SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.88 número1Francis Schaeffer's Relevance to Contemporary ApologeticsA practical explanation of ethics as a good corporate governance principle in South Africa and New Zealand - A case study índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Compartir


    Koers

    versión On-line ISSN 2304-8557
    versión impresa ISSN 0023-270X

    Koers (Online) vol.88 no.1 Pretoria  2023

    http://dx.doi.org/10.19108/KOERS.88.1.2551 

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Gereformeerde piëtisme, neoplatonisme en pre-Romantieke teodisee in die Voortrekkervrou Susanna Smit (1799-1863) se godsdienstige dagboeke

     

    Reformed Pietism, neo-Platonism and pre-Romantic Theodicy in the spiritual diaries of the Voortrekker woman Susanna Smit (1799-1863)

     

     

    Andries Raath

    Research Fellow Department of History University of the Free State Bloemfontein https://orcid.org/0000-0002-1198-5234

    Correspondence

     

     


    Sleutelterme: Gereformeerde, piëtisme, neoplatonisme, pre-Romantieke, teodisee


    ABSTRACT

    The first half of the eighteenth century witnessed a resurgence of Platonism in literature generally and in theology in Germany en Holland in particular, because of the appeal Plato's ideas held for the distinction between immanent and transcendental reality, man's quest for unity with the Good, and the human soul as the vehicle for uniting with God. Because most human beings are preoccupied with material things, Plato believed they need to have their thoughts turned to the immaterial reality behind the material world, and thus to be weaned away from the objects of their passions. To Plato the world is more than a world of appearances. Behind each particular thing is the idea or form of the thing. Moreover, the ideas or forms are all ultimately related to the Form of the Good. Plato believed that the soul is an immaterial entity, which in some ways is like the Forms. Particularly revealing to the emerging trend of Romanticism was Plato's philosophica transcending of sceptical and materialistic views of reality, the notion that those who know what is good will love and desire it, and that moral virtue is of itself a prerequisite to knowing the good. The problem presented itself as to how sinful man and chaos in the world can be brought in accordance with God's perfect and sinless nature. Because Plato's view of human improvement by means of education and salvation through personal virtue is far removed from the Christian message of redemption by a loving, personal God, Pietists reverted to the neo-Platonism legacy of love mysticism to resolve the dualism inherent to the Romantic juxtaposition of the immanent and the transcendent. The Voortrekker woman Susanna Smit reflected these influences in her Reformed Pietistic spirituality and re-interpreted the Christian conviction of the love of God and man's salvation by relying on neo-Platonism love spirituality in the works of James Hervey, Rutger Schutte, Hieronymus van Alphen, Rhjnvis Feith and other pietistically inclined authors. This research investigates the impact of the idea of experiential numinous love mediating between the Good and the human soul and neo-Platonism love sentimentality in Susanna Smit's diaries and the effect of these influences in her Reformed Pietistic spirituality from 1843 to 1863.

    Key terms: Reformed, Pietism, neo-Platonism, pre-Romantic, Theodicy


     

     

    1. inleiding

    Susanna Smit (1799-1863), eggenote van die Voortrekkerleraar, Erasmus Smit, se godsdienstige dagboeke getuig van intensiewe leeswerk - hoofsaaklik van gereformeerde piëtiste, maar ook van ander godsdienstige skrywers. Die lektuur wat sy raadpleeg, is hoofsaaklik boeke wat dié piëtistiese gesindheid weerspieël (Roodt-Coetzee 1961: 38): Theodorus van der Groe (1705-1784), Bernardus Smytegelt (1665-1739), Wilhelmus à Brakel (1635-1711), Lambertus Myseras (1676-1740), Rutger Schutte (1708-1784), Jodocus van Lodensteyn (1620-1677), Petrus Immens (1664-1720). Abraham Hellenbroek (1658-1731), Ewaldus Kist (1762-1822) en Petrus Broes (1726-1797). Uit Puriteinse kring lees sy onder andere werke van Ebenezer Erskine (16-1754), Ralph Erskine (1685-1752), Richard Baxter (1615-1691) en John Newton (1725-1807). Daarbenewens haal sy dikwels aan uit werke wat breedweg as Romantieke oordenkingstof beskryf kan word: Hieronymus van Alphen (17461803) en James Hervey (Puddu, 1996: 143-154; Olivier, 1941: 63 e.v.).

    Romantieke invloed in die piëtistiese spiritualiteit was egter nie slegs tot Van Alphen en Hervey beperk nie. Verskeie medewerkers tot die Psalmbundel van 1773 en die Gesangebundel wat in 1807 in die Nederlandse Hervormde Kerk ingevoer is, het dié invloed in hul poësie en digsange weerspieël (Raath, 2019: 5). Voorts het talle piëtistiese outeurs onder die invloed van die pre-Romantieke en Romantieke spiritualiteit gekom (Langbeen, 1933). Die pre-Romantieke spiritualiteit in Europa vertoon in die tweede helfte van die agttiende eeu 'n komplekse profiel van opkomende transkonfessionaliteit van die Aufklarung, internasionalisering van die piëtistiese geesteshouding en herlewing van die laat-Middeleeuse mistieke verinnerliking. Prosawerke van James Hervey in Engeland, poësie van Friedrich Gottlieb Klopstock (1724-1803) en Christian Fürchtegott Gellert (1715-1769) in Duitsland en Ahasueer (Ahasverus) van den Berg (1733-1807) in Nederland se digsange het op verskillende wyses vorm gegee aan die komplekse godsdienstige uitdrukking van dié tendense. Die Platonisme en neoplatonisme het in wisselende maat die spil van die opkomende Romantieke gees gevorm, naamlik die numineutiese liefde as uitdrukking van die persoonlike geloofsbelewing van piëtistiese gelowiges.

