SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.82 issue1Bennie and IAPCHEInterview with Bennie van der Walt author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Share


    Koers

    On-line version ISSN 2304-8557
    Print version ISSN 0023-270X

    Koers (Online) vol.82 n.1 Pretoria  2017

    http://dx.doi.org/10.19108/koers.82.1.2287 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Op die spore van filosofiese onderwys op Potchefstroom honderd jaar gelede

     

    Tracing philosophical education at Potchefstroom a century ago

     

     

    B.J. van der Walt

    Skool vir Filosofie, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

    Correspondence

     

     


    Sleutelwoorde: Filosofie; Los, S. (1875-1944); Potchefstroom; Postma, F. (1879-1950; twintigste eeu (begin)


    ABSTRACT

    It is to be regretted that the history of education in Philosophy at other universities, like the Free University of Amsterdam, the Netherlands (established in 1880) has been documented in several publications, while very little is known about who taught and what was taught in Philosophy during the early days of the later to be known Potchefstroom University for Christian Higher Education (established already in 1869).
    The introduction indicates that also about the teaching of this subject in general in South Africa not much has been documented. Nevertheless, from the start philosophy was regarded as an important part of the academic curriculum for the training of future ministers (and later also teachers) of the Reformed Churches in South Africa. From about the second decade of the twentieth century two types of Christian Philosophy emerged more clearly. Prof Ferdinand Postma (1879-1950) taught in the line of the logos philosophy of his Dutch mentor, Jan Woltjer (1849-1917), but no traces of this tradition were left after Postma. Prof Sietse Los (1871-1944) followed the Herman Bavinck line, the influence of which was still discernible in the philosophy of H.G. Stoker (1899-1993). This investigation focuses on the philosophical tradition represented by Los a century ago.
    This overview consists of the following four main parts. Firstly, it investigates the historical background of Reformed theology, especially as it was represented by A. Kuyper and H. Bavinck, the mentors of Los. This is, secondly, followed by some biographical notes on Los The third, or main section, is devoted to an analysis of Loss philosophical anthropology from seven of his books published in South Africa and the Netherlands between 1904 and 1944. His view of being human boils down to a Christian-biblicist reinterpretation of preceding Aristotelinising and Platonising ideas about the human being. He supported Aristotle's and his subsequent followers' views as embedded in the Christian tradition in their dichotomist view of soul and body as two separate substances. But he combined their anthropology with Plato's and his Christian followers' view that the human soul itself should be divided into three functions (a trichotomy) of intellect, will and emotion
    The fourth section concludes with an evaluation of some weak as well as positive points in Loss contribution to philosophical education at Potchefstroom during the early days of the previous century.

    Key words: Los, S. (1875-1944); Philosophy; Potchefstroom; Postma, F. (1879-1950); twentieth century (beginning)


     

     

    1. Inleiding: motivering en opset van die ondersoek

    'n Mens kan net tot sy eie nadeel beweer "ek leef vandag en stel nie belang in die verlede nie". Want die nou lê tussen dit wat al verby is en dit wat nog nie bestaan nie. Tussen verlede, hede en toekoms is daar dus 'n noue verband. Wanneer in hierdie (beplande) reeks oor filosofie die afgelope eeu op Potchefstroom besin word om te soek na 'n pad vir die toekoms, moet eers in die truspieël gekyk word na wat onderrig in filosofie heel aan die begin ingehou het en wie daarvoor verantwoordelik was.

     

    1.1 Motivering: h leemte in die historiografie

    Terwyl die geskiedenis van (verskillende vorme van) filosofie aan die Vrije Universiteit in Nederland (eers in 1880 gestig) reeds deur verskillende skrywers te boek gestel is (vgl. bv. Klapwijk, 1980, Stellingwerff, 2006 en Woldring, 2013), bestaan daar nog geen soortgelyke weergawe oor Potchefstroom nie, terwyl laasgenoemde instelling alreeds in 1869 in Burgersdorp tot stand gekom het.

    Hierdie leemte is duidelik in publikasies oor die onderrig in Filosofie in Suid-Afrika in die algemeen, maar ook spesifiek ten opsigte van Potchefstroom.

    1.1.1 Vroeëre filosofiese onderrig in Suid-Afrika in die algemeen

    Wat die geskiedenis van filosofie in Suid-Afrika in die algemeen betref, is daar tot onlangs maar weinig geboekstaaf. Murray (1945:183-186, herdruk 1968) toon aan dat filosofiese aangeleenthede vroeër meestal in die konteks van teologiese vrae en konflikte na vore gekom het. Van die eerste filosofiese werke was dié van Smuts (1926) en filosofie as volwaardige vak figureer maar eers vanaf ongeveer die begin van die dertigerjare van die vorige eeu aan Suid-Afrikaanse universiteite. Wat Potchefstroom betref, vermeld Murray (p. 187) wel Stoker se bydrae. Hy sluit egter sy oorsig af met die volgende woorde: "... die droogte heers nog sterk op ons wysgerige denke se landerye en die ploeg het nog maar op enkele plekke diep getrek" (p.188).

    1.1.2 Meer resente bydraes

    In Duvenage (2015) se geskiedenis van die verdere verloop onderskei hy tussen twee hoofstrominge in die filosofie (die Kontinentaal-Europese en die Angel-Saksiese) wat onderskeidelik op die Afrikaanstalige en Engelsmedium universiteite dominante invloede gehad het. Onder die kontinentale vleuel plaas hy ook die Reformatoriese tradisie, veral uit Nederland geïnspireer.

    Na laasgenoemde stroming en die verteenwoordigers daarvan op Potchefstroom, word enkele kere verwys (vgl. bv. Duvenage, 2015:14-16, 143 en 148). Filosofie op Potchefstroom kom egter nie in besonderhede aan die orde nie. In sy weergawe fokus Duvenage (2015:139 e.v.) óf op 'n hedendaagse Bloemfonteinse figuur in die Reformatoriese tradisie, óf (p. 195-204) op 'n jong dosent wat net 'n tydjie (vanaf 1970 tot 1978) aan die Departement Filosofie op Potchefstroom verbonde was, se eie ervaringe.

    More (2006) konsentreer op wat Suid-Afrikaanse filosowe se houding teenoor apartheid was en Potchefstroom kom slegs implisiet ter sprake wanneer hy na die Christelik-nasionale idee verwys.

    Wat die geskiedenis van Filosofie op Potchefstroom betref, bestaan daar dus 'n groot leemte. Hierdie bydrae (en moontlike daaropvolgendes) poog om iets daaroor gedurende veral die afgelope eeu vas te stel. Vooraf eers enkele gegewens oor die periode voor ongeveer 1914. Reeds voor hierdie datum is Filosofie wel aangebied, maar wat die inhoud en benadering daarvan was, kon nie vasgestel word nie. Eers vanaf 1914 word die filosofiese kontoere duideliker.

    1.2 Filosofiese vakke vanaf 1969 al of as belangrik beskou

    Hoewel die skrywer nie kon vasstel wat filosofie inhoudelik behels het nie, en wie vir die dosering daarvan verantwoordelik was nie, is dit opmerklik dat filosofiese vakke reeds vanaf die ontstaan (1869) van die latere PUK as belangrik vir sowel aanstaande predikante se propedeutiese studie asook vir onderwysers beskou is. (Aanvanklik was net dosente in die Teologie daarvoor verantwoordelik, maar later word dit die verantwoordelikheid van die professores literarum). In 1969 word alreeds, behalwe Latyn, Grieks, Hebreeus, Geskiedenis, Natuur- en Rekenkunde, ook Mitologie aangebied (vgl. Coetzee, 1959:226). In 1876 kom by die lys ook nog Logika en Metafisika, in 1882 aangevul met Retorika.

    In 1904 word Ferdinand Postma een van die professore in die Literariese Departement. Volgens Van der Schyff (2003:163) was prof. Postma in 1919 (behalwe vir ander vakke) verantwoordelik vir Filosofie, terwyl prof. S.O. Los hoofsaaklik Opvoedkunde aangebied het.

    Hierdie gegewens toon terloops duidelik aan dat die PUK op die voorpunt van die tye was deur reeds vroeg in sy geskiedenis - lank voordat Filosofie as volwaardige vak aan ander Suid-Afrikaanse universiteite erken is - die belangrikheid van hierdie dissipline vir die vorming van toekomstige leiers besef het. Omdat die PUK die Christelike instelling wou wees, is ook ernstige daarna gestreef om Filosofie "in U lig" te beoefen.

    Omdat uit die beskikbare gegewens oor Postma naastenby vasgestel kon word wat sy filosofiese onderrig ingehou het, volg eers enkele besonderhede daaroor voordat verder op Los toegespits word.

