolute dekodering van die doelteksboodskap gesien word nie. Die sosiale behoeftes van lesers, en nie hulle linguistiese of tekstuele behoeftes nie, is veronderstel om die bepalende faktor te wees by die besluit om te glos of nie. Glossariums veronderstel ook 'n suiwer kognitiewe of informatiewe funksie, naamlik die bevrediging van 'n behoefte aan kennis, of soos Toledano Buendía (2013: 157) dit stel, "to achieve a perfect understanding of the source text".
Hier onder volg 'n skematiese opsomming van die redes vir en funksies van glossariums in onderskeidelik vertaling en leksikografie.
3.2 Wie is die onderskeie agente betrokke by glossariums?
Ek fokus hier slegs op die twee hooftipes agente, naamlik die skepper en die ontvanger. Daar is verskeie ander agente betrokke in die produksieproses van glossariums, wat nie hier bespreek word nie. In vertaling is die mediator (persoon wat glos en die glossarium opstel) altyd die vertaler of enige ander lid van die vertaalproduksiespan, en nie die bronteksouteur nie. Die leser is altyd die doelteksleser. Aangesien die mediator besluit wat die doelteksleser moontlik nie sal verstaan nie, tree hy/sy onafhanklik van die bronteksouteur en die doelteksleser op. Deur 'n glossarium by te voeg, neem die mediator sterker agentskap in die daarstel van die doelteks en indien dit die vertaler is, word hy/sy skepper in plaas van blote herprodusent van die doelteks. Sodoende word sy/haar sigbaarheid as vertaler ook verhoog.
In die leksikografie is die skepper van die glossarium meestal die leksikograaf saam met die vakgebiedekspert, maar soms slegs die vakgebiedekspert wat oor bloedweinig leksikografiese kennis beskik.
Die ontvangers of gebruikers van die glossarium in 'n vertaalde teks speel 'n meer passiewe rol as die ontvangers van die glossarium as leksikografiese produk. Laasgenoemde kan 'n veel meer aktiewe rol speel met die glossarium as hulpmiddel wanneer teks geskep, vertaal of gereviseer moet word en dit gebeur gewoonlik binne die omgewing van Taal vir Spesifieke Doeleindes (TSD).
3.3 Wat word in 'n glossarium opgeneem?
Volgens Roby (1999: 96) besluit die vertaler onafhanklik van die doelteksleser wat hy/sy as gebrekkig in die leser se kennis sien, en dus verduidelik moet word. 'n Mens kan so ver gaan as om te sê die vertaler besluit instinktief watter woorde hoogs waarskynlik vreemd vir die leser is, watter betekenis nie uit die konteks afgelei kan word nie, en watter betekenis noodsaaklik vir die verstaan van die doelteks of daardie spesifieke deel van die doelteks is. Dit kan daartoe lei dat leksikale items wat in doelteksglossariums opgeneem word, onsistematies en ietwat lukraak gekies word en grotendeels op die vertaler se oordeel berus.
Aan die leksikografiese kant is die veronderstelling dat vakgebiedverwante terme heelwat meer konsekwent opgeneem word en dat die terme ook bewus gemyn word deur die leksikograaf en/of terminoloog, en die vakspesialis of deur die vakspesialis alleen. Faktore wat hier 'n rol speel, sentreer meer om die korpus waaruit die terme onttrek word, byvoorbeeld is die bronne gesaghebbend en is die korpus verteenwoordigend genoeg van die vakgebied. Die leser speel nie hier soseer 'n rol in die besluit of 'n term opgeneem moet word of nie.
Die opname in die glossariums in vertaalde tekste is uiteraard teksspesifiek, want hierdie glossarium vorm deel van die parateks van die betrokke doelteks. Al die items wat opgeneem word, is ook sterk afhanklik van die betrokke konteks waarin hulle gebruik word, want dit is dikwels die vreemde kultuurspesifieke konteks wat veroorsaak dat die item in die doelteks nie volledig of glad nie begryp word nie.