    Die neerslag van die piëtisme aan die Kaap en in pioniersgemeenskappe in die Suid-Afrikaanse binneland sou mettertyd dieselfde komplekse profiel van piëtisme, mistiek en romantiek vertoon. Susanna Smit, eggenote van die Voortrekkerleraar, Erasmus Smit, gee in haar godsdienstige dagboeke ruim blyke van die Europese godsdienstige invloede wat in haar spiritualiteit neerslag gevind het: James Hervey se melankoliese liefdesentimentaliteit, Klopstock se bevindelike gemoedsuitdrukkings en Gellert en Van den Berg se sentimentele bevindelikheid het op verskillende maniere die opkomende Romantieke persoonlikheidsideaal van piëtistiese gelowiges vertolk. Die kulminasie van dié vertolkings in die Nederlandse godsdienstige literatuur het veral deur die poësie en himnodie van prosaskrywers, medewerkers tot hersiening van die Psalmberymings en gesangdigters tot 'n eiesoortige bevindelike liefdesentimentaliteit in die Nederlandse aanbiddingskultuur gelei. Onder Nederlandse bewind, 1652-1795, het die Kaapse godsdiensgemeenskap in toenemende mate dieselfde tendense vertoon. Die vrae wat vervolgens beantwoord word, is die mate waartoe dié tendense in die uitgebreide godsdienstige dagboeke van die Voortrekkervrou Susanna Smit nagespeur kan word en die effek wat hierdie invloede op haar persoonlike geloofsbelewing gehad het.

     

    2. Pre-Romantieke teodisee en romantieke liefdesentimentaliteit in die piëtisme van die agttiende eeu

    2.1 Die pre-Romantieke teodisee-probleem en die opbloei van Platonistiese spiritualiteit

    Die terugkerende teodisee-probleem in die pre-Romantieke godsdienstige literatuur van die 18de eeu was hoe die kwaad in die wêreld in ooreenstemming met die volmaaktheid van God gebring kan word. Onder invloed van die Platonistiese kennisleer het 'n uitbreidende klem op spiritualiteit, metafisika en 'n holistiese begrip van die werklikheid die dualistiese tendense in die pre-Romantieke spiritualiteit beklemtoon. Vir Plato (c427-c347 v.C.) is die spirituele die medium om die materiële en laer menslike begeertes te transendeer.

    Metafisies gesproke is die waarheid meer as die empiries waarneembare werklikheid en agterliggend tot elke partikuliere ding is die idéé of vorm daarvan, welke idéés of vorme verwant is aan die Vorm van die Goeie (Brown, 1990: 31). Vir Plato staan kennis teenoor geloof: Geloof behels die idees van die materiële werklikheid, terwyl kennis betrekking het op die transendente wêreld. Die menslike siel is 'n nie-stoflike entiteit, wat instrumenteel is tot die verwerwing van kennis (Brown, 1990: 32). Kennis word bekom deur die siel se vermoë tot introspektiewe herinnering: "... if the truth about reality is always in our soul, the soul must be immortal, and one must take courage and try to discover - that is, to recollect - what one doesn't happen to know, or, more correctly, remember, at the moment" (Brown, 1990: 32). Die Platonistiese leerstuk van Vorme, veral die Vorm van die Goeie, is antimaterialisties van inslag en is in sommige opsigte analoog tot die idéé van God as die Goeie en Volmaakte.

    Die Platonistiese siels- en kennisleer het vir die pre-Romantici as vertrekpunt gedien om 'n antwoord op die teodisee-probleem te vind, naamlik menslike verbetering, die bevordering van deugsaamheid en redding deur die menslike persoon se vermoë om goed te doen (Brown, 1990: 37). 'n Medium om die dualisme in die Platonistiese spiritualiteit te oorbrug is in Romantieke kringe in die neoplatonistiese liefdesmistiek van Dionisius die Areopagiet (vyfde eeu n.C.) en sy navolgers gevind - die mistieke eenwording met God deur die liefde. Die Dionisiese brug van God se uitvloeiende Liefde, Sy aantrekking van syndes tot Homself en die terugvloei van gelowiges se wederliefde, verskyn in talle liefdesmetafore van die Gereformeerde piëtisme van die agttiende eeu.

    Die Kaapse vrou, Catharina Allegonda van Lier (1768-1801), gebruik liefdesmetafore om die grootheid, majesteit en onbeperktheid van God aan te dui as die "oseaan van liefde" (Van Lier, 1804: 41), die "goddelike son van liefde" (Van Lier, 1804: 55), die "oneindige liefde" (Van Lier, 1804: 255) en God se "liefdesoog" wat haar hart brandend maak (Van Lier, 1804: 268). Elders noem sy God die "bron van liefde" (Van Lier, 1804: 260). Die krag wat die gelowige na God trek, is die liefde, skryf Eva van der Groe (1704-1770) (Van der Groe, 1834: 53) en Geesjen Pamans (1727-1821) (Pamans, 1775: 5, 6). In sy oneindige groot liefde trek God die mens met 'n ewige liefde aan, getuig dieselfde skrywers (volgens Eva van der Groe (1834: 53) en Geesjen Pamans (1775: 5, 6). Catharina Allegonda van Lier (1804: 208) ervaar die goddelike liefdestrekkinge aan haar siel, terwyl Geesjen Pamans deur God omhels word. In die anonieme werkie De uitnemende rijkdom getuig die skrywer dat sy neerdaal in die liefde van Christus (A.A.H., c1780: 6-8) en: "(I)k moest wegzinken in de liefde van den Heere; mij verliezende, o liefde riep ik uit, wat is sterker dan liefde; o liefde van een nooit begonnen eeuwigheid; ja was ieder haar van mij een tong" (A.A.H., c1780: 8).

    2.2 Immanuel Jacob Pyra (1715-1744), James Hervey (1714-1785) en die opbloei van Platonistiese liefdesentimentaliteit in die agttiende eeu

    Binne die konteks van die agttiende-eeuse liefdespiritualiteit het die piëtistiese gedigte van Immanuel Jacob Pyra tot 'n ongekende opbloei van sielsverdiepende en gevoelsmatige sentimentaliteitsuitinge in die Duitse literêre wêreld aanleiding gegee (Schneider, 1960: 15), "... wahre innere Erlebnis der Pietisten forderte die lebendige Betátigung der ganzen Seele und war von einer eigenartigen religiösen Weihe durchdrungen. Liebe und Freundschaft erhielten göttlichen Adel. Im Schwunge empfindsamer Begeisterung glaubten sich die Herzen füreinander geschaffen." (Schneider 1960: 15; vgl. Waniek, 1882: 166 e.v.). Poësie ontspring aan die "... himmlischen Feuer das in der Seele brennt, und das rein und unverfálscht aus dem Dichtwerk sprechen muss." (Schneider, 1960: 17).