    1.3 Ferdinand Postma se filosofie in die lyn van Jan Woltjer

    Ferdinand Postma (1879-1950) was vanaf 1905, toe die Teologiese Skool en die Literariese Departement vanaf Burgersdorp na Potchefstroom verskuif is, aan hierdie instelling verbonde en word deur baie tydgenote as die "siel" daarvan beskou. Van der Schyff (2003:226, 325, 380, 410) bied van hierdie begaafde geleerde en ambassadeur van die PUK 'n persoonsfoto, familiefoto's, hy verskyn op verskillende groepsfoto's asook 'n skildery.

    Op 1 Mei 1914 promoveer Postma onder leiding van sy promotor, prof. Jan Woltjer (1949-1917), aan die Vrije Universiteit van Amsterdam - met 'n proefskrif in Latyn geskryf! (vgl. Postma, 1914a en Schutte, 2005:718).

    Woltjer was die eerste denker wat daarna gestreef het om, in ooreenstemming met die doel van die Vrije Universiteit, ook 'n Christelike filosofie uit te bou. Volgens Vollenhoven (2000:256 en 250) het hy aanvanklik nog in die lyn van die gangbare Gereformeerd-skolastieke tradisie gedink maar later sy eie logosfilosofie ontwikkel.

    Soos uit Postma se proefskrif en sy latere publikasies blyk (vgl. bv. Postma, 1926), was die klassieke lektuur sy primêre belangstelling. Op Afrikaanstalige hoërskole en universiteite was ook sy twee woordeboeke (Latyn-Afrikaans en Afrikaans-Latyn) vir baie jare na hulle publikasie nog voorgeskrewe werke. Sy fyn kennis van die antieke Grieks-Romeinse kultuurwêreld kom ook op 'n populêre en boeiende wyse na vore in sy werk Paulus, 'n geroepe apostel van Jesus Christus (eerste druk 1949 en herdruk 1975). Self het ek dit al meermale met waardering gelees. Dit is die verhaal van Paulus in 'n romanvorm, nie as 'n versinsel nie, maar getrou aan wat die Skrif oor Paulus vertel teen die agtergrond van die wêreldgeskiedenis van daardie tyd.

    Die feit dat twee diktate van Woltjer tot sy nalatenskap behoort (Postma, s.j. en 1914b), skep die vermoede dat die eerste klasse wat Postma (vanaf 1914) in filosofie aangebied het in die lyn van sy logosfilosofie was. Hierdie vermoede word versterk deur die feit dat Postma in 1918, kort na Woltjer se oorlye (in 1917) besig was om sy leermeester se geskrifte vir publikasie voor te berei (vgl. Van der Schyff, 2003:166).

    In dieselfde jaar bied Postma se alma mater hom n professoraat in Amsterdam aan as Woltjer se opvolger. Maar nadat hy van verskeie persone (o.a. van die destydse rektor op Potchefstroom, S.O. Los) advies ontvang het, wys hy tog die besondere eer van die hand, omdat hy hom geroepe voel om in Suid-Afrika te bly (Van der Schyff, 2003:166-168). Heelwaarskynlik het sy baie verantwoordelikhede op Potchefstroom sy tyd so in beslag geneem dat hy ook nie verder gekom het met die publikasie van Woltjer se geskrifte nie. Die Woltjer-filosofie loop in Suid-Afrika dood.

    In Nederland bou Vollenhoven, wat ook Woltjer as leermeester gehad het, krities daarop voort. Sedertdien het daar egter weer nuwe belangstelling in Woltjer se denke in Nederland ontstaan soos byvoorbeeld blyk uit die studies van Van der Laan (2000) en Nijhoff (2014).

    1.4 Sietse Los se filosofie in die lyn van Herman Bavinck

    Aangesien die gegewens oor Postma se filosofiese onderrig skraal is en die filosofiese tradisie (die Woltjer-lyn) by hom doodgeloop het, verskuif die aandag in die res van hierdie ondersoek na 'n ander figuur uit die vroeë geskiedenis, prof. Sietse Oene Los (1871-1944).

    Soos nog sal blyk, het hy in die Filosofie gedoktoreer en later ook oor Logika gepubliseer. Hoewel hy in die eerste plek opvoedkundige was, was sy Pedagogiek op duidelik filosofiese uitgangspunte gegrond, veral onder die invloed van die bekende Nederlandse teoloog, Herman Bavinck (1854-1921). Hierdie Bavinck-lyn is lank daarna ook nog by die Potchefstroomse filosoof, H.G. Stoker, aantoonbaar (vgl. Van der Walt, 2014:91, 94-101). Bowendien het heelwat van Los se publikasies bewaar gebly en is hulle vir bestudering beskikbaar.

    1.5 Opset

    Eerstens word gelet op die Gereformeerd-Skolastiese teologiese tradisie (beïnvloed deur Platoniese en Aristoteliese elemente) as agtergrond vir die denke van Los. Tweedens volg iets oor die lewensloop van S.O. Los wat, hoewel hy maar 'n kort tydjie (1914-1919) professor op Potchefstroom was en wie se primêre belangstelling die Opvoedkunde was, heelwat publikasies met filosofiese elemente op sy naam gehad het en waarskynlik ook na sy terugkeer na Nederland nog deur sy geskrifte invloed op die onderwys alhier kon gehad het. In die derde plek word gepoog om uit Los se verskillende nagelate publikasies (tans nog beskikbaar in die biblioteke van die Teologiese Skool en die Ferdinand Postma-biblioteek op Potchefstroom) vas te stel hoe sy filosofie inhoudelik daaruit gesien het. Die ondersoek word, in die vierde plek, afgesluit met 'n evaluering van sy bydrae.

    Om Los se denkwereld vandag te kan begryp, word nou eers oor die historiese agtergrond daarvan kortliks geskryf. Dit strek ver terug.

     

    2. Die historiese agtergrond

    Vanaf die Gereformeerd-Ortodoks-Skolastieke teologie (wat vanaf ongeveer 1565 vir drie eeue daarna die toneel oorheers het), beweeg ons na Kuyper en Bavinck (aan die einde van die 19e en begin 20ste eeu) en draai die fokus dan weer terug na die oeroue, voor-Christelike Platoniserende en Aristoteliserende elemente in hulle denke.

    2.1 Gereformeerd-Skolatieke Ortodoksie

    Die vroegste poging tot 'n Christelike lewensvisie sou (vgl. Hengstmengel, 2015 en Bartholomew & Goheen, 2013) teruggevoer kon word tot Augustinus (354-430 n.C.). By hierdie denker vind n mens n vermenging tussen (neo-)Platoniese gedagtes en Skrifgeloof. By Thomas van Aquino (1225-1274) word die sintese nog gekompliseerder, omdat behalwe Platoniserende ook Aristoteliserende elemente n deel van sy sintese vorm. Soos die woorde "Aristoteliserend" en "Platoniserend" aandui, was dit nie altyd die oorspronklike Plato (427-347 v.C.) of Aristoteles (384-322 v.C.) nie, maar Thomas se interpretasies van hulle filosofie (vgl. Van der Walt, 2012b en 2013).

    Calvyn (1509-1564) se Christelike lewensvisie neig meer in 'n Platoniserende rigting (vgl. verskillende publikasies van Van der Walt oor Calvyn genoem in Van der Walt, 2014:160).

    Kort na Calvyn ontstaan egter 'n Gereformeerde Ortodokse of Skolastieke teologie waarin die Aristoteliserende filosofie weer geakkommodeer word om aan die Christelike teologie sy nodige begrippe, logika en metodes te verskaf.

    Daar is n keer opgemerk dat die Westerse denkgeskiedenis niks meer is as voetnote op Plato en Aristoteles se filosofie nie. So 'n stelling is nie volledig waar nie, maar is nogtans ook op die Gereformeerde teologie oor ten minste driehonderd jaar na Calvyn van toepassing. Dit blyk weer eens duidelik by die bekende Sinode van Dordt (vgl. Van der Walt, 2012a) en ook uit die dogmatiek handboek Synopsis Purioris Theologiae wat kort daarna (1625) die lig sien (vgl. Van der Walt, 2011). Hierdie tipe sinteseteologie is ook nog die dominante in gereformeerde kringe wanneer A. Kuyper (1837-1920) en H. Bavinck (1854-1921) op die toneel verskyn. (Bavinck versorg bv. 'n herdruk van genoemde Synopsis en in sy Gereformeerde Dogmatiek leun hy swaar op Thomas van Aquino se skolastieke nalatenskap.)

    Volgens die natuur-genade onderskeid is Teologie ook "Heilige Godgeleerdheid" genoem, en as die koningin op die gebied van die genade en geloof beskou, terwyl Filosofie as haar rasionele diensmaagd haar moes ondersteun. Die soort filosofie het egter nie die formele slaaf (ancilla) van die teologie (die regina) gebly nie, maar die teologie inhoudelik bepaal, omdat die begrippe en metodes wat die teologie moes gebruik 'n eie filosofiese betekenis gehad het. In alle geval is Filosofie nie as so belangrik beskou dat dit al vroeg as selfstandige dissipline in gereformeerde kring ontwikkel is nie.