Die teendeel geld by die leksikografiese glossarium: die terme wat opgeneem word, is nie teksspesifiek nie, maar wel vakspesifiek en daarom ressorteer dit meestal onder TSD. Meestal is die terme onafhanklik van die konteks waarin dit gebruik word, want die onafhanklikheid van die konteks is juis een van die onderskeidende eienskappe tussen terme en algemener leksikale items. Een konsep word meestal deur een term benoem ongeag die konteks of teks waarbinne dit gebruik word. Soms is vakterme wel konteksspesifiek en die leser bepaal of dit 'n vakterm of nieprofessionele term is wat gebruik kan word, bv. rubella teenoor Duitse masels. In veral die vakgebied van die Regte word een konsep ook nie altyd deur een term beskryf nie; vergelyk hier byvoorbeeld die verskillende terme tussen die Amerikaanse attorney en lawyer teenoor die Britse barrister vir wat feitlik dieselfde konsep benoem.
Die vertaler moet deurentyd ook die verstekdoelteksleser se vaardigheidsvlak in die pragmatiese bronkultuurkennis in gedagte hou; dit geld sowel die besluit vir watter leksikale item (definiendum) in die glossarium opgeneem word as die besluit oor hoe die beskrywing van die leksikale item (definiens) daar moet uitsien. Dit is baie gevra van die vertaler wat 'n minder dominante taal soos Afrikaans in Engels moet vertaal in Suid-Afrika waar Engels sowel 'n amptelike taal as die lingua franca is. Hou die vertaler die plaaslike Engelstalige leser in gedagte of word daar voorsien in die behoeftes van die internasionale Engelse mark, wat vanselfsprekend ook heeltemal divers is? Soos reeds gesê, is die leser nie juis ter sake by die keuse van die definiendum in die leksikografiese glossarium nie, maar die opsteller moet die leser wel deeglik in gedagte hou by die skryf van die definiens. Laasgenoemde sal bepaal word deur die leser se vlak van spesialisering (ekspert, semi-ekspert, leek) in die betrokke vakgebied.
Die inhoud van glossariums in vertaalde werke het meer met kennis as taal, en meer met pragmatiek as linguistiek te doen. Hierdie kennis is kultureel en/of pragmaties en gewoonlik ensiklopedies van aard. Weens teenstrydighede of selfs konflik tussen die bron- en doelteks se kommunikatiewe situasie kan die oordrag van hierdie kennis tot 'n verlies aan betekeniskomponente uit die bronteks, of verlies aan begrip deur die doelteksleser lei. Hierdie kennis of leksikale items kan só bronkultuurspesifiek wees dat leksikale gapings tussen die bron- en doeltaal voorkom. Aangesien hierdie soort leksikale items in die vertaling hoofsaaklik oorgedra of ontleen word, is dit juis dié items wat in literêre werke geglos moet word. Indien hierdie terme vertaal word, kan dieselfde inligting moontlik oorgedra word, maar gewoonlik word 'n onakkurate of kultureel vals boodskap of beeld deur die vertaler gesuggereer, byvoorbeeld wanneer sangoma as wizard of biltong as dried meat vertaal word.
3.4 Waar kom die glossarium in die teks voor?
Glossariums word gewoonlik afsonderlik van die hoofteks aangetref ten einde nie die leesvloei te versteur nie. By literêre vertalings word glossariums nog verder van die teks verwyder; hulle word normaalweg aan die einde van die teks aangetref alhoewel dit soms ook heel voor in die boek geplaas kan word. Aangesien glossariums van die hoofteks geskei word, kan lesers besluit om dit te ignoreer indien hulle verkies om self hulle pad deur die teks te vind en begripsprobleme self op ander wyses te oorkom, byvoorbeeld deur middel van die konteks. Lesers kan ook besluit om dele van die teks wat hulle nie verstaan nie, te ignoreer indien hulle van mening is dit sal hulle nie verhinder om die narratief van die boek te volg nie.
Met dié dat glossariums bykomend tot die doelteks is, behoort dit aan wat Genette (1997) 'parateks' noem; 'n term wat gebruik word om materiaal te beskryf wat aanvullend tot 'n teks is en kommentaar lewer op die teks, dit evalueer of andersins op 'n bepaalde wyse raam.
Literêre vertaalde produkte het gewoonlik 'n baie sterk verbintenis met die bronteks maar Toledano Buendía (2013: 150) wys daarop dat glossariums in vertaalde tekste nie parateks in die bronteks is nie, maar slegs as parateks in die doelteks optree. Die leksikale items wat die vertaler kies om te glos, is egter gewoonlik elemente wat direk uit die bronteks oorgedra word en sodoende kan daar aangevoer word dat die glossarium steeds aan die bronteks gekoppel is.