    Mede onder invloed van die Spaans-Franse mistiek van Fénelon - versprei deur Nederlandse mistieke teoloë soos Pieter Poiret (1646-1719), Pieter Jurieu (1637-1713) en Elias Saurin (1639-1703) - neem dié neigings ook in Duitsland en elders in piëtistiese kringe toe. Veral Poiret se invloed het via Gottfried Arnold (1666-1714) die Duitse piëtisme bevrug, terwyl Saurin se preekstof die literatuur van Gellert beïnvloed het (Langbroek, 1933: 46). Die voortstuwende klem op die innerlike lewe, gevoelsmatigheid, verheerlikte askese, sielsliefde en 'n vriendskapskultus onder invloed van die grafpoësie van James Hervey (1714-1785) het in spirituele kringe melancholiese geneigdhede tot 'n hoogtepunt gevoer (Langbroek, 1933: 46).

    Die gereformeerde piëtisme in die algemeen en veral Susanna Smit het ook uit Hervey se melancholiese spiritualiteit geput - in die besonder die jukstaposisie van die hemelse sondelose en transendente, teenoor die aardse sondige en verganklike. Susanna skryf hoe sy ongeveer middernag ontwaak met "... de Poezij uit Hervijs bespiegeling [over grafsteden en de Bloemhoven]. Zalig, zalig cherubijnendom, Gods grooten zoon ter eer. Hoe hoog u choorzang immer klom. Daal nu op het aardrijk neer" (Smit, 1843-1863: 26: 19). Sy pen ses strofes voor in die betrokke boekdeel neer: "Om dat dien poezij mij zoo meer dan eens tot eene verrukkelijke vreug de zang was heb ik de zelve hier voor mij in dit mijn boekje geplaats ..." (Smit, 1843-1863: 26: 19). Die verwydering tussen mens en God is slegs oorkombaar deur Jesus wat as liefdesoffer van God op die sonde-altaar vir die mens gesterf het (strofes drie en vier):

    "Verheft in hen met ons Gods Zoon

    Zyn vaders liefde lust!

    Beschouw de voet bank van zijn troon en

    Zweef, zweef van kust tot kust.

    En:

    "'t Wekt all' u op tot's Heeren lof

    Wiens komst en dood en druk

    Den mensch verheft uit nietig stof

    Ten punt van geluk!" (Smit, 1843-1863: 26: 1).

    2.3 Friedrich Gottlieb Klopstock, Rhijnvis Feith (1753-1824) en die bruidsmistieke liefdesug in Susanna Smit se godsdienstige dagboeke

    Pyra se piëtistiese gedigte het sowel in Duitsland (via Klopstock) as in Nederland (deur Rhijnvis Feith (1753-1824)) begeesterde navolgers gehad. By Klopstock manifesteer dit in verinnerlikte liefdeshunkeringe: Die gevoelige, hartsweemoed en sagmoedige berusting word prominente kenmerke van die vir-God-welgevallige aanbidding en word tematies met die sterfbed, dood, graf, opstanding van die gelowiges en die hemelse bruid verbind (Langbroek, 1933: 47). Liefdes- en bruidsmistieke metafore word kwistig aangewend om die band tussen Christus en die gelowige siel te beskryf - heenwysings na die ongeveinsde hemelse liefde (Langbroek, 1933: 48, 52). Die liefdesgesindheid wat sielsgenote saambind, groei tot 'n spirituele band wat in die hiernamaals resoneer (Langbroek, 1933: 53).

    By Feith konvergeer Romantiek, puritanisme, mistiek en piëtisme in 'n verheerliking van verinnerliking, subjektivisme en sentimentaliteit, wat trekke van James Hervey se begraafplaasletterkunde vertoon. In sy romans gee Feith reeds blyke van Aufklarung-invloed - 'n geneigdheid om die menslike rede en die natuur naas God te stel. In sy roman, Fancy, maak hy byvoorbeeld gewag van "Godsdienst, Deugd en Liefde" as één (Prinsen, 1920: 495). Swak gesondheid, "waarin de goede God mij, naar den letter van de poorten des doods terug riep" en 'n uitnodiging van die samestellers van 'n gesangbundel in opdrag van die Sinode van Noord-Holland, was Feith se inspirasie tot die skryf van gesange met die oog op so 'n bundel. Hy volg Gellert se benadering tot sogenaamde "geestelijke Liederen" vir kerklike gebruik. Vir dié doel onderskei hy tussen twee kategorieë vir gebruik in die erediens: "Leerliederen" en "Liederen voor het hart" (Feith, 1804: 5; Janssonius, 1863: 247). Om gestalte aan geskikte gesange te gee word 'n grondige poëtiese kennis en "een ongeveinsd en zuiver Godsdienstige gevoel" vereis (Feith, 1804: 14). Gellert se liedere oor die daaglikse herinnering aan die dood word deur Feith as 'n belangrike stimulus tot gepaste gesange uitgesonder (Feith, 1804: 16). Naas Ahasueer van den Berg het Feith die meeste gesange tot die Nederlandsch Hervormde Gezangboek bygedra.

    Susanna Smit se liefde vir Feith se gesangdigte het haar ego-ervarings in belangrike opsigte mede-bepaal. Haar beroep op Gesange 23, 26, 35, 37, 130, 160 en 191 kan as maatstaf dien vir haar spirituele afhanklikheid van melancholiese en sentimentele oordenkingstof wat sy uit Feith se gesange geput het. Met verwysing na Gesang 23 gee sy uiting aan haar swartgallige, melancholiese hunkering na God en die opheffing van haar gemoed tydens haar middernagtelike spirituele worstelings deur die betrokke teks(e) aan Feith ontleen: Geloofsoog "ter needer geslagen en de hartstochten aan het woelen is. En zitten wij dan eerst in de modder om en weeder uit te raken, want wie toch kan in een modder poel vast zittende, vreede hebben in zijnen binnesten?" (Smit, 1843-1863: 31: 23).