    2.2 Kuyper en Bavinck

    Net soos Calvyn vroeër (in sy bekende Institusie), besef sowel Kuyper as Bavinck in hulle latere leeftyd, nadat hulle hul eie dogmatieke geskryf het, wel die belangrikheid van 'n breë Christelike lewensbeskouing. Kuyper (1898) het dit al vroeër gedoen in Het Calvinisme (vgl. Heslam, 1998) en Bavinck (1904a) later in sy Christelijke wereldbeschouwing. By Bavinck volg ook nog sy Wijsbegeerte der openbaring (1908 en 1979) waarin hy vanuit sy Christelike lewensvisie in gesprek tree met verskillende filosofiese strominge van sy tyd. Met hierdie en ander publikasies wou die twee gereformeerde denkers die grondslag lê vir Christelike wetenskapsbeoefening aan die Vrije Universiteit, in 1880 gestig (vgl. bv. Bavinck, 1904b) - die begin op pad na Filosofie as selfstandige wetenskap, as n besinning oor voorwetenskaplike lewensvisies.

    2.3 Aristoteles en Plato vermeng

    Wat was die rol van sowel Plato as Aristoteles in die denkwêreld van hierdie twee belangrike figure? Aangesien baie alreeds hieroor geskryf het, word slegs die resultaat hier vermeld. By sowel Kuyper as Bavinck vind n mens elemente van Aristoteliserende en Platoniserende denkgoed vermeng met interpretasies van God se Skrifopenbaring. (Vgl. bv. Klapwijk, 1980:534 vir Kuyper en 1980:549 vir Bavinck.) Opmerklik is dat in hulle dogmatieke Aristoteles se invloed duidelik is (vgl. oor Bavinck se dogmatiek bv. Bremmer, 1961) terwyl in hulle meer lewensbeskoulike geskrifte die (neo-)Platoniese Augustiniaanse ideë- en logosleer die toon aangee.

    Die voorafgaande beteken nie dat daar by Kuyper en Bavinck geen ontwikkeling in hulle denke was of dat die filosofiese konsepsies ten grondslag van hulle teologieë presies dieselfde was nie. (Vollenhoven, 2000:250, 256 en 257 toon duidelike verskille tussen hulle aan.)

    2.4 Basiese antropologiese verskille

    Die verskil in Kuyper en Bavinck se mensvisie gaan terug na Plato en Aristoteles. Beide hierdie Griekse filosowe het self 'n lang ontwikkelingsgang deurloop, maar hulle finale standpunte oor die mens kan (vereenvoudig) soos volg weergegee word (vgl. Vollenhoven, 2000:189, 199).

    Plato was 'n monis wat van die eenheid van alles in die sigbare werklikheid uitgegaan het waaruit n tweeheid sou ontspring. By die mens het die tweeheid uit n hoëre, onsterlike siel en 'n laere liggaam bestaan. Daarbenewens was daar ook die onsigbare wêreld van die idees van die ware, goeie en skone. Die mens is so gestruktureer dat hy met sy siel hierdie drie idees as voorbeelde kan verstaan om daarvolgens in sy denke (Logika), wil (Etiek) en gevoel (Estetika) te lewe. Die menslike onsterflike siel beskik dus oor drie vermoëns of fakulteite.

    Hierdie soort mensvisie word deur die Neoplatonisme oorgeneem en ook deur Christelike denkers daarna wat die Platoniese idees as argetipiese wette in die God van die Bybel se gees of intellek geplaas het.

    Aristoteles huldig egter 'n dualistiese ontologie en beskou gevolglik die mens as 'n tweeeenheid (n digotomie) bestaande uit twee afsonderlike substansies, naamlik n liggaam en 'n siel, laasgenoemde van redelike aard waaraan die menslike wil en (per implikasie ook sy gevoel) onderworpe is. Die siel is volgens hom ook nie onsterflik nie.

    Gedurende die lang geskiedenis van die Westerse filosofie het, soos reeds genoem, hierdie nalatenskap van Plato en Aristoteles tot so 'n mate vermeng geraak dat die verskille tussen hulle oorspronklike filosofiese konsepsies nie meer duidelik onderskeibaar was nie. Denkers is soms as Aristoteliserend beskou terwyl die Platoniserende element in hulle filosofie nie raakgesien is nie of die omgekeerde was die geval.

    Hierdie skets van die filosofies-teologiese konteks was, soos nog sal blyk, belangrik om die denkwereld van Los te verstaan. Maar vooraf eers iets oor sy eie lewensloop.

     

    3. 'N kort lewenskets

    Saam bied Flinterman (1983:310), Poortman (1949:297) en Schutte (2005:183) die volgende basiese gegewens oor Sietse Oene Los (1871-1944) se lewensloop. Van sy persoonlikheid (en dalk sy professorale eksentriekhede) weet ons vandag niks nie. Wel dat 'n foto van hom - 'n netjiese man met 'n snor, bokbaardjie, opgeslane hempsboordjie, das en 'n baadjie, die mode van destyds, die tand van die tyd oorleef het (Van der Schyff, 2003:126).

    Hy studeer eers aan die Teologiese Skool van Kampen vir opleiding as Gereformeerde predikant en word daarna predikant in Hilversum. Weens sy noue kontak met die Boererepublieke in Suid-Afrika, tree hy as predikant van president Paul Kruger in ballingskap op. Daarna promoveer Los in 1905 aan die Universiteit van Utrecht in die filosofie en verhuis in 1907 na Suid-Afrika waar hy predikant van die Gereformeerde Kerk in Pretoria word.

    Vanaf 1914 tot 1919 is hy professor op Potchefstroom waar hy onder andere vir Psigologie, Opvoedkunde en Filosofie verantwoordelik is. Terug in Nederland as predikant in Den Haag, slaag hy in 1920 die doktoraaleksamen in teologie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam en twee jaar later (1922) ook die doktorsgraad (vgl. Schutte, 2005:719).

     

    4. Los se filosofie in sy verskillende publikasies nagegaan

    Uit Los se lewensloop en publikasies blyk duidelik dat hy meer opvoedkundige en teoloog as filosoof was. Nogtans is dit moontlik om iets van sy eie filosofie uit sy geskrifte af te lei. Omdat dit nie moontlik is om al sewe publikasies van Los in besonderhede te analiseer nie, sal veral op sleutelgedeeltes daarvan, naamlik sy mensbeskouing, gefokus word - dit vorm die basis van sy opvoedkunde.

    Soos nog sal blyk, het hy waardering gehad vir sowel Kuyper as Bavinck se denke, maar dat hy tog meer van laasgenoemde oorgeneem het.

    4.1 "Aristoteles in Nederland" (1905, 80 bladsye)

    Dit is die titel van Los se proefskrif aan die Universiteit van Utrecht onder leiding van sy promotor, prof. H.B.C.K. van der Wijk.

    4.1.1 Inhoud

    Daarin bied hy n oorsig oor hoe die afgelope veertig jaar deur Protestantse teoloë en filosowe met Aristoteles omgegaan is. Hy gaan krities met hulle kritiek om ten einde die Stagiriet, wat so n belangrike rol in die Gereformeerde Ortodoksie gespeel het (vgl. 2.1 hierbo) te verdedig.

    Uit die studie blyk dat Los wel die oorspronklike geskrifte van Aristoteles in Grieks gelees het. Dit is egter gefokus op ander denkers se kritiek op Aristoteles en bevat weinig van 'n eie kritiese ingesteldheid teenoor hierdie voor-Christelike Griekse filosoof.

    Die proefskrif bevat ongelukkig nie 'n inhoudsopgawe, voetnote, 'n bibliografie of, behalwe hulle vanne, meer besonderhede oor die vyf denkers wat Los bespreek nie.

    4.1.2 Inreaksie teen die modernisme van Utrecht

    Al die figure wat Los bespreek, het nie aan Utrecht gepromoveer of klasgegee nie. Maar dit is duidelik dat hierdie universiteit destyds 'n bolwerk van die "modernisme" was. Met dié woord word bedoel dat die idealistiese filosofie van die filosoof Kant (1724-1804) en sy neo-Kantiaanse opvolgers daar hoog aangeslaan is. Hierdie filosofie het ook die populariteit van die skolastiek-ortodokse teologie onder invloed van Aristoteliese filosofie laat taan. As gevolg van hulle rasionalisme het die meeste Utrechtse professore die betroubaarheid en gesag van God se Woord ten opsigte van baie waarhede bevraagteken. 'n Belangrike figuur in dié verband was reeds C.W. Opzoomer (1821-1892).