In die leksikografie is die glossarium dikwels die sentrale of hoofteks wat deur buiteteks omring kan word. Die posisie waar glossariums in teks geplaas word in die onderskeie vakgebiede is die presiese spieëlbeeld van mekaar.
4. Tekstuele aspekte
Ek gaan nou die tekstuele aard van glossariums in onderskeidelik die vertaalwetenskap en metaleksikografie bespreek. Daar word aandag gegee aan die onderskeie maniere waarop daar geglos word, maar dan verskuif die fokus na die wyse waarop die gebruiker se behoeftes die aanbod van die glosartikel behoort te beïnvloed. Hier word kortliks bespreek hoe die gebruiker die betrokke glos in die onderskeie tipes glossariums vind, die behoefte aan die toevoeging, al dan nie, van linguistiese inligting in die onderskeie artikels, en die afdeling word afgesluit met die rol van die konteks in die skryf van die onderskeie definiense sowel as die mate van leksikale digtheid in die onderskeie tipes glossariums.
4.1 Hoe word daar geglos?
Hoewel die glossarium wat in literêre vertalings gebruik word (beslis) nie as woordeboek diens behoort te doen nie, stem dit wel ooreen met 'n woordeboek en daarom gebruik ek metaleksikografiese terminologie om na albei tipes glossariums te verwys:
- Die leksikale item wat geglos word, is die 'lemma' (inskrywing) of 'definiendum',
- en die deel wat die lemma verduidelik of beskryf, is die 'definiens'.
'n Literêre glossarium is gewoonlik twee- of meertalig, hoewel dit net aan een spesifieke doelteks geadresseer is. Dit kan egter ook eentalig wees. Die lemma, of definiendum, is 'n woord wat vanuit een spesifieke brontaalteks na die doelteks oorgedra is, met die definiens in die doeltaal. Dieselfde geld vir leksikografiese glossariums, met die adres die vernaamste verskil, naamlik hier is die adres 'n spesifieke vakgebied. Die onderskeie adresse blyk duidelik uit die onderstaande voorbeelde in tabel 6-13.
In tabel 9 word lemmas in dieselfde glossarium aangetref in Afrikaans (meerkat), Afrikaans wat in Engels genaturaliseer is (velskoens) of in Engels (staffriding) en die definiens word deurgaans in Frans as vertaling of beskrywing gegee.
In tabel 10 word vertaalekwivalente vir die brontaallemma gewoon in meer as een doeltaal verskaf.
By sommige lemmas word ook 'n beskrywing in die brontaal verskaf sowel as vertaalekwivalente in meer as een doeltaal vir meertalige glossariums wat onder die leksikografie ressorteer. Sien tabel 11:
Sommige inskrywings in 'n literêre glossarium kan ook eentalig wees, bv. wanneer 'n Suid-Afrikaanse Engelse woord vir internasionale lesers geglos word of wanneer die brontaalwoord 'n vertaalekwivalent het maar die pragmatiese of kulturele verwysings tussen die twee gemeenskappe verskil. Sien Winterbach (2007/2010) waar Suid-Afrikaanse Engelse woorde by 'n glossarium ingevoeg is vir 'n vertaling uit Afrikaans in Engels. Alhoewel die woorde in Engels geglos word, word hulle in die glossarium beskryf soos in tabel 12 gesien word.
Dieselfde bewerking word ook in die leksikografie aangetref waar die definiens in die dieselfde taal as die lemma verskaf word wanneer die betrokke lemma in onbruik verval het of 'n heel spesifieke betekenis binne 'n besondere vakgebied het. Sien tabel 13 vir soortgelyke gevalle met terme uit die Amerikaanse burgeroorlog.
4.2 Hoe vind die gebruiker die glos?
Alhoewel die aanbod van die lemmas in albei tipes glossariums meestal alfabeties is, is die pad waardeur die gebruiker tot by 'n spesifieke lemma in die onderskeie glossariums kom, anders by die vertaalglossarium as by die leksikografieglossarium. Die gebruiker van die vertaalglossarium begin lees nie die boek met die idee om 'n glossarium te raadpleeg nie; dit gebeur onverwags en die vertaalgebruiker kan kies om die glossarium te ignoreer en self die betekenis van die betrokke lemma uit die verhaal probeer aflei. Die leksikografieglossarium se gebruiker daarenteen besluit gewoonlik doelbewus om die lemma na te slaan en vind die betrokke lemma dan gewoon alfabeties gelys.