    Susanna Smit se verlusting in Feith se Gesange staan, eerstens, direk in verband met sy statuur as een van die toonaangewende eksponente van die opkomende Romantiek wat - onder invloed van die Duitse pre-Romantici - 'n belangrike bydrae tot die Protestantse kerklied sou lewer. Dat tipiese romantieke melancholie, swartgalligheid en die klem op universele liefdesentiment, by Feith nie ontbreek het nie, het voorts bevrugtend op haar ingewerk (Raath, 2019: 15). Teoloë van Gereformeerde oortuiging kon egter nie vrede maak met Feith se klem op menslike waarde en die roeping om op aarde "aan God gelijk te Zijn" nie. S.J. du Toit het kortweg verklaar dat Feith teologies ongereformeerde leerstellings verkondig: "Heel dit gezang berust op de leer der algemeene genade .." (Du Toit, 1896: 8).

    2.4 Ahasueer van den Berg (1733-1807) en die liefdesentimentalisme in Susanna Smit se godsdienstige dagboeke

    Ahasueer van den Berg was 'n gerekende letterkundige wat veral bekendheid verwerf het vanweë sy Oden en liederen wat talle herdrukke beleef het. Die liefdesmotief figureer reeds in die koeplet uit die opdrag van die derde deel van sy geestelike poësie:

    "Zijn hartenood al zingend God te klagen,

    Gods liefde en gunst te roemen in een lied;

    Of hem in zang om troost en hulp te vragen,

    Dat hoort God gaarn! Ja, dat versmaadt hij niet!"

    Hy word in 1772 aangewys as hersiener van die nuwe Psalmberyming. In sy Proeve van geestelijke oden en liederen (1777) gee die tweede strofe van sy intreegesang "Aan mijn Vader" die toon aan van sy gevoelsmatige Romantieke liefdesaanslag:

    "Ik Hoorde U steeds, in stille afzondering,

    Aan't aardsche ontrukt, tot God omhoog gevoerd,

    Van Zijn genade en Jezus liefde zingen,

    En voelde vaak mijn hart daar door geroerd" (Van den Berg, 1777: i).

    In die voorwoord tot die bundel loof hy Klopstock se "verhevenheid en deftigheid", Johann Andreas Cramer (1723-1788) se "naaukeurigheid", die "levendige en sterke hartetaal" van Johann Kaspar Lavater (1741-1801) en sy "onderscheidende schoonheden van verscheiden andere voor name Duitschers (Van den Berg, 1777: iv).

    Hoewel Van den Berg se vertalings min letterkundige verdienste het, gee dit 'n goeie aanduiding van die godsdienstige gemoedslewe van die tyd. Soos Rhijnvis Feith, Hieronymus van Alphen en Pieter Leonard de Kasteele, het Ahasueer van den Berg ruim van vertalings van werke van Gellert en Klopstock gebruik gemaak (Kakebeen, 1888: 42). Sommige van sy vertalings en/of bewerkings was egter meer verdienstelik en sommiges het populêre spirituele liedere geword en inslag by die Nederlandse kerkvolk gevind: O goedheid Gods! nooit recht geprezen (Gellert), Op Bergen en in dalen (C.C. Sturm, 1740-1786 en Johann Andreas Cramer, 1723-1788), Twijfling zwijg, zwijg bange smarte (Johann Adolf Schlegel, 17211793), God, enkel licht (Franz Schubart, 1797-1828) en Waar is de wijze (Balthasar Münter, 1735-1793). Die meeste van die Gesange in die Nederlandsch Hervormde Gezangboek is deur Van den Berg bygedra.

    In Susanna se godsdienstige dagboeke word minstens 26 keer na die volgende gesange van Van den Berg verwys, of daaruit aangehaal: 12, 33, 36, 51, 57, 58, 74, 101, 131, 140, 181, 188 en192. So verwys sy na Gesang 192 om die liefde van Christus teenoor haarself te bevestig. Twyfel in haar gemoed lei tot 'n denkbeeldige gesprek met God in die hemel, waarna sy uit dié gesang se vyfde strofe die versekering van Christus se liefde vir haar bevindelik beleef: "Ik ben uwe gekruizigden en weder uit den dood verrezenen God, uwe Heiland die gij op aarde gezocht, gevonden, en lief gehad hebt aan wien gij kleefde, met uwe innigen ziel naar vermangde komt nu en leefd, woon bij uwen Heiland, altijd en eeuwig" (Smit, 1843-1863: 10: 42). By 'n volgende geleentheid getuig sy in ekstase van Jesus se liefde met verwysing na Gesang 58 se vyfde strofe: "Mijn hart werd terstond zoo week; en ontvlamde in liefde tot mijn Dierbaren Heer Jezus die mijner zoo vroeg weder gedachtig was" en hoe swart en dig die pad van haar "rampspoedigen leeven ook zij zijne liefde ondervindt ik blijft mijn lieden stil opwaarts naarde poorten van het eeuwig Paleis des Lichts" (Smit, 1843-1863: 20: 1). Tydens 'n vroegoggend oordenking ervaar sy, na aanleiding van Gesang 140 strofe een, die bevestigende gewaarwording dat Christus in sy liefde ook vir háár gesterf het: "Ach arme Christen mensch, zoo de lieve Jezus niet onvermoeid in zijne weldadigen opwekken tot het goede ons aan spoorde wij zoude geheel verkouden en versterven" (Smit, 1843-1863: 28: 35).

    In talle publikasies het Gereformeerde teoloë in Nederland en in Suid-Afrika die klem op subjektivisme en sentimentaliteit in Ahasueer van den Berg en andere se Romantieke beskouings laat val. S.J. du Toit het deurlopend in De Getuige - later saamgevat in die werk De Evangelische Gezangen aan Gods Woord getoets (1896) - die sangdigte by Van den Berg en ander digters beskryf as synde in stryd met de "(belijdenisschriften, inzonderheid de leer van Gods vrijmagtige uitverkiezing en algeheel bederf van den mensch tegenover het menschelijk bekeeringswerk van onzen tijd ... " (Du Toit, 1896: Voorwoord). Van den Berg is spesifiek verwyt dat hy "'de algemeene genade in den ergsten zin" verkondig, maar erger nog: "... dezelfde natuurlijke 'gunst, waardoor al 't schepsel leeft, geeft ons leven, vreed' en vreugd, ja alles'! Dus geen bijzondere genade voor Gods uitverkorenen" (Du Toit, 1896: 6).