    Nie net leiers in die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika was teen hierdie Utrechtse teologie gekant nie. Murray (1968:183, 184) en Duvenage (2015:8-9) toon aan hoe ook die NG Kerk teen ds. Kotzé, ds. Burgers en prof. Du Plessis, beïnvloed deur die rasionalisme van figure soos Opzoomer, Scholten en Keunen, standpunt ingeneem het.

    4.1.3 Los se gespreksgenote

    Ten tye van Los was die vyf figure wat hy in vyf hoofstukke behandel heelwaarskynlik goed bekend, maar vandag in Suid-Afrika nie meer nie. Daarom word hier uit ander bronne soos die bekende Nederlandse Christelijke Ensiklopedie en Poortman (1948, verskillende bladsye) n bietjie meer besonderhede oor hulle gegee.

    Johannes H. Scholten (1811-1855) is veral deur die idealisties-rasionalistiese filosofie van Hegel (1770-1831) beïnvloed. Kuyper was eers n leerling van Scholten, maar distansieer hom later van Scholten se denke.

    Alard Pierson (1831-1896) studeer aan Utrecht onder C.W. Opzoomer in die Kantiaanse filosofie en roep later die Christelike invloed wat die Réveil op hom gehad het vaarwel toe om agnostikus te word.

    Cornelis B. Spruyt (1842-1901) was duidelik ook 'n Kantiaan soos onder andere daaruit blyk dat hy die helfte van sy lywige boek oor die geskiedenis van die filosofie wy aan die nuwe filosofie van Kant (vgl. Spruyt, s.j.: 355-600).

    Gijsbert H. Lammers (1834-1903) studeer ook aan Utrecht, word hoogleraar aan Groningen en volg Van Oosterzee as professor in Utrecht op. Hy was die enigste van die vyf figure wat meer evangelies-ortodoks ingesteld was.

    Bernard J.H. Ovinck (1862-1944), 'n latere figuur en ook professor in filosofie te Utrecht, was n voorstander van die Marburger Skool van neo-Kantiane.

    Teenoor hierdie figure wat Aristoteles vanuit 'n Kantiaanse of neo-Kantiaanse visie interpreteer en Aristoteles se filosofie as diensmaagd van hulle teologie afskryf, tree Los as verdediger van die Stagiriet op. Ruimte ontbreek hier om in detail op sy argumente in te gaan. Soos egter nog hieronder sal blyk, was Aristoteles se mensvisie en logika vir hom belangrik.

    4.2 "Het isolement" (1911,15 bladsye)

    In hierdie eerste geskrif van Los wat in Suid-Afrika gepubliseer is, verdedig hy teenoor die redakteur van De Kerkbode (publikasie van die N.G. Kerk) sy geesgenootlike vaders, A. Kuyper en H. Bavinck teen sewe aanklagte in hierdie tydskrif (vgl. Los, 1911:2). Dit gaan veral daaroor dat die redakteur die twee Gereformeerde denkers daarvan beskuldig dat hulle hul van die omringende wêreld sou isoleer en te streng konfessioneel of leerstellig sou wees.

    Filosofies is hier egter uit hierdie pamflet (van slegs 15 paginas) nie veel af te lei nie, behalwe dat Los sy instemming met Kuyper en Bavinck se teologiese denke daarin uitspreek.

    4.3 "Beginselen van karakterkunde" (1915, 44 bladsye)

    Hierdie werkie bevat Los se rektorale rede by die oordrag van sy rektoraat op Potchefstroom (einde 1915) aan dr. J.D. du Toit. Hierin skryf Los oor sy primêre belangstelling, naamlik die Pedagogiek, waarvan Karakterkunde 'n onderdeel is en waaroor hy weer (in 1925) sou skryf. Opvoedkunde veronderstel 'n mensvisie, sodat Los se filosofiese antropologie in die geskrif na vore kom.

    4.3.1 Plato en Aristoteles

    Die professor kritiseer daarin, soos te verwagte, die "modernistiese" (rasionalistiese) visie van die mens en verwys na Plato (p. 21) en Aristoteles (p. 23) wat die (etiese kant) van die menslike karakter beter sou beskrywe het. Hy praat selfs van die "Aristotelies-kristelijke" beskouing (p. 24).

    Die verskil tussen Plato en Aristoteles se mensvisies (2.4 hierbo) kom egter nog nie duidelik uit die verf nie. Wat wel duidelik is, is dat karakter en persoonlikheid bepaal word deur die siel of gees van die mens wat drie sielsvermoëns bevat: denke, wil en gevoel. Die mens groei vanaf kind na volwassene deur hierdie drie stadia (p. 1). Christus, die Logos is egter vir Christene die finale karaktervoorbeeld.

    In ooreenstemming met Plato se drie ideë van die ware, goeie en skone bestaan daar drie sielvermoëns, verstand (of intellek), wil en gevoel (p. 29) en kom daar drie wetenskappe tot stand wat hierdie drie fakulteite bestudeer, naamlik Logika, Etiek en Estetika, wat almal bydra tot die vorming van die menslike karakter of persoon. Behalwe om te steun op vroeëre etiese geskrifte, pas Los dus ook die logika se deduktiewe en induktiewe metodes op sy karakterkunde toe (p. 6-17) en sluit hy (op p. 33-37) met 'n kunsteorie af.

    4.3.2 Kuyper en Bavinck

    In hierdie opsig wyk Los nie af van Kuyper en Bavinck nie, wat beide ook 'n driedeling in die siel voorgestaan het. (Vgl. Kuyper, 1901 en Bavinck, 1901 en 1980 asook my behandeling van hierdie sielstrigotomie by hulle in Van der Walt, 2015:105-111.) Hierdie twee gereformeerde teoloë was van mening dat, om goed Skriftuurlik en gereformeerd te wees, hierdie drie sielsvermoëns almal aanvaar mag word solank hulle net in balans sou wees en die een nie ten koste van die ander beklemtoon word nie. Tog kon hulle nie daarin slaag nie en het die verstand meestal die wil en gevoel in hulle beskouinge oorheers.

    4.3.3 Los se eie visie

    In hierdie opsig lyk dit of Los (reeds in 1915) van sy Gereformeerde voorgangers verskil deurdat hy die primaat aan die gevoel wil toewys - soos later nog duideliker sal blyk uit sy tweede proefskrif oor die gevoel in die Heilige Skrif (1922).

    Dalk kan vandag van Los geleer word dat akademiese onderwys nie beperk mag word tot blote intellektuele vorming sonder die vorming van 'n goeie karakter by die student nie. Hy wys tereg ook op die belangrikheid van 'n goeie, navolgenswaardige morele voorbeelde of rolmodelle in die onderwys van die jeug.

    4.4 "Logika" (1918, 380 bladsye)

    Nog 'n belangrike aangeleentheid waarop hierdie skrywer die aandag vestig - en wat ook vandag skromelik verwaarloos word - is vorming in logiese denke. Ook daarin wou hy sy studente - hofsaaklik aanstaande predikante en onderwysers - laat onderrig. Oor die logika skryf hy dus 'n lywige werk (380 bladsye) wat seker heelwat van sy tyd geverg het -sy laaste boek om in Suid-Afrika gepubliseer te word.

    4.4.1 Oorheersend Platonies

    Soos te verwagte, speel Plato se ideëleer ook hier weer 'n rol. Die idee van die ware, goeie en skone is die belangrikste norme of wette vir die Logika, Etiek en Estetika (p. 22). Filosofie as wetenskap van die logos omvat al drie hierdie wetenskappe (p. 15). Logika definieer hy as "de wetenschap van de logos (het wettelijke denken) onder het gezichtspunt van de idee der waarheid" (p. 7). Dié idee (van die waarheid) moet as norm opgevolg word in die verskillende stadia van die denkproses. Logika is dus 'n normatiewe wetenskap (p. 23).

    4.4.2 Die inhoud

    Dit is nie moontlik om die wye veld wat die omvangryke werk dek hier te behandel nie. In die elf hoofstukke word die naam en geskiedenis van die logika, die vorming van begrippe, oordele en konklusies, die deduktiewe en induktiewe metodes en nog meer behandel. Ook word nie net Plato en Aristoteles behandel nie, maar Los tree ook in gesprek met die leidende logici van sy eie tyd.

    Aan die einde van die boek (p. 311-337) volg daar selfs oefenvrae wat by elkeen van die tien hoofstukke aansluit en (vanaf p. 338-366) ook vraerstelle van die Universiteit van die Kaap de Goede Hoop vir die BA eksamen, van 1914 tot 1917 en die Onderwyserseksamens van 1914 tot 1917.

    4.4.3 Gevoelvolle logika

    Ten slotte word die aandag daarop gevestig dat die skrywer, soos talle Christelike denkers voor hom, nie 'n spanning sien tussen die Bybel, God se Woord en die logosfilosofie van ouds nie. As Johannes (1:1) skryf "In die begin was die Woord (Logos) en die Woord was by God en die Woord was God", bevestig die Skrif volgens Los Plato se ideëleer (p. 80). Verskillende Bybelskrywers gebruik volgens hom ook Aristoteles se sillogistiese logika (p. 81).