Die wyse waarop vertaallesers attent gemaak word op die aanwesigheid van 'n glossarium in die vertaalde werk, is deur die gebruik van strukturele merkers om geglosde woorde aan te dui: hierdie woorde word gekursiveer, of onder andere met 'n asterisk, boskrif of onderskrif gemerk. Dit gebeur gewoonlik net die eerste keer dat die woord in die doelteks gebruik word. Dit is ook moontlik dat meer as een merker gebruik word, bv. kursiewe druk en 'n asterisk, met die ander uiterste dat geen aanduiding gegee word of die woord geglos is, al dan nie. Laasgenoemde is nie baie lesersvriendelik nie en gebeur gewoonlik wanneer 'n glossarium aan die begin van die boek verskaf word. Die Afrikaanse roman Toorberg (Van Heerden 1986) is in Engels onder die titel Ancestral Voices (1989) vertaal. Die Engelse teks word deur 'n glossarium bestaande uit 27 inskrywings voorafgegaan, en 'n mens wonder of die vertaler van die leser verwag om die glossarium te memoriseer voordat die boek gelees word.
4.3 Linguistiese inligting
By die leksikografieglos kan daar soveel linguistiese inligting moontlik aan die gebruiker verskaf word mits dit per glossarium konsekwent gedoen word. Dit sal veral van hulp wees indien die gebruiker hierdie terme moet gebruik om teks te produseer. Sien tabel 14 en 15.
Linguistiese inligting, soos in tabel 16 aangetoon, is meestal opsioneel in die vertaalglossariums en beperk tot uitspraak en etimologie, want die idee is nie dat die gebruikers die woorde ooit vir teksproduksie sal gebruik nie, maar uiteraard slegs vir teksresepsie. Die vraag ontstaan of linguistiese inligting hoegenaamd nodig is, want dit kan die aandag van die gebruiker aftrek van die verhaal en die oordrag van die betekenis van die spesifieke glos.
4.4 Konteks en leksikale digtheid by geglosde items
In paragraaf 3.3 is reeds verwys na die rol van die gebruiker by die uitkies van die betrokke lemma wat in die glossarium opgeneem moet word. Die gebruiker speel wel ook 'n bepalende rol by die keuse van inligting wat in die definiens opgeneem word en vir die leksikograaf word die gebruiker eers in ag geneem by die beskrywende deel van die artikel. Die definiens is nie konteksafhanklik vir die leksikograaf nie, want die term behoort eenduidig verklaar te word vir alle kontekste. Die omvang van ensiklopediese inligting wat gebruik word en die eenvoud van die beskrywing kan wel wissel na aanleiding van die gebruiker vir wie die glossarium bedoel is. Die beskrywing kan ook normatief en preskriptief in die leksikografieglossarium wees om die gebruiker te lei hoe om die term binne die spesifieke vakgebied te gebruik.
Vir vertaling is die leser reeds van belang by die keuse van die betrokke lemma wat geglos word, maar eweso in die beskrywende deel van die glossariumartikel. Hierdie definiense is altyd besonder konteksspesifiek omdat slegs die relevante betekenis in die vertaalde boek vir die gebruiker geaktiveer hoef te word. In die glossarium van My Name is Vaselinetjie (Von Meck 2009) is walking stick die definiens vir kierie terwyl in In Bushveld and Desert: A Game Ranger's Life (Bakkes 2008) twee definiense gegee word - walking stick en fighting stick - aangesien albei betekenisse in die konteks van laasgenoemde boek geaktiveer word. In Un long silence (Van Heerden 2005) word slegs die betekenis van fighting stick in die definiens bepaal: massue de combat africaine traditionnelle.