    2.5 Rutger Schutte (1708-1784) se liefdeversugting en die spanning tussen die hemelse en die aardse in Susanna Smit se godsdienstige dagboeke

    Rutger Schutte was 'n vrugbare skrywer van sangdigte teen die einde van die agttiende eeu. Volgens Schutte leef die gelowige voortdurend in die spanningsveld tussen die hemelse en die aardse. Die vrome voer deurlopend 'n stryd teen die wéreldse aanslag. Metafories skets hy die gelowige se stryd: teen die vrug van verleiding, 'n dwaallig, rotse op die seereis na die hemel en 'n barre woestyn vol kronkelpaaie (Post, 1995: 365). Die bedreiginge waarop die gelowige veral bedag moet wees, is liggaamlike wellus, geld en aardse besittings, eer- en magsug (Post, 1995: 366). In Schutte se bydrae tot die bundel Een nieuw bundeltje uitgeknipte geestelijk gezangen (1755), "Geestelijke zeevaart. De reis van een ziel naar de zalige eeuwigheid", open hy die weg vir geestelike pelgrimsdigte wat in latere werke sou volg (Raath, 2016: 8). "Geestelijke zeevaart" bestaan uit nege strofes van twaalf reëls elk. Elke strofe gee blyke van 'n belangrike spirituele stap in die Christen se reis na die ewigheid. Die eerste strofe beskryf die bekering en die besef van die verlore siel dat die menslike bestemming nie in die aardse lewe gesetel is nie. Metaforiese toespelings op golwe, 'n onstuimige see en vloed beskryf die wisselende en onstabiele aardse lewe: "Ik dobber op de golven/ Van's werelds onstuimig'ge zee./ Vaak in de vloed bedolven./ Waar krig ik de ree?" (Schutte, 1755: 49). Vervolgens wend die siel sigself na die lig van Christus, synde "(m) ijn Schild, mijn Zon, en enig Licht" (Schutte, 1755: 49).

    In Schutte se Stichtelijke gezangen verwissel die pelgrimsmetafore: die Ou Testamentiese Eksodus-metafore van die vuur- en wolkkolom neem die plek in van die spirituele seereis in sy vroeëre werk. Eersgenoemde metafore is vir hom sinnebeeldige afskaduwinge van Christus se verlossingswerk. Die digsang "Reize naar Jerusalem" vorm in bepaalde opsigte die fokus van die pelsgrimsmotief in die bundel. Teenoor die slawerny van aardse sonde, stel Schutte die hemelse Kanaàn (Schutte, 1762: 11). Die lig wat die weg daarheen aandui, word metafories beskryf as 'n vuurkolom. Christus is die vuurkolom wat die gelowige siel na die salige bestemming moet lei: "Immanuel,/ Myn lust en leven./ Die rust kunt geeven,/ O levenswel" (Schutte, 1762: 11).

    Schutte se Christosentriese spiritualiteit verkry voorts 'n verskerpte bruilofsmetaforiese toespitsing. Metaforiese verwysings na die bruilof tussen Jesus en die gelowige siel, toespelings op die band tussen bruid en bruidegom en lofdigte op Jesus as die "beminnelyke Immanuël" is dus 'n derde opvallende tema in Schutte se Stichtelijke gezangen. Hy dank God vir die gewyde sanglus wat in sy siel onsteek is, "'t een of 't ander gezang ter verheerlyking van mynen grooten Maker, den Brudegom myner ziele, den Geest der eeuwige liefde, en 't groot werk der genade te zingen, en tans, op verzoek en aandrang van veelen, in 't licht te geeven" (Schutte, 1762, Voorrede, XXI). Hy begeer dat mense afskeid van die wêreld sal neem en hul geheel en al sal toevertrou en oorgee aan "den Bruidegom der ziel" (Schutte, 1762: Voorrede, XXX). Hierdie bruilofsmetafore kom oor 'n wye spektrum in die bundel voor: die bruid word opgeroep om Jesus as Koning te besing, Jesus is die bloedbruidegom waarop die gelowige siel sy hoop vestig, Jesus "kiest een naakte Bruid;/ Hy wist haar zonden uit" en Gods Gees skenk geloof om die nederige hart aan Gods Seun te verbind (Schutte, 1762: 38). Met fyn mistieke aanvoeling pen Schutte neer: "O Liefdevlammen, hemelsvuuren,/ O tyd de minnen, zalige uuren,/ My heugt, hoe my myn Goël heft gekust./ Volmaakte zielenrust!" (Schutte, 1764: 83).

    Susanna Smit se bedrukte gemoed vanweë n borsaandoening en n neerslagtige bui, inspireer haar om die twaalfde strofe van die ses-en-dertigste gesang uit Schutte se Stichtelijke gezangen as wekvers aan te hef. Nadat sy 'n volgende strofe van dieselfde gesang sing, word sy van die bevindelike teenwoordigheid van Jesus bewus, 'n gewaarwording "wat de redding mijner ziel aan Jezeus heeft gekost, het was als of mijns geestes oogen mijn dierbaare Verlosser in Zijn nederige liefde tot Zijn volk zug, als of Hij naar beneden op mij zag, en met luiterende waren het schor gekras van mijn bevende stem ontving" (Smit, 1843-1863: 20: 9). In 'n volgende verwysing na die Stichtelijke gezangen vereenselwig sy haar met die kinders van Israel wat met manna en vleis in die woestyn verkwik is - reisende kinders wat deur God met voedsame spyse versterk is (Smit, 1843-1863: 21: 2). Vier dae later haal sy aan uit die sesde strofe van die "Reize naar Jerusalem" - 'n teks met verskeie ou Testamentiese beelde uit die Israelitiese pelgrimsreis na die beloofde land (Schutte, 1762: 13). Haar laaste verwysing na Schutte se gesangverse beskryf 'n benouende nag. Sy sing uit die laaste strofe van "Reize naar Jerusalem": "Jerusalem,/ O stad die boven/ Al de Eng'len looven,/ Gy kent myn stem!/ 'k Zal vreê beërven,/ En vreê gevoelen;/ Het zondig woelen,/ Zal eeuwig sterven" (Schutte, 1762: 13).