    Tog sien Los (in lyn met sy klem op die gevoel teenoor die denke en die wil) iets anders in die Skrif. Die mens is nie net 'n logiese wese nie. Die waarheid moet in die gevoel deurleef word, 'n gevoel wat gelei moet word deur die Heilige Gees (p. 82). Hierdie klem op die emosionele of gevoel in die Skrif werk Los in detail uit in sy tweede (teologiese) proefskrif.

    4.5 "Het gevoel in de Heilige Schrift"(1922, 231 bladsye)

    In hierdie proefskrif aan die Vrije Universiteit onder promotorskap van prof. W. Geesink op 22 Mei 1922 (vgl. Schutte, 2005:719) behandel die promovendus agtereenvolgens die wese van die gevoel, die hart en gevoel, gevoel en die siel, die gevoel en die self of ek, die gevoel en die aktiewe lewe.

    4.5.1 Oogmerk

    Die doel van die boek is om vas te stel wat uit die Bybel oor die gevoel geleer kan word. Want Aristoteles onderskei (soos reeds genoem) in die siel (n afsonderlike substansie naas die liggaam) net twee sielsfunksies, die verstand en die wil, terwyl die Skrif leer (in bv. Deut. 6:5 en Matt. 22:37) dat die mens God moet liefhê met sy hele hart, hele siel en hele verstand. Los se vraag is dus of die gevoel as 'n addisionele, selfstandige vermoë van die siel aanvaar moet word, of moet dit tot die verstand en wil of tot beide gereken word.

    4.5.2 In- en uitleg

    Dat Los 'n wetenskaplike mensbeskouing in die lig van die Skrif wou opbou, was in lyn met die ideaal van n Christelike wetenskapsbeoefening op Potchefstroom en aan die Vrije Universiteit. Hoewel hy opmerk dat hy daarmee nie van die Bybel 'n wetenskaplike handboek wil maak nie, is die vraag of hy nie tog die Woord oorvra nie, informasie daarin verwag wat dit as voorwetenskaplike geloofsboek nie bedoel om te gee nie.

    'n Mens ontkom nie aan die indruk dat Los biblisisties te werk gaan deur sy vooraf ingenome verwagtings eers in die Skrif in te lees (inlegkunde pleeg) om dit dan weer daaruit te lees (uitlegkunde) nie. Hy forseer die Skrifgegewens om eers te "bewys" dat die mens (á la Aristoteles) net uit twee substansies (liggaam en siel) sou bestaan ('n digotomie) en dat die siel (á la Plato) drie funksies sou bevat ('n trigotomie) waarvan die gevoel een sou wees en wat, in vergelyking met die verstand en wil, ook die belangrikste sou wees.

    4.5.3 Digotomie aanvaar, trigotomie afgewys

    Dwarsdeur sy proefskrif verwerp Los 'n trigotomistiese mensbeskouing, ook al is daar in die Bybel (soos in 1 Tes. 5:23 en Heb. 4:12) sprake van liggaam, siel en gees/hart. Daarteenoor hou hy vas aan 'n Aristotelies-skolastieke digotomie ('n twee-eenheid) van liggaam en siel met n denk- en wilsvermoë in laasgenoemde.

    Dit blyk dat Los goed ingelig is oor die gevare van 'n driedeling in die mens self (nie in die siel nie) van liggaam, n laere siel en n hoëre siel of gees. Laasgenoemde sou aan God verwant wees en lei tot mistieke eenwording met God. (Vir detail vgl. verder Van der Walt, 2015:103.)

    Los is nie teen 'n "suiwer" of "Bybelse" mistiek nie (p. 203, 204), maar wel teen die filosofiese, panteïstiese mistiek van sommige Middeleeuse denkers. Hulle het, sê hy tereg, vergeet dat daar 'n radikale onderskeid tussen mens en God is, en verwys die leser na Esegiël 34:31. Nogtans bestaan daar volgens hom egter ook 'n suiwer, Bybelse mistiek wat deur die Bybelse visie op gevoel in die hart gekweek word (p. 202). Wat presies hierdie goeie mistiek inhou, word nie verder verduidelik nie.

    4.5.4 Hart, siel en gees

    In groot detail - maar sonder veel duidelikheid - gaan Los na wat - volgens hom - die Bybel leer oor hart (hoofstuk 2), oor siel (hoofstuk 3) en oor gees (hoofstuk 4) en elkeen van hulle se verband met gevoel. Omdat die Skrif hierdie begrippe nie in 'n tegnies-wetenskaplike sin gebruik nie, het hy egter groot moeite om hulle te omskryf en lees hy eerder sy eie mensvisie daarin.

    Dit staan vir hom vas dat die gevoel in die hart wortel (p. 23, 107, 213). Die siel is volgens hom die onsterflike deel van die mens (p. 100, 103). Gevoel is dan die oorgang van die passiewe of reseptiewe lewe van die hart in die aktiewe lewe van die siel. Later skryf hy (p. 212) met 'n beroep op Spreuke 4:23 dat gevoel/emosie tot die uitgange van die lewe van die hart hoort. Die gevoel in die siel is intermediêr tussen denke en wil (p. 214).

    Wat maak Los met die Bybelse begrip "gees"? Volgens hom is die gees die besielende beginsel teenoor die siel as die besielde. Dit wil later lyk of hy gees verstaan as dryfveer, strewe, begeerte wat bepaalde gevoelstoestande tot gevolg het (p. 105).

    4.5.5 Gevolgtrekking

    Los se gevolgtrekking na byna 200 bladsye verbaas n mens nie. Hy het met die Bybel "bewys" wat hy reeds vooraf oor die samestelling van die mens (volgens 'n Platoniserende en Aristoteliserende filosofie) aanvaar het. Hy stem saam met Herman Bavinck se antropologie (p. 209) wat die volgende inhou. Die "ek" bestaan uit net twee substansies, liggaam en siel. "Hart" en "gees" val dus (ongeveer?) saam met "siel" (p. 210). Die Bybel leer nie, soos byvoorbeeld deur die Stoïsynse filosofie, die onderdrukking van emosies, 'n gevoelslewe nie. Die onsterflike siel beskik oor drie disposisies, naamlik denke, gevoel en wil. Die gevoel moet egter op die voorgrond staan, sodat die intellek se prioriteit (soos dikwels in die geskiedenis van die Christendom) nie tot die ontemosionalisering van die mens lei nie (p. 210).

    "By hook or by crook", sou n mens kon sê, het Los die gevoelsaspek van die mens weer teenoor die meestal intellektualistiese (en soms voluntaristiese) gereformeerde ortodoksie onder die aandag gebring.

    Die psigiese is inderdaad n wesentlike aspek van menswees, ook van sy godsdienstige lewe. Daar kan wel veel emosie bestaan sonder geloof, maar geen geloof (godsdiens) sonder n emosionele kant nie.

    4.5.6 Latere ontwikkelinge

    In die latere ontwikkeling van meer integraal Christelike filosofie deur onder andere Stoker in Suid-Afrika en Dooyeweerd en Vollenhoven in Nederland en hulle navolgers is daar, behalwe 'n getalsmatige, ruimtelike, fisies-chemiese, biotiese en psigiese (gevoelsmatige) kant van die mens (die mens se liggaam in Los se terminologie), ook nog tien ander fasette, funksies of modaliteite van menswees onderskei, waaronder die logiese en etiese ingesluit is (die mens se siel/gees volgens Los). Dit beteken n veel ryker mensvisie as dié deur Los voorgestaan. Sommige van hierdie latere Christelike filosowe het ook afstand geneem van die Aristoteliese digotomie van siel en liggaam as twee afsonderlike substansies.

    4.6 "Persoonlijkheid en karakter" (1925, 152 bladsye)

    In hierdie werk verduidelik Los wat (die menslike) karakter beteken.

    4.6.1 Die "ek" en sy onderdele

    Volgens hom gaan die Bybel uit van n deur God geskape substansie (wese), die verborge Ekheid van die individu (p. 239, 141). Hy keer weer terug na Deuteronomium 6 vers 5 en Matteus 22 vers 37, waarin hy drie trappe van bestaanswyse vind. Die hart is die terrein van gewaarwordinge, emosies en strewes; die siel is die terrein van voorstellings, die begeertes en emosies asook selfaktiwiteit; die verstand is die hoogste trap van ontwikkeling. Dit wil aanvanklik dus voorkom of die gevoel (soos in sy proefskrif betoog) nie meer die hoogste sielsvermoë is nie.