Nog iets wat die vertaler in gedagte moet hou, is dat 'n definiens nie 'n besonder hoë leksikale digtheid moet hê nie, wat maklik kan gebeur wanneer die vertaler daarop moet konsentreer om ensiklopediese pleks van linguistiese inligting te gee. Die rede waarom die leksikale digtheid laag gehou moet word, is dat die definiens die lees van die hoofteks moet fasiliteer en nie die primêre leesvloei moet belemmer nie. Definiense moet daarby hou om die lees van die teks te ondersteun en moenie die dialoog tussen die outeur en leser onderbreek nie. Die vertaler moet ook nie die sekondêre of - nog erger - die hoofstorieverteller raak nie; dit impliseer ook dat die vertaler die inligting in die definiens so objektief moontlik moet weergee, en moet probeer om nie enige eie mening uit te spreek nie. Die vertaler moet ook nie enige inligting verduidelik wat eksplisiet deur die outeur verskaf word nie, en moenie die teks vir die leser interpreteer nie. Vertalers moet nooit hulle lesers se vermoë onderskat om self onduidelikhede in 'n teks uit te pluis nie; hulle lees op stuk van sake 'n literêre teks.
Dit beteken nie definiense moet te kripties wees nie, maar lesers moet eintlik uit die definiens se inhoud kan aflei waarom die woord in die doelteks oorgedra is. Steyn (2013: 227-228) merk op dat die bykomende geglosde items in die Franse vertaling van Toorberg (Van Heerden 1990) te oorsigtelik gedoen is. kaross: peau de bête en korhaan: gros oiseau. Hierdie definiense verskaf byna generiese inligting met geen inligting of iets bykomends wat die items as tipies Suid-Afrikaans of Afrikaans identifiseer nie. Vergelyk byvoorbeeld kaross met die glossariuminskrywing in die Engelse Winterbach (2007/2010): a blanket of softened skins used as bed or floor covering or cloak.
Woordeboekdefinisies moet verkieslik in vertaalglossariums vermy word. Net so moet vertaalglossariums nie uit 'n lys vertaalekwivalente bestaan nie. Tweetalige woordeboeke gee nie die betekenis van leksikale items nie maar eerder 'n lys moontlike vertaalekwivalente; indien glossariums egter uit vertaalekwivalente bestaan, kan die vertaler van meet af die doelteksekwivalent gebruik. Terloops, woorde wat onveranderd uit die brontaal in die doelteks oorgedra word, behoort nie maklik met 'n vertaalekwivalent vervang te kan word nie. Neem byvoorbeeld die volgende glossarium op 'n spyskaart van Fyndraai Restaurant by Solms-Delta Landgoed. Terme soos dié in tabel 17 behoort byvoorbeeld nie geglos te word nie aangesien dit nie tradisionele kulinêre items is nie, maar bloot kulinêre items:
Vertaalekwivalente kan as aanvullende inligting in die definiens gebruik word, maar die definiens moenie nét daaruit bestaan soos wat ook by meerkat en die Franse mangouste (tabel 9) die geval is nie.
Obseniteite, nes ander leksikale items met hoofsaaklik emosionele waarde en baie min semantiese inhoud soos uitroepe, is weens die moeilike oordrag van dieselfde emosie tussen verskillende kulture byna onmoontlik om te vertaal. Die emosionele waarde en betekenis van hierdie woorde is ook oorwegend konteksafhanklik: dit kan byvoorbeeld 'n reeks emosies tussen twee uiterstes van positiwiteit en negatiwiteit oordra. Dít is die tipe leksikale items wat 'n mens sou verwag onveranderd vanuit die bronteks in die doelteks oorgedra en geglos sou word. Wat 'n mens nie verwag nie, is dat hierdie definiense soms uit vertaalekwivalente bestaan. Vergelyk die volgende:
Vir die eerste drie definiense in tabel 18 gee die vertaler beskrywings; die beskrywings is egter redelik kripties en daar is geen aanduiding dat kru taal gebruik word nie. Daarbenewens is die kontekstuele betekenis van Moer en Donner taamlik dieselfde en tog word verskillende definiense in dieselfde glossarium verskaf. Die vertaler gee 'n vertaalekwivalent vir moerse! pleks daarvan om dit te beskryf as bv. expressing a very positive feeling in a crude way. Twee soorte definiense word vir voertsek verskaf: die eerste is meer beskrywend, en die tweede is 'n vertaalekwivalent waarvan die emosionele en taboewaarde moontlik as sterker as dié van die brontekswoord ervaar kan word. Bugger off! gee ten minste 'n aanduiding van die kru styl wat in die bronteks gebruik word. Gatvol word behoorlik beskryf hoewel die informele en taboe-aard nie aangedui word nie. Goeie bliksem! sowel as Voertsek! word egter weereens deur 'n vertaalekwivalent verduidelik, hoewel die emosionele en taboewaarde baie geringer is as wat in die bronteks uitgedruk word.