    Rutger Schutte se gesange resoneer dus in die gemoedsgestaltes van Susanna Smit: Die trekkragte tussen hemel en hel, tussen die hemelse Jerusalem en die aardse Jerigo, tussen Christus en die wêreld deurspek sy digsange. Die grootste kragte waarmee die gelowige pelgrim in dié verband worstel, is die duiwel, die aardse en die eie ek. Dit is ook die kragte waarmee Susanna Smit daagliks in haar godsdienstige en huislike lewe te make gehad het. Schutte se beskrywing van die gelowige se pelgrimsreis deur die ondermaanse na die hemel, die trek vanaf die Kaap na Natal en die vooruitsig van die finale vereniging met Jesus, dien by Susanna ter bevestiging van haar oortuigings dat die gelowige nie finale rus vir sy/haar voet in die lewe op aarde kan vind nie en dat die hemelse Jerusalem die eindbestemming is wat elke dag skerper in spirituele fokus kom.

     

    3. Hieronymus van Alphen (1746-1803) en die bruids-versugting in Susanna Smit se godsdienstige dagboeke

    Hieronymus van Alphen was 'n toonaangewende eksponent van die Nederlandse piëtisme wat in Platonistiese gees die spirituele etos van die Romantiek geadem het. Hierdie piëtistiese spiritualiteit vind neerslag in 'n hele aantal van sy populêre publikasies, waarvan Kleine gedichten voor kinderen (1778) vanweë die eenvoud en piëtisties-moraliserende inslag daarvan opgang gemaak het. Sy godsdienstige poësie het die oorgang van dié genre na die Romantiek ingelui (Raath, 2017: 3). Sy Proeve van stichtelijke mengel-poëzij(1771) vertoon sterk trekke van die Romantieke Platonisme met Christosentries-hemelsgerigte bruidsmistiek in protologies-metaforiese terme. Soos by Rutger Schutte (1708-1748) figureer die versugting om met Christus in die hemel verenig te wees prominent in talle aspekte van Van Alphen se poësie (Raath 2017: 6). Die verlossingswerk van Christus - vanaf die krip-geboorte te Bethlehem tot en met die hemelvaart en vereniging met die gelowige siele in die hemel -word in bruidsmetaforiese terme beskryf (Raath, 2017 : 6): Jesus is die siele-bruidegom en die gelowige siel die "teerbeminde bruid" (Van Alphen & De Kasteele, 1771: 13, 81): "Liefde zal die stem niet smoren,/ Maar verhoren/ 't Bang gekerm van Jesus Bruid" (Van Alphen & De Kasteele, 1771: 88). In "De vrolijke reiziger" word die hemelwaartse weg van die gelowige uit die knelling van die aardse bestaan verwoord: "Wijk weereldsch gewemel/ Ik moet naar den hemel;/ Verhinder me niet,/ Weg zonden! zwijgt lusten!/ Ik wil hier niet rusten/ In's vijands gebied" (Van Alphen & De Kasteele, 1771: 65). Derhalwe sien die gelowige uit na die hemelse gemeenskap van die sielsbruid en die Bruidegom: "De hemel wagt/ Om eeuwig 't is volbragt/ Met Jesus' Bruid te zingen (Van Alphen & De Kasteele, 1771: 81). Dié hemelse vereniging met Jesus word skerp teenoor die ondermaanse wêreld van gewoel en gewemel afgeteken (Van Alphen & De Kasteele, 1771: 121, 129).

    Soos vir ander piëtistiese vroue, byvoorbeeld Catharina van Lier, dien die ontvlugting vanuit die ondermaanse en die vooruitsigte van die hemel vir Susanna Smit tot troos. Die vooruitsigte van die hemelse met Christus bring berusting en 'n besef van die "heilzame uitwerking, dien beproewing" in haar lewe (Smit, 1843-1863: 2: 41). Van Alphen se gedig "De vrolijke reiziger" beskryf die pelgrimstog van die gelowige na die salige hemelse oorde. Susanna haal aan uit vers VII: "'k Zie soms aan de kimmen/ Mijn Vaderland glimmen;/ Maar is 't al eens nagt,/ 'k Blijf egter aan 't loopen;/ Gelooven en hopen/ Geeft ijver en kragt (Van Alphen & De Kasteele, 1771: 18). In S.J. du Toit se versamelwerk van Gereformeerde kritiek op gesangdigters wat deur Aufklarungsromantiek besmet is, word Van Alphen as 'n sondebok uitgesonder, wat die soenverdienste van Christus afwater en pleit vir berusting in "een algemeen Gods Bestuur", "Nu zoo maar elkeen aldus te leeren vertrouwen op een algemeen Godsbestuur, (dit) voed ontegenzeggelijk eene, valsche gerustheid, is een bouwen zonder fondament" (Du Toit, 1896: 4).

     

    4. Samevatting en gevolgtrekking

    Die sosio-maatskaplike omgewing en geestesklimaat van die pre-Romantieke Aufklarung en Romantieke era was bruisend van verligting, vaderlandsliefde, godsdiens, vryheid, menslike waarde, menswaardigheid, menseliefde, vriendskap en popularisering van die etiese bewussyn in die kuns en die wetenskap. Mens en skepping was nie meer die middelpunt van die heelal nie en eindelose vergesigte van nie-sigbare werklikhede het die penne van digsangers en romanskrywers aan die werk gesit. Die verhewene dwing die mens om op te kyk na ander werklikhede as die hemel en die wonder, wat deur die rasionalisme van die natuurwetenskaplike rede uitgeban is, neem 'n toenemende prominente plek in. In die wetenskap, tegniek en literatuur kom die gevoel teenoor, of náás die verstand te staan. Die oplewing van die gevoelsmatige had 'n reaksie van uiterstes tot gevolg: Traneryke gevoeligheid en koestering van weemoed word kenmerkend van die agttiende-eeuse kultuuretos in Wes-Europa.