    4.6.2 Drie stappe van kind tot volwassene

    Aan die begin van hierdie werk (p. 5) skryf Los dat die gevoel by kinders nog oorheers. Die rypheid van die lewe bring egter verligting deur die verstand, ontwikkeling van sielsbegeertes (gevoel) en besturing van handele (wil). Hoof, hart en hand werk dan blykbaar harmonies saam.

    Omdat Los sy karakterkunde nie net in abstracto nie, maar in concerto wil uitbou, bespreek hy in die res van sy boek (p. 10-150) verskillende Bybelse karakters: Dawid en Saul, Hosea en Gomer, Daniël en Antiogus Epifanus. Dawid, Hosea en Daniël word as normale karakters voorgehou terwyl Saul, Gomer en Antiogus as hulle teenpole, die abnormale karakters geteken word. Wat veroorsaak die verskil?

    4.6.3 Normale en abnormale karakters

    By die eerste drie Bybelfigure word onderskei tussen die laere, intermediêre en hoëre karaktereienskappe. Tot die laere karaktereienskappe behoort onder andere die emosies en tot die middelste die verstand, terwyl by die hoogste Plato se ideëleer weer na vore tree. Dit word - soos ons nou reeds kan verwag - gekenmerk deur drie gevoelens: 'n waarheidsgevoel, 'n gevoel vir die goeie en skoonheidsgevoel - gevoel gekoppel aan die verstand, hand en hart. Die rede vir n abnormale karakterontwikkeling (by Saul, Gomer en Antiogus) is dat die derde, hoogste karaktereienskappe by hulle ontbreek.

    Moet 'n mens, om 'n ware gelowige te wees Plato se drie ideë aanvaar en oor hierdie drie gevoelens beskik?

    4.7 "Moderne paedagogen en richtingen" (1938, 207 bladsye)

    Hierdie is, sover my bekend, die laaste geskrif van Los, tekenend van die man wat in die eerste plek n opvoedkundige wou wees. Soos in sy vorige geskrifte tree Los hier in gesprek met twaalf destydse denkers op die gebied van die Pedagogiek. Hy deel hulle in drie groepe in: sosiale, psigologiese en fundamentele pedagoë.

    4.7.1 Bavinck, Aristoteles en Plato

    Nie sonder verrassing nie, sluit hy die lys af met Herman Bavinck as opvoedkundige. Uit Los se voorgaande publikasies het alreeds duidelik geblyk dat hy hom die meeste by hierdie Gereformeerde teoloog se denke (wat naas sy dogmatiek heelwat oor die psigologie en pedagogiek geskryf het) tuis gevoel het.

    Volgens Los (p. 195) het Bavinck van Aristoteles (via Thomas van Aquino) uitgegaan sonder om n Aristoteliaan te word. Die geskrifte van die Stagiriet was vir hom slegs n "propaedeuse" of voorbereiding, filosofie slegs die diensmaagd van sy teologie. "En waar sal men een betere vinden?" Los voeg egter hierby dat Augustinus (se Neoplatonisme), veral wat kenteoretiese kwessies betref, Bavinck die meeste bekoor het. By Bavinck - en ook by sy bewonderaar, Los - is daar dus 'n duidelike mengsel tussen Aristoteliserende en Platoniserende denke en met verloop van tyd dalk groter klem op laasgenoemde.

    Volgens Los het Bavinck in sy dogmatiek (Bavinck, 1895) Aristoteles se digotomie van siel en liggaam aanvaar. Dit word later deur n grondige studie van Bremmer (1961) herbevestig. Bavinck (en heelwaarskynlik ook Los) kon hom dus nie met die nuwe Christelike wysbegeerte van die Wetsidee (van Vollenhoven en Dooyeweerd) vereenselwig nie.

    4.7.2 Die nuwe Bavinck

    Volgens Los (p. 197) het Bavinck egter na die verskyning van sy Gereformeerde Dogmatiek (1895) en sy latere werke (vgl. Bavinck, 1901, 1904a, 1904b en 1908) n ontwikkeling ondergaan wat daarop neerkom dat hy die Aristoteliese onderskeid tussen siel en liggaam losgelaat het om voortaan net 'n substansiële Ek en sy funksies te aanvaar. Bavinck keer ook sy rug op Aristoteles se twee vermoëns-leer (net intellek en wil) om die gevoel as derde te aanvaar. Los beskou hierdie nuwe sintese met die Neoplatonisme (via veral Augustinus) nie as 'n swakheid nie, maar as verryking by Bavinck. Nou bied die byvoeging van die gevoel vir Bavinck en Los ook die moontlikheid van 'n Bybelse vorm van mistiek!

    4.7.3 Die Skrif as bevestiging

    So n nuwe mensvisie klop volgens Los nie net met God se gebod dat ons Hom moet liefhê met verstand, hart en krag (wil) nie. Dit wys die gelowige ook op sy roeping as profeet, priester en koning, dit wil sê om met hoof, hart en hand God te dien (p. 163).

    Tot sover die belangrikste filosofiese, veral antropologiese, elemente uit Los se oeuvre. Ten slotte n evaluering van hierdie eerste persoon se denke wat aan die begin van die twintigste eeu op Potchefstroom doseer het.

     

    5. 'n Evaluering

    Geskiedenisskrywing behoort deur noukeurige en genuanseerde rekonstruksies die verlede te probeer verstaan. Dit gaan daarin oor vorige generasies en individuele mense se denke en optrede. Nie om hulle te veroordeel nie - wie is ons? Wel om insig te kry in hulle denkwyse soos gereflekteer in hulle nagelate geskrifte, die probleme waarvoor hulle gestaan het, hulle antwoorde daarop en hoe dit deur hulle voorgangers en eie tyd bepaal is. Dit alles en nog meer impliseer n evaluering van sowel sterk as swak punte in Los se denke.

    5.1 Enkele kritiekpunte

    Ek begin met die negatiewe, maar in die besef dat, indien ek myself in die teologiese en filosofiese konteks van Los van honderd jaar gelede sou kon verplaas, ek heelwaarskynlik dieselfde mensvisie sou gehuldig het. Die afstand tussen ons van soveel dekades het egter ook die voordeel ingehou dat daar vordering op hierdie gebied was.

    5.1.1 Los se mensvisie

    Los se antropologie kom basies neer op eeue-oue pogings om 'n versoening te probeer bewerkstellig tussen dit wat Christene glo die Bybel leer en wat deur die twee voor-Christelike Griekse reuse, Plato en Aristoteles, oor die mens geleer is. Vereenvoudigd kom dit op die volgende neer.

    Hierdie kompromis is alreeds deur die Middeleeuse Christendenkers moontlik gemaak met hulle onderskeid tussen n algemeen-menslik-natuurlike terrein en n besonder-goddelik-bonatuurlike van die werklikheid.

    Die mens self word volgens hierdie dualistiese werklikheidsvisie in twee gedeel. Enersyds deel hy in sy onsterflike siel aan die transendent-goddelike en andersyds is sy stoflike liggaam aan die aardse verwant. Vanselfsprekend was die belangstelling van Christelike denkers veral gerig op die hoëre, sogenaamde geestelike (semi-goddelike) komponent van menswees. Daarin is verdere onderskeidings aangebring. Dit sou oor verskillende vermoëns beskik. (By Aristoteles net uit intellek en wil, terwyl Plato reeds ook die gevoel erken het.)

    Hierdie mensvisie was die filosofiese erfenis ten tye van Los. Soos reeds genoem, probeer hy deur middel van in- en uitlegkunde om dit uit die Bybel te regverdig. Hy lees eers die reeds filosofies-gelaaide begrippe (waaraan hy in die gereformeerde teologie gewoond geword het) in Bybelse begrippe soos "hart", "siel" en "gees" in en dan lees hy weer, nou egter met Skriftuurlike sanksie van hulle nie-Bybelse betekenis, weer uit die Skrif -n sirkelproses van eisegese en eksegese.

    5.1.2 Nuwere navorsing

    Talle meer resente eksegetiese studies het egter aangetoon dat al hierdie, asook ander begrippe soos "liggaam", "vlees" en "stof", in die Skrif nie afsonderlike substansies in die mens aandui nie, maar gewoon die hele mens vanuit verskillende hoeke beskryf (vgl. Van der Walt, 2010b:267-251). Die Bybel leer dus nóg 'n tweedeling nóg 'n driedeling in die mens. Dit leer gevolglik ook nêrens dat die veronderstelde siel drie vermoëns (verstand, wil en gevoel) sou bevat nie.

    5.1.3 Gevare van h trigotomie

    Nog minder leer God se Woord dat hierdie geestelike fakulteite (omdat hulle semi-goddelik van aard sou wees) ongeveer onaangeraak sou wees deur die sondeval, sodat al vereiste sou wees dat nie een van hulle teenoor die ander oorbeklemtoon moet word nie (vgl. Vander Stelt, 2005).