Uiteraard is dit heeltemal aanvaarbaar om definiense wat hoofsaaklik uit vertaalekwivalente bestaan, te gebruik in leksikografieglossariums met die hooffunksie om ekwivalente in 'n ander taal vir 'n spesifieke vakgebied te verskaf.
Tabel 19 gee opsommenderwys die verskille tussen die definiense van vertaal- en leksikografieglossariums:
5. Gevolgtrekking
Die gebruik van die item in 'n glossarium deur vertaling en leksikografie was aanvanklik op dieselfde lees geskoei, maar het met verloop van tyd so ver uitmekaar gedryf ten opsigte van die meeste aspekte, dat verskillende terme vandag deur die verskillende vakgebiede gebruik behoort te word. My voorstel is dat glossarium vir die verklarende woordelys in literêre vertalings en verklarende woordelyste as deel van die parateks van ander tipe boeke gereserveer word, en dat spesialiswoordeboek (eentalig, tweetalig, meertalig) vir die vakgebied leksikografie gebruik word.
Sien Fuertes-Olivera en Tarp (2014: 19-20) se siening oor die gebruik van die term spesialiswoordeboek vir 'n wye reeks van hierdie tipe woordeboek:
Of course, this inclusion of a wide range of lexicographical works under the same umbrella does not mean that the differences between them should be ignored. It is evident that the production of dictionaries conceived to solve communication problems, dictionaries designed to provide quick information about a specific subject, and dictionaries (or encyclopaedias) permitting a profound study of one or more subject fields, present different challenges and require different practical solutions. Dictionaries or encyclopaedias with particularly long articles - sometimes dozens or even hundreds of printed pages - require, for instance, special lexicographical techniques in order to provide easy access to specific data incorporated and scattered internally in these articles. (Fuertes-Olivera en Tarp 2014: 19-20)
Bogenoemde "wide range of lexicographical works" word egter verenig deur die fundamentele feit dat dit uiters gespesialiseerde verwysingswerke is wat vir raadpleegdoeleindes ontwerp is. Die werke vorm 'n kontinuum en Fuertes-Olivera en Tarp (2014: 20) argumenteer dat die verskille ten opsigte van omvang en ander kenmerke uiteindelik bepaal word deur die onderskeie behoeftes wat hierdie werke bedoel om te bevredig. Hierdie behoeftes word weer bepaal deur sowel die aard van die potensiële gebruikers as die sosiale situasies waarmee hulle ten nouste verbind is en waar die werke 'n spesifieke funksie moet vervul.
Die gebruik van twee afsonderlike terme in die twee velde kan moontlik die konseptuele verwarring en misverstand onder mense beëindig wat vakliteratuur oor die term glossarium binne albei vakdissiplines lees. Maar dit sal ook help indien die verskillende betekenisse wat aan hierdie twee terme gekoppel word, behoorlik binne elke vakgebied beskryf word. Die Metaleksikografie het al baie verder gekom as die Vertaalwetenskap in die ondubbelsinnige beskrywing van metaleksikografiese terminologie. Moontlik is dit die rede waarom die term glossarium in leksikografiese terme verstaan en verduidelik word - selfs wanneer glossariums in literêre vertaling dikwels op 'n heeltemal ander manier gebruik word en 'n heel ander funksie het.
Bronnelys
Akademiese literatuur
De Roubaix, L. 2012. Where Boundaries Blur: André Brink as Writer, Bilingual Writer, Translator and Self-translator. Herrero, I. en T. Klaiman (Reds.). 2012. Versatility in Translation Studies: Selected Papers of the CETRA Research Seminar in Translation Studies 2011 [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.kuleuven.be/cetra/papers/papers.html [10 Maart 2014].