    Die letterkundige en teologiese neerslag van hierdie epog was waarskynlik vir Susanna Smit toeganklik in haar man, Erasmus Smit, se boekery. In die tydperk waarin sy haar godsdienstige dagboeke byhou en haar spirituele egotekste neerpen, vanaf 1843 tot 1863, bevind sy haar in 'n gemeenskap wat meestal die antitese van die samelewing en geesteslewe in Nederland en Duitsland was. In haar skamel gemeubileerde pioniershuisie sit sy die meeste van die tyd by haar klein skryftafel, oorpeinsende die ideale wat die Trekkers by vertrek na die binneland ongeveer 'n dekade vantevore gehad het. Die Pietermaritzburgse gemeenskap was voortdurend onderhewig aan kerklike twis, persoonlike meningsverskil en faksie-verdeeldheid oor uiteenlopende kwessies - talle waarby sy ook betrek is. Susanna se persoonlike omstandighede was geensins ideaal: Haar man was werkloos en geneig tot selfbejammering en heimwee, hulle ervaar mereendeels armoede en soms gebrek aan noodsaaklike lewensmiddele, asook persoonlike gemoedstemminge van swartgalligheid, melancholie, neerslagtigheid en 'n gevoel van hulpeloosheid.

    Die vraag hoe dié treurige omgewing deurspek met - na haar mening - afval van die eise van die Skrif en die Gereformeerde leer, in ooreenstemming gebring kan word met die volmaaktheid van God, word 'n deurlopende tema wat obsessief in haar gemoed woed - 'n spanning wat sy konsekwent met verwysing na die numineutiese liefdesmetaforiek probeer transendeer. Die dualiteite van aarde en hemel, die sondige en volmaakte, van verlorenheid en redding vind spontaan neerslag in die bladsye van haar godsdienstige dagboeke. Die spieëlbeeld van hierdie spanninge word uitvoerig beskryf in die godsdienstige lektuur wat sy soekend na die oplossing en worstelend met die waarheid deurleef. Die pre-Romantieke en Romantieke inslag van die werke wat sy tot haar beskikking het, is geskoei op dieselfde antiteses waarmee sy elke dag worstel. Die sleutel tot bemiddeling van die dualistiese spanning tussen die aardse en die transendente vind sy in die mistieke en bevindelike liefdesmetaforiek van piëtistiese skrywers wat onder invloed van die neoplatonistiese liefdesnumineuse die geopende hemel vir worstelende gelowiges op aarde voorhou en die belewing van die versoenende sterwe van Christus in bruidsmetaforiese beelde verwoord.

    Die daaruit voortspruitende vraag waarmee sy gekonfronteer word en waarmee sy vervolgens worstel, is die vraag hoe om die gevaar van daadheiligheid te vermy, aan die (Platonistiese) gevare verbonde aan vertolkings van redding deur die mens se persoonlike deugsaamheid te ontkom en die Christelike boodskap van verlossing deur 'n liefdevolle persoonlike God in haar handel en wandel gestalte te gee. Binne hierdie konteks van haar geloofspraxis het die bevindelike liefdespiritualiteit van die Romantieke piëtisme belangrike implikasies vir haar godsdienstige oortuigings in die besonder en dié van piëtiste wat deur die liefdesmistiek beïnvloed is, gehad: Die Romantieke klem op God as fontein van alle goed en die verwatering van die Gereformeerde belydenis van God as wreker van ongeregtigheid en bestraffer van die bose het op die agtergrond geraak. Die implikasie was dié van 'n verskraalde Godsbeskouing, tesame met 'n verwaterde opvatting van die Skrifopenbaring, naamlik dat openbaring nie van transendente aard is nie, maar voortspruit uit die bevindelike Godservaring van alle mense.

    Die leer van God se goedheid en algemene genade in Romantieke kringe het voorts die verwatering van die uitverkiesingsleer in Romantieke piëtisme tot gevolg gehad. Die neiging tot 'n "fenomenologiese" Christenskap was onvermydelik: Die werklikheid agterliggend tot die ervaring van die goddelike is nie direk vir gelowiges toeganglik nie en die Christelike oortuiging is gefokus op die ervaring van die transendente. Numineutiese liefdesbetuiginge is in wese beskrywings van menslike toestande, terwyl leerstukke van die Christelike geloofsoortuiging weergawes is van die Christelike spirituele aandoenings en emosies wat in gesproke en geskrewe vorme getransponeer word. Vir die Romantieke teoloë vereis teologiese werksaamheid die sistematiese ordening van die gelowige se verhouding met God - iets wat slegs indirek beskryfbaar is. Hoewel God onveranderlik is, verander die gelowige se verhouding met God - die essensie van die geloofsverhouding - voortdurend en is wesenlik onbeskryfbaar. Gevolglik open die bevindelike benadering tot teologiese waarhede 'n weg tussen die ortodokse Gereformeerde belydenis en die Aufklarung, uit hoofde waarvan Christus slegs deur sy handelinge geken kan word: Skriftuurlike getuienis oor Jesus bevat hiervolgens nie objektiewe verklarings oor sy lewe en werk nie, maar is slegs die teologiese refleksie van die vroegste Christene oor hul ervarings van Christus. Die Gereformeerde Christologie van Jesus as Verlosser en Middelaar neig dus tot verskraling: Jesus is die voorbeeld van morele onderwyser, voorbeeld en vervolmaker van die menslike natuur; Christus is nie alleen Vorbild van morele volmaaktheid nie, maar ook Urbild en ideaal van die sin vir die absolute bevindelike afhanklikheid van die mensdom. Die Romantieke piëtisme open só die weg vir 'n nie-Reformatoriese sondebeskouing: Sonde is ontkenning van die mens se absolute bevindelike afhanklikheid van God, 'n versteuring van die mens se bewussyn van die Absolute.