    Die sondeval het wel nie die mens struktureel verander nie (hy bly mens), maar nogtans direksioneel, die rigting van sy lewe van gehoorsaamheid aan God se gebooie tot ongehoorsaamheid verander. Verstand, wil, gevoel en al die ander funksies wat by die mens onderskei kan word, is dus glad nie so betroubaar soos Kuyper (1901) en Bavinck (1901 en 1980) asook Los voorgee nie.

    Dit mag vir die huidige leser na n taamlik irrelevante saak klink, maar hou heel konkrete implikasies in. Afhangende van op watter een van die drie geestelike funksies die klem gelê word (om die ander twee in toom te hou), word die betrokke vermoë dié norm waarvolgens 'n mens moet lewe. Daardeur ken jy God en deur middel van jou eie vermoë - nie primêr op grond van God se beloftes nie - vind jy geloofsekerheid in jouself. (Iets daarvan skemer ook deur in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 3, antwoord 6 wat die beeld van God definieer as ware kennis, geregtigheid en heiligheid - hoof, hand en hart.)

    5.1.4 Praktiese implikasies

    Die invloed van hierdie soort trigotomie strek egter wyer. Dit kom volgens Vander Stelt (2005) dwarsdeur Westerse denke voor. Kant soek in sy drie "kritieke" nog na 'n balans tussen die ware, goeie en skone. Ander denkers beklemtoon die intellek (bv. Descartes), die wil (bv. Schopenhouer) of die gevoel (bv. Schleiermacher).

    Volgens Bavinck (1980:31-49) het die driedeling ook tot die vorming van verskillende Christelike denominasies en teologieë gelei. Die Gereformeerd-Ortodokse Kerke ná die Reformasie met nadruk op die suiwer leer (hoof of verstand), die Roomse Kerk met klem op goeie werke (van die hand of wil) en die Piëtistiese Kerke (vir wie die hart of gevoel die belangrikste was.)

    Ook binne dieselfde kerkgenootskap, soos die Gereformeerde, is die aksente gedurende verskillende periodes op óf die intellek óf die wil óf die gevoel gelê (vgl. Van der Walt, 2015:111). Intellektualistiese ortodoksie, aktivistiese ortopraksie en quiëtistiese gevoelsmistiek het mekaar in die geskiedenis afgewissel. Soos uit Los se verdediging van 'n "Bybelse" mistiek blyk, was hy heelwaarskynlik (veral na 1922) meer tot laasgenoemde geneig.

    Omdat Los nie panteïsties gedink het nie, moet hy egter 'n semi-mistieke denker genoem word. Dit beteken dat die hele mens (liggaam en siel) nie met God verenig moet word om in hierdie lewe reeds in Hom op te gaan nie, maar slegs die hoogste gedeelte van die mens, sy siel moet met Hom verenig, veral dan deur middel van die gevoelsvermoë van die siel.

    Los se klem op die gevoel sou ook vandag weer baie populêr wees omdat die swaai na persoonlike belewing en ervaring en 'n gevoelvolle, intieme verhouding met God weer deur baie gelowiges en kerke benadruk word (vgl. Van der Stoep e.a., 2007). Dit word deur baie selfs as die sleutel tot kerklike herlewing beskou.

    5.2 Positiewe kommentaar

    Drie punte van waardering van Los se werk en bydrae is die volgende.

    5.2.1 h Beginseldenker

    Eerstens was Los n beginselvaste mens, nie skaam of bang om n eie standpunt in te neem teenoor die omringende Afrikaanse intellektuele en politieke konteks van destyds nie. Hy was 'n vurige voorstander van die destydse Christelik-nasionale onderwys (vgl. Van der Schyff, 2003:131

    Dat hy 'n duidelike standpunt ingeneem het, is egter iets wat vandag in 'n postmodernistiese klimaat ook waardeer kan word. Los sou heelwaarskynlik heelhartig met sy geliefde Bavinck saamgestem het toe dié oor die relativisme van sy tyd die volgende geskryf het (ek vertaal):

    Die relativisme lyk wel onpartydig te wees as dit van geen vasstaande norme wil weet nie en alleen vir die konkrete, die historiese 'n oog het. Maar dit maak van die relatiewe self die absolute en ruil daarmee die ware vryheid in vir dwang... Die ergste is nie dat dit [die relativisme] op dié wyse in teëspraak met sigself kom nie, want hierdie teëspraak is... reeds van die begin af sy kenmerk. Deur sigself as enigste waarheid te erken gaan dit in 'n absolute standpunt op. (Bavinck, 1904a:77)

    5.2.2 Nie in isolasie gedink en geskryf nie

    In die tweede plek het die feit dat Los 'n eie Christelike standpunt gehuldig het nie beteken dat hy in isolasie geleef en gedink het nie. Soos uit sy hierbo bespreekte geskrifte blyk, het hy, al was dit dikwels eklekties, wyd gelees en uit talle bronne, insluitende dié van voor-Christelike en sekulêre denkers, geput om aan 'n verantwoorde Opvoedkunde gestalte te gee.

    5.2.3 Sy invloed

    In die derde plek het Los, hoewel hy nie n eie, oorspronklike Christelike wysbegeerte ontwikkel het nie, heelwaarskynlik op opvoedkundige terrein deur sy klasse en sy publikasies (selfs nadat hy Suid-Afrika verlaat het) belangrike filosofiese saadjies gesaai en ook op dié wyse belangrike vormende invloed op sy studente, toekomstige leiers in die Suid-Afrikaanse samelewing gehad.

    5.3 Ter afsluiting

    Ek moet prof. Los nou met rus laat, maar nie sonder twee laaste opmerkings oor wat, nadat hy Suid-Afrika verlaat het, alhier gebeur het nie.

    5.3.1 Ten eerste

    By sy oordrag van die rektoraat van die destydse nog gekombineerde Teologiese Skool en Literariese Departement op Potchefstroom, sluit Los (1915:44) sy rede met 'n wens af: Vivat, floreat et crescat academia nostra (mag ons akademie lewe, floreer en groei). Hierdie wens is deur al die jare tot op vandag op Potchefstroom vervul (vgl. Van der Schyff, 2003 en Van Eeden, 2005).

    Nie net het die akademie in die algemeen op Potchefstroom gegroei nie, ook die Filosofie het deur ten minste vyf generasies die afgelope eeu floreer (vgl. Van der Walt, 2010a:136-137).

    Ook internasionaal gesien, was so 'n Reformatoriese filosofie ten spyte van gebreke -ook Christelike wysgere soek wysheid, maar vind dit nie noodwendig nie! - nie net n kortstondige modegier nie. Na die patres philosophiae christianae (die vaders daarvan in Nederland, Vollenhoven en Dooyeweerd) is dit deur ten minste vier geslagte verder uitgebou (vgl. Van der Walt, 2010a:133,134). Daarvandaan het dit aanhangers in verskillende wêrelddele, soos Engeland, die VSA, Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Japan en Korea, gevind. Dit is in talle vakgebiede, soos in die Ekonomie, Estetika, Wiskunde, Fisika, Biologie en ander natuurwetenskappe, Sielkunde, Opvoedkunde, Politieke Studies, Sosiologie, Taalkunde, Tegnologie en Teologie as grondslag gebruik (p. 139, 140).

    5.3.2 Ten tweede

    Die tweede proefskrif van Los (1922) wat ek vir hierdie ondersoek gebruik het, was oorspronklik die eiendom van prof. H.G. Stoker. (Op die titelbladsy daarvan verskyn, behalwe sy stempel: "H.G. Stoker. M.A. Biblioteek, Potchefstroom", ook Stoker se handtekening.) Dalk was dit juis hierdie werk van Los (oral vol merke uit Stoker se pen) wat die aansporing was vir Stoker om Los twee jaar later (1924) in Den Haag te gaan raadpleeg oor moontlike doktorsgraadstudies in die Filosofie in Europa. (Stoker se aanvanklike ideaal om dit onder Bavinck as promotor te doen kon nie meer realiseer nie, omdat Bavinck reeds in 1921 oorlede is.)

    Na sy promosie (in 1925 onder Max Scheler in Duitsland) word Stoker in dieselfde jaar lektor in Filosofie en Psigologie op Potchefstroom, vanaf 1930 tot 1964 was hy hoof van die Departement Filosofie en hy ontwerp sy eie Filosofie van die Skeppingsidee - stof vir 'n volgende bydrae. Soos prof. Los in 1915 sy rede afgesluit het, sluit ek egter nou eers af met "Ik hebt gezegd".