Fuertes-Olivera, P.A. en S. Tarp. 2014. Theory and Practice of Specialised Online Dictionaries: Lexicography versus Terminography. Berlyn/Boston: De Gruyter. [ Links ]
Hatim, B. en J. Munday. 2004. Translation: An Advanced Resource Book. Londen/New York: Routledge. [ Links ]
Gambier, Y. en L. van Doorslaer (Reds.). 2009. The Metalanguage of Translation. Amsterdam/Philadelphia: Benjamins. [ Links ]
Genette, G. 1997. Paratexts: Thresholds of Interpretation. Cambridge: Cambridge University Press. [ Links ]
Kudashev, I. 2007. Terminography vs. Lexicography Opposition Revisited. Översättningsteori, fackspråk och flerspråkighet. Publikationer av VAKKI 34: 157-166. [ Links ]
Marco, J. 2009. The Terminology of Translation: Epistemological, Conceptual and Intercultural Problems and their Social Consequences. Gambier, Y. en L van Doorslaer (Reds.). 2009. The Metalanguage of Translation: 65-80. Amsterdam/Philadelphia: Benjamins. [ Links ]
Munday, J. (Red.). 2009. The Routledge Companion to Translation Studies. Londen/New York: Routledge. [ Links ]
Nkomo, D. en M. Madiba. 2011. The Compilation of Multilingual Concept Literacy Glossaries at the University of Cape Town: A Lexicographical Function Theoretical Approach. Lexikos 21: 144-168. [ Links ]
Pym, A. 2011. Translation Research Terms: A Tentative Glossary for Moments of Perplexity and Dispute. Pym, A. (Red.). 2011. Translation Research Projects 3: 75-110. Tarragona: Intercultural Studies Group. [ Links ]
Roby, W. 1999. What's in a Gloss? Language Learning and Technology 2(2): 94-101. [ Links ]
Snell-Hornby, M. 2009. 'What's in a Name?': On Metalinguistic Confusion in Translation Studies. Gambier, Y. en L. van Doorslaer (Reds.). 2009. The Metalanguage of Translation: 123-134. Amsterdam/Philadelphia: Benjamins. [ Links ]
Steyn, J.E.T. 2013. 'n Direkte vertaling versus 'n abbavertaling met verwysing na kulturele oordrag. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch. [ Links ]
Toledano Buendía, C. 2013. Listening to the Voice of the Translator: A Description of Translator's Notes as Paratextual Elements. Translation & Interpreting 5(2): 149-162. [ Links ]
Woordeboeke en fiksie
Bakkes, C. 2008. In Bushveld and Desert: A Game Ranger's Life. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Beukes, A.-M. en M. Pienaar (Reds.). 2010. Veeltalige vertaalterminologie/Multilingual Translation Terminology. Pretoria: Van Schaik. [ Links ]
Deslisle, J., H. Lee-Jahnke en M.C. Cormier (Reds.). 1999. Translation Terminology. Amsterdam/ Philadelphia: Benjamins. [ Links ]
Hartmann, R.R.K. en G. James. 1998. Dictionary of Lexicography. Londen/New York: Routledge. [ Links ]
MonAKO. Online Glossary of Translation Studies Terms, University of Helsinki [Aanlyn]. Beskikbaar: http://www.ling.helsinki.fi/monako/atk/glossary_ab.shtml [11 Maart 2023].
Shuttleworth, M. en M. Cowie. 1997. Dictionary of Translation Studies. Manchester: St Jerome. [ Links ]
Van Heerden, E. 1986. Toorberg. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Van Heerden, E. 1989. Ancestral Voices. Londen/New York: Penguin. [ Links ]
Van Heerden, E. 1990. Le domaine de Toorberg. Parys: Stock. [ Links ]
Van Heerden, E. 2005. Un long silence. Parys: Phébus. [ Links ]
Von Meck, A. 2009. My Name is Vaselinetjie. Kaapstad: Tafelberg. [ Links ]
Wiegand, H.E., M. Beißwenger, R.H. Gouws, M. Kammerer, M. Mann, A. Storrer en W. Wolski (Reds.). 2017. Wörterbuch zur Lexikographie und Wörterbuchforschung/Dictionary of Lexicography and Dictionary Research. Vol. 2: D-H. Berlyn/New York: De Gruyter. [ Links ]
Winterbach, I. 2007. To Hell with Cronjé. Kaapstad: Human & Rousseau. [ Links ]
Winterbach, I. 2010. To Hell with Cronjé. New York: Open Letter. [ Links ]