    Ten slotte neig die Romantieke piëtisme na die verskraling van die rasionele in die Reformatoriese geloofsoortuiging: Die essensie van die mens se lewe is nie rasioneel verstaanbaar nie, maar is van subjektiewe en bevindelike aard en die mistieke kant van die mens se lewe kom, naas die filosofiese en etiese, as gesaghebbende bron te staan. Hoewel Susanna Smit waarskynlik self onbewus was van die implikasies van haar transkonfessionele uitinge en sy daarvan oortuig daarvan was dat haar geloof op die Reformatoriese belydenis gegrond was, word in haar godsdienstige dagboeke getuienis van sodanige transkonfessionele neigings by haar gevind - standpunte wat waarskynlik tot haar konflik met ander bekende Voortrekker-gelowiges bygedra het. Die spirituele tendense wat by Susanna Smit na vore gekom het, sou in die tweede helfde van die negentiende eeu tot hewige teologiese debatte in Reformatoriese kringe aanleiding gee - waarvan verskeie reeds in haar godsdienstige dagboeke geantisipeer word.

     

    Bronne

    A.A.H. c1780. (Pseud.). De uitnemende rijkdom van Gods heerschappij-voerende genade. N.C. van der Veer.         [ Links ]

    BROWN, C. 1990. Christianity and Western thought. Deel 1. Leicester: Apollos.         [ Links ]

    FEITH, R. 1804. Proeve van enige gezangen. Eerste deel. Dich en prozaische werken. Deel IX. Rotterdam: J. Immergeel.         [ Links ]

    JANSONIUS, R.B. 1863. Geschiedenis van het kerkgezang in Nederland. Amsterdam: K.H. Schard.         [ Links ]

    KAKEBEEN, G.G. 1888. De invloed der Deutsche letteren op de Nederlandsche. Culemborg: Blom & Olivierse.         [ Links ]

    LANGBROEK, M. 1933. Liebe und Freundschaft bei Klopstock und im Niederlandischen Empfindsame Roman. Amsterdam: Universiteit van Amsterdam. (Gepubliseerde D.Litt.-proefskrif).         [ Links ]

    OLIVIER, P.L. 1941. Susanna Catharina Smit. Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Ongepubliseerde B.D.-tesis).         [ Links ]

    PAMANS, G. 1775. Egt verhaal van geestelijke bevindingen. Zwolle: Simon Clement.         [ Links ]

    POST, S.D. 1995. Pieter Boddaert & Rutger Schutte: piëtistische dichters in die achttiende eeuw. Houten: den Hertog B.V.         [ Links ]

    PRINSEN, J. 1920. Handboek tot de Nederlandsche letterkundige geschiedenis. 's-Gravenhage: Martinus Nijhoff.         [ Links ]

    PUDDU, M. 1996. Die Piëtistiese dagboek van Susanna Catharina Smit (1799-1863). Johannesburg: Universiteit van die Witwatersrand. (Ongepubliseerde M.A.-verhandeling).         [ Links ]

    RAATH, A.W.G. 2016. Tussen die aardse Jerigo en die hemelse Jerusalem. Rutger Schutte (1708-1784) en die pelgrimsmotief in Susanna Smit (1799-1863) se godsdienstige dagboeke. Studia Historiae Ecclesiasticae, 42(2): 1-19. http://dx.doi.org/10.17159/2412-4265/2016/1820.         [ Links ]

    RAATH, A.W.G. 2017. Gereformeerde piëtisme, Hieronymus van Alphen (1746-1803) en die hemelse versugting in Susanna Smit (1799-1863) se godsdienstige dagboeke. Koers, 82(1): 1-14. https://doi.org/10.19108/KOERS.82.1.2289.         [ Links ]

    RAATH, A.W.G. 2019. Rhijnvis Feith en melancholiese gesangdigting in die Voortrekkervrou Susanna Smit se godsd ienstige dagboeke. Studia Historiae Ecclesiasticae, 45(1): 1-19. https://doi.org/10.25159/2412-4265/4534.         [ Links ]

    ROOD-COETZEE, K. 1961. Susanna Smit, skryfster van die Trek. Hertzog-Annale van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 10(14), 38.         [ Links ]

    SCHNEIDER, B.A.T. 1960. Grundbegriffe der ästhetik Klopstocks. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch. (Ongepubliseerde D.Litt.-proefskrif).         [ Links ]

    SCHUTTE, R. 1755. Een nieuw bundeltje uitgeknipte en geestelijke gezangen ten dienste aller bonden gunstgenoten van Jehovah, den Drie-eenigen en Algenoegzamen God. Dordrecht: Johan Georg Wittich.         [ Links ]

    SCHUTTE, R. 1762. Stichtelijke gezangen, op de beste Italiaansche en eenige in dien smaak nieuwgemaakte zangwyzen; bij verscheidene gelegenheden gedicht. Deel 1. Amsterdam: Johannes Covens.         [ Links ]

    SCHUTTE, R. 1764. Stichtelijke gezangen, in verscheidene gelegenheden gedicht, en met aanmerkingen, tot verstand van eenige stukken uit de H. Schrift, Verrijkt. Deel 2. Amsterdam: Johanens Covens.         [ Links ]

    SMIT, S. 1843-1863. Godsdienstige dagboeke. Vols. 1-43. Ongepubliseerde dagboeke. Transkripsie M. Puddu. Kopieversameling A.W.G. Raath, Bloemfontein.         [ Links ]

    VAN ALPHEN, H. & DE KASTEELE, P.L. 1771. Proeve van stichtelijke mengel-poëzij. Utrecht: Geen uitgewer vermeld nie.         [ Links ]

    VAN ALPHEN, H. & DE KASTEELE, P.L. 1782. Proeve van stichtelijke mengel-poëzij. Utrecht: Weduwee Jan Terveen.         [ Links ]

    VAN DER GROE, E. S.j. Bekeeringsweg. Rotterdam: J. van der Vliet.         [ Links ]

    VAN LIER, A.C. 1804. Dagboek, gemeenzame brieven en eenzame overdenkingen. Utrecht: Willem van Yzerworst.         [ Links ]

    WANIEK, G. 1882. I.J. Pyra und sein Einfluss auf die deutsche Literatur des 18. Jahrhunderts. Leipzig: Breitkopf und Hártel.         [ Links ]

     

     

    Correspondence:
    RaathA@ufs.ac.za

    Published: 9 June 2023