     

    6. Bibliografie

    Barholomew, C.G. & Goheen, M.W. 2013. Christian philosophy; a systematic and narrative introduction. Grand Rapids, Michigan: Baker Academic.         [ Links ]

    Bavinck, H. 1895. Gereformeerde Dogmatiek (4 dele). Kampen: Kok.         [ Links ]

    Bavinck, H. 1901. De zekerheid des geloofs. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Bavinck, H. 1904a. Christelijke wereldbeschouwing. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Bavinck, H. 1904b. Christelijke wetenschap. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Bavinck, H. 1908. Wijsbegeerte der Openbaring; Stone-lezingen voor het jaar 1908, gehouden te Princeton, N.J. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Bavinck, H. 1979. The philosophy of revelation. Grand Rapids, Michigan: Baker Book House. (Vertaling van Bavinck, 1908.         [ Links ])

    Bavinck, H. 1980. The certainty of faith. St. Catherines, Ontario: Paideia Press. (Vertaling van Bavinck, 1901.         [ Links ])

    Bremmer, R.H. 1961. Bavinck als dogmaticus. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Coetzee, J.C. 1959. Die Gereformeerde Kerk en Christelike Hoër Onderwys. (In Du Toit, S. e.a. 1959. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859-1959; gedenkboek by geleentheid van die eeufees. Die Kerkblad: Noordbrug, Potchefstroom. p. 225-244.         [ Links ])

    Duvenage, P. 2015. Afrikaanse filosofie. Bloemfontein: Sun Press.         [ Links ]

    Flinterman, R.A. 1983. Los, Sietse Oene (1871-1944). (In Biografisch Lexicon voor de geschiedenis van het Nederlands Protestantisme, deel 2. Kampen: Kok. p. 310.         [ Links ])

    Hengstmengel, B. 2015. Denken met de hart; Christelijke filosofie in de traditie van Augustinus en Calvijn. Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.         [ Links ]

    Heslam, P.S. 1998. Creating a Christian worldview; Abraham Kuyper's lectures on Calvinism. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans/Carlisle, The Paternoster Press.         [ Links ]

    Klapwijk, J. 1980a. Honderd jaar filosofie aan de Vrije Universiteit. (In Van Os, M. & Wieringa, W.J., reds. Wetenschap en rekenschap 1880-1980; een eeuw wetenschapsbeoefening en wetenschapsbeschouwing aan de Vrije Universiteit. Kampen: Kok. p. 529-593.         [ Links ])

    Kuyper, A. 1898. Het Calvinisme; zes Stone-lezingen in October 1898 te Princeton (N.J.) gehouden. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Kuyper, A. 1901. Drie kleine vossen. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Los, S.O. 1905. Aristoteles in Nederland. Utrecht: Kemink & Zoon (Proefskrif in filosofie aan die Universiteit van Utrecht.         [ Links ])

    Los, S.O. 1911, Het isolement van de Amsterdamse Gereformeerde professoren dr. A. Kuyper en dr. H. Bavinck; verweerschrift tegen "De Kerkbode". Pretoria: Wormser.         [ Links ]

    Los, S.O. 1915. Beginselen van de karakterkunde. Pretoria: J.L. van Schaik. (Rede bij de overdracht van het rektoraat aan de Teologiese School the Potchefstroom, op 3 Desember 1915.         [ Links ])

    Los, S.O. 1918. Logika. Potchefstroom: A.H. Koomans. "Het Westen" Drukkery en Boekhandel.         [ Links ]

    Los, S.O. 1922. Het gevoel in de Heilige Schrift. Den Haag: Firma Oranje Guillame. (Proefskrif in teologie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam.         [ Links ])

    Los, S.O. 1925. Persoonlijkheid en karakter. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Los, S.O. 1938. Moderne paedagogen en richtingen. Kampen: Kok.         [ Links ]

    More, M.P. 1996. Philosophy in South Africa before and after apartheid. (In Wiredu, K. (ed.) 2006. A Comparison to African philosophy. Oxford: Blackwell Pub. p. 149-160.         [ Links ])

    Murray, A.H. 1945 (herdruk 1968). Die Afrikaner se wysgerige denke. (In Pienaar, P. De V. (red.) Kultuurgeskiedenis van die Afrikaner. Kaapstad: Nasionale Boekhandel. p. 183-189.         [ Links ])

    Nijhoff, R. 2014. De logosfilosofie van Jan Woltjer (1849-1917); logos en wijsbegeerte aan de vroege Vrije Universiteit. Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.         [ Links ]

    Poortman, J.J. 1948. Repertorium der Nederlandse Wijsbegeerte. Amsterdam: Wereldbibliotheek. p. 297.         [ Links ]

    Postma, F. 1914a. De numine divino quid senserit Vergilius; dispitatio litteraria quam Annuente Summo numine. Astalodami: Van Bottenburg.         [ Links ]

    Postma, F. 1914b. Encyclopaedia Philologiae (ongepubliseerde diktaat van Woltjer oorgeskryf van H. Mulder aan boord van die skip Youth Castle).         [ Links ]

    Postma, F. 1926. Erfstukke uit die Klassieke Oudheid (3 dele). Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

    Postma, F. 1975. Paulus, geroepe apostel van Jesus Christus. Braamfontein: Boekhandel de Jong.         [ Links ]

    Postma, F. s.j. Geschiedenis dictaat (van J. Woltjer).         [ Links ]

    Schutte, G. 2005. De Vrije Universiteit en Zuid-Afrika (2 dele). Zoetemeer: Uitgeverij Meinema.         [ Links ]

    Smuts, J.C. 1926. Holism and evolution. London: Macmillan.         [ Links ]

    Spruyt, C.B. s.j. Geschiedenis der wijsbegeerte. Haarlem: De Erven F. Bohn.         [ Links ]

    Stellingwerff, J. 2006. Geschiedenis van de reformatorische wijsbegeerte; een Christelijk perspectief. Sonder plek: Stichting voor Reformatorische Wijsbegeerte.         [ Links ]

    Van der Laan, H. 2000. Jan Woltjer (1849-1917): filosoof, classicus, pedagoog. Amsterdam: VU Uitgeverij.         [ Links ]

    Van der Schyff, P.F. 2003. Wonderdaad...! Die PUK tot 1951: wording, vestiging en selfstandigheid. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

    Van der Stoep, J., Kuyper, R. & Ramaker, T., reds. 2007. Alles wat je hart begeert? Christelijke oriëntatie in een op beleving gerichte cultuur. Amsterdam: Buijten & Schipperheijn.         [ Links ]

    Van der Walt, B.J. 2010a. An overview of the global presence of a Christian Reformational philosophy and scholarship. (In Van der Walt, B.J. At home in God's world. Potchefstroom: The Institute for Contemporary Christianity in Africa. p. 127-151.         [ Links ])

    Van der Walt, B.J. 2010b The biblical perspective on being human. (In Van der Walt, B.J. At home in God's world. Potchefstroom: ICCA. p. 259-289.         [ Links ])

    Van der Walt, B.J. 2011. 'n Klein wins maar 'n groot verlies in die laat sestiende en sewentiende-eeuse gereformeerde ortodoksie - 'n Christelik-filosofiese benadering. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 47(1):97-116.         [ Links ]

    Van der Walt, B.J. 2012a. Die invloed van die Aristotelies-Skolastiese filosofie op die Dordtse Leerreëls (1619); 'n Christelik-filosofiese analise. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 48(1):91-110.         [ Links ]

    Van der Walt, B.J. 2012b. Die wetsidee as sleutel tot die filosofie van die Katolieke "doctor communis". Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 48(3):65-86.         [ Links ]

    Van der Walt, B.J. 2013. Christianisering van die Hellenisme impliseer die hellenisering van die Christelike geloof. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 49(3):1-36.         [ Links ]

    Van der Walt, B.J. 2014. At the cradle of a Christian philosophy in Calvin, Vollenhoven, Stoker and Dooyeweerd. Potchefstroom: The Institute for Contemporary Christianity in Africa.         [ Links ]

    Van der Walt, B.J. 2015. Semi-mistieke spiritualiteit by Johannes Calvyn en by Abraham Kuyper. Tydskrif vir Christelike Wetenskap, 51(3):99-124.         [ Links ]

    Van Eeden, E.S., red. 2005. "In U lig"; die PU vir CHO van selfstandigwording tot samesmelting. Potchefstroom: Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).         [ Links ]

    Vander Stelt, J.C. 2005. "Faculty psychology" and theology. (In Kok, J.H., ed. Ways of knowing in context. Sioux Center, Iowa: Dordt College Press. p. 45-60.         [ Links ])

    Vollenhoven, D.H.Th. 2000. Schematische kaarten; filosofische concepties in probleemhistorisch verband. (Bril, K.A. & Boonstra, P.J., reds.) Amstelveen: De Zaak Haes.         [ Links ]

    Woldring, H.E.S. 2013. Een handvol filosofen; geschiedenis van de filosofiebeoefening aan de Vrije Universiteit van 1880 tot 2012. Hilversum: Verloren.         [ Links ]

     

     

    Correspondence:
    B.J. van der Walt
    Private Bag X6001
    Potchefstroom Campus, North-West University
    Potchefstroom, 2520, South Africa benniejvanderwalt@gmail.com

    Published: 20 Mar. 2017